DRK-vredesverdrag onderteken

Sultani Makenga
Sultani Makenga sit

Die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) en die oorwonne M23-rebelle gaan Maandag ’n vredesverdrag onderteken.

Die rebelle – een van talle gewapende groepe in die mineraalryke, maar verarmde ooste van die land – is met behulp van ’n spesiale intervensiemag van die Verenigde Nasies oorrompel.

M23 word na bewering deur Rwanda en Uganda gesteun. Dié lande ontken dit.

Sowat 1 500 rebelle woon in kampe oor die grens met Uganda en minstens 100 beseerde vegters het na Rwanda uitgewyk.

Die groep het verlede week aangekondig dat hy ná 18 maande sy wapens neerlê. Baie van die rebelle is oudsoldate van die DRK-weermag.

Volgens ’n regeringswoordvoerder sal van die rebelle die opsie gegun word om terug te keer na die weermag, maar die lot van die sowat 100 bevelvoerders is onseker. Sultani Makenga, M23 se leier, was vir verskeie menseslagtings, verminkings, ontvoerings en verkragtings – ook van kinders – verantwoordelik.

Die welsynsgroep Oxfam sê meer as 30 ander gewapende groepe is aktief in die streek en dat burgerlikes nog op ’n daaglikse grondslag aan geweld blootgestel word. – Sapa/AFP

Wit Rooivalk die spelbreker in DRK

rooivalkDie Rooivalk-aanvalshelikopters, deesdae wit soos alle VN-wapentuig, het Maandag na bewering die M23-rebelle uit vestings by Chanzu in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) verdryf.

Dié twee gedugte Rooivalke wat deur ‘n VN-gemagtigde vredesbrigade naby die DRK se grens met Rwanda, ontplooi is, was met 70 mm-vuurpyle toegerus.

Volgens African Defence Review is M23-skuilings bestook om ’n 14,5 mm-lugafweerkanon van die rebelle te verwoes.

African Defence Review berig dat die aanval die laaste senior rebellebevelvoerders oor die grens laat vlug het en chaos onder die manskappe veroorsaak het.

Defenceweb.co.za het berig dat 38 vuurpyle deur een en 17 deur die ander Roivalk afgevuur is, en dat die aanval binne ‘n uur en twintig minute verby was.

Minder as ’n dag later het Bertrand Bisimwa, M23 se president, aangekondig dat, ná byna twee jaar, die M23 hul griewe “net op ‘n politieke wyse” sal lug.