Leon Wessels se ‘onderhandelde revolusie’

Deel op
Leon Wessels
Leon Wessels

deur Leon Lemmer

In Vereeniging: Die Onvoltooide Vrede (Kaapstad: Umuzi, 2010, 367p) skryf Leon Wessels (gebore in 1946) oor sy lewensloop en sy siening van die plaaslike politiek. Die boektitel verwys na die Vrede van Vereeniging wat na die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) gesluit is. Heeltemal tereg was daar toe groot bitterheid aan die kant van die Boere.

Myns insiens is daar selfs groter rede vir ontevredenheid na die ANC se magsoorname in 1994, want alle politieke mag is sonder mandaat op ‘n uiters verradelike en ruggraatlose manier deur wit politici aan die swart meerderheid oorgegee. Wessels beweer egter “dat ons ‘n mandaat gehad het om ons uit die politieke skaakmat te onderhandel” (p 302). Maar het De Klerk dan nie belowe dat na die blanke kiesers teruggekom sou word sodat hulle kon besluit of die uitslag (magsoorgawe) in ooreenstemming met die mandaat (magsdeling) is nie?

Wessels: “Die ‘wit saak’ was verlore lank voordat die onderhandelings begin het” (p 59). Hy noem dit ‘n “onderhandelde revolusie” (p 57, 124, 284) maar hy gee nie erkenning aan Allister Sparks by wie hy hierdie frase uit sy boek, Tomorrow is Another Country (1995), oorgeneem het nie. Daar is geen sprake van ongedurigheid by Wessels oor wat diegene aangedoen is wat die land oor eeue opgebou en die Westerse beskawing hier gevestig het nie. Myns insiens verduidelik ons geskiedenis waarom Westerlinge nie vrede met die eksponensiële verval om ons kan maak nie. Die swartes is katastrofaal oorgekompenseer en die wittes is gewetenloos tekort gedoen. Maar Wessels beweer stiksienig: “Alle Suid-Afrikaners se regmatige aspirasies word in die Grondwet vervat” (p 270); soos ‘n elementêre, absolute verbod op rassediskriminasie?

vereeniging_onvoltooide_vredeWessels se hele oriëntasie is verkeerd en dwaas. Wat dink so ‘n mens van FW de Klerk se 1990-toespraak? “Elke keer wanneer ek De Klerk se toespraak lees, klop my hart van opwinding” (p 56). Diegene wat dit anders ervaar het, word as “brommers en grommers” geëtiketteer (p 59; ook 259). ‘n Afrikaan uit swart Afrika het aan Wessels gesê: “Julle Afrikaners is besonderse [onnosel?] Afrikane. Julle sluit Mandela op en laat hom dan vry, al weet julle hy gaan teen julle politiek bedryf en dat dit tot magsverlies gaan lei” (p 327-328).

Wessels doen hom voor as iemand wat nie om geld en ander voordele die politiek betree het nie. By nabaat maak hy asof sy missie (altyd) was om apartheid af te breek: “Die rede vir my politieke bestaan in 1978 was om antwoorde te vind vir beleidsdilemmas waarmee die 1948-oorwinning die volgende geslag opgesaal het” (p 65-66). Hendrik Verwoerd het glo veroorsaak dat politici met “gebakte pere gesit” het (p 106). En die groter gemors wat die ANC van die land gemaak het? Wat sê Wessels daaroor en wat doen hy andersins daaromtrent?

Hy verkies om te bly glo “dat ‘een mens, een stem’ nie die land in vlamme sou laat opgaan nie” (p 135). Waar is die “volwaardige geregtigheid” (p 235) waarvoor hy hom kwansuis beywer het? Waar is die “regverdiger samelewing vir almal”? (p 289). Waar is die “bedeling wat billik teenoor al die mense sou wees”? (p 276). Waar is die “ware vryheid en Suid-Afrikanerskap”? (p 238). Waar is die “verenigde nasie”? (p 257). Waar is die staat wat “sy bronne aanwend ter bevordering van almal se belange”? (p 277). Is oplossings gevind “wat almal se belange dien”? (p 301).

Waarom Wessels dit moontlik vind om knus met hierdie geskepte onreg saam te leef, blyk uit sy lewensloop. Hy kom uit die gesin van ‘n Sap-polisieman. Hy was self ook in die polisie. Daarna het hy in die regte studeer en gepraktiseer en toe Volksraadlid geword, waar hy tot minister gevorder het. Eers in 1994 het hy uit die Afrikaner-Broederbond bedank (p 333). Hoewel hy veral sy eie aandeel in die totstandkoming van die nuwe Suid-Afrika besing, het hy nie kans gesien om na ons politieke “bevryding” langer in die parlement te dien nie.

‘My hipotese, daarenteen, is dat De Klerk hom weens onvermoë, naïewiteit, onverskilligheid, gebrek aan toewyding, of wat ook al, voor en tydens die grondwetlike onderhandelings vasgeverf het. Abraham Lincoln het in Amerika teen sy grein in die bevryder van die slawe geword. Op ‘n soortgelyke manier het die eens konserwatiewe De Klerk in Suid-Afrika die vader van die tirannie van die meerderheid geword’ – Leon Lemmer

Maar dan is dit juis Wessels wat nie kan verstaan waarom FW de Klerk dit so ‘n kort tyd in die regering van nasionale eenheid (RNE) uitgehou het nie: “Die NP se wegloop uit die RNE sal ongelukkig een van die negatiewe inskrywings in FW de Klerk se politieke begrafnisbrief wees” (p 273). Volgens Wessels was die beloofde vyf jaar van die RNE “ware magsdeling”, maar “ná twee jaar het die NP in 1996 tou opgegooi” (p 304). Wessels beweer hy wou na 1994 eerder privaat in die regte praktiseer as om as politikus voort te gaan, maar hy het spoedig sy dienste as menseregtekommissaris aangebied en het toe tien jaar lank as sodanig gefunksioneer.

Hoewel Wessels NG Kerk-lidmaatskap het, het hy noue bande met die Potchefstroomse Universiteit, wat hom as ereprofessor in menseregte aangestel het. In dieselfde opsig is hy betrokke by die versoeningsinstituut wat na die Reitz-sage aan die Universiteit Vrystaat ontstaan het. Wessels is jaarliks in die nuus wanneer die 1996-bomontploffing in Worcester, wat die werk van wittes was, in die naam van versoening in herinnering geroep word. Die talle bomontploffings wat deur swartes gepleeg is, word nie met dieselfde ywer onthou nie. Sover ek weet, het hy hom nog nie oor hierdie wanbalans uitgelaat of iets gedoen om dit reg te stel nie. Die eensydige klem wat hy op menseregte plaas sonder om dit met verpligtinge te balanseer, is ook onaanvaarbaar. Myns insiens moet enigeen wat ontvang, bereid wees om teenprestasies te lewer.

Wessels se teks, aangevul met foto’s, wek ‘n egoïstiese indruk. Hy noem sy vrou “‘n formidabele politikus” (p 92). Hy is kennelik sy eie oorverligte held. Dit is ‘n geval van “dik ek my eie belangrikheid aan” (p 232), soos hy in ‘n ander konteks skryf. Hy het die nuwe Suid-Afrika gewen, maar in die proses sy siel as Afrikaner verloor. “Die grootste skuif wat ‘n mens kan maak, is in jou kop” (p 231) maar dit kan ‘n dwase, naïewe, opportunistiese skuif wees. Wessels het die spreekwoordelike nuttige idioot geword wat die ANC skynbaar sonder enige gesonde remme terwille is.

Hiervoor is hy ruim vergoed, gevolglik is dit vir hom maklik om in die hede te berus en die toekoms so gunstig moontlik voor te stel. Dit laat my dink aan FW de Klerk wat sê dat hy die helfte van sy tyd in die buiteland deurbring. Gewone sterflinge soos ek kan nie buitelandse reise of emigrasie bekostig nie. Maar ontwerpers van die nuwe Suid-Afrika, soos De Klerk en Wessels, kan luuks lewe en hulle voortgesette apartheid koop. Hulle kan die afgryslike werklikheid wat hulle geskep het so dikwels as wat dit hulle behaag, ontvlug. Baie gewone, verdienstelike, beskaafde Afrikaners moet elke dag probeer lewe in omstandighede wat verlooptes vir hulle geskep het. Maar dan is dit Wessels wat in die konteks van Jan Smuts na “wit ‘beskawing'” as “‘n eufemisme vir oorheersing deur wittes” verwys (p 51).

Met die ondertekening van die nuwe “bewonderenswaardige” (p 60) grondwet in 1996 is, volgens Wessels, “die stryd om gelyke regte wat kort ná die Anglo-Boereoorlog begin het, voltrek” (p 20). Hy verwys goedkeurend na ‘n ANC-dokument uit 1943 waarin “die verwydering van enige … diskriminerende maatreëls” bepleit word (p 53) en na die pleidooi om gelyke regte in die ANC se Vryheidsmanifes van 1955 (p 70), bv “All people shall have equal rights to use their own language and to develop their own folk culture and customs. The preaching and practice of national, race or colour discrimination and contempt shall be a punishable crime.” Na aanleiding van die Tomlinson-verslag het swart predikante in die jare vyftig die skrapping van alle diskriminerende wette geëis (p 83). Nthato Motlana het gesê “dat diskriminasie so uitgedien is soos slawerny” (p 141). Die afskaffing van alle rassediskriminasie was ook ‘n ANC-voorwaarde vir onderhandeling (p 54).

Waarom is alle rassediskriminasie dan nie in die nuwe Suid-Afrika verbied nie? Hoe kan Wessels beweer dat wittes gelyke regte in die nuwe Suid-Afrika het as hulle die enigste etniese groep is teen wie daar tot in die oneindige volgens nuwe wetgewing, insluitende die grondwet, suiwer rassisties gediskrimineer mag word? Hoekom is hierdie oud-menseregtekommissaris blind hiervoor? Is waarmee ons sit “‘n regverdige bedeling vir almal in ons land”? (p 176). Hy beweer selfs: “Die ANC se beleid was weliswaar nie op rassediskriminasie gegrond nie … Die ANC se stryd om volwaardige burgerskap vir alle [!] bevolkingsgroepe in die land het 75 jaar ná Versailles [1919] by die onderhandelingstafel geseëvier” (p 33).

Dit is nie net die benadeling van wittes en veral Afrikaners wat geen indruk op Wessels maak nie. Ook teenoor die lot van Afrikaans is hy onsimpatiek: Toe daar sotlik oor elf amptelike tale ooreengekom is, het Wessels dit as een van sy “lekkerkry-oomblikke” ervaar (p 329) omdat dit “diep in die 90% van die bevolking sal akkommodeer” (p 330). “Afrikaans se voortbestaan sou sedertdien vasgewikkel word in die ontwikkeling van veeltaligheid. Ná 1996 het Afrikaans sy spesiale status saam met Engels verloor. Daar was geen morele grondslag vir die voortsetting van die verhewe posisie van Afrikaans nie” (p 45). Later verwys hy na “die verlore plek van Afrikaans” (p 331).

Wessels en bv die Afrikaanse Taalraad (ATR) veg vir veeltaligheid in die hoop dat Afrikaans by implikasie ook daarby sou baat. Dit openbaar ‘n kastraatmentaliteit (Praag 1 September). Myns insiens mag Afrikaners hulle maar uitsluitlik vir die heil van Afrikaans beywer. Wessels erken darem die gevaar van die ATR se dwase paternalistiese bevordering van swart tale wanneer hy skryf: “Afrikaners kan nie taalregte namens ander taalgebruikers opeis nie – hulle moet dit self doen” (p 331). Byvoorbeeld, in België beywer die Vlaminge hulle vir Vlaams en nie vir meertaligheid nie.

Wessels formuleer doelbewus misleidend wanneer hy sê sowel Afrikaans as Engels het hulle spesiale status verloor. In die praktyk het Engels in groot mate die enigste amptelike taal geword. Engels het dus in die nuwe Suid-Afrika onmeetlik aan status gewen. Afrikaans, daarenteen, is die enigste plaaslike taal wat oneindig baie in die nuwe opset verloor het. Anders as wat Wessels beweer, is daar ‘n oorweldigende morele grondslag vir die voortsetting van Afrikaans se vorige “verhewe posisie”, naamlik die feit dat dit grootliks onder die leiding van Afrikaners was dat die land tot die beste in Afrika ontwikkel is. ‘n Mens sou dink dat Wessels sensitiwiteit hiervoor sou hê; dat hy bv beswaar sou opper dat sy geliefde Kurgersdorp nou Mogalestad heet, maar met sy kastraatmentaliteit aanvaar hy dit gedwee. Die lokasie het die dorp oorgeneem. Vir oud-Broeder Wessels is dit heeltemal in orde, want dit is hoe swart mag werk.

Volgens Wessels het FW de Klerk “hom nooit skuldig gemaak aan enige groepvorming of agterbaksheid nie” (p 140). Hy meen dus dat De Klerk suiwer volgens die gees en letter van sy mandaat die nuwe Suid-Afrika as die vrug van onderhandeling aan ons blanke nageslag gegee het. My hipotese, daarenteen, is dat De Klerk hom weens onvermoë, naïewiteit, onverskilligheid, gebrek aan toewyding, of wat ook al, voor en tydens die grondwetlike onderhandelings vasgeverf het. Abraham Lincoln het in Amerika teen sy grein in die bevryder van die slawe geword. Op ‘n soortgelyke manier het die eens konserwatiewe De Klerk in Suid-Afrika die vader van die tirannie van die meerderheid geword; die Johannes die Doper wat die hek vir Raka oopgelaat het en Nelson Mandela en sy meelopers toegelaat het om ten koste van die belange van blankes en tewens van die land in sy geheel swart mag te vestig en te vier.

Die konserwatiewe beeld wat De Klerk in 1989 gehad het, toe hy tot leier van die Nasionale Party verkies is, word deur Wessels bevestig. Die verligte kandidaat om die leierskap was Barend du Plessis (p 218). “In die politieke sin van die woord was [De Klerk] geen verligte nie” (p 227; ook 300). De Klerk wou onderhandel sodat daar “vrede kan wees” (p 221). Het ons nou vrede? De Klerk wou ook onderhandel sodat die land nie die kommunisme ten prooi val nie. Het ons sedert 1994 regerings vry van kommunisme gehad, of is die regerings onder drie staatshoofde (Mandela, Mbeki, Zuma) progressief meer kommunisties as ooit tevore? Dat De Klerk in sy gemoed konserwatief gebly het maar dat sy dade onvoorsiene en oorverligte gevolge gehad het, word deur Wessels bevestig wanneer hy skryf: In 1996 “flankeer FW openlik met die gedagte om teen die Grondwet te stem” (p 279). De Klerk het egter sedert 1990 die pad van “onderhandeling”, wesenlik ‘n eufemisme vir toegewings, bewandel en het ook hierdie keer toegegee.

By die aanvaarding van die grondwet was Wessels se reaksie: “Ek was ook lus om op te spring en te juig” (p 282). “Suid-Afrika word deur die wêreld bewonder vir dit wat ons vermag het” (p 295). Maar “die wêreld” hoef nie daagliks met “die gebakte pere” (p 106) saam te leef nie. Nelson Mandela word die “liefling van die Afrikaners”(p 142) en “die verpersoonliking van versoening” (p 155) genoem. Mandela en Tutu het “die gees van versoening … uitgestraal” (p 308). Geen wonder Mandela “besing my deugde so omvattend” (p 271) nie. Mandela: “Leon … jy [het] my nog nooit teleurgestel nie” (p 284).

Heel idealisties beweer Wessels: “Velkleur is nie die bepalende faktor wanneer politiek bedryf word nie” (p 168). Tog bepaal velkleur, eintlik kulturele en ontwikkelingsverskille, hoe die kiesers stem. Wessels kom selfs met hierdie stelling: “Roelf Meyer was die regte man om De Klerk by te staan en die NP-onderhandelingspan te lei” (p 251). Sodat die ANC hom so erg ore kon aansit? Die voorafgaande laat ‘n mens besef waarom die ANC voorkeur aan Wessels bo enige ander NP-politikus vir die ondervoorsitterskap van die Grondwetskrywende Vergadering gegee het: “Enige ander nominasie uit julle geledere sou nie suksesvol gewees het nie” (p 269). Wessels het met sy vertolking van sy taak heeltemal aan die ANC se verwagtinge voldoen: “Ek is geleer die ondervoorsitter se taak is om die voorsitter [Cyril Ramaphosa] te help” (p 269).

Wessels het vir lief met swart mag en die tirannie van die meerderheid, eufemisties “demokrasie” genoem, geneem. Daarom neig hy om onkrities oor swartes en oorkrities oor wittes te wees. “Wit mense het Afrika nie met aangename herinnerings en bemoedigende presedente gelaat nie” (p 301). Maar hulle het darem die land ontwikkel en doeltreffend bestuur en Wersterse beskawing hierheen gebring. In Amerika is van Wessels gesê: “Ek is nie meer seker of hy nog wit is nie” (p 316). Wessels: Dit was “vir my vervelig om ‘n Afrikaner tussen ander Afrikaners te wees” (p 333). “Ek het nooit werklik belang stel in die vraag en die latere ‘Afrikaner-/Afrikaanse’ debatte nie. Ek is ‘n Afrikaan uit die Afrikanerkamp … Aan ou Europese bagasie het ek nooit swaar gedra nie” (p 325). Hiervolgens kan Westerse beskawing skynbaar sonder verlies deur afrikanisering vervang word: “Die Europese etiket voel … soos verraad teenoor Afrika” (p 328). Wessels erken nie dat Afrika die agterlikste kontinent is nie. Hy stel Afrika eerder as ‘n nastreefbare ideaal vir die nuwe Suid-Afrika voor.

Diegene wat tot hier gelees het, sal groot begrip hê vir wat vriende in Wessels se oor gefluister het: “Kom, Leon, ons moet jou hier wegkry. Die ouens wil jou moer” (p 196).

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.