Bodem boek II, 12: Die lys

Deel op

bodemII‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Bodem I is reeds volledig.

Lees eers Bodem boek II, 11.

Die Volkswagen se enjin verstil en vier van die insittendes klim met stywe, bewerige bene af. Ylbaard, wat die kar bestuur het, gaan sit skielik by die voorwiel, so vinnig dat sy breë sitvlak teen die teer pof. ʼn Passasier gaan staan by die motor en stut homself met stywe arms op die modderskerm en laat hang sy groot, woesteharekop vooroor. ʼn Kort, skraal mannetjie loop in ʼn kort kring. Hy het baie gesigshare – lang, vol baard en afdrupsnor – maar sy kop is blinkgeskeer en ʼn seekat is daarop getatoeëer en die tentakels hang soos wangbaarde langs sy slape af tot by sy kakebene. ʼn Rooikopvriend begelei hom, arm paaiend om seekatskedel se nou skouers.

My twee slagoffers bly in die Volkswagen sit; gebreekte ribbes voor en spieswond agter tussen die los gereedskap.

Joachim stap tot by Ylbaard en kyk af na hom.

“Welkom!” sê hy.

Ylbaard loer onder sy oogbanke op sonder om sy kop te lig en waai floutjies met een  hand.

“Julle lyk gestres?” sê Joachim  in Afrikaans.

“Maat,” hyg Ylbaard in Engels. “Maat.”

“Gee jy om as ons Afrikaans met mekaar praat?” vra Joachim. “Jy sal miskien dink dis nie nou die tyd om oor identiteit begaan te wees nie, maar ek wil nie hê ons moet met gewoontes begin wat later moeilik gebreek sal word nie.

“Het jy al agtergekom dat as vier Afrikaners en een Engelssprekende bymekaar is, praat almal Engels. Afrikaners is só beleefd, maar natuurlik ontken almal dit.”

Hy gaan voort sonder om vir ʼn antwoord te wag: “Ek het gedog die reëling is dat julle by ons bly?”

“My vriend,” sê Ylbaard in ʼn skaflike Kaaps-Afrikaanse aksent, “jy verstaan nie. Toe ons by julle verbygery het, toe sê ek nou gaan ons. En ek roer die Volla en die Volla gaan. Weet nie wat so bebliksemd met hom is nie, maar hy maak gatskoon. Nog nooit ʼn Volla gery wat gat so skoon maak nie, en ek kén Vollas.

“Jy weet as jy ʼn masjien tussen  jou bene of onder jou gat het en die ding wil net ry? Jy weet wat ek meen? En jy begin dinge doen wat jy nie moet doen nie? Jy weet, soos die kar of die baaik kom in jou kop en hy besluit vir jou? Dís hoe dit was. Die Volla wil net gaan en toe sê ek: Kom ons gaan!

“Hoe moet ek vir jou sê? Toe ons eers ry en die Volla gaan en gaan net vinniger en die manne skree en die wind is oral is dit soos niemand kan ons vang nie, niemand kan ons vang nie, jy sien wat ek sê? En toe is dit soos alles is reg met alles, reg met die wêreld, reg met die lewe. Vir die eerste keer in weke was ek nie benoud of bang of opgestres nie. Niemand kan ons vang nie. Solank as wat ons in die Volla is, is ons orraait. Vriend! Jy verstaan nie!

“Ek dog dis soos ons kan net aanhou ry en ry en ry en ry. En ek dog ons ry noord, hou net aan ry tot by Plattekloof en ons draai daar links en ry wyd om na Melkbosstrand en langs die kus af terug Table View toe om ons mense te kry.”

“En hoe land julle toe hier?”

“Die pad het opgehou. Ek bedoel, net ʼn paar klieks verder toe is hulle oor die pad, net mense waar jy kyk, en hierdie… hierdie groepe het gewere en hulle skiet, hulle ry in taxi’s, bakkies, trokke, noem dit. En hulle skiet op alles, almal, kyk nie wie of wat hulle skiet nie en daar is karre oral, probeer enige kant toe wegry.

“Toe draai ons om.”

“En hoe kry julle ons toe weer?”

“Ons het julle gesien Paardeneiland toe draai. Ons vat toe agterna en ons was nie ver agter julle toe julle daai… wat was daai? Dit het my gelyk soos ʼn street party wat Valkenburg gegooi het. Ons sien toe, hei, dis hel baie mense. Jy kan deur dit gaan as jy een van daai karre van julle het. Maar nie met ʼn oop Volla nie. Hulle sal ons doodmoer met bottels en klippe en Mollotofs en donner alleen weet wat nog. Toe kry ons pad deur Montagu Gardens.

“Daar was ook mense, baie, maar hulle was looters..?”

Hy kyk vraend op na Joachim wat hom reghelp: “Plunderaars.”

“Ja. Plunderaars. Toe hulle sien ons ry en soek nie iets om te… plund?… nie…”

“Plunder.”

“… plunder nie, toe los hulle ons.

“Maar julle is toe weg en dit lyk nie goed in Table View af nie, toe dink ek ons vat die N7 en… dubbel terug met die kus af. En toe ons nog so ry, daar is julle. En hier is ons.”

“En hier is julle.”

Die ontstigte klein mannetjie het tydens Ylbaard se verslag al hoe vinniger in al hoe kleiner sirkels geloop tot hy naderhand amper ʼn tiekiedraai maak. As hy verligting vir sy gelaaide emosies gesoek het, het hy dit nie in daardie kringetjie gevind nie en met ʼn hartstogtelike swets spring hy na die Volkswagen toe en gee die groot agterband ʼn liederlike skop. Die geweld moes hom laat  beter voel het, want hy wil nog daarvan hê. Hy gryp ʼn moersleutel van die oop Volkswagen af en val die voertuig daarmee aan. Hou vir hou hamer hy die stomme voertuig teen die kant.

Sy lang kameraad probeer hom aan sy skouers vang, maar hy tol weg tot langs die voorkant van die kar en slaan vinnig drie duike in die bagasiekap.

“Hei!” sê Ylbaard. “Hei!”

Die lang man vang die kortmannetjie met sy arms om die borskas en sleep hom agtertoe.

“Jis pappie,” sê hy. “Hoekom moer jy ons kar so?”

“Nggaah!” skree die kort mannetjie. “Nggaah!”

“Jy maak nie sin nie pel,” sê die lang man.

Die kleintjie haal diep asem en ontspan.

“En nou, Ninja?” vra Ylbaard.

“Ek moes iets moer!” verergde een. “Dit was óf iets, óf iemand.”

“En hulle sê daar gebeur niks in Milnerton op ʼn weeksaand nie,” merk die lang een op.

Dit laat Joachim lag. Hy steek sy hand na Ylbaard  uit.

“Ek is Brigadier Hans-Joachim Marseilles Bekker,” sê hy. “Jy kan my Brigadier noem.”

“Genuine?” vra Ylbaard. “Regtig? Jy ʼn brigadier soos in die weermag en alles?”

“ʼn Brigadier ja. Nie van die ou uitgediende Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag nie. Hoof van my eie leër.”

“Jy het ʼn leër? Hoe kry ʼn mens ʼn leër?”

“Jy versamel een.”

Ylbaard sit vorentoe op die grond en  kyk rond.

“Waar is hulle?”

“Hulle is nog nie hier nie. Maar ons kan nie rondsit en vir hulle wag nie. Ons  moet voorberei.”

“Wat voorberei?”

“Ons  moet hierdie perseel beveilig.

“Ek was hoflik genoeg om myself voor te stel. Jy dink nie jy moet my voorbeeld volg nie?”

“Jammer, man. Ek is…”

“Maak nie saak nie. Jy sal altyd vir my Ylbaard bly.”

“Ylbaard?”

Joachim kyk na Reginald, die wag.

“Julle het ʼn kantoor hier?”

“Ja Brigadier.”

“Kan julle water kook?”

“Ons het ʼn gasstoof.”

“Ek dink ons almal het ʼn teetjie nodig. Wat dink jy?

“Kry jou manne,” sê hy vir Ylbaard en kyk dan na Dermot: “Jy is op wag by die hek.”

Joachim, Micky, Dennis, Reginald en Tabitha stap in die rigting van die kantoor met Ylbaard net agter hulle. Die ander motorfietsers help hulle beseerde makkers versigtig uit die Volkswagen. Ek gee hand met die een wie se neus ek ingeduik het. Hy kners op sy tande en trek sy asem skerp in toe ons hom uittel. Ek gaan staan voor hom.

“Joggie,” sê ek en hou my hand uit.

Hy is ʼn halwe kop korter as ek en kyk my op en af, sug en vat my hand. Daar is krag in sy greep.

“Kip,” sê hy.

Ek beduie na sy gesig en ribbes: “Jammer daaroor.”

Hy trek sy skouers op en snak onmiddellik na sy asem.

“Dit gebeur. Die groen lig… Ek was van balans af.”

“Jy skop goed.”

“Nie goed genoeg nie.”

Hy kyk na my: “Jy kan jouself hanteer. MMA?”

“Bietjie. Eintlik stoei.”

“Ek soek ʼn herontmoeting, wanneer ek beter is.”

“Jy het dit.”

Hy loop stadig na die kantoor en ek val langs hom in.

Die kantoor is klein en daar is ʼn groot lessenaar daarin. Herr B sit daaragter, koffiebeker tee in die hand, voete op die blad. ʼn Batterylantern staan op ʼn hoë metaalliaseerkabinet en kaats lig van die stoomlinte uit die koppies af.

Dennis, Micki en Ylbaard het plek in die kantoor gevind. Reginald staan in die deur reg voor Joachim en die res van ons staan styf agter hom in die lang, nou ontvangsportaal.

“330 eenhede?” vra Joachim vir Reginald.

“En 23 containers… ûhm houers?”

“Spoorvraghouers.

“Is daar enige iets in?”

“Ek sou mos sê so in helfte.

“Die transport laai dit hier af, ons pak dit uit in stooreenhede. Soms bring hulle leë houers, dan laai ons dit en hulle kom haal dit.”

“Weet julle wat in die houers is?”

“Ék weet nie. Ek is sekuriteit. En ons werkers sal mos eers weet as hulle die vrag uitpak?”

“En die stooreenhede?”

“Die stooreenhede, hoe?”

“Weet julle wat in die stooreenhede is?”

“Dis mos nie ons se besigheid nie. Dis private… privaat. Mense kom, betaal hulle deposito, pak self hulle goed in die eenheid, sluit dit met hulle eie slot. En as hulle eendag met ons klaar is, kom hulle, sluit oop, pak hulle se goed en vat pad met hulle se goed.”

“Reginald!”

Joachim grinnik: “Kyk, ek weet mos hoe dit is. Julle mense hou mos julle oë oop. Julle praat. Julle leer die gereelde gebruikers ken. Julle skinder oor hulle.”

Reginald trek sy skouers op.

“Die rede hoekom ek vra, Reginald, is as ons wil oorleef gaan ons… voorrade nodig hê.”

“Hoe bedoel Brigadier nou.”

“Jy weet wat ek bedoel. Ek wil in daardie eenhede en vraghouers gaan kyk vir goed wat ons kan gebruik om te oorleef.”

“Soos wat se goed, nou?”

“Wapens, om mee te begin. Vuurwapens verkieslik.”

“Ons kan mos nie nou gaan en ander mense se eenhede oopmaak en alles nie?”

“Ons het nie  ʼn keuse nie.”

“Joachim!” sê Micki onverwags. “Dis mos… oneties; dis nie reg nie!”

“Ek verstaan nie?”

“Dis nie ons goed nie!”

“Nou wie sʼn is dit?”

“So wat jy sê, is dit is res nullius?”

“Ek hou van ʼn mooi vrou wat so vinnig leer.”

Dan weer aan Reginald: “ Ons kort vuurwapens. As daar nie vuurwapens is nie, soek ons iets waarmee ons kan wapens vervaardig.”

“Soos watse goed?”

“Enige chemikalieë. Al is dit huishoudelik. Om die waarheid te sê, ons moet alle huishoudelike skoonmaakmiddels bymekaar maak. Ammonium, soos Handy Andy; gelatien, vloerwaks, selfs kookgoed. Jy sal verbaas wees watse skouspelagtige effek jy met doodgewone koeksoda en asyn kan kry.

“En dan chloor, swembadsuur, kunsmis. Enige brandstof. Diesel. Paraffien.

“Verder het ons kos nodig.”

“Waar sal daar nou kos wees?”

“Ek dink ons sal almal nog verbaas wees om te sien wat mense hier toegesluit het. Daar móét blikkieskos wees. Mieliemeel. Droë rantsoene. Selfs hoenderkos of troeteldierkos. Gebottelde water.

“Maar dink eers wapens. Vuurwapens, chemikalieë, maar ook pikke, grawe, messe, ntjakoestokke, knuppels, skokstokke, ketties, boë, kruisboë, pylgewere. Hierdie is die Kaap, magtag, daar móét pylgewere wees. Toue, kettings, kabels, kraggereedskap.

“Ons soek medisyne, verbande, klere. Nie een van ons het baie klere saamgebring nie en meeste het die klere wat hulle aan hulle lywe het.

“Maar weereens: Om mee te begin, soek ons wapens of iets waarmee ons wapens kan aanmekaarflans.

“Ylbaard?”

“Brigadier?”

“Julle is ʼn vervlakste motorfietsbende?”

“Ja brigadier. Skuus brigadier.”

“Motorfietsers is goeie motorwerktuigkundiges. Wie van julle is die beste?”

“Solly. Die een met die gat in die been. En Kip.”

“Watter een is Kip?”

“Die een met die gebreekte ribbes.”

“Liewe Valhalla!

“Jood!”

“Ja?” roep ek terug.

“Volgende keer, maak dié seer wat nie nuttig is nie.”

“Het jou.”

“Nou goed,” sê Joachim. “Ons het nie tyd om nou deur 330 eenhede en twee dosyn vraghouers te gaan nie. Maar ons moet ʼn begin maak. Kom ons vat ʼn uur en kyk wat ons bymekaar kan maak.”

“My manne,” sê Ylbaard, “ons is honger. Ons het gister laas geëet. ʼn Week laas behoorlik.”

Joachim frons en bedink die situasie.

“Goed. Kom ons eet dan eers. Gaan na eenheid 177 toe. Daar is bokse vol blikkieskos, sakke soja en mieliemeel.”

“Hoe weet jy?”

“Dis myne,” sê Joachim.

Hy hou ʼn blink sleutel op.

(Lees vervolgens Bodem boek II, 13.)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.