Vermoorde Rwandese intel-hoof wou glo praat oor volksmoord

KayumbaNyamwasa
Genl. Kayumba Nyamwasa

Die man wat die Rwandese intelligensiehoof vermoor het, is glo bekend by die Rwandese gemeenskap in Suid-Afrika.

Kolonel Patrick Karegeya , 53 , is Woensdag dood aangetref op ‘n bed in die Michelangelo Towers-hotel in Sandton. Hy het Sondag by die hotel sy bespreking opgeneem.

Sy moordenaar, volgens ‘n lid van die Rwandese gemeenskap in Johannesburg, is ‘n Rwandese sakeman wat bekend is onder die naam “Apollo” wat Sondag op die Gautrein se Sandton-stasie aangekom het.

Die Rwandese gemeenskap glo dat Apollo vir die Rwandese intelligensie werk en Karegeya se vertroue gewen het om hom te kan doodmaak.

Apollo het Karegeya by twee vorige besoeke aan Johannesburg ontmoet en het ‘n vergadering met Karegeya by die Michelangelo-hotel vir Dinsdagmiddag belê, ‘n dag voor sy liggaam ontdek is by die luukse hotel.

Die voormalige Rwandese weermaghoof, generaal Kayumba Nyamwasa het geen twyfel dat sy vriend Karegeya op Oujaarsaand vermoor is deur agente van die Rwandese regering nie.

Hy het self twee oënskynlike sluipmoordpogings in Johannesburg in 2010 oorleef.

Karegeya se liggaam is ontdek nadat sy neef die polisie gewaarsku het.

Op Nuwejaarsdag is sy neef na Karegeya se huis in Roodepoort en het opgemerk dat hy nie daar is nie .

Hy is toe na die Michelangelo, waar hy ontdek het dat die hotelkamer waar Karegeya vir ‘n vergadering was, is gesluit.

Die bestuurder wou nie die deur oopmaak nie, want daar was ‘n “Moenie steur nie” -teken op die deur. Die polisie is ontbied en het die deur oopgemaak .

Nyamwasa het gesê drie of vier mans was glo saam betrokke by die misdaad.

Karegeya se vrou Lea woon in die VSA, met hul kinders, want sy het nie veilig gevoel het in Suid-Afrika nie. Sy het drie jaar gelede verhuis.

Die Rwandese opposisie glo dat die Rwandese regering met alle mag wou ontslae raak van Karegeya om te verhoed dat hy getuig oor die dood van die voormalige Rwandese president Juvenal Habyarimana in April 1994.

Habyarimana se dood het gelei tot die volksmoord in Rwanda, waar die bantoe Hoetoes die etniese Toetsie-minderheid uitgedelg het.

Karegeya het aan Radio France International ( RFI ) in Julie gesê dat hy en Nyamwasa bewyse het dat die Rwandese president Paul Kagame agter die skietery van Habyarimana se vliegtuig was terwyl dit besig was om te land by die Kigali-lughawe.

Karegeya en Nyamwasa het aan RFI gesê hulle is bereid om hul getuienis aan die Franse regter Marc Trevidic te oorhandig, wat die ondersoek na die vliegtuigongeluk lei omdat die vlieënier en mede-vlieënier Franse was.

Nyamwasa het gesê Trevidic het hulle nog nie gevra vir die bewyse nie.

Vrae heers oor dood van Rwandese intelligensiebeampte

Paul Kagame
Paul Kagame

Vrae heers oor die dood van ‘n voormalige Rwandese senior militêre intelligensiebeampte, wat verwurg in sy kamer in ‘n spoghotel aangetref is, het die SABC berig.

Kolonel Patrick Karegeya is op Nuwejaarsdag dood aangetref. ‘n Lid van die opposisieparty in die sentrale Afrika-land sê Karegeya is vermoor, maar die Rwandese hoë kommissaris in Suid-Afrika ontken dit.

Karegeya het saam met ‘n voormalige weermagshoof, Faustin Nyamwasa, uit Rwanda gevlug nadat hulle daarvan beskuldig is dat hulle ‘n staatsgreep teen President Kagame se regering in die mou gevoer het.

‘n Woordvoerder van die polisie, Luitenant-kolonel Katlego Mogale sê ‘n saak van moord is by die Sandton polisie aanhangig gemaak.

Hy sê die saak sal aan die direktoraat vir prioriteitsmisdaad vir verdere ondersoek oorhandig word.

Mogale sê hulle vermoed vuilspel .

Die polisie het ‘n tou en ‘n handdoek met bloed op gevind by die lyk en ‘n voorlopige ondersoek het aangedui dat hy verwurg kon gewees het, het Mogale gesê.

Dit is nie die eerste keer dat ‘n top voormalige Rwandese amptenaar op Suid- Afrikaanse bodem geteiken word nie.

In 2010 het die voormalige hoof van die weermag ‘n noue ontkoming gehad nadat hy in die maag geskiet is in die oprit van sy luukse huis in Johannesburg .

Nog ‘n buitelandse ampsdraer is Nuwejaar in Suid-Afrika oorlede.

Tanzanië se minister van finansies William Mgimwa is aan natuurlike oorsake dood in ‘n Pretoriase hospitaal. Hy het behandeling vir ‘n naamlose siekte ontvang.

Mgimwa was aan die spits van Tanzanië se suksesvolle pogings om belegging te befonds en armoede te pak.

Tanzanië se skadu-minister van finansies, Zitto Kabwe , het in ‘n verklaring gesê, sy dood is ‘n groot verlies.

Voormalige Rwandese intelligensiehoof vermoor in Johannesburg

Karegeya-Patrick
Patrick Karegeya

‘n Voormalige hoof van Rwanda se buitelandse intelligensiediens is in ‘n Suid-Afrikaanse hotel dood aangetref, het RSG berig.

Die Rwanda National Congress sê die liggaam van Patrick Karegeya is in ‘n hotel in Johannesburg aangetref, waar hy na bewering verwurg is.

Die party beweer dat hy deur agente van president Paul Kagame van Rwanda vermoor is.

Karegeya is in 2006 van sy rang as kolonel ontneem nadat hy gearresteer en tronkstraf opgelê is en het daarna uit die land gevlug.

Tydens die Johannesburgse vergadering deur teenstanders van Kagame wat aan die begin van verlede jaar gehou is, het alle Rwandese, al die buurlande en die internasionale gemeenskap die pogings deur President Kagame om nog ‘n termyn te regeer, skerp veroordeel.

Die groep wat van Kagame ontslae wil raak het vroeër in Montreux, Switserland, ontmoet, op 25 Januarie 2010, waar ‘n samewerkingsooreenkoms geteken is.

Die vergadering het ook die pogings van die SAOG-lande vir hul bydrae in die DRK geloof om M23 uit te dryf.

Die RPF, Kagame se party, het voorheen internasionale bewondering gaande gehad vir hul radikale infrastruktuurprogramme, verhoogde toegang tot mediese sorg, die verbeterde ekonomiese status van miljoene Rwandese en die ingryping om die 1994-volksmoord wat meer as een miljoen lewens gekos het, te keer.

Maar die regering verkeer onder druk van Westerse lande vir die beweerde hulp aan M23 rebelle, ‘n klag Kigali heftig ontken.

Die Rwandese ambassade in Suid-Afrika sê hulle dra geen kennis van berigte dat ‘n opposisieleier van die land in Suid-Afrika vermoor is nie.

Die hotel sê hy dra ook geen kennis van die voorval nie.

DRK-vredesverdrag onderteken

Sultani Makenga
Sultani Makenga sit

Die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) en die oorwonne M23-rebelle gaan Maandag ’n vredesverdrag onderteken.

Die rebelle – een van talle gewapende groepe in die mineraalryke, maar verarmde ooste van die land – is met behulp van ’n spesiale intervensiemag van die Verenigde Nasies oorrompel.

M23 word na bewering deur Rwanda en Uganda gesteun. Dié lande ontken dit.

Sowat 1 500 rebelle woon in kampe oor die grens met Uganda en minstens 100 beseerde vegters het na Rwanda uitgewyk.

Die groep het verlede week aangekondig dat hy ná 18 maande sy wapens neerlê. Baie van die rebelle is oudsoldate van die DRK-weermag.

Volgens ’n regeringswoordvoerder sal van die rebelle die opsie gegun word om terug te keer na die weermag, maar die lot van die sowat 100 bevelvoerders is onseker. Sultani Makenga, M23 se leier, was vir verskeie menseslagtings, verminkings, ontvoerings en verkragtings – ook van kinders – verantwoordelik.

Die welsynsgroep Oxfam sê meer as 30 ander gewapende groepe is aktief in die streek en dat burgerlikes nog op ’n daaglikse grondslag aan geweld blootgestel word. – Sapa/AFP

Misdade teen die beskawing

Die Armeense kunsmuseum in die hoofstad, Jerewan
Die Armeense kunsmuseum in die hoofstad, Jerewan

deur Leon Lemmer

Ons lewe in ‘n tyd waarin ons wys gemaak word dat alle mense gelyk en selfs wesenlik eenders is; of só behoort te wees. Dit dien as die grondslag van een mens, een stem. A weet na bewering net so goed soos B wie moet regeer, gevolglik het albei stemme dieselfde gewig. Ek sou eerder die teenoorgestelde beweer: Dat geen twee mense eenders is nie; dalk selfs nie sogenaamde identiese tweelinge nie.

Dit lyk vir my sommige mense is intelligenter as ander. Sommige is beter ingelig as ander. Sommige het meer as ander gedoen om iets wat die moeite werd is tot stand te bring. Andersom kan ‘n mens beweer dat sommige meer afgebreek het as ander, ens. Die werklikheid is dat sommige mense ‘n bate en ander ‘n las vir die samelewing is. Net die batiges behoort toegelaat te word om ‘n land se lot te bepaal.

Veralgemenend is dit ook moontlik dat sommige groepe mense gewoon beter as ander is. Dit kan op bv verskille in kultuur dui, terwyl die gelykwensers van ons almal bv Afrikane of wêreldburgers wil maak.

In die nuwe Suid-Afrika mag ons nie diskrimineer op grond van ras/kleur nie, behalwe as dit ten gunste van nie-wittes, en veral swartes, en ten koste van wittes is. Dan staan dit bekend as “billike diskriminasie”. Maar om praktiese redes moet ons liewer ons onderskeidingsvermoë behou. Byvoorbeeld, wanneer groepe mense beoordeel word, is dit in die openbare belang om tussen presteerders en nie-presteerders te onderskei. Ek verwys na “prestasie” in die positiewe of konstruktiewe sin; nie in die negatiewe of afbrekende sin van bv terroriste wat ‘n suksesvolle bomplantveldtog gevoer het nie.

Dit lyk vir my asof gesê kan word dat bv die Duitsers hulle (in sommige opsigte) as presteerders bewys het. Die kort tydperk van naziisme (1933-1945) kan nie alle Duitsers van alle tye vir sodanige huldiging diskwalifiseer nie. ‘n Mens hoef natuurlik ook nie oorboord te gaan en daarom naziisme (of fascisme of nasionaal-sosialisme) of sosialisme (of selfs kommunisme), of watter staatkundige ideologie ook al, in elke opsig te verdoem nie.

Insgelyks kan die blankes of die Afrikaners as presteerders gereken word op grond van wat hulle in Suid-Afrika tot stand gebring het. Die vier dekades van apartheid (1948-1989) diskwalifiseer blankes nie vir sodanige erkenning nie, onder meer omdat apartheid nie in iedere opsig sleg was nie.

Ook is dit ‘n wanvoorstelling om alles oor die politieke boeg te gooi. In die tydperk 1933 tot 1945 was daar baie nie-naziïstiese verskynsels in die Duitse samelewing. In die versmaaide apartheidsera het dit ook om baie meer as bloot apartheid gegaan. Die lewe en die geskiedenis behels baie meer as die politiek.

Wanneer erkentlikheid teenoor ‘n groep mense se prestasies openbaar word, impliseer dit nie dat jy noodwendig van hulle hou nie. Die Jode kan as voorbeeld dien. As die Jode (of die Romeine) vir Jesus se dood verantwoordelik gehou word, behoort ‘n mens nie daarom alle Jode (of Romeine) te verdoem nie. ‘n Mens hoef nie van Jode te hou nie, maar dit is onteenseglik waar dat hulle ‘n lang geskiedenis van buitengewone prestasie het. Daar is baie Duitse Jode wat weens anti-semitisme uit Europa gevlug en ‘n belangrike rol in die ontwikkeling en voorspoed van bv die VSA gespeel het.

Ek het onlangs ‘n omvattende boek oor die Armeniese volksmoord gelees. Die Armeniërs het hulle lank voor die Turke in wat nou Turkye genoem word, gevestig. In vergelyking met die Turke was die Armeniërs presteerders, onder meer omdat hulle meer ontwikkeld (of beskaafd) was. Armenië was sedert die 4de eeu ‘n Christelike staat; die eerste in die wêreld. Die Turke was jaloers op die Armeniërs se groter welvaart en vyandig teenoor hulle omdat hierdie Turke die Moslem-geloof fanaties aangehang het. Turke het uit sentraal-Asië na Turkye gestroom en die Armeniërs getalgewys verswelg.

Ingevolge John Stuart Mill (1806-1873) se tirannie van die meerderheid het die Turke meer as ‘n miljoen Armeniërs vermoor of in kampe laat sterf en die res uit die land gedryf. In die klein hedendaagse staat Armenië (aangrensend aan Turkye) is daar skaars 3 miljoen Armeniërs, terwyl sowat 8 miljoen van hulle hulle in ander lande bevind. Dit is ‘n klassieke voorbeeld van wat kan gebeur as ‘n beskaafde minderheid dieselfde grondgebied met ‘n minder ontwikkelde meerderheid moet deel; ‘n meerderheid wat die land regeer.

Die Armeniese volksmoord voor en tydens die Eerste Wêreldoorlog was in talle opsigte ‘n kleedrepetisie vir die Joodse holocaust tydens die Tweede Wêreldoorlog. In Duitsland en Oostenryk was die Jode presteerders en welvarend. Sedertdien het baie Jode hulle in Israel gevestig. Daar doen ‘n situasie soortgelyk aan die Armeniërs teenoor Turke hom voor, naamlik Jode teenoor Palestyne. In Israel is die Jode in die meerderheid maar in die omliggende Palestynse en oorwegend Moslem-gebiede is die Jode ‘n beskaafde minderheid.

In die geval van sowel die Armeniërs/Turke as die Jode/Palestyne is daar parallelle met Suid-Afrika. Geen wonder dat daar hartlike samewerking, bv militêr, tussen die “apartheidsregime” en Israel was nie. As eerste minister het DF Malan Israel in 1953 besoek en ongekwalifiseerd sy bewondering vir die land uitgespreek.

Teen hierdie agtergrond kan Kevin Bloom se boek, Hating Goldstone: the Jewish community against the judge (Johannesburg: Parktown Publishers, Mampoer Shorts, 2012, $2.99 – slegs elektronies beskikbaar), beoordeel word. Op die Mampoer-webwerf word Bloom se objektiwiteit in leserskommentaar bevraagteken, maar hierdie kritiek moet myns insiens eerder toegeskryf word aan die verdeeldheid wat daar oor hierdie saak binne die Joodse gemeenskap bestaan. Ek het die outeur se uiteensetting ewewigtig gevind, behalwe dat, soos deesdae die gewoonte is, apartheid sonder meer verdoem word.

Verdeeldheid is ‘n relatiewe term. As daar ‘n enkele kenmerk van die Jode is wat Afrikaners gerus kan navolg, is dit Jode se vermoë om hulle groepsverwantskap te behou. Al woon hulle verspreid oor die aarde klou baie van hulle aan hulle geskiedenis en kultuur (bv taal, godsdiens en ander gewoontes) vas. Hulle integreer dikwels hoogstens in ‘n mate met ander groepe. Sedert 1948 het die Jode ‘n tuisland wat internasionaal as ‘n staat erken word.

Is daar naasteby dieselfde mate van samehorigheid by Afrikaners? Sal die Afrikaner-diaspora met verloop van tyd in dieselfde mate as die Jode hulle identiteit behou? Waar is die Afrikaner-tuisland? Orania kan ‘n begin in hierdie rigting wees. Lees gerus Leanne George se redelik positiewe kommentaar oor Orania: Koeksister Commerce: Rebranding the White Homeland (Johannesburg: Parktown Publishers, Mampoer Shorts, 2013, $2.99 – slegs elektronies beskikbaar).

Vir jou waardes kan ‘n mens ‘n geestelike tuiste binne jouself skep. Maar ‘n konkrete, fisiese tuisland waarin jy jou in veiligheid en vrede saam met kultuurgenote kan uitleef, is sekerlik ook nodig. Dit moet ‘n ruimte wees waarmee jou hart se punt spontaan aanklank vind; iets waarop jy trots is en wat moeiteloos jou lojaliteit verdien.

Dit moet nie ‘n land wees wat feitlik onherkenbaar verander het en waarin jy ‘n tweederangse burger geword het weens die verradelike gedrag van enkele politici nie. Die Armeniërs en Jode het elk net ‘n klein landjie wat hulle hulle eie kan noem, maar hulle was en is bereid om vir die behoud daarvan te veg. Hulle sal, soos ek, sekerlik nooit die kolossale onnoselheid van ‘n De Klerk & kie aanvaar wat ‘n groot, ontwikkelde en potensieel voorspoedige land aan ‘n myns insiens immorele bende grypsugtiges verkwansel het nie.

Richard Goldstone (gebore in 1938) is in 1980 as regter aangestel en het in 2003 as regter in die Grondwethof afgetree. Hy het bekendheid verwerf as die voorsitter van die Goldstone-kommissie, wat die plaaslike geweldpleging van 1991 tot 1994 probeer uitpluis het. Daarna was hy betrokke by die ondersoek van menseregteskendings in Joego-Slawië en Rwanda (1994-1996) en Gasa (2009). Dit is sy verslag oor die gebeure in Gasa wat groot ontevredenheid in Israel en verdeeldheid in die Joodse gemeenskap in Suid-Afrika en elders veroorsaak het.

Goldstone het sowel die Israeli’s as die Palestyne aan growwe menseregteskendings skuldig bevind. In 2011 het hy teruggekrabbel oor sy skynbaar oordrewe veroordeling van die Israeli’s deur te beweer dat verdere inligting intussen aan die lig gekom het. Eintlik was Goldstone se aanvaarding van hierdie missie van die Verenigde Nasies (VN) kortsigtig, want as hy in die guns van Israel beslis het, kon daar gesê word: Dit is wat van ‘n Jood te wagte is. Daarenteen was die verwagting by die VN se Menseregteraad dat Israel veroordeel moet word. Goldstone se opdrag was om net die gedrag van die Israeli’s te ondersoek. Hy het egter albei partye se dade beoordeel.

In die konteks van bv Israel/Palestina is gevra in hoeverre daar “misdade teen die mensdom” gepleeg is. Laasgenoemde is ‘n mode-frase wat hom tot die uiterste misbruik leen. Terugverwysend na wat ek hierbo oor die kwalitatiewe verskille tussen mense geskryf het, moet ek dit in die midde lê dat ek veel eerder “misdade teen die beskawing” vir beswaar sou uitsonder. Pleks van ‘n kwantitatiewe benadering, waarvolgens die getal mense wat na bewering “benadeel” is van deurslaggewende belang is, verkies ek ‘n kwalitatiewe uitgangspunt.

Dwarsdeur die geskiedenis is dit begaafde indiwidue en klein uitgelese groepe, en nie die massa nie, wat positiewe dinge tot stand gebring en die voortgang en vooruitgang van die beskawing bevorder het. Andersins vra ek my af in watter mate ontwikkelde mense se lewensgehalte weens negatiewe gebeure afgeskaal is; beskawing dus blatant ondermyn is. In Turkye, Palestina en Suid-Afrika is onvergeefbare misdade teen die beskawing gepleeg.

Wat Suid-Afrika betref, sal anti-blanke elemente akkoord met “onvergeefbare misdade” gaan deur te beweer dat die blanke bewind plaaslik agtereenvolgend deur slawerny, kolonialisme en apartheid gekenmerk is en dat dit vreeslik onbeskaafd daaraan toe gegaan het. In werklikheid het die ANC en PAC se terreurveldtogte die agteruitgang van Westerse beskawing in Suid-Afrika ingelui. Plaaslik word hierdie “bevrydingsbewegings” se geweldstradisie tot op hede in die vorm van bv plaasmoorde voortgesit. Die ruggraatlose en mandaatlose magsoorgawe van 1990/1994 was myns insiens onmiskenbaar en onvergeeflik ‘n “misdaad teen die (Westerse) beskawing”.

Wat die destydse plaaslike slawerny betref, moet besef word dat die inheemse bevolking nie verslaaf is nie. Die slawe is ingevoer. Die rede hiervoor is dat die Khoisan, wat in die suide en weste aangetref is, nie bruikbare arbeiders was nie. Die swartes, wat uit die noorde en ooste die land binnegestroom het, was ook nie gretig om arbeid te verrig nie. Hoewel daar ‘n ooraanbod van swart werkloses was, het die owerheid dit dikwels eerder gerade geag om arbeiders vir die myne uit buurlande en Oosterlinge uit Indië vir die suikerplantasies in te voer.

Diegene wat die blanke bewind kritiseer oor slawerny, kolonialisme en apartheid skreeu ten hemele oor beweerde “misdade teen die mensdom”. Te midde van al hulle oordrywing kry hierdie kritici dit nie reg om die blankes van die ou Suid-Afika van volksmoord te beskuldig nie; iets wat wel tydens kolonialisme elders in die wêreld ten koste van die inheemse bevolking voorgekom het. Met verwysing na bv plaasmoorde is volksmoord dalk veel eerder ‘n potensiële kenmerk van die nuwe Suid-Afrika.

Om klaarblyklike redes beklemtoon ek eerder verskille as ooreenkomste tussen mense. Sodra ‘n presteerder aan ‘n gelykwenser erken dat alle mense gelyk behoort te wees, word daar onmiddellik met die waarneming gekom dat daar groot ongelykhede in die praktyk is. Die volgende stap is om met die verwyt te kom dat hierdie ongelykhede aan die marginalisering, benadeling, uitbuiting, ens, van nie-wittes toe te skryf is. Blankes kry dan die skuld hiervoor.

Bloom vertel hoe hartlik Goldstone met die hoëlui van die “apartheidsregime” gesosialiseer het. Ook dat Goldstone as regter noodwendig gehelp het om die apartheidstelsel aan die gang te hou. Hy was sekerlik nie ‘n anti-apartheidsaktivis nie. Goldstone beweer deesdae dat hy probeer het om apartheid van binne af te hervorm. In hierdie verband word dan verwys na sy uitspraak dat diegene wat ingevolge die wet op groepsgebiede verskuif word van alternatiewe huisvesting voorsien moet word. Die indruk wat die teks by my gewek het, is dat Goldstone nie van opportunisme vry te pleit is nie.

Enkele jare gelede is ‘n onderhoud met Goldstone op BBC-televisie gevoer. Hy noem toe dat hy hom in Amerika gevestig het. Die rede waarom hy uit die nuwe Suid-Afrika verkas het, is glo omdat sy kinders en kleinkinders in Amerika woon. Dit laat my dink aan die oorverligte Jodin wat ek as ‘n kollega gehad het. Sy het alles wat van die ANC se kant af gekom het skynbaar as manna beskou. Sedertdien het sy en haar gesin hulle sak en pak in Australië gevestig.

Vanselfsprekend verkwalik ek mense wat hulle met woord en daad vir ‘n ANC-regering beywer het maar nie kans sien om te woon in die omstandighede wat hulle help skep het nie. Maar daar is lastige vrae wat periodiek by my opkom: Is dit nie dalk deel van die briljantheid van Jode dat hulle weet wanneer om ‘n sinkende skip te verlaat nie? Is Suid-Afrika nie onmiskenbaar vir altyd opgedonder nie? Het die tyd vir blankes in Afrika nie onherroeplik uitgeloop nie? Ek wil nie so dwaas soos bv JP (Silwerrandjie) Landman wees om die donker wolk doelbewus mis te kyk nie.

Die oorlog is nog lank nie verby nie

Dan Roodtdeur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

So pas het ek twee YouTube-video’s gekyk. Die eerste is ‘n musiekvideo van Bok van Blerk wat omtrent ewe patrioties as die De la Rey-video is, Die Kaplyn.

Die titel van die tweede video, veel langer, het by my taamlik verwagting geskep: Betrayed. Ek het gehoop dat dit oplaas vir mense perspektief sou gee oor die grensoorlog en veral dan die verraad wat FW de Klerk en Roelf Meyer teen die soldate gepleeg het. In die laaste paar minute is daar wel sprake van ‘n soort misnoeë met die oorgawe aan… nie net die ANC nie, maar ook SWAPO. Dog werklike ontleding, begrip, bestekopname? Nee, daarvan was daar min sprake. Maar kyk dit gerus, al is dit net om te besef aan watter gevaar ons troepe destyds blootgestel was, ter wille van hartelose politici wat net planloos voortgeploeter het.

Weliswaar het Rusland intussen verander en bedreig ons nie meer soos in die dae van die Angolese oorlog nie, maar al ons ander vyande is nog steeds op hul pos, met sommige sterker en aggressiewer as ooit. ‘n Afgetrede kolonel in die weermag is lief om te sê: “Die oorlog is nog steeds aan die gang. Die kaplyn het net van die grens tussen Angola en Namibië na rondom jou bed verskuif .”

Dis humor, maar wrang. Hoeveel van ons mense word nie deesdae op hul plase, in hul huise en selfs in hul slaapkamers aangeval en doodgemaak nie? Daarom steek daar ‘n groot stuk waarheid in sy stelling. Soos ek al voorheen gesê het, heers daar tans ‘n konflik in Suid-Afrika wat die Pentagon se definisie van lae-intensiteitsoorlog volmaak pas:

… a political-military confrontation between contending states or groups below conventional war and above the routine, peaceful competition among states. It frequently involves protracted struggles of competing principles and ideologies. Low-intensity conflict ranges from subversion to the use of the armed forces. It is waged by a combination of means, employing political, economic, informational, and military instruments. Low-intensity conflicts are often localized, generally in the Third World, but contain regional and global security implications.

Kom ons kyk kortliks hoe hierdie definisie van lae-intensiteitskonflik by die huidige Suid-Afrika pas. Dit druis teen my literêre beginsels in, maar kom ons nommer aspekte van die huidige konflik.

  1. Toegegee, ons word nie letterlik deur ‘n ander staat vanuit die lug met bomme bestook nie, maar vir seker is daar “groepe” in hierdie land wat kwalik hul vyandigheid jeens ons bedek. Luidens bogaande definisie, is hul vyandigheid benede konvensionele oorlog maar bokant roetine-mededinging.
  2. Dit ly geen twyfel dat daar by ons ‘n uitgerekte stryd tussen mededingende beginsels en ideologieë heers nie. Die soort aangepaste kommunisme wat die ANC en SAKP tans aanhang, staan in stryd met die Afrikaner se ekonomiese konserwatisme en Christelikheid.
  3. Ondermyning en die gebruik van gewapende magte. Is plaasmoordenaars wat dikwels in groepe van vier of vyf ons mense aanval, “gewapende magte” of nie? Wie lei hulle op? Wie verskaf aan hulle wapens, waaronder ook outomatiese wapens? Dit is alles tergende vrae wat niemand nog na behore beantwoord het nie. Ondermyning is ‘n wye begrip, maar as ons sien hoe ons deur staats- en privaatagente gedurig gemanipuleer word, hoe daar van buite af konstant onmin en verdeeldheid tussen Afrikaners – selfs op sosiale media – gesaai word, dan is dit tog helder dat ons deur vyandelike groepe ondermyn word?
  4. Kombinasie van gevegsmiddele, waaronder politieke, ekonomiese, inligtings- en militêre instrumente. ‘n Mens sou dink, noudat die ANC en die SA Kommunisteparty totale beheer oor die staat, die SAUK en groot dele van die ekonomie uitoefen, sou hulle “tevrede” wees. Inteendeel, die propaganda- en inligtingsoorlog teen Afrikaners was nog nooit so intens soos tans nie. Daar word ook van politiek en wetgewing gebruikgemaak om ons meedoënloos af te takel. Lyk my die einddoelwit is om die laaste Afrikaner in ‘n plakkerskamp te kry, landuit te verdryf of, les bes, dood te maak.

Na bewering het die Duitse regering en die Nazi-party in ‘n kasteel buite Berlyn byeengekom om die “eindoplossing” teen die Jode te bespreek en in werking te stel. Daar is ‘n dokument wat as die Wannsee-protokol bekendstaan en wat die notule van dié vergadering bevat. Ek weet nie waar en wanneer die Afrikaner se vyande, sowel in ons land as daarbuite, bymekaargekom het om hul eie Wannsee-vergadering te hou nie. Dalk was dit in ‘n luuksehotel in die buiteland of miskien was dit ‘n geheime kabinetsvergadering waar Pieter Mulder toevallig nie teenwoordig was nie. Maar dat ons vyande planmatig te werk gaan, is helder.

Vandaar dus hierdie lae-intensiteitskonflik wat dag na dag, maand na maand, jaar na jaar, teen ons woed. Elke moontlike vastrapplekkie – ek praat nie eens van magsbasis nie, want dit het ons lank nie meer nie – waaroor die Afrikaner beskik, moet stelselmatig onder hom weggekalwe word. Sy grond, sy universiteite, sy maatskappye, sy skole, sy kerke, selfs sy effens groter kultuurverenigings soos die ATKV. Maar ook: die wese van sy identiteit en sin vir wie hy is.

Verby is die dae van “versoening”, wat in elk geval ‘n slenter was om ons, naïef, vredeliewend en goedgelowig soos ons is, gerus te stel. Terwyl die weermag, polisie en inligtingsdienste stelselmatig “getransformeer” word. En noudat feitlik alle magsinstrumente in die hande van die vyand is, word daar tande gewys…

Die Verenigde Nasies praat van identiteitsoorlog om konflikte soos dié tussen die Israeli’s en die Palestyne of tussen die Toetsi’s en Hoetoes van Rwanda te omskryf. Wat anders is hier by ons aan die gang as ‘n identiteitsoorlog?

Soms wil dit vir my voorkom asof ons al 200 jaar lank in dié oorlog betrokke is, of selfs 400 jaar as ons die vroeë oorloë tussen Engeland en Nederland hierby inreken. Immers is die oudste gebou in ons land, die Kasteel, deur Jan van Riebeeck en daaropvolgende goewerneurs opgerig om ons teen Engelse skepe te beskerm! Die oorloë teen die Xhosas in die laat aqtiende  en negentiende eeue het ‘n honderd jaar geduur, van 1779 tot 1879. Gedurende daardie oorlog het die Fingo-stam aan die kant van die blankes teen die amaXhosa geveg. Hulle het uiteindelik die Ciskei as tuisland ontvang. Die laaste leier van die Ciskei, Oupa Gqozo, het sy matriek in Afrikaans afgelê.

Wat was die eerste ding wat Ronnie Kasrils gedoen het toe hy weer terug in die land is? Hy het na die Ciskei toe opgeruk om van Oupa Gdozo ontslae te raak en sodoende ‘n moontlike swart bondgenoot van die destydse Afrikanerregering te neutraliseer.

Met leiers soos FW de Klerk en Roelf Meyer was dit natuurlik nie nodig om enigiemand te neutraliseer nie. Hulle het sommer vanself besluit dat volslae oorgawe beter as enige verdere bakleiery gaan wees en sodoende ‘n streep deur 400 jaar se geskiedenis getrek. Oor die afgelope tien jaar en meer het elke denkende Afrikaner wat daar nog oor is hom of haar al teen die groteske verraad van 1994 uitgespreek.

Ons vyande sien dit egter glad nie as verraad nie. Hulle sien dit as hul logiese oorwinning oor ons. Trouens, ek hoor elke dag mense op Twitter en elders wat sê dat ons “dankbaar moet wees dat ons nie almal doodgemaak is nie”. Ons moet bly wees ons lewe nog, want die magtige ANC-SAKP-COSATU-alliansie het ons militêr, sielkundig en ideologies verslaan.

Die meeste Afrikaners beskou dit egter as verraad, dat daar onder voorwendsel van “onderhandeling” eintlik oorgawe plaasgevind het. Ons vyande het soveel minagting vir ons vermoëns dat hulle die oorgawe as onvermydelik en vooraf bestem sien. Waarskynlik is die waarheid iewers tussenin: nóg verraad, nóg neerlaag kan die komplekse wyse waarop ons onderwerp is, verklaar.

Want, synde ‘n lae-intensiteitskonflik (LIK), het die oorlog soveel fasette. In weerwil van sy enorme middele, waaronder die ambassades, inligtingsdienste, die SAUK, simpatieke mediagroepe, ens., het die ou regering die propaganda-oorlog loshande verloor. ‘n Mens hoef nie ‘n briljante veggeneraal te wees om dit te weet nie: as jou troepe geestelik, ideologies of met propaganda oorwin word, is hulle verslaan.

Die Chinese wysgeer Soen Tsoe het gesê:

Want om ‘n honderd oowinnings in ‘n honderd veldslae te behaal, is nie die toppunt van vaardigheid nie.  Om die vyand te onderwerp sonder om te veg, is die toppunt van vaardigheid.

Is dit nie wat Joe Slovo, Ronny Kasrils en hul paar swart luitenante soos Mandela of Cyril Ramaphosa reggekry het nie? Om ons te onderwerp sonder om te veg?

Dis nie so sleg om te verloor nie. Duitsland het twee wêreldoorloë verloor en verteenwoordig vandag die grootste ekonomie in Europa. Wat dié land op die slagveld verloor het, het hy deur harde werk in vredestyd weer ingepalm.

Die Afrikaner sal moet besef dat sy stryd nog lank nie verby is nie. De Klerk en die vorige NP-regering het met menselewens gespeel. Hulle het ons Afrikanerseuns gestuur om op die slagveld te sterf sodat hulle “bietjie tyd kon koop voor hulle oorgee”. Waarom dan hoegenaamd weerstand bied? vra ek.

Oor die afgelope twintig jaar het jaarliks veel meer Afrikaners in hierdie oorlog – ons gewelddadige “vrede” – gesterf as wat alstesaam in byna dertig jaar van grensoorlog omgekom het. Om nie te praat van al die ander verliese wat ons aanhou om op soveel gebiede te ly nie.

Iewers sal ons die streep moet trek. Al is dit in die kombuis. Sodat ons en ons geliefdes nie meer in ons beddens hoef te sterf nie.

Die oomblik wat ons besluit het dat ons wel in die land wil oorbly, dat ons wel wil oorleef, is daar ‘n duisend en een dinge wat ons kan begin doen om te hergroepeer en weerstand te bied.

Pallo Jordan van die ANC het ‘n dekade of wat gelede smalend gesê dat die ANC maar kan maak wat hy wil, want “by die vyand is die wil om weerstand te bied eenvoudig nie teenwoordig nie”.

Dit mag waar wees, dat ons ons wil om weerstand te bied, verloor het. Dit maak my trouens mismoedig as ek altyd net argumente hoor oor hoe ons “alles moet aanvaar, want danksy De Klerk se oorgawe is daar niks aan te doen nie”.

Dog plek-plek is daar nog rebelle onder die Afrikaners. Ons is nog in staat om te rebelleer.

En soos ons grootste Afrikanerdigter, N.P. van Wyk Louw, gesê het:

Opstand in ‘n volk is net so noodsaaklik soos getrouheid. Dit is nie eens gevaarlik as rebellie misluk nie. Wat wel gevaarlik is, is dat ‘n hele geslag verby sal gaan sonder protes.

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

SANW ontken gewonde in jongste M23-aanval

mortieraanvalHonderde Kongolese burgers is in oproer ná buitelandse ingryping in hul land.

Ontstoke inwoners het in die strate van Goma ingevaar om protes teen die voortgesette gevegte tussen hul weermag en die rebelle aan te teken.

‘n Reuters-ooggetuie het vier liggame gesien – ‘n vrou en drie kinders – en ‘n inwoner van Ndosho Charles Paluku aangehaal deur die nuusagentskap AFP, het gesê ‘n mortier het in die gebied geland.

Die slagoffers van Saterdag se stryd, die VN, en die naburige Rwanda ruil beskuldigings uit oor wie verantwoordelik is.

Die slagoffers is dood toe ‘n woongebied oor die naweek onder mortiere deurgeloop het.

Sommige inwoners pak die skuld op die Verenigde Nasies se vredesmag wat met offensiewe operasies op die M23-rebelle in die omgewing begin het.

Die VN het vroeër bekend gemaak dat ‘n Suid-Afrikaanse soldaat saam met twee Tanzaniese soldate naby Goma gewond is.

‘n Woordvoerder van die Verenigde Nasies-mag, Monusco, het die mortieraanval van M23-rebelle op hul opstelling bevestig.

Die SANW ontken dat Suid-Afrikaanse soldate by enige onlangse skermutselings gewond is of betrokke was.

Malema: dis nie ons geveg nie

Die ongelooflikste ding is besig om in Suid-Afrika te gebeur: op die vooraand van die Sokkerwêreldbeker is die land besig om te polariseer soos ons nog nie vantevore – nie eens tydens die gewraakte apartheidtyd – gesien het nie. Vandeesweek is Ernst Roets van Afriforum-jeug gedreig dat hy en sy makkers deur die ANC-jeugliga doodgeskiet sal word soos die IVP-ondersteuners destyds vanuit Shell-huis byna 16 jaar gelede deur ANC-kaders afgemaai is. Negentien IVP-betogers is in daardie voorval dood en niemand is nog ooit daarvoor vervolg nie.

Ná die dreigement het Kallie Kriel Afriforum se lys plaasmoordslagoffers oor die koppe van die polisie by die ingang van Luthuli-huis gegooi, waarna dit terstond opgeskeur en vertrap is. ‘n Asvaal Steve Hofmeyr het verslae toegekyk hoe die stel papiere deur verteenwoordigers van die ANC-jeugliga op die grond vertrap en rondgeskop word.

Ek is bevrees ons Afrikaners is besig om deur die media se anti-Malemaveldtog meegesleur te word. Terwyl die Engelse media (met Naspers agterna) sa, sa! skree, loop ons die gevaar om vir kanonvoer teen die opvlieënde Malema en sy duisende ondersteuners onder jong swartes gebruik te word.

Malema is bloot die simptoom van ‘n probleem, nie die probleem self nie. Hierdie hele bestel is van A tot Z korrup! Onlangs het die vermaarde en deeglike akademikus, Anthea Jeffrey, in haar boek People’s War beskryf hoe die 1994-verkiesing gekook is om die ANC aan bewind te stel. Die beweging se vernaamste swart opponente soos die IVP en ondersteuners van tuislandleiers is voor die voet doodgemaak. De Klerk het ná 2 Februarie 1990 sienderoë toegelaat dat 13 000 gewapende ANC-kaders oor ons grense stroom sodat hulle deur intimidasie en geweld die ANC as enigste swart politieke party kon vestig.

Weens die eenpartystelsel wat sodoende in Suid-Afrika gevestig is, praat Jeffrey van ons “uitgeholde demokrasie”. Ek sou egter verder gaan: Suid-Afrika is ‘n pseudo- of valse demokrasie. Ons is net nog ‘n Afrikadiktatuur soos Zimbabwe of Angola wat af en toe om die Weste te paai aan die ritueel van ‘n verkiesing deelneem, ‘n verkiesing waarvan die uitslag ewe voorspelbaar is as môreoggend se sonsopkoms.

In die lig van sy gewelddadige, magbeluste geskiedenis, is die ANC geen katjie om sonder handskoene aan te pak nie. Diegene wat glo dat ons in ‘n liberale demokrasie soos in Wes-Europa of Noord-Amerika woon, leef in ‘n droomwêreld.

Terwyl ons by PRAAG reeds vyf, ses jaar lank een argument na die ander hieroor stel, wil dit tog voorkom asof die skille een vir een besig is om van mense se oë af te val. Só waarsku prof. Amanda Gouws, ‘n linkse politieke wetenskaplike van Stellenbosch, ook vandeesweek in Die Burger teen volksmoord. In Haatspraak is die lont vir volksmoord tref sy ‘n vergelyking tussen Suid-Afrika en Rwanda waar die Toetsi’s as minderheidsvolk insgelyks uitgemoor is en kom dan tot die gevolgtrekking:

“Hoewel ek geensins sê die ANC-regering beplan volksmoord nie, meen ek dat hoe langer Malema met sy haatpraatjies wegkom, hoe meer mense word daardeur beïnvloed – en dit skep ’n teelaarde vir volksmoord.”

As ons na die Verenigde Nasies se definisie van volksmoord gaan kyk, dan is vele mense in Suid-Afrika reeds aan volksmoord teen blankes en Afrikaners skuldig:

“In die huidige Konvensie, beteken volksmoord enige van die volgende dade wat gepleeg word met die bedoeling om ‘n nasionale, etniese, rasse- of godsdiensgroep, hetsy gedeeltelik, hetsy in sy geheel, as sodanig te vernietig, deur:

(a) lede van die groep dood te maak;

(b) lede van die groep ernstige liggaamlike of geestelike leed aan te doen;

(c) opsetlik lewensomstandighede teen die groep aan te bring wat daarop bereken is om sy fisieke uitwissing, hetsy gedeeltelik, hetsy in die geheel te veroorsaak;

(d) maatreëls te tref wat bedoel is om geboortes binne die groep te voorkom;

(e) kinders van die groep onder dwang na ‘n ander groep te verplaas.”

Ook die hoofstroommedia in hierdie land voer reeds jare lank ‘n sielkundige oorlog teen die Afrikaner en sy leiers met figure soos Max du Preez, Jan-Jan Joubert, Christi van der Westhuizen, Jakes Gerwel, Leopold Scholtz, Janet Smith van The Star en andere wat ons belaster en verguis. ‘n Week of twee gelede het Max du Preez op KykNET blykbaar op die stel met Rian van Heerden weer teen my uitgevaar as “basterbrak” en ‘n “swaap”.

Terwyl Afrikaners verdruk, verengels, verkrag en vermoor word, gaan hierdie sogenaamde “liberale” joernaliste, wat eintlik niks meer as propagandiste is nie, lustig voort om ons van rassisme, volksmoord en allerlei wandade te beskuldig.

Daarom is dit nou ironies dat die histeriese veldtog wat tradisioneel gevoer word teen die Afrikaner of enigeen wat vir ons mense opkom, tans teen Malema ontketen is.

Malema is nog in geen hof aan korrupsie skuldig bevind nie. As “tenderpreneur” verrig hy maar net wat 90% van ANC-politici in hierdie land doen, naamlik om die openbare en private bates wat ons oor geslagte heen opgebou en opgespaar het te plunder. Nog ‘n liberale akademikus, dr. Piet Croucamp van UJ, het onlangs oor RSG gesê dat “dit die manier is waarop die ANC homself befonds en waarop die swart middelklas hul uitspattige lewenstyl finansier”. Die korporatiewe base, banke en aandelemakelaars in Suid-Afrika doen lustig aan die stelsel van geïnstitusionaliseerde korrupsie wat as “swart ekonomiese bemagtiging” bekendstaan, mee. Almal is besig om te skep, die wit HUB’s en direkteure, asook die gekonnekteerde swart politici en hul families. Die slagoffers is die blanke middelklas wat steier onder die belastinglas en ook stelselmatig uit die ekonomie gewerk word.

Waarom dus Julius Malema uitsonder as die man met ‘n drietandvurk en horings? Ek kan aan twee redes dink: ten eerste het hy ‘n skoot oor die boeg van die koloniale mynhuise geskiet met sy nasionaliseringspraatjies en ten tweede waag hy dit om daardie hoogheilige spesie, die joernaliste self, aan te vat.

In vandag se Sondagkoerante verskyn daar verdere histeriese aanvalle op Malema omdat hy en Floyd Shivambu ‘n joernalis van City Press, Dumisane Lubisi, sou “afgepers het”. Shivambu het blykbaar gepoog om persoonlike en finansiële inligting oor Lubisi te publiseer.

In hierdie land is alles blykbaar geoorloof en die media mag maar enigeen wat hulle wil verguis en belaster, foto’s of video’s oor hul sekslewens, finansies en persoonlike sake publiseer, maar wee die dag as een van die joernaliste self onder die vergrootglas kom. Gerugte oor joernaliste wat lustiger as vele popsterre fornikeer of dwelmverslaafdes is, selfs dwelms verkoop, is volop maar ons lees dit nooit in die koerante nie.

Verstaan my mooi: ek is nie besig om Malema te probeer verdedig of te verontskuldig nie; allermins. Maar as die polariseringsproses wat Avusa (uitgewers van die Sunday Times), die Independent-groep en Naspers tans rondom Malema ontketen het tot sy logiese uiteinde gevoer word, gaan u en ek heel moontlik binnekort in die loopgrawe lê. Teenoor ons gaan ‘n horde swart jeugdiges van dieselde tipe wat Jub Jub se hofsaak ontwrig het deur Malema opgevorder word. Heel waarskynlik gaan hulle as lede van die bevrydingsbeweging volle toegang tot die 500 000 outomatiese wapens in weermag- en polisiemagasyne hê terwyl ons mense wat nog nie hul wapens gaan inhandig het nie, sal moet sien kom klaar met handwapens en ‘n wettige 200 rondtes ammunisie wat die meeste van ons nie eens besit nie. Daarvoor moet ons natuurlik vir FW de Klerk in sy versiendheid en toekomsvisie bedank.

PRAAG bepleit reeds geruime tyd dat ons ‘n netwerk van gemeenskapsveiligheidsorganisasies op die been bring, enersyds om misdaad te beveg daar waar die polisie misluk het en andersyds om darem ‘n eerste verdedigingslinie te hê in geval van iets ernstigers soos die Rwanda-tipe volksmoord waarna prof. Amanda Gouws van Stellenbosch verwys.

Op 17 April gaan ons juis vergadering hou in die kerksaal van die NG-kerk Lynnwood in Pretoria om hierdie en ander sake te bespreek en ek hoop verteenwoordigers van alle aktiewe buurtwagte, plaaswagte en gemeenskapsveiligheidsorganisasies sal dit bywoon.

Feit is egter dat die Afrikaner, ná al die verraad, doelbewuste verwarring en ontwapening van die afgelope twee dekades, nie vandag vir ‘n aanslag reg is nie. Reeds tien jaar gelede, in die jaar 2000, het ek ‘n artikel aan Die Burger voorgelê waarin ek die ooreenkomste tussen die De Klerk-skikking van 1994 en die Versailles-vredesverdrag van 1919 uitgespel het. Enige eensydige politieke skikking wat ‘n party in die geding bevoordeel, dra altyd die kiem van konflik in hom saam. Die destydse redakteur van Die Burger, Ebbe Dommisse, hoewel hy ten dele met my saamgestem het, wou dit nie destyds publiseer nie.

Ek is geen profeet nie. Maar ek het in ‘n huis vol boeke, ook geskiedenisboeke, grootgeword en die Here het my met gesonde verstand geseën.

As boorlinge van Afrika het ons te veel kennis en ervaring van Afrikane om hulle soos vele Engelse, veral natuurlik dié in Engeland, as “Westerlinge-in-wording” te sien. Al het Malema ‘n C-simbool vir Engels in matriek ontvang, wat bietjie beter is as sy G vir houtwerk, maak dit nog van hom geen Westerse demokraat wat op grond van negatiewe publisiteit en histeriese rubriekskrywers in die koerante gaan bedank of politieke harakiri gaan pleeg nie.

Waar in Afrika het die media al ooit ‘n politikus gesink? Dit het nie teen Mugabe gewerk nie. Ook nie teen Jacob Zuma nie, wat in weerwil van elke moontlike skandaal in die pers en ‘n horde gillende joernaliste eers leier van die ANC en toe president van die land geword het.

Suid-Afrika se dom joernaliste gaan ook nie vir Julius Malema stuit nie. Hulle mag dalk net voortydig etniese geweldpleging en selfs oorlog in dié land veroorsaak waarvoor ons kwalik voorberei is.

Indien die onvermydelike gebeur, moet ons baie seker wees waarvoor ons bereid is om te veg en te sterf. Onlangs was daar ‘n spotprent hier op die Praagwerf waarin een Amerikaanse soldaat in Afghanistan vir ‘n ander sê: “Ons veg om die reg van mense wat die VSA se vlag wil brand te beskerm.”

Ek is nie bereid om te veg vir die sogenaamde spraakvryheid van joernaliste wat in hul naïwiteit oor die ware aard van ons samelewing en oorbewus van die mag van die pen dit op hulself neem om die land, nogal op die vooraand van die Wêreldsokkerbeker, te polariseer en blindelings in die rigting van ‘n rasseoorlog te stuur nie.

Wel is ek bereid om te veg en dalk die hoogste offer te bring vir my land, my volk en my taal. Maar daar trek ek die streep. Ongeag sy tenders en aggressiewe uitlatings wat op aanhitsing tot volksmoord mag neerkom, beskik die Afrikaner oor veel groter vyande as Julius Malema. Soos Anton Barnard ook  in Julius Malema – bevryder van die blanke geskryf het, vervul hy ‘n nuttige rol om baie blankes en Afrikaners van hul liberale waanbeelde te bevry. Laat hy liewer sy sê in die openbaar sê as wat hy dit agteraf onder sy volgelinge propageer en ons dalk op ‘n mooi dag met ‘n onaangename werklikheid gekonfronteer word.

Sowel die Vryheidsfront Plus as Afriforum maak ‘n fout om verder op die pad van konfrontasie met Malema en die ANC-jeugliga te stap. Bepaalde klagte teen hom is gelê; laat die gereg sy gang gaan.

Die veldtog teen Malema is nie ons geveg nie en selfs al sou hy sy openbare amp moet ontruim, gaan dit geen verskil aan ons onmiddellike situasie maak nie.

справка у 86Фильчаков прокуратура харьков

Sarkozy sê jammer oor volksmoord

Nicolas Sarkozy het erken dat Frankryk en ander lede van die internasionale gemeenskap “foute” begaan het tydens die volksmoord in Rwanda in 1994.

Honderde duisende Rwandese is tydens die volksmoord uitgemoor in uitvalle tussen die Hoetoe’s en die Toetsi’s.

“Wat hier gebeur het, is onaanvaarbaar,” het Sarkozy in Kigali gesê.

“Maar, dit noodsaak die internasionale gemeenskap, insluitend Frankryk, om te besin oor wat ons kon gedoen het om die haglike misdaad te keer of stop te sit.”

купить свитер мальчику 8 летФільчаков Олександр Васильович