‘n Hart van goud kos hom sy lewe

Hennie de Vries is verlede Woensdag op pad huis toe op die N1 in Maraisburg, Roodepoort, doodgeskiet toe hy ‘n passasier uit ‘n brandende motor wou red.

Al was dit laat in die nag, het hy stilgehou. Voordat hy uit sy motor kon klim, het iemand vier koeëls deur die voorruit gepomp.

Sterwend, vooroorgesak in sy sitplek, het hy probeer om sy aan vrou ‘n SMS-boodskap te stuur, maar kon net daarin slaag om “IL” te stuur voordat hy gesterf het. Hy is vier keer geskiet.

‘n Gebroke Cindy de Vries het Woensdag gesê: “Ek dink hy het probeer om te skryf: ‘Ek is lief vir jou’.”

Cindy het angstig probeer om haar man te bel toe hy nie opdaag nie. Sy het sy selfoon 28 keer geskakel.

Toe sy uiteindelik daarin slaag, was dit ‘n polisiebeampte wat geantwoord het en haar aangesê het om by die Langlaagte-polisiekantoor aan te meld.

Daar het sy ontdek dat haar man doodgeskiet is.

Die man wat De Vries wou help was Sam Moloto, ‘n voormalige polisie-offisier in die eenheid teen georganiseerde misdaad. Moloto was glo skatryk en in besit van talle luukse motors.

Moloto is doodgeskiet terwyl hy in sy motor gesit het. Die motor is aan die brand gesteek.

De Vries was nie die enigste persoon wat aangeval is terwyl hy probeer het om Moloto te help nie.

‘n Polisiewoordvoerder luitenant Kay Makhubela het gesê daar is ook op ‘n ander motoris geskiet wat stilgehou het om te help, maar het daarna weggejaag.

Die gewapende mans het glo in die gebied gebly om te verseker dat Moloto nie hulp kry nie.

“Dit was Hennie. Hy het ‘n hart van goud gehad,” het Cindy gesê.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Ryk sakeman van Johannesburg in hof oor gesteelde koperkabels

‘n Johannesburgse sakeman, wat in ‘n huis van R10m in die spogwoonbuurt Atholl woon, het gister in die Roodepoortse Landdroshof verskyn op aanklag van gesteelde koperkabels. Hy word saam met vier medepligtiges aangekla.

Na bewering het die sakeman gesteelde koperkabels by sy skrootwerf aangekoop. Hy word daarvan verdink dat hy aan die hoof staan van ‘n hele sindikaat wat koperkabels steel.koperkabelsHy besit ‘n skrootwerf in Roodepoort aan die Wes-Rand waar hy saam met die vier ander aangeklaagdes in hegtenis geneem is. Hy het gepoog om die polisiebeamptes met ‘n bedrag van R30 000 om te koop, maar die beamptes het geweier om dit te aanvaar en hom aangekeer.

Volgens sekere bronne is die gesteelde koperkabels verwant aan die waterskaarste wat Johannesburg verlede maand getref het. Inwoners was omtrent drie weke sonder water ná ‘n kragonderbreking weens kabeldiefstal en vandalisme by ‘n groot pompstasie.

Creecy, DA, EFF doodstil oor skoolkinders wat aan oproer deelneem

childriotSkoolgaande kinders se betrokkenheid by gewelddadige protes wat tans Gauteng teister, is ’n groot bron van kommer.

Dit bemoeilik ook die SAPD se taak om orde te herstel aansienlik.

Die Gautengse LUR vir onderwys, Barbara Creecy, is egter doodstil oor die feit dat skoolkinders aan die oproer deelnaam.

Protesoptrede in dié gebiede gaan glo oor swak dienslewering, maar sommige ontleders meen die DA sowel as die EFF speel ‘n rol om ook kinders tot gewelddadige optrede aan te hits.

Dit is ‘n resep wat voor 1994 gewerk het om die land onregeerbaar te maak en waarmee die DA-leier, Helen Zille, goed bekend is en dikwels oor spog.

Daar was in 2014 reeds nege, moontlik tien, noodlottige skietvoorvalle waarin die polisie betrokke was.

Die aantal betogings wat tot geweld lei, het ook toegeneem. Onbekwame raads­lede wat nie hul werk doen nie, word uiteindelik die polisie se probleem.

In ’n voorlegging wat die ouditeur-generaal (OG) Woensdag voor die staande komitee oor openbare rekenings (Skoor) gelewer het, sê die OG dat tot 93% van nasionale staatsdepartemente nie voldoen aan finansiële regulasies en beheermaatreëls nie.

Dit het daartoe gelei dat staatsinstellings meer as R30 miljard gemors het, en veral die departemente van gesondheid en onderwys was die grootste sondaars.

Brig. Neville Malila, Gautengse polisiewoordvoerder, het Khutsong, Bekkersdal en Roodepoort, sowel as Bronkhorstspruit as brandpunte geïdentifiseer.

Hy het die misdadigheid en vandalisme van die oproeriges veroordeel en gesê die opstande plaas kwaai druk op die polisie se hulpbronne.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Gauteng moes die afgelope drie maande op 569 protesaksie reageer, waarvan 122 geweld­dadig was.

Die minister van polisie, Nathi Mthethwa, het vroeër gesê in 2013 is die polisie ingeroep by meer as 13 000 betogings waarvan 1 882 tot geweld gelei het.

Aanklagte teen vermeende plaasmoordenaar teruggetrek

plaasmoordeAanklagte teen ‘n vermeende plaasmoordenaar is Donderdag teruggetrek.

Dit is een van drie swart verdagtes wat daarvan beskuldig word dat hulle Sarel Pretorius op die plaas Roodepoort naby Barkly-Oos vermoor het.

‘n Klerk van die hof sê onvoldoende bewyse teen Thandeka Mthiyane (33) het veroorsaak dat die aanklagte teruggetrek is in die landdroshof op Barkly-Oos.

Die saak teen die ander twee beskuldigdes, Bongani Nojokwe (31) en Vumile Dingalibala (28) is tot 13 Februarie uitgestel en die twee sal in polisie-aanhouding bly.

Nojokwe en Dingalibala is in Gauteng vasgetrek na ’n intensiewe ondersoek. Pretorius is twee weke gelede vermoor en sy vrou is in die badkamer toegesluit tydens die aanval.

Mthiyane het saam met die twee verdagtes in die hof verskyn as ’n medepligtige van Gauteng.

Tydens die inhegtenisneming is daar op R74 000 kontant en twee 9 mm-pistole beslag gelê.

DA probeer stemme werf uit geweld in Hoofrifgebied

roodepoortDie DA het ‘n geleentheid vir stemwerwing raakgesien in South Deep in Roodepoort aan die Wes-Rand nadat een persoon Donderdag doodgeskiet tydens ‘n oproer oor uitsettings.

Die oproerige is na bewering deur die polisie in die bors geskiet nadat inwoners geprotesteer het oor uitsettingsbevele deur Dino Properties wat hul teen die einde van die maand uit hul huise sal dwing.

Tshepo Babuseng is na bewering in die bors geskiet toe hy en ‘n groep oproermakers op ‘n wetstoepassingsbeampte afgestorm het. Hy is dood verklaar met sy aankoms by die hospitaal.

Verlede week het vier mense het gesterf in botsings met die polisie op Brits in Noordwes.

Die inwoners sê hulle het nie ‘n heenkome as hulle teen Vrydag 31 Januarie hul woonplekke moet ontruim nie. Hulle het die strate ingevaar en begin klippe gooi na verbygaande motoriste nadat uitsettingsbevele op hulle beteken is.

Na gister se noodlottige botsing met wetstoepassing, het die ontevrede gemeenskap onder aanmoediging van die DA gesê verteenwoordigers van die regering verwaarloos hulle.

Die wyksraadslid is glo afwesig en daar is kragvoorsieningsprobleme. Dit was nie voorheen geopper nie. Die DA het die dood van die oproermaker en klagtes aangegryp en sal ‘n hofinterdik aanvra om die uitsetting te keer.

Dié party probeer stemme werf deur die gemeenskap se griewe te oorbeklemtoon en hulle tot onverantwoordelike gedrag aan te spoor by monde van die premierskandidaat in Gauteng, Musi Maimane.

Maimane sê hy het die gebied op versoek van van die gemeenskap besoek.

 

Klipgooiers maak Hoofrifweg, Roodepoort onbegaanbaar

burningtyres‘n Woordvoerder van die Johannesburgse Metropolisie, Wayne Minnaar het motoriste afgeraai om Hoofrifweg en Corlettweg in Roodepoort te gebruik.

Protesoptrede deur die inwoners van die Princess-woonbuurt kan die roete onveilig maak, het hy gesê. Oproermakers bestook verbygaande voertuie met klippe.

Die betogers eis beter dienslewering en eis dat die regering vir hulle HOP-huise bou.

Hulle is ontevrede oor ‘n gemeenskaplike kraan wat deur talle gedeel moet word en geen behoorlike fasiliteite vir sanitasie nie.

Motoriste word aangeraai om Ontdekkersweg as ‘n alternatiewe roete te gebruik.

Talle dakloos na brand 40 plakkershutte verwoes

Raadslid Dewes bou mooi plakkershutte
Raadslid Dewes bou mooi plakkershutte

Sowat 50 mense is dakloos gelaat nadat ‘n brand by die Rugby Club-lokasie in Roodepoort uitgebreek het, het die Johannesburgse nooddienste gesê.

Robert Mulaudzi, woordvoerder, het gesê die brand, wat omstreeks 05:00 uitgebreek het, is vermoedelik veroorsaak deur ‘n foutiewe elektriese toestel of ‘n kers. Altesaam 40 plakkershutte is verwoes.

Die DA het verlede jaar vrywilligers en besighede genader vir skenkings nadat ‘n brand ook tientalle plakkershutte in die lokasie vernietig het. Raadslid David Dewes het gesê omdat die regering nie huise voorsien nie, sal hy deur privaatondernemings werk om sy eie “noodplan” vir behuising te skep.

Die DA het die media op 25 Junie 2012 op ‘n begeleide toer geneem om te wys wat gedoen is asook om al die planne in die pyplyn te verduidelik vir splinternuwe huise. Die plakkers was baie in hul skik oor hul nuwe wonings.

Die eenparige terugvoer van die plakkers was dat hulle baie dankbaar en trots is.

Mulaudzi het gesê dit is die tweede brand in die laaste 24 uur. Altesaam 25 gesinne is Donderdag dakloos gelaat nadat 17 plakkershutte in Diepsloot in puin gelê is. – Sapa/praag