Bodem II, 20: Die langgate

Deel op

‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Bodem I is reeds volledig.

Lees eers Bodem boek II, 19.

Nie een van ons het regtig geweet wat die protokol vir ʼn tuisgemaakte begrafnis is nie. Uiteindelik het ons maar, dink ek, dat Hollywood en goedkoop literatuur ons inlig. Ons het by die grafte gestaan en een vir een die liggame, toegedraai in seil, in die langgate laat insak en toe het dié wat die oorledenes geken het, mooi dinge oor hulle gesê. Dit het beteken dat Reginald die meeste aan die woord was, want hy het uiteraard twee kollegas verloor.

“Tabitha Paulson was ʼn gentle soul met ʼn strict side,” het hy gesê.

bodemIIDie plegstatige aard van die geleentheid het hom blykbaar laat verval in Kaaps. Ek het Joachim se frons opgemerk en nog altyd agterna gewonder of dit bygedra het tot die besluit wat hy later in verband met Reginald sou neem.

“Sy was ʼn kerkmeisie, ʼn pentacostal, in die choir gesing en almal daai dinge, ʼn stem so soet soos die soetste, soetste soetmoskonfyt. Haar secret ambition was om ʼn sous chef te gewees het by een van die groot hotelle. Sy het daai courses en alles gedoen, after hours. Ons het almal gebenefit want óf sy bring vir ons van haar petit fours op ʼn Maandag, of ons kry quiche of oxtail of whatever sy mee ge-experiment het.

“Sy was net ʼn nice girl, a genuinely nice person, en alles. Maar jy kon haar ook trust om haar job te doen, en laasnag het sy haar job gedoen, dit weet ons, almal van ons hier by haar final resting place. Toe die vyand ons defences gebreach het, waar was sy? Da’ langs ons, shoulder to shoulder, met haar paintball gun. En dit was crazy, crazy, jy weet? Want waar sien jy nou dat ʼn paar security guards met paintball guns moet contend met die satanic horde en hulle se firearms? Ma’ sy’t’ie gehesitate ‘ie. Sy’t haar job gedoen.”

“Ah, ah, ahhh!” het iemand oorkant my gekreun en ek het opgekyk en kon nog steeds nie gewoond raak aan wat ek gesien het nie.

Boeta Ericson het in die nag verskyn soos ʼn gesant uit ʼn ander wêreld. Hy het dwarsdeur die geveg in ʼn stoorkamer geslaap, goed gewierook met die beste boom in die Kaap en gemarineer met Olof Bergh. Hy was die vierde wag waarvan die ander drie in die kolking van die gebeure vergeet het. Hy het doodluiters in die kantoor waar ons na die slag ons wonde gelek en probeer sin maak het van die kronkels van die nag se gebeure, ingeskuifel, gegaap, sy ribbes gekrap en die vaak uit sy gesig gevee. Hy het die atmosfeer besnuif en gepraat:

“Wat eet ons?” het hy gevra.

Vir die gewone mens is dit onmoontlik om ʼn groot verskyning te maak, babelas, krappend, snuiwend en geklee in slegs ʼn kortpyponderbroek. Maar vir Boeta Ericson was dit nie ʼn prestasie nie. Hy is groot, sien, nie soos in die gewone “groot”-kategorie nie; groot soos mense-draai-in-die-straat-om-en-kyk groot, digby 2,1 meter op sy kaalvoetsole; groot maar in presiese proporsie met breë skouers, nou heupe en lang bene, alles onder ʼn gespierde nek en ʼn aandagrowende gesig met ʼn volbaard en geelrooi hare wat agteroor in dik deinings tot net bo sy skouers val. Hy is ʼn plakkaatmodel van ʼn Hollywood-Viking. Kleur sy hare swart en hy kon ʼn ekstra gewees het op die stel van “300” as een van Koning Leonidas se Spartane.

Nie een van ons het onmiddellik geantwoord nie, nie ek of Lance of Ninja wat teen die oorkantste manier ineengesak gesit het weens uitputting nie; nie Micki of Joachim wat by die toonbank waarop Tabitha uitgestrek was, gesit het nie; nie een van die ander motorfietsers of Reginald die oorblywende wag nie.

Ooglopend onbewus van die beroering wat sy verskyning veroorsaak het, het hy weer diep geruik-ruik.

“Kos,” het hy verklaar.

“Ûhm, pap en bredie,” het Joachim gesê en na die tafel met die twee potte op beduie. “Help jouself.”

“Moerse!” het die groot jongman gesê. “Moerse.”

Die slagveld maak dors, maar nie noodwendig honger nie en daar was verbasend baie kos oor. Boeta het die pap in ʼn indrukwekkende hoë hoop op ʼn plastiekbord geskep en dit toe bedek met die dik, rooi bredie. Dis eers toe hy begin rondkyk vir ʼn sitplek wat hy die liggaam op die toonbank gesien het.

“Dit Tabitha?” het hy gevra. “Hoekom lê sy daar? So?”

“Sy’s geskiet,” het Reginald gesê.

“Rêrig?” Hy het rubbernekkerig nader gestaan terwyl hy die eerste groot skeppe kos in sy mond geskopgraaf het. “Hoekom?”

“Hier was mense,” sê Reginald. “Hulle wou ons roof. Hierdie menere het ons gehelp.”

“Woes. Woes.

“Gaan sy orraait wees?”

“Nie soos ons dink nie. Sy gaan gaan.”

“Waarheen?”

“Weg, jy weet… sy sterf.”

“Woes. Sjô. Woes.”

Boeta het nie geweet hoe om na dié nuus op te tree nie en het rondgekyk na die res en hulle stemmigheid gesien. Die ander was bloot te moeg om emosioneel te wees, te verwilder en innerlik te besig om die gebeure van die nag in hulle gedagtes te rangskik. Daarom het Boeta maar net groot skeppe kos in sy mond gestoot en in gespierde kieste gekou.

Ek ken Boeta Ericson dus van Nag Een af en ek het nog nooit iemand anders teëgekom wat sy bui so geredelik kon instem op die atmosfeer van die heersende situasie nie. As daar gelag moes word het hy geskater, as daar geween mos word, het hy hartlik getjank, as die algemene bui ʼn ontspanne een was, het hy behaaglik versmelt. Ek dink nie hy het in sy lewe ʼn oorspronklike gedagte gehad nie en hy is op ander aangewese om te weet wat in sy gemoed moet aangaan. Solank as wat hy weet wat die regte emosie vir die geleentheid is, is hy die meester van hulle almal. Daar is net een gevoel wat totaal aan hom onbekend is: Boeta Ericson weet nie wat vrees beteken of hoe dit voel nie.

“Is ek reg as ek sê,” wou Joachim weet en ek kon sien dat die gedaante hom gefassineer het, “dat jy dwarsdeur alles geslaap het. Ek bedoel, hier was ʼn opgeskote veldslag meters van jou af, met kleingeweervuur, botsings, hand-tot-handgevegte en gille. En jy het die hele tyd geslaap?”

“Ja,” het Boeta met sy mond vol kos gesê, gesnorklag en toe gefrons. “As ek slaap… slaap ek.”

Boeta Ericson het in sy gekreukelde blou sekuriteitswaguniform by die grafte gestaan en snik tydens Reginald se huldeblyk aan Tabitha.

“Net voordat sy finally gefade het,” het Reginald gesê, “het Tabitha opgekyk na my.

‘Reggie,’ het sy gesê, ‘Reggie, toe ek anderdag werk toe gekom het, was dit die ou  wêreld wat ek geken het. Nou is dit ʼn nuwe een. Reggie, ek hou nie van hierdie nuwe een nie. Ek resign.’

“En toe raak sy net weg.”

In die glansende, erbarmlike sonskyn van die dag het die groot druppels uit die hoeke van Boeta Ericson se toegeknypde oë kronkelpaadjies in sy geel baard ingeloop.

 (Lees vervolgens Bodem, boek II, episode 21.)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.