Bodem boek II, 14: Die goddelose

Deel op

bodemII‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Bodem I is reeds volledig.

Lees eers Bodem boek II, 13.

Ek wag vir die aankoms van die goddeloses met ʼn graaf in die hand en ʼn jagmes aan my sy. Dit was ʼn geskarrel vir wapens van die oomblik wat Joachim die laaste instruksies uitgevaardig het. Die aangewese oord om slaan- en steekgoed te vind, was die gereedskapstoor en dit is presies waar ek my graaf gekry het, ʼn eenvoudige tuinspitgraaf met ʼn plat, reghoekige lem, maar die gewig daarvan voel goed en met die lem aan die punt van die steel het dit ʼn goeie balans vir ʼn swaaihou.

Joachim het sy karige mag verdeel en aan weerskante van die gapende hek opgestel.

“Maak my kwaad!” fluister Ninja, die verwoede klein motorfietser vir sy lang vriend Lance, nie dat ek gedink het hy het enige aanmoediging nodig om sy humeur te verloor nie; nie nadat ek gesien het hoe hy die Volkswagen vroeër die aand in ʼn frustrasiebui betrek het nie.

Hy beklou sy wapen van keuse, ʼn goeie ou tradisionele piksteel.

“Hoe moet ek jou nou kwaad kry?” fluister lang Lance terug. “Moet ek jou moer?”

“Moer aan my en ek moer terug!”

“Nou hoe dan?”

“Dink aan iets!”

Die drie van ons staan met ons rûe styf teen die muur, vyftien meter van die opening af. Ek sou verkies het om nader aan die hek te wees sodat ons die geveg vinniger kan betree. Die enigste kans wat jy met slaanwapens teen skietgoed het, is om so gou as moontlik teenaan jou teenstander te kom. Hoe groter die afstand, hoe groter die voordeel wat vuurwapens bied, maar Joachim was vasbeslote oor waar ons stelling moet inneem.

Lang Lance verplaas sy klouhamer van sy linkerhand na sy regterhand en blaas op sy dominante hand se palm teen die sweet. Ek weet hoe hy voel. My maag is ʼn stywe, harde knop en met gereelde tussenposes voel dit of my hart ʼn verdieping of twee in my borskas val en dan vinniger klop en my asem is vlak, bo in my longe.

“Die eerste kans wat ek kry gaan ek jou suster spyker!” verklaar hy aan Ninja.

“Jy doen alreeds.”

“En dit maak jou nie kwaad nie? Jy weet ek is gehang soos ʼn lokasiedonkie.”

“Jy’s met haar getroud, jou moer! Nee, dit maak my nie  kwaad nie. Dit maak my gril, maar nie kwaad nie.”

“Ek gaan jou ma spyker.”

“Ek wil by wees as jy dit probeer.  Sy eet kalfies soos jy vir brekfis.”

“Jou ma se Chihuahua?”

“Shelley is reggemaak.”

“Hoekom is dit so moeilik om jou vannag kwaad te maak?” neul Lance.

“Jy probeer nie eens nie!”

“Ek kan vir jou sê ek gaan vir Schalk Burger spyker, maar jy weet ek kan dit nie doen nie, so ek gaan vir Willem Alberts bel en vra hoe dit voel.”

“Nou gaan jy te ver!”

“Nee, regtig, ek hoor hy doen dit elke keer wat die Haaie die WP opmoer. Hulle sê Schalk maak sulke varkgeluidjies elke keer wat Alberts hom vooroor oor ʼn bankie in die kleedkamer buig.”

“Dis ʼn blerrie groot lieg! Schalk sal nooit, nooit…”

“Oink, oink!

“Hulle sê Willem Alberts het ʼn pyp so dik soos ʼn olifantslurp en dit hang op sy knieë.”

“Hou nou op! Ek waarsku jou.”

“Oink!”

“Lance, sê dit nog eenkeer, ek sweer, ek sweer op my pa se graaf, ek bliksem jou met hierdie piksteel.”

“Jy het gesê ek moet jou kwaad maak!”

“Jy kon vir Schalk uit dit alles gelos het!”

“Julle! Bly stil!” snou ek in ʼn fluisterstem.

Iewers in die pad af begin ʼn groot dieselenjin rammel en stemme roep in die nag. Onmiddellik, ook teen die muur oorkant die hek van ons, draai die Merk Vier se enjin oor en begin luier. ʼn Gespanne Dennis is agter die stuur en Joachim is in die toring en hy het afgesak sodat net sy kop uitsteek, want die pantserkar is net-net laer as die hoë betonmuur.

Ek kyk na my regterkant waar Micki agter ʼn asdrom skuil. Nadat ek gehoor het watse funksie Joachim vir haar in gedagte gehad het, het ek die asdrom binne minute met sand gevul. Solank sy daaragter bly, sal geen kleingeweerkoeël haar kan tref nie.

Hoofligstrepe val oor die klam, swart teer van die pad buite die perseel.

“Staan by!” sê ek. “Hier kom hulle.”

“Weet jy wie is op daai lorrie?” sê Lance. “Willem Alberts.”

“Dit lieg jy!” sis Ninja.

“Ek sweer!

“Oink, oink!”

ʼn Gegrom ontstaan in die kort Ninja se borskas.

Ek versterk my greep op die graaf se steel.

Die geluid van die twee aankomende voertuie styg vinnig in volume. Hulle is by die buurperseel, werk ek uit, nou langs ons sʼn, by die hek…

Die voertuie versnel en beweeg by ons hek verby, eers die Ford en sekondes later die bussie.

Iemand agter op die Ford het ʼn sterk lig en dit vee oor die naambord bo ons koppe.

Die oomblik wat die groot trok by ons verbysleep, spring die Merk Vier vorentoe en rem skerp na ʼn paar meter net toe die bussie oorkant die hek is. Die pantserkar skarrel agteruit en hou weer stil, enjin luierend.

“Hulle het verbygehou!” sê ek verlig en oorkant ons, agter die Merk Vier sê Tabitha: “Prys die Jirre!”

My verligting en haar lofprysinge is voortydig. Buite sig maak die F250 ʼn wye U-draai tot aan die anderkant van die pad. Die hoofligte skroei deur die hekgaping en val op die drom waaragter Micki voor die kantoor skuil. Die Ford kom onmiddellik oor die pad na die perseel gerammel, nader, nader, vinnig nader. Aan ons linkerkant blêr die bussie se toeter en sy ligte dompel en spring weer regop dwarsoor die Ford se baan.

Ek hoor duidelik vir Joachim as hy vir Dennis beveel: “Nou!”

Die Ford se bonkige bulneus stoot deur die hek en die voertuig is donkerblou, hoog op breë wiele. Agter die drom skakel Micki die groen dwarrellig aan en skyn vol daarmee op die Ford se windskerm en op daardie presiese oomblik tref die Merk Vier se volle 6,3 ton die bakkie op die pilaar tussen die dubbelkajuit se voor- en agterdeur met ʼn gruwelike frommelgeraas.

Die bakkie se linkerwiele skop kant toe op, maar die voorwaartse momentum vat dit nog ʼn meter of wat by die pantserkar verby, maar die Merk Vier bly verbete op die aanval, soos ʼn swartrenosterbuksie wat ʼn olifant in die sy karnuffel. Die eerste fase van Joachim se plan is vir ʼn paar oomblikke in die weegskaal, en dan tuimel die groot bakkie op sy sy en saai die bemanning op die bak oor die werf.

Net voor ek begin skree, hoor ek Ylbaard se uitroep aan die anderkant van die hek.

“Kom hier!” gil hy. “Waar gaan jy heen?”

“Kom!” gil ek vir Lance en Ninja en daarna skree en skree en skree ek net. “HAAAAA!”

Of hulle kom, weet ek nie. Ek haal die graaf oor en storm na die ongelukstoneel. Voor my is dit ʼn toneel van algehele verwarring, met geskokte figure wat rondlê of onseker steier. ʼn Man kom half regop en ek swaai die graaf na hom, maar tref hom nie vol teen die lyf nie. Ek trek terug en swaai wild van regs na links en tref hom teen die kant van sy kop met die platkant van die graaf. Hy waggel en sak op sy knieë neer. Dié keer mik ek beter en trek die graaf bo my kop op en kap soos ʼn laksman. Die snykant van die graaf keep diep in sy skedel in en die skok van die hou byt deur die steel in my hande. Ek ruk die lem los en die man kantel slap weg van my af.

Oorkant my, teen die omgeslaande bakkie se kajuit sit ʼn man met ʼn pistool in sy hand. Hy kry een skoot losweg in my rigting afgevuur en ek is styf van die skrik, heeltemal seker dat ek nie die ses, sewe meter na hom kan oorsteek voordat hy weer skiet nie, so ek gooi die graaf na hom en storm agterna. Die graaf tref sy skietarm en die volgende skoot is iewers hoog die naglug in. Daar is geen manier dat ek hom gaan toelaat om homself te verstewig vir ʼn meer akkurate skoot op my nie en ek storm agter die graaf aan. Met my tweede tree gly my voet op die los teer en ek lanseer myself kop eerste in sy rigting.

Ons kom heftig bymekaar en ons koppe bots skerp, hard, en ek val langs hom. Hy ruk homself weg van my om vir homself ruimte te maak om sy pistool op my gerig te kry, maar hierdie is nou my gebied; hulle kon net sowel ʼn mengelgevegkrythok om ons gespan het. Ek kom agter hom in, skop my bene styf agtertoe en my skoensole grou teen die teer terwyl ek my linkerarm om sy borskas trek en sy regtervoorarm beetkry. My regterarm slaan ek om sy kop en gryp sy linkeroor en doen my bes om dit af te ruk met my voorarm oor sy neus.

Hy grou en snork terwyl sy bene rukkerig voor hom skop.

Ek buig sy voorarm buitentoe en skud dit hewig totdat hy die pistool laat val en oombliklik laat los ek hom en versit my greep, dié keer met my linkerarm om sy nek terwyl ek sy kop met my regterhand na regs trek, sy nek gebuig oor my linkervoorarm.

Hy spartel hewig vir ʼn oomblik, gryp my voorarm met albei hande, maar ek spandeer elke dag ure in die gimnasium of op ʼn visserskuit om vis te trek en ek is net heeltemal te sterk vir hom. Ek sou hom so kon uitsit, maar dit sou net te lank gevat het, so ek laat los sy kop met my regterhand, trek die mes uit die skede aan my sy. Die verskriklike omvang van wat ek gaan doen, laat my net vir die kleinste oomblik huiwer en dan steek hom so hard as wat ek kan skuins van agter en met die lem teen ʼn effense hoek na bo, reg in die ribbekas aan die rug se kant.

Hy gil hard en kerm dan pateties. Sy lyf trek styf en sy hakskene kap teen die grond. Ek trek die mes uit en kap dit weer hard in, dié keer onder die borsbeen en hy word slap.

Voor my het Ninja ʼn man met sy bofbalkolf platgeslaan en ʼn tweede een op die grond se skedel verbrysel.

Lance, ʼn aanvaller en dié se geweer is in ʼn steierwals betrokke, vingers in mekaar se gesigte en Lance kan nie sy arm teruggetrek kry om sy opponent met sy klouhamer te klop nie en die skut kan nie sy geweer los kry om te skiet nie. Uiteindelik ruk die aanvaller homself half los, stamp sy hand se palmhak onder Lance se ken in en die twee verdeel heeltemal. Die geweer kom op, maar teen die tyd kom ek van agter af by die aanvaller, gryp sy hare en ruk sy kop agteroor en dryf die mes se lem in die kruising van skouers en nek in. Hy word slap, asof al die senings in sy lyf gesmelt het en hy sak grond toe, ʼn velsak vol bene en vleis.

Die hewige bakleiery het seker nie meer as ʼn minuut geduur nie. Ek het drie manne uitgewis en Ninja twee. Net een van die bakbemanning bly oor, en hy is erg beseer in die ongeluk. Nou probeer hy oor die grond wegseil en ek sien in die dowwe lig hoe Ninja agter hom verskyn en dan verpletter skote die naglug. Ninja het agter die man gaan staan, ʼn AR 15-stormgeweer wat hy opgetel het met een hand, soos ʼn pistool, skuins na onder voor hom gehou en die sneller getrek. Die skote stik teen die man se rug op en sy lyf krul na bo, bly so vir ʼn oomblik en dan is hy ook slap.

Ek, Ninja en Lance het ons deel van die worsteling gewen, en vinnig ook, want ons het die voordeel van die verwarring wat na die skok van die Merk Vier se aanslag ontstaan het, uitgebuit.

Die slag is egter ver van gewonne. Dis ʼn aksioma dat selfs die beste slagveldplanne dit net oorleef tot die eerste kontak met die vyand. Daar was niks met Joachim se plan verkeerd nie; inteendeel, hy het instinktief die goddeloses se optrede reg voorspel en het vindingryke planne gemaak om dit teen te staan.

Ek kyk om na die Ford wat op sy sy lê. Die enjin hik en word stil. En aan die anderkant daarvan veg verbete mense met blertsbalroere, flitsligte en misleiding vir hulle lewe teen verwoede aanvallers wat tot die tande gewapen is.

(Lees vervolgens Bodem, boek II, 15.)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.