Draaipunt vir samewerking tussen DA, EFF

Die leier van die opposisie, Helen Zille, sal uittree as leier van die DA.

Zille het Sondag op ’n dringende vergadering van die party se federale raad aangekondig sy gaan haarself nie beskikbaar stel vir nog ’n termyn as partyleier tydens die party se nasionale konferensie later vandeesmaand in Port Elizabeth nie.

Sy sou die enigste kandidaat as na­sionale leier gewees het. Met dié aankondiging wil die DA ‘n nuwe leier se beeld betyds vir die volgende verkiesing begin afstof.

Mmusi Maimane is die gunsteling om by Zille oor te neem.

Sy samewerking met die EFF in Februarie, toe albei partye saam pres. Jacob Zuma tydens die debat oor die staatsrede aangeval het, was klaarblyklik die draaipunt vir die swart siening van hom as nie net ‘n blote wit werktuig nie.

Zille het in 2007 by Tony Leon as DA-leier ­oorgeneem en dien sedert 2009 as Wes-Kaapse premier.

Dit blyk Zille sal aanbly as premier van die Wes-Kaap.

Alhoewel Zille beweer dat sy nie weer betrokke sal raak by interne leierskapkwessies nie, is dit bekend dat sy Maimane steun as haar opvolger.

Zille sê ouderdom is nie ter sprake nie, maar slegs dat die nuwe leier geskik vir die pos en voortreflik moet wees.

Die leier van die DA in die Oos-Kaap, Athol Trollip en Zille het in die verlede koppe gestamp toe sy vir Lindiwe Mazibuko as parlementêre leier bó Trollip aangewys het.

Trollip het haar destyds daarvan beskuldig dat sy ingemeng het by die party se demokratiese proses deur ‘n swarte aan te wys.

Die DA sukkel om swart kiesers te oortuig dat hulle nie ‘n wit party is nie.

DA-leier ook vir onparlementêre gedrag ondersoek

Mmusi Maimane, parlementêre leier van die DA, is een van drie LP’s wat ondersoek word vir beweerde onparlementêre gedrag, het Sapa berig.

Baleka Mbete, Speaker, het die parlementêre komitee oor regte en voorregte gevra om Maimane, Mike Waters, die adjunkhoofsweep van die DA, asook Bertha Mabe, ʼn ANC-LP, te ondersoek.

Mbete het gesê die DA-leier het ‘n onparlementêre opmerking gemaak in die Nasionale Vergadering op Donderdag 13 November 2014, en sy daaropvolgende optrede, is na die komitee oor regte en voorregte verwys vir oorweging ingevolge artikel 194.

Chaos het op 13 November in die Nasionale Vergadering uitgebreek.

Maimane is deur Mbete beveel om te sit maar hy het geweier. Waters is beveel om die Nasionale Vergadering te verlaat maar hy het ook geweier.

Die sitting het geëindig nadat die polisie ingestorm het en ʼn EFF-LP van die podium verwyder het nadat sy glo geweier het om haar opmerking dat “president Jacob Zuma die grootste dief in die wêreld is”, terug te trek.

Mabe word daarvan beskuldig dat sy op 16 September tydens ʼn debat oor ʼn mosie van wantroue in Mbete, glo “bloody bastards” gesê het terwyl sy die podium verlaat het.

Zille oorweeg koalisie met ANC

Zille se ondersteuners in Bekkersdal
Zille se ondersteuners in Bekkersdal

Aangesien daar van Helen Zille se beloftes om Gauteng oor te neem dadels gaan kom volgens die jongste syfers, oorweeg die DA ‘n koalisie met die ANC, het die DA-leier Donderdag gesê.

Helen Zille sal die wedloop vir Suid-Afrika se rykste provinsie na verwagting ver verloor, maar sy oorweeg tans ‘n koalisie met die regerende party in die provinsie.

Die DA wil duidelik die opkoms van die EFF gebruik om vir hulself posisies en portefeuljes in die ANC te beding. Dit is nie meer duidelik hoe die party die ANC sogenaamd gaan teenstaan oor beweerde korrupsie met hul jongste koalisievoorstelle nie.

Daar heers groot druk op die DA om hul beloftes van posisies aan swart lede op die kandidatelys na te kom en Zille sien samewerking waarskynlik as ‘n manier op dié kopseer op te los.

‘n Lae stempersentasie in Gauteng sou die DA effens bevoordeel het, maar dit blyk dat die kiesers in groot getalle gaan stem het, wat die ANC sal help om hul meerderheid te behou.

Pansy Tlakula, die voorsitter van die Onafhanklike Verkiesingskommissie het bevestig dat die uiters hoë opkoms in stedelike gebiede ‘n “dringende uitdaging” vir die OVK inhou.

“Dit moet onthou word dat ons die hoogste aantal geregistreerde kiesers van 25,3 miljoen in Suid-Afrika se geskiedenis het,” het Tlakula in Pretoria gesê.

Onder diegene wat as kiesers geregistreer het, was 634.000 sogenaamde “born frees”, kinders wat gebore is na die einde van apartheid.

Kommentators het voorspel dat ‘n hoë opkoms kiesers die ANC sal bevoordeel.

Zille het samewerking tussen die DA en ANC in Gauteng in die vooruitsig gestel “om die EFF uit die regering te hou”.

Die nuutste Sunday Times Ipsos-opname het aangedui dat die EFF waarskynlik die derde meeste stemme sal kry in Gauteng.

Die ANC het Gauteng gemaklik in die 2009-verkiesing ingepalm met 64,76 % van die provinsiale stemme teenoor die DA se 21,27 %.

Die ANC sal na verwagting 60% van die stemme of meer in Gauteng kry, volgens ‘n Ipsos-opname van vroeg in April. Slegs 29,2% het aangedui dat hulle vir die DA in Gauteng sal stem.

Desnieteenstaande het die DA aan kiesers vertel dat hulle ‘n goeie kans staan om in Gauteng te wen.

Die ANC-woordvoerder en Nasionale Uitvoerende Komiteelid Jackson Mthembu het gesê daar is tans geen sprake van ‘n koalisie nie.

Die EFF-leiers het Woensdag ook gesê hulle sal nie oorweeg om ‘n koalisie in Gauteng aan te gaan nie.

Hoewel stem glad verloop het in die belangrikste gebiede, was die verkiesing nie sonder voorvalle nie. Die OVK het gesê dat 97 mense, insluitende verkiesingsbeamptes, in hegtenis geneem is vir ongerymdhede.

Zindzi Mandela se man, voormalige MK-soldaat Molapo Motlhajwa, is in hegtenis geneem nadat hy na bewering probeer het om die polisie te dwing om hom in ‘n operasionele kiessentrum in Noordwes toe te laat.

‘n Woordvoerder van die polisie, brigadier Thulane Ngubane het gesê die verdagte wat gewapen was, het daar opgedaag in ‘n SANW-voertuig.

In Bekkersdal aan die Wes- Rand, het betogers klippe na die polisievoertuie gegooi en OVK-tente op die vooraand van die verkiesing aan die brand gesteek.

Meer as 40 mense is in hegtenis geneem in verband met ‘n brand by ‘n stemlokaal in die Mandlazini-gebied naby Richardsbaai aan die KwaZulu-Natalse noordkus.

Die groep van 300 het Dinsdag saam oproerig geraak en die gemeenskapsaal, wat as stemlokaal gebruik sou word, aan die brand gesteek.

Kiesers moes onder polisietoesig hul kruisies trek en die wat nie wou stem nie, het buite die stemlokaal die stemmers gekoggel.

Die stemtellery by al agt stempunte in Lorraine en omliggende gebiede buite Tzaneen in Limpopo is afgehandel nadat die stemmery meer as vier ure vertraag is toe die polisie en die OVK-beamptes nie die stemlokale weens oproer kon bereik nie.

Min kiesers het op stemdag opgedaag. Die situasie in die gebied het Donderdag na kalm teruggekeer.

Creecy, DA, EFF doodstil oor skoolkinders wat aan oproer deelneem

childriotSkoolgaande kinders se betrokkenheid by gewelddadige protes wat tans Gauteng teister, is ’n groot bron van kommer.

Dit bemoeilik ook die SAPD se taak om orde te herstel aansienlik.

Die Gautengse LUR vir onderwys, Barbara Creecy, is egter doodstil oor die feit dat skoolkinders aan die oproer deelnaam.

Protesoptrede in dié gebiede gaan glo oor swak dienslewering, maar sommige ontleders meen die DA sowel as die EFF speel ‘n rol om ook kinders tot gewelddadige optrede aan te hits.

Dit is ‘n resep wat voor 1994 gewerk het om die land onregeerbaar te maak en waarmee die DA-leier, Helen Zille, goed bekend is en dikwels oor spog.

Daar was in 2014 reeds nege, moontlik tien, noodlottige skietvoorvalle waarin die polisie betrokke was.

Die aantal betogings wat tot geweld lei, het ook toegeneem. Onbekwame raads­lede wat nie hul werk doen nie, word uiteindelik die polisie se probleem.

In ’n voorlegging wat die ouditeur-generaal (OG) Woensdag voor die staande komitee oor openbare rekenings (Skoor) gelewer het, sê die OG dat tot 93% van nasionale staatsdepartemente nie voldoen aan finansiële regulasies en beheermaatreëls nie.

Dit het daartoe gelei dat staatsinstellings meer as R30 miljard gemors het, en veral die departemente van gesondheid en onderwys was die grootste sondaars.

Brig. Neville Malila, Gautengse polisiewoordvoerder, het Khutsong, Bekkersdal en Roodepoort, sowel as Bronkhorstspruit as brandpunte geïdentifiseer.

Hy het die misdadigheid en vandalisme van die oproeriges veroordeel en gesê die opstande plaas kwaai druk op die polisie se hulpbronne.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Gauteng moes die afgelope drie maande op 569 protesaksie reageer, waarvan 122 geweld­dadig was.

Die minister van polisie, Nathi Mthethwa, het vroeër gesê in 2013 is die polisie ingeroep by meer as 13 000 betogings waarvan 1 882 tot geweld gelei het.

Belangepolitiek, beginselpolitiek of geraaspolitiek

 

Max se geweeklaag oor die verregsing

 

Met die ANC wat so ‘n oorweldigende meerderheid in die parlement en die meeste provinsiale wetgewers het, is dit te wagte dat opposisiepolitiek op verskillende maniere sal moet improviseer om ‘n invloed (ten goede vir die land) te kan uitoefen.

Gister spreek die Afrikaanse Sondagkoerant, Rapport, hom uit teen wat breedweg belangepolitiek genoem kan word ten gunste van “tipiese” opposisiepolitiek waar foute van die regerende party uitgesnuffel en aan die groot klok gehang word.

Daar is natuurlik in beginsel niks verkeerd met die beginsel nie – want in beginsel is ‘n opposisieparty en opposisiepers wat foute uitsnuffel die belangrikste wapens teen magsmisbruik en korrupsie. Trouens, daar kan min twyfel wees dat die verlammende uitwerking van politieke korrektheid ruim bygedra het tot die mate waarin die land se wiele aan die nate loskom.

(Die ANC het immers nie korrupsie uitgevind nie, net vervolmaak).

Belangepolitiek in die nuwe Suid-Afrika is grootliks gebore uit die grondwetlike leemtes van die huidige grondwet. Die liberaliste kan nou maar die lofliedere oor die “wonderlike” grondwet aanhef tot die tandemuis oom olifant se gewisselde tand weggesleep kry, ‘n liberale grondwet was nog nooit vir ‘n heterogene samelewing ontwerp nie – daarvoor is daar tallose meer moderne benaderings wat middelsoekende en middelpuntvliedende kragte ondervang.

Belangepolitiek in ‘n liberale grondwet is nie ‘n ideaal nie. ‘n Voor die hand liggende leemte is dat die reg tot belangepolitiek uitsluitlik van ‘n toegif van die regerende party afhang – nie van ‘n reg daartoe nie.

Stellings soos “ons sal jul stem wees” het min of meer dieselfde paadjie as die “wigte en teenwigte” geloop. Dr. Pieter Mulder se adjunk-ministerskap word nie oral, selfs in eie geledere, ewe goed ontvang nie, ten spyte daarvan dat die landbou waarskynlik nie nog ‘n kabinetsramp in die liga van Dirk du Toit en Lawwe Lulu sou kon oorleef nie.

Die punt is, die debat hieroor is nog lank nie voltrek nie.

Naasliggend hiertoe is die kwessie van beginselpolitiek.

Beginselpolitiek kan nie losgemaak word van sy ondersteunigstrukture soos die media nie. Dit is ‘n veld vol slaggate en teenstrydighede.

Wat beginselpolitiek betref, is dit ‘n feit soos ‘n koei dat ‘n party en sy ondersteuningstrkture nie alles vir almal kan wees nie, veral wanneer aan bewind kom ernstig in die oog gehou word.

Juis omdat die DA hom in hierdie opsig so uitstekend vir ‘n toffie uitgee, word kortliks by dié party stilgestaan:

– Die DA laat keusevryheid toe oor sake soos aborsies op aanvraag, die doodstraf en gay huwelike. In hierdie opsig is die DA effek uniek in die liberale dampkring deurdat Liberaal-internasionaal, waarvan die DA ‘n lid is en ‘n ondervoorsitterskap hou, nie dié keusevryhede bied nie. Die dualisme is egter net iets wat houdbaar is solank ‘n party in opposisie is – wanneer die party aan bewind kom moet keuses gemaak word, en dan kan die helfte of meer van sy ondersteuners met ‘n beleid opgesaal sit waarteen hulle ernstige beginselbesware het. Dit bied egter ook terwyl dit in opposisie is, probleme. Enkele jare gelede het einste Dianne Kohler-Barnard wat met haar *&^% parlementêre vry sê in die sop was, in ‘n verklaring ‘n voorstel van die destydse polisiekommissaris dat prostitusie tydens die 2010-sokkertoernooi gewettig word, ondersteun. Op dieselfde dag het die DA, by monde van sy destydse Oos-Kaapse leier en nou parlementêre hoof, Athol Trollip, ‘n verklaring uitgereik waarin Selebi se voorstel op morele gronde sterk afgekeur word.

– Vandag berig Rapport op sy voorblad oor die DA-leier, Helen Zille, wat ‘n gebedsaamtrek van Angus Buchan bygewoon het (dr. Mulder was ook teenwoordig). Van die hoofelemente was “goddelose wette” en die feit dat God nie in die grondwet erken word nie. Rapport skep ‘n positiewe assosiasie van Zille met die saamtrek, ten spyte daarvan dat haar party sterk gekant is teen die opdra van die grondwet aan die Allerhoogste, en twee van haar LP’s, Lindiwe Mazibuko en Annelie Lotriet, die afgelope week verklarings uitgereik het waarin morele waardes sekondêr en selfs teenstrydig met hul (en die DA) se liberale waardes gestel word.

– Tydens die debakel rondom die Reitz-vier en die destydse kampusverkiesings by Kovsies waar die DA met volle oorgawe deelgeneem het, het die destydse parlementêre leier van die DA, Sandra Botha, ‘n mediaverklaring in die beste liberale tradisie uitgereik, wat, sou die Volksblad dit gedra het die DA oneindige skade sou berokken het. Die media het die DA egter teen die DA self beskerm. Ook ten opsigte van die Lotriet – Mazibuko – verklarings is die DA deur die media taamlik effektief teen die DA beskerm.

Word ‘n objektiewe, omvattende toets eendag gedoen oor hoeveel Suid-Afrikaners werklik hul kruisies in ooreenstemming met hul beginsels trek, sal dit waarskynlik ‘n skokkende uitslag oplewer. Uit die dae van die Smelters en Gesuiwerdes kom die storie uit die Noordweste van die toehoorders by ‘n Nat-vergadering wat met alle geweld ‘n SAP-vergadering in dieselfde dorp wou gaan opbreek. Die droë spreker is naderhand warm onder die vraag, en toe hy weer met ek “Ek sê, ons los hierdie vergadering en gaan d*&nder die Sappe!” uit die gehoor onderbreek word, wil hy woedend weet: “Wil jy nou regtig dink jy gaan ‘n SAP regged&^%nder kry?”

“Wat, ek was ‘n SAP en hoe het ek reggekom? Ek is regged&^nder!” Ek sê weer, ons los hierdie vergadering en gaan d*&nder die Sappe!”

Hiermee het die spreker sy oorlog verloor. Jare later het Johnny de Lange in die parlement vir ‘n woeste haakhou gekoes en toe teruggeslaan en dr. Manie Schoeman met ‘n voltreffer tot binne-in die ANC gemoker. Soms gebeur die “omskakeling” minder opsienbarend soos om bloot op te hou “om jul stem” te wees.

Dit skep die indruk dat die politiek nie die natuurlike woonplek vir beginsels is nie, terwyl die demokrasie, ironies, op die beginsel van beginselpolitiek gebou is.

Geraaspolitiek, is ewe problematies.

Hierdie teenstrydighede kom gereeld na vore in die skryfsels van Max du Preez en kommentators uit sy dampkring. Rapport, met sy groot voorliefde vir Max, bepleit vandag juis die manifestasie van opposisiepolitiek in geraaspolitiek. Waarskynlik weens die jeugdigheid van die mense nou aan die stuur word die pragmatiese problematiek hiervan misgekyk. Met die vorige verkiesing het Helen Zille se aanslag teen Jacob Zuma later nie saak gemaak of die feite korrek of dit in beginsel die regte benadering is nie, dit het ‘n swart – wit verdelingslyn sterk geaksentueer en uiteindelik gemaak dat swart kiesers hulle in feitlike eenparigheid agter die ANC gaan skaar het – waarskynlik tot die erge nadeel van Cope. Dié surigheid het ook nie sommer net na die verkiesing verdamp nie, en taamlike voetwerk agter die skerms was nodig om ‘n werksverhouding tussen Zuma en Zille weer op die been te kry.

Maar laat dit aan Max oor om die dualisme onbedoeld uit te lig. Hy soek in Saterdag se bylaag oudergewoonte die fout weg van die liberalisme, en kies, voorspelbaar die regses. Hiermee val hy by ‘n bestaande koor in wat nou kliphard mense probeer oortuig dat om ‘n misdaadslagoffer te wees, nie beteken ‘n mens moet deel van wat hulle ‘n “verregsing” noem, te wees nie.

Of selfs dat gatvolheid vir korrupsie en swak dienslewering nie rede tot verregsing is nie.

Dit is dislojaal teenoor Suid-Afrikanerskap, word opgegee. Die komende sokkertoernooi word ruim bygesleep en die “verregste” Afrikaners en ander Suid-Afrikaners word daarvan beskuldig dat hulle wil sien die toernooi moet misluk (en bymotiewe ingelees soos dat dit is omdat dit “deur swart mense gereël word.”

In hul ywer om hierdie bog, twak en onsin kwyt te raak, word die reg op meningsvryheid in effek net vir die liberaliste gereserveer, maar ‘n baie belangrike aspek – wat al deur verskeie onafhanklike kommentators soos ook tydens die Stellenbosse woordfees uitgelig is, word geïgnoreer: “Suid-Afrikaners wat hul monde oor die leemtes in die aanloop tot die sokker uitwys is nie dislojaal teenoor die land nie, dit is JUIS (hoofsaaklik) die lojale Suid-Afrikaners wat die leemtes raaksien en bekommerd raak dat ‘n onderstandaard-poging opgedis word wat skadelik vir die land sal wees.”

Wie, wat enigsins trots op sy land is, wil graag sien dat sy land skade ly deur die buitelandse besoekers wat beroof word? Of vermoor word?

Binne enkele dae is twee buitelanders in Suid-Afrikaanse plaasaanvalle in Limpopo vermoor, die een, die Belg, uiters barbaars. As Suid-Afrika diplomatieke notas van simpatie gestuur het – al was dit net ter wille van die protokol – is dit verswyg. Terwyl trotse Suid-Afrikaners nie weet waar om hul koppe hieroor in te steek van skaamte nie, is Max se beste reaksie om Suid-Afrikaners te kritiseer omdat aanvalle op kleinhoewes by plaasaanvalle tel. Vir ingeval Max, wat dalk op ‘n groterige Vrystaatse plaas by Kroonstad grootgeword het, dalk neersien op die maplotters, sal dit hom loon om te gaan oplees wat die wetlike indeling van kleinhoewes is – naamlik landbou-eenhede. Dis boonop die regering wat mens net mag kritiseer as jy liberaal is (anders is jy dislojaal teenoor die land) se beleid om landelike armoede te verlig deur die skepping van klein landbou-eenhede (Zuma het dit nog in staatsrede ook genoem).

In Europa en die VSA het die ongebreidelde liberalisme al ‘n dekade of meer gelede hul “hoogtepunte” beleef, en op wisselende maniere in die Christen-Demokrasie, en nou regse politiek begin nesskop. In Suid-Afrika het, selfs na bykans ‘n miljoen wettige aborsies later, nog nie dié sensasie so uniformig nesgeskop nie. Dit manifesteer wel in skynbaar losstaande verwikkelings, of laertrekkery soos Jan-Jan Joubert vandag weer na die verwikkelinge van die US-raadsverkiesing verwys.

Max delf nog dieper terug in sy kritiek op die “verregsde” Afrikaners, deur neerhalend te verwys na die persepsie van kakie en kappie.

Dit sal Max loon om bietjie te gaan delf in die hoofartikels van Nasionale Pers oor die Boeremag-lede wat nou teregstaan. Hierin is melding gemaak van ‘n nuwe generasie hoogs intelligente en goed-opgeleide mense. Ongeag hoe ‘n mens van hul oortuigings mag verskil, is karikatuurvorming rondom dom en onopgevoed net so onvanpas as om alle liberaliste onder dieselfde kam van naïwiteit te skeer as die negrofiliste wat byvoorbeeld nou van Koning Mosjesj 1 ‘n filantroop maak sonder om op sy rol in die aanstigting van die Basotho-oorloë te wys. Of die liberaliste wat Bram Fischer as filantroop voorhou sonder om die Stalin-vergrype uit dieselfde Komintern-tydsvlak te verreken.

Voor Max sulke karikature van “regse” Afrikaners maak moet hy miskien net eers kyk waar hulle hul bevind. Trouens, Jan-Jan het al gemaan dat die DA met ‘n probleem opgesaal kan sit oor die baie ondersteuners in die party wat eintlik ideologies meer tuis in die Vryheidsfront Plus sou tuishoort. Christen-demokratiese partye in Suid-Afrika het nie net die frustrasie dat Suid-Afrikaners, sou hulle in Europa gewees het vir CDP’s sou stem, hier nie net nie vir die CDP’s stem nie, maar hulle vierkantig in die DA en ander partye bevind.

Die redes hiervoor is kompleks, maar dit kan wees dat die DA (en ander partye) se pogings om alles vir almal te wees, tog ook ‘n impak het. Die “instink” om die DA as grootste voertuig teen die ANC te steun, speel stellig ook ‘n rol.

Die punt is, is iemand wat sielsalig onbewus daarvan is dat die (liberale) party aan wie hy sy steun en stem opdra, met sy eie oortuigings weinig in gemeen het, nou minder “ploerterig” as die persoon wat as “ploerterig” afgemaak word bloot omdat sy oortuigings hom so ver kry om sy stem by ‘n party te gaan trek wat uit die “verregsing” gebore is?

Het Max byvoorbeeld meer as net ‘n paar sekondes met ‘n oop gemoed beoordeel of Jakes Gerwel nie dalk in die verlede met sy naïewe prul oor die ANC mildelik tot die “verregsing” bygedra het nie?

гольфы девочки 8 летФильчаков