Bodem boek II, 16: Die vrees

Deel op

bodemII‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Bodem I is reeds volledig.

Lees eers Bodem boek II, 15.

Dink mooi voor jy vir ʼn stukkie grond baklei. Bepaal die waarde daarvan; die werklike en emosionele en toekomstige waarde. Probeer meet wat jy bereid is om te belê om dit te bekom óf om dit te behou. En wanneer jy daarvoor veg, hoe die doelwit in gedagte. Hou ʼn wins- en verliesstaat voor jou oë. Want die rede vir die geveg ontaard so maklik om die stryd self te wen, en nie dít wat jy daaruit wou kry of hou nie.

Generaals en selfs staatshoofde werp hulleself in dié fuik. Hitler kon sy 6de Leër óm Stalingrad gestuur het, maar om die stad met sy vyand se naam te verower, het sy obsessie geword en hy het sy laaste kans om die Russiese veldtog te wen, dáár opgeoffer.

In dieselfde oorlog het selfs die doelgerigte Patton sy ware doelwit uit die oog verloor. Nadat hy die Duitsers op hol gehad het, kon hy sy geliefde 3de Leër met minimum lewensverlies óm die Duitse vesting by Metz gelei het, maar hy was Patton, en as Patton ʼn plek wil oorneem, wie durf hom weerstaan? Toe stuur hy sy “seuns” in om die stad in te neem

Die gevolg was ʼn skokkende aanklag teen die menslike aard. Die Duitsers was in ʼn uitgebreide bunker- en loopgraafkompleks en die Amerikaners het eenvoudig daarin gedons. Na die eerste paar minute was aanvaller en verdediger se wapens leeg en vir herlaai was daar nie tyd nie, so hulle het afgewentel na ʼn baie meer primitiewe tyd en mekaar probeer verbrysel met wapens wat as knuppels gebruik is, en toe met vuis, met elmboog en knieg en voet, selfs tande. Daar onder, in die tonnels, in die klam donker, het mense diere geword. Daar was nie regtig oorlewendes nie, want selfs dié wat nie dood is nie, het daarna nie regtig geleef nie.

Daar is redes hoekom mense tot die dood toe sal stry vir ʼn lappie grond en die kragtigste hiervan is die mees basiese menslike instink om te oorleef. Dít is hoekom Joachim en ek en Lance en Ninja en Ylbaard en die res ten bloede toe geveg het vir behoud van die  perseel. Vir ons was die keuse eenvoudig: Hou hulle buite die hek en leef. Laat hulle deurbreek en dan is hulle agter ons met vuurwapens en ons sterf.

Maar wat is dit wat hulle gedryf het? Hulle moes baie gou besef het dat ons bereid en gereed is om dood te slaan om te oorleef. Binne die eerste halfminuut van hulle aanslag het hulle ʼn derde van hulle mag verloor. En tog het hulle aanhou kom, vasberade om deur te breek. Hoekom? Vir húlle was die oorlewingsinstink ʼn minderwaardige instink. Hulle kon enige tyd omgedraai en op vlug geslaan het. Hoekom het hulle nie? Wraak vir die dood van hulle vriende? Natuurlike aggressie? Woede omdat hulle weerstaan is? Gierigheid om ta vat wat ons nie aan hulle wou afstaan nie? Vrees vir die geweld wat ons toegepas het met die redenasie dat net groter geweld dit sou snuit? Ja, dit moet wees, dít alles, al daardie emosie.

Ons was die aambeeld, en hulle was bereid om hulleself daarteen te hamer om dit te vernietig. En hulle het onstellend naby daaraan gekom.

Hulle, die bloeddorstige rowers, en ons was hoofsaaklik geskei deur die Ford wat op sy sy net binne die hek gelê het. Die instinktiewe strategie om agterom die bussie te storm, het nie vir hulle uitgewerk nie, want Lance en sy nuutgevonde rewolwer het op hulle gewag. Dit is hoekom hulle aan die voorpunt van die Ford versamel het en hulle sou met gemak deur- en ombeweeg het as dit nie vir twee elemente was nie: Joachim en sy Lupara, en Ninja wat sy leë AR15 vir ʼn ander opgetelde roer verruil het. Dit was ʼn kort geweer, ʼn karabyn om presies te wees, met ʼn buismagasyn onder en ewewydig met die loop. Toe ek dit later die eerste keer in die lig sien, het ek dit dadelik as ʼn Winchester geëien, die wesenlike “cowboy”-geweer, die rekwisiet van dosyne John Wayne-flieks, maar dit was toe ʼn .357 Magnum Rossi Puma-karabyn, ʼn moderne namaaksel van die klassieke 1894-Winchester.

Ninja het aan ons kant van die Ford gestaan en om die enjinkap geloer net toe die aanvallers met ʼn verbete stormloop begin het in ʼn stroom om die Merk Vier en vorentoe teen die bakkie verby. Hy stoot die karabyn om die F250 en trek die sneller. Die geweer was reeds oorgehaal en die koeël bars deur die donker lug by die voorste aanvallers verby. Hy trek weer die sneller en niks gebeur nie, so hy ruk verskrik aan die staallushefboom onder die geweer, dit swaai onder toe, die meganisme stoot die leë doppie uit en ʼn staaf druk die haan terug. Toe hy die hefboom weer boontoe teen die handgreep druk, is die geweer met ʼn nuwe rondte gelaai. Hy vuur weer, maar die aanvallers het reeds teruggedeins en hy tref die betonmuur.

Die aanvallers pers hulleself nou teen die Ford vas en dié aan die voorkant hou hulle gewere ver voor hulle, dwarsgedraai en klits die lug waar Ninja was om.

Joachim het intussen herlaai en hy wip weer op in die Merk Vier se toring en sonder skiet oombliklik albei lope leeg waar die aanvallers met sy vorige aanslag was, en tuimel terug in die kar. Hy laai sy laaste twee rondtes terwyl sy asem jaag en Dennis kermend neul. ʼn  Oomblik later wip hy weer op en hou die kort haelgeweer in die rigting waar die aanvallers langs die Merk Vier saamdrom. Dié keer is hulle egter reg vir hom en die oomblik wat hy verskyn is twee, drie van hulle reg om terug te skiet. Hulle is skaars drie meter van hom af en ʼn aardskuddende gevuur breek in sy rigting los sodat hy dadelik weer in die toring moet inval. Koeëls pletter nou in ʼn loodstorm teen die voertuig vas en dan voel hy hoe die voertuig wieg en besef iemand is besig om teen die agterkant op te klim.

ʼn Persoon wat bo-op die enjinkap agter op die voertuig staan en in die pantserkar inskiet, sal vir Joachim en Dennis met een sarsie uitwis en Joachim, op sy sitplek en sonder om op te staan, hou die geweer onderstebo bo sy kop, lope na agter en trek die een sneller. Op minder as ʼn meter skeur die lading bokhael reg in die borskas van die rower vas. Die slag stamp hom weg, sy hakke haak vas en sy bolyf tuimel ondertoe sodat sy liggaam ʼn koddige agteroorsalto maak en gesig eerste op die teer agter die Merk Vier land. Daardie man was dapper om homself so bloot te stel in die middel van ʼn vuurgeveg, maar dapperheid impliseer risiko en sy laaste daad op aarde het nie vir hom uitgewerk nie.

Steeds hamer die koeëls teen die romp van die Merk Vier vas.

“Ry!” gil Joachim vir Dennis.

Die voet op die versnellerpedaal gaan ondertoe en die voet op die koppelaarpedaal kom boontoe… en die enjin sny uit, want Dennis het dit nie in trurat gehad nie. Die snoet van die Merk Vier stoot teen die Ford vas. Die gerammel van die V8-enjin verstil.

“Agtertoe! Agtertoe!” skree Joachim en Dennis gryp en ruk en draai aan die aansitter en skielik hakkel die enjin en begin weer brom.

Na ʼn sekonde se geworstel met die rathefboom spring die pantserkar agtertoe en seil weg.

“Draai links! Draai links!” bulder Joachim op Dennis wat nie kan uitsien nie omdat sy loergleufplaat op is.

Hy trek die groot stuurwiel ondertoe en die pantserkar storm diagonaal oor die parkeerterrein by die hoek van die kantoor verby en teen die betonmuur vas.

Ninja reken dit is die regte oomblik om weer om die Ford se voorkant te leun, en hy is reg, want die aanvallers se aandag is op die onttrekkende Merk Vier en een van hulle beweeg in sy skootsvak in. Sy haastige skoot tref die man skuins van agter deur sy grootboudspier en Ninja se beloning is ʼn verskrikte gil. Nou moet die kort motorfietser egter weer agter die Ford inspring want ʼn loodswerm kom na sy rigting.

Die oomblik wat die Merk Vier agteruit teen die betonmuur bots, begin Joachim skree: “Vorentoe! Vorentoe! Trap hulle.”

Dennis het genoeg geesteenwoordigheid gehad om die koppelaar in te trap, maar daar neem sy vrees uiteindelik sy verstandsfunksies oor en verbied enige verdere deelname van sy liggaam aan die stryd en hy sit, vasgeslaan soos ʼn ou geroeste enjin. Sou Dennis in daardie paar kritieke oomblikke die innerkrag gehad het om op Joachim se bevel te reageer, sou die Merk Vier se hertoetrede tot die geveg deurslaggewend gewees het. Die aanvallers het saamgepers teen die Ford se onderkant aangeleun en die pantserkar het een magtige wapen oorgehad: Die gewig daarvan. Die kar kon binne sekondes teen die aanvallers vasgejaag het en ʼn beslissende slag gelewer het. Die feit is, Dennis kón nie beweeg nie (en as jy nooit onder hewige vuur was nie, moet hom nie te fel veroordeel nie, en as jy wás, sal jy verstaan.) Teen die tyd wat Joachim vir Dennis uit die bestuurdersitplek verwilder het en self oorgeneem het, was die oomblik verlore.

Vir ʼn tydjie het die bloedige geveg wendingloos vasgeval. Ek, Lance en Ninja was vasgekeer aan die een kant van die Ford en die bussie en die aanvallers aan die anderkant. Met Lance se rewolwer leeggeskiet, is Ninja se karabyn ons enigste vuurgeskut en ons het geen idee om te weet hoeveel ammunisie nog in die buismagasyn is nie.

Lance het teen die Ford se lengte afbeweeg in die rigting van die hek en toe met die bussie langs tot hy by die hek is. Hy kon in alle redelikheid net aanhou gaan het, weg van die perseel en uit die geveg uit, maar, stoere man!, hy’t verkies om net buite die hek en sig langs die muur te hurk.

Ek en Ninja is  langs die Ford met die enjin tussen ons en die aanvallers, en met goeie rede, want ons teenstanders staan enkele meters weg van die bakkie en in ʼn helse, vlammende, donderende skietaanval vuur hulle teen die bakkie vas. Die laaibak bied geen beskerming nie, want selfs pistoolkoeëls steek deur die dun plaatmetaal met die gemak van ʼn passer deur karton. Die metaalpunte ruk vore in die grond. Dieselfde koeëls kan egter nie deur die groot dieselenjin skiet nie en daardie paar kubieke meter is my en Ninja se enigste skild teen die orkaan van geweld wat losbreek.

Drie, vier keer is ʼn aanvaller van mening dat hulle ons genoeg verwilder het en  probeer om die voorkant van die bakkie kom en elke keer druk Ninja die geweer om die voorkant en skiet trompop na die vyand en dit dwing hulle om terug te skarrel.

Om raakgeskiet te word, is ʼn verskrikking, dié weet ek na alles wat ek gesien het, maar as die koeël van ver af kom, is dit nie naastenby so vreesaanjaend as die intimiteit van ʼn bloeddorstige vyand so na aan jou nie. Tussen die sarsies deur kan ek hulle hoor uitroep, vloek, aanmoedig, beveel. Ek hoor tussendeur die geklik van magasyne wat omgeruil word en die blikagtige klapklanke van sluitstukke wat vorentoe spring as gewere gespan word.

Ek weet nou hoe ware vrees voel, hoe dit verlam, hoe verleidelik dit aan jou binnekant pleit dat jy sal weghardloop, sal gaan lê, jou knyperspiere sal laat ontspan, sal smeek vir jou lewe. Ek weet nou hoe vrees veral ʼn begeerte is, so intens dat dit eintlik ʼn gebed vir die onbereikbare is, om iewers anders te wees.

Maar met my rug teen die Ford se enjin kap, terwyl koeëls gons en beitel, leer ek ook hoe kragtig woede kan wees. In my styg ʼn donker begeerte, soos rook uit ʼn vullishoop, ʼn wens om my hande op my vyand te lê, om vermorsel, te vernietig, om dood, dood, DOOD! te maak. O, as ek net my vyand voor my op die grond kan werp sodat ek my linkerhand se vingers in sy regtermondhoek kan haak en my regtervingers in sy linkermondhoek en ek sal trek en beur en sy gesig van sy skedel af skeur dat dit die twee bloedpante soos slaghuisvadoeke uit my vuiste hang.

As jy so ver in jouself intuimel, is daar nie werklik ʼn pad terug na algehele geesteswelstand nie.

Aan die einde van een salvo werp ek myself op die grond tussen die liggame en die vrag wat van die bakkie af geslinger is. Ek kry wel ʼn wapen, nie ʼn skietding nie, maar ʼn kru tuisgemaakte kap- en steekwapen; ʼn meterlengte van 50-millimeterpyp met ʼn plat lem van omtrent ʼn halwe meter vooraan dit vasgesweis en ʼn spiespunt aan die bokant.

Met my terugskarreling struikel ek oor iets hard en swaar op die grond en toe ek daaraan voel, besef ek dit is ʼn motorbattery. Ek steek die kapper onder my arm, kry die battery in ʼn babadragreep voor teen my borskas en waggel terug tot langs Ninja by die enjinkap net toe die volgende sarsie weer losbreek.

Ek laat val die kapper en draai my rug na die Ford, buig my knieë, hou die battery voor my en stoot hard op met my bene terwyl ek die battery agteruit oor my kop oor die bakkie slinger. Die intensiteit van die geskietery neem onmiddellik af en iemand skree van skielike pyn.

Die aanvallers se volgende skuif was hulle beste een en het ons amper ongedaan gemaak.

Vier van hulle breek weg van die res en nael langs die muur af in die rigting waar Ylbaard, Reginald en die swaargewonde Tabitha in hulle stelling skuil. Ylbaard en Reginald sien hulle kom en vind die tandeknersmoed om met hulle blertsroere op die vier gedaantes te skiet. Miskien het hulle ʼn paar keer getref, maar die blertsroere is nou met rissieballetjies gelaai en die nagwindjie verdryf die gaswolke en trek die gif daaruit. Hulle steek vas en  begin terugskiet en Ylbaard en Reginald het geen ander keuse as om agter die betonblaaie af te sak nie.

Hulle het sekondes oor om te leef en dan kan die aanvallers ombeweeg tot hulle ons onder skoot het.

Ek en Ninja is agter die Ford vasgepen. Ons weet nie van hierdie ontwikkeling nie.

En as ons geweet het, sou daar niks gewees het wat ons kon doen nie.

(Lees vervolgens Bodem, boek II, 17.)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.