Bodem boek II, 4: Die nagvlug

Deel op

bodemII‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Bodem I is reeds volledig.

Lees eers Bodem boek II, 3.

Daar is vier van ons en ons beweeg soos rotte deur die krake van ʼn gevalle stad. Agter ons kan ons reeds die bloedstollende oorwinningkrete van die swart gepeupelstroom, die rammelgeweervuur van terugvallende EPS-lede en die oorblyfsels van die veiligheidsmagte, die gebrom van die enjins van motors waarin mense te laat probeer om oor Chapman’s Piek na veiligheid te vlug, die ontstelde naggeblaf van honde in hulle verwarring en die eerste gille van oorweldigte mense hoor.

Ná Joachim se dringende woorde in my oor, het ek sonder meer opgestaan en hom gevolg. Hy het eers in die restaurant ingegaan, sy musiekstokkie uit die hoëtroustel verwyder, sy aandbaadjie uitgetrek, sy strikdas losgemaak, dit in die aandbaadjiesak gesteek en toe sy spierwit hemp uitgetrek. Onderaan het hy ʼn swart T-hemp aangehad. Hy het sy baadjie weer aangetrek, die swart kuil op sy kop gesit, ʼn bultende donkerbruin leersak met ʼn skouerband agter Luigi se toonbank gaan haal en homself gereed om te vertrek verklaar.

Ek het sy klerevoorbeeld gevolg sover ek kon en my swart baadjie uitgetrek. Ek het nie ʼn T-hemp soos hy aangehad nie en vir ʼn oomblik was ek nie seker wat om te doen nie. Die sagte beligting in die restaurant is deur kerse en lanterns verskaf en toe ek in my onsekerheid opkyk, sien ek myself in die groot spieël agter die toonbank se weerkaatsing: ʼn Man in sy vroeë dertigs, wye gesig, blonde stoppelhare en bakore; dik stoeierskouers, lang arms en ruwe hande wat deur nette, toue en vislyne gebrei is.

“Trek jou baadjie net so aan,” het Joachim gesê toe hy vir ʼn oomblik oploer van sy inventaris in die drasak.

So ek trek die koel, gladde materiaal oor my en maak die boonste knoop vas.

“Ons moet gaan!” het Dennis gejaagd gesê. “Hulle is reeds by die Parade. Die biblioteek brand. Nou nie meer lank nie.”

Luigi het vanuit die agterste dieptes van sy restaurant verskyn met ʼn langwerpige voorwerp in bruin papier toegedraai en ʼn geel plastiekinkopiesak.  Hy het dit in Joachim se hande gestop.

“My vriend,” het Joachim gesê. “Hierdie is nie ʼn oomblik vir geskenke nie. Groet my en laat ons gaan.”

“Dis nie ʼn geskenk nie,” het  Luigi in sy Engels met die Italiaanse ritmes en glyklanke gesê. “Dis ʼn guns wat ek vra. Dit was my oupa se pa sʼn, van Castelamare, op Sisilië. Ek vra dat jy dit sal oppas en as God dit gee dat ons mekaar weer sien, sal jy dit vir my teruggee.”

Joachim het die strikkies van die lyn wat die bruinpapier oor die voorwerp vasgetrek het,  losgemaak. Die papier het weg geval en hy het met ʼn ou, kort dubbelloophaelgeweer in sy hande gestaan; so oud dat dit nog eksterne hane gehad het.

“A!” het Joachim met opregte verwondering gesê. “ʼn Lupara.”

“Jy weet wat ʼn Lupara is?” het Luigi gevra.

“Die tradisionele wapen van La Cosa Nostra? Ek lees.”

“Jy is ʼn merkwaardige man,” het Luigi gesê en die strepiesvoorskoot van sy lang lyf losgeknoop en oor sy kop getrek.

“Gaan jy dit nie nodig hê nie?” het Joachim gevra.

“Ek kan dit nie saam met my vat nie,” het Luigi weemoedig verduidelik.

Een van die strenger reëls wat EPS ingestel het, was ʼn algehele verbod op vuurwapens in privaatbesit. In hulle nimlike styl was die straf vir dié wat met een betrap is, summiere teregstelling.

“Jy doen my ʼn groot eer aan,” het Joachim gesê.

“My oupa moes Suid-Afrika toe vlug omdat hy sy suster se eer met hierdie wapen verdedig het. Eendag, wanneer ons mekaar weer sien, kook ek vir jou pasta en vertel jou die verhaal.”

“Ek sien uit daarna.”

Vb20140226
Lees Bodem I in die formaat van u keuse deur hier te klik!

Die twee het omhels en nadat hulle weggetree het van mekaar af, het Joachim die lope geknak en twee vet rondtes in die oop bekke daarvan gedruk, die geweer toegeklap en die spanning van die hane se vere met sy duim getoets.

“Kom!” het hy vir my en Dennis gesê en ons is daaruit.

(Later, volgens ons inligting, het Luigi en sy afgesloofde vrou, Giulia, dit tot by Llundudno gemaak waar hulle een laatnag deur ʼn rubberboot opgepik en na ʼn groot motorjag geneem is. Hulle het ongeskonde in Sisilië opgedaag, ʼn bewys dat die Italiaanse Famiglia nog springlewendig is en, net soos hulle in geslagte nie ʼn onreg vergewe nie, ook die afstammelinge van getroue lede onthou.)

ʼn Halwe blok van die restaurant af het Micki by ons aangesluit en ek was baie tevrede, want ek het baie gedagtetyd aan haar afgestaan in slaapontwykende nagte in my hut teen die kloofhange by Smitswinkelbaai.

“Ek kom saam,” het sy gesê, nie vir my nie, maar vir Joachim.

Nou ja, hy was die man met die haelgeweer.

“As jy kom, kan jy nie weer omdraai nie,” het Joachim vir haar gesê.

“Nietemin. Ek kom saam.”

Ek sou haar nie kon wegwys nie. Joachim ook nie.

Nou loop ons met vinnige, versigtige treë deur Kaap Mandela wat eens Jan van Riebeeck se Goeie Hoop was. Joachim is voor, behoedsaam, maar skynbaar ook heeltemal seker van waarheen hy gaan, Micki links agter hom met ʼn gemaklike trippelgang van klein voetjies en aan sy ander kant, Dennis, met die aluminiumtas in albei sy arms soos ʼn baba in die hoogvoorposisie. Ek loop ʼn tree agter hulle en probeer elke geheime beweging in die donker raaksien en elke geluidjie ontleed.

Ek het voorgestel dat ons my ou Ford-bakkie vat, maar Joachim het simpatiek en ferm gesê dat dit nie die voertuig vir hierdie nag is nie. Ons is by die voertuig verby en ek het my rugsak agter uit die kappie gehaal, myself in die skouerbande ingewikkel en weggestap van my geroeste ou staatmakerkar, sonder om weer om te kyk.

Joachi lei ons noord en wes, bolangs deur die besigheidsdistrik. Die nag was leeg om ons. EPS se aandklokreël en patrollies het die strate skoongevee van mense. En tog was die  menslike rotte reeds aan die werk, die meer geslepe en geharde opportuniste het, soos ons, teenaan mure, in skaduwees, om hoeke geskarrel, op soek na ʼn gleuf om in te dring en te plunder.

Hierdie rotte is veelsydig, nie net op snuffel vir krummels wat oorgebly het nie, maar ook bereid om saam te span in hinderlaag vir die verdwaalde wat onbedag deur die duisternis kruip op soek na uitkoms.

Ek was nooit gemaklik in Kaap Mandela nie. Dit was asof die vervalle stad skepties was oor my gretigheid om vriende te wees. So, as ek nou daaraan dink, kan ek nie met sekerheid sê waar ons was nie; net iewers in  die middel van ʼn straatblok, tussen die rommel en brokstukke wat aan die voet van die hoë, reghoekige gebou gestort is.

Hulle het gewag tot ons mooi in die fuik is, toe verskyn hulle voor ons, ʼn halfdosyn vinnige, doelgerigte figure, blank en kleurling saam, met onheiligheid voor oë. En agter ons sluit nog vier ons ontsnaproete af.

Die skok trek my koud en styf aan die binnekant. Dennis maak ʼn binnensmondse kermgeluid en Micki hyg sodat haar asem effens fluit.

Ek draai om na die bedreiging agter ons, moedeloos bereid om my te verset teen hulle, sonder ʼn wapen, nie eers ʼn halwe besemstok of ʼn vismes by my nie. Hulle kom in ʼn halfmaanformasie aan en ek sien ʼn piksteel en ʼn lengte ketting in die flou lig van ʼn veraf straatlig. Ek probeer taktieke uitwerk en besluit om na regs te beweeg sodat ek met bietjie geluk ʼn kort tydjie sal hê om teen die figuur op hulle linkerflank op te tree. Ek is fiks en het vermoëns, maar my weerstandskuns berus daarop dat ek my hande op my teenstander moet lê; dán kan ek sy gal werk, maar hoe lank het ek voordat die ander ombeweeg om my van agter te pak. En wat gaan voor my gebeur? Hoe gaan ʼn akteur, ʼn elektroniese ingenieur en ʼn popfynmeisie in ʼn brutale skermutseling vaar?

Dan hoor ek vir Joachim.

“Hmm,” sê hy bedaard. “Hier is nou vir jou ʼn situasie.”

“Joachimmm!” pleit Micki.

Die vier begin na my beweeg en wanneer hulle eers in aantog is, kom hulle vinnig, doelgerig, dreigend.

Ek hoor hoe Joachim die haelgeweer se hane terugtrek.

“As ek sê storm,” beveel hy kalm, “dan storm julle…

“… stor-HIMMM!”

En toe storm hy vorentoe.

(Lees vervolgens Bodem boek II, 5: Die trappe.)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.