Bodem boek II, 15: Die knerspunt

Deel op

bodemII‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Bodem I is reeds volledig.

Lees eers Bodem boek II, 14.

Dit staan bekend as direkte vuur. Dit is waarvoor vuurwapens ontwerp is: Om onder gewone omstandighede te skiet wat jy kan sien. As jy jou vyand nie kan sien nie, moet jy maneuvreer totdat jy kan. Die komplikasie is: As jy hom kan sien, kan hy jou sien. As jy hom kan skiet, kán hy jou skiet. Dit was die eenvoudige beginsel waar rondom die bitter geveg by die hek van Citadel Secure Storage plaasgevind het, daardie Eerste Nag.

Die Ford het die direkte invalsroete geneem – net soos Joachim voorspel het. En die plan om dié bedreiging te stuit, het wonderlik gewerk met die toetrede van die Merk Vier tot die geveg. Met een verrassingslag het Joachim die Ford se slagtande gepluk. Daar was ses man agterop die voertuig toe dit in ons lokval ingery het en in hulle verwarring na die ongeluk het ek, Ninja en Lance hulle maklik genoeg uitgewis.

Binne die dubbele kajuit van die omgeslaande bakkie, is vyf manne vasgekeer en hulle enigste werkbare ontsnappingsroete is deur die windskerm, maar teen die tyd wat hulle hulleself na die ongeluk ontknoop en georiënteer het, het die venynige klein Ninja reeds die stormgeweer opgepik en die man op die grond uitgesit. Van binne die Ford het ʼn verwoede sarsie knalle losgebreek en die windskerm het uitmekaar gespat.

Die medebestuurder het halflyf deur die glaslose gaping begin kruip, vir Ninja glad nie gesien nie en ook nooit geweet wat hom getref het toe die klein motorfietser hom op minder as vyf meter deur die agterkop geskiet het nie. Die blitsige koeëls het deur die agterkant van sy skedel gepons en groot ongelyke skerwe van die voorkant van sy skedel oopgebreek asof dit ʼn eier van harde sjokolade was en die verpulpte harsings en die bloed teen die enjinkap geslinger waar dit in ʼn Jackson Pollock-soort spat-en-blertsvlek afgeloop het. Die man se lyf het gesidder en toe slap geword soos ʼn afgeblaasde ballon en teruggegly tot in die kajuit waar dit op die verbysterde bestuurder gaan lê het.

Die drie passasiers op die agterste sitplek is deur die ongeluk in ʼn warboel van lywe en ledemate gelaat, deur swaartekrag saamgepers teen die deur aan die grondkant. Een van hulle kon homself lank genoeg stabiliseer om onbeheersd met sy pistool te vuur in die rigting van waar hy gereken het Ninja was. Die koeëls het ronde tuitmondjies deur die kajuitdakmetaal gestik. Teen dié tyd het Ninja reeds beweeg tot skuins voor die omgeslaande Ford. Hy het die AR 15 teen die skouer gedruk en nie eers moeite gedoen om te mik nie, maar net die sneller getrek!-trek!-trek! en die knalle was kort, skerp en luid.  Van binne die kajuit het daar eers uitroepe van woede en toe smeekgeluide gekom, maar Ninja het aanhou skiet en skiet en skiet totdat die magasyn leeg is en net ʼn snikkende gekerm gehoor kon word.

Dit was ʼn slagting. Omdat ek nie vir Ninja voor die tyd geken het nie, kan ek nie met sekerheid sê hoe of tot in watter mate daardie kwartminuut hom verander het nie. Miskien nie so baie nie. Hy is, en was waarskynlik nog altyd, ʼn hardgebakte klein bliksem. Ek, daarenteen, het in daardie paar sekondes geweet dat dit my sou verander; dat ek innerlik teen ʼn helling afgegly het waarteen ek nie weer sou kon opklim nie, dat ek onskuld wat ek nie geweet het is deel van my nie, verloor het, so seker en so onherroeplik soos ʼn meisie wat haar maagdelikheid aflê.

Van die vyf insittendes het Ninja drie doodgeskiet en een se kakebeen afgeskiet, sy handpalm vergruis en ʼn hap uit sy heupbeen geblaas. Ek sal dit nooit teen hom hou nie.

Nie dat daar tyd was om enige emosies te ontleed nie, want die geveg het nou tot ʼn volgende fase gevorder.

Die bussie het kort op die hakke van die Ford deur die hekke gevolg en botweg vasgesteek toe die Merk Vier die bakkie gegaffel en omgestoot het. Die bestuurder het net ʼn oomblik gehuiwer: Die pantserkar was dwars, reg voor hom en, seker in ʼn poging om sy makkers in die F250 te beskerm, het hy die Mercedes-Benz vorentoe laat spring, midskeeps in die pantserkar vas. Die Merk Vier is koplomp en die wielsporing nie baie wyd nie, maar dit weeg meer as ses ton en die staal is dik en sterk. Die bussie se aanloop was te kort en daarom was die trefslagspoed te min. Die pantserkar se regterwiele het ʼn paar hande hoog van die grond af gekom, maar die slag was nie hewig genoeg vir dit om om te val nie. Vir ʼn paar oomblikke het die bussie se agterwiele teen die teer gemaal en toe alle vastrap verloor.

Joachim was in die pantserkartoring en hy het dit na die slag na regs geroteer. Die kanon en die masjiengeweer was trompop voor die bussie se windskerm. Joachim het die kanon se fopknal getrek en die vlam het gegryp na die insittendes. Dit was ʼn skadelose knal, maar dit moes vreesaanjaend gewees het op so ʼn  kort afstand, en die bestuurder, heel begrypbaar, het die voertuig laat vorentoe hink en vrek.

Daar was weer ʼn knal en toe nog een, maar dié keer was daar niks speels daaraan nie. Joachim het die Lupara teen sy gesonde skouer gebring, die hane teruggetrek en albei lope op minder as twee meter op die windskerm afgevuur. Twee vlammende slae in die nag, die verskrikking van werktuiglike dood in die nag; daardie twee kort plukbewegings op die sneller en daar is ewige, verskriklike gevolge wat nooit herroep kan word nie.

Die uitwerking was brutaal. Die eerste lading loodhael het die windskerm voor die bestuurder verkrummel en hom vol in die gesig getref en daarvan ʼn trapsel van been, vel en vleis gemaak. Die tweede skoot het bo-oor die middelste voorsitplekpassasier gegaan, want hy het die gesonde verstand gehad om skuins te val na die kanonskoot. Die tweede skoot se lading is deur twee insittendes op die eerste agtersitplek gedeel, die eerste een noodlottig in die borskas en die tweede een in die boarm en pektorale spier.

Tot hier het ons omtrent alles reg gedoen en die inisiatief het aan ons behoort. Die swakste faset van Joachim se plan – en selfs nou weet ek nie wat ons anders kon gedoen het nie – was om die bedreiging in die bussie te neutraliseer. Ons wapens, selfs die Lupara en die blertsbalroere, was uitsluitlik bruikbaar oor ʼn relatiewe kort afstand, en selfs op optimumafstand was hulle nie opgewasse teen pistole en gewere nie.

Joachim het die drie kleurlingwagte – Dermot, Reginald, Tabitha – en Ylbaard aan die oorkant langs die muur opgestel sodat hulle teenaan die bussie sou wees wanneer dié ingejaag kom. Die plan was om die vensters aan die regterkant van die bussie met soliede glasveselballetjies stukkend te skiet en om die bussie dan met rissieballe te bestook. Dié ammunisie is gevul met ʼn rissiepoeiersamestelling wat in ʼn wolk op kontak oopbars. Enige persoon in die onmiddellike omtrek word oorval met ʼn pynigende brandgevoel. Die stof reageer met enige vog en dit laat ʼn mens voel of jou oogballe borrel en enige sweetkolle skroei.

Die blertsbalelement het nog voor die krisismoment ʼn kwart van hulle vermoë verloor. Dermot, die wag, het met sy rug teen die muur geleun, sy oë toegepers, sy lippe bewend en sy kop agteroor. Toe die F250 sy aanloop begin het, het hy gekreun, gevloek, sy blertsbalroer neergegooi, om die muur gespring en in die nag weggevlug, aan die nael, sy arms hoogwapperend in verskoning en verweer. ʼn Flitsligstraal uit die bussie het op hom geval en ʼn sekonde later het ʼn skoot hom in die rug getref. Hy het skerp vooroor geval, asof hy oor ʼn pootjiedraad gestruikel het, plat op sy maag en borskas. Gedryf deur ʼn allesverterende vrees, pleitgillend, het hy homself vorentoe getrek met sy arms want sy ruggraat was gebreek. Nog ʼn skoot het sy regterskouerblad gebreek, en toe was die bussie agter die Ford aan halflyf deur die hek.

(Ons het hom later op die sypaadjie gevind. Hy het nog gelewe en ons het hom so gemaklik as moontlik probeer maak, maar hy is skaars ʼn halfuur later dood.)

Dit was nie nodig om die vensters aan die regterkant met die blertsbalroere te probeer stukkend skiet nie. Die een in die oopglydeur was oop en Reginald het nadergestaan en daarin begin skiet. ʼn Sekonde later was Tabitha skuins agter hom, verskrik maar verbete en hulle het soveel en so vinnig geskiet as wat hulle vingers die snellers op hulle saamgeperstewindwapens kon trek. Ylbaard het genoeg denkvermoë oorgehad om Dermot se wapen op te raap en saam te skiet.

Die balletjies het in ʼn swerm deur die oop venster getrek. Die eerste vyf koeëls in elke blertsroer was glasvesel. Hierdie balletjies kan die pleister van ʼn buitemuur af slaan op kort afstand en dit rig aansienlike trauma aan vleis en been aan. Daarna bars die rissieballe in digte wolkies binne die bussie.

Twee mans en ʼn vrou staan op kortafstand, wydsbeen en vooroorleunend, en skiet na ʼn gebotsde bussie vol kwaadwillige mans. Hulle skree en die blertsroere stamp die ronde ammunisie met venynige spoeggeluide uit.

Binne die wa vloek mans, hulle skel en dreig en dan begin een terugskiet met ʼn pistool; enorme knalle en draakvlamlemme wat deur die donker steek.

“Ag nee!” sê Tabitha hard, moedeloos, draai om en strompel ʼn paar treë en gaan kniel stadig.

Die gety het op daardie oomblik gedraai.

Dit was nooit die plan dat die blertsroerseksie langs die bussie in die hek sou staan en vuisslaan met gevuurwapende rampokkers nie.

“Reggie!” skree Ylbaard, kom.

Die wag, oë groot, hou aan skiet tot die groot motorfietser hom aan die skouer gryp en wegruk. Die twee storm langs die muur af en op pad kry elkeen van hulle die knielende Tabitha aan die arms beet en sleep haar vyftien meter weg, haar voete slepend oor die teer, tot agter hulle stelling, ʼn lae muurtjie wat hulle met lessenaars uit die kantoor en los betonmuurpanele binne minute voor die geveg aanmekaargeflans het.

Daar het Tabitha op haar sy gaan lê, haar buik vasgehou en gekerm. Reginald en Ylbaard sak langs haar neer.

“O hel!” roep Reginald. “Is jy geskiet? Is jy geskiet?”

Tabitha kreun en wriemel.

Ylbaard loer oor die lae skans.

“Hoe gaan ons hulle nou stop?” vra hy sonder om ʼn antwoord te verwag.

Die glasvesel- en rissiebalaanslag op die bussie was tot in ʼn mate suksesvol. ʼn Klompie insittendes het straf van die harde balletjies verduur en die Mercedes-Benz is gevul met wolkies rissiepartikels wat in ʼn bank traangas saamdryf. Daar was egter ook ʼn ontsnaproete dadelik tot hulle beskikking: Die twee regop stertdeure. Dis binne sekondes oopgegooi en hulle stroom hygend, proesend, niesend en briesend uit die voertuig.

Die drie voertuie is soos ʼn Sjinese bloklegraaisel teen mekaar met die Merk Vier loodreg teen die omgeslaande Ford en die bussie met sy snoet teen die midderif van die pantserkar. Daar is ʼn nou gaping aan die regterkant van die bussie deur die hek en ʼn veel wyer een aan die linkerkant. Tien man het uit die bussie gekom; vier het na links verdeel en ses na die ander kant. Nie almal van hulle het vuurwapens nie, en dié wat daarsonder is, is met die gewone versameling slaan-, steek- en kapwapens toegerus.

Met Ninja voor die Ford vir sy slagtingwerk, is net ek en Lance in posisie om die regtertak van die stormloop te stuit en hierdie keer was hy ʼn tree voor my. Hy het iewers op die grond ʼn kortlooprewolwer in die hande gekry en het by die hoek gaan staan en die vier skote daarin leeg geskiet op die aanstormende viertal en ʼn groot totaal van een getref, reg in die voorkop. Die man se bene en lyf het onder hom ingevou toe hy val.

Die ander drie het instinktief omgesit en terug om die bussie beweeg, instinktief daarop bedag om die voertuie tussen hulle en Lance se koeëls te hou.

Die knerspunt van die aanval is nou aan die linkerkant van die bussie. Ons situasie is desperaat. As genoeg van hulle die weerstandpunt kan oorsteek, kan hulle agter ons uitsprei en genoeg afstand tussen hulle en elkeen van ons bewerkstellig.

En, vuurwapens in die hand, is die regte afstand al wat hulle nodig het om elkeen van ons uit te wis; dan is daar niks wat ons daaraan kan doen nie behalwe om te kies of ons vloekend, skellend, woedend of gelate sal sterf.

Die geveg was in die weegskaal en dit wou lyk asof die swaar hand van die Noodlot op ons teenstanders se balkie gerus het.

Die volgende paar sekondes sou bepaal of daar ooit ʼn Maarskalk sou wees.

(Lees vervolgens Bodem boek II, 16.)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.