
Vrae heers oor die dood van ‘n voormalige Rwandese senior militêre intelligensiebeampte, wat verwurg in sy kamer in ‘n spoghotel aangetref is, het die SABC berig.
Kolonel Patrick Karegeya is op Nuwejaarsdag dood aangetref. ‘n Lid van die opposisieparty in die sentrale Afrika-land sê Karegeya is vermoor, maar die Rwandese hoë kommissaris in Suid-Afrika ontken dit.
Karegeya het saam met ‘n voormalige weermagshoof, Faustin Nyamwasa, uit Rwanda gevlug nadat hulle daarvan beskuldig is dat hulle ‘n staatsgreep teen President Kagame se regering in die mou gevoer het.
‘n Woordvoerder van die polisie, Luitenant-kolonel Katlego Mogale sê ‘n saak van moord is by die Sandton polisie aanhangig gemaak.
Hy sê die saak sal aan die direktoraat vir prioriteitsmisdaad vir verdere ondersoek oorhandig word.
Mogale sê hulle vermoed vuilspel .
Die polisie het ‘n tou en ‘n handdoek met bloed op gevind by die lyk en ‘n voorlopige ondersoek het aangedui dat hy verwurg kon gewees het, het Mogale gesê.
Dit is nie die eerste keer dat ‘n top voormalige Rwandese amptenaar op Suid- Afrikaanse bodem geteiken word nie.
In 2010 het die voormalige hoof van die weermag ‘n noue ontkoming gehad nadat hy in die maag geskiet is in die oprit van sy luukse huis in Johannesburg .
Nog ‘n buitelandse ampsdraer is Nuwejaar in Suid-Afrika oorlede.
Tanzanië se minister van finansies William Mgimwa is aan natuurlike oorsake dood in ‘n Pretoriase hospitaal. Hy het behandeling vir ‘n naamlose siekte ontvang.
Mgimwa was aan die spits van Tanzanië se suksesvolle pogings om belegging te befonds en armoede te pak.
Tanzanië se skadu-minister van finansies, Zitto Kabwe , het in ‘n verklaring gesê, sy dood is ‘n groot verlies.
















