Bodem boek II, 13: Die boerpot

Deel op

bodemII‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Bodem I is reeds volledig.

Lees eers Bodem boek II, 12.

Die wagte, Reginald en Tabitha, en drie van die motorfietsers het binne minute teruggekeer, kwetterend soos vinke, grootoog en opgewonde, met ʼn 12,5-kilogramsak mieliemeel en ʼn inkopiesak met ses blikkies boeliebief en ses blikkies tamatie-en-uiebredie. Ylbaard het beheer van die kokery geneem en ʼn groot aluminiumpot water op ʼn gasplaat op die ontvangstoonbank aan die gang gehad.

“Broe’!” sê Lance, die lang motorfietser uitasem toe hulle met hulle skatte opdaag. “Vannag fees ons! Ons fees diep!”

“Wat het julle?” vra Ylbaard.

“Boeliebief, broer, en sjêba.”

“Julle die mieliemeel onthou?”

“Broe’!” sê Lance geskok. “Dis soos om te vra of ek die baaik onthou het op ʼn brekfis run.”

“Ek vra net, want julle Kapenaars het mos iets teen goeie kos.”

“Pap? Broe’ ek eet vannag die styfste stywepap, ek is so honger, dat die souse so teen my ken afloop, en dan eet ek die sak waarin dit gekom het en dan eet ek die kar waarin die sak gekom het.”

“Jy nie van die Kaap nie?” vra ek vir Ylbaard.

“Vrystater, ek,” sê hy en vat die sak by Lance en sny die hoek van die geweefde plastieksak weg. “Kroonstad.”

“Moenie dat hy jou spin nie, die outoppie,” sê Lance. “Hy het tiet gedrink op Kroonstad, maar hy is al so lank hier, hy het gatsby’s verkoop aan Van Riebeeck se matrose. Hy is langer as ek in die Kaap en ek is in Goodwood gebore!”

“Ek het my diensplig gedoen in die lugmag,” sê Ylbaard. “Youngsfield. Ek was jonk en skraal. Sy was klein en fyn. My pelle het gesê sy gaan soos haar ma lyk.”

“Wat nie so fyn en klein was nie?”

“Ek het net gelag. As jy jonk is, gaan jy mos vir altyd leef.”

“En sy nooit soos haar ma lyk nie.”

“My pelle was reg. Maar toe is dit te laat.”

Hy hou die meelsak onder sy linkerarm en laat ʼn straal mieliemeel deur die stoomnewels in die pot val terwyl hy dit in die kolkende kookwater met die agterkant van ʼn lang houtlepel inroer.

“Kroonstad het baie om voor te antwoord,” sê Micki. “Dit moet iets in die water wees, maar Kroonstad het vir ons Max du Preez, Antjie Krog, André Saayman en Abel Pienaar gegee.”

“Ek weet wie ou Max is,” sê Ylbaard, “en van  Antjie Krog het ek al gehoor. Die ander twee nie so baie nie. Maar as ek so na jou luister, dink ek jy is nie erg oor hulle nie.”

“Liberale gespuis!” sê Micki driftig.

Gespuis? Ek glimlag. Wat ʼn keuse vir ʼn uitdrukking.

“Ek dog ou Max het sy ghoene agtermekaar?” vra Ylbaard.

Hy sit die sak neer en begin om die pap woes te roer.

“Max du Preez!” sê Micki. “Dan is daar darem twee wat so dink. Jy en Max. Jy sou van beter geweet het as jy net die moeite gedoen het om praag te lees.”

“Moenie te kras op Kroonstad wees nie, mooiste,” sê Joachim. “Die dorp sal vergoed vir sy skande.”

“Met hom?” Micki knik haar kop in Ylbaard se rigting.

“Hy weet darem hoe om pap te maak,” sê Joachim. “Dis ʼn begin.

“Maar Kroonstad het nie net ons vriend vir die beskawing gegee nie.

“Ek ook kom van Kroonstad.”

“Werklik?”

“O ja. Tot anderkant die landbouskool uit.”

“Jy is dan so… Kaaps?”

Joachim lag.

“Ek dink in jou oë het my ridderpantser so pas in blik verander en my wit perd in ʼn donkie.

“Wat is dit met julle Kapenaars dat julle dink uitnemendheid is beperk tot suid van Worcester?”

“Nee, dis net… ek kan jou net nie in Kroonstad sien nie.”

“Dit klink soos ʼn kompliment, of nie.”

“Maar wat van die toneel- en televisieding?”

“Ek het ʼn triomf in matriek met die skoolkonsert gehad. Hamlet in Afrikaans. ‘Omelet, omelet, ek’s jou pa se spook!’

“ Een ding het na ʼn ander gelei, en teen die tyd wat ek begin besin het oor my plek in die wêreld, was ek besig om drama te swot.”

“Maar jy hét in die Kaap geëindig!” dring Micki aan.

“Soos ons in ons vriend se geval was daar ʼn vrou betrokke, maar anders as in sy geval het ek haar Kaap toe gevolg.”

“Solank sy ook so dik is soos… Ylbaard se skoonma.”

“O, soos ʼn betonmenger!” sê Joachim, en dit is ʼn infame leuen. Ek het die betrokke voormalige mevrou Bekker ontmoet en in haar vroeë vyftigs sal sy nog steeds mans helfte van haar ouderdom laat mompel wanneer hulle aan haar voorgestel word.

Ylbaard se pap is skaflike krummelpap met klein, stywe klontjies. Nadat dit genoeg gestoom het, gooi hy die boeliebief en bredie in ʼn groot pan en verdun dit met water. Minute later is elkeen van ons oor borde pap en boeliebiefbredie gebuig. Luigi se basiliekruidpesto is net ʼn aangename herinnering en die eenvoudige kos is soos ʼn warm liefkosing in my binnekant, meer as net ʼn heilsame maaltyd, maar ʼn tikkie kosbare normaliteit in ʼn nag van grusame abnormaliteit.

Ons het woordeloos en met groot genoeë geëet daaraan toe die wag, Dermot, die deur wyd oopslaan en inbars. Hy kyk rond totdat hy vir Joachim in die dowwe lanternlig sien.

“Jy moet kom!” sê hy.

“Die rede?” vra Joachim bedaard.

“Daar… gebeur iets!”

“Jood?” sê Joachim.

Ek sit my bord sonder ʼn oomblik se huiwering neer, kom op my voete en volg vir Dermot na buite.

Dit is verbasend windstil, asof die nag asem ophou, maar daar is nuwe naggeluide: Die gedreun van voertuigenjins, krete en dan die tromslae van skote nie ver van ons af nie. Ek en Dermot draf oor die lang staalhek op die grond na die wye gaping in die voorgegotebetonmuur waar dit was. Ons loer om die muur en sien ʼn groot bakkie, waarskynlik ʼn dubbelkajuit-Ford F250, en ʼn 20-sitplek-Mercedes Benz-bussie op die punt van die blok. Die Ford is agterop vol driftige figure en manne hang by die bussie se vensters uit.

Die voertuie draai dwars en hulle hoofligte val op die hek van ʼn perseel aan die oorkant van die pad. Die kantore is oopgebreek en stukkende meubels en rommel lê in die parkeerterrein. Na ʼn minuut stoot die voertuie terug en kom in die pad af in ons rigting en swenk dan skerp na ʼn besigheid twee persele van ons af. ʼn Stem vanuit die perseel daag hulle en dan, tot my yskoue skok, is daar ʼn vlammeflits bo die kajuit van die groot bakkie en ʼn sarsie skote knal. ʼn Gil word kortgeknip en die Ford spring vorentoe en daar is ʼn metaalgeknars wanneer dit deur die hek bars. Die bussie volg kort op die bakkie se hakke.

“Wat is daar?” fluister ek vir Dermot.

“Bodyworld Panel Beaters.”

“En langs ons?”

“Dairylife.”

Wat ʼn groot suiwelverspreider dwarsoor die Kaap is (was!)

Ons draf terug na die kantoor.

Terwyl die res op tande kners en frons, duidelik senuweeagtig, selfs vreesbevange. Joachim aan die ander kant,  kom voor asof hy aangeskakel is. Hy sit vooroor op die lessenaar en sy ooglede is ver teruggetrek sodat sy oë skerp en wakker voorkom.

“So, hier is die situasie,” sê hy. “Help my reg as ek iets verkeerd verstaan.

“Ons het ʼn bende met ten minste een, waarskynlik meer, vuurwapens. Hulle is op ʼn plundertog en hulle modus operandi is eenvoudig: By ʼn plek wat belowend lyk, jaag hulle eenvoudig in, skiet voor die voet, breek in, vat alles wat na waarde lyk, en ry dan weer.

“Op die oomblik is hulle by ʼn paneelklopper. Tussen hulle en ons is ʼn melkverspreider. By die paneelklopper is daar heelwat om te stroop. Dit behoort hulle tussen vyftien minute en ʼn halfuur besig te hou. By die melkery, glo ek, is daar min van waarde oor. Dan is hulle by ons. Skathuis! Hierdie is die boerpot. Hulle gaan nie hier verbyry nie en ons moet aanvaar hulle gaan alles en almal voor die voet skiet.

“Ons het drie keuses, soos ek dit sien. Ons sit alles af, kruip weg en hoop hulle gaan verbyhou. Dit lyk vir my na ʼn swak plan. Bo die ingang is Citadel se naam in sesvoethoë letters geskryf.

“Keuse twee: Ons kan vlug. Maar waarheen? En is ons bereid om alles wat ons hier het op te offer? Ek sou sê, nee.

“Dit bring ons by die enigste werklike keuse.”

“Ons hou hulle hier uit?” vra ek.

“Dis reg.

“Ons het ʼn paar uitdagings. Ons het net een vuurwapen en ʼn paar blertsbalroere.”

“Hè?” sê Ylbaard.

“Paint-ball guns,” help ek hom.

“Ons het ook twee voertuie,” sê Joachim. “Ek tel nege weerbare mans.”

“Het jy my getel?” vra Kip, die man wie se ribbes ek gebruik het.

Micki het ʼn stywe verband om sy middeborskas gedraai, maar hy is steeds bleek en dit maak hom ooglopend seer om asem te haal.

“Ek het nie,” sê Joachim. “Jy is krukkelysmateriaal.”

“Tel my,” sê Kip tussen geknersde tande deur.

“Goed,” sê Joachim. “Dankie, mater.

“Jood, hoeveel van hulle is daar?”

“Uhm, ek kan nie presies sê nie. Kom ons sê vyf voor in die Ford, nog so agt agterop en miskien twintig in die bussie. So, wat is dit? Drie-en-dertig?”

“Dit gaan interessant raak,” sê Joachim. “Tien teen dertig.”

“Daar is ek en Tabitha ook,” sê Micki saggies.

“Tien man plus twee vroue,” sê Joachim. “My dier, ek wil julle nie in die middel van ʼn geveg hê nie, maar miskien kan ons vir julle werk uitdink.”

Reginald steek sy hand op soos ʼn skoolkind met ʼn vraag en Joachim knik in sy rigting.

“Wat van die kanon en die masjiengeweer op julle kar?” vra hy.

Joachim trek sy oë groot en grynslag paaiend: “Alles net effekte, mater. Ek’s bevrees jou blertsbalroer is baie dodeliker as my 37 millimeter wat net geraas en vonke kan maak.”

“So jy’t vir my gelieg?”

“Nee. Dit was nie ʼn leuen nie. Dit was misleiding.”

“En die verskil is?” vra Micki.

“Mens lieg in vredestyd en mislei in oorlogtyd. Lieg is ʼn euwel, maar misleiding is die goeie bevelvoerder se plig.

“Luister! Genoeg daaroor. Ons moet ʼn plan beraam en ons moet dit vinnig doen.

“Ons moet eers probeer vasstel wat die vyand gaan doen. Ek dink dit is maklik genoeg om te raai. Hulle gaan die oop hek sien, hulle gaan die teken sien en dan gaan hulle eenvoudig hier injaag, die Ford voor en dan gaan hulle uitstap, waarmee ek bedoel hulle gaan die voertuie verlaat en voor die voet skiet.

“Nou goed, ons voordeel is dat hulle ons nie kan verras nie. Ons weet waar hulle ons gaan aanval en ons weet hoe hulle dit gaan doen.”

“So, hoe stop ons hulle?” vra Ylbaard. “As ons gou maak, kan ons die hek weer hang. Miskien dit blok met van die leë vraghouers!”

“Nee!” sê Joachim. “Ons het nie genoeg tyd om ʼn behoorlike versperring op te rig nie, en as dit werk, moet hulle van taktiek te verander en ons weet nie wat dit is nie. Dit beteken ons het nie meer die inisiatief nie. Nee. Ons moet hulle toelaat om in te kom en dan moet ons hulle slaan, hard slaan, so hard en so vinnig dat hulle nie kan herstel nie.”

“Ja,” sê Dennis, “maar hoe?”

“Hulle moet deur die hek kom,” sê Joachim. “En hulle gaan die Ford gebruik. As ons die Ford kan uitskakel, is hulle planne onmiddellik in die war.”

“En die bussie?” vra Dennis.

“Solank die voertuig buite die perseel bly, het ons die inisiatief.”

“En hoe gaan ons dit doen?”

“Ons het die Merk Vier,” sê Joachim. “Die pantserkar.”

“Ma’ hy makeer ʼn kanon,” sê Reginald. “Jy’t self so gesê.”

“Nee, ek het nie. Hy hét ʼn kanon. Wat ons nie het nie, is ammunisie.

“Luister, nee, ons kan hulle nie skiet met die Merk Vier nie. Maar die kar weeg 6,3 ton en dis kliphard. Julle het gesien wat dit met die hek gedoen het.

“En ons hét die Volkswagen. Ons weet wat ons het. Nou moet ons dit net alles aanmekaar sit.”

Hy haal diep asem.

“Ek weet presies wat ons  moet doen,” sê hy.

Hier is twee dinge om op te merk: Dit het hom drie minute, niks langer nie,geneem  om die situasie op te som en op ʼn plan te besluit.

Meer merkwaardig nog: Ons het hom sonder huiwering geglo.

As jy wil weet wat van hom die Maarskalk van die Swartland gemaak het, daar het jy dit.

(Lees vervolgens Bodem, boek II, 14.)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.