Bodem boek II, 10: Die Walpürgisnacht

Deel op

bodemII‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Bodem I is reeds volledig.

Lees eers Bodem boek II, 9.

Tarara-RAM!—tarara-RAM!—-tarara-RA!-ra-ra-RAMM!

Tarara-RAM!—tarara-RAM!—-tarara-RA!-ra-ra-RAMM!

Die tema van La Forza del Destino se ouverture wat Joachim neurie, weergalm in my binnekant.

Tarara-RAM!—tarara-RAM!—-tarara-RA!-ra-ra-RAMM!

Die Merk Vier skommel, rammel en klingel soos ʼn slagorkes op wiele met die enjingedreun ʼn ruwe baslaag van oopkeelklanke. My regtervoet pers die versnellerpedaal ondertoe en ons gaan teen terminale spoed met ou Adderleystraat af. Die kar se topsnelheid word as 50 myl per uur aangegee, ʼn bedeesde 80 kilometer per uur, maar op die oomblik voel dit of ons 180 op ʼn oorlaaide winkeltrollie doen. Ek sou verkies het om stadiger te ry, maar Joachim het met al die hovaardigheid van ʼn baron aan ʼn koetsier vir my beveel om “vinniger, vinniger en nogmaals vinniger” te gaan.

“Hou op ou omie op pad na Morris Minor-konvensie dink, my seun! Dink Lauda en Nürburgring, dink…”

Op welke oomblik Dennis vir hom iets sê wat ek nie kan hoor nie.

“My kanonnier het my daarop gewys dat Nicki Lauda in ʼn verwoestende botsing op die Nürburgring se Nordschleife was in 1976 en grusaam verbrand het. Verban die gedagte, Seun, verban dit! Dink positief! Dink oorwinning! Dink Senna en Spa, dink Fangio en Monte Carlo, dink Stirling Moss en Silverstone! Dink Schumacher maar moenie Schumacher en Alpe dink nie!

“Hie-HAAA!

“Tarara-RAM!—tarara-RAM!—-tarara-RA!-ra-ra-RAMM!”

Teen 80 kilometer per uur is die Merk Vier nie meer ʼn handvol nie; dis ʼn bondel raaisels wat die koördinasie van ʼn helikoptervlieënier en die onbesonnenheid van ʼn basisspringer vereis net om in die algemene koers van vorentoe te gaan.

Tarara-RAM!—tarara-RAM!—-tarara-RA!-ra-ra-RAMM!

Joachim se entoesiasme het my oorrompel. As dit my pakkie met linte om van die Noodlot is om met die Merk Vier in die baai te land, laat dit so wees! Ek doen dit met Verdi op die lippe!

Tarara-RAM!—tarara-RAM!—-tarara-RA!-ra-ra-RAMM!

Daar is ʼn surreële oomblik asof ek myself skielik in ʼn rolprent bevind, in ʼn geykte uittreksel waar die protagonis ʼn deuntjie fluit en die klankbaanorkes in volle monochromatiese glorie by hom inval. Ek kon sweer ek hoor ʼn groot orkes uit volle instrumentale bors en dan besef ek, nog meer geskok, dat dit ʼn orkes, ʼn regte, egte orkes is wat ek hoor.

Die spesiale effekte wat Joachim se rolprentbedryfkontakte aan die Merk Vier aangebring het, is duidelik nie tot die loskruitknalle van kanon en masjiengeweer beperk nie. Eers later sou ek die geleentheid hê om die groot luidsprekers wat in die toring ingebou is en klank projekteer na buite deur ronde patrone gate wat in die staal geboor is. Dit het die primêre funksie van ʼn openbare aankondigingstelsel.

Dat dit ook opvoedkundige waarde het, dít is Joachim se idee.

Tarara-RAM!—tarara-RAM!—-tarara-RA!-ra-ra-RAMM!

Georg Solti op volle vaart teen genoeg desibels om ʼn straalvegterenjin uit te doof.

Waggel, skommel, skud, ratel en raas. Om die Merk Vier in ʼn reguit lyn te hou, is soos om ʼn trop katte aan te jaag. Dit is nie dat die voertuig nie in dieselfde sin as “aërodinamies” genoem kan word nie – dit hoort nie in dieselfde hoofstuk nie. Dit kloof nie die lug nie, dit kneus dit. Veral as Joachim sonder waarskuwing die toring draai, iets wat hy sporadies en met groot uitbundigheid doen.

“Ennnn… ons gooi hom oor die boeg aan die windafkant!”

Die Merk Vier wissel twee bane na die bakboordkant voor ek die nodige korreksie met die stuurwiel kan maak.

“Ahoi! SAS Volkswagen!” bulder Joachim in ʼn mikrofoon en die groot luidsprekers kaats die klank oor die Volla agter ons.

“Ons nader ʼn padblokkade!” eggo Joachim se stem. “Moontlik gaan hulle nie tevrede wees as ons daardeur gaan nie. Dit kan wees as hulle op ons skiet. Moenie oor ons bekommerd wees nie. Ons vel is dik. Julle vel is dun. Daarom, met die eerste geleentheid anderkant die padblokkade, versnel en steek ons verby en hou julle spoed só dat ons kan byhou. Vrees nie, liewe maatjies, vir julle sal ons ʼn skans wees!”

Die kar waggel weer wanneer hy die toring terugdraai, maar ek het dit dié keer verwag en kompenseer netjies daarvoor. Het Micki die knap stukkie pantserkarloodsing gesnap en skat sy dit behoorlik na waarde?

Tarara-RAM!—tarara-RAM!—-tarara-RA!-ra-ra-RAMM!

Ons dawerjaag tussen hoë geboue wat soos kranse op ons neerfrons deur, in die duister kol aan die einde van die dubbelpad, steier regs en dan skommelhink ons na links op die ou N1, maar nie ver nie. Voor ons is ʼn volgroeide militêre wagpos met sandsakke, doringdraad,  skelwit ligte op hoë pale, ʼn knewelrige kragopwekker op ʼn sleepwa en agter dit alles ʼn paar voertuie in lukrake rangskikking en nege tente drie-by-drie opgeslaan.

Siviele voertuie staan snoet-teen-stert in die regterbaan, rygoed van uitgewekenes, opgestapel met bagasie. Ek het ʼn indruk so blywend dis asof dit op selluloïed in my skedel ontwikkel is van ʼn peperduur, eksklusiewe 850 BMW afslaandakkoepee met ʼn matras op die dak met dun skitou wat om dit en by die vensters in en om vasgespan is en bo-op dit is tasse, sakke, komberse en selfs ʼn yskas.

Mense staan rond buite die voertuie, geagiteer en senuweeagtig, opvlieënd en desperaat. Troepe op patrollie hou die linkerbaan skoon, ontruim vir die gebruik van EPS se rooi voertuie… en ʼn 1943 South African Reconaissance Vehicle Mark IV met ʼn fopkanon voor en ʼn fopbrigadier in die toring en ʼn stoeier agter die wiel. En, reg agter dit, ʼn gestroopte Volkswagen-kewer vol ietwat gebruikte motorfietsers.

Tarara-RAM!—tarara-RAM!—-tarara-RRR..!

Die ouverture stop kortaf en word vervang met… ʼn soettanniestem wat sing hoe baie sy hou van reëndruppels op rose en snorbaarde op katte en helder koperketels en warm wolmoffiehandskoene. (Goed, ek het dit voorheen al iewers gehoor en weet nou dat dit Maria se slamppamperliedjie uit “The Sound of Music” is.)

Of Joachim se radio-oproep gewerk het, is nie seker nie; die valpaalhek het nie oopgegaan nie, maar niemand het op ons geskiet nie. Die troepe by die hek gaap ons aan en een begin dit lig totdat iemand op hom skree en hy dit senuweeagtig laat val. Miskien as ons stilhou, kan Joachim ons weg deur bluf en onderhandel, maar dan staan ons en ons is in hulle mag, en een van die Maarskalk se beginsels is om nooit staat te maak op die inskiklikheid van jou opponent nie.

“Schumacherrrrr!” juig Joachim in die toring en hy skop my met sy blink reënmodderbespatte skoene teen die agterkop.

Nou ja, dit is sý kar. Ek is redelik seker dat die paal ons in ons spore gaan stop. En dit sou, as ons iets so tengerig soos ʼn Ford-bakkie met ʼn stampstellasie vooraan bestuur het. Maar ʼn Ford weeg nie 6,4 ton sonder ʼn fopbrigadier in die toring nie en ʼn Ford se bakwerk is nie gemaak van 12-mm pantserstaal nie. Ons buig daardie rooi-en-wit paal soos ek vroeër die aand ʼn aluminiumspies om ʼn rampokker se nek gebuig het en ons is deur, dwarsdeur, dawerend begelei deur die tannie wat sing van roomkleurige ponies en bros appelterte.

Sekuriteitswagte spaander weg voor die slingerstormende Merk Vier. Een arme dapper drommel steek wel botweg in ons pad vas en in ʼn onbesonne filantropiese oomblik besluit ek om hom nie in die teeroppervlakte in te smeer nie. Ek hang aan die stuurwiel na reg en die Merk Vier hel oor na stuurboord en ek moet sagkens stoei om dit weer op kiel te kry want die stuurwiel het genoeg speling om ʼn drywer se insette vir ʼn volle kwartrotasie irrelevant te maak. Die blok tente duik voor ons op en ek het net nie genoeg selfvertroue om weer woes aan die stuurwiel te trek nie en ons is deur een!, twee!, drie! tente en bokspringend oor wat – of wie – ook al daarin was.

“Ek het dit geweet! Ek het dit geweet!” jubel Joachim. “Niemand skiet op ʼn oudtydse kar en Julie Andrews nie!”

Wel, nie onmiddellik nie. Nie totdat hulle tot verhaal gekom het nie.

Die Volkswagen kom vol wippende gereedskap en wapperende motorfietse by ons verby, en dit teen bekwame spoed. Net daarna tref ʼn swerm klein maar baie harde en baie vinnige voorwerpe die agterkant van die Merk Vier.

Joachim en Dennis stort van hulle staande posisies in die toring af tot op hulle sitplekke in die Merk Vier.

“Hulle skiet op ons!” skater Joachim. “Hulle skiet op ons!”

Ek persoonlik vang nie die grap nie, Micki gee staccato gilletjies en Dennis maak verbysterde “hmmfff!”-“hmmfff!”-geluide.

Voor ons trek die Volkswagen se rooi remligte klein in die verte.

ʼn Oomblik later is Joachim weer in die toring.

“Waar gaan hulle heen?” vra hy. “Ek het gesê hulle moet teenaan ons bly.”

Dit kom daarvan as jy nie ʼn motorfietser se geswore eed op skrif kry nie.

En die tannie sing van meisies in wit rokkies met blou satynserpies en nog ander goed waaraan sy dink wanneer die hond haar byt of die by haar steek.

By die Paardeneiland-afrit hel ons oor na links en vind ons steierende pad na Milnerton-weg waar ʼn waansinnige toneel op ons wag. Van Rugby en Berea af, is daar ʼn straatpartytjie voor die ou verslete vis-en-gatsbywinkels, drankstore, pandjieswinkels, dobbelkafees en sekswinkels; ʼn uitspattige, rondmalende roesemoes van dronk, guitige mense in ʼn frenetiese laaste dans om konkas hoogbrandende vure en motorwrakke. Groepies drink en strompel koersloos, paartjies bots hulle lywe teen mekaar, bendes mans en vrouens, wit en kleurling, dans spasties los van mekaar en kweperlatkannetjies sit en snuif gom en rook boom op die sypaadjies terwyl manne, opgestoom met adrenalien en testosteroon woes en onakkuraat na mekaar slaan met vuis en steek met gebreekte bottels en hier en daar lê liggame, dronk of dood soms teenaan paartjies wat kopuleer, freneties en onbeskroomd.

Hier het die remme van beskawing losgespring en daar is ʼn vleeslike, vervallende losbandigheid in die atmosfeer; rotte wat mekaar baklei en vry voor die skip sink; ʼn gemeenskaplike offerfees aan Mefistofeles, ʼn Walpürgisnacht vir mense wat hand met die duiwel geskud het op die laaste dag van hulle aarde.

Ons is vir hulle vars vlees, ongenooi en net welkom om verteer te word. Daar is nie aanduiding dat hulle voor ons gaan wyk nie; bolippe trek van tande weg, vuiste skud in die hoofligte van die Merk Vier en gooi bottels na ons.

Die tannie hou op sing van deurklokkies en sleeklingels en ganse met die maan op hulle vlerke. Haar paaiende stem word vervang deur ʼn skreiende alarm en na ʼn paar gille daarvan deur orkesakkoorde wat heen-en-weer, op-en-afsaag in ʼn bloedstollende melodie wat bekend is aan alle oorlogfliekkenners: Die helikoptertema uit Coppola se “Apocalypse Now.” Rit van die Wälkure. Wagner!

“Ek lief die reuk van napalm in die oggend!” skree Joachim wat nou weer by die toring uitstaan oor die luidspreker.

Hy skop my teen die agterkop.

“Trap Jood! Stormspoed vooorenTOE!”

Ek kners op my tande, trek my oë op skrefies en greep die stuurwiel witkneukelend vas. Die versnellerpedaal word deur my regtervoet gebêre en die Merk Vier ploeg vorentoe.

“Nogmaals in die bres, liewe vriende!” hef Joachim uitgelate, dramaties. “Nogmaals!

“Of stop die muur toe met ons Boeredood!

“Want as die knal van oorlog in ons ore blaas!

“Maak dan soos die tier!

“Verstyf die sening, roep op die bloed!

“Vermom innemendheid met hardgebakte briesendheid!

“Want hy wat sy bloed stort met my hierdie nag!

“Is my broer!

“Van hierdie dag tot die voleinding van die wêreld!

“Sal ons onthou word,

“Ons weiniges, ons gelukkige paar!

“Ons bende broers!”

Waar hy daaraan kom, weet ek nie, maar hy hou dit vol en nou bars magtige knalle uit die kanon en masjiengeweer los, dié keer met donderende volume want dit is oor die klankversterker verhewig.

Hulle val nou voor ons weg, woedend en wraaklustig.

Ek tref ʼn vuurkonka en die vonke spat skroeiend deur die naglug. Kooltjies trek by my oop uitsiggleuf in en ek swets wanneer hulle my in die gesig steek.

Dis asof ons in ʼn kranksinnige reguit doolhof is en die straatblokke net nooit ophou nie.

“Oë links!” skree Joachim. “Saluut! Salueer!”

Ons gaan by die Merk Vier se voormalige tuiste van vyftig jaar verby: Die MOTH-klub, waar ʼn ou twintigponder en ʼn lugafweerkanon nog waghou.

Maar die liggame, die liggame, die liggame… die dansende, fornikerende, onstuimige, benewelde, selfmoordgierige liggame voor en links en regs en agter ons. Ek tref nie baie nie, maar ek ry  nie almal mis nie. Moedeloosheid word matige paniek in my. ʼn Vrees groei soos mosslierte aan my binnekant dat hulle net naderhand nie meer gaan padgee nie en die weerstand gaan net opbou en fermer word totdat die huid en borsbeen en ingewande so dig gaan word dat die kar langsamer sal vorder, al hoe meer traag, stadig, totdat dit hulpeloos gaan vasval teen walle van wandelende lyke en dan gaan hulle teen die wande van die Merk Vier opsypel en in en hulle gaan ons beetkry en verdeel, in stukke; pluk, skeur, hap, trek…

En dan word die wegvallende see van mense yler na die buiterimpels van die gefuif toe en leeftye later breek ons deur na waar mense verdwaas in skraal groepies drentel.

Ons pyl noord, uiteindelik oor Table View-weg in die rigting van die renbaan en dan daar verby met die nywerheidspark aan ons regterkant.

Dan is die musiek stil en die  kunsknalle van die kanon en masjiengeweer hou op.

Dis skokkend stil al suis die wind deur die uitkykpoort en om die wa en al dreun die V8-enjin.

My asem word minder diep en meer egalig. Ek kom agter dat ek op my tande kners en dwing myself om my onderste kake te laat ontspan. Agter my hoor ek vir Micki saggies huil.

Wanneer Joachim praat, is selfs hy bedees.

“Jood!” sê hy. “Stop!”

Ek trap die rem en die koppelaar in en werk die ratte af en knars elkeen van hulle selfs al konsentreer ek op die dubbelontkoppeling met die linkerste pedaal.

Die Merk Vier kom tot roerloosheid. Die enjin luier.

“Stoot terug,” sê hy.

Ek vind trurat en die pad voor my word ver.

“Draai regs,” sê hy. “Regs, regs, regs, rehhhgs…”

Die stertkant van die Merk Vier stoot dwarsoor die pad.

“Stop!”

Die hoofligte van die pantserkar val op ʼn groot terrein met hoë gietbetonmure. Reg voor ons is ʼn dubbelhek van swaar staal en agter dit is ʼn kantoorgebou. Bo dit is ʼn ontsaglike groot boogvormige naambord.

Ek lees daarop: “Citadel Safe Storage,” en weet ons het opgedaag.

(Lees vervolgens Bodem boek II, 11.)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.