Angus se dilemma

Dit is moeilik om oor Angus te skryf. Mense koppel hulle persoonlike ervaring aan hom en is daarom geneig om hom te probeer beskerm om sodoende indirek hulle persoonlike ervaring te beskerm. Dit is ‘n baie gevaarlike plek om te wees, want mense is geneig om minder oop te wees vir rede, wanneer emosie betrokke is. Hierdie artikel het nie ten doel om jou persoonlike ervaring van 22 April af te breek of in gedrang te sit nie. Hierdie artikel gaan nie oor jou persoonlike ervaring nie.

Angus het ‘n dilemma. Heel aan die begin het Angus getuig dat die Vader vir hom gesê het daar gaan 1 miljoen mense of meer wees. Dit was die doelwit vir die byeenkoms. Uit die bewyse van die fotos, as mens die oppervlak bereken en vergelyk met die hoeveelheid mense, sowel as die getal voertuie wat deur die tolhek op die N1 is, kan mens redelik akkuraat bepaal dat daar nie 1 miljoen mense was nie. ‘n Ander manier om dit te bevestig is die feit dat daar net 4 miljoen blankes in SA is. Die saamtrek was hoofsaaklik bygewoon deur blanke mense. So as daar ‘n miljoen mense was sou dit beteken dat 1 uit elke 4 blankes in SA daar moes wees. Dit is tog duidelik dat dit nie die geval was nie.

Die eerste reaksie van mense wat nie kan onderskei tussen hulle persoonlike ervaring en Angus nie sal wees om te vra wat maak dit saak? Vir jou persoonlike ervaring maak dit nie saak nie. Vir die persoon wat daar was en wat geestelik verryk is deur die geleentheid maak dit nie saak of daar 4 of 4 miljoen mense was nie. Weereens moet ons onderskei tussen die persoonlike ervaring, wat nie hier bevraagteken word nie en Angus.

Die dilemma wat Angus, het is hy kan nie erken daar was nie ‘n miljoen mense nie. Omrede hy van die begin af getuig het dat die Vader vir hom gesê het daar gaan 1 miljoen en meer mense wees, moet hy nou hou by sy storie. Indien hy erken dat daar nie 1 miljoen mense was nie, beteken dit dat of hy of die Vader valse getuienis gelewer het. Van die begin af het hy vir almal vertel dat hy twee boodskappe van die Vader gekry het naamlik “It’s Time” en “1 million” of “million”.

In hierdie video getuig hy dat die Vader baie duidelik, duideliker as ooit tevore, aan hom gesê het hy moet die plek gereed kry vir 1 miljoen mense.

Op die foto’s op Angus se eie Facebook blaai is dit duidelik dat die plek nie vol is nie. Hy het dit ook baie duidelik gemaak dat sy span baie somme gemaak het oor die logistiek en hulle sou maklik kon sien of daar miljoen mense was bloot oor die manier waarop die logistiek uitgespeel het. Dit is dus nie moontlik dat hy nie geweet het nie.

In die video op hierdie skakel, lank na die byeenkoms, hou hy nogsteeds vol dat daar ‘n miljoen PLUS mense was.

In kort, hy het gesê die Vader het gesê 1 miljoen mense, daar was duidelik nie 1 miljoen mense nie en hy hou aan om dit so te getuig. Hoekom maak dit saak? Om valse getuienis te lewer is sonde. Angus bid dat korrupsie moet stop, maar hierdie daad is niks anders as korrup nie. Nou gaan mense dadelik antwoord, maar almal het sonde. Dit is korrek, maar om te volhard in sonde, bly nogsteeds verkeerd. Daar is geen manier dat sy span nie al teenoor hom erken het daar was nie ‘n miljoen mense nie. Met ander woorde, Angus kies om valse getuienis te lewer.

Die realiteit is dat elkeen wat verkondig dat daar ‘n miljoen mense was, wat hierdie foto gesien het of wat ‘n basiese som gaan maak het, deel in hierdie valse getuienis. Deur valse getuienis te lewer is julle besig om die geleentheid te diskrediteer net soos wat Angus homself diskrediteer elke keer as hy vals getuig. Daar is geen rede hoekom mense valse getuienis moet lewer oor die dag nie. As dit vir jou ‘n geestelike ervaring was, hoekom dan dit besmet met valse getuienis oor getalle. Dit maak nie saak hoeveel mense daar was nie…. Behalwe vir Angus…. Want Angus sit met ‘n dilemma.

Brief: 22 April, ‘Uncle Angus’ en ‘n onseker tyd

Na aanleiding van die hewige debat oor “Uncle Angus” wat op sosiale media aan die gang is, kan ek nie verhelp om oor ‘n paar dinge te wonder nie. Dit is duidelik dat hierdie debat baie mense erg ontstel aan beide kante en intussen bloei daar seker weer vanaand ‘n boer ongesiens in die agtergrond.

Ek ken nie vir “Uncle Angus” nie. Ek is nie hier om ‘n oordeel te vel oor die man in die middel van die storm nie. Dit kom my nie toe nie. Hierdie is ‘n eerlike poging om objektief na die situasie rondom die saamtrek te kyk… Zoem-Zoem draai die bye terwyl ek my kop dieper in die bynes steek…

Die eerste vraag is hoekom duisende mense 100km, 400km, 1000km sal ry om na die saamtrek te kom? Daar was al baie sulke aksies deur ander mense, maar niemand kon so baie mense trek nie. Kom die mense omdat dit “Uncle Angus” is? Hoekom is dit nie goed genoeg vir duisende mense om daardie dag in jou huis of gemeenskap of plaaslike kerk te bid nie, maar eerder daar waar “Uncle Angus” is? Baie mense reken hy is ‘n ware man van God, maar as dit die argument is, beteken dit indirek dat jou plaaslike geestelike leier nie ‘n man van God is nie? Of is “Uncle Angus” ‘n beter/groter man van God? Is daar trappe van vergelyking? Wat maak “Uncle Angus” beter as die geestelike leier in jou gemeenskap?

Die tweede vraag is of gebed meer kragtig is in ‘n groep? Ek neem aan al die mense wat soontoe gaan, bid by hulle huise ook? Met ander woorde daar is nie meer mense wat gaan bid daardie dag as die vorige dag of die dag daarna nie. Hulle gaan nou net saam op een plek bid. Maak dit ‘n verskil? As gebed kragtiger is in groot groepe, hoekom is die Bybelse opdrag dan om in jou binnekamer te gaan bid?

Die derde vraag is: wat verwag die mense van die 23ste April? Moenie ‘n fout maak om te dink ek dink nie God is in staat om in te gryp en wonders te laat gebeur nie. Ek is oortuig dat Hy op Sy tyd ingryp en uitkoms gee, maar ek kan nie verhelp om te wonder of die mense dink die 23ste April gaan beter wees nie. Indien ons almal oortuig is dat dit die geval is, dat dinge die 23ste April gaan beter wees, hoekom dan so lank wag? Hoekom dan nog ‘n maand se plaasmoorde, verkragtings en ander gruwelike dade laat gebeur? As ons regtig oortuig is dat so aksie dinge kan verander, dan moet ons mos haas maak daarmee?

Op 22 April 1994 was Suid Afrika besig om reg te maak om die ou vlag te stryk, verkiesing te hou en die nuwe Suid-Afrika te betree. Elders in Afrika gebeur die volgende:

April 22, 1994: More than 7,000 Tutsi are murdered at Gatwaro-Kibuye stadium. Interahamwe and members of the army assassinate the sub-prefect of Butare Zéphanie Nyilinkwaya and 14 members of his family. At Sovu convent, 6,500 people are killed with guns, machetes and clubs. A further 500 are trapped in a garage and burnt to death, using petrol supplied by nuns.

(https://inyurabwenge.wordpress.com/2014/10/06/the-real-rwanda-untold-story/)

Nou voor jy van jou stoel afval en aanneem ek maak die afleiding dat die saamtrek aangeval gaan word, haal net eers diep asem. Dit is nie die punt wat ek wil maak nie.

DIe punt wat ek wil maak, is dat terwyl een groep met een idee sit, daar ander groepe is met ander idees. Gevaarlike agendas is besig om kop uit te steek. Lelike, bose dinge is aan die broei en ons gaan heel moontlik nog onbeskryflike boosheid sien en ervaar in ons leeftyd. Gaan ‘n dag van gebed dit kan omdraai? Ek is dalk liggelowig of te realisties, maar ek reken die kanse is goed dat daar ‘n boer aangeval sal word na die 22ste April. Ek reken dat daar ‘n lewe geneem sal word in hierdie land na die 22ste April. Ek reken dat die opwinding rondom die byeenkoms vir baie mense van korte duur sal wees as hulle Maandag die koerant optel en sien wat gaan aan in die land…

Is dit dan “Uncle Angus” se skuld? Het ons dan nie ver genoeg gery vir die saamtrek nie? Het ons dan nie hard genoeg gebid nie? Is ons geloof te klein?

Nee.

Ek is van mening dat ons mense op soek is na ‘n “quick-fix”. Ek dink ons mense sien “Uncle Angus” se saamtrek in baie dieselfde lig as wat ‘n boemelaar ‘n loterykaartjie sien. Dit is ‘n kans. As dit werk, dan het ons vrede in die land op 23 April 2017. Dan is daar nie meer boosheid oor nie en ons almal lewe lekker en verdien baie geld en gaan hou vakansies by die see.

Want dan hoef ons nie ons weë te verander nie.

Kom ons maak ‘n Boere-som. As 1 miljoen mense die geld wat hulle sou bestee om na “Uncle Angus” te gaan luister (diesel, koeldrank, padkos, donasie, ens) vat en dit aan ‘n volksorganisasie skenk dan praat ons van R100 miljoen Rand wat skielik aangewend kan word vir die verligting van armoede onder ons mense, beveiliging van plase, werkskepping… Met R100 miljoen bou ons ‘n volkstaat! Maar op Saterdag 22 April gaan daar moonlik ‘n miljoen mense wees wat R100 meer diesel gaan uitry, ‘n koeldrank vir die pad koop, dalk tolgeld betaal en die werklikheid is dat daar moontlik R100 miljoen na besighede soos SANRAL, brandstofmaatskappye, Coke, Wimpy en dies meer sal gaan…

Maar wat is die ander kant van die argument?

Ons mense is vuisvoos en verwilderd en hier is iemand wat aan hulle hoop bied. Hier is iemand wat die verbeelding aangryp en ten minste iets doen. “Uncle Angus” is die naaste aan ‘n leiersfiguur wat daar bestaan vir baie mense. Hier is ‘n man van God wat ten minste iets probeer, so hoekom pla dit ander mense? Wat het dit met enige iemand anders te maak as ek saam met duisende mense wil saambid vir die land?

Kom ons wees nou maar eerlik- ons is maar lekker suurgat oor die storie. Meeste van ons is al langer as twee dekades besig om te baklei vir die volk en een en elke leier betrokke in die stryd ken die gevoel om voor ‘n saal met 20 mense te staan. Hier kom ‘n Engelsman verby en hy trek honderde duisende van ons mense op een dag saam…

Ons is die moer in vir ons eie mense wat met soveel passie en vuur iemand wat nie eers deel van ons volk is nie, ondersteun. Ons is die moer in want hy praat nie eers ons taal nie, maar mense bid saam met hom terwyl ons eie verootmoedigingsaksies geïgnoreer word. Ons is die moer in omdat ons mense hande vol geld in sy bakke gooi, terwyl hulle nie R50 het vir ons aksies om boere te beveilig op plase nie. Ons is die moer in omdat hy al weer vir die land se probleme bid terwyl ons volk soveel nood het en gebed nodig het. Ons is die moer in omdat ons nie weet van enige fondse wat hy al ooit beskikbaar gemaak het vir ons kultuur, taal, voortbestaan nie…

Ons is diep die moer in, maar eintlik nie vir “Uncle Angus” nie… Ons is die moer in vir ons eie mense. Dit voel soos verraad wanneer ons volk elke hand op die ploeg so bitter nodig het om te oorleef en dan ry duisende mense verby om saam met ‘n Engelsman vir die reënboognasie te bid… Ons is bitter oor die tyd, moeite en geld wat ons eie mense so maklik opoffer vir so ‘n saamtrek, maar dan nie R50 het vir ons eie Godgegewe volk nie…

Ons moet daaroor kom. Dit is nie vir ons om “Uncle Angus” en sy volgelinge te oordeel nie. Laat hy die Woord verkondig op sy eie terme, in sy eie taal en op sy eie manier… Dit maak ons tog niks. Laat die mense wat eerder hulle tyd, energie en geld op hom as in ons volk beststee dit doen. Laat ons wat nog altyd baklei het vir ons mense uit ons eie sakke en voor sale met 20 mense in, aanhou om dit te doen, want dit is op ons harte gelê, nie op syne nie.

Dalk net een laaste uitdaging aan die mense wat wel “Uncle Angus” toe gaan. Ek daag julle uit om ná die 23ste April R100 te skenk vir elke boer wat vermoor word op sy plaas aan die volksorganisasie van jou keuse. Dit is een ding om saam met “Uncle Angus” te gaan bid, maar dit is iets anders om regtig betrokke te raak by jou eie mense se toekoms. Dit is maklik om vir die dag of die naweek deur te skiet Bloemfontein toe, maar dit is moeite om in die aand na werk jou gemeenskapsvergadering by te woon. Myns insiens kan ‘n volk nie oorleef as daardie volk nie bereid is om te werk aan die oorlewing nie. As daar nie dade is nie, wat moet ons Vader dan seën?

In goeie sportmansgees belowe ek dan dat as daar in die ses maande na 22 April nie ‘n enkele boer of volksgenoot vermoor word nie, dat ek al “Uncle Angus” se boeke, DVD’s en CD’s sal koop en persoonlik by sy volgende saamtrek sal wees…

Is mos net “fair” of hoe “Uncle Angus”?

— J. S. van der Merwe

Wit ANC-vriend vas vir bedrog

Jacques Nell
Jacques Nell

‘n Wit ANC-sakeman, vriend van EFF-leier Julius Malema en evangeliese aartappelboer Angus Buchan, is in hegtenis geneem oor beweerde bedrog van R9 miljoen.

In 2011 het Jacques Nell, 47, eertydse voorsitter van die Polokwane-sakekamer saam met Malema en ander ANC hoëlui gaan vakansie hou in Italië.

Hy was ook aan Angus Buchan se sy tydens 2011 se Mighty Men-konferensie wat gehou is om wit ontevredenheid dmv godsdiens te bestuur.

Die Valke het Nell Dinsdag in Pretoria gearresteer. Hy staan tereg op twee aanklagte van bedrog omdat hy na bewering vals dokumente verskaf het om finansiering van R9 miljoen van Absa te kry.

Nell is ook bekend as Jabulani by sy swart ANC-vriende Juju, Mathews Phosa en Cassel Mathale, voormalige premier van Limpopo.

Nell het ‘n bedryf besit wat Xerox-produkte verkoop het, maar dit is aan die einde 2012 skielik gesluit.

Review, ’n plaaslike koerant, het berig dat die Nells daarna ’n ski-vakansie in Frankryk gaan hou het terwyl sy werknemers sonder werk gesit het.

Nadat ‘n klagte in 2012 by die Valke ingedien is omdat Nell glo onregmatig tenders van R14 miljoen bekom het, het die ondersoekbeampte ook afgekom op die beweerde bedrog met die Absa-lening.

‘Jammer dat ons leef’

In sy  rubriek Wanneer gaan die Afrikaner koers kry? noem Dan Roodt  beslis interessanthede wat verdere bespreking verdien. Ek dink nie mens kan hedendaagse Afrikaner politiek verstaan as jy nie die politieke psige van vandag se Afrikaner begryp nie.

Dit is my mening dat die Afrikaner se gebrek aan politieke mobilisasie en die amper algehele onvermoë van Afrikanerleiers om hul volk se verbeelding aan te gryp baie meer kompleks as blote swak leierskap is. Die probleem hou eerder verband met die leierskap se wanbegrip van die oorsake rakende die gebrek aan politieke belangstelling deur Afrikaners.

Heelwat gewag is al gemaak van die konsep “wit skuld” en dat dit dan ‘n verlammende uitwerking op Afrikaners sou hê. Ek wil aanvoer dat “wit skuld” nog nooit by Afrikaners bestaan het nie; nie in die verlede nie en ook nie nou nie. Indien dit wel bestaan, is dit maar ‘n blote simptoom, ‘n blote oppervlakkige uitdrukking van ‘n dieperliggende probleem. Skuld is m.a.w. bloot ‘n manifestasie van ‘n baie sterker en onerkende emosie. Andersyds word “moedeloosheid” onder Afrikaners selfs meer dikwels as skuldgevoelens genoem, maar ook in hierdie geval is daar waarskynlik baie meer aan die werk as wat die oog kan sien.  Modeloosheid en Skuld mag albei dieselfde grondoorsaak hê.

Om die Afrikaner se situasie te verstaan, baat dit om daardie pioniersveld in die sosiologie, nl Skaamteteorie te bestudeer. Gaan kyk mens wat die voorste van daardie kenners, Thomas Scheff oor Duitsland ná die eerste wêreldoorlog te se het, dan raak die verklaring vir ons situasie glashelder.

Weereens moet ek Dan Roodt krediet gee dat hy die een is wat die parallel tussen Kemptonpark  en die Verdrag van Versailles getrek het. Soos die Duitsers is Afrikaners ná die gewraakte oorgawe akuut en chronies verneder. Hierdie is die sleutel vir ons huidige dilemma. Afrikaners word nie net gedurig bewus gemaak van die “verskriklike sonde” wat ons deur apartheid gepleeg het nie, maar veral deur Naspers word Afrikanerskap en enige vorm van Afrikaner politieke uitdrukking konstant as ‘n vorm van agterlikheid uitgebeeld. Vele Afrikaners neem dit ter harte. Die vernedering is niks anders as skaamte nie. Dit is die sleutel tot ons huidige problematiek en ek kan eerlik nie sien hoe ons enige vordering kan maak as ons nie hierdie dinamika verander nie. Ek wil so ver gaan om te sê dat hierdie begrip die “heilige graal” van Afrikanerbevryding is.

In die skaamte-woede-siklus, raak die slagoffer/onderdrukte kwaad omdat hy gedurig beskaam word. Dit is hierdie woede wat tot Duitse nasionalisme in aanloop tot die tweede wêreldoorlog gelei het. Ongelukkig vir die Duitsers het die bevryding wat uit hul skaamte-woede-siklus gevolg het weer tot ‘n oorwinning teen hulle gelei, maar dit hoef nie vir ons te geld nie. Eintlik het Afrikaners sedert die vernedering van die Anglo-Boereoorlog reeds deur hierdie siklus gegaan en anders as die ná-eerstewêreldoorlogse Duitsers het ons reeds langdurig met sukses die botoon gevoer.

Kom ons kyk meer in diepte na skaamdinamika. Die deeglike studie van Thomas Scheff, Helen Block Lewis en Suzanne Retzinger wys vir ons dat skaamte op een van twee maniere manifesteer: hetsy bedekte skaamte, hetsy openlike skaamte. Bedekte skaamte lei tot woede. Dit is waar die skaamtelyer die skaamte ontken deur dit eerder te laat omsit in woede. Volgens die skaamteteoretici sal sulke woede weer tot oortreding lei wat weer ‘n nuwe vlaag skaamte sal meebring. Trots is die teenpool van skaamte en kan nie herstel word voordat die skaamtesiklus nie verbreek word nie. Hoewel die Skaamteteoretici meen dat woede weer skaamte sal meebring en sodoende die siklus in stand hou, verskil ek daarmee. Ek reken egter dat waar ‘n onderdrukte volk sigself d.m.v. woede van onderdrukking bevry, daadwerklike trots sal volg. Dus die einde van die skaamtesiklus. Thomas Scheff, ‘n jood van Duitse afkoms, het self familie in die holocaust verloor en sou dus beswaarlik erkenning aan die bevrydende effek van woede gee.

Ek kan met sy familiegeskiedenis simpatiseer, maar moet verskil daarmee dat woede alleen verdere skaamte sal meebring. Dis juis langdurige woede ná die Anglo-Boereoorlog, wat tot Afrikanernasionalisme en die uiteindelike trotse totstandkoming van die 1961-republiek gelei het. Toegegee, sekeres sou argumenteer dat daardie nasionalisme tot apartheid (1948) en dus tot ons verdere beskaming sou lei (want volgens die Skaamteteorie kry die oortreder skaam weens sy oortreding). Dit sou dus ‘n argument teen die herontwaking van Afrikanernasionalisme kon wees.  Die teenargument hiervoor sou wees dat, in ‘n volkstaat, sou ons nie teen minderhede diskrimineer nie en dus sou daar geen oortreding en dus geen skaamte wees nie.

Myns insiens lei die konstante beskaming waaraan Afrikaners blootgestel word, tans, tot openlike skaamte en in ons geval manifesteer openlike skaamte in verskeie gedragspatrone, waaronder die konstante soeke na versoening met die swart onderdrukker (sg “wit skuld”)  tot en met algehele ontrekking van die politiek (sg. “moedeloosheid”). Ek glo die rede waarom die skaamte nooit in woede omsit, soos in ander historiese gevalle nie, is deels die gevolg daarvan dat alle vorme van Afrikanernasionalisme (wat opsigself die noodsaaklike voertuig vir woede is) as agterlik en “beskamingswaardig” voorgehou word. Tweedens word die opbou van woede, die stoom wat volksnasionalisme moet aanspoor, deur gesimuleerde groepsgebonde “konflikte” in die vorm van rugbywedstryde afgelaat.

Versoening met die oortreder (die swart regime) kan wel die skaamsiklus verbreek, maar dan moet dit werklike versoening wees en ek is oortuig daarvan dat die die kloof tussen wit en swart so diep is dat dit nooit bereik sal word nie. Boonop help dit nie die onderdrukte hou aan met sy versoeningspoging vol terwyl die onderdrukker konstant met sy oortreding voortgaan nie. Dit begin ooreenkomste met Stockholmsindroom toon en mag die onderdrukte/slagoffer se poging wees om sy eie trots te herstel  uit hoop dat die onderdrukker iewers in die toekoms dalk met hom solidariteit sal toon.  Versoening tussen wit en swart is wel kortstondig tydens die 1995-rugbywêreldbeker bereik, maar die diepe strukturele verdelings tussen wit en swart het dit nie-blywend gemaak.

Die werklikheid van skaamte is dat die lyer(s) (beide oortreder en slagoffer) na verlossing daarvan soek. Soos reeds gesê, lei dit onder Afrikaners, onder andere tot ontrekking van enige politieke uitdrukking.  (Mens kan hierby toevoeg dat skaamte, binne die ANC, weens die regime se konstante oortreding moontlik bydra tot die groeiende rassehaat teen blankes soos deur Julius Malema versinnebeeld.)

Massabyeenkomste soos die saamtrekke na Angus Buchan se Mighty Men (die naam spreek ook tot skaamlyers) en rugbybyeenkomste bied wel ‘n geleentheid om op alternatiewe maniere trots te probeer herwin. Hierdie geleenthede skep ‘n gevoel van solidariteit en solidariteit herstel die sin van trots. Geen van hierdie geleenthede kan egter die wesenlike probleem van skaamte oplos nie, want nie een van hulle spreek die grondoorsaak, naamlik konstante vernedering in ondergeskiktheid aan ‘n vyandige onderdrukker, aan nie. Hoogstens bied dit tydelike simptomatiese verligting.

Vir Afrikaners om van die 1994-vernedering en die gevolglike aanhoudende beskaming te ontsnap, sal ons die volle skaamte-woede-siklus moet loop en dan op ‘n kritieke oomblik in die woedefase strategies moet optree sodat daadwerklike politieke bevryding verkry kan word. Die bevryding moet dan lei tot die herstel van trots.

Die omvang van ons skaamte is so verreikend dat selfs ons leiers skaam is. Organisasies wat weier om by die bevrydingsideaal betrokke te raak getuig hiervan. Selfs die Vryheidsfront is besmet met hierdie kwaal, soos gesien kan word uit die ontwykende houding wat die organisasie teenoor Afrikanerselfbeskikking het.  Die volgende vertelling deur Dan Roodt  dui ook hierop:

“Enkele dae gelede sê ‘n prominente lid van die party, dr. Conrad Beyers, egter vir my dat die party eerder sy Afrikanersentriese leuse moet laat vaar en ‘n party ‘vir alle konserwatiewe Suid-Afrikaners, ook swartes, moet word’. Hy is blykbaar skaam vir die ‘rassistiese beeld van die party’ as ‘n beweging vir blanke Afrikaners. Beyers is ‘n dosent aan die multikulturele Universiteit van Pretoria en in ‘n gesprek met ‘n Venda-student het hy ongemaklik begin voel om aan hom die Vryheidsfront Plus se beleid te verduidelik. Kennelik val “selfbeskikking vir Afrikaners in ‘n eie geografiese gebied of volkstaat” net nie mooi op die oor van ‘n Venda-student nie en daarom begin Beyers sterk aan die roeping van sy eie party te twyfel.”

Wanneer ons eie leierskap dus die gevangenes van skaamte is, is ons kans op bevryding amper nul.

Nêrens in Afrikanergeledere word die ideaal van bevryding juis so onbeskaamd verkondig as in PRAAG nie. Dit vertel vir ons geweldig baie van die ideologiese insig en ook die morele krag van Dan Roodt en diegene wat saam met hom werk. In ‘n volgende stuk sal ek meer hieroor sowel as die komende afsterwe van die VF+ skryf, maar laat ons nou eers fokus op Afrikanerbeskaming.

In een van die “demokratiese verkiesings” wat sedert 1994 gevoer is, het die DP ingetap op Afrikaners se begeerte om hul trots deur woede te herstel. Met die “Gatvol”-veldtog het die DP daarin geslaag om die Afrikanerkieser weg te rokkel van sy tradisionele partye. Die DP het die Afrikanerpsige beter verstaan as die “met die ANC versoenende” NP en VF. In Weimar-Duitsland het Adolf Hitler met massale sukses die Duitsers se begeerte om deur woede van skaamte te ontglip gebruik om ‘n politieke wending mee te bring. Die meer onlangse begrafnis van Eugène Terrreblanche het vir ons gewys dat Afrikaners meer as ryp is om deur woede gemobiliseer te word. En tog het ons ook gesien dat Afrikaners volwasse genoeg is om nie met daardie woede onverantwoordelik om te gaan nie. Dit was ‘n baie ordelike en effektiewe uitdrukking van volksnasionalisme.

Blote pogings om Afrikaners tot godsdienstige verootmoediging te roep, sal hulle teruglei tot die versoenende logika van ons geloof en dit sal weer lei tot vrugtelose pogings om met die swarte te versoen. Dit is waarmee Angus Buchan Afrikaners elke keer onskadelik stel. Rugbywedstryde is ‘n kragtige emosionele uitlaatklep, maar vir Afrikanerbevryding is dit skadelik. Die beweging wat Afrikaners uit sy huidige moeras van rigtingloosheid gaan lei, sal nie net Afrikanerselfbeskikking onbeskaamd verkondig nie, maar sal ook vreesloos Afrikanerwoede na die oppervlak probeer bring. Daardie woede sal dan soos op Ventersdorp verantwoordelik bestuur moet word, maar ook konstant lewendig gehou word. Hierdie organisasie sal die moed moet hê om binne die huidige “reënboognasie”-bestel ‘n hoogs kontroversiële en verdelende rol te speel. Dit sal emosionele manifestasies moet bied wat ten minste met die Mighty Men en rugby-uitlaatkleppe moet kan kompeteer, indien totale verplasing daarvan onmoontlik is. Soos op Ventersdorp moet dit die geleentheid bied vir Afrikaners om solidariteit binne ‘n etniese grondslag te beleef.  ‘n Werklike gevoel van volksolidariteit sal hieruit vloei. Dit sal manifesteer as volksnasionalisme. Dinamiese volksnasionalisme is die vereiste voertuig vir bevryding.

Dus kan ten slotte gesê word dat deur die Afrikaner konstant in ‘n toestand van openlike skaamte te hou het die regime en die Afrikaanse pers die perfekte manier gevind om die Afrikanervolk uiteindelik tot sy verdwyning te beskaam. Die Mighty Men-fenomeen en georganiseerde sport, veral rugby, lei enige “ongewenste” woede en behoefte aan groepsolidariteit af. Die ET-begrafnis het vir ons gewys dat Afrikanerwoede reg is om verantwoordelik getap te word. Afrikanerleiers se eie skaamte maak dit vir hulle moeilik tot onmoontlik om Afrikaners tot die noodsaaklike woede aan te spoor. Verbeeldingryke leierskap wat nie bang is om die woede verantwoordelik aan te spoor nie en byeenkomste waar groepsolidariteit beleef kan word, sal Naspers en die ANC se houvas op die Afrikaner verbreek. Bevryding sal onvermydelik volg.

малыш магазин детских товаровпрокурор харьковской области

Belangepolitiek, beginselpolitiek of geraaspolitiek

 

Max se geweeklaag oor die verregsing

 

Met die ANC wat so ‘n oorweldigende meerderheid in die parlement en die meeste provinsiale wetgewers het, is dit te wagte dat opposisiepolitiek op verskillende maniere sal moet improviseer om ‘n invloed (ten goede vir die land) te kan uitoefen.

Gister spreek die Afrikaanse Sondagkoerant, Rapport, hom uit teen wat breedweg belangepolitiek genoem kan word ten gunste van “tipiese” opposisiepolitiek waar foute van die regerende party uitgesnuffel en aan die groot klok gehang word.

Daar is natuurlik in beginsel niks verkeerd met die beginsel nie – want in beginsel is ‘n opposisieparty en opposisiepers wat foute uitsnuffel die belangrikste wapens teen magsmisbruik en korrupsie. Trouens, daar kan min twyfel wees dat die verlammende uitwerking van politieke korrektheid ruim bygedra het tot die mate waarin die land se wiele aan die nate loskom.

(Die ANC het immers nie korrupsie uitgevind nie, net vervolmaak).

Belangepolitiek in die nuwe Suid-Afrika is grootliks gebore uit die grondwetlike leemtes van die huidige grondwet. Die liberaliste kan nou maar die lofliedere oor die “wonderlike” grondwet aanhef tot die tandemuis oom olifant se gewisselde tand weggesleep kry, ‘n liberale grondwet was nog nooit vir ‘n heterogene samelewing ontwerp nie – daarvoor is daar tallose meer moderne benaderings wat middelsoekende en middelpuntvliedende kragte ondervang.

Belangepolitiek in ‘n liberale grondwet is nie ‘n ideaal nie. ‘n Voor die hand liggende leemte is dat die reg tot belangepolitiek uitsluitlik van ‘n toegif van die regerende party afhang – nie van ‘n reg daartoe nie.

Stellings soos “ons sal jul stem wees” het min of meer dieselfde paadjie as die “wigte en teenwigte” geloop. Dr. Pieter Mulder se adjunk-ministerskap word nie oral, selfs in eie geledere, ewe goed ontvang nie, ten spyte daarvan dat die landbou waarskynlik nie nog ‘n kabinetsramp in die liga van Dirk du Toit en Lawwe Lulu sou kon oorleef nie.

Die punt is, die debat hieroor is nog lank nie voltrek nie.

Naasliggend hiertoe is die kwessie van beginselpolitiek.

Beginselpolitiek kan nie losgemaak word van sy ondersteunigstrukture soos die media nie. Dit is ‘n veld vol slaggate en teenstrydighede.

Wat beginselpolitiek betref, is dit ‘n feit soos ‘n koei dat ‘n party en sy ondersteuningstrkture nie alles vir almal kan wees nie, veral wanneer aan bewind kom ernstig in die oog gehou word.

Juis omdat die DA hom in hierdie opsig so uitstekend vir ‘n toffie uitgee, word kortliks by dié party stilgestaan:

– Die DA laat keusevryheid toe oor sake soos aborsies op aanvraag, die doodstraf en gay huwelike. In hierdie opsig is die DA effek uniek in die liberale dampkring deurdat Liberaal-internasionaal, waarvan die DA ‘n lid is en ‘n ondervoorsitterskap hou, nie dié keusevryhede bied nie. Die dualisme is egter net iets wat houdbaar is solank ‘n party in opposisie is – wanneer die party aan bewind kom moet keuses gemaak word, en dan kan die helfte of meer van sy ondersteuners met ‘n beleid opgesaal sit waarteen hulle ernstige beginselbesware het. Dit bied egter ook terwyl dit in opposisie is, probleme. Enkele jare gelede het einste Dianne Kohler-Barnard wat met haar *&^% parlementêre vry sê in die sop was, in ‘n verklaring ‘n voorstel van die destydse polisiekommissaris dat prostitusie tydens die 2010-sokkertoernooi gewettig word, ondersteun. Op dieselfde dag het die DA, by monde van sy destydse Oos-Kaapse leier en nou parlementêre hoof, Athol Trollip, ‘n verklaring uitgereik waarin Selebi se voorstel op morele gronde sterk afgekeur word.

– Vandag berig Rapport op sy voorblad oor die DA-leier, Helen Zille, wat ‘n gebedsaamtrek van Angus Buchan bygewoon het (dr. Mulder was ook teenwoordig). Van die hoofelemente was “goddelose wette” en die feit dat God nie in die grondwet erken word nie. Rapport skep ‘n positiewe assosiasie van Zille met die saamtrek, ten spyte daarvan dat haar party sterk gekant is teen die opdra van die grondwet aan die Allerhoogste, en twee van haar LP’s, Lindiwe Mazibuko en Annelie Lotriet, die afgelope week verklarings uitgereik het waarin morele waardes sekondêr en selfs teenstrydig met hul (en die DA) se liberale waardes gestel word.

– Tydens die debakel rondom die Reitz-vier en die destydse kampusverkiesings by Kovsies waar die DA met volle oorgawe deelgeneem het, het die destydse parlementêre leier van die DA, Sandra Botha, ‘n mediaverklaring in die beste liberale tradisie uitgereik, wat, sou die Volksblad dit gedra het die DA oneindige skade sou berokken het. Die media het die DA egter teen die DA self beskerm. Ook ten opsigte van die Lotriet – Mazibuko – verklarings is die DA deur die media taamlik effektief teen die DA beskerm.

Word ‘n objektiewe, omvattende toets eendag gedoen oor hoeveel Suid-Afrikaners werklik hul kruisies in ooreenstemming met hul beginsels trek, sal dit waarskynlik ‘n skokkende uitslag oplewer. Uit die dae van die Smelters en Gesuiwerdes kom die storie uit die Noordweste van die toehoorders by ‘n Nat-vergadering wat met alle geweld ‘n SAP-vergadering in dieselfde dorp wou gaan opbreek. Die droë spreker is naderhand warm onder die vraag, en toe hy weer met ek “Ek sê, ons los hierdie vergadering en gaan d*&nder die Sappe!” uit die gehoor onderbreek word, wil hy woedend weet: “Wil jy nou regtig dink jy gaan ‘n SAP regged&^%nder kry?”

“Wat, ek was ‘n SAP en hoe het ek reggekom? Ek is regged&^nder!” Ek sê weer, ons los hierdie vergadering en gaan d*&nder die Sappe!”

Hiermee het die spreker sy oorlog verloor. Jare later het Johnny de Lange in die parlement vir ‘n woeste haakhou gekoes en toe teruggeslaan en dr. Manie Schoeman met ‘n voltreffer tot binne-in die ANC gemoker. Soms gebeur die “omskakeling” minder opsienbarend soos om bloot op te hou “om jul stem” te wees.

Dit skep die indruk dat die politiek nie die natuurlike woonplek vir beginsels is nie, terwyl die demokrasie, ironies, op die beginsel van beginselpolitiek gebou is.

Geraaspolitiek, is ewe problematies.

Hierdie teenstrydighede kom gereeld na vore in die skryfsels van Max du Preez en kommentators uit sy dampkring. Rapport, met sy groot voorliefde vir Max, bepleit vandag juis die manifestasie van opposisiepolitiek in geraaspolitiek. Waarskynlik weens die jeugdigheid van die mense nou aan die stuur word die pragmatiese problematiek hiervan misgekyk. Met die vorige verkiesing het Helen Zille se aanslag teen Jacob Zuma later nie saak gemaak of die feite korrek of dit in beginsel die regte benadering is nie, dit het ‘n swart – wit verdelingslyn sterk geaksentueer en uiteindelik gemaak dat swart kiesers hulle in feitlike eenparigheid agter die ANC gaan skaar het – waarskynlik tot die erge nadeel van Cope. Dié surigheid het ook nie sommer net na die verkiesing verdamp nie, en taamlike voetwerk agter die skerms was nodig om ‘n werksverhouding tussen Zuma en Zille weer op die been te kry.

Maar laat dit aan Max oor om die dualisme onbedoeld uit te lig. Hy soek in Saterdag se bylaag oudergewoonte die fout weg van die liberalisme, en kies, voorspelbaar die regses. Hiermee val hy by ‘n bestaande koor in wat nou kliphard mense probeer oortuig dat om ‘n misdaadslagoffer te wees, nie beteken ‘n mens moet deel van wat hulle ‘n “verregsing” noem, te wees nie.

Of selfs dat gatvolheid vir korrupsie en swak dienslewering nie rede tot verregsing is nie.

Dit is dislojaal teenoor Suid-Afrikanerskap, word opgegee. Die komende sokkertoernooi word ruim bygesleep en die “verregste” Afrikaners en ander Suid-Afrikaners word daarvan beskuldig dat hulle wil sien die toernooi moet misluk (en bymotiewe ingelees soos dat dit is omdat dit “deur swart mense gereël word.”

In hul ywer om hierdie bog, twak en onsin kwyt te raak, word die reg op meningsvryheid in effek net vir die liberaliste gereserveer, maar ‘n baie belangrike aspek – wat al deur verskeie onafhanklike kommentators soos ook tydens die Stellenbosse woordfees uitgelig is, word geïgnoreer: “Suid-Afrikaners wat hul monde oor die leemtes in die aanloop tot die sokker uitwys is nie dislojaal teenoor die land nie, dit is JUIS (hoofsaaklik) die lojale Suid-Afrikaners wat die leemtes raaksien en bekommerd raak dat ‘n onderstandaard-poging opgedis word wat skadelik vir die land sal wees.”

Wie, wat enigsins trots op sy land is, wil graag sien dat sy land skade ly deur die buitelandse besoekers wat beroof word? Of vermoor word?

Binne enkele dae is twee buitelanders in Suid-Afrikaanse plaasaanvalle in Limpopo vermoor, die een, die Belg, uiters barbaars. As Suid-Afrika diplomatieke notas van simpatie gestuur het – al was dit net ter wille van die protokol – is dit verswyg. Terwyl trotse Suid-Afrikaners nie weet waar om hul koppe hieroor in te steek van skaamte nie, is Max se beste reaksie om Suid-Afrikaners te kritiseer omdat aanvalle op kleinhoewes by plaasaanvalle tel. Vir ingeval Max, wat dalk op ‘n groterige Vrystaatse plaas by Kroonstad grootgeword het, dalk neersien op die maplotters, sal dit hom loon om te gaan oplees wat die wetlike indeling van kleinhoewes is – naamlik landbou-eenhede. Dis boonop die regering wat mens net mag kritiseer as jy liberaal is (anders is jy dislojaal teenoor die land) se beleid om landelike armoede te verlig deur die skepping van klein landbou-eenhede (Zuma het dit nog in staatsrede ook genoem).

In Europa en die VSA het die ongebreidelde liberalisme al ‘n dekade of meer gelede hul “hoogtepunte” beleef, en op wisselende maniere in die Christen-Demokrasie, en nou regse politiek begin nesskop. In Suid-Afrika het, selfs na bykans ‘n miljoen wettige aborsies later, nog nie dié sensasie so uniformig nesgeskop nie. Dit manifesteer wel in skynbaar losstaande verwikkelings, of laertrekkery soos Jan-Jan Joubert vandag weer na die verwikkelinge van die US-raadsverkiesing verwys.

Max delf nog dieper terug in sy kritiek op die “verregsde” Afrikaners, deur neerhalend te verwys na die persepsie van kakie en kappie.

Dit sal Max loon om bietjie te gaan delf in die hoofartikels van Nasionale Pers oor die Boeremag-lede wat nou teregstaan. Hierin is melding gemaak van ‘n nuwe generasie hoogs intelligente en goed-opgeleide mense. Ongeag hoe ‘n mens van hul oortuigings mag verskil, is karikatuurvorming rondom dom en onopgevoed net so onvanpas as om alle liberaliste onder dieselfde kam van naïwiteit te skeer as die negrofiliste wat byvoorbeeld nou van Koning Mosjesj 1 ‘n filantroop maak sonder om op sy rol in die aanstigting van die Basotho-oorloë te wys. Of die liberaliste wat Bram Fischer as filantroop voorhou sonder om die Stalin-vergrype uit dieselfde Komintern-tydsvlak te verreken.

Voor Max sulke karikature van “regse” Afrikaners maak moet hy miskien net eers kyk waar hulle hul bevind. Trouens, Jan-Jan het al gemaan dat die DA met ‘n probleem opgesaal kan sit oor die baie ondersteuners in die party wat eintlik ideologies meer tuis in die Vryheidsfront Plus sou tuishoort. Christen-demokratiese partye in Suid-Afrika het nie net die frustrasie dat Suid-Afrikaners, sou hulle in Europa gewees het vir CDP’s sou stem, hier nie net nie vir die CDP’s stem nie, maar hulle vierkantig in die DA en ander partye bevind.

Die redes hiervoor is kompleks, maar dit kan wees dat die DA (en ander partye) se pogings om alles vir almal te wees, tog ook ‘n impak het. Die “instink” om die DA as grootste voertuig teen die ANC te steun, speel stellig ook ‘n rol.

Die punt is, is iemand wat sielsalig onbewus daarvan is dat die (liberale) party aan wie hy sy steun en stem opdra, met sy eie oortuigings weinig in gemeen het, nou minder “ploerterig” as die persoon wat as “ploerterig” afgemaak word bloot omdat sy oortuigings hom so ver kry om sy stem by ‘n party te gaan trek wat uit die “verregsing” gebore is?

Het Max byvoorbeeld meer as net ‘n paar sekondes met ‘n oop gemoed beoordeel of Jakes Gerwel nie dalk in die verlede met sy naïewe prul oor die ANC mildelik tot die “verregsing” bygedra het nie?

гольфы девочки 8 летФильчаков

Gaan Angus Buchan dié keer die groot sê spreek?

Tot dusver was die bekende aartappelboer – evangelis, Angus Buchan, versigtig om politiek te betrek by sy saamtrekke en in sy uitsprake.

Die gevolg was dat mense wat verskillende partye aanhang, saam by sy saamtrekke was en meegevoer is. Onder die “magtige manne” het verlede jaar onder meer die Springbokafrigter, Peter de Villiers, getel wat openlik verklaar het dat hy vir die ANC sou stem.

Nou verwag Buchan 400 000 mense by sy saamtrek, sowat ‘n 100 000 meer as die buitelandse besoekers wat die regering by Suid-Afrika se sokkerskouspel later vanjaar verwag. En die tema is Watchmen of the house. Buchan het aan Volksblad gesê dit beteken dat die man sy verantwoordelikhede in verskillende lewensfere moet opneem: die huis, die werk, die parlement…”

Dit sal interessant wees om te sien hoe Buchan dié keer neutraal of onverbonde uit politieke kantkiesery gaan tree, as hy na mans (en seker vroue ook) se Christelike verantwoordelikheid in die parlement (en seker ander regeerinstellings) gaan verwys.

In eenvoudige Afrikaans gestel: Kom ‘n Christen sy / haar plig na deur vir ‘n party te stem wat hom daarvoor beywer om aborsies op aanvraag te wettig, wat ernstig besin oor die wettiging van prostitusie, ‘n staatslotery bedryf…?

Dis juis die frustrasie waarmee partye in die Christen-demokratiese en Christen-Volkseie dampkring die afgelope dekade en ‘n half spook. Presies dieselfde mense wat Sondae in die kerk bely hierdie goed is (volgens hul kerkgenootskappe se formele standpunte) verkeerd, stem nie net vir partye wat die teenoorgestelde standpunte hieroor inneem nie, maar werk openlik vir daardie partye, staan as kandidate en dien as raadslede, parlementslede en vele meer.

‘n Skisofrenie van oortuigings dan?

Dikwels kom “die kerk” as instelling hieroor onder skoot, maar die persoon wat die belangrike amp van lidmaat opneem, word nie hieroor onder die vergrootglas geplaas nie. Sy vertwoordelikhede / standpunte word as’t ware na die dominee “gedelegeer” (soos die ouer sy opvoedingstaak na die skool “delegeer”), en solank die dominee / kerk oor hierdie diskrepansie swyg, so lank is my gewete skoon.

Of is daar so ‘n volledige skeiding van kerk en staat dat dié skisofrenie van oortuigings moontlik is?

Net soos iemand kan verklaar hy is ‘n Christen en selfs die titel van ere-pastoor van ‘n kerk dra, maar dan volgens sy kulturele tradisie veelwywery beoefen terwyl die Christen-Bybel, en in die besonder die Nuwe Testament, sê een man mag net een vrou hê?

Vanuit die liberale humanisme kom twee basiese verwere. Die eerste doodgewoon dat die godsdiensoortuigings vir die kerk gereserveer is, en politieke oortuigings vir die staat. Presies waar sake soos skoolbeheerliggame, sportorganisasies, kultuurorganisasies en ander inpas, is nie duidelik nie, of is die mens werklik in staat om ‘n dikwels teenstrydige beleid vir elke geleentheid op te dis?

Die tweede argument is dat die Bybel hom teen die oordeel en veroordeling uitspreek. Die kerk se mond is dan gesnoer as ek as landsburger ‘n prostituut besoek, buite die huwelik saamwoon of die Lotto speel. Want die Christen mag my nie oordeel nie. (Lees maar die tekste in hul volle konteks en kom praat dan weer).

Omtrent soos in die dae toe ons in die kerk darem bitter teen dans was, en Volkspele net-net die valbyl misgeloop het omdat dit “gespeel” en nie “gedans” word nie, maar by die dorp se Nuwejaarsdans is ons voor in die koor met ons passies. (Danksy twee linkervoete is ek hier onskuldig).

Of gaan die “Magtige manne”, Snorreman inkluis, dié keer hoor hul verantwoordelikheid as Christen teenoor die parlement, die provinsiale wetgewers, die munisipale rade sluit in dat hulle hul stemreg uitbring vir partye wat God, en nie die grondwet nie, as hoogste gesag stel en wat wetgewing voorstaan wat versoenbaar is met dit waaroor die Bybel duidelik is?

Of gaan die partye op die Christen-spektrum weer eens sien hoe só ‘n openlike verbintenis deur meesterlike wysgerigheid standpuntloos gelaat word? (Buchan is nie al wat hieroor swyg, of as hy hom dan sou uitlaat, dit nie die media haal nie).

Buchan doen volgens baie aanduidings groot werk om die sedeloosheid wat in die land posgevat het, om te keer. Daar is ‘n ongelooflike groot braakveld buite die politiek, en ‘n mens sou graag wou sien dat hierdie aksies maksimale stukrag kry – iets wat politieke kontaminasie kan inhibeer.

Maar as die geestelike leiers van statuur swyg oor die voorbeeld wat regeringsleiers, politieke partye en ander meningsvormers stel, wie moet dit dan doen? Terwyl ‘n regeringsleier homself ‘n Christen noem maar lynreg teen die Bybel optree, kry hy ‘n witbroodjie-spreekbeurt by sekere kerke, wat ander politieke leiers nie gegun word nie. Emiretus-Biskoppe swyg dawerend op ‘n streep. Die publiek word verwar.

Buchan hét die potensiaal om dit uit te wys, en hy sal die eerste wees wat sal erken dat hy self tot niks in staat is sonder dat hy krag van die Here ontvang om as instrument van die Here op te tree nie.

Die vis vrot van sy kop af. Is dit werklik die Here se wil dat Sy priesters en profete van die heuweltoppe af in al elf amptelike tale dawerend moet swyg, en in plaas van die ramshorings te blaas ‘n groot geraas met fufuzelas moet maak vir ‘n sokkerskouspel waar rituele slagtings ter ere van voorvadergeeste beplan word?

Gaan net ‘n Gideonsbende oorbly as Suid-Afrika se 75 % Christenbevolking die dag werklik voor keuses gestel word van betreklik suiwer Christelike waardes, en beddens op bakstene, voorvadergeeste wat oral “gevang” en in kartonbokse van nasionale monumente aangery word om met staatsfunksies weer vrygelaat word?

Of is ‘n “halwe Christen” darem beter as iemand wat volledig animisties leef, die bewese ongewenste newe-effekte van kultuur in transito ten spyte. Of kan ‘n halwe Christen maar lou ook wees?

Of gaan ek weer deur oom Sakkie van die Nuwe Hervormersfaam op sy webwerf die kop gewas word as die produk van Kovsies se wysbegeerte van ‘n paar geslagte gelede (waaraan ek net onregstreeks via Staatsleer en Privaatreg blootgestel is en in elk geval nie mee saamgestem het nie tot my dosente se ontsteltenis), of gaan ‘n liberalis weer ‘n brief in ‘n koerantbylaag plaas om my te kapittel oor ek so oordeel?

Of streef ek maar net na ‘n land waar morele waardes so sterk gesetel is dat misdaad daardeur gesmeer word?

Oom Angus. Wat lê die Here in jou hart? Of delegeer ons maar weer dat die klippe die uitroepwerk begin doen? Tot dusver was oom nie juis beskeie dat almal moet hou van wat oom sê nie, soos laas toe oom gesê het as oom tydens die ABO geleef het, sou oom aan die kant van die Boere geveg het.

сапфировая брекет системаалександр лобановский харьков