Leon Lemmer: Universiteit Stellenbosch: Wanvoorstelling van die Slag van Andringastraat

Deel op

Wim de Villiers en die transformerende Universiteit Stellenbosch (US) boer met halwe waarhede. Die US word deesdae amptelik gekarakteriseer as ‘n multikulturele, “diverse” inrigting wat ‘n diversiteit van idees toelaat. Dit word gekontrasteer met die US van weleer, wat as monokultureel voorgestel word, onder meer omdat dit ‘n enkele onderrigtaal gehad het. In so ‘n opset is ‘n diversiteit van idees en uitnemende akademie glo nie moontlik nie. De Viliers beweer dat “diversiteit ‘n absolute vereiste vir uitnemendheid is want dit stel ons bloot aan ‘n verskeidenheid mense en idees” (US-webwerf 8 deser). My waarneming is egter dat die US voorheen in veel groter mate as tans ‘n verskeidenheid van idees toegelaat en aangemoedig het en akademies baie hoër agting geniet het.

Dit is baie duidelik dat daar by die US-bestuur geen sprake van ‘n diversiteit van idees oor transformasie is nie. Transformasie word sonder meer as die hoogste goed beskou; so goed dat dit maksimaal en so vinnig moontlik die US moet verswelg. Die US-rektor is self ‘n toonbeeld van iemand wat nie ruimte vir ‘n diversiteit van idees toelaat nie. Hy het byvoorbeeld op sy kenmerkende manier heeltemal ongenuanseerd op Degenaar se dood gereageer. Hy het net oog vir daardie aspekte van Degenaar se denke wat met sy eie radikaal linkse politiek versoenbaar is. Daarom het De Villiers van Degenaar gesê: “Hy het nie gehuiwer om kritiek te lewer op die onreg van apartheid nie.” In werklikheid het Degenaar hom baie genuanseerd oor apartheid uitgelaat.

Daar is idees van Degenaar wat De Villiers verkies om te ignoreer. Degenaar het in 1999 gesê: “Die voortbestaan van die Afrikaanse taal lê in die aanvaarding van ‘n morele verantwoordelikheid vir die bevordering daarvan en voortdurende waaksaamheid ten opsigte van die Afrikaanse kultuur. Voortdurende waaksaamheid is noodsaaklik, want die gevaar van kulturele imperialisme en die program van nasiebou hou ‘n bedreiging vir die taal en kultuur in. Waar Afrikaners onder apartheid op voortbestaan eerder as geregtigheid ingestel was, moet die nuwe bedeling verseker dat vir alle kulture voortbestaan in geregtigheid moontlik is” (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans, Pretoria: Protea Boekhuis, 2013, p 71; ook p 75). Waarop De Villiers se transformasie-agenda noodwendig afstuur, is die voortgesette afskaling van Afrikaans as onderrigmedium en die uitroeiing van enige ander sigbare tekens van Afrikanerkultuur. Degenaar, daarenteen, was ongekwalifiseerd ten gunste van Afrikaans as die primêre onderrigtaal aan die US (p 126). Dit is in ooreenstemming met Jan Marais se stigtingsvoorwaarde; iets waaraan De Villiers verseg om erkenning te gee.

Ek gebruik vervolgens die Slag van Andringastraat as ‘n gevallestudie om die valsheid van die US-bestuur se stewe na ‘n diversiteit van idees aan die kaak te stel. Net een vertolking van hierdie slag, die een waarin die wit studente ongekwalifiseerd die skuld kry, word deur die De Villiers-US aanvaar. Die benaming “slag” is in elk geval hoogs oordrewe.

Herdenking van die Slag van Andringastraat

Onlangs het De Villiers ‘n geleentheid benut en misbruik om uiting aan sy giftige politiek te gee. Reeds in sy intreerede (29 April) het hy die Slag van Andringastraat (Saterdag 27 en Sondag 28 Julie 1940) opgehaal en aangekondig dat die nageslag van die betrokke bruines eksklusief met spesiale US-studiebeurse bevoordeel gaan word. Ten einde in groter mate as Russel Botman hiermee oorboord te gaan, het De Villiers die 1940-gebeure aan die opruiming van vervalle geboue ingevolge die groepsgebiede gekoppel; iets wat meer as twee dekades later plaasgevind het. Hy gaan sonder meer uit van die laakbaar eensydige veronderstelling dat bruines in 1940 die onskuldige slagoffers van die boosheid van blanke US-studente was. Geen akademiese oorwegings geld by hierdie studiebeursbevoordeling van bruines bo wittes nie. Op die US-webwerf (29 Julie) is beweer dat die blanke studente in 1940 in die bruin woongebied “ingevaar” het en “grootskaalse skade” aangerig het. Wat die bruines destyds gedoen het, word polities korrek verswyg.

Tydens die 75-jarige herdenkingsbyeenkoms op 27 Julie het Derrick Hendricks, ‘n bruin raadslid van die Munisipaliteit Stellenbosch, beweer dat die 1940-gebeure ‘n “vernedering” vir die bruines was. Hy verwag klaarblyklik vergoeding vir bruines omdat die bevoordeelde blankes glo moet “terugploeg” in die benadeelde bruin gemeenskap. Hy noem dit “regstellende geregtigheid”. De Villiers het gesê dat die gebeure in 1940 ‘n “laagtepunt” in die gemeenskapsverhoudinge was en dat die wittes moet “regmaak” wat in die verlede verkeerd geloop het. Daar word ook beweer dat die US-koshuis Dagbreek in 2012 om verskoning vir die 1940-gebeure gevra het (Netwerk24, 28 Julie), terwyl talle Dagbreek-inwoners toe aangevoer het dat ‘n enkeling, Pieter Nel, die uittredende primarius, sonder om hulle te raadpleeg namens hulle om verskoning gevra en hulle beweerde ongehoorsaamheid en liefdeloosheid bely het.

Die uitstalling van die Slag van Andringastraat

‘n Ander aspek van hierdie saak en een wat De Villiers ook nodig gevind het om in sy intreerede op te haal, is die permanente uitstalling van die 1940-gebeure in ‘n herinneringskamer in die US-argief in die R W Wilcocks-gebou. Dit is die geesteskind van die vorige rektor, Russel Botman, wat as ANC-aktivis nooit ‘n geleentheid laat verbygaan het as hy die blanke en Afrikaanse US van weleer in ‘n ongunstige lig kon stel nie. Hy het bv sy bes gedoen om die US se ontbinde departement volkekunde met naziisme te assosieer (Praag 29.04.2013). In my bespreking van De Villiers se intreerede het ek die Slag van Andringastraat-uitstalling een “van die gemeenste dinge in die Botman-nalatenskap” genoem (Praag 10 Mei).

Botman wou graag gebeure in die US-verlede vind wat hy teen blankes kon gebruik. Hy het jaloers waargeneem hoe Jonathan Jansen aan die Universiteit Vrystaat die vervaardiging van die Reitz-video suksesvol tot ‘n kolossale voorval van blanke rassisme opgeblaas het. In die Slag van Andringastraat het Botman die US se teenhanger vir die Reitz-video gevind. “Hiervoor moes ver in die verlede na ‘n soortgelyke nietige insident gesoek en die besonderhede daarna met groot sluheid aan ‘n blywende groot klok [die uitstalling] gehang word” (Praag 25.08.2013). ‘n Gebou wat na ‘n US-rektor, RW Wilcocks, uit die apartheidsera genoem is, pas nie sonder meer in by die transformerende US nie. Deur die uitstalling van die Slag van Andringastraat in die Wilcocks-gebou te vestig, is ‘n “transformasie- oftewel Botman- (en dus ANC-) geurtjie” aan die gebou gegee.

Net soos Botman nie by Jansen agter wou bly wat anti-wit propaganda betref nie, wil De Villiers nie hê dat dit moet lyk asof hy minder transformasie-gesind as Botman is nie. Hy onderskryf dus Botman se eensydige pro-bruin vertolking van die Andringastraat-gebeure en oortref dan sy voorganger deur ekstra studiebeurse eksklusief vir die bruin nageslag van die beweerde Andringa-slagoffers in te stel. Let op watter afmetings Botman se aktivistiese verbeelding in 2013 by die opening van hierdie uitstalling aangeneem het: “Dis ‘n simbool van vernuwing en versoening. ‘n Plek wat akademiese uitnemendheid vier, historiese ongelykhede erken en ‘n optimisme oor Afrika se toekoms deel.”

Henry Jeffreys se rubriek

Toe hierdie jongste poging tot “heling” op die US-webwerf (22 Julie) aangekondig is, is lesers insae in twee dokumente gegee. Die eerste een is ‘n Henry Jeffreys-rubriek (Die Burger 15.12.2012) wat handel oor ‘n Botman-byeenkoms wat in aanloop tot die opening van die Andringa-uitstalling gereël is. Dit was die gewone storie: Huidige wit US-studente het bruines om verskoning vir die 1940-gebeure gevra, waarna die bruines die verskoning (rojaal) aanvaar het en die resultaat deur Jeffreys as ‘n “inspirerende voorbeeld van versoening” geloof is. Waarop dit neerkom, is dat die wittes die skuldiges en die bruines die heeltemal onskuldige slagoffers was en is.

Jeffreys erken dat daar “verskillende vertellings” oor die 1940-gebeure is en dat teenstrydighede daarin voorkom. Dan spring hy op sy kenmerkende manier na die siening wat hy verkies: “Wat ook al die presiese aard van die gebeure … ‘Die Slag van Andringastraat’ … is steeds ‘n bron van spanning tussen die bruin en wit gemeenskappe van Stellenbosch.” Sy aanhef lê egter nog voor: “‘n Klad op die naam van geslagte van Dagbreek-inwoners en ‘n sweer op die psige van die ontheemde bruin gemeenskappe van Stellenbosch.”

Dat die bruin inwoners in 1940 nie almal engeltjies was nie, blyk uit wat Aaron Cupido, een van diegene wat by die gebeure betrokke was, erken: dat hy die wit studente “met ‘n piksteel versterk met ‘n geroeste sesduimspyker” gekonfronteer het. Cupido is op 8 Augustus oorlede. Sy lewensverhaal is glo “‘n liefdesstorie” en “sy vertellings van die verlede was nooit bitter nie” (Die Burger, 17 Augustus, p 4). Die US-rektoraat is amptelik op Cupido se begrafnis verteenwoordig en ‘n huldeblyk is op die US-webwerf (15 Augustus) gepubliseer. Daarvolgens was Cupido “hoflik”. Maar (blanke) oud-dosente word normaalweg nie só deur die US gehuldig nie. Johan Degenaar was ‘n uitsondering.

Albert Grundlingh se weergawe

Die tweede dokument waartoe lesers op die US-webwerf (22 Julie) insae gegee is, is dié van die US-historikus Albert Grundlingh. Botman het Grundling se samewerking nodig gehad in ‘n poging om historiese geldigheid aan sy eensydige vertolking van die 1940-gebeure te probeer gee; te wete die veronderstelling dat die wit studente die skuldiges en die bruines die heeltemal onskuldige slagoffers was. As bronne noem Grundlingh eerstens die bruin Hilton Biscombe (redakteur) se boek, In ons bloed (2006), waarin die bruines se weergawe gestel word, tweedens Jeffreys se bogenoemde rubriek (Grundlingh herhaal sonder meer Jeffreys se klad-beskuldiging teen Dagbreek) en derdens Hermann Giliomee se boek oor hierdie onderwerp (kyk hier onder).

Grundlingh noem as agtergrond vir die 1940-gebeure die herdenking van die Groot Trek in 1938, die opbloei van Afrikanernasionalisme en die ontstaan van die pro-Nazi Ossewa-Brandwag-beweging. Wit-bruin betrekkinge is ook versuur omdat die Nasionale Party (NP) die 1938-verkiesing verloor het en dit in sommige kiesafdelings toegeskryf is aan die bruin kiesers se steun vir die Verenigde Party (VP). Die NP wou bruines se name van die gesamentlike kieserslys verwyder en woongebiedskeiding afdwing. By bruines wat daar “toenemende wrewel” en hulle is aangemoedig om hulle burgerregte te gebruik [ anders word (volgens ‘n VP-stemwerwer) “julle binne tien jaar almal weer slawe” (Giliomee, p 144).] ‘n Feit van deurslaggewende belang is dat die Slag van Andringastraat tydens die Tweede Wêreldoorlog plaasgevind het, met die VP wat ten gunste van Suid-Afrika se deelname aan die oorlog en die NP daarteen was. In Kaapstad is van almal verwag om ‘n 2 minute bidpouse vir ‘n Geallieerde oorwinning om 12-middag te eerbiedig. Van die US-studente het die bidpouse op Saterdag, 27 Julie 1940, doelbewus geïgnoreer en in Adderleystraat, Kaapstad, met soldate handgemeen geraak.

Hierdie studente het na Stellenbosch teruggekeer en wou daardie aand sien hoe die gebeure in die Cape Argus gerapporteer word. Grundlingh beweer hulle het ‘n “bier of twee gedrink” voordat hulle in ‘n tou by ‘n kafee in Andringastraat ingeval het om die koerant te koop. [Volgens Giliomee se teks (p 154-155) is dit moontlik dat die genoemde biere eerder in Kaapstad as in Stellenbosch (soos Grundlingh beweer) gedrink is. Dié storie kom in elk geval eers in 1979 van die verligte joernalis Schalk Pienaar, wat meer as die meeste van sy mede-studente aan drank geheg was.] Dit is baie moontlik dat van die bruines in die tou op ‘n Saterdagaand (in groter mate as die studente) wingerdgriep gehad het, maar dit word nie genoem nie. In die tou het sommige kopers hulle wangedra, bv deur in te druk, en die wittes en bruines het handgemeen geraak.

Dan neig Grundlingh se vertelling Botman-gedienstig: “Dit wil voorkom asof sekere studente met voorbedagte rade bruin mense aangerand het.” Nog meer Botman-gedienstig is sy volgende sin: “‘n Klipgooiery het gevolg.” Let op: Wanneer wittes na bewering iets verkeerds doen, word dit as die dade van wittes gespesifiseer. Wanneer die bruines op kenmerkende* manier met klipgooiery reageer, word nie gespesifiseer dat hierdie wandade deur bruines gepleeg is nie. Eers later noem Grundlingh: “‘n privaat koshuis, Protea, se vensters [is] deur bruin mense uitgegooi.” [* Enigeen wat, soos ek, die 1976-onrus op die kampus van die Universiteit van Wes-Kaapland eerstehands meegemaak het, weet dat die woord “kenmerkend” in hierdie konteks nie misplaas is nie. Daar is bedrewe bruin klipgooiers.]

Later is “‘n huis in Crozierstraat met klippe bestook,” maar weer word nie gespesifiseer dat bruines die skuldige party is nie. Daar word wel gespesifiseer dat wit “studente … die bruin woonbuurt ingevaar en amok gemaak [het] deur na willekeur bruin gesinne aan te rand.” In sy relaas wend Grundlingh talle ander subtiele pogings aan om sy rektor, Botman, gedienstig te wees, bv deur te noem dat die studente later as ‘n “wit jeugdige gespuis” beskryf is. [Volgens Giliomee (p 159) is dit Jan Rabie wat in 1956 hierdie beskrywing van sy mede-studente gepubliseer het, dus nadat hy hoogs verlig en sterk pro-bruin uit Frankryk teruggekeer het.] Grundlingh is sy huidige rektor, De Villiers, ook ter wille. Op 27 Julie het hy volgens die US-webwerf (29 Julie) weer sy “historiese oorsig” van die 1940-gebeure gegee. Dit kan bevraagteken word of Gundlingh sy aansien as historikus en akademikus verhoog het met die manier waarop hy met die Slag van Andringastraat omgegaan het.

Hermann Giliomee se koerantonderhoud

Die historikus Hermann Giliomee was in die ou Suid-Afrika as ‘n verligte en ‘n Dakar-ganger (1988) bekend. Soos Alex Boraine (Praag 8 Augustus) het hy in die nuwe Suid-Afrika ontnugter geraak. Anders as Boraine het hy erken dat die regses se toekomsvisie van Suid-Afrika onder ‘n swart bewind nader aan die kol as dié van die verligtes was: “Die meer rasionele faksie onder regses in [die] 1980’s het ‘n veel meer realistiese verwagting gehad van hoe die land vandag onder die ANC-bewind sou lyk” (Praag 19.10.2014). Ek het groot waardering vir Giliomee ontwikkel toe hy as US-raadslid hom jare lank met groot toewyding en uitgesprokenheid vir die behoud van Afrikaans as onderrigtaal beywer het.

In ‘n koerantonderhoud (Die Burger, 7 Augustus, p 13) sê Giliomee: “Ek het nooit gedog dat Stellenbosch … so amper Afrikaans sal versaak nie; dat ons nou … eintlik hier kláár oorwegend sowel voorgraads as nagraads Engels-medium is … Kyk, as ons nie hierso nou stérk staan teen die eise van die studente wat wil hê Stellenbosch moet álles in Engels aanbied nie, dan is die koeël deur die kerk vir Afrikaans.” Hy besef blykbaar dat De Villiers nie die ruggraat hiervoor het nie: “Die prognose [vir die US] is nie baie goed nie.” In sy boek oor Die Afrikaners (2013) verwys hy na die “verstikkende politieke korrektheid.” In die onderhoud merk hy tereg op dat dit “altyd Afrikaners” is wat Afrikaanse “taalstryders as belaglik afmaak.”

Giliomee onderskei tussen koloniale en republikeinse Afrikaners, soortgelyk aan die onderskeid tussen verloopte en nie-verloopte (of nie- en regte) Afrikaners. Hy stel voor dat egte Afrikaners moet mobiliseer en werk vir bv Afrikaans en ‘n private universiteit. Gedagtig aan die US se Engelse voorganger, die Victoria College, sê hy: “Stellenbosch het heeltemal half weer die queen se Afrikaner geword.” Die US se dosente bestempel hy as: “Totáál onsinnig! Hééltemal naïef! Dis mense wat geen begrip van die politieke werklikhede het nie.”

“Deesdae begin ek wonder of ek nie maar eintlik as ‘n Afrikaner-historikus skryf nie … Ek skryf as iemand wat nie énige begeerte het om die Afrikaners te verdedig of Afrikaners te besing nie, maar net as iemand wat sê: Kyk, ek het ‘n Afrikaner-agtergrond en ek probeer die Afrikaners verstaan en dáárdeur Suid-Afrika verstaan … En dan wil ek báie krities wees, maar ek sal nooit ontkén dat ek ‘n Afrikaner is nie.”

Hermann Giliomee oor die Slag van Andringastraat

In die literatuur word genoem dat die Slag van Andringastraat eers teen 2005 aan die vergetelheid ontruk en algemeen bekend geword het. Die aktivistiese Botman het gepraat van “the suppressed history of … the Battle of Andringa Street” (Bolander, 14.08.2013, p 6). Die 2005-datum verwys na Gustav Hendrich se US-magisterverhandeling, Die dinamika van blank en bruin verhoudings op Stellenbosch (1920-1945). Hoofstuk 7 (p 141-172) in Giliomee se boek, Nog altyd hier gewees: Die storie van ‘n Stellenbosse gemeenskap (Kaapstad: Tafelberg, 2007, 253p) is op hierdie navorsing gebaseer en vorm in meerdere of mindere mate die grondslag van wat sedertdien oor die Slag van Andringastraat kwytgeraak is. (Ek gaan vervolgens nie inligting herhaal wat reeds hierbo vermeld is nie.)

Giliomee noem dat daar in die 1938-verkiesing 1 109 bruines op die Stellenbosch-kieserslys was (p 141). Die VP het dié kiesafdeling met 30 stemme gewen (p 145). Dit is dus redelik om te aanvaar dat die NP weens die stemme van bruines die kiesafdeling verloor het. Die US-studente was oorwegend NP-ondersteuners en teen Suid-Afrika se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog gekant. In die parlement het ‘n meerderheid van 13 stemme (dalk weens bruin kiesers) veroorsaak dat Suid-Afrika tot die Tweede Wêreldoorlog toegetree het (p 147). Die US-studente “was nie soseer pro-Nazi-Duitsland nie as anti-Brittanje” (p 153). Giliomee maak melding van die “parmantigheid”, “astrantheid” (p 150) en “uitdagende houding” (p 163) van die bruines. Daarteenoor is die blankes tydens die oorlog ontwapen (p 150) en het hulle sterk oor die beskerming van hulle vroue en kinders gevoel (p 151).

Die voorvalle in Adderleystraat, Kaapstad en Andringastraat, Stellenbosch, word verskillend in die berigte in die Cape Argus en Cape Times, aan die een kant, en Die Burger, aan die ander kant, beskryf. Die twee Engelse koerante het die VP en die bruines ondersteun, terwyl Die Burger in daardie stadium die NP en Afrikaners ondersteun het. Zainunnisa (Cissie) Gool, die dogter van Abdulla Abdurahman (albei was bekend vir hulle radikale, militante, kommunisties-neigende politiek), het sterk anti-blanke en pro-bruin berigte oor die gebeure die wêreld ingestuur. Giliomee skryf: “Daar bestaan min eenstemmigheid oor die onluste wat die Saterdagaand [in Stellenbosch] uitgebreek het” (p 155). Gool beweer dat “die studente aangeval het sonder dat hulle uitgelok is” (p 155) en dat hulle vir hulle skade en lyding vergoed moet word (p 162). [Dit is in hierdie tradisie dat Derrick Hendricks (kyk hier bo) deesdae steeds vergoeding eis en De Villiers namens die US gewilliglik vergoeding in die vorm van eksklusiewe studiebeurse betaal.] Die latere verligte skrywer Jan Rabie het gehoor “van ‘n bruin man wat ‘n wit meisie opsy gestamp het” (p 157). Ek het by ‘n gevestigde en eerbare blanke inwoner van Stellenbosch gehoor dat die vonk in die kruitvat gekom het toe ‘n bruin man ‘n blanke meisie geklap het. Van die bruines was ook met messe bewapen (p 156, 158). Giliomee se teks laat geen twyfel daaroor dat die bruines die klipgooiers was en dat hulle ‘n koshuis en ‘n huis se ruite uitgegooi en motors beskadig het nie.

Sondagmiddag, 28 Julie 1940, het honderde bruines van Du Toit-stasie na Adringastraat beweeg. “Sommige het ‘n kruiwa vol klippe gestoot” (p 159). ‘n Motoris het die Dagbreek-studente versoek om te kom help (p 159). Klippe het op die blankes “gereën” (p 159). “Die studente se aanval [!] en die gevegte het van ongeveer halftwee tot halfvyf geduur” (p 161). Die US-rektor, RW Wilcocks, het by die studente gepleit om die gevegte te staak. “Die studente het geprotesteer teen die wyse waarop Afrikanerburgers deur voorstanders van die oorlog geïntimideer en uitgetart word” (p 161). Die US-studenteraad het “beweer dat astrante en beledigende opmerkings ook teenoor wit vroue gemaak” is (p 163).

Daar was nooit sprake dat die bruines skadevergoeding sou betaal vir die verwoesting wat hulle aangerig het of dat hulle om verskoning sou vra nie. Van die blankes is egter sowel skadevergoeding as ‘n verskoning geëis. [Botman het (kyk hierbo) sake so bewimpel dat van die blanke US-studente in 2012 wel verskoning gevra het.] In 1940 was daar van blanke kant ordentlikheidshalwe wel bereidwilligheid om skade te vergoed, maar net aan onskuldige bruin slagoffers; dus nie aan die belhamels, klipgooiers en ander geweldenaars nie. Hieruit volg toe hierdie soort bruin logika: “Die blote gedagte dat bruin mense hul onskuld moet bewys voor hulle skadevergoeding kry, soos die studenteraad geëis het, was ‘n vernedering* wat sout in die wonde gevryf het” (p 164). [* Hendricks gebruik deesdae steeds die woord “vernedering” (kyk hierbo).] Later is gesê dat die bruin gemeenskap nie skadevergoeding wil hê “bloot as ‘n saak van jammerhartigheid nie, maar as ‘n saak van regverdigheid en erkenning van skuld” (p 169). [Hierdie standpunt, dat die bruines die heeltemal onskuldige en die blankes die heeltemal skuldige party was, is in die jaar van onse Here, 2015, holus-bolus deur De Villiers oorgeneem. Dit is waarom ek geskryf het van ‘n “Wim de Villiers beloning-vir-klipgooi projek” (Praag 25 Julie).] Wilcocks het ruggraat gehad en geweier om verskoning te vra (p 170, 172) en gesê: “Die verlening van skadevergoeding moet verstaan word eenvoudig as hulpverlening aan onskuldige kleurlinge wat skade gely het” (p 170).

In 1940 was die siening van die bruines se Stellenbosch Vigilance Movement (ja, hulle het toe al Engelse name verkies): “Dit spyt ons dat ons moet kla dat ‘n groot en vredeliewende seksie van die nie-blankes deur ‘n aantal van u universiteitstudente sonder oorsaak aangerand is en dat baie skade aan liggaam en eiendom aangerig is” (p 165). Later is uit ‘n bruin oord beweer: “Dat ons niks aan die hand kan doen om die oorsake te vermy, is te wyte aan die feit dat ons nie weet waarom ‘n groot seksie van die vredeliewende mense spesiaal uitgesoek is vir spesiale aanranding nie” (p 169). Die US-bestuur het die skade aan bruines se eiendom, motors uitgesluit, op ₤100 gestel (p 166). Ex gratia betalings (dus vrywillige vergoeding) van sowat ₤24 altesaam is daarna deur die US aan verskeie bruines gedoen (p 171).

Dit is myns insiens (histories) onaanvaarbaar dat Giliomee, toe nog meer verlig as tans, skryf: “Saam dui die verslae en berigte oorweldigend daarop dat studente die aggressors was” (p 156). Later gaan hy van kwaad tot erger: “Wat dit [die Slag van Andringastraat] in werklikheid was, was ‘n amokmakery en in sommige gevalle boewery, van jong wit mense met die doel om die bruin mense op die dorp te straf, te intimideer en te dwing om onderhorig te wees” (p 172). “In die geval van die Andringastraat-onluste in 1940 op Stellenbosch was dit hoofsaaklik wit studente wat vir die geweld verantwoordelik was sonder dat hulle daartoe uitgelok is” (p 194). Myns insiens sou daar veral op daardie Sondag geen voortsetting van die onrus gewees het as die bruines nie ‘n uitlokkende klipgooi-optog gehou het nie. Daar moet in ag geneem word dat Giliomee hom deur die bevindings van sy student, Gustav Hendrich, laat lei het en dat die vertolkings in daardie studie in die politieke klimaat van die nuwe Suid-Afrika vorm aangeneem het. Historici is nie bomenslike wesens nie. Hulle is noodwendig produkte van die tydperk waarin hulle lewe.

Berigte in Eikestadnuus

Iemand wat reeds langer as 60 jaar in Stellenbosch woon, GF Loedolff, het dit gewaag om in Eikestadnuus (13 Augustus, p 8; sien volledige brief hier onder) beswaar teen die eensydige, foutiewe voorstelling van die Slag van Andringastraat te maak. Hy het dit ‘n “politieke spel” genoem. Volgens hom was die kafee, waar die aanvanklike geveg uitgebreek het, “‘n gewilde plek onder studente”. Die kafee was op die eerste verdieping en die eienaar het “sy reg op toegang probeer uitoefen”. Hy noem dat sommige van die huise van bruin inwoners in die kern van Stellenbosch onbewoonbaar verklaar is. Hulle is na Idasvallei verskuif waar hulle in staat gestel is om teen billike voorwaardes beter huise te bou. Die situasie in Stellenbosch se Die Vlakte was dus soortgelyk aan dié in Distrik Ses, Kaapstad.

In die volgende uitgawe van Eikestadnuus (20 Augustus, p 8) onderskryf Albert Grundlingh die (wan)voorstelling van die Slag van Andringastraat as een waar die bruines die heeltemal onskuldige slagoffers van wit rassisme was. In dieselfde uitgawe (p 3) word meer as ‘n halwe bladsy afgestaan aan die menings van vier mense (met foto’s van elk) wat Loedolff se vertolking verdoem. Eerstens is daar Derrick Hendrickse, in affiliasie met bv die Palestine Solidarity Campaign en Stellenbosch Against Racism Campaign, wat verwys na hoe “painful” apartheid was en dat Stellenbosch glo “one of the most unequal towns” is. Tweedens is daar die bruin Hilton Biscombe, die redakteur van die bogenoemde 2006-boek, wat deur Sunmedia (wat as die US se uitgewery funksioneer) gepubliseer is en waarin die bruines se weergawes van die Slag van Andingastraat gedokumenteer is. Hy verwys na “Aaron Cupido op wie se [myns insiens onbetroubare] getuienis ons staat gemaak het”. Daar is die gewone stories van “menswaardigheid”, “maak seer” en “ons erfenis beswadder” en dat Loedolff eensydig, hatig, uittartend en beledigend is. Derdens is daar Jerome Slamat, die US rektor se assistent, wat saam met Nico Koopman deel van die rektoraat geword het om dit multi-etnies te maak. Dit is Slamat wat amptelik namens die US Cupido se begrafnis bygewoon het. Hy verwys goedkeurend na Russel Botman se kamer van herinnering en dan die gewone besware van belediging, seermaak, menswaardigheid en les bes dat die wittes hulle “aandadigheid aan die verkeerde dinge van die verlede” moet erken. Die bruines blyk so onskuldig soos ongebore babas te wees. Vierdens is daar Dawid Botha, ‘n DA-raadslid van die Munisipaliteit Stellenbosch, wat daarop roem dat sy pa die hier bo gediskrediteerde berigte oor die Slag van Andringastraat in die Cape Times geskryf het. Hy noem Cupido ‘n ikoon van vergifnis en versoening op Stellenbosch, soos wat Nelson Mandela dit op nasionale vlak is. Hy het dit teen mense wat “hatig vir eie gewin” die Slag van Andringastraat opblaas.

Wat die vyf briefskrywers genoem in die vorige paragraaf gemeen het, is dat blankes ter wille van versoening die volle skuld vir die 1940-gebeure moet aanvaar en die bruines ten volle kwytgeskel moet word; selfs dat die bruines op vergoeding geregtig is. Dan is daar die armsalige Martie Retief Meiring wat in die konteks van Erfenismaand beweer “alles was nie so blink in die verlede van Stellenbosch nie, want daar was “slawerny … armoede … diskriminasie”. Ek wens daar is êrens ‘n toekenning vir haar wat duidelik maak wat sy is.

Loedolff het nie op hom laat wag nie en in die volgende uitgawe van Eikestadnuus (27 Augustus, p 8) gereageer. Sy hoofbeswaar is dat hierdie mense nie op eerstehandse inligting aangewese is nie terwyl hy van 1941 tot 1945 op Stellenbosch studeer het en sy inligting kort na die gebeure bekom het. Hy beklemtoon die hoë graad van uittarting wat daar by die bruines was. Ook vertel hy van ‘n bruine wat aan hom gesê het dat die opruiming van die vervalle bruin woongebied in die kern van Stellenbosch ingevolge die groepsgebiedewet “die beste ding [was] wat kon gebeur het”.

Slot

‘n Rektor soos Wilcocks was in die sielkunde geskool en het dus verstaan wat in mense se koppe aangaan. Hy het onderskei tussen die skuldige en onskuldige slagoffers, sowel wit as bruin, van die Slag van Andringastraat. De Villiers, daarenteen, is ‘n medikus wat geen formele naskoolse opleiding in die humaniora of sosiale wetenskappe het nie. Daar kan kwalik van hom verwag word om afdoende begrip te hê van hoe mense se koppe werk. Hy verstaan blykbaar nie politiek en die heersende ideologiese stryd nie. De Villiers is klaarblyklik een van dié van wie Giliomee gesê het dat hy “geen begrip van die politieke werklikhede het nie”. Nog minder besef De Villiers dat daar ingeskrewe studente (met bv eksklusiewe, nie-meriete US-studiebeurse) op die kampus is wat veel eerder op rewolusionêre jukskeibreking as studie ingestel is; elemente wat, soos die ANC, beter toegerus is om bestaande strukture af te breek as om iets beters in die plek daarvan tot stand te bring. Vir ‘n universiteit is sy rektor se naïwiteit nie ‘n bate nie.

Anders as Wilcocks onderskei De Villiers nie tussen die skuldige en onskuldige slagoffers van die Slag van Andringastraat nie. Volgens De Villiers se vertolking was die wit studente die skoorsoekers en geweldenaars en die bruines deur die bank die onskuldige en vreedsame slagoffers. Daar is hier geen sprake dat hy ‘n “diversiteit van idees” oor die gebeure bevorder nie. Volgens De Villiers moet nie slegs die onskuldige bruines, soos Wilcocks wyslik geredeneer het, vergoed word nie. Nee, al die betrokke bruines moet bevoordeel word; ook die kranige klipgooiers. Omdat dit na ‘n driekwarteeu nie prakties moontlik is nie, is besluit dat hulle nageslag die vrugte van hulle voorouers se (goeie) dade in die vorm van eksklusiewe US-studiebeurse kan pluk. Uiteraard is hierdie eksklusiewe studiebeurse nie om suiwer akademiese redes ingestel nie. Polities korrek is De Villiers klaarblyklik glad nie begaan oor wat die oorlewende blanke slagoffers van sy filantropie of paternalisme dink of hieroor voel nie.

‘n Rektor is veronderstel om ‘n deurwinterde akademikus te wees wat deur onder meer voorbeeldstelling al die akademiese bedrywighede van ‘n universiteit rig. Dit impliseer dat hy ewewigtige, objektiewe, wetenskaplike en sover moontlik ideologies neutrale leiding moet gee. Pleks hiervan kom De Villiers met ‘n eensydige, subjekiewe, ideokratiese benadering wat dogmaties die mode-politiek van die oomblik ongenuanseerd aanvaar asof dit ‘n wit-en-swart (oorwegend swart) aangeleentheid is. Daar is myns insiens nie sprake van grootsheid van gees nie. De Villiers behoort daarom nie ‘n rektor te wees nie, veral nie aan ‘n universiteit wat kragtens sy stigtingsvoorwaarde oorwegend Afrikaans moet wees nie.

Europa ondervind ‘n toevloei van onwettige immigrante wat die kultuur van die tradisionele inwoners bedreig. Die US ly onder die teenwoordigheid van elemente wat nie op die kampus is om in die eerste plek te studeer nie, maar om die universiteit se kultuur radikaal te verander sodat hulle (eerder as die tradisionele studente) welkom kan voel. Sowel Europa as die US het nie die durf om die probleem onder oë te sien en drasties op te tree deur van die ondermyners ontslae te raak nie. Aan die Universiteit Kaapstad is afgesien van optrede teen onrusstokers. Dit bring mee dat die Rhodes Must Fall-beweging “met hernude energie met hul plan voortgaan om die instelling van kolonialisme te verlos” (Die Burger, 22 Augustus, p 7). Die US het herbevestig dat hy in toegeemodus bly. Die jongste is dat De Villiers sy “afkeur van magsvertoon” uitgespreek het (US-webwerf 22 Augustus). Dus, Open Stellenbosch het ‘n vrypas om met sy protes voort te gaan en druk uit te oefen om die US ooreenkomstig sy wense te transformeer. Die rektor sal hierdie boosheid nie met “magsvertoon” bestry nie.

Aangesien Netwerk24 oor ‘n betaalmuur beskik, haal ons graag die belangwekkende brief van GF Ludolff wat in Eikestadnuus verskyn het, volledig hier aan. Vir diegene wat wel toegang tot Netwerk24 het, word die skakel in die opskrif geplaas. – Redaksie

Slag was nooit op Die Vlakte nie

Maandag 17 Augustus 2015 08:08

Die wanvoorstelling van die Slag van Andringastraat gaan darem nou te ver en het ’n vrot politieke spel geword.

Die sogenaamde inligting in Eikestadnuus en Die Burger is alles behalwe die waarheid. Ek is nou meer as 60 jaar op Stellenbosch en het nou vir die eerste keer gehoor Die Vlakte genoem word. Die Vlakte is natuurlik ’n mooier beskrywing om die ware toestand van dele daarvan te verbloem. Die gesondheidsdepartement van die munisipaliteit het toe reeds ’n paar van die gehuggies as onbewoonbaar verklaar tensy besliste verbeterings aangebring word. Dit was beslis nie ’n mooi deel van Stellenbosch nie en ek was skaam om dit te aanskou. Daar was beslis nie 3 700 mense soos beweer word nie en nog minder ses skole en vier kerke. In die gebied wat genoem word, word Andringastraat nie eers genoem nie.

Die beskrywing van die slag van Andringa-straat is blote wensdenkery en onsin. Hoe op aarde sal ’n groep studente so ’n buurt aanval sonder enige rede? Wat sou hul daarmee bereik het en watter skade kon hulle tog aangerig het in so ’n swak woonbuurt? Mnr. Hendrikse was toe nog nie gebore nie of was op sy beste nog ’n kleuter om nou met gesag daaroor en oor die slag te wil praat. Alles wat hy kwytraak is dus hoorsê en ’n eensydige wanvoorstelling. Om dit ’n slag te noem, moes daar êrens ’n geveg gewees het en met wie sou die studente daar gaan baklei het?

Wat het in der waarheid gebeur? Skuins regoor die huidige drankwinkel in Andringa-straat was daar ’n kafee op die eerste verdieping van die gebou. Dit was ’n gewilde plek onder studente. Voor die laaste trap na die lokaal was daar ’n kennisgewing “reg van toegang voorbehou”. Op die aand het ’n groep bruin jeugdiges voor die kafee vergader, maar die bestuurder van die kafee het sy reg op toegang probeer uitoefen, waarop die groep handgemeen geraak en tafels begin omkeer het.

Van die mansstudente in die kafee het die bestuurder gaan help. ’n Wilgenhoffer het sy koshuismaats geskakel en hulp gevra, waarop ’n woeste vuisgeveg met hul aankoms ontstaan het. Die studente het die geveg gewen en die jeugdiges tot by “Die Vlakte” teruggejaag sonder om verdere skade aan te rig. Die geveg was dus in Andringastraat en nêrens naby Die Vlakte nie. Die gedwonge verskuiwing is ook skeefgetrek. Toe Idasvallei ontwikkel is, is erwe teen 40 pond beskikbaar gestel – met riool- en waterdienste ingesluit. Huislenings oor 30 jaar teen ’n vaste koers van 3,5% per jaar is aangebied. Een van die inwoners van die gebied het aan my gesê die opruiming van die gebied was die beste ding wat kon gebeur en dat hy toe ’n mooi huis kon bou.

GF LOEDOLFF
STELLENBOSCH

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.