Bodem boek II, 11: Die bres

Deel op

bodemII‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Bodem I is reeds volledig.

Lees eers Bodem boek II, 10.

ʼn Wag verskyn aan die anderkant van die hek, behoedsaam, mik-mik soos ʼn koedoekoei by ʼn watergat. Hy is gewapen, nie met ʼn vuurwapen nie, want dié is reeds maande lank deur EPS verbied, maar met ʼn halfmeterlang skietding met ʼn regop drommetjie bo die loop en twee handgrepe. Dis ʼn blertsbalroer.

“Jood,” beveel Joachim, “vat die haelgeweer en dek my.”

Ek steek my regterhand oor my linkerskouer agtertoe en vat die Lupara by hom. Ek druk die lope deur die siggleuf voor my.

“Nie daar nie, Jood,” sê Joachim. “Staan in die toring.

“Ek gaan met die swaer onderhandel.”

Ek maak seker die ratte is in neutraal, draai om en klouter oor die rugleuning van die bestuurdersitplek en teen die sitplek op wat Joachim ontruim het. Teen die tyd wat ek regop in die toring staan, is Joachim reeds besig om oor die pad na die hek aan te stryk.

“Stop!” skree die wag en bring die blertsbalroer teen sy skouer.

Ek volg sy voorbeeld met die Lupara en hou my duim op die hane agter die dubbellope op die geweer. ʼn Blertsbalroer werk nie met kruit nie maar met saamgeperste lug. Deesdae laai die gebruikers dit egter met soliede glasveselballetjies of selfs staalghoens wat van dit ʼn wapen maak wat mens nie durf minag nie. Met ʼn vuurtempo van ʼn paar honderd rondtes per minuut kan dit vir Joachim op so ʼn kort afstand voos slaan. Ek is gespanne. Dennis is gespanne. Micki kan nie kyk nie. Die wag is gespanne. Net Joachim is op die oog af sonder enige benoudheid.

“Spaar jou koeëls!” sê hy vir die wag in Engels.

Hy hou sy linkerhand hoog en sy regterhand, palm na buite, voor sy borskas.

“Bly net waar jy is!” waarsku die wag weer.

“Ek wil net gesels,” sê Joachim. “Ons het ʼn situasie hier.”

“Óns het nie ʼn situasie nie, maat,” sê die wag. “Jý het ʼn situasie. Draai om, klim terug in jou tenk of wat de hel dit ook al is en gaan weg.”

“Ek kan nie weg gaan nie,” sê Joachim. “Ons het nêrens om heen te gaan nie.”

“Gaan terug waar jy vandaan kom.”

“Niks daar nie,” sê Joachim. “Net vlamme en gewere. Baie vlamme. Baie gewere.”

“Hartseer besigheid! Nou gaan nou!”

Joachim het tydens die gesprek nie vir ʼn oomblik stilgestaan nie en is nou oor die teerpad en beweeg oor die gruisskouer na die hek.

“Ons wil hier inkom.”

“Ja. Dít gaan nie gebeur nie.”

“Ek is van EPS.”

“Ek werk nie vir EPS nie.”

“Kyk, pel, ek is net gaaf met jou en ek hoef dit nie te wees nie. Kom ek probeer weer: Ons gáán nou hierdie perseel betree, met jou samewerking of oor jou dooie liggaam. Ek bedoel dit. Op my ‘tenk’ wat nie ʼn tenk is nie, maar na genoeg vir die doeleindes van ons gemoedelike bespreking, is ʼn 37-millimeterkanon. My kanonnier het ʼn moeilike nag agter die rug en hy is senuweeagtig.

“Hy is oorgehaal, styf, soos ʼn muisval. Jy weet daardie pennetjie wat ʼn muisval oorgehaal hou? Syne staan al krom gebuig en dit raak net-net. Blaas net daarteen en BAM! hy gaan af. En as hy afgaan, gaan hierdie hek en jy daarmee saam verdwyn.”

“Ek waarsku jou, ek vat jou saam met my, ek waarsku jou!”

“Nee, my vriend. Jy gaan my dalk vol duike en knoppe skiet met jou Velocex 3 000, maar jy gaan my nie ‘saamvat’ nie.”

“Gaan nou net! Hier is niks vir julle nie!”

“O, maar daar is. Ek dink ons kan hierdie perseel beveilig en veiligheid, my goeie, nuwe vriend, dit is iets baie skaars, baie waardevols, die verskil tussen lewe en dood. Jou lewe, jou dood.

“Kyk, kom ek lig jou in. Dis verby. Die magte van duisternis het gewen. Oor ʼn uur, twee ure van nou af, wie weet wie hier gaan opdaag. Miskien jou rasgenote in die vorm van ʼn paar taxi’s vol American Juveniles. Miskien ʼn honderdduisend woedende, bloeddorstige Negers al die pad uit Gugulethu. Gaan jy jouself verdedig met ʼn tenkie vol saamgeperste gas en ʼn paar blertsballe? Jy weet hoe dít gaan uitwerk.

“Ek het ʼn pantserkar met ʼn kanon en ʼn masjiengeweer en ʼn halfton ammunisie. Ek het ook ʼn radio en as ek vir my makkers in húlle pantserkarre roep, is daar binne ʼn uur nog ses van hulle hier.

“Dis eenvoudig, vriend, wil jy leef en as jy nie wil leef nie, hoe wil jy gaan? In ʼn rookwolk wanneer my kanonnier jou met sy 37 mil skiet of in stukke as die minsame burgers van Gugulethu hier opdaag?

“Kies my vriend, maar kies net vinnig. Ons moet ingrawe.”

Die wag huiwer, bly roerloos vir ʼn oomblik, laat sak die blertsbalroer.

“Ek kan nie die hek oopsluit nie,” sê hy.

“Kom aan! Ja, jy kan, jy weet jy kan.

“Kyk, ek weet jy doen jou werk en ek waardeer jou integriteit en jou werkgewer maak op jou staat, maar jy moet weet dat alles verander het. Die wêreld het verander, van gister af tot nou…”

“Dis nie dít nie,” sê die wag. “Ek het nie die sleutel nie.”

“Hoe bedoel jy jy het nie die sleutel nie?”

“Ek het nie die sleutel nie!” sê hy met groot nadruk.

“Jy bedoel… hulle het jou hier toegesluit?”

Die wag, ooglopend diep ongelukkig, knik sy kop.

“En hoeveel van julle is hier?”

“Vier: Drie mans en ʼn vrou.”

“Hoe lank is julle al hier toegesluit?”

“Dis nou amper ʼn week.”

“Pel, ou maat, vriend, hulle het julle verlaat. Jou base is lankal nie meer in die omgewing nie.”

“Bliksems!

“Maar ek het nog steeds nie die sleutel nie.”

Joachim skyn met sy flits op die hekslot. Dit is ʼn ingeboude slot; nie iets wat mens met ʼn skroewedraaier gaan breek nie.

“Hoe nou gemaak?” vra die wag. “Hoe gaan julle die hek oopkry?”

“Nie ʼn probleem nie! Nie ʼn  haakplek in die minste nie. Ek het ʼn slotsmid gebring.”

“Jy het?”

“Jood!” skree Joachim, maar ek het reeds die toring verlaat en is besig om myself agter die stuurwiel in te wikkel.”

Joachim draai na die wag toe.

“Jy beter eenkant toe staan.”

“Ja. Vir wat?”

“Sodat die hek nie op jou val nie. Dit lyk swaar.”

Ek jaag die toere op en laat skiet die koppelaar. Die Merk Vier kom doelgerig maar nie juis blitsig nie uit die blokke en rammel vorentoe. Deur my loergleuf word die hek vinnig groter en hoe groter dit word, hoe dikker kom die staal voor. Hierdie is een robuuste staalhek!

“Hou vas!” gil ek vir Micki en Dennis, buig my arms effens en span hulle so styf as wat ek kan.

Merk Vier! Ek het die dikveltante en haar aansienlike massa gruwelik onderskat. Ons tref die dubbelhekke presies waar hulle bymekaar kom en dit is met ʼn gruwelike lawaai. Dis asof die pantserkar hik, maar dit beur gewillig steeds vorentoe. Staal buig soos warm teerstringe en beton verkrummel wanneer die boute losbreek. Vir ʼn oomblik hang die gebuigde hek oor die voorkant van die rooi Merk Vier, dan steek ʼn deel vas en die pantserkar se wiel rol oor dit.

Ons is in! Ek pomp die versneller twee, drie keer vinnig en die enjin snou gemoedelik.

“Nogmaals deur die bres, liewe vriende!” jubel Joachim.

Ons is in ʼn reghoekige parkeerterrein en voor ons is drie, lae siersteengeboue – ʼn administrasiegebou, ʼn stoorkamer en ʼn klein werkswinkel. Die ligte van die Merk Vier is op die kantoorvoordeur wat oopvlieg en daaruit kom nog ʼn wag gestorm, sonder hemp en met broek wat los gaap. Agter hom kom ʼn verskrikte vrou wat ook háár uniform probeer regtrek. Die man steek vas en lig die blertsbalroer wat hy by hom het. Dis toe wat Dennis, goeie ou Dennis, die kanon laat knal. Dit is ʼn plat klapgeluid, skerp en hard, en vir bykomende effek steek ʼn skerp assegaaivormige vlam voor by die loop uit.

Die wag laat val sy wapen en stoot sy hande in die lug soos ʼn krieketskeidsregter wat ʼn ses beduie. Agter hom sink die vroulike wag op haar knieë neer en vou haar arms oor haar skedel.

“Is julle mal?” skree die eerste wag terwyl hy armswaaiend van die betonmuur af aangestap kom. “Is daar iets in julle koppe wat raas? Wat gaan jy doen? Neongroen kolle op ʼn tenk skiet?

“Hierdie mense is hier om te help!”

“O,” sê die tweede wag.

“Sit neer jou arms! Jy’s nie in ʼn oorlog nie!”

“Ja,” stem Joachim saam. “Sit neer jou arms. Netnou bly hulle so staan.”

Hy stap nader en die wagte sluit by hom voor die Merk Vier aan.

“Ek is Hans-Joachim Marseilles Bekker,” sê hy en steek sy hand uit. “Brigadier Hans-Joachim Marseilles Bekker.”

Die lyk nie of hulle weet of hulle op aandag moet staan en of hulle moet salueer nie, en eers die een en dan die ander steek hulle hande eerbiedig uit en skud die “brigadier” se hand.

Ek sit en bekyk die gebeurtenis deur my loergleuf. Ek het Joachim leer ken as iemand wat nie veel gesag afdwing nie. Mense het maklik agter sy rug vir hom gegrinnik. Sy reputasie was van iemand met min ambisie en minder drif en nog minder vasberadenheid. Hy het van een swakbetalende werk na ʼn ander gedwaal tot hy uiteindelik deur ʼn vriend aangestel is om ʼn tweedehandse boekwinkel op te pas. Daar het hy weinig meer gedoen as om agter die toonbank te sit, te lees en met interessante klante of mooi vrouens te klets. Die winkel se toestand en boekhouding het so versleg dat die goeie vriend vir Joachim uiteindelik moes vra om ʼn loopbaanaanpassing te maak.

Dáárdie Joachim Bekker staan nou in die ligkolle van ʼn pantserkar wat hy amper uit die lug uit getoor het, nog steeds in sy aandpak, met ʼn outentieke spieswond in sy skouer en daar is  nou ses mense wat heeltemal seker is dat hy weet wat hy doen omdat hý so ooglopend oortuig is daarvan.

Hy draai na die Merk Vier toe en wuif vir my:

“Jood!” roep hy. “Jood, kom hier.”

Ek skakel die Merk Vier af en die enjin proes, hik en word stil. Dis die skielike stilte wat my laat besef hoe lawaaierig die enjin was. Die vensterplaat aan my regterkant vou weg as ek daarteen druk en ek haak my hande om die bokant van die vierkantige ruimte en wurm myself aan die  kant van die  kar uit.

“Jood,” sê Joachim toe ek na hulle toe stap. “Ontmoet vir Dermot, Reginald en die jong amasone is Tabitha.

“Julle, ontmoet vir Joggie Leibrandt.”

Ons skud hande en maak die regte sosiale geluide. Etiket verdamp nie eensklaps uit ʼn mens se sisteem tydens ʼn katastrofe nie en duik met die geringste geleentheid op.

“Jy het gesê daar is vier van julle?” vra Joachim vir Reginald, die wag wat by die hek was. “Ek tel net drie.”

“Daar is mos nog Boet ook,” sê Reginald en Afrikaans is nou duidelik die taal van die geleentheid. “Van die Kraaifontein af, maar hy is nou, kan jy sê, onder die prop en hy slaap homself in ʼn babie in in die tool-kamer.”

“Ek sien,” sê Joachim. “Menere, ons het min tyd, so as julle vir my ʼn toer van die fasiliteit sal gee?”

Die wagte brom instemmend.

“Julle besigheid, as ek reg is, is beveiligde stoorruimte?”

“Citadel Safe Storage het driehonderd-en-dertig toesluitbare stoorruimtes wat wissel van drie-by-twee-meter sluitkamers tot vier-by-agt-meter eenhede,” resiteer Reginald.

Die ander gaap hom vir ʼn oomblik aan.

“Jy moet regtig ʼn hobby kry,” sê Tabitha.

“Ma’ ek het mos een,” sê Reginald.

“Om brochures te lees, is nie ʼn hobby nie,” sê Dermot. “En om dit te memorize? Nee man!”

“En Tabitha is jou hobby!” verweer Reginald homself. “At least kan ek nie die brochures pregnant kry  nie.”

“Vriende!” val Joachim hulle vinnig in die rede. “As ons na die fasiliteit  kan gaan kyk?”

Dermot begin iets sê, hou sy mond, draai sy kop effens en luister.

In die nag word ʼn enjingeluid hoorbaar en dit groei in volume, ʼn hees breiklank van horisontaalopponerende silinders. Ons kan deur die gaping waar die hek was, sien hoe hoofligte op die teerpad aanskuif. Die motor jaag grommend by die perseel verby en dan is daar die fluitgeraas van bande wat vasgerem word oor ʼn teerpadoppervlakte. Die enjingeraas groei weer en sekondes later seil die motor agteruit by die motorhek verby. Dit rem weer skerp en spring nogmaals vorentoe en draai by die werf in.

Dit is ʼn daklose Volkswagen Kewer vol getatoeëerde motorfietsers.

(Lees vervolgens Bodem boek II, 12.)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.