Krotoa, die feminis

Die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, sal vandag ‘n monument by die Kasteel in Kaapstad onthul wat die lewe van die Khoi-vrou Krotoa uitbeeld.

Die minister het in ‘n verklaring in geradbraakte Engels gesê Krotoa “het ‘n ingesteldheid vir tale gedemonstreer ” en “word beskou as een van die hoofargitekte van die Afrikaanse taal”.

Sy is ook as ‘n “feminis” beskryf deur Max du Preez, wat klaarblyklik weer nie kon nalaat om die “spirituele begrafnis” tot die absurde te verhef nie.

Krotoa is later getroud met ‘n Deense dokter “in wat die eerste amptelike gemengderashuwelik in SA was”, maar het later die guns van die Nederlandse “Groot baases” (sic) verloor het en is weens haar drankmisbruik na Robbeneiland verban.

Die feit dat Krotoa ‘n alkoholis was, word egter verswyg.

Die dokter Peter Havgard, wat die Nederlanders Pieter van Meerhof genoem het, is met die Strandlopertolk getroud nadat sy eers gedoop is. Sy was daarna as Eva van Meerhof bekend.

Krotoa het van tienjarige ouderdom as huiswerker in die huishouding van Jan en Maria van Riebeeck gewerk, en haar later as tolk tussen Nederlandse setlaars en die Khoi-stamme aan die Kaap gevestig.

Die departement sal ‘n simboliese seremonie hou ter ere van Krotoa wie se oorskot aanvanklik by die Kasteel begrawe is, maar later op die terrein van die Groote Kerk in Kaapstad herbegrawe is.

Krotoa was lid van die Strandlopers, die Goringhaiconastam en die niggie van Autshumato, oftewel Harry die Strandloper, ook ‘n Khoi-tolk. Eva was dus goed met die Europese manier van doen bekend.

Haar dogter, Pieternella van die Kaap, se lewe is deur die skrywer Daleen Matthee verewig. In Eilande deur Dan Sleigh, is haar moeder en haar eie lewe ook weergegee.

Pieternella en Salamon, twee jongste kinders uit haar huwelik met Meerhof, is in 1677 na Mauritius.

Pieternella is later getroud Daniel Zaaijman, ‘n VOC-groenteboer van Vlissingen. Hulle het vier seuns en vier dogters gehad. Die gesin het weer later terug na die Kaap verhuis.

Hulle kleindogter, Engela Catharina Zaaijman is getroud met Abraham Peltzer, seun van Abraham Peltzer, ‘n VOC-soldaat van Hamburg, Duitsland en Elizabeth van den Berg.

Misdade teen die beskawing

Die Armeense kunsmuseum in die hoofstad, Jerewan
Die Armeense kunsmuseum in die hoofstad, Jerewan

deur Leon Lemmer

Ons lewe in ‘n tyd waarin ons wys gemaak word dat alle mense gelyk en selfs wesenlik eenders is; of só behoort te wees. Dit dien as die grondslag van een mens, een stem. A weet na bewering net so goed soos B wie moet regeer, gevolglik het albei stemme dieselfde gewig. Ek sou eerder die teenoorgestelde beweer: Dat geen twee mense eenders is nie; dalk selfs nie sogenaamde identiese tweelinge nie.

Dit lyk vir my sommige mense is intelligenter as ander. Sommige is beter ingelig as ander. Sommige het meer as ander gedoen om iets wat die moeite werd is tot stand te bring. Andersom kan ‘n mens beweer dat sommige meer afgebreek het as ander, ens. Die werklikheid is dat sommige mense ‘n bate en ander ‘n las vir die samelewing is. Net die batiges behoort toegelaat te word om ‘n land se lot te bepaal.

Veralgemenend is dit ook moontlik dat sommige groepe mense gewoon beter as ander is. Dit kan op bv verskille in kultuur dui, terwyl die gelykwensers van ons almal bv Afrikane of wêreldburgers wil maak.

In die nuwe Suid-Afrika mag ons nie diskrimineer op grond van ras/kleur nie, behalwe as dit ten gunste van nie-wittes, en veral swartes, en ten koste van wittes is. Dan staan dit bekend as “billike diskriminasie”. Maar om praktiese redes moet ons liewer ons onderskeidingsvermoë behou. Byvoorbeeld, wanneer groepe mense beoordeel word, is dit in die openbare belang om tussen presteerders en nie-presteerders te onderskei. Ek verwys na “prestasie” in die positiewe of konstruktiewe sin; nie in die negatiewe of afbrekende sin van bv terroriste wat ‘n suksesvolle bomplantveldtog gevoer het nie.

Dit lyk vir my asof gesê kan word dat bv die Duitsers hulle (in sommige opsigte) as presteerders bewys het. Die kort tydperk van naziisme (1933-1945) kan nie alle Duitsers van alle tye vir sodanige huldiging diskwalifiseer nie. ‘n Mens hoef natuurlik ook nie oorboord te gaan en daarom naziisme (of fascisme of nasionaal-sosialisme) of sosialisme (of selfs kommunisme), of watter staatkundige ideologie ook al, in elke opsig te verdoem nie.

Insgelyks kan die blankes of die Afrikaners as presteerders gereken word op grond van wat hulle in Suid-Afrika tot stand gebring het. Die vier dekades van apartheid (1948-1989) diskwalifiseer blankes nie vir sodanige erkenning nie, onder meer omdat apartheid nie in iedere opsig sleg was nie.

Ook is dit ‘n wanvoorstelling om alles oor die politieke boeg te gooi. In die tydperk 1933 tot 1945 was daar baie nie-naziïstiese verskynsels in die Duitse samelewing. In die versmaaide apartheidsera het dit ook om baie meer as bloot apartheid gegaan. Die lewe en die geskiedenis behels baie meer as die politiek.

Wanneer erkentlikheid teenoor ‘n groep mense se prestasies openbaar word, impliseer dit nie dat jy noodwendig van hulle hou nie. Die Jode kan as voorbeeld dien. As die Jode (of die Romeine) vir Jesus se dood verantwoordelik gehou word, behoort ‘n mens nie daarom alle Jode (of Romeine) te verdoem nie. ‘n Mens hoef nie van Jode te hou nie, maar dit is onteenseglik waar dat hulle ‘n lang geskiedenis van buitengewone prestasie het. Daar is baie Duitse Jode wat weens anti-semitisme uit Europa gevlug en ‘n belangrike rol in die ontwikkeling en voorspoed van bv die VSA gespeel het.

Ek het onlangs ‘n omvattende boek oor die Armeniese volksmoord gelees. Die Armeniërs het hulle lank voor die Turke in wat nou Turkye genoem word, gevestig. In vergelyking met die Turke was die Armeniërs presteerders, onder meer omdat hulle meer ontwikkeld (of beskaafd) was. Armenië was sedert die 4de eeu ‘n Christelike staat; die eerste in die wêreld. Die Turke was jaloers op die Armeniërs se groter welvaart en vyandig teenoor hulle omdat hierdie Turke die Moslem-geloof fanaties aangehang het. Turke het uit sentraal-Asië na Turkye gestroom en die Armeniërs getalgewys verswelg.

Ingevolge John Stuart Mill (1806-1873) se tirannie van die meerderheid het die Turke meer as ‘n miljoen Armeniërs vermoor of in kampe laat sterf en die res uit die land gedryf. In die klein hedendaagse staat Armenië (aangrensend aan Turkye) is daar skaars 3 miljoen Armeniërs, terwyl sowat 8 miljoen van hulle hulle in ander lande bevind. Dit is ‘n klassieke voorbeeld van wat kan gebeur as ‘n beskaafde minderheid dieselfde grondgebied met ‘n minder ontwikkelde meerderheid moet deel; ‘n meerderheid wat die land regeer.

Die Armeniese volksmoord voor en tydens die Eerste Wêreldoorlog was in talle opsigte ‘n kleedrepetisie vir die Joodse holocaust tydens die Tweede Wêreldoorlog. In Duitsland en Oostenryk was die Jode presteerders en welvarend. Sedertdien het baie Jode hulle in Israel gevestig. Daar doen ‘n situasie soortgelyk aan die Armeniërs teenoor Turke hom voor, naamlik Jode teenoor Palestyne. In Israel is die Jode in die meerderheid maar in die omliggende Palestynse en oorwegend Moslem-gebiede is die Jode ‘n beskaafde minderheid.

In die geval van sowel die Armeniërs/Turke as die Jode/Palestyne is daar parallelle met Suid-Afrika. Geen wonder dat daar hartlike samewerking, bv militêr, tussen die “apartheidsregime” en Israel was nie. As eerste minister het DF Malan Israel in 1953 besoek en ongekwalifiseerd sy bewondering vir die land uitgespreek.

Teen hierdie agtergrond kan Kevin Bloom se boek, Hating Goldstone: the Jewish community against the judge (Johannesburg: Parktown Publishers, Mampoer Shorts, 2012, $2.99 – slegs elektronies beskikbaar), beoordeel word. Op die Mampoer-webwerf word Bloom se objektiwiteit in leserskommentaar bevraagteken, maar hierdie kritiek moet myns insiens eerder toegeskryf word aan die verdeeldheid wat daar oor hierdie saak binne die Joodse gemeenskap bestaan. Ek het die outeur se uiteensetting ewewigtig gevind, behalwe dat, soos deesdae die gewoonte is, apartheid sonder meer verdoem word.

Verdeeldheid is ‘n relatiewe term. As daar ‘n enkele kenmerk van die Jode is wat Afrikaners gerus kan navolg, is dit Jode se vermoë om hulle groepsverwantskap te behou. Al woon hulle verspreid oor die aarde klou baie van hulle aan hulle geskiedenis en kultuur (bv taal, godsdiens en ander gewoontes) vas. Hulle integreer dikwels hoogstens in ‘n mate met ander groepe. Sedert 1948 het die Jode ‘n tuisland wat internasionaal as ‘n staat erken word.

Is daar naasteby dieselfde mate van samehorigheid by Afrikaners? Sal die Afrikaner-diaspora met verloop van tyd in dieselfde mate as die Jode hulle identiteit behou? Waar is die Afrikaner-tuisland? Orania kan ‘n begin in hierdie rigting wees. Lees gerus Leanne George se redelik positiewe kommentaar oor Orania: Koeksister Commerce: Rebranding the White Homeland (Johannesburg: Parktown Publishers, Mampoer Shorts, 2013, $2.99 – slegs elektronies beskikbaar).

Vir jou waardes kan ‘n mens ‘n geestelike tuiste binne jouself skep. Maar ‘n konkrete, fisiese tuisland waarin jy jou in veiligheid en vrede saam met kultuurgenote kan uitleef, is sekerlik ook nodig. Dit moet ‘n ruimte wees waarmee jou hart se punt spontaan aanklank vind; iets waarop jy trots is en wat moeiteloos jou lojaliteit verdien.

Dit moet nie ‘n land wees wat feitlik onherkenbaar verander het en waarin jy ‘n tweederangse burger geword het weens die verradelike gedrag van enkele politici nie. Die Armeniërs en Jode het elk net ‘n klein landjie wat hulle hulle eie kan noem, maar hulle was en is bereid om vir die behoud daarvan te veg. Hulle sal, soos ek, sekerlik nooit die kolossale onnoselheid van ‘n De Klerk & kie aanvaar wat ‘n groot, ontwikkelde en potensieel voorspoedige land aan ‘n myns insiens immorele bende grypsugtiges verkwansel het nie.

Richard Goldstone (gebore in 1938) is in 1980 as regter aangestel en het in 2003 as regter in die Grondwethof afgetree. Hy het bekendheid verwerf as die voorsitter van die Goldstone-kommissie, wat die plaaslike geweldpleging van 1991 tot 1994 probeer uitpluis het. Daarna was hy betrokke by die ondersoek van menseregteskendings in Joego-Slawië en Rwanda (1994-1996) en Gasa (2009). Dit is sy verslag oor die gebeure in Gasa wat groot ontevredenheid in Israel en verdeeldheid in die Joodse gemeenskap in Suid-Afrika en elders veroorsaak het.

Goldstone het sowel die Israeli’s as die Palestyne aan growwe menseregteskendings skuldig bevind. In 2011 het hy teruggekrabbel oor sy skynbaar oordrewe veroordeling van die Israeli’s deur te beweer dat verdere inligting intussen aan die lig gekom het. Eintlik was Goldstone se aanvaarding van hierdie missie van die Verenigde Nasies (VN) kortsigtig, want as hy in die guns van Israel beslis het, kon daar gesê word: Dit is wat van ‘n Jood te wagte is. Daarenteen was die verwagting by die VN se Menseregteraad dat Israel veroordeel moet word. Goldstone se opdrag was om net die gedrag van die Israeli’s te ondersoek. Hy het egter albei partye se dade beoordeel.

In die konteks van bv Israel/Palestina is gevra in hoeverre daar “misdade teen die mensdom” gepleeg is. Laasgenoemde is ‘n mode-frase wat hom tot die uiterste misbruik leen. Terugverwysend na wat ek hierbo oor die kwalitatiewe verskille tussen mense geskryf het, moet ek dit in die midde lê dat ek veel eerder “misdade teen die beskawing” vir beswaar sou uitsonder. Pleks van ‘n kwantitatiewe benadering, waarvolgens die getal mense wat na bewering “benadeel” is van deurslaggewende belang is, verkies ek ‘n kwalitatiewe uitgangspunt.

Dwarsdeur die geskiedenis is dit begaafde indiwidue en klein uitgelese groepe, en nie die massa nie, wat positiewe dinge tot stand gebring en die voortgang en vooruitgang van die beskawing bevorder het. Andersins vra ek my af in watter mate ontwikkelde mense se lewensgehalte weens negatiewe gebeure afgeskaal is; beskawing dus blatant ondermyn is. In Turkye, Palestina en Suid-Afrika is onvergeefbare misdade teen die beskawing gepleeg.

Wat Suid-Afrika betref, sal anti-blanke elemente akkoord met “onvergeefbare misdade” gaan deur te beweer dat die blanke bewind plaaslik agtereenvolgend deur slawerny, kolonialisme en apartheid gekenmerk is en dat dit vreeslik onbeskaafd daaraan toe gegaan het. In werklikheid het die ANC en PAC se terreurveldtogte die agteruitgang van Westerse beskawing in Suid-Afrika ingelui. Plaaslik word hierdie “bevrydingsbewegings” se geweldstradisie tot op hede in die vorm van bv plaasmoorde voortgesit. Die ruggraatlose en mandaatlose magsoorgawe van 1990/1994 was myns insiens onmiskenbaar en onvergeeflik ‘n “misdaad teen die (Westerse) beskawing”.

Wat die destydse plaaslike slawerny betref, moet besef word dat die inheemse bevolking nie verslaaf is nie. Die slawe is ingevoer. Die rede hiervoor is dat die Khoisan, wat in die suide en weste aangetref is, nie bruikbare arbeiders was nie. Die swartes, wat uit die noorde en ooste die land binnegestroom het, was ook nie gretig om arbeid te verrig nie. Hoewel daar ‘n ooraanbod van swart werkloses was, het die owerheid dit dikwels eerder gerade geag om arbeiders vir die myne uit buurlande en Oosterlinge uit Indië vir die suikerplantasies in te voer.

Diegene wat die blanke bewind kritiseer oor slawerny, kolonialisme en apartheid skreeu ten hemele oor beweerde “misdade teen die mensdom”. Te midde van al hulle oordrywing kry hierdie kritici dit nie reg om die blankes van die ou Suid-Afika van volksmoord te beskuldig nie; iets wat wel tydens kolonialisme elders in die wêreld ten koste van die inheemse bevolking voorgekom het. Met verwysing na bv plaasmoorde is volksmoord dalk veel eerder ‘n potensiële kenmerk van die nuwe Suid-Afrika.

Om klaarblyklike redes beklemtoon ek eerder verskille as ooreenkomste tussen mense. Sodra ‘n presteerder aan ‘n gelykwenser erken dat alle mense gelyk behoort te wees, word daar onmiddellik met die waarneming gekom dat daar groot ongelykhede in die praktyk is. Die volgende stap is om met die verwyt te kom dat hierdie ongelykhede aan die marginalisering, benadeling, uitbuiting, ens, van nie-wittes toe te skryf is. Blankes kry dan die skuld hiervoor.

Bloom vertel hoe hartlik Goldstone met die hoëlui van die “apartheidsregime” gesosialiseer het. Ook dat Goldstone as regter noodwendig gehelp het om die apartheidstelsel aan die gang te hou. Hy was sekerlik nie ‘n anti-apartheidsaktivis nie. Goldstone beweer deesdae dat hy probeer het om apartheid van binne af te hervorm. In hierdie verband word dan verwys na sy uitspraak dat diegene wat ingevolge die wet op groepsgebiede verskuif word van alternatiewe huisvesting voorsien moet word. Die indruk wat die teks by my gewek het, is dat Goldstone nie van opportunisme vry te pleit is nie.

Enkele jare gelede is ‘n onderhoud met Goldstone op BBC-televisie gevoer. Hy noem toe dat hy hom in Amerika gevestig het. Die rede waarom hy uit die nuwe Suid-Afrika verkas het, is glo omdat sy kinders en kleinkinders in Amerika woon. Dit laat my dink aan die oorverligte Jodin wat ek as ‘n kollega gehad het. Sy het alles wat van die ANC se kant af gekom het skynbaar as manna beskou. Sedertdien het sy en haar gesin hulle sak en pak in Australië gevestig.

Vanselfsprekend verkwalik ek mense wat hulle met woord en daad vir ‘n ANC-regering beywer het maar nie kans sien om te woon in die omstandighede wat hulle help skep het nie. Maar daar is lastige vrae wat periodiek by my opkom: Is dit nie dalk deel van die briljantheid van Jode dat hulle weet wanneer om ‘n sinkende skip te verlaat nie? Is Suid-Afrika nie onmiskenbaar vir altyd opgedonder nie? Het die tyd vir blankes in Afrika nie onherroeplik uitgeloop nie? Ek wil nie so dwaas soos bv JP (Silwerrandjie) Landman wees om die donker wolk doelbewus mis te kyk nie.

Marthinus van Bart stel Engelse slawerny aan die kaak

Die opspraakwekkende publikasie van Marthinus van Bart se boek oor die Britse slawegeskiedenis, Kaap van slawe, mag ons hele siening van die verlede verander. Want, soos die regerende party al male tale sonder tal in die openbaar gesê het, is “geskiedenis ‘n terrein van stryd”. George Orwell het ook gemeen: “Wie die verlede beheer, beheer die toekoms. Wie die hede beheer, beheer die verlede.”

Toneel op 'n Engelse slaweskip
Toneel op ‘n Engelse slaweskip

Van Bart bewys dat Brittanje, naas Portugal, die land was wat die meeste voordeel uit die slawehandel getrek het en ook die naasmeeste slawe verhandel het. Waarom weet ons dit nie? Want die geslepe Britte het bewysstukke en skeepsjoernale uit die argiewe gesteel om hul eie slawegeskiedenis te verdoesel – terwyl die Afrikaner tot vandag toe verantwoordelik gehou word vir Nederland se veel geringer betrokkenheid by slawerny!

Net vandeesweek tydens my onderhoud op SAFM, bel ‘n Indiër in en verwys na “die Boere se verknogtheid aan gedwonge arbeid”, wat dan kwansuis ook die dryfveer agter apartheid was. Die marxistiese historici wie se woord deesdae in Suid-Afrika wet is, aanvaar dit as ‘n gegewe dat slegs Nederlanders aan die Kaap slawe aangehou het en dat die “liberale, mensliewende Britte” dit eerste afgeskaf het.

Dít alles verteenwoordig infame leuens, want die Britte was allermins liberaal en mensliewend. Hulle het van die ergste gruweldade teenoor slawe gepleeg, selfs lank nadat slawerny sogenaamd “afgeskaf” is. Hiernaas is ‘n akwarel van ‘n ware gebeurtenis aan boord van ‘n Britse skip waarvan die inskripsie in die boek lui: “Aan boord van die slaweskepe is slavinne aan die wellus van die bemanning uitgelewer. Dié akwarel beeld ‘n werklike voorval uit toe ‘n 15-jarige slavin geweier het om vrywillig aan ‘n seksorgie met die bevelvoerder, kaptein Edward Kimber, en sy bemanning op die bodek deel te neem. Sy het haar straf, wat ook wreedaardige verkragting ingesluit het, nie oorleef nie. Toe Kimber op aanklagte van moord en verkragting voor die hof gedaag is, is hy vrygespreek nadat sy advokaat aangevoer het dat die matrose wat teen hom getuig het, griewe jeens dié kaptein gehad het.”

Kaap van slawe is ‘n skokkende boek. Nie net onthul dit die besonderhede van ‘n weggelate deel van die geskiedenis nie, maar ook die wreedheid en verontmensliking wat met slawerny gepaard gegaan het. Britse skepe wat die Kaap aangedoen het, het sonder seremonie die lyke van slawe wat nie die tog oorleef het nie, oorboord gegooi. ‘n Britse skip wat in Februarie 1681 aan die Kaap aangekom het, het “byna daagliks die lyke van ses tot sewe slawe oorboord gegooi” (Kaap van slawe, bl. 78).

Veral in die lig van hedendaagse politieke korrektheid, is ons geneig om slawerny in rasseterme te sien, as blanke slawehandelaars wat in “swart goud” handel gedryf het. Daarom is dit soveel te meer ontstellend om te verneem in hoe ‘n mate die Engelse hul Ierse broers en dus medeblankes verslaaf het. Juis onder die Protestantse bewind van Oliver Cromwell, is die Katolieke Iere genadeloos vervolg en vele as slawe verkoop. Marthinus van Bart stel dit so:

“Soos sy voorgangers het hy (Cromwell) die Iere verag en hulle genadeloos vervolg en uitgebuit. In 1650 byvoorbeeld, het hy 25 000 Iere laat opruim en as slawe aan die Engelse plantasie-eienaars van St. Kitts in die Karibiese Eilande gelewer. Van 1641 tot 1652 is minstens 300 000 Ierse burgers voor die voet deur die Engelse slawevangers gevange geneem en as slawe na die Amerikas ontvoer.

“Gedurende sy terreurbewind oor Ierland is meer as 100 000 Ierse kinders tussen die ouderdomme van 10 en 14 jaar as slawe na die Wes-Indiese Eilande, Virginië en New England ontvoer. Toe die Ierse slawe in 1649 in Barbados gerebelleer het, het die Engelse soldate hulle voor die voet op die gruwelikste wyse gemartel en vermoor. Moord op ‘n Ier is nie as ‘n misdaad gereken nie.” (Kaap van slawe, bl. 57)

Terwyl die SA geskiedenisboeke, wat gewoonlik deur Engelse geskryf is, die indruk wek dat Afrikaners reaksionêre slawe-eienaars was en ontevrede was met die “liberale” Kaapse bewind, skets Van Bart die ware prentjie. Die Engelse was skynheilig en het lank nadat slawerny “amptelik” afgeskaf was, steeds met slawe handel gedryf. Kinders is vry algemeen, selfs gedurende die twintigste eeu, as slawe en as gedwonge arbeiders aangehou. Van 1920 tot 1960 is “minstens 10 000 wees- en ander kinders in Brittanje wat deur die welsyn in kinderhuise geplaas is, na Australië ‘uitgevoer’ onder die voorwendsel dat hulle die wit bevolking van Australië sou aanvul”. By hul aankoms is hierdie kinders egter as slawe gebruik.

Ook aan die Kaap het die Engelse gedurende die negentiende eeu weeskinders uit Engeland as sogenaamde “indentured apprentices” ingevoer. Vir alle praktiese doeleindes was hierdie kinders slawe wat as goedkoop arbeid in die Kaap gebruik sou word. Dr. John Philip, die bekende “filantroop” wat vandag deur Engelse geskiedskrywers geloof word vir sy (valse) beskuldigings teen Afrikaners in die negentiende eeu, was deel van hierdie stelsel van gedwonge kinderarbeid aan die Kaap.

Dit blyk dat slawerny met blanke Engelse weeskinders deel was van die pogings in die negentiende eeu om die Kaap te verengels. Dit herinner aan die soortgelyke program van Sargent om Boerekinders in die konsentrasiekampe te verengels.

Die Londense koerant The Times het die slawerny wat kinders aan die Kaap van Engelse “Masters” moes verduur, in 1839 aan die kaak gestel deur na die sogenaamde filantrope as “dealers in British blood” te verwys. Dog nie lank daarna nie het die mislukte aartappeloeste en gepaardgaande hongersnode in Ierland tussen 1840 en 1860 weereens ‘n stroom Ierse kinderslawe na die Kaap en Australië verseker. Soveel minagting het die Engelse aan die Kaap vir die Iere gehad dat sulke kinders, veral seuns, soos Van Bart aantoon, saam met die bruin en swart slawe ingekwartier is:

“Dié weeskinders se lot hier ter plaatse was dieselfde as dié van die…CFS én die ‘Prize Negroes’. As ‘Apprentices’ was hulle niks minder as onbetaalde slawe in diens van welgestelde ‘Masters’ nie. As gevolg van die algemene gebruik om die weeskinders, veral die seuns, as minderwaardige mense te bejeën, hulle van die wit gemeenskap af te sonder en hulle by die swart en bruin slawe en arbeiders in te kwartier, is hulle op enkele uitsonderings na deur die swart en bruin arbeidersgemeenskap geassimileer.” (Kaap van slawe, bl. 146)

Dit word algemeen aanvaar dat Engeland se rykdom in die negentiende eeu aan haar kolonies en Walliese steenkool te danke was. Sommige mense beweer selfs dat steenkool van Brittanje die “Saoedi-Arabië van die negentiende eeu” gemaak het. Marthinus van Bart en die ander skrywers wat hy aanhaal, wil egter beweer dat Engeland se rykdom weens die slawehandel en gratis slawearbeid geskep is.

Daarby moet ‘n mens nog voeg die seerowery van die sogenaamde “buccaneers” en “privateers” wat onder Elizabeth I die vrypas ontvang het om ander volkere ter see na hartelus te teister en te beroof.

Die stereotipe van die “wrede Boer” is in Suid-Afrika deur Engelse historici geskep wat eenvoudig die bedenklike en selfs gruwelike aspekte van hul eie geskiedenis ignoreer om op Afrikanertekortkominge te fokus. Dis waar die “geskiedenis as terrein van stryd” inkom.

Marthinus van Bart het met hierdie boek ‘n groot bydrae gelewer om Suid-Afrika se slawegeskiedenis te sien vir wat dit was: ‘n grootliks Engelse bedryf waarvan die dokumantasie deur skynheilige en oneerlike Engelse verdoesel of vernietig is, maar waarvan die feite nie meer verswyg kan word nie.

Kaap van slawe is by verre die belangrikste geskiedenisboek wat daar oor die afgelope dekade in Afrikaans verskyn het. Dit is die beginpunt van ‘n hele nuwe debat oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis en die rol van Engelse daarin.

Dat sommige dit graag in die doofpot sal wil steek, spreek vanself. Dit druis teen die polities korrekte weergawe van ons geskiedenis as ‘n verhaal van “Afrikanerboosheid” in. Ons mag egter nie toelaat dat dit gebeur en dat die boek alleenlik vir ‘n klein gehoor bestem bly nie. Elkeen behoort dié teks aan te skaf en hom met die feite daarin vertroud te maak, alvorens hy dit aan die groot klok hang.

Die boek bevat ook vele aantreklike foto’s, skilderye en illustrasies wat dit ‘n kleinood maak om te besit.

Marthinus van Bart is daardie rare verskynsel in ons tyd: ‘n Afrikanerintellektueel en -skrywer wat nie daarvan wegskram om die leuen en die halwe waarheid uit te daag nie. Net daarvoor verdien hy al ‘n medalje. Dis nou nog afgesien van die reusewerk wat hy reeds by Die Burger se Kultuurkroniek gedoen het om oor jare ons Afrikanergeskiedenis op te teken en aan die gewone Afrikaner oor te dra.

Kaap van Slawe kan bestel word by tel 021 406 2823 of e-pos: erfenis@dieburger.com.