Bodem II, 21: Die motorfietsbobbejaan

Deel op

‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Bodem I is reeds volledig.

Lees eers Bodem boek II, 20.

Hoe is dit dan dat ons om die reghoekige gate staan en na die lang liggame daarin kyk en genoop voel om ʼn goeie verslag van die lewe, en soms dood, van die afgestorwene te gee? Is dit ons manier om desperaat ʼn kontrak te probeer vestig, sodat wanneer dit ons is wat in die laaste loopgraaf lê, ons so aangeprys sal word, dat dit ons oorgang na die doderyk meer sussend sal maak?

Dit was maklik om die verdrag gestand te hou met Tabitha – sy het goed gelewe en dapper gesterf. Wat ook al die gehalte van Dermot se bydrae in die lewe, sy laaste optrede en lafhartige sterwe het dit doodgetrek. Die mense om sy graf sou hom altyd onthou as die een wat gevlug en geval het. Selfs Reginald, wie se spraak kleurvoller en driftiger deur sy huldeblyk aan Tabitha geword het, moes diep grawe vir mooi knipsels uit die lewe van Dermot.

“Eintlik was hy ʼn timid mannetjie,” het hy stroef gesê. “Nie eintlik security guard material nie, sou ek sê. Ma’ hy’t ʼn relative gehad by head office, en beggars can’t be choosers is mos wat hulle sê. Sy secret ambition was om DJ te wees, eintlik nogals strange vir ʼn introvert soos Dermot, ma’ in ʼn perfect world, sou hy da’ oppie stage gewees het, besig om disks te spin. Sy family sal hom miss, arme Dermot… poor chappy.”

Dermot wou ʼn platejoggie wees. Dermot was ʼn sekuriteitswag. Dermot het weggehardloop. Dermot is in die agterkop geskiet. Dermot, arme jong donner. Kom ons beweeg aan. Ons het skuifelvoetjie versit na die laaste graf, die langste reghoek in die aarde waarin Solly se
liggaam toegedraai was in ʼn grys kombers. Die motorfietsers se stroefheid het diep en stil geword. Dit sou soveel makliker en selfs redeliker gewees het om maar net die grawe wat regop in die sandboggel gesteek het te vat en die gat op te vul sodat die letsel in die aarde kon begin heel, sodat die liggaam in sy elemente kon verdeel en die koolstof van Solly die koolstof van die Kaapse bodem kon aanvul. Maar daar was dinge om te sê, mooi woorde oor Solly, nie vir Solly nie, dink ek; vir ons, sodat ons elkeen die versugting kon hê van ʼn graf waarrondom mense staan en mooi dinge oor ons sê.

Ek, Joachim en Micki het hom nie juis geken nie; Reginald nog minder, so ons moes vir sy
motorfietskamerade wag. Ylbaard was duidelik hulle woordvoerder, maar vir eers bly hy stil en
niemand praat nie.

Uiteindelik kug Ylbaard, roggel en rasper aan die slym in sy keel. Hy lig sy kop en die bries roer in die rooi tentakels op sy ken. Hy sluit sy oë vir ʼn oomblik asof hy die woorde van ʼn gedig in sy kop repeteer en die son skyn op sy gesig. Dan kantel sy kop vorentoe en sy ooglede trek oop.

“Moer,” sê hy gewigtig. “Moer. Ek wil nie hier wees nie; nie hier langs ʼn gat in die grond met Solly daarin nie. Dit voel vir my asof dit nie waar is nie, asof hy vir ons ʼn poets bak. Dit voel vir my as ek opkyk sal ek hom daar sien, by sy Groot Fiets, sy boude op die saal maar sy bene dié kant, voor hom, staan-sit hy so. Ek het hom tienduisend keer so gesien, skyf op die lippe, branna in ʼn beker, dáái beker van hom, in die hand.

“Hy was ʼn eenkantmens, was Solly, selfs in die Sunriders. Maar hy was altyd deel van alles wat ons gedoen het, veral as daar stront gestook is.

“Ek het…” Ylbaard se stem verhees tot onhoorbaarheid. Hy trek diep, sidderend aan asem en
probeer weer. “Ek het dié foto in sy beursie gekry.”

Hy hou ʼn gelamineerde, dowwe volkleurfoto op.

“Shortcut,” sê hy.

Daar is ʼn beroering van verbasing onder die motorfietsers en hulle leun in die rigting van die foto.

“Shortcut,” beaam Lance.

“Shortcut!” bevestig Kip.

Ek kyk na die foto en is self verras. Dit is van ʼn bobbejaan op ʼn motorfiets, ʼn bonkige ou Kawasaki Z1100 op sy staander. Die primaat sit bedrewe op die saal, een arm reguit voor hom, vingers geklem om die handvatsel en die ander hand wys hy in die rigting van die kamera, vuis gebal met die middelvinger parmantig, blatant regop in die universele “vatjouweg”-gebaar, terwyl die bobbejaan uitdagend en slu oor dit na sy gehoor korrel.

“Die Sunriders hier weet alles van Shortcut af. Dis die bob’jaan se naam. Maar ek gaan die storie van Solly en Shortcut vertel vir die ander.”

Die ander is ek, Joachim, Micki, Boeta die reus en Reginald.

“Solly het op ʼn kleinhoewe in die Langkloof gebly. Ons het hom net gesien as die klub gaan ry het, breakfast runs, rallies, toy runs, so aan. Hy was getroud, ʼn paar keer, en het ʼn kind of twee by elke vrou gehad. Sy plekkie het ʼn boord vrugtebome gehad en dis hoe Solly geld gemaak het. Elke somer het hy appelkoos- en perskerolle gemaak en aan die plaasstalletjies en groentewinkels verkoop. En die res van die jaar het hy aan sy motorfietse gewerk.

“Hy het vandat ek hom ken net twee fietse gehad, twee Kawasakis, sy elfhonderd wat hy sy ‘Klein Fiets’ genoem het en ʼn 1300 wat sy ‘Groot Fiets’ was. Die twee het nooit op dieselfde tyd geloop nie. Elke jaar het hy een van hulle uitmekaar gehaal, boute en blaaie tot op die laaste moertjie, skroewe en waster. Dan het hy hom stukkie vir stukkie weer aanmekaar gesit totdat alles perfek was. Die oomblik wat die ‘fiets loop, het hy ʼn draai gaan ry en wanneer hy terugkom, begin hy die ander een uitmekaar haal.

“Eendag, as ek reg onthou het ons Paternoster toe gery, of dit kan die slag wees wat ons Williston toe is, daag hy met sy Klein Fiets op en by hom het hy ʼn bababobbejaan. Shortcut. Dit was net nadat sy tweede vrou hom gelos het.

“Solly en Shortcut het mekaar verstaan. Shortcut was eers baie oulik, so ʼn nuuskierige klongetjie, maar soos hy ouer geword het, het hy ʼn bliksem geword. As Solly en Shortcut naby was, het jy gesorg jou goed is mooi weggesit want hy het geleef om te steel en as hy eers in jou goed was, was alles stukkend of rondgestrooi of stukkend.

“Een van sy dinge was om honde te byt. As daar honde naby was, moes ons hom goed in die oog hou, want netnou-netnou sit die kak wit. En hy was bliksems skelm daarmee. As daar ʼn hond naby is, eers ignoreer hy hom soos ʼn stopstraat. Ou Shortcut sal homself eenkant hou en maak asof hy gʼn brak sien nie. Hy sal homself besig hou met die soek van goggas onder klippe of stompe, of homself krap en vlooie soek of sommer net sit en balbak, sy oë toe, maar nie heeltemal toe nie… totdat die hond naby genoeg is, en dan waai die hare. Dis ʼn geskree soos ʼn mal vark, en ʼn gebyt en ʼn gestoei en ʼn aanganery, totdat die hond lê of tjank-tjank daar weg is. Dan boggom Shortcut en hy het hierdie grinnik op sy gesig, baie tevrede met homself, soos ʼn standerdsessie wat sy maatjie se ma sonder klere gesien het.

“Vir, ek weet nie, vier, vyf jaar was Shortcut altyd saam met ons Sunriders as ons gaan ry het. Die moeilikheid wat hy gemaak het! Hoe groter hy geword het, hoe kwaaier het hy geword. Dis net Solly wat hom regtig kon hanteer as hy moeilik was, en dan het hy dit met sy sambok gedoen. Shortcut was skytbang vir die sambok want as Solly hom gebliksem het, het hy hom geblíksem. En dan agterna, dan sit hulle styf teen mekaar en Shortcut is so mak soos ʼn lammetjie.

“Shortcut het net een baas gehad. As ons gery het, het hy agter Solly gesit en vasgehou, maar vas-vas, want hy het eenkeer afgebliksem.

“Dit maak nie saak hoeveel ‘fietse daar was nie, vyf, tien, vyftig, hondered, Shortcut het hom nie aan een ander een gesteur nie. Hy sal daar eenkant loop en peuter, dan skop die manne die ysters aan die brand. Die hele aarde bewe naderhand van ‘fietse wat raas, maar Shortcut is min gespin… totdat Solly sy Kwacker opstart, enige een, die Groot Fiets of die Klein Fiets, dan is dit soos turboweerlig en Shortcut sit agterop.

“Naderhand het Shortcut ʼn probleem geword. Van kleins af het hy gesuip. Die manne het gou geleer om vir hom ʼn dop te gooi. Jy kon dit vir hom so in die bottel aangee of in ʼn beker en hy drink vir hom soos asof hy die vliegste van kroegvlieë is. Niemand het ooit tuiser agter ʼn Black Label-bottel of ʼn Klip-en-Coke-glas gelyk nie. Die manne het natuurlik te ver gegaan en dan word Shortcut dronk soos ʼn lord, en eerlikwaar, dan was hy éérs snaaks. Daar is niks snaakser as ʼn dronk bobbejaan op ʼn motorfiets-rally nie.

“Die moeilikheid is, die volgende dag is hy siek, dan as hy agter Solly ry, bekots en beskyt hy hulle altwee én die ‘fiets waarop hulle ry.

“Toe eendag kom Solly sonder Shortcut by ʼn breakfast run aan. Al wat hy wou sê is dat Shortcut dood is. Wou nooit oor hom praat nie. Eers baie jare later het hy, toe hy goed gesuip was, my vertel wat gebeur het. Hy het geweet hulle kan nie so aanhou nie. As die manne en Shortcut bymekaar is, maak hulle hom suip en dan mors hy en is hy bakleierig. So, na een rally, een nag in die Langkloof op sy plot, gee Solly vir Shortcut drank en laat hom suip tot hy poepdronk was, en toe die bob’jaan uitpaas… toe slaan hy hom met ʼn vierpondhamer dood.

“En nou begrawe ons vir Solly. Ek kyk na hierdie foto en ek weet dat Solly se beste paar jaar dáárdie jare was saam met Shortcut. Ons het hom nooit voor dit en nooit ná dit so gelukkig gesien nie. Dit was sy goue jare. Maar toe moet hy kies, kies tussen ons en die bobbejaan. En toe slaan hy hom dood.

“Hierdie is nie ʼn goeie tyd vir ons nie. Die wêreld het mal geword. Nie een van ons weet wat met ons gaan gebeur nie – miskien weet die kommandant,” en hy knik in Joachim se rigting, “- maar ons ander weet nie. Ek weet net dít, ek wens Solly was hier, Solly en Shortcut saam. Dit sou alles makliker gemaak het.”

Die motorfietsers se skouers hang, hulle gesigte trek pynplooie deur al die herinneringe en die
strakheid van die werklikheid. Vir eers sê niemand iets nie.

“Solly was nie eintlik ʼn musiekou nie,” gaan Ylbaard dan voort. “Maar daar was een song wat uit sy weermagdae kom en hy het altyd gesê dit moet op sy begrafnis speel.”

Hy knik vir Kip wat ʼn musiekspeler by hom het. Die motorfietser haal diep asem en druk die
“speel”-knoppie. Nie een van ons ander was voorberei op wat uit die luidsprekers galm nie. Dit is ʼn tagtigsliedjie, Pierre de Charmoy met sy heserige stem wat hy in die nasale holtes masker soos Neil Diamond en hy sing: “Moments shared with you are in a dream… How I’d like to have you here right now, to share my feelings and to reason why, live on!”

Ons is nog meer verbyster toe die motorfietsers in alle stemme van die noot af raserig begin
saamsing: “Live on!”

Terwyl hulle sing haal Ylbaard ʼn geduikte, goedgebruikte blikbeker uit sy sak en Lance skink dit
plegtig vol goedkoop brandewyn en hulle sing nog steeds reeds nadat die opname tot ʼn einde
gekom het, en terwyl hulle die koortjie vir die sesde keer herhaal – “Live on!” – slinger Ylbaard
die drank in die graf in sodat dit in ʼn lang ry druppelplasse oor die uitgestrekte liggaam onder die
kombers val en donker kolle in die dik, grys weefstof maak.

Solly en Shortcut. Geen motorfietser en bobbejaan is ooit plegtiger gehuldig nie. Hierdie moes die eerste begrafnis in die geskiedenis gewees het waar die teraardebestelling begelei is met Pierre de Charmoy en brandewyn. Maar uit sulke opregte eenvoud kan kosbare tradisies ontstaan, en tot vandag toe, wanneer ons ʼn makker in die reghoekige gat uitlê, sing ons “Live on!” en gooi ons brandewyn in die graf.

Dis maar net hoe ons dit doen.

Daarna het ons die gate met die grond gevul en toe aangegaan met die uitputtende werk van
oorlewing.

(word vervolg)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.