Bodem boek II, 5: Die trappe

bodemII‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Bodem I is reeds volledig.

Lees eers Bodem boek II, 4.

Ek wag nie om afstande te meet, relatiewe snelhede te bepaal en ingewikkelde meetkunde te doen nie, maar tol op my hak om en sit vir Joachim, Dennis en Micki agterna. My skoensole gly vir vastrap op die nat teer en daar is genoeg tyd vir my om te swets omdat ek nog my blinkgepoleerde leeroperaskoene aanhet, maar dan is ek volspoed  daar weg en my harde skoensole trommel ʼn skerp klik-klaktaptoe teen die straatoppervlakte.

Agter ons lem sissende bevele en dreigemente deur die naglug en die lig van flitse trek ons vas. Hulle kom van voor en agter na ons toe, vinnig, doelgerig, met geweld en berowing as oogmerk; kom soos twee suiers in ʼn silinder met ons in die middel.

Ek haal die drietal voor my met ʼn paar treë in; Joachim heel voor met die Lupara uitgestrek voor hom, Dennis en Micki skuins agter hom op die flanke. Ek versnel en begin by hulle verbygaan om enige bresse wat die kort haelgeweer se blaf gaan oopruk, uit te buit, toe Joachim skielik loodreg na links swenk, so onverwags dat die ander twee net-net in slordige formasie met hom bly. Ek kyk nie eers waarheen hy gaan nie, maar volg sy leiding so vinnig en rats as wat ek kan.

Joachim hardloop by ʼn kantoorblok se ingang in, deur ʼn wye portaal en by die trappe op en links daarmee tot by die eerste verdieping waar ons weg deur dubbelglasdeure versper word. Daar is skielik vir my splinternuwe moontlikhede in die konfrontasie: Die trappe is niks wyer as twee meter nie, en hoewel ek weet dat ek binne oomblikke hand-tot-hand in ʼn dodelike geveg gaan wees, is ek verlig dat die aanvallers nie agter my kan ombeweeg nie. As hulle tot by Joachim en die ander – Micki! – wil kom, sal hulle deur my moet gaan. Ek dink nie vir ʼn oomblik hulle kan dit nie doen nie – daar is na alles tien van hulle – maar ek is onmiddellik vasberade om dit vir hulle so moeilik as moontlik te maak. En as hulle wel oor my dooie liggaam sou kom, moet hulle Joachim se haelgeweer in die twee groot donkerbekke kyk.

My onmiddellike probleem is dat ek ongewapen is. Die eerste ding wat ek doen nadat ek halfpad teen die trappe op omgespring het, is om my rugsak, ʼn bonkige outydse seilbesigheid, van my rug af te ruk omdat dit my spoed en ratsheid belemmer.

Buite die deur spat ons agtervolgers in twee strome bymekaar en dan kom hulle by die opening in, twee van hulle in die voorste linie, die een effe voor die ander, twee identiteitlose silhoeëtte in die glans van die flitsligte agter hulle. Die voorste een steek voor die trappe vas, sy arm haal langs sy kop oor en ruk vorentoe. ʼn Donker voorwerp woer deur die lug na my en ek ruk die rugsak voor my gesig op. Iets swaars en hard tref dit met ʼn diep, indrukwekkende slag en iets van yster en hout klap en klingel by my voete. Nommer twee gooi ook iets in die hardloop na my en ek val plat, hard op my rug op die trappe en het ʼn indruk van iets lank en dun wat oor my kop gaan.

Agter my sê Joachim kliphard: “Accidenti!”, blykbaar nog steeds in operaluim.

Micki gee ʼn kort gil en ʼn gedempte kermklank.

Ek het nie tyd om my daaraan te steur nie, want Nommer Een en Nommer Twee kom met geweldspoed teen die trappe op, reg om munt te slaan uit enige weifeling wat deur hulle gegooide voorwerpe veroorsaak is. Ek kom regop, gryp die rubberoorgetrekte platmetaaltrapreëling met albei hande en stut myself op my arms terwyl ek met albei bene opskop. My skoensole tref vir Nommer Een vol teen die borskas en die geweld slinger hom agtertoe en teen die trappe af.

Nommer Twee gee ʼn verbaasde kreun, grom dan en wip teen die trappe op na my toe. In die gedempte lig sien ek dat hy sy hand na my toe uitsteek en my instinkte en spiergeheue neem oor. Dis nie asof ek nie al tienduisend stoeigevegte begin het teen iemand wat ʼn hand uitsteek om na my te tas nie. Met my regterhand vang ek sy linkerarm om die pols en ruk hom van balans af, vorentoe, na my toe, ruk dan sy arm agteroor dat sy hand omtrent langs sy oor is, ryg my linkerarm onder sy boarm deur en sit my  linkerhand oor my regterhandse vingers wat om sy voorarm knel. Sy arm is nie in ʼn goeie hefboomposisie vir hom om krag uit te oefen nie. My twee arms daarenteen is ideaal geposisioneer en ek beur sy arm agteroor met al my krag. Iets moet padgee en anatomies kan dit net op een plek gebeur: Sy elmboog. Die oomblik wat die ligamente meegee en die voorarm uit potjie spring, klink soos ʼn vars slaaikop wat middeldeur geskeur word; ʼn sappige knarsklank.

Sy gil is rou, verskrik en uitgerek.

Ek stoot hom skerp agtertoe en hy tuimel ondertoe teen Nommer Drie en Nommer Vier vas en hulle verdwyn in ʼn bondel arms en lywe weg. Onder versamel hulle in ʼn onsamehangende, swetsende bondel totdat twee daarvan afdeel en behoedsaam teen die trappe opkom, een gewapen met ʼn kapmes en die ander met ʼn bofbalkolf. Dit kry my aandag. ʼn Swaar kolf soos dié, met die gewig aan die voorkant gekonsentreer vir groter momentum, sal ʼn skedel, been of voorarm vergruis. Tyd om te retireer, wat ek doen deur agteruit teen die trappe op te klim terwyl ek hulle so deeglik as wat ek kan in die dowwe lig dophou.

“Jy is dood,” sê die een aan my linkerkant. “Jy is so dood.”

“Los ons net,” sê ek, en nou kom ek eers agter hoe my asem jaag. “Ons soek nie moeilikheid nie. Ons probeer net wegkom.”

“Jy gaan nêrens nie.”

Ek gee nog ʼn tree agtertoe teen die trappe op.

“Ons het nie tyd hiervoor nie,” sê ek. “Hulle kom. EPS kan hulle nie terughou nie. Die stad gaan netnou krioel met hulle en hulle gaan alles voor hulle doodmaak, julle ook.”

“Dan moet ons gou maak!” sê die bofbalkolwer en swaai skielik en hard na my, van bo na onder, soos iemand wat houtkap, want die gebou se muur is te na aan hom vir ʼn horisontale swaaihou. Ek tree vinnig na my regterkant en die kolf sloeg teen die trappe langs my vas. Ek gee nog twee vinnige treë agteruit, maar my beweegruimte raak nou vinnig op.

Die duisternis word van agter my in ʼn duisend spattende skerwe gekerf deur ʼn skel, heldergroen verblindingslig. My twee aanvallers steek vas, beroof van hulle sig en wankelrig in hulle oriëntasie. ʼn Lang, dun voorwerp gly van agter oor my skouer.

“Vat Jood,” sê Joachim baie na aan my. “Vat en steek die helsems vol gate.”

Ek krul my vingers oor die voorwerp en bring dit vorentoe.

In die frenetiese, dansende groen lig, eien ek ʼn spies, nie ʼn assegaai nie, maar ʼn lang, slanke atletiekwerpspies, die voorwerp wat die tweede aanvaller na my gegooi het. Dit vat my een sprong om drie trappe ondertoe te gaan en ek is binne trefafstand. Ek ruk die spies vorentoe, in die bofbalkolwer se bolyf vas en ruk dit uit. Daar is ʼn duidelike, vleesagtige suiggeluid net voordat hy begin skree.

Die kapmesaanvaller tas soek-soek met die lang lem na my en ek skop hom vol in die gesig sodat hy onnet agteroorval teen die trappe af. Bofbalkolwer trek sy asem in en lig sowaar weer sy kolf en ek steek hom weer vinnig in die bolyf. Dié keer draai hy om en probeer teen die trappe afhardloop, maar hy trap mis en duik in volle lengte teen sy verbysterde versterkings vas.

Daar is ʼn onsamehangende gemaal en ʼn hartlike gevloek by die voet van die trappe. Ek is gekondisioneer om ʼn swakplek in ʼn teenstander te ontwikkel en om dit dan uit te buit om hom te oorwin en sonder om te dink gee ek lang treë by die trappe af en stamp die spiespunt in elke donker bewegende kol voor my. Hulle val soos botter voor ʼn warm vlam voor my weg in ʼn gegly van voete en ʼn getokkel van wapens teen vloer en muur. Binne oomblikke staan hulle buite om die straat aan weerskante van die ingang.

“Sy moer!” sê een in goeie volksmond-Afrikaans.

“My elmboog, my elmboog,” kerm ʼn ander een in Kaapse Engels. “Hy het my elmboog opgefok.”

“Hei, ouens!” sê ʼn derde een. “Lionel reageer nie.”

ʼn Flitslig gaan aan.

“Bliksem!” raas iemand. “Af met die flits! Wil jy die hele donnerse spul Negers hier hê?”

“Maar Lionel…”

“Lionel is moer toe. Soos jy ook gaan wees as jy nie nou daardie flits…”

Die lig gaan af.

“Hy het my ook gekry,” sê ʼn ander een bitter. “In die arm.”

“En vir my in die nek!”

“Hei jy, daarbinne!” skree een van hulle op my. “Jou moer, pel, jou moer! Ek gaan nou daar inkom en jou stuk vir stuk uitmekaar skeur. Ek gaan jou bloed drink en die slet by jou spyker.”

“Julle het dit al probeer!” roep ek terug. “Goed uitgewerk, het dit? Vra vir Lionel wat dink hy!”

“Dit was niks persoonlik nie,” sê hy. “Maar nou is dit. Nou is dit persoonlik. Jou  moer as jy dink jy gaan hiermee wegkom.”

“Kom probeer weer,” sê ek. “Ons het ʼn haelgeweer.”

“Maar nie ammunisie nie, nè? Anders hoekom het julle dit nie gebruik nie?”

Wat, nou dat ek daaraan dink, ʼn goeie vraag is.

“Kakkerlakke skiet ʼn mens nie,” antwoord ek maar. “Mens trap hulle dood. Julle kakke is niks om ammunisie op te mors nie.”

“Goed gesê, Jood,” sê Joachim van bo af.

“Jy is so dood…” begin die wraaksugtige lat weer van buite af, maar voordat hy vir my kan verduidelik hoe onseker ons onmiddellike toekoms is, word hy onderbreek deur die geknetter van ʼn dieselenjin en ʼn wye, skerp lig slaan oor die teerpad uit en beweeg na die gebou se kant.

“EPS!” gil iemand. “Beweeg!beweeg!beweeg!”

Daar is ʼn stormgedreun van voetsole wat teen die beton van die sypaadjie klap.

“Julle daar op die sypaadjie!” dreun ʼn stem oor ʼn luidspreker, “bly waar julle is!”

Die bevel word alleryl verontagsaam en die dieselenjin se toonhoogte styg wanneer die voertuig oorgaan in agtervolging. Daar is ʼn duidelike Doppler-effek wanneer dit by ons gebouopening verbyjaag.

“Wat maak ons…” begin Dennis ietwat skril.

“Stil!” fluister Joachim gebiedend. “Miskien het van die bemanning uit die voertuig gestap.”

“Moet ons  nie hardloop nie?” vra Dennis.

“Ons wag eers!” fluister Joachim terug. “As EPS ons in die oopte vastrap, gaan ons sukkel. Stil net eers.”

Ek gaan sit op die trappe en die nag om ons is stil al word die geruis van die oproer al  hoe duideliker van die stad se kant af. My longe soek asem, maar ek dwing myself om sag en lank asem te haal, skielik angsbevange dat manne met dodelike skietgoed en verblindende ligte enige oomblik in die ingang gaan verskyn.

“Jood,” sê Joachim. “Kan jy by die muur  langs die ingang gaan staan? As EPS manne gaan instuur, gaan ek hulle skiet. Kyk of jy van hulle vuurwapens kan  kry, dan help jy skiet.”

“Ek weet nie hoe werk hulle gewere nie.”

“O, ek is seker wie ook al verskyn se geweer gaan reg wees om te vuur. Tel op, wys in hulle rigting en trek die sneller. As die geweer nie wil vuur nie, soek die veiligheidsknip. Dis gewoonlik by jou duim aan die linkerkant bo die handgreep. Jy is regshandig, nè?”

Ek kom versigtig regop en sluip in die donker tot teen die muur langs die opening en trek myself so plat as wat ek kan daarteen. Dit kan sekondes wees wat ek daar gestaan het, of ure, of miskien het tyd net opgehou, maar ek het elke spier styfgetrek, my oë nie eenmaal geknip nie en so oorgehaal soos ʼn slagyster gestaan en wag totdat Joachim uiteindelik heel kalm sê:

“Goed. Ek dink ons is veilig vir eers. Ons kan nie hier bly nie.”

“Ek is reg,” sê ek. “Sê net wanneer ons moet beweeg.”

“Voor ons gaan,” sê Joachim, “moet ons net eers na my wond kyk.”

“O Joachim!” sê Micki verskrik. “Watse wond?”

“Die spies,” sê Joachim. “Ek is bevrees ek was in die ellendige ding se pad.”

“Joachim! Ag, Joachim!” kerm Micki.

“Ontspan, my dier,” sê Joachim. “Regte Hollywood-wond, hier by my regterskouer.”

In die donker begin hy neurie.

La Forza del Destino.

(Lees vervolgens Bodem boek II, 6.)

4 thoughts on “Bodem boek II, 5: Die trappe”

Maak 'n opvolg-bydrae