Leon Lemmer: Het Dawie de Villiers polities tot inkeer gekom?

Dawie de Villiers

Weens hulle leidende betrokkenheid kan en behoort FW de Klerk, Roelf Meyer, Leon Wessels en Pik Botha verantwoordelikheid vir die eerlose politieke magsoorgawe van 1994 te aanvaar. Sedertdien word hulle optrede egter gekenmerk deur hulle halsstarrige pogings tot die absolute regverdiging van hulle laakbare gedrag. ‘n Mens sou verwag dat hoe duideliker die katastofiese gevolge van sowel hulle dade as hulle versuim blyk, des te meer sou hulle geneig wees tot verootmoediging en erkenning van hulle rampspoedige aandadigheid. Die teenoorgestelde is eerder waar. Hulle soek erkenning en verering en gunstige publisiteit; uiteraard nie soseer van die blankes wat deur hulle ernstig benadeel is nie, maar van “die wêreld” en veral van die swartes wat buitensporig bevoordeel is. Wat hulle bereik het is van so ‘n aard dat hulle sedert hulle uittrede uit die politiek eerder uit die openbare oog moes verdwyn het deur alle vorme van aandag te vermy.

Dawie de Villiers (gebore in 1940) is een van die hoofargitekte van die nuwe Suid-Afrika. “Ek [het] ‘n sentrale rol gespeel in die oorgang” (Kindle 2863). Anders as sy vier bogenoemde oudkollegas het hy nie (in dieselfde mate) publisiteit bly soek nie. Dit het die vraag laat ontstaan of hy vanweë nawete en herbesinning moontlik tot politieke inkeer gekom het en deesdae dalk besef dat hulle drooggemaak het. Sy outobiografie is aan die begin van Maart gepubliseer: My lewensreis: Springbok, politikus, diplomaat (Kaapstad: Zebra Press, 2018, 296 p, R300; Amazon Kindle $20,52). Die publisering van ‘n outobiografie is vir die outeur ‘n riskante onderneming omdat dit in bv ‘n (pretensieuse) hagiografie kan ontaard. Hiervan is hierdie boek nie vry te pleit nie. Ek gaan my aandag egter tot politieke sake beperk.

Die eerste indrukke wat die boek wek, is dié van verligtheid en polities byderwetse berusting in ons lot. Op die voorkant word Nelson Mandela soos volg oor De Villiers aangehaal: “‘n Hoogs bekwame en ervare Suid-Afrikaner wat ‘n uitstekende bydrae tot harmonie in ons nasie gelewer het.” Soos Mandela en De Klerk kon De Villiers nie sy outobiografie op sy eie skryf nie. Hy het die hulp van Chris Schoeman as mede-outeur nodig gehad. Sowel Willie Esterhuyse as Leon Wessels het ‘n voorwoord geskryf. Onmiddellik weet die leser dat hy hom in die vaarwater van oorverligtheid bevind. Esterhuyse gebruik eers in die tweede paragraaf sy kenmerkende uitroepteken, gevolg deur vier ander. In sy bedankings verwys De Villiers na sy “veelsydige lewe” en “my ou maat Leon Wessels” (Kindle 138). Wessels beaam De Villiers se veelsydigheid en voeg “ruim gees” by (228). “Die hervormingsmantel het altyd gemaklik oor Dawie se skouers gehang” (211).

De Villiers is in Burgersdorp gebore. “Die dorp het destyds … ‘n belangrike rol gespeel in die stryd om die erkenning van Afrikaans, soos die Taalmonument op Burgerplein mense steeds vandag herinner” (260). Dit is ‘n misleidende formulering omdat daardie monument die Nederlandse taal gedenk. Nêrens in die boek wek De Villiers die indruk dat hy sterk oor Afrikaans voel of erken hy dat die huidige grondwetlike bedeling Afrikaans benadeel nie. Hy het in Afrikaans skoolgegaan en die Universiteit Stellenbosch (US) was Afrikaans toe hy daar studeer het. Later noem hy dat sy Engels nog gebrekkig was toe hy ambassadeur in Londen geword het: “My Engels was nie goed nie” (1807).

Sy nooienstoespraak in die parlement in 1973 is eentalig Afrikaans (3695) maar sy openingsrede by Kodesa in 1991 is eentalig Engels (3772) omdat De Klerk se Nasionale Party (NP) ingestem het dat die verrigtinge uitsluitlik in Engels sal wees. De Villiers se afskeidsrede in die parlement in 1997 is in sowel Afrikaans as Engels (3869). Hy het toe Afrikaans met die vorige bewindhebbers gepraat en Engels met die nuwe bewindhebbers. Hierdie drie toesprake en die taaltoestand waarin openbare skole en bv die US verval het, gee ‘n aanduiding van hoe Afrikaans agteruit geboer het weens die ooreenkomste wat tydens die grondwetlike onderhandelinge aangegaan is.

Die NP het soos volg met die ANC ooreengekom: “Die finale grondwet moes in pas wees met die beginsels wat in die tussentydse grondwet vervat is” (2569). Dit is nie gestand gedoen nie. De Villiers erken dat die NP die finale grondwet “uiteindelik teësinnig aanvaar” het (2574). Soos die gebruik in 1990/94 geword het, het die NP dus weer aan die ANC se eise toegegee. Die tussentydse of oorgangsgrondwet (1993) bepaal dat die status van Afrikaans nie ingekort mag word nie. Die ANC het die parlementêre meerderheid wat hy in die 1994-verkiesing behaal het, misbruik sodat die 1996-grondwet eerder bepaal dat die status van “die inheemse tale van ons mense” verhoog word (JC Steyn, Ons gaan ‘n taal maak, Centurion: Kraal Uitgewers, 2014, p 525-527). “Ons mense” en “inheemse tale” word sedertdien sodanig deur die ANC vertolk dat blankes en Afrikaans uitgesluit word en Engels in die praktyk eintlik die enigste amptelike taal geword het.

Tydens die Lancaster House-beraad (1979) het die Britse regering gesorg dat pleks van ‘n blanke bewind in Rhodesië ‘n swart bewind in 1980 in Zimbabwe aan die bewind gekom het. “Lancaster House het my oortuig dat ons uiteindelik dieselfde pad sal moet loop” (1095). Dit is heel moontlik met nawete geskryf, maar boesem by blankes sekerlik nie vertroue in in hierdie latere grondwetonderhandelaar nie. “Ek het my ook voorgeneem om voortaan uitgesproke en konsekwent die noodsaaklikheid van politieke veranderinge te bevorder” (1100), veranderinge wat geblyk het nie (altyd) verbeteringe te wees nie.

“John Vorster het geglo dat Suid-Afrika die VSA se sterkste bondgenoot in Afrika moet wees en daar het ‘n goeie [eerder dwase] verstandhouding tussen hom en veral die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Henry Kissinger, ontwikkel. Vorster … het verhoudinge vergemaklik deur nie die bevryding van die laaste kolonies soos Mosambiek en Angola gedurende die 1970’s teen te staan nie en selfs ‘n bietjie [‘n erge eufemisme] druk op Rhodesië geplaas om wit minderheidsregering te laat vaar” (1470). Robert Mugabe het in 1980 aan die bewind gekom en aanvanklik “versoening met die wit ‘onderdrukkers’ gepredik” (1714).

In 1972 het De Villiers die politiek as NP-parlementslid vir Johannesburg-Wes betree. Hy was toe ‘n dosent aan die Randse Afrikaanse Universiteit. Die rektor, Gerrit Viljoen, het aan hom gesê: “Ons politiek het jong, verligte mense soos jy nodig. Ons het vernuwing nodig … nou is dit jou groot geleentheid om ‘n bydrae tot die Suid-Afrikaanse toekoms te maak” (1235). De Villiers erken: “My [verligte] sienings was voortydig” (1241) – moontlik as ‘n kompliment aan homself bedoel. “My siening was dat die Afrikaner ‘n sterk morele gewete het, maar dat dit aan die slaap geraak het” (1247). “Die morele gewete moes verder ontwaak; hy moes hom losmaak van hierdie Lasarus-doeke wat hom gebind het … Die skille het van jou oë geval … Namate ons mekaar leer ken het deur onderhandelinge, het ons ontdek hóé aan die slaap ons was” (1253). ‘n Alternatiewe siening is dat die NP-onderhandelaars tydens daardie onderhandelinge vas aan die slaap was en hulle by baie geleenthede met ‘n slap riem laat vang het. De Villiers is een van diegene wat verskoning vir apartheid gevra het: “At the plenary meeting of Codesa at Kempton Park, I used the opportunity to apologise on behalf of the National Party for the pain and sorrow caused to so many of our people” (3892). De Villiers het dit gedoen terwyl hy geweet het dat die meeste van sy kollegas in die kabinet en die oorgrote meerderheid NP-parlementslede nie met sy verskoningvraery saamstem nie.

“In die parlement het ek my van die begin geskaar by diegene wat Willem de Klerk (FW de Klerk se broer) later as ‘verligtes’ teenoor die ‘verkramptes’ beskryf het. Dié verdeling het soos ‘n verskuiwingslyn deur die party geloop” (1259). Willem het met jy pa, Jan, “baie keer vasgesit … oor sy verligte uitkyk” (1293). “Nadat hy [PW Botha] die Wet op Instromingsbeheer en die Wet op Gemengde Huwelike geskrap het en erken het dat Suid-Afrika een onverdeelde land met een burgerskap is, was apartheid morsdood” (1265). Hierna volg FW de Klerk se rampspoedige toespraak op 2 Februarie 1990, gevolg deur Kodesa. “Saam met Roelf Meyer en Leon Wessels was ek as leier van die NP-afvaardiging deurlopend by die veelparty-onderhandelinge in Kemptonpark betrokke” (1270). Hou in gedagte dat De Klerk en De Villiers Meyer en Wessels se seniors in die politiek was en al vier medeverantwoordelikheid vir hulle vergrype moet aanvaar. Die aanvaarding van die 1996-grondwet “was vir my persoonlik die hoogtepunt van my politieke loopbaan” (1270).

Toe De Klerk en De Villiers in 1973 hulle plekke as nuwe parlementslede ingeneem het, is in Rapport geskryf dat albei “‘n nuwe, verligte denke” verteenwoordig (1311). Die raad aan hulle was: “Moet nooit idees ondergeskik stel aan politieke gedienstigheid nie” (1316). Daarmee is vernuwing binne die NP bepleit; nie die ANC-gedienstigheid wat hulle latere politieke gedrag gekenmerk het nie. In 1974 het De Villiers “‘n pleidooi gelewer vir merietespanne” (1346). Die huidige resultaat hiervan is nie-meriete sportspanne gekies ingevolge raskwotas. Polities byderwets herhaal De Villiers deesdae nie sy pleidooi vir merietespanne nie. Teen die einde van 1973 voer onder andere De Klerk en De Villiers in Skotland samesprekings oor die afwenteling van politieke gesag van die sentrale regering na laer vlakke (1397), bv na die provinsiale en plaaslike vlak. Hiervan het bitter min tereg gekom omdat die ANC behep is met ‘n sterk sentrale regering, soos in kommunistiese lande. Daar was al sprake dat die ANC die provinsiale regerings wil afskaf omdat hy nie politieke beheer oor hulle almal het nie.

In 1976 het De Villiers en ander parlementslede Duitsland besoek en kennis met daardie federale regeringstelsel gemaak (1417). Aan die begin van die grondwetlike onderhandelinge was die NP ten gunste van federalisme maar die ANC was heftig daarteen gekant. Dit is een van baie opsigte waarin die ANC sy sin gekry het. In 1977 het De Villiers in die parlement gesê: “We have got to build a broad sense of patriotism that transcends colour” (1446). Hy voeg toe by: “Suid-Afrikaners moet bereid wees om baie prys te gee om die kosbaarste te behou. Suid-Afrika is spreekwoordelik weer besig met ‘n Groot Trek na ‘n nuwe toekoms en ons kan nie bekostig om onnodige bagasie soos uitgediende gebruike saam te neem nie. Wat ons nodig het vir oorlewing, is breë patriotisme wat oor die kleurgrense strek”(1446). Maar watter kosbaarhede moet behou word en wat is onnodige bagasie? Eiendomsreg? Afrikaans? Wet en orde? Doeltreffende landsbestuur? Geen rassediskriminasie? Nie-rommelstatus?

“Ek het van politieke kindsbeen af vanweë ‘n diepe sin vir geregtigheid ‘n ongemak gevoel met aspekte van die NP-beleid wat teen mense gediskrimineer het, tot hul nadeel” (2213). Hoogs eensydig skryf hy selfs van “hoe aaklig ons verlede was” (2828). Oor sy ambassadeurskap in Brittanje skryf De Villiers: “Die apartheidsbeleid in Suid-Afrika het dit moeilik gemaak om ‘n positiewe beeld van die land te bevorder” (1554). “Tydens Leon Wessels se besoek [aan Londen] het ek en hy baie oor die politiek gesels. Ek het vir hom gesê magsdeling is soos dood in die familie. Almal weet daarvan, maar niemand praat daaroor nie; maar dat dit onvermydelik is en dat Suid-Afrikaanse politici hulle maar daarop moet voorberei” (1668). Roelf Meyer het De Villiers as parlementslid vir Johannesburg-Wes opgevolg. “Dit was die begin van groot dinge vir hom” (1679).

PW Botha het hierna vir De Villiers as ‘n minister aangestel. Die De Villierse was al so lief vir Londen en die Britte dat:”Niemand wou toe terugkeer Suid-Afrika toe nie” (1760). Maar na minder as twee jaar moes hulle dit doen. De Villiers se twee jongste kinders is toe in ‘n Engelse laerskool in Pretoria geplaas (1814). As die De Villiers-egpaar egte Afrikaners was, sou hulle gretig van die geleentheid gebruik gemaak het om hulle kinders Afrikaanse skole te laat bywoon. Wat opval, is dat De Villiers se kinders en kleinkinders in groot mate verengels het. “In my Londen-dae het ek nog probeer om die regering se beleidsrigting te probeer verstaan en verdedig, maar die buitelandse blootstelling was ‘n invloed op my ontwikkeling en sekerlik ook my politieke denke” (1807).

De Villiers het die minister van handel en nywerheid en die parlementslid vir Piketberg geword. “My siening was dat entrepreneurstalent in die informele sektor gekoester moes word en nie vervolg word nie en dat niemand op grond van ras of kleur beperk moes word in sy ekonomiese deelname nie. Dit sou lei tot die herroeping van alle diskriminende wetgewing rakende Indiër-, bruin en swart sakelui om ‘n situasie te skep waar alle sakelui gelykwaardig was” (1882). Maar in die nuwe Suid-Afrika diskrimineer die ANC-regering deur sover moontlik net met nie-wit ondernemings sake te doen sodat daar in hierdie opsig van die (ekonomiese) gelykwaardigheid vir blankes geen sprake is nie.

Naas homself lys De Villiers die (oor)verligte Nattes as onder andere Piet Koornhof, Barend du Plessis, Pik Botha, Leon Wessels, Stoffel van der Merwe en Sam de Beer (1459, 1923). Roelf Meyer het later bygekom. FW de Klerk was aanvanklik nie een van hulle nie. Hy het moontlik eers opportunisties gekyk in watter rigting die wind waai. De Villiers skryf egter: “FW was nooit werklik in sy hart ‘n verkrampte nie” (2096). De Villiers noem hom “intelligent” en “pragmaties” (2096). Ook: “Hy was briljant. Hy was ‘n man wat wou versoen, hy wou almal saamvat” (2102) – oor die Rubicon en die afgrond met sy “kwantumsprong”? (2090). Van De Klerk se briljantheid is daar min tekens in die resultate van die onderhandelinge te bespeur. De Villiers skryf: “Vir die ‘nuwe Nattes’ was ‘n toekomstige meerderheidsregering eintlik onvermydelik” (1923). Maar dan moet dit voor die 1992-referendum uitdruklik aan die blanke kiesers gestel gewees het, dus dat dit gaan om oorgawe aan swart mag en nie om politieke magsdeling nie. Maar De Villiers klou vas aan die mite dat Kodesa oor magsdeling sou besin (2251).

“Met die steun van die verligtes het PW Botha dramatiese hervormings deurgevoer wat apartheid verder laat verkrummel en die politieke rigting verander het” (1929). “In Junie 1987 het ek tydens die tweede lesingsdebat oor die begroting in die parlement dit duidelik gestel dat die Nasionale Party aanvaar het dat die einde aangebreek het vir wit oorheersing” (1985). “Die NP se beleid was gefundeer in konsensus en die idee van magsdeling vir alle groepe, met groepsregte wat teen dominering beskerm word, was die enigste praktiese oplossing” (1990). Reeds in 1982 het PW Botha “‘n interpretasie van NP-beleid as ‘gesonde magsdeling’ goedgekeur” (2069). Van hierdie “enigste oplossing” het uiteindelik niks tereg gekom nie; nie van magsdeling nie en nog minder van die beoogde “gesonde” aard daarvan. Nelson Mandela wou, veral wat die blankes betref, niks van groepsregte weet nie en daar is deur die NP-onderhandelaars toegee dat net individuele regte erken word. Weens ongekwalifiseerde, algemene, volwassene-stemreg het slegs die swartes, vanweë hulle getalsoorwig, sedert 1994 die reg om alle ander groepe te oorheers. Dit is waarom Cyril Ramaphosa aan die blankes kan sê: Die ANC-regering gaan julle eiendom steel, sonder enige vergoeding, of julle nou daarvan hou of nie. In hierdie sin is daar geen magsdeling nie en weens die bevolkingsaanwas kan/gaan die swart oorheersing deurlopend in intensiteit toeneem.

Die Konserwatiewe Party “het mense bly dryf met die spook dat die Russe gaan oorvat en dat hulle maar net besig was om die ANC as ‘n front te gebruik” (2002). Hierdie konserwatiewes was nie ver verkeerd nie. Die “spook” in die sin van die rooi gevaar en die swart gevaar het in 1994 in die gestalte van die ANC, wat wesenlik kommunisties is, die politieke beheer in Suid-Afrika oorgeneem. Radikale ekonomiese transformasie en die ideaal van die nasionalisering van private eiendom ingevolge die Vryheidshandves van 1955 word al hoe meer ‘n (dreigende) werklikheid. Aanvanklik was De Klerk teen die deelname van kommuniste aan die onderhandelinge gekant, maar die ANC het aangedring op die insluiting van Joe Slovo en De Klerk het spoedig toegegee (2153).

“Ons [die NP] moes die inisiatief behou en die beste moontlike bedeling onderhandel” (2159). Daar word nie genoem vir wie hierdie bedeling die beste moet wees nie. Moontlik geld dit vir die swartes, maar sekerlik nie vir die land en vir die ander ras- of etniese groepe nie; sekerlik veral nie vir die blankes nie. “Aan die einde van sy toespraak [op 2.02.1990] het FW verwys na die regering se oorhoofse doelwitte wat vir alle redelike Suid-Afrikaners aanvaarbaar behoort te wees, onder meer [1] ‘n nuwe demokratiese grondwet, [2] algemene stemreg, [3] beskerming van minderhede sowel as van individuele regte, [4] vryheid van geloof en [5] ‘n gesonde ekonomie gegrond op bewese ekonomiese beginsels” (2164).

[1] Daar is uiteindelik op ‘n uiterste vorm van demokrasie ooreengekom waarin (soos in kommunistiese lande) eerder vir ‘n politieke party as vir kandidate in kiesafdelings gestem word. Die politieke partye besluit agterna op hulle suksesvolle kandidate. Anders as in bv Amerika kan kiesers nie eens stem vir wie hulle as staatshoof wil hê nie. Die meerderheidsparty besluit wie die staatshoof moet wees. Daardie mens is dus eerder die hoof van daardie party as die hoof van die land (en van al sy kiesers), gevolglik staan dit die staatshoof vry om bv die blankes aanstoot te gee deur valslik te beweer dat al die land se probleme in 1652 begin het.

[2] Algemene stemreg is ongewens in ‘n land waarin daar groot ongeletterdheid en oningeligtheid is en dus die wesenlike gevare van grootskaalse misleiding en intimidasie bestaan. Selfs misdadigers in tronke kan stem – iets wat bv in verskeie Amerikaanse state nie toegelaat word nie.

[3] Van die beskerming van minderheidsregte het, anders as in bv Amerika, eintlik niks tereg gekom nie. Die “wigte en teenwigte” (2353, 2479, 2507) wat hieroor sou waak, het geblyk fiktief te wees. Daar is gedienstig gebuig voor Nelson Mandela se vrees vir blanke minderheidsregte. Blankes mag bv nie enige vetoreg hê nie, want dit sou op die erkenning van hulle meerderwaardigheid neerkom.

[4] Vryheid van geloof is daar seker wel, maar vir die blankes sekerlik nie vryheid van uitdrukking nie. Swartes kan van blankes sê net wat hulle wil, maar blankes word nie eens toegelaat om geykte woorde met besondere seggingskrag te gebruik nie. Dan is versoening skielik belangrik, maar by owerheidsdiefstal van blankes se eiendom word versoening as ‘n geldige oorweging buite rekening gelaat.

[5] Rommelstatus dui nie op ‘n gesonde ekonomie nie. Ook nie sosialisme nie, wat al hoe duideliker onverdunde kommunisme gebaseer op nasionalisering word. Suid-Afrika as welsynstaat moet eerder in ‘n arbeidstaat omskep word; dus van “welfare” na “workfare” vorder. Let op hoe De Villiers die skuld vir die droogmakery weg van die NP-onderhandelaars probeer skuif: “Die sakewêreld … sou druk uitoefen op die ANC om nie die pad van nasionalisering te stap nie, maar ‘n markgeoriënteerde ekonomie te aanvaar” (2442).

“Ooreenkomstig die DF Malan Minuut het die ANC ingestem dat daar ‘n onmiddellike beëindiging sou wees van aanvalle by wyse van vuurwapens, profstowwe, ensovoorts, asook van die infiltrering van manne [terroriste] en van die militêre opleiding van ANC-lede [terroriste] in Suid-Afrika” (2235). Die ANC gee voor om ‘n politieke party te wees. Dan het sy lede sekerlik nie militêre opleiding nodig nie. Dit val op dat De Villiers nooit die term “terroris” in die konteks van die ANC gebruik nie, terwyl daardie gewelddadige instansie hom met oorgawe en doelbewus oor baie jare aan terreurdade skuldig gemaak het. De Villiers ken die woord “terroris”. Hy gebruik dit in die konteks van die 1972-aanval op Israeli-atlete by die Olimpiese Spele (1280).

De Villiers beweer die ANC het “die gewapende stryd afgesweer” (2218). Die ANC het in werklikheid valslik beweer dat hy geweld opgeskort het op voorwaarde dat die onderhandeling volgens sy wense verloop. ANC-kornuite wat nie vertroue werd is nie, is deur die NP-onderhandelaars vertrou. Dit het nie vir die ANC om hoë moraliteit gegaan soos hy homself graag voordoen nie. Al wat vir die ANC van belang was, was om ten alle koste die politieke mag te bekom, selfs al moet alles wat sedert 1652 opgebou is in die proses vernietig word. Geharde ANC-terroriste is deur De Klerk uit die gevangenis vrygelaat. Weens verslapte grensbeheer is toegelaat dat terroriste met wapens op groot skaal die land binnestroom. Nuwe terroriste is vryelik in bv die Transkei opgelei. Daardie neste is nie uitgewis nie omdat die “onafhanklikheid” van die Transkei erken is, net om daardie onafhanklikheid kort daarna te ontken met die oog op die einde van die “bevrydingstryd”.

Op ‘n uiters naïewe manier het die NP-onderhandelaars die ANC vertrou. Hoekom is so suksesvol van magsdeling na magsoorgawe gevorder? “Hoofsaaklik omdat ons [veral Roelf Meyer, Leon Wessels, Dawie de Villiers] en die ANC se hoofonderhandelaars [veral Cyril Ramaphosa, Joe Slovo, Mac Maharaj] met verloop van tyd ‘n onderlinge vertroue opgebou het en vrede nagestreef het” (2279). Volgens De Villiers was Meyer “ideaal vir hierdie soort situasie verpak” (2318). “Omdat hy [Meyer] graag kompomieë gesoek het, het van sy politieke kollegas hom soms as lou beskou en selfs van ruggraatloosheid beskuldig” (2324). Sedert 1994 word ons verplig om daagliks met die onverkwiklike gevolge van hierdie kompromieë saam te leef.

“Toe daar met die onderhandelinge begin is, het die konserwatiewe elemente in die regering bly vasklou aan die beginsels waaroor voorheen ooreengekom is en hulle het ooreenkomste wat bereik is as ‘n afwyking van magsdeling beskou. Iemand soos Hernus Kriel het veral baie stof hieroor opgeskop en na die ‘oorgawe’ van die onderhandelaars verwys. Van die verligtes het na die konserwatiewe kant oorgeswaai, sodat daar slegs vier ‘ware’ verligtes in die kabinet oorgebly het: ek, Fanie Schoeman, Leon Wessels en Roelf Meyer” (2386). Daar is natuurlik ook nog FW de Klerk en Pik Botha as verligtes. Wat hier baie duidelik gesê word, is dat die “konserwatiewe elemente” hulle by die mandaat gehou het wat die kiesers aan die NP gegee het, naamlik om te onderhandel met die oog op magsdeling. Volgens De Klerk se plegtige belofte voor die 1992-referendum sou die finale ooreenkoms in ‘n opvolgreferendum aan die blanke kiesers vir voor- of afkeuring voorgelê word. Verraderlik het hiervan niks tereg gekom nie. Wat ook duidelik uit die laaste aanhaling blyk, is dat die verligtes hulle aangematig het om mandaatloos van magsdeling na magsoorgawe te vorder. Die hoofverantwoordelik vir hierdie hemelskreiende immoraliteit berus by FW de Klerk, Roelf Meyer, Leon Wessels en Dawie de Villiers. Die bestaan van die huidige bedenklike politieke opset is hoofsaaklik aan hierdie vier te wyte. Pik Botha het hulle gesteun maar was nie deel van die onderhandelinge nie. De Villiers hou egter vol dat ons magsdeling het. Die 1992-referendum “sou FW ‘n mandaat gee om ‘n proses te begin wat sou uitloop op magsdeling, ‘n oordrag van mag uit die bestaande [blanke] strukture na al die mense in die land” (2473).

“Omdat FW ons [die enkele NP-verligtes] gesteun het, is dit vir ons moontlik gemaak om groter invloed uit te oefen oor die rigting wat die onderhandelings moet inslaan [dus om af te wyk van die mandaat]. Roelf het geglo dat dit vernietigend is om vir oorblysels van magsbehoud te veg en het die NP-kabinet aangespoor om weg te beweeg van die gedagte van minderheidsregte na dié van ‘n meerderheidsregering. Dit sou onvermydelik lei tot ‘n dieper breuk tussen ons verligte onderhandelaars en die res. Daar was veral ses lede wat kwaai teenstand gebied het en na wie FW verwys het as die ‘ses anti’s’: Hernus Kriel, Tertius Delport, André Fourie, Danie Schutte, Rina Venter en Japie van Wyk” (2391).

Tertius Delport het die kern van die probleem geïdentifiseer en hom onderskei deurdat hy De Klerk wou donder. Toe dit blyk dat De Klerk se ooreengekome magsdeling neerkom op hoogstens vyf jaar (in werklikheid minder as twee jaar) van NP-minderheidsverteenwoordiging in die Mandela-kabinet het Delport “na FW se kantoor gestap en aan sy deur geklop. Toe hy oopmaak, het ek hom aan sy baadjielapelle gegryp en uitgeroep: ‘Wat het jy aangevang? Jy het die land weggegee. Jy het kinders laat onderhandel. Wat ons nou het, is nie magsdeling nie; dit is konvensionele meerderheidsregering. Ons het alle mag verloor'” (Hermann Giliomee, Die laaste Afrikanerleiers, Kaapstad: Tafelberg, 2012, p 424).

De Villiers skryf: “Daar was ‘n gevoel dat FW baie meer direk aan die onderhandelingsproses moes deelneem om self direk leiding te gee oor kwessies wat nie alleen deur die NP-koukus en die kiesers aan hom toevertrou is nie, maar waarmee hy ook besonder vertroud was” (2324). “Ek moet sê ek was baie lojaal teenoor FW en het hom altyd in sy afwesigheid probeer beskerm” (2591). “Sommige het … daarop gewys dat FW met die beroering in sy persoonlike lewe en sy liefdesverhouding met sy latere vrou, Elita Georgiadis, nie sy volle aandag aan landsake kon gee nie. Hy het haar vanaf 1989 geken en het tot met sy uittrede in 1997 met hierdie emosionele kwessies geworstel en dit sou naïef wees om te dink dat dit nie ‘n invloed gehad het op sy betrokkenheid en leiding nie” (2597). By hierdie lewensbelangrike onderhandelinge was De Klerk dus deeltyds en sydelings betrokke.

“Ek glo [soos De Klerk] die grootste sukses van die onderhandelinge vir ons verligtes was dat die oorgangsgrondwet ‘n moontlike bloedige revolusie voorkom het en ‘n vreedsame verkiesing tot gevolg gehad het” (2597). De Klerk, De Villiers, Pik Botha en Meyer is in 1994 as ministers in Nelson Mandela se kabinet aangestel. “Toe die party [NP] nie daarin kon slaag om magsdeling in die finale Grondwet neerslag te laat vind nie, het die NP hom in ‘n moeilike posisie en sonder legimiteit bevind. Die party se eer [!] was op die spel en op 9 Mei 1996 het ons besluit om die RNE [Regering van Nasionale Eenheid] op alle vlakke van die regering te verlaat. “Die situasie [was] so dat die ANC … in elk geval gedoen het wat hy wou” (2683). Die uiteinde was dus oorgawe aan swart mag.

“Die nuwe Grondwet is op Woensdag 8 Mei 1996 in die parlement aangeneem en in sy spreekbeurt het FW die redes aangekondig waarom die NP vir die wet gestem het. Hy het sterk bedenkinge uitgespreek oor ‘n aantal aspekte, soos die afwesigheid van magsdeling[!]” (2660). Hy het dus erken dat hy (klaaglik) misluk het in wat hy belowe het. Sedertdien het De Klerk blankes telkens aangemoedig om hulle op hierdie grondwet te beroep. Noudat owerheidsdiefstal van blanke eiendom beoog en wysigings aan die grondwet in die vooruitsig gestel word om blankes verder te benadeel, het De Klerk se aanbevelings opgeraak en behoort selfs hy te besef dat sy kwantumsprong ‘n volslae mislukking was en al hoe meer sodanig word.

Maar De Villiers bly klou aan strooihalms: “Daar [is] min wat ons anders kon gedoen het as ons dit weer sou moes doen” (2759). Maar let op die groot gaping tussen enersyds wat met die 1994-verkiesing en die 1996-grondwet bereik is en andersyds wat De Villiers in sy Kodesa-openingsrede in 1991 in die vooruitsig gestel het: “The National Party has … committed itself to voting rights for all, but with effective checks and balances which will prevent the abuse of power, which inevitably results in domination and oppression. A true and a sustainable democracy is based on majority rule, but in plural societies that rule is always conditional on the fair treatment of, and meaningful participation by, minorities” (3785). “In a country with diversities such as ours, the concentration of power in an all-powerful central government simply could not serve the best interests of our people” (3790). “We have committed ourselves to strive for a free and non-racial democracy without any form of domination. To that we are committed and from that we shall not deviate [!]” (3802). Dit is ‘n feit dat ons sedert 1994 met ‘n ANC-regering opgesaal sit wat doen net wat hy wil, bv poog om sover moontlik swartes te bevoordeel en blankes te benadeel. Van die volgende voorneme het niks tereg gekom nie omdat dit bloot daarop ingestel was om konserwatiewe blankes te sus: “The National Party will … endeavour to have the principle of self-determination for nations placed on the agenda of Codesa” (3851). De Klerk het ontpop as een van die grootste teenstanders van ‘n tuisland vir Afrikaners.

Op 30 Junie 1996 het die NP uit die RNE onttrek. De Klerk het terselfdertyd as adjunkpresident bedank. “Op daardie stadium het die ANC reeds ‘n bestuurstyl ontwikkel waarin min respek teenoor die parlement betoon word en selfs minder teenoor die opposisie” (2677). Dit lyk asof De Villiers steeds nie besef dat die ANC primêr in outoritêre politieke mag belangstel nie. Dit gaan vir die ANC glad nie om demokrasie in die sin dat al die inwoners van die land gedien moet word nie. Op die oomblik verkry die ANC meerderheidsregering via die stembus. Dit is vir die ANC bloot die huidige praktiese weg na outoritêre swart mag, dus sodat besluite van die ANC (geneem in Luthuli-huis en nie soseer in die parlement nie) kan geld. Maar De Villiers verkies om die wesenlike aard van die ANC mis te kyk en te dink dat ‘n goeie toekoms op Suid-Afrika wag. In 1997, by sy uittrede uit die politiek, het hy gesê: “Our future must never ever again allow racial prejudice to exist and develop and authoritarian rule to take hold of our country” (3904).

De Villiers probeer om die nuwe Suid-Afrika so gunstig moontlik voor te stel. “Die merkwaardige ding vir my is dat ons ‘n vreedsame [!] oorgang gehad het. Geen individu het sy eiendom verloor nie, besighede gaan voort om sake te doen, boere boer steeds en mense reis. Dinge gaan baie aan soos in die verlede” (2770). “Ons het ‘n Grondwet wat beter is as baie wat ek ken en ‘n Handves van Regte wat nie net swart regte nie, maar in besonder [!] ook wit regte wanneer dit kom by iets soos besittings. Nou, ná ‘n tydperk van heronderhandeling [?], is daar baie min in die nuwe Grondwet waaroor ons kan kla dat dit totaal verkeerd en onaanvaarbaar is. In sy geheel is dit ‘n baie goeie Grondwet” (2776).

“Wat diegene wat kritiseer vergeet, en veral aan die regse kant, is dat die ANC of die nuwe regering sekerlik dinge wil regstel wat baie jare lank verkeerd geloop het. Een van sy beleidsmaatreëls [wat in die Grondwet staan en sonder keerdatum is] is regstellende aksie, waarmee ons saamstem [dus daar kan maar teen blankes gediskrimineer word]. Al waarmee ons verskil, is die manier waarop dit toegepas word … In sy geheel glo ek dit was [? is] ‘n goeie proses” (2782). De Villiers is klaarblyklik onredbaar linksgesind. “My [liberale] beskouings … is versterk deur baie ondervindings, wat een van die redes was waarom ek soveel bevrediging kon vind in my betrokkenheid by die oorgang” (2863). Hy beskou homself dus steeds met trots as een van die NP-grondleggers of (soos die Amerikaners sou sê) “founding fathers” van die nuwe Suid-Afrika.

“Ons het nou ‘n nierassige demokrasie [wat op ‘n blatant rassistiese grondslag teen blankes diskrimineer] … Vir my was die energie wat ek gegee het aan transformasie en die opwinding wat dit gegenereer het, die drome wat ek gedroom het, die visie wat ek gehad het, nou alles volbring” (2869). “As ek terugkyk, was die oorgang na demokrasie die hoogtepunt … Ek het gevoel in my leeftyd het ek in die politiek die beste bereik waarvoor ek kon hoop” (2875).

Toe De Villiers na sy politieke loopbaan plus bykans agt jaar in die buiteland na Stellenbosch terugkeer om daar af te tree, is hy “grootliks verras met die kultuurskok wat ons hier getref het” (3405). Hy verskaf geen besonderhede nie, maar dit moet onder meer te make hê met die ewe verligte transformasiebedrywighede aan die Universiteit Stellenbosch en die verswarting, verengelsing en agteruitgang van die dorp. Het De Villiers polities tot inkeer gekom? Glad nie. Net so min of minder as De Klerk, Meyer en Wessels.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.