DA-leier ook vir onparlementêre gedrag ondersoek

Mmusi Maimane, parlementêre leier van die DA, is een van drie LP’s wat ondersoek word vir beweerde onparlementêre gedrag, het Sapa berig.

Baleka Mbete, Speaker, het die parlementêre komitee oor regte en voorregte gevra om Maimane, Mike Waters, die adjunkhoofsweep van die DA, asook Bertha Mabe, ʼn ANC-LP, te ondersoek.

Mbete het gesê die DA-leier het ‘n onparlementêre opmerking gemaak in die Nasionale Vergadering op Donderdag 13 November 2014, en sy daaropvolgende optrede, is na die komitee oor regte en voorregte verwys vir oorweging ingevolge artikel 194.

Chaos het op 13 November in die Nasionale Vergadering uitgebreek.

Maimane is deur Mbete beveel om te sit maar hy het geweier. Waters is beveel om die Nasionale Vergadering te verlaat maar hy het ook geweier.

Die sitting het geëindig nadat die polisie ingestorm het en ʼn EFF-LP van die podium verwyder het nadat sy glo geweier het om haar opmerking dat “president Jacob Zuma die grootste dief in die wêreld is”, terug te trek.

Mabe word daarvan beskuldig dat sy op 16 September tydens ʼn debat oor ʼn mosie van wantroue in Mbete, glo “bloody bastards” gesê het terwyl sy die podium verlaat het.

Nuwe komitee sal besluit of EFFers geskors word

‘n Nuwe komitee oor Magte en Voorregte wat deur die parlement aangewys is, sal vergader om klagtes en optrede teen parlementslede van die EFF te ondersoek.

Die komitee is aangewys om die gedrag van 25 EFF-lede tydens president Jacob Zuma se vraetyd te oorweeg.

Die Speaker van die nasionale vergadering, Baleka Mbete het verlede Dinsdag bekend gemaak dat die saak na die komitee verwys is en dat sy oorweeg om die lede te skors.

Die voorsitter, Lemias Mashile sê die komitee sal oorweeg of die lede geskors moet word of nie.

Intussen het die EFF se ultimatum aan Mbete is tot Maandag verleng sodat sy kans het om te reageer.

Die EFF eis dat sy haar planne moet terugtrek om die lede te skors. Die party sê Mbete het om uitstel gevra nadat sy nie aan gister se spertyd kon voldoen nie.

Die EFF het gedreig om hulle na die hof te wend vir ‘n interdik teen ‘n skorsing.

Chaos breek uit in parlement

President Jacob Zuma se antwoorde op parlementêre vrae het in die slag gebly weens die chaos wat Donderdagmiddag in die Nasionale Vergadering uitgebreek het toe die EFF geweier het om sy antwoord oor Nkandla te aanvaar.

Die antwoorde is later per e-pos uitgestuur.

Die Speaker in die Nasionale Vergadering, Baleka Mbete het intussen om verskoning gevra aan president Zuma oor die ontwrigting in die parlement.

Die verrigtinge is onderbreek toe oproerige EFF-lede vir Zuma oor veiligheidsopgraderings aan sy Nkandla-woning getart het. EFF-lede het Zuma openlik en herhaaldelik uitgejou.

Hulle wou weet wanneer hy van plan is om van die meer as R200 miljoen wat bestee is, terug te betaal.

Mbete het veiligheidsbeamptes ontbied om die EFF parlementslede uit die gebou te verwyder, maar die EFFers het hulself teëgesit daarteen.

Mbete sê die Vryheidsvegters het geen respek vir die parlement nie en dat dit ook die gevoel onder die meerderheid van die ander parlementslede is.

‘n Parlementêre komitee sal aangewys word om die EFF se gedrag te ondersoek. Daar sal glo gekyk word of die lede vir die ontwrigting gestraf moet word.

Die ANC-jeugliga het hul skok oor die “anargie en geweld van die EFF” uitgespreek.

“In hul aandagsoek pogings mag sommige van hulle dink dat hulle radikaal is. Die gedrag gesien in die parlement vandag was nie net ‘n skande nie, maar ook gewelddadig.”

Die Liga sê Suid-Afrikaners moet nie aanvaar dat LP’s betrokke raak in fisiese aanvalle binne die Parlement nie.

‘n Onderonsie het uitgebreek tussen die Liga en die EFF kort nadat Mbete die sitting laat verdaag het na die EFF se weiering om die gebou te verlaat nadat sy beveel het om te gaan. Braam Hanekom is glo bygedam deur die EFFers.

Hanekom se aanranding is ‘n “baie ernstige belediging vir Suid-Afrika, asook ook ‘n kriminele daad” het die Liga gesê.

Die leier van Cope, Mosioua Lekota sê die ANC moet aanspreeklikheid aanvaar vir die chaos in die Nasionale Vergadering.

Volgens Lekota kan daar slegs orde in ‘n land wees wanneer die regerende party die grondwet respekteer.

Intussen het die ANC die EFF-leier Julius Malema veroordeel, en sê sy party het gewelddadige neigings wat die land kan laat agteruitgaan.

Die DA het sy kommer oor die voorval uitgespreek, en sê dit kan die “toekoms van die land in gedrang bring”.

ANC woedend oor Goldfields-bewerings

Mbete
Mbete

Die ANC het Dinsdag gesê die Mail & Guardian moet sy storie onttrek oor Baleka Mbete, ANC-voorsitter, wat na bewering deur Gold Fields omgekoop is en haar en die party om verskoning vra.

“In hul gretigheid om die nasionale voorsitter en die ANC te diskrediteer, het die koerant ’n swak, ongegronde storie gepubliseer,” het die regerende party in ’n verklaring gesê.

“Die Mail & Guardian gebruik opsetlik die opskrif [‘Gold Fields bribed ANC Chair’] met die bedoeling om sensasioneel, lasterlik en beledigend te wees.”

Stefaans Brummer, een van die joernaliste wat die storie geskryf het, het die ANC-verklaring as “heeltemal oordrewe” beskryf.

“Ons staan by ons storie, wat duidelik in die openbare belang was.”

’n New Yorkse regsfirma het bevind dat ’n aandeletoekenning van R25 miljoen aan Mbete neerkom op omkopery. Die koerant het berig dat Gold Fields dié bevinding onder die mat gevee het.

Die regsfirma, wat deur Gold Fields aangestel is, het bevind dat Mbete se aandeel in ’n omstrede bemagtigingstransaksie in 2010 vergroot is ná ’n beweerde dreigement deur haar verteenwoordiger. – Sapa