Bodem boek II, 6: Die kantoorblok

Deel op

bodemII‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Bodem I is reeds volledig.

Lees eers Bodem boek II, 5.

Tararam-tararam-TARARAAA-raa-raram! Tararam-tararam-TARARAAA-raa-raram!

Joachim hou op neurie.

“Hier is wat ek wonder oor die hele konsep van die Noodlot,” sê hy geselserig.

Die donkerte is swaar en dig in die ingang van die gebou en ʼn ou urinereuk is suur en opdringerig.

“Voor die klem op die noodlot gelê is, was daar aanvaar dat daar ʼn persoonlike, mensbewuste God is, volkome in beheer, van universele verskuiwings tot by die kleinste menslike keuse. As Hy  besluit het, kon die mens Hom nie fnuik nie, sy plan nie ontspoor nie. Die beste wat jy kon doen was om ʼn petisie aan Hom te bring om van plan te verander. Abraham wat pleit vir Sodom, Dawid wat voor die dood van sy seun sy klere skeur en rou, Abraham weer, wat dié keer God deur sy gehoorsaamheid oorhaal om die bevel om Isak te offer, te herroep, Jona wat in die walvis se buik land omdat hy probeer vlug het, Moses wat God se oproep verontagsaam.

“So tydens die Verligting vervang ons God met die konsep van die Noodlot. Dit is sóós God, maar net onpersoonlik. Tog beskik hierdie onpersoonlike mag oor intelligensie, want dit bepaal die mens se bestemming voor die tyd en die mens is magteloos om dit te ontwyk, soos ʼn trem op ʼn spoor.

“So nou wat as die mens probeer om uit die greep van die Noodlot te probeer losbreek? Presies daar vind jy die deurlopende tema van die Romantiek: Rigoletto wat die ouman se vloek probeer ontglip deur die hertog te probeer vermoor, Violetta wat haar lot probeer ontglip deur haar verhouding met Alfredo, Mimi wat tering verontagsaam om by Rudolfo te wees… Hulle beste pogings ten spyt; hulle is hulpeloos.

“Dis juis die ding. Hulle swoeg en spartel, hulle verneuk en konkel, hulle verander hulle identiteite. Maar wat gebeur as jy nie teen die Noodlot veg nie, maar net passief bly?

“Ek weet waarvoor ek bestem is. Sê  nou ek weier net? Sê nou ek kry ʼn holte in die aarde en kruip daarin? Hoe sal die Noodlot my dwing om my bestemming te haal? En kan ek die Noodlot beïnvloed? Kan ʼn petisie rig sodat iemand anders deur die Noodlot uitgekies word?”

Ek sit in die donker met my rug teen die muur en my bene voor my uitgestrek, die aluminiumspies oor my skoot. Dit is gerusstellend om na Joachim se mymeringe te luister; die geluid van lewe wat aangaan, van ʼn  normaliteit wat dreig om weg te vervaag, soos ʼn skets op oudtydse fakspapier. Ek voel styf en terselfdertyd bewerig, binnekant toe leeggesuig deur ʼn adrenalienbabelas. Die naaste wat ek daaraan kan kom om die wispelturighede van die Noodlot te bepeins, is om te wonder hoe de hel ek hier opgeëindig het, hier op die pisstinkende vloer na ʼn dierlike geveg met roofsugtige barbare met ʼn tsunami van nog bloedgieriger woestelinge op pad.

“Joachim,” sê ek in ʼn pose van sy monoloog, “watse bliksemse lig het jy in hulle oë geskyn?”

Die skerp groen lig flikker aan en word onmiddellik vervang deur die wit straal van ʼn flitslig en verdwyn dadelik weer.

“Led Lenser M1400,” sê Joachim. “Dieselfde as die P1400, dieselfde ding, regtig, met twee verskille – die M het die dwarrellig, my vertaling vir ‘dazzler,’ en dit kos drie keer soveel as die P. Ek het nie geld gehad vir die P nie, so toe ek koop ek die M…”

“… wat drie keer so duur is.”

“Ek is regtig nie bevoeg om geld te hanteer nie.

“Nietemin, as ek was, sou jy jou hande netnou baie voller gehad het.”

“Dankie vir die hulp.”

“Plesier. Jy kan  later ʼn brief vir die Led Lenser-maatskappy skryf waarin jy hulle produk aanprys.”

As Joachim agtergekom het dat ek sarkasties is, wys hy dit nie.

“Dink jy jy kan met jou duur flits hier op die trappe skyn. Ek soek my rugsak.”

“Natuurlik,” sê hy gemoedelik en skakel die flits aan, maar laat lig net in ʼn skrefie tussen sy vingers wat hy voor die lens hou, deur.

Daar is vars, glimmende, dikrooi bloed op die trappe, en ʼn swaarkophamer wat Nommer Een na my gegooi het, maar nie ʼn rugsak nie.

Ek vloek vol emosie. My rugsak was vir weke al gepak en was deel van my oorlewingstrategie. Dit het ʼn stofie, vislyn, hoeke, noodhulpsakkie, sout, koffie en ander voorrade in gehad. En my uitgetrapte Trailblazer-stapskoene met die buitebandsole. Ek is verbitter. Watse soort mense verloor ʼn bloedige onderonsie, slaan op die vlug, maar onthou in hulle haas om net vir oulaas iets te steel?

Micki gee ʼn verbaaste klein keelgil. Joachim rig die flits op die deure agter hom. Die dubbelglasdeure het regop chroomhandvatsels. Micki staan langs die deure en sy trek aan die een wat ʼn aks beweeg.

“Die deure is nie gesluit nie!” sê sy,

“Jy bedoel behalwe vir die ketting wat dit toehou, die kettings met die groot geelkoperslot,” sê Joachim.

“Ja, behalwe vir dit.”

“Jood?” sê Joachim.

“Ek kom.”

Ek stoot my rug teen die muur op en kom ietwat bewerig teen die trappe op. Op pad kry ek die hamer beet.

Joachim skyn op die deure. ʼn Gegalvaniseerde ketting is deur die chroomhandvatsels geryg en met ʼn Viro-slot vasgesluit.

“Wil jy hierin gaan?” vra ek.

“Ek wil,” sê Joachim. Hy sit  nog steeds op die vloer langs die deure.

“Het ons tyd daarvoor?”

“Ek dink ons het so ʼn halfuur, dan gaan EPS al hulle voertuie onttrek na Adderleystraat om te kyk of hulle die vloed daar kan stuit.”

“Jy klink seker van jou saak.”

“Wat sou jy gedoen het as jy hulle bevelvoerder was?”

Ek dink nie nou daaraan nie, maar het die gevoel dat as ek sou, ek my voertuie na Adderleystraat – eintlik deesdae Freedom Drive – sou onttrek het. Nietemin sou ek al aan die beweeg gewees het, styf teen die geboue verby, rigting Wes, na die  kus toe. Dit was my groot oorlewingstrategie: Die oseaan. Gʼn barbaar sal my in die see vang nie en ek sal genoeg kos daar vind om aan die lewe te bly tot… wel, tot latere kennisgewing. Joachim is egter so seker van sy saak, dat ek sonder vrae daarby inval.

Ek meet die slot met die tweekilogramhamer uit en lig die gereedskapstuk vir ʼn eerste aanslag.

“Nie met die hamer nie, liewe Jood,” sê Joachim.

Hy vroetel in sy rugsak, ʼn groot, moderne staptoersak met ʼn ingeboude raam en sysakkies en lussies vir wie weet wat alles. Na ʼn paar oomblikke se gevroetel hou hy ʼn lang, dik skroewedraaier na my toe uit.

“Wat het jy nog in daardie rugsak?” vra ek.

“Ag,” sê hy. “Bietjie hiervan, bietjie daarvan. Net ʼn paar items vir die gesofistikeerde man op vlug.”

“Û-hû. Strykyster, potjie kamferroom, weggooi-Bic-skeermesse en ʼn Gideon-Bybel?”

“Jy moet onthou om melding te maak van die slaapmasker.

“Moenie die skroewedraaier op die slot sit en dan met die hamer moker nie.”

Ek kyk ongeduldig na hom.

“Sit die skroewedraaier deur die slot se lus en roteer dit, asof jy die slot probeer opwen,” verduidelik hy.

Ek maak soos hy sê en steek die skag van die skroewedraaier deur die slot se vlekvryestilring en beur die hef kant toe. Die slot se huls breek met ʼn bros klapgeluid. Micki klap haar hande vinnig teen mekaar en ek wens daar was nog slotte om te breek.

“Laterale krag,” sê Joachim. “Die enigste manier om te werk te gaan teen getemperde staal.”

“Hmm,” sê ek en stoot die deure oop.

Joachim kom met ʼn halfbedekte kreun op sy voete en skyn die flitslig in die gebou in.

“Hoekom was die deure nie gesluit nie?” vra Micki en dit klink nie of sy ʼn antwoord verwag nie, maar Joachim weet vanaand alles.

“Die bestuurders het die laaste dag vroeg huis toe gegaan,” postuleer hy.

“Die skip vir die matrose gelos?” vra ek. “En die sleutels in hulle haas saam gevat?”

“Hmm. En een of ander getroue ou siel het toe sy bes met ʼn stuk ketting gedoen.”

Ons gaan in, deur die ontvangsvertrek met die naam van ʼn lewensversekeringmaatskappy wat in ʼn boog teen die mure in metaalletters aangebring is. Aan die oorkant is daar hysbakke en links van dit ʼn stel trappe.

Ons gaan in ʼn lang gang met kantore weerskante daarvan af. Die deure staan oop. Party kantore is nog netjies met rekenaars, boekrakke en kabinette netjies gerangskik, stoele netjies agter lessenaars ingestoot en blindings toegetrek. Ander vertrekke is deurmekaar, met papiere oor tafels en selfs die vloer gestrooi.

Dennis het nou ook ʼn skynende flits by hom en hy hou die straal op ʼn wye rekenaarskerm in ʼn kantoor.

“Hier is baie toerusting,” sê hy.

“Ons is nie eintlik gerat om dit met ons saam te neem nie,” sê Joachim. “Dis jammer.”

Ek het begrip vir hom. Ons armgatte voel dis ʼn belediging vir die Noodlot, waarvan hy so baie praat, om sulke meevallers te ignoreer.

“En dis nie ons sʼn nie,” sê Micki.

Bedorwe kind. Maklik om te praat, is dit nie?

“Kom,” sê Joachim.

Ons verken die res van die gang en keer dan terug na ʼn kombuis wat ons vroeër gesien het. Dit het ʼn breekwarekas wat bo ʼn skottelgoedwasbak vasgebout is, ʼn lae kabinet vir skoonmaakmiddels en ʼn rak met ʼn ketel en ʼn halfdosyn koffiebekers netjies daarop uitgepak.

Joachim maak die kas oop. Daar is glashouers met koffie, tee, suiker en koffieverromer in. Hy pak dit op die rak langs die wasbak, trek die laaie van die kabinet oop en kry ʼn plastiekinkopiesak.

“Sit die goed daarin,” sê hy vir Dennis.

Die lang man sit die aluminiumtas neer en begin om die bestanddele daarin te druk.

“Joachim!” sê Micki.

“As ons dit nie vat nie,” sê hy bedaard, “oor ʼn uur gaan hier ʼn duisend mense wees wat nie so ordentlik sal wees nie.”

Hy gaan sit op die rak.

“Gee die flits hier,” sê Micki. “Laat ons sien.”

Sy vat die flits en die kol val op hom. Hy is effe bleek en hou sy regtervoorarm teen sy borskas. Die glansende materiaal van sy tuxedo het ʼn ronde gat, omring met rooi vlekke, waar skouer en borskas bymekaar kom.

“Hou hier!” sê sy vir my en gee die flits aan.

Ek hou die ligkol op hom terwyl sy sy baadjie versigtig oopvou en oor sy arm trek en dan ook oor die ander arm. Sy help hom om sy swart T-hemp uit te trek. Dis maklik om te vergeet dat Joachim reeds in sy vroeë sestigs is, maar sy grys borshare en die manier waarop sy vel oor sy borsspiere hang herinner my.

Die wond in sy skouer is diep en rond met ʼn effense sloot aan die onderkant, en dit is vol klewerige bloed.

Micki kloek ontsteld.

“ʼn Aluminiumspies,” sê Joachim wrang. “Ek is seker die eerste om met een gewond te word in Suid-Afrika. Behalwe nou vir arme Sybil Coetzee wat deur die verraderlike Johan Slabbert getref is, natuurlik.”

“Wie is Sybil Coetzee?” vra Micki terwyl sy ʼn skoon vadoek teen die wond druk.

“’Môre, môre,’ my ding,” sê Joachim.

“Hmm?”

“ʼn Rolprent. Wat jy ʼn fliek sal noem. Ou een. Sybil Coetzee en Hans Strydom. En Johan Slabbert.”

Hy kyk na my.

“Het ek ooit vir jou gesê ek is die rol wat Hans Strydom gekry het, aangebied?”

“Nee.”

“Ek kon myself net nie daarin sien nie,” sê hy. “Nog ʼn afdraaipaadjie. Ek kon  ʼn loopbaan in Binnelanders gemaak het.”

“Jy kon nie,” sê ek. “Nie jy nie.”

“Nee,” stem hy saam. “Dit was nooit my bestemming nie.

“Ek het ʼn fout gemaak.”

“Het jy?”

“Ja. Ons moes gister pad gegee het.

“My inligting was dat ons nog ʼn paar dae het. Meeste bevelvoerders is al onkant gevang deur defektiewe inligting. Nietemin. Ek het ʼn aanvoeling gehad dinge gaan vinniger gebeur. Ek moes my instink vertrou het.”

Dis opmerklik dat hy toe al aan homself dink as ʼn bevelvoerder. Die Maarskalk. En ʼn weermag van drie.

“Joachim? sê ek.

“Jy wil weet hoekom ek nie die haelgeweer op die trappe gebruik het nie?”

“Ja.”

“Luigi het vir my ses rondtes gegee. Dis dit. Dis al ons ammunisie. Ek het gedink ek sal dit hou vir ʼn noodgeval.”

“Dit was nie ʼn noodgeval nie?”

“ʼn Noodgeval, nee. ʼn Voorval. Die eerste van baie.

“Jood… ek het geweet jy sal opgewasse wees.”

“Geweet? Hoe?”

“Net geweet. Soos ek geweet het ons moes gister al weg gewees het.”

“Ja, maar dit was nie so…”

“Jood… Jood, jy was ʼn Viking. Jy was monumentaal.”

“Joachim,” sê Micki. “Ons gaan orraait wees, Joachim, gaan ons nie?”

Magtag vroumens. Hoekom vra jy vir hóm? Ek was die een wat hulle teruggedryf het van die trappe. Het jy nie gehoor dat ek monumentaal was nie? Was jy nie daar nie?

“Met Jood by ons?” sê Joachim. “Weë die arme drommel wat in ons pad kom.

“Daar is ʼn noodhulpkissie in my rugsak. Deppers, Savlon, pleister, verband.

“Dennis, hoekom vat jy nie jou flits en kry ʼn sak gaan deur die lessenaarlaaie en kyk of jy iets waardevol of bruikbaar daar kry nie?”

“Ai,” sê Dennis. “Ai.”

“Joachim!” protesteer Micki.

“Res nullius, my dier, res nullius.”

“Asof ek weet wat res nullius is.”

“ʼn Verlate saak, iets wat aan iemand behoort het waarop niemand nou aanspraak maak nie. Wie dit vind, het eiendomsreg. Finders, keepers, kan jy sê.”

Sy peuter sorgsaam, selfs liefdevol aan sy wond. Ek steek myself sommer met die spies.

“Jood,” sê Joachim. “Dennis is nie gemaklik daarmee om op sy eie te gaan nie. Sal jy hom help? Julle het nie baie tyd nie.

“Dennis, kry my op EPS se radionet. Ek wil weet wanneer ons moet beweeg.”

Dis spookagtig in die leë kantore; ʼn Marie Celeste-atmosfeer. In die eerste een vind ons ʼn leë, goedkoop sportsak. Dit is verbasend wat mense uit gewoonte in hulle lessenaarlaaie los. Ons vind sakrekenaars, musiekspelers, vier tabletrekenaars, ʼn paar horlosies, ʼn verskeidenheid juweliersware waarvan sommige van egte of nagebootste goud is. Vir my is die grootste vonds vier kannetjies rissiesproei, twee multi-implementmesse en ʼn jagmes, nie met ʼn lang lem nie, maar gerusstellend swaar en solied. Ek steek dit in my baadjiesak.

Ons debatteer of ons na die ander verdiepings ook sal gaan, maar besluit om eers by die kombuis aan te meld. Wanneer ons daar kom, is Joachim weer besig met sy Noodlotmonoloog. Sy skouer is met ʼn wit verband verbind en sy arms hang voor hom in ʼn lapslinger. En Micki, Micki, Micki staan teen hom, haar arms om sy lyf, haar kop op sy skouer. Was dit dan nie ek wat die gespuis van die trappe af verdryf het nie?

“… ek glo in Bestemming. Ek glo mense is bestem vir ʼn sekere funksie op ʼn sekere tyd. Ek weet dit is waar van my. Ek moes lank daarvoor wag, maar nou kan ek dit nie ontken of weier nie.

“Dit is nie net mense wat ʼn Bestemming het nie. Dit geld vir ʼn volk ook. Ek glo dit. Ek glo dit vas. Ek sien die patroon. Ek sien die hand op die toue en hefbome. Is dit die hand van Bestiering of is dit die greep van Noodlot?

“Maak dit saak? Wat wél saak maak, is dat die volk, ons volk, uitgesoek is, nie om nou ʼn tragiese helde-einde te beleef nie. Nee. Ons volk is uitgesoek. Ek glo dit vas. Ons is die eerste Westerse volk wat uitgelewer is aan ʼn swart nasie. Sal ons die eerste blanke volk wees om te oorleef, te herleef? Is dit by ons wat die hele Westerse Beskawing se draaipunt kom, waar die gety van verval teruggekeer word?

“Glo wat jy wil, maar ek glo dit is die Afrikaner bestemming, dit is die plan vir hom. En daarvoor sal ek veg, daarvoor sal ek swoeg, daarvoor sal ek opoffer.”

Hy staak sy gesprek skielik, lek sy lippe af, hyg.

Joachim kyk na my.

“Jood,” sê hy. “Goed. Jy is hier.

“Dis tyd. Ons moet gaan.”

Hy wikkel homself van die toonbank af en tel sy haelgeweer op.

Ek hys sy rugsak op en wikkel my arms deur die opgestopte bande en skuif die sak reg op my rug. Ek vat my spies en loop voor die ander by die lang gang af.

(Lees vervolgens Bodem boek II, 7.)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.