Mooters, mense van die Moot, het Saterdag self ingespring om die Trimpark op te ruim en ongewenste elemente te verwyder, het Rekord Moot berig.
Clinten Sulter, lid van die Moot-gemeenskapsinisiatief (MootGi), sê inwoners en lede van Moot Sektor 2 GPF het die middag omstreeks 15:00 by die Trimpark bymekaargekom en aan die werk gespring.
“Een van die grootste probleme is dwelms in die Moot. As dit uit die weg geruim kan word, behoort misdaad ook te daal.”
Sulter sê die lede het ook profiele oor die sluipslapers geskep wat in die park bly en ‘n noukeurige oog sal in die toekoms gehou word oor hul doen en late by die Trimpark.
“Daar is baie onwettige stortings van afval en ons beoog om die skuldiges te betrap.”
Hy sê baie rommel, tekens van dwelmverkope en gesteelde koperkabels is in die park gevind.
“Die opruiming van die Trimpark was ‘n groot sukses en ons beplan gereelde opvolg-aksies,” sê Sulter.

