Die uitgaande Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, is ‘n “assistent van wit monopolie-kapitaal” en ‘n CIA-agent, volgens die ANC-jeugliga.
“Mev Thuli Madonsela is ‘n CIA-agent,” het die Ligapresident, Collin Maine, gesê.
Die Liga sê omdat Madonsela nie kommentaar gelewer het oor soortgelyke bewerings by ‘n vorige geleentheid nie, is genoeg bewys dat die sy op die betaalstaat van die Amerikaanse intelligensiediens is.
Die Liga het die bewerings op ‘n inligtingsessie in Johannesburg gemaak waar die Jeugliga gesê het hulle glo vas die staat is onder beleg van “imperiale magte”.
Die nie-so-jeugdige jeugvleuel van die regerende party sê Madonsela se toetrede tot die ondersoek teen die Gupta-familie en haar beskuldigings van ‘n staatskaping, is ‘n bewys van haar vooroordeel.
“Ons moet ook praat oor monopoliekapitaal. Veral die Stellenboschmafia. Dit sal ook aangespreek moet word. As jy wil praat oor die kwessie van staatskaping, kom ons praat oor al die dinge.”
Madonsela sê sy oorweeg regstappe teen Maine vir die aanval op haar persoon en die kantoor van die Openbare Beskermer.
Die Liga het ook ‘n beroep vir ‘n onmiddellike einde aan protes op kampusse ten einde toe te laat dat die fooiekommissie sy geregtelike ondersoek voltooi na universiteitsbefondsing.
Die huidige stryd wat daar rondom Afrikaans op kampusse woed, is gegrond op suiwer Boerehaat en rassehaat. Selfs sommige van die nugterder swart studente by Tukkies het al toegegee dat die bestaan van ‘n minderheid Afrikaanse lesings op die kampus hulle “glad nie raak nie”. Trouens, die Universiteit van Pretoria het al dermate verengels dat ‘n mens skaars nog tekens van die vorige voer- en doseertaal, Afrikaans, raaksien. Maar selfs hierdie oorblyfsels van Afrikaans aan die universiteit “gee aanstoot” en moet daarom uitgewis word. Op die duur – so lyk dit – moet Afrikanerkinders toegang tot universiteitstudie ontsê word deur die invoer van rassekwotas en ‘n beleid van antiwit diskriminasie.
In ‘n insiggewende onderhoud wat PRAAG gister gevoer het met een van die anti-Afrikaanse agitators op die Tukkie-kampus, ene Samkelo Cetyiwes van die ANC-jeugliga en Kommunisteparty-jeugliga en binnekort op ons YouTube-kanaal beskikbaar sal wees, blyk dit dat die “afskaffing van Afrikaans” bloot die eerste stap in ‘n omvattende revolusie is wat by Tuks beplan word. Soos Sydney Gregan onlangs gevra het, Wie sit agter Malema? En waarom? kan mens tereg ook vra: Wie sit agter die Boerehaatveldtog by Tuks? En waarom?
Die volgende twiet noem die aantal organisasies op wat teen Afrikaans by Tuks baklei:
As ons dus ‘n lys van die Afrikaansvyandige studenteorganisasies moes maak, sou dit só daar uitsien:
ANC-jeugliga
Kommunistiese jeugliga (wat met die ANC-jeugliga verstrengel is)
EFF-jeug
SASCO
PASMA
Tuks UPrising
Die boonste vier organisasies is redelik aan ons bekend, maar wat van die onderste twee? Daar bestaan ‘n kort Wikipedia-inskrywing oor PASMA:
The Pan Africanist Student Movement of Azania (PASMA) is a revolutionary student movement born at the University of the Western Cape, Cape Town, South Africa. It was founded in 1989 as the “Pan Africanist Student Organisation of Azania” (PASO) in Roodepoort, Johannesburg. Among its founders were Lungelo Mbandazayo (Founding President) or Lawrence “General” Nqandela (Secretary General), who led the Pan Africanist Congress of Azania youth wing.
Maar wie is “Tuks UPrising”? Dié organisasie beskik oor ‘n Twitter-rekening met 2 669 volgelinge en ‘n Facebookblad met 3 979 voorkeure. Omdat die organisasie blykbaar ook teen die benaming “Tuks” gekant is, het hy die term “Tuks” laat vaar en staan tans slegs as “UPrising” bekend.
Oor die afgelope week of twee het daar rassepolarisering op die Tukkiekampus plaasgevind, asook by Kovsies. Maar soos gewoonlik bespeur ‘n mens “die wit hand in die swart handskoen” want terwyl PRAAG gister by die kampus was, het ons opgemerk dat ‘n blanke Engelse dame, asook ‘n Indiërvrou, ‘n leidende rol by Tuks UPrising speel en waarskynlik al hul verklarings opstel en die strategie bepaal. Dit wil ook voorkom asof Tuks UPrising “die agenda bepaal” en die ander swart jeugorganisasies soos die ANC, Kommuniste en Effers koördineer. Daar word van ‘n anti-Afrikaanse “kollektief” gepraat.
As ‘n mens na die radikale eise van Tuks UPrising kyk, moet Afrikaans nie net afgeskaf word nie, maar Afrikanerseuns en -meisies ook uit die koshuise gesmyt word. Kortom, dit moet so moeilik as moontlik gemaak word vir Afrikaners om hoegenaamd te studeer! Dít op ‘n kampus wat vir dekades deur Afrikaners bedryf, befonds en opgebou is.
Die vermetelheid van die Afrikanerhaatbeweging by Tukkies en in die land as sodanig skrei ten hemele. ‘n Woordvoerder vir die ANC en radio-omproeper, Shaka Sisulu, het gister getwiet:
There is a race war in South Africa.
It’s 364 years old. Though we agreed to cease-fire 22 years ago, we are agreeing to open fire again…
Die taaloorlog of die oorlog teen Afrikaans, word dus ook eksplisiet as ‘n “rasseoorlog” gesien. Hoewel, soos ek hier bo noem, verkeer daar ook Engelstalige blankes en Indiërs aan die “swart kant” van die verdeling. Ek dink ons moet aanvaar dat, indien hulle moet kies tussen Afrikaners en radikale swartes, is daar ‘n deel van die Engelse wat eerder saam met die swartes sou staan. Net so is daar sekerlik ‘n klein minderheid Afrikaners van die Max du Preez-tipe wat insgelyks saam met marxistiese swartes en Engelse sou staan om Afrikaners en die Afrikaanse kultuur uit te wis. Aan die ander kant bestaan daar moontlik ‘n “stille meerderheid” van ander rasse en selfs Engelse wat net orde en voorspoed in die land sou wou sien en nie aktief aan die radikale politiek deelneem nie. Dalk sou hulle selfs ‘n Afrikanerbeweging teen die revolusionêre en marxistiese elemente steun. Dog daarop kan ons geensins reken nie. Wesentlik staan die Afrikaner alleen teen die huidige aanslag, en sal ons ons eie planne moet maak om dit die hoof te bied.
Die De Klerk-geslag se oorgawepolitiek het nou sy logiese uiteinde bereik: van oorgawe kom ondergang. Afrikaans moet afgeskaf word, maar ook die kaart en transport op jou plaas of jou huis. Vandeesweek het die parlement die Onteieningswet goedgekeur. Só strompel die land voort op pad na ‘n Zimbabwe wanneer alle blankes se besittings toegeëien sal word en ons met die klere aan ons lywe oorsee sal kan vlug, as ons gelukkig is. Op sosiale media word sulke dinge al openlik gesê: dat ons nie in die land hoort nie en in die see gejaag behoort te word.
Ons moet die huidige vlaag van Boerehaat, waaronder die intense renons in die Afrikaanse taal, sien vir wat dit is: ooglopende tekens van etniese konflik. Hier op my rak het ek twee boeke van die Amerikaanse spesialis oor etniese konflikte, Donald L. Horowitz: The deadly ethnic riot en Ethnic groups in conflict. Groepe wat op dieselfde grondgebied of binne dieselfde staat om hulpbronne of mag meeding, gaan dikwels tot geweld oor wanneer onluste uitbars, geboue afgebrand en lede van die teikengroep voor die voet gedood word. Dit noem Horowitz die “dodelike etniese onlus” wat hy soos volg omskryf:
“Anyone who studies severely divided societies at close range will probably encounter the deadly ethnic riot sooner or later. Deadly riots are not ubiquitous, merely episodic, but when these attacks occur a good many people lose their lives in the most brutal sort of killing, typically accompanies by mutilation, and many more become refugees. The deadly ethnic riot has an element of fury that signals widespread hostility and portends worse. This form of violence produces memories that linger, coloring group relations long afterward.” (Deadly ethnic riot, bl. xiii)
Joe Slovo, Ronnie Kasrils en ander kommunistiese leiers het in die verlede Suid-Afrika se etniese verdeeldheid tussen Zoeloe en Xhosa, Afrikaner en Engelsman, kleurling en Indiër, meesterlik uitgebuit om geweld en selfs massamoorde soos by Boipatong, Trust Feed en KwaMashange of tydens die “volksoorlog” (“people’s war”) in Natal aan te blaas. Tans word dieselfde taktiek op kampusse gebruik om etniese onluste teen Afrikaners aan te hits. Dít wat ons die afgelope paar dae op die Vrystaatse kampus gadegeslaan het, waaronder die afbreek van adv. C.R. Swart se standbeeld of die onderbreking van die Shimla-rugbywedstryd Maandag, pas reg binne dié definisie van etniese onluste.
Soos Carl Schmitt gesê het, kies ‘n mens nie jou vyand nie: hy kies jóú. Bepaalde revolusionêre, Engelstalige groepe in die land het die Afrikaner en Afrikaans tot vyand verklaar. Dis ‘n feit wat nie eens die mees werklikheidsontkennende, apatiese Afrikaner kan ontken nie. Dit behoort ons nie te ontstel nie; immers leef ons al dekades of selfs eeue lank daarmee saam. By tye in die negentiende eeu is die land byna permanent in konflik en chaos gedompel, maar danksy leiers soos Paul Kruger is orde telkens herstel en kon die land van daardie punt af ontwikkel.
Op ‘n manier is ons vandag terug in die negentiende eeu. Daar is geen reëls meer nie en aanvalle geskied skielik en lukraak, soos die veiligheidsbeampte by Tukkies wat deur ‘n swart student van agter af aangeval is.
Die vyandelike, anti-Afrikaanse organisasies op kampusse gaan aanhou agiteer totdat hulle hul doelwit bereik het om Afrikaans en die Afrikaner te vernietig.
Wat nou nodig is, is dat ons soos van ouds sal groepeer, ongeag ons verskille in ouderdom of wat sienswyses betref, om die aanslag die hoof te bied. Afrikaans is omtrent al wat ons oorhet, nadat soveel van ons bates reeds van ons afgevat en geplunder is.
Maar dit gaan om meer as net Afrikaans. Dis ons voortbestaan self wat op die spel is. Danksy die vorige geslag se oorgawepolitiek, word ons as swak en besluiteloos – en dus ‘n maklike prooi – gesien. Tensy ons die teenoorgestelde sein na die vyand toe uitstuur, gaan ons probleme bloot vererger.
Agter die taaloorlog skuil ‘n etniese stryd wat min of meer openlik teen ons gevoer word. Dit help nie ons bly passief en verdedigend nie. Die stryd woed op morele en propagandavlak, toenemend ook fisiek. Ons sal op alle vlakke weerstand moet bied en waar nodig selfs offensief moet begin optree.
Teenoor die slagspreuk, “Skaf Afrikaans af”, kan ons sê: “Skaf Engels af”! Hoewel Engels in die land baie sterk lyk, moet ons onthou dat die anglofiele ‘n bonte versameling van groepe sonder ‘n natuurlike etniese kern verteenwoordig. In teenstelling met Engels wat in Suid-Afrika ‘n soort “nuttigheidstaal” is, beskik Afrikaans wel oor ‘n sterk etniese volkskern in die vorm van Afrikaners. Soos wat die spanning verhoog, sal daar wel krake in die Engelse alliansie verskyn terwyl die samehorigheid van die Afrikaanse groep behoort toe te neem. Sonder ordentlike Afrikaners wat ander goedgunstiglik in die taal van die vyand onderrig en pamperlang, sal die hele hoër onderwysstelsel in elk geval tot stilstand kom.
Geen Afrikaner behoort meer enige onderrig in Engels aan vyandelike groepe te verskaf nie. Laat hulle dosente ten duurste uit Engeland of Amerika invoer. Of beter: laat hulle oorsee aan Engelstalige universiteite gaan studeer. Net soos die “Rhodes must fall”-beweging van Kaapstad na Oxford uitgebrei is, kan Suid-Afrika se etniese onluste gerus na die buiteland verplaas word.
Dis nog ‘n logiese teenstrydigheid wat ek nie kan begryp nie: As die minagting vir Afrikaners so groot is, waarom dan hoegenaamd op ‘n kampus soos Tuks van Afrikanerdosente onderrig ontvang, sy dit dan in Engels? Immers is geen Afrikaner werklik gekwalifiseer om in Engels klas te gee nie, behalwe dié wat ‘n TOEFL-eksamen by die British Council afgelê het.
Tienduisende betogers is tans besig om op te ruk na die Uniegebou. Studente-organsisasie Sasco het swart skoolkinders en werkers aangemoedig om deel te wees van die “studenteprotes”.
News24 berig dat betogers, talle geklee in swart, reeds by die Universiteit van Pretoria saamgetrek is en besig is om mekaar op te sweep.
Honderde betogers is ook van Johannesburg na Pretoria onderweg om deel te neem aan die massa-betoging oor universiteitsgeld by die Uniegebou.
Hulle word ingebus vir die massasaamtrek.
Studenteleiers en die bestuur van tersiêre instellings in die land vergader vanoggend met president Jacob Zuma om ‘n oplossing vir die voortslepende onrus en geweld te kry wat universiteite regoor die land lamlê.
Die studente eis dat universiteitsgeld nie aanstaande jaar verhoog word nie.
Die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe het intussen ‘n beroep op sy partylede gedoen om politieke binnegevegte te staak en eerder te help om ‘n oplossing vir die studentebetogings te vind.
Mantashe het gereageer op berigte dat die ANC Jeugliga in Gauteng die Minister van Hoër Onderwys, Blade Nzimande gevra het om te bedank.
Die liga sê Nzimande het nie aan sy mandaat voldoen om met die proses te begin om gratis hoër onderwys te verseker en om tersiêre onderrrig te transformeer nie.
Nzimande het sosiale media aan die brand met sy oproep vir ‘n #StudentsMustFall-beweging as hulle weier om ‘n universiteitfooitoename van 6% te aanvaar.
“… As die studente dit nie aanvaar nie sal ons ons eie beweging begin ‘studente moet val’,” het hy gesê by ‘n perskonferensie vroeër hierdie week.
Mantashe sê die studente-betogings moet nié gesien word as protes teen die ANC of die regering nie.
Mantashe sê ‘n memorandum met betogers se eise, sal aan die regering oorhandig word.
Duisende betogers het Donderdag buite Luthuli-huis in Johannesburg byeengekom om die memorandum aan Mantashe te oorhandig.
Hy sê die eise in die memorandum sal in vandag se vergadering tussen President Jacob Zuma, universiteitleiers en studente-verteenwoordigers bespreek word, maar die betogers moet ophou om die leierskap te probeer verneder.
Betogers het Mantashe Donderdag beveel om te sit toe hy hulle wou toespreek.
In Londen was wit “raadgewers” druk besig om swartes te help met ‘n betoging voor die Suid-Afrikaanse missie wat vandag in “solidariteit” sal plaasvind.
Die eerste dag van die KwaZulu-Natalase ANC-jeugliga in Port Shepstone is gekenmerk deur geweld, ontwrigtings en vertragings.
Die tweedaagse kongres was geskeduleer om gistermiddag om eenuur te begin, maar dit het eers vandag in die vroeë oggendure begin nadat ontevrede lede by die hekke deur die polisie voorgekeer is omdat hulle ontwrigtings veroorsaak het.
Die kongres het twaalf ure laat begin.
Die polisie het ook rubberkoeëls en traanrook gebruik om hulle uiteen te jaag.
Die oproer het uitgebreek toe diegene wat nie geregistreer het nie te laat probeer het om dit te doen. Die verkiesingskonferensie duur voort.
Die liga in die provinsie het intussen gedreig om die EFF kort te vat.
Die pasaangewese voorsitter van die jeugliga, Thami Ngubane het die EFF as politieke kleuters beskryf sonder enige geskiedenis of toekoms. Hy sê die party aap ANC-resolusies na en hou dit dan as hul eie voor.
Hy sê dit is omdat hulle nie vir hulself kan dink nie.
Die vurige nuwe leier het sy teenstander, Sipho Hlomuka in die verkiesing geklop. Die kongres het twaalf ure laat begin.
Twee mense, vermoedelik lede van die Hlomuka-faksie, is met rubberkoeëls geskiet in ‘n onderonsie met die polisie.
Die metroraad van die groter Pretoriagebied het gister toestemming geweier dat die ANC-jeugliga teen die Afrikaans-is-Groot-konsert in Pretoria betoog, kwansuis om teen Steve Hofmeyr se deelname beswaar te maak.
“Ons ondersoek nou alternatiewe maniere om vreedsame en doeltreffende protesoptrede op ’n wettige manier te reël,” het Justin de Swardt, van die ANC-jeugliga in wyk 91 van die metrogebied, gister verklaar.
Afrikaans is Groot het by monde van sy woordvoerder, Barnard Beukman, ‘n verklaring uitgereik waarin gesê word:
Afrikaans is Groot (AIG) het vandag formeel daarvan kennis geneem dat die Tshwane Metro die ANC Jeugliga se aansoek om ‘n protesaksie naby die AIG-konserte afgekeur het. Hiermee wil ons aan konsertgangers bevestig, wat moontlik bekommerd was oor veiligheid, dat die kwessie nou opgelos is. Ons verwelkom die situasie waarin konsertgangers nou die konserte in ‘n ontspanne atmosfeer kan bywoon, terwyl hulle die musiek geniet.
Die AIG-konsert in Pretoria. Foto: Steve Hofmeyr Facebook
AIG word tot 22 November in die NG kerk Moreletapark, in die ooste van Pretoria, aangebied. Alle kaartjies is reeds maande gelede uitverkoop.
Afgesien van Steve Hofmeyr, tree Bobby en Karlien van Jaarsveld, Dewald Wasserfall, Theuns Jordaan, Juanita du Plessis, Bok van Blerk en Arno Jordaan insgelyks by die konsert op.
Op AIG se Facebookblad het lede van die publiek soos volg op die nuus gereageer:
Salome Esterhuizen: Asof ons gepla was om mee te begin.
Michael Schmit: Hierdie event gaan nog net groter en groter word en geen “liga” gaan dit keer nie! Dalk suur druiwe omdat hul Cullinan ekskursie so klaaglik misluk het??nee wat- AIG IS YSLIK GROOT!
Anette Niemand Venter: Solank Steve sing.
Serelda Ferreira: Nou dis HOE ONS ROL IN AFRIKAANS!!! Ons staan trug vir NIKS! !
Marie Botha: Prys die Here, Amen.
Elmarie de Vaal: WONDERLIK!!!!!
Hiermee het die politiese korrekte blanke leier van die ANC-jeugliga in wyk 91, Justin de Swardt, kennelik ‘n taktiese neerlaag gely.
Afrikaans is Groot (AIG), die Afrikaanse musiekkonsertreeks wat Vrydag in Pretoria begin, sal nie deur die ANC-jeugliga ontwrig word nie.
Die uitvoerende burgemeester van Tshwane, Kgosientso Ramokgopa, het intussen ‘n uitnodiging aanvaar om van die konserte by te woon.
Die organiseerders het veiligheidsmaatreëls in plek gestel om te verseker dat kaartjiehouers nie verontrief sal word deur die ANC-jeugliga nie.
Barnard Beukman, organiseerder van AIG, navrae is ontvang oor of dit veilig sal wees om die konserte by te woon na berigte dat die ANC-jeugliga buite wil betoog.
Dié dreigemente vorm deel van georkestreerde pogings om die konsert in die wiele te ry, ook met persoonlike aanvalle teen een van die groot vermaaklikheidsterre by AIG, Steve Hofmeyr.
‘n Tussentydse bevel teen Hofmeyr se teisteraars is intussen toegestaan in die Randburgse landdroshof.
Dit blyk nou dat die Jeugliga nie enige aansoek ingedien het om ‘n betoging te hou nie. Só ‘n aansoek moet by die owerhede ingedien word alvorens daar sprake is van ‘n protesbyeenkoms.
Die ANC-jeugliga se tak wat ‘n verklaring uitgereik rakende protes, het glo aan AIG bevestig dat daar geen finale besluit oor enige protesaksie geneem is nie en dat dit tans net “oorweeg” word.
Minstens sewe dae se voorafkennisgewing is onontbeerlik en indien dit afgewys word, word die betoging onwettig beskou deur die polisie.
Geen melding van só ‘n georganiseerde betoging is egter gemaak in ‘n verklaring wat uitgereik is deur die Jeugliga nie.
Talle beseerdes is in Oos-Londen na hospitale geneem nadat geweld oornag by die ANC-jeugliga se Oos-Kaapse verkiesingskonferensie uitgebreek het, het RSG berig.
Gevegte het begin toe verskillende groepe nie oor die kwalifiserende vereistes kon ooreenkom voor die provinsiale leierskap verkies is nie.
Honderde ondersteuners van Sicelo Mdletshe is na die konfrontasie uit die saal verwyder.
Streke soos Makana en die Nelson Mandela Metro het nie aan die verkiessing deelgeneem nie. Hulle het die saal verlaat nadat die gevegte uitgebreek het.
Die konferensie het uiteindelik Nhathi Nqoko en Zolani Khabae as die voorsitter en ondervoorsitter gekies.
President Jacob Zuma se antwoorde op parlementêre vrae het in die slag gebly weens die chaos wat Donderdagmiddag in die Nasionale Vergadering uitgebreek het toe die EFF geweier het om sy antwoord oor Nkandla te aanvaar.
Die antwoorde is later per e-pos uitgestuur.
Die Speaker in die Nasionale Vergadering, Baleka Mbete het intussen om verskoning gevra aan president Zuma oor die ontwrigting in die parlement.
Die verrigtinge is onderbreek toe oproerige EFF-lede vir Zuma oor veiligheidsopgraderings aan sy Nkandla-woning getart het. EFF-lede het Zuma openlik en herhaaldelik uitgejou.
Hulle wou weet wanneer hy van plan is om van die meer as R200 miljoen wat bestee is, terug te betaal.
Mbete het veiligheidsbeamptes ontbied om die EFF parlementslede uit die gebou te verwyder, maar die EFFers het hulself teëgesit daarteen.
Mbete sê die Vryheidsvegters het geen respek vir die parlement nie en dat dit ook die gevoel onder die meerderheid van die ander parlementslede is.
‘n Parlementêre komitee sal aangewys word om die EFF se gedrag te ondersoek. Daar sal glo gekyk word of die lede vir die ontwrigting gestraf moet word.
Die ANC-jeugliga het hul skok oor die “anargie en geweld van die EFF” uitgespreek.
“In hul aandagsoek pogings mag sommige van hulle dink dat hulle radikaal is. Die gedrag gesien in die parlement vandag was nie net ‘n skande nie, maar ook gewelddadig.”
Die Liga sê Suid-Afrikaners moet nie aanvaar dat LP’s betrokke raak in fisiese aanvalle binne die Parlement nie.
‘n Onderonsie het uitgebreek tussen die Liga en die EFF kort nadat Mbete die sitting laat verdaag het na die EFF se weiering om die gebou te verlaat nadat sy beveel het om te gaan. Braam Hanekom is glo bygedam deur die EFFers.
Hanekom se aanranding is ‘n “baie ernstige belediging vir Suid-Afrika, asook ook ‘n kriminele daad” het die Liga gesê.
Die leier van Cope, Mosioua Lekota sê die ANC moet aanspreeklikheid aanvaar vir die chaos in die Nasionale Vergadering.
Volgens Lekota kan daar slegs orde in ‘n land wees wanneer die regerende party die grondwet respekteer.
Intussen het die ANC die EFF-leier Julius Malema veroordeel, en sê sy party het gewelddadige neigings wat die land kan laat agteruitgaan.
Die DA het sy kommer oor die voorval uitgespreek, en sê dit kan die “toekoms van die land in gedrang bring”.
Eienaars van ‘n Durbanse nagklub is R80 000 armer na ‘n ANC-Jeugliga-partytjie wat twee dae aangehou het.
Dit was glo ‘n amptelike ANC-geleentheid georganiseer deur die Jeugliga.
The Witness berig dat die beplanners van die verkiesingspartytjie Emmanuel Bongumusa Gumede en Themba Dlomo, sowat R24 000 se whiskey en R10 000 se sjampanje uitgedrink het saam met hul vriende.
Die rekening nog nie vereffen nie, ten spyte daarvan dat Gumede twee maande gelede daarvoor geteken het.
Die African National Congress het hom gedistansieer van die twee.
Volgens die verslag, is die saak by die polisie aangemeld, maar die ondersoek het tot stilstand gekom.
Dlomo het aan The Witness gesê: “Ek het hierdie funksie gefasiliteer maar ek was nog nooit verantwoordelik vir die betaling daarvan nie.”
Gumede is gelys as die direkteur van vier maatskappye in verskeie fases van likwidasie, terwyl Dlomo glo met die ryk ANC-sakeman PG Mavundla verbind word.
Die ANC-Jeugliga se adjunk-provinsiale sekretaris Sboniso Duma kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.
Die ANC Jeugliga gaan vandag ‘n optog hou na die kantore van die Mail en Guardian-koerant in Rosebank.
Volgens die Liga is die koerant “een van die mediahuise wat bereid is om propaganda van ‘n teen-revolusie teen die ANC ter ondersteuning van die opposisie te bevorder”.
Die koerant se redakteur Angela Quintal het in reaksie gesê: “Net soos ons glo in die grondwetlik verskanste reg op vryheid van spraak, sal ons ook die reg van ‘n individu of organisasie verdedig om vreedsaam te protesteer. Dit is wat ons grondwetlike demokrasie is.”
Met die optog, noord van Johannesburg sal die Jeugliga hulle ontevredenheid te kenne te gee met die koerant se “eensydige” nuusdekking.
Die Jeugliga beskuldig die koerant daarvan dat hy sy beginsels van billikheid, objektiwiteit en akkurate verslaggewing versaak het.
Die koerant se nuusdekking in aanloop tot die verkiesing was glo eensydig was ten gunste van die opposisie, volgens die Liga.
Die Jeugliga se ondersteuners sal by Wyndham Park byeenkom vanwaar hulle na Rosebank sal stap. Verteenwoodigers van Cosas en die Jong Kommuniste Liga sal ook die skare toespreek.
Die African National Congress se Jeugliga het Maandag geen voorneme gehad om sy skuld van meer as R15 miljoen te delg om ‘n finale bevel van likwidasie te vermy nie.
In plaas daarvan, het sy prokureurs in die Suid-Gautengse Hooggeregshof verklaar dat dit nie ‘n maatskappy is nie en dus nie gelikwideer kan word nie.
Argumente in die saak is uitgestel tot Woensdag.
Die Jeugliga is onder voorlopige likwidasie geplaas nadat Z2 Presentation aansoek gedoen het vir sy likwidasie.
ANCYL het versuim om R15 miljoen vir dienste wat verband hou met sy nasionale konferensie in Bloemfontein in 2008 te betaal.
Ander krediteure het na vore gekom nadat die saak vir die eerste keer verlede jaar gehoor is in Junie, insluitend Palanquin Hospitality Management.
Die liga sou na verwagting die skuld vereffen nadat dit hulle skenkings van simpatiseerders vroeër vanjaar gevra het.
In die afwesigheid van die liga as ‘n wettige entiteit, sal die ANC die Mei 7 algemene verkiesing in die gesig staar sonder ‘n volle kontingent van betroubare voetsoldate om veldtogte te voer op grondvlak, veral onder jong swartes.
Ten minste 2 miljoen jong mense sal vir die eerste keer hierdie jaar stem, ‘n beduidende blok kiesers tussen die ouderdomme van 18 en 39 jaar wat geregistreer is om te stem.
Hoewel die liga se vennote in die Progressive Youth Alliance, die Jong Kommunistiese Liga en die Suid-Afrikaanse Studente Congress, nog beskikbaar is om jong mense te werf in die guns van die ANC, het hierdie organisasies voorheen ‘n mindere rol in die ANC se verkiesingsveldtogte gespeel.
In die 2009-verkiesing, het die liga onder sy destydse leier, Julius Malema, die ANC se verkiesingsboodskap in ‘n taal en op ‘n wyse aangebied wat maklik verstaanbaar was vir jong swartes.
Hulle het met groot sukses steunwerwing in nagklubs en ander swart vermaakplekke gedoen.
Malema, wat intussen uit die ANC geskors is, sal aan die verkiesings met sy nuwe party deelneem, die ekonomiese vryheidsvegters of EFF.
Die ANC se sekretaris-generaal Gwede Mantashe het aan die hof gesê in ‘n beëdigde verklaring dat selfs indien die likwidasie-aansoek slaag, die liga geen bates het wat verkoop kan word om die skuld af te betaal nie.
Maandag, het die regsgeleerde vir die jeugliga , John Peter SC , aangevoer dat die hof die liga behandel het as ‘n maatskappy wat vir wins bestaan in sy voorlopige likwidasiebevel, terwyl dit nie die geval is nie.
‘n Voormalige ampsdraer van die ANC-jeugliga, Ronald Lamola, het glo die naweek handgemeen geraak, het The Star Dinsdag berig.
Lamola het in Julius Malema se ampstermyn as die organisasie se adjunkpresident gedien.
Die vuisslanery het begin toe die adjunkvoorsitter van die Ehlanzeni-streek, Nathaniel Mashile, beweer het Lamola en Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, ontmoet in die geheim om ‘n sameswering te beplan.
Hy het die twee beskuldig dat hulle Mpumalanga se premier, David Mabuza, uit sy pos wil verwyder.
Lamola sê Mashile hom glo met ’n bottel gegooi het en hy homself moes verdedig. As hy nie terugbaklei het nie, sou sy aanvaller hom erg beseer het, het Lamola gesê.
Die ANC-jeugliga het sy steun aan Cyril Ramaphosa, adjunkpresident van die ANC, toegesê om Suid-Afrika se volgende president te word.
“Dit is die regte ding om te doen. Dit is die enigste manier waarop die ANC sy interne demokratiese prosesse kan uitbou,” het Mzwandile Masina, sameroeper van die liga se nasionale taakspan (NTT), aan die Sowetan gesê.
Ramaphosa is in Desember by die regerende party se nasionale verkiesingskonferensie in Mangaung tot adjunkpresident verkies en het oorgeneem by Kgalema Motlanthe, wat steeds die adjunkpresident van die land is.
Die jeugliga wil sien dat Ramaphosa ná volgende jaar se algemene verkiesing die leisels by Motlanthe oorneem. – Sapa
President Jacob Zuma het by ‘n byeenkoms in Seshego, Limpopo gesê die ANC Jeugliga mag radikaal wees, solank hulle die tradisies van die regerende party respekteer.
Tienduisende mense het die byeenkoms bygewoon. Daar was nie een wit gesig in die skare of op die verhoog nie, wat ‘n duidelike streep deur die ANC se vermaarde verbintenis aan “nie-rassigheid” getrek het.
Die president se toespraak was gemik om Julius Malema se EFF-steunbasis in sy tuisdorp. Zuma het gesê daar is nie iets soos die “Born Free” geslag nie – diegene wat ná 1994 gebore is – aangesien daar nog nie ekonomiese gelykheid in Suid-Afrika heers nie.
Die byeenkoms het die nege en sestigste herdenking van die Jeugliga gevier. Busse van oral het na Polokwane gereis vir die geleentheid.
Zuma het vroeër ook die graf van die voormalige Jeugligaleier Peter Mokaba besoek en ‘n krans gelê. Mokaba het die “Kill a Boer” liedjie gepopulariseer.