praag.co.za

Tag: wit skuld

  • Oud-terroris op witskuld-boektoer

    Oud-terroris op witskuld-boektoer

    Een van die terroriste wat by Rivonia aangekla is, en goeie vriend van oud-president Nelson Mandela, Ahmed Kathrada het Grey Kollege in Bloemfontein Maandag besoek as deel van sy boekbekendstellingsprogram.

    Die oud-terroris wou nie oor die hede praat nie, maar het net op die verlede van “onreg” gefokus voor ‘n gehoor wat weens hul ouderdom geen aanspreeklikheid daarvoor kan aanvaar nie.

    Die leerlinge is almal lank na 1994 gebore.

    Gesprekke met die jeug oor apartheid is dus gehou met die uitsluitlike doel om kollektiewe wit skuld aan te moedig.

    Kathrada wou nie kommentaar lewer oor die huidige politieke situasie nie, maar het eerder gekonsentreer op die “vryheidstryd” in die land.

    ‘n Dokumentêre program oor die lewe van Kathrada is vertoon, waarna leerlinge die geleentheid gehad het om hom vrae oor sy 26 jaar in die gevangenis te vrae, insluitend die 18 jaar op Robbeneiland.

  • Swart DA-leier gee voor dat hy André Brink gelees het

    Die DA se swart koukusleier, Mmusi Maimane het skielik ontpop in ‘n leser van niemand minder nie as André Brink.

    In ‘n ongeloofwaardige hagiografie aan Brink, het Maimane, wat ooglopend nog nooit ‘n woord van Brink gelees het nie, die dood van “een van Suid-Afrika se literêre reuse” betreur tydens sy toespraak in die parlement.

    Brink het feitlik geen swart lesers gehad nie en van sy werk was grootliks gemik teen ‘n konserwatiewe wit gehoor.

    “In ons hartseer oor sy dood is slegs deur die groot literatuur hy aan ons bemaak het, ‘n vertroosting,” het Maimane vroom en sonder ironie verklaar.

    Brink se lesers sal verbaas wees om te verneem dat die “groot les” uit sy oeuvre glo was dat ‘n ‘n “gesiglose stelsel die euwels in die samelewing” verberg, en dat “mense onreg teen ander mense pleeg”.

    Brink het homself juis onvermoeid vir die teendeel beywer. Hy het gesiglose Afrika-verantwoordelikheid verskoon en voortdurend alle skuld kollektief op Afrikaners gepak. Hierdie tema het hy uitgebrei om later prontuit in ‘n dokumentêre program op SABC te verklaar dat dit beter sal wees as Afrikaners heeltemal uitgewis word, weens hul aandeel aan “slawerny”.

    Daarna het Maimane egter Brink se gunsteling onderwerp oor wit skuld afgestof en uitgevaar teen die “ongelyke nalatenskap van die apartheidstelsel wat swaar weeg op swartes”.

    “Dit is ‘n feit dat swart kinders nog steeds nie dieselfde geleenthede as wit kinders het nie. Dit is ‘n menslike tragedie wat niemand in hierdie vergadering ooit moet aanvaar nie.”

  • Reuse vagina by Grondwethof tentoongestel

    Reuse vagina by Grondwethof tentoongestel

    vulvaconJohannesburgers het nou die geleentheid om deur ‘n groot vagina te loop, dit alles te danke aan ‘n kunsinstallasie wat opgerig is by die Grondwethof, op Konstitusieheuwel in Johannesburg. Die Grondwethof is die setel van die “wigte en teenwigte” van die nuwe regime.

    Konstitusieheuwel huisves onder meer die ou Vrouetronk wat in ‘n besienswaardigeid omskep is om wit skuld onder besoekers se aandag te bring.

    “Deur die skep van die vagina waarin jy loop, bevat dit wat jou as die kyker, maar ook gille en lag, amper soos ‘n strydkreet wat in opstand kom teen die tronk,” het die kunstenaar Reshma Chhiba het aan die Sunday Times gesê.

    Die loopvlak – geïnstalleer in afdeling twee van die tronk – is 12 meter lank en bestaan ​​uit rooi fluweel en katoen. ‘n Klankbaan van die lag en skree is te hore.

    “Nie baie mense nie – mans of vroue – is gepla om deur middel van hierdie vaginale kanaal te loop nie,” sê Chhiba.

    Sy het gesê dat ten spyte van die feit dat die werk gekoppel is aan die Hindoegodin Kali, wou sy nie gesien word as iemand wat net met die maak van Indiese kuns besig is nie. “Dit is ‘n globale vagina,” sê Chhiba.

    Die installasie is deel van ‘n groter projek – ‘Die Twee Pratende Yonis‘. Yoni is Sanskrit vir vulva. Foto’s en skilderye sal uitgestal word by twee ander plekke.

    “Dit is skrikwekkend om mense te kry met patriargale waardes opgevoed is,” het sy aan die Sunday Times gesê.

  • Riana Scheepers en die afgod van politieke korrektheid

    Die eerste reaksie wat die skryfster Riana Scheepers had toe haar ouers in ‘n plaasaanval beseer is, is om te verklaar: “My ma en pa was nie twee rassiste wat in ’n wit toring gesit het nie.”

    Dit herinner so effens aan die uitroep van die Engelse vrou wat in 1976 in Soweto aangeval is en uitgeroep het: “I’m English! I’m English!” Asof daar tydens rasgemotiveerde aanvalle na die taalgroep of graad van politieke korrektheid van die slagoffer gekyk word.

    Tereg het haar medeskryfster, Fransi Phillips die vraag gevra of dit beteken dat alle rassiste dan die doodstraf verdien?

    Ongeag wat Scheepers se bedoeling met haar uitspraak was, of dit onnadenkend of berekend gemaak is, weet ons dat blanke en veral Afrikanerslagoffers van plaasaanvalle nie soveel simpatie by joernaliste en openbare figure geniet soos byvoorbeeld bruin of swart slagoffers nie. Tans is daar ‘n hele veldtog rondom die bendeverkragting en moord op Anene Booysen van Bredasdorp aan die gang. Selfs die spotprentkunstenaar Zapiro, wat die Nuwe Suid-Afrika gewoonlik as ‘n utopie voorstel, het tot die stryd toegetree.

    Indien Anene Booysen wit was, sou dit geensins soveel emosie gaande gemaak het nie. Ongelukkig is dit so dat daar vandag ‘n gees in die wêreld vaardig is wat mense van Europese afkoms as “moreel gebreklik” voorstel. Vir my word hierdie vooroordeel jeens blankes die beste opgesom deur die Amerikaans-Joodse skryfster Susan Sontag se berugte woorde:

    “Mozart, Pascal, Boolean algebra, Shakespeare, parliamentary government, baroque churches, Newton, the emancipation of women, Kant, Balanchine ballets, et al. don’t redeem what this particular civilization has wrought upon the world. The white race is the cancer of human history.”

    Daarom, toe Riana Scheepers kommentaar op haar ouers se plaasaanvoel moes lewer, het sy instinktief aangevoel dat sy dit as “moreel gebreklike” – as blanke – moes doen. Vandaar haar belydenis dat haar ouers nie skuldig aan die moderne melaatsheid, wit rassisme, is nie.

    Dit is altyd makliker en meer gerieflik – selfs meer winsgewend! – om die heersende ideologie van jou tyd en van jou land klakkeloos te aanvaar as om dit te bevraagteken. Soveel Afrikaanse skrywers wat in 1987 by Dakar as nuttige idiote deur die ANC gebruik of misbruik is om die politieke mag in ons land te bekom, is vandag tjoepstil oor geweld. Nog minder skryf hulle oor die taal- en rassediskriminasie wat soveel van ons mense vandag kasty. Want uiteindelik word sulke skrywers nie deur hul eie gewete aangespreek nie, maar deur die bemarkingsbehoeftes van hul volgende boek en deur die stel antiblanke vooroordele van die Naspersgroep en veral van die Britse joernaliste in ons land wat steeds hul holruggeryde propaganda teen Afrikaners produseer en ons oral waar hulle kan, swartsmeer.

    George Orwell, die skrywer van 1984 en Animal Farm, het gesê: “Om in ‘n tyd van universele leuens die waarheid te praat, is ‘n revolusionêre daad.” Waarskynlik was daar nog nooit ‘n land ter wêreld waar die Leuen hom so diep ingegrawe het as juis die hedendaagse Suid-Afrika nie. Vandaar ons groot behoefte aan ‘n paar waarhede, al word ons in die proses skerp aangeval deur al wat professionele leuenaar is.

    Darem is Riana Scheepers van mening dat “Die land… in ’n gat van morele verrotting (is).” Dit mag so wees, maar is dit nie juis die alternatiewe moraliteit van wit skuld wat ons hier gebring het nie? Want om ‘n polities onkorrekte stelling te maak, word dikwels as ‘n groter misdaad as moord of verkragting gesien. Die skuim-om-die-mond-joernaliste en -meningsvormers kan nog die onbevlekte deeltjie van die moordenaar se hart raaksien, maar enigeen wat dit durf waag om te sê dat onderwys vóór 1994 beter was as nou, word as ‘n ketter of Middeleeuse heks gehoon.

    Nie verniet nie het die Afrikaanse digter Breyten Breytenbach onlangs hierdie waar woorde gespreek: “Die politieke korrektheid dwarsoor die wêreld is sieklik, multikultarisme is erger as die swart pes in die Middeleeue!”

    ‘n Vrou op Facebook skryf sowaar vir my dat my “pogings om ‘intellektueel’ voor te kom neem ongelukkig niks weg van die feit dat die wyse waarop Riana en haar ouers hierdie aangeleentheid hanteer hulle plaas in ‘n klas waar jy ongelukkig nooit sal pas nie”. Verstaan ek dit reg dat sy bedoel dat politieke korrektheid ook ‘n vorm van snobisme is?

    In dié opsig het die ouers van Amy Biehl seker die meeste “klas” van almal gehad deur nie net die jong, swart moordenaars van hul dogter in die openbaar te vergewe nie, maar ook vir hulle deur hul stigting werk te skep en as’t ware vir hul misdaad te beloon. Die Biehls verteenwoordig die patologiese sy van wit skuld en masochisme wat swartes van alle morele aanspreeklikheid onthef.

    Wat vir my verstommend is, is dat mense die geweld en onreg in ons land met soveel traak-my-nie-agtigheid verduur, dieselfde gelatendheid waarmee Linda en Peter Biehl die moord op hul dogter aanvaar het en dit selfs op ‘n perverse manier “vier”. In ou Fenisië het ouers menslike offerandes van hul eersgeborenes aan die god Baäl gebring.

    Is politieke korrektheid die Baäl van ons tyd en hoeveel menselewens moet nog grusaam aan dié wrede afgod geoffer word?

    Doen jou deel in die stryd teen politieke korrektheid en geweld. Dra by tot PRAAG.

    Данильченко Юрий отзывы

  • ‘Jammer dat ons leef’

    In sy  rubriek Wanneer gaan die Afrikaner koers kry? noem Dan Roodt  beslis interessanthede wat verdere bespreking verdien. Ek dink nie mens kan hedendaagse Afrikaner politiek verstaan as jy nie die politieke psige van vandag se Afrikaner begryp nie.

    Dit is my mening dat die Afrikaner se gebrek aan politieke mobilisasie en die amper algehele onvermoë van Afrikanerleiers om hul volk se verbeelding aan te gryp baie meer kompleks as blote swak leierskap is. Die probleem hou eerder verband met die leierskap se wanbegrip van die oorsake rakende die gebrek aan politieke belangstelling deur Afrikaners.

    Heelwat gewag is al gemaak van die konsep “wit skuld” en dat dit dan ‘n verlammende uitwerking op Afrikaners sou hê. Ek wil aanvoer dat “wit skuld” nog nooit by Afrikaners bestaan het nie; nie in die verlede nie en ook nie nou nie. Indien dit wel bestaan, is dit maar ‘n blote simptoom, ‘n blote oppervlakkige uitdrukking van ‘n dieperliggende probleem. Skuld is m.a.w. bloot ‘n manifestasie van ‘n baie sterker en onerkende emosie. Andersyds word “moedeloosheid” onder Afrikaners selfs meer dikwels as skuldgevoelens genoem, maar ook in hierdie geval is daar waarskynlik baie meer aan die werk as wat die oog kan sien.  Modeloosheid en Skuld mag albei dieselfde grondoorsaak hê.

    Om die Afrikaner se situasie te verstaan, baat dit om daardie pioniersveld in die sosiologie, nl Skaamteteorie te bestudeer. Gaan kyk mens wat die voorste van daardie kenners, Thomas Scheff oor Duitsland ná die eerste wêreldoorlog te se het, dan raak die verklaring vir ons situasie glashelder.

    Weereens moet ek Dan Roodt krediet gee dat hy die een is wat die parallel tussen Kemptonpark  en die Verdrag van Versailles getrek het. Soos die Duitsers is Afrikaners ná die gewraakte oorgawe akuut en chronies verneder. Hierdie is die sleutel vir ons huidige dilemma. Afrikaners word nie net gedurig bewus gemaak van die “verskriklike sonde” wat ons deur apartheid gepleeg het nie, maar veral deur Naspers word Afrikanerskap en enige vorm van Afrikaner politieke uitdrukking konstant as ‘n vorm van agterlikheid uitgebeeld. Vele Afrikaners neem dit ter harte. Die vernedering is niks anders as skaamte nie. Dit is die sleutel tot ons huidige problematiek en ek kan eerlik nie sien hoe ons enige vordering kan maak as ons nie hierdie dinamika verander nie. Ek wil so ver gaan om te sê dat hierdie begrip die “heilige graal” van Afrikanerbevryding is.

    In die skaamte-woede-siklus, raak die slagoffer/onderdrukte kwaad omdat hy gedurig beskaam word. Dit is hierdie woede wat tot Duitse nasionalisme in aanloop tot die tweede wêreldoorlog gelei het. Ongelukkig vir die Duitsers het die bevryding wat uit hul skaamte-woede-siklus gevolg het weer tot ‘n oorwinning teen hulle gelei, maar dit hoef nie vir ons te geld nie. Eintlik het Afrikaners sedert die vernedering van die Anglo-Boereoorlog reeds deur hierdie siklus gegaan en anders as die ná-eerstewêreldoorlogse Duitsers het ons reeds langdurig met sukses die botoon gevoer.

    Kom ons kyk meer in diepte na skaamdinamika. Die deeglike studie van Thomas Scheff, Helen Block Lewis en Suzanne Retzinger wys vir ons dat skaamte op een van twee maniere manifesteer: hetsy bedekte skaamte, hetsy openlike skaamte. Bedekte skaamte lei tot woede. Dit is waar die skaamtelyer die skaamte ontken deur dit eerder te laat omsit in woede. Volgens die skaamteteoretici sal sulke woede weer tot oortreding lei wat weer ‘n nuwe vlaag skaamte sal meebring. Trots is die teenpool van skaamte en kan nie herstel word voordat die skaamtesiklus nie verbreek word nie. Hoewel die Skaamteteoretici meen dat woede weer skaamte sal meebring en sodoende die siklus in stand hou, verskil ek daarmee. Ek reken egter dat waar ‘n onderdrukte volk sigself d.m.v. woede van onderdrukking bevry, daadwerklike trots sal volg. Dus die einde van die skaamtesiklus. Thomas Scheff, ‘n jood van Duitse afkoms, het self familie in die holocaust verloor en sou dus beswaarlik erkenning aan die bevrydende effek van woede gee.

    Ek kan met sy familiegeskiedenis simpatiseer, maar moet verskil daarmee dat woede alleen verdere skaamte sal meebring. Dis juis langdurige woede ná die Anglo-Boereoorlog, wat tot Afrikanernasionalisme en die uiteindelike trotse totstandkoming van die 1961-republiek gelei het. Toegegee, sekeres sou argumenteer dat daardie nasionalisme tot apartheid (1948) en dus tot ons verdere beskaming sou lei (want volgens die Skaamteteorie kry die oortreder skaam weens sy oortreding). Dit sou dus ‘n argument teen die herontwaking van Afrikanernasionalisme kon wees.  Die teenargument hiervoor sou wees dat, in ‘n volkstaat, sou ons nie teen minderhede diskrimineer nie en dus sou daar geen oortreding en dus geen skaamte wees nie.

    Myns insiens lei die konstante beskaming waaraan Afrikaners blootgestel word, tans, tot openlike skaamte en in ons geval manifesteer openlike skaamte in verskeie gedragspatrone, waaronder die konstante soeke na versoening met die swart onderdrukker (sg “wit skuld”)  tot en met algehele ontrekking van die politiek (sg. “moedeloosheid”). Ek glo die rede waarom die skaamte nooit in woede omsit, soos in ander historiese gevalle nie, is deels die gevolg daarvan dat alle vorme van Afrikanernasionalisme (wat opsigself die noodsaaklike voertuig vir woede is) as agterlik en “beskamingswaardig” voorgehou word. Tweedens word die opbou van woede, die stoom wat volksnasionalisme moet aanspoor, deur gesimuleerde groepsgebonde “konflikte” in die vorm van rugbywedstryde afgelaat.

    Versoening met die oortreder (die swart regime) kan wel die skaamsiklus verbreek, maar dan moet dit werklike versoening wees en ek is oortuig daarvan dat die die kloof tussen wit en swart so diep is dat dit nooit bereik sal word nie. Boonop help dit nie die onderdrukte hou aan met sy versoeningspoging vol terwyl die onderdrukker konstant met sy oortreding voortgaan nie. Dit begin ooreenkomste met Stockholmsindroom toon en mag die onderdrukte/slagoffer se poging wees om sy eie trots te herstel  uit hoop dat die onderdrukker iewers in die toekoms dalk met hom solidariteit sal toon.  Versoening tussen wit en swart is wel kortstondig tydens die 1995-rugbywêreldbeker bereik, maar die diepe strukturele verdelings tussen wit en swart het dit nie-blywend gemaak.

    Die werklikheid van skaamte is dat die lyer(s) (beide oortreder en slagoffer) na verlossing daarvan soek. Soos reeds gesê, lei dit onder Afrikaners, onder andere tot ontrekking van enige politieke uitdrukking.  (Mens kan hierby toevoeg dat skaamte, binne die ANC, weens die regime se konstante oortreding moontlik bydra tot die groeiende rassehaat teen blankes soos deur Julius Malema versinnebeeld.)

    Massabyeenkomste soos die saamtrekke na Angus Buchan se Mighty Men (die naam spreek ook tot skaamlyers) en rugbybyeenkomste bied wel ‘n geleentheid om op alternatiewe maniere trots te probeer herwin. Hierdie geleenthede skep ‘n gevoel van solidariteit en solidariteit herstel die sin van trots. Geen van hierdie geleenthede kan egter die wesenlike probleem van skaamte oplos nie, want nie een van hulle spreek die grondoorsaak, naamlik konstante vernedering in ondergeskiktheid aan ‘n vyandige onderdrukker, aan nie. Hoogstens bied dit tydelike simptomatiese verligting.

    Vir Afrikaners om van die 1994-vernedering en die gevolglike aanhoudende beskaming te ontsnap, sal ons die volle skaamte-woede-siklus moet loop en dan op ‘n kritieke oomblik in die woedefase strategies moet optree sodat daadwerklike politieke bevryding verkry kan word. Die bevryding moet dan lei tot die herstel van trots.

    Die omvang van ons skaamte is so verreikend dat selfs ons leiers skaam is. Organisasies wat weier om by die bevrydingsideaal betrokke te raak getuig hiervan. Selfs die Vryheidsfront is besmet met hierdie kwaal, soos gesien kan word uit die ontwykende houding wat die organisasie teenoor Afrikanerselfbeskikking het.  Die volgende vertelling deur Dan Roodt  dui ook hierop:

    “Enkele dae gelede sê ‘n prominente lid van die party, dr. Conrad Beyers, egter vir my dat die party eerder sy Afrikanersentriese leuse moet laat vaar en ‘n party ‘vir alle konserwatiewe Suid-Afrikaners, ook swartes, moet word’. Hy is blykbaar skaam vir die ‘rassistiese beeld van die party’ as ‘n beweging vir blanke Afrikaners. Beyers is ‘n dosent aan die multikulturele Universiteit van Pretoria en in ‘n gesprek met ‘n Venda-student het hy ongemaklik begin voel om aan hom die Vryheidsfront Plus se beleid te verduidelik. Kennelik val “selfbeskikking vir Afrikaners in ‘n eie geografiese gebied of volkstaat” net nie mooi op die oor van ‘n Venda-student nie en daarom begin Beyers sterk aan die roeping van sy eie party te twyfel.”

    Wanneer ons eie leierskap dus die gevangenes van skaamte is, is ons kans op bevryding amper nul.

    Nêrens in Afrikanergeledere word die ideaal van bevryding juis so onbeskaamd verkondig as in PRAAG nie. Dit vertel vir ons geweldig baie van die ideologiese insig en ook die morele krag van Dan Roodt en diegene wat saam met hom werk. In ‘n volgende stuk sal ek meer hieroor sowel as die komende afsterwe van die VF+ skryf, maar laat ons nou eers fokus op Afrikanerbeskaming.

    In een van die “demokratiese verkiesings” wat sedert 1994 gevoer is, het die DP ingetap op Afrikaners se begeerte om hul trots deur woede te herstel. Met die “Gatvol”-veldtog het die DP daarin geslaag om die Afrikanerkieser weg te rokkel van sy tradisionele partye. Die DP het die Afrikanerpsige beter verstaan as die “met die ANC versoenende” NP en VF. In Weimar-Duitsland het Adolf Hitler met massale sukses die Duitsers se begeerte om deur woede van skaamte te ontglip gebruik om ‘n politieke wending mee te bring. Die meer onlangse begrafnis van Eugène Terrreblanche het vir ons gewys dat Afrikaners meer as ryp is om deur woede gemobiliseer te word. En tog het ons ook gesien dat Afrikaners volwasse genoeg is om nie met daardie woede onverantwoordelik om te gaan nie. Dit was ‘n baie ordelike en effektiewe uitdrukking van volksnasionalisme.

    Blote pogings om Afrikaners tot godsdienstige verootmoediging te roep, sal hulle teruglei tot die versoenende logika van ons geloof en dit sal weer lei tot vrugtelose pogings om met die swarte te versoen. Dit is waarmee Angus Buchan Afrikaners elke keer onskadelik stel. Rugbywedstryde is ‘n kragtige emosionele uitlaatklep, maar vir Afrikanerbevryding is dit skadelik. Die beweging wat Afrikaners uit sy huidige moeras van rigtingloosheid gaan lei, sal nie net Afrikanerselfbeskikking onbeskaamd verkondig nie, maar sal ook vreesloos Afrikanerwoede na die oppervlak probeer bring. Daardie woede sal dan soos op Ventersdorp verantwoordelik bestuur moet word, maar ook konstant lewendig gehou word. Hierdie organisasie sal die moed moet hê om binne die huidige “reënboognasie”-bestel ‘n hoogs kontroversiële en verdelende rol te speel. Dit sal emosionele manifestasies moet bied wat ten minste met die Mighty Men en rugby-uitlaatkleppe moet kan kompeteer, indien totale verplasing daarvan onmoontlik is. Soos op Ventersdorp moet dit die geleentheid bied vir Afrikaners om solidariteit binne ‘n etniese grondslag te beleef.  ‘n Werklike gevoel van volksolidariteit sal hieruit vloei. Dit sal manifesteer as volksnasionalisme. Dinamiese volksnasionalisme is die vereiste voertuig vir bevryding.

    Dus kan ten slotte gesê word dat deur die Afrikaner konstant in ‘n toestand van openlike skaamte te hou het die regime en die Afrikaanse pers die perfekte manier gevind om die Afrikanervolk uiteindelik tot sy verdwyning te beskaam. Die Mighty Men-fenomeen en georganiseerde sport, veral rugby, lei enige “ongewenste” woede en behoefte aan groepsolidariteit af. Die ET-begrafnis het vir ons gewys dat Afrikanerwoede reg is om verantwoordelik getap te word. Afrikanerleiers se eie skaamte maak dit vir hulle moeilik tot onmoontlik om Afrikaners tot die noodsaaklike woede aan te spoor. Verbeeldingryke leierskap wat nie bang is om die woede verantwoordelik aan te spoor nie en byeenkomste waar groepsolidariteit beleef kan word, sal Naspers en die ANC se houvas op die Afrikaner verbreek. Bevryding sal onvermydelik volg.

    малыш магазин детских товаровпрокурор харьковской области