Bodem boek II, 8: Die kar

Deel op

bodemII‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Bodem I is reeds volledig.

Lees eers Bodem boek II, 7.

Die Westerse mens is geprogrammeer om oplossings te bedink die oomblik wat hy homself in ʼn krisis bevind. Hoe hewiger die situasie, hoe korter die tyd waarop hy vir oorlewing fokus. In die Ou Dae, toe almal nog gedink het sulke dinge was belangrik, het mense ʼn verhoging in motorpaaiemente, byvoorbeeld, as ʼn krisis beskou. Natuurlik was dit nooit ʼn saak van lewe of dood nie, en begrotings is herrangskik om die probleem oor ʼn tydperk van, sê nou maar, sestig maande op te los. Oorlewing het ʼn vyfjaarprojek geword.

Foeter ʼn groepie voortvlugtendes in die donker op, steek ʼn atletiekspies in een se been, skyn ʼn flits in hulle oë en rig ʼn haelgeweer op hulle, en dit word as ʼn intense bestaanskrisis beskou. Vir hulle is oorlewing nie meer iets wat oor jare plaasvind nie, maar oor sekondes, ʼn halfuur op die meeste.

Daar was hulle, hierdie verweerde groepie vlugtende motorfietsers, verslaan en verslae, en duidelik was al wat hulle uit die greep van Voorsienigheid of Noodlot kon smeek, is om net nog ʼn halfuur, ʼn uur op die meeste, te oorleef. Hulle was bereid om te smeek daaroor, al sou dit vernederend wees. Selfrespek is belangrik oor die lang duur en weeg darem niks in vergelyking met oorlewing wat ʼn prestasie oor die volgende paar sekondes vereis nie.

Meneer Dik Ylbaard verwag duidelik die ergste en probeer dit afweer deur te pleit: “Pel, luister, luister, asseblief. Ons is nie diewe nie, ons is nie sleg nie, ons is net ouens, gewone ouens, wat net probeer om te bly leef. Ons kos is op, ons geld beteken niks, ons is desperaat, desperaat, desperaat.

“Ek het ʼn vrou en kinders wat wag dat ek terugkom. Elkeen van ons het familie, het vriende. As ons nie teruggaan nie…”

Hy byt sy onderlip vas en dié begin bewe.

“Ek verstaan,” sê Joachim. “Ek verstaan. Ek weet hoe dit is. Natuurlik weet ek. Ons trap self water, so al wat ons kan, net om hierdie ellendige nag te oorleef.”

“Ja!” sê Ylbaard, bemoedig deur die begrip in Joachim.

“Maar julle hét ons aangeval,” sê Joachim en prik daarmee die ballon van hoop wat in Ylbaard uitgesit het. “En dit nadat ek redelik was met jou en jou elke kans gegee het om ons te los om ons gang te gaan.”

“Ja,” erken Ylbaard bedremmeld. “Maar ons kon nie weet dat julle… dat julle ordentlik is nie!”

“Ordentlik!” Joachim grinnik. “Is jy ernstig? Kan ek dit op skrif kry? Ordentlik!”

“Ek bedoel, ek bedoel net… Luister net pel… pel!”

“Wat wil jy hê moet ek met julle doen?”

“Laat ons gaan! Laat ons net hier uitloop. Ons is weg! Net ʼn minuut en julle sien ons nie weer nie!”

“Of julle draai om en bekruip ons weer.”

“Nee! Nee, nooit! Ek belowe. Ek be-LOOO-we! Ons vat pad. Jy sal ons nooit weer sien nie, nooit, nooit, nooit!”

“Pel, pel, pel! Jy moet mooi dink, mooi dink! Ons is nie honde nie! Jy kan ons nie net skiet soos honde nie!”

“Ek is nogal nie die soort wat honde skiet nie. Mense wat my sonder rede aanval…”

“Pel hoe moet ek vir jou nog sê ons is jammer? Ons is, ons is, ons ís!”

“Goed!” sê Joachim, nou weer streng. “Hier is wat ons gaan doen. Ons gaan julle toesluit, in julle garage.”

“Jy kan ons nie hier los nie!”

“Jy het geen idee wat ek kan of nie kan doen nie! Moet jy nie vir my voorskryf wat ek kan of nie kan  nie of sal of nie sal nie.

“Ons gaan julle toesluit. Julle het genoeg gereedskap daar om uit te breek as ons eers… ons besigheid gedoen en weg is. As julle… as julle begin om aan die deur te hamer of met iets te slaan of enige geluide maak voor ons weg is, ek sweer ou maat, dan maak Jood hier die deur oop en ek skiet elkeen, elke liewe een van julle, voor die voet, gesinne of nie gesinne nie.

“Dis hoe dit gaan werk. Verstaan jy?”

Om toegesluit te wees in ʼn motorhuis terwyl moord en brandstigting op pad is, is niemand se idee van ʼn ideale situasie nie, maar sowaar, dit klop die alternatief soos vervat in die dubbellope van Joachim se Lupara.

ʼn Minuut later staan Joachim, Micki en Dennis – met die aluminiumtas onder sy arm – en kyk hoe ek die roldeuraftrek en met ʼn stuk bloudraad deur ʼn gat in die metaalgeut waarin dit afgly en ʼn gat in die deur self grendel.

“Nou wat nou?” vra ek vir Joachim toe ek regop kom.

Hy skyn met die flits op die geslote motorhuis aan ons linkerkant. Ek bekyk hierdie roldeur, stap na dit en pluk aan die horisontale plaat wat as handvatsel dien. Die hele gee vertikaal effens skiet, maar haak dan onbeweegbaar vas.

“Jy kon gesê het dat ek ʼn koevoet of iets gekry het om die deur mee oop te breek,” mor ek.

Ek plant my voete wyd, gryp die handvatsel, byt op my tande en begin boontoe beur.

“Errmm, Jood,” sê Joachim. “kom ons gebruik maar die sleutel.”

Hy steek sy hand in sy broeksak en haal ʼn kettingkie uit en hou dit voor hom. ʼn Klein, blink sleutel hang daaraan. Ek gryp dit effe vererg uit sy hand, wikkel dit in die slot, draai dit en hoor hoe die sluitstawe wegskuif en trek die deur oop. Ek weet nie wat ek verwag het nie, maar dit was nie wat voor my is nie:

In die lig van Joachim se flits staan ʼn hoë voertuig snoet vorentoe, duidelik ʼn veteraan uit vervloë dae, met ʼn kantige bakwerk, die ene hoeke en plat vlakke en, van alle dinge, ʼn kort kanon en ʼn masjiengeweer in ʼn lae toring bo die romp. Dit is ʼn oudtydse pantserkar en omdat dit meer as twee meter hoog is, lyk dit smal op die groot wiele. Die hele voertuig is tamatiesousrooi geverf, die kleur van EPS se rygoed.

Ek weet dadelik waarna ek kyk.

“A,” sê ek. “Die MOTHS se Marmon-Herrington.”

'n Merk IV, soortgelyk aan dié wat in die verhaal beskryf word
‘n Merk IV, soortgelyk aan dié wat in die verhaal beskryf word

“Eintlik, “ sê Joachim, “is ‘Marmon-Herrington’ ʼn foutiewe benaming. Dit regte beskrywing is: ‘South African Recognaissance Vehicle Mark IV.’ Ons praat sommer van ʼn Merk Vier.

“Dit is in Suid-Afrika ontwerp vir gebruik in die woestyn in Noord-Afrika tydens die Tweede Wêreldoorlog.”

“Ry dit?”

“Dit beter. Anders is ons kendiep in die onwelriekende.”

“So jy het dit nie verkoop vir skroot nie?”

“Is dit wat hulle by die MOTHS sê?”

“Dis een van die teorieë, hoor ek.”

“Nee, ek het dit nogal nie verkoop nie. Ek het dit laat restoureer, soos ek belowe het.”

“Maar jy het dit nie teruggevat MOTHS toe nie.”

“Dink net hoe spyt sou ons gewees het as ek het.

“Kom help my.”

Die res van die motorhuis lyk baie soos die een langsaan, met werksbanke, rakke en kabinette. Joachim kry ʼn paraffienlamp uit een van die kabinette en steek dit op en hang dit hoog aan ʼn spyker teen die muur.

“Dink jy jy sal dit bestuur kry?” vra hy vir my.

“Gaan jy nie?” vra ek.

“My plek is in die toring,” sê hy.

“Ek sal seker regkom,” sê ek.

Ek het die laaste dekade op vreemde plekke uitgespoel op soek na ʼn minder konvensionele lewe. As ek ʼn kruiptrekker hoog in Ecuador se berge kon opereer, kan ek seker ʼn pantserkar onder die knie kry.

“Die tenk is vol petrol,” sê Joachim.

“Petrol?”

“Ek het daaraan gedink om ʼn diesel te laat inbou,” sê hy. “Maar daar is niks eintlik fout met die motor nie. Dit is, as jy moet weet, ʼn 95-perdekrag Ford V8-enjin.”

“95 perdekrag?” vra ek skepties.

“Dis sterk genoeg,” sê Joachim. “Dit gee vir ons ʼn topspoed van so 80 kilometer per uur. Dis genoeg, glo my, oorgenoeg as jy eers die onderstel beleef het.”

“4 x 4?”

“Dit is! Kyk, wat dit eintlik is, is ʼn Ford-3-ton-trokonderstel met ʼn pantserbakwerk op. Die eerste modelle se enjin was voor, maar dit het dit kwesbaar gemaak. Eintlik wat hulle met die Merk Vier gedoen het, was om die bakwerk en die kroonrat om te draai. Dit beteken die voertuig ry eintlik agteruit. Daarom, wanneer dit in 4 x 2 is, trek dit met die voorwiele.

“Goed, kom ons klim.”

“Waar? Ek sien nie deure nie.”

Joachim trek ʼn plaat langs die bestuursposisie voor aan die voertuig plat.

“Kan jy hier inklim?” vra hy. “Dit is eintlik ʼn venster, maar dit sal handig wees as jy daardeur kan inklim. Anders moet jy agter op die voertuig en deur die toring inklim.”

Ek meet die venster so met die oog. Dis nie baie groot nie en ek het ʼn swaargewigstoeier se skouers en borskas.

“As ek moet,” sê ek, “sal ek.”

“Jy moet.”

Ek trap op die voorwiel en klim op die stewige modderskerm.

“Jy het nie dalk ammunisie nie?” vra ek en klop op die kanonloop. “Wat is die kaliber buitendien?”

“37 millimeter. Nee, ek het nie ammunisie soos ek en jy ammunisie verstaan nie.”

Die masjiengeweerloop langs die kanon is in ʼn geperforeerde verkoelingshuls.

“Vickers?” vra ek.

“Ek wens. Browning 7,62.”

“Sonder ammunisie.”

“Sonder ammunisie,” beaam Joachim. Hy dink vir ʼn oomblik, skud sy kop. “Geen ammunisie.”

Ek steek eers my linkerbeen en dan my regterbeen in die voertuig, sit op die vensterbank, gryp die bokant van die voertuigdak vas en wurm in tot op die harderubbersitplek met die lae rugleuning. Voor my is ʼn outydse, groot, bakelietstuurwiel. Die kontroles lyk darem of hulle almal op die regte plek sit.

Bo agter my is twee sitplekke, een bedoel vir ʼn kanonnier en die ander vir ʼn toringbevelvoerder.

Joachim jaag vir Dennis en Micki aan en ʼn rukkie later daal hulle van bo af in die voertuig in. Joachim sit links agter my en Dennis met sy aluminiumtas regs van my. Micki moet haarself reg agter my kleinmaak. Joachim het die paraffienlamp by hom en dit kaats ʼn dowwe lig in die kajuit.

Ek kyk vorentoe. Die bestuurdervenster is ʼn lae, horisontale gleuf in die pantserstaal met ʼn kappie wat soos ʼn kepsdakkie bo dit staan. Die uitsig is beperk. ʼn Bestuurder wat sonder iemand in die toring  moet regkom, sal maar sukkel.

“Dennis,” sê Joachim. “Die pyp wat van die gasbottel af kom, dit draai aan jou kant van die masjiengeweer in.”

Ek wring my lyf om sodat ek kan sien waarvan hy praat.

ʼn Moderne, langwerpige gassilinder is teen die binnekant van die toring aangebring. Dennis vroetel met ʼn dun plastiekgaspyp wat daaruit loop. Ek kyk om en sien hoe Joachim ʼn soortgelyke pyp aan sy kant bo teen die ontvanger van die kanon koppel.

“Joune in?” vra Joachim vir Dennis.

“Dit is,” sê hy.

“Dit help nie jy trek die sneller nie,” sê Joachim. “Daar is ʼn knop net bo die handgreep. Jy druk dit met jou duim in.”

“Goed.”

“Druk dit. Net om te toets.”

“Goed.”

“Druk dit.”

ʼn Reeks knalle hamer bo my.

“Moer!” skree ek. “Ek dog jy sê geen ammunisie nie.”

“Ek het nie gelieg nie,” sê Joachim. “Ek het vriende by ʼn rolprentrekwisietemaatskappy. Hulle het die wapens ombou. Dis eenvoudig. As jy die knop druk, spuit dit ontvlambare gas in die loop en ontsteek dit met ʼn piezo-elektriese aansteker, soortgelyk aan die ding wat ʼn gasstoof se plate met die druk van ʼn knoppie aansteek.”

“En die kanon?”

In antwoord blaf die loop bo my, heelwat harder as die masjiengeweer, en ʼn vlam lek die naglug.

“Alles net vir effek,” sê Joachim. “Spesiale effek.”

“Sal dit genoeg wees?” vra ek.

“Ons gaan uitvind, gaan ons nie.

“Jood?”

“Hmm?”

“As ons eers ry, jy het nie baie spoed nie, maar die ding weeg ses ton en die staal is 12 millimeter pantser. As dit nodig is om iets te stamp, moenie huiwer nie. Ry dwarsdeur en bo-oor.”

“Ek het dit.”

“Nou goed, die knop voor jou, by jou regterhand, druk dit in.”

Ek druk die ronde rubberproppie voor my en agter my hyg ʼn knormoer en ʼn enjin kug, kug weer, klap en vat dan in ʼn bevredigende basgedreun.

“Drywer!” sê Hans-Joachim Marseilles Bekker, “voorwaarts!”

Ek los die koppelaar en die voertuig waggel vorentoe.

(Lees vervolgens Bodem boek II, 9.)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.