Leon Lemmer: Gabriël Botma oor Afrikaanse polemieke

Aan die Universiteit Stellenbosch (US) funksioneer die Departement Journalistiek sedert 1978. Piet Cillié was die eerste hoof, gevolg deur Johannes Grösskopf (die pa van Hein, die 1987-ANC-bomplanter), George Claassen (wat by die Waarheids- en Versoeningskommissie sy sondes bely en om verskoning gevra het) en sedert 2001 Lizette Rabe. Hieruit blyk die departement se sterk gebondenheid aan Naspers/Media24. Oudredakteur Hennie van Deventer roem daarop dat Naspers se koerante ‘n “sleutelrol” in die politieke en staatkundige hervorming gespeel het (Gabriël Botma, bron hier onder, Kindle 1228). Geeneen van Cillié se US-opvolgers sal hulleself ongekwalifiseerd Afrikaners noem nie.

‘…die vrees vir Afrikanerherlewing en -mobilisering nog nie heeltemal verdwyn het nie’ – Gabriël Botma

Sedert Chris Brink se aanstelling as US-rektor in 2001 het Rabe geblyk ‘n sterk ondersteuner te wees van die US-transformasiebeleid (met die gepaardgaande afskaling van Afrikaans). Sy was ook een van die voorbokke ten gunste van die postume toekenning van ‘n US-eredoktorsgraad aan die kommunis Bram Fischer (1149). Die Burger het die US in ‘n hoofartikel in sy kwaad gesterk met die stelling dat Fischer “‘n rolmodel vir alle tye, ook vir komende geslagte US-studente” is (1156). “Die Stellenbosse Afrikaner-establishment van die vroeë 21ste eeu [het Fischer] gebruik as simboliese gebaar om aan hulself en ander te bewys dat hulle anders as hul voorgangers dink en doen” (1162). Botma is dit klaarblyklik met Rabe eens oor Fischer, want hy noem hom ‘n Afrikaner en ‘n held en ‘n visionêr wat deesdae “aan die volksboesem gekoester word, terwyl [hy] in [sy] eie tyd verguis is” (1714).

Rabe het ‘n boek oor Rykie van Reenen gepubliseer (2011). Van Reenen het Steve Biko as nie ‘n breker nie maar as ‘n bouer gekarakteriseer (884). Daar is jaarliks ‘n Rykie van Reenen-genootskap in die departement beskikbaar, wat onder andere aan uiters linkse joernaliste, soos Hannelie Booyens (2011) en Willemien Brümmer (2012, ‘n agterkleinkind van CJ Langenhoven), toegeken is. Max du Preez en Adriaan Basson is van die spesialis-gasdosente wat daar optree. In Maart het die US ‘n eredoktorsgraad aan Du Preez toegeken. Dit is heel moontlik deur Rabe geïnisieer. Sy het tydens die gradeplegtigheid gemotiveer waarom Du Preez vereer word. ‘n Oud-US-student en ouddosent van hierdie departement, Herman Wasserman, is al aangespreek oor die “neerhalende manier” waarop hy “na die Afrikaner, sy kerk en sy kultuur” verwys (3054).

Die departement joernalistiek wil blykbaar graag eerder op Afrika as Suid-Afrika ingestel wees. Lesings word bv in die Mediafrica-gebou aangebied en vind aansluiting by Russel Botma se Hoop-projek, wat die marxis Paulo Freire se pedagogie van die onderdruktes as hoeksteen het. Een van die omstrede doelwitte van hierdie departement is om demokrasie (dus swart regering in Suid-Afrika) te bevorder; ‘n ideologiese manie wat kwalik akademies-wetenskaplik geregverdig kan word. Daar is immers baie soorte staatsvorme, elkeen met voor- en nadele.

Uit hierdie oord kom Gabriël J Botma se boek, Polemieke: Bekgevegte in Afrikaans (Kaapstad: Zebra Press, 2018, 200p, R240; Amazon Kindle $15,96). Die outeur is ‘n dosent in joernalistiek aan US. Hy was voorheen ‘n joernalis by Die Burger. Uit die teks en inligtingsbronne blyk ‘n sterk verwantskap met Naspers/Media24. Eintlik is die boektitel misleidend. Standpunte vir of teen ‘n onderwerp word nie werklik gestel en ontleed nie. Die teks oor veral die eerste drie onderwerpe (politiek, taal en kerksake) ontaard eintlik in selektiewe historiese oorsigte. Leopold Scholtz se boek, Kruispaaie (2016 – Praag 29.05.2016), dien dikwels as rigsnoer. Die (anglisistiese) frases “eienaardig genoeg” en “ironies genoeg” kom in oormaat voor; ook “as volg” pleks van “soos volg”. Die grofste flater is die verwysing na die United Democratic Movement (Bantu Holomisa se politieke party) terwyl die United Democratic Front (die binnelandse terreurbeweging van die ANC wat deur Desmond Tutu en Allan Boesak gelei is) bedoel word (1832).

Aanvanklik probeer Botma om sy linkse politiek in toom te hou maar sy woordkeuse, invalshoeke en seleksie van gevalle laat by die kritiese leser min twyfel oor die outeur se gesindheid. “Die sentrale vraag wat in hierdie boek ondersoek word, is hoe opspraakwekkende polemieke in Afrikaans en onder Afrikaners sedert die koloniale tydperk aangesluit het by die verhaal van die ontwikkeling, hoogbloei en val van Afrikanernasionalisme. Die boek staan krities teenoor ‘n dominante verhaal van Afrikanereenheid” (144). “Die opspraakwekkende polemieke ter sprake in hierdie boek is almal in Afrikaans gevoer, en in groot mate tussen lede van die groep wat as Afrikaners bekend staan. Veral weens apartheid het die term sinoniem geword met ‘wit, konserwatiewe’ mense, maar sommige historici bevraagteken hierdie konnotasie en voer aan dat ‘n meer ‘oop en inklusiewe’ gebruik daarvan in die geskiedenis bestaan het, met die implikasie dat dit ook in ‘n nuwe bedeling moontlik is” (167).

Deurgaans is dit asof die outeur hom buite die Afrikanerdom posisioneer. Hy is myns insiens deel van “die ongemaklike waarheid dat die vyande van die voortbestaan van Afrikanernasionalisme … nie buite die laer [!] te vinde [is] nie, maar aan eie boesem” (3017). Dit lyk asof Botma dink of hoop dat die tyd vir Afrikanernasionalisme en Afrikaners uitgeloop het, bv (hoogs oordrewe): “In die 1970’s het Afrikanernasionalisme reeds met mening begin verbrokkel” (403). In die laaste hoofstuk verwys Botma na Afrikaners as “die voormalige volk” (3213) maar vervolg “dat die vrees vir Afrikanerherlewing en -mobilisering nog nie heeltemal verdwyn het nie” (3253). Afrikanerskap berus “in groot mate op selfidentifikasie … jy moet ook self die etiket ‘Afrikaner’ omhels” (173). Dit is presies waarvan Botma homself weerhou. Lyndon Johnson het tereg gesê: “It is probably better to have him inside the tent pissing out, than outside the tent pissing in.” Dus, dit is beter om vanuit die tent (die Afrikanerdom) na buite te urineer (soos ek doen) as om van buite af in die tent in te urineer (soos Botma doen).

Hy haal Hermann Giliomee soos volg aan: “Is die Afrikanergemeenskap ‘n rasgebaseerde gemeenskap wie se taalstryd ondergeskik is aan die vestiging van blanke baasskap? Of is dit hoofsaaklik ‘n taalgemeenskap wie se maatskaplike identiteit gevorm is deur die stryd vir Afrikaans as openbare taal op gelyke vlak met Engels?” (179). Myns insiens is die Afrikanerdom sekerlik blank rasgebaseerd en gaan dit deesdae nie meer om baasskap nie maar eerder om selfbeskikking (wat in verskillende vorme moontlik is), met Afrikaans as die kern van ons identiteit.

Botma beweer dat die Afrikaner se wêreldjie ná apartheid in groot mate ingekrimp het “tot die spreekwoordelike kraal van selfverklaarde Afrikanerbelange” (319). Let op die woordkeuse: “kraal”, wat eerder met tradisionele landelike swartes as met Afrikaners geassosieer word. “Baie Afrikaners is weens apartheid skaam vir hul herkoms en geskiedenis, sonder dat hulle regtig weet hoe hulle aan die identiteit gekom het” (319). Daarteenoor kan gestel word: Baie Afrikaners (soos ek) was nog nooit skaam oor hulle herkoms en geskiedenis nie en skaamte is glad en geheel nie deel van hulle identiteit nie. Van buite word daar knaend gepoog om skaamte “oor die verlede” by Afrikaners te wek, maar sulke probeerslae is in baie gevalle onsuksesvol.

Polities byderwets skerm Botma: “Die wesenlike gevaar bestaan dat ‘n boek soos hierdie die persepsie sal versterk dat belangrike Afrikaanse polemieke hoofsaaklik onder wit sprekers plaasgevind het” (186). Blankes kry die skuld hiervoor: “Ten dele moet die rede daarvoor gesoek word in die politieke, ekonomiese, kulturele en sosiale magsoorheersing van wit mense sedert koloniale tye” (192). Dit kan deels darem seker ook aan die onaktiwiteit van nie-wittes toegeskryf word, waarin dislojaliteit jeens Afrikaans tot op hede ‘n groot rol speel. “Dit wil lyk of die versoening tussen wit en bruin, as en wanneer dit uiteindelik gebeur, moontlik nie in Afrikaans gaan plaasvind nie” (799) – hopelik ook nie in Kaaps nie. Erg oordrewe en valslik beweer Botma: “Afrikanernasionaliste het … die aandeel van bruin mense aan die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans ontken” (3196).

Ek hou van die term “oer-Afrikaners” wat Afrikaners terugdateer tot Jan van Riebeeck se tyd (203) en dus verder terug as Hendrik Biebouw (209), maar Botma noem dit ‘n “geromantiseerde weergawe”(313). Hy suggereer dat die begrip Afrikaner ‘n meer onlangse (en dus minder belangrike) “kunsmatige konstruk” (307) is wat nie verder teruggaan as die Groot Trek of selfs die Anglo-Boere-oorlog (ABO) nie. Botma plaas “ras” tussen aanhalingstekens (491), sodat dit volgens hom seker ook ‘n kunsmatige konstruk is. In die sosiale wetenskappe het dit gewoonte geword om werklikhede waarvan jy nie hou nie as konstrukte af te maak. In hierdie konteks word ook graag van “mites” gepraat. Botma verwys bv na “die apartheidsmite” (726) terwyl apartheid ‘n werklikheid was. Die “slagoffers” van apartheid kan nooit genoeg kla oor die “pyn” wat hulle aangedoen is nie. Botma assosieer apartheid met “banaliteite” (732), “stigma” (799), “gruwelike konsekwensies” (867) en “ontmenslikende gruwels” (824), wat impliseer dat apartheid nie bloot ‘n mite was nie.

Soos “ras” word “beskawing” (1981) en “volkswaardes” (2066) tussen aanhalingstekens geplaas omdat Botma voorbehoude daaroor het, bv “dat veral die Afrikaners voorgestel is as die groep wat ‘die beskawing na Afrika gebring het en die land getem het'” (2262). Die KKNK word ‘n “kerk- of boerebasaar” genoem (2410). Dinge wat vir Afrikaners “volksvreemd” aandoen (2320, 2615), vind heel moontlik guns in Botma se oë. Bok van Blerk se De la Rey-liedjie word as “‘n musikale soort laertrek” beskryf (2491). “Die ‘opbloei’ van etniese nasionalisme rondom ‘De la Rey’ [het] omtrent so lank geduur as wat ‘n popdeuntjie gewoonlik boaan die treffersparade bly” (2526). Rugby word beskryf as “een van die kultuurgoedere van die Afrikaner” (2620). Die aanhalings in hierdie paragraaf spreek boekdele oor Botma se negatiewe gesindheid jeens Afrikaners.

Botma hou nie van die ABO-benaming nie, myns insiens onder meer omdat hy nie van Boere/Afrikaners hou nie. Soos dit polities byderwetses betaam, gebruik hy ‘n meer inklusiewe benaming: “Sommige historici het begin verwys na die ‘Suid-Afrikaanse Oorlog’ om aan te dui dat nie net Boere en Britte daarby betrek is nie, maar alle inwoners van Suider-Afrika. Laasgenoemde is dus feitelik en polities korrek, hoewel sommige Afrikaners nie daarvan hou dat die Boere dan nie meer sentraal in die naam staan nie” (480). Daardie “sommige” is dieselfde soort mense as dié waarna verwys word toe die NG Kerk in 1857 besluit het dat weens”die swakheid van sommige” rassesegregasie in sy kerke toelaatbaar is (1653, 3236) – maar rasseskeiding is toe nie verpligtend gemaak soos linkse aktiviste graag te kenne gee nie.

“Sommige waarnemers meen dat die uitgerekte weerstand van die bittereinders onder die Boere in die Suid-Afrikaanse Oorlog die kiem [!] geplant het vir die latere ontwaking van Afrikanernasionalisme” (516). Leopold Scholtz “huldig die siening dat [hier]die oorlog ten grondslag lê aan die ‘keuse om ‘n volk te wees'” (522). NP van Wyk Louw het geskryf as “ons nie geveg het nie, sou die Afrikaanse volksgevoel van slapheid en feitlik van skaamte gesterf het, want wie behoort dan graag tot ‘n volk wat sy nek buig as dit nuttig is om nederig te wees” (529). Die woord “nederig” is sedertdien met “versoenend” vervang. In 1990/94 het die blankes/Afrikaners die stryd sonder slag of stoot verloor, maar die slapheid en skaamte kom die groepie Afrikaanssprekende onderhandelaars toe en nie die Afrikanervolk nie. Botma erken: Die “NP-onderhandelaars [het] oor kernbeleidskwessies, soos byvoorbeeld die plek en rol van Afrikaans en selfbeskikking vir die Afrikaner, die knie gebuig in latere onderhandelings met die ANC om ‘n nuwe grondwet te skryf” (1068).

Leopold Scholtz identifiseer “‘n aantal ‘kruispaaie’ of ‘Afrikanerkeuses’ in die 19de en 20ste eeu, om onder meer die volgende ‘probleem’ te ondersoek: ‘Het die moderne Afrikaner[s] dit in hulle om hulle eweneens nie by die nuwe werklikheid van die verlore heerskappy neer te lê nie en dit binne die praktiese beperkings in ‘n herwonne toekoms te omskep” (295). Ek het dit sekerlik in my en ek hoop dat baie ander Afrikaners dit ook in hulle het. Scholtz se “kruispaaie” het te make met “‘n keuse om tot stand te kom (om met ander woorde ‘n volk te word); en dan vir oorlewing te kies; om vir Afrikaans te kies; en vir die radikalisering van Afrikanernasionalisme; … en laastens, die keuse vir hervorming” (301). Myns insiens gaan dit vir Afrikaners nie soseer om ‘n volk te word nie as om hulle status as volk te herbevestig, om Afrikanernasionalisme in groter mate te heraktiveer en om die soort hervorming of transformasie (ook “dekolonisering” en “Afrikanisering” genoem – 1019) wat van buite af aan ons opgedring word, met beslistheid te verwerp.

“Die Britse regering se beleid van verengelsing ná die [ABO], asook ‘ekonomiese ellende’, het nasionalisme onder Afrikaners laat opleef” (529). Dit is nou weer sulke tyd. Vandaar my versugting dat Afrikanernasionalisme hergeaktiveer moet word. Ons “dubbele bestaanskrisis van staatsverval … en tweedeklasburgerskap” (542) is onvolhoubaar en sekerlik onaanvaarbaar. Botma hou egter nie van Scholtz se veronderstelling dat Afrikaners keuses het nie. “In die breë verskaf die ‘kruispaaie’ … ‘n goeie vertrekpunt … hoewel ‘n mens tog ongemaklik voel met die implikasie dat ‘keuses’ ‘n groot mate van beheer suggereer” (301). Hiermee gee Botma heel moontlik te kenne dat Afrikaners apaties moet gaan lê, dus moet berus in die onverkwiklike situasie waarin Afrikaners hulle deesdae sonder hulle toedoen en heeltemal onverdiend bevind.

Die vlakheid van Botma se kennis blyk uit die volgende. Hy haal uit ‘n 2008-bron aan waarvolgens Afrikaners “‘n verbeelde gemeenskap” is (325). “Die idee dat nasies of volke ‘verbeel’ word, beteken uiteraard nie dat dit onwerklik is nie, maar laat beslis die deur oop vir verskillende ‘verbeeldings'” (325). Hy het klaarblyklik nie nagegaan vanwaar die frase “verbeelde gemeenskap” kom nie. Dit verwys na Benedict Anderson se boek, Imagined communities (1983), waaroor ek voorheen geskryf het: “Imagined communities verwys bloot na die feit dat daar so baie individue in ‘n nasie is dat ‘n lid slegs ‘n beperkte getal van hulle persoonlik kan ken en hy van die res min, indien enigiets, weet. Indirekte inligting en verbeelding is nodig om ‘n voorstelling van ‘n nasie in sy geheel te maak” (Praag 10.02.2018). Die Afrikanerdom is daarvolgens nie in groter mate as ander ‘n verbeelde gemeenskap nie, maar dit is blykbaar wat Botma insinueer.

Die woordkeuse in die volgende drie aanhalings toon myns insiens dat Botma eerder negatief as positief teenoor die Afrikanerdom ingestel is. “Hoewel sommige 21ste-eeuse Afrikaners seker nog oor motiewe en simboliek van die Groot Trek opgewonde kan raak, het dit moontlik al heelwat trefkrag verloor in vergelyking met vorige generasies” (336, ook 449). “Die skimme van dié twee state [die Boere-republieke, ZAR en OVS] het in die volksgeheue verstar geraak as amper iets heiligs” (354). “Een van die sentrale Groot Trek-bakens in die vorming van Afrikanernasionalisme was die mistifisering van die gebeure op 16 Desember 1838 [die Slag van Bloedrivier]” (354).

Botma haal JD Froneman soos volg (goedkeurend) aan: Geloftedag as die Afrikaner “se strewe om as geroepe volk (indien dan nie uitverkore volk) ‘n staanplek, liefs afsonderlik, te kan inneem. Kortom, Geloftedag en die apartheidsideologie was/is deel van dieselfde paradigma” (366). In werklikheid was die Slag van Bloedrivier van Boerekant ‘n defensiewe handeling en die dankbare herdenking daarvan kan kwalik direk in verband met die omvattende regeringsbeleid van die Nasionale Party, waarmee daar 110 jaar later begin is, gebring word.

Gustav Preller het glo die Groot Trek “gepopulariseer” en “die geskiedenis gesuiwer en mites geskep wat Afrikanernasionalisme dekades lank beïnvloed het” (366). In soverre dit moontlik waar is, kan teëgewerp word dat die ANC tans in groter mate mites skep en die geskiedenis probeer herskryf op grond van sý geskiedenis; ‘n geskiedenis wat in werklikheid in baie opsigte skandalig gewelddadig en hoogs oneties en onmenslik is. Botma vind dit blykbaar wys dat die Nasionale Party-leiding met terroriste onderhandel het wat geweld in ‘n mondelinge belofte opgeskort maar nogtans onverpoosd daarmee voortgegaan het, want hy skryf: Lede van die NP se US-studentetak het “soos papegaaie die slagspreuk herhaal dat daar slegs met die ANC onderhandel kan word indien die organisasie ‘geweld afsweer'”(1037).

Daar word deesdae gekraai (bv deur Jonathan Jansen) oor die swartes as wenners en die blankes, veral Afrikaners, as verloorders in 1994. Maar die Boere mag deesdae nie meer as die wenners en die swartes, veral Zoeloes, as die verloorders by Bloedrivier uitgebeeld word nie. Botma hou klaarblyklik van Scholtz se polities byderwetse benadering van Geloftedagvierings en haal hom soos volg aan: “As ons die dag sien as ‘n viering van die Voortrekkers se militêre oorwinning oor die heidense en barbaarse Zoeloes, het dit geen plek meer nie. As dit gevier word as ‘n dag van verootmoediging voor God, as ‘n versoeningsdag, soos elke Sondag – dít maak sin” (429). Maar dít is ‘n vervalsing van die 1838-werklikheid asook die waarheid, want daar was toe en vir lank daarna geen sprake van versoening nie.

Die skeiding van skape en bokke word soos volg verwoord: “Die meer politiek korrekte ‘verligtes’ wat ‘n beheerbare mate van openheid, vernuwing en inklusiwiteit voorstaan, en die ‘verkramptes’ wat veel meer klem lê op ‘die volkseie’, en die geneigdheid tot afskeiding vertoon” (449). Direk hierna verwys Botma na “die ekstremistiese Boeremag [wat] ‘n staatsgreep beplan het” (449). Die betrokkenes is tot tronkstraf gevonnis. “Daarmee is ‘n reaksionêre element wat uit ‘n geromantiseerde weergawe van die Afrikanerverlede put om selfbeskikking met geweld af te dwing, voorlopig geneutraliseer. Die vraag is of ander Afrikaners, wat dikwels dieselfde mobiliserende retoriek gebruik, dalk in die toekoms geradikaliseer gaan word” (455).

Let op die aangepaste toepaslikheid in die hede van wat Die Burger in 1948 ná die Nasionale Party se verkiesingsoorwinning in ‘n hoofartikel gepubliseer het: “Hoe tuis voel ‘n mens hom nie weer in sy vaderland nie! … So was dit nie in die afgelope jare nie. Die nasionaalvoelende Afrikaner … het hom onwelkom, selfs onveilig in die land van sy vadere gevoel … Hy het hom dikwels ‘n onterfde gevoel, ‘n vreemdeling wie se erfenis in ander hande oorgegaan het” (817). Wat Afrikaners betref het die geskiedenis van vóór 1948 hom ná 1994 herhaal.

Botma maak hom weer (opsetlik) aan ‘n wanvertolking skuldig wanneer hy opmerk dat CJ Langenhoven se betiteling van Afrikaans as ‘n “witmanstaal” tot Langenhoven se “skande en skade” strek (1240). Wat Langenhoven gesê het, is dat Afrikaans “die enigste witmanstaal [is] wat nie onmiddellik oor die see kom nie” (JC Kannemeyer, Langenhoven: ‘n Lewe, Kaapstad: Tafelberg, 1995, p 269). Langenhoven se stelling is feitelik korrek. Anders as bv Engels het Afrikaans ‘n wesenlike plaaslik verworwe komponent. Langenhoven het nie gesê Afrikaans is uitsluitlik ‘n witmanstaal nie. Botma se sug na inklusiwiteit bring mee dat hy verkeerdelik “skande en skade” aan Langenhoven toedig.

In die 1860’s het die Afrikaners nog nie taalgewys in verset gekom nie omdat hulle (soos tans) “geïndoktrineer is om aan Engels as wêreldtaal die eerste plek te gee” (1306). Botma verwys na hoofregter lord JH de Villiers wat in 1876 voorsien het dat Engels die (enigste) toekomstige landstaal sal wees (1282). Hiervolgens het Wim de Villiers se duidelike voorkeur vir Engels historiese wortels in sy vangenoot. Volgens Scholtz “kan Afrikaans binne enkele dekades terug wees waar hy ‘n eeu gelede was – ‘n kombuistaal wat slegs tuis in die familiekring gepraat word, en dan boonop deurspek met geradbraakte half-Engels” (1605).

Maar Scholtz en al die lede van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, asook die WAT-redaksie en Afrikaanstaalkundiges en -letterkundiges is medeverantwoordelik vir hierdie situasie omdat die boodnodige veldtog vir Afrikaanstaalsuiwerheid nie gevoer word nie omdat polities byderwets geoordeel word dat bruin mense, glo die meerderheid Afrikaanssprekers, nie aanstoot gegee mag word nie. Nog minder is Scholtz en diesulkes bereid om Kaaps as brouseltaal openlik te veroordeel terwyl Kaaps die toekoms van ordentlike Afrikaans in erge mate beduiwel. Afrikaans kan reeds tereg beskryf word as die “afgeskaalde, gemarginaliseerde kleinood van ‘n minderheidsgroep” (1617).

“Met talle skrywers, digters en liedjiesmakers wat ‘vere’ voel vir die puriste, is Afrikaans [volgens F de Vries] ‘weer terug waar dit aan die begin van die 20ste eeu deur die nasionaliste agtergelaat is: ‘n lewende, tegemoetkomende kreools, wat uitermate grof sowel as verbysterend poëties kan wees'” (1624). Linkse aktiviste sal volhard met die valse aantyging dat Afrikaans ‘n kreoolse taal is. Volgens een verduideliking kan kreools “die vermenging van meer as een taal” beteken (HAT). Daarvolgens is Kaaps as brouseltaal kreools maar nie Standaardafrikaans nie.

Ek vind dit interessant dat die radioprogram wat tot 1985 Só praat die Boere geheet het en daarna Die taal wat ons praat (2244) deesdae Die tale wat ons praat (Sondagoggende na die 11-uur nuusbulletin op RSG) genoem word, waarskynlik veral weens die polities byderwetse koestering van Kaaps naas Afrikaans. Botma beweer dat bruin mense, “behalwe velkleur, so duidelik ‘n natuurlike deel van die taal- en kultuurgroep” van blanke Afrikaanssprekendes is (2787). “Dit is hierdie bruin Afrikaners wat geleerde taalstryders so graag naderhark om hul saak vir die behoud van Afrikaans by skole en universiteite te sterk” (2794). My standpunt is dat pleks van bruines in die taalstryd te betrek, Afrikaners eerder daarop moet aandring dat onderrig deur die medium van Afrikaans in skole en aan universiteite ten bate van Afrikaners aangebied moet word. Afrikaners is die lojaalste ondersteuners van Afrikaans en hulle het meer as enige ander groep tot die totstandkoming en uitbouing van Afrikaanse skole en universiteite bygedra. Om Afrikaner- en bruin kultuur ongekwalifiseerd eenders te verklaar, hou nie steek nie. Afrikaans is die kern van Afrikanerkultuur terwyl dit hoogs opsioneel in die kultuur van veral ontwikkelde bruin mense is.

Botma gee ‘n duidelike aanduiding van sy linkse politieke simpatie wanneer hy skryf: “Die woord ‘Orania’ [het] in die algemene omgang, en dit sluit ‘gematigde’ Afrikaanse kringe in, min of meer sinoniem geword … met onverdraagsame, bekrompe wit rassiste wat hul rug gedraai het na ‘versoening’ met swart mense” (1466). Botma sal nie beswaar opper teen baie swartes se onwilligheid tot versoening nie; nog minder sal hy openlik erken dat swartes rassiste kan wees. Maar Afrikaans het glo “rassistiese bagasie” (1472). Die Burger het dit verwelkom dat “kwetsende woorde” uit die 8ste uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (1991) verwyder is (1472). Sedert 1994 doen die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) dieselfde (JC Steyn, Ons gaan ‘n taal maak, Centurion: Kraal Uitgewers, 2014, p 469). Onlangs het die hoofredakteur van die WAT, Willem Botha, op LitNet (28 Februarie) doelbewus valslik beweer: Die WAT “is ‘n omvattende Afrikaanse verklarende woordeboek wat Afrikaans in sy volle [!] omvang vaslê.” Ek het toe gereageer deur die aandag daarop te vestig dat die WAT polities byderwets gekuis word. LitNet het geweier om my reaksie te publiseer.

“Terwyl NP-ministers kort na 2 Februarie 1990 verklaar het dat die status van Afrikaans ‘ononderhandelbaar’ is, het gesiene Afrikaanse skrywers en letterkundiges soos André P Brink, Antjie Krog en Charles Malan verklaar dat hulle vrede daarmee gemaak het, en in sommige gevalle dit eintlik verkies en verwelkom dat Afrikaans sy amptelike status in ‘n nuwe bedeling verloor” (1490). “Tydens die eerste Kodesa-sitting in 1991 om ‘n onderhandelde skikking te bewerkstellig, het dit gou duidelik geword dat Engels die lingua franca in die nuwe Suid-Afrika gaan wees” (1496). Ton Vosloo se “vergesig van ‘n nuwe verenigde Afrikaanse nasie, indien die taal van sy ideologiese borsrok bevry en Afrikaanse skole vir bruin sprekers oopgestel word, is (nog) nie in die praktyk bewaarheid nie [?]” (1532). “Met dié dat Afrikaanse universiteite se dae blyk getel te wees, maar Afrikaanse skrywers floreer, is Afrikaans se toekoms dus tans in die weegskaal. Die feit dat dit grootliks in naam ‘n amptelike taal is, wek ook kommer, hoewel die Grondwet as rugsteun dien vir toekomstige mobiliseringsaksies om en in Afrikaans” (1630). In werklikheid is daar in die Grondwet geen rugsteun waarop peil getrek kan word nie, want die immer groeiende swart meerderheid kan al die bepalings daarin na willekeur verander. Hoe lou Botma oor Afrikaans voel, blyk aan die einde van die afdeling oor taal waar hy gewag maak “van die mate van [eerder: uitermatige/buitensporige] miskenning van die taal in die konteks van groeiende (swart) Afrika-nasionalisme” (1634).

Soos van Botma verwag kan word, word Steve Hofmeyr gestriem. Daar word verwys na Hofmeyr se “gewelddadige, onbeskaafde gedrag” (2405) en dat hy ‘n “middeljarige … selfaangestelde politieke kampvegter geword” het (2417). “Buiten uitdagende uitsprake oor Afrikaneroorlewing en -selfbeskikking, dikwels na aanleiding van plaasmoorde, het Hofmeyr ook aandag getrek omdat hy die gestigmatiseerde ‘Die Stem’, volkslied van apartheid-Suid-Afrika, ter afsluiting van sy konserte gesing het. Aanhangers het telkens emosioneel goedkeurend gereageer en hom in die openbaar verdedig teen aanklagte van opstoking en rassisme. Hofmeyr het ook dikwels betrokke geraak by bewegings om die saak van Afrikaners te bevorder, of om protes aan te teken teen gebeure soos die straatnaamsveranderings in Pretoria en die beskadiging en dreigemente van verwydering van sommige standbeelde van Afrikanerhelde soos Paul Kruger” (2423).

Dan Roodt se naam verskyn op die voorkant van die boek. Hy word ‘n “uitgesproke regse kritikus” genoem (1221). Hy het destyds ‘n webdomein in die naam van Max du Preez geregistreer. In ‘n hofuitspraak is hy gelas om dit aan Du Preez te gee omdat Roodt dit glo gebruik het om ‘n “smeerveldtog” teen Du Preez te voer (1228). “Twee kampvegters vir minderheidsregte, die joernalis en skrywer ZB du Toit en die aktivis Dan Roodt, [het] tot die openbare debatte bygedra” (1545). Roodt het “as regse aktivis ontpop deur [in 2000] die pro-Afrikaanse aksiegroep Praag te stig. In dié hoedanigheid was hy dikwels by omstrede aksies en polemieke betrokke” (1551). Tydens die apartheidsera is twee boeke van Roodt verbied (2162). Botma verwys in hierdie konteks (sinies) na “besorgdheid oor die lesende volk se sedes” (2181).

In 2005 het mense soos Max du Preez, Marlene van Niekerk en Michiel Heyns beswaar geopper omdat Roodt uitgenooi is om by die Woordfees op Stellenbosch op te tree. Hulle het gedreig om die fees te boikot (2428). “Roodt is beskuldig van ‘haatspraak’ en ‘rassisme’ en as [‘n] ‘gevaarlike en berugte’ skrywer beskryf” (2434). Tot haar eer het Dorothea van Zyl, die organiseerder van die fees, geweier om die uitnodiging terug te trek omdat Roodt “as ‘n skrywer en nie as ‘n aktivis nie” uitgenooi is. Volgens haar was die Woordfees nie bereid om as “sensor” op te tree nie en het sy ‘n universiteit tereg beskryf as ‘n “ruimte waar alle stemme gehoor kan word” (2434). Die waarheid is dat die US sedert 2005 demografies al hoe meer divers geword het wat studente en personeel betref maar dat ‘n diversiteit van idees nie deur die universiteitsbestuur aangemoedig of geduld word nie; eerder die teenoorgestelde. Wim de Villiers vereis dat almal op die kampus so entoesiasties soos hy oor transformasie moet wees. Transformasie gaan wesenlik om verswarting en dus verengelsing. Hoewel die Woordfees ideologies moontlik minder eng en voorskriftelik as die US is, word daar nie aan regses ‘n platform gebied nie.

In 2006 het Roodt “gebelgd” gevra “wie en wat [Koos] Kombuis is dat hy ‘hom kan aanmatig om sy uittrede uit die volk aan te kondig'” (2567). “‘n Insiggewende polemiek het in 2013 tussen twee Afrikaanse skrywers, Dan Roodt en Riana Scheepers, uitgebreek nadat laasgenoemde se ouers op hul plaas aangeval en aangerand is. Scheepers het agterna op Facebook verklaar haar ouers ‘was nie twee rassiste wat in ‘n wit toring gesit het nie’. Roodt, voorsitter van Praag, het in sy reaksie geskryf: ‘By implikasie sê jy egter dat “wit rassiste” verdien om aangeval te word, want jou ouers is dan nie sulke mense nie. Is dit korrek?’ Scheepers het daarop sy ‘insinuasies’ met ‘minagting’ verwerp. Sy het bevestig dat die aanval op haar ouers nie ‘n rassistiese insident was nie, maar ‘n ‘veragtelike kriminele daad’. Roodt het toe geskryf: ‘Indien dit slegs ‘n “veragtelike kriminele daad” was … waarom het jy jou verplig gevoel om aan die wêreld te vertel dat jou ouers “nie wit rassiste” is nie? Daarmee het jy tog self ‘n rassekleur aan die misdaad gegee'” (3099).

Botma lewer die volgende kommentaar: “Dié interaksie illustreer die ingewikkelde debat en dikwels onuitgesproke onderliggende emosies wat met plaasaanvalle gepaardgaan. Terwyl sommige Afrikanergroepe aangevoer het dat die aanvalle rasgemotiveer is en die stelselmatige uitmoor van wit boere behels het, het andersdenkendes, op grond van navorsing, verklaar dat dit meestal deel is van ‘normale’ misdadigheid in die land, en dat baie swart mense ook sagte teikens en gereelde slagoffers is” (3106). Botma skaar hom klaarblyklik aan die kant van hierdie navorsing.

Voorts word die mening genoem “dat daar dalk ‘n gebrek aam dringendheid by die regering is oor plaasaanvalle” (3119). Ook: “Die swartes wil die Afrikanerboer se grond vat” (3119) en “dat ‘n ‘eie vaderland’ vir Afrikaners die enigste oplossing vir plaasmoorde is” (3126). “Volgens die historikus JC Steyn in 2014 is sowat 2 000 boere sedert 1994 vermoor. Plaasmoorde is ‘n ‘teer saak’ vir baie Afrikaners, onder meer omdat ‘boere ‘n kardinale rol in die Afrikanergeskiedenis en -identiteitsvorming’ gespeel het. Die boer verskyn as ‘baanbreker’ in narratiewe, of as ‘heldhaftige vryheidsvegter teen die Britse Ryk’, en dan weer as ‘hardwerkende landbouer wat ‘n eenvoudige produktiewe bestaan maak, gewortel in ‘n treffende Afrikalandskap’, aldus Steyn” (3126).

Dan kom die ware Botma, wat hom aanvanklik polities probeer inhou het, aan die woord: “Wat hierdie geromantiseerde beeld egter buite rekening laat, is die koloniale en apartheidgeskiedenis van die gewelddadige inpalming van die land, dikwels ten koste van swart inwoners, en die skreiende ongelykhede wat daaruit voortgevloei het. Om die Afrikaner in idilliese isolasie op sy boereplaas te sien, is om met oogklappe na die werklikheid te kyk. Wat wel blyk uit die voortdurende polemiek oor plaasmoorde is dat dit terugverwys na ‘n deurlopende tema in die geskiedenis van Afrikaner-identiteitsvorming: die kwessie van die vrees vir uitdelging deur die ‘swartes'” (3133). In die laaste hoofstuk verwys hy na “die werklike of gewaande [!] stryd om oorlewing van die ‘volk’ en taal” (3145). Botma gee geen aanduiding dat hy plaasmoorde veroordeel nie; net so min as wat hy die afskaling van Afrikaans aan die US betreur. Hy is ‘n blanke Afrikaanse, ‘n Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner, ‘n Afrikaan en heimlik seker ook ‘n wêreldburger, maar nie ‘n Afrikaner nie.

Botma het meer trek vir Nelson Mandela as vir bv Steve Hofmeyr en Dan Roodt. “Met die Wêreldbekertoernooi in 1995 het die charismatiese Nelson Mandela ná die dramatiese eindstryd die kroon gespan op sy meesterlike pogings om die geleentheid vir oorhoofse politieke doeleindes te gebruik” (2757). Dit is mooier woorde as wat Botma vir Afrikaners het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.