Bodem boek II, 9: Die uittog

Deel op

bodemII‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Bodem I is reeds volledig.

Lees eers Bodem boek II, 8.

Die Suid-Afrikaanse Verkenningsvoertuig Merk IV het met onderskeiding in Noord-Afrika gedien waar dit hoofsaaklik deur Suid-Afrikaanse plaasseuns aangewend is, en hierdie willewragtags het geweet hoe om die meeste uit die eienaardige regop kar te haal.  Geen duin was te hoog of sand te diep of oppervlakte te gebroke vir hulle nie. Later, in Sisilië en Italië, is die voertuig in logge kolomme gekniehalter en het dit ʼn onverdiende swak reputasie gekry. Na die oorlog is dit in ʼn verbasende groot verskeidenheid lande se weermagte opgeneem. Die Rhodesiese weermag het hulle sʼn in 1972 laat aftree terwyl die Sipriese Nasionale Wag dit so laat soos 1974 teen die Turke ingespan het. Glubb Pasha se Arabiese Legioen is daarmee in Transjordanië toegerus.

In hierdie karre is ʼn reeks tale gehoor, van Afrikaans en Engels tot Italiaans en Japannees. Tog dink ek daar was nooit ʼn meer onvanpaste bemanning vir ʼn Merk Vier as ʼn nomadiese stoei-afrigter, ʼn popmooimeisietjie, ʼn mislukte akteur en ʼn maer man met ʼn aluminiumtas vol radio’s nie. Die bestuurder – in weermag-Afrikaans altyd ʼn “drywer”- het gou ʼn paar dinge agtergekom: Die ratkas het nie sinchroniese ratte nie, die koppelaar is verbasend sag om in te trap en jy het arms soos Popeye na ʼn blikkie spinasie nodig om die stuurwiel te draai wanneer die voertuig stadig beweeg.

Al hierdie dinge het ek geleer binne die eerste ses meter van die eerste been van ons eerste rit met die Merk Vier. Ses meter, want dit is hoe ver ons gery het. Ek het die voertuig vorentoe laat rol tot ek redelik seker was die lyf se volle 5,51 meter was uit die motorhuis, toe hang ek behoorlik aan die stuurwiel na links. Skaars het ek die wending gemaak of Joachim sê ek moet stop. Hy wen die een slingerwiel bo my teenkloksgewys en die toring swaai links.

Hy staan regop in die toring en met ʼn ietwat pynlike gesukkel hys homself uit die voertuig, gaan sit op die romp en skuif af tot sy voete grond voor die motorfietsers se stoorplek vat. Ek druk die vensterplaat aan my linkerkant af om te sien wat hy doen. Met die kort haelgeweer in sy linkerhand loop hy tot teen die roldeur en raps met die dubbellope daarteen.

“Julle daarbinne!” sê hy. “Goed. Ek het ʼn aanbod vir julle. Kan julle my hoor?”

Agter my luier die V8 lomerig en ek kan nie hulle antwoord uitmaak nie.

“Ek gaan die deur nou oopmaak,” sê hy. “As julle iets probeer, en ek bedoel, as een van julle skielik beweeg, is dit die St. Valentynsdagslagting van vooraf. As jy nie weet wat dit beteken nie, dit beteken ek gaan jou skiet. Ek waarsku julle.  Ons het nou baie meer as ʼn haelgeweer by ons. Voor julle iets doen, kyk eers buitekant toe. Dan besluit julle.

“Goed?

“Goed. Ek maak nou die deur oop.”

Ietwat onhandig haak hy die bloudraadgrendel wat ek geprakseer het los, buk en trek die roldeur oop. Hy staan onmiddellik terug en skyn in die motorhuis in met sy flits. Ses verrinneweerde en gekrenkte motorfietsers kyk terug.

“Menere,” sê Joachim, “ek gaan vir julle iets gee wat julle nie verdien nie: ʼn Kans. Julle kan hier bly en hier sal hulle julle kom haal en uitwis. Julle kan die nag in vlug op julle eie. Of julle kan saam met ons kom.”

“Is daar plek vir ons?” vra Ylbaard.

“In die Merk Vier? Dis ʼn gepantserde verkenningsvoertuig, nie ʼn gepantserde troepedraer nie. Kort antwoord: Nee.”

“Nou hoedemoer moet ons bybly? Op ons voete?”

“Ek het gedink daarmee, die Volkswagen.”

“Ons weet nie eers of hy loop nie.”

“Hy loop. Ek was vir weke elke dag hier om na my pantserkar te kom kyk en die persone wat die Volkswagen herbou het se projek was op datum en klaar.”

“Orraait! Woes! Ja, ek bedoel, já!

“Sparkie!” roep hy na ʼn skraal lid met ʼn oorhanggebit en ghrieserige swart hare. “Gooi, pappa, gooi! Swaai die motor en kyk of hy skop.”

Sparkie werp homself agter die stuurwiel in en tas vir ʼn aansitter.

“Fokkol sleutel!” sê hy bitter.

“Wat maak ons nou?” vra Ylbaard vir Joachim.

“Ingesout in die semi-onderwêreld soos julle is, kan ek nie sien dat julle moeite sal ondervind om die voertuig op ʼn meer informele manier aan die gang te kry nie.”

“Jy wil hê ons moet hom hot-wire?”

“Ek los die tegniese besonderhede vir julle. Maar wat julle ook al hoe ook al doen, doen dit baie gou. Die Negroïdiese Filistyne is op ons.”

“Wat van ons families?”

“Waar is hulle?”

“Table View.”

“Dan het ons nog bietjie tyd. Laat ons net eers wegkom, ʼn meer beheerbare vesting ontwikkel en dan kan julle hulle gaan haal.”

“Pel! Regtig pel?”

“Regtig. Daar is natuurlik voorwaardes.”

“Noem hulle pel, noem hulle!”

“Julle doen wat ek sê.”

“Geen probleem nie. Geen, geen probleem nie. Ek sweer!”

“As ons julle nodig het, onthou julle skuld my en ek kollekteer altyd.”

“Absoluut, abso-blerrie-luut!”

“En jy hou op om my ‘pel’ te noem.”

“Dit kan ek doen. Wat moet ek jou noem?”

“My naam is Joachim…” Huiwering. “Julle kan my ‘Brigadier’ noem.”

“Sweer! Jy ʼn brig, pel, ûhhh, Brigadier?”

Huiwering. Aansienlik korter dié slag.

“Ek is.”

“Blerrie nice!”

“Goed. So kry die ding aan die gang. En kry vir julle wapens. En dan, as ons ry, bly by. En ek bedoel, bly teenaan ons. Daar moet nooit meer as ʼn telefoongidsdikte tussen ons wees nie. As ons op die sypaadjie ry, ry julle op die sypaadjie. As ons oor ʼn spoorlyn ry, ry julle oor die spoorlyn. As ons by trappe afry, nou ja…”

“… dan ry ons by trappe af!”

“Ja.

“En kry vir julle wapens.”

“Wat ons waar kry?”

“Ek praat nie van vuurwapens nie. Kry slaangoed. Hamers. Spanners. Koevoet as hier een is. Grawe. Stokke. Steekgoed. Skroewedraaiers.

“Ou vriend?”

“Yes, yes?”

“Beweeg jou blerrie gat! Beweeg, beweeg, beweeg! Ons moet weg. Toe nou.”

Hoop is ʼn wonderlike lewenseliksir. Ruwe nagsluipers wat oomblikke tevore mismoedig tussen drie mure en ʼn geslote roldeur gesit het, is die volgende oomblikke vol doelgerigte energie. Terwyl Sparkie en Ylbaard begin om drade aan die stuurkolom te ontrafel, ruk drie ander kabinette en trommels oop en begin om gereedskap en implemente in die oop Kewer te gooi. Twee van hulle kom uit die hoek gewaggel met twee lang gasbottels, lugslurpe en gassweisspuitstukke.

“Wat julle mee gaan wat?” vra Ylbaard sonder om sy hande van die Volla se oop drade te verwyder.

“Dit bottels is nog vol,” steun een van die draers. “Asetileen  én suurstof!”

“En julle gaan dit waar sit?”

“Ons maak plek,” sê die ander draer.

Hy stoot sy bottel sodat dit regop staan en help sy maat om sy groot staalbottel agter die bestuurdersitplek in te laai.

Die Volkswagen proes skielik en kom vrolik, lawaaierig aan die gang.

Joachim klim terug in die toring terwyl die motorfietsers hulle makker met die gewonde been voor in die passasiersitplek installeer.

“Drywer!” beveel Joachim. “Ry! Draai regs as jy by die uitgang uitgaan.

“En Jood, sit jou ligte aan. Ons gaan niemand fop deur te probeer om deur die strate te sluip nie.”

Die motorfietsers hoop die laaste gereedskap en implemente op die Volkswagen en sak dit behoorlik toe; werp hulle lywe eenvoudig bo-op wat onder hulle is. Die potsierlike kar sak op sy suspensie en wanneer dit ʼn tree of wat vorentoe rol, kan ek duidelik die wiel teen die bakwerk hoor skuur.

Ek laat die koppelaar van die Merk Vier uit en die swaar kar kruip vorentoe. Ek mik versigtig om die muur van die gebou en gaan met die motoringang uit. Waar dit met die pad aansluit wag ek vir ʼn oomblik en draai regs met die teerpad af. Die ligte van die Volkswagen stoot weerskante van die pantserkar verby.

Die Merk Vier se V8 gee ʼn aangename, gesonde dreuning en as ek die versneller diep intrap klim die enjinklank geleidelik teen die toonleer op. Dis nou nie juis ʼn skop in die rug nie, maar die voertuig versamel snelheid en teen die einde van die straatblok stoom ons teen ʼn bekwame hoeveelheid knope vorentoe.

Dit vat konsentrasie om die pantserkar in ʼn reguit lyn te hou. Hierdie perd is van ʼn ander kleur as enige moderne voertuig. Jy moet gereeld verstellings maak om reguit te ry en dit vat my ʼn dosyn probeerslae voordat ek die koppelaartrap-neutraalskakeling-koppelaartrap-ratskakeling onder die knie kry. Die drywer se uitsig is beperk tot ʼn reghoek voor in die pad. Dit tref my dat oorlogtydse drywers dié voertuie vir dae aaneen oor rowwe terrein geloods het en ek is diep beïndruk. Manne van staal in hulle staalkarre.

Die verlate stad is somber in die nag. Dis asof die rommel soos reuseswamme oor die sypaadjies en tot in die strate gegroei het. Winkelvensters is gebreek en meeste van hulle al gestroop. Motorwrakke staan blind en tandeloos en ʼn groot proporsie van hulle lê op hulle sye en selfs dakke. Dis asof die sterwende stad begin skubbe van glas afwerp het en die skerwe glim soos nagemaakte juweliersware. Lamp-, telefoon- en verkeersligpale staan windskeef en elektriese drade is gemufde droplekkerdrade in die maanlig.

Die sluwe, slingerende straatkatte sypel deur stegies op die skarrelspoor van rotte en word op hulle beurt op loop gesit deur die brakke met prominente skelette.

Ek is ewe skielik diep geroer, so hewig geraak dat die weemoed dwars in my keel sit asof my adamsappel in hout verander het. Hoe het dit gebeur? Hoe het ons toegelaat dat hierdie juweelstad so weggekwyn het, so gemuf en verstik het, so afgeskilfer en afgerem en afgedop geraak het? Was hierdie moederversameling van beton en teer en sandsteen en baksteen en glas en lanings en tuine en antieke bome dan van so min waarde dat niemand kon veg om dit te red teen dié wat net sou veg om dit te vernietig nie?

ʼn Langvingerhandjie kom rus op my skouer en ek krap die ratte wanneer ek verwissel. Micki hurk op die vloer en weerskante van haar is Joachim en Dennis se bene. Hulle kan bo by die toring uitkyk. Ek het die klein klapgleuf voor my, maar Micki het geen venster tot haar beskikking nie en leun vorentoe om by my gleuf uit te kyk.

Ons ry noord en draai dan oos in die harde, koue voertuig wat skommel en dreun. In die ou Adderleystraat draai ons links en aan ons regterkant, nie ver nie, is daar die oranje gloed van brande en bo die gedreun van die enjin hoor ek die tromslae van geweervuur.

“Dennis,” sê Joachim iewers bo my in die wind, “is jy op EPS se net?”

“Ek is.”

Ek vermoed dat hy een van sy radio’s aan Joachim oorhandig het.

“Die roepsein by die padversperring?” vra hy.

“5 Alfa Bravo.”

“5 Alfa Bravo! 5 Alfa Bravo!” hoor ek vir Joachim in Engels oor die radio roep. “Dit is 1 Golf 9, 1 Golf 9, ek nader julle in rooi pantservoertuig , EPS-kleure van die suide af. Verwagte tyd van aankoms is vyf mikes, ek herhaal, vyf mikes, twee voertuie in echelon.

“Ek vra ongehinderde deurgang. Ek het ʼn vrag ontstekers en is dringend onderweg na Delta Victor 1, Delta Victor 1. My magtiging is Delta Romeo, Delta Romeo. Versoek dat jy bevestig met Delta Romeo.”

“Delta Romeo?” roep ek oor my skouer.

“Derek Regent,” antwoord Joachim uitgelate. “Die groot kraai self.”

Sy waagstuk slaan my asem weg. Enige iemand wat uitgevang word dat hy die enigmatiese eienaar van Executive Protection Services se naam ydellik gebruik, is in meer moeilikheid as wat enige mens kan verwerk.

“Hoe weet jy hulle gaan dit nie opvolg nie?”

“Geen manier hoe ek kan weet nie. Ek maak staat daarop dat by die padblokkade hulle te geïntimideer sal wees om hom nou te pla.”

“Hoe ken jy hulle roepseine en prosedures?”

“Dennis,” sê Joachim. “Hy monitor hulle al vir weke. Hy het ʼn hele databasis van roepseine en hulle gebruikers opgestel.”

“Gaan dit werk?”

“Ons gaan enige oomblik uitvind, gaan ons nie?

“Jood?”

“Ja?”

“As jy by die padblokkade kom…”

“Ja?”

“Moenie rem nie. As hulle wys jy moet stop, gaan net vinniger. Kies die punt van minste weerstand.

“En as jy daar kom – gaan reguit deur dit.”

Ons ry met ʼn veteraanvoertuig deur die strate van die sterwende stad en iewers voor my is senuweeagtige manne met verwoestende wapens en vingers wat span om die snellers.

(Lees vervolgens episode 10 van Bodem boek II.)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.