Dan Roodt: Afrikaner, Eurokaner

Wie en wat is ‘n Afrikaner?

Soos by alle volkere wat vir lang tye oorheers of beset is, het dié vraag al telkemale in die verlede tydens krisistye na vore gekom. Tans, met die juk van die ANC-terroristebewind wat al swaarder op ons druk, tesame met die onderdrukking van ons kultuur, ervaar vele van ons mense nogmaals ‘n identiteitskrisis. Andersins verkeer ons natuurlik in die tydvak van sogenaamde “identiteitspolitiek” wat regoor die wêreld gevoer word en waardeur die identiteit van veral blanke Europeërs of Westerlinge aangeval of verguis word terwyl dié van swartmense of Moslems opgehemel word. Ons sien dit ook in die taamlik absurde “akademiese” diskoerse rondom ‘n begrip soos “witheid”. In Nederland het van die media begin om die woord “blanke” te onderdruk ten gunste van “witte” wat blykbaar oor meer negatiewe konnotasies beskik, sodat witskuld in die hand gewerk kan word.

Die voormalige Beeld-joernaliste Mandy Rossouw

Afgesien van tye in die negentiende eeu toe die koloniale Britse bewind met alle geweld gepoog het om die Nederlands- of Afrikaanssprekende bevolking aan die Kaap te verengels, was daar nog nooit ‘n tydvak in die geskiedenis toe die staat, maar ook privaat magte en kragte soos die hoofstroommedia, so hard gepoog het om die Afrikaneridentiteit aan te val, verdag te maak of te verguis nie. Ek onthou dat ‘n joernaliste van die dagblad Beeld, Mandy Rossouw (sy is intussen oorlede) my op ‘n keer geskakel het en van “rassisme” beskuldig het bloot omdat ek die term “Afrikaner” gebruik het. Ek was heeltemal uit die veld geslaan, maar het agterna by nadenke vermoed dat sy gemeen het dat Afrikanerskap in 1994 deur die revolusionêre oorname van die ANC-SAKP as’t ware afgeskaf is en dat enigeen wat aanhou om die blote woord te gebruik ‘n soort taboe oortree.

In Rapport van 21 April 2019 laat Tim du Plessis hom insgelyks kragtens die heersende ideologie negatief uit oor die Afrikaneridentiteit:

Dié klas rebellies begin dikwels as taalaktivisme vir Afrikaans. Piekfyn met my. Dan volg intree vir die Afrikaanse kultuur. Ook reg, mits dit inklusief is, soos die ATKV dit deesdae doen.

Maar dan op ‘n kol kom jy agter ons ywer is nou vir ‘Afrikaner’. En dis waar jy my verloor. Want van hier af is dit ‘n kort sprongetjie na ‘wit’.

Hiermee verwoord Du Plessis die amptelike sensuur wat daar in die Naspersmedia — deesdae bekend as Media 24 — rondom die begrip “Afrikaner” bestaan. Oor die afgelope dekade of twee is die woord vervang met die neologisme, “Afrikaanse” wat onmiddellik ietwat vroulik op die oor val, soortgelyk aan “Nederlandse”. Dog ‘n “Afrikaanse” is geen vroulike Afrikaner nie, maar veronderstel om ‘n soort samevoeging van alle Afrikaanssprekende identiteite te wees, blank en bruin. ‘n Joernalis van Die Burger, die Kaapse koerant, het my selfs vertel dat hy en ander ‘n omsendbrief per e-pos van die bestuur ontvang het waarin hulle aangesê is om die gebruik van die woord “Afrikaner” te vermy, tensy die konteks dit genoodsaak. Ons sien dus dat die term “Afrikaanse” met ‘n hoë mate van sosiogeniëring gepaard gaan, wat nie vreemd is aan totalitêre, linkse samelewings nie.

In dié verband was die ANC en sy alliansievennoot, die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty, nog altyd uiters vyandig teenoor die inheemse blanke bevolking en veral die Afrikaner. Die party se beleid het in die 1930’s beslag gekry toe dit deur Oos-Europese immigrante met ‘n internasionalistiese identiteit oorheers is. Hiervolgens is die Afrikaner gesien as ‘n “kunsmatige skepping” van die vyandelike klas, die kleinburgery of petite bourgeoisie soos daar gewoonlik op Frans daarna verwys word. In die huidige Suid-Afrikaanse tydvak, wat so intens deur ‘n linkse hegemonie gekenmerk word, het dié kommunistiese vooroordeel uit die vroeë dekades van die vorige eeu tot ‘n nasionale dogma verhard. Sowel die vorige ANC-president, Jacob Zuma, as die huidige, Cyril Ramaphosa, het reeds die datum 1652 as ‘n uiters negatiewe jaar op die kalender gekenmerk toe die Nederlanders aan die Kaap geland het en begin het “om grond te steel”. Logies gesproke, hoort ons dus nie hier nie, synde beide vreemdelinge in die land ná byna vier eeue én “fasciste” wat verseg om ‘n globale, proletariese, Engelse kultuur aan te neem soos wat die SAKP sou verkies.

Dog nie net Afrikanerskap staan in die spervuur nie. Ook die Afrikaanse taal, spesifiek die standaardtaal, gee deesdae aanstoot. Daar was die Afrikaans-must-fall-beweging op sommige kampusse, tesame met verklarings deur die hoof van Radio sonder grense (RSG) dat Standaardafrikaans toenemend deur “Kaaps” of ‘n nuwe standaardtaal met ‘n “Kaapse” grondslag vervang sou word. Verskeie taalkundiges, veral vanaf die Potchefstroomkampus van die Noordwes-universiteit, het ook begin om die Wes-Germaanse oorsprong van Afrikaans te bevraagteken en dit as ‘n soort “Khoisan-dialek” voor te stel. Kortom, en in weerwil van die taal se benaming wat na die Afrika-vasteland verwys, word Afrikaans as “te eurosentries” gesien en moet daarom soos die meeste ander dinge verafrikaniseer word deur ‘n Khoisan-identiteit daaraan toe te dig.

Dit bring my by die hooftema van dié rubriek, naamlik die spanning wat daar heers tussen die Europese oorsprong van die Afrikaner en sy heimat in Afrika, “oor ons ewige gebergtes, waar die kranse antwoord gee,” soos dit in “Die Stem” deur C.J. Langenhoven besing word. Die blote noem van “Die Stem” is egter in die huidige tydsgewrig op sigself omstrede, soos mnr. Steve Hofmeyr al telkemale ondervind het, want dié volkslied word insgelyks deur beide die links-liberale en kommunisties-radikale groeperings in Suid-Afrika verwerp.

In dieselfde trant wys die titel van dié rubriek heen na ‘n boek deur die links-liberale politikus, Frederik van Zyl Slabbert, wat sy omhelsing van liberale Engelsheid of Britsheid ten spyt, halsstarrig volgehou het om hom as “Afrikaner” te tipeer. Die teks wat ek in gedagte het is Afrikaner, Afrikaan (Tafelberg, 1999), ‘n vreemde mengsel van saamgeflanste teorie en outobiografie waarin hy die begrip “Afrikaner” letterlik opvat en so min of meer aan dié van “Afrikaan” of swartman — met al die teenstrydighede wat daaruit voortvloei — gelykstel.

Om verskeie redes verafsku ek die soort Engelsgesinde Prog-liberalisme van Slabbert en spreek dit vanself dat my eie begrip van Afrikanerskap reëlreg van syne verskil. My eie siening van Afrikaneridenteit sluit aan by die klassieke tradisie wat in 1707 met Hendrik Bibault se tussenwerpsel teenoor ‘n landdros, Ik ben een Africaander! begin het, en dwarsdeur die negentiende en twintigste eeue deur ‘n swetterjoel geskiedkundiges, skrywers, kunstenaars, argitekte, filosowe en politieke denkers ontwikkel is, waaronder N.P. van Wyk Louw.

Maar, en dis die tweede polemiese invalshoek van my argument, afgesien van my afwysing van die Afrikaner-Afrikaan-begrip, hiermee wil ek insgelyks kritiek lewer op ‘n soort gemoedelike siening van Afrika wat in die verlede deel uitgemaak het van ons identifikasie met die vasteland. In die tyd van Afrikaans must fall en Kill a Boer, kill a farmer, moet ons vereenselwiging met Afrika — dieselfde Afrika wat ons verwerp en aanval, hetsy kultureel, hetsy fisiek — noodwendig onder die loep kom. Daarmee saam moet ons herbesin oor ‘n bepaalde “Afrika-romantiek” wat ons idee van Afrikanerskap in die verlede gekleur het, en wat vir seker by Van Wyk Louw en ander teenwoordig was.

Die huidige tydvak, asook ons volslae magsverlies en oorheersing deur aggressiewe, dikwels vyandige Afrikane, dring hierdie herbesinning aan ons op. Maar ook, en juis as gevolg van Europa en Amerika se immigrasieprobleme, tesame met die opkoms van ‘n wêreldwye anti-blanke of anti-Westerse vyandigheid, bevind ons en ons stamlande ons toenemend in dieselfde bootjie. Vir die eerste keer sedert die vroeë vyftigerjare byvoorbeeld, heers daar toenemende solidariteit tussen Afrikaners en die inwoners van die Lae Lande, sowel Nederlanders as Vlaminge. In Duitsland, Frankryk, Italië en Swede vlam daar ook belangstelling op in die penarie waarin ons ons bevind, met gepaardgaande simpatie. Dít alles noop ons om ons te heroriënteer sover dit ons Europese wortels aanbetref.

Aangaande die term “Eurokaner”, het ek dit helaas nie gemunt nie. ‘n Klompie jare gelede het ek ‘n internetgesprek met ‘n jong Fransman gevoer waartydens hy ewe kripties aan my gesê het: “Afrikaner, Eurokaner, dis een en dieselfde ding.” Dit het my nogal verras en sedertdien het die woord my bygebly. Ek dink dat hy daarmee wou uitdruk dat, soos Ilana Mercer ook al geskryf het, álle blankes nou in die spervuur verkeer. (Ilana Mercer: Why hatred of whites is here to stay.)

Dit is dan die eerste, taamlik breë definisie van ‘n Eurokaner: iemand van Europese afkoms wat weens nyd en ressentiment deur ander gehaat word.

Lees ook: Dan Roodt: Eurokaner en kreool

Leon Lemmer: Harald Pakendorf stroomop gevind

In die jare vyftig het ek my daaglikse politieke skoling nie net uit Die Burger gekry nie, maar ook by die Afrikaanse radiodiens van die SAUK. Dit was die tyd van ‘n weeklikse Koffiehuiskonsert, die Mielieblaarklub en Wêreldgebeure. AM van Schoor was van 1962 af die redakteur van die middagkoerant, Die Vaderland. Afrikaners het toe nog ‘n vaderland gehad en daar was geen vooruitsig dat dit ooit anders sou wees nie. “Om eenvoudig die mag te oorhandig nadat ons twee vryheidsoorloë moes veg om vry te word, en ‘n lang pad daarná moes loop, was toe nie denkbaar nie” (Harald Pakendorf, bron hier onder, p 14). Van Schoor het elke week ‘n oorsig van wêreldgebeure aangebied. Dikwels het hy die gevoel gewek dat die Derde Wêreldoorlog binnekort kon uitbreek.

Tydens die Algerynse Oorlog (1954-1962) het Van Schoor voorspel dat wat in Algerië met die blankes gebeur, ‘n aanduiding sou gee van wat uiteindelik die lot van blanke Suid-Afrikaners gaan wees. Suid-Afrika en Algerië was toe die ontwikkeldste en suksesvolste lande in Afrika, danksy hulle substansiële blanke bevolkings. Meer as ‘n miljoen blankes het Algerië verlaat toe die Arabiese en Berberse Moslems politieke beheer oorgeneem het. Charles de Gaulle (húlle FW de Klerk) het die blankes uitverkoop. Sedertdien het ek my deurlopend van die verwikkelinge aldaar vergewis en ook in besonderhede met die lewensloop en idees van ‘n patriotiese blanke Algeryn, Albert Camus (1913-1960), kennis gemaak.

Na Van Schoor het Dirk Richard die redakteur van Die Vaderland geword en hy is opgevolg deur Harald Pakendorf (1979-1986), wat voorheen die redakteur van Oggendblad (1972-1979) was. Die volgende boek van Pakendorf is op 1 April gepubliseer: Stroomop: Herinneringe van ‘n koerantman in die apartheidsera (Kaapstad: Penguin Books, 2018, 240p, R230; Amazon Kindle $15,96). Die Vaderland het in 1936 tot stand gekom (p 201), met Gustav Preller as die eerste redakteur (41). Die koerant het toe eerder Barry Hertzog as die meer konserwatiewe DF Malan gesteun (11). “Die gematigde toon het voortgeduur totdat AM van Schoor die koerant in die sestigerjare na regs geruk het en die regtervleuel van die NP gesteun het. Dirk Richard het hom weer na sy oorsprong teruggebring. Dit het my gepas, maar ons sou verder gaan en die koerant na die linkse, of verligte, vleuel van die NP neem” (42).

Pakendorf verkwalik Van Schoor omdat hy Barry Goldwater in 1964 as Amerikaanse presidentskandidaat gesteun het. Dit gee aan Pakendorf die geleentheid om ‘n steelhou teen Donald Trump in te kry: “Goldwater is destyds as uiters regs beskou, ‘n soort Donald Trump wat darem nie soos ‘n analfabeet geklink het nie” (12). “AM van Schoor [het] die koerant erg na regs geruk” (120) en “Van Schoor [het] die koerant na verregs geruk” (213). Dit is duidelik dat Pakendorf ‘n renons in regse politiek het. Sy strategie was om apartheid “van binne te vermurwe” (5). Soos Lizette Rabe (Praag 7 April) wil hy blykbaar eerder ‘n Duitser as ‘n Afrikaner wees. Sy broer, Gunther, veral bekend vanweë sy boekresensies in koerante, was ‘n hoogleraar in Duits aan die Universiteit Kaapstad (198). Met Frederik van Zyl Slabbert het Pakendorf ‘n “hegte vriendskap” gehad (84). Hy noem Slabbert ‘n “gesiene Afrikaner” (154), wat toon dat Pakendorf nie die nodige onderskeid tussen ‘n Afrikaner (wat sekere tradisionele waardes aanhang) en ‘n verloopte of volksvreemde blanke Afrikaanssprekende (soos Slabbert of Pakendorf) maak nie.

Die outeur was traag om hierdie boek te skryf en het net by tye flink daaraan gewerk. “Dis nie eens in chronologiese volgorde nie; hier en daar word soms herhaal” (1). Die resultaat is sekerlik nie ‘n meesterstuk nie. Die skaars 200 bladsye kan in ‘n dag gelees word. Oudkollegas is deur Pakendorf gevra om hulle herinneringe by te dra, soortgelyk aan hoe radio-omroepers deesdae met behulp van luisteraars resepteboeke saamstel en publiseer. Dit het blykbaar deel van politieke byderwetsheid geword dat ‘n manlike outeur in sy herinneringe meer erkenning aan sy eggenote gee as wat nodig is, al is dit omdat sy graag tennis speel (soos in Dawie de Villiers se geval – Praag 17 Maart). By Pakendorf is dit dat sy vrou (soos hy) ‘n “ervare en knap joernalis” was (15). “Sy is een van die bekwaamste joernaliste” (101).

Aletta Pakendorf

“Toe ek sewentien was, was my enigste ambisie om met die mooiste en slimste meisie in die skool te trou. En ek het!” (101) in 1963 (69). “In graad agt het sy ‘n Transvaal-wye opstelwedstryd … gewen … Sy is ook akteur en het in twee van Jan Scholtz se TV-sepies gespeel. En kán sy kook, klere maak, brei – en lees” (101). Haar joernalistiek het vir haar dieselfde soort kritiek as vir Pakendorf op die hals gehaal. Sy skryf: “Ek praat volksvreemd, ek is ‘n vyand van ons volk, ek is van die soort wat my kinders en my volk wil besmet” (101). Pakendorf haal uitgebreid aan oor wat sy vrou destyds geskryf het (56-59, 61-63), maar haar briljantheid is vir my minder duidelik as vir hom. Maar sulke aanhalings help om die karige teks ‘n bietjie langer te maak. Pakendorf se vrou is op sewe van die 24 foto’s in die boek.

“My ouers was inderdaad aan al twee kante Duits” (7) en Lutherane. Pakendorf is seker dat sy ouers die Nasionale Party ondersteun het (8). Na die bywoning van Afrikaanse skole het Pakendorf (kortstondig) “heeltemal Afrikaans/Afrikaner” geword, “hoewel ek met my ouers Duits gepraat het” (11). Ná voltooiing van sy skoolloopbaan is hy via die lugmaggimnasium na die Universiteit van die Witwatersrand. Daar het hy as student misluk (“die liberale oud-Witsie” – 94), maar mettertyd ‘n graad aan Unisa verwerf (68). Soos sy mede-joernalis en linkse vriend, Allister Sparks (6, 28 – wat, soos Pakendorf se vrou (102), geen naskoolse kwalifikasie gehad het nie – Praag 22.10.2016), berus Pakendorf se akademiese roem daarop dat hy vir die akademiese jaar 1968/69 ‘n Nieman-beurshouer aan Harvard University in Amerika was. Sy vrou het ook van die lesings bygewoon (12). Hy verswyg dat net joernaliste wat links genoeg is, of links beïnvloedbaar is, as Nieman-genote gekies word. “Ek het nooit by die NP of Afrikaner-Broederbond aangesluit nie” (19). Dit was anders gesteld met Willem (Wimpie) de Klerk, FW se ouer broer, wat ook, anders as Pakendorf, ‘n soliede akademiese agtergrond gehad het. Willem de Klerk was toe die redakteur van Perskor se oggendkoerant, Die Transvaler. Pakendorf skryf: “Dalk het Willem net té buite die daaglikse bedryf gestaan van koerant uitgee” (116).

Destyds: “Werk jy vir Nasionale Pers of Perskor … is dit ‘n gegewe dat jy die Afrikanersaak in die breë, en veral dan die Nasionale Party, sal ondersteun” (80). Perskor en sy koerante het met wisselende entoesiasme die Nasionale Party gesteun. “Dit is egter veral in die geval van Die Vaderland so dat daardie steun vrywillig gegee word en dat dit getemper word deur ‘n openheid ten opsigte van besondere opsies binne breë beleid, maar ook ‘n verkennende funksie ten opsigte van die beleid as sodanig” (213). “En Vader behoede! Jy moes sterk, baie sterk, teen kommuniste wees en hulle pogings om die blanke, en dan veral die Afrikaner, te ondermyn” (81). Pakendorf gee ewe loslit voor dat kommunisme geen werklike bedreiging was of is nie. In werklikheid sit ons sedert 1994 met ‘n regering wat in baie opsigte nie net wesenlik kommunisties is nie, maar ingevolge die 1955-Vryheidshandves al hoe meer marxisties word.

In 1972 het Pakendorf die redakteur van die Pretoriase koerant, Oggendblad, geword. “Ek het dit duidelik gemaak dat ons politieke benadering links van die NP se sentrum sou wees, dat ons vir verandering sou staan en nie net die party se sienings sou uitdra en hom verdedig nie” (23). Volgens die joernalis André le Roux: “Dit was duidelik dat openheid of verligtheid ‘n praktyk-gegewe was tot die mate dat Oggendblad en sy redakteur, veral in die politieke mags-establishment, as ‘n los kanon gesien is” (23). Leopold Scholtz praat eerder van ‘n ongeleide missiel. Pakendorf kontrasteer sy benadering met dié van Naspers-joernaliste soos Piet Cillié en Schalk Pienaar. “Van aanhou stem dik maak was daar nie sprake nie, hoewel in later jare daaroor hoog opgegee is. Die bevraagtekening het nie oor die reg of verkeerd van die bestaande orde gegaan nie, maar was voorstelle tot verfyning en het nie ‘n nuwe orde met verlies van Afrikanerseggenskap as ‘n moontlikheid voorsien nie” (81). “Van werklike verandering wat die hele stelsel sou moes vervang, was daar geen sprake nie. Daar is dikwels verwys na voorlopers en verligte denkers, en daar was. Maar dit het nie gelyke behandeling vir alle rasse in die land ingesluit nie, wat dan magsoorgawe sou inhou” (123). Pakendorf, daarenteen, het die ideaal gekoester dat die blanke bewind deur ‘n swart regering vervang moet word (59). Hy was beswaard “oor die sware gang van die [NP-]partybeleid” (140). Van “gelyke behandeling vir alle rasse” is daar egter deesdae steeds geen sprake nie. Ingevolge die hooggeprese Grondwet kan/moet daar sonder keerdatum tot in die oneindige toekoms blatant en suiwer rassisties (regstellend genoem) teen blankes gediskrimineer word.

“Selfs ons taalgebruik [was] ‘n kwessie. Ons het besluit om eenvoudige Afrikaans te skryf, geen hoogdrawende woorde nie” (24). Die boek is in goeie en vloeiende Afrikaans geskryf. In enkele opsigte kon die taal beter gewees het, bv busstop (27 – bushalte), sleutelbelang (27, 145 – kern- of deurslaggewende belang), kom sien (30 – kom spreek), “was ek kortliks in Rhodesië” (36 – ‘n kort rukkie: “kortliks: in min woorde, nie breedvoerig nie” – HAT), pleinweg (47 – gewoonweg), toewyding tot (78 – toewyding aan), stap geneem (109 – stap gedoen), deadline (129 – sper- of keertyd, tydgrens), wat hulle in gemeen het (176 – wat hulle gemeen het).

In 1978 het Pakendorf “die probleem in Suid-Afrika” (42), soos volg verwoord: “In part, the problem stems from the historical experience of the dominant element within the ruling white group, namely the Afrikaner. He still naturally thinks of himself as threatened, as his forefathers were threatened a century and less ago, by the British Empire. He is just as willing now to be cast into the same heroic mould as his forefathers were in the bitter war that raged across the country at the turn of the century … he has the fear that, if he were to lose all again, there may not be another opportunity to regain what is lost … Thus, as at the end of the twentieth [19th] century,the Afrikaner again feels threatened. He feels that the issue now is not merely the question of who should have the vote, but rather an attempt to take all of his country and leave him at the mercy of a paper constitution which would supposedly guarantee his rights” (43).

Met verwysing na republiekwording in 1961 het Pakendorf in 1986 geskryf: “We should also remember that the political history of this country has not fundamentally been one between Black and White. It has been between Afrikaans and English, and that was removed in 1961. It was only then that the real question of Black and White came to the fore. The Afrikaner, until 1961, felt that he was being discriminated against, he had a feeling that an injustice was being done unto him” (43-44). In soverre gedink is dat die politieke opset in die republiek onregverdig was, bv “dat die swart meerderheid buite die tuislande polities geakkommodeer moet word [was] die noodsaaklike gevolg hiervan …’n gemengde regering en dan uiteindelik een wat hoofsaaklik swart was” (45).

“Ons het in dié tyd [jare tagtig] goeie kontak met vele bevrydings-* en weerstandsorganisasies opgebou juis omdat ons so breedvoerig en sonder vooroordeel oor hulle berig het” (50). Blykbaar geld dieselfde onbevooroordeeldheid nie vir die regses nie. “Ons het uitvoerig oor die regses berig – die KP, HNP, AWB – en hulle ook teen mekaar afgespeel” (48). “Ons het ‘n felle stryd met die klomp [!] gehad” (86). Karin Brynard het in 1983 geskryf: “Kappiekommando het ‘ander hemel'” (49). Pakendorf skryf: Die regses, soos Andries Treurnicht, “verteenwoordig die verlede. Ons moet die toekoms hanteer” (82). [* In die konteks van Rhodesië verwys Pakendorf na “die terroriste/bevryders” (37), maar die ANC/UDF-aktiviste, bv MK-soldate, word nie terroriste genoem nie.]

Hoe anders, in die sin van beter, Suid-Afrika destyds was, blyk uit die volgende. Oudjoernalis Juanita Swanepoel skryf: “Ek het in Berea gebly, net ‘n paar kilometer van die Perskor-gebou. Soms het ek sommer na die kantoor geloop. Dit was glad nie gevaarlik nie. Johannesburg en Hillbrow is in dié tyd goed bestuur, met Hillbrow ‘n mini-New York” (50). Pakendorf skryf: “Gaan al die dinge [politieke veranderinge] dit moontlik maak dat wit mense seggenskap oor ten minste hulleself behou, of gaan gesamentlike besluitneming nie maar op ‘n swart regering neerkom nie? Vir Die Vaderland [Pakendorf] was laasgenoemde die pad vorentoe [!]” (59). “Die ondenkbare het denkbaar geword” (59). Dít kom van Pakendorf wat die sluipmoord op Hendrik Verwoerd aanskou en daarna geskryf het: “Ons kan maar net bid dat die goeie waarvoor Hendrik Verwoerd gestaan het, behoue sal bly” (129).

Pakendorf beweer dat die veiligheidspolisie hom dopgehou het en dat sy telefoongesprekke afgeluister is. “Was die owerhede, Afrikanerowerhede, so onseker, so paranoïes, dat hulle mense wie se mening hulle elke dag kon lees, van nader wou dophou?” (74). “Tot so onlangs as 2015 is nog na my as ‘n ‘volksverraaier’ verwys” (76). Na ‘n televisie-optrede in 1985 het Pakendorf die volgende kriptiese boodskap in ‘n brief uit Kanada ontvang: “To Harry Pakendorf, Die Vaderland, Soon you won’t have one” (66).

Tydens apartheid het Pakendorf vir (groter) mediavryheid geveg. “Ek het gepleit vir ‘n beskermde klousule in die Grondwet wat vryheid van die media waarborg, plus ‘n waarskuwing: Meer perke sal die land verander in een waarin beskaafde

demokratiese mense nie sal wil woon nie” (79). Is die nuwe Suid-Afrika ‘n paradys vir “beskaafde demokratiese mense”? Was daar tydens apartheid doodgewone alledaagse woorde wat kon veroorsaak dat jy jare tronkstraf moet uitdien én ‘n reuse boete (R100 000) aan ‘n nie-funksionerende slapgat polisieman moet betaal? So iets kan net in ‘n hoogs abnormale samelewing gebeur. “Hoewel die ANC ‘n groter toewyding tot [aan] spraak- en mediavryheid het as wat die NP ooit gehad het, is daar tog ooreenkomste in benaderings” (78). Oor die nuwe Suid-Afrika skryf hy later: “Daar is mediavryheid soos nêrens anders nie [?]. In vergelyking met die tyd voor 1994 is dit ‘n wonderbaarlike en algehele ommeswaai. Die media in die besonder, die howe en die burgerlike samelewing verhoed dat die land nie heeltemal in ‘n moeras verval nie, dat die ergste verneukery aan die lig kom en soms gestuit word” (228).

Maar het Pakendorf mediavryheid toegelaat by die joernaliste wat vir hom as redateur gewerk het? “Daar is verwag dat as jy saam met my werk, jy ‘n standpunt links, soms ver links, van die Nasionale Party sou handhaaf” (84). “By Oggendblad en Die Vaderland was daar ‘n instinktiewe losstaan van die Afrikaner-establishment” (97). Oor sy vrou se joernalistiek skryf Pakendorf: “Die boekeblad was besonders en haar rubrieke eweneens – alles deel van die groter prentjie, die losser staan van die bestaande orde” (103). In die boek is daar geen aanduiding dat Pakendorf hom in dieselfde mate van die huidige korrupte, ondoeltreffende swart bewind distansieer nie. Maar hy erken darem: “Die SAUK as openbare uitsaaier [was] destyds net so na aan die regerende party as die een [SABC] vandag” (128).

PW Botha het apartheid aangepas “maar nooit eens met die gedagte dat die verandering sou beteken dat die Afrikaner, en dus die NP, die mag sou prysgee nie. Dalk sou mag gedeel kon word, maar met remme ingebou wat die Afrikaner – en ook alle blankes – se regte sou beskerm” (152). Dit het FW de Klerk se berugte wigte en teenwigte geword, waarvan niks tereg gekom het nie. Die huidige plaaslike politieke opset het ‘n aanvang geneem toe die Nasionale Party besluit het om mag met die bruin mense en Asiate te deel. “Dit [is] deur wesenlike dele van die NP gesien … as die aftakeling van wat beskou is as die vaste standpunt van die party: blanke heerskappy, en veral die beskerming van Afrikanerbelange” (105). In albei opsigte het die NP-onderhandelaars jammerlik gefaal.

In Rhodesië/Zimbabwe is “setels [aanvanklik] vir die wit minderheid gereserveer” (106): 20 uit die 120 gekose parlementslede vir sewe jaar. Plaaslik is selfs dit nie vermag nie. Effektief was dit algehele oorgawe aan swart mag. Pakendorf vestig die aandag op ‘n belangrike opsig waarin die fatale onderhandelinge blankes in selfs groter mate en vinniger kon benadeel het. “As ons in 1994 nie oorgeskakel het na die proporsionele stemstelsel nie, sou die ANC met gemak ook meer as ‘n tweederdemeerderheid gekry het – en na hartelus die Grondwet kon verander het om hom te pas!” (138).

Naas die 1990/94-ramp was die versaking van die Rhodesiese blankes seker die NP-regering se verraderlikste daad. Pakendorf maak dit af asof dit niks is nie. “Dit is nie moontlik dat 250 000 blankes vir altyd oor ses miljoen swart mense kan regeer nie” (18). Soos die NP-onderhandelaars en die ANC dink Pakendorf suiwer kwantitatief. Die kwalitatiewe minderheid onder wie se bekwame leiding sowel Suid-Afrika as Rhodesië (en Suidwes-Afrika) ontwikkel is, word sonder gewete vir die wolwe gegooi. Lees gerus Ian Smith se boek, The great betrayal, (London: Blake Publishing, 1997, 418p; Bitter harvest, 2008, 465p, Amazon Kindle $6,89).

Oor die destydse vooruitgang/ontwikkeling onder die blanke bewind is Pakendorf sinies: “Vooruitgang … Maar altyd soos deur wit heersers bepaal en altyd vanuit ‘n meerderwaardige houding. In wese, ‘n diepe belediging vir blote menswees” (124). Sou agteruitgang onder swart heersers werklik beter wees? In die plek van blankes se meerderwaardige houding het die diktatuur (of tirannie – John Stuart Mill) van die meerderheid (die kwantitatiewe, die demografie, sonder inagname van kwalitatiewe oorwegings) gekom. Is dit werklik ‘n saliger toestand vir die land en vir die (meerderheid) inwoners?

“My standpunt was dieselfde as dié van die regses in die party [NP], asook die HNP: As jy eers die deur vir magsdeling oopmaak, sal jy hom nooit weer kan toemaak nie. Hulle was daarteen; ek daarvoor” (109). Dit herinner aan die laaste sin in NP van Wyk Louw se Raka (Kaapstad: Nasionale Boekhandel, 1958, p 32): “Raka, die skelm dier … niemand het gewaag om met een slag die smal hek ooit weer teen hom te sluit.” Dan kom Pakendorf met hierdie soliede dwaasheid: “‘n Gedeelde toekoms was nie net die regte ding om te doen nie, maar ook op lang termyn die enigste waarborg [!] vir die Afrikaner se bestaansreg en die blanke gemeenskap in die algemeen” (109). ‘n Mede-joernalis, At Viljoen, het ‘n reeks van drie artikels oor die moontlikheid van konsosiasie/saambestaan in Pakendorf se koerant geskryf: “Die opgee van totale mag en die deel daarvan met ander bevolkingsgroepe. Maar darem met genoeg beskerming vir die blanke, en dan veral die Afrikaner” (116).

Pakendorf se siening van die blanke bewind, oftewel apartheid, is: “Ons sal besluit en julle moet dit aanvaar” (122). “Wat sou óns gesê het en hoe sou óns reageer het indien vir ons gesê is: Ons het besluit, hier is julle vryheid. Geniet dit. Dis mos wat julle wil hê” (122). Dit is om die saak op ‘n goor manier te stel. Is die blankes se staatkundige situasie deesdae beter as dié van die swartes destyds? Sekerlik nie. Dit is ongetwyfeld baie slegter. Cyril Ramaphosa het suiwer rassisties gesê dat blankes se eiendom sonder vergoeding gekonfiskeer en aan swartes gegee gaan word, of blankes daarvan hou of nie. Owerheidsdiefstal was nooit NP-beleid nie. Byvoorbeeld, onteiening ingevolge die wet op groepsgebiede het in ruil vir vergoeding aan die eienaars geskied.

As oorverligte (Otto Krause het gepraat van “oorbeligte” – 91) het Pakendorf Nelson Mandela verdedig teen diegene wat oor sy bekwaamheid en bestendigheid getwyfel het. Hy verwys tereg na die “sjarme-krane” wat Mandela oopgedraai het (145) om bv die blankes te paai. My indruk is dat Mandela ‘n hopelose skepsel was wat glad nie in staat was om die land te regeer nie. Thabo Mbeki word gekritiseer omdat hy “begin [het] om ras in byna alles raak te sien” (147). Was dit nie eerder deurgaans só nie? Jacob Zuma word beskryf as “slim maar nie wys nie … kon destyds my nie indink dat hy Suid-Afrika so tot by die afgrond sou sleep nie” (147).

“Met FW de Klerk … het ek persoonlik nie veel te doen gehad nie, hoewel ons by die koerant hom regs van die middel beskou het … Ek is oortuig daarvan dat hy nie die uitkoms van die oorgangsonderhandelinge so wou gehad het nie, maar ‘n groter mate van beskerming vir blanke belange, en dan veral Afrikanerbelange, sou wou inbou” (144). “Jy kan nie Nelson Mandela uit die tronk vrylaat, die ANC vryelik laat opereer en reken jy kan nog beheer behou nie. Om van voorskryf soos in die verlede nie eens te praat nie. So gesien, was die ooreenkoms wat tot die verkiesing van April 1994 gelei het, buitengewoon [!] goed. Veral drie elemente was van sleutelbelang en in later jare sou dit blyk nie vir die ANC gunstig te wees nie: [1] die proporsionele stemstelsel wat totale ANC-oorname op lang termyn verhoed het, [2] die klem op menseregte, en [3] die Konstitusionele Hof met sy wakende oog oor die Grondwet” (145).

[1] Die proporsionele stemstelsel het totale ANC-oorname dalk net op kort termyn verhoed. Op lang termyn is dit demografiegewys stikdonker nag vir die blankes, selfs as die swartes hulle anti-blanke solidariteit net in ‘n redelike mate handhaaf. Die instroming van inkommers, wat deur Cyril Ramaphosa aangemoedig word met sy ideaal dat daar geen landsgrense in Afrika moet wees nie, vererger hierdie situasie. [2] In die praktyk is menseregte ‘n foefie wat misbruik word om voorheen benadeeldes, dus tans bevoordeeldes (swartes), verder te bevoordeel en voorheen bevoordeeldes, dus tans benadeeldes (blankes), verder te benadeel. [3] Vir die blankes is daar (feitlik) geen voordeel in die Grondwet wat na goeddunke vertolk en na willekeur deur die swart meerderheid verander kan word nie.

Daar is vir die blankes ook geen heil in die Konstitusionele Hof nie. Na aanleiding van die boek, Hermann Giliomee, historikus: ‘n outobiografie (Kaapstad: Tafelberg, 2016), het ek op Praag (18.03.2017) geskryf dat Giliomee “die mite van ‘n regbank wat onafhanklik van die ANC funksioneer, nekomdraai. Driekwart van die regters in die Konstitusionele Hof ‘is ope of stilswyende ondersteuners van die ANC’ (p 202). Hierdie hof is ‘bevooroordeeld ten gunste van die dominante party … die ANC daarop ingestel is om al die magsinstrumente te beheer, insluitende die regbank. Teen 2015 het die regerende party minstens driekwart van die Regterlike Dienskommissie se lede, wat regters by die uitvoerende gesag aanbeveel, geplaas’ (203).”

Pakendorf stel die belangrike maar selde genoemde feit dat die ANC gestig is om “sekere regte vir die swart elite – hoegenaamd nie die massa nie – te behou” (149). Daar kan kwalik twyfel wees dat die ANC-leierskap steeds onwrikbaar koersvas op hierdie pad is. Hy skryf ook in besonderhede oor die interne woelinge in Perskor, wat seker nêrens anders gedokumenteer is nie. Maar dit is sake waaroor daar min openbare belangstelling is. Wat wel steeds van belang is, is wat hy skryf oor sy ontmoeting met die ANC in die Mfuwe-wildreservaat in Zambië in 1985. Hy is daarheen genooi want “Die Vaderland [is] as al hoe meer radikaal gesien” (161), wat eintlik ‘n swak getuigskrif is. ‘n Politieke wetenskaplike, Piet Liebenberg, het toe tereg verwys na “die ware ANC wat op militante wyse ‘n radikale, revolusionêre verandering in die RSA wil bewerkstellig” (165).

Na aanleiding van verskerpte sanksies teen Suid-Afrika het Pakendorf geskryf: “So word ons gestraf vir die onreg in die land, vir die gewettigde diskriminasie, vir apartheid om die ding op sy naam te noem” (165). Die onreg van wettige rassediskriminasie is natuurlik nog steeds met ons, maar word teen blankes gepleeg, gevolglik word dit nie deur oorverligtes soos Pakendorf veroordeel nie. Hy het dit eintlik voorsien: “Wanneer die wit bewindhebbers die dag ingeruil is op swart bewindhebbers en menseregte nog minder erkenning kry as tans, sal ons land egter nie meer ‘n ‘morele’ probleem vir die res van die wêreld wees nie … Ons moet self besluit wat geregtigheid is en magsdeling mag die antwoord wees – maar ons moet bereid wees om daaroor te onderhandel en nie voor te skryf nie” (166). In 1985 het Pakendorf by ‘n kongres van die Africa-America Institute in Washington DC “met stelligheid voorspel dat ‘n swart regering in Suid-Afrika in die vooruitsig was” (209).

Oor die Mfuwe-gesprekke skryf Pakendorf: “Die berigte het natuurlik Die Vaderland se posisie herbevestig as die mees uitgesproke Afrikaanse koerant, wanneer dit by die ANC en pleidooie vir gelyke behandeling vir alle mense in die land kom. Ook meer as byna alle Engelse koerante” (191). Oor die gesprekke self het Pakendorf in Die Vaderland geskryf: “Die ANC het sonder twyfel as menslik oorgekom, ver van die indruk dat hierdie net geharde terroriste is … Die ANC is nie koelbloedige barbare wat wit Suid-Afrikaners se koppe teen die spreekwoordelike wawiel wil stukkend slaan nie” (169) – eintlik ‘n lae hou, want die verwysing is na wat met Voortrekkerbabas na die moord op Piet Retief en sy geselskap gebeur het.

“‘n Stelsel van een mens, een stem in een land is vir die ANC onverhandelbaar. Die enigste saak waaroor onderhandel kan word, is hoe om dit te bewerkstellig” (180). Dan hierdie belangrike en korrekte inligting oor die ANC vyf jaar voor met grondwetlike onderhandelinge begin is: “As hulle praat, wil hulle praat oor hoe om die bewind oor te neem. Magsdeling, gesamentlike besluitneming, federasies … dit is nie deel van die ANC se politieke agenda nie” (169). “Dit gaan oor magsoorname, nie magsdeling nie. En om hulle doelwit te bereik, sal hulle geweld en bloedvergieting aanwend. Daaroor moet daar nie illusies wees nie” (170).

“Die ANC-standpunt is dat hulle sal voortgaan met die veldtog van geweld omdat dit ‘n metode is om die Regering onder druk te plaas” (179). Dan volg hierdie vermetelheid: “Die ANC glo dat hulle Suid-Afrika eintlik ‘n guns doen met hul veldtog van geweld. Sy lede is bereid om hulle lewens te gee ‘om ‘n wonderlike [!] Suid-Afrika te skep waarin almal [!] trots sal wees om burgers te wees'” (179-180). “Geregtigheid op politieke, ekonomiese en maatskaplike vlak [sal] vir alle mense tot stand kom” (183). “Die ANC is nie te vinde vir ‘n tydelike opskorting van hul veldtog van geweld om met die Regering te onderhandel nie … As die Regering ernstig is met sy hervormingsveldtog, sal hy nie daarop aandring dat die ANC geweld afsweer nie” (180). Is sodanige gewelddadigheid versoenbaar met Pakendorf se stelling dat die ANC nie “geharde terroriste” en “koelbloedige barbare” is nie?

Het FW de Klerk en sy onderhandelaars versuim om kennis te neem van wat Pakendorf in 1985 geskryf het of het hulle hulle eenvoudig nie daaraan gesteur nie? Tydens die grondwetlike onderhandelinge het die ANC volstoom en feitlik ongesteurd met sy terrorisme voortgegaan en die skuld op die regering se veiligheidsmagte of ‘n fiktiewe derdemag gepak. Nieteenstaande Pakendorf se duidelik uitspraak in 1985 het De Klerk voor en ná die 1992-referendum voorgegee dat dit tydens die onderhandelinge om magsdeling en nie om blanke magsoorgawe gaan nie.

Die owerheidsdiefstal van blanke eiendom deur ‘n ANC-regering is ook reeds in 1985 voorsien: “Daar is voorstanders van nasionalisering en onteiening van eiendom en maatskappye, en daar is diegene wat ruimte sien vir ‘n vorm van die vryemarkstelsel onder sentrale beheer” (170). Die sentralisering van politieke mag is kenmerkend van marxistiese state. “Daar moet ‘n mate van herverdeling van rykdom plaasvind … Tog sal private inisiatief ‘n rol hê om te vervul … Maar die ANC het min twyfel dat die kapitalisme verwerp sal word … Suid-Afrika is ‘n ryk land en die rykdom moet gedeel word” (181). “Die basis van die stryd is … die Freedom Charter” (182). Die nuwe Suid-Afrika sal glo nie soos die res van Afrika wees nie (181). In werklikheid word Suid-Afrika sedert 1994 al hoe meer ‘n tipiese Afrika-staat en dit is nie ‘n kompliment nie.

Laat in Pakendorf se 1985-verslag en onprominent kom Afrikaans darem aan die beurt: “Ons gesels oor die toekoms van Afrikaans. Die taal sal bly voortbestaan, kom die versekering” (173). Daar word nie gevra of gesê vir hoe lank Afrikaans sal voortbestaan nie en ook nie of ‘n ANC-regering Afrikaans sal bevorder nie. Maar dit is in elk geval dwaas om peil te trek op versekeringe wat deur die ANC gegee word.

In ‘n nawoord van twee bladsye – seker van die skandaligste twee bladsye in die annale van die Afrikaanse literatuur – skryf Pakendorf: “Met die land gaan dit redelik … Die howe funksioneer behoorlik [?], die media is sterk, en daar is beweging- en meningsvryheid [Sparrow? Momberg?]. Dis ‘n werklik demokratiese bestel waar ander partye as die ANC in die afsienbare toekoms ‘n regering sal kan saamstel. Natuurlik is daar groot probleme – misdaad, werkloosheid, swak onderwys, kwynende werksgeleenthede, ‘n korrupte en onbekwame spul regeerders. Feit [!] is egter dat diskriminasie op grond van ras weg is [!] – en dis nie korrek om hier na omgekeerde diskriminasie te verwys nie” (229). Pakendorf dink blykbaar daar is geen wraaksug van die swart kant af nie. “Regstellende aksie is nie eens naastenby, effens of omtrent, vergelykbaar met dit wat ons aan ander rasse in die land gedoen het nie. Goed, dit word verkeerd toegepas, maar noodsaaklik is dit wel. Al is dit net om die onreg van die verlede te help regmaak” (229). Dit is makliker om huidige onreg reg te maak en Pakendorf kan hom gerus eerder hiervoor beywer. Dan sal hy die blankes se kant moet kies en polities byderwets sal hy dit om die dood nie doen nie.

Pakendorf kom met dieselfde drogredenasie as Nelson Mandela: Na die Anglo-Boere-oorlog (ABO) is Afrikaners glo “boontoe … op die rug van ander, dat ons ons reg gebou het op ons onreg jeens ander. Maar tog het ons in die tagtigs, en gewis in die negentigs [magsoorgawe], die wonderbaarlike [!] reggekry: Ons het ons rug gekeer op die onreg en in ‘n vrye referendum in 1992 uit ons eie die mag oor die land opgegee – en ook die mag oor onsself” (230). Pakendorf weet sekerlik dat hy hier lieg. Die meeste ja-stemmers was bereid om ‘n mate van politieke mag aan die swartes te gun, maar daardie blankes was sekerlik nie bereid om hulle selfbeskikking op te offer in ruil vir die tirannie van die meerderheid nie. Die blanke kiesers is destyds deur FW de Klerk valslik onder die indruk gebring dat bv eie woongebiede en eie skole sou bly voortbestaan en dat niemand sy werk sou verloor nie. Ook dat die nuwe grondwet in ‘n opvolgreferendum aan die blanke kiesers vir goed- of afkeuring voorgelê sou word. Van hierdie plegtige beloftes het niks tereg gekom nie.

Oor die eerlose en oneerlike magsoorgawe in 1994 is Pakendorf liries. “Dít was ons Derde Vryheidsoorlog. Ons het hierdie een as oorwinnaars afgesluit – ‘n oorwinning vir die land, maar ook vir onsself” (230). Jonathan Jansen, daarenteen, beweer dat die Afrikaners in 1994 ‘n tweede keer verloor het; net soos in 1902. Die gevolge van 1990/94 (veral op lang termyn) is myns insiens nie minder destruktief as die ABO nie. Ons kan letterlik alles verloor en nie eens met ‘n verskroeide aarde bly sit nie omdat dit deur die owerheid sonder vergoeding van ons gesteel kan word. Hoe kan 1994 ‘n oorwinning vir die land (en die meeste van sy inwoners) wees as, anders as voorheen, agteruitgang, verval en wetteloosheid sedertdien kenmerkend van die land geword het?

Dan wend Pakendorf hom suiwer kwantitatief (soos die ANC) tot die verkleinering van Afrikaners. “Feit is eenvoudig dat die Afrikaner ‘n minderheid van die Afrikaanse gemeenskap uitmaak en ‘n nóg kleiner minderheid in die land – in so ‘n mate dat g’n niemand hom eintlik aan ons hoef te steur nie. Net so nou en dan, as dit kom by sake soos Afrikaanse skole, maak ons ons stemme dik en word daar geluister” (230). Glo Pakendorf werklik dat Afrikaners in 1992 vir boggerolstatus gestem het of is ons veeleerder uit ons toekoms verneuk? Oor Afrikaanse skole sal Pakendorf hom nie bekommer nie. Hy het sy kinders in Duitse skole laat opvoed. Soos ander oorverligtes vertroetel Pakendorf sekerlik minderheidsregte vir swart Amerikaners. Waarom nie ook simpatie hê met blanke Suid-Afrikaners aan wie geen groeps- of minderheidsregte gegun word nie?

Pakendorf borduur valslik voort: “Ons het ons onsself as’t ware uitrangeer. Ons is te veel die haan wat op sy eie mishoop staan en kraai – so ver van almal dat niemand dit hoor nie. Kyk maar net na die syfers [weer kwantitatief]: Uit elke tien mense wat Afrikaans as moedertaal praat, is een swart, vyf bruin en net vier wit. Maar as jy loer in die media, luister na openbare debatte, om jou kyk, sal jy sweer die Afrikaner is die somtotaal van die gemeenskap” (230). Wat die blankes en veral die Afrikaners alles tot stand gebring het (sowel kwantitatief as kwalitatief) word glad nie deur Pakendorf in berekening gebring nie. Hy skaar hom eerder by bv die onetiese terroriste en misdadigers wat deesdae magsposisies beklee.

“Voordat ons almal in hierdie gemeenskap nie saampraat, saamwerk, vir mekaar omgee nie, sal ons seggenskap oor onsself en in ons land nóg meer afneem. Ons gaan die vrugte van ons oorwinning [!] in die Derde Vryheidsoorlog laat vrot word, want te veel van ons het in ons diepste wese nie van die gedagte dat die Afrikaner ‘n uitsondering is, histories anders is, afskeid geneem nie. Ons is net nie genoeg toegewy aan die groter materiële en geestelike welvaart van al die mense in die land nie. So van alleen staan, sal ons nog vergaan” (230). Die suksesvolle en vooruitstrewende Suid-Afrika van weleer was ‘n uitsonderlike land waartoe Afrikaners onontbeerlike en uitsonderlik voortreflike bydraes gelewer het. Daar kan kwalik van Afrikaners verwag word om met dieselfde entoesiasme hulle vindingrykheid en kundigheid in ‘n bodemlose put te stort; des te meer as hulle deurlopend benadeel, geminag, misken en verguis word. ‘n Sterk saak kan daarvoor uitgemaak word dat Afrikaners op grond van hulle bewese positiewe bydraes beter as enige ander ras- of etniese groep behandel behoort te word. Die teenoorgestelde is egter die geval en Pakendorf vereenselwig hom daarmee.

Pakendorf het daarop aangedring dat sy koerant se beleid duidelik verlig moet wees omdat “ek nie anders kan wees as wat ek is nie” (214). In 1986 is hy weens sy politiek deur Perskor ontslaan (222). “Ek was net te krities, te ver van die norm” (222).

Naby Kroonstad het Pakendorf boere toegespreek en gesê hulle moet nie meer die onderskeid tussen “ons” en “hulle” maak nie. Almal moet “ons” wees. “In vraetyd staan ‘n boer voor in die gehoor op: Baie dankie, nou verstaan hy. Ons steel so baie van ons skape” (226).

 

Dan Roodt: Afrikaneridentiteit tydens die identitêre tydvak

In ‘n vorige rubriek het genoem hoe ek Frederik van Zyl Slabbert verafsku het, juis omdat hy so by Engelse gekruip het. Ek sou selfs verder gaan en verklaar dat enige Afrikaner se aantreklikheid negatief met Engelsheid korreleer. Daar is natuurlik uitsonderings: nie-Afrikaners met ‘n Engelse agtergrond wat hulle toenemend met ons vereenselwig, maar hulle is taamlik yl gesaai.

In weerwil van die Afrikaner se uitsluiting uit die Suid-Afrikaanse politiek en kultuurlewe — Engels, Engels, alles Engels, het Hoogenhout gedig en dis vandag waarder as ooit — bly ons identiteit ‘n nasionale vraagstuk. Of liewer: die vernietiging van Afrikaneridentteit bly ‘n nasionale vraagstuk. Pleks van die land te ontwikkel of te bestuur, is ‘n groot deel van die huidige politiek daarop gefokus om die Afrikaner as ‘n verskynsel uit te wis. Die term volksmoord is nie te sterk gestel nie… nóg is dit vergesog. Want wat anders is volksmoord as die uitwissing van ‘n volk se identiteit, geskiedenis, taal, kultuur en tradisies, hetsy deur assimilasie, hetsy deur fisieke eliminasie?

Maar, selfs afgesien van die gestadigde volksmoord wat rondom ons woed — en waarvan plaasmoorde die fisieke manifestasie is — word daar steeds boeke en artikels in vaktydskrifte oor die Afrikaner en die gewraakte “Afrikanernasionalisme” van die twintigste eeu geskryf. Van Wyk Louw het neerhalend van “mensvleisbredie” gepraat. Wel, die mensvleisbredie van Suid-Afrika kan net sy gewaande nasieskap definieer as anti-Afrikanerskap. Dit is nou wanneer die mensvleisbredie nie na Engelsheid en Britsheid hunker. ‘n Jaguar of ‘n Land Rover bly die mees gesogte statussimbool in Suid-Afrika.

Die ironie by dit alles is dat die Afrikaner so swygsaam oor homself geraak het; dit is nou wanneer die erbarmlik onnosele propagandiste in die hoofstroommedia nie hul witskuld en anti-Afrikanerskap bely nie. Ook ons sogenaamde skrywers, wat soos geblinddoekte sjimpansees in ‘n dieretuinhok rondstrompel. Swak, Piketberg, swak. Ek hou regtig van daardie uitdrukking, al weet ek nie mooi waar dit vandaan kom nie. Ek kan my feitlik nie daartoe bring om ‘n hedendaagse Afrikaanse boek te lees nie, so oninteressant, oningelig, gemeenplasig is dit.

Vandeesweek ry ek in my motor en omdat ek al bietjie moeg was vir Duitse opera, skakel ek op RSG in. Skielik is daar ‘n voorlesing uit Op ‘n dag, ‘n hond, ‘n roman deur John Miles. Die skrywer was destyds ‘n dosent van my by Wits. Miles se probleem, soos dié van vele fiksieskrywers, is dat hy dink dat hy interessant is. En hy is nie. Nie ver in die voorgelese gedeelte in nie, vaar die skrywer of die verteller van Op ‘n dag, ‘n hond, teen nasionalisme uit. Eensklaps en ongevraag. Maar sonder sulke kniebuigings aan politieke korrektheid en linksheid — Marx en Engels se internasionalisme wat uit die kommunistiese mausoleum aanhou stink — sou jy seker geen roman by ‘n hoofstroomuitgewer gepubliseer kry nie. Ek stel my voor dat Eloïse Wessels, die hoofuitvoerendebeampte van die “NB-groep” wat John Miles se boek uitgegee het, so ‘n voorskrif in ‘n memo aan al haar mak skrywers uitgestuur het: vaar iewers teen nasionalisme uit en hemel internasionalisme en globalisme op. Dis soos die geniale swart wetenskaplike in ‘n Hollywoodfliek: hy móét daar wees, anders kom die draaiboek nie verby die eerste sensuurhekkie nie. (So pas het Harvey Weinstein, maker van ‘n reeks antiblanke films, waaronder Django Unchained, gewys hoe dit agter die Hollywood-skerms gedoen word.)

John Miles weet omtrent soveel van nasionalisme soos van wiskunde. Iewers naby aan nul. Dog die letterkunde, of gebrek daaraan, is ‘n onderwerp vir ‘n ander dag. Hier gaan dit vir my om ons Afrikaneridentiteit.

Terloops, my vrou was so pas vir ‘n heen-en-weertjie in Swede: Gotenburg en Stockholm. Net soos Afrikaners, ly Swede ook aan ‘n internasionale stereotipe. Ons word gekonstrueer as dom, rassisties en regs, terwyl Swede gewoonlik in die globale Engelse media as slim, multikultureel en links voorgestel word. Soos wat die Sweedse politiek egter verregs, is hul voorheen positiewe mediabeeld ook aan’t verander. Een van die dae sal hulle ook as “dom, wit en regs” voorgehou word. Trouens, ons is veel nader aan die Swede en ander Skandinawiërs, aan Nederlanders, Vlaminge of Noord-Duitsers as aan die Zoeloes van Natal wat ons tans regeer. Afrikanernasionalisme en die ou staatskultuur van die Afrikaner het veel in gemeen met die Skandinawiese sosialisme gehad: die drang om vir jou eie mense te sorg. Daar was ‘n tyd toe Afrikaners vir mekaar omgegee het… voordat hulle, soos swartes, Jaguars en Land Rovers begin ry het. Of hul kinders — hoe afgryslik — na Engelse skole begin stuur het.

Suid-Afrika, die gedwonge huwelik van 1910, frustreer my. Dis ‘n agterlike klein Engeland dié, met sy rugby en krieket, sy snobisme, sy aanstellerigheid, sy neersien op ander. Darem dra hulle in Londen snyerspakke en mooi mansskoene. Hier dra hulle meesal sweetpakke en lelike tekkies, maar steeds wil hulle Engels wees. Dis so ‘n geval van: hulle het die klok gehoor, maar hulle weet nie mooi waar die bel hang nie.

Van my studentedae by Wits af het dit my die mure uitgedryf. Ek was nog altyd nuuskierig en sensitief vir die tydsgees, vir verandering, veral ook: verandering van denke. Nou die dag sê ek vir my dogter: destyds was Suid-Afrika intellektueel so tien jaar agter by die res van die wêreld. Tans, in weerwil van die internet en die reuse-ontwikkeling in kommunikasie, is die land, “hulle”, die aspirant-Engelse met hul braaivleis en rugby en Chevrolet (wat onlangs die land verlaat het), twintig of dertig jaar agter.

Dog iemand wat “agter” is, kan nog inhaal. Die huidige geslag met hul Land Rovers en sotlike liberale, multikulturele, konformistiese idees, gaan nooit inhaal nie. Alles gaan by hulle verby. Hulle verstaan min, of niks.

Vandaar dus my opskrif: Afrikaneridentiteit in die identitêre tydvak. Die woordspel is bedoel: die sin bevat twee keer die woord “tyd”. Dalk moes ek “identityd” geskryf het. Want dwarsdeur die wêreld het identiteitskwessies en identiteitspolitiek belangrik geword. In die VSA, maar veral in Europa, heers daar ‘n “identitêre beweging”. Eintlik is dit ‘n Franse woord (identitaire), maar wat in ander tale posgevat het. Dit druk iets van die huidige tydsgees uit.

Behalwe nou in Suid-Afrika. Want hier aspireer ons nog na Engelsheid en outydse kommunisme, wat dinge soos sensuur, konformisme en denkbeheer insluit. Vandaar John Miles se alleenspraak teen nasionalisme: dit was ook in die Sowjetunie aanvaarbaar om teen die nazisme uit te vaar. Meer nog: dit was vir elke Sowjetskrywer verpligtend. Hulle het ook memo’s daaroor ontvang.

Elke Afrikaner behoort Noord-Europa, waaronder die Lae Lande, Skandinawië en daardie eertyds Platduitse of Nederduitse Länder (Sakse, Mecklenburg-Voorpommere) wat tans so onverbiddelik regs begin stem, te besoek! Die ou Hanse-gebied. Dis waar ons vandaan kom; dis waar ons taal vandaan kom. Dis die oorsprong van ons identiteit, van ons Afrikanerskap. Eintlik is ons Eurokaners wat in Suid-Afrika en Suidwes-Afrika wortel geskiet het. Dis ‘n teenstrydigheid, dit skep spanning. Maar dis ‘n kreatiewe spanning. Daaruit het ons ‘n land voortgebring, geboetseer. Totdat die konformistiese, verraderlike, verengelste, gedekultureerde Afrikanerelite dit vir ons afgeskaf het.

Iewers smeul daar nog iets van die ou Afrikaner, van die Hanse, van die Nederlandse Goue Eeu waarvan die welvaart en stukrag vir Jan van Riebeeck met sy drie seilskepies tot hier gedra het… Ons wonderskone avontuur, om ‘n soort Calvinistiese, geordende Nederland-in-Afrika te skep. Die Prometheaanse waagstuk daarvan, die geswoeg van eeue, die triomf, die tragedie!

Hier op Disqus het Casper Labuschagne vandeesweek ook iets raakgevat toe hy sê:

“Die Afrika-dilemma van die verligte Afrikaners: Die edele barbaar wat maar net nie meer edel, en minder barbaar wil wees nie. Dit is juis die optrede van die swart Afrikaan wat die wit Afrikaner se groepsidentiteit definieer en versterk. Dana Niehaus (en Media24) sal leer dat in Afrika tel aksies veel meer as woorde, en ‘n oneindige getal woorde vanaf die postmodernistiese filosofie van ‘n progressief verligte mediahuis sal nie lank staande bly teen die dade van die inheemse Afrikane nie.”

Dit is waar dat, hoe mooi die reënboognasie-ideaal ook al geskilder word en in die bieradvertensies opgevysel word, gaan die gedrag van die Afrikaan dit altyd kelder. Hoe meer korrup dié Engelse “produksie” – lees hierin beide die kunsmatige, teatrale, maar ook die marxistiese – raak, hoe minder kan ons ons daarmee vereenselwig. Selfs al wil Afrikaners nie weens onderlinge struwelinge, verdeeldheid en verwarring graag met mekaar assosieer nie, geskied ideniteitsvorming deur disassosiasie met die ander! ‘n Beter, meer Afrikaanse en Germaanse woord as disassosiasie is dalk: verontselwiging. Ons verontselwig ons van die sg. nuwe Suid-Afrika en moet ons daarom op die duur met onsself vereenselwig.

Die vraag, “wie is ons?” dring hom egter daagliks aan ons op. Dit is ‘n vraag wat op ‘n neutrale, onbevange, enigsins nuuskierige wyse gestel behoort te word. Nie te lank voor sy dood nie, het die vermaarde Amerikaanse kenner van die staatsleer, Samuel Huntington, dieselfde vraag aangaande die VSA gevra, in sowel artikel- as boekvorm: Who Are We? The Challenges to America’s National Identity.

Oor die Suid-Afrikaanse identiteit, wat ná 1994 onherroeplik Engels geword het, het ek geskryf in my opstel Raiders of the Lost Empire: South Africa’s ‘English’ identity. Wesentlik het die “getransformeerde” Suid-Afrikaanse identiteit misluk. Tans rafel dit uit in korrupsie, gierigheid, swart-teen-wit rassisme en xenofobie.

Om die vraag te beantwoord oor wie ons is, moet ons teruggaan op die spore van ons Europese herkoms, daardie selfde Europa waar die identitêre beweging tans woed. Aanstaande Sondag gaan Oostenryk verkiesing hou en dis feitlik ‘n uitgemaakte saak dat dié kleiner Duitssprekende land ‘n regse regering bestaande uit die Volksparty en die Vryheidsparty gaan kry. Soos wat Europa na regs swaai, sal Afrikaners toenemend weer die geleentheid kry om op amptelike vlak met Europese volkere en regerings te skakel. Die tydperk van ons isolasie en uitsluiting uit die Westerse wêreld, wat van Links geskied het, loop ten einde. Juis daarom moet ons deel word van die opwindende nuwe Europese debat rondom herkoms en identiteit!

Maar is ons gereed daarvoor? Kan ons sinvol deelneem aan ‘n soms diepgaande intellektuele gesprek oor die Europese en Westerse kultuur as ons self nie eens weet wie ons is nie? Ná jare van propaganda en sosiogeniëring deur die ANC-bewind, maar ook die magtige Naspers en ander organe, is ons mense grondig verdom, verwar en verengels.

Op ‘n manier was Engeland nog nooit deel van Europa nie… Vandaar ook die Brexit. Engeland, die eiland, “die groot vis” soos Carl Schmitt dit beskryf het, wil wegswem en droom van ‘n nuwe empaaier, ‘n ryk wat sekerlik Suid-Afrika sal insluit, want ons land is byna volledig geherkoloniseer, verengels, volgestop met Britse liberalisme en politieke korrektheid, wat antiblanke haat insluit. Op ‘n sekere vlak was Engeland nog altyd anti-Europees, anti-Westers. Indië, oftewel die Raj, was vir haar meer werd as al die Europese lande saam. Trouens, indien Engeland strategies daarby sou baat, sou sy môre die wêreld se totale blanke bevolking op die altaar plaas vir ‘n bietjie ekonomiese groei, ‘n paar honderd Indiese kerrierestaurante en dalk die skyn van binnelandse, “nie-rassige” harmonie.

Die Engelsman voel hom meerderwaardig teenoor die Europeër en omdat die Afrikaner ook ‘n soort gedesentreerde Europeër is, spreek dit vanself dat hy hom insgelyks meerderwaardig teenoor ons voel. Dit is die negatiewe horison waarteen die vraag oor wie die Afrikaner is, beantwoord moet word. Dit is die keersy van die munt. As jy “ja” sê vir Afrikanerskap, sê jy eintlik “nee” vir verengelsing, om die Britse identiteit aan te neem, ook die veel geprese “multikulturele” Britse identiteit wat die voormalige Arbeiderminister van buitelandse sake, Robin Cook, so pragtig opgesom het toe hy gepraat het van “hoender-tikka-massala-Brittanje” (chicken tikka massala Britain).

Die huidige Afrikaneridentiteit het sy beslag gekry in die vroeë twintigste eeu, veral in die dertigerjare, ‘n tyd toe daar soos tans oral ‘n nasionalistiese gisting aan die gang was. Dit is ‘n fout om die tweede wêreldoorlog soos die ontslape Franse sosialis, François Mitterand en vele ander, as die uitvloeisel van nasionalisme te sien. (Le nationalisme, c’est la guerre, het hy gesê.) Trouens, in Noord-Europa en veral in die sg. Germaanse wêreld heers daar groot welwillendheid tussen die huidige identitêre bewegings. Hulle kuier oor en weer, lees of vertaal mekaar se boeke, koester wedersydse empatie met mekaar as “broers in die stryd”. Toe ‘n klein Sweedse koerantjie ‘n jaar of twee gelede ‘n berig oor ‘n plaasaanval in Suid-Afrika en die mediese behoeftes van die slagoffers plaas, het daar spontaan meer as tweehonderd duisend rand aan skenkings ingestroom. Dít nou van die “liberale” of “linkse Swede” wat, nes Afrikaners, al jare lank deur hul media gebreinspoel word met selfhaat, anti-Westersheid en, natuurlik, Boerehaat jeens die “suidelike rassiste”. Maar iewers is “bloed tog dikker as water” en verstaan ons en die Europeërs mekaar byna instinktief.

Op die keper beskou, verteenwoordig Afrikaans net een Europese dialek tussen ander. Trouens, ons is een van die groter Germaanse dialekte en een van die kleiner Germaanse kultuurtale. Op meer as een plek in Noord-Europa bestaan daar dialekte met ‘n “dubbele nie” soos in Afrikaans. Deur eeue heen het ons taal sy oorspronklike vorm en verbintenis met Noord-Europa behou, veral met die Oossee en die ou Hansegebied waarin Nederlands so ‘n vername rol gespeel het.

“Terug na die Dertigers”, behoort ons slagspreuk te wees! Wat natuurlik ook slaan op die vernaamste geslag digters in Afrikaans, wat ons taal vir altyd tot sy huidige grootsheid opgehef het: N.P. van Wyk Louw, D.J. Opperman, Elisabeth Eybers, C.M. van den Heever, om maar enkeles te noem. Almal van hulle was intens bewus van ons band met Europa. Iemand soos Eybers het selfs na Nederland geëmigreer van waar sy aangehou dig het in Afrikaans. Maar vir alle praktiese doeleindes het sy Nederlandse geword, waarmee sy insgelyks gedemonstreer het dat die grens tussen ons en Nederland, selfs tussen ons en Europa, ‘n sagte grens is.

Alain de Benoist

Iewers het Alain de Benoist, een van die gróót eietydse Franse denkers wat eintlik die hele moderne denke vir ons geïnterpreteer het en ‘n voorloper van die huidige identitêre beweging was, gesê: “Die grense van bloed is belangriker as dié van geografie.” En hoe waar is dit nie: Ons woon reeds eeue lank in Afrika, sonder om te verafrikaniseer! Terselfdertyd voel ons ‘n instinktiewe band met Europa, veral ons stamlande, aan wat dieselfde eeue van verwydering nie kon verflou nie.

Natuurlik druis alles wat ek hier sê teen die heersende (Engelse/Britse) ideologie in Suid-Afrika in, wat alles tot vermenging wil reduseer. Selfs ons taal, Afrikaans, word oneerlik as ‘n “mengeltaal” voorgestel ten einde ons te oorreed om ons Europese en Westerse identiteit prys te gee en klakkeloos te assimileer by “Afrika”, wat dit ook al mag beteken. Want anders as Europa beskik Afrika oor geen gemeenskaplike godsdiens of stel waardes nie. Afrika verteenwoordig eerder… chaos, nie-waardes. Elke reël bestaan net om oortree te word.

Per definisie kan ons niks by verafrikanisering, daardie “ideaal” wat die linkse oud- of post-Afrikaner aan ons voorhou, baat nie. Ons sal nie eens deur die radikale swart politici soos Mugabe en sy vele volgelinge in Suid-Afrika aanvaar word nie.

Aan die ander kant kan die herontdekking van ons Europese wortels, tesame met ons deelname aan die globale debat rondom kwessies soos kultuur, identiteit en etnisiteit, vir ons slegs voordele inhou. Ons mag selfs vir ons unieke ervaring en insig in daardie probleem geag word.

Terwyl ons in ons eie land nog nooit — nie eens onder die Britse Ryk — so geminag is as juis nou nie…

Dan Roodt: Hoe gemaak met die Afrikanerverraaiers?

Deur die geskiedenis, en veral tydens die tweede vryheidsoorlog, het die Afrikaner ‘n groot probleem met verraad in eie geledere ervaar. Jan Smuts se antwoord daarop was om hensoppers en verraaiers te laat fusilleer.

Onlangs het Leon Lemmer in een van sy voortreflike rubrieke na wyle Van Zyl Slabbert as ‘n “Afrikaanssprekende nie-Afrikaner verwys”. Hy het ‘n verdere lysie van wat hy noem “verloopte, blanke Afrikaanssprekendes soos (Hannelie) Booyens, (Adriaan) Basson en (Leon) Wessels” gepubliseer. Voeg daarby nog skepsels soos Max du Preez of Leopold Scholtz wat hulle verlekker in die ellende van Afrikaners en ons gedurig as “regses” en “rassiste” uitkryt, dan het ons al ‘n kortlys van Afrikaanssprekendes wat byna daagliks ‘n semantiese oorlog teen Afrikaners voer.

Tans woed daar ‘n lewendige bespreking hier op PRAAG se Disqus-kommentaarblad onder aan die berig Steve Hofmeyr wil referendum oor Afrikanerverraaiers sien, met byna 600 lesersreaksies. Die name en foto’s van ‘n hele aantal Afrikanerverraaiers wat deur lesers genomineer is, verskyn daar.

Tydens die tweede vryheidsoorlog het Jan Smuts die hensoppers, joiners en National Scouts wat hy teëgekom het summier laat verhoor en voor ‘n vuurpeloton laat doodskiet. Die ergste van almal was die sogenaamde “National Scouts” vir wie dit nie genoeg was om bloot te hensop nie, maar wat by die Britse magte aangesluit het. Nou die dag kom ek op die volgende stukkie oor hulle op die internet af:

The National Scouts were mainly recruited from Boers who had surrendered to the British or chosen to fight for the imperial forces. QSAs were issued to the National Scouts and they are often appear as renamed medals. The QSAs are quite scarce as the recipients would not have been very eager to receive or hold on to a medal from their former enemies.

The City Coins catalogue No 51 says “Of the 1,750 turncoat Boers who served on the British side in the National Scouts, only about 10% claimed their medals and amongst those that survive many are defaced (eg unit erased). As ‘Handsuppers’ and ‘Joiners’ they were despised and ostracised by the ‘Bitterinders’ and their womenfolk. So much animosity abounded that a separate Afrikaans church, the ‘Kruiskerk’ was established shortly after the war to accommodate them”.

This unit was similar to the Farmer’s Guard.

Conan Doyle in his account of the last few months of the war makes mention of the National Scouts: “Colonel Park had had no great success in his last two expeditions, but on February 20th he made an admirable march, and fell upon a Boer laager which lay in placid security in the heart of the hills. One hundred and sixty-four prisoners, including many Boer officers, were the fruits of this success, in which the National Scouts, or ‘tame Boers,’ as they were familiarly called, played a prominent part.”

Daar is ‘n vrye Engelse vertaling uit Cicero wat oral op die internet te lese is en veral deur Amerikaners aangehaal word wat ek nie geredelik in my Afrikaanse vertaling deur J.T. Benade (Keur uit die redevoerings van Marcus Tullius Cicero, 1988) kon vind nie. Benade het net die eerste en vierde redevoerings teen Catilina vertaal, terwyl die Amerikaanse aanhaling vermoedelik uit die tweede redevoering afkomstig is. Iewers op my rak het ek omtrent die hele Latynse letterkunde en behoort self daardie stuk in Afrikaans te probeer vertaal. Hoofsaaklik weens luiheid haal ek egter daardie Amerikaanse aanpassing van Cicero aan:

“A nation can survive its fools, and even the ambitious. But it cannot survive treason from within. An enemy at the gates is less formidable, for he is known and carries his banner openly. But the traitor moves amongst those within the gate freely, his sly whispers rustling through all the alleys, heard in the very halls of government itself. For the traitor appears not a traitor; he speaks in accents familiar to his victims, and he wears their face and their arguments, he appeals to the baseness that lies deep in the hearts of all men. He rots the soul of a nation, he works secretly and unknown in the night to undermine the pillars of the city, he infects the body politic so that it can no longer resist. A murderer is less to be feared. The traitor is the carrier of the plague. You have unbarred the gates of Rome to him.

In die eerste redevoering teen Catilina sê die groot Romeinse skrywer en orator:

“Hoe lank, vra ek, gaan jy ons geduld misbruik, Catilina? Hoe lank gaan hierdie waansin van jou ons nog bespot? Hoe ver gaan jou teuellose vermetelheid hom verbrei? Het die besetting van die Palatium deur die nag, die wagposte in die stad, die angs van die volk, die samestroming van die goeie burgers, hierdie verskanste plek van die senaatsitting, die blikke en gesigsuitdrukkings van die aanwesiges hier dan geen indruk op jou gemaak nie?…

O, die tye! O, die sedes! Die senaat weet van hierdie dinge, die konsul sien dit; nogtans lewe hierdie vent.” (Benade: 87)

Cicero se sinsnede “teuellose vermetelheid” som dit pragtig op. As ons kyk hoe die verraderlike viermanskap van Adriaan Basson, Hannelie Booyens, Max du Preez en Leopold Scholtz wat telkens poog om Afrikaners te kasty en te demoraliseer, dan spreek dit van daardie teuellose vermetelheid. Hulle praat namens die maghebber en die politieke korrektheid van die groot Anglo-Amerikaanse imperium, daarom kan hulle ons vrylik ondermyn, verguis, beledig, selfs persoonlike vetes teen ons voer. Onlangs het Booyens en Basson die grote Universiteit van Potchefstroom tot ‘n val gebring in hul openlike veldtog om daardie universiteit te verengels en te verswart.

Die koerante, webblaaie en ander media in die Naspersgroep word byna geheel en al deur ‘n hatige Boerehaatfaksie oorheers. Omdat ek nie televisie het nie, kyk ek byna nooit KykNET nie, maar blykbaar geld dieselfde daar.

In ‘n privaat epos het Leopold Scholtz my daarvan beskuldig dat ek ‘n “ANC-agent” is. Bid jou dit aan! Hy skryf:

“Jy is gereeld in ANC-kringe gesien. Dus, weer eens, hoeveel het die ANC jou betaal om jou as regs voor te doen?”

Dis een van die taktieke van die verraaier: omdat hy self agter die deur staan, is een van sy wapens om jóú van verraad te beskuldig. Dat ek al ooit “in ANC-kringe gesien is”, is ‘n infame leuen. Toe ek destyds as student by Wits was, het ek ‘n Filosofievereniging op die been gebring en ons het ‘n lesing met die titel “Marx is dead” georganiseer. Daarna was ek persona non grata by al die kommunistiese studente wat my verstoot het sodat ek kwalik enige vriende gehad het. Baie van die marxiste van destyds, soos Barbara Hogan, Barbara Creecy, die Coleman-broers en Steven Friedman het later magsposisies in die ANC-regering verkry. Trouens, Barbara Creecy sit tesame met Panyaza Lesufi agter die huidige poging van die Gautengse onderwysdepartement om Afrikaanse skole te verengels. Barbara Hogan was op ‘n stadium minister van gesondheid en Friedman is tans die Business Day se mees linkse rubriekskrywer wat gereeld anti-wit artikels in dié koerant skryf.

Tot vandag toe is daar niemand in Suid-Afrika wat so deur kommuniste gehaat word soos ek nie. Dis seker waarom elke Afrikaner wat hom sedert 1994 tot kommunisme of marxisme bekeer het, waaronder heelwat van die Naspersjoernaliste, poog om my óf stil te maak óf op allerlei maniere te vervolg, te verguis en te belaster. Om dus te beweer dat ek ooit enige simpatie vir die ANC of SAKP gehad het of kon gehad het, is vergesogte propaganda. Jy kan my net sowel daarvan beskuldig dat ek ‘n Nazi is omdat ek van Wagner se operas hou en Nietzsche lees. Dom mense soos Scholtz en sy mede-Naspersverraaierkaners smag daarna om mense te etiketteer op grond van jou musieksmaak, ‘n aanhaling buite konteks of dat jy iewers “op die verkeerde plek gesien” is. Ek onthou dat ek destyds op ‘n goeie middag saam met een van my Afrikaans-dosente by Wits die tweede verhoor van die Afrikaanse digter Breyten Breytenbach in die Paleis van Justisie op Kerkplein in Pretoria bygewoon het. Daarvoor het die destydse Veiligheidspolisie my as “links” geklassifiseer en is ek op ‘n keer by my werk afgedank. Pleks dat die Veiligheidstak meer gedoen het om bomplanters soos Joe Slovo, Ronnie Kasrils en Aboobaker Ismail te vang of te neutraliseer, het hulle dikwels hul tyd gemors om onskuldige mense dop te hou of te stigmatiseer.

Trouens, daardie stigmatiseringstegniek het nog nooit opgehou nie, en dit is waarmee vandag se verraaiers steeds besig is. Hulle is nie in staat om ‘n intelligente argument te voer nie, daarom spesialiseer hulle daarin om – volgens die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty se voorskrifte – mense as “rassiste”, “fasciste” en “wit heerssugtiges” uit te kryt, presies soos dit in die ou Sowjetunie of Oos-Duitsland gedoen is.

Net gister drink my suster by my koffie en sê: “Ons kom uit ‘n familie wat lojaal is en enduit veg.” My een oupagrootjie het tot 12 April 1902 nog geveg en is op daardie dag in die Slag van Rooiwal gewond, ‘n datum toe die meeste Boere al lankal oorgegee het of – meer skandelik – na die Engelse toe oorgeloop het!

Terwyl die verraaiers van gister en vandag hul mantels draai en polities korrek vir Verwoerd, Malan en ander groot Afrikaners beledig wat hul lewens aan hul volk gewy het, maar nie nou kan terug antwoord nie, poog die “regte Afrikaners” om ons uit dié haglike situasie waar alles rondom ons vergaan, te red.

Ek vermoed dat alle volkere wat oorheers word, deur verraad en tweespalt geteister word. Dit was in die negentiende eeu die geval toe Brittanje ‘n deel van ons land regeer het, en dis nou weer die geval. ‘n Klomp Afrikaners het “Bloedsappe” gebly en is steeds aan Engeland lojaal; omdat die ANC ten dele ‘n Britse skepping is, is hulle daarom ook aan die ANC lojaal. Vir hulle verteenwoordig ons, met ons aandrang op Afrikaans en die Afrikaneridentiteit, die vyand.

Vele rolprente is al oor die tweede wêreldoorlog gemaak wat aantoon hoe mense mekaar tydens die Duitse besetting van Wes-Europa in die rug gesteek het. Trouens, Charlize Theron speel in een so ‘n rolprent, Head in the clouds, die rol van ‘n karakter, Gilda, wat haar in Parys as pro-Duits voordoen, maar terselfdertyd as geheime agent vir die Franse Weerstandsbeweging werk. As Parys deur die Geallieerde magte bevry word, loop sy gevaar om deur die Parysenaars doodgemaak te word, omdat niemand van haar geheime rol bewus is nie, net van haar openbare “dekking” as die minnares van ‘n Duitse offisier.

Dikwels voel dit vir my asof ons in die huidige Suid-Afrika deur die ANC beset word. Immers het die ANC en SAKP vanuit Londen, Moskou en Oos-Berlyn opgedaag om die leisels te kom oorneem. Mandela is uit Pollsmoor vrygelaat, maar hy was volkome onder die sogenaamde “ballinge” se invloed. Tydens hierdie besetting pleeg sommige mense verraad teenoor mede-Afrikaners om den brode of om hul poste aan universiteite of ander instellings te behou. Baie Afrikaners het “transformasie” ingevoer en hul mede-blankes op straat gesit om hul eie basse te red. Daar is ‘n koue soort elkeen-vir-homself-logika in hierdie bestel wat onetiese gedrag regverdig en bestendig.

Daar is egter nóg meer onsmaaklike fasette aan verraad verbonde. Sommige mense put leedvermaak of ‘n sadistiese behae daaruit om te sien hoe ander Afrikaners sukkel, in die openbaar gekruisig word, of selfs fisiek aangeval word. Vernietiging en verval is vir hulle iets positiefs en sommige het reeds na die buiteland uitgewyk van waar hulle soos voyeurs by ‘n teregstelling ons ondergang dophou en toejuig. Johan Sloet de Villiers, wat onlangs gepoog het om Steve Hofmeyr se konsert in Amsterdam te laat skipbreuk ly, is so ‘n geval. Noem dit die patologiese sy van verraad: om plesier te verkry uit die pyn, leed en vernedering van jou eie mense.

Tydens die 1860’s was daar ‘n burgeroorlog in die Transvaal toe Afrikaners naby Potchefstroom op mekaar geskiet en mekaar se bloed vergiet het. Dit ly geen twyfel dat sommiges vandag weer tot so iets in staat is nie, want diegene wat so fanaties aan die ANC-besetter en sy polities korrekte ideologie verknog is, sal moor om hul lojaliteit aan die vyand te bewys.

Aan die ander kant word ons tans so deur die owerheid in ‘n hoek gedryf, met versnelde “transformasie” op alle gebiede, tierende geweld, asook die dreigende verengelsing van alle Afrikaanse skole in Gauteng dat meer weerstand, of ten minste teenstand, by gewone Afrikaners te wagte kan wees. Enige besetter het ‘n behoefte aan verraaiers onder diegene wat hy onderdruk en is ook bereid om hulle rojaal daarvoor te vergoed. Soos wat weerstand onder Afrikaners toeneem, sal die “mark vir verraad” eksponensieel groei.

Daar is ook ‘n vorm van verraad weens jaloesie of mededinging onder mekaar. Toe Kallie Kriel van Afriforum my ‘n rukkie gelede in die openbaar aangeval het en saam met Max du Preez, Gillian Schutte, Piet Croucamp en ander as ‘n “rassis” uitgekryt het, het hy dit waarskynlik nie gedoen omdat hy dislojaal teenoor Afrikaners is nie, maar vanweë ‘n soort professionele opportunisme. Dit maak dit egter nie minder gevaarlik nie. Moontlik wou FW de Klerk in die aanvanklike fase maar net van PW Botha as mededinger ontslae raak en het nog nie daaraan gedink om die SAW aan Umkhonto we Sizwe te verpand nie. As ‘n mens jou egter eenmaal op die pad van verraad en onderlinge rugstekery begewe, waar roep jy halt? Et tu, Kallie?

Die meeste lede van die sogenaamde Boeremag is weens hoogverraad tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Eintlik is dit absurd, want die korrupte  en rassistiese rampokkerstaat wat Suid-Afrika geword het, kan kwalik op die lojaliteit of patriotisme van enigiemand aanspraak maak. Terwyl vele Afrikaners, waaronder ook Clive Derby-Lewis, in die gevangenisse krepeer sonder dat hulle ooit amnestie sal kry, loop terroriste soos Aboobaker Ismail en Robert McBride vry rond. Die onregverdigheid en dubbele standaarde skrei ten hemele.

In die meeste lande is hoogverraad ‘n baie ernstige oortreding. Mandela is op ‘n klag van sabotasie skuldig bevind en nie aan hoogverraad nie, anders sou die staat destyds die hof versoek het om hom ter dood te veroordeel. Ons korrupte staat wat volgens Flip Buys van Solidariteit “teen Afrikaners regeer” kan kwalik op ons lojaliteit staatmaak, dus is “hoogverraad” deesdae net ‘n tegniese oortreding wat jy begaan as jy die verkeerde inligting op jou rekenaar se hardeskyf berg. Dit spruit nie uit enige natuurlike sin vir geregtigheid nie.

Daarteenoor kan Afrikaners as volk, wat tans juis soveel onder hierdie stelsel ly, juis op die natuurlike reg, wat die Romeine ius naturale genoem het, aanspraak maak. Nou onlangs kyk ek die ou Charles Bronson-fliek, Death Wish (1974), waarin ‘n New Yorkse argitek in opstand kom teen die misdaad wat in die sewentigerjare in dié stad geheers het.

Die boodskap van die film is dat, waar die staat ons nie meer kan of wil beskerm nie, moet ons dit self doen. Dan geld die reëls van ‘n pioniersgemeenskap of, soos dit in die VSA bekendstaan, die “Wilde Weste”. Dis dan presies waartoe Paul Kersey, die hoofkarakter in Death Wish, oorgaan. Ná ‘n besoek aan Tucson, Arizona, waar ‘n kliënt ‘n wapen as geskenk aan hom oorhandig, word hy die “New York vigilante” en begin sy eie private oorlog teen die stad se misdadigers, gegrond op die beginsels van natuurlike reg.

Ek sien in die woordeboek die Afrikaans vir “vigilante” is “eiemagtige”. Met die verafrikanisering van Suid-Afrika verval die reëls van die beskawing, soos in soveel ander Afrikalande waar die term “krygsheer” gebruik word om bepaalde politici van Liberië, Sierra Leone of die DRK te beskryf. Hulle skep hul eie reëls deur middel van geweld, nes die ANC sonder ‘n enkele stem by die stembus vanuit die buiteland vir hom legitimiteit deur terreur geskep het. Hoe ver is ons daarvandaan verwyder dat mag nie meer in die staat gaan setel nie, maar in die hande van krygshere met spanne gewapende volgelinge? Julius Malema kort net meer gewapende wagte, dan sou hy die volmaakte krygsheer uitmaak. As ek kyk hoe die minibustaxi’s op die paaie ry, dan weet ek ten minste daar is geen verkeersreëls meer nie!

In dieselfde trant kan ‘n mens vra: Stel die verraaier wat sadisties op ‘n verswakte gemeenskap soos die Afrikanerdom vandag teer, hom nie óók aan eiemag bloot nie? Hoeveel pyn en onmag kan ‘n gemeenskap verduur voordat hy eiemagtig, soos die Charles Bronson-karakter in Death Wish, begin optree?

Afrikaners is egter nie Amerikaners nie. Miskien is ons te vreedsaam en ordentlik om soos eiemagtiges die strate met ‘n rewolwer in te vaar om die misdadigers reg te sien of ‘n paar prominente verraaiers te gaan “pot”. Dalk het ons ons Romeinse sin vir natuurlike reg verloor. ‘n Mens moet ook versigtig wees om die land nie nog verder oor die afgrond van geweld te druk nie.

Op sy minste moet die verraaiers egter met ostrasisme gestraf te word. Nêrens waar Afrikaners vergader, behoort hulle welkom te wees nie. Verstoot hulle en sluit hulle uit. Marlene van Niekerk behoort nooit die Hertzogprys te ontvang het nie. Hoe durf sy in elk geval ‘n prys wat die naam van JBM Hertzog dra, aanvaar, ‘n figuur wie se standbeeld by die Uniegebou verwyder is omdat hy aan die ANC en sy meelopers soos Van Niekerk self, aanstoot gee? Afrikaners beskik oor ‘n baie waardevolle kultuur en tradisie. Dis die geestelike stad waarin ons steeds woon en oorleef, te midde van geweld en verval. Die verraaier mag nie, soos Cicero hier bo sê, binne die poorte van ons taal en kultuur rondsluip terwyl sy of haar “sluwe fluisteringe” ons ondergang bewerkstellig nie.

Lees ook Dan Roodt se Engelse stuk op American Renaissance: Flinging poo at South Africa’s past en die reaksies onder aan Steve Hofmeyr wil referendum oor Afrikanerverraaiers sien.


Groot Vyf, klein vyf en mikro-sewe

Wanneer Suid-Afrika ekologies of in bv die toeristebedryf ter sake is, word daar met hoofletters na Die Groot Vyf verwys: die olifant, renoster, buffel, leeu en luiperd.

Minder bekend, maar meer destruktief, is daar in die Suid-Afrikaanse politieke geskiedenis die klein vyf, ‘n benaming wat altyd met kleinletters geskryf moet word: FW de Klerk, Pik Botha, Roelf Meyer, Leon Wessels en Dawie de Villiers.

Verder was daar in ons onverkwiklike politieke geskiedenis mense wat so klein van gees is/was dat hulle nie eens die lysie van die klein vyf haal nie. Hulle kan die mikro-sewe genoem word. Sommige van hulle was deel van die Nasionale Party-regering: Kobie Coetsee, Chris Heunis en Niel Barnard. Ander was buite die regering: Willem de Klerk, Frederik van Zyl Slabbert, Sampie Terreblanche en Willie Esterhuyse.

Al die genoemde mense het ‘n bydrae gelewer tot die ondergang van die blanke bewind en beskawing, die agteruitgang van die land, die bevordering van kommunisme, ens. Pleks daarvan klop hulle hulleself op die skouer met die mite dat hulle ‘n burgeroorlog voorkom en Suid-Afrika op die pad van welvaart geplaas het.

Daar is net blanke, Afrikaanssprekende mans op die lys van klein- en mikrogeeste. Is dit dalk waarom daar tydens Vrouedag en -maand gepleit word dat vroue, selfs ousies, eerder oral in die openbare lewe ‘n groter rol moet speel?

Leon Lemmer

Vanaf Vanuatu ‘ons’ vlag en neiging tot nabootsing

Suid-Afrika, veral deesdae, huiwer om te besluit of die land eerder Idi Amin se Uganda of een of ander vragkultus (cargo cult) op die eiland Vanuatu wil na-aap. Jy kan die stelsel hier ‘n “vragkultusdemokrasie” noem en solank ons elke vyf jaar ‘n miljard dollar of so aan ‘n verkiesing bestee, kan elkeen tussen verkiesings maak net wat hy wil.

roodt_fbfotoVerkiesings verleen egter slegs die stempel van “demokrasie” aan ‘n stelsel waar mag elders van eienaar verwissel: by die regerende party se hoofkwartier of in donker transaksies wat voltrek word met wie ook al finansieel by die stelsel baat.

Hierdie is ‘n vertaalde uittreksel uit ‘n nuwe eboek-opstel deur Dan Roodt wat vandeesweek verskyn, onder die titel: Raiders of the lost Empire: South Africa’s ‘English’ identity. Dit sal plaaslik en internasionaal versprei word teen slegs $3 of R30 vir ‘n teks van 22 500 woorde, gelykstaande aan ‘n gedrukte boek van 80 tot 100 bladsye. Moenie dit misloop nie! Vir meer besonderhede en ‘n langer uittreksel in Engels, klik hier.

Gepraat van Vanuatu, het ek eers in die negentigerjare van die bestaan van dié eiland bewus geraak toe ek die merkwaardige ooreenkoms tussen “ons” vlag en dié van Vanuatu bemerk het. As daar iets soos vlagplagiaat was, is Suid-Afrika skuldig daaraan. Suid-Afrikanisme is egter trots nabootsend. Hoe nader jy daaraan kom om jou as ‘n Brit voor te doen, hoe meer “Suid-Afrikaans” raak jy. Plagiaat op universiteit, op sowel voorgraadse as nagraadse vlak, is heeltemal algemeen en studente “kopieer en plak” die woorde en gedagtes van ander ten einde een van ons toenemend waardelose grade te ontvang.

In ander samelewings word daar skeef gekyk na ‘n gebrek aan egtheid, of ersatz, geen oorspronklikheid nie, of om ‘n afskrif van iets anders te wees, ‘n simulakrum. Maar nie in Suid-Afrika nie. Paradoksaal genoeg, is die revolusionêre swartes wat teen “kolonialisme en kapitalistiese uitbuiting” uitvaar, die eerste om die uiterlike kentekens van wat hulle as die Britse gentleman beskou, aan te neem. Hulle drink whisky, van die duur sogenaamde “enkelmout”-tipe, in rojale hoeveelhede. Die Engelse voorliefde vir drank, om dronk te word, selfs die pub-kultuur, het in Suid-Afrika wortel geskiet. Trouens, in sy strewe om meer en meer Engels te word, het die land die wêreld se tweede grootste biermaatskappy tot stand gebring, SAB-Miller. Dis ‘n merkwaardige prestasie, gegewe die feit dat ons BNP slegs ‘n agste van byvoorbeeld Duitsland, ‘n ander nasie wat bier drink, s’n is. Duitsland kon ons nie oortref as dit by bierverkope kom nie. Soos ek aanstons sal aantoon, is bier en om ‘n “eenbier-nasie” te wees, grondliggend aan wat die “nuwe Suid-Afrikaanse identiteit” genoem word.

Die Engelse en Amerikaanse smaak vir dwelms het insgelyks na ons toe oorgewaai. Nou die dag besoek my 18-jarige dogter die kampus van die Universiteit van die Witwatersrand en praat met ‘n klompie eerstejaarstudente daar. Volgens haar kon hulle net oor dwelms praat, watter verskillende tipes narkotika hulle reeds probeer het en met watter hulle nog wil eksperimenteer. Met haar Afrikaanse opvoeding en skoling, stel my dogter intens belang in letterkunde, kuns en filosofie, en het uitgesien na ‘n uitwisseling van idees met mense wat ander sienings as sy mag koester. Helaas, al waaroor hulle kon praat, was dwelms. Daar heers ‘n soort snobisme rondom dwelms en die Engelse sien neer op ander wat nie sulke middels gebruik nie. Ek vermoed sterk dat vele van die menings wat ons in die Engelse koerante in Suid-Afrika teëkom, uitgedink is terwyl die persoon onder die invloed van een of ander dwelmmiddel verkeer het. Die Franse het ‘n mooi woord vir dwelms, “stupéfiants”, wat uitdruk dat dit mens ook in ‘n stupor laat verval of dom laat raak as jy dwelms gebruik. Suid-Afrika het oor die afgelope aantal jare sulke dieptes van domheid beproef dat ons besig is om na die primitiewe, vroeë Steentydperk te regresseer, of selfs na hominiede vlakke toe. Binnekort sal Suid-Afrikaanse Engels, wat reeds aansienlik verkreoliseer is, net uit ‘n gekrys en ‘n gegrom bestaan. Soos die woewoezêla, ‘n eentonige plastiekinstrument wat gewoonlik by sokkerwedstryde geblaas word, sal alle kommunikasie naderhand tot ‘n heel basiese vlak toe daal.

Daar is iets tragies aan die Engelse bewussyn, wat grondig ongelukkig is, vandaar die behoefte om bedwelm, dronk of verdoof te word. Miskien hou dit verband met die globale multikulturele projek, wat daarna streef om alle identiteit, waaronder persoonlike identiteit, uit te wis. Slegs as ons ‘n ongedifferensieerde tropbewussyn bereik, ‘n atawistiese “ons”, sal ons “volledig mens” word; of watter cliché ook al daarvoor gebruik word. In Suid-Afrika se sakeskole doseer hulle selfs kursusse in “oeboentoe” as ‘n etiese beginsel wat vertaal in “Ek is ‘n mens deur ander mense”, wat ‘n ander manier is om die kollektiewe, byekorfbewussyn uit te druk.

In ons land is dit tans deel van die Engelse credo dat ons op geen manier “verdeel” moet wees nie. Alle vordering daarna om ‘n ongedifferensieerde mensemassa te word, ‘n bietjie soos in die wetenskapfiksiebegrip van “die Borg” in die Amerikaanse Star Trek-reeks, word geloof. Enigeen wat sy taal en kultuur ten gunste van Engels aflê, word gesien as iemand wat nader daaraan kom om deel van die “groter massa” te word wat selfs as ‘n globale of planetêre massa gesien kan word.

Om in Suid-Afrika Engels te wees, is in ‘n sekere mate ‘n pynlike ervaring. Dit verklaar die radikalisme, haat en ekstremisme van soveel Engelse wat terrorisme gepleeg het of hulle tot kommunisme of Boerehaat verbind het, of wat bereid was om burgerlikes in die naam van sulke ideologieë dood te maak of aan te val. Waarom is Suid-Afrika so vreemd vir die Engelse gees? wonder ‘n mens.

Op die gevaar af dat ek mag afdwaal, kom ons kyk vir ‘n oomblik na wat George Orwell gesê het oor wat dit beteken om Engels te wees. Onder Afrikaners, Franse, Duitsers, Spanjaarde en baie ander volkere, is dit amper natuurlik om oor ‘n mens se volksidentiteit te besin. Onder Afrikaners is dit méér, amper ‘n nasionale obsessie. Die rede vir die Afrikaner se obsessie oor identiteit is nie moeilik om te eien nie: dit is omdat ons gedwing is om ‘n land te deel met ‘n besonder nihilistiese, baasspelerige, kolonialistiese groep wat so vernietigend met identiteit en kultuur handel dat ons konstant oor onsself moet twyfel.

Waarom haat hulle ons so? Waarom wil hulle ons taal, tradisies en gebruike verbied? Is daar inderdaad iets fout met ons? Die Afrikaner, wat geneig is tot skulddeurtrokke, Calvinistiese selfondersoek en selftwyfel, poog voortdurend om die fout by homself te vind pleks daarvan om na sy vyandige, snedige landgenoot met sy patologiese onverdraagsaamheid teenoor enige ander kultuur as sy eie, te kyk. Trouens, duisende romans, essays en proefskrifte is al geskryf oor wat dit beteken om ‘n Afrikaner te wees, maar geen Afrikaner het nog probeer om die Engelsman te verstaan nie. Vandaar hierdie essay, wat ‘n unieke stukkie ontleding verteenwoordig, ‘n poging om vas te stel wat dit beteken om vandag Engels te wees, in Suid-Afrika, maar miskien selfs wêreldwyd. Ek vermoed sterk dat heelwat van wat ons hier ervaar, insgelyks deur mense in ander nie-Engelse lande aangevoel word. Hier dink ek byvoorbeeld aan die onlangse essays van Richard Millet oor die agteruitgang in die Franse letterkunde ten gunste van globale Angel-Saksiese blitsverkopers.

George Orwell word normaalweg verbind met sy twee distopiese romans, 1984 en Animal Farm. Hy was egter een van die min Engelse skrywers wat dit gewaag het om te besin oor wat dit beteken om Engels te wees, in sy essay “England, your England”. Onder andere sê hy die volgende:

“Here are a couple of generalizations about England that would be accepted by almost all observers. One is that the English are not gifted artistically. They are not as musical as the Germans or Italians, painting and sculpture have never flourished in England as they have in France. Another is that, as Europeans go, the English are not intellectual. They have a horror of abstract thought, they feel no need for any philosophy or systematic ‘world-view’. Nor is this because they are ‘practical’, as they are so fond of claiming for themselves. One has only to look at their methods of town planning and water supply, their obstinate clinging to everything that is out of date and a nuisance, a spelling system that defies analysis, and a system of weights and measures that is intelligible only to the compilers of arithmetic books, to see how little they care about mere efficiency. But they have a certain power of acting without taking thought. Their world-famed hypocrisy – their double-faced attitude towards the Empire, for instance – is bound up with this.”

Daar is ‘n soort gemeenplaas wat ‘n mens dikwels in Afrikaanse koerante teëkom en gewoonlik deur die alwetende Afrikaner-akademici uitgespreek word: dat “die Afrikaner minderwaardig teenoor die Engelsman voel”. Dit spreek vanself dat ‘n mens vandag nie ‘n Afrikaner-akademikus kan wees sonder dat jy die Anglo-Amerikaanse wêreldbeskouing aanvaar het nie, asook die ANC en Suid-Afrikaanse Kommunisteparty se sienings, andersins sou jy nie ‘n werk gehad het nie! Dus dra sulke menings nie veel gewig nie. Hier dui ek bloot aan dat so ‘n opvatting bestaan.

Maar ek het nog baie min Afrikaners teëgekom wat werklik só voel, of wat hul as minderwaardig beskou. Meesal is dit die teenoorgestelde. Aangesien Afrikaners die Engelse in die meeste Engelse sportsoorte oorheers, bestaan daar eerder ‘n opvatting by die Afrikaner dat hy fisiek en verstandelik die Engelsman se meerdere is. Die gedagte dat Engelse lui is en geneig om op aktiwiteite te fokus wat tegelyk winsgewend is en min arbeid vereis, is ook taamlik algemeen. ‘n Boer het eenkeer aan my verduidelik dat suikerplantasies in die Engelssprekende provinsie Natal (tans amptelik Kwazulu-Natal) so gewild geraak het omdat die suikerrietplant “soos onkruid groei en geen spesiale aandag nodig het nie, anders as ander gewasse”.

Aan die ander kant meen ek dat die liberale of kommunistiese Afrikaner wel ‘n minderwaardigheidsgevoel sy eie gemaak het. Dit is omdat soveel van hulle in ‘n sekere mate verengels is, in ‘n Engelse wêreld woon en werk, ‘n wêreld wat dikwels met die politiek of die universiteite te make het, plekke waar dit jou loopbaan sou benadeel as jy nié die Engelse stereotipes oor Afrikaners beaam nie. Frederik van Zyl Slabbert, die liberale politikus, asook die skrywer André P. Brink is twee sulke mense. Brink het selfs sover gegaan dat hy verklaar het dat “my mense nie verdien om te bestaan nie en behoort te verdwyn”, waarmee hy volledig die Angel-Saksiese ideologie omhels het. Bram Fischer, die kommunistiese leier wat in Johannesburg gewoon het, waar hy deur internasionalisties gesinde kommuniste omring was, is nog so ‘n geval.

Wat Orwell se waarnemings hier bo betref, val die gebrek aan skeppende talent by Engelse, veral hier in die kolonies, sterk op. Selfs mense sonder ‘n kunstenaarsopleiding of -talent, soos William Kentridge, word as groot kunstenaars in die Engelse media opgehemel. Waar daar ook al kunstenaarsaktiwiteit in Suid-Afrika is, was daar nog altyd Afrikaners. Selfs die Nobelpryswenner, Nadine Gordimer, is aanvanklik aan skryf en letterkunde voorgestel deur ‘n Afrikaner, Uys Krige.

Dis die eerste oorsaak van Engelssprekende vyandigheid teenoor Afrikaans en Afrikaners. Een van die eerste dinge wat die nuwe Engelse bewind in 1994 gedoen het, was om die provinsiale kunsterade af te skaf, waarna Afrikaanse skole en universiteite aangeval is. Onlangs het die minister van hoër onderwys en leier van die Kommunisteparty, Blade Nzimande, aangekondig dat “daar nie meer Afrikaanse universiteite bestaan nie”, waarmee hy bedoel dat die verengelsingsproses voltrek is.

Hierdie verteenwoordig die eerste 1800 woorde van Dan Roodt se opstel, Raiders of the lost Empire: South Africa’s ‘English’ identity, wat hier vir die eerste keer in Afrikaans vertaal is. Die Engelse weergawe vir plaaslike en internasionale verspreiding sal vandeesweek, moontlik selfs binne die volgende 24 uur, as eboek beskikbaar wees teen slegs R30 of $3. In omvang beloop dit 22 500 woorde, gelykstaande aan ‘n gedrukte boek van 80 tot 100 bladsye. Moenie dit misloop nie, en stuur solank ‘n epos aan inlig[by]praag.org met die woord “Raiders” in die onderwerpreël sodat ons u op hoogte kan hou van die verskyning!

 

Willie Esterhuyse se wel en wee

Willie Esterhuyse (middel), met Thabo Mbeki (regs)
Willie Esterhuyse (middel), met Thabo Mbeki (regs)

deur Leon Lemmer

Willie Esterhuyse (gebore in 1936) was tot 1987 lid van die Broederbond en jare lank skynbaar ‘n liefling van die Afrikaner en die NG Kerk. Byvoorbeeld, aan die Universiteit Stellenbosch het die inisiatief van hom uitgegaan om aan PW Botha ‘n eredoktorsgraad toe te ken. Esterhuyse kom uit ‘n Sap-gesin, maar hy het ‘n stoere ondersteuner van apartheid geword. Hy was een van diegene aan wie die Nasionale Party-regering aanvanklik sy onderhandelinge met die ANC toevertrou het. Kort nadat hierdie samesprekings ‘n aanvang geneem het, het Esterhuyse en Thabo Mbeki vriende geword en het Esterhuyse besluit dat hy eerder ANC- as NP-gesind is.

Deesdae kan Esterhuyse blykbaar nie verstaan waarom hy nie meer deur sy mede-Afrikaners op die hande gedra word nie. Naspers nooi hom darem nog soms uit wanneer daar ‘n onthaal of ander funksie aangebied word. Daarna verskyn sy foto in die koerant. Andersins moet hy in die na-Mbeki-era maar briewe aan die koerant skryf of ‘n toespraak vir publikasie aanbied om nie heeltemal in die vergetelheid te verdwyn nie. Die waarheid is dat die spreekwoordelike nuttige idioot ‘n beperkte rakleeftyd het.

Kom ons gaan ‘n bietjie na hoe Esterhuyse self sy openbare beeld getransformeer het. Daarna kan hierdie geykte vraag beantwoord word: Is Esterhuyse ‘n Afrikaner? Sy Sap-wortels en waarheen hy op pad was, het in 1979 die eerste keer duidelik geblyk met die publikasie van sy boek, Afskeid van apartheid. Dit is onder meer op grond van sy afkeer van apartheid en sy “geheime gesprekke” met die verbode ANC dat die ANC-regering tydens die Mbeki-bewind in 2003 aan hom die Orde van Luthuli (silwer) toegeken en hom ‘n leidende Afrikaner genoem het. Ek bepaal my aandag vervolgens by sy drie jongste boeke.

Esterhuyse het sy verset teen sy kweekskoolagtergrond getoon met sy boek, God en die gode van Egipte: In die voetspore van die Onsienlike (Wellington: Lux Verbi, 2009, 256p). Daarin verskyn hierdie neerbuigende opmerking: “Veral sedert 1979 het dit vir my al moeiliker geword om na die ortodokse gebulk van die Afrikanerbulle in die Groot Kraal (staat, kultuur en kerk) te luister” (p 21). Waaroor “bulk” Afrikanerbulle? Oor beskawing, oor Westerse waardes, oor die handhawing van standaarde, oor wat blankes en veral Afrikaners tot stand gebring het. Dit is wittes wat hierdie land oor meer as drie eeue ontwikkel het, in ‘n era wat deesdae as “donker” voorgestel word. Afrikaans het in daardie duisternis as ‘n volwaardige taal tot stand gekom. Dit gaan vir hierdie “Afrikanerbulle” om kwalitatiewe sake. Moet daar saam met apartheid ook hiervan sonder meer afskeid geneem word?

Die kernboodskap wat Esterhuyse in sy 2009-boek oordra, is dat stories en mites in die Bybel vertel word. Dit beteken nie dat die gebeure wat in die Bybel beskryf word werklik plaasgevind het nie. Dit gaan om ‘n bepaalde boodskap ter singewing oor te dra. Die Bybel word bloot ‘n “openbaring van mense” (p 67). Hy laat hom soos volg uit oor die Bybelboek Eksodus: “Dis eintlik ‘n sameflansing van ‘n verskeidenheid kampvuurstories en godsdienstige praktyke van woestyntrekkers op pad na hulle beloofde land” (p 35).

Die Ou Testament word beskryf as “‘n storie oor hulle [die Jode se] verstaan van God en sy rol in die lewe en geskiedenis van mense, state en gemeenskappe, wat oor tyd heen in skrif beslag gekry het” (p 111). “Dis nie die gode of God wat tekste heilig maak omdat hulle regstreekse goddelike openbarings bevat nie. Heilige tekste, ‘die Skrif’ ingesluit, is niks anders en niks meer nie as die getuienisse van mense se uitsonderlike ontmoetings en ervarings” (p 135). Soos in die geval van apartheid het Esterhuyse afskeid geneem van die God waarin hy in sy ouerhuis, “die klipkerk van Laingsburg” en aan die Kweekskool van Stellenbosch geglo het (p 188).

Godsdienstige opvattings word sodoende diensbaar aan Esterhuyse se neo-verligte politiek. Hy wil (en ons moet) hande vat (p 235) en ‘n verskil maak (p 231, 233, 241). Die modewoorde van die huidige plaaslike politieke retoriek (bevryding, verandering/transformasie, geregtigheid, ens) word kwistig rondgestrooi. Geloof word “‘n verbintenis aan saakmakende en vernuwende geregtigheid” (p 240). “Die profetiese tradisie was … primêr ‘n bevrydingstradisie” (p 240). Esterhuyse gaan selfs sover om te beweer: “Vanaf Jesaja en Miga tot by Jesus. Binne dié tradisie … Jy moes jouself identifiseer as ‘n geroepene, ‘n aktivis vir die droom van geregtigheid, ‘n vryheids- en vredestryder” (p 246).

Jesus word voorgestel as “‘n bepaalde inkarnasie of vleeswording van die geregtigheidsdroom … ‘God’, in Jesus as ‘n rolmodel, is volgens die stories van die Bybel ‘n simbool van die ewige, goddelike soeke na geregtigheid” (p 248). Dit is duidelik dat Esterhuyse (soos) ‘n bevrydingsteoloog geword het. Sy vertolking van die Bybel is sodanig dat dit sy neo-verligte en pro-ANC-politiek ondersteun. Religie word diensbaar aan sy politieke voorkeur gemaak. Sy nie-teïstiese, pragmatiese godsbegrip rugsteun sy politieke (wan)opvattings.
.
Esterhuyse se volgende boek, Die God van Genesis: Drama in die amfiteater van die Oneindige (Durbanville: Christelike Media Publikasies, 2010, 294p) is in dieselfde trant as sy vorige boek geskryf en vul dit aan. Van onder meer die Bybel skryf hy: “Self dink ek nie meer die geskrifte is heilig in die sin dat hulle deur die Goddelike self met ‘heiligheid’ beklee is nie. Dit is mense wat deur hulle vereenselwiging met ‘n bestaande geskrif die geskrif as iets spesiaals, as ‘heilig’, uitsonder” (p 68). Let op die volgende vertolking: God “se fokus is nie op die hemel nie. Ook nie op die skepping as sodanig nie. Dit is op verhoudinge, veral met die mens en die aarde” (p 108). Esterhuyse kan sekerlik nie daarop aanspraak maak dat hy dit wetenskaplik vasgestel het nie. Dit is bloot sy vertolking. Daarmee gee hy ‘n vrypas aan die verderflike politiek van die bevrydingsteoloë.

Hy erken dat dit maklik is om die Bybel te misbruik (p 283): “Dit is nie moeilik om die Bybel volgens eie vooroordeel en voorkeure te interpreteer nie” (p 252). Maar dan kom hy tog met hierdie myns insiens uiters vergesogte stelling: “Terloops, as daar ooit ‘n godsdienstige en morele revolusionêr en aktivis was, dan was dit Jesus van Nasaret. Dit is beslis nie gepas om ongekwalifiseerd ‘liewe’ voor sy Naam te skryf nie” (p 198). Dit lyk asof Esterhuyse die “voerbakke” (p 140) polities korrek rondskuif. Die volgende is sprekend van die outeur se veranderde politieke gesindheid: “Nóg ‘die volk’ nóg ‘die taal’ is ‘n skeppingsordinansie! Dit is veranderlikes” (p 253). Hy versuim om by te voeg: Dit beteken nie dat jy jou eie mense en moedertaal vir ander moet verruil nie.

Die derde en laaste boek wat hier bespreek word, is Esterhuyse se Eindstryd: Geheime gesprekke en die einde van apartheid (Kaapstad: Tafelberg, 2012, 367p). Die teks handel oor die verkennende gesprekke wat Esterhuyse en ander “uitgesoekte” lede van die Afrikaanse “binnekring” van 1987 tot 1990 met ANC- lede gevoer het. Esterhuyse praat van die “Afrikaner-ANC-gespreksgroep” (p 115). Heel aan die begin van sy betrekkinge met Mbeki het Esterhuyse aan hom bely dat hy deur die Nasionale Intelligensiediens (NI) gestuur is en dat hy aan die NI rapporteer (p 122). Omdat Esterhuyse hom spoedig eerder by die ANC as die NP geskaar het, kon hy skryf: “Die ANC sal my nie vermoor nie. Hulle het belang by my oorlewing” (p 30).

In die boek word daar uitdrukking aan heelwat volslae naïwiteit gegee. Asof dit wysheid uit die mond van ‘n suigeling is, haal Esterhuyse sy dogter soos volg aan: “Thabo Mbeki kan tog nie ‘n terroris wees nie” (p 170). Elders noem hy egter dat Mbeki militêre opleiding in die Sowjet-unie ondergaan het (p 115), wat sekerlik nie ten doel gehad het om hom mooier in die kerk te laat sing nie. Esterhuyse wou spesifiek in die geval van Mbeki “die konstruk van ‘terroris’ ondermyn” (p 142).

Wat Esterhuyse in sy handel en wandel en ook in hierdie boek doen, is om te ontken dat ons hier met werklike vyande te make gehad het. Vyand is ‘n “mite” (p 182 – soos hierbo in Bybelse verband), ‘n “konstruk”, bedoelende dat dit ‘n misleidende of onvanpaste term en begrip is. So ook “terroris” (p 142). Hierdie vyande moet “vennote” word (p 195). Hy wend hom tot linguistiese higiëne ten einde die ANC goed voor te stel. Dit gaan om die “ontdemonisering van die ANC” (p 36). Hulle is dus nie geweldadige en bloeddorstige terroriste nie. “Bloedorstige vyand” is ‘n “mite” (p 43). Ons is glo almal Suid-Afrikaners met ‘n gemeenskaplike vaderland, dus ‘n enkele tuisland, en ons het almal ‘n “gemeenskaplike toekomsdroom” (p 160).

“Die ANC is in die eerste plek nie ‘n terroriste-organisasie nie, maar ‘n politieke beweging” (p 129). In die boek word moeite gedoen om die ANC, ‘n “civilised and cultured group of people” (p 138), te ontdemoniseer. In dié proses word Afrikaners (minstens dié wat apartheid ondersteun) gedemoniseer. Die apartheidsregering het moordbendes gehad (blykbaar is dit nie bloot ‘n “konstruk” of “metafoor” nie) omdat die NP-regering in die “mite” van ‘n Totale (kommunistiese) Aanslag geglo het (p 56) en dus met ‘n Totale Strategie as teenvoeter vorendag gekom het (p 70). Hierteenoor hang Esterhuyse “totále transformasie” aan (p 156). Hy gebruik graag die term “sekurokrate” (p 81) vir diegene wat die Suid-Afrika van weleer teen geweld probeer beveilig het. Blykbaar is ook hierdie term nie bloot ‘n “konstruk” nie.

Tog konstateer Esterhuyse darem hierdie waarhede: “Die buitelandse vleuel van die ANC het finansieel, militêr en polities hoogs afhanklik van Moskou en sy meelopers geword” (p 62) en “sonder Sowjetsteun sou die ANC nêrens gekom het nie” (p 205), asook dat die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party die ANC “intellektueel en ideologies gedomineer het” (p 84). Die Botha-regering en sy veiligheidsmagte, wat hulle teen terrorisme en kommunisme verset het, word die “ystervuis” genoem (p 38) en die oorlog ‘n “burgeroorlog” (p 131). In ‘n oorlog word mense gedood, maar Esterhuyse gebruik telkens ANC- en WVK-taal: ANC-aktiviste word “vermoor” (bv p 39). Dalk net ‘n enkele keer erken hy dat die ANC moorde gepleeg het wanneer hy skryf oor “geweld en moordbendes aan albei kante” (p 181).

Esterhuyse munt nie uit in objektiwiteit nie. PW Botha word die “Groot Krokodil” genoem en Nelson Mandela die “Groot Ikoon” (p 207). Botha was glo “arrogant” (p 108) en het ‘n “obsessie met mag en publisiteit” (p 193) gehad, maar nie “denk-elastisiteit” nie (p 177). Hy word telkens as “halsstarrig” getipeer (bv p 169). Mandela, daarenteen, is ‘n “meesterlike oorrompelaar” (p 94-95), ‘n “passievolle politieke omvormer” (p 208) en “die sjarmante en eg menslike leier” (340). “Hy tree soos ‘n visionêre leier op. ‘n Moses-figuur” (p 175). “Mandela is sy ware self: Vredesoeker; versoener; gematigd; nie-rassig” (p 272). Maar Mandela was in werklikheid die inisieerder, stigter en eerste hoof van Umkhonto weSizwe (MK), die militêre of geweldsafdeling van die ANC. Let op hoe Esterhuyse hierdie feite oor sy vredesikoon verdoesel: Mandela “het wel ‘n hoë posisie in MK gehad” (p 238).

Mbeki het, volgens Esterhuyse, ‘n “skerp analitiese vermoë” (p 125) en “hy praat beredeneerd en baie logies” (p 164). Hy is vir Esterhuyse “die soort mens … wat ek bereid sal wees om met my lewe te vertrou” (p 142). Desmond Tutu en Allan Boesak word voorgehou as “gerespekteerde kerkleiers” (p 39), “charismatiese leiers” (p 107), “uiters bekwaam en leiersikone in eie reg. Nie revolusionêre militantes nie” (p 219). Oliver Tambo was glo ‘n “gematigde” ANC-leier (p 41), terwyl dit in werklikheid hy was wat gelas het dat sagte teikens in blanke woonbuurte deur die UDF/ANC aangeval moet word (p 87). Tambo het die gewelddadige UDF geloof as ‘n “uitstaande voorbeeld van die ‘political maturity of our people'” (p 133).

Esterhuyse het allerhande romantiese en uiters naïewe verwagtinge van die nuwe Suid-Afrika gekoester. Hy skryf “dat ‘n nuwe politieke daeraad besig was om deur die duisternis van apartheid te breek” (p 207-208). Hy beskou dit as: “‘n Dramatiese paradigmaskuif, weg van rasgebaseerde politieke voordele en verskansings, na nie-rassigheid” (p 296). Daar is hierdie mondvol hoop: “Volhoubare vrede, geregtigheid, regverdigheid en stabiliteit” (p 302). Andrew Young, die swart Amerikaanse aktivis, het beweer dat “die ANC eendag kan bewys dat swart mense ‘n gesofistikeerde land kan regeer” (p 271). Het die ANC-regering dit bewys, of juis die teenoorgestelde? Patrick Fairweather, ‘n Britse regeringsamptenaar, het gesê: “The best way to address white fears in South Africa is to make an economic success of Zimbabwe” (p 120). Die oorverligte Esterhuyse het sy hoop gevestig op ‘n “Suid-Afrika waarvoor ons nie skaam hoef te wees nie” (p 15) en ‘n “ware nie-rassige demokrasie” (p 48).

Die skandaligste aspek van Esterhuyse se naïwiteit is sy teenkanting teen minderheidsregte, insluitende vetoreg, vir blankes. Dít terwyl swartes in die VSA in ruime mate minderheidsregte het. Esterhuyse, die oud-Broederbonder. is “ten gunste van ‘n een-mens-een-stem-verkiesing in ‘n eenheidstaat” (p 27). Oor die grondwetlike onderhandelinge in 1993 skryf hy: “Ek het toe al lankal weggestap van die NP se idee van groepsregte en minderheidsveto’s” (p 299). In die praktyk het dit die gevolg dat alle Suid-Afrikaanse nie-wittes deesdae groepsregte het (bv ingevolge regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging) terwyl al die wittes (en net die wittes) geen groepsregte het nie. Hiervoor kan ons Esterhuyse en andere wat ‘n “onmisbare en deurslaggende rol” in die voorbereidingsfase gespeel het (p 335) mede-verantwoordelik hou. Hy is een van dié wat geen onheil in swart oorheersing gesien het nie. Hy het geen beswaar teen die verswelging van wittes deur swartes met hulle vreemde nie-Westerse waardes geopper nie. Hy het die duisternis van apartheid gekontrasteer met die lig wat die ANC sou bring. Ek is diep dankbaar dat ek dit nie op my gewete het dat ek medepligtig aan verraad teenoor my eie etniese groep is nie.

Vervolgens vestig ek die aandag op die jongste brief (12 Oktober, p 18) en artikel (19 Oktober, p 11) wat Esterhuyse in Die Burger gepubliseer het. In die brief verwys hy na “baie Afrikaners wat hulself as ‘slagoffers’ ervaar.” Dit is glo “die moeder van onverdraagsaamheid.” Met verwysing na Jonathan Jansen se onlangse anti-Afrikaanse uitlatings skryf Esterhuyse: “Ek het groot waardering vir jou Voortrekkersrol in ons land.” Omdat Tim du Plessis kritiek op die loskanon Jansen uitgespreek het, reageer Esterhuyse soos volg: “Ek het besluit om nie meer Rapport te lees nie.” Hy verkwalik Leopold Scholtz omdat laasgenoemde twyfel uitgespreek het oor die mate waarin Russel Botman die heil van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch bevorder. Ten slotte haal hy Brigalia Bam, ‘n ANC-aktivis, goedkeurend aan: “We seem to have unlearned the power of real dialogue which served us so well in the past.” Die dialoog waarna verwys word, is daardie gesprekke wat die land in die skoot van die ANC laat beland het. Die “us” wat so baie daarby gebaat het, is die swartes. Hierdie brief dui op ‘n groot mate van frustrasie by Esterhuyse; dermate dat dit twyfel oor sy geestelike ewewig kan wek.

Esterhuyse se jongste artikel is gebaseer op ‘n toespraak wat hy in Washington, DC, gelewer het. Die bedoeling was seker onder meer dat die koerantlesers kennis moet neem dat sy mening soms nog in aanvraag is. Hy stel hierdie vraag oor Suid-Afrika: “Waarom wás en is ons steeds ‘n geweldsland?” In Eindstryd het Esterhuyse apartheid, en nie die ANC se terrorisme nie, as die oorsaak van geweld voorgehou. Dít wat die verlede betref. Die politieke en ander geweld wat tot in die hede onder die swart massa voorduur, behoort ongetwyfeld aan die voorbeeldstelling van die ANC as “bevrydingsorganisasie” toegeskryf te word, maar Esterhuyse doen dit nie. Hy profeteer: “Gewelddadige betogings op plaaslike vlak is bestem om toe te neem.”

Hy toon deesdae, dus in die na-Mbeki-era, ‘n mate van ongedurigheid met die ANC: “Géén volhoubare vrede sonder ‘n suksesvolle staat nie … Brose en mislukte state, sistemies korrupte state en state wie se leiers die staat intern ‘herkoloniseer’ het, kan beslis nie vrede bevorder nie … Nelson Mandela en Thabo Mbeki se vorme van visioenêre leierskap, gedra deur ‘n ANC-organisasiekultuur en korps toegewyde ‘wyse vroue en manne’ [let op die volgorde], is verruil vir blatante transaksieleierskap waarin politieke lojaliteit (en tenders en poste) koopbaar geword het. Dié soort leierskap verander ons swaar verworwe demokrasie [ANC-taal] stelselmatig en doelbewus in ‘n vorm van ‘n kliëntestaat: kolonialisme en neo-kolonialisme [gedefinieer as: “uitsluiting deur ‘n nuwe elite”] getransformeer in neo-patrionialisme[;] die staat ‘n verlengstuk van die leier, sy familie, sy vriende en geslepe sakemanne.” Esterhuyse het klaarblyklik nog nie vrede gemaak met die feit dat hooggeprese demokratiese prosesse, naamlik sy geliefde gepeupelkrasie, die oorsaak was dat sy vriend Mbeki die trekpas gekry en Jacob Zuma hom vervang het nie. Dat Suid-Afrika beter daaraan toe tydens Mandela en Mbeki se bewind was, dui in werklikheid nie, soos Esterhuyse beweer, op hulle “visionêre leierskap” nie, maar bloot op die feit dat die verval onder swart bewind geleidelik plaasvind en eksponensieel toeneem.

Maar dan kom die oorverligte Esterhuyse weer in rat: “Vergewe en vergeet … is ‘n vorm van ‘ontkenning’ deur veral wit mense.” Hy verwys na “die onreg van die verlede” en nie na die talle opsigte waarin die land tydens bv die apartheidsera beter daaraan toe was nie. Eintlik kom sy pleidooi daarop neer dat die nuwe Suid-Afrika nou weer “brugbouers” nodig het; mense soos Esterhuyse, die “koerier” (Eindstryd, p 180) of superbode wat boodskappe tussen die NI en die ANC vervoer het.

Ten slotte moet hierdie vraag beantwoord word: Kan ‘n ANC-meeloper soos Esterhuyse en iemand wat ongetwyfeld medepligtig aan die nuwe Suid-Afrika is, ‘n Afrikaner genoem word? Daar is veral drie kenmerke wat in ag geneem moet word: godsdiens, taal en politiek. Afrikaners is tradisioneel met christelik-protestantse godsdiens geassosieer. Die afstand wat daar veral sedert 1990/1994 tussen formele godsdiens en baie Afrikaners ontstaan het, maak van godsdiens die ontbeerlikste kenmerk van die genoemde drie. Sekularisasie in Westerse samelewings speel ook ‘n rol. Met of sonder formele kerkbande gaan die meeste Afrikaners voort om soortgelyke waardes te koester. Esterhuyse het nie net sy rug op die Afrikaner se “klipkerk” gekeer nie, maar hom ook in ruime mate met nie-Westerse Afrika-waardes vereenselwig.

Taallojaliteit, Jaap Steyn se taalgetrouheid, neem myns insiens deesdae toenemend die plek van godsdiens in as ‘n onmisbare bestanddeel van Afrikanerskap. Afrikaanssprekendes wat nuwe-Suid-Afrika-entoesiaste geword het, praat sonder beswaar geradbraakte Afrikaans en/of maak Engels hulle taal van voorkeur. Wat opval is dat Esterhuyse, sover ek weet, nêrens kommer oor die lot van Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika uitgespreek het nie; ook nie werklike kommer oor die lot van Afrikaners en ander blankes in ‘n land waar die swart meerderheid in beheer is nie. Hy het hom nooit vereenselwig met die “taalbulle” wat hulle vir die behoud van Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch beywer het nie. Kyk bv sy reaksie in die brief waarna hierbo verwys is. Esterhuyse het hom van die bevordering van die heil van Afrikaans en van die “taalbulle” gedistansieer omdat assosiasie met hulle afbreuk sou doen aan die neo-openbare beeld wat hy van homself in sy na-Boederbond-era probeer vestig het. Ook wat Afrikaans betref, slaag Esterhuyse nie die toets vir Afrikanerskap nie.

Lojaliteit teenoor Afrikaans word in groot mate deur politieke gesindheid bepaal. Jan Smuts, Bram Fischer, Beyers Naudé, Nico Smith, Frederik van Zyl Slabbert, Leon Wessels, Anton van Niekerk en Willie Esterhuyse druip veral om politieke redes die lakmoestoets vir Afrikanerskap. Afrikaners voel lotsgebonde aan hulle mede-Afrikaners en ander blankes en verraai en vertrap nie Afrikaner-ideale deur eerder nie-wit etniese groepe se belange na te jaag nie. My beswaar is nie teen die uitreik na ander etniese groepe as sodanig nie, mits dit binne perke geskied. Daardie perke word oorskry as daar ‘n oordrewe sug bestaan om ander etniese groepe ter wille te wees ten koste van Afrikaners en ander blankes se belange. Dit is die kernprobleem wat al die pas genoemdes met hulle potensiële Afrikanerskap behoort te hê.

George Soros se ‘oop samelewing’

George Soros
George Soros

deur Leon Lemmer

Frederik van Zyl Slabbert (1940-2010) was van 1979 tot 1986 die leier van die opposisie, die PFP (Progressiewe Federale Party), in die Parlement. Daarna was hy in ‘n leidende hoedanigheid by IDASA (Institute for a Democratic Alternative in South Africa, later Institute for Democracy in Africa) betrokke. Hierdie instituut het demokratiese verandering in Suid-Afrika nagestreef. Een van die maniere waarop dit gedoen is, was om gesprekvoering tussen blankes en die ANC te bevorder. Die bekendste “sukses” wat in hierdie opsig behaal is, was toe ‘n aantal oorverligtes, veral Afrikaanssprekendes, en ‘n afvaardiging van die ANC in 1987 in Dakar, Senegal, vergader het.

In 2006 is Slabbert se boek, The Other Side of History, gepubliseer. ‘n Vertaalde weergawe het ook verskyn: Duskant die Geskiedenis: ‘n Persoonlike Terugblik op die Politieke Oorgang in Suid-Afrika (Kaapstad: Tafelberg, 2006, 192p). Daarin vertel die outeur hoe hy dikwels vir George Soros (gebore in 1930), ‘n Hongaarse Jood, om geld genader het vir IDASA-projekte, wat politieke verandering en die einde van apartheid ten doel gehad het. Met Soros-geld is bv die Gorée-instituut, ‘n Afrika-vredesakademie, op Gorée-eiland by Dakar, wat destyds as slawevertrekpunt gedien het, gevestig.

Slabbert:

As mens is Soros ‘n omstrede figuur wat partydige en emosiebelaaide reaksies ontlok. Hy word óf bewonder óf verwerp; óf mense hou van hom óf hulle verafsku hom; hy word óf geloof óf beledig. Ek weet dat baie van die oordele oor hom gegrond is op gebrek aan begrip vir wat hy probeer doen, of op gebrekkige inligting. Soros self sal die eerste wees om te erken dat hy nie ‘n heilige is nie … Ek het Soros ook persoonlik en op baie informele vlak leer ken. Ek dink ek kan my verstout om te sê ons is vriende. Hy is ‘n komplekse mens, maar kan instinktief ‘n veinser uitken; hy haat dit om verneuk te word. Terselfdertyd huiwer hy nie vir ‘n oomblik om ‘n saak mildelik te steun as hy reken dat dit verdienste het nie (p 111-112).

Soros word dikwels gestereotipeer as ‘n ryk man wat ‘goeie dinge wil doen’; dat hy ly aan grootheidswaan wat hom motiveer om state en samelewings te wil verander. Niks is verder van die waarheid nie. Soros glo wel dat samelewings, gemeenskappe en individue kan verbeter, en dat daar hulpbronne beskikbaar is om hulle te help om dit te doen. Maar hulle kan ook hierdie hulpbronne misbruik, en dis belangrik om dit te erken wanneer dit gebeur. Weens my verbintenis met George Soros oor die afgelope 18 jaar het ek geleer dat filantropie opbouend en selfkorrigerend kan wees (p 117).

Die Open Society Foundation of South Africa (OSFSA) is in 1993 met Soros-befondsing gestig. Die kantoor is in Pinelands, naby Kaapstad. Slabbert noem dat Desmond Tutu tydens die amptelike opening gekla het dat die OSFSA-leierskap “te wit” is (p 105). Van 1993 tot 2005 het Soros R3 miljard aan projekte in Suider-Afrika bestee (p 111). Op die webwerf word hoog opgegee oor hoe die OSFSA nie-rassisme bevorder. Terselfdertyd word egter genoem dat Soros sedert 1979 studiebeurse uitsluitlik aan plaaslike swartes toegeken het. Dit lyk dus asof Soros net so nie-rassig soos Tutu is.

Die hoofkantoor van die Open Society Foundations, wat in 1979 tot stand gekom het, is in New York. Hierdie organisasie is in 70 lande bedrywig. ‘n Oorweging by die toekenning van studiebeurse is “onderverteenwoordiging” van ‘n groep. Soros se benadering skakel dus goed in by die ANC-dogma van demografieweerspieëling, oftewel dat swartes plaaslik 80% of meer verswelgende verteenwoordiging op elke terrein moet geniet.

Wat reeds uit hierdie uiteensetting geblyk het, is dat Soros sy rykdom, wat meer as $20 miljard bedra, in baie lande filantropies aanwend om bepaalde ideologiese doelwitte te bereik. Om vas te stel wat Soros nastreef, is dit nodig om na die idees van sy leermeester, Karl Popper (1902-1994), te verwys. Popper was ‘n Oostenrykse Jood wat in 1937 na Nieu-Seeland gevlug en hom in 1946 in Londen gevestig het. Hy was ‘n dosent aan die London School of Economics tot sy aftrede in 1969. Hy het bekendheid veral vanweë sy boek, The Open Society and its Enemies (1945), verwerf.

Aanvanklik het Popper aangetrokke tot die kommunisme gevoel, maar die gewelddadigheid van kommuniste het hom vervreem. Anders as Karl Marx het hy toe tot die gevolgtrekking gekom dat die verloop van die geskiedenis nie voorspel kan word nie. ‘n Oop samelewing vereis volgens Popper ‘n nie-kommunistiese, liberale, demokratiese staatkundige opset waarin kritiek geduld word. In sy geskrifte is daar ongetwyfeld ook ‘n voorkeur vir sosialisme te bespeur.

Slabbert:

Die onderskeidende kenmerk van Popper se filosofie is die feilbaarheid van menslike kennis; dat kennis vooruitgaan deur die erkenning van foute; en ‘n skerp agterdog jeens, selfs ‘n heftige afkeer van, grootskaalse sosiale manipulasie. Popper het beslis meer kritiese studente as onkritiese aanhangers gekweek … Wat Soros onderskei as ‘n filantroop is dat hy dieselfde selfkritiese styl aangeneem het wat Popper … en ander voorstaan (p 117). Maar sosiale manipulasie op kleiner skaal is, volgens Popper, blykbaar wél geoorloof: “All ‘final solutions’ in politics and economics should be replaced by what [Popper] called ‘piecemeal social engineering'” (Elizabeth Devine, Thinkers of the Twentieth Century, London: Firethorn Press, 1985, p 455).

Om vas te stel wat volgens Popper ‘n oop samelewing is, haal ek vervolgens uit drie bronne aan:

Open society: Karl Popper’s conception of a ‘free society’ in which all forms of knowledge and all social policies can be openly criticized … a society in which individuals can aspire to change history and in which the future as a whole is recognized as inherently unpredictable (David Jary, Collins Dictionary of Sociology, London: HarperCollins, 1991, p 411, 482).

The open society is a highly individualistic one, characterized by free critical thinking; it is a society where individuals are confronted with responsibility for their personal decisions (Justin Wintle, Dictionary of Modern Culture, London: ARK Paperbacks, 1984, p 317).

Volgens Popper is ‘n geslote samelewing een “which do not allow individuals to rise according to merit” en waar daar “indoctrination in education” is (Alan Bullock, The Fontana Dictionary of Modern Thought, London: Collins, 1977, p 442).

Die ANC klop homself graag op die skouer deur voor te gee dat Suid-Afrika sedert 1994 ‘n oop en vrye samelewing is. Henry Jeffreys het dit pas beaam asof dit die waarheid is (Die Burger, 23 deser, p 14). In werklikheid voldoen die huidige plaaslike situasie nie naasteby aan Popper se vereistes nie:

(1) In die nuwe Suid-Afrika is daar groot beperkings op wat wittes mag sê, wat nie vir nie-wittes geld nie. Daar is benamings wat glad nie vir lede van nie-wit etniese groepe (swartes, bruines en Asiate) geuiter mag word nie. Die blote gebruik van so ‘n woord word as bewese rassisme beskou. Vir blankes, daarenteen, mag enige benaming onder die son toegesnou word sonder dat ‘n haan daaroor kraai.

(2) Dit bevestig dat, in ons opset, dit nie om indiwidualiteit gaan nie, maar om die heil van daardie drie nie-wit etniese groepe; uiteraard veral om die bevoordeling van die meerderheidsgroep, die swartes. Die wittes is die enigste etniese groep teen wie daar ingevolge die grondwet suiwer rassisties indiwidueel en groepsgewys gediskrimineer mag/moet word. FW de Klerk het pas in Nederland beweer dat Suid-Afrika ‘n “uitstekende” grondwet het (Die Burger, 26 deser, p 4). Dit is dieselfde mens wat volgens Leon Wessels dit sterk oorweeg het om teen daardie einste grondwet te stem, maar nie die moed gehad het om dit deur te voer nie (Praag 20 deser).

(3) In die praktyk word daar nie klem op die aanvaarding van indiwiduele verantwoordelikheid by veral swartes geplaas nie. Sonder teenprestasie en dikwels op grond van wanprestasie (oproer, klipgooiery, vandalisme, brandstigting – dinge wat die UDF/ANC hulle deur voorbeeldstelling geleer het) kan hulle ononderbroke voortgaan om bakhand te staan; die bodemlose-put-sindroom.

(4) Rassistiese en seksistiese oorwegings speel ‘n oorheersende rol by bevoordeling. Weens sterk anti-blanke sentiment kom bitter min van meriete-beoordeling tereg. Dit is nie kenmerkend net van die ANC nie. Die provinsie Wes-Kaapland word deur die DA beheer. Studiebeurse word aan kandidate toegeken wat “ideaal van ‘n voorheen benadeelde agtergrond [moet] wees” (Die Burger, Talent, 26 deser, p 3).

(5) Indoktrinasie blyk uit bv die skoolleerplanne en die herskrywing van die geskiedenis. Daar word bv gepoog om die ANC as ‘n nie-geweldadige, nie-misdadige en hoogs morele onderneming voor te stel. Russel Botman, die rektor van die Universiteit Stellenbosch, het pas aangekondig dat sy indoktrinasieweek, waarin hy sy weergawe van “diversiteit”, oftewel gedwonge rasse-integrasie, vier (Praag, 29 September), ‘n jaarlikse instelling gaan word.

(6) Die sterk kommunistiese neigings in die ANC diskwalifiseer die nuwe Suid-Afrika grondig van die moontlikheid dat dit werklik ‘n oop samelewing kan wees. Die plaaslike hoofkommunis is sonder protes reeds jare lank die minister van hoër onderwys, wat die afwesigheid van ware akademiese vryheid bevestig.

‘n Opsig waarin die nuwe Suid-Afrika wél aan ‘n Popper-vereiste voldoen, is die pogings om die aard van die samelewing te verander. Dit geskied onder die vaandel van die sambreelterm “transformasie”. Die tragedie is dat sodanige veranderings dikwels nie verbeterings is nie; eerder die teenoorgestelde. Hierdie sosiale ingenieurswese is ook nie beperk in omvang nie, maar grootskaals, bv die vervanging van blankes in openbare (bv staatsdiens-) poste met swartes. Ook die plasing van subekonomiese behuising in eens weeldebuurte; iets wat nie in beskaafde lande voorkom nie. Toegegee, Suid-Afrika is sedert 1990/1994 in toenemende mate nie meer ‘n beskaafde land nie.

Die vraag is in hoeverre Slabbert se oorwegend positiewe beeld van Soros korrek is. Of is Slabbert deur milde Soros-geld mislei omdat albei skynbaar soortgelyke politieke ideale gekoester het? ‘n Antwoord is moontlik te vinde in die volgende publikasie: David Horowitz and John Perazzo, The Shadow Party and the Shadow Government: George Soros and the Effort to Radically Change America (Sherman Oaks: David Horowitz Freedom Center, 2010 – slegs elektronies beskikbaar).

Soros se sosialisme, wat al “anti-capitalist redistributionism” genoem is (Kindle 357), vind in die VSA die beste weerklank deurdat hy eerder die Demokratiese Party as die konserwatiewer Republikeinse Party steun. Hy bevorder die Demokrate se belange deur talle hulporganisasies, insluitende vakbonde, finansieel te ondersteun. In die massamedia word gunstige propaganda gekoop. Die opvallendste sukses het in 2008 gekom met wat die “Colorado Miracle” genoem is, toe die Demokratiese Party onverwags in die verkiesing in daardie staat die meerderheid stemme behaal het.

“The way we get progressive change is to control government” (K 29). Die linkse politieke organisasies wat deur Soros beheer word, word die Shadow Party genoem. Hierdie party is in 2003 amptelik gestig. Die meerderheid wat die Demokratiese Party in die 2006-verkiesing in die Kongres en Barack Obama in die presidentsverkiesing in 2008 behaal het, word onder andere aan Soros toegeskryf. Obama het die Demokratiese Party se presidentskandidaat geword danksy Soros se ondersteuning; dus nadat Soros sy verwagte steun aan die ander kandidaat, Hillary Clinton, onttrek het. Soros was bevriend met sowel Bill as Hillary Clinton. “The Soros agenda, in fact, has become the Obama agenda” (K 36), bv die sosialistiese nasionale gesondheidsorgplan. ‘n Soortgelyke plan is ook in Suid-Afrika in die vooruitsig. Obama se minder simpatieke beleid teenoor Israel kan aan Soros se anti-Sionistiese standpunt toegeskryf word.

Waarna Soros streef, is wêreldeenheid en -regering, ‘n totalitêre staat, dus ‘n globale gemeenskap van wêreldburgers en die gelykmaking van mense op ‘n makroskaal. Dit is gebaseer op sy vertolking van sy leermeester Popper se idees: “One-worldism and the prospect of perfecting humanity through social engineering” (K 36). Een van die maniere om sy ideaal te bereik, is om te velde teen landsgrense te trek. Met die oog op tydelike of permanente vestiging moet alle lande vir almal toeganklik wees.

Die opset in die nuwe Suid-Afrika is sodanig dat die landsgrense maklik deur groot getalle onwettige immigrante oorgesteek word. Dit moet ‘n riem onder die Soros-hart wees. Suid-Afrika se tradisionele rykdom word voortaan met baie armlastige dese en gene gedeel. Soros onderskryf ongetwyfeld ook die ANC-dogma dat ons eerder Afrikane as Suid-Afrikaners is. Soros beywer hom openlik vir ‘n linksgesinde regbank; iets wat plaaslik uiting in ANC-beheerde regterlike aanstellings vind. Daarby wil Soros die gevangenisbevolking verminder en by implikasie sosiale stabiliteit verwater. Hy doen dit deur hom te beywer vir bv die afskaffing van wette wat die verkoop en gebruik van dagga beperk. Dit is onwaarskynlik dat Soros beswaar sal opper teen die ANC-regering se gewoonte om op ‘n onverantwoordelike manier die gevangenistermyn van misdadigers te verkort; natuurlik mits hulle nie reeds ontsnap het nie.

Die terreurdade wat op 11 September 2001 gepleeg is, is deur Soros toegeskryf aan “American Supremacy” as “the number one problem facing the world” (K 109). “American imperialism was ultimately responsible for the attacks” (K 115). “Soros maintained that the proper long-term response to 9/11 would be for America to launch a global war on poverty by sending massive amounts of aid to impoverished regions around the world where terrorism flourished. Terrorism, Soros maintained, was the result of a ‘growing inequality between rich and poor, both within countries and among countries'” (K 115). Kwaad moet dus met goed vergeld word.

Plaaslik moet ons dikwels aanhoor dat die grootste ekonomiese ongelykheid in Suid-Afrika voorkom. Dit dien as grondslag vir die ANC se beleid van die verdeling van rykdom, bedoelende: Neem van die wittes en gee dit aan die swartes. Die plaaslik bekende aandrang op verhoogde minimum lone “to potentially unlimited levels” (K 252) is ook deel van die Soros-pakket, terwyl die aandrang op verhoogde produktiwiteit agterweë bly.

In die nuustydskrif Time (21 deser) is daar ‘n artikel (p 40-48) oor hoe ryk Amerikaanse filantrope, onder andere Soros, hulle geld aanwend om die samelewing te verander. Dit kom neer op ‘n onderskrywing van plaaslik oorbekende frases soos om “hande te vat”, “‘n verskil te maak” en “te transformeer”. Gewag word ook gemaak van hierdie ewe bekende wanvoorstelling: Wanneer “one’s view is left, one’s view is right” (p 48). Teen 2004 het Soros reeds $20 miljoen bestee om die konserwatiewe Republikein, George W Bush, as president te ontsetel, maar Soros was eers vier jaar later suksesvol. Daar word ook genoem dat Soros $100 miljoen aan Human Rights Watch bewillig het (p 44).

In die konteks van my skrywe is die volgende woorde van die outeur, Michael Scherer, belangrik: “Not since the early 20th century have individuals had so much power to unilaterally shape our lives and shift our ideas. And never in history have they been able to exert their will so easily on such a global scale” (p 42-43). Dit kom neer op die tot standbrenging van die teenoorgestelde van ‘n oop en vrye samelewing en Soros is een van die hoofaanstigters hiervan.

Gestel dit is waar dat Soros daarin geslaag het om met sy geld en strategie ‘n regerings- en presidentsverandering in die VSA te (help) bewerkstellig. Dit is ook bekend dat sy geld deels verantwoordelik is vir die algehele breuk met die verlede wat in 1990/1994 in Suid-Afrika plaasgevind het. Ek het ook aangetoon dat die ANC-regering in baie opsigte Soros-idees omarm. As geld ‘n politieke ommeswaai in ‘n groot land soos Amerika kan veroorsaak, hoeveel makliker kan baie minder geld ‘n baie kleiner land, soos Suid-Afrika, onherroeplik verander? Terselfdertyd word daar dan ‘n einde gemaak aan apartheid, wat erg oordrewe as ‘n misdaad teen die mensdom voorgestel is.

Die vraag wat in die midde gelê moet word, is watter indiwidue moontlik regstreeks groot geld ontvang het om Suid-Afrika nie ewolusionêr staatkundig te laat ontwikkel nie, maar dit rewolusionêr te verander? Daar is veral een hulpbron wat uitnemend geskik is om skouspelagtige manteldraaiery te bewerkstellig, naamlik geld. Sodanige geld kon van bv Soros of die Amerikaanse Central Intelligence Agency (CIA) afkomstig gewees het. Aanvanklik kom sulke inligting nie op die lappe nie, maar mettertyd dalk wel. Dit kan moontlik die openbare beeld van vooraanstaande, geëerde indiwidue ingrypend verander.