Bodem II, 19: Die uniform

Deel op

‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Bodem I is reeds volledig.

Lees eers Bodem boek II, 18.

Die weer is ʼn omgewing se grimering en as daar ooit ʼn bewys was van die natuur se ongeërgdheid oor die lotgevalle van die mens, is dit ten toon gestel dáárdie dag ná die verskriklike Nag Een toe die Chaos in Kaapstad opgedaag het, want dit moes ʼn sombere dag gewees het, vol nukkerige windvlae, skerpkoue reëndruppels en vaal miswolke. Dit moes begrafnisweer gewees het sodat roubeklaers in dik, donker klere nat aan die buitekant nader aan mekaar sou staan by die langgate in die aarde.

bodemIIMaar nee, die dag het opgedaag in volle songlorie, soos ʼn glinstertandvaudevillester wat met ʼn uitbundige “ta-DAA!” oor die verhoog samba. Wit pofferwolke in ʼn helderblou lug, windloos en geurig, die volmaakte herfsdag in die Kaap.

Ons het die drie grafte netjies in ʼn ry gespasieer in die Noordoostelike hoek van die terrein in die skaduwee van ʼn vyftal bloekombome wat in ʼn halfmaan gestaan het. Daar het ons ons drie gesneuweldes begrawe en soveel as moontlike seremoniële tyd aan al drie afgestaan.

Aan die linkerkant is die oorskot van Dermot, die wag, in die aarde gesit. Ons het hom buite die hek gevind waar hy geval het. Dit was Joachim wat gedemp opgemerk het dat die groot vormlose plas bloed waarin die liggaam gelê het, ʼn aanduiding was dat Dermot nog ʼn rukkie geleef het nadat hy getref is.

“Natuurlik kan ons nie sê of hy by sy bewussyn was, al dan nie,” het Joachim gesê. “Ons kan eenvoudig nie weet nie.”

“Nou watse verskil  maak dit?” het Micki gevra. “Of hy bewusteloos daar gelê het totdat hy uitgebloei het en of hy opslag dood is, watse verskil maak dit?”

“Geen verskil nie. Geen verskil hoegenaamd nie.”

“Nou hoekom staan ons daaroor en wonder? Dit help nie, help net mooi niks.”

Maar detail was en is steeds vir Hans Joachim Marseilles Bekker belangrik, net soos wat dit vir hom is om eerlik oor bevindinge te wees. As jy weet wat die feite is, en jy is dapper genoeg om eerlik daaroor te wees, dan kan jy begin om ʼn greep op ʼn situasie te kry. Ek het hierdie benadering van hom in ʼn duisend gevalle in werking gesien.

Ons het Dermot se liggaam op ʼn stuk plastiekseil gerol en ek, Ninja, Lance en Reginald het elkeen ʼn hoek daarvan geneem en ons het hom tot by sy laaste halte gedra.

Die vier van ons het die reghoekige gate gegrawe, en dit was nie moeilik in die klam, sagte grond nie.

Die begrafnisse was eers in die middag. Ons het eers voorbereidings getref en begin om deur die stooreenhede te gaan, op soek na lewensmiddele. Ek het onder andere klere nodig gehad. My klerevoorraad is met my gesteelde rugsak weg en die klere wat ek aangehad het was gehawend ná die oorlewingsworstelinge van die vorige aand. Ek het in een van die eenhede ʼn laaikas gevind en daarin was onder andere ʼn vlootblou koordfluweelbroek en ʼn paar T-hemde in my grootte en was besig om dit aan te trek toe Reginald met ʼn lys op ʼn knipplank verskyn het.

“Eenheid 101 tot 104. Kliënt Cape Protective Wear.

“Ek dink ons moet daar kyk.”

Die vier stooreenhede van CPW was ons eerste groot skattevonds en ons kon nie ʼn beter een bestel het nie. Vier wonderlike, groot, diep vertrekke vol bokse en bokse netjies opgevoude oorpakke geseël in plastieksakke en nog meer skoendose met enkelhoogte leerveiligheidstewels met staalversterkte punte, benewens veiligheidsbrille, plastiekhardehoede, voorskote, handskoene en oorjasse.

Die oorpakke was eenstukke en almal van dieselfde donkergroen kleur. Tot vandag toe kan ek, as ek konsentreer, die sensasie herleef van die dik weefstof toe ek een aangeglip het. Dit was droog en dig en skoon. Vir die eerste keer sedert ek van die stoep by Le Amici afgetrap het in die nat straat in agter Joachim aan, het ek begin glo dat iets van my menswees behoue gebly het.

Ek het vir my ook ʼn paar swart veiligheidstewels toegeëien. Wat die dag en die dae daarna vir ons ingehou het, kon ek nie met sekerheid sê nie, maar ek was seker dat blinkleeruitgaanskoene nie die regte skoeisel daarvoor was nie.

Die motorfietsers se klere was ewe verweer en hulle het elkeen ʼn soortgelyke stel oorpak-en-stewels as ek ontvang en aangetrek. Ons het dieselfde klere aangehad. Ons was, om presies te wees, onbepland sekerlik, in uniform. Die effek is versterk deur Micki wat iewers ʼn rol swart katoen gekry het en daarmee vir ons elkeen ʼn serp geprakseer het om vir lyfbande te gebruik. Dit is afgerond met swart breërandhoede van seil gemaak, waarvan ons 2 500 in ʼn promosieklerasiebesigheid se eenheid gevind het.

Swart hoed, groen oorpak, swart serp om die middellyf, diepgroen oorpak, swart stewels: Dit het die uniform geword, berug by sommiges, beroemd onder veel meer, van alles wat ons sou word in die komende dae, weke, maande… Die drag van die Maarskalk se Leër.

Hy het self soos ons aangetrek – met enkele verskille: Benewens die serp om sy middellyf het hy nog een diagonaal vanaf sy skouer oor sy borskas gedra en op sy kop – hoe dit behoue gebly het, weet ek nie – was sy operakuil, hoog en glinsterend en nagswart soos ʼn raaf se vlerk. Meer nog as ons uniforms, sou daardie kuil die kenteken van ons broedersbende word. Joachim het deurgaans die waarde van vertoon besef en gebruik. En daar was hy, soos ons en tog ook verhewe. Sy instink om naatloos te wissel van een van ons tot enig in sy soort was een van sy uitstaande eienskappe.

Ylbaard het sorgvuldig nog ʼn stel klere bymekaar gemaak.

“Om te wat te?” wou Lance weet.

“Vir hom, jy weet,” het Ylbaard gesê en skielike trane het sy oë volgeskiet.

“Vir Solly?”

“Ja. Ek sou hom in sy colours wou begrawe,” het hy deur ʼn toe keel gesê. “Maar ons het dit nie hier nie. Ek het gesoek en ek het ʼn suit – ʼn pak klere – gekry. So ʼn bloue. Maar Solly was nie eintlik ʼn pakklere-ou nie, so toe ek hierdie sien…

“Dis orraait, is dit nie?” het hy vir Joachim gevra.

“Dit sal my trots maak,” het Joachim gesê, “trots om dieselfde klere te dra as waarin ons hom gaan groet.”

Die motorfietsers het self die liggaam in die kantoor gaan was, sy lang hare natgesproei en gekam, sy baard netjies geknip, en hom toe aangetrek in kraaknuwe groen oorpak, swart serp, swart stewels.

Peter “Solly” Martins was die eerste van ons broers wat in die uniform begrawe sou word.

Hy was nie die laaste nie. By verre nie die laaste nie.

(Lees vervolgens Bodem, boek II, 20.)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.