Bodem boek II, 7: Die rotnes

Deel op

bodemII‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Bodem I is reeds volledig.

Lees eers Bodem boek II, 6.

Die rot het ʼn keuse: Leer en leer vinnig, of word katkos.

Ek dink ek, Dennis en miskien Micki het kennis uit die voorval met ons aanvallers opgedoen; ek weet Joachim het geleer.

Die uitleg van ʼn stad in straatblokke bevorder ʼn dodelike soort lokval. As die lokvallers jou weg aan die eenkant versper en ʼn tweede groep jou terugvalroete agter jou toestop, is jy deeglik benadeel. Dit draai alles om vroeë bewuswording van die dreigende gevaar. Vir die voornemende struikrower is tydsberekening belangrik. As die prooi die voorste groep te vroeg gewaar, kan hy onttrek en sou die agterste afsnyelement te traag ontplooi, het die slagoffer steeds ʼn ontsnaproete.

Joachim se maatreëls behels die verdeling van ons kwartet in twee groepies. Wanneer ons by ʼn kruising kom, dam ons vier bymekaar op. Hy maak seker die blok voor hom is skoon en dan skarrel hy en Micki tot by die volgende straathoek terwyl ek en Dennis op die uitkyk bly om te verhoed dat ons, soos vroeër die aand van agter af betrap word. Sou daar ʼn bedreiging voor Joachim-hulle opduik, kan hulle met gemak tot by ons terugval.

Ek en Dennis sluip langtreë tot by Joachim wat om ʼn gebou op die hoek van die straat loer en ons doen dit teenaan die geboue, so vinnig as wat ons kan terwyl ons so onopsigtelik as moontlik probeer bly. Geluidloosheid en onsigbaarheid is nie dissiplines wat gewone mense in vredestye oefen nie en ek dink ons inligting kom uit TV-reekse en kinderjare se “cowboys en kroeks”-spelery.

Micki staan teen Joachim en hy leun vorentoe, sy regterarm voor sy bors in die slinger gevou en die kort haelgeweer in sy linkerhand. Dit moes ons twee keer so lank as andersins geneem het om deur die besigheidsgebied te beweeg, maar ons hét sonder voorval tot by Loopstraat gevorder. Die wolkekrabbers is op ons roete deur laer, ouer gebou vervang; die kantoorblokke deur die snuistery- en restaurantbuurt van Langstraat en verder wes.

Joachim leun terug.

“Skoon!” sê hy en leun teen die gebou en trek diep aan die naglug om sy asem te herwin.

Die reën het weggewaai en die hemel oop. Die wind druk die rook van die geveg agter ons weg en omdat daar geen lug- en ligbesoedeling is nie, beleef ons iets wat seker vir ʼn eeu nie in Kaap Mandela of Kaapstad gesien is nie: ʼn Nag besaai met sterre en ʼn helder skyfiemaan. Daar is genoeg hemelliggaamlig dat ek vir Joachim kan sien grinnik.

“Jy orraait, Jood? Jy Dennis?” fluister hy.

“Nooit beter nie,” fluister ek terug. “Aand in Kaapstad, Loopstraat saam met goeie vriende. Wat kan beter wees?”

“Bly nou by ons.”

Hy beweeg om die draai, Micki styf agter hom. Ek volg sondermeer en Dennis is net so na aan my.

Die geboue is meer industrieel, met ʼn drukkery, ʼn motorfietswinkel en besigheid wat lugversorgers installeer. In die middel van die blok steek hy vas by ʼn nou motoringang.

“Ons is hier,” fluister hy, nie dat ek weet waarom dié plek juis ons bestemming is nie.

Joachim mik om in die motoringang af te beweeg toe ons ʼn hamerslag en ʼn geklingel van metaal hoor. ʼn Oomblik later sê iemand gedemp, sy lettergrepe kort en opmekaar.

“My moer!” sê ʼn man. “Wat het ons hier?”

“Dis ʼn Volla,” sê ʼn ander stem.

“Dit was ʼn Volla,” reken ʼn derde.

“Dink jy hy ry?” vra Nommer Twee.

“Ons sal nooit weet nie,” sê Nommer Drie.

“Nee man!” sê Nommer Twee. “Kom ons kyk.”

“Ons kan nie!” sê Nommer Drie. “Dit sal te veel lawaai. Kyk die pype.”

Nommer Twee mompel iets wat ons nie kan hoor nie.

“Kyk vir iets wat ons kan gebruik,” sê Nommer Drie. “Goed wat ons kan saamdra. Wapens. Gereedskap. Enige kos.”

“Kos?” vra Nommer Een. “Watse kos sal hier wees?”

“Ons sal nie weet nie, sal ons? Tot ons gekyk het? Kyk vir blikkies, sakkies sop, koffie, tee, suiker.”

Joachim trek sy kop terug en leun teen die muur. Ek leun tot by hom.

“Kom ons gaan,” sê ek baie sag.

Hy skud sy kop, maar ek is nie in ʼn bui om te wag nie. Daar is ten minste drie van hulle, moontlik meer. Ek begin straataf beweeg, maar hy keer my met die haelgeweer wat hy skuins voor my bors hou.

“Ons moet hier ingaan,” fluister hy.

Ek wil teëstribbel, maar hy sluip reeds met lang treë al teen die gebou in die ingang af. Micki volg sonder huiwering. Ek kners op my tande, en sluip agter hulle aan. Aan die eindpunt van die ingang vertoef Joachim, loer behoedsaam om die hoek en wink vir my om te kyk.

Die motoringang loop uit op ʼn binnehof van ʼn drieverdiepinggebou met ʼn teerblad en ʼn drie motorhuise in ʼn ry aan die oorkant. Die middelste een se dubbeldeure is oopgebreek en ses mans staan en bekyk die binnekant daarvan met ʼn flitslig.

“Nou wat?” vra ek so sag dat dit amper onhoorbaar is, maar Joachim moes my gehoor het, want hy glimlag en knik net.

Die volgende oomblik is hy om die hoek en met ʼn paar lang treë is hy tot in die hoek van die binnehof oorkant die ingang en hurk hy agter ʼn asdrom.

“Menere!” sê hy vrolik en skakel sy flits vol op hulle aan.

Dit is asof die hele halfdosyn van hulle gelyktydig met elektrisiteit geskok word. Hulle swets en vier van hulle spat uitmekaar in ʼn uitgespreide linie en hou hulle hande voor hulle oë teen die glans van die flits se lig. Die ander twee verdwyn in die motorhuis in.

“Wieremoerizzit?” vra een van dié aan die buitekant.

“Ontspan net,” sê Joachim. “Hierdie is nie ʼn situasie nie. Ons is nie EPS nie. Ons wil net by ons garage uitkom, die een op die punt.”

“Ons was eerste hier!” sê Nommer Drie uit die motorhuis.

“En julle is welkom,” sê Joachim. “Ons sal net vat waarvoor ons gekom het, en dan is ons hier weg.”

“Hier is niks van julle hier nie. Moer weg!”

“Dit kan ons nie doen nie. Moenie dinge kompliseer nie. Tyd is min, vir julle en vir ons. Ons soek net wat ons sʼn is.”

“Hier is niks van julle hier nie.”

“En as ons dit kom vat?”

“Jy sal friekin bloei, pel.”

“Ek het ʼn haelgeweer.”

“En ek het ʼn friekin bazooka.”

“Werklik? ʼn Bazooka?”

“Moer weg of ek wys jou.”

“Jood!” beveel Joachim, “jy en Van Wyk en Dunstan en Weldon en Naidoo, Tshabalala, nog so vyf van julle, gaan maak hulle seer sodat ons hier kan wegkom voor EPS en elke barbaar suid van Nkandla hier opdaag.”

Nee, maar mooi, ek het dit: Misleidingplan. Intimidasie.

Ek beweeg nie.

“Jood!” dring Joachim aan. “Vat tien manne. Maak hulle seer.”

Tien manne? Dit beteken ek en ek alleen.

Vas oortuig dat dit ʼn baie swak plan is, swets ek, trek asem in en storm om die hoek oor die teerblad in die rigting van die manne voor my. Joachim se flitslig wissel van witlig na dwarrelstraal en voor my lyk my teenstaanders soos groen buiteruimtelike wesens wat stokkerig in die wissellig dans. Ek gil vir effek en trek die spies langs my oor terug. Hierdie keer is ek nie oorspoel met die desperaatheid van  ʼn vasgekeerde rot op die trappe nie, en ek begeer nie om dood te maak nie. So ek stamp die spies in die een tweede van links se dyspier in.

Heel voorspelbaar gil hy en ruk so gewelddadig weg dat hy gaan sit en sy been met albei hande vasgryp.

Die spies kom met my terugrukslag na my linkerkant toe, in die natuurlike rughandposisie en ek swaai die aluminiumstok so hard as wat ek kan en tref die spastiese groenetjie op die punt aan my linkerkant teen die nek sodat my spies soos ʼn skuifspeld buig en hy inmekaarstort.

Daar is ʼn slodderige geskarrel aan my regterkant, maar dan kom een van hulle doelgerig na my toe; korter as ek, breed soos ek kan uitmaak, rats op die voorste kussings van sy sole. Hy is disgeoriënteer en kan my sekerlik nie behoorlik sien nie, maar hy het die bewegings gehoor en op grond daarvan kom hy nader, wip-wip, spinnekopagtig, steek vas en skop na my, nie ʼn lomp laat-waai-netskop nie, maar ʼn geoefende uitstamp en swaai van die been. Hy doen dit so vinnig en onverwags dat hy my hoog teen  my regterboarm tref en dit met indrukwekkende geweld en ek laat val sowaar my skuifspeldspies.

Dis seer, dankie en my arm voel lam. Hy skop weer, sonder om sy been eers terug te trek in die staanhouding; bly net so gebalanseer op sy linkervoet en laat waai weer. Iemand met skopbokservaring, dus. Die tweede skop tref my teen die heup, maar omdat hy nie behoorlik kon oorhaal nie, het dit nie naastenby die slaankrag van sy eerste poging nie. Nou trap hy op die grond en laat waai weer met een van sy A-klasskoppe, maar ek is nou reg vir hom. Ek keer die skop boontoe met my regtervoorarm en vang sy maermerrie met my linkerhand.

Ek pluk so hard as wat ek kan agtertoe en sy balanspunt versit te ver en toe hy probeer om sy voet op die grond te versit om staande te bly, trap ek dit met my regtervoet vas en hy val vooroor, hard, langs my. Dit gee my die kans om die voorkant van sy skoen vas te gryp en sy voet vir ʼn hefboom te gebruik. Ek wring dit om en hy het geen keuse anders as om op sy maag te tol nie, anders ontwrig en sy enkel soos wat ek die man op die trappe se elmboog verfomfaai het. In die warrellig is sy ribbekas blootgestel en ek trek my been op en skop ondertoe soos ʼn man vat ʼn steeks motorfiets aan die brand probeer skop.

Te midde van die gehyg, die frenetiese voetegeskuifel en sy gefladder hoor ek duidelik hoe die onderste ribbebeen breek. Hy gee ʼn skril, jammerlike kreun en ek los sy voet. Die tweegeveg het enkele sekondes geduur en ek is reg vir die volgende bakleier se aanslag, want hierdie een is duidelik nou onbruikbaar en nie in staat om verder aan verrigtinge deel te neem nie.

Wel, hy móés gewees het, maar hy stoot homself op en begin orent kom. Ek staan nie tyd af om verbaas te wees of vir enige finesse nie; tree vorentoe en skop hom woes in die gesig met my knieg.  Hy gee ʼn steungeluid en val gesig eerste op die teer.

Vanuit die motorhuis hoor ek uitroepe en ʼn geskuifel van voete. Ek tree agtertoe, op soek na ʼn wapen tot die gewig in my aandpakbaadjiesak my herinner dat ek ʼn mes in ʼn laai in die kantoorgebou gekry het. Ek ruk dit uit die sak en stroop die skede weg. Ek was nog nooit in ʼn regte mesgeveg nie, maar ek het die beginsels daarvan by ʼn lemfanatikus in Kalifornië geleer en ingeoefen. Ek hou die mes sodat die lem aan my pinkiekant by my vuis uitkom. Dit gee my die vermoë om ʼn hou met ʼn stomvoorwerp met die lem langs my voorarm af te weer en ek kan aanval deur vorentoe te slaan, terug te kap of lem eerste te steek.

In die donker agter die warrellig is daar ʼn woep!-woep! en ʼn donker voorwerp kom uit die donker getol en my kopvel bars bo my oogbank teen my skedel. Iets tref my been op pad ondertoe en klingel op die grond. Vir ʼn oomblik is daar skerp fakkels lig agter my oë, maar ek kry myself stewig op my voete en berei voor om soos ʼn malman in die motorhuis in te storm en te kap en te steek totdat daar niemand oorbly om my met harde voorwerpe te gooi nie.

Dan is Joachim langs my en die flits gaan van warrellig na helder witstraal en op dieselfde oomblik hoor ek hoe hy die hane van die haelgeweer terugtrek. Die staalgeklik is skerp, duidelik en trek die aandag soos die skrilste alarm. ʼn Flits in die motorhuis gaan aan en ons is vol in die straal daarvan.

“Kom nou, ouens, kom nou!” dring Joachim aan. “Ek het regtig ʼn haelgeweer en julle het regtig, regtig nie ʼn bazooka nie.

“Hou  nou op!

“Jou flits skyn in my oë, en ek hou nie daarvan nie. Sit dit af of ek skiet dit af!”

Hy hou die flits in sy linkerhand en trek die haelgeweer met sy regterhand teen sy beseerde skouer vas. Sê van die Maarskalk wat jy wil, hy kan dit vat as hy moet.

“Een!” sê hy. “Twee!”

Sou hy op “drie” geskiet het? Ons sal nooit weet nie, want die flits in die motorhuis gaan af. Maar soos ek hom nou ken, ja, ek is seker hy sou geskiet het. Hy het van Aand Een af die vermoë om te weet wat gedoen moet word, getoon.

In die ligkol van Joachim se flits is daar twee dinge wat my opval: ʼn Halfdosyn bedremmelde mans wat wissel in ouderdom van vroeg in die twintig tot duidelik middeljarig, en hulle dit is ʼn rowwe lotjie in denimbroeke, T-hemde, onderbaadjies, tatoeerskilderye oor voorarms en laslappiekentekens op kledingstukke. Twee van hulle hurk voor in die motorhuis en nog twee skuil onsuksesvol agter die voertuig in die vertrek. Ons het volgens alle aanduidings op ʼn troppie motorfietsers afgekom. Nou is daar egter geen gepronk onder hulle nie, geen bonhomie of geklets nie. Hulle is ook maar rotte, naastenby soos ons, bedag om te skarrel en te snuffel vir oorlewing.

Die tweede ding wat my opval is die besproke Volkswagen Kewer wat snoet vorentoe in die middel van die diep stoorruimte staan. Dit is nie meer standaard nie. Die bakwerk is weggesny sodat net die voorste bagasiekap, die sitplekke en die enjinkap oorbly. Die agterwiele is enorm; hoog en baie breed en dit laat die hele voertuig afdraande loop. Rolstawe so dik soos my voorarm krul oor die voertuig wat ʼn flonkerende pers geverf is. Dit is ʼn wildewragtag masjien vir iemand wat vasberade is om woes te speel.

Joachim skyn in die res van die motorhuis in. Dit is onteenseglik die werkgrot van ʼn doen-dit-self-voertuigherbouer met rakke teen elke muur vol blikke, gereedskap, elektriese sae, – bore, -spuite en trommels, domkragte en ghriesbesmeerde werkswinkelhandleidings.

Die lig daal en val weer op die twee manne wat links van die Kewer hurk. Die een is geset met dowwe rooi-en-grys hare en ʼn yl baard wat onder sy kakebeen groei.

“Moer,” sê hy. “Wat gaan julle  met ons doen?”

“Dit,” sê Joachim, “dit is die vraag.”

(Lees vervolgens Bodem boek II, 8.)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.