Fransi Phillips: Die tekens van die tyd

As ek terugdink aan die laaste jare voordat ons getref is deur televisie, rekenaars en die internet, wat ook die laaste jare voor die Soweto-onluste was, dink ek terug aan piekniekmandjies by die inryteater, simfonieorkeste in die Pretoriase stadsaal, glaskaste vol aandenkings wat my ouma nog ‘n paar jaar vroeër op bootreise om die wêreld versamel het, vergeelde foto’s van dr. Verwoerd, tikmasjiene, langspeelplate en porseleindiertjies wat mens kon versamel in koffieblikke.

Dit was min of meer die dae waarin ‘n jong Australiër, Julian Assange, die seun van ‘n aktivistiese enkelma wat voortdurend op vlug was voor ‘n lastige man, Australië van hoek tot kant deurkruis het met ‘n byekorf op sy skoot, saam met sy jonger boetie en dié se hoenderhaan. Om die bye binne te hou sou die jong Assange die korwe in koerantpapier toedraai, maar op ‘n dag het die bye wat moeg was van die kar se geskud hulle pad deur die koerante gebeur. Deur die vensters en deure wat oopgemaak is om die woedende swerm bye vry te laat, het die boetie se hoenderhaan ook ontsnap en die veld ingestorm met die bye agter hom aan.

‘n Jaar of tien later kompenseer ‘n steeds jong Assange vir die verlies aan sy byeboerdery deur ‘n rekenaar so groot soos ‘n yskas te bou, met netwerke wat kan herinner aan die byekorf waarvoor hy so lief was en wat, in kombinasie met die sosiale aktivisme wat hy met moedersmelk ingekry het,
dieselfde potensiaal vir rampspoed sou inhou as dié van ‘n woedende swerm bye. Sokrates sou met my saamstem dat die soeke na waarheid nie besonder populêr is nie.

Ek vermoed dat tydsgees beskryf kan word as dít wat ons geleidelik begin verstaan wanneer ons alle politieke, artistieke, kulturele en tegnologiese uitings van ‘n sekere tyd bymekaarbring en saam probeer interpreteer.
Hierdie kollektiewe menslike uitings noem ek vir die duur van hierdie skrywe “Die tekens van die tyd”.

In 2006 het ek die eerste keer gehoor van Wikileaks. Ek het toe nog by die Tsjeggiese Ambassade in Pretoria gewerk, waar ek onder andere elke liewe dag van my lewe vir die ambassadeur ‘n drukstuk gemaak het van ‘n geweeklaag wat die Palestynse staat na elke ambassade ter wêreld gestuur het om te kla oor wat Israel nou weer aan hulle gedoen het. Elke liewe oggend het ek die faks uitgedruk en dit stilswyend op die ambassadeur se tafel gaan sit. Elke liewe oggend het hy dit met een veeg opgefrommel en in die snippermandjie onder sy tafel ingevee. Elke liewe oggend het ek in die stilligheid gelag terwyl ek my oggendkoffie afsluk. Hy het nooit gesê ek kan maar ophou om die donderse ding uit te druk nie, en ek was te diskreet om te vra. Ek was selfs te diskreet om iemand daarvan te vertel.

Ek het gehou van my werk by daardie ambassade, veral van die dele waar ek filmfeeste moes organiseer vir ‘n Europese Unie van wie die onderskeie lidlande mekaar maklik sou vermoor oor iets so gering soos die spasies tussen letters op ‘n plakkaat. Daar was ‘n opvallende verskil tussen die films en ander kunsuitings van Oos-Europese lidlande wat pas aangesluit het, en dié van die Weste. Oos-Europa het ‘n hernieude trots getoon met die herontdekking van sy eie verlede en tradisies aan die einde van ‘n eeu van kommunisme wat hulle kulture tevergeefs probeer uitwis het. Die Tsjegge was trots op hulle ou en nuwe argitektuur, ou en nuwe ontwerp, ou en nuwe films, animasie, en grafiese kuns. Die toeëiening van ou tradisies
in die werk van ‘n grafiese kunstenaar soos Marina Richterova
het ‘n herlewing van ‘n ou kultuur ten doel gehad, terwyl toeëening in die Weste eerder ‘n soort hersirkulering sou wees van beelde waaraan die kultuur oorversadig geraak het, dermate dat kreatiwiteit as oorbodig beskou word.

In die Weste was daar vir solank as wat ek kan onthou toenemende tekens van ‘n selfsatheid en ‘n skaamte oor hulle wit velle. “Europe does not exist,” het die Franse kulturele attaché vir my gesê. “Then what are we doing here?” sou ek vir hom gevra het as ek nie so diskreet was nie. Toe die Franse egter beswaar aanteken omdat die Tsjegge nie ‘n film met Afrika as tema wou wys nie, het ek hom ewe diskreet daarop gewys dat dit eintlik Wes-Europa is wat ‘n koloniale verlede het.

Dit was aan die begin van die millennium. Die Oos-Europeërs het hulle nasionale trots probeer sluk in ooreenstemming met Europese Unie-standaarde, maar nie so diep dat hulle nie in die groot eetkamer vol antieke kaarte net langs my kantoor die sg. Visegrad-groep vir Suid-Afrika
kom stig het nie. Ek onthou mnr Konvalina het ghoelasj in bier gekook
in die kombuis, wat hy opgedien het in mandjies wat hy uit brood gebak het
en wat saam met die ghoelasj geëet moes word. Die lande wat saam geëet het voordat die ambassadepersoneel op die oorskiet getrakteer is, was die Tsjeggiese en Slovaakse Rebublieke, Pole en Hongarye: almal lande wat tans op Merkel se senuwees werk in hulle onwilligheid om hulle kultuur op te offer aan ‘n derde wêreld waaroor hulle met goeie rede nie vreeslik skuldig voel nie.

Die filmfeeste was die eerste oorsaak van ‘n sekere euroskeptisisme in my hart, wat verder versterk is deur ‘n boek wat ek in Afrikaans moes vertaal vir die destydse Tsjeggiese korrelkoppresident Vaclav Klaus wat die Europese projek uit ‘n ekonomiese oogpunt met die grond gelyk gevee het.

Dit was eers met die nuwe ambassadeur, wat besluit het dat kultuur so onbelangrik is dat hy my nodiger het om fone te antwoord, dat my diskresie my op ‘n dag verlaat het en my tong ‘n lewe van haar eie gekry het.
Sy ( my tong ) vra toe vir daardie ambassadeur of ek nie sommer ook sy agterent vir hom moet afvee by al die ander vervelige takies waarvoor hy my misbruik nie. Kort daarna is ek op ‘n vliegtuig Rusland toe.

Maar kom ons keer terug na Wikileaks. Ja, tot op daardie oomblik
toe my diskresie my in die steek gelaat het, het ek geglo Wikileaks,
die beweging wat gestig is deur bg. Julian Assange om by regerings se internetkommunikasiesisteme in te breek en hulle vuil geheime aan die wêreld uit te lek, was uit die bose. Regerings, het ek geglo, bestaan uit goeie mense soos die goeie ambassadeur wat voor die slegte ambassadeur my baas was, en wat geheimhouding nodig het om hulle goeie werk te kan doen. Ek het nooit gewonder hoekom goeie dinge in die geheim moet gebeur nie. Mens bly maar nog lank ‘n maagd na jou eerste seks.

Toe kom ek in Rusland, waar ek die wonder van politieke inkorrektheid ontdek . “Die Weste dink ons wil soos hulle wees,” vertel ‘n veertienjarige my. “Maar ons lag vir die Weste, want ons is vry.” En ek begin wonder
oor boelsjit. Oor almal wat deur die goeie Weste in goeie oorloë
moer toe gebom is om vry te word onder ‘n tirannie van goeie politieke korrektheid. Ek onthou die spinnerakke in Saddam Hoessein se hare
toe hy onder die vloerplanke uitgekrap is om gehang te word oor kernwapens wat tot nou toe nog nie opgespoor is nie. Ek onthou die bebloede lyk van Gaddafi, en Hillary Clinton wat lag: “We came, we saw, he died.” Ek sien ‘n onderhoud op die Russiese televisie van Obama
wat vir Poetin vertel dat die twee van hulle saam vir Sirië gaan binneval om Sirië van Poetin se vriend Assad te bevry en Poetin wat kortweg antwoord: Njet. Ek sien die arrogante konsternasie op Obama se gesig, by die gedagte dat iemand vir hom nee kan sê en boonop nog in so ‘n veragtelike taal soos Russies. En nee, dit kan nie propaganda wees nie, dit was ‘n direkte uitsending.

Kort ná hierdie insident is daar ‘n Westers-gesteunde staatsgreep
in die Oekraïene, en nog ‘n paar maande later begin Islamic state
babas aan flarde kap in Sirië. Alles natuurlik heeltemal toevallig,
en wat nie toevallig is nie, is Poetin se skuld.

Assange begin Wikileaks in 2006 en veroorsaak in 2010 ‘n opskudding
met die publikasie van Chelsea Manning se bekentenisse van invalle in Irak en Afghanistan waarvoor Manning in die tronk gegooi word.
Toevallig word Assange in daardie jaar van verkragting aangekla deur ‘n Sweedse meisie wat die wonder van “me too” ontdek het tydens gewone volwasse seks. Maande later erken sy dat sy eintlik net ontsteld was oor ‘n kondoom wat gebreek het. Dis nou maar van Assange: Hy sukkel blykbaar om dinge binne te hou .

Teen die tyd dat die wêreld uitvind hy is onskuldig, is hy egter reeds weer skuldig bevind omdat hy nie tereg gestaan het vir iets waaraan hy onskuldig was nie. Hy het eerder in die ambassade van Ecuador in Londen gaan wegkruip wetende dat die vals verkragtingsklag sou kon lei tot ‘n reeks uitlewerings en Westerse politieke boelsjit waarvoor hy uiteindelik in die ergste geval die doodstraf vir hoogverraad opgelê sou kon word. Dis hoekom hy nou al vir 6 jaar lank alleen in daardie ambassade sit, en swerms bye in die vorm van gekraakte inligting oor die aardbol uitstuur. Die meeste van hierdie inligting hou verband met Amerika se rojale bevrydingsoorloë waarin hulle mense van olieproduserende lande buiten Saudi-Arabië verlos van hulle eie geloof, kultuur, en tradisies. As mens iets moet sê van die kultuur van ons tyd, sal dit wees dat kultuur in ons tyd die nuwe fascisme geword het.

Die aanslag op kultuur word ook voortgesit in die Europese Unie, waar onderlinge kulturele verskille reeds toe ek nog by die ambassade gewerk het stelselmatig uitgewis is. Die uitwissing word nou verder geneem in die vorm van ‘n oorname deur die mense van lande wat die bevryding van kultuur in hulle eie lande so ondraaglik gevind het dat hulle na Europa moes vlug. Europese leiers soos Victor Orban in Hongarye en Matteo Salvini in Italië wat hulle eie kulture wil beskerm word as fasciste gebrandmerk.

In 2016 veroorsaak Assange nog ‘n storm, toe hy inligting publiseer oor Hillary Clinrton se aandeel in die oorlog in Libië en Sirië en die bewapening van Al-Kaida en die Islamitiese Staat, wat eintlik maar dieselfde is as die vroeëre Moedjahedien en die Taliban, maar elke keer van naam verander as die Amerikaanse ondersteuning van die terroristegroepe te ooglopend raak.

Die nuutste naam is Al Nusra in Sirië. Soos ons almal weet, word Poetin vir die uitlek van hierdie inligting ook verantwoordelik gehou, asof die probleem in die eerste plek by die bekendmaking van die misdade sou lê eerder as by die misdade self. Hoe Poetin verantwoordelik kan wees vir ‘n misdaad waarvoor Assange sit en wegvrot in die Ecuador-ammbassade en die kuberkraker Guccifer tronkstraf uitdien vir die feit dat hy ingebreek het by die private bediener wat Clinton wederregtelik vir staatsake gebruik het, sal net die Amerikaners weet.

Die Amerikaanse snobberkoningin Oprah Winfrey kan gesien word as een van die gesigte van die snotliberale tradisie van multikultiralisme. Daarteenoor staan die Russiese teenvoeter vir multikultiralisme: die filosoof Alexander Doegin. Doegin word in Europa beskryf as die brein agter Poetin.

Hoewel Poetin ‘n brein van sy eie het, is dit tog so dat Doegin gesien kan word as die beliggaming van die hedendaagse Russiese tydsgees, wat volstrek teenoor ‘n multikulturele tydsgees staan. Daar is niks universeels aan die mensheid nie, sê Doegin. Daar bestaan nie so iets soos een gedeelde menslikheid nie, en dan veral nie ‘n mensheid ondergeskik aan ‘n Westerse persepsie van wat menslikheid is nie. Hierdie persepsie word aan almal opgedring. Daar word nie vir die Russe gevra wat hulle persepsie van die werklikheid is nie, of vir die Chinese nie. Die antwoord word eenvoudig opgedring: menseregte, liberale demokrasie en die vrye mark.
In werklikheid is die mensdom egter uit verskillende menshede opgebou,
en uit verskillende beskawings met eie waardesisteme. Die grootste en kleinste volke het almal ‘n eie ervaring van wat reg is, wat verkeerd is, wat die mens is, wat god is.

My boek, Liefde in die tyd van die internet, bemoei hom tot ‘n groot mate
met die kultuur waarvan die Russies-Ortodokse Alexander Doegin deel is:
Katedrale in sneeubedekte donker woude waar die gelui van klokke mense inroep na ‘ n binnekant van kerslig, goud en ikone en waar die koorsang met die klokke harmonieer. Dis ook die kultuur van skrywers soos Tolstoi, Poesjkin, Dostojewski, Toergenjef, Gogol, Brodski, Boelgakof, en van komponiste sos Tsjaikofski, Rachmaninof, Glinka, Balakiref, Rimski-Korsakof, Skrjabin, Sjostakowitsj. Dis die land waar Diaghilef, Nijinski, Barishnikof, Paflowa, en Noerejef vandaan kom. Die land van wit nagte in Sint Petersburg, van polities inkorrekte pelsjasse en Siberiese woude en mere, van die Kremlin en Rooiplein en kommunistiese betongeboue, van baboesjkas en kossakke en kaviaar in boekweitpannekoekies en vodka.
Die Russe gaan nie hulle kultuur vir ‘n ander verruil nie, in die eerste plek omdat jy gaan sukkel om hulle te oortuig dat dit ‘n onverdienstelike kultuur is, en in die tweede plek omdat geen ander kultuur hulle gaan help oorleef in die ysige land waarin hulle bly nie.

Kultuur is nie beperk tot ‘n snobistiese skilderytjie hier of konsertjie daar
of kunsuitstallinkie wat net deur die intellektuele elite bewonder kan word nie. Dit kan veel eerder gedefinieer word as die vorm waarin die mens
sy wêreld ontmoet. ‘‘’n Mensheid wat sy eie kultuur afsterf verloor sy greep op die wêreld, sy vermoë om met ander om te gaan en uiteindelik sy vermoë tot oorlewing. In ons eie land is dit my kultuur wat dit vir my onmoontlik maak om  56 moorde en 79 verkragtings per dag te hanteer
onder ‘n regering wat niks doen om dit te verander nie. Blankes in ons land het nou inderdaad ‘n punt bereik waar die bevryding van eie kultuur wat die rojale Weste in die tagtigs en negentigs vir ons deur sanksies bewerkstellig het, ons fisiese oorlewing bedreig. .

Op een punt in Liefde in die tyd van die internet sê die skrywer van die boek, ‘n sekere Phillips, vir haar hoofkarakter Hanna, tydens ‘n gesprek oor tydsgees: as daar nou al ooit ‘n gefokte tyd was, is dit reg nou.
Wat sou sy alles daarmee bedoel? Ek weet nie altyd presies wat in Phillips se kop aangaan nie, maar as ek kon raai sou ek sê sy het dit oor die gebrek aan en minagting van kultuur. Hierdie minagting begin waar lande wat nie ooreenstem met kultuur soos voorgeskryf die Nuwe Wêreldorde nie
eenvoudig vernietig word, veral daardie lande met olie of oliepyplyne.
Die vernietiging van kultuur hou egter nie daar op nie maar eindig binne in die kulturele hart van ou Europa. Al wat nog nie aangeval is nie, is Hollywood. Die gevolg is die dood van enige outentieke kulturele uitlewing, met ‘n kitsch en onsamehangende gebabbel oor menseregte deur mense wat ander nie eers die lug wat hulle inasem gun nie. Dan wonder ons hoekom daar geen waardering oor is vir outentieke kunsuitings nie, terwyl enige gomgat wat baby baby kan blêr verhef word tot ‘n god.

Wikileaks het verderinligting gepubliseer oor Hillary Clinton se bewondering vir en vriendskap met die kunstenares Marina Abramovich. Abramovich is bekend vir haar performance art-sessies waartydens sy die idiotiese me too-beweging ver vooruitloop deur vir haar toeskouers meslemme en ander martelinstrumente te gee en dan kaal te gaan sit en wag dat hulle iets aan haar moet doe , totdat een of altwee terughardloop in Oprah se arms in waar hulle lekker lank en innig oor hulle eie slegtheid kan gaan sit en tjank.

Nou, dis natuurlik dieper as wat hulleself dink, want terwyl hulle dink
hulle is besig om die arme onskuldige kaal vrou se uitgelewerdheid aan die bose man wat nooit iets anders as uitbuiting, verkragting en onderdrukking op sy brein het nie na vore te bring, is hulle eintlik besig om dít te illustreer wat Camille Paglia lankal gesê het: liberalisme gee altyd aanleiding tot barbarisme, barbarisme gee altyd aanleiding tot sadomasochisme.

Assange het ook kort voor die verkiesing in 2016 die aandag gevestig op die kunsversameling van Clinton se assistent John Podesta en sy broer Tony.
Die uitstalling bestaan uit interessante beelde van die kannibaal Jeffrey Dahmer se slagoffers pas nadat hulle koppe afgesny is, plastiekvrouens wie se mae oopgesny en binnegoed uitgepak kan word, verhongerde seuntjies vasgebind in storte, rye en rye seksslaafdogtertjies met hulle hande agter hulle rûe vasgebind. Jy kan kuns op ‘n serebrale vlak interpreteer vir wat dit probeer sê, of jy kan jou daarin verlustig. Niemand kan bewys op watter van die twee opsies die sjarmante Podestabroers hulle obsessies grond nie,
en ek gaan hulle die voordeel van die twyfel gee ten spyte van die perverse ondertone wat deur die eensydigheid van hulle versamelings beklemtoon word.

Die interessantheid van Hillary Clinton en haar avant garde-bende
hou egter nie op by die Podestabroers nie: Anthony Weiner, die man van Clinton se baie persoonlike persoonlike assistent Huma Abedin, maak ‘n ratse sprong tussen kuns en virtuele werklikheid deur sy Weense worsie op die internet aan minderjarige meisies te vertoon. Daarvan sê die skrywer, Phillips, in my boek Liefde in die tyd van die internet: Die liefde neem soms eienaardige vorms aan in die tyd van die internet. Wat Clinton se getroue eggenoot Bill Clinton betref, merk Phillips ewe spiteful op dat hy volgens sy paspoort ‘n pedofieleiland waar kinders aangehou word, 26 keer besoek het, en volgens homself nie eenkeer seks gehad het met ‘n kind nie.
Jy sal vra wat Clinton op hierdie stadium met enige iets uit te waai het.
Die antwoord is dat die Weste nog steeds tot ‘n groot mate deur die wêreldorde waarvan sy deel is, regeer word, tot so ‘n mate dat daar werklik min speling is vir Trump om teen hierdie tekens van ons tyd te reageer.
Aan die ander kant het Trump sy eie hoere in sy hangkas en sy eie reeks van sotternye waarmee hy elke oggend op Twitter vorendag kom , waarvan die nuutste is dat China besig is om met sy toekomstige tussenverkiesings in te meng. Die gevolg is dat ons met ‘n dubbele stel van idiote te make het, waarvan die twee mekaar net af en toe vir ‘n geseënde windstil oomblik uitkanselleer.

Ek dink nie Julian Assange deel noodwendig my obsessie met kultuur nie:
sy ma was meer soos ‘n hippie wat geglo het in die mooi liberale deugde van menseregte, deursigtigheid en vryheid van spraak, en dit is die deugde waarmee hy grootgeword het. Dit maak sy bemoeienis met die liberaliste van die dag tegelyk meer ironies en meer betekenisvol. Dit gaan vir hom oor die manier waarop daardie selfde menseregte waarvoor kulture opgeoffer moet word, verkrag word nadat die offers gebring is. Die manier waarop die liberalisme van die nuwe wēreldorde op sy eie ideale kannibaliseer.

Volgens google het Assange 5 ure voordat ek hierdie paragraaf begin skryf het, instemmend geknik op ‘n video waar iemand hom gevra het of Set Riche, die Bernie Sanders-ondersteuner wat voor die Amerikaanse verkiesing in 2016 vermoor is, wel ‘n bron van Wikileaks was. Die kopknik is die meeste wat enige iemand uit Assange sal kry, aangesien hy sy bronne ten alle koste beskerm, blykbaar selfs na hulle dood. Die feit dat ‘n bron van wikileaks wat inligting oor Clinton se sameswering teen Sanders bekend gemaak het vermoor is, is ook nou seker weer Poetin se skuld.

Toe Assange in Maart vanjaar te kenne gee dat hy weet wie vir die Salisbury-vergiftigings verantwoordelik is waarvoor Poetin óók geblameer word, word sy internetverbinding in die ambassade kortgeknip. As daar iemand hier is wat my wil probeer oortuig dat dieselfde Poetin wat pas die Islamitiese Staat in Sirië in hulle moere in gebom het, nou skielik te dom is om ‘n omie op ‘n parkbankie behoorlik dood te maak, is jy welkom om te probeer.

Wat betref my nostalgie vir my eie verlede en vir ‘n tyd voordat ons getref is deur Amerika: daardie nostalgie word elke dag sterker. Wat betref my obsessie met kultuur: aan my liefde vir die ou Europese en Russiese kulture
sal niemand iets verander nie. Ek sal liefhê wie ek wil en haat wie ek haat, om my eie redes. Ek sal lag vir wie ek wil. Te hel met die res.

Leon Lemmer: Afrikaner-Broederbond/Afrikanerbond: Leiding of misleiding?

Dit is nie ‘n maklike taak om na verloop van ‘n eeu oor die Afrikaner-Broederbond (gestig in 1918) – sedert 1994 bekend as die Afrikanerbond – te skryf nie. Die afkorting AB word gebruik om na een van hulle of albei te verwys. In 1918 was ‘n instansie soos die AB absoluut nodig. Na die Anglo-Boere-oorlog (ABO, 1899-1902) en die Rebellie (1914) was die Afrikaner in ellende gedompel en op moedverloor se vlakte. Vandag, ‘n eeu later, kan kwalik beweer word dat die Afrikaner en Suid-Afrika in ‘n beter situasie is. Materieel gaan dit skynbaar voorspoediger met die meeste Afrikaners. Maar kultureel, indien nie ook fisiek nie, verkeer hulle voortbestaan in gevaar. Die magte wat tans dreig om die Afrikaner te verswelg, is kultuur- en beskawingsgewys selfs meer toksies as oorheersing deur die Britte, wat darem in ‘n mate Europees en ten minste Westers was en is.

In hierdie sin was en is die AB nodig. Maar ek skryf dit met huiwering. ‘n Mens kan redeneer dat die AB mede-verantwoordelik is vir die situasie waarin die Afrikaner hom tans bevind; dat die aanvanklike pro-Afrikanerleiding wat daar van die AB uitgegaan het, mettertyd in misleiding ter bevoordeling van swart mag ontaard het. Ek was nooit ‘n lid van die AB nie. Ek wou nie by die AB aansluit nie, onder meer omdat ek nie ‘n groepsmens is nie. Dit is een van die (moontlike) verskille tussen Afrikane, wat (tradisioneel) stam- of groepsmense is, en Afrikaners, wat as (of soos) Europeërs in groter mate tot die uitlewing van hulle individualiteit geneig is. My lewe lank kon ek vryelik ‘n liefde/haat-verhouding met die AB koester. My bespreking van die AB geskied met verwysing na twee boeke; een wat ‘n dekade gelede verskyn het en een wat onlangs gepubliseer is.

Nico Smith

Op die verso van die titelbladsy van sy boek, Die Afrikaner-Broederbond (Pretoria: Lapa, 2009, 262p), beskryf die teoloog, Nico Smith (1929-2010), die inhoud soos volg: “Belewinge van die binnekant van die Afrikaner-Broederbond oor ‘n tydperk van tien jaar – van my toetrede [1963] tot my uittrede [1973] as lid van die organisasie.” Daar is ‘n afdeling, geskryf deur Keith Clarkson, waarin ‘n oorsig van die AB se geskiedenis gegee word (p 19-33). Daaruit blyk bv die AB se voorkeur vir moedertaalonderrig in skole (25). Op universiteit het Smith kennis met MSB Kritzinger se standpunt gemaak: “Taal is ‘n sielsuiting wat inhoud aan jou menswees verleen” (50). Smith verwys na regter Kowie Marais wat voorbeelde van foutiewe Afrikaans tydens AB-vergaderings uitgewys het (121). In sy jeug het Smith Afrikaans-Nederlands as hoofvak vir sy BA-graad gekies omdat sy Afrikaansonderwyser “by my ‘n liefde vir die Afrikaanse letterkunde laat ontwaak het” (47). Nêrens elders in Smith se boek skemer daar egter voortgesette liefde vir of besorgdheid oor Afrikaans deur nie. Myns insiens dui dit op die mate waarin Smith hom in sy latere lewe van Afrikaners gedistansieer het.

Smith beskryf die milieu van Afrikaner-nasionalisme waarin hy opgegroei het en hoe hy mettertyd sy weg tot in die Ruiterwag, Rapportryers en AB gevind het. Hy is onder die indruk gebring dat die AB ‘n kultuurorganisasie is, maar dit het geblyk glad nie vry van partypolitiek te wees nie, Die Nasionale Party (NP), AB en die Afrikaanse Protestantse Kerke (veral die NG Kerk – p 181) het in groot mate ‘n drie-eenheid gevorm (127). Die AB was die dinkskrum van die NP-regering (93, 146). “Geen party, hoe goed georganiseerd ook al, sou ooit daarin kon slaag om so ‘n uitgebreide gratis netwerk van propaganda en politieke manipulering op te bou soos wat die NP in die AB gehad het nie” (134).

“Ek het besef dat nasionalisme in wese ten doel het om mag te verkry en sodoende die belange van die eie groep te bevorder … dat mag groot verantwoordelikheid in die gebruik daarvan vereis. Ek het besef dat mag en regverdigheid geen goeie bedmaats is nie” (95). Smith kom tot hierdie gevolgtrekking oor die NP-regering, maar dit geld onveranderd of heel moontlik in groter mate vir die huidige politieke bedeling. In die (akademiese) praktyk het Smith die AB ervaar op ‘n manier soortgelyk aan hoe ek dit leer ken het: “Daar was altyd ‘n soort onafgesproke verstandhouding tussen die Broers om mekaar in hulle voorstelle in die [universiteits-]senaatsvergaderings te steun” (160). Dit was nie ‘n uitvloeisel van ‘n AB-opdrag nie, maar van die AB-klimaat (133); die “konformerende mag van AB-denke” (146). Hieraan skryf Smith sy eie aanstelling as dosent aan die Universiteit Stellenbosch toe (108, 200). Ek hou van sy beskeidenheid oor sy vermoëns (211, 213) en sy verwysing na homself as “‘n mindere lig” (164).

Smith verwys na die gevoel by Afrikaners dat hulle na die ABO “tweedeklasburgers in hulle eie land was” (20). Sedert 1994 is dit weer die geval. Die NP-regering is destyds van politieke aanstellings (24) en nepotisme (25) in bv die staatsdiens beskuldig. Tans is dit weer en dalk in groter mate die geval met ANC-kamerade wat in poste ontplooi en dikwels sonder sigbare prestasie (en selfs met sigbare wanprestasie) tot in hoë poste vorder. Smith noem dat “lede van die AB mekaar identifiseer deur die hand stewig na regs te draai wanneer jy iemand groet” (82) – gelukkig nie na links nie. Smith is in sy skik met die standpunte wat hy geformuleer het in ‘n konsepbrief (236-241) wat hy in 1981 opgestel het, bv dat afsonderlike ontwikkeling verwerp word, aan almal ‘n menswaardige bestaan gegun moet word, kerklidmaatskap oop vir enigeen moet wees en geregtigheid bo selfbehoud gestel moet word. “Alleen op dié wyse sal al die inwoners van die land in geregtigheid kan voortbestaan en sal almal ‘n rustige lewe kan lei” (241). Ervaar Afrikaners sedert 1994 geregtigheid by bv die vulling van poste en onteiening sonder vergoeding en het rustigheid op die land neergedaal, of is Suid-Afrika een van die moord- en gewelddadigste lande in die wêreld? Maar dan is dit Smith wat skryf dat hy “‘n permanente weersin in enige vorm van geweld” gehad het (42).

Smith en Beyers Naudé (1915-2004) was ‘n kort tyd mede-leraars van dieselfde gemeente en albei het mettertyd kant vir die sogenaamde bevrydingsbewegings gekies. Soos die ander bevrydingsteoloë word God se aandag by voorkeur ingeperk tot bystand aan nie-wit verdruktes en veronregtes. Maar ek het nog nie uit daardie oord iemand hoor sê dat Afrikaners deesdae vir bonatuurlike voorkeur-aandag kwalifiseer nie. Teen die einde van sy lewe het Naudé die bestaansreg van die AB erken, terwyl Smith ‘n radikaler standpunt gehuldig het, naamlik dat ‘n organisasie soos die AB nie moet bestaan nie (191, 193, 195). Dit toon in watter uiterste mate hy in ‘n verloopte Afrikaner ontaard het. Smith noem dit sy “reis van Europeër tot Euro-Afrikaan” (8). As die AB wel voortbestaan, moet die lede “hulleself vir die Suid-Afrikaanse bevolking in die geheel kan nuttig maak” (255). Dit moet vir die Afrikaners en die AB nie om selfbestaan gaan nie, maar om saambestaan (259). “Dit sal teweegbring dat hulle gewillig sal wees om hulle met die grootste lojaliteit in diens van Suid-Afrika in die geheel te stel” (255). Dit is presies wat die AB sedert 1994 probeer doen, maar dit het hierdie instansie terselfdertyd grootliks rigtingloos, invloedloos en opsioneel laat word.

OJO Ferreira

In 1935 het JBM Hertzog aangevoer dat AB-lede nie beter Afrikaners as die res van die volk is nie (Smith 24; Ferreira 127); iets wat veral ná 1994 baie duidelik geblyk het. Soos by sommige ander volke en instansies het die AB-leiding veral van die elite uitgegaan, maar vooraanstaande Afrikaners word sowel binne as buite die AB aangetref. Dit blyk ook duidelik uit die kultuurhistorikus, OJO Ferreira, se boek, Broederskap: Eeufeesgeskiedenis van die Afrikaner-Broederbond en die Afrikanerbond, 1918-2018 (Randburg: Die Afrikanerbond, 2018, 457p, R380). Daarin staan: “Geleidelik het die AB ‘n Afrikaner elite-organisasie geword” (p 37; ook 61, 78), maar baie vooraanstaande Afrikaners was nooit lid daarvan nie. Ferreira was tot 1986 elf jaar lank lid van die AB (9). Hy is waarskynlik as navorser vir hierdie studie aangestel omdat hy die outeur van die volgende publikasie is: FAK-75: Geskiedenis van die derde kwarteeu in die bestaan van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge, 1979-2004 (Pretoria: FAK, 2004) (431). Die FAK is as “‘n belangrike openbare arm van die AB beskou” (64). Ferreira noem die Afrikanerbond die “omvormde [oftewel getransformeerde] opvolger” van die Afrikaner-Broederbond (10). Hy verwys na Smith se boek, wat nie gunstig in AB-geledere ontvang is nie (266).

In die voorwoord skryf Jaco Schoeman, die voorsitter van die AB, dat dit vir die AB gaan om die Afrikanersaak te dien (1). Die AB was betrokke by “vertroulike vergaderings … waar die einde van apartheid in diepte bespreek en bevorder is” (2). Volgens FW de Klerk het “die AB gehelp om die weg te baan vir ‘n onderhandelde oplossing; ‘n oplossing wat die regte en vryhede van alle [!] Suid-Afrikaners kan beskerm” (4) – “kan beskerm” maar in die praktyk gebeur dit nie. Die AB moet dus medeverantwoordelikheid aanvaar vir die onbekwaamheid en ondoeltreffendheid van die regering wat sedert 1994 aan die bewind is en vir die chaotiese en gewelddadige toestande wat sedertdien heers. Schoeman erken darem: “Vandag vervang ons mislukkings [bv apartheid] met nog groter mislukkings. Suid-Afrika en sy mense verdien beter” (5). By die AB is daar “die vaste verbintenis met die Suid-Afrikaanse grondwet” (3). Die AB “wil Afrikaners nie isoleer van Suid-Afrika nie” (4) – op die gevaar af dat Afrikaners as identifiseerbare groep/volk asook Afrikanerkultuur verswelg word en mettertyd verdwyn. Schoeman sluit soos volg af: “Broers, ons kan ons koppe hoog hou … Met ‘n duur gekoopte vryheid leef ons liefde, ons bedink innoverende oplossings en strewe na uitnemendheid” (7). Watter soort vryheid? Vryheid in onderdanigheid? Watter soort liefde? Is daar sprake van algemene wedersydse ons/hulle liefde?

Die boek bestaan uit drie dele. Die eerste deel handel oor die Afrikaner-Broederbond (1918-1994) en is feitlik uitsluitlik op ELP Stals se eintlik ongepubliseerde teks, “Geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond, 1918-1994” (1998), gebaseer (13), wat in opdrag van die AB nagevors en geskryf is (105, 432, 263 – 763 bladsye!). In die tweede deel van die boek vind Ferreira se eie navorsing neerslag. Dit handel oor die Afrikanerbond (1994-2018). Die derde deel het as titel: “Nawoord, ‘n kritiese waardering,” met Piérre Theron as die samesteller. Daar is onder meer interessante weergawes van onderhoude wat die historikus, Jan-Ad Stemmet, in 2013 en 2014 met 13 “vooraanstaande Suid-Afrikaners gevoer [het] om hulle menings oor en gevoelens jeens die Afrikaner-Broederbond, die Afrikanerbond en die Afrikaner vas te stel” (352).

“Uit die dringende nood van ‘n volk is die Afrikaner-Broederbond gebore” (16). Dit was in 1918 ongetwyfeld die geval. “Volgens die [AB-]grondwet sou Afrikanereenheid nagestreef word en sou die Afrikaner ontwikkel word en liefde vir sy taal, geskiedenis, tradisies, land en volk by hom ingeskerp word … Bo alles sou die handhawing en uitbouing van Christelike beginsels egter die grondslag wees waarop die Bond berus … Dit is feitlik onmoontlik om die doelstellings van die AB in woorde uit te druk en daarom is ook na die AB as die ‘gewete van die Afrikaner’ verwys” (19). In die jare tagtig en negentig het die AB myns insiens die spoor byster geraak en as’t ware gewetenloos anti-Afrikaner-uitkomste bevorder. Wat die AB toe gedoen het, is teenstrydig met wat in sy 1983-grondwet staan: Die AB beywer hom vir “die bewerkstelliging van ‘n gesonde en vooruitstrewende eensgesindheid onder alle Afrikaners wat die welsyn van die Afrikanervolk nastreef, die opwekking van ‘n nasionale selfbewussyn by die Afrikaner en die inboeseming van liefde vir sy taal, godsdiens, tradisies, land en volk; die bevordering van alle belange van die Afrikanervolk” (20).

Die AB het sy seile mettertyd na die politieke wind gespan: “Dit is interessant dat lidmaatskap van die AB in sommige gevalle in die sestigerjare weens liberale standpunte beëindig is, terwyl dit in die sewentigerjare op grond van regse standpunte geskied het” (39). In 1988 is daar bv nie net oor Afrikanerskap besin nie, maar ook oor Suid-Afrikanerskap, wat op ‘n klemverskuiwing (kan) dui (43). In hierdie vermurwing het die opvoedkundige, Pieter de Lange, die AB-voorsitter (1983-1993), ‘n leidende rol gespeel. De Lange het in 1985 “die vraag geopper of daar nie aan direkte skakeling met die ANC en ‘n deegliker oorweging van die Freedom Charter van 1955 gedink moes word nie” (118). Met die ondersteuning van veral Johan Heyns (1928-1994) het De Lange die AB entoesiasties op die noodlottige dwaalspoor van oorgawe aan swart mag gelei. Die AB het “‘n klimaat vir verandering” bevorder (138).

FW de Klerk se toespraak op 2 Februarie 1990 het “oorweldigende positiewe kommentaar [in AB-geledere] uitgelok, maar daar was ook afdelings wat die dokument [wat aan die AB-lede hieroor gesirkuleer is] as idealisties en onprakties beskou het en dat die verlies van Afrikaneridentiteit en -selfbeskikking daarvolgens ‘n voldonge feit was” (139). In 1990 het die AB tydens ‘n onderhoud met De Klerk sy “steun aan sy denkrigting verklaar” (107). De Lange het in 1992 by AB-lede aanbeveel dat hulle “Ja” in die blanke kiesers se referendum oor onderhandelde magsdeling moet stem (140). Die daaropvolgende magsoorgawe weerspreek wat in die AB se lied staan: “Want Broer alleen is hy wat moedig stry” (46).

Reeds voor die mandaatlose 1994-magsoorgawe het die AB oor omvorming begin besin. De Lange het hom aangematig om die AB te bestempel as “‘n organisasie wat mank gaan aan gebrekkige taakingesteldheid, onder benutting van sy openbare arms en dooie hout onder sy lede. Volgens hom het die AB hom met ‘skyngevare’ besig gehou en het afdelings nog nie die werklikheid van verandering begryp nie” (142). Die nuwe AB-missie wat in 1992 geformuleer is, lui: “Die AB, uitgaande van sy Bybelse grondslag aanvaar vrywilig die verantwoordelikheid om alle belange van die Afrikaner tot voordeel van die land en sy mense te bevorder” (143). “Die woord ‘Bybelse’ is later na ‘Protestantse’ verander. Dit is opvallend dat die Afrikaner se deelgenootskap aan ‘n groter geheel duidelik na vore gekom het. In 1993, in seker sy laaste AB-toespraak, het De Lange “verklaar dat die Afrikaner dinamies aan sy toekoms moes werk en nie lam moes word nie” (147-148). Op 27 November 1993 het De Lange as AB-voorsitter uitgetree (149). Hy het die sinkende AB-skip dus betyds verlaat, dus kort voordat die swart politieke bewind die mag oorgeneem het.

Die strategiese doelstelling van die omvormde AB het onder meer klem gelê op die versterking van geestelike waardes, uitbouing van die Afrikaner se kultuur, eensgesindheid en hulpverlening en uitreiking na diegene wat dieselfde waardes gedeel het. Verder moes ‘n wyse gevind word om die Bond vry te maak van die beeld van geheimhouding sonder om lede se name bekend te maak” (143). Johan Heyns het in hierdie konteks geredeneer dat die begrip “‘Afrikaner’ nie net wit Afrikaanssprekendes insluit nie, maar ook bruin en selfs swart persone wat die tradisionele wit Afrikaner se taal, geloof en geskiedenis met hom gedeel het” (143-144). Die woord “blanke” moes uit die AB-grondwet weggelaat word. Elkeen wat hom met Afrikanerskap wou vereenselwig sou as ‘n Afrikaner beskou moes word (144). Deur die begrip “ras” met “waardes” te vervang, het die AB al hoe meer sy karakter en koers verloën en verloor. Dit was onder meer die gevolg van FW de Klerk se versoek in 1992 “dat die Bond lidmaatskap moes oopstel en die begrip ‘Afrikaner’ weer gedefinieer moes word” (145). “Die oopstel van die Afrikaner-Broederbond in 1994 was teen die wil en wens van 97% van sy lede” (203). Die AB se omvorming was uit pas met die oorgrote meerderheid van sy lede; soortgelyk aan die klein De Klerk-groepie in die NP wat mandaatloos aan die ANC oorgegee het.

Die AB se rol in die tweede helfte van die 20ste eeu het dus ontaard in politieke besinning en (mis)leiding, terwyl die AB die klem aanvanklik op kulturele sake geplaas het (51). “Artikel 88 van die reglement van die AB het bepaal dat die Bond hom nie met ‘n bepaalde politieke party sou vereenselwig nie” (130). Die AB se “ideaal om polities neutraal te staan” (129) het mettertyd egter vergete geraak. Veral die republikeinse gedagte het die AB van 1951 af by politieke en staatkundige sake betrokke laat raak (130). Die doel was om “politieke verdeeldheid onder Afrikaners te besweer” (130). “Op praktiese vlak het die AB [voor republiekwording in 1961] gepoog om uiterlike tekens van Suid-Afrika se Britse verbintenis ongedaan te maak … maar sonder om die Engelssprekende landgenote te vervreem, omdat hulle steun nodig was om ‘n meerderheidstem ten gunste van republiekwording te verkry” (130-131). Namate “die AB se belangstelling in rasseverhoudinge en polities-staatkundige aangeleenthede toegeneem het, het die betrokkenheid by kultuur en kulturele aktiwiteite afgeneem en feitlik ‘n roetine of selfs bysaak geword” (53). Ná die 1994-ramp het die AB probeer om weer aandag aan kultuursake te skenk maar met weinig sukses, onder meer omdat talle ander Afrikaans-instansies op daardie terrein bedrywig is.

“Omdat die Afrikaanse taal die draer van die Afrikaanse gedagte is, het die AB altyd in die handhawing en uitbouing van die Afrikaanse taal belanggestel. Die suiwere gebruik van Afrikaans is aangemoedig, die bevordering as handelstaal is beklemtoon en die bevordering van die Afrikaanse boek en lied het spesiale aandag geniet … [Daar was] waardige maar ferme handhawing van Afrikaans” (51). Sedert 1990, dus tydens die grondwetlike onderhandelinge en daarna, het feitlik niks hiervan meer tereg gekom nie. Tans lewe ons in ‘n era waarin nie ‘n enkele Afrikaansinstansie op suiwer(der) Afrikaans aandring nie. Taaloorwegings word om politieke redes versaak ten einde bruin Afrikaanssprekendes, spesifiek Kaapssprekers, nie aanstoot te gee nie. Die tragiese gevolg is dat nie net bruines nie maar toenemend ook blankes sonder daadwerklike teenkanting geradbraakte Afrikaans praat en selfs skryf.

Wat nie algemeen besef word nie, is die mate waarin John Vorster se bewind (1966-1978) die Afrikaner en die land se toekoms beduiwel het. In 1974 het Vorster “aangedui dat die inwoners van Suidwes-Afrika toegelaat sou word om self oor hulle toekoms te besluit” (122). Vorster het daarna Ian Smith se blanke bewind in Rhodesië vir die wolwe gegooi, wat in 1980 in sowel Zimbabwe as Namibië tot swart meerderheidsregering gelei het. Die AB het hierdie gebeure as die “pynlike werklikheid aanvaar” (122). Daar was bitter verwyte oor Suid-Afrika se “verraad” (123), maar veel groter verraad sou in 1990/94 volg. Reeds 1973 het Vorster selfs Van Riebeeck-dag (6 April) as openbare vakansiedag afgeskaf (54). Suid-Afrika het in 1961 tydens Hendrik Verwoerd se bewind ‘n republiek geword (76). “‘n Week voor sy dood in 1966, het dr HF Verwoerd aan die AB-voorsitter, dr PJ Meyer, verlof gegee om met ‘n veldtog vir ‘n nuwe Republikeinse vlag te begin, maar weens politieke oorwegings het die Vorster-regering later van die voorneme afgesien” (57). In 1967 het Vorster aangekondig “dat Suid-Afrika nie aan ander lande sou voorskryf wie hulle in [sport]spanne kon insluit nie” (98). Eers tien jaar later het die AB hom “van die Nasionale Party se sportbeleid gedistansieer” (98).

Die historikus, HB (Quintus) Thom (1905-1983), die rektor van die Universiteit Stellenbosch (1954-1969), was van 1952 tot 1960 die voorsitter van die AB. Toe het die AB min aandag aan universitêre aangeleenthede gegee omdat Thom die gesonde standpunt gehuldig het dat “universiteite outonome instellings was in wie se sake nie ingemeng moes word nie” (89). Dit is ‘n standpunt wat deesdae deur geen plaaslike universiteit uitgeleef word nie; almal transformeer ooreenkomstig die wense van die ANC. In die geval van die Universiteit Stellenbosch is die getal regeringsverteenwoordigers in sy raad vermeerder ten einde te verseker dat die regering die universiteit in selfs groter mate as voorheen kon beïnvloed. Onlangs is aangekondig dat die naam van die US se HB Thom-teater na Adam Small-teater verander word. Ek wonder wat die Wim de Villiers-US nog gaan doen in sy veldtog teen Afrikaners en Afrikaans. Deel van De Villiers se aksie spruit moontlik uit die studie wat Thom in 1950 oor die stigtingskenker van die US, Jan Marais, voltooi het. Marais het die voorwaarde gestel dat Hollands/Afrikaans nie ‘n mindere plek as Engels aan die US mag beklee nie; ‘n voorwaarde wat De Villiers op ‘n hoogs onetiese manier ignoreer.

In 1994 is die Afrikaner-Broederbond omvorm tot die Afrikanerbond. Die weglating van “broeder” uit die benaming, het die weg vir “susters” se lidmaatskap gebaan, soortgelyk aan vroue wat deesdae as kerkraadslede kan dien omdat die mans in die poel te min geword het. Ná 1990 het baie lede uit die AB bedank omdat “die organisasie met die ou bedeling vereenselwig word” (147). Dit is hoogs onwaarskynlik dat die meeste wat hulle AB-lidmaatskap opgesê het, dit gedoen het vanweë ‘n Damaskus-ervaring. Daar was heel moontlik baie opportuniste wat by die AB aangesluit het in die hoop op selfbevoordeling. Sedert 1994 kan AB-lidmaatskap, anders as voorheen, selfbenadeling wees. In hierdie nuwe era word daar nie meer na (blanke) Afrikaners verwys nie, maar na Afrikaanssprekendes, selfs Afrikaanses. Die AB het “‘n radikale koersverandering” ondervind (152). Min het behoue gebly van die AB-ideaal: “Die selfstandige en volwaardige voortbestaan van die Afrikaner” (155).

“Die Afrikanerbond beskou homself as deel van die gematigde groep Suid-Afrikaners wat die pre-1994-onderhandelinge en grondwet onvoorwaardelik [!] gesteun het” (289). Deesdae besef die AB “dat die Grondwet soms ondergeskik staan aan die ANC se beleid” (296). “Dat die Grondwet vir president Zuma ‘n struikelblok is en dat ‘die ANC belangriker as die Grondwet’ is, het hy reeds in November 1996 in Durban gesê” (303), “Die groot fout wat die ANC maak, is, aldus die Afrikanerbond, om aan te neem dat die inhoud en vertolking van die Grondwet die alleenreg van die ANC is” (315). “Die Suid-Afrikaanse Grondwet is nie ondergeskik aan die Vryheidsmanifes nie en kan ook nie in samehang daarmee gelees word nie” (322). “Die verwagting dat die beginsels waarop die nuwe [1996-]Grondwet gebaseer is vir Afrikaners sekuriteit sou bied, veral ten opsigte van taal- en kultuurregte, is helaas nie bewaarheid nie” (344).

Ontnugtering met die ANC het ná 1994 spoedig in AB-geledere ingetree, bv weens die “onbevoegdheid en onbekwaamheid” van die ANC-bewind (156). “Die gebrekkige dienslewering, die verval van infrastruktuur, verswakking in onderwysstandaarde, korrupsie, onvermoë om misdaad vas te vat, xenofobie, kragonderbrekings en vele meer is die direkte gevolg van regeringsbeleid wat swak uitgevoer word as gevolg van onbevoegdheid en grootskaalse verlies aan kundigheid. Daar kan nie van ‘n inklusiewe Suid-Afrika gepraat word indien ‘n rasgebaseerde beleid die samelewing nog steeds verdeel nie” (279). Die AB het besluit dat sy aktiwiteite op drie areas sou fokus: “Afrikanerbelange, staatkundige belange en minderheidsbelange” met as onderliggende motivering om “‘n positiewe en konstruktiewe bydrae [te] lewer tot Suid-Afrika en al sy mense” (156).

“Die skerp fokus op die bedreigde belange van die Afrikaner [het] versag. In die huidige [AB-]Grondwet gaan dit onder meer oor die mobilisering van talent en leierskap wat veronderstel word te bestaan. Verder gaan dit oor die beskerming van die Afrikaanse [nie net Afrikaner- nie] gemeenskap se belange en om dit oor die algemeen te help bevorder. Die onuitgesproke veronderstelling wat uit die bewoording van die Grondwet afgelei kan word, is eerder instandhouding van die Afrikaner se belange as die vestiging daarvan” (157). Die net word so wyd gespan dat die koers vervaag: “Die strewe van die Afrikanerbond, uitgaande van sy Bybelse grondslag, is om diensbaar te wees aan en by te dra tot die ontwikkeling van die Afrikaanse [!] gemeenskap tot uitnemendheid op elke terrein van die lewe, ook in belang van alle Suid-Afrikaners” (157-158). Die AB het, soos vroeër, weer “a-polities” geword (159). “In 2002 is ooreengekom dat die Vryheidsfront Afrikanerbelange op die politieke terrein sal dien, terwyl die Afrikanerbond die belange van die Afrikaner op die nie-politieke terrein sal behartig” (275-276).

Daar is “‘n behoefte aan duidelikheid oor presies wat die Afrikanerbond se rol en werkswyse is” (179). “In 2005 is berig dat die byeenkomste van die Afrikanerbond al swakker bygewoon word” (197). “In 2007 het kommer oor die funksionering van die grondvlakstrukture van die Afrikanerbond geheers. Daar was ‘n gebrek aan omgee, gemeenskapsdiens en gemeenskapsbetrokkenheid” (193). In 2007 en 2008 “is gemeld dat die tendens van ‘n kwynende lidmaatskap van die Afrikanerbond verder mag toeneem … hoofsaaklik omdat die organisasie sy invloed verloor het” (198). “Lede [het] hulle belangstelling in die Afrikanerbond verloor” (199). “Die oorgang na die nuwe bedeling het ‘n groot onrustigheid by lede ingeskerp en tot ‘n konstante stroom bedankings gelei” (200). In 1991 was daar 19 709 lede (35). “In 2017 was die ledetal ongeveer 3 400 ere- en aktiewe lede” (199). Die finansiële vermoë van die AB het as gevolg van die krimpende ledetal drasties verswak.

Die AB dobber voort. In 1998 wou die AB hoop bring “vir uitsiglose Afrikaners” (163). Die Vlamprogram van 2002 wou Afrikaners moreel versterk (172). In 2008 is die volgende AB-visie aanvaar: “As Afrikaners bou ons saam aan die toekoms vir die Afrikaner” (161) of “As Afrikaners bou ons saam aan die toekoms van Suid-Afrika” (339). In 2015 was die AB-missie onder meer om “die Afrikaner se toekoms te verseker … om Afrikaner-belange te handhaaf en uit te bou” (161). Die AB wil “‘n aktiewe en dinamiese rol in die gemeenskap speel … [en] ‘n sterk gesagsliggaam vir die Afrikaner” wees (220). Hy het hom tereg vir “die rasionalisering van “Afrikaanse kultuurorganisasies” beywer (220), maar dalk op die gevaar af dat die AB oorbodig verklaar kon word.

Soms is daar wrywing tussen Afrikaansinstansies waar ‘n mens nie wrywing verwag nie: “In 2001 wou die Afrikanerbond ‘n bedrag van R20 000 bydra tot die fonds waaruit die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns jaarliks die Hertzogprys toeken. Die Akademie het die Afrikanerbond se skenking vir die Hertzogprys afgewys” (264). Hierdie Akademie het polities erg links geneig toe Jacques van der Elst die uitvoerende hoof was. Ek het gehoop dit sou beter gaan nadat Dioné Prinsloo (Piet Meyer van SAUK-faam se dogter) hom opgevolg het. Johannes Comestor het sy teks getiteld, “Twee Afrikaansinstansies ondermyn Afrikaans” (Praag 24.08.2018), aan sowel Prinsloo as Conrad Steenkamp van die Afrikaanse Taalraad gestuur, maar nie eens die beleefdheid van ‘n ontvangserkenning uit een van hierdie twee oorde ontvang nie. Albei instansies gee voor dat hulle Afrikaans bevorder.

In die boek staan: “Die verhouding tussen die Afrikanerbond en AgriSA was ietwat stram” (312), wat verstaanbaar is omdat AgriSA, anders as streekslandbou-instansies soos die Transvaalse Landbou Unie (TLU), glad te geneig is om die ANC te vertrou, soortgelyk aan die vertroue wat FW de Klerk en sy groepie onderhandelaars in ANC-integriteit gestel het. Dan Kriek, die president van AgriSA, het by geleentheid ‘n “striemende aanval op die Afrikanerbond geloods” (320). In 2011 het ‘n Ad hoc-groep, insluitende die AB en die TLU, misdaad en landelike veiligheid bespreek. “AgriSA, die grootste landbouorganisasie, het hulself van die Ad hoc-groep gedistansieer omdat die Afrikanerbond daarby betrokke was” (315). Die ANC het die “‘skeefgetrekte’ geskiedenisbeskouing dat alle witmense grond onregmatig bekom het en dat dit histories aan swart mense behoort het” (316). Die AB wil eerder van “grondverdeling” as “grondhervorming” praat (318). Eiendomsreg is vir die AB “ononderhandelbaar” (318). Die AB het dit heeltemal tereg teen “onverantwoordelike uitsprake soos ‘gesteelde grond’ en ‘ons land'” (322) wat deur ANC-kornuite en hulle meelopers gemaak word.

Daar word verkeerdelik genoem dat Michael le Cordeur in 2008 die eerste voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR) was (223-224). Wannie Carstens was die eerste en Le Cordeur die tweede ATR-voorsitter. Dit was vir my verblydend dat die AB die ATR om dieselfde fundamentele redes as ek gekritiseer het: Kommer is “uitgespreek oor die feit dat die Afrikaanse Taalraad nie altyd die voorvegter vir Afrikaans is nie … dat van die standpunte soms polities korrek is, sonder dat die belang van Afrikaans bevorder word” (224). Die AB is “besonder besorgd … oor die voortgesette verlies aan status van Afrikaans” (224). In 2017 het die AB R50 000 aan #GelykeKanse geskenk vir sy hofstryd ter behoud van Afrikaans aan die US.

Oor die Afrikaners se volkslied is die AB veels te versigtig of huiwerig: “Die Afrikanerbond is van mening dat daar in die huidige tydsgewrig met groot omsigtigheid gehandel moet word in die aanwending en gebruik van Die Stem van Suid-Afrika (225). “Die Afrikanerbond se standpunt was dat [Steve] Hofmeyr en die 45 000 mense wat [in 2014] saam Die Stem gesing het, die grondwetlike reg gehad het om die lied te sing en daardie reg moet gerespekteer word. Die Stem propageer nie geweld of verkondig nie haat wat op ras, etnisiteit, geslag of godsdiens gebaseer is nie, maar spoor in werklikheid lojaliteit en patriotisme aan” (226).

Oor plek- en ander naamsveranderinge word tereg gesê dat daar soms “‘n uitdagende moedswilligheid” te bespeur is (229); “dat veral Afrikaanse name gestoomroller word en dat name eensydig verander word” (230). “Afrikaanssprekendes [word] met ondeurdagte naamsveranderinge, afskaling van Afrikaans en vandalisme van hulle monumente gekonfronteer” (233), bv die “doelbewuste vernietiging van die Groot Trek-gedenksteen in Standerton” (238). “Die geskiedenis kan nie deur die vernietiging van beelde uitgewis word nie … almal se geskiedenis [moet] gerespekteer” word (241). Oor Menseregtedag is die AB se gesonde standpunt “dat Suid-Afrika niks het om te vier op dié dag nie omdat basiese menseregte na die demokratiese oorgang nog steeds vertrap word. Die ongelukkige waarheid is dat minderhede aan die ontvangkant van omgekeerde rassisme is” (235). Die reg op lewe, ook vir Afrikaner-boere, is immers die voorveronderstelling vir die benutting en genieting van al die ander menseregte. Oor Jacob Zuma word gesê: “Om in ‘n toespraak Jan van Riebeeck se aankoms op 6 April 1652 aan die Kaap as die begin van Suid-Afrika se moeilikheid te beskryf, is om die Afrikaners se geskiedenis te demoniseer” (236).

In 2007 het die AB die onvergeefbare flater begaan om vir Jonathan Jansen as lid van die Nasionale Raad vir Onderwys en Opleiding te nomineer (245). In dieselfde jaar het Jansen “verklaar dat Afrikaans altyd een van die ankertale van die Vrystaatse universiteit sal bly. Later het dit geblyk leë woorde te wees, want in 2013 lui van sy standpunte, soos in Beeld vervat, soos volg: ‘Eksklusief Afrikaanse wit skole en universiteite hou ‘n ernstige gevaar in vir rasseverhoudinge in Suid-Afrika. Engels, eerder as Afrikaans, sal die taal van versoening in hierdie land moet wees'” (247). Die AB het Jansen as ‘n “speler vir die groot paviljoen opgesom” (247). Oor die US word tereg gesê daar is “‘n oneerlike poging deur die Universiteitsbestuur, en veral prof [Russel] Botman, om die verengelsing van die Universiteit te verdoesel” (248).

Wanneer ek as leser van hierdie boek ‘n mate van piëteit of simpatie vir die AB begin voel, word ek daarna egtger teleurgestel met dinge soos die volgende. Ná PW se dood in 2006 het die AB verklaar dat Botha “‘n onontbeerlike bydrae gemaak het om Suid-Afrika op ‘n koers te plaas wat ‘n beter lewe vir al [!] sy mense moontlik kan maak” (259). “Die Afrikanerbond onderskryf nie meer apartheid nie” (269). “Met leidende figure in die ANC is reeds vroeg geskakel,” bv ‘n AB-afvaardiging het met Nelson Mandela gesprek gevoer (274). Op sy negentigste verjaardag het die AB nie net erkenning aan Mandela as ‘n ikoon van versoening gegee nie maar selfs aanbeveel dat sy waardes bevorder moet word (342). Myns insiens is die geweldskultuur wat Suid-Afrika steeds kenmerk ongetwyfeld deel van Mandela se nalatenskap. In 2015 is FW de Klerk deur die AB “as Afrikaner en staatsman vereer vir sy buitengewone bydrae tot die daarstelling en bevordering van demokrasie in Suid-Afrika” (342), asof demokrasie in die sin van algemene, gelyke stemreg in ‘n eenheidstaat ‘n geskikte staatsvorm vir Suid-Afrika is met sy groot groep ongeletterde, oningeligte en maklik intimideerbare kiesers.

“Die Afrikanerbond het die wettigheid van die WVK aanvaar, maar die leemtes in die funksionering daarvan raakgesien” (275). Die Menseregtekommissie het ook “‘n politieke instrument geword” (282). Die sogenaamde Onafhanklike Verkiesingskommissie gebruik uitsluitlik Engels as taal (286). “Hoewel die Afrikanerbond nie die noodsaak vir regverdige en gebalanseerde regstellende aksie ontken nie, is die toepassing daarvan gebaseer op blatante diskriminasie en strydig met artikel 9 van die Grondwet van 1996. Regstellende aksie as beleid weerhou talentvolle jongmense, ongeag hulle kwalifikasies of ervaring, om ‘n bydrae te lewer. Meriete wat ‘n [dié] maatstaf moet wees, is vervang met ras as die allesoorheersende kriteria [kriterium] vir aanstelling in die openbare sowel as die private sektor” (280).

Hoe benard die Afrikaners se situasie in die nuwe Suid-Afrika is en hoe ver van onafhanklik die regspraak deesdae is (iets wat Hermann Giliomee beklemtoon) het in 2016 uit die Konstitusionele Hof se uitspraak oor die verandering van 25 straatname in Pretoria geblyk. In die meerderheidsuitspraak van hoofregter Mogoeng Mogoeng “is die insinuasie dat Afrikaners nie aanspraak kan maak op grondwetlike regte vir die uitlewing van hulle kultuur nie aangesien dit deur onderdrukking [dwars]deur die geskiedenis beslag gekry het” (309). Dít is die gevolgtrekking waartoe twee blanke regters in hulle minderheidsuitspraak oor die meerderheidsuitspraak gekom het. “In ‘n tweede minderheidsuitspraak van regter J Jafta kritiseer hy die twee [blanke] regters se siening en bevestig dan dat Afrikaners in werklikheid geen aanspraak op enige grondwetlike regte het nie” (309).

Die enigste verwysing in die boek na Praag (wat nie eens in die indeks gelys word nie) is: “Die Pro-Afrikaanse Aksiegroep (Praag) het in 2002 die deelname van die Afrikanerbond aan ‘n Afrikanerreferendum versoek, maar die Bond het geoordeel dat so ‘n referendum weer die ou debat sal oopkloof oor wie die Afrikaner is. Dit kon tot nuwe twis en tweedrag onder Afrikaners lei. In plaas van konfrontasie is die Afrikanerbond se styl eerder dié van kommunikasie” (336). Tydens kommunikasie moet daar iets gekommunikeer word. Die AB is klaarblyklik lugtig om sy standpunt dat die Afrikanerdom nie-blankes insluit, te regverdig.

Ten slotte kom ek by die 13 onderhoude in die derde en laaste afdeling in die boek. Volgens Niël Barnard, voorheen die hoof van Nasionale Intelligensie, word “die rol van die AB in die skikkingsproses heeltemal oorskat … Dit is ‘n ding wat Pieter de Lange homself omgehang het” (354). Daar was “voor en tydens die onderhandelinge baie kortbroekknape … mense vir wie dit meer oor die eie belang gegaan het as om die saak waarvoor hulle daar was” (356). Ook: “ek nie ‘n ‘groot fan’ van De Klerk was nie” (357).

Pieter Bingle, ‘n predikant van die Gereformeerde kerk, verwys na ‘n toespraak van FW de Klerk waarin “hy vertel het dat die AB die terrein vir verandering, wat moes kom, voorberei het. Dit was nie die koukus van die Nasionale Party gewees nie, maar … die AB [wat] die NP-koukus voor was” (359). Dit lyk asof Bingle graag De Klerk se doppertunisme onderskryf.

André P Brink vertel dat sy pa ‘n AB-lid was (363) en dat sy oupa die ABO eerstehands ervaar het (364). Brink was “nooit ‘n baie groot aanhanger van De Klerk nie” (366). “Die huidige Afrikaner voel nog verward en selfs minderwaardig in die nuwe bedeling – uitgestoot en met ‘n wrewelrige gevoel! Hy weet nie mooi waarheen hy moet gaan nie en weet ook nie mooi hoe om dit te hanteer nie, en selfs die wat dit skynbaar hanteer, dink en doen dit op ‘n baie teleurstellende manier” (367). Brink dink nie Afrikaners sou vandag weer ‘n organisasie soos die AB stig nie: “Die verbrokkeling binne die volk, in die mate wat ‘n mens nog daarvan kan praat, het te ver gegaan. Dit is al so ver, dat die indruk of selfs die behoefte daaraan om eenheid te skep, nie meer sterk genoeg is nie” (367).

Mangosuthu Buthelezi beskou “die storie van die Afrikaner [as] een van die mees inspirerende verhale” (368). Oor die AB sê hy: “My perception was that it was an exclusive club of Afrikaners, that it was a self-upliftment instrument only” (369).

Tom de Beer, die voorsitter van die AB (1993-2000), sê die stelling dat Pieter de Lange “soms dominerend kon wees, het ‘n element van waarheid, maar ek sal eerder sê dat hy meer oortuig was as [dat?] hy reg was” (374) – ‘n karaktertrek wat ook by Johan Heyns opgeval het. “Ek [het] in FW geglo … Die gevoel het selfs by mense bestaan dat hy te lig in die broek was … Ek het hom egter vorentoe baie positief ervaar en instemming gehad dat hy die pad goed geloop het” (375). “Die Afrikanerbond was in den brede tevrede met die uitkomste wat die onderhandelinge daargestel het” (376).

Willie Esterhuyse beweer daar is “geen verskil tussen broerskap en ‘comradeship’ nie” (381). Oor Nico Smith se boek sê hy: “My ervarings van die AB was totaal anders as syne” (382).

Tony Leon karakteriseer die AB as “‘n soort van ‘n dinkskrum of ‘n ondersteuningsgroepering vir die Nasionale Party-regering” (385). “My indruk was dat die Afrikanerbond in ‘n sekere sin die amptelike regeringsbeleid van daardie tyd ver vooruit was en tog sekere invloede daarop gehad het” (386). “Baie van die Afrikaanssprekende ondersteuners [van die DA] was om begryplike redes lid van die Afrikanerbond en het onskatbare waarde tot die DA toegevoeg” (386). “Die Bond [het] ook maar ‘n gemarginaliseerde organisasie geword” (387). “Ek sien dit [die AB] meer as ‘n organisasie wat na sy eie mense omgesien het” (387). “De Klerk … het ‘n hele nuwe paradigma geopen wat hy gehoop het om te kontroleer [beheer], maar baie gou het dié skepping sy skepper begin kontroleer [oorheers]” (388). De Klerk het glo “by geslote geleenthede … gesê … dat hy die verkiesing kon wen, [maar dit] is ‘wishful thinking and faulty analysis'” (388). “Ek sal nie verbaas wees as Pik Botha die narratief gevoed het nie” (389). “Ek het persoonlik waargeneem hoedat die Nasionale Party sy houvas tydens die onderhandelinge verloor het deur hulle kaarte verkeerd te speel en omdat hulle nie ‘n strategie gehad het nie, of ‘n verkeerde strategie gevolg het. Verder was daar sekere persoonlike faktore. Cyril Ramaphosa was ‘n beter onderhandelaar as Roelf Meyer … Roelf … was ‘n baie aangename persoon, maar ek het nie geweet wat sy agenda anders was as om mag oor te gee nie” (389). “Ek dink nie dat die Broederbond vandag nog enige noemenswaardige rol speel nie” (390).

Georg Meiring, ‘n vorige hoof van die Weermag, kom oor as ‘n Afrikaner met ruggraat.* “Ek dink dat daar ‘n gebrek aan leierskap in Afrikanerorganisasies op talle vlakke was omdat niemand die pad ná ’94 kon visualiseer nie” (392-393). “FW de Klerk het nie sterk op die kundigheid van die Weermag ag geslaan nie” (393). “Ek is ernstig daaroor as ek vir jou sê dat FW nie ten volle op die hoogte was van wat by Kodesa aangegaan het nie. Hy het een keer of elke tweede week daar aangekom en met Roelf Meyer gepraat. Roelf het gedink hy kan vir Ramaphosa ore aansit, maar die teendeel is uitgewys. Madiba, Ramaphosa en andere het gereeld ingekom, by mekaar gesit en gekoukus oor wat nodig is … Die swakste regering wat ons ooit gehad het, was die Nasionale Party-regering net voor 1994 … Die verhaal van die chaos waarin die land in die tydperk tussen 1991 en 1994 was, is nog nooit in sy volle werklikheid vertel nie, maar ek sê vir jou as dit nie vir die Weermag was nie, het ons nie in 1994 by die oorgangsfase uitgekom nie” (394). “Ek [is] van mening dat Mandela te gou uit die tronk vrygelaat is. Ek dink die ontbanning – veral van die Kommunisteparty – is te vinnig gedoen … Ons kon ‘n beter skikking by Kodesa gekry het as die onderhandelaars/regering meer eerlik was … daar was besliste wanvoorstellings en [of] noem dit ondervoorstellings. Ek dink dat De Klerk en sy groep sekere feite teruggehou het … Daar was ‘n groot oorskatting van hulle eie mag … Ek dink nie die Regering by die onderhandelingstafel het die vermoë waaroor die land beskik het, kostedoeltreffend en effektief aangewend om die onderhandelinge suksesvol te doen nie” (395). Roelf Meyer was “‘n ‘kindjie’ wat nie geweet het hoe om dinge te hanteer nie – hy het nie regtig die vermoë gehad nie” (396).

[* Volgens my kennis het FW de Klerk bitter min steun in eie geledere gehad toe hy op 2 Februarie 1990 sy toespraak gelewer en daarna die grondwetlike onderhandelinge deurgevoer het. De Klerk beweer die teenoorgestelde. In ‘n toespraak in 2000 naby Hermanus het De Klerk gesê: “Eerstens het ek seker gemaak dat my party, my mense en die staat agter my staan. Toe het ek seker gemaak dat die meerderheid van die wit mense agter my staan. En toe kon ek Mandela vrylaat en die risiko van onderhandelinge aandurf” (Frederik van Zyl Slabbert, Duskant die geskiedenis, Kaapstad: Tafelberg, 2006, p 22). Georg Meiring se reaksie was: “Hel, hy vat ‘n bietjie kortpad met die waarheid” (22). By ‘n ander geleentheid het De Klerk aan Meiring gesê: “Ons hoef regtig nie so maklik in te gegee het nie” (36). Meiring het soos volg gereageer: “Maar jy het nooit jou sterk basis gebruik om vanuit mag te onderhandel nie, jy het nooit die militêre magte gebruik as ‘n magsbasis wat jy tot jou beskikking gehad het nie, jy wou dit nooit gebruik nie” (36).]

Roelf Meyer was agtereenvolgend president van die Afrikaanse Studentebond, voorsitter van die Junior Rapportryers, president van die Ruiterwag en lid van die AB. “As dinge gebly het soos dit was … sou ek waarskynlik president van die land geword het” (398). Tussen die AB en die NP was “daar ‘n sekere verweefdheid” (399). “Die Nasionale Party [het] die Broederbond gebruik … om standpunte te toets” (399). “Pieter de Lange en Johan Heyns [was] die Nasionale Party … voor in hulle denke en dade … die AB vinniger wou beweeg” (399). Hy verwys na “die invloedryke rol wat die Broederbond onder die leiding van Pieter de Lange gespeel het om die klimaat voor te berei vir verandering” (399-400). Johan Heyns en andere ]het] ‘n baie groot invloed uitgeoefen … op die verandering van begrip by mense” (400). “Was daar ‘n meesterplan toe die Regering ná Februarie 1990 tot die onderhandelinge toegetree het? ‘Nee, ons het nie ‘n plan gehad nie. Ons het vir twee en ‘n half jaar voortgeploeter met dieselfde paradigma van hoe jy groepsregte en minderheidsregte in Suid-Afrika kan beskerm'” (400). “In die tydperk wat die Referendum in 1992 voorafgegaan het, kan ek met redelike sekerheid sê dat die Afrikaner-Broederbond ‘n groot rol gespeel het om mense rustig te maak oor die vraag waarom daar verandering moet kom … Nadat die KP’s en ander regsgesindes uit die AB is, het mense soos Pieter de Lange, maar selfs ouens op grondvlak … ‘n positiewe rol gespeel” (401). Die NP-kabinet was nie eensgesind oor die 1992-referendum nie – dit was De Klerk se “kampanje” en sy besluit (401).

Francois Retief, ‘n vorige rektor van Medunsa, sê: “Toe die AB aan die begin van die negentigerjare besluit het om geheimhouding af te skaf, het ek gedink dat dit ‘n fout is, omdat ons toe ‘n tydperk ingegaan het waar dit juis nodig was” (404). Pieter de Lange “wou van die AB-las om sy nek ontslae raak … terwyl ek gedink het ons moet ons skuiwe so maak dat ons met die AB deur moeilike tye kon loop” (405). “Ek is oortuig daarvan dat dinge vir die Afrikaner in ‘n verkeerde rigting loop” (405). Die AB “het hom grootliks op [in] die semi-politieke sfeer laat geld” (405). Iemand het van Roelf Meyer gesê: “Jy moet sien dat daardie mannetjie gaan klim vir ‘n belangrike pos, maar hy is nie ‘n groot gees nie!” (406). Dít het in Retief se “agterkop bly hamer en veral deur die onderhandelinge en die uitkoms daarvan gestalte gekry” (406).

Johann Rupert se onderhoud is vir my teleurstellend. Hy was nooit ‘n AB-lid nie en was glo altyd teen apartheid gekant. “Die HNP (Herstigte Nasionale Party), dr [Albert] Hertzog en Jaap Marais was nie mense met wie ek enigsins iets gemeen gehad het nie … Ek is baie nader aan Russel Botman wat Afrikaans praat en ‘n bruin man is. Nou, is hy ‘n Afrikaner of nie? Nie volgens die logika van die Broederbond en regsgesindes, glad nie. Ek is baie nader aan die Kaapse Kleurling as aan mense wat in Beeld en Rapport uitkom vir hulle kranksinnige regse gesindhede … Ons sou nie meer vandag voortbestaan het as dit nie vir die drastiese stappe in 1990 was nie” (407). “Apartheid was ‘n tragedie vir die Afrikaner … Ek is bly dat dit ‘n Afrikaner (FW) was wat daarvan ontslae geraak het … FW het ons gered … Daar is egter flaters begaan, waaronder die toegif tot ‘n verkiesingsdatum nog voordat die onderhandelinge of die Grondwet gefinaliseer is … Die Nasionale Party was goedgelowig en naïef tydens die onderhandelinge – hulle het kinders by die onderhandelinge gehad” (408). “As die Afrikaners vandag almal loop, val hierdie land in sy maai” (409).

Chris Stals, ‘n vorige president van die Reserwe Bank, openbaar ‘n mislike distansiëring van Afrikaners. “Ek was … nie ‘n lid van die AB omdat ek ‘n Afrikaner is, of omdat die AB Afrikaners was nie. Ek was lid van die AB omdat ek ‘n ekonoom is” (410). “Ek het ‘n sakebenadering tot die AB gehad … Dit het by my glad nie gegaan oor Afrikanerskap of Afrikanerwees of enigiets van daardie aard nie … Ek is baie meer ‘n kosmopolitiese mens en ek is baie meer internasionaal en so aan, as om te voel dat ek streng by ‘n klein groepie mense betrokke is wat hulself Afrikaners noem” (411). Stals is blykbaar iemand wat in die waan verkeer dat hy ‘n te groot vis vir die klein dammetjie van die Afrikanerdom is. “Ek het respek vir verskeidenheid – en daaroor het ek nie ‘n vreeslike sterk gevoel oor Afrikanerwees nie … Ek wil hê ons moet almal deel wees van ‘n groter gemeenskap en so aan” (412). “Ek vereenselwig my nie [met Afrikaneridentiteit] nie … ek dink dis onvolwassenheid … ek nie meer daardie eng gevoel kan hê nie – ek leef nie daarmee saam nie … na hulle grootwordjare het hulle nie die moeite gedoen of die wil gehad om daarvan weg te breek nie. Nie die studies gedoen en die intellektuele selfondersoek gedoen om weg te breek van daardie eng, bekrompe, afgebakende, klein definisie van wie en wat ek is nie. Ek is deel van die kosmopolitiese bestaan” (412) – ‘n ekonoom en wêreldburger wat klaarblyklik in sy skik met sy kulturele identiteitloosheid is. Daar is ‘n enkele toegewing: “Ek wil egter deel wees van Afrikanerskap, deur deel te wees van Afrikaans, ek wil Afrikaans praat, ek wil dit bevorder, maar ek wil dit nie in ‘n groepie definieer nie” (413). Soos te wagte, het Stals net lof vir Pieter de Lange (413-414).

DFM (Danie) Strauss was ‘n filosofie-dosent aan die Universiteit Vrystaat. Hy is positief oor die transformasie van Suid-Afrika ondergaan het en die rol wat die AB daarin gespeel het. Hy is een van diegene wat in die nuwe politieke bedeling uit die AB getree het. “Dit was die kulturele bedreiging van die Afrikaner se lewensruimte wat hulle laat soek het na ‘n uitlewing van die eie” (418). By Kodesa het die ANC “baie meer gekry … as waarvoor hulle gehoop het … Dat die wit onderhandelaars in dié konteks ore aangesit is, is te wyte aan hulle onervarenheid” (421). “Die AB het sy relevansie grootliks verloor, terwyl hy homself nie voldoende krediet gegee het dat hy die mees sinvolle en konstruktiewe staatkundige uitkoms help bemiddel het nie” (421; ook 426).

Slot: Eintlik praat feitlik niemand daaroor nie maar Afrikaners het sedert 1994 in groot mate uit die kerk geëmigreer, hoewel glad nie in dieselfde mate uit hulle geloof nie. Gemeentes het gekrimp met hoofsaaklik bejaardes wat nog daarin ‘n tuiste vind. Ouetehuise is nou dikwels die hoofwartiere van evangeliebediening. Die kerkklokke het stil geword. Op ‘n soortgelyke manier het die AB deurlopend agteruit geboer. Die AB het onmiskenbaar ‘n “broederskap van bejaardes” geword (94); “‘n handvol hoofsaaklik wit bejaarde mans” (267) wat te oud is om kinders te kry wat gewillig is om die AB aan die gang te hou. Die sterwensuur van die AB kruip al hoe nader. Weens ‘n gebrek aan aanvraag, behou die AB grootliks sy eksklusiwiteit. Die lede kan terugkyk op baie goeie én minder goeie dinge wat die AB oor ‘n eeu heen vermag het. Terwyl dit in die vorige politieke bedeling vir my dikwels moeilik was om met die doen en late van die AB te vereenselwig, het ek deesdae groter waardering vir diegene wat steeds met die AB assosieer en hulle openlik vir die belange van veral die Afrikaner beywer.

Dan Roodt: Indrukke van Nederland

Onlangs het ek drie weke in Amsterdam deurgebring. Daar is sekerlik geen ander land — behalwe miskien die Vlaamse streek in België — waarvan die geskiedenis so nou met ons s’n verweef is nie. Sonder die Nederlandse V.O.C., sou daar geen volksplanting in 1652 en geen Suid-Afrika gewees het nie.

Die eerste opvallende verskil met die huidige Suid-Afrika is dat Nederland veel beter en meer modern georganiseer is. Onder die ANC-bewind het ons tot die vlak van ‘n derdewêreldland verval, met ‘n outydse, magtige (en swart) burokrasie wat die bevolking administreer en verdruk. Vir my koms na Europa moes ek ‘n magdom geboortesertifikate vir my kinders van Binnelandse Sake in ‘n stink, chaotiese kantoortjie in Randburg aanvra. In Nederland geskied die meeste van jou interaksie met die staat, die munisipaliteit of die administrasie aanlyn. Naby die plek in Amsterdam waar ek en my gesin tuisgegaan het was ‘n kantoor van die “gemeente” oftewel munisipaliteit. Dit was skoon, netjies en modern. Ook sonder toue mense wat wag.

Amsterdam is ‘n bekoorlike, gesofistikeerde en kultuurryke stad wat jaarliks deur miljoene mense van regoor die aardbol besoek word. Oor die algemeen is die mense vriendelik en behulpsaam. Net hier en daar het ek ‘n onbeskofte of afsydige persoon teëgekom.

Nederland is natuurlik sinoniem met fietse. Oral is daar tweewielrytuie in sogenaamde “fietsstallings”. Veral by die Centraalstation van Amsterdam kan honderde, indien nie duisende, fietse opgemerk word wat daar gelaat is, terwyl die eienaars iewers heen met ‘n trein vertrek het. Openbare vervoer soos treine, trems (hulle noem dit “trams”) en busse werk goed en mens kan selfs laataand nog gemaklik elke tien minute of wat ‘n trein of ‘n trem haal.

Naas feitlik elke pad, is daar ‘n fietspad of -baan waar fietsers mag ry. Die meeste verkeersligte bevat drie soorte ligte: een vir motors, een vir fietse en een vir voetgangers. Dit neem ‘n rukkie om daaraan gewoond te raak, maar dis ‘n baie logiese stelsel.

Nederland is ook veilig – so anders as Suid-Afrika. Ek het nêrens bedreig gevoel nie. Hoewel daar ‘n toenemende aantal Moslems, swartes en ander immigrante in Nederland verkeer, is die soort geweld en wetteloosheid wat ons in Suid-Afrika ervaar, eenvoudig ondenkbaar. As mens daaraan dink dat daar in Nederland maar 110 moorde per jaar plaasvind, teenoor 19 000 in Suid-Afrika, dan besef jy dat daar ‘n hemelsbreë verskil in misdadigheid is.

In Nederland is daar so te sê volle indiensneming. Volgens beskikbare syfers van die owerheid bestaan daar 250 000 vakatures wat nie gevul kan word nie. Oral in Amsterdam, by winkels en ander ondernemings, het ek plakkate gesien wat ‘n “leuke baan” adverteer. Derdewêreldimmigrante word egter by voorkeur nie in diens geneem nie, omdat hulle nie oor die nodige kwalifikasies beskik nie, maar ook omdat werkgewers agterdogtig teenoor hul werksetiek staan. Hoewel Nederland ‘n polities korrekte beeld uitstraal, bestaan daar dus tog iewers ‘n “voorkeur vir blankes” as dit by indiensneming kom.

Aan die ander kant is daar ‘n skokkende hoeveelheid gemengde pare in Nederland, met vele “nuwe kleurlinge” wat uit sulke huwelike of saamwoonverhoudings gebore word. Dikwels het ek op straat gewonder wat ‘n mooi, lang, blonde Nederlandse meisie of vrou in die swartman of Surinamer aan haar sy sien. Maar soos in Suid-Afrika, moedig die media en die advertensiewese vermenging aan as “iets normaals” en selfs wensliks.

Blykbaar is dit net Afrikaners en suidelike Amerikaners wat afsydig staan teenoor rasvermenging, miskien vanweë ons eeue lange ervaring van die ongeluk en verval wat daarmee gepaardgaan; in Wes-Europa gaan mense nog harde lesse in dié verband leer.

Hoewel vele jong Nederlanders en studente “regs” is en vir die Partij voor de Vrijheid (PVV) van Geert Wilders stem, verkeer die media en universiteite steeds in die hande van linkses. Tydens my verblyf in Amsterdam het ek ‘n demonstrasie daarvan gesien toe die minister van buitelandse sake, Stephanus Abraham (Stef) Blok hom tydens ‘n privaat geleentheid negatief oor immigrasie en derdewêreldimmigrante uitgelaat het. Onder andere het Blok gesê dat hy “geen multikulturele of multietniese land ken waar mense vreedsaam met mekaar saamleef nie”. Volgens sommige Nederlandse koerante sou hy selfs “genetiese redes” daarvoor aanvoer.

Verder het Blok gemeen dat Suriname, die voormalige Nederlandse kolonie met sy grotendeels swart en kleurlingbevolking, ‘n “mislukte staat” sou wees. “En dit het veral te make met die etniese samestelling,” het Blok gesê. Hy het Singapoer geprys omdat dié land “geen arm migrante toelaat nie, moontlik wel as skoonmakers.”

Die hoofstroommedia het onmiddellik histeries geraak. Selfs al het Blok noodgedwonge verskoning gemaak in ‘n brief aan die Tweede Kamer (die Nederlandse Volksraad) dat hy hom “in te skerp bewoordinge uitgelaat het”, het die pers so min of meer sy kop geëis. Die dagblad Het Parool, het dit op sy voorblad uitgedruk met die woorde: “Blok heeft spijt, maar is het genoeg?”

‘n Poging om ‘n mosie van wantroue teen Blok te laat aanneem deur die Tweede Kamer op 5 September 2018 het egter misluk, aangesien dit slegs die steun van die linkse partye, by name GroenLinks, die PvdA (Partij van de Arbeid) en die Partij voor die Dieren kon verwerf.

Soos elders in Europa, waar vernuwende denke meesal aan die regterkant van die politieke spektrum te vinde is, verkeer Links meerendeels in die verlede en hang die negentiende-eeuse sosialisme en kommunisme aan. Dit geld ook Suid-Afrika waar min of geen van die linkse partye hulle aan die toenemende krisis in ons land steur. Vir hulle gaan dit nog steeds om anti-apartheid, die Mandelakultus of Afrikaners wat bestraf of gestigmatiseer moet word. Die twee partye wat die meeste kommentaar oor Suid-Afrika en Afrikaners lewer, is die PVV van Geert Wilders en Forum voor Democratie van die jong politikus, Thierry Baudet.

Soos in Frankryk, Duitsland, Groot Brittanje, Swede en ander lande, is die enigste partye of groepe wat in Afrikaners belangstel of ons belange op die hart dra, diegene aan die regterkant van die politieke spektrum. Daarom het ons geen ander keuse as om met hulle saam te werk nie.

Daar bestaan ook ooreenkomste tussen Nederland en Suid-Afrika sover dit media en politiek betref. Die Engelse media in Suid-Afrika wat tans ANC-beleid propageer, is verlinks, anti-Westers, sosialisties en selfs kommunisties plek-plek, met die Afrikaanse media nie ver daarvandaan nie. Ons en die Nederlanders voer dus dieselfde tipe stryd net om gehoor te word en om ons as ‘n nasionale groep te handhaaf. Hoewel Nederland steeds oor ‘n eie, soewereine koninkryk beskik, is die land egter ondergeskik aan die Eurokrate van Brussel aan aan groter moondhede soos die VSA wat Nederland as ‘n klein landjie kan hiet en gebied.

Die grootste onderneming in Nederland – en in die hele Europese Unie! – is Koninklike Olie, oftewel “Royal Dutch Shell” soos dit op Engels bekendstaan. Shell is ‘n multinasionale maatskappy wat regoor die aardbol handel dryf, Engels as voertaal het en uitgelewer is aan die geopolitiek. In 2013 was Shell eerste op die Fortune Global 500-lys van die wêreld se grootste maatskappye, met ‘n omset van $556 miljard, ‘n bedrag wat gelykstaande was aan 84% van Nederland se BNP. Trouens, Shell se omset is rofweg twee keer so groot soos die hele ekonomie van Suid-Afrika!

Omdat Nederland via sy groot globale maatskappye soos Shell, Philips en Unilever so sterk deel uitmaak van die internasionale ekonomie, is die land ewe seer uitgelewer aan verengelsing en politieke korrektheid. Die Anglo-Amerikaanse oorheersing van die land is dus minder direk en ooglopend as by ons, maar nie minder skadelik vir die Nederlandse taal, kultuur en identiteit nie. Nie lank gelede nie, het Nederlanders die Swede verbygesteek as die tweedetaalsprekers wat die beste Engels magtig is. In Amsterdam wat toenemend deur toeriste oorval word, is dit soms irriterend hoe vinnig Hollanders met jou wil Engels praat as hulle hoor dat jy oor ‘n ander tongval beskik.

Verwoerd is in Amsterdam gebore en is, naas Paul Kruger sekerlik, tot vandag toe die mees gehate Afrikaner omdat hy dit durf waag het om teen Britse oorheersing in Suid-Afrika op te staan en insgelyks nie die dreigende Afromarxistiese revolusie wou aanvaar nie. Ná die tweede wêreldoorlog het vele Nederlanders na Suid-Afrika geëmigreer. Ook tydens en net ná die tweede vryheidsoorlog was daar sterk bande tussen Nederlanders en Afrikaners.

Hoewel daar vele struikelblokke bestaan, glo ek vas dat daardie gemeenskaplike Dietse identiteit van Afrikaners en Nederlanders – om van Vlaminge nie te vergeet nie – kan herleef. Dit hang van ons af of dit gaan gebeur of nie.

Dis ‘n ander groot onderwerp, maar ons moet besef dat die Afrikaner eintlik ‘n Europeër is, op ‘n manier wat Britte en Engelssprekendes nié is nie. Al woon ons reeds byna vier eeue op die Afrikakontinent, het ons in ons denke en in ons bloed getrou aan Europa en ons Dietse afkoms gebly en eintlik niks van Afrika behalwe die son en buitelug ons eie gemaak nie. Elke Afrikaner wat Nederland besoek, behoort dit binne enkele ure te besef.

Leon Lemmer: Julian Langness oor massa-immigrasie en JK Rowling

By ‘n vorige geleentheid het ek oor Julian Langness se boek, Fistfights with Muslims in Europe: One man’s journey through modernity (2016) geskryf (Praag 17.04.2016). Dieselfde rubriek handel ook oor ‘n boek van Bruce Bawer. Wat hierdie twee outeurs, afgesien van Amerikaanse burgerskap, gemeen het, is ‘n verwantskap met Noorweë. Langness het Noorse voorouers terwyl Bawer in Noorweë woon. Maar ‘n ander ooreenkoms is hier van belang: Albei het boeke gepubliseer oor die kulturele aftakeling wat veral Moslem immigrante in Europa veroorsaak.

Volgens Langness stel die Moslem-immigrante hulle religie bo alles. Hulle beoog die Islamisering van Europa, dus “to restore the caliphate” (Kindle 491). Histories is dit gedoen deur “to either kill or convert” nie-Moslems (491). Langness verwys na “large populations of immigrants displaying a combination of very high birthrates and very low labor participation rates” (528). Volgens hulle moet van “white supremacists” ontslae geraak word (2343). In laaste instansie is die doel “the abolition of whiteness” (2334). In Moslem-lande het nie-Moslems tweedeklas-burgerskap, Dhimmitude genoem, wat herinner aan die tweedeklas-burgerskap wat blankes in die nuwe Suid-Afrika het. In ons geval is die diskriminasie nie op religie gebaseer nie, maar op ras, wat dit ‘n erger vergryp behoort te maak. “Newspapers ‘were expressly forbidden to mention a person’s ethnic or immigrant background in reports on criminal cases lest a bad image be projected’ … If Norwegians were given the facts, it ‘might trigger racist responses'” (861). In Suid-Afrika is dit sedert 1994 algemene praktyk dat die ras/kleur/vreemde nasionaliteit van misdadigers nie genoem word nie.* Langness skryf tereg “The longing for tribe and heritage is one of the most innate drives that we as humans possess” (73). Ten spyte van giftige propaganda moet blankes hulle selfrespek behou (765). Sy pessimistiese gevolgtrekking oor Europa is: “A culture that is unwilling to fight for its survival does not deserve to survive” (1346). Dit kan ook op Afrikanerkultuur van toepassing wees. [* In die Weste is linkse elemente ferm in beheer van “the academy, the entertainment industry and the press” (Boek in volgende paragraaf, Kindle 2069) – ook in Suid-Afrika.]

Identity rising

Die voorafgaande paragraaf is op my genoemde vorige rubriek gebaseer omdat Langness in sy twee latere boeke, wat ek hier onder bespreek, hierdie standpunte herhaal. In Identity rising: How Nationalist Millennials will re-take Europe, save America, and become the new ‘Greatest Generation’ (St Paul: ES Linden, 2017, 337p; Amazon Kindle $1,14) is Langness skynbaar optimisties. Namate die getal en persentasie van Europa se nie-blanke bevolking toeneem, kom die syns insiens onvermydelike burgeroorlog nader, wat volgens hom deur die tradisionele Europeërs gewen kan/gaan word. Hy veronderstel die tradisionele Europeërs beskou hulleself “as a distinct singular group – an ‘us’ – worthy of fighting and dying for” (Kindle 808). Met die oog hierop bepleit hy ‘n terugkeer na manlikheid. Soos Friedrich Nietzche (1844-1900) het hy dit teen “men without chests” (971), oftewel mans sonder die spreekwoordelike knaters. Die kulturele marxiste, daarenteen, “declared masculinity ‘toxic’, and claims that gender differentiation should be abolished” (2352).

Francis Fukuyama het in sy boek, The end of history and the last man (1992), geskryf oor “the end point of mankind’s ideological evolution and the universalization of Western liberal democracy as the final form of human government” (962). Na die Moslem-geïnspireerde 9/11-aanvalle het George Will opgemerk, “history had returned from vacation” en Fareed Zakaria het dit beskryf as “the end of the end of history” (979). Die “law of the jungle” het met die 9/11-gebeure in Amerika, die voorste Westerse land, toegeslaan (989, 1007). Daar het hierna klaarblyklik heelwat werk voorgelê om die fondamente van Westerse beskawing te verstewig. “‘Cultural-nationalism’ … opposes the third-worldization of the West and the purposeful destruction of Western culture” (2326).

Die stryd teen Kritiese Teorie, oftewel kulturele marxisme (bv in die gedaante van politieke korrektheid en regstellende aksie), is sedert 9/11 (2001) met hernude ywer hervat. “In this system of belief, blacks must take black power and wield it over whites, women must do the same over men, gays over straights, and so on. Obviously such examples point to the depths of insanity that modern progressivism has reached” (1025). “Progressivism at its core is nothing more than a nihilistic form of cultural suicide” (1034). “Indeed many have called progressivism nothing more than a new and perverted form of turn-the-other-cheek Christianity, where white racism has replaced original sin, and the suicide of the West as atonement for that original sin has replaced the rapture and ascendance to heaven” (1043). Kulturele marxiste noem “disloyalty toward family … faith … race … [and] nation” (1043) as voorbeelde van “open mindedness” (1052).

Langness se “obsession with Europe” (27) lei hom tot die gevolgtrekking dat dit die moeite werd is om vir die oorlewing van Europese kultuur te veg. Wat hy voorsien, is dus anders as wat plaaslik op so ‘n skandalige wyse plaasgevind het, naamlik dat FW de Klerk weens die wanhantering van die onderhandelinge sonder slag of stoot oorgegee het. Selfs die veel geprese Grondwet laat blykbaar die owerheidsdiefstal van blankes se eiendom toe. Wat my in ‘n sin met droefheid vervul, is dat die multikulturalisme in Europa te laat gekom het. Europese lande het deur die bank apartheid verdoem omdat daar in daardie destydse grootliks monokulturele samelewings geen begrip was vir die diepgaande kulturele verskille tussen Europeërs en nie-Europeërs nie.

Die huidige situasie in Europa toon ook dat die assimilasie en rasse-integrasie van nie-blankes in blanke samelewings in groot mate nie plaasvind nie; dat die dogma van rasse-integrasie as iets natuurliks ‘n mite van die kulturele marxiste is. “This was especially apparent to anyone who actually spent time in majority non-white areas, where blacks, Hispanics, and Muslims (especially in Europe) almost universally self-selected into homogenous communities, and treated passersby of other races with suspicion and often aggression” (1744). In Suid-Afrika maak die ANC en sy kornuite, soos Jonathan Jansen, hulle egter skuldig aan militante gedwonge rasse-integrasie. Greg Johnson stel die teenoorgestelde standpunt, ook namens Afrikaners, pragtig: “It [is] natural, normal, and right for us to love our own and to be concerned with the future of our people” (2435). Tussen die Weste (bv Amerika en Europa) en Suid-Afrika is die groot verskil dat die blankes daar nog in die meerderheid en polities in beheer is terwyl die demografiese winter (2714) reeds lank sy verbete greep op Suid-Afrika het.

Blank Europa se jong en middeljarige mense raak al hoe meer gatvol vir die situasie waarin hulle hulle bevind. “Being born in the 1980’s and early 90’s, they were the first generation that had known what was popularly called ‘multiculturalism’ since birth. While celebrated across the West as the ultimate fulfillment of liberal-democracy, this ‘diversity’ had been anything but rosy for them … they were … taught that they were ‘privileged’ as white Europeans, and that they had been born into a history of racism and oppression, and countries still steeped in each, which it was their duty to make up for” (86). Al hoe meer Europese blankes beskou hulleself as lede van “Generation Identitaire” “staging provocative public protests against what they viewed as the evils being perpetrated upon Europe” (95). In die hoofstroom-inligtingsmedia word hulle gedemoniseer as “Neo-Nazi’s” en veral in Duitsland is daar drakoniese wette teen “haatspraak” om sulke bedrywighede aan bande te lê (103). Dít is die lot van mense wat hulle vir vanselfsprekendhede soos “secure borders, secure future” beywer (111).

Soos ander behoudende skrywers noem Langness veral Wes-Europa “Middle-Earth” (270). Dit verwys na JRR Tolkien (1892-1973) se benaming vir die fiktiewe sentrale kontinent in die noorde in sy boeke The Hobbitt (1937) en The Lord of the Rings (1954/5). In die suide is “Dark Land.” Tolkien is in Bloemfontein gebore, gevolglik het hy seker geweet waarvan hy praat. Dit is die voortbestaan van die tradisionele inwoners van hierdie kernkontinent, Europa (en Wes-Europa in veel groter mate as Oos-Europa), wat tans deur massa-immigrasie bedreig word. Ek moet byvoeg dat Langness na my mening te veel verskillende soorte generasies probeer onderskei en beskryf en dat hy, ook deur te veel herhaling, neig om ‘n oorpropagandistiese indruk te wek.

Daar is frases wat treffend is en ‘n mens bybly, bv “Homosexuality was not just tolerated but sentimentalized and celebrated” (414) en Harold Rosenberg se “herd of the independent minds” (356). Die pro-massa-immigrasie dwase “saw – or wished to see – their own generosity and ‘humanitarianism’ reflected back at them” (448). “They blamed the immigrant violence [including terrorism – 602] on ‘European racism'” (555) en is vervul met self-haat (565). Guillaume Faye noem hierdie verskynsel “ethno-masochism” (565) – masochisme is die “abnormale geestesgesteldheid waarby liggamlike mishandeling of vernedering van die self ‘n noodsaaklike middel vir … bevrediging en geluk … is” (HAT). Die Arabiese woord “asabiya” word gebruik vir “the concept of collective solidarity … the ability of its [a group’s] members to stick together, to cooperate; it allows a group to protect itself against the enemies, and to impose its will on others … aggressive and defensive strength is obtained only through … the mutual affection and willingness to fight and die for each other” (808).

Oor saamstaan/solidariteit is daar by Afrikaners groot ruimte vir verbetering. Enoch Powell het reeds in 1968 in Brittanje teen massa-immigrasie gewaarsku en met verwysing na die Britse kiesers genoem:”They were never consulted, they found themselves made strangers in their own country” (491). “They were now the unwanted. They now learn that a one-way privilege is to be established by an act of parliament” (499), soortgelyk aan die benadeling van blankes en die eensydige bevoordeling van swartes sedert 1994 in Suid-Afrika. In Brittanje en Wes-Europa is daar volgens Langness “the spectacle of mass-immigration … carried out against the wishes and best interests of the native citizenry” (519).

Volgens Langness is kulturele rehabilitasie in sommige Wes-Europese lande nie meer moontlik nie. “Germany, Sweden, the Netherlands, Belgium, France, and the UK are too far gone” (3003). Daarmee erken Langness eintlik dat die Westerse hart uit Wes-Europa geruk is; dat Westerse kultuur eerder, of langer, in Oos-Europa sal oorleef. Hy probeer egter moedig om optimisties te wees, mits ‘n ommekeer spoedig kom. “The transformation of society can begin with a small dedicated minority” (3164) – ‘n gideonsbende; ook in die geval van die Afrikanerdom? Dit kan/moet “metapolitical ‘meme warfare’ insluit (3184); iets waarmee Praag reeds sedert 2000 besig is. “Without such a turnaround it will be too late, and by the time my 5 year old son is my age, hugh swaths of the West will have been destroyed, or at least changed into something that can no longer be called the same” (3044).

Langness voorsien dat Amerika in nasiestate/tuislande kan opbreek. “There might be a Hispanic nation in the southwest, a nation purely for African-Americans somewhere in the south, a European-American nation somewhere else, and multiple other small states, which could choose the direction they best saw fit” (3318). “I would view such a future breakup positively, specially if it prevented worse outcomes” (3335), soos nie-blanke oorheersing. “The worst-case scenario for America is that progressivism is triumphant … America would likely devolve into an even more pronounced high-crime, low-trust society. Mass-immigration would continue, eroding the asabiya of the nation until nothing is left. Everyday life would likely be like Brazil or South Africa … there would be massive crime, massive suffering, and little-to-no way to turn things around” (3335).

Daar het ons dit: Suid-Afrika as die slegste moontlike scenario vir Amerika, “soulless darkness” (3590), en dit is geskryf voor die aankondiging van die beoogde owerheidsdiefstal van blankes se eiendom. Wat ek moeilik vind om te verstaan, is dat daar volwasse blankes met (‘n mate van) skynbare verstand is wat op die ANC se beoogde onteiening sonder vergoeding reageer deur te sê hulle moet eers oor die besonderhede ingelig word voordat hulle weet wat om daarvan te dink; maw hulle is nie op beginsel teen misdaad, by name diefstal, gekant nie. Ander sê Cyril Ramaphosa se aankondiging moet deeglik gelees word. Dan blyk dit glo dat die gevolge nie so erg gaan wees nie.

Die fatale fout wat gemaak word, is dat veronderstel word dat die ANC ‘n betroubare entiteit is, dat wat die ANC sê en wat hy doen identies is. Die ANC het bv gesê hy sou geweldpleging tydens die 1990/94-onderhandelinge opskort, maar het sy geweldpleging onverminderd voortgesit. Die ANC is ‘n hoogs immorele instansie wat homself loof as hoogs moreel maar hom in werklikheid opportunisties as nie-onderhewig aan Westerse waardes soos integriteit ag en met niks vertrou behoort te word nie; veral nie met die belange van blankes nie. Die amptelike loslating in die Suid-Afrikaanse samelewing van die beginsel van die “regmatige” toe-eiening van iets in ruil vir niks gaan die land (verder) vernietig.

The coming war in Europe

‘n Bundel met 18 van Langness se opstelle is gepubliseer en is gratis beskikbaar: The coming war in Europe: Essays on Europe’s coming destabilization and internal confrontation with Islam (St Paul: ES Linden, 2017, 153p; Amazon Kindle $0). Sy hooftema is weer massa-immigrasie. Sommige van sy statistiek en stellings mag oordrewe voorkom, maar hulle toon ‘n neiging wat voltrek word, al sou dit dalk langer duur as wat hy voorspel. Langness noem dat 30% van die Sweedse bevolking van nie-Sweedse oorsprong is (68) en dat die meeste tradisionele Swede 60+ jaar oud is, terwyl die nie-Swede meesal jonk is (75). “The Swedes will become a minority in their own country within 2041” (97). “In Sweden, ‘politically correct’ is an obsession worthy of demonic possession” (527).

“German 20-35 year-old’s will be a minority in that country by, at the latest, 2020” (113). Anders as in Frankryk, is daar in Brittanje groter verdraagsaamheid oor Moslemdrag: “:The UK police will now [2016] employ Burka-clad female officers in their ranks” (1074). David Cameron, die Britse Konserwatiewe eerste minister (2010-2016), het dit reggekry om die volgende stommiteit kwyt te raak: “It is mainstream Britain which needs to integrate more with the British Asian way of life, not the other way around” (1483). Interessant is die feit dat van Wes-Europese lande verwag word om sogenaamde vlugtelinge as immigrante te aanvaar, terwyl nie ‘n enkele van die Golfstate in die Midde-Ooste dit vir hulle mede-Moslems doen nie (486).

Langness verwys na Guillaume Faye se boek, The colonisation of Europe (2016), bv sy begrip van “ethno-masochism” wat “white self-hatred” beteken en die leerstelling van “miscegenation as Supreme Value” tot gevolg het (197). Die Moslems in Frankryk “are very well aware of the fact that they are conducting an ethnic civil war and that their goal is to aggress against the indigenous peoples” (203). Baie blanke Franse se “limitless self-hatred and ideologically-driven guilt mean that any action by immigrants, no matter how horrible, can be explained by them as being caused by white racism” (203). Die progressiewes redeneer: “Immigrants struggle only because of structural inequality and racism, they commit crimes and become terrorists because they are excluded, once they feel as though they belong they will become fully integrated” (210). Sulke redenasies word geopper ten spyte van die feit dat “terrorism is now a part of life in Europe” (1427).

Faye dink nie enige van die “oplossings” wat vir die massa-immigrasie vraagstuk voorgestel word, sal slaag nie. “They include everything from a continuation of the status quo, to the utopian notion of the successful assimilation, to peacefully co-existing parallel societies within the same nation, to the idea of paying migrants to return home (as Norway has attempted to a small extent)” (223). “Only by inserting an additional variable into it can it [the problem] be solved. To Faye, that variable is civil war” (230), dus die herowering van hulle kontinent deur die Europeërs. Burgeroorlog sal uitbreek “when there was a confluence of three events: (1) when security forces are no longer able to contain Muslim criminality and aggression; (2) when the Muslims become powerful enough that they start demanding and imposing concessions upon society and the goverment; and (3) when the economy begins to fall apart (likely under the weight of mass immigration/multiculturalism)” (256). Langness voeg by: “Surely Faye’s civil war will come at some point no matter what. By the time Muslims make up 80% of the population, can any of us imagine native Europeans living with them free and unmolested?” (282). Die tragedie is dat swart oorheersing in Suid-Afrika [“the state as evil/Goliathesque” – 1408) reeds daardie 80%-merk verbygesteek het. Die plaaslike blankes lewe sekerlik nie “free and unmolested” nie.

Viktor Orban, die eerste minister van Hongarye, het die situasie in Europa raak opgesom: “For us today, what is at stake is Europe, the lifestyle of European citizens, European values, the survival or disappearance of European nations, and more precisely formulated, their transformation beyond recognition. Today, the question is not merely in what kind of a Europe we would like to live, but whether everything we understand as Europe will exist at all” (562).

Samuel Francis het soos volg oor die situasie in Amerika geskryf, wat in verskeie opsigte aan die nuwe Suid-Afrika herinner: “What we have in this country today … is both anarchy (the failure of the state to enforce the laws), and, at the same time, tyranny – the enforcement of laws by the state for oppressive purposes; the criminalization of the law-abiding and innocent through exorbitant taxation, bureaucratic regulation, the invasion of privacy, and the engineering of social institutions, such as the family and local schools; the imposition of thought control through ‘sensitivity training’ and multiculturalist curricula, ‘hate crime’ laws, gun-control laws that punish or disarm otherwise law-abiding citizens but have no impact on violent criminals who get guns illegally, and a vast labyrinth of other measures. In a word, anarcho-tyranny” (843). Langness meen omstandighede in Europa is soortgelyk aan dié in Amerika en die aanwesigheid van “no-go zones”, waarin die owerheid, bv die polisie, dit nie kan waag nie, “is a sign of a failed state” (915).

Mathieu von Rohr kom met ‘n interessant Twitter-aanhaling vorendag: “I’m tired of living in interesting times” (613). Daar word verwys na “the White Preservation movement” (1360) en ek het voorheen gewag gemaak van die wenslikheid, eintlik noodsaaklikheid, van die herwaardering van blankes, bv hulle oor die algemeen voortreflike moraliteit en hulle ongeëwenaarde prestasies in onder meer Afrika.

Wat Afrikaners vorentoe meer as ooit nodig het, is sisu. “Sisu is a Finnish word that cannot be translated metaphrastically into the English language, loosely translated to mean stoic determination, grit, bravery, guts, resilience, perseverance and hardiness, expressing the historic self-identified Finnish national character” (2072). Dit is die teenoorgestelde van sommige blankes wat “ethno-suicidalists” is (1565), dus wat met hulle gedrag die ondergang van hulle etniese groep bevorder. Wat ons as blankes moet begeer, is “eucatastrophe” wat die teenoorgestelde van “catastrophe”, soos die nuwe Suid-Afrika, is (2086).

In sy 10de opstel slaan Langness ‘n ietwat ander blaadjie om en skryf hy oor JK Rowling se Harry Potter-boeke.

JK Rowling

J.K. Rowling

JK Rowling (gebore in 1965) is ‘n Britse skryfster wat onder die skuilnaam Robert Galbraith ook misdaadromans skryf. Onder haar eie naam het sy wêreldwye bekendheid met die reeks van sewe Harry Potter-kinderboeke (1997-2007, 4195p) verwerf. Die eerste Potter-boek is deur 12 uitgewers verwerp voordat Bloomsbury ingewillig het om ‘n klein oplaag te druk. Deesdae is Rowling skatryk met reuse, luukse huise in Skotland en Engeland. Die vraag kan gestel word: Waaraan dank die Potter-boeke hulle gewildheid? Die antwoord is: Deels aan politieke byderwetsheid.

Die fantasie-element in die Potter-boeke kan in ‘n mate teruggelei word na die werke van JRR Tolkien. ‘n Deurlopende invloed op Rowling is Jessica (Decca) (1917-1996), die kommunistiese vyfde Mitford-suster, die rooi skaap in die familie. Die ander vyf Mitford-susters (Nancy, Pamela, Diana, Unity en Deborah) het nie kommunistiese neigings gehad nie; in twee gevalle (Diana en Unity) eerder simpatie met fascisme. Oor Rowling se linkse politiek is daar geen twyfel nie. Sy is ‘n ondersteuner van die Britse Arbeidersparty en die Amerikaanse Demokratiese Party. Sy is teen Skotse politieke onafhanklikheid gekant en ook teen Brexit.

Oor die Potter-boeke skryf Langness: “It proved impossible to miss their blatantly purposeful reflection of Progressive SJW-orthodoxy” (1040). SJW: Social Justice Warrior. “It was abundantly clear for all who read the books that JK Rowling wanted them to reflect the ‘progress’ of multicultural Britain that she and her ilk were so proud of, as well as serve as a warning to impressionable yound children of the evils that come from focusing on race/tribe/heritage/culture. In this regard they sought to serve as the perfect artistic metaphor or mascot for late 20th century liberal humanism … in the United Kingdom’s drive to banish all vestiges of racism, traditionalism, fascism, and homogeneity from its society during those years, its government and intelligentsia created horrors far surpassing the fictitious ones that Rowling portrayed in her books” (1052).

“Through their blind and unquestioning devotion to the religion of ‘multiculturalism’ and ‘diversity’, Rowling’s contemporaries in the UK government and media have ushered in a society more frightening than anything she wrote about in her books. This is the horrible and tragic irony of JK Rowling’s great success. Only time will tell if the people of the UK realize what has happened, and reject this real-life dark wizardry. In the world of Harry Potter, it took seven long books for evil to be defeated. Does the UK have that much time?” (1095). Langness het hierdie vraag al in 2016 gestel.

Dit is algemeen bekend dat die Potter-boeke oor bv toordery en heksery handel. Maar Rowling spreek ook haar seën uit oor bv multikulturaliteit, veelrassigheid, rasvermenging, homoseksualiteit, feminisme en internasionalisme. Dit blyk dat sy gekant is teen die uitoefening van gesag, slawerny, ras- en kulturele meerderwaardigheid, rassisme, onderdrukking, ens. Sy het beweer dat sy geen beswaar teen massa-immigrasie het nie; dat Brittanje sy grense moet oopstel en meer immigrante/”vlugtelinge” moet inneem. Sy het spesifiek teen Donald Trump se immigrasiebeleid uitgevaar. In 2017 is Rowling deur skeptici uitgedaag om van hierdie inkommers in haar ruim wonings te huisves. Daar is glo 18 ekstra kamers in haar huis in Londen beskikbaar en baie ruimte vir die oprigting van skuilings vir vlugtelinge op haar landgoed. ‘n Versoekskrif met meer as 50 000 handtekeninge is opgestel. Daar word steeds op Rowling se instemmende antwoord gewag. Sy predik oorverligte idees maar is nie bereid om op te offer en self ‘n voorbeeld te stel nie. Dit is ander mense wat die “vlugtelinge” moet koester.

Leon Lemmer: Danny Danon se verset teen terrorisme en kompromieë

Op 22 Maart was dit Wêreldwaterdag. Danny Danon, Israel se ambassadeur by die Verenigde Nasies, het toe in ‘n toespraak genoem dat Israel voortreflike kundigheid in en uitgebreide ondervinding van ekonomiese waterverbruik asook van daadwerklike droogtebestryding het. Omdat Israel ‘n dor land is, het hy uitstekende tegnologie vir optimale waterbestuur ontwikkel waarby meer as ‘n honderd lande reeds baat gevind het. Danon het ongetwyfeld kennis geneem van die waterkrisis waarin groot dele van Suid-Afrika verkeer, want hy het toe spesifiek verwys na die (kenmerkende) dwaasheid van die ANC-regering: Die ANC-regering weier om in hierdie lewensnoodsaaklike opsig by Israel se kundigheid te baat omdat die ANC hom polities by die Palestyne skaar.

In konserwatiewe of regse geledere oor die wêreld heen is daar groot verdeeldheid oor die Jode. Sowel pro- as anti-semitisme kom algemeen voor. My houding oor hierdie netelige kwessie is min of meer soos dié van die Britse diplomaat, politikus en skrywer, Harold Nicolson (1886-1968), wat met die skryfster Vita Sackville-West (1892-1962) getroud was. In my beroepsloopbaan was ek verdraagsaam genoeg om nie anti-semities te wees nie. Ek het die beginsel eerbiedig dat die akademies beste persone in akademiese poste aangestel moet word; ‘n beginsel wat sedert 1994 aan al die plaaslike universiteite versaak word. Wanneer dit gekom het by samewerking met ‘n Jood of Jodin was dit in die praktyk vir my soms bitter moeilik. Daar was altyd iets (wat moeilik spesifiseerbaar was) wat in die weg van salige harmonie gestaan het.

Nicolson was ‘n amptenaar in die departement buitelandse sake toe die Balfour-verklaring in 1917 uitgereik is. Daarvolgens het die Britse regering hom ten gunste van ‘n tuisland vir die Jode in Palestina verklaar. Nicolson se gesindheid was pro-Sionisme. “Sionisme: Oorspronklik, strewe van, beweging onder die Jode om hul eie staat in Palestina te stig, en tans om hierdie staat te ontwikkel” (HAT). Nicolson het sy standpunt soos volg verwoord: “Although I loathe anti-Semitism, I do dislike Jews” (Norman Rose, Harold Nicolson, London: Pimlico, 2006, 400p; Amazon Kindle $11.49, 1512). “This was a subtle difference,* as one thing could so easily lead to another. For all that, a trace of anti-Semitism also fuelled his Zionism – as it did with so many other Gentile Zionists. Zionism, they claimed, would repair perceived defects in the Jewish character. It would restore to the Jews their dignity, that corporate national confidence and self-respect they so clearly lacked: it would, so to speak, stiffen the backbone of the Jewish people” (1517).

[* In hierdie opsig was Nicolson buitengewoon begaaf, bv hy het George Curzon (1859-1925) as Britse minister van buitelandse sake beskryf as “a shit, but a decent one” (2714). Nog voorbeelde: “I loathe success … how far better to be a noble failure” (3863). “He had the mind of a super-criminal and the character of a saint” (4095). “It is strange that the Americans, who have such a passion for talking, should have no idea of conversation” (4102). Vita, Nicolson se lesbiese vrou, het met soortgelyke formulerings vorendag gekom. Oor Virginia Woolf (1882-1941) het sy geskryf: “I love her, but couldn’t fall ‘in love’ with her” (2774). Insgelyks skryf Nicolson: “Viti has bought her Jaguar, which is an insane thing to have done, but wise” ( Diaries and letters, 1945-1962, London: Collins, 1968, p 284). “The English do not appreciate subtlety unless it is underlined” (177). Die subtiele onderskeide wat Nicolson gemaak het, het blykbaar sy biograaf beïnvloed. Oor Nicolson skryf Rose: “Although not conventionally handsome, he was an attractive man” (4142). Nicolson word “a minor aristocrat” genoem (4294), wat my laat dink aan die meisie wat universiteit toe is om ‘n graad te verwerf en in plaas daarvan met ‘n baba by haar ouerhuis opgedaag het en haar verontskuldig het deur te sê dit is maar ‘n kleintjie.]

Om dieselfde rede bepleit ek ‘n tuisland vir Afrikaners, sodat ons ons eie heil kan bepaal, dus met selfbeskikking tot ons reg kan kom. Ek is egter glad nie so seker daarvan dat Jode selfvertroue kortkom nie. Dikwels is daar ‘n oormaat daarvan by hulle te bespeur. Rose skryf: “Once given a National Home, they would no longer misuse their considerable gifts for mischievous ends. It ‘would be a nice place,’ Harold reflected, ‘in which to collect all the Jews of the world, as Butlin’s collects the noisy holidaymakers” (1517). Butlin’s “is a chain of large holiday camps in the United Kingdom” (Wikipedia). Wat Nicolson van die Jode bewonder, is “maintaining continuity of religion and racial tradition” (1523), dus hulle behoud van identiteit, oor eeue heen. Om dieselfde rede het ek waardering vir die Jode en in die geval van die Israeli’s ook vir die manier waarop hulle hulle tuisland Israel sedert 1948 koester, ontwikkel en verdedig. In hierdie opsigte stel hulle ‘n navolgenswaardige voorbeeld aan Afrikaners.

Daar is ‘n neiging om die Suid-Afrika van weleer vanweë sy apartheidsbeleid met Nazi-Duitsland te vergelyk. Daarmee word destydse fundamentele verskille tussen hierdie twee lande geïgnoreer. Waaraan eintlik uitdrukking gegee word, is anti-blanke sentiment. Enigiets waarvan bv linkses en progressiewes nie hou nie, word rassisties, fascisties, Naziïsties, ens, genoem. Sedert die ondergang van die blanke bewind en apartheid in Suid-Afrika word Israel dikwels van apartheid beskuldig – lees bv “Israel and the apartheid analogy” (Wikipedia).

In 1948 het die Nasionale Party in Suid-Afrika aan die bewind gekom en sy apartheidsbeleid ingestel. In dieselfde jaar het Israel die internasionaal erkende tuisland vir Jode geword. Aanvanklik was daar goeie samewerking tussen hierdie twee lande omdat daar talle ooreenkomste tussen hulle was. Byvoorbeeld, in albei is die regering se voortbestaan deur verswelgengde, gewelddadige elemente bedreig; swartes in die geval van Suid-Afrika en Arabiere en ander Moslems (bv Turke, Irannese) in die geval van Israel. In albei gevalle is dit geografies ‘n lewensgevaarlike buurt om in te wees. Wat sedertdien gebeur het, is dat die blanke bewind in Suid-Afrika op verraderlike wyse ondergegaan het terwyl Israeliese Jode steeds in beheer van hulle land is.

Die vraag wat gevra kan word, is: Waarom het Afrikaners, anders as die Jode, nie meer ‘n tuisland nie? Die saaklike antwoord is: Weens die onnoselheid van ‘n klein groepie Afrikaanssprekende blankes (sekerlik nie-Afrikaners), spesifiek FW de Klerk, Roelf Meyer, Leon Wessels en Dawie de Villiers (bv Praag 17.03.2018). Israel word in die retoriek van dieselfde “euwels” as die Suid-Afrika van weleer beskuldig, bv Europese/Westerse beskawing, kolonialisme, rassisme, die onwettigheid van die regering, wreedheid en onderdrukking. Die toepassing van dubbele standaarde, asook stereotipering, demonisering en boikotte, het aanvaarde praktyk geword. Ook Israel ervaar dat terroriste verafgod (“idolized”) word en ikoniese status verwerf.

Die voortreflikste eienskap van baie Jode, afgesien van in watter land en hoe lank hulle diaspora daar is, is seker dat hulle hulle identiteit (hulle kultuur, moedertaal, godsdiens) behou. In hoeverre en vir hoe lank kan dit van Afrikaners wat hulle in die buiteland vestig, gesê word? Selfs Afrikaners wat hier aangebly het, het in baie gevalle dermate hulle trots en selfrespek verloor dat hulle bv (toenemend) geradbraakte Afrikaans praat en geen poging aanwend om blanke of Afrikanerbelange te bevorder nie.

In 1947 het die Verenigde Nasies besluit om die gebied omring deur die Middellandse See (in die weste), Libanon en Sirië (in die noorde), Jordanië (in die ooste) en Egipte (in die suide) in twee te verdeel; een deel vir die Palestynse/Arabiese Moslems en die ander deel vir die Israeliese Judaïste (historiese Israel en Juda). Jerusalem is tot internasionale gebied verklaar. Hierdie grondverdeling is op sowel etnisiteit as religie gebaseer, op ‘n tydstip toe sulke verskille nog van deurslaggewende belang geag is en nie, soos dikwels tans, goedsmoeds geïgnoreer of selfs ontken is nie. Die Israeli’s het die verdeling aanvaar en hulle landjie in 1948 onafhanklik verklaar. Die Palestyne het die bestaansreg én die grense van Israel ontken. Die Palestyne wou die hele gebied met hulle getalsoorwig beheer en het sedertdien met behulp van ander Arabiere en Moslems talle oorloë teen Israel gevoer.

Reeds met die 1948-oorlog het Israel sy grondgebied verdubbel. In die 1967-oorlog het Israel beheer oor Gaza (in die suide), die Golan-hoogland (aan die Siriese grens in die noorde) en die Wesoewer (Judea en Samaria aan die Jordaniese grens in die ooste) verkry en sy gesag oor die hele Jerusalem uitgebrei. Elke keer nadat die Arabiere tydens ‘n oorlog slae gekry het, het hulle die uitslag gevier asof hulle die oorwinning behaal het en dadelik hulle onrusstoking en geweldpleging hervat.

Danny Danon (gebore in 1971) is ‘n lid van die sekulêre, konserwatiewe Likud-party in Israel. Die Hebreeuse woord “likud” beteken konsolidasie of solidariteit. Danon was ‘n minister voordat hy in 2015 as Israel se ambassadeur by die Verenigde Nasies aangestel is. Hy het die volgende boek gepubliseer: Israel: The will to prevail (New York: Palgrave Macmillan, 2012, 241p; Amazon Kindle $7,74). Dit blyk dat hy goed ingelig is oor bv die geskiedenis van Israel en daardie land se verhouding met veral Amerika. Hy formuleer ‘n heldere en ontoegeeflike standpunt, onder meer omdat hy en sy familie (bv sy pa) baie weens Palestynse terrorisme gely en opgeoffer het.

Terwyl ek sy teks gelees het, het ek gewonder hoeveel beter die uitslag van die Suid-Afrikaanse grondwetlike onderhandelings kon gewees het as die hoofrolspelers in die NP se onderhandelingspan persoonlike verliese gely het weens die dood en verwoesting wat die ANC se terrorisme gesaai het. Die ANC se onderhandelaars is deurgaans verkeerdelik benader asof hulle voortreflike menslike mense is – iets wat terroriste nie kan wees nie – dus asof hulle in woord en daad eerlike en hoogs morele bedoelings het. By Danon is daar die onwrikbare oortuiging dat Israel as ‘n Joodse tuisland moet en sal oorleef. By De Klerk & kie, daarenteen, was daar ruggraatlose toegeeflikheid. Die wil om te sorg dat die blankes hulle selfbeskikking behou, het ontbreek. Die behoud van Westerse beskawing, die blankes en die land se belange, asook Afrikaner- en Afrikaansgetrouheid, het glad nie by die NP-onderhandelaars voorkeur geniet nie. Pleks van sulke positiewe oorwegings is daar eerder voorkeur gegee aan ‘n spekulatiewe, negatiewe illusie, te wete die vermyding van bloedvergieting in ‘n gewaande burgeroorlog.

‘n Deurslaggewende faktor in die volgehoue voortbestaan van Israel is dat driekwart van sy bevolking van bykans 9 miljoen Jode is, terwyl Suid-Afrika ‘n swart meerderheid van meer as 80% het. In die voor-De Klerk-era is gepoog om die bevolkingswanbalans te verbeter deur voorsiening vir talle tuislande vir swartes te maak. Tydens die grondwetlike onderhandelinge het die Nasionale Party aanvanklik flouweg voorbrand vir federalisme gemaak. Die ANC wou egter op grond van die oorweldigende getal swartes beheer oor die hele Suid-Afrika hê, insluitende die tuislande vir swartes. Hiertoe het De Klerk & kie ingestem, asook algemene, ongekwalifiseerde stemreg vir almal; dus ‘n onfeilbare resep vir die ondergang van blanke politieke mag. De Klerk het verder gegaan en hom by die ANC geskaar teen tuislande vir nie-swartes, bv blankes, insluitende Afrikaners.

In die Midde-Ooste het sake anders verloop. Daar is minstens drie grondwetlike opsies. (1) Die eenstaat-oplossing (dus die De Klerk-opsie) waarvolgens die Palestyne en Israeli’s in een staat saamgevoeg word, met die Palestyne getalsgewys by verre in die meerderheid, onder meer omdat miljoene Palestyne in buurstate en elders wag om na hulle tuisland terug te keer (al sou dit vir die oorgrote meerderheid geen terugkeer wees nie omdat hulle in die buiteland gebore is). Die Joodse Israeli’s is nie so onnosel om “die wonderwerk van die nuwe Suid-Afrika” as voorbeeld na te streef en hulleself polities en andersins te ontman nie. (2) Die tweestaat-oplossing soos in 1947 deur die Verenigde Nasies in die vooruitsig gestel; dus twee polities onafhanklike state, een vir hoofsaaklik Palestynse en een vir hoofsaaklik Jode. Die probleem is dat tensy die bestaan van Israel én sy grense deur die Palestynse staat erken word (wat die Palestynse owerhede tot dusver geweier het om te doen) dit ‘n resep vir voortgesette geweldpleging en oorlogvoering is. (3) Die driestaat-oplossing soos voorgestel deur Danon: Gaza word by Egipte ingelyf en die Wesoewer by Jordanië, wat histories in elk geval deel van Palestina was. Israeliese grondgebied skei hierdie twee Palestynse gebiede, wat moontlik ‘n resep vir vrede of ten minste minder bloedvergieting kan wees.

Danon wil nie die hele Wesoewer aan die Arabiere en Jordanië toevertrou nie, maar slegs daardie dele met substansiële Arabiese bevokings. “Our goal is to have the majority of the land in Judea and Samaria [ie West Bank] with a minimum number of Palestinians, which includes Jewish communities and the vacant land” (Kindle 2569). Die dele van die Wesoewer waar Jode in die meerderheid is of onbewoon is, moet dus by Israel ingelyf word. Dit is immers gebiede wat in 1967 deur Israel in ‘n defensiewe oorlog verower is. Op hierdie manier word meer lewensruimte vir Israeli’s geskep sonder dat die Jode demografies ‘n minderheid in Israel word. “Just under 3 percent of the land in Judea and Samaria [ie West Bank] is ‘occupied’ by Jewish homes. I wish it was 90 percent” (872).

Vergelyk die patetiese rekord van die onderhandelaars van die Nasionale Party in 1990/94 met wat hier volg. In sy boek beklemtoon Danon dat as ‘n land onafhanklik is, jy nie daardie outonomie prysgee nie. As parlementslid was sy benadering: “My goal is to protect the people I serve and the land I love” (83). Hy vereis dat Israeli’s altyd in die beste belang van Israel moet optree; dat nie toegelaat moet word dat bv Amerika hom verplig om in die belang van Amerika op te tree nie. “Israel fares best when she makes decisions based on her own best interests, and not on the wants and needs of the US government” (1382). Hy gee talle voorbeelde van hoe sulke toegewings Israel duur te staan gekom het. “Israel must take firm hold of its own destiny with a ready willingness to act decisively on its own behalf” (114). “We need to take control of our own destiny and dictate our own history” (123, ook 1382). “We must be confident to take matters, when necessary, into our own hands despite world or US opinion” (899). “Israel must be willing to make decisions that are unpopular around the globe and be willing to be condermned in the short term for such decisions in order to secure the wellbeing of our people” (2026).

Wat noodsaaklik vir voortbestaan is, is “to develop the ability to take a stand” (144). Politici moenie slapgat en ruggraatloos wees nie. Politiek is ‘n harde en ongenaakbare spel. “Only after Israel shows strength and the ability to manage the conflict can we gradually move on to longer-term solutions” (2556). “A secure Israel … should enjoy certain inalienable rights – the right to exist, the right to security, and the right to defend itself” (170). “When you see something evil, you should not trivialize it; you should deal with it before it reaches your shores with more organized power” (385), bv die basisse van terroriste in buurlande moet meedoënloos in voorspring-oorgrensoperasies uitgewis word (1879). “This is basic, Israel cannot even begin to negotiate with a terror organization” (226, ook 1269). Israel sal nie toelaat dat daar ‘n tweede Holocaust is nie (283). ‘n Elementêre vraag: “Why create a safe haven for terrorism in your backyard?” (746), maar dit is presies wat FW de Klerk in 1990/94 toegelaat het, toe terroriste en wapens weens gebrekkige grensbeheer die land op groot skaal ingestroom het en rekrute in bv die Transkei in terrorisme opgelei is.

Deesdae word politiek in die sogenaamde nie-rassige Suid-Afrika kwantitatief, dus volgens rasgetalle, oftewel ingevolge die demografie, bedryf. Aleksei Kosygin, die Sowjetunie se eerste minister (1964-1980), “couldn’t understand why the Americans would want to support the Jews – three million people when there are a hunderd million Arabs. [Lyndon] Johnson’s reply to his Soviet counterpart was blunt: ‘I told him that numbers do not determine what was right. We tried to do what was right regardless of the numbers'” (1830). Suid-Afrika sou baie beter daaraan toe gewees het as ‘n soortgelyke morele en kwalitatiewe benadering in 1990/94 geseëvier het.

“The Arabs hate Israel because it represents the West, a bastion of freedom and democracy in a sea of dictatorships, backwardness and repression” (2552). Is die haat teen blankes, bv anti-apartheid en anti-kolonialisme genoem, nie soortgelyk nie? Is daar grondliggend nie jaloesie vir wat blankes vermag het en swartes nie kan ewenaar nie, om van oortref nie te praat nie? Die Arabiere se plan was “to extract concessions from Israel in the guise of negotiations until all of Israel had been compromised away” (2517). Is dit nie presies die strategie waarmee die ANC in 1990/94 in Suid-Afrika suksesvol was nie?

Winston Churchill het Brittanje in die Tweede Wêreldoorlog tot oorwinning gelei. In sy beroemdste toespraak het hy onder meer gesê: “We shall fight on the beaches, we shall fight on the landing grounds, we shall fight in the fields and in the streets, we shall fight in the hills; we shall never surrender” (Thomas E Ricks, Churchill and Orwell: The fight for freedom, London: Duckworth, 2017, 370p; Amazon Kindle $12.64, 1441). By ‘n ander geleentheid het Churchill twee riglyne vir sukses geïdentifiseer: “Never give in … Never yield to force” (1505). Die NP-onderhandelaars het nooit enige blyke van Churchill se gesonde benadering gegee nie.

Weens die droogmakery van die 1994-NP-neo-hensoppers moet ons as Afrikaners nou in ‘n baie slegter, eintlik bedenklike, situasie nuwe strategieë, middele en weë bedink en vind om uit die moeras te kom wat dreig om ons en alles wat vir ons waardevol is, te verswelg. Hoeveel beter sou die nuwe Suid-Afrika nie gewees het as die NP-onderhandelaars dieselfde benadering as Danon gevolg het nie? Blank Suid-Afrika moes nooit ‘n verstrykingsdatum gehad het nie.

Leon Lemmer: Ton Vosloo: Lof der Zotheid?

Desiderius Erasmus (1466-1536) het in sy boek, Lof der Zotheid (1511), die najaging van eie belang (insluitende die ek-sindroom/selfliefde) en die kortsigtigheid van sy tydgenote aan die kaak gestel. Volgens hom sal die mens Dwaasheid nooit afskud nie omdat hy meer deur hartstog as deur die rede beheer word. Dwaasheid veroorsaak dat mense die foute of voortreflikhede van ander mense selektief raaksien of miskyk. Dit is Dwaasheid wat veroorsaak dat die menigte nagevolg word. Die mees misleide mense is diegene wat vreugde put uit die verkondiging van leuens. Dwaasheid veroorsaak dat die mens sy ware natuur verloën deur die dood te verkies. Dalk ook die vernietiging van etniese groepe.

Ongelukkig het ek toegang tot slegs ‘n Engelse weergawe van Erasmus se boek: The praise of Folly (128p; Amazon Kindle $0), vertaal deur John Wilson in 1668. Die volgende aanhalings uit hierdie lughartige boek kan (in ‘n mate) op wat hier onder volg toegepas word. Veral twee Dwaashede is in hierdie rubriek ter sake: “Philantia/Self-love” en “Kolakia/Flattery” (Kindle 108). Daar word verwys na ‘n man “that commits no errors himself, but has a lynx’s eyes upon others … the only wise” (411). “He may lawfully praise himself that lives far from neighbors” (60). “The more foolish a man is, the more he pleases himself and is admired by others” (641). Cicero: “All things are full of fools” (1139). “The greatest part of mankind are fools” (260). Prediker: “The number of fools is infinite” (1139). “Age, which is wont to render other men wiser, makes them the greater fools” (180). “All things sacred and profane are turned topsy-turvy” (92). Byvoorbeeld, Karel Schoeman het na ons “omgedopte land” verwys. “None but one of their own tribe can understand them” (893). Oor kulturele verwording en transformasie: “As if there were any difference between perishing and being another thing” (172).

Ton Vosloo (gebore in 1937) se boek, Oor grense: ‘n Lewe in die media in ‘n tyd van verandering (Jeppestown: Jonathan Ball, 2018, 427p, R275; Amazon Kindle $13,59), wat op 24 Augustus op Amazon vrygestel is, het my tydens die lees daarvan spoedig aan Erasmus se boek herinner. ‘n Engelse vertaling van Vosloo se boek is terselfdertyd gepubliseer. Die outeur was aanvanklik ‘n joernalis, van 1984 af die uitvoerende hoof en van 1997 tot 2015 die voorsitter van Nasionale Pers (Naspers van 1998 af). Vosloo stel homself en die Nasperskoerante, veral vanaf die ontstaan van Beeld in 1974 – hy was die redakteur vanaf 1977 – voor as invloedryke bevorderaars van die “inklusiewe demokrasie” waarin ons ons sedert 1994 bevind. Dit is soortgelyk aan wat mede-joernalis Harald Pakendorf in sy gepubliseerde herinneringe gedoen het, maar in sy geval by Perskor, spesifiek by Die Vaderland (Praag 14.04.2018). Vosloo verwys na Pakendorf se “versigtig verligte toon” (Kindle 2680). Ondersteuners van apartheid asook Broederbonders het ná 1994 uiters skaars geword. Dit is te wyte aan die weerhaan-sindroom. Mense is geneig om hulle te skaar by wat in die mode is. Die kragdadigheid van die blanke politieke bewind is vervang met die waagmoedige ondersteuning van swart mag.

Aan die begin wek die boek die indruk van ‘n sistematies, selfs chronologies, geskrewe teks. Daarna verval die boek egter in fragmente waarin baie herhaling voorkom. Vosloo probeer om lesers se belangstelling te behou deur skinderstorietjies aan te bied. Ek gaan nie veel uitwei oor die outeur se lewensgeskiedenis nie. Die meetsnoere het vir hom in lieflike plekke geval. Hy en Koos Bekker, wat Vosloo as uitvoerende hoof en daarna as voorsitter van Naspers opgevolg het, is voorbeelde van hoe buitensporige welgesteldheid mense nie net gaaf en selftevrede maak nie, maar hulle ook positief oor die nuwe Suid-Afrika stem. Die land wat in chaos en agteruitgang verval het, ontstel hulle nie danig nie, want Vosloo het ‘n uitvlugplekkie in Frankryk terwyl Bekker syne in Engeland aangeskaf het. Wanneer ek blanke bedelaars by straatkruisings sien, wonder ek onwillekeurig hoe diegene wat die voorbokke vir verandering was, hierdie verskynsel met hulle gewetens versoen. In baie gevalle is sulke bedelaars en verarmdes die slagoffers van rassediskriminasie.

Vosloo erken dit nie direk nie, maar hy kom, soos Willie Esterhuyse, uit ‘n Sap-gesin. “Ek kom nie uit ‘n stoer Afrikaner-nasionalistiese agtergrond nie” (4662). Namate die blanke bewind gekwyn het, het albei hulle al hoe meer van die tradisionele Afrikaners gedistansieer. Vosloo dateer sy oorverligtheid heel moontlik verder terug as wat werklik die geval was. Oor sy jeug skryf hy: “My Afrikanergevoelens was maar redelik lou” (210). Hy hou van wat Giuseppe Mazzini gesê het: “Sluimer nie in die tente van jul vadere nie” (2495). “Die kultuur van eng, eksklusiewe [blanke/Afrikaner] nasionalisme moes nek-om gebuig word. Ons moes ‘n meer inklusiewe Suid-Afrikaansheid begin kultiveer” (2484). “Ons moes dus ingestel wees op vernuwing, vorentoe kyk, en waagmoed aan die dag lê” (2484).

Vosloo is nie spaarsaam met lof vir homself nie. Hy het ‘n “veelsydige skoolloopbaan” gehad (161). Dit is egter nie opgevolg met enige formele naskoolse kwalifikasie nie. Desnieteenstaande: “My algemene kennis, insig, opvattinge en vaardigheid as politieke kommentator en redakteur het sterk ontwikkel” (479). Reeds voor hy by Nasionale Pers in diens getree het, is sy “joernalistieke vaardighede onmeetlik uitgebou” (1523). Vosloo verwys na homself en Alf Ries se joernalistieke ondervinding en samewerking wanneer hy skryf: “Dit het grootliks bygedra tot die reikwydte van ons albei se kennis en tot die betroubaarheid van die inligting wat ons in politieke berigte kon oordra” (4122). “My obsessie was deels politiek gedrewe: Onder my leiding het Beeld die Noorde vir ons verligte standpunt verower. Ek het in politieke rubrieke en kommentaar die pad voorberei vir ‘n groot politieke verandering: Die aanvaarding van ons swart landgenote as deelgenote” (508) – in werklikheid as oorheersers/base. Reeds in 1981 het Vosloo geskryf: “Die dag sou kom dat die NP met die ANC moet onderhandel” (527).

In 1984 het Koos Bekker, met sy “vingerpuntgevoel vir belowende nuwighede” (1196), met Vosloo in verbinding getree, wat meegebring het dat Nasionale Pers hom toenemend op elektronies-digitale bedrywighede toegespits het. Vosloo het hoë lof vir sy eie uitsonderlike kennis: “Ek het danksy my kennis van HBO [Home Box Office] dadelik geweet wat hy [Bekker] in gedagte het. Later het ek besef dat as iemand anders in my stoel [van uitvoerende hoof van Nasionale Pers] was in 1984, Koos se voorstel waarskynlik op dorre grond sou geval het vanweë die gebrek aan die soort kennis wat ek toevallig gehad het” (563). “Ek het sy [Bekker se] potensiaal vroegtydig besef” (1214). Vosloo het ook die regte ingesteldheid gehad: Die direksie “wil nie ‘n leier sonder waagmoed aan die spits hê nie” (573). “Ek het geweet wat om te doen” (582). “Die stigting van M-Net was die radikaalste en grootste inisiatief in die geskiedenis van Nasionale Pers tot in daardie stadium” (628). Dit was ‘n “kwantumsprong” (628). FW de Klerk gebruik dieselfde term vir sy oorgawe aan swart mag.

Soos in die geval van Allister Sparks, wat ook geen formele naskoolse kwalifikasie gehad het nie, oorbeklemtoon Vosloo die deurslaggewende invloed wat die akademiese jaar 1970/1 op hom as Nieman-genoot aan die Universiteit Harvard in Amerika gehad het (1523). Daarna het hy sy joernalistieke werk “met vars [linkse] perspektiewe op ons land se situasie benader” (2747). Wat hy nie noem nie, is dat die Suid-Afrikaanse joernalis aan wie hierdie genootskap jaarliks toegeken word, hom/haar as polities links moes bewys het of ten minste links beïnvloedbaar moet wees. Die genoot kan kies watter en hoeveel klasse hy wil bywoon en geen graad word aan die einde van die akademiese jaar aan hom toegeken nie. Vosloo beklee tans (2016 tot 2018) ‘n ereprofessoraat in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch (US). Hy moet vier lesings per jaar lewer (4496). Toe hy aangestel is, het die departementshoof, Lizette Rabe, beweer dat dieselfde vereistes vir die aanstelling van ‘n ereprofessor as vir ander professore geld. As dit so is, word formele naskoolse kwalifikasies nie van US-professore vereis nie. Vosloo het wel drie akademies waardelose eredoktorsgrade ontvang.

As oorverligte verduidelik Vosloo verligtheid soos volg: “‘n Verligte was oop vir oortuiging, en bereid tot hervorming. Die begrip verligtheid het ook ‘n ruimer betekenis aangeneem, naamlik ‘n neiging tot minder dwang en sensuur, tot groter kulturele vryheid en moderniteit, en tot rasionaliteit wat die Afrikaner-nasionalistiese impuls moes temper. Dit is geassosieer met ‘n minder patriagale ingesteldheid, met begrip vir die stryd om groter vroueregte, en groter toleransie vir homoseksuele mense … Gewilligheid tot verandering. Dit is miskien die kortste definisie wat ‘n mens van verligtheid onder die destydse Afrikaanse kiesers kan gee” (518). Verandering impliseer egter nie noodwendig verbetering nie.

“Verligtheid as ingesteldheid het die een-mens-een-stem-bedeling nietemin moontlik help maak deur die oorwinning van die Ja-stem in die referendum van 1992 te verseker” (527). Wat Vosloo verswyg, is dat daar in die NP-propaganda van 1992 geen sprake van die moontlike toekenning van ongekwalifiseerde algemene stemreg was nie. Daar is gepraat van magsdeling, nooit van magsoorgawe nie. Die oorgrote meerderheid Ja-stemmers was in die waan dat die blankes die helfte of meer van die politieke mag sou behou; vandaar FW de Klerk se beloftes van bv eie woongebiede en eie skole. Aan die blanke kiesers is belowe dat die grondwet, waarop tydens die onderhandelinge ooreengekom is, aan hulle vir goed- of afkeuring voorgelê sou word. Dit is nie gedoen nie. Die blankes is gewoon in groot mate uit hulle toekoms verneuk. Hierdie immorele grondslag waarop die nuwe Suid-Afrika gebou is, word selde erken.

Binne Naspers het verligtheid onder meer in die vorm van blatante rassediskriminasie – regstelling of bemagtiging genoem – neerslag gevind, bv by die aanstelling en bevordering van personeellede, asook by die Welkom-bemagtigingskema (vir gedrukte media, die grafosfeer – 1214) en dié van Phutuma Nathi (vir elektroniese media, die videosfeer – 1214). Blankes is verbied om hierdie Naspers-aandele te koop. Nie-wittes kon R50-aandele teen R10 bekom, terwyl die R40-lening mettertyd uit dividende afgelos sou word (820, 2558). Die aandele in elektroniese media het buitengewoon goeie resultate opgelewer. Die aandele in gedrukte media het teleurstellend gevaar. Een van Naspers se paternalistiese bedoelings was om nie-wittes in aandele-belegging op te voed. Dit beteken dat so ‘n belegger die risiko loop om geld op sy belegging te wen of verloor. Maar daar kan mos nie toegelaat word dat nie-wittes geld by ‘n eens blanke maatskappy verloor nie. Die gevolg was dat Naspers telkens paternalisties miljoene rande ten bate van hierdie aandeelhouers in die Welkom-skema gepomp het. Vosloo swyg hieroor. Maar hy skryf: “Naspers doen … stewige bemagtigingsaksies tot voordeel van die totale gemeenskap” (839). Soos in die ANC se beweerde bevoordeling van “al Suid-Afrika se mense” word blankes nie altyd by Naspers se “totale gemeenskap” ingesluit nie.

In die boek word skindernuus geil versprei, al is baie daarvan oorbekend, bv Schalk Pienaar wat eers “‘n paar goeie doppe brandewyn gedrink het” voordat hy sy berigte getik het (387). Hendrik Verwoerd word ‘n “nie-kerklike” genoem (1611). Jimmy Kruger was nie ‘n gebore Afrikaner nie, want hy het Walliese ouers en aanvanklik die naam James Thomas gehad (1631). Izak de Villiers is as redakteur van Rapport ontslaan omdat hy regsgesind was (2513, 2736); “‘n verbitterde mens nadat hy Rapport in kritieke tye van die land in ‘n heeltemal verkeerde rigting gestuur het” (2521). Willem de Klerk is as redakteur van Die Transvaler ontslaan (3866) en daarna ook as redakteur van Rapport (2521), asook Dene Smuts as redaktrise van Fair Lady (2521, 2961). Smuts se voorganger, Jane Raphaely, het Smuts se ontslag onderskryf: “She has done you and Nasionale Pers a lot of damage” (3000).

Lang David de Villiers het ‘n buite-egtelike verhouding met ‘n Jodin, Rae Golding, gehad en later met haar getrou (2829). Toe het sy ‘n geleentheid gebruik om kosjer-koekies aan lede van die Afrikaner-Broederbond voor te sit (2839). Kobie Coetsee het Adrienne Koch as minnares gehad (4149). Die tweeling wat Piet Koornhof by die bruin Marcelle Adams verwek het (2849), is darem seker ounuus. Adreas Wassenaar, lank die uitvoerende hoof van Sanlam, word ‘n “oud-Ossewa-Brandwag-kameraad” genoem (3449). Lang Hendrik van den Bergh, die hoof van die Buro vir Staatsveiligheid, word as ‘n “flambojante publisiteitsoeker” gekarakteriseer (3724). Oor Niël Barnard, die hoof van die Nasionale Intelligensiediens, skryf Vosloo: “Ek het hom leer ken as ‘n sterk individu met ‘n nog sterker ego” (4131).

Piet Cillié het ‘n eiesoortige siening gehad oor sommige van die personeellede wat Nasionale Pers deur die jare verloor het: “Ons gaan van ons beste mense verloor, want dit is altyd die afwykende man wat brein het. Of liewer: Hy sal nie slim wees as hy nie ‘n bietjie bedonnerd is nie. Ons soek bedonnerde mense, ons moet hulle inbind. Hulle móét anders wees. Ons wil nie almal dieselfde wees nie, want dan word ons stagnant” (2990; ook 4581).

“Die woord apartheid is reeds in 1919 deur Jan Smuts in ‘n toespraak gebruik” (1916). Hans Strijdom word soos volg aangehaal: “Either the White man dominates or the Black takes over” (1761). Dit is profetiese woorde. Mense het glo gedink Hendrik Verwoerd “loop op water” (1650). Geld dit nie eerder in oortreffende mate vir Nelson Mandela wat deur Vosloo St Nelson (hoofstuk 17) genoem word nie? Die hoogs intelligente Verwoerd het sy toesprake sonder notas gelewer (3934). Met verwysing na die tuislandbeleid: “Verwoerd wou wit baasskap herdefinieer as wit baasskap oor wit mense in hul eie land” (2634). “Verwoerd [het] … nooit sy humeur verloor nie” (3558).

Oor John Vorster, “‘n gedugte kommunistejagter” (1944), skryf Vosloo: “In sy siel was hy verkramp” (1761). Vorster het glo ‘n “polisiestaat” met sy “drakoniese” beveiligingsmaatreëls geskep (1954). Die gevolg was “die inkerkering van verdagtes” (1954). Moes Vorster die bevolking eerder aan die bedrywighede van die terreurbendes van die ANC en ander “bevrydingsbewegings” blootgestel het? “Dit klink vandag totaal belaglik dat ‘n kommunis, gesien as ‘n soort duiwel, deur die destydse veiligheidsdiens agter elke bos uitgekrap is” (2273). Dan voeg Vosloo darem by: “Mens moet egter ter versagting in ag neem dat die kommunistiese Sowjet-Unie en Kuba besig was om groot steun aan die grensoorloë teen Suid-Afrika te verleen” (2273). “Vorster kon kla, soms op ‘n kleinserige manier. Maar hy het nooit tot ‘n onwaardige uitbarsting oorgegaan nie” (3558). Dit val op “hoe selfversekerd en arrogant Vorster was, en hoe neerhalend hy mense van kleur binne ons politieke bestel bejeën het” (4283).

Robert “Mugabe het die tydgees en die groot lande se hantering van Suider-Afrika in die komende jare korrek gelees. John Vorster, en ook PW Botha ná hom, was te verknog aan die bestaande orde van wit magsbehoud en die onderdrukking van verset daarteen om Suid-Afrika ‘n kans op ‘n goeie toekoms te bied” (4315). “Dit was die dorre jare van Afrikanernasionalisme geassosieer met onbeskaamde rasse-oorheersing” (1925). Dit is glo ‘n “star mentaliteit” (1925). Is die huidige bestel van swart nasionalisme en swart oorheersing beter? Indien beter: Beter vir wie? Sekerlik nie vir die blankes en veral vir die Afrikaners nie. Vorster se hervormings was glo bloot “van kosmetiese aard” (2002).

Al die genoemde Afrikaner-staatshoofde word afgekam. Die ergste slegsê kom PW Botha toe, al was hy hervormingsgesind, soos blyk uit die totstandkoming van die Driekamer-parlement. “Dit is gelees as toegewings wat toon dat die regime verswak” (2068). Botha word met woorde soos die volgende beskryf: “hooghartige en arrogante leierskap”(2068), “bakleierig en neerhalend teenoor sy kabinetskollegas … hy ‘n verleentheid vir die Nasionale Party en die regering geword het” (2109), “die sluheid van PW” (2117), “met watter argwaan en barsheid hy sy kabinetslede behandel” (2166), “sy liggeraaktheid en onbeheerste uitbarstings” (3420), “sy humeur toetentaal verloor. Hy het almal oor die kole gehaal en verskree … Sy opvlieënde humeur kon dalk selfs gelei het tot die beroerte wat sy loopbaan tot ‘n einde sou bring … die skade wat sy ontploffings van woede kon aanrig” (3430; ook 3548), “PW was nie net teenoor politieke opponente hooghartig nie” (3449).

“PW Botha was berug vir sy uitbarstings. Hy was opvlieënd en bombasties en kon mense sonder aansiens des persoons met ‘n venynige tong bykom. Sy sogenaamd goedgesinde nasionale koerantmense is in die openbaar uitgeskel as lunsrieme” (2521). “As ‘n mens terugdink oor presidensiële humeure wat jy in Suid-Afrika beleef het, dan staan PW Botha loshande bo-aan die lys – voor met die spreekwoordelike myl” (3420). “PW tier egter onbeheers teen Lang David en ons persmense … met sy plofbare humeur” (3488), “Botha skryf grommend terug” (3499), “gaan PW gal af oor artikels wat ons koerante oor staatsamptenare se vergoeding publiseer” (3509), “PW se bevliegings en uitbarstings van woede kon oorwaai” (3517), “Nog ‘n voorbeeld van PW se opvlieëndheid. Sy woede was soms vervlietend en kon bedaar, maar dikwels eers nadat die skade gedaan was” (3527), “weer beledigingstyd … beskuldigings en beledigings” (3537).

“By al sy ongemanierde nukke was PW Botha verantwoordelik vir die eerste barste in die dyk van harde apartheid. Die kritiek van die verregse[s] … naamlik dat PW Botha se beleid die dun end van die wig was wat tot swart oorheersing sou lei, was korrek” (2601). In soverre Botha gehelp het om die land aan swart mag oor te dra, behoort die oorverligte Vosloo hom mos te loof pleks van hom ongebreideld sleg te sê. Maar Botha sou nie so gewillig soos FW de Klerk oorgegee het nie. “Dit is ‘n ope vraag of ons ‘n skikking sou bereik het indien Botha die regering ná 1989 gelei het. Die interessante faktor hier is dat PW Botha se opvlieënde geaardheid te staan sou gekom het voor Mandela se ontwapenende vermoë om vriende te maak en mense te beïnvloed. PW sou waarskynlik wou vasskop teen die afgee van mag aan ‘n meerderheidsregering gebaseer op universele stemreg. Maar was Mandela nie dalk die één mens wat PW sou kon vermurwe het nie?” (4140).

Ek vra my af: Is dit goeie joernalistiek of goeie gewone skryfwerk as Vosloo met so baie herhaling iemand en daarby ‘n staatshoof slegsê? Sou hy dieselfde in die geval van enige nie-wit mens gedoen het? Die plekverwysings hier bo toon dat Vosloo se verguising van Botha verspreid deur die boek voorkom. Dit in sigself weerspieël die gebrekkige sistematiek van die teks. Wat ons hier mee te make het, is ‘n katarsis, ‘n hoogs oordrewe ontlading van die outeur se gevoelens jeens Botha. Dit strek Vosloo nie tot eer nie.

“My kontakte met De Klerk was altyd hoflik en beskaafd. Dit is die soort mens wat hy is. Omdat ons koerante sy verligte politieke koers gesteun het, was daar nooit onsmaaklike botsings nie … Pres Mandela was net so beleefd en waardig in sy omgang met ons” (3577). Vosloo noem Mandela “die groot man” (3597) en”‘n onvergeetlike man” (4113). “Ek salueer ‘n merkwaardige mens” (3617). Mandela is darem nie altyd heeltemal volmaak nie. Dink aan “hoe Mandela hom tydens Kodesa vererg het vir FW en hom tromop geloop het oor die NP se agterdog dat die ANC in kwade trou onderhandel” (4075). Thabo Mbeki “was altyd hoflik en ‘n uitstekende luisteraar” (3617). Oor Jacob Zuma skryf Vosloo min, behalwe dat ‘n beloofde opvolgaksie nie plaasgevind het nie (3639). Die punt is dat Vosloo nie kritiek op De Klerk en die ANC-staatshoofde lewer nie; heel anders as in die geval van die vorige Afrikanerstaatshoofde en veral PW Botha.

Vosloo vertel hoe hy en “die groot onderwysman Franklin Sonn” (4042) saam met Mandela besoek aan die inwoners van nie-wit woonbuurte in Calitzdorp en Carnavon gebring het. Tydens hierdie vlugte het Mandela baie oor mense soos PW Botha en FW de Klerk te sê gehad, maar Vosloo eerbiedig die vertroulike aard van daardie mededelings. “Hoewel Mandela van stories oorborrel, hy nie regtig nydig is of skinder nie” (4054). Mandela sê min aan die skares wat op sy koms gewag het. “Jy kon sien en voel hier is nou ‘n politikus, ‘n man in totale harmonie met sy mense” (4093). Mandela stoot ‘n heeltemal onvoorbereide Vosloo voor sodat hy kan sê wat hy as weldoener alles uit sy eie sak vir hierdie agtergeblewenes gaan doen. “St Nelson het my lekker onkant gevang” (4064). “Dit is my mense hierdie … mense wat so lank deur wit mense uitgestoot en verneder is” (4064).

Dit gaan my verstand te bowe dat Vosloo nie Mandela se bymotiewe gesnap het toe hy uitgenooi is om saam met hom rond te jakker nie. As oorverligte verkwalik Vosloo uiteraard nie vir Mandela nie. “Op Carnavon kon ek die Madiba magic op volle toere sien. Dié betowering skryf ek aan verskillende aspekte van sy persoonlikheid toe … Hy is ongekunsteld, maar so slim soos min … Hy straal outydse warmte en spontaneïteit uit. Hy is eg … Die martelaarstatus wat sy inkerkering aan sy buitengewoon innemende persoonlikheid toegevoeg het, het van hom inderdaad ‘n soort heilige gemaak” (4093). “Mandela het nie alleen stamina gehad nie, maar ook staal in sy pype. Die ou Boere-uitdrukking vir ‘n goeie en ware man, ‘n man ‘met ‘n hart van goud en ‘n wil van staal’ kom by ‘n mens op” (4103). Stroperiger naïwiteit is kwalik denkbaar.

Terwyl hy op Robbeneiland ‘n gevangene was, het Mandela Afrikaanse digbundels suksesvol by Nasionale Pers gebedel. Mandela het ‘n brief geskryf om dankie vir hierdie aalmoese te sê. Hierdie brief word deur Naspers vertroetel: “Een kleinood wat in die gang van Naspers se hoofkantoor hang, is ‘n geraamde brief van Mandela” (3597). In een van die digbundels is Ingrid Jonker se gedig, “Die kind”, wat Mandela in 1994 in sy inhuldigingstoespraak as president in die parlement voorgelees het. Die gedig handel oor ‘n (blanke) soldaat wat ‘n swart kind doodgeskiet het. Myns insiens was dit ‘n gemene, lae hou wat Mandela teen blankes geplant het. In die pers is dit egter destyds aangeprys as wonderlike erkenning wat Mandela aan Afrikaans verleen is. Soos ek, vermoed Vosloo (3608) dat Jakes Gerwel die aandag van Mandela gevestig het op die potensiaal wat die gedig vir politieke misbruik het.

Vosloo vertel dat hy Gerwel destyds dikwels op lughawens in die buiteland raakgeloop het. “Eers baie later sou ek uitvind Jakes was so in die stilligheid ‘n koerier van die ANC, met boodskappe na kamerade in die buiteland” (3608).”Jakes sluit later op my uitnodiging by Naspers se direksie aan. Hy was ‘n voortreflike direkteur en later voorsitter van Media24″ (3608). Wat Vosloo verswyg, is dat Jaap Durand, as vise-rektor van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), grootliks Gerwel se take as rektor vervul het. Gerwel het hom by voorkeur met ondermynende politieke bedrywighede besig gehou. Onder die leiding van Gerwel en Durand het die oorwegend Afrikaanse UWK ‘n uitsluitlik Engelse universiteit geword. Gerwel het na Media24 se Suidoosterfees as ‘n “soomlose” Afrikaanse fees verwys (4468). Heel aan die einde van sy lewe het hy besef dat hy ‘n naatlose fees bedoel het. ‘n Geldige vraag is: In hoeverre het die UWK en by implikasie die “apartheidsregime” vir Gerwel se reis- en verblyfskoste as ANC-koerier betaal? Gerwel en Durand het saam minstens een ANC-byeenkoms in die buiteland bygewoon. Dieselfde vraag kan oor die finansiering van daardie besoek gestel word (Praag 14.01.2017).

Vosloo sal nie en het nie teen enige swart staatshoof so tekere gegaan soos teen hulle blanke eweknieë nie. Hy haal met smaak aan wat Nelson Mandela oor hom geskryf het (2361). Dit is mos per definisie hoë lof, al het iemand anders dit dalk namens Mandela geformuleer. Ewe onbeskeie haal Vosloo ook aan wat mede-joernalis Rykie van Reenen oor hom geskryf het: “Mnr Sukses … die prins van nuusredakteurs” (4652). Wat ontstellend is, is dat Vosloo beweer dat FW de Klerk weens uitlatings in ‘n Dawie-rubriek in 1989 in Die Burger goedsmoeds enige aandrang op groepregte laat vaar het. Wiets Beukes het in daardie rubriek die wens uitgespreek dat die nuwe grondwet “kleurblind” moet wees; iets wat die 1996-grondwet allermins is. “Mandela het [in 1997] aan ons [Nasionale Pers-]groep gesê sy uitgangspunt in onderhandelinge was dat groepvorming bevry moet word om spontaan plaas te vind. In een van hulle eerste ontmoetings het Mandela FW de Klerk se aandag op die Dawie-rubriek uit 1989 gevestig. Volgens hom het pres De Klerk onmiddellik gereageer met: ‘Nou ja, as Dawie só sê, sal ek vir my mense sê ons kan daardie groepwette maar los'” (2371; ook 3597). Kan dit wees dat De Klerk op so ‘n lukrake wyse oor belangrike sake besluite geneem het en skynbaar nie geweet het dat verskillende joernaliste die Dawie-rubriek skryf nie, sodat almal nie ewe gesaghebbend kan wees nie? Vind groepvorming deesdae spontaan plaas of is dit doodeenvoudig die geval dat die swart meerderheidsgroep sy wil ten koste van die minderheidsgroepe kan afdwing?

Hierna haal Vosloo die lof aan wat Piet Cillié vir hom gehad het (2390). Maar dan skryf Vosloo: “Leierskap beteken selfbevraagtekening, maar nie vertwyfeling nie. Oor die jare het ek dit my vaste voorneme gemaak om nooit selftevrede te wees nie … Ek het my as bestuurshoof nie maklik aan selfvoldaanheid oorgegee nie” (2401). En as afgetredene? Hy vervolg: “My leierskap is in my joernalistieke jare gevorm … jy kon … ‘n helikopterblik kry op die landsake soos hulle ontvou het” (2411).

Volgens Vosloo is daar in verkramptheid en verregsheid geen heil nie. Hy lys die aanhangers van “harde apartheid” (406). Daarteenoor stel hy “denkende mense wat verder as die naakte rassisme van die NP gekyk het” (406). Sy Sap-gesindheid slaan deur in sy verwysing na die “katlagters” se “hoon vir [Helen] Suzman en minagting vir sir De Villiers Graaff en sy Verenigde Party”(396). Vir die Potchefstroomse Doppers wat die apartheidsbeleid gekritiseer het, het Vosloo hoë lof: “Hierdie keurbende … kan beskou word as van die eerste ware jukskeibrekers teen apartheid. Dis juis uit hul geselskap wat Willem de Klerk [FW se ouer broer] gekom het” (1400). Vosloo noem hulle idees “vooruitdenke” (1429) of “voorposdenke” (1448, 1523). Hierteenoor word die “droomwêreld” (1556) of “ontvlugtingsdenke” (1469) van die NP-regering gestel. Dit was glo “eenrigtingdenke” (1668). Is diegene wat die ondergang van die blanke bewind en swart oorheersing begeer het, nie veel eerder skuldig aan eenrigting- of afgrondsdenke nie?

Vosloo onderskryf die volgende geykte beskouing oor die 1990/94-ramp: “Hierdie politieke wonderwerk is wyd in die wêreld toegejuig” (1882). Vir die Afrikanerdom, daarenteen, het dit histories en hoogs regverdigbaar om oorlewing gegaan. Die Afrikaners het “hulle gedurende die Engelse koloniale bewind en veral sedert die Anglo-Boereoorlog in ‘n oorlewingstryd bevind … Die oorlewing van hul taal, kultuur, godsdienstige waardes en feitelike voortbestaan as etniese groep binne ‘n Afrika-land was op die spel wanneer hulle oor die politieke bestel vir Suid-Afrika nagedink het. Boonop moes hulle ‘n lank gekoesterde nasionalistiese ideaal, uiteindelik verwesenlik deur die Nasionale Party, finaal prysgee” (1890). Daarom is dit myns insiens glashelder dat die meeste blankes en veral Afrikaners wat in die 1992-referendum Ja gestem het, mislei is.

Desnieteenstaande loof Vosloo die rol wat die Nasionale Pers-koerante in hierdie verneukspul gespeel het. Wat glo beoog is, is “‘n moreel regverdige, inklusiewe bestel waarmee die hele [!] bevolking gelukkig kon wees … ondanks die risiko’s wat sodanige transformasie vir hulle kon inhou” (1899). Vosloo verkondig die gewilde leuen dat die blanke kiesers vrywillig van hulle politieke mag afstand gedoen het; dat hulle die oormag aanvaar het “van die etniese groepe wat hulle voorheen van politieke mag ontsê het” (1899). “Die invloed wat Nasionale Pers op sy lesers uitgeoefen het om op ‘n verligte manier te dink en Ja in hierdie [1992-]referendum te stem, het grootliks tot die oprigting van ‘n demokratiese Suid-Afrika bygedra” (1899). “Ons optrede het gehelp om FW de Klerk uiteindelik in die leiersrol te plaas wat aan hom die Nobelprys sou besorg” (2077).

Die blanke bewind word met oorgawe gekritiseer, bv: “Onder senior joernaliste was daar soms kwalik bedekte irritasie oor die hardhandige segregasie van rasse en die dom besluite wat die NP-regering dikwels in sy onbuigsaamheid geneem het, tot skade en skande van Suid-Afrika” (1350). Sulke kritiek word nie teen die ANC-regering uitgespreek nie. “Met die aanbreek van die nuwe, volledig demokratiese Suid-Afrika …[het] Naspers … van die begin van die nuwe bewind konstruktief aan ons nuwe samelewing help bou” (2558). Baie selde slaan Vosloo se teleurstelling met die nuwe Suid-Afrika deur. “Ná 1994 het ek ná een besoek aan die nuwe demokratiese parlement nie weer die plek besoek nie. Dit het na my mening ontaard in ‘n politieke sirkus met geen stewige debatvoering of geslypte argument teen geslypte argument nie. Wat [Julius] Malema en sy bende [!] die laaste tyd met die verrigtinge van die parlement aangevang het, is benede peil en tekenend van ons land se agteruitgang wat die openbare lewe betref” (424). Dit moet vir Vosloo sekerlik nie lekker wees om konkrete bewyse te sien van waarvoor hy hom beywer het nie. Die nuwe bedeling het myns insiens geblyk ‘n volslae mislukking te wees.

Naspers het tot ‘n groot, gediversiveerde, internasionale maatskappy ontwikkel. “Dit is lank nie meer die Nasionale Pers van ouds met sy Afrikaanse inslag nie! Die direksie se voertaal is in 2014 op my aanbeveling na Engels verander” (1231). “In die sakewêreld is daar nie plek vir oorwegings of sentimente wat jou sukses kan belemmer nie” (1239). Die Naspers-filiaal, M-Net, was aanvanklik in gelyke mate Afrikaans en Engels (1239), maar het spoedig heeltemal verengels. kykNET en VIA het die Afrikaanse televisiekanale geword (1249), maar daar is skynbaar min besorgdheid oor die gehalte van die Afrikaans wat gebeeldsend word. Dit wil voorkom asof daardie “Afrikaans” al hoe meer verengels.

Die houding van Naspers teenoor Afrikaans is kommerwekkend. In 1976 het Afrikaans ná die georkestreerde Soweto-opstand weens ANC- en soortgelyke propaganda “die taal van die onderdrukker” geword (2253). “By Beeld en Rapport het die redaksies sterk standpunt ingeneem teen die afdwing van Afrikaans in die skole van Soweto … Rapport het kragtig kommentaar gelewer: ‘Kry end! Ons wil nie bloed aan ons taal hê nie.’ Dié opmerking illustreer die reguit kritiek op maatreëls van die NP-regering wat koerante van Nasionale Pers hulle teen dié tyd veroorloof het” (2253). In werklikheid was die taalvereiste nie onbillik nie. Engels en Afrikaans was die enigste amptelike tale en die skoliere sou werksgewys baat as hulle kennis van albei gehad het. Skoliere behoort onderrig te ontvang in wat hulle nodig het; nie in wat hulle gemakshalwe verkies nie.

As deel van die verligtheid/openheid van Nasionale Pers, blykbaar veral in die aanvangsdekades, beweer Vosloo: “Die koerante van die Pers het in hul briewe-kolomme en forum-artikels … altyd geleentheid aan dissidente stemme gebied” (1333). Dit moet met ‘n knippie of groot skeut sout geneem word. Daar was altyd ‘n ideologiese, spesifiek politieke, voorkeur by hierdie koerante, eers pro-blank (veral pro-Afrikaner) en pro-NP en later pro-hervorming/transformasie en pro-swart. Tans is die Naspers-voorkeur sterk polities byderwets gelaai. Kyk maar gerus na hierdie koerante se eienaardige keuse van rubriekskrywers. Toets die objektiwiteit van die briewekolomme. Behoudende of regse menings word selde gepubliseer. Die standaardverskoning is “gebrek aan ruimte.”

Kyk ook na die reaksie/kommentaar van lesers onderaan die berigte op Netwerk24. Dit is duidelik dat daar ‘n reuse gaping bestaan tussen wat in die artikel staan en die politieke mening van die oorgrote meerderheid lesers. Maar dit weerspieël steeds nie die volle sterkte van die verset/weersin van die lesers nie. Polities onaanvaarbare reaksies, veral as hulle duidelik geformuleer is sodat hulle ‘n impak kan hê, word glad nie gepubliseer nie. Ek volstaan met ‘n enkele voorbeeld. Netwerk24 is nie bereid om kommentaar te publiseer wat die klaarblyklike verband tussen enersyds Nelson Mandela se doelbewuste keuse van geweld en die stigting van die MK-terreurbendes en andersyds die huidige ingeburgerde geweldskultuur uitwys nie. In sy eerste en enigste onderhoud met PW Botha het Mandela gesê: “As daar ‘n skikking moet kom, sal afgesien moet word van die stel van voorwaardes vir onderhandeling. Hy het spesifiek verwys na die voorwaarde dat geweld afgesweer moet word” (4140). Die koerante van die Naspers-filiaal, Media24, het baie blanke lesers, nie omdat die meerderheid van hulle met die byderwetse politiek wat opgedis word gediend is nie, maar omdat Naspers oor die monopolie van Afrikaanse hoofstroomkoerante beskik.

Die naam van JP (Pieter) de Lange, ‘n opvoedkundige en rektor van die Randse Afrikaanse Universiteit (1979-1987), duik telkens in die literatuur op as een van die radikaal oorverligtes vir wie swart oorheersing ‘n passie was. Hy kan as die vader van die huidige enkele skoolonderwysdepartement in Suid-Afrika beskou word; asof die verskillende ras- of etniese groepe nie verskillende kulturele en onderwysbehoeftes het nie. In Vosloo se boek word dikwels positief na De Lange, wat ook in die Naspers-direksie gedien het, verwys (690, 1502, 2381, 2549, 2811, 2829). In ‘n nuwe boek oor die Afrikaner-Broederbond/Afrikanerbond deur OJO Ferreira, wat ek nog wil bespreek, word De Lange saam met JA (Johan) Heyns uitgewys as die vernaamste aanstigters van verandering in daardie organisasie en die land. Wat die ANC en swartes alles aan De Lange te danke het en wat die Afrikanerdom alles aan hom te wyte het, is blykbaar nog nêrens verhelderend gedokumenteer nie. Hy kan hopelik met genoegdoening die kontras tussen die eertydse Randse Afrikaanse Universiteit en die huidige Johannesburg University as die vrug op sy linkse aktiwiteite beskou.

Die openbarendste deel in Vosloo se boek handel oor hoe daar gekonkel is om van PW Botha as staatshoof ontslae te raak en die verloorder FW de Klerk in sy plek aangestel te kry. Aan die begin van 1989 het Vosloo “aan FW de Klerk en sy kollegas advies gegee dat hulle as groep ‘n gesprek met PW moes voer” (2078). Piet Cillié, die voorsitter van Nasionale Pers, het aan Vosloo, die uitvoerende hoof van Nasionale Pers, te kenne gegee dat Botha na sy beroerte nie voldoende herstel het om as staatshoof te funksioneer nie. Vosloo het Wiets Beukes, die redakteur van Die Burger, Willem Wepener, die redakteur van Beeld, en Bob van Walsem, die redakteur van Rapport, aangehits om iets aan die saak te doen. Volksblad is ook betrek. Die resultaat was “politieke dinamiet van die ergste graad” (2098). Cillié het een van hierdie berigte geskryf.

Vosloo se standpunt was: “Daar kom ‘n tyd waar ons groep ‘n deurslaggewende rol kan speel en dit is nou weer so ‘n oomblik” (2098). “Nasionale Pers het PW se uittrede probeer fasiliteer en was dus diep betrokke by die saak” (2117). Vosloo het ook ‘n boodskap aan De Klerk gestuur “oor die absolute dringendheid dat FW sake moet doodvat. FW het later sy waardering vir ons optrede laat weet” (2098). De Klerk wou klaarblyklik graag Botha se pos beklee, afgesien daarvan of hy geskik vir so ‘n taak is. Vosloo het ook ander mense gebel en onder meer hierdie raad gekry: “Mense soos Magnus (Malan) en Barend (du Plessis) sou gat omgooi” (2109); dus dat hierdie twee lojaal teenoor Botha is. Kan hierin moontlik ‘n rede gelees word waarom juis hierdie twee oud-ministers nou in die Bird Island-sage beswadder word?

Ná die (smeer)berigte verskyn het: “Ek kry oproepe van Dawie de Villiers, minister van mineraal- en energiesake, en Kobie Coetsee, minister van justisie” (2117) – twee De Klerk-dissipels. “Dawie sê FW de Klerk moet optree. Hy bespreek die opsies wat hy aan FW gaan voorlê met my. Hy sal FW … twaalfuur by die vleisbraai van die Stellenbosse NP-sportdag sien. Dawie wys op die sluheid van PW se werksbesoek aan die Kaap, ná ‘n gesondheidsverklaring uitgereik deur homself, en vervolgens ‘n aanval op sy kabinet … Dawie voorsien dat hy self met Chris Heunis, minister van grondwetlike hervorming, gaan bots” (2117). “Kobie Coetsee bel my van sy Vrystaatse plaas. Hy is ontsteld oor PW se onderhoud wat in Volksblad te lese was … Hy sal sy besoek aan sy plaas kortknip en die Saterdagmiddag terugvlieg Kaap toe. Kobie wou kontak met my hou en ons bespreek die drie opsies wat hy aan FW wil noem” (2128).

Vosloo probeer ook om Jack Viviers, Botha se pers-attaché, oor te haal tot dislojaliteit jeens Botha. Viviers sê egter (tereg, soos later sou blyk): “FW en die jonges kan nie die land regeer nie” (2136). Vosloo sê hierna: “FW is ‘n man van integriteit [!]” (2146). “Ek raai Jack aan om hom in sy eie belang van PW los te maak. Hy kan in die kruisvuur beland en seerkry” (2146). Tot sy eer het Viviers hom nie laat imtimideer of bangpraat nie. “Hy sê hy bly lojaal … aan PW” (2146). Ná die Stellenbosse vleisbraai word Vosloo deur ‘n joernalis ingelig dat Heunis se toespraak daar “onsmaaklik” was (2146). Heunis het glo ‘n hou teen FW ingekry.

De Klerk het Vosloo gebel. “Die persverklaring wat FW wou maak, het gestrook met ‘n konsepverklaring wat ek vroeër oor die foon aan hom voorgelees het” (2155); dus, De Klerk het hom toe reeds aan die neus laat lei. Vosloo gee die teks van hierdie konsepverklaring weer. “FW het ons warm ondersteuning en vriendskap baie waardeer” (2166). Vosloo verskaf ‘n rekord van die woordewisseling wat tussen Botha en De Klerk plaasgevind het en wat deur “‘n vertroulike bron” aan hom voorsien is (2166). Botha het glo beweer dat die kabinet, toe hy siek was, sonder hom “sag geword het oor die ANC” (2175). Was dit nie profetiese woorde nie? Botha het gesê hy is gesond en gevra: “Hoeveel van julle sit hier met pille in julle sakke?” (2175). Botha het ook vir De Klerk gesê: “U is meer taktloos as wat ek gedink het u is” (2187).

De Klerk wou hê Botha moet bedank en sy gesondheidsprobleme as rede voorhou. Hier toon Botha sy staal: “Ek moet met ander woorde lieg, om julle te red. Nee, dit spyt my kollega, ek is nie bereid om die soort van goed op te stel wat julle op die Federale Kongres met huigelary aanvaar gekry het nie” (2210). Vosloo bewoord die afloop van hierdie gesprek soos volg: “FW de Klerk se voorstelle vir die hervorming van Suid-Afrika se politieke bestel was vir PW onaanvaarbaar en op 6 Mei 1990 bedank hy [Botha] ook uit die Nasionale Party” (2210). Sy termyn as staatspresident het reeds op 15 Augustus 1989 met sy bedanking ten einde geloop.

Dawie de Villiers se ondermyning van die man wat hom as minister aangestel het, het verder gestrek as wat hier bo aangedui is. “Op 3 Julie 1989 vertel Dawie de Villiers, Kaaplandse leier van die NP, my van ‘n gesprek wat die NP se vier provinsiale leiers op 16 Junie met PW Botha in die Wildernis [waar Botha se huis was] gevoer het. Daar was drie leiers: FW de Klerk, Kobie Coetsee en Dawie self. Die Natalse leier, Stoffel Botha was oorsee. Toe PW verneem dat die provinsiale leiers hom wil spreek, vra hy dat van sy ondersteuners ook kom. Hy wou Pik Botha, minister van buitelandse sake, Magnus Malan, minister van verdediging, en Barend du Plessis, minister van finansies, graag daar hê. Pik en Magnus het verskoning gevra weens werkdrukte sodat slegs Barend as ondersteuner aanwesig was. Dawie sê PW was goed voorberei met ‘n legger vol bewyse. Hy het die besoekers oor die kole gehaal en die federale raad van die NP van ontrouheid beskuldig. Sy primêre steen des aanstoots was egter Nasionale Pers en veral Die Burger. ‘Daardie redakteur’ het hy na die goeie Wiets Beukes verwys, sonder om sy naam ooit te noem, het hom in sy siekte ondermyn. Volgens Dawie de Villiers het PW ‘n veel groter wrok teen FW gekoester. Maar hy kon sy verbittering ontlaai deur Nasionale Pers tot sondebok te verhef” (2225) – asof Nasionale Pers en spesifiek Vosloo nie ‘n leidende aandeel in hierdie komplot gehad het nie. Die rol wat sowel Vosloo as De Villiers in hierdie sage gespeel het, strek hulle myns insiens glad nie tot eer nie; des te meer as die rampspoedige gevolge van De Klerk se rol as staatshoof in ag geneem word.

Vosloo gaan egter voort met lofredes vir Nasionale Pers en by implikasie vir homself: “Die groot koersverandering in Suid-Afrika is onder meer deur die aanvoorwerk van Nasionale Pers se koerante moontlik gemaak, beslis wat die aanvaarding van die nuwe Suid-Afrika deur die Afrikaanssprekende mense betref” (2234). ‘n Mens kan moeilik glo dat Vosloo hom in so ‘n mate aangematig het dat hy sy pos misbruik het om ‘n verandering in die staatshoofskap te bewerkstellig. Let op hierdie uitlating, wat op oorskatting behoort te dui, maar vir Vosloo aanvaarbaar is: Daar is “soms berigte in koerante wat die hoogste politieke gesag in die land op jou laat neerdaal” (2521). Kan die toekoms van ‘n land in die hande van ‘n joernalis geplaas word en die uitkoms daarvan dan ‘n voorspoedige, suksesvolle, korrupsievrye land wees waarin die inwoners vreedsaam en gelukkig saamwoon? Die Nasionale Party “was vir publisiteit van die Pers afhanklik en laasgenoemde kon dus subtiele of indirekte, maar soms ook direkte druk op die hefbome van die mag in Suid-Afrika uitoefen” (2591). In die nuwe Suid-Afrika versuim Naspers/Media24 egter in baie opsigte en op ‘n opsigtelike manier om druk op die ANC-regering oor uiters belangrike kwessies uit te oefen; tans bv plaasmoorde en onteiening sonder vergoeding. “Naspers se maatskappyfilosofie onderskraag en dien vandag ‘n inklusiewe demokrasie. Dit moet sy rigsnoer in die toekoms bly” (3193).

Die oud-predikant, Izak de Villiers, het navraag gedoen oor Nasionale Pers se siel. Vosloo verwys na Jan Marais (4521) wat eers baie geld op die myne gemaak het en toe kon begin om goed te doen, dus ‘n filantroop te wees. ‘n Mens sou verwag dat Vosloo hier twee sake sou aanpak. Een is dat die Universiteit Stellenbosch (US) sy stigtingsvoorwaarde met sy verengelsingsbeleid verkrag, maar Vosloo skryf glad nie hieroor nie. Die ander is dat Naspers sy welvarendheid vir filantropiese projekte kon aanwend wat sy oorsprong weerspieël; dus dat hy moeite sou doen om die Afrikanerdom en ordentlike Afrikaans, oftewel Standaardafrikaans, finansieel ruim te ondersteun. Ook dit doen Vosloo nie.

Die US het eens “‘n idee” en Nasionale Pers het eens “die saak” (4570) bevorder, maar hulle doen dit nie meer nie. In albei gevalle is die kernrede hiervoor politieke byderwetsheid wat vergestalting vind in ANC-gedienstigheid en swart bevoordeling en by implikasie blanke benadeling, vandaar Naspers se eksklusief swart aandele-skemas. Dit is ook waarom Vosloo die wanpraktyk goedpraat dat swart misdadigers nie as swart in koerantberigte geïdentifiseer mag word nie (2443). Geldmaak kry by Naspers dermate voorkeur dat ‘n prestige Afrikaanse vaktydskrif soos Standpunte as onlonend gestaak is, sonder om die waarde wat dit vir Afrikaans het, te verreken.

In Media24 se nuuskantore is daar feitlik geen ervare, substansiële joernaliste meer oor nie. Vosloo noem dit die “verdunning van die redaksies van gedrukte media” (4713). Van senior joernaliste word ontslae geraak en hulle plek word deur “regstellings” ingeneem wat in baie gevalle nie ‘n joernalistieke bydrae kan lewer wat die moeite werd is nie. Die koerante het vir kopie van buitestanders, bv vryskutjoenaliste, afhanklik geword. Die situasie is soortgelyk aan dié in die staatsdiens: die poste word deur onbekwames beset en buite konsultante moet aangestel word om die werk wat vaardighede vereis, te doen. Soos Vosloo dit tereg stel: Naspers “is nou ‘n produk van ons kontemporêre tyd” (4643). “Sy ‘siel’ is verplaas” (4652).

“Liefde vir Afrikaans maak dit pynlik vir my om te sien hoe die funksies en gebruik van Afrikaans vandag toenemend ingeperk en afgeskaal word” (4679). “As kultuurtaal het dit … nog oneindige potensiële waarde” (4679). Dit is die soort benadering waarmee polities korrektes vorendag kom. Afrikaans het, soos Engels, naas kulturele funksie in werklikheid talle ander funksies. In die praktyk vind ons egter “die verskraling van Afrikaans in talle fasette van die openbare lewe” (4782). Afrikaans kan dwarsoor Suid-Afrika in groter mate as Engels gebruik en verstaan word. In daardie sin is Afrikaans en nie Engels nie die land se primêre nasionale taal. Al voordeel wat Engels bo Afrikaans het, afgesien van ANC-ondersteuning, is dat dit ‘n internasionale taal is. Vosloo redeneer egter soos die ANC: “Engels … [is] die voordeligste taal vir die opkomende geslag jong mense” (4688). Sy benadering tot Afrikaans wek nie vertroue nie. Oor die viering van die Wonder van Afrikaans in 1959 skryf Vosloo: “Die verwaandheid was mateloos,” blykbaar omdat dit “onder die vaandel van die Afrikaans-nasionale bewind” plaasgevind het (4713).

Soos Wim de Villiers het Vosloo ‘n kultureel ontwortelde, geglobaliseerde oud-Afrikaner geword. Hy erken dat die pro-Afrikaansgesindheid van die NP-regering vervang is “met die apatie, eintlik die teensin [weersin], van die nuwe bewind” (4696). “‘n Taal wat nie amptelik gebruik word nie, sal ‘n kreeftegang gaan” (4705). Waarom span Naspers nie sy finansiële vermoë ter bevordering van die Afrikanerdom en Standaardafrikaans in nie? Omdat sentiment glo nie ‘n plek in die sakewêreld het nie (1239). Maar pro-swart sentiment het wel ‘n prominente plek in die Naspers-stal. Dit is ‘n kwessie van keuses wat uitgeoefen word. In hierdie sin het Naspers inderdaad sy siel verloën en verloor en vir ‘n ander een verruil. “Wat help dit ‘n mens as hy die hele wêreld as wins verkry, maar homself verloor of te gronde gaan?” (Lukas 9:25).

Vosloo herhaal wat deesdae op ‘n geykte en polities byderwetse manier oor Afrikaans kwytgeraak word: “Bruin Afrikaanssprekende mense dra nou grootliks by tot die gebruik en behoud van Afrikaans” (4705). Die “groei van Afrikaans” is glo van die bruin mense afhanklik (4827). Hy verwys dan na die “uiters kleurryke variasies van Afrikaans, waaraan absoluut geen ideologiese gewig hang nie. Hulle red Afrikaans met hul talent” (4705). Daar is sekerlik ideologiese gewig in hierdie soort “Afrikaans”. Geradbraakte, Engels-besoedelde Afrikaans word doelbewus misbruik om behoudende Afrikaners die moer in te maak. Die gehalte van Afrikaans, veral in die sin van Engels-vrye Afrikaans, is van deurslaggewende belang vir die sinvolle oorlewing van Afrikaans. Vosloo sien hierdie probleem raak, maar polities korrek lewer hy geen kritiek daarop nie: “Weens ons politieke geskiedenis voel baie bruin woordkunstenaars nie die aandrif om hulle moedertaal teen Engels te verskans soos die ouer geslag Afrikaanssprekers nie” (4705).

Wat by Vosloo voorkeur geniet, is nie die taal Afrikaans nie, maar politieke oorwegings: “Om Afrikaans van die taal van apartheid na die taal van versoening om te buig” (4741). Dit is waarom Vosloo die inisiatief met bv die stigting van die Afrikaanse Taalraad (ATR) geneem het. In die praktyk laat die ATR hom deur mode-politiek lei en bevorder gevolglik eerder die brouseltaal Kaaps as Standaardafrikaans. Myns insiens is ‘n Afrikaansinstansie wat nie die moed het om suiwer(der) Afrikaans te bevorder nie, nie die moeite werd nie.

Leon Lemmer: Melanie Phillips: Van progessief tot behoudend

Melanie Phillips (gebore in 1951) is ‘n Britse joernalis wat uit ‘n ouerhuis kom waarin dit vanselfsprekend was dat die Arbeidersparty ondersteun word. Sy het Engelse letterkunde aan St Anne’s College, Oxford University, bestudeer en daarna joernalistiek in Cardiff. As joernalis was sy agtereenvolgend verbonde aan leidende Britse koerante: The Guardian, The Observer, The Sunday Times en Daily Mail. Hierdie lys weerspieël hoe haar mening geleidelik van progressief na behoudend verander het; ‘n aanvanklik linkse “that has been mugged by reality.” Dieselfde kan gesê word van haar tydskrifartikels wat voorheen in New Society, New Statesman en later in die meer konserwatiewe The Spectator gepubliseer is. Tans lewer sy weekliks ‘n artikel in The Times.

Die van Phillips klink Brits maar is in werklikheid ‘n verengelsing van haar oupa se Poolse van. “My father’s father – who, according to family mythology, was given the name Phillips because the immigration officer couldn’t pronounce his Polish name” (2018-boek hier onder, Kindle 189). Dit herinner aan Joseph Conrad (1857-1924), maar anders as Conrad, vir wie Engels sy derde taal was, is Phillips in Londen gebore en is haar beheersing van Engels idiomaties en uitmuntend. Sy het verskeie boeke gepubliseer, bv All must have prizes (1996), waarin die polities byderwetse gelykverklaring van mense, die relativering van waardes en die ondermyning van gesag aan bod kom.

Die boektitel is ontleen aan ‘n frase in Lewis Carroll se Alice in Wonderland: “everybody has won, and all must have prizes” – soos wat graag oor die nuwe Suid-Afrika beweer word (‘n wen-wen-situasie) terwyl dit veel eerder die geval is dat almal verloor (‘n verloor-verloor-situasie). “In this book, I wrote that education standards had not only plummeted but education itself had been redefined. It was no longer the transmission of knowledge and culture, but a process of self-discovery by ‘autonomous meaning-makers’ – once known as pupils” (2018-boek, 1389). In die nuwe Suid-Afrika, waar minder as ooit op skool geleer word, het skoliere (“verouderd” – HAT) oornag leerders geword.

Phillips se teks is op die Britse skoolstelsel toegespits, maar dit herinner aan die Afrika-benadering waarvolgens alle swartes in dieselfde mate bevoordeel moet word, bv die jaarlikse toekenning van bonusse aan alle werkers en nie slegs aan diegene wat uitsonderlik produktief was nie. Dink ook aan swart skoliere en studente wat mbt eksamens eis: “Pass one, pass all.” “I could see for myself that teaching had been hijacked by left-wing ideology. Instead of being taught to read and write, children were being left to play in various states of anarchy on the grounds that any exercise of adult authority was oppressive and would destroy the innate creativity of the child” (2018-boek, 838).

In The world turned upside down: The global battle over God, truth and power (2010), spreek Phillips haar kommer uit oor die irrasionaliteit wat die hedendaagse wêreld oorspoel. Sy lewer ‘n pleidooi vir die terugkeer na rasionaliteit en religieuse tradisies. Phillips se eerste roman is onlangs gepubliseer: The legacy (2018). Phillips het veral bekendheid verwerf met die boek, Londonistan: How Britain has created a terror state within (2006), waarin sy aantoon in watter groot mate veral die Britse hoofstad, maar ook talle ander gebiede in veral Engeland, vermoslem het. Tien jaar later, in 2016, het Londen sy eerste Moslem burgemeester gekry. Kindle-weergawes van die laasgenoemde drie boeke is beskikbaar.

Ek het Londonistan in ‘n vorige rubriek bespreek (Praag 15.05.2016). Bv: “Londonistan verwys nie slegs na die Britse hoofstad nie, maar ook na vermoslemde areas in Britse nywerheidstede, wat die tradisionele aard van die Britse samelewing nie net verander het nie maar op die lange duur selfs kan vernietig … Weens kultuurverskille, dus nie-wittes se vreemde leefwyse, kon hulle nie so maklik soos blankes in die Britse samelewing geassimileer word nie. Die nie-blanke immigrante was geneig om eie monokulturele gebiede in Brittanje te vestig, wat veral in stede aangetref word en dikwels die aanskyn van krotbuurte aangeneem het … ‘the deadly fusion of an aggressive ideology [Islamism] and a society that thas lost its way [Britain] has led to the emergence of Londonistan.'”

Ek het pas Phillips se outobiografie gelees: Guardian angel: My journey from leftism to sanity (New York: Bombardier Books, 2018, 256p; Amazon Kindle $9,19). Daarin word sy beskryf as “Britian’s most controversial champion of national and cultural identity” (Kindle 2080). Die boektitel sinspeel op die bekendheid wat sy as joernalis by The Guardian verwerf het. Wat ek eienaardig vind, is haar lojaliteit aan die Verenigde Koninkryk in sy geheel, dermate dat sy ‘n eie Ierse en Skotse nasionalisme en kulturele identiteit ontken of ten minste as onaanvaarbaar beskou. Ek gaan nie oor haar familiegeskiedenis geskryf nie maar eerder oor ‘n aantal sake wat sy opper.

Op 23 Junie 2016 het 51,9% van die Britse kiesers in ‘n referendum die wens uitgespreek dat die Verenigde Koninkryk uit die Europese Unie (EU) moet tree. Daar was en is hewige meningsverskille tussen die Brexiteers en die Remainers. Die laasgenoemdes beweer massa-immigrasie het die uitslag deurslaggewend bepaal. Dit was ‘n groot terugslag vir “liberal, tolerant, outward-looking Remain” (66). “This view was rooted in the belief that the Western nation was the source of global oppression, bigotry and war. It therefore needed to be constrained by transnational institutions such as the EU and the United Nations, and by ‘universal’ laws such as human rights. Because transnationalism embodied the brotherhood of man, these institutions would necessarily supercede national parliaments and their laws” (79).

Die Brexiteers meen egter dat die hoofoorweging nie ontevredenheid met massa-immigrasie was nie maar “the desire for Britain to control its own policies and laws” (66). “On June 23, 2016, the British people found the courage to assert once again the rightfulness and desirablity of an independent Western democratic nation giving expression to its own historic culture, beliefs and laws” (86). Die referendumuitslag “represented the defeat of a progressive worldview that had been actively reshaping British and Western culture for more than half a century” (73).

Die verkiesing op 8 November 2016 van Donald Trump as Amerikaanse president word in dieselfde konteks as Brexit beskou. “He was brought to power by a revolt against a political and intellectual establishment which had long sought to erode America’s values at home and emasculate its power abroad” (92). “Both in voting for Brexit and for Donald Trump, the people were demanding the upholding of their core culture, the defense of their nation and the restoration of the democratic compact of citizenship with their country’s government” (98). Hier is daar duidelike verset teen die linkse siening “that the nation state was an oppressive western construct that was innately racist and inescapably created nationalism, conflict and war” (1504).

The Guardian was in Suid-Afrika berug vir wat hy oor apartheid gepubliseer het. Phillips was van 1977 tot 1998 aan hierdie koerant verbonde. Nadat sy bedank het, het hierdie koerant stemming teen Phillips gemaak deur haar as ‘n “human cactus” te beskryf (2013). Terugskouend skryf Phillips: “The defining feature of Guardian journalists [is] a narcissistic self-regard based upon a fixed belief in their own superiority and righteousness, nurtured by indulgence and privilege” (464). “We also admired what we told ourselves was the paper’s historically noble and principled stand in defence of liberty and justice and against oppression. We were proud of its nonconformist origins as the Manchester Guardian and proud of its legendary former editor CP Scott who coined the dictum, ‘comment is free but facts are sacred.’ It was only later that I realized there was more than a shred of truth in the old joke that Guardian news stories freely spun the facts while its editorial comment columns treated opinion as sacred. No one ever mentioned the paper’s unfortunate support in the 1930s for Stalinism, when it sacked its Moscow correspondent Malcolm Muggeridge [1903-1990] after he had tried to report the effects of the bureaucrat-induced famine in the Ukraine and Caucasus in which some six million people starved to death” (478).

Die destydse siening van die linkses/progressiewes het intussen nie verander nie: “Whereas the right seemed to believe the worst of people, we believed the best. They embodied darkness; we embodied light. They were about the past; we were always looking to the future” (492). “Whatever we said was, by definition, morally correct” (498). Dink aan “die donker tyd van apartheid” waaraan ons feitlik daagliks herinner word en die “moreel hoë grond” wat die ANC beklee, so hoog dat geen kwaad in die beoogde owerheidsdiefstal van blankes se eiendom gesien word nie.

“I always thought of myself as a liberal, in the classical English meaning of the word, which to me was another way of saying I believed in progress and the capacity of human beings to create a better world” (498). “Only much later did I realize that the left is fundamentally illiberal … everything not on the left was politically extreme” (505). In die Naspers/Media24-koerante word enige iemand wat regs van die sentrum is, verregs genoem. Wat vermoë tot wêreldverbetering betref, kan ons gerus erken dat alle mense nie eenders is nie. Ons kan daagliks waarneem dat net sommige mense/groepe die vermoë het om ‘n beter wêreld te skep. ‘n Ander gevolgtrekking waartoe Phillips gekom het, is: “The left didn’t like ordinary people and in particular the lower middle class, the striving class who believed in things like self-discipline and personal responsibility” (999). Regte eerder as verpligtinge word beklemtoon.

In die jare sestig het die swart burgerregtebeweging die Amerikaanse samelewing onherroeplik opgedonder; nie dat gelyke regte noodwendig verkeerd is nie, hoewel ‘n mens sou verkies dat sulke regte (in bv Amerika en Suid-Afrika) verdien en nie gewelddadig opgeëis word nie. Waarteen ek dit het, is dat swartes suiwer rassisties en dikwels sonder teenprestasie deesdae in buitensporige mate bo blankes bevoordeel word. In die jare sestig was daar in Brittanje ook ‘n kulturele revolusie, die “swinging sixties,” wat deur die beskikbaarstelling van die geboortebeperkingspil en die seksuele revolusie wat daarop gevolg het, moontlik gemaak is. ‘n Militante soort feminisme het sy kop uitgesteek.

“It was during the seventies and eighties when those ideas actually became embedded in British society, when the students and young agitators of the sixties became lawyers, teachers, university lecturers, civil servants, campaigners, thinktankers, and politicians – and thus captured the citadels of British culture, where they proceeded to undermine core values of education, family, law, and other cultural building blocks of society … There was virtually no questioning of the iron assumption that the poor and socially disadvantaged were inevitably the victims of circumstances rather than accountable for their own behavior” (538). Hoeveel groter en meer tragies is die Suid-Afrikaanse revolusie van 1990/94 nie? Apartheid, dus blankes, word die skuld vir iedere swart agterstand gegee.

Die uitgangspunt is dat almal gelyk/wesenlik eenders, bv (potensieel) ewe bekwaam, is. “‘Mindless egalitarianism’ … was leaving children ignorant and untaught” (1195). As in die praktyk blyk dat mense nie eenders is nie, word die swartes as die benadeelde slagoffers beskou en die blankes as die skuldiges wat moet opdok. “The left … had replaced truth with ideology and [their] weapon of choice against all dissent was vilification and demonization” (565). Byvoorbeeld, enigeen wat ‘n geluid maak wat polities nie korrek genoeg is nie, word sonder meer ‘n rassis genoem. Dit is nie vryheid nie; veel eerder ideologiese verslawing.

“Respect for authority both in and outside the classroom had collapsed. Knowledge had given away to creativity and spontaneity. Literacy had been redefined as un-reading. The essay had been supplanted by the imaginative story, replacing teaching children to think by allowing them to imagine. Teaching the rules of grammar or maths was frowned upon for stifling a child’s innate creativity. Right and wrong answers were no longer distinguished from each other; relativism reigned instead, and children were told to make it up as they went along” (1397). “Correcting children’s mistakes was an illegitimate exercise of power” (1403).

Kinders wat akademies beter as ander presteer, mag nie geloof word nie omdat dit die selfbeeld van minder talentvolle kinders ondermyn. Dit kan egter eerder ‘n geval wees van mindere toewyding as mindere talente. Die aandag van agtergeblewenes mag nie daarop gevestig word dat hulle agter raak en bly nie. ‘n Blanke mag nie spreekwoordelik van ‘n lid van ‘n ander ras/etnisiteit sê hy ‘n aap of bobbejaan nie. Die objek mag hierdie karakterisering hoogs nodig hê, maar volgens die HAT is albei neerhalende terme. “The outcome was a Lewis Carroll world in which failure of a child to learn to read was glorified as evidence of success. The result was mass functional illiteracy among school leavers, and associated behavioral problems by pupils excluded from classroom life through their inability to read. Even universities were forced to provide remedial courses for undergraduates to compensate for the gross inadequacies of the education system” (1403). Dit is ook waar van Suid-Afrika waar nie net funksionele tekstuele ongeletterdheid kenmerkend van sommige/baie skoolverlaters is nie maar ook/veral funksionele numerêre ongeletterdheid.

“My writing during the 1980s and 1990s reflected the fact that Britain was undergoing a cultural revolution … Fundamental assumptions and values were being challenged, attacked and undermined. The homogeneity of British society was being eroded by mass immigration, which was changing the face of the country. As socialism withered and the free market dominated, identity politics replaced economics” (1006). “This was not merely to transform family life, but also turn the understanding of what was normal and what transgressive* inside out” (1012). “The left was rejecting all external authority and embrasing instead moral and cultural relativism, the idea that ‘what is right’ is ‘what is right for me,’ and declaring any hierarchy of values illegitimate. But to me, this was a recipe for an amoral free-for-all in which freedom would die” (1012). Op ‘n soortgelyke manier word hiërargie by individue en groepe mense ontken; almal is bv ewe bekwaam en moreel goed. In werklikheid is daar mense wat werksgewys nie die mas opkom nie en moreel sodanig is dat hulle nie in die samelewing geduld behoort te word nie. [* “Transgressive {oortredend/oorskrydend}: involving a violation of moral or social boundaries.”]

As ondersoekende joernalis het Phillips “benadeelde” armes in hulle huise besoek. Te midde van die vullis was daar luukse goedere soos video-opnemers, vrieskaste en duur fietse. “What I saw was a spiritual poverty that could not be explained away by material deprivation” (585). ‘n Feitlik onontbeerlike item in ‘n arm huishouding is ‘n televisiestel. Die SABC het onlangs genoem dat hy nie sokkeruitsendings op radio kon bekostig nie omdat hy nie geld vir duur sportuitsendings het nie. Die SABC het hierdie versoek simpatiek oorweeg omdat dit hoofsaaklik swartes is wat sokkeruitsendings begeer. Wat polities korrek nie genoem is nie, is dat indien die oorgrote meerderheid swartes vir televisie-uitsendings betaal, sou die SABC oorgenoeg geld hê vir die uitsending van sokkerwedstryde op radio én televisie. Voorspelbaar het die SABC sedertdien geld gevind om sokkerwedstryde op radio uit te saai.

Dit is hierdie nie-betaalkultuur wat veroorsaak dat diegene wat wel televisielisensies het, eersdaags vir dekodeerders sal moet opdok terwyl die nie-betalers op groot skaal van gratis dekodeerders voorsien gaan word. Die huidige bevoordeeldes gaan dus verder bevoordeel word. Die huidige benadeeldes gaan verder benadeel word. Normaalweg kyk ek nie televisie nie. Dit was ‘n riem onder die hart om te lees: “I knew that having the TV on in the middle of the day was a sign of moral weakness” (293). Die bekendste lewende, konserwatiewe Britse filosoof, Roger Scruton, het nie ‘n televisiestel nie, maar hy het sy twee kinders soms toegelaat om by die bure te gaan kyk. Omdat so baie mense in hulle vryetyd as afleiding eerder televisie kyk as om hulleself geestelik te verryk deur bv te lees, het die “sportsterre” multimiljoenêrs geword. Baie van hulle het skynbaar nie tyd om te skeer nie maar hulle vind tyd om op die veld te spoeg, hulle hare te kleur en hulle op ander maniere te mismaak, bv om hulle (oormatig) te laat tatoeëer.

Diskriminasie teen blankes word nie rassediskriminasie genoem nie, maar regstelling. Owerheidsdiefstal van blankes se eiendom word nie nasionalisering genoem nie maar teruggawe, asof die huidige swartes, anders as die huidige blankes, ooit wettige aanspraak op bv daardie plase gehad het. Die staatsdepartement wat met die owerheidsdiefstal van veral blankes se eiendom gemoeid is, word Landelike Ontwikkeling genoem. Swart bevoordeeldes word benadeeldes genoem. “This is the core of what we now know today as ‘political correctness’ through which concepts are turned into their polar opposite in order to give miscreants a free pass if they belong to certain groups designated by the left as ‘victims.’ They are thus deemed to be incapable of doing anything wrong, while groups designated as ‘oppressors’ can do no right” (696). “This twisted thinking is what now passes for ‘progressive’ thinking in Britain and America” (703).

Iets anders wat Phillips as ondersoekende joernalis vasgestel en oor geskryf het, is “the refusal to teach Standard English on the grounds that this was ‘elitist'” (889). “Teachers wrote to me in despair at the pressure not to impose Standard English on children on the grounds that this was discriminatory. They knew that, on the contrary, this was to abandon those children to permanent servitude and ignorance” (895). “The problem was the number of bad teachers who were turning good teachers into a beleaguered minority” (902). “Dissent was being silenced, and those who ran against the orthodoxy were being forced to operate in secret; worse still, the very meaning of concepts such as education, teaching and knowledge was being unilaterally altered, and thousands of children, particularly those at the bottom of the social heap, were being abandoned to ignorance and institutionalized disadvantage” (915).

In Amerika is daar ‘n soortgelyke verskynsel. Pleks van onderrig in Standard American English aan swartes te verskaf, word druk uitgeoefen dat swartes in Black English onderig moet word omdat dit hulle moedertaal is. Soms, veral in die Suide, word dit Ebonics genoem, wat glo die taal was waarin die swart slawe probeer het om met hulle (wrede) wit eienaars te kommunikeer; soortgelyk aan die manier waarop Afrikaans na bewering ontstaan het. Dat daar baie fiksie/mites in die ontstaan van Ebonics is, blyk uit die feit dat daar min woorde van Afrika-oorsprong in die Engels van swart Amerikaners is. Daar is heelwat meer wat oor hierdie onderwerp gesê kan word: “Die ebonisering van Kaaps” (Praag 16.02.2014). Insgelyks is daar min woorde in Afrikaans wat aan bv die Khoi-San en die Maleis van die destydse slawe toegeskryf kan word. Maar die handvol Afrikaanse woorde van nie-wit oorsprong word deesdae tot vervelens toe gelys terwyl die olifant in die taalkamer, die Afrikaanse woorde wat uit bv Nederlands en Duits oorgeneem is, verswyg word; om nie te praat van die groot aantal Afrikaanse woorde wat vindingryke Afrikaners geskep het en steeds skep nie.

Phillips keer telkens terug na maatskaplike kwessies. “By far my biggest break with the left … was over the breakdown of the family. In the late 1980s, I noticed that the institution of the family was suffering a ‘chronic crisis of identity and self-confidence.’ There were more and more divorces and single parents; at the same time parents were becoming less confident in managing their children” (1045). “Fatherless families [were] at least partly responsible for a national breakdown in authority and rising levels of crime” (1052). Let op hierdie skewe (feministiese) siening: Distansiëring vind plaas “from the bad old days when simply everyone was miserable because marriage chained women to men who, as everone with the correct view knew for a fact, were basically feckless wife-beaters and child abusers as well as being irrationally prejudiced against the opposite sex” (1085).

Dit is bekend dat die meeste swart kinders in Suid-Afrika vaderloos grootgeword het en dat die buitensporig hoë voorkoms van misdaad (veral) hieraan toegeskryf word. Die tragedie is dat hierdie slegte voorbeeld van vaderlose gesinne al hoe meer in die Weste nagevolg word. “During the 1990s, the ultra-feminist agenda behind the willed breakdown of the traditional family became even boulder in attacking its real target: men. It seemed to me to be driven by women who were declaring, offensively and stupidly, that men were a waste of space and that no sensible woman ‘would take one home'” (1455). Dink aan wat mense soos Amanda Gouws en Christi van der Westhuizen aangemoedig/toegelaat word om in die hoofstroomkoerante kwyt te raak; mans as suurstofdiewe. Sulke uitlatings kan as “emotional incontinence” (emosionele swakblasigheid) beskou word (1559).

“The left had become the sum of various interest groups all out for their own particular causes such as single parenthood, homosexuality, or animal rights” (1202). Phillips se gevolgtrekking is: “The destruction of the traditional family had as its real target the destruction of Biblical morality” (1118). “What I saw so clearly in the areas of education or family … was in essence the displacement of truth by ideology” (1138). Dít het sy vroeër soos volg geformuleer: “Truth was being sacrificed to expediency. Evidence would be denied if the consequences were too inconvenient” (1079). Hierin lê, in ‘n neutedop, ‘n verduideliking van die onverkwiklike situasie waarin die Weste, insluitende blank Suid-Afrika, hom bevind. Die ideologie wat besig is om Westerse beskawing te vernietig, is kulturele marxisme, dikwels politieke korrektheid genoem (1277). Een van die kernmaniere waarop gepoog word om die Weste kultureel te verslaan, is om die gesin af te breek. Sogenaamde selfdegeslaghuwelike is een van die maniere waarop dit gedoen word. Namate al hoe meer gesinne disfunksioneel word, word dit al hoe moeiliker om ‘n funksionele, vreedsame, voorspoedige, gelukkige samelewing in stand te hou.

“Truth was being sacrificed to expediency” kan as ‘n “cultural nervous breakdown” beskou word (1559). Ek volstaan met twee plaaslike voorbeelde. Eerstens, in die Universiteit Stellenbosch (US) se Eeufeesjaar (2018) kies Wim de Villiers openlik en sonder dat hy daadwerklike teenstand ondervind om eerder Nelson Mandela as Jan Marais te huldig. Mandela sou De Villiers se verengelsing van die US geloof het terwyl dit teen die grein van Marais se stigtingsvoorwaarde ingaan. In die nuwe Suid-Afrika kan De Villiers mos nie verkeerd wees as hy hom eerder by ‘n swarte as ‘n blanke skaar nie.

Tweedens, sedert 1994 is die agteruitgang van die gehalte van Afrikaans onrusbarend opvallend. Hierdie kreeftegang verkry al hoe meer momentum. Dit is die enkele kenmerk van die Afrikaans van ná 1994 wat nie misgekyk kan word nie. Desnieteenstaande voer Afrikaansinstansies en Afrikaansdosente nie ‘n veldtog om suiwerder Afrikaans te bevorder nie. Die rede hiervoor is dat die sprekers van Kaaps, dus van geradbraakte Afrikaans, polities korrek nie aanstoot gegee mag word nie. Dit is ‘n sprekende voorbeeld van misplaaste voorkeur: dat onderdanigheid aan politieke korrektheid belangriker as die heil van Afrikaans geag word. Diegene wat so lou/halfhartig oor Afrikaans is, laat my dink aan: “Maar nou, omdat hulle lou is, nie warm en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg” (Openbaring 3:16).

Johannes Comestor: Twee Afrikaansinstansies ondermyn Afrikaans

Conrad Steenkamp, die voltydse besturende direkteur van die Afrikaanse Taalraad (ATR), het my destyds op LitNet (1.11.2016) uitgedaag om my “uiteenlopende opinies en opvattings” oor die ATR op skrif te stel. Ek het moeite gedoen en met ‘n teks van tien getikte bladsye gereageer. LitNet het verkies om my teks nie te publiseer nie. Op my versoek is die artikel, “Waarom die Afrikaanse Taalraad nie ‘n Afrikaanse taalraad is nie,” op Praag (13.11.2016) gepubliseer. Dan Roodt het Steenkamp destyds gevra om op Praag te reageer maar hy het versuim om dit te doen.

Op LitNet (16 07 2018) het Marnus Kok, ‘n Netwerk24-joernalis van Bloemfontein, geskryf oor ‘n gesprek oor die toekoms van Afrikaans wat hy by die Vrystaatse Kunstefees bygewoon het. Sprekers soos Theuns Eloff en Dever Breda het opgetree, maar Kok het tot die oortuiging gekom dat hierdie gepraat nie Afrikaans se toekoms sou verbeter nie. Hy dink aksie is nodig.

Ek het soos volg gereageer (LitNet 18.07.2018): “Marnus, dit is ironies om te spesifiseer waar begin moet word om mense ten bate van Afrikaans te aktiveer. Eerstens, Afrikaansinstansies soos die ATKV, ATM, ATR, FAK, LitNet en die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns behoort byeen te kom en gesamentlik op ‘n plan van aksie te besluit en dit toe te pas. Tweedens, Afrikaansdosente moet as deel van hierdie plan individueel genader word en versoek word om aktief aan die stryd om die behoud van Afrikaans, insluitende hierdie gesamentlike aksie, deel te neem. Wanneer ek op LitNet en elders ‘n beroep op die genoemde instansies en persone doen om hulle vir Afrikaans en daarby suiwer(der) Afrikaans te beywer, is daar geen reaksie nie. Erger, daar is Afrikaansdosente wat openlik daarop roem dat hulle nie deel van die taalstryd wil wees nie. Met so ‘n gesindheid word Afrikaans kwalik redbaar. Wanneer ek pro-Afrikaans op Netwerk24 reageer, val dit op dat daar meesal geen ondersteunende reaksie is nie. Die apatie/onverskilligheid by Afrikaansinstansies en -dosente het na die Afrikaanssprekende publiek deurgesuur. Eens Afrikaanse universiteite moet geteiken word om tot inkeer te kom wat Afrikaans betref eerder as om hoop op private universiteite met beperkte finansiële middele te vestig.”

Conrad [Steenkamp] het soos volg gereageer (LitNet 29.07.2018): “Johannes, jy noem: “Eerstens, Afrikaansinstansies soos die ATKV, ATM, ATR, FAK, LitNet en die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns behoort byeen te kom en gesamentlik op ‘n plan van aksie te besluit en dit toe te pas.’ Het jy één voorstel vir hierdie ‘plan van aksie’ en hoe dit toegepas kan word?” Steenkamp se reaksie kan as ‘n (neerbuigende) uitdaging vertolk word. Ek het juis op 18 Julie probeer om nie verdere gemeenplasighede kwyt te raak nie en eerder ‘n plan van aksie uit te stippel. Maar soos CJ Langenhoven gesê het: “‘n Halwe begryper het ‘n goeie woord nodig.”

Ek het toe ‘n artikel van vier bladsye onder die opskrif, “‘n Manifes vir Afrikaans,” geskryf en op 1 Augustus na LitNet vir publikasie gestuur. Omdat ek reeds jare lank eerstehandse ervaring van LitNet se voorliefde vir sensuur het (enigiets wat nie polities korrek genoeg is nie, word sonder verduideliking geïgnoreer), het ek op dieselfde dag hierdie artikel ook direk aan Steenkamp gestuur. Voorspelbaar het LitNet nie my artikel gepubliseer nie en soos gebruiklik geen verduideliking verskaf nie. Seker net so voorspelbaar is dat daar geen reaksie van Steenkamp was nie; nie eens die beleefdheid van ontvangserkenning nie.

Die geskiedenis van 2016 het hom pas herhaal: (1) Steenkamp daag my op LitNet uit om my standpunt te stel. (2) Ek doen dit. (3) LitNet weier om my teks te publiseer. (4) Steenkamp word ‘n ander kanaal vir reaksie gebied maar hy versuim om daarvan gebruik te maak. Wat skandalig is, is dat die indruk op LitNet gewek word dat ek nie in staat is om op Steenkamp se uitdagings te reageer nie, terwyl die teenoorgestelde die geval is: dat Steenkamp nie op my omvattende reaksies kan of wil reageer nie. Ek dink dit is gewoon ‘n skande dat twee Afrikaansinstansies, LitNet en die ATR, saamspan om Afrikaans te ondermyn.

LitNet is die hoofplatform vir die propagering van die brouseltaal Kaaps en duld gevolglik geen pleidooi vir suiwer(der) Afrikaans op sy webwerf nie. Ton Vosloo het dit reeds in die aanloop tot die stigting van die ATR in 2008 duidelik gemaak dat dit vir die ATR in die eerste plek nie om die bevordering van Afrikaans gaan nie, maar om ‘n politieke doel, naamlik versoening. Soos in die geval van LitNet word Kaaps eerder as Standaardafrikaans bevorder. Wat bygevoeg moet word, is dat sowel LitNet as die ATR vir hulle voortbestaan van die finansiële ondersteuning van Naspers/Media24 afhanklik is. Die tragedie is dat suiwer(der) Afrikaans gevolglik nie deur hierdie twee Afrikaansinstansies (daadwerklik) ondersteun word nie. Geldsug bestendig sodoende die ondergang van ordentlike Afrikaans. Afrikaans as ‘n taal wat duidelik van Engels onderskeibaar is, is besig om in sy swernoot te gaan.

Met die uitsondering van ‘n enkele sin (wat te make het met die vertraging van my reaksie en wat dus nie meer ter sake is nie) bestaan die res van hierdie artikel uit ‘n woordelikse aanhaling van my artikel wat op 1 Augustus aan LitNet gestuur is.

‘n Manifes vir Afrikaans

Johannes Comestor

Johan van Wyk het in sy rubriek, Van alle kante (Die Burger, 2.12.2017, p 10), geskryf dat Afrikaans se posisie sedert 1994 “dramaties verswak” het. “Die ironie is dat dit met die hulp en ondersteuning uit Afrikaanse geledere bewerkstellig is. ‘n Nog groter ironie is dat dít wat veronderstel was om Afrikaans lewend te hou, naamlik om dit te praat, nog nooit so morsig soos in die afgelope 23 jaar gedoen is nie … wanneer het ons dan so loslit en so slapgat geword?”

Afrikaans verkeer in ‘n stryd om oorlewing. Diegene vir wie Afrikaans belangrik en erns is, behoort iets daaromtrent te doen. As individu kan ek nie veel vermag nie, al spreek ek my ernstige kommer al meer as twee dekades lank uit … Daarbenewens sukkel ek dikwels om my standpunt gepubliseer te kry. As ek op bv Netwerk24 ‘n pro-Afrikaansbetoog lewer, word dit nie gepubliseer nie of daar is feitlik geen reaksie of ondersteuning nie. Die heil van Afrikaans is nie meer ‘n saak wat voorrang by baie Afrikaanssprekendes geniet nie. My taalgenote is skynbaar siek en sat vir “taalbulle” soos ek.

Daar word verkeerdelik veronderstel dat wat ek skryf nie polities korrek is nie, terwyl ek bloot die belange van Afrikaans hoër as ander oorwegings stel. Iemand soos Denver Breda skryf enkele kere op LitNet oor bv Khoisan-taal en word dan spoedig uitgenooi om sy standpunt by byeenkomste te stel. Die Afrikaans Taalmuseum en -monument (ATM) hou die een byeenkoms na die ander oor bv die invloed van die destydse slawe op Afrikaans omdat die ATM se fokus “tans op die miskende variëteite en geskiedenisse van Afrikaans” is (Michael Jonas, Rapport, Weekliks, 28.01.2018, p 10). Inligting oor Khoisan- en slawe-invloed kan interessant wees, maar hulle invloed op Afrikaans was minimaal en lewer nie ‘n bydrae tot die oorlewingstryd waarin Afrikaans verkeer nie.

As ons werklik begeer dat Afrikaans moet oorleef, is dit noodsaaklik dat die klem op Afrikaans geplaas word en nie op bv versoening, meertaligheid, die voortreflikheid van die koloniale taal Engels as wêreldtaal, die variëteite van Afrikaans, ens, nie. Eerstens behoort daar ‘n onmiskenbare verbintenis tot die bevordering van Afrikaans te wees. Tweedens moet daar ondubbelsinnig duidelikheid verkry word oor watter soort Afrikaans bevorder behoort te word. Dit moet tog sekerlik ‘n Afrikaans wees wat die moeite werd is om voor te stry, ‘n Afrikaans waarop ons trots kan wees, ‘n Afrikaans wat ‘n taal uit eie reg is, dus nie geradbraakte Afrikaans waarin onnodige Engelse woorde in oorvloed aanwesig is nie.

Op LitNet is daar talle voorbeelde van gesprekke wat ek oor die jare met bv Afrikaanstaalkundiges gevoer het. Iedere keer het die gesprek gestuit by dieselfde rubikon, wat my gesprekgenote nie wou oorsteek nie: Dat ‘n veldtog vir taalsuiwerheid gevoer moet word, dat ons die moed van oortuiging moet hê om te sê dat Engelsbesoedelde Afrikaans nie aanvaarbaar is nie. Watter Afrikaansvariant is die geskikste vir bevordering? Daar is klaarblyklik net een, naamlik Standaardafrikaans, wat deurlopend aangepas word en nie uit die lug gegryp is nie maar uit die Afrikaansvariëteite gedistilleer is. Afrikaanstaalkundiges soos Tom McLachlan, jare lank lid van die Taalkommisie, en Willem Botha, die hoofredakteur van die WAT, het hulle al ten gunste van taalsuiwerheid uitgespreek maar hulle van kritiek op Kaaps weerhou.

Die kernprobleem is dat Kaaps ‘n mengsel van Afrikaans en Engels is. Daar word veronderstel dat die meeste bruin mense Kaapssprekers is, dat Kaaps ‘n variant van Afrikaans (eerder as van Engels) is, dat die meeste Afrikaanssprekendes dus bruin is en dat dit vorentoe in toenemende mate die geval gaan wees, gevolglik is die toekoms van Afrikaans deurslaggewend van bruin mense afhanklik en nie van blanke Afrikaanssprekendes nie. Die rede waarom Afrikaanstaalkundiges wegskram van pleidooie vir taalsuiwerheid is klaarblyklik omdat hulle Kaapssprekers nie aanstoot wil gee nie. Daarmee ignoreer hulle die feit dat talle bruin mense naas Kaaps ook uitstekende Standaardafrikaans magtig is. Daar kan ‘n diepgevoelde behoefte by sommige/baie Kaapssprekers wees om suiwer(der) Afrikaans te praat. Dmitri Jegels het tydens navorsing in Manenberg vasgestel dat bruin ouers verlang dat hulle kinders suiwer oftewel Standaardafrikaans en -engels moet praat (Frank Hendricks en Charlyn Dyers, redakteurs, Kaaps in fokus, Stellenbosch: Sun Media, 2016, p 106-107).

Deur op suiwer(der) Afrikaans aan te dring, word sowel blanke as bruin Afrikaanssprekendes oor hulle taalgebruik aangespreek. Kaaps word nie in sy geheel ongewens verklaar nie, maar slegs in soverre dit Engels is en wanneer dit gaan om die soort Afrikaans wat vir eerbare oorlewing wenslik is. Kaapssprekers kan en sal ongetwyfeld voortgaan om hulle mengeltaal ongestoord te praat. As bv Afrikaanstaalkundiges die moed het om taalsuiwerheid te bepleit, sal dit taalhigiëne bevorder. Sowel blanke as bruin Afrikaanssprekendes sal dan hopelik in groter mate poog om Standaardafrikaans te praat, soortgelyk aan die manier waarop hulle sedert 1994 onverminderd Standaardengels probeer praat.

In Nederland is in 2015 ‘n taalmanifes gepubliseer om wal teen verengelsing te gooi (WAM Carstens en EH Raidt, Die storie van Afrikaans, Deel 1: Uit Europa en van Afrika, Pretoria: Pretoria Boekhuis, 2017, p 399, 516). In Suid-Afrika bestaan daar ‘n veel groter gevaar van verengelsing as in Nederland. ‘n Andersoortige manifes vir Afrikaans is nodig, sodat ooreengekom kan word oor wat onder Afrikaans verstaan word en wat gedoen moet word om die voortbestaan van daardie Afrikaans te bevorder. Teen die einde van verlede jaar is so ‘n manifes gepubliseer (Leon Lemmer, ‘n Manifes vir Afrikaans, Praag 8.12.2017), maar dit het min kommentaar ontlok en geen konkrete resultate opgelewer nie.

Omdat die Afrikaansmanifes as ‘n werks- of gespreksdokument gepubliseer is, het ek die vrymoedigheid om dit soos volg aan te pas.

Afrikaansmanifes

Ons as Afrikaanssprekendes verklaar hiermee dat

● ons trots op Afrikaans is

● ons groot waarde aan Afrikaans as volwaardige taal heg

● ons eis dat Afrikaans as amptelike taal tot sy reg kom

● ons Afrikaans oral en altyd gebruik waar en wanneer dit enigsins sinvol is

● ons bereid is om telkens vir Afrikaans in die bres te tree

● ons daarop aandring dat afdoende skool- en naskoolse onderrig in Afrikaans beskikbaar moet wees

● ons Afrikaans so suiwer moontlik hou en gebruik

● ons veral teen die verengelsing van Afrikaans waak

● ons Standaardafrikaans as rigsnoer koester

● ons volhard met die Europees-vastelandse grondslae van Afrikaans

● ons Kaaps, in soverre dit Engels is, nie as ‘n geskikte oorlewingsvorm van Afrikaans beskou nie.

Oor elkeen van hierdie elf items kan daar gedebatteer word. Oor die toepassing van elk kan verduidelikings gegee word. Byvoorbeeld, oor die vierde item kan genoem word dat Afrikaanssprekendes geneig is om hoflikheidshalwe in Engels te antwoord as hulle in Engels aangespreek word, of erger dat baie Afrikaanssprekendes geneig is om vreemdelinge eerder in Engels as in Afrikaans aan te spreek. Myns insiens behoort Afrikaanssprekendes vreemdelinge in Afrikaans aan te spreek en in Afrikaans te antwoord wanneer hulle in Engels aangespreek word en met Afrikaans vol te hou totdat dit duidelik is dat die ander persoon nie Afrikaans verstaan nie. Deur anders op te tree, word by implikasie te kenne gegee dat Engels meerderwaardig is, terwyl daar geen grondige rede is waarom Afrikaans as minderwaardig beskou behoort te word nie.

My plan van aksie, my reddingsboei, vir Afrikaans is dat ‘n Afrikaansinstansie, soos die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, wat seker die omvattendste Afrikaansinstansie is, ‘n Afrikaansmanifes soos die bostaande aan ander Afrikaansinstansies en aan al die Afrikaansdosente of hulle departemente sirkuleer vir aanpassings en kommentaar en hulle dan pols oor die wenslikheid/noodsaaklikheid van ‘n gesamentlike byeenkoms oor die toekoms van Afrikaans, met ‘n veldtog ter bevordering van (groter) taalsuiwerheid as een van die oogmerke. Die ander Afrikaansinstansies hoef nie op die Akademie te wag om die eerste skuif te maak nie. Byvoorbeeld, Conrad Steenkamp van die ATR, of enige van die ander Afrikaansinstansies, kan die bal aan die rol sit deur die (aanvanklike) leiding te neem en daarmee aan te toon dat Afrikaans vir hom erns is.

Na dese behoort die ideaal van inklusiwiteit ten alle koste, bv “Dit maak nie saak hoe jou Afrikaans klink nie,” deur ‘n normgewende beginsel vervang te word, bv “Afrikaans as wesenlik ‘n nie-Engelse taal,” ‘n Afrikaans wat uit eie reg naas Engels kan voortbestaan, dus ‘n Afrikaans wat nie soos Kaaps kennis van Engels veronderstel voordat dit verstaan kan word nie. ‘n Voorspelbare argument waarmee asseblief nie vorendag gekom moet word nie, is dat geen taal suiwer is nie. Dit is duidelik dat ‘n suiwerder Afrikaans moontlik en wensliker is as die geradbraakte Afrikaans waarmee ons daagliks gekonfronteer word. Die status van Afrikaans as ‘n taal uit eie reg, dus as ‘n taal wat duidelik van Engels onderskeibaar is, moet herstel word. Dit is die soort Afrikaans wat Afrikaanssprekendes opnuut trots op hulle taal kan maak en hulle kan aanmoedig om Afrikaans tot in die verre toekoms te handhaaf.

Suidpunt: Die opvallende raakpunt tussen Afrikaans en Korsikaans

Jy onthou seker my ellelange PRAAG-artikel waarin ek die verwerping van Nederlands bespreek het. Daar het ongelukkig een puntjie agterweë gebly. Soos onkruid in die blombedding of ‘n vlek op ‘n sitkamermat kan jy dit nie miskyk nie, maar met verloop van weke, maande en jare raak jy net gewoond daaraan en vergeet daarvan.

Afrikaans het sy ontstaan as amptelike taal nie eintlik te danke aan die Afrikanerdom, die Duitsers, die Hollanders, die Skandinawiërs – ag, die hele boel afstammelinge van sekere volke Europeërs nie.

Nog minder die Kaapse Maleiers. Dis nou afgesien van die feit dat in Nederlands daar beslis meer Indonesiese woorde opgeneem is as wat Afrikaans ooit sal kan hê. Het die Hollandse digter Gerrit Komrij ook lankal gesê – maar die Afrikaanse proffies is mos slim. Daar is selfs ‘n woordeboek uitgegee getiteld Indisch lexicon : Indische woorden in de Nederlandse literatuur : een vervliegende woordenschat deur Peter Mingaars in 2005 met CD-ROM. Ons praat hier van byna 19 000 woorde. En let wel: dit is maar woorde wat dikwels ook geleentheidshalwe op skrif gebruik is. As jy nog nie weet nie – die verskil tussen Maleisies en Indonesies is maar gering – die Hollands-Britse skeidslyn het die sprekers van die Maleisiese dialekkontinuum van mekaar geskei, net soos die Limburgers tussen Duitsland, Nederland en België. Of die Nederlandssprekendes al langs die grense van Frankryk, België en Nederland en Duitsland. Dis regtig nie te moeilik om te begryp nie.

Nog minder kon die Afrikataalsprekers Afrikaans vingeralleen tot stand gebring het.

Dames en here, die enigste groep wat werklik Afrikaans tot amptelike taal gedryf het is… die Britse owerheid en die Engelse pers. Lord Milner en gevolg self.

NOOIT! Dis Absurd! Onmoontlik.

Het ek ook gedink met die lees wie verantwoordelik was vir die oprigting van die Van Riebeeckstandbeeld (Veertien gedenktekens van Suid-Afrika, 1961, pp. 13-14):

Die Standbeeld van Jan van Riebeeck

(Geskryf deur Dr. A.J. Böeseken)

Cecil Rhodes die skenker en John Tweed die beeldhouer

Toe Rhodes in 1890 Eerste Minister van die Kaapkolonie geword het, was hy reeds in die besit van ‘n baie groot fortuin. Van al sy rykdom het hy egter byna nooit iets vir sy eie gerief of die veraangenaming van sy persoonlike lewe gebruik nie [sic!].  Nou het hy gevoel dat hy ‘n woonplek wou hê wat meer in ooreenstemming sou wees met sy status as eerste minister. In 1891 het hy gehoor dat een van die ou Hollandse huise in die mark sou kom en het hy besluit om dit te koop en daar te gaan woon. Spoedig was hy ook eienaar van die omringende gebied, wat destyds omtrent ₤60,000 gekos het. Aan hierdie landgoed het hy die oorspronklike naam teruggegee en dit “Groote Schuur” genoem.

[…]

In weerwil van sy politieke bedrywighede – hy het in 1893 sy tweede kabinet saamgestel – het Rhodes ‘n breë belangstelling vir die kuns, veral vir die bou- en beeldhoukuns, aan die dag gelê. Die enorme fortuin waaroor hy beskik het, het hom in staat gestel om meer as net belangstelling te toon, en so is dit aan hom te danke dat verskeie ou Hollandse huise herstel en ander in dieselfde styl herbou is.

Sy bewondering vir oudhede het hom ook ‘n geesdriftige versamelaar van ou Kaapse meubels gemaak.  Toe hy na sy tweede kabinetsvorming nouer aansluiting met Jan Hendrik Hofmeyr en sy volgelinge gesoek het, het hy onwillekeurig nog meer klem en nadruk gelê op sy bewondering vir die oud-Hollandse tradisies, waarin die Kaap gewortel was. In 1895 is die Rhodes-prys vir geskiedenis bv. nie slegs vir die studie en kennis van die Britse Ryk uitgeloof nie, maar ook vir die bestudering van die geskiedenis van ons land vir die tydvak 1648 tot 1688.

Die besluit om ‘n standbeeld van Jan van Riebeeck te laat maak, was dus in ooreenstemming met hierdie ideale. […] Kaapstad, het hy aan een van sy vriende gesê, sou spoedig die hoofstad van ‘n verenigde Suid-Afrika wees, en dus wou hy help om dit ‘n pragtige en sierlike hoofstad te maak. Tweed is opnuut genader met die versoek om ‘n meer as lewensgrote [sic] beeld van Jan van Riebeek te maak. Rhodes was gewillig om die beeldhouer ₤1,000 te betaal[…]

Nou breekt mijn klomp. Jy wil die hele wêreld van Kaap tot Kaïro verower vir Haar/Sy Majesteit, maar raak liries oor ‘n paar skrootmeubels – van die afstammelinge/voorgangers van die einste mense wat hul kultuur juis deur jou dade aan die kwytraak is.

Of dalk is ek net te krities: argeologie [van uitgestorwe stamme], opgrawings en artefakte, die studie rondom die opbloei en verval van beskawings en ryke, skattejag op relieke, en skoenlappervang was immers daardie tyd van die fin-de-siècle mos hoogmode. Hoe skaarser, hoe beter. Dit was nou voordat Paulo Coelho minder as ‘n eeu later met Die Alchemis (1988) se soektog na die “skat van die hart” die hele Jungiaanse popsielkunde op loop gesit het – dat die mens dieper in sy onbewuste moet delf en grawe; sommer net daar op die sielkundige se rusbank. Al wat van daardie versamelsug-dae van weleer oorgebly het is Indiana Jones en Lara Croft op DVD. En ‘n paar toeriste op begeleide safari- en staptoere tussen die stomende, fermenterende buffelmis deur. Die res van ons dwaal maar in die kuberruimte of biblioteke rond.

Maar hierdie restourasiedrome van Rhodes was natuurlik vóór die Jameson-inval (wat sy planne vir ‘n verenigde Suid-Afrika opgedonder het), sy bedanking as eerste minister in 1896, sy vriendskap met onse Jan Hendrik Hofmeyr en die Afrikanerbond wat versuur het, die openbare mening wat skerp teen hom gedraai het, sy huisie Groote Schuur wat in 1896 deur die brand verwoes is (en hom in die put van ellende, stilstuipe, selfbejammering en selfopgelegde slagofferskap laat beland het: “What with raids, rebellion, famine, rinderpest and now my house burnt, I feel like Job, all but the boils” (p. 16)).

Ek is seker die standbeeldprys wat ondertussen óók gestyg het was dan seker maar ‘n kleinigheidjie.

Boonop [kon ek ook vir jou met of sonder ‘n Garmin sê!] het niemand geweet waar Van Riebeeck nou eintlik sy eerste spoor in die sand getrap het nie. Uiteindelik, in Oktober 1898, het Rhodes maar self die plekkie aangewys waar die beeld moes staan. Soos die tyd aangestap het, het hy belangstelling in sy Sondagmiddagprojekkie verloor – sy drome was immers toe aan skerwe. Rhodes was buitendien in Europa toe hy ‘n kabelbriefie aan die burgemeester gestuur het om met die onthulling voort te gaan, aangesien die datum van sy terugkeer onseker was. Met soveel sware las wat op sy skouers rus, wat selfs Atlas seker met simpatie sou betrag, het Rhodes die loopplank eers op 18 Julie in Kaapstad laat les opsê (p. 17-22).

Die standbeeld is op 18 Mei 1899 onthul, met die burgemeester van Kaapstad, miester Ball, wat sonder ironie in Ingels met die grootste lofliedere oor Jan van Riebeeck gekoer het [wat dooi’ Jan in die hiernamaals geen woord van sou verstaan nie]; oor pionierskap en so. Alles was, eweneens sonder ironie, in rooi getooi – rooi was die tapyte, rooi die omheinings wat die eregaste van die hoi polloi geskei het, en, net soos ons huidige parlementsopening, was die orkes geklee in… raai? Rooi.

Groot was die toeval, toe ‘n Nederlandse oorlogskepie, die Ajax, nou juis daardie dag, asof ‘n bestiering, die Kaapse vaarwater binnegevaar het. Die skip het immers so netjies ingepas by die dekor en rekwisiete – asof Van Riebeeck en sy manne self die Britte op land met die hand kom groet het. Die offisiere en manskappe is vriendelik by die verrigtinge verwelkom.

Na al die spietses van die burgemeester [wat niemand in elk geval kon hoor nie, want by niemand het gedink om die verkeer tot stilstand te bring tydens die plegtigheid nie…boonop het Ball sag gepraat] en dankies vir de heer Rhodes in absentia en skaregejuig, het die Britse orkes [die First Liverpool Regiment] die Britse volkslied gespeel en daarna “het drie hoera’s weerklink vir die burgemeester en vir die heer Rhodes” (p. 17-22) en almal het maar weer huis toe gegaan.

Sedertdien het elke seevoël uit pure verveling ook sy draai, sagte landing, buiging en merk gelaat op die standbeeld. Die feit bly egter staan – hoe onaangenaam die waarheid op jou kop ook al moet kwets – dit was nie die Afrikaner wat daardie beeld van Jan van Riebeeck in die Kaap opgerig het nie. DIT WAS DIE ENGELSE!

Nou kyk, om ‘n standbeeld op te rig is een ding, maar om nou nog die Afrikaans taal ook “staan te maak”? Dis mos waansin?

Ontkenning bly egter die mees voorspelbare reaksie van ‘n menslike antwoord.

Paps was onlangs in Italië. Tydens sy werksbesoek was hy op Sardinië, ‘n eiland benoorde Sisilië. By sy tuiskoms het ek ‘n boek gekry en ‘n rooierige geldnoot wat ek eers aangeneem het ‘n vyftigrandnoot is. By nadere ondersoek sien ek dis ‘n tieneuronoot – omtrent drie keer die waarde. Dit is egter die boek, getiteld S’Istòria de Sardinna (2000, pp. 45, €6,00) deur Frantziscu Tzèsare Casula wat my belangstelling geprikkel het. Ja, “Die geskiedenis van Sardinië.” Die onherkenbare woorde soos “limbra”, “sos” en die allervreemdste gebruik van die gravisaksent en akute aksent het my klaar oortuig dis geen Standaarditaliaans hierdie nie. Bietjie google bring my by ‘n boekinventaris wat sê: “Sardo logudorese”, oftewel, “Die Logudorese subdialek van Sardies/Sardinies, self ‘n dialek van Italiaans.” Omrede Sardinies self uit vier hoofsubdialekte bestaan, is dit vir my juis interessant dat hierdie spesifieke subdialek wat tot literêre skryfidioom verhef is, Logudorees, aangrensend aan Katalaans in die weste, juis redelik ver in die noorde en ook baie ver van Cagliari, die (hoof)hawestad doer onder in die suide van die eiland geleë is.

Sommer uit pure stuitigheid probeer ek kyk of Google Translate hierdie taal sal herken. Sonder om enige moeite te doen met akuut- en gravistekens en met ‘n doelbewuste spelfout aan die einde begin ek oortik: “Sos primos omines chi si sunt istabilidos in Gaddura e in sa Sardinna sent…”. Google Translate herken die teks as Korsikaans. Glad nie sleg nie – dit is die eiland net noord van Sardinië.

Korsika, sover ek reg onthou, is mos die eiland waar Napoleon gebore is. En dis mos ‘n Franse eiland? Voorheen wel Italiaans (ja, dit was eers in besit van die Republiek Genua vanaf die 13de eeu, en selfs ‘n ouer deel van Italië, Etrurië vanaf die jaar 539 v.C.)?

Die een vraag lei na die volgende:

Kan die Franse en Italianers Korsikaans verstaan? Hoe verwant is Korsikaans aan Italiaans, as dit so naby lyk op Sardies? En dit bring my uiteindelik by ‘n antwoord op Quora.com :

Italians can understand Corsican very well,.Among the italian dialects( linguistically Corsican cannot be considerated a separated Language also if many people like to call it Lingua ), it’s one of the closest to standard italian.Just Tuscan is the only one dialect closer to standard Italian than Corsican.The only big difference among Italian and Corsican is the use of U where Italian use O.It was so also in medieval Italian and it’s still so in many Italian dialects , bit not in standard Italian or in Tuscan that have transformed U in O. Other difference is the strong french accent of the Young Corsican generations, but old generations had a completly italian accent..One accent that seemed a mix of Tuscan and South Italian. Cismontano or better, northern dialect is totally Tuscan, the Southern dialect has a stronger presence of the pre-tuscan romance Language, that I supose was similar to Sardinian, but is still highly intelligibile for Italians.

En dan, tref die groot aha!-oomblik:

Despite the efforts of the French government to separate Corsicans from Italians ( absurdly fearing Italian interferences in the island ) telling them, in the schools, and everywhere, that their Language is a separated romance language, Corsican is just a variety of Italian very close to Tuscan and to standard Italian.You change the U with O, and avoid the modern french accent of the new generations and Corsican is perfectly Italian.Corsican is so far from Italian as Parisian slang from French.

French, of course, is not intelligible with Corsican, the only similarity derives from the far same origin in Latin Language.

Nou toe nou. Terwyl die Italiaanse owerheid aan al sy dialekte dieselfde voorregte gee, maar Duits in Suid-Tirool tog vir jare onderdruk het, sien ons by die Franse owerheid iets wat my baie herinner aan koerante wat vuur spoeg teen “Kitchen Dutch”.

Aan die een kant wil dit lyk of ‘n (nuwe) veroweraar met ‘n vreemde taal heel eerste ‘n taal van sy onderdane ‘n ruk lank sal verduur. Vier rigtings kan ingeslaan word: (1) gedwonge assimilasie, (2) om die taal aan sy eie sprekers oor te laat, (3) of om die taal van die vreemde volke verder te ontwikkel of (4) om soos Duitsland ‘n lingua franca wat reeds bestaan het in Duits-Oos-Afrika (naamlik Swahili)  ongesteurd sy gang te laat gaan of uit te bou, terwyl die administrasietaal steeds Duits bly.

Die Koning van Frankryk het byvoorbeeld met die uitroep van die Ordonnance de Villers-Cotterêts in 1539 ‘n uiters vrygewige stap gevolg, al was dit maar punt (2) – alle tale in Frankryk was voor die reg gelyk. Of jy nou Elsassies gepraat het, Bretons, dit maak nie saak nie: alle tale is voor die regter gelyk. Elkeen moet in sy moedertaal verhoor en ondervra word. Ek dink geen mens in die huidige Suid-Afrika kon ooit so “liberaaldenkend” wees nie. Soos die konings en die adel se koppe gerol het na afloop van die Franse Revolusie het ‘n drakoniese taalbeleid in Frankryk opgestaan wat doelbewus klein taaltjies begin onderdruk het. Veral Bretonssprekers het swaar gely [Bretons is boonop ‘n Keltiese taal, wat hom nog meer die omega-wolf maak waarop die ander pik]. Deesdae is die Franse minder stief op hul taalonderdane.

Nederland volg ‘n Punt (2)-(3) met sy dialekte en Fries. Ja, jy mag maar jou boek in Twents (dialek) en Fries (taal) skryf. Die onus rus op die sprekers om die dialekontwikkeling verder te voer. Ja, ons gee elke jaar hordes geld aan die Friese Instituut. Maar tog verhollands die Friese teen ‘n skrikwekkende tempo. Ons was ons hande in onskuld.

Apartheid-Suid-Afrika het ook nommer (2)-(3) gevolg, met ‘n skerper neiging na nommer 3. As mens kyk na al die vreemdetaalwoordeboeke wat voor 1990 tussen Afrikaans en ander Afrikatale geskryf is, te midde van al die sanksies en te midde van die ekonomiese boikotte… moet ek regtig my sin voltooi? Daar is werklik moeite gedoen om tale te ontwikkel en om Afrikatale te leer ken. In Transvaal was ‘n Afrikataal op ‘n stadium selfs verpligtend. Daarteenoor het ek my sterkste bedenkinge of Fries vandag as pligvak noodwendig in Amsterdam doseer word. Of Wallies en Gaelies in Londen.

Die ‘ontstaan’ van Afrikaans toon wel ‘n raakpunt met Korsikaans. Heel eerste kom die “nuwe” heersers af op ‘n dialek van ‘n taal. Dialekvorming en die ontstaan van dorps- en streekstale is so algemeen soos môre heeldag – ‘n moedertaalspreker, soos ek reeds tevore geskryf het, is meer gepla oor die bloutong onder die skape as om elke vyf sekondes na ‘n woordeboek te hol om tog die korrekte bewoording te gebruik. Taalverandering is normaal. Taalverloedering is wel iets anders.

Maar die uitsondering word gemaak – hierdie dialek word vir die een of ander rede óf sleggemaak (“Kitchen Dutch”) óf ‘n bastertaal genoem óf verkleineer óf word onderwerp aan taalpartikularisme. Enigiets word gedoen om hierdie dialek van die stamtaal te onderskei. En te skei. Dit kan wees omrede diegene wat NIE in Suid-Afrika gebore is nie [net om duidelikheid: ek praat nie noodwendig van die gebore Franssprekendes op Korsika of gebore Engelssprekendes in Suid-Afrika nie], dikwels moeite het om hierdie dialek onder die knie te kry. Nie dat ek weet waaroor die bohaai gaan nie, want as jy Italiaans op Korsika [‘n klipgooi ver van Italië] sou praat, of Nederlands in Suid-Afrika, is dit ewe gangbaar. As jy nou regtig belangstel in die dialek kan jy ‘n taalboekie daaroor skrywe. Maar dikwels is die heerserstaal se sprekers net onwillig en dwars om enige ander taal aan te leer.

Ironies genoeg word geen onderskeid getref tussen Korsikaanse Frans (en kreool) en Standaardfrans of Suid-Afrikaanse Engels (en kreool) en Britse Engels nie. Frans is mos Frans en Engels bly Engels. Daarvoor sou ‘n mikroskoop oorbodig wees.

Dan begin die volk homself anders of uniek en veral broos en afgesonderd van die wêreld sien. Weer weet ek nie waarom nie, want met al die tekste in Romaanse, Germaanse en Slawiese tale en selfs Latyn daarbuite voel mens glad nie so op ‘n taaleiland vasgekeer of alleen nie. Elkeen het wel sy eie rasionele en irrasionele insigte op die plek waar hy hom bevind – en dis die rede wat die groot bindingsmiddel tussen lesers en eeue is. “Daar is lewe anderkant [dorpsnaam]”, is ‘n spreekwoord waarmee ek grootgeword het.

Dalk is dit Stockholmsindroom, dalk is dit die pers wat met herhaling op herhaling mense breinspoel. Want uiteindelik vind die skeuring tog maar plaas. Ons sien dit onder die Vlaminge wat ook onder Franse bewind was [en Brussel wat steeds verfrans] wat tog nie daardie “halfjoodse” Hollands van die Nederlanders wou praat nie. Soos Guido Gezelle aangehaal word in Van Eeden (1995) se boek Afrikaans hoort by Nederlands:

“Ik ben geheel zeker dat de tijd allengskens gekomen is dat wijlieden, al te maal katholieke nederlanders, behooren op malkaar te steunen, liever als voortdurend naar het half joodsch, half heidensch Hoog-Holland te gaan om steun en goedkeuring!” Hollands het Gezelle gesien as ‘n wangeskape ‘bastaardtaal’. Ook die oorname van Franse leenwoorde in Hollands was vir hom ‘n gruwel, want ook Frans het hy as ‘n ontaarde taal gesien. Vir Gezelle was Vlaams die ware Nederduitse taal, die Katolieke taal van de Katolieke Vlaminge, en het “West-Vlaamsch, zooals het in het dialect voortleeft, onverbasterd gebleven; het bezit nog de zeggingskracht der oude, zuivere natuurtalen”.

Dis nou wragtig interessant. Klaarblyklik begin die onderdaan later soos die maghebber self klink. Maar nou vind ‘n ommeswaai plaas: die dialek probeer homself “verskoon”, “regverdig”, “op ‘n voetstuk plaas”, “heiliger as heilig”, beter as die “oorwinnaarstaal se opponente” maak. Miskien moet ek jou weer herinner aan my onderhoud met Dr. Roodt:

In die Taalgenoot van Somer 2016 kom ek op ‘n gedig (Getiteld: “Eie in sy soort”) af met die volgende drie inleidende verse: “Dit is beter as Spaans / En selfs beter as Frans / Dit is Afrikaans.” Die gediggie lys dan ‘n klomp Afrikaanse skrywers en genres. Dat die digter, ‘n tydskrifleser, seker niks van die Franse of Spaanse taal, letterkunde, wysheid of Franse aanhang deur Brusselaars weet nie kan ‘n blinde met ‘n stok aanvoel. Soos die dwangrym. Dit is wat nié in die gedig staan nie wat my pla. Die digter het onbewustelik haar onderdanigheid aan die superieure Engels bely. Of moet ek dankbaar wees sy het nie Nederlands, Duits en Russies saamgesleep nie?

En vreemd genoeg, is die vreemdtalige owerhede tog te bly oor hierdie skeuring. Want nou is die ‘groot vyand’ aansienlik kleiner gemaak en geen bedreiging meer nie.

Maar waarom daar altyd ‘n wen-verloor in stede van ‘n wen-wen– of gelykop-situasie moet wees het niemand skynbaar ooit oor nagedink nie.

Nou bly die interessante vraag wat die Korsikane gaan maak. In die verlede het die Franse probeer om die taal te onderskei van Italiaans, maar die Korsikane het net elke keer gesê: “DUH, L’HONORABLE CHÂTELAIN de POEPHOL! ONS IS ‘N DIALEKGROEP VAN ITALIAANS! AL MILLENNIA LANK. Rome is skaars 400 km hiervandaan, met ‘n bietjie see en ‘n paar skeepswrakke tussenin… weet jy ooit hoe om ‘n atlas te gebruik? Nee? Gebruik dan jou maatband.” Tog het Korsikaans sy eie skryftaal gekry sedert die Fransman met sy sleeptassie aangeland het op die Aéroport d’Ajaccio Napoléon Bonaparte. En hier ontstaan die problematiek: noudat Korsikaans sy eie skryfwyse gekry het, is dit ‘n taal of dialek? Asof ons nooit Limburgs en Twents onder oë gehad het nie – natuurlik kan elke dialek besluit om sy eie spelreëls te ontwikkel.

Maar – die teerling is gewerp.

Afrikaans is die uitvloeisel van die botsing met ‘n entiteit wat as ‘n bedreiging beskou is/word. Sonder Engels sou alle Afrikaanssprekendes waarskynlik vandag steeds “Hollands” gepraat het. Van Boet en Saartjie en Sus en Daan sou niemand op skool gehad het nie – wel Annie M. G. Schmidt se Jip en Janneke. Want, soos ek voorheen geskryf het rondom Frans – die Franse het tot 813 n.C. geglo hulle praat Latyn of Romeins (“Gallo-roman”). Totdat die vergelyking tussen die Klassieke Latynse en Oudfranse tekste gemaak is en – “haai, ons het ons vir eeue lank vergis, wil jy nou meer!” As jy glo jy praat Hollands, dan praat jy mos Hollands. Niemand gaan jou anders kan oortuig nie.

Daar is ‘n tweetalige boek getiteld: Problemi e prospettive della pianificazione linguistica in Sardegna (2016) [Probleme en perspektiewe rondom die taalbeplanning op Sardinië] wat ek op my wenslysie geplaas het. Uit wat ek aflei kry hierdie taal/dialek ook maar modderige tweederangse status op die eiland self – dis die Standaarditaliaans wat deurgaans respekteer word. Ek twyfel of Afrikaans, as dialek, die bietjie prestige sou bekom het wat hy selfs tans geniet.

Wat op taalpolitieke terrein sou gebeur kan mens lank oor spekuleer – enigiets vanaf ‘n taalmodel soortgelyk aan Suriname [Nederlands word daar as prestigetaal erken en is hoog aangeskrewe] tot totale uitwissing [soos in Indonesië die geval is]. Dis nou voor die aankoms van die Engelse of sedert ‘n verdrag onderteken is wat die Kaap permanent aan Nederland sou teruggee. Of ‘n Nederlandse avonturier in die monarg se oor sou fluister om na die binneland uit te brei, lyk hoogs onwaarskynlik. Dis nou alles vóór die uiteindelike onafhanklikheidsverklaring in die 1960’s tot 1970’s, volgens die postkoloniale mode.

Maar selfs al sou ‘n Britse kolonie en die gevolglike Groot Trek deel uitmaak van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, en al sou die Anglo-Boereoorlog gewen word deur die Boererepublieke – die uiteinde van volk en taal staan alles reeds in Steve Hofmeyr se boek, Die verste uur (2011), klaar ondubbelsinnig uitgepluis (pp. 73 & 78):

“Watter boek soek u?”

[…]

“Enigiets oor die geskiedenis van die Afrikaner oor die afgelope honderd jaar.”

“Die wie, meneer?”

O fok, dink ek. Iemand val van ‘n perd af in die Modderrivier en vee ‘n hele nasie uit?

“Daar is eers onlangs ‘n meer ordentlike boekstawing van Afrikane-geskiedenis, deur die Keniaan, Grinzane Rouki. Sy spesialiteit is Sahara-Suid. Maar van die Afrikaners weet ek niks nie. Is dit die werk waarna u soek?”

[…]

“O, ek het die Afrikaners opgespoor. ‘n Kleinerige stam voor die groot verengelsing in die Kaapkolonie. Maar dit is nie NZAR-geskiedenis nie. Daar was wel wedersydse taalbande en -forums…”

Die Boervolk het oorgebly, die Afrikaners het heeltemal verengels.

Die gevolgtrekking waartoe die karakter Jamie dan uit die naslaangidse kom, word in uiters dubbelsinnige taal verwoord (p. 77):

Die Tweede Aanslag op Boeregrond vanuit swart buurlande misluk en loop uit op die Sub-Sahara-federasie, deels in weerwil van Europese bure en deels in pogings om die Boere deur beter handel as handelsvennoot te betrek. Betrekkinge bly louwarm.

So ook, aanvanklik, betrekkinge tussen die Afrikaners en Boere. Daar is wel Prellers, Celliers’s, Leipoldts, Malherbes en ‘n Totius, maar literatuur sonder die swaar juk van Britse propaganda en Engelse infiltrasie wat ons taal vlerke sou gee. Daarom ook geen Ossewabrandwag, geen ANC…”

Het die swaar juk van Britse propaganda en Engelse infiltrasie as noodwendige katalisator, die aandrywer gedien vir die Afrikaanse taal? Of het Die Taal juis later, dus in die verhaalhede, in medias res, wél nuwe grense deurbreek en floreer, as gevolg van hierdie las wat ontbreek en die ekonomiese opbloei van die Boererepublieke – waarin Jamie hom tans bevind? Die boek laat die leser self besluit.

Peter Murray: Afrikaneremigrasie is ‘n werklikheid

Of u nou daarvan hou of nie, emigrasie is ‘n werklikheid. Ek gaan nie kant kies nie, want dan gaan my teenstanders my stenig.

Die jongste opnames toon dat daar waarskynlik vanjaar nog in 2018 ‘n emigrasierekord opgestel gaan word.

Amptelike inligting toon dat landgenote wat vanjaar nog na die Verenigde Koninkryk wil emigreer, met 22% gestyg het.

Daar is alreeds sowat 200 000 Suid-Afrikaners in die VK, waarvan die meerderheid in Londen woon.

In Australië woon 190 000 Suid-Afrikaners, waarvan die meerderheid in Perth gesetel is. Daar is ook ‘n redelike groot aantal in Brisbane.

Daar word beweer dat Afrikaans Australië se tweede grootste taal is, en dat daar alreeds Afrikaanse skole en kerke gestig is.

Ander lande met groot getalle van ons mense, is: Nieu-Seeland, Kanada en die VSA.

Die redes vir emigrasie is velerlei. Mens sal ook seker nooit weet wat die werklike redes vir almal is nie, omdat baie mense bang vir intimidasie is.

Veiligheid en sekuriteit is die twee vernaamste redes wat deur die meeste mense aangevoer word waarom Suid-Afrikaners hul geboorteland verlaat.

Ander redes is: “Ons land se onderwysstelsel is skrikwekkend, en ons kinders het geen toekoms in die Nuwe Suid-Afrika nie.”

Die RSA se swak geldeenheid (die rand) is ‘n verdere bekommernis vir vele. Vandeesweek het die rand verswak tot R18,00 per Pond Sterling. In 1961 was dit R2,00. Teen die VS-dollar trek dit al oor die veertien rand per dollar, R14,08 om presies te wees, asook R16,07 per euro.

Werkloosheid, en die gebrek aan werksgeleenthede, is insgelyks ‘n belangrike rede waarom Suid-Afrikaners die land wil verlaat. Onder jeugdiges is die werkloosheid nou sowat 50%. Ander ouderdomsgroepe ly ook daaronder. Die amptelike syfer is nou byna 28%.

Japan vaar met 3% die beste ter wêreld; die wêreldgemiddeld is 6%; en Portugal, wat 47ste is, spog met 12% werkloosheid. Suid-Afrika se 27,8% is meer as dubbeld soveel as Portugal s’n. Skrikwekkend!

Werkloosheid veroorsaak armmoede; armoede veroorsaak honger, dakloosheid en misdaad.

Politieke onstabiliteit sorg vir groot onsekerheid onder inwoners. Beskaafde mense veral, is gewoond aan stabiliteit en wil graag die versekering hê dat die land se regering gesond is. As daar swak administrasie, bedrog, korrupsie, onbevoegdheid; ens., in die landsbestuur is, kan geen beskaafde mens gelukkig en tevrede wees nie.

Die spreekwoordelike “laaste druppel aan die emmer”, is die regering se aankondiging van “onteiening sonder vergoeding”. Ons geskiedenis leer egter vir ons dat ons voorvaders nie grond van swartes gesteel het nie. Grond is gekoop of geruil.

As jy jou lewe lank hard gewerk het — soms nadat jy baie geld, sweet en trane vir studies betaal het — en jou gewete sê vir jou: “Hierdie plaas (of huis of ander eiendom) is wettiglik my eiendom”, gaan jy mos nie tevrede wees as dit sommer so van jou vervreem word nie!

In 1980 was daar ongeveer 180 000 boere in Suid-Afrika. In die jaar 2018 word die getal op 33 000 geskat. Wat het van die res (147 000) geword? Ons hoor dat sowat 4 000 vermoor is. Dan hoor ons van boere wat na ander Afrikalande — soos Nigerië, Zambië, Malawê, ens. — uitgewyk het.

Ons hoor ook van Georgië, die VSA, Australië, Kanada, en Suid-Amerika, waarheen Suid-Afrikaanse boere verhuis het.

Maar, sluit dit almal in? Is dít waarheen 147 000 blanke boere — hoofsaaklik Afrikaanssprekendes — verhuis het?

Soos reeds genoem, mens sal nooit weet wat elke emigrant se eerlike antwoord gaan wees oor waarom hulle hul geliefde vaderland en geboorteland verlaat het nie, maar feit is dat ons land vir hulle “onaanvaarbaar” geword het.

Deskundiges reken dat daar veel meer emigrante sou gewees het, as dit maar net vir hulle makliker gemaak sou gewees het. Nou wat is dan die “steen in die weg” van laasgenoemdes? Wel, ook in hierdie geval gaan ons baie antwoorde kry.

Om wettig te emigreer, kos in baie gevalle meer as ‘n miljoen rand, en om vir asiel aansoek te doen, is veel moeiliker!

Armoede, bejaardheid, gestremdheid, onvoldoende kwalifikasies (om maar net ‘n paar te noem), diskwalifiseer baie voornemende emigrante.

Dus sal diegene wat agterbly maar die goeie stryd moet stry, al is dit net om te oorleef.