Bodem II, 18: Die teregstelling

Deel op

‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Bodem I is reeds volledig.

Lees eers Bodem boek II, 17.

Man sit op die vloer. Sy rug rus teen die muur, sy knieë is voor hom opgetrek en sy voorarms rus op hulle, die hande hang ondertoe en sy vingers is pap, soos uitgemelkte spene. Hy dra nie skoene nie en het nie ʼn hemp aan nie want die leersole van sy uithangskoene het bros en hard op die teer geklap toe hy die voortvlugtende agterna gesit het, en sy spierwit hemp het omtrent geskyn in die nag. Toe trek hy skoene en hemp uit en rol broekspype op en sit sy vyand in die nuwe reën van die nag agterna op breë voete met vereelte sole. Sy ligte borselhare is donkernat, die kleur van eikehout, en staan in pylpuntjies regop. Hy is so nat dat ʼn oneweredige soom water om sy sitvlak versamel, pienk omdat die reënvog die bloed van sy slagoffer op sy borskas verdun het. Voor sy voete lê ʼn tuisgemaakte kapwapen, ʼn kru lem van ʼn voertuigbladveer gemaak en aan ʼn kort pyp vasgesweis. Sy gemoed is so leeg soos ʼn huis sonder meubels.

bodemIIDis ek wat daar sit, en ek is vol nuwe kennis wat jy nie in boeke kan lees of in lesings kan hoor nie. Ek dink aan Dawid, Koning Dawid van die Bybel. Hy was die Here se Generaal, God se Koning, maar hy is nie toegelaat om die tempel te bou nie weens die bloed aan sy hande. Hoe kan dit wees? Hy het weinig verkeerd gedoen. Die bloed wat hy getrek het, was in opdrag van die Here, of ten minste in alle redelikheid weens die aansprake van sy oorlewingsdrang.

Dit is nie skuld of onskuld wat aan Dawid gekleef het nie, verstaan ek nou. Dit is dat hy anders is, nie omdat hy verander hét nie, maar omdat hy verander ís. Om ʼn mens – daardie wonderlike biomasjien van vel en vesel en spiere en senings en been en siel – dood te maak, al is hy jou vyand, geregverdig of nie, is die vreeslikste handeling van een  mens teenoor ʼn ander. Jy kan dit nie doen   en ongeskonde bly nie. Jou siel krul vol kreukels op soos plastiek wat te na aan ʼn oop vlam kom. Daarna is jy nie skuldig of onskuldig nie. Net anders. Onherroeplik.

Ek het met veterane van die Grensoorlog gepraat wat met uitgelatenheid doodgeslaan het, maar agterna dit nie in hulle kon vind om oor ʼn miskruier te ry nie.

Ek is nie alleen op die grond teen daardie muur nie. Links van my sit Ninja en sy oë knip nie. Hy is ʼn tor in sy eie pot stroop. Niemand het deur die nag doodgemaak soos ek en hy nie. Dit was hy wat die stormgeweer leeggeskiet het in die omgeslaande bakkie in. Dit was ek wat doodgekap het met my kapknuppel rondom die Ford en by die muur. Dit was ek wat die aanvaller op sy hande en knieë tereggestel het. En ek is die een wat ʼn laaste slagoffer met ondeurdagte ywer in die donker perseel agterna gesit het.

“Sy is nou rustig,” sê Joachim. “Dis nie meer  lank nie.”

In die lig van die batterylantern kom hy orent van die liggaam wat op ʼn kombersoorgetrekte deur op die ontvangstoonbank lê. Reginald maak ʼn smoorklank in sy keel wat hom laat klink of hy verwurg word.

Na dit alles verby was, het ons vir Tabitha agter die betonbladskerm gaan haal. Ek, Ylbaard, Reginald en Ninja het ʼn los deur in die gereedskapkamer gekry en dit vir ʼn ongemaklike draagbaar gebruik. Niemand was bereid om die  kermende vrouewag te ondersoek nie, so dit was Joachim self wat haar nat hemp opgestoot het terwyl ek lig verskaf het met ʼn flits.

Die koeël het haar ʼn handbreedte onder die borsbeen getref en ʼn ronde gaatjie deur haar vel en in haar buik in geboor. Haar maag was besmeer met bloed en Joachim het dit probeer skoonvee met papier van ʼn groot rol af, maar maak nie saak hoe vinnig hy gevee het nie, die bloed het in ʼn dik rooi sous uitgewel soos melk wat oorkook. Joachim het die papier in ʼn dik kussing gevou, dit op die wond gedruk en vir Reginald beveel om dit daar te hou waarna hy vir my en Micki eenkant toe geroep het vir kajuitraad.

“Sy bloei inwendig,” het hy verduidelik. “Dis hoekom haar buik so geswel is.”

“So gaan sy…” het Micki skor gefluister.

“Sy gaan uitbloei. Ek weet nie baie van skietwonde nie, maar ek neem aan van haar organe is geperforeer. Haar lewer miskien, of milt of pankreas. Ek weet net nie wat nie. Maar sy moes al op ʼn teatertafel gewees het vir ʼn noodoperasie. Dis net ʼn kwessie van tyd, ek is bevrees.”

“Wat gaan jy doen?”

“Die enigste menslike ding. Ek het slaappille, sterkes, in my noodhulpstelletjie.”

“Jy bedoel… Joachim! Sy’s nie ʼn hond nie! Jy kan haar nie sommer uitsit soos ʼn poedel wat te oud geword het nie.”

“Sy het een ding oor om te doen in haar hele lewe, my dier, en dit is om te sterf. Sal ons haar nie help om dit so maklik en so waardig as moontlik te doen nie?”

“Dis nie jou besluit nie! Dis God sʼn!”

“En Hy het klaar besluit. Hy het besluit sy moet raakgeskiet word, en sy was. Dis verby, mooiste Micki, haar lewe is verby en sy moet nou nog net doodgaan. Dis al wat oorbly.”

Micki het haar arms voor haar borste gevou en haar onderlip vasgebyt. Die nag het diep getrek uit haar reserwes. ʼn Paar ure tevore was sy by ʼn pasta- en opera-aand en daarna het die wêreld nog nie opgehou kantel onder haar nie. Dit is nie ver van Le Amici Ristorante in Tamboerskloof tot die stooreenheidperseel in Killarney nie, maar dit was ʼn lewenstog van die een na die ander en in daardie tyd het die hele wêreld verander. Die ou reëls is opgelos in die geweld van die nag en nou is daar nuwe, in geheel meer primitiewe, wette. Sy het niks verder gesê nie.

Tabitha het in- en uit bewussyn gedryf. Wanneer sy weggesink het, was haar asemhaling vermoeid en borrelrig en wanneer sy by was, het sy gekreun. Joachim het vir haar tien sterk slaappille in drie dosisse ingegee, die hele tyd koerend dat dit haar “beter sal maak”, dat sy oor  niks bekommerd moet wees nie, dat sy net slaap nodig het. Hy het langs die lessenaar, aan haar kopkant op ʼn kantoorstoel gaan sit. Reginald was by haar voetend.

Niemand sê iets nie en die hoofgeluide is dié gesug van die ketel op die gasvlam en die geklingel van teelepel teen koffieblik en bekers. Dennis, gretig om vir sy wanprestasie in die pantserkar te vergoed, is besig om homself te rehabiliteer deur algemeen nuttig te wees.

ʼn Skaduwee sweef oor my en ek kyk op.

“Joggie,” sê Micki, “kyk hoe lyk jy. Jy is papnat.”

Sy hou ʼn effe verlepte, blou handdoek na my uit.

“Maak jouself droog!”

Ek kyk na die handdoek. Dit hang van ʼn groot hoogte af, asof Micki ʼn toring is. Ek weet wat om daarmee te doen, ek weet net nie hoe nie, asof my liggaam se sensors wat so goed gewerk het toe ek moes koes en slaan en terugdeins en kap, nou defektief is. Die toring vou grasieus op en Micki kom saggies op haar knieë voor my.

“Ek weet wat jy gedoen het,” sê sy en druk die handdoek oor my gesig.

Ek is verbyster. Die dinge buite in die nag moes vergete in die donker gelos gewees het. Ek wil iets sê, dit alles net wegpraat, verduidelik dat niks verduidelik moet word nie, maar hoewel my mond oopgaan, het my verstand blykbaar een of ander spraakmeganisme verlê en geen woorde word geuiter nie.

“Dit was… vreeslik,” sê sy terwyl sy my nek afvee.

Ek verdien die aanklag. Dit was ʼn genadelose jag.

Die twee wat regsom in die perseel ingevlug het, het al langs die buitemuur afgenael, die elf rye stooreenhede links van hulle. Regs en voor hulle was tweemeterhoë betonmure met kronkels lemmetjiedraad bo-op dit. Een van die plunderaars, gedryf deur desperaatheid en moontlik ʼn oorskatte begrip van sy eie ratsheid het probeer om oor die agterste muur en eenvoudig deur die lemmetjiesdraad te spring en ʼn sekonde later was hy vasgestringel in die draad, een arm regop getrek in die draad en die koorde onder sy armholte deur en swaartekrag het die lyf ondertoe getrek en die kil lemmetjies het aanhoudend dieper in geskeur. Hy was hulpeloos en het ten hemele geskree in ʼn rou stem van verontwaardiging.

Die ander een het regs geswenk in een van die lang rye in. Hy moes vir ʼn oomblik betreklik veilig gevoel het, maar die twee voertuie het hom begin jag. Weereens het Joachim die taktieke in ʼn sekonde uitgepluis en weereens was dit dodelik. Hy het Ylbaard in die Volkswagen linksom gestuur om die rye af te sper en het self met die Merk IV regsom beweeg, al langs die betonmuur af met die rye aan sy linkerkant. Hy het ʼn nuwe drywer gehad – Kip, die een wie se neus ek verfomfaai het en wie se ribbebeen ek gebreek het. As daardie aand helde opgelewer het in ons desperate oorlewingstryd, moet Kip genoem word. Ek het vroeër die pantserkar bestuur en weet hoe hewig ʼn man aan die stuur moet trek om die voertuig te laat draai. Om dit met gebreekte ribbes te doen, moes ʼn kleine hel op sy eie gewees het, maar Kip het dit gedoen en daarna sou hy Joachim se drywer wees tot lank nadat hy die Maarskalk geword het. Ninja was agter op die Merk IV.

Joachim en Kip het die voortvlugtende in die derde ry opgespoor. Die pantserkar het swaarlywig om die draai geleun en geleidelik spoed opgetel agter die man aan. Hy het in die naelloop van en vir sy lewe die resies net-net gewen en skerp regs geswenk. Die Volkswagen was ʼn twee stooreenheidlengtes agter hom, maar die versnelling van die potsierlike motor was sodanig dat Ylbaard-hulle hom ingehaal het voordat hy weer regs in die volgende ry kon afhardloop.

Ylbaard het bereken dat hulle teen omtrent 40 kilometer per uur gery het toe hulle hom getref het. Dit klink nie na ʼn besondere hoë snelheid nie, maar dink aan die geweld van ʼn 1,500-kilogram renoster met harde blik vir ʼn vel en toegerus met botsstawe. Dink hoe vernietigend dit die menslike liggaam sal tref teen vinniger as wat Osain Bolt ooit kon hardloop. Die VW het die man net onder die knieë getref en sy liggaam het agteroorgeklap en toe skerp vooroor waarna die kar met ʼn effense bokspring oor hom is. Hy het vollengte vooroor geval. Iets aan die onderstel het sy een voet gehaak en hom soos ʼn mat opgerol. Maar die menslike liggaam is nie gemaak om opgerol te word nie en werwels is losgetrek, bene gebreek, senings middeldeur gepluk en lede

mate ontwrig. Nadat Ylbaard die Volkswagen met ʼn driepuntdraai omgeswaai het, het hulle die man op sy rug aangetref. Hy was duidelik opslag dood.

Die ander twee vlugtendes het intussen langs die rye stooreenhede rieme neergelê. Een van hulle het die twee meter hoë muur bereik en in die desperaatheid van doodsvrees oor die muur probeer spring, voluit in die rolle lemmetjiesdraad wat bo-op dit vas. Die sluwe draad het met swaartekrag saamgespan om sy arms en bolyf vas te trek en die skerp plaatjies in hom in te ruk sodat hy hulpeloos soos ʼn groteske insek in ʼn spinnerak vasgewoel was. En dis waar die Merk IV op hom afgekom en die hoofligte op hom geskyn het. Hy het gewoel teen die greep van die draad en die lemmetjies het hom meedoënloos opgekerf.

Joachim het uit die toring geklim en voor die man gaan staan, die pantserkar se ligte agter hom. Hy het tot onder die man gestap. Dié het hom hoor kom en daarin geslaag om sy  kop so ver te draai dat hy vir Joachim in die oog kon kry.

“Help my!”  het die man gepleit.

“Dis nie hoekom ek hier is nie,” het Joachim gesê.

“Nou wat dan?”

Joachim het die een haan van die Lupara teruggetrek en die min het die geluid herken en driftig begin wriemel.

“Jy gaan my nie skiet nie! Gaan jy my skiet?”

“Dit is my plan.”

“Nee. NEE! Jy moenie! Jy hoef nie! Luister man, dis verby! Dis alles verby! Ek kan niks aan julle doen nie! Fok man, ek is aan stukke gesny. Ek gee oor. Dink man, dink! Dit is nie nodig nie!”

“O, dit is.”

“Neeneenee… Luister, LUISTER! Ons het ʼn fout gemaak, ʼn fout! Ons moes nooit hierin gedraai het nie.”

“Julle hét ʼn fout gemaak. Julle het nie al die reëls verstaan nie.”

“Reëls? Watse fokken reëls?”

“Die reëls sê dat as julle hier kon inkom en ons doodmaak, soos julle wou, kon julle alles hier gevat het. Die res van die reëls sê as julle dit nie regkry nie, maak ons julle dood.”

“Nee man! NEE! Dit was nie ek nie. Dit was my pelle! Hulle wou hier in…”

“So jy sê dit was nie jou skuld nie. Ek wéét dit was nie myne nie. En jy weet, reëls is reëls.”

En daarmee het Joachim die Lupara teen sy skouer gebring en die man deur die kant van sy kop geskiet.

Die laaste voortvlugtende was myne. Hy het na die spoorvraghouers gevlug. Teen die einde van hulle bedrywighede het Sentinel Storage slordig begin raak en die hoë, lang metaalhouers is soos ʼn kind se speelgoedblokkies rondgestrooi. Dit het ʼn uitstekende doolhof saamgestel en hy moes gedink het hy  kan daarin verdwyn. Maar ek het my skoene met die harde leersole uitgetrek, my broekspype opgerol en tot bo-op ʼn vraghouer gewip – nie ʼn moeilike takie vir ʼn gebreide stoeier nie. Ek het van die een na die ander gewip en hom aangejaag na die hoek van die werf toe tussen die houers deur.

Hy het ʼn handwapen by hom gehad en elke keer as hy ʼn kykie van my gekry het, het hy oorhaastig op my geskiet. Die knalle het tussen die houers gesimbaal. Net een trefskoot sou my gestuit het, maar ek was so vasberade en kwaad dat ek baie seker was dat hy my nie sou tref nie. Hy het nie en dit het alles geëindig toe hy by ʼn doodloopgangetjie tussen ʼn paar houers in is en sy pistool gestoor het. Hoog bo hom, op ʼn vraghouer, het ek stelling ingeneem, die lang kapknuppel se steel in albei hande.

Hy het my gewaar, die nuttelose pistool na my geslinger, op die grond neergesak, op sy sy, en sy een hand se palm na my gehou in ʼn futiele gebaar om die einde af te weer. Toe spring ek van die vraghouer af, die kapper ver oor my kop teruggetrek, en toe my voetsole weerskante voor hom die grond tref… kap ek.

“Ek is… jammer… dis net…”

Micki frons in die dowwe lig van die elektriese lantern in die kantoor. Dis asof my gedagtes en stem nie gesinchroniseer is nie, asof ek nie kan sê wat ek dink of kan dink wat ek moet sê nie.

“Dis… dis…” My stem is hees.

Want hoe vertel jy vir ʼn meisie van wat jy gedoen het? Ek kom uit ʼn wêreld waar foute reggestel word met ʼn druk van die agteruitknoppie op ʼn  tikplank, of waar jy  kan sterf en dan net die rekenaarspeletjie weer kan begin. Maar as jy ʼn opgekrulde man met jou kru kapknuppel tereggestel het, hoe ontdoen jy dit? Dit is nie ʼn video wat jy agteruit kan speel sodat bloedvate weer heg, vliese heel word, skedelbrokke weer terug in mekaar pas nie. Dit wat ek stukkend geslaan het, kan nooit weer heel word nie. Hy kan nooit weer leef nie.

“Ek is jammer,” sê ek uiteindelik sag.

Micki wieg weg van my af, die rooinat handdoek in albei haar hande.

“Jammer?” sê sy. “Jy sê vir mý jammer?”

“Ja…”

“Joggie,” sê sy. “Joggie… jy het niks om voor jammer te sê nie!”

“Wat?”

“Joggie, nadat ek die lig in die bakkie se drywer se oë geskyn het, moes ek in die kantoor ingegaan en die deur agter my gesluit het. Dis wat Joachim gesê het. Maar ek het nie. Ek het net daar agter die drommetjie bly sit en bo-oor dit geloer. En ek het gesien wat gebeur het.”

“Ek wens jy het nie.”

“Kyk na my! Kyk na my. Luister. Vandat dit alles begin het, was ek soos ʼn katjie wat verdrink en dit, dit alles wat gebeur het, dit was soos ʼn rivier in vloed om my. Ek was seker dit alles gaan my wegspoel. En toe is dit asof die katjie teen ʼn bloekomboom vasspoel en ek klou, ek klou en ek klou en ek klou aan die boom vas, en solank hy bly staan, sal ek niks oorkom nie.

“Jy, Joggie, jy is my bloekomboom. Ek het gesien hoe jy veg. Ek het gesien hoe jy aanhou en aanhou selfs toe dit lyk asof hulle jou net gaan… uitwis. Hulle was so baie, en gewapen, en jy het niks gehad nie, net jou hande. Maar ek het geweet, gewéét!,  hulle sal jou nie wen nie. En solank jy nog staan, dít het ek geweet, dit weet ek nou, hier en nou, solank jy nog staan kan niks met my gebeur nie. Ek sal altyd, altyd, altyd dankbaar wees.”

Sy sit die handdoek neer, vat my kop tussen haar twee hande en soen my saggies, deeglik op die lippe, en sit weer terug.

“Dankie,” fluister sy. “Dankie.”

“Bly by my,” sê ek.

Sy glimlag effens.

“Ek kan nie,” sê sy.

Micki staan op, geluidloos, moeiteloos, kyk weer vir ʼn oomblik na my en draai om en stap na Joachim wat langs die toonbank sit waarop Tabitha lê.

Twee figure strompel van die kleedkamer af na my toe. Dit is kort Ninja en lang Lance. Die een gaan sit aan die een kant van my en die ander een aan die ander kant van my. Hulle sê niks.

ʼn Mens kan nie jou familie kies nie en soms, wanneer manne saam veg vir oorlewing, kan jy ook nie kamerade kies nie.

Dis hoekom hulle “broers” genoem word.

(Lees vervolgens Bodem, boek II, 19.)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.