Leon Lemmer oor Hermann Giliomee se outobiografie

Hermann Giliomee

Hermann Giliomee (gebore in 1938) is ‘n bekende en gerekende historikus wat as dosent in geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch (US) vanaf 1967 en daarna as dosent in politieke studies aan die Universiteit Kaapstad (1983 tot 1998) verbonde was. Later is Giliomee as buitengewone professor in geskiedenis aan die US aangestel, danksy die departementshoof Albert Grundlingh, wat die Jan Marais-leerstoel in geskiedenis beklee. Die ironie is dat Grundlingh skynbaar niks gedoen het om te verseker dat Jan Marais se stigtingsvoorwaarde, dat Afrikaans nie ‘n mindere plek as Engels aan die US mag hê nie, nagekom word nie. Grundlingh het eerder Russel Botman in sy kwaad gesterk deur die skuld vir die Slag van Andringastraat eensydig op die blanke studente te pak. Vir Grundlingh en Giliomee se vertolkings van hierdie 1940-insident kyk Praag 13.09.2015.

Die volgende boek is in November gepubliseer: Hermann Giliomee, historikus: ‘n outobiografie (Kaapstad: Tafelberg, 2016, xii, 344p, R380; Amazon Kindle $29,23). Twee van sy vorige boeke is vir Afrikaners ook van besondere belang: Die Afrikaners: ‘n biografie (Kaapstad: Tafelberg, 2004, 656p; Amazon Kindle $28,49) en Die laaste Afrikanerleiers: ‘n opperste toets van mag (Kaapstad: Tafelberg, 2012, 460p; Amazon Kindle $26,48). Engelse weergawes van al drie hierdie boeke is beskikbaar. Let op die buitensporige pryse van die e-boeke. Die gedrukte uitgawe van Giliomee se jongste boek kos meer as R1 per bladsy.

Giliomee kom uit ‘n Afrikanerfamilie. Sy pa was ‘n geskiedenis-onderwyser en lid van die Afrikaner-Broederbond. By die outeur vind ‘n mens egter ‘n “veranderende verstaan van Suid-Afrika en die Afrikaners” (p xii). “In die algemene verkiesing van 1961 het ek vir die eerste en laaste keer gedurende die era van die NP-bewind vir die party gestem” (39). Hy verwerp apartheid en daarmee saam Piet Cillié, die redakteur van Die Burger (1954-1977), se siening dat “apartheid sorg dat die Afrikaners en die groter wit gemeenskap mag oor hulself behou” (43). Cillié se standpunt het geblyk korrek te wees. In 1970 het Giliomee vir die Progressiewe Party gestem (50), al het Lewis Gann reeds in 1959 geskryf “dat die verlies van politieke mag deur die NP ook die einde van die Afrikaners as ‘n nasionale minderheid kan beteken” (68).

Uit sy jeug onthou Giliomee “Afrikaner-ondernemings wat … Afrikaners in diens sou neem en die uitbou van die Afrikaanse taal en kultuur” bevorder het (24). En vandag? “Die meeste groot maatskappye met Afrikaanse [eintlik Afrikaner-] wortels het Afrikaans gegroet sonder om hul hoed te lig en Engels omhels” (294). ‘n Mens vra jou af: Waar is al die Broeders heen en waarom is daar tans nie meer sulke egte Afrikaner-ondernemings nie? Om vir ‘n verlore saak te stry, is nie oneerbaar nie. “Soet is die stryd van die stryer, al moet hy uiteindelik verloor” (ID du Plessis, p 28).

“Lede van my geslag het geweet dat ons nie liberale historici was of wou wees nie. Terselfdertyd wou ons nie, soos die vorige geslag, ‘n nasionalistiese ‘volksgeskiedenis’ skryf nie” (54). “Ek [was] nie ‘n liberale historikus nie, maar eerder ‘n pluralis wat die geskiedenis vertolk het as een van strydende gemeenskappe waarin groepsbelang eerder as individuele gesindhede deurslaggewend was … ek [het] vir die Progressiewe Party en sy opvolgers gestem … Ek het besluit om te skryf as iemand wat aan die rand van die Afrikanergemeenskap staan” (59), maar “ek nie van plan was om ‘n verengelsde Afrikaner of volksvreemd te word nie” (64). Byvoorbeeld: “Ek het dit duidelik gemaak dat ek nie fatsoenlik links is en ook nie die oproep vir die beëindiging van diensplig steun nie” (147). Namate hy ouer en wyser geword het, het Giliomee se Afrikanerwortels myns insiens al hoe duideliker geblyk. Hy het bv die Waarheids- en versoeningskommissie “van die begin af teengestaan” (194). Hy is geen slaafse aanhanger van die Britte nie. In Suid-Afrika het die Britse bewind “op ‘n ander manier maar ewe doelgerig wit mag en wit status verskans” (74). “Dit is ‘n mite dat die Engelssprekendes as gemeenskap betekenisvol meer liberaal as die Afrikaners was” (76).

In sy pluralistiese benadering beklemtoon Giliomee sowel die kulturele as materiële invloede wat Afrikaners gevorm het. “Kultuur verteenwoordig ‘n krag uit eie reg en is nie bloot deel van die ideologiese superstruktuur wat bepaalde belange moet legitimeer nie. Pluraliste besef ook in watter groot mate die politiek gedryf word deur nasionale of kulturele vernedering. My werk oor die Kaapse samelewing gedurende die eerste dekades van Britse heerskappy [eintlik 1780-1812, p 78] het dit vir my duidelik gemaak dat die burgers as ‘n gemeenskap meer saamgesnoer was deur hul kultuur en die dikwels minagtende wyse waarop die Britse amptenareklas hulle behandel het, as deur hul materiële belange” (76-77). Beklemtoning van die deurslaggewende rol wat kultuur kan speel, is kenmerkend van Giliomee se skryfwerk. Oor die Afrika-state wat na die Tweede Wêreldoorlog polities onafhanklik geword het, skryf hy: “My indruk was dat dit eintlik demokrasie was wat gefaal het omdat dit so onsimpatiek teenoor minderhede en hul onderskeie kulture was” (81). Dít is fataal op ‘n vasteland waar die landsgrense arbitrêr getrek is en die nuwe bewindhebbers nie in staat is om daardie grense sinvol te verander nie.

Nasiebou kan op verskillende maniere benader word. “Daar was enersyds die Jakobynse benadering [verwysende na die ekstremiste in die Franse Revolusie] … Dit wil een kultuur, een dominante taal (Engels) en een interpretasie van die geskiedenis in die skoolleerplanne hê” (195). Dit is wat die ANC ingevolge swart mag voorstaan. “Ek het daarteenoor die pluralistiese benadering gestel, wat die verskeidenheid van kulture, tale en historiese beskouings as ‘n bate beskou en werklike debat oor die geskiedenis aanmoedig” (195). “Ek het onderskei tussen politieke nasionaliste, wat die Afrikaners se politieke magsbelange sentraal stel, en die kulturele nasionaliste wat daarop aandring dat billikheid, waarheid en geregtigheid nagestreef word. Hulle [die kulturele nasionaliste] eis ook dat die intellek en skeppende vermoë van mense met ‘n Afrikaanse [pleks van Afrikaner-] agtergrond aangewend word ter verfyning van die volksgees en volkskarakter en die bevordering van ‘algemeen menslike waardes’ soos Van Wyk Louw hulle noem” (89). Myns insiens is die probleem dat sodra politieke nasionalisme versaak word Afrikaners in ‘n situasie ingedwing kan word (soos inderdaad gebeur het) waarin hulle kultuur nie (kan) gedy nie. Giliomee se opmerking dat Afrikaners beter Afrikaners word deur polities minder nasionalisties te wees (90), is daarom vir my onaanvaarbaar.

NP van Wyk Louw het reeds in die 1950’s voorsien dat as die Afrikaner die politieke mag verloor “hy so hulpeloos soos die Jode in Duitsland sal wees” (136); dat “eenvormige gelykheid alleen oor die liggaam van ‘n hele volk heen bereik kan word” (139). In soverre Giliomee meegewerk het om die blanke politieke bewind en sy beleid te beëindig, moet hy ten minste ‘n mate van medeverantwoordelikheid vir die huidige politieke opset aanvaar; spesifiek die (voor)uitsigloosheid van sy mede-Afrikaners. Dit is egter waar dat hy reeds van lankal af nie die huidige sotlike politieke bedeling onderskryf het nie; bv in 1982: “dat Giliomee nie glo in meerderheidsregering in ‘n unitêre staat nie” (121); dat daar “‘n behoorlike balans tussen die meerderheid en minderhede moet wees” (137). “Enige diep-verdeelde samelewing behoort stabiliteit te verskaf deur aan mense van verskillende etniese en kiulturele groepe ‘n gevoel van geborgenheid te gee. [Byvoorbeeld] dat daar ook Afrikaanse skole en universiteite moes wees … was ‘n regverdige eis” (191).

Giliomee “het geglo dat daar geen skerp skeiding tussen veral wit en bruin moet wees nie” (46). Daarom verwys hy bv eerder na Afrikaanse as Afrikaner-instansies.”Vir my as Bolander was dit belangrik dat daar onderhandel word om in die westelike deel van die land, waar wit en bruin mense die meerderheid vorm, ‘n federale deelstaat met aansienlike magte te vestig” (179-180). “My steun vir bruin regte het gewortel in die besef dat die politieke uitsluiting van bruin mense besig was om mense met dieselfde taal en kultuur as die Afrikaners heeltemal te vervreem” (87). Dit is myns insiens darem té veralgemenend. Dit is ‘n feit dat bruines in vergelyking met die swartes taal- en kultuurgewys nader aan die blankes is en ook dat daar by blankes en bruines ‘n mate van taal- en kultuuroorvleueling is. Maar daar is sekerlik ook verskille. Die atmosfeer in bv ‘n bruin woongebied, skool, kerk, sportveld en piekniekplek is nogal anders as in plekke waar blankes is. Die gebruik van en gesindheid (bv lojaliteit) teenoor Afrikaans by bruines en wittes kan ook baie verskil. Voorheen het bruines daarna gestreef om wit te wees of ten minste deur blankes (as gelykes) aanvaar te word. Deesdae verkies baie bruines om ter eie bevoordeling eerder swart te probeer wees. Dit is te betwyfel of bruines in die nuwe Suid-Afrika ‘n ander solidariteit sou betoon het as hulle in die vorige bedeling anders/beter deur blankes behandel is. In Giliomee se vertolking van die Slag van Andringastraat en die verwydering van bruin inwoners uit Die Vlakte in die middedorp van Stellenbosch is daar dieselfde pro-bruingesindheid. Soos in die geval van Distrik Ses in Kaapstad was slegs ‘n klein minderheid bruines (20%, p 242) huiseienaars. Maar die verskuiwing word in dieselfde oordrewe emosionele taal beskryf as wat standaardpraktyk oor Distrik Ses geword het: “‘n Gelukkige en ordelike gemeenskap is met wortels en al uitgeruk en elders neergegooi” (242).

Lawrence Schlemmer “wou bou aan ‘n nuwe politieke stelsel in Suid-Afrika waarin die meerderheid se eise en die minderheid se vrese in ‘n demokratiese stelsel versoen word” (122). Hiervan het niks tereg gekom nie. Meerderheidsdominansie het ons wrede daaglikse werklikheid geword. Dit is presies wat iemand soos Nelson Mandela begeer het, want hy het sonder meer beweer dat die land aan die swartes behoort. Vir die boek, Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika (2007), het Giliomee as redakteur ‘n Zambiër, Bernard Mbenga, as mede-redakteur gekies. Daarin word dit duidelik gestel “dat geen groep daarop geregtig is om te sê die grond behoort in die eerste plek aan hom nie” (250). DF Malan het as eerste minister reeds in 1953 gesê: “Suid-Afrika is ons gemeenskaplike erfenis en behoort aan almal van ons” (250).

Mandela het doelbewus valslik beweer: “I have fought against black domination” (Long walk to freedom, London: Abacus, 1995, p 438). Giliomee het klaarblyklik min of meer dieselfde onbereikbare ideaal as Schlemmer nagestreef. Hy het nie net apartheid verwerp nie (rassediskriminasie is natuurlik steeds met ons) maar ook afsonderlike ontwikkeling. “Ek het al meer tot die gevolgtrekking gekom dat die eintlike doel van die tuislande was om die paswette en die weerhouding van stemreg van swartes te regverdig” (123). Dít was sekerlik nie Hendrik Verwoerd se bedoeling met die tuislande nie.

Giliomee was lank genoeg aan die Universiteit Kaapstad verbonde om hom van die onheiligheid van die Engelse/Britte te oortuig. Hy haal JM Coetzee (‘n Afrikaanssprekende blanke skrywer uit ‘n Sap-ouerhuis) soos volg aan: “The English have never (to my knowledge) been called to account sufficiently for the way they looked down on the Boers/Afrikaners from 1795 onward, and pretty consistently saw the worst in them rather than the best” (138). Oor Nadine Gordimer skryf Coetzee: “She never demonstrated much sympathy for the Afrik[a]ner” (151). David Welsh meen tereg “dat Engelssprekendes in die geskiedenis ewe aandadig [as Afrikaners] aan die verskansing van rassediskriminasie was” (138). Deesdae kan dieselfde van swartes gesê word. Die liberale Welsh het ook daarop gewys “dat die oorgang na demokrasie in diep-verdeelde samelewings slegs slaag waar magsdeling tussen die groepe geïnstitusionaliseer is” (143). In die nuwe Suid-Afrika is daar egter geen sprake van betekenisvolle magsdeling nie. “Die reg tot moedertaalonderrig [is] ‘n legitieme groepsreg” (144) maar selfs dit is nie doeltreffend in die Grondwet verskans nie.

Reeds in 1986 het Giliomee aan die Universiteit Kaapstad met die Conor Cruise O’Brien-voorval waargeneem “dat universiteitsowerhede nie gewillig was om dieselfde streng dissiplinêre stappe teen swart studente te doen as wat hulle in die geval van wit studente sou doen nie” (145). Deesdae skitter iemand soos Wim de Villiers aan die Universiteit Stellenbosch met soortgelyke dubbele standaarde. Aan die Universiteit Vrystaat het ‘n “onafhanklike” ondersoekspan onlangs die vandalisme van die CR Swart-monument goedgepraat (Netwerk 24 en Die Burger, 12 Januarie, p 3). Maar hierdie wantoestande kom dwarsoor die land voor en is nie tot universiteite beperk nie.

Toe Die Burger en Rapport nie meer Giliomee se artikels wou publiseer nie, het hy in 1984 begin om die kwartaalblad Die Suid-Afrikaan te publiseer. Die titel dui myns insiens op ‘n radikale verwatering, eintlik ont- of miskenning, van Afrikanernasionalisme. ‘n “Inklusiewe Afrikanerskap” is voorgestaan (150). Dit blyk ook uit die lede van die redaksie: André du Toit, Welma Odendaal, Antjie Krog en Pierre de Vos (149). “Ons kies kant vir ‘n oop samelewing, gelykberegtiging en ‘n vreedsame skikking in Suid-Afrika” (150). “Santie Grosskopf [die ma van ‘n ANC-bomplanter] en Rykie van Reenen het belangrike bydraes gelewer” (150). Giliomee noem dat Van Reenen die aandag op ‘n 1937-Afrikaanse vertaling van die Kommunistiese Manifes gevestig het (151). Wat nie gesê word nie en wat ek êrens gelees het, is dat Uys Krige die vertaler was. ‘n Redaksielid van Die Suid-Afrikaan, Chris Louw, het hom laat in sy lewe polities probeer rehabiliteer (166).

Die genoemde redaksielede en medewerkers toon hoe Giliomee se verligtheid hom soms mislei het om in verkeerde geselskap te beland. Dit is onder meer te wyte aan sy onrealistiese ideale, bv: “Ek wou ‘n party wat oorwegend op minderhede steun, deel maak van ‘n nuwe stelsel gebou op magsdeling met ‘n formasie gelei deur die ANC” (158). In ANC-leiding kan daar myns insiens kwalik enige heil wees. Let ook op Giliomee se latere opmerking dat hy nie beswaar gehad het toe die Universiteit Stellenbosch “aan mense soos Nelson Mandela, Desmond Tutu, Beyers Naudé en Trevor Manuel ‘n eregraad gegee het nie. Dit was ‘n goeie poging om ‘n historiese balans te skep” (205-206).

Gilomee was ‘n Dakar-ganger (1988). Hy het egter nie soos André P Brink (165) al die ANC-propaganda vir soetkoek opgeëet nie. Byvoorbeeld, Thabo Mbeki wou hê dat “die geskiedenis van Suid-Afrika herskryf moes word” (165); iets wat sedertdien deur ANC-kamerade en hulle meelopers gedoen word. Dit is ‘n uiters gevaarlike tendens, soos uitgewys deur George Orwell (1903-1950): “The most effective way to destroy a people is to destroy and obliterate their own understanding of their history” (323). Tereg is Giliomee se waarneming van Dakar: Die ANC is “nie geïnteresseerd in vryheid of gelyke geleenthede vir almal nie, maar in mag en ideologiese dominansie wat deur die Kommunistiese model geïnspireer is” (165). “Ek het by die Dakar-konferensie gesien hoe die ANC met gemak die hoë morele grond sy eie maak [?] en niks van ‘n gebalanseerde skikking wou weet nie” (179).

Giliomee skryf dat hy “‘n beroering op die [Dakar-]konferensie veroorsaak het met my voorstel vir ‘n bikommunale bedeling wat neergekom het op ‘n stelsel van verpligte magsdeling met die NP en die ANC die hoofspelers, eerder as een wat deur die ANC op grond van getalle oorheers word … Besluite sou geneem word deur konsensus” (166); asof die magshonger ANC ooit tot so iets sou instem. RW Johnson het dit later kategories gestel dat Suid-Afrika “‘n demokrasie of ‘n ANC-regering kan hê, maar nie albei nie” (201). Daar kan in elk geval nie peil getrek word op enigiets wat met die ANC ooreengekom of deur hom belowe is nie. ‘n Russiese waarnemer, Irina Filatowa, het gesê: “De Klerk certainly did not know who he was negotiating with, ANC leaders certainly knew that once they got to power they would replace whatever that has been negotiated” (264). Die NP en die ANC “het totaal verskillende opvattings gehad oor wat ‘n grondwet beteken: vir die NP was dit ‘n bindende kontrak wat net met die toestemming van albei partye verander kon word; vir die meeste ANC-leiers was dit net ‘n halfwegstasie op die pad na ‘n nasionale demokratiese rewolusie waarin ANC-beheer oor sleutelposte en staatsbeheer oor die ekonomie nagestreef word” (275-276).

Die grootskaalse verstedeliking van swartes na die Tweede Wêreldoorlog het die “uitwissing van afstand” tussen wittes en swartes, waarvan Arnold Toynbee (1889-1975) in 1959 geskryf het, meegebring (168). Hierdie verskynsel het onder meer tot besinning oor die aard van demokrasie gelei, bv dat dit die vorm van “tirannie deur die meerderheid”, soos John Stuart Mill (1806-1873) dit gestel het, kan aanneem (169). Meerderheidsregering in Suid-Afrika kan rasseoorheersing word en rassisme kan “maklik verbloem word as demokrasie” (169; ook 199). Wat duidelik deur waarnemers soos hierdie voorsien is, het ongelukkig in die nuwe Suid-Afrika ons daaglikse bittere werklikheid geword. In ‘n bevolking waarvan die helfte funksioneel ongeletterd is (180), is dit louter dwaasheid om demokrasie in ‘n eenheidstaat in die vorm van algemene stemreg, waar elke stem dieselfde gewig dra, in te voer. Giliomee dink “dat Suid-Afrika nie oor die meeste vereistes beskik wat volgens kenners noodsaaklik is vir ‘n goedfunksionerende demokrasie nie” (180). Omdat swartes, wat glo van nature nie-rassisties is, merendeels vir swartes stem, is daar weens hulle oorweldigende meerderheid bv nie ‘n gereelde, gesonde verandering van regering nie.

Voor die rampspoedige dwaasheid van 1990/94 is anders oor sake gedink. “Ons het geargumenteer dat wit mense hul magsbasis nie maklik sou ontruim nie om in ‘n posisie te beland waarin dit vir hulle onmoontlik was om beleid te bepaal oor dié dinge wat vir hulle belangrik is, byvoorbeeld eiendomsreg en hul kinders se onderwys. Daarom was dit belangrik dat wittes as ‘n groep mede-seggenskap moes hê. Ons het dus ‘n stelsel van verskanste magsdeling vir ten minste twee termyne voorgestel” (172); asof hierdie bitter pil na twee dekades versuiker sou wees! Die verraderlike “oplossing” waarmee vorendag gekom is, is om magsdeling aan die blanke kiesers te belowe en hulle dan met die voldonge feit van magsoorgawe te konfronteer. Gewag is van allerhande “wigte en teenwigte” gemaak wat die belange van blankes sou beskerm, maar doeltreffende beveiliging het spoedig geblyk grootliks fiktief te wees. Ook die grondwet bied nie werklik afdoende beskerming nie en kan immers weens die al hoe groter swart meerderheid na willekeur verander word.

Gilomee het beoog “om ‘n sintese tussen verskillende nasionalismes te probeer vind. Aan die een kant was daar Afrikaner-nasionalisme, wat as tipies etnies-gebaseerde nasionalisme gesmee was deur bande van afkoms, geskiedenis en taal. Aan die ander kant was daar die ANC se Afrika-nasionalisme, wat ‘n tipiese territoriale idealisme was. Hy wou ‘n nuwe nasie rondom die meerderheid van die bevolking bou … My standpunt was dat nasiebou en demokrasie net kan groei as gemeenskappe mekaar en hul onderskeie historiese erfenisse respekteer” (177). Hiervan is daar in die nuwe Suid-Afrika weinig sprake. Dink bv aan hoe die geskiedenis herskryf, standbeelde vernietig en Afrikaans benadeel word.

“Dit was ‘n stryd tussen gemeenskappe, elkeen met sy eie geskiedenis en waardestelsel, wat nie soseer gemeenskappe wou domineer nie maar ‘n belangrike mate van ‘selfbeskikking’ oor onderwys en ander ‘eie sake’ wou hê” (174). Wat gebeur het, is dat ‘n opset geskep is waarin swartes oor almal se lot beslis, sodat blankes se eie sake feitlik ongesteurd deur swart belange verswelg word. Rasseklassifikasie moet glo afgeskaf word (173), wat FW de Klerk in 1991 gedoen het (180), maar die ANC-regering regeer eenvoudig asof rasseklassifikasie steeds bestaan en hy misbruik dit tot die uiterste ter bevoordeling van swartes en veral ter benadeling van blankes. As rassediskriminasie die groot sonde tydens rassesegregasie en daarna apartheid was, is dit voor die hand liggend dat diskriminasie op grond van ras en kleur in die nuwe Suid-Afrika absoluut verbode moet wees, maar nie eens dit is tydens die grondwetlike onderhandelings bereik nie; eerder die behoud van rassediskriminasie tot in die oneindige, maar hierdie keer ten koste van blankes.

Die blankes se groot vrese, soos die “verlies van die ‘tuisland’, kultuur en identiteit” en “die vrees om oorheers te word en die gepaardgaande verlies van ‘self-beskikking'” (174) is glad nie afdoende deur die patetiese NP-onderhandelaars aangespreek nie. Die gevolglike magsverlies is skynbaar permanent. “Die wittes in Suid-Afrika sou net een kans kry om ‘n geskikte stelsel te onderhandel. Sou dit misluk, was hulle as minderheid stoksielalleen” (175). Reeds in 1977 het John Vorster gesê: “Vir ons Afrikaners sal daar nie ‘n tweede kans wees as ons die mag verloor nie” (184-185). In dieselfde jaar het Pik Botha gesê: “For us a political system of one man one vote within one political system means our destruction” (185).

“Ná De Klerk op 2 Februarie 1990 sy groot toespraak gehou het, het ek hom per brief geluk gewens met dié reusestap” (179). Giliomee het sy brief soos volg afgesluit: “Jy het aan die Afrikaners die selfrespek terug[ge]gee wat apartheid so kwaai geknou het. Vir die eerste keer in ‘n lang tyd kan mens jou kop weer hoog hou” (328). Na die absolute beknoeiing van die grondwetlike onderhandelings kan dit myns insiens egter kwalik van Afrikaners verwag word om trots op die nuwe bedeling te wees.’n Referendum is op 17 Maart 1992 gehou waarin die De Klerk-regering om ‘n mandaat vir die voortsetting van die grondwetlike veranderings gevra het. “Die NP-regering se advertensies voor die referendum het duidelik die boodskap gegee dat ‘n ja-stem ‘n stem teen meerderheidsregering verteenwoordig … Die meeste ja-stemme in die referendum het nie aan die De Klerk-regering ‘n mandaat gegee om tot meerderheidsregering in te willig nie” (181; ook 272). ‘n Volbladsy-advertensie wat die NP die dag voor die referendum in koerante gepubliseer het, het as banieropskrif gehad: “As jy bang is vir meerderheidsregering, stem ‘Ja'” (271).

De Klerk het reeds op 30 Maart 1990 verklaar dat “die grondwetlike voorstelle op ‘n grondwetlike wyse by die kiesers getoets [sal] word en net met hul toestemming sal ‘n nuwe bedeling ingevoer word” (181, 271). In Januarie 1992 het De Klerk herhaal “dat enige belangrike verandering aan die grondwet ‘n referendum sou vereis” (181, 271). Giliomee maak dit baie duidelik dat daar in twee deurslaggewende opsigte (wat ek noem) verraad of bedrog deur De Klerk en sy groepie meelopers gepleeg is. Eerstens het hulle geen mandaat gehad om tot meerderheidsregering in te stem nie. “Die harde waarheid is dat die De Klerk-regering nie ‘n mandaat gehad het vir die interim-grondwet wat in 1994 deur die parlement aanvaar is nie” (272). Tweedens is die plegtige belofte dat die finale ooreenkoms aan die blanke kiesers vir goed- of afkeuring voorgelê sou word, nooit nagekom nie.

“Ek is … oortuig daarvan dat gematigde politieke leiers hier en oorsee simpatie sou gehad het as De Klerk van die staanspoor af aangevoer het dat hy nie die mag kon oordra sonder die instemming van die mense wat hom verkies het nie – en dit beteken die wit kiesers … In die geval van die konflik in Noord-Ierland het die Britse regering baie goed besef hoe noodsaaklik dit was dat die oorgang na ‘n nuwe stelsel deur al die partye as legitiem beskou moet word. Ingevolge die Goeie Vrydag-ooreenkoms van 1998 is bepaal dat die kiesers ten volle ingelig moes wees oor die onderhandelde grondwet voordat hulle hul stem in ‘n referendum daaroor uitbring” (270). Waarom is daar versuim om gevolg te gee aan die belofte van ‘n tweede referendum? “Daar sou nooit ‘n ‘ja’-stem met ‘n tweederdemeerderheid gewees het nie indien daar sprake daarvan was dat die ANC in ‘n posisie sou kom waar hy alleen kon regeer” (272). Myns insiens sou daar onder die blanke kiesers nie eens naasteby ‘n gewone meerderheid ten gunste van ‘n swart regering gewees het nie. My indruk is dat De Klerk deur Mandela, direk of by implikasie, afgedreig is en dat hy geswig en van ‘n tweede referendum afgesien het.

Nadat Giliomee geskryf het dat “min dinge so belangrik is as die karakter van leiers” (58) verwys hy na wat hy op 8 Augustus 1993 in Rapport geskryf het: “Op die oomblik berus die NP se hele konstitusionele benadering op die persoonlike waarborg wat pres De Klerk gegee het dat hy nie van sy verkiesingsbeloftes sal afwyk nie. En is dit goed genoeg wanneer die toekoms van die volk op die spel is?” (182). Die blankes se magsverlies het reeds op 22 September 1992 die aaklige werklikheid geword “toe die NP en ANC die Notule van Verstandhouding gesluit het” en “die mag uit die NP-regering se hande gegly” het (176; ook 272, 287). Die NP het van sy eens “nie-onderhandelbare standpunte … laat vaar,” bv “verpligte magsdeling en groepregte” (182, 183). Van die redes hiervoor is dat FW de Klerk “‘n duidelike afstand geplaas het tussen hom en sy voorganger [PW Botha] en die veiligheidsmagte … die kritieke besluite in ‘n klein kingetjie van ministers geneem sou word waarby adviseurs oor sekuriteit en onderhandelings nie betrek sou word nie. Dit het gou bekend geword dat De Klerk die Staatsveiligheidsraad sowel as die Nasionale Intelligensiediens na die kantlyn geskuif het” (179). Spoedig het die situasie in “veelparty-beheer oor die veiligheidsmagte” (183) ontaard. Dit was ‘n resep vir rampspoed in onderhandelings met geweldenaars wat kon steun op geslepe buitelandse adviseurs.

“Die ANC het in die onderhandelings grootliks gekry wat hy wou hê,” veral “dat die finale grondwet eers ná ‘n verkiesing geskryf word en dat ‘n kiesstelsel aanvaar word wat ideaal is vir die ANC-leierskap” (182). Dit het nie net gelyke algemene stemreg in ‘n eenheidstaat behels nie, maar ook dat die politieke partye (en nie die kiesers nie) sou besluit wie die kandidate in verkiesings sou wees. Hierdie kiesstelsel het eerder die “belange van sowel die ANC- as die NP-leierskap” (188) as dié van die kiesers gedien. JM Coetzee het die volgende samevatting verskaf: “The party that held political power at the time – the NP – got little of what it wanted and the party without power – the ANC – got what it wanted” (183). Daar kan kwalik ‘n vrotter getuigskrif vir die NP-onderhandelaars wees. “Vir die ANC was die oorgang in 1994 makliker as wat sy leiers ooit gedroom het” (186). “Vir die hele twintigste eeu was die wit politiek daarop toegespits om dit te verhinder wat op 27 April [1994 – die dag van die eerste “demokratiese” verkiesing] bestem was om te gebeur: swart meerderheidsregering” (184).

“Vir die eerste jaar of twee ná die oorgang het die NP homself op die rug geklop. De Klerk en ander leiers het op vergaderings verklaar dat die NP apartheid afgeskaf het en dus die mede-bevryder van die land is. Hierdie euforie van selfgelukwensing kon nie hou nie” (189). In 1997 het De Klerk “erken dat die onderhandelings nie uitgeloop het op die gebalanseerde politieke skikking waarna die NP gestrewe het nie. Wat eintlik gebeur het … was dat wit mense die mag prysgegee en hul ‘soewereiniteit’ verloor het” (189). In 2005 het De Klerk erken dat die swartes die magsmonopolie het: “Hulle dikteer die agenda en heg die grootste klem op die projek om demografiese verteenwoordiging te bewerkstellig. Hierdie beleid beteken dat die minderheid ondergeskik aan die meerderheid is in elke aspek van lewe – werk, skool, universiteite en sport” (223). Hoe durf daardie groepie blankes wat mandaatloos (dus sonder magtiging en onwettig) direk vir die ramp van swart regering verantwoordelik is, aanspraak op verering deur hulle mede-blankes maak? Dit sou meer gepas gewees het as elkeen van die skuldiges soos ‘n kind gehuil het omdat hy versuim het om die blankes se belange “soos ‘n man te verdedig” (190). Die NP het magsdeling eintlik as ‘n vyeblaar vir magsoorgawe misbruik. Die NP het “wat betref sowel magsdeling as kulturele selfbeskikking ‘n verpletterende nederlaag gely” (190).

Naas die duidelike uitwysing van FW de Klerk & kie se verraad of bedrog teenoor die blankes (al gebruik Giliomee nie hierdie terminologie nie) is ‘n ander belangrike aanbeveling vir Giliomee se boek dat hy die mite van ‘n regbank wat onafhanklik van die ANC funksioneer, nekomdraai. Driekwart van die regters in die konstitusionele hof “is ope of stilswyende ondersteuners van die ANC” (202). Hierdie hof is “bevooroordeeld ten gunste van die dominante party … die ANC daarop ingestel is om al die magsinstrumente te beheer, insluitende die regbank. Teen 2015 het die regerende party minstens driekwart van die Regterlike Dienskommissie se lede, wat regters by die uitvoerende gesag aanbeveel, geplaas” (203). Die regspleging moet glo die demografie van die land, wat betref ras en geslag, weerspieël.

Die ywer waarmee Giliomee veral aan die Universiteit Stellenbosch vir Afrikaans in die bres getree het, is een van sy belangrikste bydraes tot die Afrikanersaak. Omdat ek voorheen by talle geleenthede hieroor geskryf het en die nodige ruimte ontbreek, stel ek dit nie hier weer aan die orde nie.

Apartheid word dermate deur Giliomee verdoem dat hy die nuwe Suid-Afrika blykbaar as beter as die oue beskou. Daarom is daar in sy boek geen sterk protes teen die toestand waarin Suid-Afrika binne twee dekades verval het nie. In soverre daar verontwaardiging en bitterheid in die bostaande teks is, is dit van my afkomstig.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Vicky

    Sjoe Leon, dit het jou n rukkie gevat om hierdie boek te lees.

  • Suidpunt

    “aan mense soos Nelson Mandela, Desmond Tutu, Beyers Naudé en Trevor Manuel ‘n eregraad gegee het nie. Dit was ‘n goeie poging om ‘n historiese balans te skep.”

    Connerie!!! (Franse vloekwoorde beteken ek sal nie gesensor word nie…) Eregrade is vir akademiese verdienste! Dit behoort ‘n akademikus tog te weet. Daarmee stem Giliomee ook toe vir akademiese verwatering ten gunste van politieke simboliek – iets wat ek tot in my gelamineerde geelhoutdoodskis sal teenstaan. Ek duld nie sulke kompromis nie.

    • leonlemmer

      Ek het al sterk kapsie teen eregrade gemaak: “Pallo Jordan, ere- en akademiese doktorsgrade” (Praag 14.09.2014). Op die flapteks van Wannie Carstens en Michael le Cordeur se onlangs verskene boek, Ons kom van ver (wat ek hoop om eersdaags te bespreek), staan: “Franklin Sonn is die ontvanger van 14 eredoktorsgrade.” Ek kan kwalik aan ‘n beter argument teen eregrade dink.

    • Rooikop

      Ek sien eredoktorsgrade in dieselfde lig a Nobel vredespryse – “Noddy badges” vir diegene wat die NWO se agenda bevorder.

      • Kalium_Chloraat

        Eregrade is maar net ‘n akademiese manier van g atkruip.

  • Maus

    Dis tog snaaks hoe ja-stemmers alles op FW en die onderhandelaars wil plaas. Alles sodat hulle nooit self verantwoordelikheid hoef te vat nie. Nie ‘n skroompie van ‘ek was naief’ of ‘ek het my laat mislei’ nie. Alle skuld word op FW die sondebok die woestyn in gejaag. Amen. Dis die slotsom van ‘boetedoening’ teenoor nee-stemmers en die daaropvolgende geslag Afrikaners. Duidelik was nee-stemmers bloot toevallig reg.. soos wat iemand uit die bloute die lotto slaan. Hierdie keer. Waarde of logika in hul argumente bv. dat FW nie vertrou kan word nie, was daar vir geen ‘regdenkende’ tog sprake nie. Hul was (en bly) bloot verkrampte terughunkeraars na ‘n eng-verlede presies soos ‘ons media’ ons destyds gebrandmerk het beginende na Verwoerd uit die weg geruim is.

    Die ander ding wat snaaks is is hoe kerklik pro-Joods hierdie ja-stemmers hulself nog hou. Tydens Verwoerd het Israel in die VN teen Suid-Afrika gestem. Eers na Verwoerd kon die Israelies die ‘ondersteuning’ bied.. tot Afrikaner-oorgawe soos dit gebleik het.. ook heeltemal toevallig natuurlik.