Bodem II, 17: Die speelgrond

Deel op

‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Bodem I is reeds volledig.

Lees eers Bodem boek II, 16.

Alle normale seuns hou van oorlogspeletjies. Ek het moderne vrouens geken wat verseg het om vir hulle kleuterseuntjies speelgoedgewere te koop en hulle selfs verbied het om met hulle maatjies sʼn te speel, net om handpalms teen hulle voorkoppe te slaan as Seuna ʼn krom stok optel, daarmee mik en “BAM! BAM!”-geluide daarmee maak.  Moet net nie dink dat as volwasse mans in ʼn desperate en dieragtige oorlewingstryd met mekaar betrokke is, hulle handelinge nie soos die lawwe speletjies van kinders lyk nie.

bodemIIVir ʼn wyle is dit ʼn soort wegkruipertjie-raakjou!-speletjie rondom die omgeslaande Ford en die uitgeskakelde bussie.

“Kom!” sis ek vir Ninja.

Ek is redelik seker wat anderkant die Ford buite ons gesigsveld gebeur met ʼn deel van die aanvalsmag wat afgeskil het om ons blertsroerelement teen die oorkantste muur uit te skakel en ek besef dat as hulle ombeweeg, sal hulle vir my en Ninja onder skoot kan kry. My gedagte was om om te beweeg, by die hek uit en om te probeer om die oorblywende aanvallers onverhoeds in die agterhoede te betrap. Daar is ʼn geur van desperaatheid aan die plan, maar ek is doodverskrik om staties te wag dat die geveg verder ontwikkel. My teengifmiddel om vrees te behandel is optrede. Solank ek iets doen, beleef ek darem ʼn skyn van beheer.

Die brein het sy eie rituele tydens vrees en een daarvan is die sogenaamde “kameraflitsoomblikke” waartydens jou verstand as’t ware foto’s van verskillende voorwerpe en wesens neem om later te kan ontleed.

Riffelstroke in die Ford se bak: Kliek!

Sleephaak opgekrul met ʼn gegote knop; laat my aan ʼn donkietril dink: Kliek!

Onafgewerkte blerts beton teen die betonmuurpilaar: Kliek!

Lance wat net buite die perseel in die wegspringposisie hurk: Kliek!

Veelkleurige plakker wat “Windkiss Tours” teen die agterruit van die Mercedes-Benz adverteer: Kliek!

Lance sluit by my en Ninja aan en ons sluip met vinnige treë om die hoek van die bussie om en teen die lengte daarvan af, maar die oorblywende kwartet gewaar ons, swaai om en begin op ons vuur. Die drie van ons verander holderstebolder koers en werp onsself agter die betonmuur in.

Op hierdie presiese oomblik was die boelies baas van die speelgrond. Die drie van ons is uit die spel uit, vasgekeer buite die perseel. Die Merk Vier het teruggeval en vier aanvallers sou binne sekondes die blertsroerspan oorval.

Maar ons was nog nie gedaan nie. Joachim het een element in reserwe gehad en hierdie was die laaste moontlike oomblik vir die toetrede tot die stryd daarvan.

Die Volkswagen was buite sig van die hek af langs die kantoor geparkeer en nou kastanjet die enjin aan die gang. Die hoofligte streep oor die grond en die kolligte hoog teen die rolstaaf is smeltwitwarm. Die aanvallers is vol in die verblindende lig en dit is onmoontlik vir hulle om te weet wat uit die donker in hulle rigting kom.

Die kewer se groot, dik agterwiele loei oor die teerblad en die voertuig kom soos ʼn kanonskoot uit die blokke. Dit het skaars dertig meter om te gaan, maar die versnelling van die koddige voertuig is verbysterend. My twee slagoffers beman die Volkswagen; Gebreekte Ribbes Kip is agter die stuur en Gat In Sy Been Solly is op die passasiersitplek.

Die vier plunderaars spat weg van mekaar, twee in die rigting van die Ford en twee in Ylbaard-hulle se rigting. Kip se oogmerk is om die blertsskuts te beskerm en hy ruk die voertuig na regs en skop die rem. Die Volkswagen sleep met ontsaglike momentum oor die laaste paar meter, ʼn staalrenoster van ʼn voertuig, ʼn anderhalfton meganiese woede, onstuitbaar en verbryselend.

Die pypbakraam tref die agterste aanvaller kniehoogte van die kant af en moker hom teen die muur vas. Dit vergruis albei bene van middekuit tot die onderste deel van die bobene. Sy gil is ʼn verontwaardigde sirene en eindig kortaf in ʼn pynkreet.

Nou gebeur dinge in ʼn warrel. Kip steek die Volkswagen in trurat en laat die koppelaar uitspring. Die Kewer brul agteruit. Die verminkte plunderaar sak teen die muur af en los breë bloedstrepe vol beensplinters teen die grysnatbeton. Die twee aanvallers links van die Volkswagen het genoeg tot verhaal gekom om op die snelontrekkende voertuig te skiet, die een met ʼn pompaksiehaelgeweer, die ander met ʼn pistool, in ʼn ritmiese harmonie, die haelgeweer wat ʼn ronde blafgeluid maak en die pistoolknalle wat knak: BLA-HUM! Knuk!nuk!nuk! BLA-HUM! Knuk!nuk!nuk! BLA-HUM! Knuk!nuk!nuk!

Kip, en ek weet hy was grootoog en koudgespoel met adrenalien, het vir ʼn oomblik gedink dat hy en Solly weggekom het, toe trek sy makker styf langs hom en wip op soos iemand wat op warm yster gesit het. Daarna hang sy bolyf slap oor na links en sy liggaam seil uit die Kewer uit.

“Solly! Solly! Sollyhhhhh!” skree Kip en skop die rem in vir nog ʼn stormloop.

Voor hy egter eerste rat geskakel kan kry, rammel die Merk Vier terug in die stryd in, dié keer met Joachim agter die stuur.

Die plunderaars het genoeg gehad van voertuie wat na hulle geslinger word. Die twee naaste aan die Ford spring om en nael na hulle kamerade, maar nou swenk die Merk Vier en kom agterna, groot, regop met metaaldele wat ratel en klingel soos ʼn laerskoolslagorkes en ʼn brommende V8-enjin.

Die twee vlugtendes nael vervaard tussen hulle wagtende makkers in, vinnig en wild genoeg om botsings en verwarring te veroorsaak, en ʼn vingerklap later tref die Merk Vier die bondel.

Agter die muur kon ons die enjins hoor raas, die skote hoor klap, en die vloeke en bevele en verskeurende gille van pyn. Die volgende oomblik kom ʼn struikelende man, en toe nog twee, drie van hulle by ons posisie verby onderweg na die pad en die Merk Vier duiwel tussen hulle in van agter af. Een van die vlugtendes slaan volle lengte voor my oë neer, skaars ʼn meter van my af en dan rol die groot voorwiel van die pantserkar ongeërg oor hom, knarsend, tussen sy wydsbene deur, oor sy boud, oor sy rug, sy ribbes, sy skouer en die kant van sy kop, en dan volg die agterwiel in die spoor. Ek kan duidelik hoor hoe die bene klapkraakknars en hoe die wind uit die man se longe bars.

Die pantserkar tref nog drie manne. Die een word platgestamp en, in ʼn persoonlike wonderwerk vir hom, beweeg die wiele weerskante en die pens los bo-oor hom. Nommer twee word vol in die rug getref deur die modderskerm en hy maak ʼn bollemakiesie ver vorentoe en het net op sy rug gedraai toe die Merk Vier swenk en met die buitenste voorwiel oor sy borskas ry. Nommer drie is een kant toe geslinger en verloor sy geweer in sy vlug deur die lug. Hy land handeviervoet en hou net aan vorentoe skarrel, kom orent en versnel, weg, in die donkerte in, met die teerpad af.

Hy is die enigste een van die plunderaars wat die speelgrond van die perseel verlaat en ontsnap.

Nog twee van die bende het die Merk Vier se aanslag onaangeraak oorleef. Hulle vlieg weg, maar in plaas van om hulle maat die pad af te volg, swenk hulle links en hardloop aan die anderkant van ons by die stilstaande voertuie verby, beweeg regs en in die groot werf met die stooreenhede in.

Die aanvaller wat ongeskonde gelaat is deur die pantserkar wat oor hom beweeg het, doen ʼn opstoot om regop te kom, ʼn meter van my af. Ek tree nader. Daar is nie baie tyd nie, maar dit is genoeg. Dis asof ek ʼn knoppie in myself druk en ʼn masjien waaroor ek geen verdere beheer het nie, word; asof ek myself kan sien, die meganiese voorbereiding en werking.

Die masjien se bene gaan na die man op die grond met sy nek na bo.

Die masjien se voete word wyd van mekaar geplant.

Die masjien se bolyf rys.

Die masjien se arms lig die kort steel van die kapper met die lang lem daaraan vasgesweis.

Die masjien arms halt hoog bo die masjien se kop.

Mikroskakelaars klik en meganiese kragtoepassers word geaktiveer.

Die masjien se arms swiep ondertoe.

Daar is ʼn skerp lispelgeluid en ʼn dowwe klop en dan ʼn getjirp van staal teen teer.

Die man se arms verslap.

Sy kop spring ʼn sentimeter weg van die nek en land netjies op die gesig, maar die meetkunde van die neus maak dit ongebalanseer en die hoof kantel saggies tot op die linkerwang.

Die masjien se beheerstelsel skakel af en ek word weer ek, ʼn man in ʼn natgereënde withemp, met ʼn swart aandpakbroek en hoëglansleerskoene aan, snakkend na asem met ʼn kru kapwapen diagonaal voor sy bors in albei hande gehou. En ek is briesend, verontwaardig, deurtrek met ʼn gevoel van verontregting teenoor die mense wat my wêreld so verander het dat ek ʼn man se nek moet afkap in ʼn nag wat ontwerp was vir goeie kos en musiek.

Ninja gryp my aan die bo-arm.

“Kom!” sê hy. “Kom! Kom ons gaan kry hulle.”

Joachim, in die Merk Vier, maak ʼn U-draai en kom terug na die perseel se ingang. Die ligte val op die liggame voor ons. Ninja buk en tel ʼn pompaksiehaelgeweer met ʼn kunsveselkolf en – pistoolgreep op. Ek kyk nie eers vir ʼn vuurwapen nie. Ek het die menskapper by my en die donker woede is op my.

Drie aanvallers het nou in die diepte van die perseel ingevlug: Die twee wat om die bussie teruggenael het en die een wat teen die muur naby die blertsballers bly staan het. Hy het gou besef dat hulle aanval op Ylbaard, Reginald en die gewonde Tabitha nie net op vuurwapens nie, maar getalle berus het. Hy het, om presies te wees, uitgevind wat dure ervaring vir generaals en sersante deur die eeue geleer het: Om ʼn ingegraafde of verskuilde vyand te oorrompel, is vrekkens moeilik.

Ylbaard en Reginald het, nadat hulle die gevolge van die Volkswagen se stormloop gesien het, moed geskep, laag agter die betonskans gebly en doelgerigte vuur met hulle blertsroere begin lewer. Die eerste sarsie rondtes was rissieballe wat in los wolkies teen die plunderaar ontplof het en die branddeeltjies het hom laat proes, nies en sy oë vryf. Hy het vorentoe gestrompel, vir eers net daarop bedag om van die foltering van die traangas weg te kom. Dit is toe dat die rissieballetjies in die blertsroermagasyne plek gemaak het vir soliede glasveselkoeëls. Die harde balletjies het oor vyftien meter getrek en hom gestriem, elkeen van hulle soos ʼn knuppelhou wat kneus en bloed uit sagte vel trek.

Hy het binne sekondes genoeg gehad en om te vlug was nou sy grootste en enigste begeerte. Daardie magtige oorlewingsdrang het elke ander gedagte verdring en soos ʼn roofdier voor die heuningbyswerm se gifsteke het hy  begin om vir sy lewe te nael. Daar is geen manier dat hy sou omspring en vir die hek mik nie, want daar is net geweld en uitwissing sy voorland.

Die man slaan oor na ʼn skuifeldraffie na die sy van die kantoor toe, en wanneer hy eers beweeg, begin sy bene met groter dringendheid op- en afpomp totdat hy in ʼn histerie by Kip wat op die grond langs Solly se liggaam sit, verbyhardloop.

Ek en Ninja begin om agter hom aan te draf toe die Merk Vier langs ons inskuif. Ons gaan staan en die linkerkantse vensterklap vou plat.

Joachim leun oor en met sy mond by die opening skreepraat hy: “Jood! Hoeveel is nog hier?”

“Ek het drie getel!” skree ek terug.

“Klim agterop!” beveel hy.

Ek skud my kop: “Nee! Vat vir Ninja. Gaan julle regs om. Ry en op en af met die rye en dryf hulle uit. Ek wag vir hulle.”

“Is jy gewapen?”

“Tot die tande.”

Hy het natuurlik ʼn vuurwapen in gedagte gehad, maar die woede is nou so groot en dig in my dat dit my nie toelaat om eers te oorweeg om die aanvallers te skiet nie. Nee, net om na aan hulle te kom, om hulle neer te gooi, om hulle met die kapper se growwe lem te slaan, om hulle te kap en te kap en te kap, net dít sal genoeg vir my wees.

“Spring!” sê ek vir Ninja.

“Broe’!” sê die klein mannetjie. “Broe’! Vat!”

Hy hou sy groot prys, die haelgeweer, na my toe uit. Ek en hy, beter as enige iemand anders, het die verskriklike nadeel van vuurwapenloosheid in ʼn vuurgeveg beleef. Vir hom om nou die doelgerigte gewig van ʼn wapen in sy hande te hou, is ʼn massiewe verligting, en tog is hy dadelik bereid om dit op te offer. Kameraadskap kan oor jare geweef of in oomblikke gesmee word. Wat die toekoms ook al bring, ek en Ninja sal altyd baie ferm en diepgaande verbind wees deur daardie vreeslike oomblikke agter die Ford terwyl ons vyande hulle volle geweld op ons gerig het.

“Hou dit,” sê ek vir hom en stoot die haelgeweer in sy hande tot teen sy bors. “Skiet die moere! Skiet hulle!”

“Ek beloof!” sê hy, sit om en wip agter op die Merk Vier.

Ek kners op my tande, kry die kapper voor my en begin agter my vyand aandraf.

(Lees vervolgens Bodem, boek II, 18.)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.