Twee dekades van demokrasie en vryheid?

'n Halssnoermoordtoneel... Met sulke metodes het die ANC-SAKP sy mag in SA gevestig
‘n Halssnoermoordtoneel… Met sulke metodes het die ANC-SAKP sy mag in SA gevestig

deur Leon Lemmer

Verlede naweek, op 27 April, is wyd verkondig dat twintig jaar van demokrasie en vryheid gevier word. Kom ons besin, ten aanvang en agtereenvolgend, kortliks oor “demokrasie” en “vryheid”.

Eerstens, wat beteken “demokrasie” in hierdie konteks? Omdat algemene stemreg in ‘n eenheidstaat aan alle Suid-Afrikaners bo 18 jaar toegestaan is, beteken dit dat die meerderheid kiesers, sonder enige verdere kwalitatiewe oorwegings, besluit watter politieke party(e) die land regeer. Geen vereistes oor ontwikkeling/beskawing, formele onderrig, geletterdheid, ingeligtheid, insig, intelligensie, prestasie, ondervinding, ens, word gestel nie. Ten spyte van ooglopende bewyse van die teendeel, is alle burgers gelyk verklaar. Die gevolg is dat Suid-Afrika sedert 1994 aan die tirannie van die meerderheid uitgelewer is. In die praktyk kom dit daarop neer dat die lot van ons almal in die hande van swart mag is.

In hierdie opsig is daar geen sprake van FW de Klerk se beloofde magsdeling nie. In soverre swartes saamstaan, is die nie-swartes (wittes, bruines, Asiate) grootliks magteloos, bloot omdat die oorgrote meerderheid inwoners swart is; nie omdat swartes bv beter weet nie.

In baie ander lande, bv in talle Amerikaanse state, ontbeer misdadigers tydelik of permanent hulle stemreg. In Suid-Afrika is stemreg ‘n onvervreembare mensereg; ook vir misdadigers, al beteken “misdaad” dat teen die samelewing gesondig is, dus dat die heil van ‘n land in geen mate aan misdadigers toevertrou behoort te word nie. Selfs wat misdadigheid betref, word daar dus by kiesers geen kwalitatiewe onderskeid gemaak nie; heel moontlik omdat so baie van diegene wat tans hoë poste beklee, ‘n misdaadrekord het (bv eufemisties “struggle-“geskiedenis genoem) of dit amptelik behoort te hê. (Die president het die grondwetlike reg om iemand se misdaadrekord uit te vee en hy het hierdie mag al gebruik.)

Soos in die geval van Nelson Mandela is die algemene neiging om demokrasie sonder meer as iets goeds voor te hou. Demokrasie is nie noodwendig goed nie. In die konteks van ontwikkelde/beskaafde lande kan algemene stemreg tot skaflike regering lei. Tradisioneel het dit in die Westerse of eerstewêreldse lande gegeld; nie in die kommunistiese of tweedewêreldse lande nie.

In die derde- en vierdewêreld lewer sodanige demokrasie dikwels onbevredigende resultate. “Some writers have begun to distinguish between the Third World, which they confine to those developing countries with rich natural resources such as the oil-producing states of the Middle East, and the Fourth World, in which are counted all the other underdeveloped countries which have no such resources and little if any prospect of development” (The Fontana Dictionary of Modern Thought, London: Fontana/Collins, 1977, p 635).

Die toenemende onvermoë om weens bv arbeidsonrus natuurlike hulpbronne te benut, laat die nuwe Suid-Afrika die gevaar loop om vierde- pleks van derdewêrelds te word, terwyl die ou Suid-Afrika in baie opsigte eerstewêrelds was. In die ou Suid-Afrika was bv die middestede en -dorpe, asook die blanke woonbuurte, skole en universiteite, onmiskenbaar Europees. Sedert 1994 het alles feitlik onherkenbaar verander en het verval die plek van ontwikkeling ingeneem. Dit is omdat die blankes in hulle geboorteland deur verraad in eie kring ontheem is. Neem gerus waar in watter mate Europese beskawing binne twee dekades plek vir die brutalisering van die openbare lewe gemaak het. Verfynde, beskaafde Europeërs kan onmoontlik so iets vier.

Hoe sien Danny Titus die 1994-verkiesing? “Die regse mobilisering en bomme kon dit nie keer nie, die brutale geweld en slagtings ook nie” (LitNet 30 April). Hy assosieer (blanke) regses met geweld; nie die ANC en PAC wat by uitnemendheid gewelddadige “bevrydingsbewegings” was nie. Hy verwys na die “naakte rassisme” van die verlede. Hy skryf oor “meneer Mandela” en “Madiba” sonder enige sweem van distansiëring; wél met duidelike, ongekwalifiseerde bewondering. Hierdie prulteks is waarskynlik in werktyd gekraam. Dit kom ampshalwe van die hoof van kultuur van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV). Daardie kultuur was eens Afrikanerkultuur. Deesdae is die ATKV tot hoogstens ‘n Afrikaanse kultuur-instansie getransformeer. Maar waarom sou Titus oor die wondere van die nuwe Suid-Afrika skryf sonder enige verwysing na Afrikaans of die Afrikaanse kultuur? As dít is hoe die ATKV ontaard het, dra dit by tot die gevoel van ontheemding van Afrikaners.

In die konteks van derde- en vierdewêreldsheid kan demokrasie ‘n destabiliserende onding wees. “In 2005, the United States declared it was abandoning its policy of supporting stability at the expense of democracy and that it would now support the democratic aspirations of all people” (Humphrey Hawksley, Democracy Kills: What’s so Good about the Vote? London: Macmillan, 2009, p 2). Demokrasie word dus deur Westerse lande en veral die VSA verabsoluteer, selfs al sou dit teen die belange van minder ontwikkelde lande indruis. “To them, it seemed to be more about creating a mirror of our own societies than solving the problems of the developing world” (p 6). “Much evidence indicates that voting to appoint a government in the developing world can lead to war, disease and poverty” (p 1).

Aan die einde van sy boek vestig Hawksley by implikasie die aandag op die kolossale onnoselheid van Suid-Afrika se skielike (1990-1994) oorgang na ‘n demokratiese bestel: “Building institutions to make a country safe for democracy should be counted in decades not years. The Allies waited ten years after the Second World War before returning sovereignty to Germany and seven years for Japan. It could easily take Bosnia a quarter of a century from the end of its war in 1995” (p 382). In die ou Suid-Afrika is swartes wat aan die regering deelgeneem het, bv op plaaslike vlak, sover moontlik sistematies deur veral ANC-aktiviste uitgemoor. Dit was vir ANC-kamerade ‘n prestige-saak om die politieke mag in die land oor te neem en Suid-Afrika dan sonder enige ondervinding van regering te bestuur, vandaar die klaaglike mislukking. Waaroor ernstig besing moet word, is: Behoort ons trots op ons jong demokrasie te wees? Lyk die regeringsrekord sedert 1994 belowend?

Tweedens, wat beteken “vryheid” in die nuwe Suid-Afrika? Die kern van wat tans plaaslik onder vryheid verstaan word, is dat die land vry van apartheid is. Maar implisiet hierin is die eintlike rede vir die feesviering dat die land van die blanke bewind bevry is. Europese beskawing het plek vir afrikanisering gemaak. Is dit iets waaroor gejuig moet word? Is die bewese rekord van Europa oor baie eeue nie veel beter as dié van Afrika nie? Kan hieruit nie maklik afgelei word dat daar sedert 1990/1994 agteruit geboer is nie?

Onder vryheid verstaan die ANC en sy meelopers dus bevryding van sowel apartheid as blanke oorheersing. In die plek van verpligte rasseskeiding het egter nie vryheid gekom nie maar gedwonge rasse-integrasie. Daar het ook baie ander soorte onvryheid oorgebly. Die land is bv nie bevry van rassediskriminasie nie. Aanstellings en bevorderings word oogluikend op rassistiese en seksistiese gronde gedoen; dermate dat dienslewering deurlopend agteruitgaan. In die grondwet word rassediskriminasie uitdruklik toegelaat, mits dit teen blankes gepleeg word. Die ANC-regering kan glad nie op ‘n nie-rassistiese grondslag funksioneer nie. Regstellende aksie, swart bemagtiging en nie-wit (veral swart) bevoordeling is die kern van die ANC-regering se beleid, wat nie sonder rasseklassifikasie en -diskriminasie uitgevoer kan word nie.

Die land is ook geensins van kommunisme bevry soos FW de Klerk valslik in die vooruitsig gestel het nie. Destyds het De Klerk goeie raad in die wind geslaan en dit wys geag om met terroriste te onderhandel, al het hulle geweier om geweld af te sweer. Die gevolg was dat elke keer wanneer die ANC en sy meelopers nie hulle sin gekry het nie, hulle met die hervatting van hulle terreurbedrywighede gedreig het. Weens hierdie afdreiging is die grondwetlike onderhandelings deurlopend gekenmerk deur toegewings aan die kant van De Klerk en sy onderhandelaars.

Die gevolgtrekking wat hieruit deur die massa gemaak is, is dat geweld/misdaad lonend is. Die ANC se geweldstradisie word tot op hede voortgesit en steeds word die een sukses na die ander behaal, bv tydens of na stakings en diensleweringsbetogings. Dit is dus nog ‘n prominente voorbeeld van onvryheid in die nuwe Suid-Afrika: Die land is nie vry van geweld nie; dit is veel eerder toenemend ‘n gewelddadige misdaadnes.

Is ons vry om die landsvlag van die ou Suid-Afrika in die openbaar te laat wapper? As ek so ‘n vlag na ‘n sportbyeenkoms neem, sal ek nie net dadelik verwyder word nie, maar heel moontlik permanent verbied word om verdere sodanige byeenkomste by te woon. Die land is ook nie vry van korrupsie nie, ens. Behoort al hierdie soorte onvryheid gevier te word?

Maar kom ons kyk hoe instansies wat met Afrikaans gemoeid is en dus sensitief vir Afrikanerbelange en Europese beskawing behoort te wees tydens hierdie twintigjarige viering van demokrasie en vryheid gereageer het. Ek bepaal my aandag (benewens die ATKV-verwysing hierbo) by twee instansies, die Afrikaanse Taalmuseum en -Monument (ATM) en die Afrikaanse Taalraad (ATR), soos gesimboliseer deur Michael le Cordeur as boosdoener.

Le Cordeur is die ondervoorsitter van die ATM en die voorsitter van die ATR. Wannie Carstens is die voorsitter van die ATM en die ondervoorsitter van die ATR. Hierdie twee mense kan dus by uitstek verantwoordelik vir die manewales van hierdie twee instansies gehou word. Carstens is nie ‘n Dopper nie, maar daar is ‘n sterk streep doppertunisme (Praag 13 April) en kastraatmentaliteit (Praag 1 en 8 September 2013) by hom.

Die publiek is uitgenooi om “20 jaar van vryheid” op Sondag, 27 April, by die ATM te vier. Die tema was: “Suid-Afrika: ‘n beter plek om in te leef – ons storie is ‘n goeie storie” (Die Burger, 25 April, p 13). Deel van die program was ‘n uurlange praatjie deur “Drakenstein Transformasie.” Waarop dit neerkom, is dat die ATM hom propagandisties aan die kant van die ANC en sy meelopers skaar; dat wat die afgelope twee dekades gebeur het, volgens hom goed is. Die ATM is egter veronderstel om Afrikaans te bevorder, terwyl die ANC-regering alles in sy vermoë doen om Afrikaans te benadeel. Hoe bring die ATM die kloutjie by die oor?

Volgens die webwerf wil die ATM Afrikaans inklusief in ‘n meetalige konteks by al die bevolkingsgroepe bevorder. Die ATM maak hiermee ‘n bespotting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) wat hom ten doel gestel het “om te staan vir ons Taal, ons Nasie en ons Land” (AP Grové, Letterkundige Sakwoordeboek vir Afrikaans, Kaapstad, Nasou, 1964, p 30). Uit die GRA-leuse spreek onverdunde Afrikaner-nasionalisme. Die GRA was sowel ‘n Afrikaans- as ‘n Afrikaner-gesentreerde onderneming. Soos by die ATR is daar by die ATM egter ‘n opvallende skuheid om hom openlik by die (nie-verloopte, dus egte/ware) Afrikaners en Standaardafrikaans te skaar.

Afrikaans is myns insiens die kerneienskap van die Afrikaner. Die ATM is veronderstel om die heil van hierdie Afrikaner-kleinood te bevorder. Die dwaasste manier om dit te doen, is om ANC-gedienstig te wees. Wat soek die ATM ongevraagd op die terrein van ideologie en politiek as hy daardeur klaarblyklik strydig met die beste belange van Afrikaans en Afrikaners handel? Afrikaners behoort weer beheer oor hierdie belangrike deel van hulle erfenis, die ATM, te kry.

Waarmee die voor- en ondervoorsitters van die ATM en ATR, Wannie Carstens en Michael le Cordeur, besig is, is om Afrikaans los van Afrikaner-nasionalisme te probeer maak. Hulle verwag van Afrikaners om vry van hulle eie nasionalisme sonder meer by ‘n geafrikaniseerde nuwe Suid-Afrika in te skakel. Met die oog hierop word Afrikaans gereduseer tot ‘n taal van versoening; dus om ‘n polities korrekte en ANC-gedienstige funksie te vervul. Pleks daarvan behoort Afrikaans erken te word as die onontbeerlike middel waarmee uitdrukking aan die kern, die siel, die kultuur, die identiteit,van die Afrikaner gegee word. Deur die nasionalistiese onafhanklikheidstrewe van Afrikaners te verwerp, word die deur vir die sloping en uiteindelike vernietiging van agbare Afrikaans oopgelaat. Dit is waarom die ATM en die ATR geen woord rep oor die besoedeling van Afrikaans met Engelse woorde nie en waarom selfs sover gegaan word om eerder ‘n mengeltaal soos Kaaps te bevorder.

Laat ek wat hier gebeur met ‘n konkrete voorbeeld illustreer. John Kannemeyer noem in sy biografie oor JM Coetzee dat “the Coetzees of his father’s generation, an Afrikaans riddled with English words” gebesig het (JC Kannemeyer, JM Coetzee: A Life in Writing, Johannesburg: Jonathan Ball, 2012, p 51). Dit het gebeur omdat die Coetzees afsydig teenoor Afrikaner-nasionalisme en -patriotisme, dus wat uit die “volksmond” kom, gestaan het. Dit is dan wanneer ongetemde verengelsing van Afrikaans plaasvind. Die tragedie is dat dit presies is wat by implikasie tans deur sowel die ATM en die ATR nagestreef word.

Soos sy gewoonte is, is Michael le Cordeur se jongste artikel op drie plekke gepubliseer: die ATR-webtuiste, LitNet en Die Burger (26 April, p 11). Ek gebruik laasgenoemde teks. As drie instansies ‘n teks publiseer, impliseer dit seker dat dit goed is. Kom ons kyk watter pêrels die outeur uitrol.

Die hele teks is so naïef pro-Mandela soos kan kom. Daar word 8 keer na “Mandela” verwys (veral aan die begin) en 11 keer word die troetelnaampie “Madiba” gebruik (veral namate die teks vorder en Le Cordeur emosioneel opgesweep raak). Le Cordeur noem Mandela “ons geliefde Madiba,” ‘n “grootse staatsman” en verwys na “die byna histeriese reaksie” na sy dood. Hy onderskei “tussen ‘n vryheidsvegter en ‘n terroris.” Hy regverdig dan Mandela se gedrag met die bekende verskoning “dat die gewapende stryd as ‘n laaste uitweg gekies is.” Daarom verkwalik Le Cordeur, met ‘n uitroepteken, iemand wat Mandela ‘n terroris genoem het.

Maar die terroris-betiteling is nie so vergesog soos Le Cordeur probeer voorgee nie. Dit is immers maklik voorstelbaar dat mense vir vryheid kan veg sonder om hulle tot gewelddadige, misdadige terrorisme te wend, wat onskuldige mense in die slag laat bly en ‘n land afbreek pleks van opbou. Nie net is hierdie nie-gewelddadige vryheidsvegtery voorstelbaar nie, dit is en word wydverspreid in die praktyk aangetref. Daar is baie mense wat nie die geweldsopsie kies nie. Mandela was vry om geweld of nie-gewelddadigheid te kies. Niemand het Mandela gedwing om geweld te kies nie. Desnieteenstaande verwys Le Cordeur na Mandela se “versoenende boodskap;” iets wat Mandela eers begin predik het toe hy in sy doel, naamlik politieke magsoorname deur die swartes, geslaag het.

Mandela was so verknog aan geweld dat hy dit nooit afgesweer het nie. Hy het graag op kenmerkende wyse sy gebalde vuis in die lug rondgeswaai, maar vir sikofante soos Le Cordeur is hy ‘n vredesikoon. Ronnie Kasrils noem dat Mandela persoonlik die ANC se besluit om die Bhisho-slagting aan te hits, bekragtig het (Die Burger, 1 deser, p 11). Hierdie gebeurtenis het op 7 September 1992 plaasgevind, dus meer as twee jaar na Mandela uit die tronk vrygelaat is. 29 mense is gedood. Dit toon dat selfs na die gevangenisstraf van 27 jaar, waaroor Le Cordeur kla, Mandela steeds nie tevrede was dat hy genoeg dood en verwoesting gesaai het nie. Dit staan uiteraard vir Le Cordeur vry om iemand soos Mandela te bewonder as dit met sy moraliteit versoenbaar is. Wat ek ontken, is Le Cordeur se reg om die ATR as voertuig vir die propagering van sy persoonlike politieke oortuigings te misbruik. Dit kan onmoontlik bevorderlik vir die heil van Afrikaans wees.

Mandela wou selfs hê dat 14-jariges moet kan stem. Hier was sy uitgangspunt heel moontlik die bekende feit dat veertienjariges uitstekende terroriste kan wees. As sulke jeugdiges kan help om die (kommunistiese) ideaal van politieke verandering te bewerkstellig, is dit uit hierdie oogpunt onbillik om hulle stemreg te ontsê. Soos sy geliefde Mandela, is Le Cordeur ook radikaal gesind. Nadat sy skool, die Hoërskool Bergrivier in Wellington, in 1976 afgebrand is, het Le Cordeur net die hoogste lof vir hierdie terreurdaad gehad. Feitlik al sy mede-opvoedkundiges sal sodanige onbeskaafde gedrag as anti-opvoedkundig beskou; dat dit teen die grein van opvoeding gaan; dat dit iets is wat nie met opgevoedheid versoenbaar is nie.

‘n Mens moet nie oorspronklike denke by Le Cordeur verwag nie. Twee keer verwys hy na ons “jong demokrasie.” Ons word opgeroep om van demokrasie en nasiebou ‘n sukses te maak. Ons moet “die spoke van die verlede [dus apartheid, die slegte wittes] verjaag en as ‘n nasie begin saamstaan.” Le Cordeur betreur die feit dat dit die eerste “Vryheidsdag” is wat ons sonder Mandela moet vier. Hy doen aan die einde van sy teks ‘n beroep dat ‘n nuwe Mandela moet “ontluik” of “opstaan,” klaarblyklik om die goeie vorige een te (probeer) vervang.

Reëlreg teen wat ek hierbo oor vryheid geskryf het, haal Le Cordeur goedkeurend iemand aan wat beweer dat Mandela 27 jaar in die tronk was “sodat ons kan vry wees.” Hy noem natuurlik nie dat Mandela sy tronkstraf aansienlik kon verkort het as hy bereid was om geweld af te sweer nie. Pleks daarvan borduur Le Cordeur soos volg voort: Mandela “het ons geleer om saam met hom te droom van ‘n nuwe Suid-Afrika waarin almal vry kan wees en elke mens hierdie land sy eie kan noem.” Vir wittes is dit steeds ‘n droom en dit sal ‘n droom bly so lank daar bv rassisties teen hulle gediskrimineer word en hulle geen sekerheid oor bv hulle eiendomsreg en selfs hulle reg op lewe het nie.

Wat ek buitengewoon narsisties vind (dus as ‘n uiting van selfliefde), is dat Le Cordeur homself tot ‘n navolgenswaardige toonbeeld verhef. Hy het al verskeie kere vertel hoe goed hy was om ‘n swarte te help om aan die Universiteit Stellenbosch te studeer. Nou doen hy ‘n beroep op ons gewone of mindere siele om iets soortgelyks te doen. Le Cordeur se gebaar sal by my groter trefkrag hê as sy filantropie of ubuntu’s wittes insluit. Dit sal mos in ooreenstemming wees met die “inklusiwiteit” waartoe die ATM en die ATR hulle geroepe ag.

My grootste beswaar teen Le Cordeur se skrywe is dat hy sy uitgesproke pro-ANC-propaganda in die naam van sy ATR-voorsitterskap bedryf: “As voorsitter van die Afrikaanse Taalraad ag ek dit my plig om die naasbestaandes van Madiba verskoning te vra dat 99,9% van alle negatiewe, en soms blatante rassistiese kommentaar, in Afrikaans gespreek is. Dit maak al ons werk om Afrikaans as ‘n taal van versoening te bevorder, ongedaan.” Myns insiens behoort die ATR onverwyld teen die blatante politiekery van sy voorsitter op te tree.

Soos gebruiklik het Le Cordeur dit teen “die stereotipe dat Afrikaans deur sommige steeds as ‘n witmanstaal gesien word.” In die voorwoord by Christo van Rensburg se So Kry Ons Afrikaans (Pretoria: LAPA, 2012), spreek Le Cordeur die hoop uit dat “die nou byna afgesaagde gesegde dat Afrikaans ‘n witmanstaal is, finaal in die kiem [ge]smoor” sal word (p 10). Wat Le Cordeur in woord en daad doen, is om ‘n wig tussen Afrikaners en Afrikaans te probeer indryf. Dit behoort nie geduld te word nie.

Wanneer Le Cordeur met swartes en die ANC saamspan ten behoewe van “ons jong demokrasie” en “nasiebou,” en wanneer hy “inklusiwiteit” by die ATM en ATR bedryf, gaan dit om eenheid, uitgaande van die veronderstelling dat daar in eenheid krag is. (“Eendrag maak mag.”) Wanneer Le Cordeur egter by Afrikaans kom, dan predik hy verskeidenheid, noem hy Standaardafrikaans “maar net een van die variëteite van Afrikaans” en probeer hy alles in sy vermoë om Engels-besoedelde Kaaps te bevorder. Hier breek hy dus die moontlikheid van eenheid af, wat realisties net in Standaardafrikaans gevind kan word.

Le Cordeur se vyandigheid teenoor en/of geringskatting van Standaardafrikaans is myns insiens geleë in die feit dat dit die trotse produk van hoofsaaklik blanke arbeid is. Terselfdertyd verduidelik Le Cordeur se etnisiteit sy fanatieke voorkeur vir Kaaps, wat egter geen skild teen toenemende verengelsing bied nie. Hy behoort hom ten minste van Kaaps te distansieer in soverre onnodige Engelse woorde gebruik word. Inklusiwiteit moet grense hê. Byvoorbeeld, dit lê sekerlik op die weg van die ATM en die ATR om hulle vir ordentlike oftewel Standaardsafrikaans op kykNET, RSG en in Afrikaanse koerante, tydskrifte, boeke en op webwerwe soos LitNet te beywer.

Wat by Le Cordeur ontbreek, is ewewig. Hy gee gemaklik erkenning aan die hoofsaaklik swart “vryheidsvegters” wat die nuwe Suid-Afrika tot stand gebring het. Waarom nie insgelyks erkenning gee aan Afrikaners wat tereg op Standaardafrikaans as een van hulle prestasies aanspraak kan maak nie? Aanvaar die historiese feit dat die arme slawe nie Afrikaans in ‘n kits in die kombuise van wittes geskep het nie. Die slawe het Nederlands bloot skeef en krom gepraat. Dit kan een van die faktore wees wat aanleiding tot die ontstaan van Afrikaans gegee het, maar dit was nog nie Afrikaans nie; hoogstens voor- of proto-Afrikaans.

Die nuwe Suid-Afrika is polities grootliks ‘n ANC-produk waarvoor Le Cordeur net lof het. Standaardafrikaans is ‘n prestige-produk van hoofsaaklik Afrikaners, waaraan Le Cordeur gerus welwillende erkenning kan gee. Hy en sy etniese groep behoort met die nodige dankbaarheid van Standaardafrikaans gebruik te maak. Iemand sonder hierdie elementêre erkentlikheid hoort nie in die ATR nie.

20 jaar van onvryheid

danr2deur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Vandag “vier” ons 20 jaar van Afrikaneroorgawe- en verraad. Gisteraand ry ek laataand deur die strate van Johannesburg en daar sien ek die mees groteske Beeld-plakkaat nóg: Bylae oor 20 jaar van vryheid.

Vandaar dus my titel. Dit is selfs irriterend en onjuis om van “twintig jaar demokrasie in Suid-Afrika” te praat, want stem mense van alle rasse, maar veral blankes, nie al jare lank in ons land nie? Sonder die demokratiese persvryheid en akademiese vryheid van die Afrikanerregering tussen 1948 en 1989, sou die totalitêre kommuniste en liberale wat uiteindelik die land ingepalm het nooit in hul doel geslaag het nie. Hulle het juis die demokrasie en verdraagsaamheid van vóór 1989 misbruik om hul huidige dwingelandy te vestig!

En wat beteken die stem in elk geval vir die gemiddelde swarte in ons land? Soos een of ander Fransman gesê het: “Die swartman vra brood en ons gee hom stemreg.” My vriendin Ilana Mercer in die verre Idaho, VSA, het al etlike kere opgemerk dat universele stemreg soos dit in Suid-Afrika toegepas word juis ‘n anti-demokratiese, massa-oorheersing verseker. Op Engels word dit mob rule genoem. Ek herinner my in een of ander Hollywood-film – ek meen dit was The gladiator – word daar van imperiale Rome gesê: Rome is ruled by the mob.

Die massa, die terroris, die bende, die betoger wat brand en plunder, regeer in Suid-Afrika. Net mense wat van gesonde verstand ontdaan is, om van insig in die staatsleer en filosofie nie te praat nie, is so dom om dit “demokrasie” te noem. Onder PW Botha was hierdie land veel nader aan ‘n liberale demokrasie in die Westerse sin as tans.

Om soos die Beeld-plakkaat egter na die afgelope 20 jaar van moord, roof en verkragting as “vryheid” te verwys, is méér as grotesk. Dit gaan die verstand te bowe. Dis eenvoudig kranksinnig: die ylende, sikofantiese geprewel van half-Engelse napraters van die Anglo-Amerikaanse ryk en hul plaaslike, korrupte oligargie.

In vandag se Rapport word daar in ‘n hoofartikel insgelyks gepraat van “ons morsige… demokrasie”. Nee, die demokrasie is nie morsig nie; hy bestaan eenvoudig nie. Verder verklaar die Sondag-dooieboomorgaan so ewe:

Rapport huldig alle Suid-Afrikaners, ryk en arm, wit en swart, “links” en “regs”, wat in die naam van grondwetlike demokrasie veg vir hul regte om skoon water te drink, hul eie taal te praat en te weet waarheen staatsgeld gaan.

Is dit nie pragtig nie? Met ander woorde, solank daar skoon water sou wees en ons nog iewers maar Afrikaans mog praat – net nie op skool, universiteit of in die openbaar nie – en weet ons staatsgeld gaan na Nkandla of allerlei tenderpreneurs met staatskontrakte, is als reg! Welkom in Suid-Afrika: die diktatuur met skoon kraanwater en die AWS (Afrikaanse woordelys en spelreëls)! Maar selfs dít is ons nie beskore nie. Die water is vol riool en die spelling is vrot.

As die Afrikaner nie binne die volgende jaar of twee homself regruk en opstaan nie, gaan toekomstige geslagte na 27 April 1994 as ‘n rampspoedige datum verwys. Iets soos die plundering van Rome deur die Wesgote op 24 Augustus 410, die Arabiese verowering van Spanje in die agtste eeu of die val van Konstantinopel op 29 Mei 1453.

Praatjies dat die alternatief in 1994 “burgeroorlog” was, is loutere twak. In die 1980s het die ANC-SAKP – met die steun destyds van Swede, Oos-Duitsland, Kuba en die Sowjetunie – herhaaldelik gepoog om ‘n burgeroorlog en gewelddadige revolusie in Suid-Afrika te ontketen, sonder sukses. Sonder hul Sowjet-grootbroer sou hulle geen hond haaraf teen die destydse republiek met sy weermag, polisie en kommando’s kon maak nie. Die Rooivalkhelikopter, wat tans deur Jacob Zuma gebruik word om die magsbalans in die hele Afrika in sy guns te laat swaai, het op 15 Januarie 1990 sy eerste vlug onderneem en daarmee was die doppie van Suid-Afrika se vyande geklink. Enige verdere pantseraanvalle vanuit Angola sou met gemak gestuit kon word. Ons was besig om die mees gedugte mobiele verdedigingsmag in Afrika te raak wat selfs nie eens die VSA sonder kernwapens sou kon aandurf nie. Die gemak waarmee Poetin onlangs Amerikaanse dreigemente oor die Krim getroef het, toon dat Amerika ook nie destyds maklik die land sou aanval nie. Dink aan die politieke onrus wat dit destyds in die VSA sou veroorsaak het indien Amerika ‘n bondgenoot in die Koue Oorlog militêr sou aanval om ‘n kommunistiese regering in daardie land aan te stel, met lede soos Tokyo Sexwale en baie ander wat steeds op die VSA se amptelike terreurlys verskyn het!

Benewens die luidrugtige Britse linkervleuele en die destydse Oosbloklande, word die SAKP-ANC se destydse internasionale steun gruwelik oorskat.

Miltêr was die ANC-SAKP nog nooit vir ons ‘n bedreiging nie en lede van die SAKP het selfs ruiterlik erken dat die hele sogenaamde “struggle” of militêre stryd teen die Afrikaner ‘n klugspel was. Die aanval vanuit Lusaka op Voortrekkerhoogte sou nooit kom nie. Ná die verbrokkeling van die Sowjetunie en met Rusland onder Boris Jeltsin was die kanse vir so iets nog minder as nul. Al wat die ANC-SAKP kon pleeg, was lukrake terreur, net soos die huidige kriminele “vryheidsvegters” wat oumense, vroue en kinders aanval, steeds met so ‘n “strategie” besig is.

Chris Louw skryf in een een van sy boeke dat FW de Klerk ná die aanvaarding van dier sogenaamde “Rekord van verstandhouding” teenoor Roelf Meyer uitgeroep het: “Maar my God, Roelf, jy het ons mos nou uitverkoop!”

Die mengsel van verraad en onnoselheid waarmee De Klerk, Meyer en die hele Afrikaner-elite destyds gehandel het, verteenwoordig ‘n frats van die geskiedenis. Daar was niks onvermydeliks aan die ANC-SAKP se oorname van Suid-Afrika nie. Rooi Joe Slovo en Rooi Ronnie Kasrils kon nie hul geluk glo toe die eens trotse, geharde Afrikaners soos lafaards kapituleer nie!

Op daardie oomblik toe FW, die vrome Doppertunis (sien Leon Lemmer se rubriek oor dié term), die Here se naam ydellik teenoor Roelf Meyer gebruik het om sy geknoei by Kodesa beskryf, het ‘n lot ons getref wat veel erger as die Vrede van Vereeniging was toe Chris de Wet en ander huilend hul Mausers moes stukkend slaan en trou teenoor die Koningin van Engeland moes sweer.

Ten minste is daar by Vereeniging ooreengekom dat ons weer op ‘n stadium selfbeskikking oftewel “selfregering” sou ontvang. In 1994 is die Suid-Afrikaanse nagmerrie van heel die twintigste eeu en waarteen PW Botha hom ook telkens verset het, bewaarheid: die diktatuur van getalle. Massa-oorheersing. Die “massamens” waarvan die Spaanse filosoof Ortega y Gasset gepraat het, het oorgeneem, aangevuur en gerig deur ‘n klein, geslepe (en merendeels blanke) kommunistiese minderheid. In die agtste hoofstuk van sy boek oor Massas en mag, getitel “Waarom die massa by alles inmeng en waarom hulle altyd gewelddadig inmeng”, skryf Ortega:

“Eens en vir altyd, aanvaar [die massamens] die arsenaal van gemeenplase, vooroordele, halfbegrepe idees of gewoon holle woorde wat lukraak in sy verstand opgestapel het, en met ‘n stelligheid wat slegs deur sy geslepenheid verklaar kan word, is hy bereid om hulle oral af te dwing. Dis wat ek in my eerste hoofstuk as die kenmerk van ons tyd neergelê het; nie die vulgêre wat glo dat hy supervoortreflik en nie vulgêr is nie, maar dat die vulgêre die reg op vulgariteit verklaar en afdwing, of vulgariteit as ‘n reg.”

Vulgariteit as ‘n reg. Dis ‘n moontlike definisie vir die Suid-Afrikaanse pseudo-demokrasie. Om deur histeriese propaganda (veral rondom die gewaande begrip “apartheid”) en rassekwotas oral jou wil af te dwing: die reg om alles tot die laagste gemene deler te laat daal. Soos Leon Lemmer ook erg apropos verduidelik, gaan dit selfs by sport nie meer daaroor om te wen nie:

In sport word die term “ontwikkeling” met swartes geassosieer. Dít word ‘n prioriteit gemaak pleks van om te wen. Mahatlane se aandag is op swart spelers toegespits. Wit spelers word glad nie genoem nie.

Solank daar nog iewers iets “ontwikkel”, selfs al is dit van die wal af in die sloot, op pad na groter vulgariteit, is dit binne die massadenke van die kommunis en Afrofascis, voortreflik.

Vir die voorstander van massa-oorheersing wat tans binne die globale Anglo-Amerikaanse imperialisme moet geskied, is die verlies aan orde, waardes, standaarde, skoonheid en voortreflikheid – die “morsigheid” waarvan Rapport vandag praat – niks. ‘n Einde aan die klugspel van die ANC-SAKP se “burgeroorlog” en militêre oëverblindery of die blote verskuiwing daarvan na ‘n ander retoriese verhoog, is al wat saak maak.

Orde, waardes, standaarde, skoonheid en voortreflikheid is nie kwantifiseerbaar nie. Selfs Rapport se “skoon water” is ‘n relatiewe begrip. Maar die ekonomiese bates wat Roelf Meyer iewers in 1992, soos met die “Rekord van verstandhouding” (Record of understanding) op 26 September, met ‘n pennehaal weggeteken het, is wel kwantifiseerbaar en kan in syfers omgeskakel word. Vele van die Afrikaner se kulturele bates wat oor die afgelope twintig jaar verlore gegaan het, kan insgelyks na waarde geskat word. Indien enigiemand nog nie begryp watter ontsaglike ramp die “Nasionale Demokratiese Revolusie” verteenwoordig nie, soos die ANC-SAKP heel korrek daarna verwys, sal die onderstaande lys dalk help om helderheid te bring.

1. Die verlies van soewereiniteit

De Klerk het iewers in 1998 in Londen gesê dat die aflegging van die Afrikaner se soewereiniteit en selfregering wat hy tesame met Engelssprekendes sedert 1910 geniet het, “geen maklike besluit was nie”. Hiervoor het 30 000 vroue en kinders in die konsentrassiekampe gesterf. As ons in ag neem dat vele ander volkere bereid was om hul lande deur oorloë te laat verwoes, hele ekonomieë prys te gee in die stryd om hul soewereiniteit te behou, dan wonder mens watter monetêre waarde om daaraan toe te ken? Die nasionale begroting is tans een triljoen rand. Wat sou Afrikanersoewereiniteit werd wees? Vyf triljoen rand? Tien? ‘n Triljoen dollar? Soos Cyril Ramaphosa en ander by Kodesa laggend gesê het: “Die Boere het die plaas weggegee!”
My konserwatiewe beraming: R5 000 000 000 000

2. Verlies van die Reserwebank, geldeenheid en ons goud- en ander reserwes

Gill Marcus glimlag breed, asof sy wou sê: R2 vir julle en R5 miljoen vir my! Foto: GCIS
Gill Marcus glimlag breed, asof sy wou sê: R2 vir julle en R5 miljoen vir my! Foto: GCIS

Tans is die revolusionêre “transformasie” van ons voormalige Reserwebank onder me. Gill Marcus – iemand wat blykbaar nou bande met die SA Kommunistiese Party hadhaaf – in volle swang. Presies wat van ons goudreserwes geword het, weet niemand nie. Die totale waarde van die land se buitelandse reserwes staan tans op ongeveer $50 miljard oftewel R550 miljard.
My beraming: R500 000 000 000

3. Verlies van die vyf Afrikaanse en een tweetalige universiteit

Sedert 1994 woed ‘n konstante polemiek rondom Afrikaans as universiteitstaal en die toegang van Afrikaners tot die universiteite wat hul voorouers opgebou het. Danksy die aanhoudende verraad van sowel konserwatiewe as linkse akademici, is dié stryd grotendeels verlore en het Afrikaners heeltemal beheer oor die US, die VS, die PUK, die voormalige RAU, die UP en UPE verloor.

Volgens internetbronne kos dit ongeveer $35 miljard om ‘n groterige universiteit te bou. Dus ongeveer R400 miljard per Afrikaanse universiteit, wat die grond, geboue en toerusting sou insluit.
Vervangingswaarde van ons universiteite: R2 400 000 000 000

4. Verlies van staatsmaatskappye

Tydens die twintigste eeu het die Engelse in ons land beheer oor die Brits-koloniale mynmaatskappye behou, wat in privaat- en dikwels ook buitelandse besit was. Hierteenoor het die Afrikaner staatskapitaal aangewend om nywerhede en openbare maatskappye soos Eskom, Telkom, Transnet, PetroSA (die ou Mossgas en Soekor), Yskor, Sasol en baie ander te vestig, waarvan enkeles intussen ook geprivatiseer is. Die NOK en die Openbare beleggingskommissaris het ‘n sleutelrol by die aandeelhouding in sommige van dié maatskappye gespeel en daarom het die ANC-SAKP in hul triomfantelike plundertog deur Suid-Afrika besondere aandag aan dié instellings bestee.

Afrikaners, wat in groot getalle in dié openbare maatskappye as werknemers saamgetrek was, moes die spit afbyt en is binne enkele jare etnies uit dié maatskappye gereinig.

Weereens is dit ‘n konserwatiewe beraming, maar die vervangingswaarde van dié maatskappye wat nou geheel en al onder die revolusionêre beheer van die SAKP-ANC verkeer, is die volgende:

Eskom: R1 000 000 000 000
Telkom: R20 000 000 000
Transnet: R500 000 000 000
Yskor: R100 000 000 000 (Yskor is gratis aan Lakshmi Mittal, ‘n vriende van Tony Blair, weggegee)
PetroSA: R18 000 000 000 000 (volgens 2012-jaarverslag)
Sasol: R381 000 000 000
Openbare beleggingskommissaris: R1000 000 000 000
NOK: R96 000 000 000 (volgens 2013-jaarverslag)
Denel/Krygkor: R1000 000 000

TOTAAL: R3 116 000 000 000 (R3,116 triljoen)

5. Verlies van Afrikaanse skole

Daar was ‘n verlies van meer as 1000 Afrikaanse skole. Teen vandag se pryse kos dit ongeveer R50 miljoen om ‘n skool te bou, dus:
R50 000 000 000

6. Verlies van Afrikaans as kultuurtaal

Sedert 14 Augustus 1875, is daar miljoene der miljoene man-ure in die Afrikaanse taal deur Afrikaners gestort. 300 woordeboeke is opgestel en tienduisende boeke in Afrikaans geskryf. Dít alles verkeer tans in die weegskaal. Hoeveel is Afrikaans as taal werd, ‘n bate wat ons geheel en al sal moet afskryf indien die verengelsingsproses wat met die Nasionale Demokratiese Revolusie saamgaan, voortduur?
My konserwatiewe beraming: R1000 000 000 000

7. Verlies aan grond en grondgebied

Nie net het Afrikaners alle staatsgrond verbeur wat deur vorige geslagte met belastinggeld in die algemene belang verkry is nie, maar is ook deur grondrestitusie, grondhervorming, grondeise, ens., benadeel, ‘n proses wat tans radikaliseer.

Indien Afrikaners ‘n nuwe land iewers sou moes koop, wat sou dit kos? Al argumenteer dat slegs die helfte van Suid-Afrika ons toekom, dus 600 000 vierkante kilometer, sou so ‘n koopsom teen slegs R5000 per hektaar gemiddeld = 600 000 x 100 x R5000.
Grondwaarde: R300 000 000 000

8. Verlies van munisipaliteite en infrastruktuur

Munisipale korrupsie en wanbestuur is een van die hooftemas van die sogenaamde “Nuwe Suid-Afrika”. Onder andere skuld die munisipaliteite byna R100 miljard aan Eskom. Paaie en infrastruktuur wat voorheen ten duurste gebou en onderhou is, is toegelaat om te verval en verkeer onder die revolusionêre beheer van die SAKP-ANC wat na willekeur munisipale grense trek, sy kaders na munisipale besture ontplooi, ens.
Geraamde waarde: R500 000 000 000

9. Verlies van buitelandse ambassades

Die republiek van vóór 1994 het van die beste ambassades in al die groot Westerse hoofstede beskik, wat op sigself aansienlike waarde het. Maar die simboliese waarde van daardie ambassades op skouspelagtige plekke wat die soewereiniteit van die land en sy rang tussen ander lande vergestalt, sal nie maklik weer verkry kan word nie. Slegs Suid-Afrika en Kanada beskik oor ambassades op Trafalgarplein in Londen, byvoorbeeld.
Geraamde waarde: R2 000 000 000

10. Verlies van die staatsadministrasie, weermag en polisie

Afrikaners word tans deur geweldsmisdaad, plaasmoorde, verkragtings, huisaanvalle en bedrog geteister. Hul enigste antwoord op dié toestand is die organisasie van buurt- en plaaswagte, asook privaatveiligheidsmaatskappye met personeel wat dikwels swak opgelei is en self aan korrupsie skuldig is. Voeg hierby organisasies soos die WNNR, Landbounavorsingsraad, Raad op Geowetenskappe, SABS, en ons kan sien dat die oorhandiging van die staat tydens die Nasionale Demokratiese Revolusie ‘n geweldige slag vir ons was. Voeg hierby ook die staatsgeboue waarvan sommige historiese geboue in die hart van die ou Boerepublieke en Kaapstad is, en ons kan sien watter geweldige kulturele en materiële verlies dit vir ons verteenwoordig.

Geraamde waarde van die staatstruktuur: R1000 000 000 000

Dus, die Afrikaner se totale verlies weens die 1994-revolusie, in triljoene (miljoen miljoene) rand uitgedruk:

Soewereiniteit R5,0
Reserwebank R0,5
Universiteite R2,4
Staatsmaatskappye R3,116
Skole R0,05
Kultuurtaal R1,0
Grond R0,3
Munisipaliteite R0,5
Buitelandse ambassades R0,002
Verlies van staatsadministrasie R1,0

Totale verlies: R13,868 triljoen oftewel R13 868 000 000 000.

Indien ons veronderstel dat daar steeds 3 miljoen Afrikaners bestaan wat ná die revolusie oor die aardbol versprei is, verteenwoordig dit ‘n verlies van:

R4,6 miljoen per Afrikaner!

As elke Afrikaner vandag begin spaar om die bedrag terug te kry wat Roelf Meyer en FW de Klerk in 1994 aan die SAKP-ANC oorhandig het, sal dit ons die volgende aantal jaar neem om dit weer op te maak:

Indien ons elkeen R1000 per maand spaar: 383 jaar.
Indien ons elkeen R2000 per maand spaar: 191 jaar.
Indien ons elkeen R5000 per maand spaar: 77 jaar.

In hul huidige verarmde, werklose toestand, sou Afrikaners waarskynlik gemiddeld nie meer as R2000 kon spaar vir ‘n nuwe staat, universiteite, infrakstruktuur, ens. nie. Die SAKP-ANC gaan ons ook nie van belasting vir hul revolusionêre staat kwytskeld om so ‘n spaarpoging aan te wend nie. Inteendeel, die huidige maghebber sal aanhou om ons uit te buit, ook met tolgeld op ons eie paaie. Daarom kan ons realisties aanneem dat dit ons byna 200 jaar gaan neem om van die terugslag van 1994 te herstel, indien ooit.

As ‘n mens in ag neem dat dit die twee verloorders tydens die tweede wêreldoorlog, Duitsland en Japan, ongeveer tien jaar geneem het om die finansiële en ekonomiese verliese van daardie verwoestende oorlog te bowe te kom, dan is die “vrede en versoening van 1994” erger as 20 wêreldoorloë ná mekaar!

Veg terug! Sluit aan by praag.

Dan Roodt: Volksmoord en die tweede revolusie

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Redelik onlangs was daar ‘n openbare debat in Suid-Afrika oor die ANC/SAKP se tweede revolusie. Binne die marxistiese doktrine, is daar altyd twee opeenvolgende revolusies, waarvan die tweede gewoonlik meer radikaal en bloedig as die eerste is.

Só was dit ook in Rusland waar daar in 1905 ‘n eerste revolusie plaasgevind het en daarna, in Oktober 1917, die tweede en kommunistiese revolusie. Tydens kommunistiese revolusies in die twintigste eeu, is 100 miljoen mense uitgemoor. Hierdie syfer is bereken deur ‘n groep Franse navorsers wat “Die swart boek van kommunisme” (Le livre noir du communisme – crimes, terreur, répression, Robet Laffont, 1997) gepubliseer het.

Vele van die kommunistiese volksmoorde was ook etnies van aard. In Kambodja is veral etniese Chinese deur die Khmer Rouge uitgemoor. In Rusland was dit Christelike Russe, aangesien die leiers van die Oktober-revolusie hoofsaaklik Jode was. (Lenin was geen Jood nie, maar sy vrou, Nadesjda Kroepskaja, was blykbaar Joods.) Solsjenitsin het beweer dat Jode onder Stalin vervolg is, maar dat hulle tydens die aanvanklike Bolsjewistiese oorname massamoorde op Russe gepleeg het of laat pleeg het. Jode was ook oorverteenwoordig in die gevreesde Tsjeka of geheime polisie.

Volgens een van die skrywers van Die swart boek van kommunisme, Stéphane Courtois, het die volgende getalle mense in kommunistiese lande gesterf:

USSR: 20 miljoen dood
China: 65 miljoen dood
Viëtnam: 1 miljoen dood
Noord-Korea: 2 miljoen dood
Kambodja: 2 miljoen dood
Oos-Europa: 1 miljoen dood
Latyns-Amerika: 150 000 dood
Afrika: 1,7 miljoen dood
Afghanistan: 1,5 miljoen dood

Die direkteur van Genocide Watch, dr. Gregory Stanton, het op besoek aan Suid-Afrika sy kommer uitgespreek oor die invloed van kommunisme, ‘n ideologie wat al so dikwels in verskeie lande tot volksmoord gelei het. Die huidige ambassadeur van die VSA by die Verenigde Nasies, Samantha Power, het self ‘n boek oor volksmoord geskryf: A problem from hell: America and the age of genocide (2002). In die hoofstuk oor Kambodja lees ons:

All told, in the three-and-a-half-year rule of the Khmer Rouge, some 2 million Cambodians out of a populace of 7 million were either executed or starved to death.”‘ National minorities were special targets of the regime. The Vietnamese minority was completely wiped out. Of the 500,000 Muslim Chain who lived in Cambodia before Pol Pot’s victory, some 200,000 survived. Of 60,000 Buddhist monks, all but a thousand perished.

Wat egter in Samantha Power se boek opval, is die gebrek aan enige daadwerklike optrede deur die VSA en die res van die internasionale gemeenskap terwyl die volksmoord in Kambodja plaasgevind het. Almal het verkies om te maak asof hulle dit nie raaksien nie. Selfs ná die volksmoord en toe ‘n nuwe regering in die land deur die Viëtnamese aan bewind gestel is, het Westerse diplomate en VN-amptenare verseg om die term “volksmoord” te gebruik vir die miljoene mense wat daar omgekom het.

‘n Afrikaanse roman deur P.J. Haasbroek, Die jaar nul, het die toestand in Kambodja tydens die Rooi Khmer-revolusie baie goed uitgebeeld. Dikwels is fiksie ‘n beter manier om gebeure in die werklikheid of selfs vrae oor die werklikheid aan te bied as koue, joernalistieke feite. Omdat dit ook tot ons emosie en estetiese gevoel spreek, plaas dit die leser binne ‘n situasie terwyl die lesers andersins die blote inligting binne ‘n oordadige stroom kommunikasie sou konsumeer.

Ook toe die Hoetoe’s die Toetsi’s in Rwanda op ‘n massaskaal uitgewis het deur hulle met pangas dood te kap, het die VSA met sy magtige weermag met gevoude arms gestaan en toekyk.

Gustav Venter se romans wat oor die afgelope jaar of wat tot stand gekom het, eers Die amigdala van Alrina Smal en toe sy Bodem-reeks, praat op ‘n gefiksionaliseerde manier oor ongemaklike aspekte van die Suid-Afrikaanse werklikheid: rassegevoelens, rassekonflik, geweld en volksmoord. Ek glo sterk daaraan dat die mens nie net rasioneel is nie; dinge soos intuïsie, groepsbewussyn (Jung se kollektiewe onderbewuste) en -vrese speel beslis ook ‘n rol. So word die tydsgees gevorm, deur rasionele ontledings, maar ook deur vae vrese en voorspooksels wat onnoembaar mag wees, maar daarom nie minder ter sake nie.

Gegewe die geskiedenis van kommunisme met sy vele vele volksmoorde en totalitêre bewinde in die twintigste eeu, is dit net redelik om vrees vir kommunisme te koester. Of ten minste daarvoor versigtig te wees. Want die kommunistiese ideaal van absolute gelykheid kan net met grootskaalse ontwrigting en massamoord tot stand kom.

Niemand kan die punt voorspel waar geweldsmisdaad, plaasmoorde – gepaardgaande met konstante onluste soos ons tans in Suid-Afrika ervaar – eenvoudig omkantel in volskaalse volksmoord nie. Die inploffing van die samelewing soos dit in Bodem I en II beskryf word, met die verval in ‘n apokalips soos dié van Kambodja of Rwanda, is egter in ons land móóntlik. En dit op sigself is ‘n skrikwekkende gedagte wat ons aan die dink behoort te sit.

Soos ek ook vandeesweek in die Business Day geskryf het in ‘n brief wat op die Engelse praag te lese is:

Despite segregation, there was no hatred in the old South Africa and people generally got on well. Today, there exists real hatred between groups, as exemplified by xenophobic violence and farm murders. South Africa ’s sadistic culture of violence with its rampant crime, including child rape, was fostered by the lawlessness of people’s war and surely not by apartheid.

Die skokkende sadisme van plaasmoorde kan net deur etniese vyandigheid en rassehaat verklaar word. Apologete vir die revolusie soos Steven Friedman, waarop ek in dié Engelse stuk geantwoord het, probeer “apartheid” daarvoor blameer. Volgens hom is die land en veral sy mense deur apartheid “beskadig”. Maar met dieselfde logika, hoeveel te meer is Suid-Afrika nie oor die afgelope 20 jaar “beskadig” deur die ongekende geweld, marteling, diefstal, roof, korrupsie en algemene waardekrisis en -verval nie?

In Suid-Afrika bestaan daar die gevaar dat kommunistiese volksmoord deur die appèl op “apartheidskade” geregverdig kan word! Indien Suid-Afrikaanse kommuniste, soos hul eweknieë in soveel ander lande, in elk geval van plan is om etniese suiwering en volksmoord teen Afrikaners van stapel te stuur, bied hul noukeurige apartheidskonstruk mos die ideale regverdiging daarvoor, nie waar nie? Feitlik die hele amptelike, eensydige “geskiedenis van apartheid” soos dit tans daar uitsien, is deur lede van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty en die akademiese historici in hul dampkring opgestel.

Die vraag is nou nie meer óf daar ‘n tweede revolusie gaan plaasvind nie, maar wanneer. Selfs die linksliberale koerante in die Naspersgroep wat tot dusver die rol gespeel het om vir Afrikaners ‘n idille van die “Suid-Afrikaanse demokrasie” te skep, begin hul tans oor die radikale planne vir grondgryp uitspreek.

Meer as tien jaar gelede het ek in my destydse Rapportrubriek geskryf dat Suid-Afrika op ‘n Zimbabwe afstuur. Toe was Tim du Plessis, die destydse redakteur, maar baie skepties en dis in Naspersgeledere afgelag. Die gemiddelde Naspersredakteur se kennis van die SAKP en die marxisme, dus van die revolusionêre logika wat by ons werksaam is, is uiters beperk. Marx en Engels het gepraat van die politieke revolusie wat deur ‘n maatskaplike revolusie gevolg word. By ons is dit effens aangepas en die eerste revolusie was insgelyks ‘n politieke revolusie, die oorname van die staat deur die ANC en SAKP, met die tweede, ekonomiese revolusie wat voor die deur lê.

Vandag skryf die einste Rapport egter in ‘n voorbladartikel die volgende:

“Nuwe voorstelle vir grondhervorming – waarvolgens alle kommersiële boere gedwing gaan word om die helfte van hul plase aan hul plaaswerkers te gee – sal landbou in Suid-Afrika vernietig en moontlik tot hongersnood lei, sê kritici van dié plan.

Dié radikale nuwe voorstelle is vervat in ’n dokument getiteld “Finale beleidsvoorstelle vir die versterking van die relatiewe regte van mense wat die grond bewerk” wat die afgelope week in Rapport se besit gekom het.”

Die kombinasie van ‘n tweede revolusie, grondgryp, die voorspelde hongersnood en rassehaat weens twintig jaar se apartheidspropaganda wat deur die SAUK en ander massamedia uitgesaai is, mag tot ‘n apokalips van die Bodem-tipe lei.

Ons sal moet besef dat geen ander moondheid of internasionale instelling hom hoegenaamd aan ‘n Bodemtoestand, dus groter wanorde en geweld, selfs massamoorde en volksmoord in Suid-Afrika, gaan steur nie. Dit mag nie eens mediadekking verkry nie, behalwe om te sê dat “dit ons eie skuld is vanweë apartheid of omdat ons nie gou genoeg van ons huise, plase en ander besittings afstand gedoen het nie”.

Intussen tik die tydbom van die revolusie rustig voort.

Ondersteun hierdie blad deur by praag aan te sluit.

ANC en DA is kop in een mus met rasstellende aksie

Die DA, 'n party wat ook interne rassttellende aksie toepas
Die DA, ‘n party wat ook interne rassttellende aksie toepas

Me. Helen Zille se artikel in Beeld oor “rasstellende aksie”, soos dit deesdae in die volksmond bekendstaan, toon aan hoe die DA se môre- en aandpraatjies nie ooreenkom nie. Is die DA nie die party wat vir sogenaamde “breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging” in die parlement gestem het nie?

Die regulasies van minister Mildred Oliphant verteenwoordig bloot die logiese uitvloeisel van die anti-wit arbeidsbeleid wat die DA ondersteun.

Zille se koloniale onderrok hang ook ver uit as sy onsmaaklike vergelykings tussen ANC-beleid en dié van dr. Verwoerd tref. Waar op aarde het Verwoerd ooit aan maatskappye voorgeskryf wie hulle in diens mag neem en wie nie? Werkreservering in die ou Suid-Afrika is terug te voer na die 1922-staking toe dit deur die veel geprese Suid-Afrikaanse Kommunisteparty met sy destydse slagspreuk van “Werkers verenig vir ‘n wit Suid-Afrika” geëis is. Dit was egter bloot van toepassing op 7% van beroepskategorieë, hoofsaaklik op die myne, en kan nie met die huidige, totalitêre sosiogeniëring van die twee radikaal linkse partye, die ANC en DA, vergelyk word nie.

‘n Voormalige DA-LP, die omroeper Niekie van den Berg, het onlangs op KykNET gesê: “Die DA is nou die party van benadeling.” Volgens hom is dit internet DA-beleid om “van ons middeljarige blanke mense ontslae te raak”.

Indien die DA van blankes en veral blanke mans in sy eie geledere ontslae wil raak, is dit mos net logies dat hy dieselfde beleid in die SA ekonomie sal ondersteun, nie waar nie? Dít het hy inderdaad met sy stem vir breedgebaseerde SEB bewys.

Terwyl me. Zille met haar snedige verwysings na Verwoerd haar ongeneeslike Boerehaat demonstreer, hou sy aan om die historiese ANC as ‘n “eens eerbare organisasie” te bestempel. Wanneer was die ANC ooit eerbaar? Toe dit met die Sowjetunie en Oos-Duitsland saamgespan het om onskuldige burgerlikes in ons land te vermoor? Dink maar aan die Kerkstraat- en Amanzimtoti-bomme. Of toe die ANC- en SAKP-leiers ná hul besoek aan Viëtnam in 1978 op die swart-op-swart terreurveldtog bekend as “people’s war” besluit het? Lees gerus dr. Anthea Jeffery se lywige boek hieroor.

Die DA en die ANC is kop in een mus as dit by die etniese reiniging van minderheidsgroepe uit die arbeidsmark kom.

‘n Nuwe visie is nodig om ‘n einde aan geweld en rassekwotas te maak. Slegs Front Nasionaal se beleid van kulturele outonomie en selfbeskikking kan Suid-Afrika van gewisse ondergang red.

Dr. Dan Roodt
Onderleier, Front Nasionaal

Bodem II, 17: Die speelgrond

‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Bodem I is reeds volledig.

Lees eers Bodem boek II, 16.

Alle normale seuns hou van oorlogspeletjies. Ek het moderne vrouens geken wat verseg het om vir hulle kleuterseuntjies speelgoedgewere te koop en hulle selfs verbied het om met hulle maatjies sʼn te speel, net om handpalms teen hulle voorkoppe te slaan as Seuna ʼn krom stok optel, daarmee mik en “BAM! BAM!”-geluide daarmee maak.  Moet net nie dink dat as volwasse mans in ʼn desperate en dieragtige oorlewingstryd met mekaar betrokke is, hulle handelinge nie soos die lawwe speletjies van kinders lyk nie.

bodemIIVir ʼn wyle is dit ʼn soort wegkruipertjie-raakjou!-speletjie rondom die omgeslaande Ford en die uitgeskakelde bussie.

“Kom!” sis ek vir Ninja.

Ek is redelik seker wat anderkant die Ford buite ons gesigsveld gebeur met ʼn deel van die aanvalsmag wat afgeskil het om ons blertsroerelement teen die oorkantste muur uit te skakel en ek besef dat as hulle ombeweeg, sal hulle vir my en Ninja onder skoot kan kry. My gedagte was om om te beweeg, by die hek uit en om te probeer om die oorblywende aanvallers onverhoeds in die agterhoede te betrap. Daar is ʼn geur van desperaatheid aan die plan, maar ek is doodverskrik om staties te wag dat die geveg verder ontwikkel. My teengifmiddel om vrees te behandel is optrede. Solank ek iets doen, beleef ek darem ʼn skyn van beheer.

Die brein het sy eie rituele tydens vrees en een daarvan is die sogenaamde “kameraflitsoomblikke” waartydens jou verstand as’t ware foto’s van verskillende voorwerpe en wesens neem om later te kan ontleed.

Riffelstroke in die Ford se bak: Kliek!

Sleephaak opgekrul met ʼn gegote knop; laat my aan ʼn donkietril dink: Kliek!

Onafgewerkte blerts beton teen die betonmuurpilaar: Kliek!

Lance wat net buite die perseel in die wegspringposisie hurk: Kliek!

Veelkleurige plakker wat “Windkiss Tours” teen die agterruit van die Mercedes-Benz adverteer: Kliek!

Lance sluit by my en Ninja aan en ons sluip met vinnige treë om die hoek van die bussie om en teen die lengte daarvan af, maar die oorblywende kwartet gewaar ons, swaai om en begin op ons vuur. Die drie van ons verander holderstebolder koers en werp onsself agter die betonmuur in.

Op hierdie presiese oomblik was die boelies baas van die speelgrond. Die drie van ons is uit die spel uit, vasgekeer buite die perseel. Die Merk Vier het teruggeval en vier aanvallers sou binne sekondes die blertsroerspan oorval.

Maar ons was nog nie gedaan nie. Joachim het een element in reserwe gehad en hierdie was die laaste moontlike oomblik vir die toetrede tot die stryd daarvan.

Die Volkswagen was buite sig van die hek af langs die kantoor geparkeer en nou kastanjet die enjin aan die gang. Die hoofligte streep oor die grond en die kolligte hoog teen die rolstaaf is smeltwitwarm. Die aanvallers is vol in die verblindende lig en dit is onmoontlik vir hulle om te weet wat uit die donker in hulle rigting kom.

Die kewer se groot, dik agterwiele loei oor die teerblad en die voertuig kom soos ʼn kanonskoot uit die blokke. Dit het skaars dertig meter om te gaan, maar die versnelling van die koddige voertuig is verbysterend. My twee slagoffers beman die Volkswagen; Gebreekte Ribbes Kip is agter die stuur en Gat In Sy Been Solly is op die passasiersitplek.

Die vier plunderaars spat weg van mekaar, twee in die rigting van die Ford en twee in Ylbaard-hulle se rigting. Kip se oogmerk is om die blertsskuts te beskerm en hy ruk die voertuig na regs en skop die rem. Die Volkswagen sleep met ontsaglike momentum oor die laaste paar meter, ʼn staalrenoster van ʼn voertuig, ʼn anderhalfton meganiese woede, onstuitbaar en verbryselend.

Die pypbakraam tref die agterste aanvaller kniehoogte van die kant af en moker hom teen die muur vas. Dit vergruis albei bene van middekuit tot die onderste deel van die bobene. Sy gil is ʼn verontwaardigde sirene en eindig kortaf in ʼn pynkreet.

Nou gebeur dinge in ʼn warrel. Kip steek die Volkswagen in trurat en laat die koppelaar uitspring. Die Kewer brul agteruit. Die verminkte plunderaar sak teen die muur af en los breë bloedstrepe vol beensplinters teen die grysnatbeton. Die twee aanvallers links van die Volkswagen het genoeg tot verhaal gekom om op die snelontrekkende voertuig te skiet, die een met ʼn pompaksiehaelgeweer, die ander met ʼn pistool, in ʼn ritmiese harmonie, die haelgeweer wat ʼn ronde blafgeluid maak en die pistoolknalle wat knak: BLA-HUM! Knuk!nuk!nuk! BLA-HUM! Knuk!nuk!nuk! BLA-HUM! Knuk!nuk!nuk!

Kip, en ek weet hy was grootoog en koudgespoel met adrenalien, het vir ʼn oomblik gedink dat hy en Solly weggekom het, toe trek sy makker styf langs hom en wip op soos iemand wat op warm yster gesit het. Daarna hang sy bolyf slap oor na links en sy liggaam seil uit die Kewer uit.

“Solly! Solly! Sollyhhhhh!” skree Kip en skop die rem in vir nog ʼn stormloop.

Voor hy egter eerste rat geskakel kan kry, rammel die Merk Vier terug in die stryd in, dié keer met Joachim agter die stuur.

Die plunderaars het genoeg gehad van voertuie wat na hulle geslinger word. Die twee naaste aan die Ford spring om en nael na hulle kamerade, maar nou swenk die Merk Vier en kom agterna, groot, regop met metaaldele wat ratel en klingel soos ʼn laerskoolslagorkes en ʼn brommende V8-enjin.

Die twee vlugtendes nael vervaard tussen hulle wagtende makkers in, vinnig en wild genoeg om botsings en verwarring te veroorsaak, en ʼn vingerklap later tref die Merk Vier die bondel.

Agter die muur kon ons die enjins hoor raas, die skote hoor klap, en die vloeke en bevele en verskeurende gille van pyn. Die volgende oomblik kom ʼn struikelende man, en toe nog twee, drie van hulle by ons posisie verby onderweg na die pad en die Merk Vier duiwel tussen hulle in van agter af. Een van die vlugtendes slaan volle lengte voor my oë neer, skaars ʼn meter van my af en dan rol die groot voorwiel van die pantserkar ongeërg oor hom, knarsend, tussen sy wydsbene deur, oor sy boud, oor sy rug, sy ribbes, sy skouer en die kant van sy kop, en dan volg die agterwiel in die spoor. Ek kan duidelik hoor hoe die bene klapkraakknars en hoe die wind uit die man se longe bars.

Die pantserkar tref nog drie manne. Die een word platgestamp en, in ʼn persoonlike wonderwerk vir hom, beweeg die wiele weerskante en die pens los bo-oor hom. Nommer twee word vol in die rug getref deur die modderskerm en hy maak ʼn bollemakiesie ver vorentoe en het net op sy rug gedraai toe die Merk Vier swenk en met die buitenste voorwiel oor sy borskas ry. Nommer drie is een kant toe geslinger en verloor sy geweer in sy vlug deur die lug. Hy land handeviervoet en hou net aan vorentoe skarrel, kom orent en versnel, weg, in die donkerte in, met die teerpad af.

Hy is die enigste een van die plunderaars wat die speelgrond van die perseel verlaat en ontsnap.

Nog twee van die bende het die Merk Vier se aanslag onaangeraak oorleef. Hulle vlieg weg, maar in plaas van om hulle maat die pad af te volg, swenk hulle links en hardloop aan die anderkant van ons by die stilstaande voertuie verby, beweeg regs en in die groot werf met die stooreenhede in.

Die aanvaller wat ongeskonde gelaat is deur die pantserkar wat oor hom beweeg het, doen ʼn opstoot om regop te kom, ʼn meter van my af. Ek tree nader. Daar is nie baie tyd nie, maar dit is genoeg. Dis asof ek ʼn knoppie in myself druk en ʼn masjien waaroor ek geen verdere beheer het nie, word; asof ek myself kan sien, die meganiese voorbereiding en werking.

Die masjien se bene gaan na die man op die grond met sy nek na bo.

Die masjien se voete word wyd van mekaar geplant.

Die masjien se bolyf rys.

Die masjien se arms lig die kort steel van die kapper met die lang lem daaraan vasgesweis.

Die masjien arms halt hoog bo die masjien se kop.

Mikroskakelaars klik en meganiese kragtoepassers word geaktiveer.

Die masjien se arms swiep ondertoe.

Daar is ʼn skerp lispelgeluid en ʼn dowwe klop en dan ʼn getjirp van staal teen teer.

Die man se arms verslap.

Sy kop spring ʼn sentimeter weg van die nek en land netjies op die gesig, maar die meetkunde van die neus maak dit ongebalanseer en die hoof kantel saggies tot op die linkerwang.

Die masjien se beheerstelsel skakel af en ek word weer ek, ʼn man in ʼn natgereënde withemp, met ʼn swart aandpakbroek en hoëglansleerskoene aan, snakkend na asem met ʼn kru kapwapen diagonaal voor sy bors in albei hande gehou. En ek is briesend, verontwaardig, deurtrek met ʼn gevoel van verontregting teenoor die mense wat my wêreld so verander het dat ek ʼn man se nek moet afkap in ʼn nag wat ontwerp was vir goeie kos en musiek.

Ninja gryp my aan die bo-arm.

“Kom!” sê hy. “Kom! Kom ons gaan kry hulle.”

Joachim, in die Merk Vier, maak ʼn U-draai en kom terug na die perseel se ingang. Die ligte val op die liggame voor ons. Ninja buk en tel ʼn pompaksiehaelgeweer met ʼn kunsveselkolf en – pistoolgreep op. Ek kyk nie eers vir ʼn vuurwapen nie. Ek het die menskapper by my en die donker woede is op my.

Drie aanvallers het nou in die diepte van die perseel ingevlug: Die twee wat om die bussie teruggenael het en die een wat teen die muur naby die blertsballers bly staan het. Hy het gou besef dat hulle aanval op Ylbaard, Reginald en die gewonde Tabitha nie net op vuurwapens nie, maar getalle berus het. Hy het, om presies te wees, uitgevind wat dure ervaring vir generaals en sersante deur die eeue geleer het: Om ʼn ingegraafde of verskuilde vyand te oorrompel, is vrekkens moeilik.

Ylbaard en Reginald het, nadat hulle die gevolge van die Volkswagen se stormloop gesien het, moed geskep, laag agter die betonskans gebly en doelgerigte vuur met hulle blertsroere begin lewer. Die eerste sarsie rondtes was rissieballe wat in los wolkies teen die plunderaar ontplof het en die branddeeltjies het hom laat proes, nies en sy oë vryf. Hy het vorentoe gestrompel, vir eers net daarop bedag om van die foltering van die traangas weg te kom. Dit is toe dat die rissieballetjies in die blertsroermagasyne plek gemaak het vir soliede glasveselkoeëls. Die harde balletjies het oor vyftien meter getrek en hom gestriem, elkeen van hulle soos ʼn knuppelhou wat kneus en bloed uit sagte vel trek.

Hy het binne sekondes genoeg gehad en om te vlug was nou sy grootste en enigste begeerte. Daardie magtige oorlewingsdrang het elke ander gedagte verdring en soos ʼn roofdier voor die heuningbyswerm se gifsteke het hy  begin om vir sy lewe te nael. Daar is geen manier dat hy sou omspring en vir die hek mik nie, want daar is net geweld en uitwissing sy voorland.

Die man slaan oor na ʼn skuifeldraffie na die sy van die kantoor toe, en wanneer hy eers beweeg, begin sy bene met groter dringendheid op- en afpomp totdat hy in ʼn histerie by Kip wat op die grond langs Solly se liggaam sit, verbyhardloop.

Ek en Ninja begin om agter hom aan te draf toe die Merk Vier langs ons inskuif. Ons gaan staan en die linkerkantse vensterklap vou plat.

Joachim leun oor en met sy mond by die opening skreepraat hy: “Jood! Hoeveel is nog hier?”

“Ek het drie getel!” skree ek terug.

“Klim agterop!” beveel hy.

Ek skud my kop: “Nee! Vat vir Ninja. Gaan julle regs om. Ry en op en af met die rye en dryf hulle uit. Ek wag vir hulle.”

“Is jy gewapen?”

“Tot die tande.”

Hy het natuurlik ʼn vuurwapen in gedagte gehad, maar die woede is nou so groot en dig in my dat dit my nie toelaat om eers te oorweeg om die aanvallers te skiet nie. Nee, net om na aan hulle te kom, om hulle neer te gooi, om hulle met die kapper se growwe lem te slaan, om hulle te kap en te kap en te kap, net dít sal genoeg vir my wees.

“Spring!” sê ek vir Ninja.

“Broe’!” sê die klein mannetjie. “Broe’! Vat!”

Hy hou sy groot prys, die haelgeweer, na my toe uit. Ek en hy, beter as enige iemand anders, het die verskriklike nadeel van vuurwapenloosheid in ʼn vuurgeveg beleef. Vir hom om nou die doelgerigte gewig van ʼn wapen in sy hande te hou, is ʼn massiewe verligting, en tog is hy dadelik bereid om dit op te offer. Kameraadskap kan oor jare geweef of in oomblikke gesmee word. Wat die toekoms ook al bring, ek en Ninja sal altyd baie ferm en diepgaande verbind wees deur daardie vreeslike oomblikke agter die Ford terwyl ons vyande hulle volle geweld op ons gerig het.

“Hou dit,” sê ek vir hom en stoot die haelgeweer in sy hande tot teen sy bors. “Skiet die moere! Skiet hulle!”

“Ek beloof!” sê hy, sit om en wip agter op die Merk Vier.

Ek kners op my tande, kry die kapper voor my en begin agter my vyand aandraf.

(Lees vervolgens Bodem, boek II, 18.)

Bodem boek II, 16: Die vrees

bodemII‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Bodem I is reeds volledig.

Lees eers Bodem boek II, 15.

Dink mooi voor jy vir ʼn stukkie grond baklei. Bepaal die waarde daarvan; die werklike en emosionele en toekomstige waarde. Probeer meet wat jy bereid is om te belê om dit te bekom óf om dit te behou. En wanneer jy daarvoor veg, hoe die doelwit in gedagte. Hou ʼn wins- en verliesstaat voor jou oë. Want die rede vir die geveg ontaard so maklik om die stryd self te wen, en nie dít wat jy daaruit wou kry of hou nie.

Generaals en selfs staatshoofde werp hulleself in dié fuik. Hitler kon sy 6de Leër óm Stalingrad gestuur het, maar om die stad met sy vyand se naam te verower, het sy obsessie geword en hy het sy laaste kans om die Russiese veldtog te wen, dáár opgeoffer.

In dieselfde oorlog het selfs die doelgerigte Patton sy ware doelwit uit die oog verloor. Nadat hy die Duitsers op hol gehad het, kon hy sy geliefde 3de Leër met minimum lewensverlies óm die Duitse vesting by Metz gelei het, maar hy was Patton, en as Patton ʼn plek wil oorneem, wie durf hom weerstaan? Toe stuur hy sy “seuns” in om die stad in te neem

Die gevolg was ʼn skokkende aanklag teen die menslike aard. Die Duitsers was in ʼn uitgebreide bunker- en loopgraafkompleks en die Amerikaners het eenvoudig daarin gedons. Na die eerste paar minute was aanvaller en verdediger se wapens leeg en vir herlaai was daar nie tyd nie, so hulle het afgewentel na ʼn baie meer primitiewe tyd en mekaar probeer verbrysel met wapens wat as knuppels gebruik is, en toe met vuis, met elmboog en knieg en voet, selfs tande. Daar onder, in die tonnels, in die klam donker, het mense diere geword. Daar was nie regtig oorlewendes nie, want selfs dié wat nie dood is nie, het daarna nie regtig geleef nie.

Daar is redes hoekom mense tot die dood toe sal stry vir ʼn lappie grond en die kragtigste hiervan is die mees basiese menslike instink om te oorleef. Dít is hoekom Joachim en ek en Lance en Ninja en Ylbaard en die res ten bloede toe geveg het vir behoud van die  perseel. Vir ons was die keuse eenvoudig: Hou hulle buite die hek en leef. Laat hulle deurbreek en dan is hulle agter ons met vuurwapens en ons sterf.

Maar wat is dit wat hulle gedryf het? Hulle moes baie gou besef het dat ons bereid en gereed is om dood te slaan om te oorleef. Binne die eerste halfminuut van hulle aanslag het hulle ʼn derde van hulle mag verloor. En tog het hulle aanhou kom, vasberade om deur te breek. Hoekom? Vir húlle was die oorlewingsinstink ʼn minderwaardige instink. Hulle kon enige tyd omgedraai en op vlug geslaan het. Hoekom het hulle nie? Wraak vir die dood van hulle vriende? Natuurlike aggressie? Woede omdat hulle weerstaan is? Gierigheid om ta vat wat ons nie aan hulle wou afstaan nie? Vrees vir die geweld wat ons toegepas het met die redenasie dat net groter geweld dit sou snuit? Ja, dit moet wees, dít alles, al daardie emosie.

Ons was die aambeeld, en hulle was bereid om hulleself daarteen te hamer om dit te vernietig. En hulle het onstellend naby daaraan gekom.

Hulle, die bloeddorstige rowers, en ons was hoofsaaklik geskei deur die Ford wat op sy sy net binne die hek gelê het. Die instinktiewe strategie om agterom die bussie te storm, het nie vir hulle uitgewerk nie, want Lance en sy nuutgevonde rewolwer het op hulle gewag. Dit is hoekom hulle aan die voorpunt van die Ford versamel het en hulle sou met gemak deur- en ombeweeg het as dit nie vir twee elemente was nie: Joachim en sy Lupara, en Ninja wat sy leë AR15 vir ʼn ander opgetelde roer verruil het. Dit was ʼn kort geweer, ʼn karabyn om presies te wees, met ʼn buismagasyn onder en ewewydig met die loop. Toe ek dit later die eerste keer in die lig sien, het ek dit dadelik as ʼn Winchester geëien, die wesenlike “cowboy”-geweer, die rekwisiet van dosyne John Wayne-flieks, maar dit was toe ʼn .357 Magnum Rossi Puma-karabyn, ʼn moderne namaaksel van die klassieke 1894-Winchester.

Ninja het aan ons kant van die Ford gestaan en om die enjinkap geloer net toe die aanvallers met ʼn verbete stormloop begin het in ʼn stroom om die Merk Vier en vorentoe teen die bakkie verby. Hy stoot die karabyn om die F250 en trek die sneller. Die geweer was reeds oorgehaal en die koeël bars deur die donker lug by die voorste aanvallers verby. Hy trek weer die sneller en niks gebeur nie, so hy ruk verskrik aan die staallushefboom onder die geweer, dit swaai onder toe, die meganisme stoot die leë doppie uit en ʼn staaf druk die haan terug. Toe hy die hefboom weer boontoe teen die handgreep druk, is die geweer met ʼn nuwe rondte gelaai. Hy vuur weer, maar die aanvallers het reeds teruggedeins en hy tref die betonmuur.

Die aanvallers pers hulleself nou teen die Ford vas en dié aan die voorkant hou hulle gewere ver voor hulle, dwarsgedraai en klits die lug waar Ninja was om.

Joachim het intussen herlaai en hy wip weer op in die Merk Vier se toring en sonder skiet oombliklik albei lope leeg waar die aanvallers met sy vorige aanslag was, en tuimel terug in die kar. Hy laai sy laaste twee rondtes terwyl sy asem jaag en Dennis kermend neul. ʼn  Oomblik later wip hy weer op en hou die kort haelgeweer in die rigting waar die aanvallers langs die Merk Vier saamdrom. Dié keer is hulle egter reg vir hom en die oomblik wat hy verskyn is twee, drie van hulle reg om terug te skiet. Hulle is skaars drie meter van hom af en ʼn aardskuddende gevuur breek in sy rigting los sodat hy dadelik weer in die toring moet inval. Koeëls pletter nou in ʼn loodstorm teen die voertuig vas en dan voel hy hoe die voertuig wieg en besef iemand is besig om teen die agterkant op te klim.

ʼn Persoon wat bo-op die enjinkap agter op die voertuig staan en in die pantserkar inskiet, sal vir Joachim en Dennis met een sarsie uitwis en Joachim, op sy sitplek en sonder om op te staan, hou die geweer onderstebo bo sy kop, lope na agter en trek die een sneller. Op minder as ʼn meter skeur die lading bokhael reg in die borskas van die rower vas. Die slag stamp hom weg, sy hakke haak vas en sy bolyf tuimel ondertoe sodat sy liggaam ʼn koddige agteroorsalto maak en gesig eerste op die teer agter die Merk Vier land. Daardie man was dapper om homself so bloot te stel in die middel van ʼn vuurgeveg, maar dapperheid impliseer risiko en sy laaste daad op aarde het nie vir hom uitgewerk nie.

Steeds hamer die koeëls teen die romp van die Merk Vier vas.

“Ry!” gil Joachim vir Dennis.

Die voet op die versnellerpedaal gaan ondertoe en die voet op die koppelaarpedaal kom boontoe… en die enjin sny uit, want Dennis het dit nie in trurat gehad nie. Die snoet van die Merk Vier stoot teen die Ford vas. Die gerammel van die V8-enjin verstil.

“Agtertoe! Agtertoe!” skree Joachim en Dennis gryp en ruk en draai aan die aansitter en skielik hakkel die enjin en begin weer brom.

Na ʼn sekonde se geworstel met die rathefboom spring die pantserkar agtertoe en seil weg.

“Draai links! Draai links!” bulder Joachim op Dennis wat nie kan uitsien nie omdat sy loergleufplaat op is.

Hy trek die groot stuurwiel ondertoe en die pantserkar storm diagonaal oor die parkeerterrein by die hoek van die kantoor verby en teen die betonmuur vas.

Ninja reken dit is die regte oomblik om weer om die Ford se voorkant te leun, en hy is reg, want die aanvallers se aandag is op die onttrekkende Merk Vier en een van hulle beweeg in sy skootsvak in. Sy haastige skoot tref die man skuins van agter deur sy grootboudspier en Ninja se beloning is ʼn verskrikte gil. Nou moet die kort motorfietser egter weer agter die Ford inspring want ʼn loodswerm kom na sy rigting.

Die oomblik wat die Merk Vier agteruit teen die betonmuur bots, begin Joachim skree: “Vorentoe! Vorentoe! Trap hulle.”

Dennis het genoeg geesteenwoordigheid gehad om die koppelaar in te trap, maar daar neem sy vrees uiteindelik sy verstandsfunksies oor en verbied enige verdere deelname van sy liggaam aan die stryd en hy sit, vasgeslaan soos ʼn ou geroeste enjin. Sou Dennis in daardie paar kritieke oomblikke die innerkrag gehad het om op Joachim se bevel te reageer, sou die Merk Vier se hertoetrede tot die geveg deurslaggewend gewees het. Die aanvallers het saamgepers teen die Ford se onderkant aangeleun en die pantserkar het een magtige wapen oorgehad: Die gewig daarvan. Die kar kon binne sekondes teen die aanvallers vasgejaag het en ʼn beslissende slag gelewer het. Die feit is, Dennis kón nie beweeg nie (en as jy nooit onder hewige vuur was nie, moet hom nie te fel veroordeel nie, en as jy wás, sal jy verstaan.) Teen die tyd wat Joachim vir Dennis uit die bestuurdersitplek verwilder het en self oorgeneem het, was die oomblik verlore.

Vir ʼn tydjie het die bloedige geveg wendingloos vasgeval. Ek, Lance en Ninja was vasgekeer aan die een kant van die Ford en die bussie en die aanvallers aan die anderkant. Met Lance se rewolwer leeggeskiet, is Ninja se karabyn ons enigste vuurgeskut en ons het geen idee om te weet hoeveel ammunisie nog in die buismagasyn is nie.

Lance het teen die Ford se lengte afbeweeg in die rigting van die hek en toe met die bussie langs tot hy by die hek is. Hy kon in alle redelikheid net aanhou gaan het, weg van die perseel en uit die geveg uit, maar, stoere man!, hy’t verkies om net buite die hek en sig langs die muur te hurk.

Ek en Ninja is  langs die Ford met die enjin tussen ons en die aanvallers, en met goeie rede, want ons teenstanders staan enkele meters weg van die bakkie en in ʼn helse, vlammende, donderende skietaanval vuur hulle teen die bakkie vas. Die laaibak bied geen beskerming nie, want selfs pistoolkoeëls steek deur die dun plaatmetaal met die gemak van ʼn passer deur karton. Die metaalpunte ruk vore in die grond. Dieselfde koeëls kan egter nie deur die groot dieselenjin skiet nie en daardie paar kubieke meter is my en Ninja se enigste skild teen die orkaan van geweld wat losbreek.

Drie, vier keer is ʼn aanvaller van mening dat hulle ons genoeg verwilder het en  probeer om die voorkant van die bakkie kom en elke keer druk Ninja die geweer om die voorkant en skiet trompop na die vyand en dit dwing hulle om terug te skarrel.

Om raakgeskiet te word, is ʼn verskrikking, dié weet ek na alles wat ek gesien het, maar as die koeël van ver af kom, is dit nie naastenby so vreesaanjaend as die intimiteit van ʼn bloeddorstige vyand so na aan jou nie. Tussen die sarsies deur kan ek hulle hoor uitroep, vloek, aanmoedig, beveel. Ek hoor tussendeur die geklik van magasyne wat omgeruil word en die blikagtige klapklanke van sluitstukke wat vorentoe spring as gewere gespan word.

Ek weet nou hoe ware vrees voel, hoe dit verlam, hoe verleidelik dit aan jou binnekant pleit dat jy sal weghardloop, sal gaan lê, jou knyperspiere sal laat ontspan, sal smeek vir jou lewe. Ek weet nou hoe vrees veral ʼn begeerte is, so intens dat dit eintlik ʼn gebed vir die onbereikbare is, om iewers anders te wees.

Maar met my rug teen die Ford se enjin kap, terwyl koeëls gons en beitel, leer ek ook hoe kragtig woede kan wees. In my styg ʼn donker begeerte, soos rook uit ʼn vullishoop, ʼn wens om my hande op my vyand te lê, om vermorsel, te vernietig, om dood, dood, DOOD! te maak. O, as ek net my vyand voor my op die grond kan werp sodat ek my linkerhand se vingers in sy regtermondhoek kan haak en my regtervingers in sy linkermondhoek en ek sal trek en beur en sy gesig van sy skedel af skeur dat dit die twee bloedpante soos slaghuisvadoeke uit my vuiste hang.

As jy so ver in jouself intuimel, is daar nie werklik ʼn pad terug na algehele geesteswelstand nie.

Aan die einde van een salvo werp ek myself op die grond tussen die liggame en die vrag wat van die bakkie af geslinger is. Ek kry wel ʼn wapen, nie ʼn skietding nie, maar ʼn kru tuisgemaakte kap- en steekwapen; ʼn meterlengte van 50-millimeterpyp met ʼn plat lem van omtrent ʼn halwe meter vooraan dit vasgesweis en ʼn spiespunt aan die bokant.

Met my terugskarreling struikel ek oor iets hard en swaar op die grond en toe ek daaraan voel, besef ek dit is ʼn motorbattery. Ek steek die kapper onder my arm, kry die battery in ʼn babadragreep voor teen my borskas en waggel terug tot langs Ninja by die enjinkap net toe die volgende sarsie weer losbreek.

Ek laat val die kapper en draai my rug na die Ford, buig my knieë, hou die battery voor my en stoot hard op met my bene terwyl ek die battery agteruit oor my kop oor die bakkie slinger. Die intensiteit van die geskietery neem onmiddellik af en iemand skree van skielike pyn.

Die aanvallers se volgende skuif was hulle beste een en het ons amper ongedaan gemaak.

Vier van hulle breek weg van die res en nael langs die muur af in die rigting waar Ylbaard, Reginald en die swaargewonde Tabitha in hulle stelling skuil. Ylbaard en Reginald sien hulle kom en vind die tandeknersmoed om met hulle blertsroere op die vier gedaantes te skiet. Miskien het hulle ʼn paar keer getref, maar die blertsroere is nou met rissieballetjies gelaai en die nagwindjie verdryf die gaswolke en trek die gif daaruit. Hulle steek vas en  begin terugskiet en Ylbaard en Reginald het geen ander keuse as om agter die betonblaaie af te sak nie.

Hulle het sekondes oor om te leef en dan kan die aanvallers ombeweeg tot hulle ons onder skoot het.

Ek en Ninja is agter die Ford vasgepen. Ons weet nie van hierdie ontwikkeling nie.

En as ons geweet het, sou daar niks gewees het wat ons kon doen nie.

(Lees vervolgens Bodem, boek II, 17.)

Bodem boek II, 15: Die knerspunt

bodemII‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Bodem I is reeds volledig.

Lees eers Bodem boek II, 14.

Dit staan bekend as direkte vuur. Dit is waarvoor vuurwapens ontwerp is: Om onder gewone omstandighede te skiet wat jy kan sien. As jy jou vyand nie kan sien nie, moet jy maneuvreer totdat jy kan. Die komplikasie is: As jy hom kan sien, kan hy jou sien. As jy hom kan skiet, kán hy jou skiet. Dit was die eenvoudige beginsel waar rondom die bitter geveg by die hek van Citadel Secure Storage plaasgevind het, daardie Eerste Nag.

Die Ford het die direkte invalsroete geneem – net soos Joachim voorspel het. En die plan om dié bedreiging te stuit, het wonderlik gewerk met die toetrede van die Merk Vier tot die geveg. Met een verrassingslag het Joachim die Ford se slagtande gepluk. Daar was ses man agterop die voertuig toe dit in ons lokval ingery het en in hulle verwarring na die ongeluk het ek, Ninja en Lance hulle maklik genoeg uitgewis.

Binne die dubbele kajuit van die omgeslaande bakkie, is vyf manne vasgekeer en hulle enigste werkbare ontsnappingsroete is deur die windskerm, maar teen die tyd wat hulle hulleself na die ongeluk ontknoop en georiënteer het, het die venynige klein Ninja reeds die stormgeweer opgepik en die man op die grond uitgesit. Van binne die Ford het ʼn verwoede sarsie knalle losgebreek en die windskerm het uitmekaar gespat.

Die medebestuurder het halflyf deur die glaslose gaping begin kruip, vir Ninja glad nie gesien nie en ook nooit geweet wat hom getref het toe die klein motorfietser hom op minder as vyf meter deur die agterkop geskiet het nie. Die blitsige koeëls het deur die agterkant van sy skedel gepons en groot ongelyke skerwe van die voorkant van sy skedel oopgebreek asof dit ʼn eier van harde sjokolade was en die verpulpte harsings en die bloed teen die enjinkap geslinger waar dit in ʼn Jackson Pollock-soort spat-en-blertsvlek afgeloop het. Die man se lyf het gesidder en toe slap geword soos ʼn afgeblaasde ballon en teruggegly tot in die kajuit waar dit op die verbysterde bestuurder gaan lê het.

Die drie passasiers op die agterste sitplek is deur die ongeluk in ʼn warboel van lywe en ledemate gelaat, deur swaartekrag saamgepers teen die deur aan die grondkant. Een van hulle kon homself lank genoeg stabiliseer om onbeheersd met sy pistool te vuur in die rigting van waar hy gereken het Ninja was. Die koeëls het ronde tuitmondjies deur die kajuitdakmetaal gestik. Teen dié tyd het Ninja reeds beweeg tot skuins voor die omgeslaande Ford. Hy het die AR 15 teen die skouer gedruk en nie eers moeite gedoen om te mik nie, maar net die sneller getrek!-trek!-trek! en die knalle was kort, skerp en luid.  Van binne die kajuit het daar eers uitroepe van woede en toe smeekgeluide gekom, maar Ninja het aanhou skiet en skiet en skiet totdat die magasyn leeg is en net ʼn snikkende gekerm gehoor kon word.

Dit was ʼn slagting. Omdat ek nie vir Ninja voor die tyd geken het nie, kan ek nie met sekerheid sê hoe of tot in watter mate daardie kwartminuut hom verander het nie. Miskien nie so baie nie. Hy is, en was waarskynlik nog altyd, ʼn hardgebakte klein bliksem. Ek, daarenteen, het in daardie paar sekondes geweet dat dit my sou verander; dat ek innerlik teen ʼn helling afgegly het waarteen ek nie weer sou kon opklim nie, dat ek onskuld wat ek nie geweet het is deel van my nie, verloor het, so seker en so onherroeplik soos ʼn meisie wat haar maagdelikheid aflê.

Van die vyf insittendes het Ninja drie doodgeskiet en een se kakebeen afgeskiet, sy handpalm vergruis en ʼn hap uit sy heupbeen geblaas. Ek sal dit nooit teen hom hou nie.

Nie dat daar tyd was om enige emosies te ontleed nie, want die geveg het nou tot ʼn volgende fase gevorder.

Die bussie het kort op die hakke van die Ford deur die hekke gevolg en botweg vasgesteek toe die Merk Vier die bakkie gegaffel en omgestoot het. Die bestuurder het net ʼn oomblik gehuiwer: Die pantserkar was dwars, reg voor hom en, seker in ʼn poging om sy makkers in die F250 te beskerm, het hy die Mercedes-Benz vorentoe laat spring, midskeeps in die pantserkar vas. Die Merk Vier is koplomp en die wielsporing nie baie wyd nie, maar dit weeg meer as ses ton en die staal is dik en sterk. Die bussie se aanloop was te kort en daarom was die trefslagspoed te min. Die pantserkar se regterwiele het ʼn paar hande hoog van die grond af gekom, maar die slag was nie hewig genoeg vir dit om om te val nie. Vir ʼn paar oomblikke het die bussie se agterwiele teen die teer gemaal en toe alle vastrap verloor.

Joachim was in die pantserkartoring en hy het dit na die slag na regs geroteer. Die kanon en die masjiengeweer was trompop voor die bussie se windskerm. Joachim het die kanon se fopknal getrek en die vlam het gegryp na die insittendes. Dit was ʼn skadelose knal, maar dit moes vreesaanjaend gewees het op so ʼn  kort afstand, en die bestuurder, heel begrypbaar, het die voertuig laat vorentoe hink en vrek.

Daar was weer ʼn knal en toe nog een, maar dié keer was daar niks speels daaraan nie. Joachim het die Lupara teen sy gesonde skouer gebring, die hane teruggetrek en albei lope op minder as twee meter op die windskerm afgevuur. Twee vlammende slae in die nag, die verskrikking van werktuiglike dood in die nag; daardie twee kort plukbewegings op die sneller en daar is ewige, verskriklike gevolge wat nooit herroep kan word nie.

Die uitwerking was brutaal. Die eerste lading loodhael het die windskerm voor die bestuurder verkrummel en hom vol in die gesig getref en daarvan ʼn trapsel van been, vel en vleis gemaak. Die tweede skoot het bo-oor die middelste voorsitplekpassasier gegaan, want hy het die gesonde verstand gehad om skuins te val na die kanonskoot. Die tweede skoot se lading is deur twee insittendes op die eerste agtersitplek gedeel, die eerste een noodlottig in die borskas en die tweede een in die boarm en pektorale spier.

Tot hier het ons omtrent alles reg gedoen en die inisiatief het aan ons behoort. Die swakste faset van Joachim se plan – en selfs nou weet ek nie wat ons anders kon gedoen het nie – was om die bedreiging in die bussie te neutraliseer. Ons wapens, selfs die Lupara en die blertsbalroere, was uitsluitlik bruikbaar oor ʼn relatiewe kort afstand, en selfs op optimumafstand was hulle nie opgewasse teen pistole en gewere nie.

Joachim het die drie kleurlingwagte – Dermot, Reginald, Tabitha – en Ylbaard aan die oorkant langs die muur opgestel sodat hulle teenaan die bussie sou wees wanneer dié ingejaag kom. Die plan was om die vensters aan die regterkant van die bussie met soliede glasveselballetjies stukkend te skiet en om die bussie dan met rissieballe te bestook. Dié ammunisie is gevul met ʼn rissiepoeiersamestelling wat in ʼn wolk op kontak oopbars. Enige persoon in die onmiddellike omtrek word oorval met ʼn pynigende brandgevoel. Die stof reageer met enige vog en dit laat ʼn mens voel of jou oogballe borrel en enige sweetkolle skroei.

Die blertsbalelement het nog voor die krisismoment ʼn kwart van hulle vermoë verloor. Dermot, die wag, het met sy rug teen die muur geleun, sy oë toegepers, sy lippe bewend en sy kop agteroor. Toe die F250 sy aanloop begin het, het hy gekreun, gevloek, sy blertsbalroer neergegooi, om die muur gespring en in die nag weggevlug, aan die nael, sy arms hoogwapperend in verskoning en verweer. ʼn Flitsligstraal uit die bussie het op hom geval en ʼn sekonde later het ʼn skoot hom in die rug getref. Hy het skerp vooroor geval, asof hy oor ʼn pootjiedraad gestruikel het, plat op sy maag en borskas. Gedryf deur ʼn allesverterende vrees, pleitgillend, het hy homself vorentoe getrek met sy arms want sy ruggraat was gebreek. Nog ʼn skoot het sy regterskouerblad gebreek, en toe was die bussie agter die Ford aan halflyf deur die hek.

(Ons het hom later op die sypaadjie gevind. Hy het nog gelewe en ons het hom so gemaklik as moontlik probeer maak, maar hy is skaars ʼn halfuur later dood.)

Dit was nie nodig om die vensters aan die regterkant met die blertsbalroere te probeer stukkend skiet nie. Die een in die oopglydeur was oop en Reginald het nadergestaan en daarin begin skiet. ʼn Sekonde later was Tabitha skuins agter hom, verskrik maar verbete en hulle het soveel en so vinnig geskiet as wat hulle vingers die snellers op hulle saamgeperstewindwapens kon trek. Ylbaard het genoeg denkvermoë oorgehad om Dermot se wapen op te raap en saam te skiet.

Die balletjies het in ʼn swerm deur die oop venster getrek. Die eerste vyf koeëls in elke blertsroer was glasvesel. Hierdie balletjies kan die pleister van ʼn buitemuur af slaan op kort afstand en dit rig aansienlike trauma aan vleis en been aan. Daarna bars die rissieballe in digte wolkies binne die bussie.

Twee mans en ʼn vrou staan op kortafstand, wydsbeen en vooroorleunend, en skiet na ʼn gebotsde bussie vol kwaadwillige mans. Hulle skree en die blertsroere stamp die ronde ammunisie met venynige spoeggeluide uit.

Binne die wa vloek mans, hulle skel en dreig en dan begin een terugskiet met ʼn pistool; enorme knalle en draakvlamlemme wat deur die donker steek.

“Ag nee!” sê Tabitha hard, moedeloos, draai om en strompel ʼn paar treë en gaan kniel stadig.

Die gety het op daardie oomblik gedraai.

Dit was nooit die plan dat die blertsroerseksie langs die bussie in die hek sou staan en vuisslaan met gevuurwapende rampokkers nie.

“Reggie!” skree Ylbaard, kom.

Die wag, oë groot, hou aan skiet tot die groot motorfietser hom aan die skouer gryp en wegruk. Die twee storm langs die muur af en op pad kry elkeen van hulle die knielende Tabitha aan die arms beet en sleep haar vyftien meter weg, haar voete slepend oor die teer, tot agter hulle stelling, ʼn lae muurtjie wat hulle met lessenaars uit die kantoor en los betonmuurpanele binne minute voor die geveg aanmekaargeflans het.

Daar het Tabitha op haar sy gaan lê, haar buik vasgehou en gekerm. Reginald en Ylbaard sak langs haar neer.

“O hel!” roep Reginald. “Is jy geskiet? Is jy geskiet?”

Tabitha kreun en wriemel.

Ylbaard loer oor die lae skans.

“Hoe gaan ons hulle nou stop?” vra hy sonder om ʼn antwoord te verwag.

Die glasvesel- en rissiebalaanslag op die bussie was tot in ʼn mate suksesvol. ʼn Klompie insittendes het straf van die harde balletjies verduur en die Mercedes-Benz is gevul met wolkies rissiepartikels wat in ʼn bank traangas saamdryf. Daar was egter ook ʼn ontsnaproete dadelik tot hulle beskikking: Die twee regop stertdeure. Dis binne sekondes oopgegooi en hulle stroom hygend, proesend, niesend en briesend uit die voertuig.

Die drie voertuie is soos ʼn Sjinese bloklegraaisel teen mekaar met die Merk Vier loodreg teen die omgeslaande Ford en die bussie met sy snoet teen die midderif van die pantserkar. Daar is ʼn nou gaping aan die regterkant van die bussie deur die hek en ʼn veel wyer een aan die linkerkant. Tien man het uit die bussie gekom; vier het na links verdeel en ses na die ander kant. Nie almal van hulle het vuurwapens nie, en dié wat daarsonder is, is met die gewone versameling slaan-, steek- en kapwapens toegerus.

Met Ninja voor die Ford vir sy slagtingwerk, is net ek en Lance in posisie om die regtertak van die stormloop te stuit en hierdie keer was hy ʼn tree voor my. Hy het iewers op die grond ʼn kortlooprewolwer in die hande gekry en het by die hoek gaan staan en die vier skote daarin leeg geskiet op die aanstormende viertal en ʼn groot totaal van een getref, reg in die voorkop. Die man se bene en lyf het onder hom ingevou toe hy val.

Die ander drie het instinktief omgesit en terug om die bussie beweeg, instinktief daarop bedag om die voertuie tussen hulle en Lance se koeëls te hou.

Die knerspunt van die aanval is nou aan die linkerkant van die bussie. Ons situasie is desperaat. As genoeg van hulle die weerstandpunt kan oorsteek, kan hulle agter ons uitsprei en genoeg afstand tussen hulle en elkeen van ons bewerkstellig.

En, vuurwapens in die hand, is die regte afstand al wat hulle nodig het om elkeen van ons uit te wis; dan is daar niks wat ons daaraan kan doen nie behalwe om te kies of ons vloekend, skellend, woedend of gelate sal sterf.

Die geveg was in die weegskaal en dit wou lyk asof die swaar hand van die Noodlot op ons teenstanders se balkie gerus het.

Die volgende paar sekondes sou bepaal of daar ooit ʼn Maarskalk sou wees.

(Lees vervolgens Bodem boek II, 16.)

Bodem boek II, 14: Die goddelose

bodemII‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Bodem I is reeds volledig.

Lees eers Bodem boek II, 13.

Ek wag vir die aankoms van die goddeloses met ʼn graaf in die hand en ʼn jagmes aan my sy. Dit was ʼn geskarrel vir wapens van die oomblik wat Joachim die laaste instruksies uitgevaardig het. Die aangewese oord om slaan- en steekgoed te vind, was die gereedskapstoor en dit is presies waar ek my graaf gekry het, ʼn eenvoudige tuinspitgraaf met ʼn plat, reghoekige lem, maar die gewig daarvan voel goed en met die lem aan die punt van die steel het dit ʼn goeie balans vir ʼn swaaihou.

Joachim het sy karige mag verdeel en aan weerskante van die gapende hek opgestel.

“Maak my kwaad!” fluister Ninja, die verwoede klein motorfietser vir sy lang vriend Lance, nie dat ek gedink het hy het enige aanmoediging nodig om sy humeur te verloor nie; nie nadat ek gesien het hoe hy die Volkswagen vroeër die aand in ʼn frustrasiebui betrek het nie.

Hy beklou sy wapen van keuse, ʼn goeie ou tradisionele piksteel.

“Hoe moet ek jou nou kwaad kry?” fluister lang Lance terug. “Moet ek jou moer?”

“Moer aan my en ek moer terug!”

“Nou hoe dan?”

“Dink aan iets!”

Die drie van ons staan met ons rûe styf teen die muur, vyftien meter van die opening af. Ek sou verkies het om nader aan die hek te wees sodat ons die geveg vinniger kan betree. Die enigste kans wat jy met slaanwapens teen skietgoed het, is om so gou as moontlik teenaan jou teenstander te kom. Hoe groter die afstand, hoe groter die voordeel wat vuurwapens bied, maar Joachim was vasbeslote oor waar ons stelling moet inneem.

Lang Lance verplaas sy klouhamer van sy linkerhand na sy regterhand en blaas op sy dominante hand se palm teen die sweet. Ek weet hoe hy voel. My maag is ʼn stywe, harde knop en met gereelde tussenposes voel dit of my hart ʼn verdieping of twee in my borskas val en dan vinniger klop en my asem is vlak, bo in my longe.

“Die eerste kans wat ek kry gaan ek jou suster spyker!” verklaar hy aan Ninja.

“Jy doen alreeds.”

“En dit maak jou nie kwaad nie? Jy weet ek is gehang soos ʼn lokasiedonkie.”

“Jy’s met haar getroud, jou moer! Nee, dit maak my nie  kwaad nie. Dit maak my gril, maar nie kwaad nie.”

“Ek gaan jou ma spyker.”

“Ek wil by wees as jy dit probeer.  Sy eet kalfies soos jy vir brekfis.”

“Jou ma se Chihuahua?”

“Shelley is reggemaak.”

“Hoekom is dit so moeilik om jou vannag kwaad te maak?” neul Lance.

“Jy probeer nie eens nie!”

“Ek kan vir jou sê ek gaan vir Schalk Burger spyker, maar jy weet ek kan dit nie doen nie, so ek gaan vir Willem Alberts bel en vra hoe dit voel.”

“Nou gaan jy te ver!”

“Nee, regtig, ek hoor hy doen dit elke keer wat die Haaie die WP opmoer. Hulle sê Schalk maak sulke varkgeluidjies elke keer wat Alberts hom vooroor oor ʼn bankie in die kleedkamer buig.”

“Dis ʼn blerrie groot lieg! Schalk sal nooit, nooit…”

“Oink, oink!

“Hulle sê Willem Alberts het ʼn pyp so dik soos ʼn olifantslurp en dit hang op sy knieë.”

“Hou nou op! Ek waarsku jou.”

“Oink!”

“Lance, sê dit nog eenkeer, ek sweer, ek sweer op my pa se graaf, ek bliksem jou met hierdie piksteel.”

“Jy het gesê ek moet jou kwaad maak!”

“Jy kon vir Schalk uit dit alles gelos het!”

“Julle! Bly stil!” snou ek in ʼn fluisterstem.

Iewers in die pad af begin ʼn groot dieselenjin rammel en stemme roep in die nag. Onmiddellik, ook teen die muur oorkant die hek van ons, draai die Merk Vier se enjin oor en begin luier. ʼn Gespanne Dennis is agter die stuur en Joachim is in die toring en hy het afgesak sodat net sy kop uitsteek, want die pantserkar is net-net laer as die hoë betonmuur.

Ek kyk na my regterkant waar Micki agter ʼn asdrom skuil. Nadat ek gehoor het watse funksie Joachim vir haar in gedagte gehad het, het ek die asdrom binne minute met sand gevul. Solank sy daaragter bly, sal geen kleingeweerkoeël haar kan tref nie.

Hoofligstrepe val oor die klam, swart teer van die pad buite die perseel.

“Staan by!” sê ek. “Hier kom hulle.”

“Weet jy wie is op daai lorrie?” sê Lance. “Willem Alberts.”

“Dit lieg jy!” sis Ninja.

“Ek sweer!

“Oink, oink!”

ʼn Gegrom ontstaan in die kort Ninja se borskas.

Ek versterk my greep op die graaf se steel.

Die geluid van die twee aankomende voertuie styg vinnig in volume. Hulle is by die buurperseel, werk ek uit, nou langs ons sʼn, by die hek…

Die voertuie versnel en beweeg by ons hek verby, eers die Ford en sekondes later die bussie.

Iemand agter op die Ford het ʼn sterk lig en dit vee oor die naambord bo ons koppe.

Die oomblik wat die groot trok by ons verbysleep, spring die Merk Vier vorentoe en rem skerp na ʼn paar meter net toe die bussie oorkant die hek is. Die pantserkar skarrel agteruit en hou weer stil, enjin luierend.

“Hulle het verbygehou!” sê ek verlig en oorkant ons, agter die Merk Vier sê Tabitha: “Prys die Jirre!”

My verligting en haar lofprysinge is voortydig. Buite sig maak die F250 ʼn wye U-draai tot aan die anderkant van die pad. Die hoofligte skroei deur die hekgaping en val op die drom waaragter Micki voor die kantoor skuil. Die Ford kom onmiddellik oor die pad na die perseel gerammel, nader, nader, vinnig nader. Aan ons linkerkant blêr die bussie se toeter en sy ligte dompel en spring weer regop dwarsoor die Ford se baan.

Ek hoor duidelik vir Joachim as hy vir Dennis beveel: “Nou!”

Die Ford se bonkige bulneus stoot deur die hek en die voertuig is donkerblou, hoog op breë wiele. Agter die drom skakel Micki die groen dwarrellig aan en skyn vol daarmee op die Ford se windskerm en op daardie presiese oomblik tref die Merk Vier se volle 6,3 ton die bakkie op die pilaar tussen die dubbelkajuit se voor- en agterdeur met ʼn gruwelike frommelgeraas.

Die bakkie se linkerwiele skop kant toe op, maar die voorwaartse momentum vat dit nog ʼn meter of wat by die pantserkar verby, maar die Merk Vier bly verbete op die aanval, soos ʼn swartrenosterbuksie wat ʼn olifant in die sy karnuffel. Die eerste fase van Joachim se plan is vir ʼn paar oomblikke in die weegskaal, en dan tuimel die groot bakkie op sy sy en saai die bemanning op die bak oor die werf.

Net voor ek begin skree, hoor ek Ylbaard se uitroep aan die anderkant van die hek.

“Kom hier!” gil hy. “Waar gaan jy heen?”

“Kom!” gil ek vir Lance en Ninja en daarna skree en skree en skree ek net. “HAAAAA!”

Of hulle kom, weet ek nie. Ek haal die graaf oor en storm na die ongelukstoneel. Voor my is dit ʼn toneel van algehele verwarring, met geskokte figure wat rondlê of onseker steier. ʼn Man kom half regop en ek swaai die graaf na hom, maar tref hom nie vol teen die lyf nie. Ek trek terug en swaai wild van regs na links en tref hom teen die kant van sy kop met die platkant van die graaf. Hy waggel en sak op sy knieë neer. Dié keer mik ek beter en trek die graaf bo my kop op en kap soos ʼn laksman. Die snykant van die graaf keep diep in sy skedel in en die skok van die hou byt deur die steel in my hande. Ek ruk die lem los en die man kantel slap weg van my af.

Oorkant my, teen die omgeslaande bakkie se kajuit sit ʼn man met ʼn pistool in sy hand. Hy kry een skoot losweg in my rigting afgevuur en ek is styf van die skrik, heeltemal seker dat ek nie die ses, sewe meter na hom kan oorsteek voordat hy weer skiet nie, so ek gooi die graaf na hom en storm agterna. Die graaf tref sy skietarm en die volgende skoot is iewers hoog die naglug in. Daar is geen manier dat ek hom gaan toelaat om homself te verstewig vir ʼn meer akkurate skoot op my nie en ek storm agter die graaf aan. Met my tweede tree gly my voet op die los teer en ek lanseer myself kop eerste in sy rigting.

Ons kom heftig bymekaar en ons koppe bots skerp, hard, en ek val langs hom. Hy ruk homself weg van my om vir homself ruimte te maak om sy pistool op my gerig te kry, maar hierdie is nou my gebied; hulle kon net sowel ʼn mengelgevegkrythok om ons gespan het. Ek kom agter hom in, skop my bene styf agtertoe en my skoensole grou teen die teer terwyl ek my linkerarm om sy borskas trek en sy regtervoorarm beetkry. My regterarm slaan ek om sy kop en gryp sy linkeroor en doen my bes om dit af te ruk met my voorarm oor sy neus.

Hy grou en snork terwyl sy bene rukkerig voor hom skop.

Ek buig sy voorarm buitentoe en skud dit hewig totdat hy die pistool laat val en oombliklik laat los ek hom en versit my greep, dié keer met my linkerarm om sy nek terwyl ek sy kop met my regterhand na regs trek, sy nek gebuig oor my linkervoorarm.

Hy spartel hewig vir ʼn oomblik, gryp my voorarm met albei hande, maar ek spandeer elke dag ure in die gimnasium of op ʼn visserskuit om vis te trek en ek is net heeltemal te sterk vir hom. Ek sou hom so kon uitsit, maar dit sou net te lank gevat het, so ek laat los sy kop met my regterhand, trek die mes uit die skede aan my sy. Die verskriklike omvang van wat ek gaan doen, laat my net vir die kleinste oomblik huiwer en dan steek hom so hard as wat ek kan skuins van agter en met die lem teen ʼn effense hoek na bo, reg in die ribbekas aan die rug se kant.

Hy gil hard en kerm dan pateties. Sy lyf trek styf en sy hakskene kap teen die grond. Ek trek die mes uit en kap dit weer hard in, dié keer onder die borsbeen en hy word slap.

Voor my het Ninja ʼn man met sy bofbalkolf platgeslaan en ʼn tweede een op die grond se skedel verbrysel.

Lance, ʼn aanvaller en dié se geweer is in ʼn steierwals betrokke, vingers in mekaar se gesigte en Lance kan nie sy arm teruggetrek kry om sy opponent met sy klouhamer te klop nie en die skut kan nie sy geweer los kry om te skiet nie. Uiteindelik ruk die aanvaller homself half los, stamp sy hand se palmhak onder Lance se ken in en die twee verdeel heeltemal. Die geweer kom op, maar teen die tyd kom ek van agter af by die aanvaller, gryp sy hare en ruk sy kop agteroor en dryf die mes se lem in die kruising van skouers en nek in. Hy word slap, asof al die senings in sy lyf gesmelt het en hy sak grond toe, ʼn velsak vol bene en vleis.

Die hewige bakleiery het seker nie meer as ʼn minuut geduur nie. Ek het drie manne uitgewis en Ninja twee. Net een van die bakbemanning bly oor, en hy is erg beseer in die ongeluk. Nou probeer hy oor die grond wegseil en ek sien in die dowwe lig hoe Ninja agter hom verskyn en dan verpletter skote die naglug. Ninja het agter die man gaan staan, ʼn AR 15-stormgeweer wat hy opgetel het met een hand, soos ʼn pistool, skuins na onder voor hom gehou en die sneller getrek. Die skote stik teen die man se rug op en sy lyf krul na bo, bly so vir ʼn oomblik en dan is hy ook slap.

Ek, Ninja en Lance het ons deel van die worsteling gewen, en vinnig ook, want ons het die voordeel van die verwarring wat na die skok van die Merk Vier se aanslag ontstaan het, uitgebuit.

Die slag is egter ver van gewonne. Dis ʼn aksioma dat selfs die beste slagveldplanne dit net oorleef tot die eerste kontak met die vyand. Daar was niks met Joachim se plan verkeerd nie; inteendeel, hy het instinktief die goddeloses se optrede reg voorspel en het vindingryke planne gemaak om dit teen te staan.

Ek kyk om na die Ford wat op sy sy lê. Die enjin hik en word stil. En aan die anderkant daarvan veg verbete mense met blertsbalroere, flitsligte en misleiding vir hulle lewe teen verwoede aanvallers wat tot die tande gewapen is.

(Lees vervolgens Bodem, boek II, 15.)

Bodem boek II, 13: Die boerpot

bodemII‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Bodem I is reeds volledig.

Lees eers Bodem boek II, 12.

Die wagte, Reginald en Tabitha, en drie van die motorfietsers het binne minute teruggekeer, kwetterend soos vinke, grootoog en opgewonde, met ʼn 12,5-kilogramsak mieliemeel en ʼn inkopiesak met ses blikkies boeliebief en ses blikkies tamatie-en-uiebredie. Ylbaard het beheer van die kokery geneem en ʼn groot aluminiumpot water op ʼn gasplaat op die ontvangstoonbank aan die gang gehad.

“Broe’!” sê Lance, die lang motorfietser uitasem toe hulle met hulle skatte opdaag. “Vannag fees ons! Ons fees diep!”

“Wat het julle?” vra Ylbaard.

“Boeliebief, broer, en sjêba.”

“Julle die mieliemeel onthou?”

“Broe’!” sê Lance geskok. “Dis soos om te vra of ek die baaik onthou het op ʼn brekfis run.”

“Ek vra net, want julle Kapenaars het mos iets teen goeie kos.”

“Pap? Broe’ ek eet vannag die styfste stywepap, ek is so honger, dat die souse so teen my ken afloop, en dan eet ek die sak waarin dit gekom het en dan eet ek die kar waarin die sak gekom het.”

“Jy nie van die Kaap nie?” vra ek vir Ylbaard.

“Vrystater, ek,” sê hy en vat die sak by Lance en sny die hoek van die geweefde plastieksak weg. “Kroonstad.”

“Moenie dat hy jou spin nie, die outoppie,” sê Lance. “Hy het tiet gedrink op Kroonstad, maar hy is al so lank hier, hy het gatsby’s verkoop aan Van Riebeeck se matrose. Hy is langer as ek in die Kaap en ek is in Goodwood gebore!”

“Ek het my diensplig gedoen in die lugmag,” sê Ylbaard. “Youngsfield. Ek was jonk en skraal. Sy was klein en fyn. My pelle het gesê sy gaan soos haar ma lyk.”

“Wat nie so fyn en klein was nie?”

“Ek het net gelag. As jy jonk is, gaan jy mos vir altyd leef.”

“En sy nooit soos haar ma lyk nie.”

“My pelle was reg. Maar toe is dit te laat.”

Hy hou die meelsak onder sy linkerarm en laat ʼn straal mieliemeel deur die stoomnewels in die pot val terwyl hy dit in die kolkende kookwater met die agterkant van ʼn lang houtlepel inroer.

“Kroonstad het baie om voor te antwoord,” sê Micki. “Dit moet iets in die water wees, maar Kroonstad het vir ons Max du Preez, Antjie Krog, André Saayman en Abel Pienaar gegee.”

“Ek weet wie ou Max is,” sê Ylbaard, “en van  Antjie Krog het ek al gehoor. Die ander twee nie so baie nie. Maar as ek so na jou luister, dink ek jy is nie erg oor hulle nie.”

“Liberale gespuis!” sê Micki driftig.

Gespuis? Ek glimlag. Wat ʼn keuse vir ʼn uitdrukking.

“Ek dog ou Max het sy ghoene agtermekaar?” vra Ylbaard.

Hy sit die sak neer en begin om die pap woes te roer.

“Max du Preez!” sê Micki. “Dan is daar darem twee wat so dink. Jy en Max. Jy sou van beter geweet het as jy net die moeite gedoen het om praag te lees.”

“Moenie te kras op Kroonstad wees nie, mooiste,” sê Joachim. “Die dorp sal vergoed vir sy skande.”

“Met hom?” Micki knik haar kop in Ylbaard se rigting.

“Hy weet darem hoe om pap te maak,” sê Joachim. “Dis ʼn begin.

“Maar Kroonstad het nie net ons vriend vir die beskawing gegee nie.

“Ek ook kom van Kroonstad.”

“Werklik?”

“O ja. Tot anderkant die landbouskool uit.”

“Jy is dan so… Kaaps?”

Joachim lag.

“Ek dink in jou oë het my ridderpantser so pas in blik verander en my wit perd in ʼn donkie.

“Wat is dit met julle Kapenaars dat julle dink uitnemendheid is beperk tot suid van Worcester?”

“Nee, dis net… ek kan jou net nie in Kroonstad sien nie.”

“Dit klink soos ʼn kompliment, of nie.”

“Maar wat van die toneel- en televisieding?”

“Ek het ʼn triomf in matriek met die skoolkonsert gehad. Hamlet in Afrikaans. ‘Omelet, omelet, ek’s jou pa se spook!’

“ Een ding het na ʼn ander gelei, en teen die tyd wat ek begin besin het oor my plek in die wêreld, was ek besig om drama te swot.”

“Maar jy hét in die Kaap geëindig!” dring Micki aan.

“Soos ons in ons vriend se geval was daar ʼn vrou betrokke, maar anders as in sy geval het ek haar Kaap toe gevolg.”

“Solank sy ook so dik is soos… Ylbaard se skoonma.”

“O, soos ʼn betonmenger!” sê Joachim, en dit is ʼn infame leuen. Ek het die betrokke voormalige mevrou Bekker ontmoet en in haar vroeë vyftigs sal sy nog steeds mans helfte van haar ouderdom laat mompel wanneer hulle aan haar voorgestel word.

Ylbaard se pap is skaflike krummelpap met klein, stywe klontjies. Nadat dit genoeg gestoom het, gooi hy die boeliebief en bredie in ʼn groot pan en verdun dit met water. Minute later is elkeen van ons oor borde pap en boeliebiefbredie gebuig. Luigi se basiliekruidpesto is net ʼn aangename herinnering en die eenvoudige kos is soos ʼn warm liefkosing in my binnekant, meer as net ʼn heilsame maaltyd, maar ʼn tikkie kosbare normaliteit in ʼn nag van grusame abnormaliteit.

Ons het woordeloos en met groot genoeë geëet daaraan toe die wag, Dermot, die deur wyd oopslaan en inbars. Hy kyk rond totdat hy vir Joachim in die dowwe lanternlig sien.

“Jy moet kom!” sê hy.

“Die rede?” vra Joachim bedaard.

“Daar… gebeur iets!”

“Jood?” sê Joachim.

Ek sit my bord sonder ʼn oomblik se huiwering neer, kom op my voete en volg vir Dermot na buite.

Dit is verbasend windstil, asof die nag asem ophou, maar daar is nuwe naggeluide: Die gedreun van voertuigenjins, krete en dan die tromslae van skote nie ver van ons af nie. Ek en Dermot draf oor die lang staalhek op die grond na die wye gaping in die voorgegotebetonmuur waar dit was. Ons loer om die muur en sien ʼn groot bakkie, waarskynlik ʼn dubbelkajuit-Ford F250, en ʼn 20-sitplek-Mercedes Benz-bussie op die punt van die blok. Die Ford is agterop vol driftige figure en manne hang by die bussie se vensters uit.

Die voertuie draai dwars en hulle hoofligte val op die hek van ʼn perseel aan die oorkant van die pad. Die kantore is oopgebreek en stukkende meubels en rommel lê in die parkeerterrein. Na ʼn minuut stoot die voertuie terug en kom in die pad af in ons rigting en swenk dan skerp na ʼn besigheid twee persele van ons af. ʼn Stem vanuit die perseel daag hulle en dan, tot my yskoue skok, is daar ʼn vlammeflits bo die kajuit van die groot bakkie en ʼn sarsie skote knal. ʼn Gil word kortgeknip en die Ford spring vorentoe en daar is ʼn metaalgeknars wanneer dit deur die hek bars. Die bussie volg kort op die bakkie se hakke.

“Wat is daar?” fluister ek vir Dermot.

“Bodyworld Panel Beaters.”

“En langs ons?”

“Dairylife.”

Wat ʼn groot suiwelverspreider dwarsoor die Kaap is (was!)

Ons draf terug na die kantoor.

Terwyl die res op tande kners en frons, duidelik senuweeagtig, selfs vreesbevange. Joachim aan die ander kant,  kom voor asof hy aangeskakel is. Hy sit vooroor op die lessenaar en sy ooglede is ver teruggetrek sodat sy oë skerp en wakker voorkom.

“So, hier is die situasie,” sê hy. “Help my reg as ek iets verkeerd verstaan.

“Ons het ʼn bende met ten minste een, waarskynlik meer, vuurwapens. Hulle is op ʼn plundertog en hulle modus operandi is eenvoudig: By ʼn plek wat belowend lyk, jaag hulle eenvoudig in, skiet voor die voet, breek in, vat alles wat na waarde lyk, en ry dan weer.

“Op die oomblik is hulle by ʼn paneelklopper. Tussen hulle en ons is ʼn melkverspreider. By die paneelklopper is daar heelwat om te stroop. Dit behoort hulle tussen vyftien minute en ʼn halfuur besig te hou. By die melkery, glo ek, is daar min van waarde oor. Dan is hulle by ons. Skathuis! Hierdie is die boerpot. Hulle gaan nie hier verbyry nie en ons moet aanvaar hulle gaan alles en almal voor die voet skiet.

“Ons het drie keuses, soos ek dit sien. Ons sit alles af, kruip weg en hoop hulle gaan verbyhou. Dit lyk vir my na ʼn swak plan. Bo die ingang is Citadel se naam in sesvoethoë letters geskryf.

“Keuse twee: Ons kan vlug. Maar waarheen? En is ons bereid om alles wat ons hier het op te offer? Ek sou sê, nee.

“Dit bring ons by die enigste werklike keuse.”

“Ons hou hulle hier uit?” vra ek.

“Dis reg.

“Ons het ʼn paar uitdagings. Ons het net een vuurwapen en ʼn paar blertsbalroere.”

“Hè?” sê Ylbaard.

“Paint-ball guns,” help ek hom.

“Ons het ook twee voertuie,” sê Joachim. “Ek tel nege weerbare mans.”

“Het jy my getel?” vra Kip, die man wie se ribbes ek gebruik het.

Micki het ʼn stywe verband om sy middeborskas gedraai, maar hy is steeds bleek en dit maak hom ooglopend seer om asem te haal.

“Ek het nie,” sê Joachim. “Jy is krukkelysmateriaal.”

“Tel my,” sê Kip tussen geknersde tande deur.

“Goed,” sê Joachim. “Dankie, mater.

“Jood, hoeveel van hulle is daar?”

“Uhm, ek kan nie presies sê nie. Kom ons sê vyf voor in die Ford, nog so agt agterop en miskien twintig in die bussie. So, wat is dit? Drie-en-dertig?”

“Dit gaan interessant raak,” sê Joachim. “Tien teen dertig.”

“Daar is ek en Tabitha ook,” sê Micki saggies.

“Tien man plus twee vroue,” sê Joachim. “My dier, ek wil julle nie in die middel van ʼn geveg hê nie, maar miskien kan ons vir julle werk uitdink.”

Reginald steek sy hand op soos ʼn skoolkind met ʼn vraag en Joachim knik in sy rigting.

“Wat van die kanon en die masjiengeweer op julle kar?” vra hy.

Joachim trek sy oë groot en grynslag paaiend: “Alles net effekte, mater. Ek’s bevrees jou blertsbalroer is baie dodeliker as my 37 millimeter wat net geraas en vonke kan maak.”

“So jy’t vir my gelieg?”

“Nee. Dit was nie ʼn leuen nie. Dit was misleiding.”

“En die verskil is?” vra Micki.

“Mens lieg in vredestyd en mislei in oorlogtyd. Lieg is ʼn euwel, maar misleiding is die goeie bevelvoerder se plig.

“Luister! Genoeg daaroor. Ons moet ʼn plan beraam en ons moet dit vinnig doen.

“Ons moet eers probeer vasstel wat die vyand gaan doen. Ek dink dit is maklik genoeg om te raai. Hulle gaan die oop hek sien, hulle gaan die teken sien en dan gaan hulle eenvoudig hier injaag, die Ford voor en dan gaan hulle uitstap, waarmee ek bedoel hulle gaan die voertuie verlaat en voor die voet skiet.

“Nou goed, ons voordeel is dat hulle ons nie kan verras nie. Ons weet waar hulle ons gaan aanval en ons weet hoe hulle dit gaan doen.”

“So, hoe stop ons hulle?” vra Ylbaard. “As ons gou maak, kan ons die hek weer hang. Miskien dit blok met van die leë vraghouers!”

“Nee!” sê Joachim. “Ons het nie genoeg tyd om ʼn behoorlike versperring op te rig nie, en as dit werk, moet hulle van taktiek te verander en ons weet nie wat dit is nie. Dit beteken ons het nie meer die inisiatief nie. Nee. Ons moet hulle toelaat om in te kom en dan moet ons hulle slaan, hard slaan, so hard en so vinnig dat hulle nie kan herstel nie.”

“Ja,” sê Dennis, “maar hoe?”

“Hulle moet deur die hek kom,” sê Joachim. “En hulle gaan die Ford gebruik. As ons die Ford kan uitskakel, is hulle planne onmiddellik in die war.”

“En die bussie?” vra Dennis.

“Solank die voertuig buite die perseel bly, het ons die inisiatief.”

“En hoe gaan ons dit doen?”

“Ons het die Merk Vier,” sê Joachim. “Die pantserkar.”

“Ma’ hy makeer ʼn kanon,” sê Reginald. “Jy’t self so gesê.”

“Nee, ek het nie. Hy hét ʼn kanon. Wat ons nie het nie, is ammunisie.

“Luister, nee, ons kan hulle nie skiet met die Merk Vier nie. Maar die kar weeg 6,3 ton en dis kliphard. Julle het gesien wat dit met die hek gedoen het.

“En ons hét die Volkswagen. Ons weet wat ons het. Nou moet ons dit net alles aanmekaar sit.”

Hy haal diep asem.

“Ek weet presies wat ons  moet doen,” sê hy.

Hier is twee dinge om op te merk: Dit het hom drie minute, niks langer nie,geneem  om die situasie op te som en op ʼn plan te besluit.

Meer merkwaardig nog: Ons het hom sonder huiwering geglo.

As jy wil weet wat van hom die Maarskalk van die Swartland gemaak het, daar het jy dit.

(Lees vervolgens Bodem, boek II, 14.)

Bodem boek II, 12: Die lys

bodemII‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Bodem I is reeds volledig.

Lees eers Bodem boek II, 11.

Die Volkswagen se enjin verstil en vier van die insittendes klim met stywe, bewerige bene af. Ylbaard, wat die kar bestuur het, gaan sit skielik by die voorwiel, so vinnig dat sy breë sitvlak teen die teer pof. ʼn Passasier gaan staan by die motor en stut homself met stywe arms op die modderskerm en laat hang sy groot, woesteharekop vooroor. ʼn Kort, skraal mannetjie loop in ʼn kort kring. Hy het baie gesigshare – lang, vol baard en afdrupsnor – maar sy kop is blinkgeskeer en ʼn seekat is daarop getatoeëer en die tentakels hang soos wangbaarde langs sy slape af tot by sy kakebene. ʼn Rooikopvriend begelei hom, arm paaiend om seekatskedel se nou skouers.

My twee slagoffers bly in die Volkswagen sit; gebreekte ribbes voor en spieswond agter tussen die los gereedskap.

Joachim stap tot by Ylbaard en kyk af na hom.

“Welkom!” sê hy.

Ylbaard loer onder sy oogbanke op sonder om sy kop te lig en waai floutjies met een  hand.

“Julle lyk gestres?” sê Joachim  in Afrikaans.

“Maat,” hyg Ylbaard in Engels. “Maat.”

“Gee jy om as ons Afrikaans met mekaar praat?” vra Joachim. “Jy sal miskien dink dis nie nou die tyd om oor identiteit begaan te wees nie, maar ek wil nie hê ons moet met gewoontes begin wat later moeilik gebreek sal word nie.

“Het jy al agtergekom dat as vier Afrikaners en een Engelssprekende bymekaar is, praat almal Engels. Afrikaners is só beleefd, maar natuurlik ontken almal dit.”

Hy gaan voort sonder om vir ʼn antwoord te wag: “Ek het gedog die reëling is dat julle by ons bly?”

“My vriend,” sê Ylbaard in ʼn skaflike Kaaps-Afrikaanse aksent, “jy verstaan nie. Toe ons by julle verbygery het, toe sê ek nou gaan ons. En ek roer die Volla en die Volla gaan. Weet nie wat so bebliksemd met hom is nie, maar hy maak gatskoon. Nog nooit ʼn Volla gery wat gat so skoon maak nie, en ek kén Vollas.

“Jy weet as jy ʼn masjien tussen  jou bene of onder jou gat het en die ding wil net ry? Jy weet wat ek meen? En jy begin dinge doen wat jy nie moet doen nie? Jy weet, soos die kar of die baaik kom in jou kop en hy besluit vir jou? Dís hoe dit was. Die Volla wil net gaan en toe sê ek: Kom ons gaan!

“Hoe moet ek vir jou sê? Toe ons eers ry en die Volla gaan en gaan net vinniger en die manne skree en die wind is oral is dit soos niemand kan ons vang nie, niemand kan ons vang nie, jy sien wat ek sê? En toe is dit soos alles is reg met alles, reg met die wêreld, reg met die lewe. Vir die eerste keer in weke was ek nie benoud of bang of opgestres nie. Niemand kan ons vang nie. Solank as wat ons in die Volla is, is ons orraait. Vriend! Jy verstaan nie!

“Ek dog dis soos ons kan net aanhou ry en ry en ry en ry. En ek dog ons ry noord, hou net aan ry tot by Plattekloof en ons draai daar links en ry wyd om na Melkbosstrand en langs die kus af terug Table View toe om ons mense te kry.”

“En hoe land julle toe hier?”

“Die pad het opgehou. Ek bedoel, net ʼn paar klieks verder toe is hulle oor die pad, net mense waar jy kyk, en hierdie… hierdie groepe het gewere en hulle skiet, hulle ry in taxi’s, bakkies, trokke, noem dit. En hulle skiet op alles, almal, kyk nie wie of wat hulle skiet nie en daar is karre oral, probeer enige kant toe wegry.

“Toe draai ons om.”

“En hoe kry julle ons toe weer?”

“Ons het julle gesien Paardeneiland toe draai. Ons vat toe agterna en ons was nie ver agter julle toe julle daai… wat was daai? Dit het my gelyk soos ʼn street party wat Valkenburg gegooi het. Ons sien toe, hei, dis hel baie mense. Jy kan deur dit gaan as jy een van daai karre van julle het. Maar nie met ʼn oop Volla nie. Hulle sal ons doodmoer met bottels en klippe en Mollotofs en donner alleen weet wat nog. Toe kry ons pad deur Montagu Gardens.

“Daar was ook mense, baie, maar hulle was looters..?”

Hy kyk vraend op na Joachim wat hom reghelp: “Plunderaars.”

“Ja. Plunderaars. Toe hulle sien ons ry en soek nie iets om te… plund?… nie…”

“Plunder.”

“… plunder nie, toe los hulle ons.

“Maar julle is toe weg en dit lyk nie goed in Table View af nie, toe dink ek ons vat die N7 en… dubbel terug met die kus af. En toe ons nog so ry, daar is julle. En hier is ons.”

“En hier is julle.”

Die ontstigte klein mannetjie het tydens Ylbaard se verslag al hoe vinniger in al hoe kleiner sirkels geloop tot hy naderhand amper ʼn tiekiedraai maak. As hy verligting vir sy gelaaide emosies gesoek het, het hy dit nie in daardie kringetjie gevind nie en met ʼn hartstogtelike swets spring hy na die Volkswagen toe en gee die groot agterband ʼn liederlike skop. Die geweld moes hom laat  beter voel het, want hy wil nog daarvan hê. Hy gryp ʼn moersleutel van die oop Volkswagen af en val die voertuig daarmee aan. Hou vir hou hamer hy die stomme voertuig teen die kant.

Sy lang kameraad probeer hom aan sy skouers vang, maar hy tol weg tot langs die voorkant van die kar en slaan vinnig drie duike in die bagasiekap.

“Hei!” sê Ylbaard. “Hei!”

Die lang man vang die kortmannetjie met sy arms om die borskas en sleep hom agtertoe.

“Jis pappie,” sê hy. “Hoekom moer jy ons kar so?”

“Nggaah!” skree die kort mannetjie. “Nggaah!”

“Jy maak nie sin nie pel,” sê die lang man.

Die kleintjie haal diep asem en ontspan.

“En nou, Ninja?” vra Ylbaard.

“Ek moes iets moer!” verergde een. “Dit was óf iets, óf iemand.”

“En hulle sê daar gebeur niks in Milnerton op ʼn weeksaand nie,” merk die lang een op.

Dit laat Joachim lag. Hy steek sy hand na Ylbaard  uit.

“Ek is Brigadier Hans-Joachim Marseilles Bekker,” sê hy. “Jy kan my Brigadier noem.”

“Genuine?” vra Ylbaard. “Regtig? Jy ʼn brigadier soos in die weermag en alles?”

“ʼn Brigadier ja. Nie van die ou uitgediende Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag nie. Hoof van my eie leër.”

“Jy het ʼn leër? Hoe kry ʼn mens ʼn leër?”

“Jy versamel een.”

Ylbaard sit vorentoe op die grond en  kyk rond.

“Waar is hulle?”

“Hulle is nog nie hier nie. Maar ons kan nie rondsit en vir hulle wag nie. Ons  moet voorberei.”

“Wat voorberei?”

“Ons  moet hierdie perseel beveilig.

“Ek was hoflik genoeg om myself voor te stel. Jy dink nie jy moet my voorbeeld volg nie?”

“Jammer, man. Ek is…”

“Maak nie saak nie. Jy sal altyd vir my Ylbaard bly.”

“Ylbaard?”

Joachim kyk na Reginald, die wag.

“Julle het ʼn kantoor hier?”

“Ja Brigadier.”

“Kan julle water kook?”

“Ons het ʼn gasstoof.”

“Ek dink ons almal het ʼn teetjie nodig. Wat dink jy?

“Kry jou manne,” sê hy vir Ylbaard en kyk dan na Dermot: “Jy is op wag by die hek.”

Joachim, Micky, Dennis, Reginald en Tabitha stap in die rigting van die kantoor met Ylbaard net agter hulle. Die ander motorfietsers help hulle beseerde makkers versigtig uit die Volkswagen. Ek gee hand met die een wie se neus ek ingeduik het. Hy kners op sy tande en trek sy asem skerp in toe ons hom uittel. Ek gaan staan voor hom.

“Joggie,” sê ek en hou my hand uit.

Hy is ʼn halwe kop korter as ek en kyk my op en af, sug en vat my hand. Daar is krag in sy greep.

“Kip,” sê hy.

Ek beduie na sy gesig en ribbes: “Jammer daaroor.”

Hy trek sy skouers op en snak onmiddellik na sy asem.

“Dit gebeur. Die groen lig… Ek was van balans af.”

“Jy skop goed.”

“Nie goed genoeg nie.”

Hy kyk na my: “Jy kan jouself hanteer. MMA?”

“Bietjie. Eintlik stoei.”

“Ek soek ʼn herontmoeting, wanneer ek beter is.”

“Jy het dit.”

Hy loop stadig na die kantoor en ek val langs hom in.

Die kantoor is klein en daar is ʼn groot lessenaar daarin. Herr B sit daaragter, koffiebeker tee in die hand, voete op die blad. ʼn Batterylantern staan op ʼn hoë metaalliaseerkabinet en kaats lig van die stoomlinte uit die koppies af.

Dennis, Micki en Ylbaard het plek in die kantoor gevind. Reginald staan in die deur reg voor Joachim en die res van ons staan styf agter hom in die lang, nou ontvangsportaal.

“330 eenhede?” vra Joachim vir Reginald.

“En 23 containers… ûhm houers?”

“Spoorvraghouers.

“Is daar enige iets in?”

“Ek sou mos sê so in helfte.

“Die transport laai dit hier af, ons pak dit uit in stooreenhede. Soms bring hulle leë houers, dan laai ons dit en hulle kom haal dit.”

“Weet julle wat in die houers is?”

“Ék weet nie. Ek is sekuriteit. En ons werkers sal mos eers weet as hulle die vrag uitpak?”

“En die stooreenhede?”

“Die stooreenhede, hoe?”

“Weet julle wat in die stooreenhede is?”

“Dis mos nie ons se besigheid nie. Dis private… privaat. Mense kom, betaal hulle deposito, pak self hulle goed in die eenheid, sluit dit met hulle eie slot. En as hulle eendag met ons klaar is, kom hulle, sluit oop, pak hulle se goed en vat pad met hulle se goed.”

“Reginald!”

Joachim grinnik: “Kyk, ek weet mos hoe dit is. Julle mense hou mos julle oë oop. Julle praat. Julle leer die gereelde gebruikers ken. Julle skinder oor hulle.”

Reginald trek sy skouers op.

“Die rede hoekom ek vra, Reginald, is as ons wil oorleef gaan ons… voorrade nodig hê.”

“Hoe bedoel Brigadier nou.”

“Jy weet wat ek bedoel. Ek wil in daardie eenhede en vraghouers gaan kyk vir goed wat ons kan gebruik om te oorleef.”

“Soos wat se goed, nou?”

“Wapens, om mee te begin. Vuurwapens verkieslik.”

“Ons kan mos nie nou gaan en ander mense se eenhede oopmaak en alles nie?”

“Ons het nie  ʼn keuse nie.”

“Joachim!” sê Micki onverwags. “Dis mos… oneties; dis nie reg nie!”

“Ek verstaan nie?”

“Dis nie ons goed nie!”

“Nou wie sʼn is dit?”

“So wat jy sê, is dit is res nullius?”

“Ek hou van ʼn mooi vrou wat so vinnig leer.”

Dan weer aan Reginald: “ Ons kort vuurwapens. As daar nie vuurwapens is nie, soek ons iets waarmee ons kan wapens vervaardig.”

“Soos watse goed?”

“Enige chemikalieë. Al is dit huishoudelik. Om die waarheid te sê, ons moet alle huishoudelike skoonmaakmiddels bymekaar maak. Ammonium, soos Handy Andy; gelatien, vloerwaks, selfs kookgoed. Jy sal verbaas wees watse skouspelagtige effek jy met doodgewone koeksoda en asyn kan kry.

“En dan chloor, swembadsuur, kunsmis. Enige brandstof. Diesel. Paraffien.

“Verder het ons kos nodig.”

“Waar sal daar nou kos wees?”

“Ek dink ons sal almal nog verbaas wees om te sien wat mense hier toegesluit het. Daar móét blikkieskos wees. Mieliemeel. Droë rantsoene. Selfs hoenderkos of troeteldierkos. Gebottelde water.

“Maar dink eers wapens. Vuurwapens, chemikalieë, maar ook pikke, grawe, messe, ntjakoestokke, knuppels, skokstokke, ketties, boë, kruisboë, pylgewere. Hierdie is die Kaap, magtag, daar móét pylgewere wees. Toue, kettings, kabels, kraggereedskap.

“Ons soek medisyne, verbande, klere. Nie een van ons het baie klere saamgebring nie en meeste het die klere wat hulle aan hulle lywe het.

“Maar weereens: Om mee te begin, soek ons wapens of iets waarmee ons wapens kan aanmekaarflans.

“Ylbaard?”

“Brigadier?”

“Julle is ʼn vervlakste motorfietsbende?”

“Ja brigadier. Skuus brigadier.”

“Motorfietsers is goeie motorwerktuigkundiges. Wie van julle is die beste?”

“Solly. Die een met die gat in die been. En Kip.”

“Watter een is Kip?”

“Die een met die gebreekte ribbes.”

“Liewe Valhalla!

“Jood!”

“Ja?” roep ek terug.

“Volgende keer, maak dié seer wat nie nuttig is nie.”

“Het jou.”

“Nou goed,” sê Joachim. “Ons het nie tyd om nou deur 330 eenhede en twee dosyn vraghouers te gaan nie. Maar ons moet ʼn begin maak. Kom ons vat ʼn uur en kyk wat ons bymekaar kan maak.”

“My manne,” sê Ylbaard, “ons is honger. Ons het gister laas geëet. ʼn Week laas behoorlik.”

Joachim frons en bedink die situasie.

“Goed. Kom ons eet dan eers. Gaan na eenheid 177 toe. Daar is bokse vol blikkieskos, sakke soja en mieliemeel.”

“Hoe weet jy?”

“Dis myne,” sê Joachim.

Hy hou ʼn blink sleutel op.

(Lees vervolgens Bodem boek II, 13.)

Bodem boek II, 11: Die bres

bodemII‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Bodem I is reeds volledig.

Lees eers Bodem boek II, 10.

ʼn Wag verskyn aan die anderkant van die hek, behoedsaam, mik-mik soos ʼn koedoekoei by ʼn watergat. Hy is gewapen, nie met ʼn vuurwapen nie, want dié is reeds maande lank deur EPS verbied, maar met ʼn halfmeterlang skietding met ʼn regop drommetjie bo die loop en twee handgrepe. Dis ʼn blertsbalroer.

“Jood,” beveel Joachim, “vat die haelgeweer en dek my.”

Ek steek my regterhand oor my linkerskouer agtertoe en vat die Lupara by hom. Ek druk die lope deur die siggleuf voor my.

“Nie daar nie, Jood,” sê Joachim. “Staan in die toring.

“Ek gaan met die swaer onderhandel.”

Ek maak seker die ratte is in neutraal, draai om en klouter oor die rugleuning van die bestuurdersitplek en teen die sitplek op wat Joachim ontruim het. Teen die tyd wat ek regop in die toring staan, is Joachim reeds besig om oor die pad na die hek aan te stryk.

“Stop!” skree die wag en bring die blertsbalroer teen sy skouer.

Ek volg sy voorbeeld met die Lupara en hou my duim op die hane agter die dubbellope op die geweer. ʼn Blertsbalroer werk nie met kruit nie maar met saamgeperste lug. Deesdae laai die gebruikers dit egter met soliede glasveselballetjies of selfs staalghoens wat van dit ʼn wapen maak wat mens nie durf minag nie. Met ʼn vuurtempo van ʼn paar honderd rondtes per minuut kan dit vir Joachim op so ʼn kort afstand voos slaan. Ek is gespanne. Dennis is gespanne. Micki kan nie kyk nie. Die wag is gespanne. Net Joachim is op die oog af sonder enige benoudheid.

“Spaar jou koeëls!” sê hy vir die wag in Engels.

Hy hou sy linkerhand hoog en sy regterhand, palm na buite, voor sy borskas.

“Bly net waar jy is!” waarsku die wag weer.

“Ek wil net gesels,” sê Joachim. “Ons het ʼn situasie hier.”

“Óns het nie ʼn situasie nie, maat,” sê die wag. “Jý het ʼn situasie. Draai om, klim terug in jou tenk of wat de hel dit ook al is en gaan weg.”

“Ek kan nie weg gaan nie,” sê Joachim. “Ons het nêrens om heen te gaan nie.”

“Gaan terug waar jy vandaan kom.”

“Niks daar nie,” sê Joachim. “Net vlamme en gewere. Baie vlamme. Baie gewere.”

“Hartseer besigheid! Nou gaan nou!”

Joachim het tydens die gesprek nie vir ʼn oomblik stilgestaan nie en is nou oor die teerpad en beweeg oor die gruisskouer na die hek.

“Ons wil hier inkom.”

“Ja. Dít gaan nie gebeur nie.”

“Ek is van EPS.”

“Ek werk nie vir EPS nie.”

“Kyk, pel, ek is net gaaf met jou en ek hoef dit nie te wees nie. Kom ek probeer weer: Ons gáán nou hierdie perseel betree, met jou samewerking of oor jou dooie liggaam. Ek bedoel dit. Op my ‘tenk’ wat nie ʼn tenk is nie, maar na genoeg vir die doeleindes van ons gemoedelike bespreking, is ʼn 37-millimeterkanon. My kanonnier het ʼn moeilike nag agter die rug en hy is senuweeagtig.

“Hy is oorgehaal, styf, soos ʼn muisval. Jy weet daardie pennetjie wat ʼn muisval oorgehaal hou? Syne staan al krom gebuig en dit raak net-net. Blaas net daarteen en BAM! hy gaan af. En as hy afgaan, gaan hierdie hek en jy daarmee saam verdwyn.”

“Ek waarsku jou, ek vat jou saam met my, ek waarsku jou!”

“Nee, my vriend. Jy gaan my dalk vol duike en knoppe skiet met jou Velocex 3 000, maar jy gaan my nie ‘saamvat’ nie.”

“Gaan nou net! Hier is niks vir julle nie!”

“O, maar daar is. Ek dink ons kan hierdie perseel beveilig en veiligheid, my goeie, nuwe vriend, dit is iets baie skaars, baie waardevols, die verskil tussen lewe en dood. Jou lewe, jou dood.

“Kyk, kom ek lig jou in. Dis verby. Die magte van duisternis het gewen. Oor ʼn uur, twee ure van nou af, wie weet wie hier gaan opdaag. Miskien jou rasgenote in die vorm van ʼn paar taxi’s vol American Juveniles. Miskien ʼn honderdduisend woedende, bloeddorstige Negers al die pad uit Gugulethu. Gaan jy jouself verdedig met ʼn tenkie vol saamgeperste gas en ʼn paar blertsballe? Jy weet hoe dít gaan uitwerk.

“Ek het ʼn pantserkar met ʼn kanon en ʼn masjiengeweer en ʼn halfton ammunisie. Ek het ook ʼn radio en as ek vir my makkers in húlle pantserkarre roep, is daar binne ʼn uur nog ses van hulle hier.

“Dis eenvoudig, vriend, wil jy leef en as jy nie wil leef nie, hoe wil jy gaan? In ʼn rookwolk wanneer my kanonnier jou met sy 37 mil skiet of in stukke as die minsame burgers van Gugulethu hier opdaag?

“Kies my vriend, maar kies net vinnig. Ons moet ingrawe.”

Die wag huiwer, bly roerloos vir ʼn oomblik, laat sak die blertsbalroer.

“Ek kan nie die hek oopsluit nie,” sê hy.

“Kom aan! Ja, jy kan, jy weet jy kan.

“Kyk, ek weet jy doen jou werk en ek waardeer jou integriteit en jou werkgewer maak op jou staat, maar jy moet weet dat alles verander het. Die wêreld het verander, van gister af tot nou…”

“Dis nie dít nie,” sê die wag. “Ek het nie die sleutel nie.”

“Hoe bedoel jy jy het nie die sleutel nie?”

“Ek het nie die sleutel nie!” sê hy met groot nadruk.

“Jy bedoel… hulle het jou hier toegesluit?”

Die wag, ooglopend diep ongelukkig, knik sy kop.

“En hoeveel van julle is hier?”

“Vier: Drie mans en ʼn vrou.”

“Hoe lank is julle al hier toegesluit?”

“Dis nou amper ʼn week.”

“Pel, ou maat, vriend, hulle het julle verlaat. Jou base is lankal nie meer in die omgewing nie.”

“Bliksems!

“Maar ek het nog steeds nie die sleutel nie.”

Joachim skyn met sy flits op die hekslot. Dit is ʼn ingeboude slot; nie iets wat mens met ʼn skroewedraaier gaan breek nie.

“Hoe nou gemaak?” vra die wag. “Hoe gaan julle die hek oopkry?”

“Nie ʼn probleem nie! Nie ʼn  haakplek in die minste nie. Ek het ʼn slotsmid gebring.”

“Jy het?”

“Jood!” skree Joachim, maar ek het reeds die toring verlaat en is besig om myself agter die stuurwiel in te wikkel.”

Joachim draai na die wag toe.

“Jy beter eenkant toe staan.”

“Ja. Vir wat?”

“Sodat die hek nie op jou val nie. Dit lyk swaar.”

Ek jaag die toere op en laat skiet die koppelaar. Die Merk Vier kom doelgerig maar nie juis blitsig nie uit die blokke en rammel vorentoe. Deur my loergleuf word die hek vinnig groter en hoe groter dit word, hoe dikker kom die staal voor. Hierdie is een robuuste staalhek!

“Hou vas!” gil ek vir Micki en Dennis, buig my arms effens en span hulle so styf as wat ek kan.

Merk Vier! Ek het die dikveltante en haar aansienlike massa gruwelik onderskat. Ons tref die dubbelhekke presies waar hulle bymekaar kom en dit is met ʼn gruwelike lawaai. Dis asof die pantserkar hik, maar dit beur gewillig steeds vorentoe. Staal buig soos warm teerstringe en beton verkrummel wanneer die boute losbreek. Vir ʼn oomblik hang die gebuigde hek oor die voorkant van die rooi Merk Vier, dan steek ʼn deel vas en die pantserkar se wiel rol oor dit.

Ons is in! Ek pomp die versneller twee, drie keer vinnig en die enjin snou gemoedelik.

“Nogmaals deur die bres, liewe vriende!” jubel Joachim.

Ons is in ʼn reghoekige parkeerterrein en voor ons is drie, lae siersteengeboue – ʼn administrasiegebou, ʼn stoorkamer en ʼn klein werkswinkel. Die ligte van die Merk Vier is op die kantoorvoordeur wat oopvlieg en daaruit kom nog ʼn wag gestorm, sonder hemp en met broek wat los gaap. Agter hom kom ʼn verskrikte vrou wat ook háár uniform probeer regtrek. Die man steek vas en lig die blertsbalroer wat hy by hom het. Dis toe wat Dennis, goeie ou Dennis, die kanon laat knal. Dit is ʼn plat klapgeluid, skerp en hard, en vir bykomende effek steek ʼn skerp assegaaivormige vlam voor by die loop uit.

Die wag laat val sy wapen en stoot sy hande in die lug soos ʼn krieketskeidsregter wat ʼn ses beduie. Agter hom sink die vroulike wag op haar knieë neer en vou haar arms oor haar skedel.

“Is julle mal?” skree die eerste wag terwyl hy armswaaiend van die betonmuur af aangestap kom. “Is daar iets in julle koppe wat raas? Wat gaan jy doen? Neongroen kolle op ʼn tenk skiet?

“Hierdie mense is hier om te help!”

“O,” sê die tweede wag.

“Sit neer jou arms! Jy’s nie in ʼn oorlog nie!”

“Ja,” stem Joachim saam. “Sit neer jou arms. Netnou bly hulle so staan.”

Hy stap nader en die wagte sluit by hom voor die Merk Vier aan.

“Ek is Hans-Joachim Marseilles Bekker,” sê hy en steek sy hand uit. “Brigadier Hans-Joachim Marseilles Bekker.”

Die lyk nie of hulle weet of hulle op aandag moet staan en of hulle moet salueer nie, en eers die een en dan die ander steek hulle hande eerbiedig uit en skud die “brigadier” se hand.

Ek sit en bekyk die gebeurtenis deur my loergleuf. Ek het Joachim leer ken as iemand wat nie veel gesag afdwing nie. Mense het maklik agter sy rug vir hom gegrinnik. Sy reputasie was van iemand met min ambisie en minder drif en nog minder vasberadenheid. Hy het van een swakbetalende werk na ʼn ander gedwaal tot hy uiteindelik deur ʼn vriend aangestel is om ʼn tweedehandse boekwinkel op te pas. Daar het hy weinig meer gedoen as om agter die toonbank te sit, te lees en met interessante klante of mooi vrouens te klets. Die winkel se toestand en boekhouding het so versleg dat die goeie vriend vir Joachim uiteindelik moes vra om ʼn loopbaanaanpassing te maak.

Dáárdie Joachim Bekker staan nou in die ligkolle van ʼn pantserkar wat hy amper uit die lug uit getoor het, nog steeds in sy aandpak, met ʼn outentieke spieswond in sy skouer en daar is  nou ses mense wat heeltemal seker is dat hy weet wat hy doen omdat hý so ooglopend oortuig is daarvan.

Hy draai na die Merk Vier toe en wuif vir my:

“Jood!” roep hy. “Jood, kom hier.”

Ek skakel die Merk Vier af en die enjin proes, hik en word stil. Dis die skielike stilte wat my laat besef hoe lawaaierig die enjin was. Die vensterplaat aan my regterkant vou weg as ek daarteen druk en ek haak my hande om die bokant van die vierkantige ruimte en wurm myself aan die  kant van die  kar uit.

“Jood,” sê Joachim toe ek na hulle toe stap. “Ontmoet vir Dermot, Reginald en die jong amasone is Tabitha.

“Julle, ontmoet vir Joggie Leibrandt.”

Ons skud hande en maak die regte sosiale geluide. Etiket verdamp nie eensklaps uit ʼn mens se sisteem tydens ʼn katastrofe nie en duik met die geringste geleentheid op.

“Jy het gesê daar is vier van julle?” vra Joachim vir Reginald, die wag wat by die hek was. “Ek tel net drie.”

“Daar is mos nog Boet ook,” sê Reginald en Afrikaans is nou duidelik die taal van die geleentheid. “Van die Kraaifontein af, maar hy is nou, kan jy sê, onder die prop en hy slaap homself in ʼn babie in in die tool-kamer.”

“Ek sien,” sê Joachim. “Menere, ons het min tyd, so as julle vir my ʼn toer van die fasiliteit sal gee?”

Die wagte brom instemmend.

“Julle besigheid, as ek reg is, is beveiligde stoorruimte?”

“Citadel Safe Storage het driehonderd-en-dertig toesluitbare stoorruimtes wat wissel van drie-by-twee-meter sluitkamers tot vier-by-agt-meter eenhede,” resiteer Reginald.

Die ander gaap hom vir ʼn oomblik aan.

“Jy moet regtig ʼn hobby kry,” sê Tabitha.

“Ma’ ek het mos een,” sê Reginald.

“Om brochures te lees, is nie ʼn hobby nie,” sê Dermot. “En om dit te memorize? Nee man!”

“En Tabitha is jou hobby!” verweer Reginald homself. “At least kan ek nie die brochures pregnant kry  nie.”

“Vriende!” val Joachim hulle vinnig in die rede. “As ons na die fasiliteit  kan gaan kyk?”

Dermot begin iets sê, hou sy mond, draai sy kop effens en luister.

In die nag word ʼn enjingeluid hoorbaar en dit groei in volume, ʼn hees breiklank van horisontaalopponerende silinders. Ons kan deur die gaping waar die hek was, sien hoe hoofligte op die teerpad aanskuif. Die motor jaag grommend by die perseel verby en dan is daar die fluitgeraas van bande wat vasgerem word oor ʼn teerpadoppervlakte. Die enjingeraas groei weer en sekondes later seil die motor agteruit by die motorhek verby. Dit rem weer skerp en spring nogmaals vorentoe en draai by die werf in.

Dit is ʼn daklose Volkswagen Kewer vol getatoeëerde motorfietsers.

(Lees vervolgens Bodem boek II, 12.)

Bodem boek II, 10: Die Walpürgisnacht

bodemII‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Bodem I is reeds volledig.

Lees eers Bodem boek II, 9.

Tarara-RAM!—tarara-RAM!—-tarara-RA!-ra-ra-RAMM!

Tarara-RAM!—tarara-RAM!—-tarara-RA!-ra-ra-RAMM!

Die tema van La Forza del Destino se ouverture wat Joachim neurie, weergalm in my binnekant.

Tarara-RAM!—tarara-RAM!—-tarara-RA!-ra-ra-RAMM!

Die Merk Vier skommel, rammel en klingel soos ʼn slagorkes op wiele met die enjingedreun ʼn ruwe baslaag van oopkeelklanke. My regtervoet pers die versnellerpedaal ondertoe en ons gaan teen terminale spoed met ou Adderleystraat af. Die kar se topsnelheid word as 50 myl per uur aangegee, ʼn bedeesde 80 kilometer per uur, maar op die oomblik voel dit of ons 180 op ʼn oorlaaide winkeltrollie doen. Ek sou verkies het om stadiger te ry, maar Joachim het met al die hovaardigheid van ʼn baron aan ʼn koetsier vir my beveel om “vinniger, vinniger en nogmaals vinniger” te gaan.

“Hou op ou omie op pad na Morris Minor-konvensie dink, my seun! Dink Lauda en Nürburgring, dink…”

Op welke oomblik Dennis vir hom iets sê wat ek nie kan hoor nie.

“My kanonnier het my daarop gewys dat Nicki Lauda in ʼn verwoestende botsing op die Nürburgring se Nordschleife was in 1976 en grusaam verbrand het. Verban die gedagte, Seun, verban dit! Dink positief! Dink oorwinning! Dink Senna en Spa, dink Fangio en Monte Carlo, dink Stirling Moss en Silverstone! Dink Schumacher maar moenie Schumacher en Alpe dink nie!

“Hie-HAAA!

“Tarara-RAM!—tarara-RAM!—-tarara-RA!-ra-ra-RAMM!”

Teen 80 kilometer per uur is die Merk Vier nie meer ʼn handvol nie; dis ʼn bondel raaisels wat die koördinasie van ʼn helikoptervlieënier en die onbesonnenheid van ʼn basisspringer vereis net om in die algemene koers van vorentoe te gaan.

Tarara-RAM!—tarara-RAM!—-tarara-RA!-ra-ra-RAMM!

Joachim se entoesiasme het my oorrompel. As dit my pakkie met linte om van die Noodlot is om met die Merk Vier in die baai te land, laat dit so wees! Ek doen dit met Verdi op die lippe!

Tarara-RAM!—tarara-RAM!—-tarara-RA!-ra-ra-RAMM!

Daar is ʼn surreële oomblik asof ek myself skielik in ʼn rolprent bevind, in ʼn geykte uittreksel waar die protagonis ʼn deuntjie fluit en die klankbaanorkes in volle monochromatiese glorie by hom inval. Ek kon sweer ek hoor ʼn groot orkes uit volle instrumentale bors en dan besef ek, nog meer geskok, dat dit ʼn orkes, ʼn regte, egte orkes is wat ek hoor.

Die spesiale effekte wat Joachim se rolprentbedryfkontakte aan die Merk Vier aangebring het, is duidelik nie tot die loskruitknalle van kanon en masjiengeweer beperk nie. Eers later sou ek die geleentheid hê om die groot luidsprekers wat in die toring ingebou is en klank projekteer na buite deur ronde patrone gate wat in die staal geboor is. Dit het die primêre funksie van ʼn openbare aankondigingstelsel.

Dat dit ook opvoedkundige waarde het, dít is Joachim se idee.

Tarara-RAM!—tarara-RAM!—-tarara-RA!-ra-ra-RAMM!

Georg Solti op volle vaart teen genoeg desibels om ʼn straalvegterenjin uit te doof.

Waggel, skommel, skud, ratel en raas. Om die Merk Vier in ʼn reguit lyn te hou, is soos om ʼn trop katte aan te jaag. Dit is nie dat die voertuig nie in dieselfde sin as “aërodinamies” genoem kan word nie – dit hoort nie in dieselfde hoofstuk nie. Dit kloof nie die lug nie, dit kneus dit. Veral as Joachim sonder waarskuwing die toring draai, iets wat hy sporadies en met groot uitbundigheid doen.

“Ennnn… ons gooi hom oor die boeg aan die windafkant!”

Die Merk Vier wissel twee bane na die bakboordkant voor ek die nodige korreksie met die stuurwiel kan maak.

“Ahoi! SAS Volkswagen!” bulder Joachim in ʼn mikrofoon en die groot luidsprekers kaats die klank oor die Volla agter ons.

“Ons nader ʼn padblokkade!” eggo Joachim se stem. “Moontlik gaan hulle nie tevrede wees as ons daardeur gaan nie. Dit kan wees as hulle op ons skiet. Moenie oor ons bekommerd wees nie. Ons vel is dik. Julle vel is dun. Daarom, met die eerste geleentheid anderkant die padblokkade, versnel en steek ons verby en hou julle spoed só dat ons kan byhou. Vrees nie, liewe maatjies, vir julle sal ons ʼn skans wees!”

Die kar waggel weer wanneer hy die toring terugdraai, maar ek het dit dié keer verwag en kompenseer netjies daarvoor. Het Micki die knap stukkie pantserkarloodsing gesnap en skat sy dit behoorlik na waarde?

Tarara-RAM!—tarara-RAM!—-tarara-RA!-ra-ra-RAMM!

Ons dawerjaag tussen hoë geboue wat soos kranse op ons neerfrons deur, in die duister kol aan die einde van die dubbelpad, steier regs en dan skommelhink ons na links op die ou N1, maar nie ver nie. Voor ons is ʼn volgroeide militêre wagpos met sandsakke, doringdraad,  skelwit ligte op hoë pale, ʼn knewelrige kragopwekker op ʼn sleepwa en agter dit alles ʼn paar voertuie in lukrake rangskikking en nege tente drie-by-drie opgeslaan.

Siviele voertuie staan snoet-teen-stert in die regterbaan, rygoed van uitgewekenes, opgestapel met bagasie. Ek het ʼn indruk so blywend dis asof dit op selluloïed in my skedel ontwikkel is van ʼn peperduur, eksklusiewe 850 BMW afslaandakkoepee met ʼn matras op die dak met dun skitou wat om dit en by die vensters in en om vasgespan is en bo-op dit is tasse, sakke, komberse en selfs ʼn yskas.

Mense staan rond buite die voertuie, geagiteer en senuweeagtig, opvlieënd en desperaat. Troepe op patrollie hou die linkerbaan skoon, ontruim vir die gebruik van EPS se rooi voertuie… en ʼn 1943 South African Reconaissance Vehicle Mark IV met ʼn fopkanon voor en ʼn fopbrigadier in die toring en ʼn stoeier agter die wiel. En, reg agter dit, ʼn gestroopte Volkswagen-kewer vol ietwat gebruikte motorfietsers.

Tarara-RAM!—tarara-RAM!—-tarara-RRR..!

Die ouverture stop kortaf en word vervang met… ʼn soettanniestem wat sing hoe baie sy hou van reëndruppels op rose en snorbaarde op katte en helder koperketels en warm wolmoffiehandskoene. (Goed, ek het dit voorheen al iewers gehoor en weet nou dat dit Maria se slamppamperliedjie uit “The Sound of Music” is.)

Of Joachim se radio-oproep gewerk het, is nie seker nie; die valpaalhek het nie oopgegaan nie, maar niemand het op ons geskiet nie. Die troepe by die hek gaap ons aan en een begin dit lig totdat iemand op hom skree en hy dit senuweeagtig laat val. Miskien as ons stilhou, kan Joachim ons weg deur bluf en onderhandel, maar dan staan ons en ons is in hulle mag, en een van die Maarskalk se beginsels is om nooit staat te maak op die inskiklikheid van jou opponent nie.

“Schumacherrrrr!” juig Joachim in die toring en hy skop my met sy blink reënmodderbespatte skoene teen die agterkop.

Nou ja, dit is sý kar. Ek is redelik seker dat die paal ons in ons spore gaan stop. En dit sou, as ons iets so tengerig soos ʼn Ford-bakkie met ʼn stampstellasie vooraan bestuur het. Maar ʼn Ford weeg nie 6,4 ton sonder ʼn fopbrigadier in die toring nie en ʼn Ford se bakwerk is nie gemaak van 12-mm pantserstaal nie. Ons buig daardie rooi-en-wit paal soos ek vroeër die aand ʼn aluminiumspies om ʼn rampokker se nek gebuig het en ons is deur, dwarsdeur, dawerend begelei deur die tannie wat sing van roomkleurige ponies en bros appelterte.

Sekuriteitswagte spaander weg voor die slingerstormende Merk Vier. Een arme dapper drommel steek wel botweg in ons pad vas en in ʼn onbesonne filantropiese oomblik besluit ek om hom nie in die teeroppervlakte in te smeer nie. Ek hang aan die stuurwiel na reg en die Merk Vier hel oor na stuurboord en ek moet sagkens stoei om dit weer op kiel te kry want die stuurwiel het genoeg speling om ʼn drywer se insette vir ʼn volle kwartrotasie irrelevant te maak. Die blok tente duik voor ons op en ek het net nie genoeg selfvertroue om weer woes aan die stuurwiel te trek nie en ons is deur een!, twee!, drie! tente en bokspringend oor wat – of wie – ook al daarin was.

“Ek het dit geweet! Ek het dit geweet!” jubel Joachim. “Niemand skiet op ʼn oudtydse kar en Julie Andrews nie!”

Wel, nie onmiddellik nie. Nie totdat hulle tot verhaal gekom het nie.

Die Volkswagen kom vol wippende gereedskap en wapperende motorfietse by ons verby, en dit teen bekwame spoed. Net daarna tref ʼn swerm klein maar baie harde en baie vinnige voorwerpe die agterkant van die Merk Vier.

Joachim en Dennis stort van hulle staande posisies in die toring af tot op hulle sitplekke in die Merk Vier.

“Hulle skiet op ons!” skater Joachim. “Hulle skiet op ons!”

Ek persoonlik vang nie die grap nie, Micki gee staccato gilletjies en Dennis maak verbysterde “hmmfff!”-“hmmfff!”-geluide.

Voor ons trek die Volkswagen se rooi remligte klein in die verte.

ʼn Oomblik later is Joachim weer in die toring.

“Waar gaan hulle heen?” vra hy. “Ek het gesê hulle moet teenaan ons bly.”

Dit kom daarvan as jy nie ʼn motorfietser se geswore eed op skrif kry nie.

En die tannie sing van meisies in wit rokkies met blou satynserpies en nog ander goed waaraan sy dink wanneer die hond haar byt of die by haar steek.

By die Paardeneiland-afrit hel ons oor na links en vind ons steierende pad na Milnerton-weg waar ʼn waansinnige toneel op ons wag. Van Rugby en Berea af, is daar ʼn straatpartytjie voor die ou verslete vis-en-gatsbywinkels, drankstore, pandjieswinkels, dobbelkafees en sekswinkels; ʼn uitspattige, rondmalende roesemoes van dronk, guitige mense in ʼn frenetiese laaste dans om konkas hoogbrandende vure en motorwrakke. Groepies drink en strompel koersloos, paartjies bots hulle lywe teen mekaar, bendes mans en vrouens, wit en kleurling, dans spasties los van mekaar en kweperlatkannetjies sit en snuif gom en rook boom op die sypaadjies terwyl manne, opgestoom met adrenalien en testosteroon woes en onakkuraat na mekaar slaan met vuis en steek met gebreekte bottels en hier en daar lê liggame, dronk of dood soms teenaan paartjies wat kopuleer, freneties en onbeskroomd.

Hier het die remme van beskawing losgespring en daar is ʼn vleeslike, vervallende losbandigheid in die atmosfeer; rotte wat mekaar baklei en vry voor die skip sink; ʼn gemeenskaplike offerfees aan Mefistofeles, ʼn Walpürgisnacht vir mense wat hand met die duiwel geskud het op die laaste dag van hulle aarde.

Ons is vir hulle vars vlees, ongenooi en net welkom om verteer te word. Daar is nie aanduiding dat hulle voor ons gaan wyk nie; bolippe trek van tande weg, vuiste skud in die hoofligte van die Merk Vier en gooi bottels na ons.

Die tannie hou op sing van deurklokkies en sleeklingels en ganse met die maan op hulle vlerke. Haar paaiende stem word vervang deur ʼn skreiende alarm en na ʼn paar gille daarvan deur orkesakkoorde wat heen-en-weer, op-en-afsaag in ʼn bloedstollende melodie wat bekend is aan alle oorlogfliekkenners: Die helikoptertema uit Coppola se “Apocalypse Now.” Rit van die Wälkure. Wagner!

“Ek lief die reuk van napalm in die oggend!” skree Joachim wat nou weer by die toring uitstaan oor die luidspreker.

Hy skop my teen die agterkop.

“Trap Jood! Stormspoed vooorenTOE!”

Ek kners op my tande, trek my oë op skrefies en greep die stuurwiel witkneukelend vas. Die versnellerpedaal word deur my regtervoet gebêre en die Merk Vier ploeg vorentoe.

“Nogmaals in die bres, liewe vriende!” hef Joachim uitgelate, dramaties. “Nogmaals!

“Of stop die muur toe met ons Boeredood!

“Want as die knal van oorlog in ons ore blaas!

“Maak dan soos die tier!

“Verstyf die sening, roep op die bloed!

“Vermom innemendheid met hardgebakte briesendheid!

“Want hy wat sy bloed stort met my hierdie nag!

“Is my broer!

“Van hierdie dag tot die voleinding van die wêreld!

“Sal ons onthou word,

“Ons weiniges, ons gelukkige paar!

“Ons bende broers!”

Waar hy daaraan kom, weet ek nie, maar hy hou dit vol en nou bars magtige knalle uit die kanon en masjiengeweer los, dié keer met donderende volume want dit is oor die klankversterker verhewig.

Hulle val nou voor ons weg, woedend en wraaklustig.

Ek tref ʼn vuurkonka en die vonke spat skroeiend deur die naglug. Kooltjies trek by my oop uitsiggleuf in en ek swets wanneer hulle my in die gesig steek.

Dis asof ons in ʼn kranksinnige reguit doolhof is en die straatblokke net nooit ophou nie.

“Oë links!” skree Joachim. “Saluut! Salueer!”

Ons gaan by die Merk Vier se voormalige tuiste van vyftig jaar verby: Die MOTH-klub, waar ʼn ou twintigponder en ʼn lugafweerkanon nog waghou.

Maar die liggame, die liggame, die liggame… die dansende, fornikerende, onstuimige, benewelde, selfmoordgierige liggame voor en links en regs en agter ons. Ek tref nie baie nie, maar ek ry  nie almal mis nie. Moedeloosheid word matige paniek in my. ʼn Vrees groei soos mosslierte aan my binnekant dat hulle net naderhand nie meer gaan padgee nie en die weerstand gaan net opbou en fermer word totdat die huid en borsbeen en ingewande so dig gaan word dat die kar langsamer sal vorder, al hoe meer traag, stadig, totdat dit hulpeloos gaan vasval teen walle van wandelende lyke en dan gaan hulle teen die wande van die Merk Vier opsypel en in en hulle gaan ons beetkry en verdeel, in stukke; pluk, skeur, hap, trek…

En dan word die wegvallende see van mense yler na die buiterimpels van die gefuif toe en leeftye later breek ons deur na waar mense verdwaas in skraal groepies drentel.

Ons pyl noord, uiteindelik oor Table View-weg in die rigting van die renbaan en dan daar verby met die nywerheidspark aan ons regterkant.

Dan is die musiek stil en die  kunsknalle van die kanon en masjiengeweer hou op.

Dis skokkend stil al suis die wind deur die uitkykpoort en om die wa en al dreun die V8-enjin.

My asem word minder diep en meer egalig. Ek kom agter dat ek op my tande kners en dwing myself om my onderste kake te laat ontspan. Agter my hoor ek vir Micki saggies huil.

Wanneer Joachim praat, is selfs hy bedees.

“Jood!” sê hy. “Stop!”

Ek trap die rem en die koppelaar in en werk die ratte af en knars elkeen van hulle selfs al konsentreer ek op die dubbelontkoppeling met die linkerste pedaal.

Die Merk Vier kom tot roerloosheid. Die enjin luier.

“Stoot terug,” sê hy.

Ek vind trurat en die pad voor my word ver.

“Draai regs,” sê hy. “Regs, regs, regs, rehhhgs…”

Die stertkant van die Merk Vier stoot dwarsoor die pad.

“Stop!”

Die hoofligte van die pantserkar val op ʼn groot terrein met hoë gietbetonmure. Reg voor ons is ʼn dubbelhek van swaar staal en agter dit is ʼn kantoorgebou. Bo dit is ʼn ontsaglike groot boogvormige naambord.

Ek lees daarop: “Citadel Safe Storage,” en weet ons het opgedaag.

(Lees vervolgens Bodem boek II, 11.)

Bodem boek II, 9: Die uittog

bodemII‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Bodem I is reeds volledig.

Lees eers Bodem boek II, 8.

Die Suid-Afrikaanse Verkenningsvoertuig Merk IV het met onderskeiding in Noord-Afrika gedien waar dit hoofsaaklik deur Suid-Afrikaanse plaasseuns aangewend is, en hierdie willewragtags het geweet hoe om die meeste uit die eienaardige regop kar te haal.  Geen duin was te hoog of sand te diep of oppervlakte te gebroke vir hulle nie. Later, in Sisilië en Italië, is die voertuig in logge kolomme gekniehalter en het dit ʼn onverdiende swak reputasie gekry. Na die oorlog is dit in ʼn verbasende groot verskeidenheid lande se weermagte opgeneem. Die Rhodesiese weermag het hulle sʼn in 1972 laat aftree terwyl die Sipriese Nasionale Wag dit so laat soos 1974 teen die Turke ingespan het. Glubb Pasha se Arabiese Legioen is daarmee in Transjordanië toegerus.

In hierdie karre is ʼn reeks tale gehoor, van Afrikaans en Engels tot Italiaans en Japannees. Tog dink ek daar was nooit ʼn meer onvanpaste bemanning vir ʼn Merk Vier as ʼn nomadiese stoei-afrigter, ʼn popmooimeisietjie, ʼn mislukte akteur en ʼn maer man met ʼn aluminiumtas vol radio’s nie. Die bestuurder – in weermag-Afrikaans altyd ʼn “drywer”- het gou ʼn paar dinge agtergekom: Die ratkas het nie sinchroniese ratte nie, die koppelaar is verbasend sag om in te trap en jy het arms soos Popeye na ʼn blikkie spinasie nodig om die stuurwiel te draai wanneer die voertuig stadig beweeg.

Al hierdie dinge het ek geleer binne die eerste ses meter van die eerste been van ons eerste rit met die Merk Vier. Ses meter, want dit is hoe ver ons gery het. Ek het die voertuig vorentoe laat rol tot ek redelik seker was die lyf se volle 5,51 meter was uit die motorhuis, toe hang ek behoorlik aan die stuurwiel na links. Skaars het ek die wending gemaak of Joachim sê ek moet stop. Hy wen die een slingerwiel bo my teenkloksgewys en die toring swaai links.

Hy staan regop in die toring en met ʼn ietwat pynlike gesukkel hys homself uit die voertuig, gaan sit op die romp en skuif af tot sy voete grond voor die motorfietsers se stoorplek vat. Ek druk die vensterplaat aan my linkerkant af om te sien wat hy doen. Met die kort haelgeweer in sy linkerhand loop hy tot teen die roldeur en raps met die dubbellope daarteen.

“Julle daarbinne!” sê hy. “Goed. Ek het ʼn aanbod vir julle. Kan julle my hoor?”

Agter my luier die V8 lomerig en ek kan nie hulle antwoord uitmaak nie.

“Ek gaan die deur nou oopmaak,” sê hy. “As julle iets probeer, en ek bedoel, as een van julle skielik beweeg, is dit die St. Valentynsdagslagting van vooraf. As jy nie weet wat dit beteken nie, dit beteken ek gaan jou skiet. Ek waarsku julle.  Ons het nou baie meer as ʼn haelgeweer by ons. Voor julle iets doen, kyk eers buitekant toe. Dan besluit julle.

“Goed?

“Goed. Ek maak nou die deur oop.”

Ietwat onhandig haak hy die bloudraadgrendel wat ek geprakseer het los, buk en trek die roldeur oop. Hy staan onmiddellik terug en skyn in die motorhuis in met sy flits. Ses verrinneweerde en gekrenkte motorfietsers kyk terug.

“Menere,” sê Joachim, “ek gaan vir julle iets gee wat julle nie verdien nie: ʼn Kans. Julle kan hier bly en hier sal hulle julle kom haal en uitwis. Julle kan die nag in vlug op julle eie. Of julle kan saam met ons kom.”

“Is daar plek vir ons?” vra Ylbaard.

“In die Merk Vier? Dis ʼn gepantserde verkenningsvoertuig, nie ʼn gepantserde troepedraer nie. Kort antwoord: Nee.”

“Nou hoedemoer moet ons bybly? Op ons voete?”

“Ek het gedink daarmee, die Volkswagen.”

“Ons weet nie eers of hy loop nie.”

“Hy loop. Ek was vir weke elke dag hier om na my pantserkar te kom kyk en die persone wat die Volkswagen herbou het se projek was op datum en klaar.”

“Orraait! Woes! Ja, ek bedoel, já!

“Sparkie!” roep hy na ʼn skraal lid met ʼn oorhanggebit en ghrieserige swart hare. “Gooi, pappa, gooi! Swaai die motor en kyk of hy skop.”

Sparkie werp homself agter die stuurwiel in en tas vir ʼn aansitter.

“Fokkol sleutel!” sê hy bitter.

“Wat maak ons nou?” vra Ylbaard vir Joachim.

“Ingesout in die semi-onderwêreld soos julle is, kan ek nie sien dat julle moeite sal ondervind om die voertuig op ʼn meer informele manier aan die gang te kry nie.”

“Jy wil hê ons moet hom hot-wire?”

“Ek los die tegniese besonderhede vir julle. Maar wat julle ook al hoe ook al doen, doen dit baie gou. Die Negroïdiese Filistyne is op ons.”

“Wat van ons families?”

“Waar is hulle?”

“Table View.”

“Dan het ons nog bietjie tyd. Laat ons net eers wegkom, ʼn meer beheerbare vesting ontwikkel en dan kan julle hulle gaan haal.”

“Pel! Regtig pel?”

“Regtig. Daar is natuurlik voorwaardes.”

“Noem hulle pel, noem hulle!”

“Julle doen wat ek sê.”

“Geen probleem nie. Geen, geen probleem nie. Ek sweer!”

“As ons julle nodig het, onthou julle skuld my en ek kollekteer altyd.”

“Absoluut, abso-blerrie-luut!”

“En jy hou op om my ‘pel’ te noem.”

“Dit kan ek doen. Wat moet ek jou noem?”

“My naam is Joachim…” Huiwering. “Julle kan my ‘Brigadier’ noem.”

“Sweer! Jy ʼn brig, pel, ûhhh, Brigadier?”

Huiwering. Aansienlik korter dié slag.

“Ek is.”

“Blerrie nice!”

“Goed. So kry die ding aan die gang. En kry vir julle wapens. En dan, as ons ry, bly by. En ek bedoel, bly teenaan ons. Daar moet nooit meer as ʼn telefoongidsdikte tussen ons wees nie. As ons op die sypaadjie ry, ry julle op die sypaadjie. As ons oor ʼn spoorlyn ry, ry julle oor die spoorlyn. As ons by trappe afry, nou ja…”

“… dan ry ons by trappe af!”

“Ja.

“En kry vir julle wapens.”

“Wat ons waar kry?”

“Ek praat nie van vuurwapens nie. Kry slaangoed. Hamers. Spanners. Koevoet as hier een is. Grawe. Stokke. Steekgoed. Skroewedraaiers.

“Ou vriend?”

“Yes, yes?”

“Beweeg jou blerrie gat! Beweeg, beweeg, beweeg! Ons moet weg. Toe nou.”

Hoop is ʼn wonderlike lewenseliksir. Ruwe nagsluipers wat oomblikke tevore mismoedig tussen drie mure en ʼn geslote roldeur gesit het, is die volgende oomblikke vol doelgerigte energie. Terwyl Sparkie en Ylbaard begin om drade aan die stuurkolom te ontrafel, ruk drie ander kabinette en trommels oop en begin om gereedskap en implemente in die oop Kewer te gooi. Twee van hulle kom uit die hoek gewaggel met twee lang gasbottels, lugslurpe en gassweisspuitstukke.

“Wat julle mee gaan wat?” vra Ylbaard sonder om sy hande van die Volla se oop drade te verwyder.

“Dit bottels is nog vol,” steun een van die draers. “Asetileen  én suurstof!”

“En julle gaan dit waar sit?”

“Ons maak plek,” sê die ander draer.

Hy stoot sy bottel sodat dit regop staan en help sy maat om sy groot staalbottel agter die bestuurdersitplek in te laai.

Die Volkswagen proes skielik en kom vrolik, lawaaierig aan die gang.

Joachim klim terug in die toring terwyl die motorfietsers hulle makker met die gewonde been voor in die passasiersitplek installeer.

“Drywer!” beveel Joachim. “Ry! Draai regs as jy by die uitgang uitgaan.

“En Jood, sit jou ligte aan. Ons gaan niemand fop deur te probeer om deur die strate te sluip nie.”

Die motorfietsers hoop die laaste gereedskap en implemente op die Volkswagen en sak dit behoorlik toe; werp hulle lywe eenvoudig bo-op wat onder hulle is. Die potsierlike kar sak op sy suspensie en wanneer dit ʼn tree of wat vorentoe rol, kan ek duidelik die wiel teen die bakwerk hoor skuur.

Ek laat die koppelaar van die Merk Vier uit en die swaar kar kruip vorentoe. Ek mik versigtig om die muur van die gebou en gaan met die motoringang uit. Waar dit met die pad aansluit wag ek vir ʼn oomblik en draai regs met die teerpad af. Die ligte van die Volkswagen stoot weerskante van die pantserkar verby.

Die Merk Vier se V8 gee ʼn aangename, gesonde dreuning en as ek die versneller diep intrap klim die enjinklank geleidelik teen die toonleer op. Dis nou nie juis ʼn skop in die rug nie, maar die voertuig versamel snelheid en teen die einde van die straatblok stoom ons teen ʼn bekwame hoeveelheid knope vorentoe.

Dit vat konsentrasie om die pantserkar in ʼn reguit lyn te hou. Hierdie perd is van ʼn ander kleur as enige moderne voertuig. Jy moet gereeld verstellings maak om reguit te ry en dit vat my ʼn dosyn probeerslae voordat ek die koppelaartrap-neutraalskakeling-koppelaartrap-ratskakeling onder die knie kry. Die drywer se uitsig is beperk tot ʼn reghoek voor in die pad. Dit tref my dat oorlogtydse drywers dié voertuie vir dae aaneen oor rowwe terrein geloods het en ek is diep beïndruk. Manne van staal in hulle staalkarre.

Die verlate stad is somber in die nag. Dis asof die rommel soos reuseswamme oor die sypaadjies en tot in die strate gegroei het. Winkelvensters is gebreek en meeste van hulle al gestroop. Motorwrakke staan blind en tandeloos en ʼn groot proporsie van hulle lê op hulle sye en selfs dakke. Dis asof die sterwende stad begin skubbe van glas afwerp het en die skerwe glim soos nagemaakte juweliersware. Lamp-, telefoon- en verkeersligpale staan windskeef en elektriese drade is gemufde droplekkerdrade in die maanlig.

Die sluwe, slingerende straatkatte sypel deur stegies op die skarrelspoor van rotte en word op hulle beurt op loop gesit deur die brakke met prominente skelette.

Ek is ewe skielik diep geroer, so hewig geraak dat die weemoed dwars in my keel sit asof my adamsappel in hout verander het. Hoe het dit gebeur? Hoe het ons toegelaat dat hierdie juweelstad so weggekwyn het, so gemuf en verstik het, so afgeskilfer en afgerem en afgedop geraak het? Was hierdie moederversameling van beton en teer en sandsteen en baksteen en glas en lanings en tuine en antieke bome dan van so min waarde dat niemand kon veg om dit te red teen dié wat net sou veg om dit te vernietig nie?

ʼn Langvingerhandjie kom rus op my skouer en ek krap die ratte wanneer ek verwissel. Micki hurk op die vloer en weerskante van haar is Joachim en Dennis se bene. Hulle kan bo by die toring uitkyk. Ek het die klein klapgleuf voor my, maar Micki het geen venster tot haar beskikking nie en leun vorentoe om by my gleuf uit te kyk.

Ons ry noord en draai dan oos in die harde, koue voertuig wat skommel en dreun. In die ou Adderleystraat draai ons links en aan ons regterkant, nie ver nie, is daar die oranje gloed van brande en bo die gedreun van die enjin hoor ek die tromslae van geweervuur.

“Dennis,” sê Joachim iewers bo my in die wind, “is jy op EPS se net?”

“Ek is.”

Ek vermoed dat hy een van sy radio’s aan Joachim oorhandig het.

“Die roepsein by die padversperring?” vra hy.

“5 Alfa Bravo.”

“5 Alfa Bravo! 5 Alfa Bravo!” hoor ek vir Joachim in Engels oor die radio roep. “Dit is 1 Golf 9, 1 Golf 9, ek nader julle in rooi pantservoertuig , EPS-kleure van die suide af. Verwagte tyd van aankoms is vyf mikes, ek herhaal, vyf mikes, twee voertuie in echelon.

“Ek vra ongehinderde deurgang. Ek het ʼn vrag ontstekers en is dringend onderweg na Delta Victor 1, Delta Victor 1. My magtiging is Delta Romeo, Delta Romeo. Versoek dat jy bevestig met Delta Romeo.”

“Delta Romeo?” roep ek oor my skouer.

“Derek Regent,” antwoord Joachim uitgelate. “Die groot kraai self.”

Sy waagstuk slaan my asem weg. Enige iemand wat uitgevang word dat hy die enigmatiese eienaar van Executive Protection Services se naam ydellik gebruik, is in meer moeilikheid as wat enige mens kan verwerk.

“Hoe weet jy hulle gaan dit nie opvolg nie?”

“Geen manier hoe ek kan weet nie. Ek maak staat daarop dat by die padblokkade hulle te geïntimideer sal wees om hom nou te pla.”

“Hoe ken jy hulle roepseine en prosedures?”

“Dennis,” sê Joachim. “Hy monitor hulle al vir weke. Hy het ʼn hele databasis van roepseine en hulle gebruikers opgestel.”

“Gaan dit werk?”

“Ons gaan enige oomblik uitvind, gaan ons nie?

“Jood?”

“Ja?”

“As jy by die padblokkade kom…”

“Ja?”

“Moenie rem nie. As hulle wys jy moet stop, gaan net vinniger. Kies die punt van minste weerstand.

“En as jy daar kom – gaan reguit deur dit.”

Ons ry met ʼn veteraanvoertuig deur die strate van die sterwende stad en iewers voor my is senuweeagtige manne met verwoestende wapens en vingers wat span om die snellers.

(Lees vervolgens episode 10 van Bodem boek II.)

Bodem boek II, 8: Die kar

bodemII‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Bodem I is reeds volledig.

Lees eers Bodem boek II, 7.

Die Westerse mens is geprogrammeer om oplossings te bedink die oomblik wat hy homself in ʼn krisis bevind. Hoe hewiger die situasie, hoe korter die tyd waarop hy vir oorlewing fokus. In die Ou Dae, toe almal nog gedink het sulke dinge was belangrik, het mense ʼn verhoging in motorpaaiemente, byvoorbeeld, as ʼn krisis beskou. Natuurlik was dit nooit ʼn saak van lewe of dood nie, en begrotings is herrangskik om die probleem oor ʼn tydperk van, sê nou maar, sestig maande op te los. Oorlewing het ʼn vyfjaarprojek geword.

Foeter ʼn groepie voortvlugtendes in die donker op, steek ʼn atletiekspies in een se been, skyn ʼn flits in hulle oë en rig ʼn haelgeweer op hulle, en dit word as ʼn intense bestaanskrisis beskou. Vir hulle is oorlewing nie meer iets wat oor jare plaasvind nie, maar oor sekondes, ʼn halfuur op die meeste.

Daar was hulle, hierdie verweerde groepie vlugtende motorfietsers, verslaan en verslae, en duidelik was al wat hulle uit die greep van Voorsienigheid of Noodlot kon smeek, is om net nog ʼn halfuur, ʼn uur op die meeste, te oorleef. Hulle was bereid om te smeek daaroor, al sou dit vernederend wees. Selfrespek is belangrik oor die lang duur en weeg darem niks in vergelyking met oorlewing wat ʼn prestasie oor die volgende paar sekondes vereis nie.

Meneer Dik Ylbaard verwag duidelik die ergste en probeer dit afweer deur te pleit: “Pel, luister, luister, asseblief. Ons is nie diewe nie, ons is nie sleg nie, ons is net ouens, gewone ouens, wat net probeer om te bly leef. Ons kos is op, ons geld beteken niks, ons is desperaat, desperaat, desperaat.

“Ek het ʼn vrou en kinders wat wag dat ek terugkom. Elkeen van ons het familie, het vriende. As ons nie teruggaan nie…”

Hy byt sy onderlip vas en dié begin bewe.

“Ek verstaan,” sê Joachim. “Ek verstaan. Ek weet hoe dit is. Natuurlik weet ek. Ons trap self water, so al wat ons kan, net om hierdie ellendige nag te oorleef.”

“Ja!” sê Ylbaard, bemoedig deur die begrip in Joachim.

“Maar julle hét ons aangeval,” sê Joachim en prik daarmee die ballon van hoop wat in Ylbaard uitgesit het. “En dit nadat ek redelik was met jou en jou elke kans gegee het om ons te los om ons gang te gaan.”

“Ja,” erken Ylbaard bedremmeld. “Maar ons kon nie weet dat julle… dat julle ordentlik is nie!”

“Ordentlik!” Joachim grinnik. “Is jy ernstig? Kan ek dit op skrif kry? Ordentlik!”

“Ek bedoel, ek bedoel net… Luister net pel… pel!”

“Wat wil jy hê moet ek met julle doen?”

“Laat ons gaan! Laat ons net hier uitloop. Ons is weg! Net ʼn minuut en julle sien ons nie weer nie!”

“Of julle draai om en bekruip ons weer.”

“Nee! Nee, nooit! Ek belowe. Ek be-LOOO-we! Ons vat pad. Jy sal ons nooit weer sien nie, nooit, nooit, nooit!”

“Pel, pel, pel! Jy moet mooi dink, mooi dink! Ons is nie honde nie! Jy kan ons nie net skiet soos honde nie!”

“Ek is nogal nie die soort wat honde skiet nie. Mense wat my sonder rede aanval…”

“Pel hoe moet ek vir jou nog sê ons is jammer? Ons is, ons is, ons ís!”

“Goed!” sê Joachim, nou weer streng. “Hier is wat ons gaan doen. Ons gaan julle toesluit, in julle garage.”

“Jy kan ons nie hier los nie!”

“Jy het geen idee wat ek kan of nie kan doen nie! Moet jy nie vir my voorskryf wat ek kan of nie kan  nie of sal of nie sal nie.

“Ons gaan julle toesluit. Julle het genoeg gereedskap daar om uit te breek as ons eers… ons besigheid gedoen en weg is. As julle… as julle begin om aan die deur te hamer of met iets te slaan of enige geluide maak voor ons weg is, ek sweer ou maat, dan maak Jood hier die deur oop en ek skiet elkeen, elke liewe een van julle, voor die voet, gesinne of nie gesinne nie.

“Dis hoe dit gaan werk. Verstaan jy?”

Om toegesluit te wees in ʼn motorhuis terwyl moord en brandstigting op pad is, is niemand se idee van ʼn ideale situasie nie, maar sowaar, dit klop die alternatief soos vervat in die dubbellope van Joachim se Lupara.

ʼn Minuut later staan Joachim, Micki en Dennis – met die aluminiumtas onder sy arm – en kyk hoe ek die roldeuraftrek en met ʼn stuk bloudraad deur ʼn gat in die metaalgeut waarin dit afgly en ʼn gat in die deur self grendel.

“Nou wat nou?” vra ek vir Joachim toe ek regop kom.

Hy skyn met die flits op die geslote motorhuis aan ons linkerkant. Ek bekyk hierdie roldeur, stap na dit en pluk aan die horisontale plaat wat as handvatsel dien. Die hele gee vertikaal effens skiet, maar haak dan onbeweegbaar vas.

“Jy kon gesê het dat ek ʼn koevoet of iets gekry het om die deur mee oop te breek,” mor ek.

Ek plant my voete wyd, gryp die handvatsel, byt op my tande en begin boontoe beur.

“Errmm, Jood,” sê Joachim. “kom ons gebruik maar die sleutel.”

Hy steek sy hand in sy broeksak en haal ʼn kettingkie uit en hou dit voor hom. ʼn Klein, blink sleutel hang daaraan. Ek gryp dit effe vererg uit sy hand, wikkel dit in die slot, draai dit en hoor hoe die sluitstawe wegskuif en trek die deur oop. Ek weet nie wat ek verwag het nie, maar dit was nie wat voor my is nie:

In die lig van Joachim se flits staan ʼn hoë voertuig snoet vorentoe, duidelik ʼn veteraan uit vervloë dae, met ʼn kantige bakwerk, die ene hoeke en plat vlakke en, van alle dinge, ʼn kort kanon en ʼn masjiengeweer in ʼn lae toring bo die romp. Dit is ʼn oudtydse pantserkar en omdat dit meer as twee meter hoog is, lyk dit smal op die groot wiele. Die hele voertuig is tamatiesousrooi geverf, die kleur van EPS se rygoed.

Ek weet dadelik waarna ek kyk.

“A,” sê ek. “Die MOTHS se Marmon-Herrington.”

'n Merk IV, soortgelyk aan dié wat in die verhaal beskryf word
‘n Merk IV, soortgelyk aan dié wat in die verhaal beskryf word

“Eintlik, “ sê Joachim, “is ‘Marmon-Herrington’ ʼn foutiewe benaming. Dit regte beskrywing is: ‘South African Recognaissance Vehicle Mark IV.’ Ons praat sommer van ʼn Merk Vier.

“Dit is in Suid-Afrika ontwerp vir gebruik in die woestyn in Noord-Afrika tydens die Tweede Wêreldoorlog.”

“Ry dit?”

“Dit beter. Anders is ons kendiep in die onwelriekende.”

“So jy het dit nie verkoop vir skroot nie?”

“Is dit wat hulle by die MOTHS sê?”

“Dis een van die teorieë, hoor ek.”

“Nee, ek het dit nogal nie verkoop nie. Ek het dit laat restoureer, soos ek belowe het.”

“Maar jy het dit nie teruggevat MOTHS toe nie.”

“Dink net hoe spyt sou ons gewees het as ek het.

“Kom help my.”

Die res van die motorhuis lyk baie soos die een langsaan, met werksbanke, rakke en kabinette. Joachim kry ʼn paraffienlamp uit een van die kabinette en steek dit op en hang dit hoog aan ʼn spyker teen die muur.

“Dink jy jy sal dit bestuur kry?” vra hy vir my.

“Gaan jy nie?” vra ek.

“My plek is in die toring,” sê hy.

“Ek sal seker regkom,” sê ek.

Ek het die laaste dekade op vreemde plekke uitgespoel op soek na ʼn minder konvensionele lewe. As ek ʼn kruiptrekker hoog in Ecuador se berge kon opereer, kan ek seker ʼn pantserkar onder die knie kry.

“Die tenk is vol petrol,” sê Joachim.

“Petrol?”

“Ek het daaraan gedink om ʼn diesel te laat inbou,” sê hy. “Maar daar is niks eintlik fout met die motor nie. Dit is, as jy moet weet, ʼn 95-perdekrag Ford V8-enjin.”

“95 perdekrag?” vra ek skepties.

“Dis sterk genoeg,” sê Joachim. “Dit gee vir ons ʼn topspoed van so 80 kilometer per uur. Dis genoeg, glo my, oorgenoeg as jy eers die onderstel beleef het.”

“4 x 4?”

“Dit is! Kyk, wat dit eintlik is, is ʼn Ford-3-ton-trokonderstel met ʼn pantserbakwerk op. Die eerste modelle se enjin was voor, maar dit het dit kwesbaar gemaak. Eintlik wat hulle met die Merk Vier gedoen het, was om die bakwerk en die kroonrat om te draai. Dit beteken die voertuig ry eintlik agteruit. Daarom, wanneer dit in 4 x 2 is, trek dit met die voorwiele.

“Goed, kom ons klim.”

“Waar? Ek sien nie deure nie.”

Joachim trek ʼn plaat langs die bestuursposisie voor aan die voertuig plat.

“Kan jy hier inklim?” vra hy. “Dit is eintlik ʼn venster, maar dit sal handig wees as jy daardeur kan inklim. Anders moet jy agter op die voertuig en deur die toring inklim.”

Ek meet die venster so met die oog. Dis nie baie groot nie en ek het ʼn swaargewigstoeier se skouers en borskas.

“As ek moet,” sê ek, “sal ek.”

“Jy moet.”

Ek trap op die voorwiel en klim op die stewige modderskerm.

“Jy het nie dalk ammunisie nie?” vra ek en klop op die kanonloop. “Wat is die kaliber buitendien?”

“37 millimeter. Nee, ek het nie ammunisie soos ek en jy ammunisie verstaan nie.”

Die masjiengeweerloop langs die kanon is in ʼn geperforeerde verkoelingshuls.

“Vickers?” vra ek.

“Ek wens. Browning 7,62.”

“Sonder ammunisie.”

“Sonder ammunisie,” beaam Joachim. Hy dink vir ʼn oomblik, skud sy kop. “Geen ammunisie.”

Ek steek eers my linkerbeen en dan my regterbeen in die voertuig, sit op die vensterbank, gryp die bokant van die voertuigdak vas en wurm in tot op die harderubbersitplek met die lae rugleuning. Voor my is ʼn outydse, groot, bakelietstuurwiel. Die kontroles lyk darem of hulle almal op die regte plek sit.

Bo agter my is twee sitplekke, een bedoel vir ʼn kanonnier en die ander vir ʼn toringbevelvoerder.

Joachim jaag vir Dennis en Micki aan en ʼn rukkie later daal hulle van bo af in die voertuig in. Joachim sit links agter my en Dennis met sy aluminiumtas regs van my. Micki moet haarself reg agter my kleinmaak. Joachim het die paraffienlamp by hom en dit kaats ʼn dowwe lig in die kajuit.

Ek kyk vorentoe. Die bestuurdervenster is ʼn lae, horisontale gleuf in die pantserstaal met ʼn kappie wat soos ʼn kepsdakkie bo dit staan. Die uitsig is beperk. ʼn Bestuurder wat sonder iemand in die toring  moet regkom, sal maar sukkel.

“Dennis,” sê Joachim. “Die pyp wat van die gasbottel af kom, dit draai aan jou kant van die masjiengeweer in.”

Ek wring my lyf om sodat ek kan sien waarvan hy praat.

ʼn Moderne, langwerpige gassilinder is teen die binnekant van die toring aangebring. Dennis vroetel met ʼn dun plastiekgaspyp wat daaruit loop. Ek kyk om en sien hoe Joachim ʼn soortgelyke pyp aan sy kant bo teen die ontvanger van die kanon koppel.

“Joune in?” vra Joachim vir Dennis.

“Dit is,” sê hy.

“Dit help nie jy trek die sneller nie,” sê Joachim. “Daar is ʼn knop net bo die handgreep. Jy druk dit met jou duim in.”

“Goed.”

“Druk dit. Net om te toets.”

“Goed.”

“Druk dit.”

ʼn Reeks knalle hamer bo my.

“Moer!” skree ek. “Ek dog jy sê geen ammunisie nie.”

“Ek het nie gelieg nie,” sê Joachim. “Ek het vriende by ʼn rolprentrekwisietemaatskappy. Hulle het die wapens ombou. Dis eenvoudig. As jy die knop druk, spuit dit ontvlambare gas in die loop en ontsteek dit met ʼn piezo-elektriese aansteker, soortgelyk aan die ding wat ʼn gasstoof se plate met die druk van ʼn knoppie aansteek.”

“En die kanon?”

In antwoord blaf die loop bo my, heelwat harder as die masjiengeweer, en ʼn vlam lek die naglug.

“Alles net vir effek,” sê Joachim. “Spesiale effek.”

“Sal dit genoeg wees?” vra ek.

“Ons gaan uitvind, gaan ons nie.

“Jood?”

“Hmm?”

“As ons eers ry, jy het nie baie spoed nie, maar die ding weeg ses ton en die staal is 12 millimeter pantser. As dit nodig is om iets te stamp, moenie huiwer nie. Ry dwarsdeur en bo-oor.”

“Ek het dit.”

“Nou goed, die knop voor jou, by jou regterhand, druk dit in.”

Ek druk die ronde rubberproppie voor my en agter my hyg ʼn knormoer en ʼn enjin kug, kug weer, klap en vat dan in ʼn bevredigende basgedreun.

“Drywer!” sê Hans-Joachim Marseilles Bekker, “voorwaarts!”

Ek los die koppelaar en die voertuig waggel vorentoe.

(Lees vervolgens Bodem boek II, 9.)