Dan Roodt: Eurokaner en kreool

Deel op

PRAAG was vyftien tot twintig jaar gelede ‘n stem roepende in die woestyn sover dit die taalkwessie aanbetref. Deesdae word daar meer oor die lot van Afrikaans, veral aan universiteite, geskryf, maar het ons werklik vordering gemaak? Eerder as wat dit verflou het, het die argument vir volslae verengelsing toegeneem. Soos ek onlangs aangedui het, is daar selfs Afrikaners soos Gita du Toit wat dit deesdae bepleit dat Afrikaans heeltemal uit die akademie en uit die opvoedingstelsel geweer word.

Benewens hierdie anglofiele of anglosentriste, is daar ‘n tweede groep wat Afrikaans nie noodwendig wil verbied of uitsluit nie, maar die taal van binne af wil rysmier deur dit as ‘n “kreool” voor te stel. Die skrywers Antjie Krog en André P. Brink het al by verskeie geleenthede bepleit dat Afrikaans en Engels “gemeng” moet word sodat ‘n nuwe mengeltaal of kreool daaruit kan ontstaan. Deel van die marxistiese “revisionisme” wat in Suid-Afrika aan die gang is, behels dat nie net die geskiedenis nie, maar ook ons taalgeskiedenis en ons identiteit hersien moet word. In sommige kringe, veral onder akademici en die omroepers van RSG, het die woord “Afrikaner” ‘n vloekwoord geword. In 1994 is die Afrikaner afgeskaf, is min of meer hul redenasie.

Meer grondliggend egter, gaan dit om ‘n kultuurkonflik in die land tussen Afrika en Europa wat reeds eeue lank duur. Vandaar dus die term “Eurokaner” wat ek gebruik om ‘n bepaalde tipe Afrikaner te definieer wie se taal (Standaardafrikaans), kultuur, identiteit en selfs sy fisieke voortbestaan vandag onder beleg verkeer. Iewers het ek die huidige bestel die “Derde Britse Besetting” genoem; inderdaad word ons beset en word Engels en politieke korrektheid op alle gebiede op ons afgedwing.

Benewens die kultuurkonflik tussen Afrika en Europa in ons land, spreek ‘n ander kultuurbotsing sterk uit ons geskiedenis: dié tussen Nederland en Engeland, wat later die botsing tussen Boer en Brit tydens die negentiende en twintigste eeue geword het. Die sogenaamde “anti-apartheidstryd” het nie primêr om beleid of selfs rassepolitiek gegaan nie, maar om die Afrikaner vir altyd van alle seggenskap of beskikking oor sy eie lot te beroof. Ook binne Afrikanergeledere self het die jingo, of die Engelsgesinde, die oorhand oor ons verkry en word die Europeesgesinde Afrikaner, of Eurokaner, vandag gejag, uitgesluit, gesensureer en verguis.

Immers is die Kasteel in die Kaap nie oorspronklik gebou om ons teen die Hottentotte of ander inboorlinge te beskerm nie, maar teen die Engelse. Hendrik Potgieter wou so ver moontlik die binneland intrek omdat hy van die see af wou wegkom, want so het hy gesê, “waar die see is, is altyd Engelse”. Helaas het ons nie daarin geslaag om van Engelse weg te kom nie. Vandag, in dié provinsie, word al die Afrikaanse skole beheer deur ‘n Engelse dame, mev. Barbary Creecy en haar marionet, ene Panyaza Lesufi. Mev. Creecy is ‘n produk van die Johannesburgse privaatskool Roedean, asook die Universiteit van die Witwatersrand, waar Boerehaat by tye tot ‘n kultus verhef is.

In die naam van “demokrasie” word ons – dis die toppunt van ironie – alle seggenskap oor ons eie sake, ons onderwys, kultuur, selfs ons taal, biblioteke, kunsversamelings, simbole en monumente, ontsê. Indien ons deur ‘n outokratiese Britse monarg geregeer sou gewees het, sou ons waarskynlik beter daaraan toe gewees het.

As ons kyk na die argumente wat vandag teen Afrikaans – ook toenemend binne die taal self – gevoer word, dan is dit helder dat sowel Standaardafrikaans as die Afrikaner moet verdwyn. Daarmee sal alle Europese invloed wat vanaf 1652 en die koms van Nederlanders, Duitsers en Franse na ons land geduur het, insgelyks wegraak. Dis miskien iets wat die meeste van ons mense nie verstaan nie: Boerehaat beteken op sy minste ook ‘n renons en ‘n wrewel in Europa, veral Noordwes-Europa en daardie lande van waar ons voorouers afkomstig is. Die vergoddeliking van Engels en van die swartman – en veral die “swart Engelsman” soos Nelson Mandela na hom in sy outobiografie verwys – onderlê ‘n afkeer van beide Afrikanerskap en Europeërwees:

The principal of Healdtown was Dr. Arthur Wellington, a stout and stuffy Englishman who boasted of his connection to the Duke of Wellington. At the outset of assemblies, Dr. Wellington would walk onstage and say, in his deep bass voice, “I am the descendant of the great Duke of Wellington, aristocrat, statesman, and general, who crushed the Frenchman Napoleon at Waterloo and thereby saved civilization for Europe — and for you, the natives.” At this, we would all enthusiastically applaud, each of us profoundly grateful that a descendant of the great Duke of Wellington would take the trouble to educate natives such as ourselves. The educated Englishman was our model; what we aspired to be were “black Englishmen,” as we were sometimes derisively called. We were taught — and believed — that the best ideas were English ideas, the best government was English government, and the best men were Englishmen. (Mandela, Long walk to freedom, hoofstuk 6.)

Die “dr. Wellington” waarna Mandela hier verwys, was skoolhoof van ‘n sendingskool in die Oos-Kaap; in sulke skole is die swart elite gebreinspoel om sowel Boerehaat as Eurofobie te omhels. Vandaar dus die toestand van byna universele chauvinisme en anti-Westerse, anti-Afrikaanse fanatisme wat in Suid-Afrika heers. So ‘n houding is oor baie jare en op verskillende maniere – deur die sendingskole, die pers en ander massamedia – by die bevolking ingeprent.

‘n Student van Tukkies het ‘n klompie jare gelede vir my sy ervaring verwoord deur te sê: “Jy mag nie té Afrikaans wees nie.” Net so mag ‘n mens in Suid-Afrika nie té Europees wees nie. Jy mag nie te veel van Franse boeke of Vlaamse skilders of Duitse filosowe of Skandinawiese ontwerp hou nie, dan bring dit jou in botsing met die stelsel. En tog is dít wat Afrikaners, veral intellektuele Afrikaners, tot onlangs toe hartstogtelik begeer het: om Europeërs te wees. Veral “goeie Europeërs” in die sin waarin Nietzsche en soveel ander dit gebruik het, om ‘n opgevoede, kosmopolitiese, veeltalige Westerling te wees.

Die negentiende eeu was oor die algemeen ‘n verskriklike tydvak in Suid-Afrika. Nie net is daar massamoorde op die Voortrekkers gepleeg nie, maar daar was ook die verskroeide-aardebeleid en die konsentrasiekampe waarin vele van ons voorouers, veral kinders, gesterf het. Omdat Engeland, asook Engelse sendelinge wat altyd met ywer hul Boerehaat onder swartes sou versprei, sinoniem was met hierdie verskrikkinge en gruweldade, selfs misdade teen die mensdom, wat ons beleef het, spreek dit vanself dat ons op verskeie maniere die Vasteland van Europa geïdealiseer het. Min mense het waarskynlik al die aandag daarop gevestig – ten minste weet ek nie van so iemand nie – maar die opkoms van Afrikaans en Afrikanerskap vanaf die laat negentiende eeu het saamgeval met ‘n verkenning van Europese idees, boeke, musiek, vorme, musiek, style en selfs modes. Dit is een van die ironieë en paradokse van Afrikanerskap en die Afrikaanse beweging, dat ons op dieselfde tydstip toe ons kliphard aan ‘n nuwe taal, nuwe identiteit en nuwe volkskap “gewortel in Afrika” gewerk het, ons ons terselfdertyd en toenemend met die Europese Vasteland en veral met ons stamlande vereenselwig het. Dit geld vir Van Wyk Louw en die Dertigers, maar ook die vroeë Sestigers wat juis Parys – en nie Londen nie – as hul intellektuele en artistieke hoofstad aanvaar het.

Iewers tydens die sewentigerjare het daar egter ‘n kentering gekom en sedertdien word Engelse idees, veral ook die ideologie van liberale Amerika, as toonaangewend in Suid-Afrika ervaar. Hoe meer Engels, hoe beter. Dit geld ook die hoeveelheid Engelse woorde wat jy besig as jy Afrikaans praat.

Sowel André P. Brink as Breyten Breytenbach het die grootse kulturele en intellektuele beweging wat Afrikaners tydens die hele twintigste eeu gekenmerk het, verraai. Eers die skrywers, toe die politici. Die De Klerks, Wimpie en FW, was bloot die laastes van ‘n hele trop wat Engels en halfgebakte Engelse linkse idees – noem dit maar die Britse marxisme – geesdriftig aangegryp het.

Nou die dag verneem ek van ‘n seminaar wat vandeesweek by Wits gehou sou word oor die mite van rasvermenging in Mexiko. Dit is ‘n hele interessante onderwerp en tot my spyt kon ek dit nie bywoon nie. Die Spaanse woord vir rasvermenging is mestizaje en dié term maak deel uit van die identiteit van Latyns-Amerika, dermate dat vele akademici dit vandag as ‘n mite beskryf. (Sien ook die artikel: “Mestizaje and the Discourse of National/Cultural Identity in Latin America”, 1845-1959 deur Lourdes Martinez-Echazabal, Latin American Perspectives, Vol. 25, No. 3, Race and National Identity in the Americas (May, 1998), pp. 21-42.)

Só byvoorbeeld het die Kubaanse digter Nicolás Guillén in 1931 verklaar dat “die gees van Kuba mestizo (kleurling) is”. In 1973 het Breyten Breytenbach iets soortgelyks gesê toe hy beweer het:

“Ons is ‘n bastervolk met ‘n bastertaal. Ons aard is basterskap. Dis goed en mooi so. Ons moet kompos wees, ontbindend om wéér in ander vorme te kan bind. Net, ons het in die slagyster getrap van die baster wat aan bewind kom. In daardie gedeelte van ons bloed wat van Europa kom, was die vloek van meerderwaardigheid…” ‘n Seisoen in die paradys, 1976, bl. 123)

Europa word van “die vloek van meerderwaardigheid” beskuldig. Dog enigeen wat deesdae luister na wat gesê word, sal kan getuig dat daar tans ‘n soort meerderwaardigheid van die mezisto of mulat geld. Wyle Chris Louw het reeds ingesien dat die huidige rektor van die Vrystaatse Universiteit, Jonathan Jansen, vas glo dat die kleurling of die rasgemengde “die volk van die toekoms” en daarom ‘n soort uitverkore volk is.

Breyten Breytenbach het hom nooit uitgelaat oor die soort meerderwaardigheid wat dr. Wellington en moontlik ander Metodistepredikante in ons land teenoor Europa voel nie: die “onbeskaafde Franse” teenoor die beskaafde en verhewe Engelse. By Breyten Breytenbach, Antjie Krog en selfs Leopold Scholtz, die seun van G.D. Scholtz wat eens ‘n leidende rol in die Afrikanerbeweging van die twintigste eeu gespeel het, kom mens die idee teë dat mestizaje of métissage of – om dit by sy minder neutrale Afrikaanse naam te noem – “verbastering” vir ons ‘n bestaansvoorwaarde geword het. Met ander woorde, jy mag in Suid-Afrika as “verowerde” goedgunstiglik aanbly solank jy instem “om te meng”. In dié opsig hou ek van die Sweedse term wat algemeen vir “multikulturalisme” gebruik word: mångkultur oftewel “mengkultuur”. Mengkultuur het, nie net in Suid-Afrika nie, maar oral waar Anglo-Amerikaanse invloed sterk is, de rigueur geraak.

Om te sê dat Afrikaans as taal baie naby aan Nederlands staan – trouens, 95% van Afrikaans se woordeskat ís Nederlands! – het byna taboe geword. Taalkundiges van Potchefstroom tot Stellenbosch wedywer met mekaar om ons te oortuig dat Afrikaans eintlik ‘n KhoiSan-taal is. Op ‘n sekere vlak word die Europese en Wes-Germaanse oorsprong van Afrikaans ontken. Voeg daarby die projek om Afrikaans te herstandaardiseer tot Mengels of ‘n “mengtaal”, half Engels, half Afrikaans, en ons kan sien dat dit hier gaan om nie net die hele Afrikaanse beweging van die afgelope anderhalf eeu ongedaan te maak nie, maar ook om die laaste oorblyfselfs van ons Europese identiteit te vernietig. Die invloedryke Britse minister van kolonies, Joseph Chamberlain, het tydens die Tweede Vryheidsoorlog gesê dat hy “die laaste oorblyfselfs van Afrikanerisme in Suid-Afrika wil uitwis”. Hy kon net sowel vandag geleef het, want presies dieselfde beleid geld nog steeds!

Ons sien dus dat die angsvallige pogings om Afrikaans as ‘n “kreoolse taal” voor te stel, Standaardafrikaans af te takel en ‘n nuwe “Mengels” tot stand te bring (dié term is ontleen aan die Kaapse digter Loît Sols), uit die ongewenstheid van Afrikaans se Europese afkoms spruit. Indien Afrikaans ‘n koloniale taal soos Engels, Frans of Portugees was, sou dit vir almal in Suid-Afrika aanvaarbaar gewees het. Die oersonde wat Afrikaners gepleeg het, was egter om hulself as ‘n Westerse-volk-in-Afrika te sien en om ‘n nasionale kultuur na die vastelandse, “nasionalistiese” model na te streef. Kyk na dié beroemde YouTube-video waarin die Amerikaanse-Joodse akademikus, Barbara Lerner Spectre, voorspel dat Swede en die res van Europa ‘n “groot transformasie” na die mengkultuur gaan deurmaak, ‘n transformasie waarin Jode ‘n “leidende rol” gaan speel.

Die Afrikaner staan vandag in die beskuldigdebank, maar saam met ons staan ook die Hongare, die Franse, die Swede, die Dene, die Nederlanders, die Duitsers, die Italianers, die Vlaminge, kortom, elke selfstandige volk wat nog nie deel van die groot Anglo-Amerikaanse mengkultuur geword het nie. Amerika, die mezisto-imperium, bedreig ons almal, selfs die meer behoudende Amerikaner wat sigself aan Europa verwant voel. Die “waansin van ons tyd” is dat die magtige Amerikaanse staat deesdae sy eie burgers – afstammelinge van die Stigters of “Founding Fathers” – as sy vyand beskou, net soos wat die linkse “Afrikaanse” elite in ons land vandag die Afrikaner as ‘n indringer en “ongewenste” beskou.

Onlangs is daar gepraat van “Kaaps” wat groter erkenning moet kry. Daar word selfs daarop aangedring dat “Kaapse” woorde, wat vermoedelik oorwegend ook in die Engelse woordeboek voorkom, in Afrikaanse woordeboeke opgeneem moet word. Asof een vyand in die vorm van Engels en die Engelse staat van Suid-Afrika nie genoeg was nie, het Standaardafrikaans nou ‘n nuwe bygekry: Kaaps en die kreoolse beweging.

Hoe meer dinge verander, hoe meer bly hulle dieselfde. Anders as in 1875, is daar miskien nie meer “Afrikaners met Engelse harte, Hollandse harte en Afrikaanse harte” nie, maar steeds ‘n verdeling tussen verengelste Afrikaners, die kreole en kreoolsgesindes wat Standaardafrikaans wil afbreek, enersyds, en “ware Afrikaners” of Eurokaners andersyds wat ons taal en tradisie byna vanselfsprekend as deel van die groter Europese of Westerse kultuur sien.

Feitlik alle instellings in Suid-Afrika word óf deur Engelgesindes óf deur kreoolsgesindes beset. Die staat, universiteite en hoofstroommedia is reeds van byna alle Afrikaners gesuiwer. Die geledere van “ware Afrikaners” het reeds gekrimp tot enkele honderdduisende, moontlik nie veel meer as Yslanders nie. En tog verteenwoordig hierdie klein groepie alles wat goed en mooi en eg Afrikaans is. Ons praat of skryf nie Mengels nie. Ons is “goeie Europeërs” in die sin dat ons graag deelneem aan klassieke musiek of moderne kunsmusiek, letterkunde, argitektuur, skilderkuns en daardie kritiese gees wat Europa al eeue lank teen elke dogma laat opstaan, ook die eietydse dogma van die mengkultuur. Ons mag geheel en al gemarginaliseer wees in hierdie heropvoering van die Sowjetunie met sy ideologiese voorskrifte en politieke korrektheid, maar vanuit ons huise en studeerkamers en op die internet kan ons steeds die vlam van kritiese denke en verset lewendig hou.

Teenoor “die romantiek van die baster” wat Breyten Breytenbach of sy Kubaanse eweknie Nicolás Guillén verwoord het, staan die grootse tradisie van die Europese Afrikaner of Eurokaner in dié land wat deelagtig in die prestasies van Noord-Europa is. My vrou wys my nou die dag op die ironie van “kombuistaal”, die “kombuis” synde die kajuit op ‘n skip waar voedsel voorberei is. Omdat ons voorouers vanaf Nederland en België se riviere en kanale, maar ook die Oossee tussen Duitsland en die Skandinawiese lande afkomstig was, is Afrikaans tot vandag toe deurdrenk van skeeps- en seeterme – al was Potgieter so desperaat om van die see en van Engelse af weg te kom. Die ossewaens met hul wit seile was die “skepies” waarmee ons die binneland van Afrika binnegevaar het. Inderdaad spreek die “kombuis” van ons pioniersgees en wil om die wêreld te verken. Insgelyks staan dit in die teken van ons beskawing, want tot vandag toe is die kombuis ons trots, daardie vertrek waar die Afrikanervrou met elke Franse sjef kan wedywer as dit by verfynde disse kom.

Daarom ook leef die gees van die Oossee en die kanale in ons voort. Daar is twee woorde wat elke Sweed aanmekaar gebruik: “Presis” (presies) en “trevlig” (voortreflik). Trouens, ‘n Switser wys my ‘n rukkie terug daarop dat daar net twee volkere op aarde is wat so aanmekaar “presies” sê en dis Swede en Afrikaners. Ook die uitspraak is feitlik presies(!) dieselfde. Dis ‘n gewoonte wat ons beslis nie van die KhoiSan oorgeneem het nie. Waarskynlik het dit in Sweeds posgevat omdat almal in die Oosseegebied van 1300 tot 1600 ‘n gemeenskaplike handelstaal of lingua franca gepraat het wat baie naby aan teenswoordige Afrikaans was.

Nou weet u reeds dat Sweeds, ook om ander redes, insgelyks ‘n “kombuistaal” is… Seker dié dat die Nobelprys in Stockholm, die stad wat op veertien eilande gebou is, en met water wat ‘n derde van die stad se oppervlak beslaan, uitgeloof word.

Die keuse wat deur die huidige bestel aan ons opgedring word, is egter helder: dié tussen Eurokaner en kreool.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.