praag.co.za

Tag: Broederbond

  • Leon Lemmer: Afrikaner-Broederbond/Afrikanerbond: Leiding of misleiding?

    Leon Lemmer: Afrikaner-Broederbond/Afrikanerbond: Leiding of misleiding?

    Dit is nie ‘n maklike taak om na verloop van ‘n eeu oor die Afrikaner-Broederbond (gestig in 1918) – sedert 1994 bekend as die Afrikanerbond – te skryf nie. Die afkorting AB word gebruik om na een van hulle of albei te verwys. In 1918 was ‘n instansie soos die AB absoluut nodig. Na die Anglo-Boere-oorlog (ABO, 1899-1902) en die Rebellie (1914) was die Afrikaner in ellende gedompel en op moedverloor se vlakte. Vandag, ‘n eeu later, kan kwalik beweer word dat die Afrikaner en Suid-Afrika in ‘n beter situasie is. Materieel gaan dit skynbaar voorspoediger met die meeste Afrikaners. Maar kultureel, indien nie ook fisiek nie, verkeer hulle voortbestaan in gevaar. Die magte wat tans dreig om die Afrikaner te verswelg, is kultuur- en beskawingsgewys selfs meer toksies as oorheersing deur die Britte, wat darem in ‘n mate Europees en ten minste Westers was en is.

    In hierdie sin was en is die AB nodig. Maar ek skryf dit met huiwering. ‘n Mens kan redeneer dat die AB mede-verantwoordelik is vir die situasie waarin die Afrikaner hom tans bevind; dat die aanvanklike pro-Afrikanerleiding wat daar van die AB uitgegaan het, mettertyd in misleiding ter bevoordeling van swart mag ontaard het. Ek was nooit ‘n lid van die AB nie. Ek wou nie by die AB aansluit nie, onder meer omdat ek nie ‘n groepsmens is nie. Dit is een van die (moontlike) verskille tussen Afrikane, wat (tradisioneel) stam- of groepsmense is, en Afrikaners, wat as (of soos) Europeërs in groter mate tot die uitlewing van hulle individualiteit geneig is. My lewe lank kon ek vryelik ‘n liefde/haat-verhouding met die AB koester. My bespreking van die AB geskied met verwysing na twee boeke; een wat ‘n dekade gelede verskyn het en een wat onlangs gepubliseer is.

    Nico Smith

    Op die verso van die titelbladsy van sy boek, Die Afrikaner-Broederbond (Pretoria: Lapa, 2009, 262p), beskryf die teoloog, Nico Smith (1929-2010), die inhoud soos volg: “Belewinge van die binnekant van die Afrikaner-Broederbond oor ‘n tydperk van tien jaar – van my toetrede [1963] tot my uittrede [1973] as lid van die organisasie.” Daar is ‘n afdeling, geskryf deur Keith Clarkson, waarin ‘n oorsig van die AB se geskiedenis gegee word (p 19-33). Daaruit blyk bv die AB se voorkeur vir moedertaalonderrig in skole (25). Op universiteit het Smith kennis met MSB Kritzinger se standpunt gemaak: “Taal is ‘n sielsuiting wat inhoud aan jou menswees verleen” (50). Smith verwys na regter Kowie Marais wat voorbeelde van foutiewe Afrikaans tydens AB-vergaderings uitgewys het (121). In sy jeug het Smith Afrikaans-Nederlands as hoofvak vir sy BA-graad gekies omdat sy Afrikaansonderwyser “by my ‘n liefde vir die Afrikaanse letterkunde laat ontwaak het” (47). Nêrens elders in Smith se boek skemer daar egter voortgesette liefde vir of besorgdheid oor Afrikaans deur nie. Myns insiens dui dit op die mate waarin Smith hom in sy latere lewe van Afrikaners gedistansieer het.

    Smith beskryf die milieu van Afrikaner-nasionalisme waarin hy opgegroei het en hoe hy mettertyd sy weg tot in die Ruiterwag, Rapportryers en AB gevind het. Hy is onder die indruk gebring dat die AB ‘n kultuurorganisasie is, maar dit het geblyk glad nie vry van partypolitiek te wees nie, Die Nasionale Party (NP), AB en die Afrikaanse Protestantse Kerke (veral die NG Kerk – p 181) het in groot mate ‘n drie-eenheid gevorm (127). Die AB was die dinkskrum van die NP-regering (93, 146). “Geen party, hoe goed georganiseerd ook al, sou ooit daarin kon slaag om so ‘n uitgebreide gratis netwerk van propaganda en politieke manipulering op te bou soos wat die NP in die AB gehad het nie” (134).

    “Ek het besef dat nasionalisme in wese ten doel het om mag te verkry en sodoende die belange van die eie groep te bevorder … dat mag groot verantwoordelikheid in die gebruik daarvan vereis. Ek het besef dat mag en regverdigheid geen goeie bedmaats is nie” (95). Smith kom tot hierdie gevolgtrekking oor die NP-regering, maar dit geld onveranderd of heel moontlik in groter mate vir die huidige politieke bedeling. In die (akademiese) praktyk het Smith die AB ervaar op ‘n manier soortgelyk aan hoe ek dit leer ken het: “Daar was altyd ‘n soort onafgesproke verstandhouding tussen die Broers om mekaar in hulle voorstelle in die [universiteits-]senaatsvergaderings te steun” (160). Dit was nie ‘n uitvloeisel van ‘n AB-opdrag nie, maar van die AB-klimaat (133); die “konformerende mag van AB-denke” (146). Hieraan skryf Smith sy eie aanstelling as dosent aan die Universiteit Stellenbosch toe (108, 200). Ek hou van sy beskeidenheid oor sy vermoëns (211, 213) en sy verwysing na homself as “‘n mindere lig” (164).

    Smith verwys na die gevoel by Afrikaners dat hulle na die ABO “tweedeklasburgers in hulle eie land was” (20). Sedert 1994 is dit weer die geval. Die NP-regering is destyds van politieke aanstellings (24) en nepotisme (25) in bv die staatsdiens beskuldig. Tans is dit weer en dalk in groter mate die geval met ANC-kamerade wat in poste ontplooi en dikwels sonder sigbare prestasie (en selfs met sigbare wanprestasie) tot in hoë poste vorder. Smith noem dat “lede van die AB mekaar identifiseer deur die hand stewig na regs te draai wanneer jy iemand groet” (82) – gelukkig nie na links nie. Smith is in sy skik met die standpunte wat hy geformuleer het in ‘n konsepbrief (236-241) wat hy in 1981 opgestel het, bv dat afsonderlike ontwikkeling verwerp word, aan almal ‘n menswaardige bestaan gegun moet word, kerklidmaatskap oop vir enigeen moet wees en geregtigheid bo selfbehoud gestel moet word. “Alleen op dié wyse sal al die inwoners van die land in geregtigheid kan voortbestaan en sal almal ‘n rustige lewe kan lei” (241). Ervaar Afrikaners sedert 1994 geregtigheid by bv die vulling van poste en onteiening sonder vergoeding en het rustigheid op die land neergedaal, of is Suid-Afrika een van die moord- en gewelddadigste lande in die wêreld? Maar dan is dit Smith wat skryf dat hy “‘n permanente weersin in enige vorm van geweld” gehad het (42).

    Smith en Beyers Naudé (1915-2004) was ‘n kort tyd mede-leraars van dieselfde gemeente en albei het mettertyd kant vir die sogenaamde bevrydingsbewegings gekies. Soos die ander bevrydingsteoloë word God se aandag by voorkeur ingeperk tot bystand aan nie-wit verdruktes en veronregtes. Maar ek het nog nie uit daardie oord iemand hoor sê dat Afrikaners deesdae vir bonatuurlike voorkeur-aandag kwalifiseer nie. Teen die einde van sy lewe het Naudé die bestaansreg van die AB erken, terwyl Smith ‘n radikaler standpunt gehuldig het, naamlik dat ‘n organisasie soos die AB nie moet bestaan nie (191, 193, 195). Dit toon in watter uiterste mate hy in ‘n verloopte Afrikaner ontaard het. Smith noem dit sy “reis van Europeër tot Euro-Afrikaan” (8). As die AB wel voortbestaan, moet die lede “hulleself vir die Suid-Afrikaanse bevolking in die geheel kan nuttig maak” (255). Dit moet vir die Afrikaners en die AB nie om selfbestaan gaan nie, maar om saambestaan (259). “Dit sal teweegbring dat hulle gewillig sal wees om hulle met die grootste lojaliteit in diens van Suid-Afrika in die geheel te stel” (255). Dit is presies wat die AB sedert 1994 probeer doen, maar dit het hierdie instansie terselfdertyd grootliks rigtingloos, invloedloos en opsioneel laat word.

    OJO Ferreira

    In 1935 het JBM Hertzog aangevoer dat AB-lede nie beter Afrikaners as die res van die volk is nie (Smith 24; Ferreira 127); iets wat veral ná 1994 baie duidelik geblyk het. Soos by sommige ander volke en instansies het die AB-leiding veral van die elite uitgegaan, maar vooraanstaande Afrikaners word sowel binne as buite die AB aangetref. Dit blyk ook duidelik uit die kultuurhistorikus, OJO Ferreira, se boek, Broederskap: Eeufeesgeskiedenis van die Afrikaner-Broederbond en die Afrikanerbond, 1918-2018 (Randburg: Die Afrikanerbond, 2018, 457p, R380). Daarin staan: “Geleidelik het die AB ‘n Afrikaner elite-organisasie geword” (p 37; ook 61, 78), maar baie vooraanstaande Afrikaners was nooit lid daarvan nie. Ferreira was tot 1986 elf jaar lank lid van die AB (9). Hy is waarskynlik as navorser vir hierdie studie aangestel omdat hy die outeur van die volgende publikasie is: FAK-75: Geskiedenis van die derde kwarteeu in die bestaan van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge, 1979-2004 (Pretoria: FAK, 2004) (431). Die FAK is as “‘n belangrike openbare arm van die AB beskou” (64). Ferreira noem die Afrikanerbond die “omvormde [oftewel getransformeerde] opvolger” van die Afrikaner-Broederbond (10). Hy verwys na Smith se boek, wat nie gunstig in AB-geledere ontvang is nie (266).

    In die voorwoord skryf Jaco Schoeman, die voorsitter van die AB, dat dit vir die AB gaan om die Afrikanersaak te dien (1). Die AB was betrokke by “vertroulike vergaderings … waar die einde van apartheid in diepte bespreek en bevorder is” (2). Volgens FW de Klerk het “die AB gehelp om die weg te baan vir ‘n onderhandelde oplossing; ‘n oplossing wat die regte en vryhede van alle [!] Suid-Afrikaners kan beskerm” (4) – “kan beskerm” maar in die praktyk gebeur dit nie. Die AB moet dus medeverantwoordelikheid aanvaar vir die onbekwaamheid en ondoeltreffendheid van die regering wat sedert 1994 aan die bewind is en vir die chaotiese en gewelddadige toestande wat sedertdien heers. Schoeman erken darem: “Vandag vervang ons mislukkings [bv apartheid] met nog groter mislukkings. Suid-Afrika en sy mense verdien beter” (5). By die AB is daar “die vaste verbintenis met die Suid-Afrikaanse grondwet” (3). Die AB “wil Afrikaners nie isoleer van Suid-Afrika nie” (4) – op die gevaar af dat Afrikaners as identifiseerbare groep/volk asook Afrikanerkultuur verswelg word en mettertyd verdwyn. Schoeman sluit soos volg af: “Broers, ons kan ons koppe hoog hou … Met ‘n duur gekoopte vryheid leef ons liefde, ons bedink innoverende oplossings en strewe na uitnemendheid” (7). Watter soort vryheid? Vryheid in onderdanigheid? Watter soort liefde? Is daar sprake van algemene wedersydse ons/hulle liefde?

    Die boek bestaan uit drie dele. Die eerste deel handel oor die Afrikaner-Broederbond (1918-1994) en is feitlik uitsluitlik op ELP Stals se eintlik ongepubliseerde teks, “Geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond, 1918-1994” (1998), gebaseer (13), wat in opdrag van die AB nagevors en geskryf is (105, 432, 263 – 763 bladsye!). In die tweede deel van die boek vind Ferreira se eie navorsing neerslag. Dit handel oor die Afrikanerbond (1994-2018). Die derde deel het as titel: “Nawoord, ‘n kritiese waardering,” met Piérre Theron as die samesteller. Daar is onder meer interessante weergawes van onderhoude wat die historikus, Jan-Ad Stemmet, in 2013 en 2014 met 13 “vooraanstaande Suid-Afrikaners gevoer [het] om hulle menings oor en gevoelens jeens die Afrikaner-Broederbond, die Afrikanerbond en die Afrikaner vas te stel” (352).

    “Uit die dringende nood van ‘n volk is die Afrikaner-Broederbond gebore” (16). Dit was in 1918 ongetwyfeld die geval. “Volgens die [AB-]grondwet sou Afrikanereenheid nagestreef word en sou die Afrikaner ontwikkel word en liefde vir sy taal, geskiedenis, tradisies, land en volk by hom ingeskerp word … Bo alles sou die handhawing en uitbouing van Christelike beginsels egter die grondslag wees waarop die Bond berus … Dit is feitlik onmoontlik om die doelstellings van die AB in woorde uit te druk en daarom is ook na die AB as die ‘gewete van die Afrikaner’ verwys” (19). In die jare tagtig en negentig het die AB myns insiens die spoor byster geraak en as’t ware gewetenloos anti-Afrikaner-uitkomste bevorder. Wat die AB toe gedoen het, is teenstrydig met wat in sy 1983-grondwet staan: Die AB beywer hom vir “die bewerkstelliging van ‘n gesonde en vooruitstrewende eensgesindheid onder alle Afrikaners wat die welsyn van die Afrikanervolk nastreef, die opwekking van ‘n nasionale selfbewussyn by die Afrikaner en die inboeseming van liefde vir sy taal, godsdiens, tradisies, land en volk; die bevordering van alle belange van die Afrikanervolk” (20).

    Die AB het sy seile mettertyd na die politieke wind gespan: “Dit is interessant dat lidmaatskap van die AB in sommige gevalle in die sestigerjare weens liberale standpunte beëindig is, terwyl dit in die sewentigerjare op grond van regse standpunte geskied het” (39). In 1988 is daar bv nie net oor Afrikanerskap besin nie, maar ook oor Suid-Afrikanerskap, wat op ‘n klemverskuiwing (kan) dui (43). In hierdie vermurwing het die opvoedkundige, Pieter de Lange, die AB-voorsitter (1983-1993), ‘n leidende rol gespeel. De Lange het in 1985 “die vraag geopper of daar nie aan direkte skakeling met die ANC en ‘n deegliker oorweging van die Freedom Charter van 1955 gedink moes word nie” (118). Met die ondersteuning van veral Johan Heyns (1928-1994) het De Lange die AB entoesiasties op die noodlottige dwaalspoor van oorgawe aan swart mag gelei. Die AB het “‘n klimaat vir verandering” bevorder (138).

    FW de Klerk se toespraak op 2 Februarie 1990 het “oorweldigende positiewe kommentaar [in AB-geledere] uitgelok, maar daar was ook afdelings wat die dokument [wat aan die AB-lede hieroor gesirkuleer is] as idealisties en onprakties beskou het en dat die verlies van Afrikaneridentiteit en -selfbeskikking daarvolgens ‘n voldonge feit was” (139). In 1990 het die AB tydens ‘n onderhoud met De Klerk sy “steun aan sy denkrigting verklaar” (107). De Lange het in 1992 by AB-lede aanbeveel dat hulle “Ja” in die blanke kiesers se referendum oor onderhandelde magsdeling moet stem (140). Die daaropvolgende magsoorgawe weerspreek wat in die AB se lied staan: “Want Broer alleen is hy wat moedig stry” (46).

    Reeds voor die mandaatlose 1994-magsoorgawe het die AB oor omvorming begin besin. De Lange het hom aangematig om die AB te bestempel as “‘n organisasie wat mank gaan aan gebrekkige taakingesteldheid, onder benutting van sy openbare arms en dooie hout onder sy lede. Volgens hom het die AB hom met ‘skyngevare’ besig gehou en het afdelings nog nie die werklikheid van verandering begryp nie” (142). Die nuwe AB-missie wat in 1992 geformuleer is, lui: “Die AB, uitgaande van sy Bybelse grondslag aanvaar vrywilig die verantwoordelikheid om alle belange van die Afrikaner tot voordeel van die land en sy mense te bevorder” (143). “Die woord ‘Bybelse’ is later na ‘Protestantse’ verander. Dit is opvallend dat die Afrikaner se deelgenootskap aan ‘n groter geheel duidelik na vore gekom het. In 1993, in seker sy laaste AB-toespraak, het De Lange “verklaar dat die Afrikaner dinamies aan sy toekoms moes werk en nie lam moes word nie” (147-148). Op 27 November 1993 het De Lange as AB-voorsitter uitgetree (149). Hy het die sinkende AB-skip dus betyds verlaat, dus kort voordat die swart politieke bewind die mag oorgeneem het.

    Die strategiese doelstelling van die omvormde AB het onder meer klem gelê op die versterking van geestelike waardes, uitbouing van die Afrikaner se kultuur, eensgesindheid en hulpverlening en uitreiking na diegene wat dieselfde waardes gedeel het. Verder moes ‘n wyse gevind word om die Bond vry te maak van die beeld van geheimhouding sonder om lede se name bekend te maak” (143). Johan Heyns het in hierdie konteks geredeneer dat die begrip “‘Afrikaner’ nie net wit Afrikaanssprekendes insluit nie, maar ook bruin en selfs swart persone wat die tradisionele wit Afrikaner se taal, geloof en geskiedenis met hom gedeel het” (143-144). Die woord “blanke” moes uit die AB-grondwet weggelaat word. Elkeen wat hom met Afrikanerskap wou vereenselwig sou as ‘n Afrikaner beskou moes word (144). Deur die begrip “ras” met “waardes” te vervang, het die AB al hoe meer sy karakter en koers verloën en verloor. Dit was onder meer die gevolg van FW de Klerk se versoek in 1992 “dat die Bond lidmaatskap moes oopstel en die begrip ‘Afrikaner’ weer gedefinieer moes word” (145). “Die oopstel van die Afrikaner-Broederbond in 1994 was teen die wil en wens van 97% van sy lede” (203). Die AB se omvorming was uit pas met die oorgrote meerderheid van sy lede; soortgelyk aan die klein De Klerk-groepie in die NP wat mandaatloos aan die ANC oorgegee het.

    Die AB se rol in die tweede helfte van die 20ste eeu het dus ontaard in politieke besinning en (mis)leiding, terwyl die AB die klem aanvanklik op kulturele sake geplaas het (51). “Artikel 88 van die reglement van die AB het bepaal dat die Bond hom nie met ‘n bepaalde politieke party sou vereenselwig nie” (130). Die AB se “ideaal om polities neutraal te staan” (129) het mettertyd egter vergete geraak. Veral die republikeinse gedagte het die AB van 1951 af by politieke en staatkundige sake betrokke laat raak (130). Die doel was om “politieke verdeeldheid onder Afrikaners te besweer” (130). “Op praktiese vlak het die AB [voor republiekwording in 1961] gepoog om uiterlike tekens van Suid-Afrika se Britse verbintenis ongedaan te maak … maar sonder om die Engelssprekende landgenote te vervreem, omdat hulle steun nodig was om ‘n meerderheidstem ten gunste van republiekwording te verkry” (130-131). Namate “die AB se belangstelling in rasseverhoudinge en polities-staatkundige aangeleenthede toegeneem het, het die betrokkenheid by kultuur en kulturele aktiwiteite afgeneem en feitlik ‘n roetine of selfs bysaak geword” (53). Ná die 1994-ramp het die AB probeer om weer aandag aan kultuursake te skenk maar met weinig sukses, onder meer omdat talle ander Afrikaans-instansies op daardie terrein bedrywig is.

    “Omdat die Afrikaanse taal die draer van die Afrikaanse gedagte is, het die AB altyd in die handhawing en uitbouing van die Afrikaanse taal belanggestel. Die suiwere gebruik van Afrikaans is aangemoedig, die bevordering as handelstaal is beklemtoon en die bevordering van die Afrikaanse boek en lied het spesiale aandag geniet … [Daar was] waardige maar ferme handhawing van Afrikaans” (51). Sedert 1990, dus tydens die grondwetlike onderhandelinge en daarna, het feitlik niks hiervan meer tereg gekom nie. Tans lewe ons in ‘n era waarin nie ‘n enkele Afrikaansinstansie op suiwer(der) Afrikaans aandring nie. Taaloorwegings word om politieke redes versaak ten einde bruin Afrikaanssprekendes, spesifiek Kaapssprekers, nie aanstoot te gee nie. Die tragiese gevolg is dat nie net bruines nie maar toenemend ook blankes sonder daadwerklike teenkanting geradbraakte Afrikaans praat en selfs skryf.

    Wat nie algemeen besef word nie, is die mate waarin John Vorster se bewind (1966-1978) die Afrikaner en die land se toekoms beduiwel het. In 1974 het Vorster “aangedui dat die inwoners van Suidwes-Afrika toegelaat sou word om self oor hulle toekoms te besluit” (122). Vorster het daarna Ian Smith se blanke bewind in Rhodesië vir die wolwe gegooi, wat in 1980 in sowel Zimbabwe as Namibië tot swart meerderheidsregering gelei het. Die AB het hierdie gebeure as die “pynlike werklikheid aanvaar” (122). Daar was bitter verwyte oor Suid-Afrika se “verraad” (123), maar veel groter verraad sou in 1990/94 volg. Reeds 1973 het Vorster selfs Van Riebeeck-dag (6 April) as openbare vakansiedag afgeskaf (54). Suid-Afrika het in 1961 tydens Hendrik Verwoerd se bewind ‘n republiek geword (76). “‘n Week voor sy dood in 1966, het dr HF Verwoerd aan die AB-voorsitter, dr PJ Meyer, verlof gegee om met ‘n veldtog vir ‘n nuwe Republikeinse vlag te begin, maar weens politieke oorwegings het die Vorster-regering later van die voorneme afgesien” (57). In 1967 het Vorster aangekondig “dat Suid-Afrika nie aan ander lande sou voorskryf wie hulle in [sport]spanne kon insluit nie” (98). Eers tien jaar later het die AB hom “van die Nasionale Party se sportbeleid gedistansieer” (98).

    Die historikus, HB (Quintus) Thom (1905-1983), die rektor van die Universiteit Stellenbosch (1954-1969), was van 1952 tot 1960 die voorsitter van die AB. Toe het die AB min aandag aan universitêre aangeleenthede gegee omdat Thom die gesonde standpunt gehuldig het dat “universiteite outonome instellings was in wie se sake nie ingemeng moes word nie” (89). Dit is ‘n standpunt wat deesdae deur geen plaaslike universiteit uitgeleef word nie; almal transformeer ooreenkomstig die wense van die ANC. In die geval van die Universiteit Stellenbosch is die getal regeringsverteenwoordigers in sy raad vermeerder ten einde te verseker dat die regering die universiteit in selfs groter mate as voorheen kon beïnvloed. Onlangs is aangekondig dat die naam van die US se HB Thom-teater na Adam Small-teater verander word. Ek wonder wat die Wim de Villiers-US nog gaan doen in sy veldtog teen Afrikaners en Afrikaans. Deel van De Villiers se aksie spruit moontlik uit die studie wat Thom in 1950 oor die stigtingskenker van die US, Jan Marais, voltooi het. Marais het die voorwaarde gestel dat Hollands/Afrikaans nie ‘n mindere plek as Engels aan die US mag beklee nie; ‘n voorwaarde wat De Villiers op ‘n hoogs onetiese manier ignoreer.

    In 1994 is die Afrikaner-Broederbond omvorm tot die Afrikanerbond. Die weglating van “broeder” uit die benaming, het die weg vir “susters” se lidmaatskap gebaan, soortgelyk aan vroue wat deesdae as kerkraadslede kan dien omdat die mans in die poel te min geword het. Ná 1990 het baie lede uit die AB bedank omdat “die organisasie met die ou bedeling vereenselwig word” (147). Dit is hoogs onwaarskynlik dat die meeste wat hulle AB-lidmaatskap opgesê het, dit gedoen het vanweë ‘n Damaskus-ervaring. Daar was heel moontlik baie opportuniste wat by die AB aangesluit het in die hoop op selfbevoordeling. Sedert 1994 kan AB-lidmaatskap, anders as voorheen, selfbenadeling wees. In hierdie nuwe era word daar nie meer na (blanke) Afrikaners verwys nie, maar na Afrikaanssprekendes, selfs Afrikaanses. Die AB het “‘n radikale koersverandering” ondervind (152). Min het behoue gebly van die AB-ideaal: “Die selfstandige en volwaardige voortbestaan van die Afrikaner” (155).

    “Die Afrikanerbond beskou homself as deel van die gematigde groep Suid-Afrikaners wat die pre-1994-onderhandelinge en grondwet onvoorwaardelik [!] gesteun het” (289). Deesdae besef die AB “dat die Grondwet soms ondergeskik staan aan die ANC se beleid” (296). “Dat die Grondwet vir president Zuma ‘n struikelblok is en dat ‘die ANC belangriker as die Grondwet’ is, het hy reeds in November 1996 in Durban gesê” (303), “Die groot fout wat die ANC maak, is, aldus die Afrikanerbond, om aan te neem dat die inhoud en vertolking van die Grondwet die alleenreg van die ANC is” (315). “Die Suid-Afrikaanse Grondwet is nie ondergeskik aan die Vryheidsmanifes nie en kan ook nie in samehang daarmee gelees word nie” (322). “Die verwagting dat die beginsels waarop die nuwe [1996-]Grondwet gebaseer is vir Afrikaners sekuriteit sou bied, veral ten opsigte van taal- en kultuurregte, is helaas nie bewaarheid nie” (344).

    Ontnugtering met die ANC het ná 1994 spoedig in AB-geledere ingetree, bv weens die “onbevoegdheid en onbekwaamheid” van die ANC-bewind (156). “Die gebrekkige dienslewering, die verval van infrastruktuur, verswakking in onderwysstandaarde, korrupsie, onvermoë om misdaad vas te vat, xenofobie, kragonderbrekings en vele meer is die direkte gevolg van regeringsbeleid wat swak uitgevoer word as gevolg van onbevoegdheid en grootskaalse verlies aan kundigheid. Daar kan nie van ‘n inklusiewe Suid-Afrika gepraat word indien ‘n rasgebaseerde beleid die samelewing nog steeds verdeel nie” (279). Die AB het besluit dat sy aktiwiteite op drie areas sou fokus: “Afrikanerbelange, staatkundige belange en minderheidsbelange” met as onderliggende motivering om “‘n positiewe en konstruktiewe bydrae [te] lewer tot Suid-Afrika en al sy mense” (156).

    “Die skerp fokus op die bedreigde belange van die Afrikaner [het] versag. In die huidige [AB-]Grondwet gaan dit onder meer oor die mobilisering van talent en leierskap wat veronderstel word te bestaan. Verder gaan dit oor die beskerming van die Afrikaanse [nie net Afrikaner- nie] gemeenskap se belange en om dit oor die algemeen te help bevorder. Die onuitgesproke veronderstelling wat uit die bewoording van die Grondwet afgelei kan word, is eerder instandhouding van die Afrikaner se belange as die vestiging daarvan” (157). Die net word so wyd gespan dat die koers vervaag: “Die strewe van die Afrikanerbond, uitgaande van sy Bybelse grondslag, is om diensbaar te wees aan en by te dra tot die ontwikkeling van die Afrikaanse [!] gemeenskap tot uitnemendheid op elke terrein van die lewe, ook in belang van alle Suid-Afrikaners” (157-158). Die AB het, soos vroeër, weer “a-polities” geword (159). “In 2002 is ooreengekom dat die Vryheidsfront Afrikanerbelange op die politieke terrein sal dien, terwyl die Afrikanerbond die belange van die Afrikaner op die nie-politieke terrein sal behartig” (275-276).

    Daar is “‘n behoefte aan duidelikheid oor presies wat die Afrikanerbond se rol en werkswyse is” (179). “In 2005 is berig dat die byeenkomste van die Afrikanerbond al swakker bygewoon word” (197). “In 2007 het kommer oor die funksionering van die grondvlakstrukture van die Afrikanerbond geheers. Daar was ‘n gebrek aan omgee, gemeenskapsdiens en gemeenskapsbetrokkenheid” (193). In 2007 en 2008 “is gemeld dat die tendens van ‘n kwynende lidmaatskap van die Afrikanerbond verder mag toeneem … hoofsaaklik omdat die organisasie sy invloed verloor het” (198). “Lede [het] hulle belangstelling in die Afrikanerbond verloor” (199). “Die oorgang na die nuwe bedeling het ‘n groot onrustigheid by lede ingeskerp en tot ‘n konstante stroom bedankings gelei” (200). In 1991 was daar 19 709 lede (35). “In 2017 was die ledetal ongeveer 3 400 ere- en aktiewe lede” (199). Die finansiële vermoë van die AB het as gevolg van die krimpende ledetal drasties verswak.

    Die AB dobber voort. In 1998 wou die AB hoop bring “vir uitsiglose Afrikaners” (163). Die Vlamprogram van 2002 wou Afrikaners moreel versterk (172). In 2008 is die volgende AB-visie aanvaar: “As Afrikaners bou ons saam aan die toekoms vir die Afrikaner” (161) of “As Afrikaners bou ons saam aan die toekoms van Suid-Afrika” (339). In 2015 was die AB-missie onder meer om “die Afrikaner se toekoms te verseker … om Afrikaner-belange te handhaaf en uit te bou” (161). Die AB wil “‘n aktiewe en dinamiese rol in die gemeenskap speel … [en] ‘n sterk gesagsliggaam vir die Afrikaner” wees (220). Hy het hom tereg vir “die rasionalisering van “Afrikaanse kultuurorganisasies” beywer (220), maar dalk op die gevaar af dat die AB oorbodig verklaar kon word.

    Soms is daar wrywing tussen Afrikaansinstansies waar ‘n mens nie wrywing verwag nie: “In 2001 wou die Afrikanerbond ‘n bedrag van R20 000 bydra tot die fonds waaruit die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns jaarliks die Hertzogprys toeken. Die Akademie het die Afrikanerbond se skenking vir die Hertzogprys afgewys” (264). Hierdie Akademie het polities erg links geneig toe Jacques van der Elst die uitvoerende hoof was. Ek het gehoop dit sou beter gaan nadat Dioné Prinsloo (Piet Meyer van SAUK-faam se dogter) hom opgevolg het. Johannes Comestor het sy teks getiteld, “Twee Afrikaansinstansies ondermyn Afrikaans” (Praag 24.08.2018), aan sowel Prinsloo as Conrad Steenkamp van die Afrikaanse Taalraad gestuur, maar nie eens die beleefdheid van ‘n ontvangserkenning uit een van hierdie twee oorde ontvang nie. Albei instansies gee voor dat hulle Afrikaans bevorder.

    In die boek staan: “Die verhouding tussen die Afrikanerbond en AgriSA was ietwat stram” (312), wat verstaanbaar is omdat AgriSA, anders as streekslandbou-instansies soos die Transvaalse Landbou Unie (TLU), glad te geneig is om die ANC te vertrou, soortgelyk aan die vertroue wat FW de Klerk en sy groepie onderhandelaars in ANC-integriteit gestel het. Dan Kriek, die president van AgriSA, het by geleentheid ‘n “striemende aanval op die Afrikanerbond geloods” (320). In 2011 het ‘n Ad hoc-groep, insluitende die AB en die TLU, misdaad en landelike veiligheid bespreek. “AgriSA, die grootste landbouorganisasie, het hulself van die Ad hoc-groep gedistansieer omdat die Afrikanerbond daarby betrokke was” (315). Die ANC het die “‘skeefgetrekte’ geskiedenisbeskouing dat alle witmense grond onregmatig bekom het en dat dit histories aan swart mense behoort het” (316). Die AB wil eerder van “grondverdeling” as “grondhervorming” praat (318). Eiendomsreg is vir die AB “ononderhandelbaar” (318). Die AB het dit heeltemal tereg teen “onverantwoordelike uitsprake soos ‘gesteelde grond’ en ‘ons land’” (322) wat deur ANC-kornuite en hulle meelopers gemaak word.

    Daar word verkeerdelik genoem dat Michael le Cordeur in 2008 die eerste voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR) was (223-224). Wannie Carstens was die eerste en Le Cordeur die tweede ATR-voorsitter. Dit was vir my verblydend dat die AB die ATR om dieselfde fundamentele redes as ek gekritiseer het: Kommer is “uitgespreek oor die feit dat die Afrikaanse Taalraad nie altyd die voorvegter vir Afrikaans is nie … dat van die standpunte soms polities korrek is, sonder dat die belang van Afrikaans bevorder word” (224). Die AB is “besonder besorgd … oor die voortgesette verlies aan status van Afrikaans” (224). In 2017 het die AB R50 000 aan #GelykeKanse geskenk vir sy hofstryd ter behoud van Afrikaans aan die US.

    Oor die Afrikaners se volkslied is die AB veels te versigtig of huiwerig: “Die Afrikanerbond is van mening dat daar in die huidige tydsgewrig met groot omsigtigheid gehandel moet word in die aanwending en gebruik van Die Stem van Suid-Afrika (225). “Die Afrikanerbond se standpunt was dat [Steve] Hofmeyr en die 45 000 mense wat [in 2014] saam Die Stem gesing het, die grondwetlike reg gehad het om die lied te sing en daardie reg moet gerespekteer word. Die Stem propageer nie geweld of verkondig nie haat wat op ras, etnisiteit, geslag of godsdiens gebaseer is nie, maar spoor in werklikheid lojaliteit en patriotisme aan” (226).

    Oor plek- en ander naamsveranderinge word tereg gesê dat daar soms “‘n uitdagende moedswilligheid” te bespeur is (229); “dat veral Afrikaanse name gestoomroller word en dat name eensydig verander word” (230). “Afrikaanssprekendes [word] met ondeurdagte naamsveranderinge, afskaling van Afrikaans en vandalisme van hulle monumente gekonfronteer” (233), bv die “doelbewuste vernietiging van die Groot Trek-gedenksteen in Standerton” (238). “Die geskiedenis kan nie deur die vernietiging van beelde uitgewis word nie … almal se geskiedenis [moet] gerespekteer” word (241). Oor Menseregtedag is die AB se gesonde standpunt “dat Suid-Afrika niks het om te vier op dié dag nie omdat basiese menseregte na die demokratiese oorgang nog steeds vertrap word. Die ongelukkige waarheid is dat minderhede aan die ontvangkant van omgekeerde rassisme is” (235). Die reg op lewe, ook vir Afrikaner-boere, is immers die voorveronderstelling vir die benutting en genieting van al die ander menseregte. Oor Jacob Zuma word gesê: “Om in ‘n toespraak Jan van Riebeeck se aankoms op 6 April 1652 aan die Kaap as die begin van Suid-Afrika se moeilikheid te beskryf, is om die Afrikaners se geskiedenis te demoniseer” (236).

    In 2007 het die AB die onvergeefbare flater begaan om vir Jonathan Jansen as lid van die Nasionale Raad vir Onderwys en Opleiding te nomineer (245). In dieselfde jaar het Jansen “verklaar dat Afrikaans altyd een van die ankertale van die Vrystaatse universiteit sal bly. Later het dit geblyk leë woorde te wees, want in 2013 lui van sy standpunte, soos in Beeld vervat, soos volg: ‘Eksklusief Afrikaanse wit skole en universiteite hou ‘n ernstige gevaar in vir rasseverhoudinge in Suid-Afrika. Engels, eerder as Afrikaans, sal die taal van versoening in hierdie land moet wees’” (247). Die AB het Jansen as ‘n “speler vir die groot paviljoen opgesom” (247). Oor die US word tereg gesê daar is “‘n oneerlike poging deur die Universiteitsbestuur, en veral prof [Russel] Botman, om die verengelsing van die Universiteit te verdoesel” (248).

    Wanneer ek as leser van hierdie boek ‘n mate van piëteit of simpatie vir die AB begin voel, word ek daarna egtger teleurgestel met dinge soos die volgende. Ná PW se dood in 2006 het die AB verklaar dat Botha “‘n onontbeerlike bydrae gemaak het om Suid-Afrika op ‘n koers te plaas wat ‘n beter lewe vir al [!] sy mense moontlik kan maak” (259). “Die Afrikanerbond onderskryf nie meer apartheid nie” (269). “Met leidende figure in die ANC is reeds vroeg geskakel,” bv ‘n AB-afvaardiging het met Nelson Mandela gesprek gevoer (274). Op sy negentigste verjaardag het die AB nie net erkenning aan Mandela as ‘n ikoon van versoening gegee nie maar selfs aanbeveel dat sy waardes bevorder moet word (342). Myns insiens is die geweldskultuur wat Suid-Afrika steeds kenmerk ongetwyfeld deel van Mandela se nalatenskap. In 2015 is FW de Klerk deur die AB “as Afrikaner en staatsman vereer vir sy buitengewone bydrae tot die daarstelling en bevordering van demokrasie in Suid-Afrika” (342), asof demokrasie in die sin van algemene, gelyke stemreg in ‘n eenheidstaat ‘n geskikte staatsvorm vir Suid-Afrika is met sy groot groep ongeletterde, oningeligte en maklik intimideerbare kiesers.

    “Die Afrikanerbond het die wettigheid van die WVK aanvaar, maar die leemtes in die funksionering daarvan raakgesien” (275). Die Menseregtekommissie het ook “‘n politieke instrument geword” (282). Die sogenaamde Onafhanklike Verkiesingskommissie gebruik uitsluitlik Engels as taal (286). “Hoewel die Afrikanerbond nie die noodsaak vir regverdige en gebalanseerde regstellende aksie ontken nie, is die toepassing daarvan gebaseer op blatante diskriminasie en strydig met artikel 9 van die Grondwet van 1996. Regstellende aksie as beleid weerhou talentvolle jongmense, ongeag hulle kwalifikasies of ervaring, om ‘n bydrae te lewer. Meriete wat ‘n [dié] maatstaf moet wees, is vervang met ras as die allesoorheersende kriteria [kriterium] vir aanstelling in die openbare sowel as die private sektor” (280).

    Hoe benard die Afrikaners se situasie in die nuwe Suid-Afrika is en hoe ver van onafhanklik die regspraak deesdae is (iets wat Hermann Giliomee beklemtoon) het in 2016 uit die Konstitusionele Hof se uitspraak oor die verandering van 25 straatname in Pretoria geblyk. In die meerderheidsuitspraak van hoofregter Mogoeng Mogoeng “is die insinuasie dat Afrikaners nie aanspraak kan maak op grondwetlike regte vir die uitlewing van hulle kultuur nie aangesien dit deur onderdrukking [dwars]deur die geskiedenis beslag gekry het” (309). Dít is die gevolgtrekking waartoe twee blanke regters in hulle minderheidsuitspraak oor die meerderheidsuitspraak gekom het. “In ‘n tweede minderheidsuitspraak van regter J Jafta kritiseer hy die twee [blanke] regters se siening en bevestig dan dat Afrikaners in werklikheid geen aanspraak op enige grondwetlike regte het nie” (309).

    Die enigste verwysing in die boek na Praag (wat nie eens in die indeks gelys word nie) is: “Die Pro-Afrikaanse Aksiegroep (Praag) het in 2002 die deelname van die Afrikanerbond aan ‘n Afrikanerreferendum versoek, maar die Bond het geoordeel dat so ‘n referendum weer die ou debat sal oopkloof oor wie die Afrikaner is. Dit kon tot nuwe twis en tweedrag onder Afrikaners lei. In plaas van konfrontasie is die Afrikanerbond se styl eerder dié van kommunikasie” (336). Tydens kommunikasie moet daar iets gekommunikeer word. Die AB is klaarblyklik lugtig om sy standpunt dat die Afrikanerdom nie-blankes insluit, te regverdig.

    Ten slotte kom ek by die 13 onderhoude in die derde en laaste afdeling in die boek. Volgens Niël Barnard, voorheen die hoof van Nasionale Intelligensie, word “die rol van die AB in die skikkingsproses heeltemal oorskat … Dit is ‘n ding wat Pieter de Lange homself omgehang het” (354). Daar was “voor en tydens die onderhandelinge baie kortbroekknape … mense vir wie dit meer oor die eie belang gegaan het as om die saak waarvoor hulle daar was” (356). Ook: “ek nie ‘n ‘groot fan’ van De Klerk was nie” (357).

    Pieter Bingle, ‘n predikant van die Gereformeerde kerk, verwys na ‘n toespraak van FW de Klerk waarin “hy vertel het dat die AB die terrein vir verandering, wat moes kom, voorberei het. Dit was nie die koukus van die Nasionale Party gewees nie, maar … die AB [wat] die NP-koukus voor was” (359). Dit lyk asof Bingle graag De Klerk se doppertunisme onderskryf.

    André P Brink vertel dat sy pa ‘n AB-lid was (363) en dat sy oupa die ABO eerstehands ervaar het (364). Brink was “nooit ‘n baie groot aanhanger van De Klerk nie” (366). “Die huidige Afrikaner voel nog verward en selfs minderwaardig in die nuwe bedeling – uitgestoot en met ‘n wrewelrige gevoel! Hy weet nie mooi waarheen hy moet gaan nie en weet ook nie mooi hoe om dit te hanteer nie, en selfs die wat dit skynbaar hanteer, dink en doen dit op ‘n baie teleurstellende manier” (367). Brink dink nie Afrikaners sou vandag weer ‘n organisasie soos die AB stig nie: “Die verbrokkeling binne die volk, in die mate wat ‘n mens nog daarvan kan praat, het te ver gegaan. Dit is al so ver, dat die indruk of selfs die behoefte daaraan om eenheid te skep, nie meer sterk genoeg is nie” (367).

    Mangosuthu Buthelezi beskou “die storie van die Afrikaner [as] een van die mees inspirerende verhale” (368). Oor die AB sê hy: “My perception was that it was an exclusive club of Afrikaners, that it was a self-upliftment instrument only” (369).

    Tom de Beer, die voorsitter van die AB (1993-2000), sê die stelling dat Pieter de Lange “soms dominerend kon wees, het ‘n element van waarheid, maar ek sal eerder sê dat hy meer oortuig was as [dat?] hy reg was” (374) – ‘n karaktertrek wat ook by Johan Heyns opgeval het. “Ek [het] in FW geglo … Die gevoel het selfs by mense bestaan dat hy te lig in die broek was … Ek het hom egter vorentoe baie positief ervaar en instemming gehad dat hy die pad goed geloop het” (375). “Die Afrikanerbond was in den brede tevrede met die uitkomste wat die onderhandelinge daargestel het” (376).

    Willie Esterhuyse beweer daar is “geen verskil tussen broerskap en ‘comradeship’ nie” (381). Oor Nico Smith se boek sê hy: “My ervarings van die AB was totaal anders as syne” (382).

    Tony Leon karakteriseer die AB as “‘n soort van ‘n dinkskrum of ‘n ondersteuningsgroepering vir die Nasionale Party-regering” (385). “My indruk was dat die Afrikanerbond in ‘n sekere sin die amptelike regeringsbeleid van daardie tyd ver vooruit was en tog sekere invloede daarop gehad het” (386). “Baie van die Afrikaanssprekende ondersteuners [van die DA] was om begryplike redes lid van die Afrikanerbond en het onskatbare waarde tot die DA toegevoeg” (386). “Die Bond [het] ook maar ‘n gemarginaliseerde organisasie geword” (387). “Ek sien dit [die AB] meer as ‘n organisasie wat na sy eie mense omgesien het” (387). “De Klerk … het ‘n hele nuwe paradigma geopen wat hy gehoop het om te kontroleer [beheer], maar baie gou het dié skepping sy skepper begin kontroleer [oorheers]” (388). De Klerk het glo “by geslote geleenthede … gesê … dat hy die verkiesing kon wen, [maar dit] is ‘wishful thinking and faulty analysis’” (388). “Ek sal nie verbaas wees as Pik Botha die narratief gevoed het nie” (389). “Ek het persoonlik waargeneem hoedat die Nasionale Party sy houvas tydens die onderhandelinge verloor het deur hulle kaarte verkeerd te speel en omdat hulle nie ‘n strategie gehad het nie, of ‘n verkeerde strategie gevolg het. Verder was daar sekere persoonlike faktore. Cyril Ramaphosa was ‘n beter onderhandelaar as Roelf Meyer … Roelf … was ‘n baie aangename persoon, maar ek het nie geweet wat sy agenda anders was as om mag oor te gee nie” (389). “Ek dink nie dat die Broederbond vandag nog enige noemenswaardige rol speel nie” (390).

    Georg Meiring, ‘n vorige hoof van die Weermag, kom oor as ‘n Afrikaner met ruggraat.* “Ek dink dat daar ‘n gebrek aan leierskap in Afrikanerorganisasies op talle vlakke was omdat niemand die pad ná ’94 kon visualiseer nie” (392-393). “FW de Klerk het nie sterk op die kundigheid van die Weermag ag geslaan nie” (393). “Ek is ernstig daaroor as ek vir jou sê dat FW nie ten volle op die hoogte was van wat by Kodesa aangegaan het nie. Hy het een keer of elke tweede week daar aangekom en met Roelf Meyer gepraat. Roelf het gedink hy kan vir Ramaphosa ore aansit, maar die teendeel is uitgewys. Madiba, Ramaphosa en andere het gereeld ingekom, by mekaar gesit en gekoukus oor wat nodig is … Die swakste regering wat ons ooit gehad het, was die Nasionale Party-regering net voor 1994 … Die verhaal van die chaos waarin die land in die tydperk tussen 1991 en 1994 was, is nog nooit in sy volle werklikheid vertel nie, maar ek sê vir jou as dit nie vir die Weermag was nie, het ons nie in 1994 by die oorgangsfase uitgekom nie” (394). “Ek [is] van mening dat Mandela te gou uit die tronk vrygelaat is. Ek dink die ontbanning – veral van die Kommunisteparty – is te vinnig gedoen … Ons kon ‘n beter skikking by Kodesa gekry het as die onderhandelaars/regering meer eerlik was … daar was besliste wanvoorstellings en [of] noem dit ondervoorstellings. Ek dink dat De Klerk en sy groep sekere feite teruggehou het … Daar was ‘n groot oorskatting van hulle eie mag … Ek dink nie die Regering by die onderhandelingstafel het die vermoë waaroor die land beskik het, kostedoeltreffend en effektief aangewend om die onderhandelinge suksesvol te doen nie” (395). Roelf Meyer was “‘n ‘kindjie’ wat nie geweet het hoe om dinge te hanteer nie – hy het nie regtig die vermoë gehad nie” (396).

    [* Volgens my kennis het FW de Klerk bitter min steun in eie geledere gehad toe hy op 2 Februarie 1990 sy toespraak gelewer en daarna die grondwetlike onderhandelinge deurgevoer het. De Klerk beweer die teenoorgestelde. In ‘n toespraak in 2000 naby Hermanus het De Klerk gesê: “Eerstens het ek seker gemaak dat my party, my mense en die staat agter my staan. Toe het ek seker gemaak dat die meerderheid van die wit mense agter my staan. En toe kon ek Mandela vrylaat en die risiko van onderhandelinge aandurf” (Frederik van Zyl Slabbert, Duskant die geskiedenis, Kaapstad: Tafelberg, 2006, p 22). Georg Meiring se reaksie was: “Hel, hy vat ‘n bietjie kortpad met die waarheid” (22). By ‘n ander geleentheid het De Klerk aan Meiring gesê: “Ons hoef regtig nie so maklik in te gegee het nie” (36). Meiring het soos volg gereageer: “Maar jy het nooit jou sterk basis gebruik om vanuit mag te onderhandel nie, jy het nooit die militêre magte gebruik as ‘n magsbasis wat jy tot jou beskikking gehad het nie, jy wou dit nooit gebruik nie” (36).]

    Roelf Meyer was agtereenvolgend president van die Afrikaanse Studentebond, voorsitter van die Junior Rapportryers, president van die Ruiterwag en lid van die AB. “As dinge gebly het soos dit was … sou ek waarskynlik president van die land geword het” (398). Tussen die AB en die NP was “daar ‘n sekere verweefdheid” (399). “Die Nasionale Party [het] die Broederbond gebruik … om standpunte te toets” (399). “Pieter de Lange en Johan Heyns [was] die Nasionale Party … voor in hulle denke en dade … die AB vinniger wou beweeg” (399). Hy verwys na “die invloedryke rol wat die Broederbond onder die leiding van Pieter de Lange gespeel het om die klimaat voor te berei vir verandering” (399-400). Johan Heyns en andere ]het] ‘n baie groot invloed uitgeoefen … op die verandering van begrip by mense” (400). “Was daar ‘n meesterplan toe die Regering ná Februarie 1990 tot die onderhandelinge toegetree het? ‘Nee, ons het nie ‘n plan gehad nie. Ons het vir twee en ‘n half jaar voortgeploeter met dieselfde paradigma van hoe jy groepsregte en minderheidsregte in Suid-Afrika kan beskerm’” (400). “In die tydperk wat die Referendum in 1992 voorafgegaan het, kan ek met redelike sekerheid sê dat die Afrikaner-Broederbond ‘n groot rol gespeel het om mense rustig te maak oor die vraag waarom daar verandering moet kom … Nadat die KP’s en ander regsgesindes uit die AB is, het mense soos Pieter de Lange, maar selfs ouens op grondvlak … ‘n positiewe rol gespeel” (401). Die NP-kabinet was nie eensgesind oor die 1992-referendum nie – dit was De Klerk se “kampanje” en sy besluit (401).

    Francois Retief, ‘n vorige rektor van Medunsa, sê: “Toe die AB aan die begin van die negentigerjare besluit het om geheimhouding af te skaf, het ek gedink dat dit ‘n fout is, omdat ons toe ‘n tydperk ingegaan het waar dit juis nodig was” (404). Pieter de Lange “wou van die AB-las om sy nek ontslae raak … terwyl ek gedink het ons moet ons skuiwe so maak dat ons met die AB deur moeilike tye kon loop” (405). “Ek is oortuig daarvan dat dinge vir die Afrikaner in ‘n verkeerde rigting loop” (405). Die AB “het hom grootliks op [in] die semi-politieke sfeer laat geld” (405). Iemand het van Roelf Meyer gesê: “Jy moet sien dat daardie mannetjie gaan klim vir ‘n belangrike pos, maar hy is nie ‘n groot gees nie!” (406). Dít het in Retief se “agterkop bly hamer en veral deur die onderhandelinge en die uitkoms daarvan gestalte gekry” (406).

    Johann Rupert se onderhoud is vir my teleurstellend. Hy was nooit ‘n AB-lid nie en was glo altyd teen apartheid gekant. “Die HNP (Herstigte Nasionale Party), dr [Albert] Hertzog en Jaap Marais was nie mense met wie ek enigsins iets gemeen gehad het nie … Ek is baie nader aan Russel Botman wat Afrikaans praat en ‘n bruin man is. Nou, is hy ‘n Afrikaner of nie? Nie volgens die logika van die Broederbond en regsgesindes, glad nie. Ek is baie nader aan die Kaapse Kleurling as aan mense wat in Beeld en Rapport uitkom vir hulle kranksinnige regse gesindhede … Ons sou nie meer vandag voortbestaan het as dit nie vir die drastiese stappe in 1990 was nie” (407). “Apartheid was ‘n tragedie vir die Afrikaner … Ek is bly dat dit ‘n Afrikaner (FW) was wat daarvan ontslae geraak het … FW het ons gered … Daar is egter flaters begaan, waaronder die toegif tot ‘n verkiesingsdatum nog voordat die onderhandelinge of die Grondwet gefinaliseer is … Die Nasionale Party was goedgelowig en naïef tydens die onderhandelinge – hulle het kinders by die onderhandelinge gehad” (408). “As die Afrikaners vandag almal loop, val hierdie land in sy maai” (409).

    Chris Stals, ‘n vorige president van die Reserwe Bank, openbaar ‘n mislike distansiëring van Afrikaners. “Ek was … nie ‘n lid van die AB omdat ek ‘n Afrikaner is, of omdat die AB Afrikaners was nie. Ek was lid van die AB omdat ek ‘n ekonoom is” (410). “Ek het ‘n sakebenadering tot die AB gehad … Dit het by my glad nie gegaan oor Afrikanerskap of Afrikanerwees of enigiets van daardie aard nie … Ek is baie meer ‘n kosmopolitiese mens en ek is baie meer internasionaal en so aan, as om te voel dat ek streng by ‘n klein groepie mense betrokke is wat hulself Afrikaners noem” (411). Stals is blykbaar iemand wat in die waan verkeer dat hy ‘n te groot vis vir die klein dammetjie van die Afrikanerdom is. “Ek het respek vir verskeidenheid – en daaroor het ek nie ‘n vreeslike sterk gevoel oor Afrikanerwees nie … Ek wil hê ons moet almal deel wees van ‘n groter gemeenskap en so aan” (412). “Ek vereenselwig my nie [met Afrikaneridentiteit] nie … ek dink dis onvolwassenheid … ek nie meer daardie eng gevoel kan hê nie – ek leef nie daarmee saam nie … na hulle grootwordjare het hulle nie die moeite gedoen of die wil gehad om daarvan weg te breek nie. Nie die studies gedoen en die intellektuele selfondersoek gedoen om weg te breek van daardie eng, bekrompe, afgebakende, klein definisie van wie en wat ek is nie. Ek is deel van die kosmopolitiese bestaan” (412) – ‘n ekonoom en wêreldburger wat klaarblyklik in sy skik met sy kulturele identiteitloosheid is. Daar is ‘n enkele toegewing: “Ek wil egter deel wees van Afrikanerskap, deur deel te wees van Afrikaans, ek wil Afrikaans praat, ek wil dit bevorder, maar ek wil dit nie in ‘n groepie definieer nie” (413). Soos te wagte, het Stals net lof vir Pieter de Lange (413-414).

    DFM (Danie) Strauss was ‘n filosofie-dosent aan die Universiteit Vrystaat. Hy is positief oor die transformasie van Suid-Afrika ondergaan het en die rol wat die AB daarin gespeel het. Hy is een van diegene wat in die nuwe politieke bedeling uit die AB getree het. “Dit was die kulturele bedreiging van die Afrikaner se lewensruimte wat hulle laat soek het na ‘n uitlewing van die eie” (418). By Kodesa het die ANC “baie meer gekry … as waarvoor hulle gehoop het … Dat die wit onderhandelaars in dié konteks ore aangesit is, is te wyte aan hulle onervarenheid” (421). “Die AB het sy relevansie grootliks verloor, terwyl hy homself nie voldoende krediet gegee het dat hy die mees sinvolle en konstruktiewe staatkundige uitkoms help bemiddel het nie” (421; ook 426).

    Slot: Eintlik praat feitlik niemand daaroor nie maar Afrikaners het sedert 1994 in groot mate uit die kerk geëmigreer, hoewel glad nie in dieselfde mate uit hulle geloof nie. Gemeentes het gekrimp met hoofsaaklik bejaardes wat nog daarin ‘n tuiste vind. Ouetehuise is nou dikwels die hoofwartiere van evangeliebediening. Die kerkklokke het stil geword. Op ‘n soortgelyke manier het die AB deurlopend agteruit geboer. Die AB het onmiskenbaar ‘n “broederskap van bejaardes” geword (94); “‘n handvol hoofsaaklik wit bejaarde mans” (267) wat te oud is om kinders te kry wat gewillig is om die AB aan die gang te hou. Die sterwensuur van die AB kruip al hoe nader. Weens ‘n gebrek aan aanvraag, behou die AB grootliks sy eksklusiwiteit. Die lede kan terugkyk op baie goeie én minder goeie dinge wat die AB oor ‘n eeu heen vermag het. Terwyl dit in die vorige politieke bedeling vir my dikwels moeilik was om met die doen en late van die AB te vereenselwig, het ek deesdae groter waardering vir diegene wat steeds met die AB assosieer en hulle openlik vir die belange van veral die Afrikaner beywer.

  • Dan Roodt: Vir Soliforum is Afrikaners die vyand – nes FW se NP

    Dan Roodt: Vir Soliforum is Afrikaners die vyand – nes FW se NP

    In die politiek en die geskiedenis is dit soms nodig om terug te tree en die groter prentjie raak te sien. Elke dag verloor Afrikaners in dié land veld: treetjie vir treetjie retireer ons en verloor universiteite, skole, werksgeleenthede, plaasgrond, taalregte, noem maar op. Ons kinders wat ná 1994 gebore is, vind dit onwerklik dat ons op ‘n stadium énige seggenskap oor ons belastings of oor politieke besluite gehad het. Dis slegs met terugskouing dat die skouspelagtige ondergang van die Afrikaner duidelik is. Tussen Verwoerd se dae toe ons land agter omringende bufferstate teen sy vyande verskans was, en die huidige tydvak waar ons tot in ons huise aangeval word, lê ‘n grootse verhaal van strategiese flaters en agterbakse oorgawe.

    Veral moet ons aan onsself erken dat die Afrikaner se ondergang nie te wyte was aan ‘n gebrek aan middele of omdat sy vyande besonder sterk was nie, maar vanweë ‘n gebrek aan strategiese denke. Trouens, ek is geneig om dit as ‘n volslae gebrek aan enige denke te beskryf. Mense het eenvoudig soos outomate op ‘n ou resep voortgegaan terwyl die skrif reeds aan die muur was. Ook het hulle verskrik gestaan voor ‘n propagandaveldtog van histeriese leuens wat vanuit die buiteland teen hulle gevoer is.

    Die NP-Broederbond wat eens vir die Afrikaner ‘n betroubare voertuig in sy politieke, ekonomiese en kulturele stryd tydens die twintigste eeu was, het die pad op ‘n stadium die pad byster geraak en begin om Afrikaners aan sy regterkant as die vyand te sien. Daarom kon FW de Klerk en Roelf Meyer saam met die ANC en SA Kommunisteparty staan om patriotiese Afrikaners die nekslag toe te dien en van invloed by die onderhandelingstafel uit te sluit. Kort ná 1994 het die herdoopte Afrikanerbond ‘n nuwe benadering geformuleer: Hoewel die Afrikaner sy strategiese posisie waarvoor hy eeue lank goed en bloed opgeoffer het, kwyt was, “moes hy hom nou onmisbaar maak vir die nuwe regering”. In die vroeë fase van die revolusie het die hoop bestaan dat blankes en Afrikaners tog verdra sou word omdat “die stelsel nie sonder hulle kon funksioneer nie”. Hieroor het die ANC en sy Kommunistiese alter ego, die SAKP, hulle slap gelag en eenvoudig die staatsdiens en alle instellings meedoënloos van Afrikaners en Afrikaans gesuiwer. Intussen het die koor van optimistiese, selfversekerde NP-Broederbonders tjoepstil geraak.

    Vir die NP-Broederbond in sy terminale fase het die Afrikaner nie meer saak gemaak nie; al wat van belang was, was om soms oor ‘n whisky met Mbeki by die kaggelvuur van mag jou voete bietjie warm te maak. “Gesprekke met die ANC”, hoe sinneloos ook al, was die wyse waarop die De Klerk-geslag hulle steeds oortuig het dat hulle “agter die skerms besluite beïnvloed en onderhandel”. Nog ‘n slagspreuk uit die negentigerjare was: “Ons moet die land maak werk, vir almal.” Ek meen dit word nou nog in die Nasperskoerante geskryf.

    ‘n Mens kan dus hierdie oorgawepolitiek opsom deur op sy vier kernbeginsels te wys:

    1. Beskou afvallige of dissidente Afrikaners as “die vyand”;
    2. Maak jouself onmisbaar;
    3. Praat of onderhandel met die ANC/SAKP;
    4. Hou die stelsel, hoe onregverdig ook al, aan die gang.
    5. Voeg hierby nog ‘n vyfde beginsel: Verwerp die pro-Westerse groepe in die buiteland en onderskryf die “mengkultuur” van sosialistiese, liberale of “fatsoenlike” sentrumregse partye.

    Die Nasionale Party is onder Marthinus (Kortbroek) van Schalkwyk tot niet, maar die kern van daardie ou oorgawedenke het oorgebly en word vandag met nuwe ywer deur die Soliforum-beweging omhels. Dit het onlangs vir my helder geword toe Kallie Kriel van Afriforum hom aan die kant van die New Yorkse “Daily Show”, ‘n oneerlike, links-liberale TV-program geskaar het, deur my luidkeels op RSG en in ander media as ‘n “rassis” uit te kryt. Sedertdien het van Kriel se handlangers soos Ernst Roets en ander my insgelyks honend en minagtend op Twitter aangeval en verguis. Ook mnr. Jaap Kelder van die NBU (Nasionale Belastingbetalersunie) is al meermale deur Soliforum ondergrawe in sy pogings om lydelike verset teen die korrupte ANC-munisipaliteite aan te stig.

    In jukstaposisie met hul smaad en hoon vir ander Afrikaners, staan die agting en eerbied wat Soliforum vir die ANC, SAKP en verwante vakbonde soos die kommunis Irvin Jim se Numsa koester. Flip Buys of Kallie Kriel sal veel eerder om ‘n tafel vergader met ‘n swarte wat hom as ‘n Marxis-Leninis beskryf, as met ‘n patriotiese Afrikaner wat dalk sou waag om soms Die Stem te sing. Dit het ook onlangs geblyk dat Afriforum die hofbevel oor die sing van die liedjie “Kill a Boer, kill a farmer” agteraf laat afwater het sodat die ANC dit steeds by sekere geleenthede mag sing.

    Wat presies is Soliforum? Flip Buys verwys na die aantal organisasies onder dieselfde sambreel en wat groen-en-oranje embleme deel as die “Solidariteitbeweging”. Trouens, hulle skryf dit twee woorde, met hoofletters: “Solidariteit Beweging”, wat vir my kwalik goeie Afrikaans is. Solidariteit is ‘n vakbond, die ou Mynwerkersunie wat oorspronklik deur dr. Albert Hertzog gestig is, as ek dit nie mis het nie. Maar wat is Afriforum en die res? Hul kernbesigheid, soos dit vir my lyk, is telebemarking. Tydens die 1980’s was telebemarking in Wes-Europa hoog mode, voordat dit met die koms van die internet begin taan het. Soliforum is in wese ‘n oudmodiese telebemarker wat vasgestel het dat die blanke en Afrikaanse publiek oor regstellende aksie en taaldiskriminasie begaan is. Daarom voer hulle bemarkingsveldtogte rondom dié kwessies ten einde hul debietorderinkomste te vergroot. Hul doelwit is geensins om iets aan die huidige stelsel te verander nie, maar bloot om hul debietorder- en ander inkomstes te vergroot. In ‘n ander land en onder ander omstandighede sou hulle hulle soos “Dokters sonder grense” op mediese dienste vir die Derde Wêreld of dalk Al Gore se aardverwarming toegespits het.

    Uiteraard gee Soliforum voor dat hulle oor een of ander politieke of kulturele projek beskik. As ‘n mens egter effens terugtree, kan jy sien dat dié organisasie hom steeds by al vyf beginsels van die NP-Broederbond hou. Laat my vir ‘n oomblik opsom hoe ek dit kan insien.

    1. Afrikaners is die vyand. Benewens hul openbare belastering en verguising van Afrikaners, voer Soliforum ‘n strategie om elke ander organisasie of groepering wat dalk momentum kan begin kry, te ondermyn en verdag te maak. Hulle poog ook om ‘n monopolie op alle Afrikanergemeenskapsinisiatiewe te verkry ten einde hul “gemeenskapsbelasting” (Dirk Hermann) te verhoog.
    2. Maak jouself onmisbaar. Soliforum glo dat deur opleiding aan ambagsmense te verskaf, sommige Afrikaners wel “onmisbaar” sal wees en dus in weerwil van die regering se rassewette hul poste sal kan behou.
    3. Praat of onderhandel met die ANC/SAKP. Min of geen van die “leiers” van Soliforum is ooit demokraties verkies nie en sover ek verstaan, het lede geen seggenskap sover dit die beheer oor Afriforum betref nie. Nietemin beskou Soliforum hulle as die selfaangestelde “Afrikanerleiers”, baie soortgelyk aan die destydse Broederbond, wat namens ons met die ANC/SAKP mag praat. In welke mate sulke gesprekke ook handel oor hoe potensieel “opstandige” of “dissidente” Afrikaners en organisasies verder ondergrawe of ondermyn kan word, is ‘n ope vraag.
    4. Hou die stelsel aan die gang. Vermoedelik dra die FW de Klerk-stigting en via hom dalk die Amerikaanse regering by tot Soliforum se fondse wat bestem is om die huidige grondwet, wat teen blankes en Afrikaners gelaai is, te handhaaf. In alles wat hulle sê, beklemtoon Flip Buys, Kallie Kriel en Ernst Roets dat die huidige stelsel ‘n fait accompli is wat nie bevraagteken mag word nie, maar bloot ietwat versag kan word. Vae praatjies oor “selfstandigheid” of selfs “selfbeskikking” is nie bedoel om die vanselfsprekende gesag en legitimiteit van die Nuwe Suid-Afrika aan te tas nie. Dis alles deel van “goeie bemarking” vir suksesvolle telebemarkers.
    5. Verwerp pro-Westerse groepe in die buiteland. Ernst Roets van Afriforum het in ‘n onlangse twiet sy organisasie as ‘n “anti-rassistiese projek” beskryf. In vandag se wêreld is “anti-rassisties” ‘n kodewoord vir “anti-wit” of “anti-Westers”. Daarom veg Afriforum sy aan sy met liberale of linksliberale propagandiste elders ter wêreld, téén die pro-Westerse of patriotiese organisasies. Die enigste organisasies en partye in die buiteland wat oor enige simpatie vir die Afrikaner beskik, is juis pro-Westers of pro-Europees. Nes die NP-regering in sy terminale fase, onderskryf Soliforum die anti-Westerse mengkultuur en verwerp hy alle teenstanders daarvan. Nie net werk Soliforum sodoende mee aan ons ondergang nie, maar ook aan die ondergang van ons hele beskawing wat deur hordes uit die Derde Wêreld verswelg moet word.

    Hier bo het ek gesê dat die NP-Broederbond nie destyds misluk het vanweë ‘n gebrek aan middele nie, maar danksy gebrekkige denke. Ek was al in feitlik al die Westerse hoofstede waar ek ons indrukwekkende, luukse ambassadegeboue in die duurste buurte van naderby aanskou het. Daardie geboue is beman met voltydse personeel wat in ewe weelderige huise en woonstelle gehuisves is, waaronder Niël Barnard se Nasionale Inligting, wat feitlik onuitputlike bronne van geld gehad het. Op die tuisfront het Suid-Afrika oor ‘n goed opgeleide Weermag en Polisiemag beskik wat nooit wesentlik deur die ANC/SAKP se terroristebendes bedreig is nie.

    Die vraag is nou: Kan Soliforum met sy hardnekkige voortsetting van NP-Broederbond-denke uit die tagtiger- en negentigerjare slaag, daar waar sy roemryke voorganger so ysingwekkend misluk het?

    Of miskien is dit die verkeerde vraag, want Soliforum wil niks vir die Afrikaner bereik of vermag nie. Hy slaag reeds as telebemarker, en dit is waar dit eindig.

    Maar dan moet die res van ons ten minste die grootmoedigheid hê om te erken dat Soliforum, die “groot organisasie”, nes die “groot party”, Mmusi Maimane se DA, vir die Afrikaner niks beteken nie. Ons het alternatiewe nodig, waarvan PRAAG ‘n prominente een is.

    Wat is ons strategie en hoe verskil dit van die NP-Broederbond-Soliforum se vyf slegte gewoontes? Kortom, verteenwoordig dit presies die teenoorgestelde daarvan:

    1. Geen Afrikaner is ons vyand nie, selfs nie eens dié wat ons gereeld in die openbaar aanval nie. Met die uitsondering van sekere verraaiers wat elders hier deur ons lesers genomineer is, wil ons Afrikaners inlig en polities opvoed om saam te staan in dié donker tye, noudat ons volk se oorlewing op die spel is. En nie net ons volk nie, die hele Westerse en Europese beskawing word bedreig!
    2. Onttrek uit die stelsel. Ons moenie langer ons arbeid en ons kundigheid vir ‘n appel en ‘n ei aan ons vyande verkoop nie. Laat die onvermydelike krisisse kom, sodat ons mense kan besef dat ons met ons rûens teen die muur baklei. Skep ‘n alternatiewe Afrikanerekonomie wat gedeeltelik in die buiteland gesetel is. Moenie vyandelike ondernemings met u Afrikanergeld ondersteun nie.
    3. Moenie met die ANC/SAKP praat nie; dreig hulle eerder en stel ultimata. Knoop hofsake plaaslik en internasionaal teen die huidige bewind oor volksmoord, asook taal- en rassediskriminasie aan en bly op die aanval. Al verloor ons hier en daar, is dit belangriker om aan te hou veg as om soos Soliforum en ander die status quo te aanvaar! Kom ons kweek ‘n onblusbare veggees en staan op teen die onreg.
    4. Ondergrawe die stelsel waar jy kan. Skend sy name en simbole. Moenie tolgeld en ander vermybare heffings betaal nie. Moenie die wette en reëls oor regstellende aksie en swart bemagtiging nakom nie. Voer ‘n stryd teen die onreg en verdrukking wat ons teister.
    5. Bevorder kontak en verhoudinge met pro-Westerse groepe in die buiteland, wat ons saak goedgesind is. Maak van die Afrikaner se vryheidstryd in Suid-Afrika die speerpunt van die pro-Westerse en -Europese herlewing wat plek-plek te bespeur is. Veg vir jou land, jou volk, jou taal, maar ook jou Christelik-Westerse beskawing wat ewe seer bedreig word. Verwerp die mengkultuur wat daarop gemik is om ons ondergang deur assimilasie te bewerkstellig.

    ‘n Honderd Afrikaners wat begin saamstaan, is reeds ‘n faktor. ‘n Duisend is ‘n gedugte mag. Tienduisend staan ‘n kans om die land te herower, nie noodwendig militêr nie, maar op allerlei vindingryke maniere. Honderdduisend sal onoorwinlik wees en sal nie net Suid-Afrika s’n nie, maar die wêreldgeskiedenis verander.

    Daarvoor moet ons egter vir eens en vir altyd van gister se verloorstrategie afsien en begin om logies en kloekmoedig te dink.

  • Die rol van PRAAG by Afrikanerbevryding

    Die rol van PRAAG by Afrikanerbevryding

    roodt_dan_wikideur Dan Roodt

    [followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

    Hou van Dan Roodt se Facebookblad

    Ek wil nie hier, anders as wat Flip Buys van Solidariteit so gereeld in sy Rapportrubrieke doen, my eie beul blaas nie. Toe ‘n dertigtal van ons egter presies veertien jaar gelede die Pro-Afrikaanse Aksiegroep in ‘n lesingsaal by UNISA gestig het, het ons geweet dat iets gedoen moes word om die agteruitgang van Afrikaans en die Afrikaner in Suid-Afrika te stuit.

    Destyds was die internet nog in sy kinderskoene en ADSL of 3G nog nie ‘n werklikheid nie. As mens jou epos wou lees, moes jy van ‘n inbelmodem gebruik maak. Facebook en Twitter, of selfs ‘n gesofistikeerde kommentaarstelsel soos Disqus wat ons hier – in Afrikaans! – gebruik, het nog in die verskiet gelê. In April 2000 het die PRAAG-webblad egter afgeskop en sedertdien net van krag tot krag gegaan.

    Ons kan op ‘n latere stadium bietjie nabetragting hou oor al ons avonture van die afgelope veertien jaar, van die stryd in die media tot die periode waartydens ons aan skietoefeninge met plaaswagte bestaande uit boere in die Noord-Transvaal deelgeneem het. Dít alles is geskiedenis. Miskien sal dit in die vergeteleheid vesink en saam met die Afrikaner in Suid-Afrika uitgewis raak. Veel eerder sal ons dit iewers in die toekoms opskryf as die begin van ‘n herontwaking nadat ons deur die kommunistiese propagandameesters in die wêreldmedia verslaan is en ons land sonder slag of stoot deur ‘n korrupte bende vanuit ‘n Zambiese kamp verower is.

    Vandag wil ek kortliks stilstaan by ons rol vandag en in die onmiddellike toekoms, ook in die aanloop tot die nasionale verkiesing op 7 Mei 2014.

    PRAAG speel op vele terreine ‘n rol, wat ek hier in volgorde van belangrikheid wil lys en agterna ietwat verder wil belig:

    • As pro-Afrikaanse NRO (nie-regeringsorganisie);
    • as Afrikaner-dinkskrum;
    • as digitale nuus- en meningsblad;
    • as uitgewer en kultuurskepper.

    Pro-Afrikaanse NRO

    Min Afrikaners besef dit, maar dwarsdeur die wêreld is daar nie-regeringsorganisasies (NRO’s) wat ‘n ontsettende belangrike rol in die politiek speel. Hulle bring regerings tot ‘n val, verander die politieke stelsels van lande en kan hele volkere laat verdwyn of verskyn. Soms is dit ook makliker vir regerings en geheimedienste om hul strategiese doelwitte deur middel van dié “apolitiese” organisasies te bereik.

    In Suid-Afrika is dosyne sulke NRO’s bedrywig wat hoofsaaklik vanuit die buiteland befonds word. Daar is die Open Society Foundations van die Hongaars-Amerikaanse miljardêr, George Soros. Daarbenewens tref ons die volgende aan: Section 27, die Helen Suzman-stigting, Africa Check, die Instituut vir Sekerheidstudies, die Instituut vir Rasseaangeleenthede, die Instituut vir Globale Dialoog, die Instituut vir Geregtigheid en Versoening, Amnestie Internasionaal, die Duitse politieke stigtings, waaronder die kommunistiese Rosa Luxemburg-stigting se kantoor in Johannesburg, asook vele ander.

    Baie van die Suid-Afrikaanse NRO’s het vanuit die duistere wêreld van die anti-apartheidsbeweging en sy verwante terreurorganisasies ontstaan. Toe en nou is hulle ten dele deur Boerehaat gemotiveer en werk steeds aktief aan ons ondergang mee. ‘n Britse burger staan byvoorbeeld aan die hoof van Section 27 wat hom ten doel gestel het om alle Afrikaanse skole in Gauteng te verengels.

    Terwyl die meeste Afrikaanse organisasies op die dikwels onbekwame ANC-regering fokus en een jare lange hofsaak na die ander teen staatsdepartemente voer (wat op die duur vir ons wát beteken?), probeer PRAAG met sy beperkte middele die Afrikaansvyandige NRO’s dophou en dwarsboom. Ons betoging teen Section 27, asook vele briewe aan Engelse koerante oor mev. Barbara Creecy, die Gautengse LUR vir onderwys, het vrugte afgewerp en ‘n tydelike wapenstilstand in die aanval op Afrikaanse skole bewerkstellig.

    Ons het gesien hoe Africa Check verlede jaar vir Steve Hofmeyr met aansienlike steun van die linkse media aangeval en probeer verdag maak het deur sy stelling dat “Afrikaners soos vlieë sterf” as onsin af te maak. Ook onlangs het Africa Check beweer dat verkragting in Suid-Afrika nie so erg is nie, “omdat niemand eintlik weet wat die ware statistieke is nie”.

    So pas het ‘n woordvoerder van George Soros se Open Society Foundations, Jacob Dlamini, in Business Day aangekondig dat hulle Afrikaners wat in die vorige regering gedien het verder wil vervolg op grond van getuienis wat Eugène de Kock voor die howe mag plaas. Tussen die reëls verstaan ‘n mens dat De Kock dalk vrygelaat gaan word op voorwaarde dat hy die vorige Afrikanerbewind verraai en op allerlei maniere inkrimineer sodat ‘n Stalinistiese “skouverhoor” soortgelyk aan Tutu se lieg-en-biegkommissie nogmaals teen Afrikaners ontketen mag word.

    Dít alles om ons mense met witskuld te breinspoel sodat hulle eerder wegkruip as om vir hul regte op te staan!

    Vanselfsprekend sal ons ons verdediging teen die NRO’s moet verskerp, want hul uiteindelike doelwit is niks minder as kultuurmoord op die Afrikaner of selfs erger nie.

    Dis ‘n Dawid-en-Goliat-stryd wat ons voer teen groepe wat met miljoene dollar vanuit die buiteland befonds word om ‘n onophoudelike propaganda-oorlog teen ons volk te voer. Maar om terug te deins, sou selfmoord beteken!

    Afrikaner-dinkskrum

    Die vermaarde Franse filosoof, Alain de Benoist, het onlangs gesê dat daar in sy land geen toekomsgerigte denke meer bestaan nie. Slegs in China en die VSA is daar nog sulke denke. Wat ‘n verdoemende uitspraak oor Frankryk!

    Interessant is egter dat De Benoist meen dat toekomsgerigte denke in Amerika hoofsaaklik deur die dinkskrums of “think tanks” bedryf word. Hulle ontleed gegewens in die hede, skets toekomsscenario’s en maak voorspellings.

    PRAAG het willens en wetens ook ‘n dinkskrum geword wat vir die Afrikaner ‘n nuwe toekoms wil bedink. Die toekoms wat ons sien, lê buite hierdie bestel, met eie instellings en selfs grondgebied sodat ons weereens ons verlore soewereiniteit kan herwin. Dis nie genoeg om daardie toekoms te verbeel nie; daar moet ook nou al daarvoor beplan word!

    Nog ‘n funksie van ‘n dinkskrum is om inligting te ontleed en aan alle belanghebbendes te kommunikeer. Ons poog om deur die publikasie van unieke artikels oor internasionale politiek sulke inligting aan die Afrikaner bekend te stel. Vele van die artikels en hoofartikels op praag.co.za verteenwoordig dae en ure van navorsing oor toestande in die buiteland wat op ons eie situasie betrekking mag hê. Suid-Afrika is vanuit die buiteland deur die ANC-SAKP-alliansie verower en Afrikanerbevryding sal slegs met inagname van buitelandse strominge en neigings kan geskied.

    ‘n Belangrike funksie van enige dinkskrum is om ‘n goedgesinde politieke party van raad en insig te bedien. Die Amerikaanse Heritage Foundation verrig byvoorbeeld so ‘n taak vir die Republikeinse Party in die VSA terwyl elkeen van die groot Duitse politieke stigtings aan ‘n politieke party verbind is. Op die webblad van die Heritage Foundation word dit soos volg beskryf:

    Founded in 1973, The Heritage Foundation is a research and educational institution—a think tank—whose mission is to formulate and promote conservative public policies based on the principles of free enterprise, limited government, individual freedom, traditional American values, and a strong national defense.

    Die Broederbond en verskeie ander groeperinge het tydens die suksesvolle jare van die Nasionale Party dieselfde soort dinkskrumrol vervul. Uiteindelik het die hele Afrikanerbouwerk van die verlede egter skouspelagtig in duie gestort, veral ná die oorwinning wat die ANC-SAKP eers in die internasionale media en toe by die stembus oor die Nasionale Party behaal het.

    praagcoza_adv

    Vier jaar gelede wou PRAAG so ‘n verhouding met die Vryheidsfront Plus bewerkstellig en ‘n tyd lank was ek voorsitter van die VF Plus se navorsingskomitee. Die kleinlike politiekery en nydigheid binne daardie party het so ‘n verhouding egter onmoontlik gemaak.

    Met die totstandkoming van die nuwe Afrikaner- politieke party, Front Nasionaal, werk ons weereens as dinkskrum nou saam met die partystrukture en sal help om strategie vorentoe te bepaal, gegrond op al ons navorsing en inligting wat oor die afgelope veertien jaar versamel is.

    Digitale nuus- en meningsblad

    Ons is almal oorbewus van die Naarpers-monopolie in Afrikaans en die funeste rol wat dié mediagroep speel om ons mense met fatalisme, defaïtisme, nihilisme en immorele dekadensie te vul. As dit nie ‘n sangeres soos Karen Zoid is wat met haar witskuld, anti-Afrikaanse reënboognasie-ideologie aan ons jeug afgesmeer word nie, is dit die vulgêre pseudo-komediant Casper de Vries wat die Afrikaner en veral Christene op KykNET beledig en afkraak.

    Verder poog Naarpers se verskeidenheid dom wit en veral bruin rubriekskrywers en meningsvormers om gedurig die huidige bestel met sy ingeboude onreg en Boerehaat as “natuurlik”, onvermydelik en onveranderlik voor te stel. Wat eintlik ‘n tirannie van die meerderheid is, word as “vryheid en demokrasie” opgehemel. Tot onlangs het die Naarpers-koerante alles wat in die land verkeerd loop getroef met lofsange aan “ons wonderlike grondwet”, dermate dat Hermann Giliomee hulle “grondwetters” begin noem het.

    Die meeste van Naarpers se rubriekskrywers dink nie meer in Afrikaans nie en ‘n mens salueer as’t ware die anglisismes en Engelse clichés soos hulle verbykom as jy Tim du Plessis, Henry Jeffreys of Jonathan Jansen lees. Trouens, Naarpers se Afrikaanse publikasies maak deesdae meermale van Engelse rubriekskrywers ek kommentators gebruik wat uit daardie taal vertaal word, asof hulle nie meer Afrikaners vertrou om in hul publikasies te skryf nie, maar slegs Engelse globaliste of fanatiese voorstanders van die totalitêre Suid-Afrikanisme wat Afrikaners uitsluit.

    Van die verskeidenheid rubrieke en meningsartikels wat tans op praag geplaas word, is van die beste wat daar in dekades in Afrikaans verskyn het. Skrywers soos Gustav Venter, Manfred Delport, Leon Lemmer, Danie Goosen, Joseph Secrève en ekself baljaar op die breë register van Afrikaans. Dit wissel van skerp en geestig, tot verwikkeld intellektueel, dikwels in dieselfde artikel! Veral Leon Lemmer se langer artikels waar hy met vers en kapittel in keurige taal die vergrype van verpolitiseerde hoër onderwys of anti-Afrikaner-ressentiment onder bruines beskryf, is iets unieks in ons taal. So pas het Lemmer ‘n nuwe term gemunt vir wat polities korrek as “transformasie” bekendstaan: “ontwitting”.

    Dis iets van ‘n kreatiewe voorhoede soos daar laas in die 1930s onder Afrikaners bestaan het.

    Uitgewer en kultuurskepper

    Sowel die ANC-staat as Naarpers sien die Afrikaanse kultuur as iets wat vir eie politieke en ideologiese doelwitte gemanipuleer moet word. Dit stem byna volkome ooreen met die wyse waarop kultuur in Oos-Duitsland of die voormalige Sowjetunie aan staatsmag – of monopolistiese dwingelandy in Naarpers se geval – onderworpe gemaak is. Geen boek of selfs fiktiewe verhaal soos ‘n roman of novelle word gepubliseer indien dit nie die kultuur-marxistiese sienings van Afrikanerskap, die gesin, identiteit, geslag, ras en dies meer, eerbiedig nie. Dieselfde geld die teaterstukke by kunstefeeste en selfs Afrikaanse films wat meermale die heersende ideologie bevestig, eerder as wat dit bevraagteken word.

    Nie net word die Afrikaanse kultuur gemarginaliseer deur middel van verengelsing en staatsvyandigheid nie, maar dit word ook verarm deur ‘n verskraalde, eendimensionele inhoud daaraan te verleen.

    Ons kultuurprobleem strek egter veel verder terug as bloot die totalitêre hede met sy kwasi-kommunistiese, verpolitiseerde boeke, toneelstukke en gewilde kykstof soos Sewendelaan op die SAUK. Oor die afgelope dekades het Naarpers veral anti-Afrikaner-figure soos André P. Brink, Antjie Krog en Marlene van Niekerk opgehemel, as sou die Afrikaanse letterkunde net uit sulke mense bestaan! Tydens die hoogtepunt van die Afrikanerbeweging tydens die 1960s, pleks van skeppend en vernuwend op te tree, het die sogenaamde Sestigerbeweging verkies om klakkeloos agter Boerehaters soos Nadine Gordimer en Alan Paton aan te hardloop en dieselfde karikature van ons volk as in hul boeke tot stand te bring. Verwoerd was uiteindelik reg toe hy destyds op die vooraand van sy sluipmoord in September 1966 in sy Republiekdagtoespraak op 31 Mei gesê het:

    “En nou wil ek uiting gee aan die onuitgesproke, dikwels onuitgesproke verlange van ons volk dat daar vir ons ook, soos vir ander volke in hul wonderuur, dié skrywers en dié digters mag ontstaan wat kan en sal wil besing die heldedade van hul eie geslag. So kan dit vir ons ook gegee word, soos in die uur van roem van groot volke in die verlede was, waar diegene kon opstaan wat nie weifelend vra: Wát is ’n volk? nie, maar wat kan uitjubel: Dit is my volk, só is my volk, só kan hy ook wondere verrig, só is hy skepper van ’n eie toekoms!

    “Die skrywer en digter wat in hierdie tyd só kan besing wat nou gebeur, sal aangehaal word so lank soos die volk van die Republiek van Suid-Afrika bestaan. As daar uit ons midde diegene kan ontstaan wat die mooie van ’n volk se lewe wil besing, wat nie terughuiwer om patriotisme, vaderlandsliefde, te huldig nie, wat nie net volgens moderne patrone soek na wat elders in die volkere wat reeds oud is, die mode is nie, maar wat ooreenkomstig die vaste patroon van huldebetuiging aan die eie volk, die lelike, die vleeslike opsy kan skuiwe en kan kyk na die geestelike, en die mooie en die grootse, wat die moderne geskiedenis kan besing!

    “Kon ons nou maar in ons tyd ook sulke skrywers en digters vind, hoe ryk sou ons ons nie ag nie, hoe ryk sal ons volk van die toekoms nie wees nie, om dan te weet, deur sulke tolke, wát in die hart van die volk van vandag omgaan terwyl hy belewe, vyf jaar ná die gebeure, hierdie wonderwerk, hierdie groot mylpaal in die geskiedenis van ons volk.”

    Met die voordeel van terugskouing, kan ons vandag sê dat Verwoerd uiteindelik tydens dié veelbesproke polemiek rondom ‘n drama deur N.P. van Wyk Louw, gelyk had. Die moderne Afrikaanse letterkunde het, op een of twee uitsonderings na, nooit tot groot hoogtes gestyg nie. Dit het verval in oppervlakkigheid, nihilisme en ‘n sieklike anglofilie, selfs Boerehaat en karikaturisering van Afrikaners soos wat dit deur ons ergste vyande beoefen word.

    Terwyl die groot Afrikaanse uitgewerye onder Naarpers se beheer vanuit die Kaap streng sensuur toepas om te sorg dat slegs werke wat in die ANC-SAKP- politieke dwangbuis pas ooit die lig sien, wil PRAAG vernuwing, herbesinning en skeppende onverskrokkenheid aanmoedig. Ons eksperimenteer tans met verskeie digitale modelle, eboeke, maar ook aanlynpublikasie soos tans met Gustav Venter se vervolgverhaal Bodem.

    Die vyand beset ook die Afrikaanse universiteite waar enige afwyking van hul norm genadeloos gestraf word met die vervolging van akademici, histeriese “media-verhore” en beswaddering, net soos dit in die tyd van Josef Stalin in Rusland gedoen is.

    Die stryd om die hart van die Afrikanerkultuur móét in ons guns beklink word. Ons is nie net op die voorpunt van Afrikaner- politieke denke nie, maar ook van skepping in Afrikaans.

    Ons wil graag sien dat daar eweneens ‘n Afrikaner-hergeboorte in die kunste tot stand kom – in Standaardafrikaans! Onlangs het ons gesien hoe Standaardafrikaans deur die SAUK, die Universiteit van Stellenbosch en selfs die Akademie onder leiding van prof. Wannie Carstens, aangeval word.

    Die aanslag is totaal en totalitêr: ons hele menswees word bedreig. Daarom moet ons verset daarteen óók alles monster: die politiek, die kultuur, die taal, finansiële en ekonomiese oplossings, ons ysere wil wat in sommige van Van Wyk Louw se gedigte besing word:

    Ons wil moet blink wees, buigsaam soos die staal,
    een helder drif, een lem, een straal
    vanuit die brein, die skouer, die taaie digte
    vlegsel van die spiere en armgewrigte
    tot in die koel punt van die mes

    Sluit aan by PRAAG!

    Sluit aan by PRAAG!
  • Hoe Joe Slovo die land verower het

    Onlangs het ‘n biografie uit die pen van die Amerikaanse Jood, Alan Wieder, verskyn met die titel Ruth First and Joe Slovo in the war against apartheid (Monthly Review Press). Dit vertel die fassinerende verhaal van hoe twee Litause Jode – eers vanuit Johannesburg maar later vanuit Londen en enkele Afrikastede – ‘n leidende rol in die aanslag op die vorige Afrikanerregering gespeel het. Oor die afgelope 24 uur het ek die boek in een sitting deurgelees en gee graag van my indrukke hier weer.

    roodt_dan_wikiOor die algemeen is dit nie polities korrek om na die etnisiteit van Jode te verwys nie, maar in dié geval beklemtoon die skrywer dit reeds in sy voorwoord dat hy aanvanklik in First en Slovo begin belangstel het vanweë sy en hulle gemeenskaplike wortels in Oos-Europa en Joodsheid:

    “As I worked on teacher stories between 1999 and 2008, I felt a growing camaraderie with First and Slovo. Both Ruth and Joe’s roots were Eastern European and Jewish, as are mine; both were, at best, non-practicing Jews, as am I; both were, like me, politically left.”

    Opsommenderwys kan ‘n mens die boek as ‘n hagiografie of klakkelose huldebetuiging aan Ruth First en Joe Slovo beskryf. Ek was reeds bekend met beide se rol in die sogenaamde “stryd teen apartheid”, maar Wieder onthul sowel hul persoonlike geskiedenissse as hul politieke handelinge, wat vir nogal heelwat nuwe insigte in die treurige verhaal van ons Afrikanerneerlaag sorg. Dit het ook tot my persoonlik gespreek, aangesien my oorlede pa en sy Afrikanervriende in die veertigerjare op die Wits-kampus ‘n vergeefse stryd teen Slovo en Wolpe gestry het – terugskouend gesproke. Aan die einde van sy lewe het hy verbitterd uitgevaar teenoor “die Afrikaner wat soveel kanse gehad het en alles verbrou het” of “aan daardie duiwelse Slovo oorgegee het”. Insgelyks as student aan Wits dertig jaar gelede, het ek heelwat van die linkse, Joodse kultuur waarvan daar in die boek sprake is, meegemaak en selfs die skryfster van die voorwoord, die Nobelpryswenner Nadine Gordimer, een of twee keer toevallig ontmoet. Gordimer is insgelyks van Litaus-Joodse afkoms en was goed bevriend met “daardie wonderlike Slovo’s”, soos sy elders in ‘n koerantonderhoud na Joe en Ruth verwys het.

    Joe Slovo is nie eens in Suid-Afrika gebore nie, maar in die dorpie Obelei in Litaue wat destyds onder Russiese invloed was. Die latere kommunistiese leier het eers op die ouderdom van tien saam met sy ma in Suid-Afrika aangeland. Die grootste gros Litause Jode het in die tyd van Paul Kruger in ons land aangekom en ‘n prominente rol in die goudstormloop gespeel. Teen 1914 was daar reeds 40 000 Jode in Suid-Afrika, waarvan die meeste in Johannesburg saamgetrek was. In die vroeë twintigste eeu het tot 20% van dié stad se bevolking uit Jode bestaan, wat tot die spottende benamings “Jewburg” of “Jewhannesburg” aanleiding gegee het.

    Volgens Wieder moes Jode uit Litaue padgee as gevolg van toenemende anti-Semitisme ná die sluipmoord op die Russiese tsaar Alexander II. In beide Letland en Litaue het agterna ‘n gevoel teen Jode opgelaai, wat in ghetto’s gewoon het maar nie ekonomies kon oorleef nie en wat dus na ander heenkomes, hetsy in die VSA, hetsy in Suid-Afrika, gesoek het.

    In die vroeë 1930s was van die meer gevestigde Jode in Johannesburg welvarend of het, soos Ruth First se ouers Julius en Tilly, tot die middelklas behoort. Nuwe aankomelinge uit Litaue soos die Slovo’s was egter onversorg en soos die skrywer vertel, was dit standaardpraktyk om sulke kinders eers te ontluis alvorens hulle tot skole toegelaat is. Die tienjarige Joe Slovo het geen ander taal as dié van die Oos-Europese ghetto, Jiddisj, gepraat nie. Sy pa is aanvanklik eers per skip Argentinië toe en indien hy daar werk gekry het, sou Suid-Afrika se geskiedenis dalk heel anders daar uitgesien het, want dit sou beteken het dat Joe ook daarheen sou verhuis het. Dalk sou daar nooit ‘n “Freedom Charter” of ‘n Kerkstraatbom gewees het nie, beide synde gebeurtenisse waarby Joe Slovo ‘n sleutelrol gespeel het.

    wieder_slovo_first_voorbladUit Wieder se opmerkings oor Joodse immigrasie na Johannesburg, lei ‘n mens af dat, benewens Jiddisj, die Joodse geloof, gewoontes en kookkuns, ‘n ander invloedryke ideologie die nuwe aankomelinge vergesel het: die kommunisme. Synde self links en Joods, skroom die skrywer nie om aan te toon watter aktiewe rol die Litause Jode in Johannesburg gespeel het om kommunisme te bevorder nie. Afgesien van die verloopte Afrikaner Bram Fischer en sy vrou Molly, was die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty so te sê ‘n etnies Joodse beweging met ‘n paar swartes en Indiërs wat gekoöpteer is. Dit word natuurlik ook weerspieël in die aangeklaagdes tydens die fameuse Rivonia-verhoor, waarvan die helfte Jode was: Goldberg, Bernstein, Hepple, Wolpe, Kantor en Goldreich.

    Hierdie is ‘n dubbele biografie en daarom spring die skrywer heen en weer tussen First en Slovo se verhale. Selfs voor hul ontmoeting op die kampus van die Universiteit van die Witwatersrand, word albei van ‘n vroeë ouderdom af reeds aan kommunisme blootgestel. Ruth First se ouers. Julius en Tilly, was albei oortuigde kommuniste en vandat sy tien jaar oud was, is sy polities bewus gemaak of saamgeneem na vergaderings of betogings toe. Blykbaar het lede van die Kommunisteparty die gewoonte gehad om op die trappies van die Johannesburgse stadsaal pamflette uit te deel en ook toesprake aan verbygangers te maak. Dit was natuurlik in die dae voor die Nasionale Party kommunisme verbied het. Maar selfs die verbod op die Kommunistiese Party het hulle nie gestuit nie, want Slovo, First, Fischer en ander het ‘n nuwe, ondergrondse party in die plek daarvan gestig.

    Slovo se ma is vroeg dood, met die gevolg dat sy suster in ‘n weeshuis opgeneem is en hy saam met sy pa van een losieshuis in Doornfontein na ‘n ander moes rondswerf. Hy moes vroeg uitspring om te gaan werk en het sodoende op die fabrieksvloer in die kommunistiese beweging aktief geraak, hoewel ‘n onderwyser hom reeds aan kommunisme voorgestel het en daar in die Joodse losieshuise ook allerlei gesprekke oor sosialisme gewoed het.  Hy kry werk by ‘n Joodse firma, Sive Brothers and Karnovsky, maar organiseer sowel die swart as die wit werkers om te staak, in so ‘n mate dat die eienaar hom inroep. Wieder skryf:

    “In March 1944, he was called in by one of the company’s owners, Sammy Sive, and informed that he should curtail his political activities and be grateful that he had a job at ‘such a nice Jewish firm.’ Sive explained, ‘At heart we are all communists.’ He told Joe that the firm donated money to Medical Aid for Russia.”

    Hierdie stelling deur Sammy Sive verraai vir my iets van die Joodse kultuur van destyds en waaruit die hele anti-apartheidsbeweging ontstaan het: “In ons harte is ons almal kommuniste.” Vir ‘n groot deel van die twintigste eeu het dit nie saak gemaak of ‘n Jood in Suid-Afrika ‘n kapitalis, werker, akademikus, skrywer, boekhouer, vragmotorbestuurder, kleremaker of wat ook al was nie: in sy hart was hy ‘n kommunis, met groot simpatie vir die radikale vleuel wat toenemend deur Joe Slovo en Ruth First gelei is.

    Trouens, daar was onlangs in die plaaslike gemeenskapskoerant, The South African Jewish Report, ‘n hele debat oor die verhouding tussen die radikale Jode soos Slovo en die Rivonia-aangeklaagdes, enersyds, en gewone Jode andersyds, waaronder daar seker ook hier en daar konserwatiewes of nie-kommuniste moes wees. Sommige briefskrywers het wel afwysend teenoor Goldreich en ander radikale Jode gestaan; nie soseer vanweë hul rol in Suid-Afrika nie, maar weens hul kritiek jeens Israel en simpatie vir die Palestynse saak. Maar in ‘n hoofartikel het sowel die koerant as die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes die rol van radikale Jode in die onlangse Suid-Afrikaanse geskiedenis met trots omhels. Dit wil voorkom asof Suid-Afrikaanse Jode voel dat die aandag op swart figure soos Mandela, Tambo en ander ANC-ampsdraers afbreuk aan hul historiese erfenis en veral dié van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty doen en hulle nie genoegsame erkenning kry vir die rol wat hulle gespeel het om die Nasionale Partybewind omver te werp nie.

    Aan die einde van Wieder se boek verwys hy na die hoofrabbi, Cyril Harris, se optrede tydens Joe Slovo se staatsbegrafnis op 15 Januarie 1995. Die feit dat Slovo ‘n ateïs en geen praktiserende Jood was nie, is blykbaar van minder belang as dít waarvoor hy gestaan het:

    “The official state funeral followed the day after at Orlando Stadium in Soweto. Forty thousand people crowded into the stadium and there were eulogies from President Mandela; Barney Pityana, who would soon become chairperson of the South African Human Rights Commission; John Gomomo, representing COSATU; and Charles Nqakula from the SACP. Jeremy Cronin recited the Bertolt Brecht poem, “In Praise of Communism.” The crowd inside the stadium was subdued and the speeches were on the whole uninspiring, except, ironically, the formal eulogy by the Chief Rabbi of South Africa, Cyril Harris. The rabbi’s sermon portrayed Joe’s bravery and kindness, concluding with a Jewish proverb, ‘Yes, a resounding yes. The world is a better place, thanks to you, Joe, and your remarkable life.’”

    Nadat Slovo vir Suid-Afrika teen Italië in die tweede wêreldoorlog gaan veg het, kon hy aan Wits met ‘n beurs in die regte gaan studeer al het hy nie matriek agter sy naam gehad nie. Hier het sy lewenslange vriendskap met nog ‘n Joodse kommunis, Harold Wolpe, begin en het hy ook uiteindelik met Ruth First afgehaak. First het egter eers ‘n seksuele verhouding met ‘n linkse en ewe invloedryke Indiër, Ismail Meer, gehad. Dit was die dae voor die Ontugwet, asook die Groepsgebiedewet en daarom het ‘n veelrassige kerngroepie gereeld in Meer se woonstel, Kholvad-huis 13, te Markstraat in die middestad van Johannesburg, byeengekom en sosiaal verkeer. Dit is ook by Kholvad-huis waar Nelson Mandela en Joe Slovo mekaar die eerste keer ontmoet het.

    Die Franse filosoof Jean Baudrillard het ‘n interessante boekie geskryf, A l’ombre des majorités silencieuces, oftewel “In die skadu van die stille meerderheid”. Selfs in ‘n liberale demokrasie is die “meerderheid” per definisie altyd “stil” terwyl bepaalde mense of groepe altyd namens die meerderheid praat of interpreteer wat die gepeupel kwansuis dink. Soveel te meer was dit nog al die jare die geval in Suid-Afrika, waar veral Joe Slovo en sy vrou Ruth First tydens hul lang verblyf oorsee as die selfaangestelde woordvoerders van Suid-Afrika se swart meerderheid opgetree het.

    Joe Slovo en Ruth First
    Joe Slovo en Ruth First

    By die lees van hul biografie, is daar ‘n bekende Jiddisje woord wat telkens in my gedagtes opduik en dit is: “goetspa”. Selfs nie eens die Boeremag se ambisieuse staatsgreepplan in Dokument 12 spreek van soveel misplaaste selfvertroue soos Slovo en First se geloof in die revolusie en die uiteindelike militêre oorname van Suid-Afrika nie. Moontlik het die Nasionale Party se kapitulasie by die onderhandelingstafel vir Slovo as ‘n groot teleurstelling gekom, want met die hulp van die destydse Sowjetunie en Oos-Duitsland was hy besig om sy MK-kaders op te lei om uiteindelik die Boere uit Pretoria te verjaag. Hy het kort-kort voorspel dat die oorwinning “net om die draai” was. Hoewel hy in beheer van die ANC se hele terreuroperasie teen Suid-Afrika was, het hy hom kwalik oor sy eie veiligheid bekommer en was hy veral berug vir sy laataandkuiery by medestryders wat as “Joe se roete 66” bekendgestaan het. Hy het ook die gewoonte gehad om met etenstyd op te daag sodat sy gasheer verplig was om hom iets te ete aan te bied. Te eniger tyd kon ‘n agent van die destydse veiligheidsmagte hom in die straat afgemaai het en tog het dit nooit gebeur nie. Weliswaar het Craig Williamson in 1982 die briefbom aan Ruth First in Maputo gerig wat haar dood veroorsaak het, maar Slovo het lustig bomme in Suid-Afrika laat afgaan sonder dat hy ooit die geringste ongemak verduur het.

    Uiteraard is Alan Wieder se weergawe van Slovo se terreuraktiwiteite erg eensydig. Selfs die Kerkstraatbom word as ‘n “militêre operasie” beskryf. ‘n Vraag wat by my ontstaan het, is waar die geld om terreur te bedryf vandaan gekom het. Slovo was iets van ‘n linkse stralerjakker en het aanmekaar tussen Londen, Moskou, Beijing en Havana gevlieg, as hy nie in Lusaka, Maputo of Luanda was nie. Dit wil voorkom asof die ANC destyds deur die Anglikaanse Kerk en Swede befonds is, terwyl die Sowjetunie en Oos-Duitsland die SAKP van geld, opleiding en wapens voorsien het. By tye het skeuring tussen die twee organisasies gedreig, maar Slovo het dit altyd reggekry om geskille op te los omdat hy sy “stille meerderheid”, net soos Mandela in die tronk, nodig gehad het.

    Wieder se simpatie lê eerder by Ruth as by Joe, want hy beskryf haar as die slimmer marxistiese teoretikus. Sy het ook beter as Slovo geskryf en kon dus die propagandaveldtog in die Britse media volhou terwyl Joe ellelange vergaderings bywoon of in Afrikalande sy rekrute in saamgeflanste kampe gaan toespreek. Hul verhouding word as taamlik stormagtig beskryf en blykbaar het Joe allerlei ander verhoudings met vroue gehad, min of meer met Ruth se instemming. Hulle het egter ook oor politiek geargumenteer en in haar strewe om ‘n universiteitspos in Engeland te bekom, het First ‘n meer gematigde “nieulinkse” Marxisme as Slovo, wat op die beleid van Moskou attent moes wees, aangehang. Voor sy ‘n pos in Maputo tydens die Machel-bewind aanvaar het, het First ongeveer vyf jaar lank in Brittanje aan die Universiteit van Durham klas gegee.

    Benewens goetspa, is iets wat Jode van Afrikaners onderskei, kennelik ‘n oormaat selfvertroue en wedersydse bewondering. Oor en oor in die boek word sowel Slovo as First vir hul briljantheid geloof. Geen van die argumente en stellings wat Wieder aanhaal, lyk egter vir my besonder skerpsinnig nie. Min of meer die slimste ding wat Slovo gedoen het, was om in die veertigjare kommunistiese propagandastukke in die swart toilette by fabrieke op te plak, omdat hy geweet het “dat geen selfrespekterende blanke by ‘n swart toilet sou ingaan nie”. Wat hul marxistiese teorieë betref, sou nóg Slovo nóg First in Italië of Frankryk enige aansien onder linkse intellektuele kon verwerf aangesien hulle mank gegaan het aan die soort sofistikasie en voorliefde vir ingewikkelde filosofiese redenasies waarvoor linkses in dié lande wêreldberoemd geword het.

    Afrikaners is so onbelangrik dat hulle feitlik nêrens in die boek genoem word nie. Daar word net deurentyd na die “apartheidsregime” as metoniem vir Afrikaners verwys. As De Klerk en Roelf Meyer uiteindelik bes gee nadat Slovo goedgunstiglik tot die sogenaamde “sonsondergangklousule” ingestem het, is dit amper asof dit vooraf só bestem was. Die Slovo’s se dogter Gillian verwys iewers na “die naïewe Afrikanerkultuur van die veld” en ek het nogal gewonder of Joe Slovo of Ruth First ons hoegenaamd as “Suid-Afrikaners” sou erken?

    FW de Klerk het tydens die aanvang van die onderhandelings by Kemptonpark gepoog om Joe Slovo daarvan uit te sluit, maar Thabo Mbeki het namens die ANC-SAKP-alliansie die minagtende boodskap oorgedra dat daar sonder Slovo geen onderhandelings sou wees nie. Slovo het korrek ingesien dat De Klerk nie vir enigiets “nee” sou kon sê nie. Sodoende is De Klerk gedwing om nie net die Litauer se leiersrol te erken nie, maar uiteindelik ook die knie voor hom te buig. Hoewel Slovo dikwels van dogmatisme en selfs “Stalinisme” beskuldig is, het hy geblyk baie aanpasbaar in sy sienings as kommunis te wees, afhangend van wie hom mag of geld kon aanbied. Toe Gorbatsjof in Rusland oorneem, is hy oombliklik tot perestroïka bekeer en het selfs ‘n verhoging van Moskou ontvang. Terug in Suid-Afrika, het van sy medestryders soos byvoorbeeld die Kanadese kommunis, John S. Saul, hom daarvan beskuldig dat hy die “revolusie verraai het” deur nie op volskaalse kommunisme in Suid-Afrika aan te dring nie.

    Maar soos Sammy Sive in 1944 gesê het, is dit genoeg om “in jou hart ‘n kommunis te wees”. Daar is geen teenstrydigheid tussen kommunisme en kapitalisme nie. Selfs Friedrich Engels, een van die vaders van kommunisme, was ‘n fabriekseienaar. Niemand hoef die myne in Suid-Afrika te nasionaliseer nie, want hulle behoort meesal reeds aan Jode, soos die Oppenheimers of Ivan Glasenberg van Glencore-Xstrata wat eersdaags op die Johannesburgse aandelebeurs gaan noteer.

    Lesers van die South African Jewish Report sal ook weet dat daar onlangs ‘n Swart-Joodse kamer van koophandel in Kaapstad tot stand gekom het. Volgens verklarings van die nuwe liggaam, “gaan Jode en swartes voortaan saam-saam die Suid-Afrikaanse ekonomie laat groei”.

    Nóg in Slovo se meesterplan vir revolusie, nóg in dié nuwe ekonomiese plan figureer Afrikaners hoegenaamd.

    As ‘n mens die groteske Afrikanerneerlaag van die vroeë negentigerjare moes verklaar, sou ek dit in ‘n neutedop só opsom: Afgesien van De Klerk se verraad, wat maar net ‘n uitvloeisel van die omstandighede was (hoewel lees Gustav Venter se uistekende Engelse stuk oor FW!), het ‘n baie klein groepie kommuniste die land kon oorneem danksy:

    • goeie propaganda wat deur mense soos Ruth First, Nadine Gordimer, Trevor Huddleston en selfs Helen Suzman verseker is;
    • fondse wat deur Swede, Oos-Duitsland en die Sowjetunie verskaf is;
    • die Johannesburgse netwerk wat die balie, die sakewêreld en die akademici van Wits ingesluit het en waar “kommunisme in die harte van elkeen” geleef het.

    Laasgenoemde punt is belangrik, want die Afrikaner het sedert die ontdekking van goud in 1886 nog nooit ‘n goeie gevoel vir Johannesburg gehad nie. Die Anglo-Boereoorlog het vanweë die Uitlanderpolitiek van Johannesburg ontstaan en koerante soos The Star en die Rand Daily Mail (tans Business Day) was nog altyd op die voorpunt van anti-Afrikaner-oorlogspropaganda of die goedpraat van terreur teen ons. Op ‘n stadium het die Broederbond onder aanvoering van Piet Meyer gedink hulle gaan Johannesburg met behulp van die SAUK en die RAU verower, maar daarvan het dadels gekom. Vandag is daar géén Afrikanerinvloed meer by die SAUK of die Universiteit van Johannesburg nie, hoewel daar nog mense met Afrikaanse vanne bestaan wat soos spoke daar rondswerf. Hulle praat egter die ideologie van Joe Slovo en Ruth First klakkeloos na!

    Afrikaners het gedink dat die magsentrum van die land in Pretoria gesetel was, in die burokrasie en in die weermag. Intussen was dit in Johannesburg, die stad waar die Litauers al meer as ‘n eeu lank die septer swaai… Johannesburg is inderdaad die stert wat die hond swaai.

    Naspers sanik aanmekaar oor hul “Madiba” en verwar die Afrikaner des te meer. In die boek skemer dit deur dat nóg Joe Slovo nóg Ruth First ‘n hoë dunk van Mandela gehad het en hom bloot as ‘n vermetele swarte gesien het wat nie sy plek ken nie. Uiteindelik was hy maar net die swart gesig van die revolusie; hulle kon net sowel foto’s van die gestorwe Martin Luther King gebruik het.

    Na alle waarskynlikheid het Joe Slovo en Ruth First die Freedom Charter geskryf. Teen die tyd dat dit in 1955 by Kliptown aangeneem is, was die kommunistiese egpaar reeds ingeperk en mog nie vergaderings bywoon nie. Joe Slovo het egter op ‘n sinkdak met ‘n verkyker gelê en gekyk hoe die vegadering verloop en was hoogs in sy noppies met die uitkoms.

    Die nasionalisering van Afrikanergrond is een van die grondbeginsels van die Freedom Charter.

    Ons sal binnekort sien hoe ideoloë vanuit Johannesburg wat nog nooit ‘n mieliepit geplant het nie opruk om alle plaasgrond te gaan nasionaliseer. Sodoende sal die volgende hoofstuk in die Slovo’s se revolusionêre teaterstuk verwesenlik word.

    Onder hul groepie uitverkore vriende het immers ook die stigter en direkteur van die Johannesburgse Marktteater, Barney Simon, getel. Dis nie soseer die middele wat saak maak nie, maar die verhaal wat vertel word.


    Hou van Dan Roodt se Facebookblad

    As u belangstel om 'n lang en gratis uittreksel uit bogaande boek oor Slovo en First te ontvang, stuur 'n epos aan inlig[by]praag.org met "Slovo" in die onderwerpreël.

  • Afrikanerverraaiers se ontkenning

    Die vorige meningspeiling op PRAAG het die vraag gevra: “Wie is die Afrikaner se grootste vyand?” ‘n Mens kon óf antwoord “Afrikanerverraaiers” óf “die ANC en SAKP”. Nie minder nie as 83% van respondente het “Afrikanerverraaiers” geantwoord!

    Nie lank voor PW Botha dood is nie, het ek by Die Anker twee uitgebreide gesprekke met hom gehad. Dit was soos  een van daardie wetenskapfiksiefilms waar ‘n mens in ‘n kapsule klim en terug in die tyd vlieg. Oom PW was vyftig jaar in die politiek en het al die groot figure uit die verlede persoonlik geken: Malan, Strijdom, Verwoerd, waarskynlik selfs JBM Hertzog.

    Interessant was dat die jong PW aan dr. D.F. Malan die vraag gestel het waarom die skeuring tussen hom en Hertzog in die dertigerjare gekom het. Malan het ‘n rukkie stil gebly en toe harstogtelik teenoor die jong organiseerder vir die Nasionale Party uitgeroep: “Afrikanerverraad!”

    Verraad is sekerlik deel van elke volk se geskiedenis. By tye is dit eenvoudig makliker en veral finansieel voordeliger om met die vyand te heul as om by jou eie mense te staan. Maar ek verstout my om te sê: die Afrikanergeskiedenis word meer as dié van ander volkere deur verraad besmet. Ons het dit gesien tydens die Tweede Vryheidsoorlog en natuurlik oor die afgelope dertig jaar, vandat ‘n bepaalde kliek in die Broederbond en die Nasionale Party beheer oor die land en feitlik al sy instellings verkry het. Vir ‘n pot lensiesop het hulle alles – van die Uniegebou, die universiteite en openbare maatskappye, ons museums en wildtuine, die mineraal- en waterregte tot die kaart en transport op ons boere se grond – aan die ANC uitverkoop.

    Nadat Roelf Meyer finaal aan Cyril Ramaphosa oorgegee het, het hy glo met laasgenoemde gedans, asof hy in ‘n gay-klub was. Cyril het agterna opgemerk dat, “indien hy soveel soos Roelf prysgegee het, hy dalk nie so vrolik sou gewees het nie”. Vandag, terwyl ‘n tweede volksmoord rondom ons woed, pluk ons die wrange vrugte van Roelf Meyer se vrolikheid.

    Afrikanerverraaiers, hoewel hulle tussen ons woon en werk, is nie so maklik om te verstaan nie. Hulle trap op ons vir eie belang of persoonlike gewin, maar dit verteenwoordig nie die hele prentjie nie. Aan die een kant is hulle boos, dog aan die ander kant is hulle ook naïef, dom, wêreldvreemd en identiteitsoekend. Die verraaier beliggaam ook ‘n persoonlikheidstipe: die onderdanige kruiper wat bloot die weg van die minste weerstand volg.

    Vandat ek op skool was, was ek daarvan bewus dat daar sulke mense bestaan: kruipers, rugstekers, verraaiers. Met ‘n middelmatige intellek en weinig talent, sit hy gewoonlik voor in die klas en probeer die onderwyser se witbroodjie word. Hy is vroom, skynheilig. Gewoonlik is sulke mense ook goeie Christene of, altans, doen hulle as sodanig voor. Op skool of universiteit is hulle altyd lid van die CSV en natuurlik – in die verlede – lid van die Afrikaanse Studentebond en die Ruiterwag, daarna die Broederbond en elke moontlike organisasie waar jy deur ‘n agteraf gekonkel kon vorder.

    As ‘n mens die Afrikanerverraaier as ‘n parasiet sou beskou, met die Afrikanervolk as sy gasheer, dan het hy nou so te sê die finale fase van die parasiet se lewensiklus bereik: hy het sy gasheer doodgemaak. Maar natuurlik is die spesie aanpasbaar en het vele moontlik reeds na Australië ontsnap. Van hulle teer nog op die reste van Afrikanerinstellings en -ondernemings of probeer selfs witvoetjie by die huidige, seekatagtige maghebber soek. Heelparty het ook in die onlangse tyd verengels of ten minste hulle kinders na Engelse skole gestuur omdat hulle die nuwe kultuur wou omhels.

    Ek het in ‘n huis grootgeword waar die Broederbond feitlik ‘n vloekwoord was. Sonder twyfel was daar in die vroeë dae goeie Broederbonders, vurige patriotte wat die Afrikaner uit die skande van armblankeskap in die dertigerjare wou ophef, maar iewers is die organisasie deur die parasitiese swakkelinge wat ons Afrikanerverraaiers noem, geïnfiltreer. Van toe af het die woord “Broederbonder” ‘n skelwoord geword en ek is bevrees die naamsverandering na “Afrikanerbond” in die meer onlangse tyd het weinig gedoen om dié negatiewe persepsie hok te slaan.

    As ek dus van ‘n sekere soort konformistiese, kruiperige, aangeplak vriendelike Afrikaner met duistere bedoelings praat, dan som die woord “Broederbonder” dit omtrent vir my op, al mag dit onbillik teenoor ‘n gestorwe geslag idealiste wees wat hulle wel met dié term vereenselwig het.

    As ‘n mens jou met Afrikanersake bemoei, raak jy gou-gou bewus van die “Broederbonder”-tipe. Afgesien daarvan dat hy sy eie ma met ‘n glimlag sal verkoop, is die Broederbonder ook ‘n bedrewe burokraat en iemand wat van vergaderings hou, veral as daar iewers ‘n aalmoes of posisie ter sprake mag kom.

    Wat my egter die meeste van hierdie Broederbondertipes fassineer, is hulle sin vir ontkenning. Moontlik omdat hulle altyd baie fyn luister na die menings van belangrike mense om hulle eie daarby aan te pas, raak hulle so verstrengel in drogbeelde en drogredenasies dat hulle naderhand die werklikheid – of aspekte daarvan – begin ontken.

    Ek was al male sonder tal in die geselskap van Broederbonders waar ek met verstomming gesien het hoe hulle eenvoudig ‘n direkte vraag of stelling argeloos kan ignoreer. Gewoonlik staan een van hulle op en vertel met groot omhaal van woorde hoe ons aan versoening moet werk, of darem nou nie negatief moet raak oor alles wat in die land verkeerd loop nie. Die woord “positief” is as’t ware die kenmerkende geluid van die spesie. Al word sy hele gesin deur ‘n bende swart rowers uitgewis, nadat sy vrou en dogter voor hom verkrag is, sal die rasegte Broederbonder getrou bly herhaal: “Ons moet positief bly en ons seëninge tel.”

    Die Broederbonder se sin vir die “positiewe” spruit uit die feit dat hy sy weg deur die lewe vind deur ander aan te prys, by hulle te flikflooi, witvoetjie te soek, te kruip en hulle heuning om die mond te smeer. Broederbonders reageer feitlik met verskrikking as hulle iemand teëkom wat vir homself dink en – kan jy glo – so ‘n mening durf uitspreek. Dan maak hulle gou-gou kringetjie in die hoek van die vertrek en sorg dat die bose vrydenker met die banvloek getref of ten minste geskors of stilgemaak word.

    Die hoofstroom- Afrikaanse media is natuurlik vrot van die Broederbonders. Hoe meer radikaal die ANC se leierskap raak en openlik sê hoe hulle binnekort plase gaan begin onteien, Afrikaanse skole gaan afskaf en nog meer drakoniese maatreëls vir sogenaamde “swart bemagtiging” gaan instel, hoe meer ontken die bende Afrikanerverraaiers en Broederbonders die werklikheid.

    In hulle “positiewe” wêreld waar alles net goed gaan, kan geen krisis groot genoeg wees om raakgesien te word nie. Daar is nog altyd rugby of die jongste rentekoersverlaging om oor opgewonde te raak, al gaan die land en ons volk ten gronde.

    Totdat ons finaal in ‘n Zimbabwe verval, gaan hulle mooi broodjies bak, kruip-kruip hier, kruip-kruip daar, en met gierige oë, smakkende lippe en innemende onderdanigheid bly aas wat daar nog te aas is.

    Uit die smeltkroes van hierdie verskriklike tye gaan die Afrikanervolk gelouter anderkant uitkom. Hopelik gaan ons sterker as ooit wees en ons vyande met die minagting kan behandel wat hulle verdien.

    Maar Afrikanerverraad sal aangespreek moet word. Nooit weer moet ons oorheers of selfs net beïnvloed word deur ‘n persoonlikheidstipe wat tegelyk konformisme en parasitisme kombineer nie.

    Soos Van Wyk Louw aan die einde van een van sy mooiste versetsverse, “Julle is die oorheersers”, geskryf het:

    …maar as julle dood
    en ‘n vrot plek in ons volk is,
    dan sal ons ‘n mes vat
    en vinnig, genadiglik
    sny deur spiere
    en vleis tot genesing.

    жилет школьный для девочкиФільчаков Олександр Васильович

  • Broederbond veroorsaak Afrikanerondergang

    Sedert Praag se ontstaan het ek dit ondersteun. As kind het my vader my gewaarsku dat ‘n mens nie swartes se beloftes of uitsprake op sigwaarde moet beoordeel nie. Daarom het ek nooit hierdie nuwe bedeling aanvaar nie. Met Praag wat ons mense onder die vaandel van Afrikaans probeer verenig, het ek gehoop die Afrikaner sal weer bymekaar uitkom as ‘n nasie.

    Ek moet erken ek was skepties. Sal die Afrikaner ooit wegkom van die Broederbondsiening, dat net hulle uitverkore lede die Afrikanervolk is? Hoekom nou juis die naam Broederbond? Hulle leen die begrip rondom ‘n broederskap van lede met ‘n bepaalde doel by die Vrymesselaars. Vrymesselary is ‘n organisasie met geheime maar gedurende die twintigste eeu stig die Broederbond ‘n geheime organisasie bestaande uit honderde “losies” van hulle uitgesoekte Afrikaners en rysmier die politiek, die handel, die kerk en elke ander organisasie, selfs sport, met hulle lede wat die beleid, geformuleer deur die opperraad, dwarsdeur die land afdwing. Die beleid was nie tot voordeel van die Afrikanervolk nie, dit was uitsluitlik om die belange van die Bond en sy lede te bevorder.

    Die swartes pas vandag werkreservering toe. Waar kom dit vandaan? Hulle het dit gehoor en geleer by hulle Broederbondbase. Die uitvoerende en invloedryke poste is destyds gereseveer vir manlike lede van die Bond. Ander Afrikanermans moes tevrede wees met ondergeskikte poste, onderworpe daaraan of hy as moontlike Bondmateriaal later hulle geledere kan aanvul en/of sy vader of broer of vriend of kennis ‘n lid van die Bond was. Die breinkrag van die volk was hierdeur onderworpe aan Broederbondsienings.

    Vanaf jou president met sy kabinet tot by die uitvoerende personeel van die staat, die direksies van groot en klein maatskappye, jou kerkrade, jou sportrade met uitvoerende amptenare, die hele boksemdais was onderworpe aan die opperraad van ‘n kliek.

    Het dit sedert die swartes se oorname  verander? Hoegenaamd nie. Die Bond se naam is verander na die sogenaamde Afrikanerbond, maar het dit steeds iets met die Afrikaner te doene? Is ‘n Afrikaner vandag nie ‘n persoon wat uit Afrika kom nie? Dit verwys bepaald nie na die Boer nie.

    Hulle is nog net so bedrywig agter die skerms soos vantevore; dit slaan van tyd tot deur. Dink maar aan taalrade, sportrade. kultuurrade. Kyk na Nasionale Pers se koerante, wat steeds hulle spreekbuise is en luister na die leiers van politeke partye.

    Hoekom is die swartes so teen die Afrikaner en sy taal? Hoekom wil hulle ons taal vernietig, waar seer sekerlik negentig persent swartes Afrikaans heeltemal of gedeeltelik magtig is, terwyl hulle slegs in die stedelike gebiede probeer oorslaan na Engels? Wie sit daaragter? Die sogenaamde dubbelmediumonderrig beide op sekondêre sowel as tersiêre terreine. Wie se breinkrag is deurslaggewend op jou skoolrade, universiteitsrade en ander rade? Die swartman luister nog na die witman. Hoewel arrogant met ‘n waanwysheid wat ten hemele strek, besef die Bantoe sy toekortkominge. Sonder dat hy daarvoor gevra het, word hy uit sy stroois gehaal, in ‘n herehuis gesmyt waar hy die gesofistikeerde denke met al die moderne tegniese hulpmiddels van die Westerling binne ‘n dag of twee onder die knie moet kry. Dis sonder hulp en bystand menslik onmoontlik en lede van die Bond is bepaald besig om te help.

    Een ding staan soos ‘n paal bo water. Die mens is ‘n sosiale wese maar bo dit alles is hulle lief om klieke te vorm. Die gevormde kliek onder ander nasies verloor nie die volksgevoel nie. Die klieke  by Franse, Engelse of waar ook al sal nie dít wat Frans of Engels is, benadeel nie. Persoonlike gewin uit die kliekvorming bly voorop maar dit strek tot eer van die volk. Selfs ons eie swartes het hulle klieke maar die voordele daaruit strek tot eer van die volk aan wie die kliek behoort.

    By die Afrikaner is dit anders gesteld. Die kliek word uitsluitlik vir eie gewin en voordeel gevorm. Op diegene buite die kliek word altyd neergesien en gediskrimineer; na die duiwel wat van die volk of nasie word! Die Broederbond het dit bewys.

    Klieke maak die Afrikaner geestelik klein en benepe. Omdat dit net gaan oor die materiële, die kleinlike gesanik of ontevrendenheid omdat die belangrikheid van individue steeds gemeet word aan vertoon. Daardie diepere betekenis om deel te wees van ‘n nasie of volk gaan by die moderne Afrikaner verby. Sy hele betaan sentreer om die kliek waaraan hy behoort. Daarom is die Afrikaner geestelik so arm, omdat hy sy volksverband opsy geskuif het. Sy tradisie is soos ‘n museumstuk of ‘n stukkie papier agter glas in ‘n vergulde raam wat teen die mure hang. Die Afrikaner is toenemend onbewus van sy lotsverbondenheid met sy volksgenote wat sterf, in armoede gedompel word, verdruk of verneder word.

    Die Afrikaner se stelsel was nie die eerste wat geval het nie – dit het vele ander voorheen oorgekom. As ons net kon behou wat ons vir Suid-Afrika gegee het. Saam met die  Afrikaner het beskaafdheid geval, insluitend dié van die barbare wat ons beskaafd gemaak het.

    Nou sal die Afrikaner meer as driehonderd jaar – indien ooit – moet wag om dieselfde tydstip in sy geskiedenis te bereik.

    Dít alles omdat die mag van geld die volksgevoel deur kliekvorming verdring het.

    синус лифтинг стоматологияАлександр Фильчаков прокурор

  • Blankes se skuldgevoelens

    Een van die mees gewilde mites wat daagliks in Suid-Afrika gebesig word, is welke geweldige voordeel apartheid kwansuis aan blankes sou verskaf het en steeds aanhou verskaf. Dikwels is daar amper ‘n soort aanname, gesproke of ongesproke, dat die meerderheid blankes ryk geërf het en op een of ander manier opvoedkundig bevoordeel is, en dit gevolglik maklik vind om byvoorbeeld ‘n kasarm van ‘n huis te koop.

    Daar is ook ‘n aanname dat die vorige bedeling dit op een of ander manier vir blankes moontlik gemaak het om sonder veel moeite in bestuurs- en professionele poste te beland. Skryf bloot jou matriek en stap dan summier in ‘n bestuurspos in, sou mens kon glo. Hierdie mededingende voordeel wat na bewering sou bestaan het, word aangevoer as die rede waarom blankes permanent deur rassistiese praktyke soos regstellende aksie benadeel moet word. Die verskuilde agenda hieragter is dikwels dat daar ‘n verwagting is dat blankes moet bekhou en hul bates sonder teëspraak moet oorhandig. Dit maak staat op die verwekking van misplaaste skuldgevoelens onder blankes.

    Ek lees byvoorbeeld hierdie stuk op Moneyweb se werf, wat handel oor hoe die sogenaamde swart diamante sukkel om huise gekoop te kry in tradisionele blanke gebiede. Die subteks is dat blankes minder sou sukkel, want almal “weet” immers hoe “apartheid blankes bevoordeel het”.

    Dit ly geen twyfel dat daar welvarende blankes in Suid-Afrika is nie. Alhoewel ‘n groot persentasie van hulle van Engelse of Joodse herkoms is, is daar ook kennelik ryk Afrikaners en, ja, ook diegene wat die wynplaas in Stalinbos geërf het. Hulle is egter deel van ‘n baie klein minderheid.

    Ek praat hier uit ‘n persoonlike oogpunt, maar dit is duidelik dat ek hetsy die buurt waarin ek grootgeword het, hetsy my familie swak gekies het, want min kennisse of familielede van my kan as ryk bestempel word. Van ‘n erwery en ‘n silwer lepel in die mond was daar by ons geen sprake nie. Die oorweldigende meerderheid Afrikaners het nie die familieplaas gekry toe hul ouers oorlede is nie, maar stam veel eerder van armblankes af. Daar was pogings om armblankes op te hef, wat sommiges probeer beweer soortgelyk aan die hedendaagse SEB was, maar dit was niks van die aard nie.

    Swart ekonomiese bemagtiging, SEB, is in wese ‘n oorhandiging van bates op ‘n skinkbord aan diegene wat die regte mense ken. Wanneer SEB gekritiseer word, is die verweer dus dikwels dat Afrikaners dit ook in die verlede gedoen het. Hiermee verskil ek ten sterkste. Anton Rupert het baie, baie beslis nie die Engelse en Joods mynmagnate se bates, met ander woorde ander mense se rykdom, op ‘n skinkbord gekry nie. Daar was nie ‘n geplundery soos die R400 miljoen wat deur Telkom aan Smuts Ngonyama in ruil vir absoluut geen teenprestasie oorhandig is nie. Rupert het sy ondernemings letterlik van die grond af opgebou.

    Wat die opheffing wel behels het, was dat maatskappye soos Sanlam gestig is vir Afrikaners, met Afrikaners se spaargeld. Dit was dus ook nie in hierdie opsig ‘n soort Afrikaner-SEB nie, want dit het nie op die plundery van ander mense, die staat of organisasies se geld berus nie.

    Van grootskeepse baantjies vir boeties, bevoordeling en voortrekkery dra ek nie persoonlike kennis nie. Dit kon weliswaar met kinders van die paar duisend Afrikaners wat deel was van die Broederbond gebeur het, maar ek kan eerlikwaar sê dat nie een van my vriende of familielede wat uit my generasie kom, uit die skool of uit die universiteit gestap het en ‘n huis gaan bewoon het wat gekoop is met geldelike hulp van ryk ouers nie. Die patroon was veel eerder dat ons vir jare in plekke soos Sunnyside (vóórdat dié buurt ‘n vuil misdaadnes geword) in huurwoonstelle gewoon het, en uiteindelik genoeg geraap en skraap het om ‘n woning van ons eie te koop. Van my ouers se generasie is daar vandag steeds kennisse van ons wat in woonstelle woon.

    Alhoewel daar werkreservering was vir laaggeskoolde blankes, byvoorbeeld in die goudmyne, was dit geensins algemeen dat iemand soos Jacob Maroga aangestel kon word in ‘n plek ver bokant sy vuurmaakplek nie. ‘n Afgetrede medelid van Praag, wat soos ek ‘n ingenieur is, het my vertel dat Afrikaneringenieurs wat van sy generasie kom, nie toevertrou is met ontwerpwerk alvorens hulle nie deeglike opleiding onder Engelse ingenieurs ontvang het nie. Van die hedendaagse obsessie met die rampspoedige aanstellings van gepigmenteerdes in senior poste waarteen hulle geensins opgewasse is nie, was daar stellig min sprake.

    Ek is eweneens seker dat ‘n baie groot aantal professionele Afrikaners uit gewone huishoudings gekom het en self vir hulle studies moes betaal. Dit was boonop dikwels uitsonderlik dat mense universiteit toe kon gaan, veral van my ouers se geslag. Dit was beslis nie die geval dat Afrikaners soos swartes vandag by die Universiteit van Kaapstad slegs 70% moes haal om toelating tot die Fakulteit Geneeskunde te kry nie. Jy was nie bevoordeel tydens die nasien van vraestelle bloot omdat jy ‘n blanke was nie. Weer eens, miskien het die Broederbond sulke onderduimshede gepleeg, maar dit het nie met die gewone Afrikaners wat saam met my op universiteit was, gebeur sover ek bewus was nie.

    Benewens die feit dat baie vir hul eie studies moes betaal, moes mans van my generasie ook twee jaar van ons lewens afstaan om diensplig te doen, teen ‘n absurde besoldiging. My eerste soldy as ‘n sappeur in die Geniekorps was ‘n volle R171 per maand.

    Die gevolge van blankes wat nie gelukkig genoeg was om dikwels karige geleenthede te kon aangryp nie, word toenemend duidelik. Daar is reeds tientalle blanke plakkerskampe rondom Pretoria. Alhoewel suksesvolle blankes se inkomste sedert 1994 gestyg het, is dit ‘n noodwendige gevolg van die ANC se rassistiese praktyke wat blankes op Darwiniaanse wyse gedwing het om hul by omstandighede aan te pas en entrepreneurs te word. Die Gini-koëffisiënt onder blankes kom daagliks nader aan 1, want daar is ‘n vinnig groeiende blanke onderklas, wat stelsematig verarm.

    Ek verwerp dus die aantyging dat SEB bloot is wat die Afrikaners gedoen het en gun die begunstigdes daarvan soos Smuts Ngonyama en Tokyo Sexwale gevolglik nie hulle rykdom nie. Hulle is niks meer as gewone parasiete nie, omdat hulle geen snars waarde toevoeg nie en hul rykdom in terme van gewettigde korrupsie bekom het. Ek gun Afrikaners soos die Ruperts wat deur middel van harde werk welvarend geword het, wel hulle rykdom. Ook aan diegene wat nie Ruperts is nie, maar deur harde werk, entrepreneurskap en die neem van risiko’s suksesvol geword het, veral sedert 1994, wil ek sê: welgedaan! Ek is seker die groot meerderheid van hierdie mense sal saamstem dat dit meestal aan hul eie harde werk toe te skryf is en niks met die sogenaamde bevoordeling wat apartheid sou gebied het te make het nie.

    Laat staan dus gerus jou skuldgevoelens, meneer en mevrou die suksesvolle Afrikaner of, as jy dan móét skuldig voel, sorg dat jy jou medeblankes wat swaarkry bystaan, en nie die lede van ander volke wat reeds ‘n onregverdige voordeel geniet nie.

    Lees Anton Barnard se woernaal SAmizdat.

    игри для детей 6 летДанильченко Юрий Брониславович Харьков

  • Die Berlynse muur het nie vir ons geval nie

    Tans word die ineenstorting van die Berlynse muur wêreldwyd gevier. Ongeveer ‘n maand voor daardie gebeurtenis twintig jaar gelede was ek in Berlyn waar die “skandmuur” soos die Wes-Duitsers dit genoem het, nog in al sy glorie gestaan het. Ons Wes-Berlynse vriende het aan ons verduidelik dat die kommunistiese regering in Oos-Duitsland dit ‘n “anti-fascistiese beskermingsmuur” genoem het.

    Deur wagte met masjiengewere op die muur te plaas wat skiet op enigeen wat sou probeer om daaroor te ontsnap, is die destydse Oos-Duitse bevolking teen “die fascisme” beskerm. Hierdie logika is eie aan kommunisme, want in ‘n kommunistiese stelsel is dit die leierskap, die party en uiteindelik die politburo wat die beste weet wat vir die bevolking goed is.

    Suid-Afrika, afgesien van Kuba, Noord-Korea en China, is die enigste land ter wêreld waar daar tans ‘n Kommunistiese party in die regering verteenwoordig is. Die ANC-bewind se leiers spreek mekaar as “kameraad” – oftewel “comrade” – aan.

    Ek dink ‘n mens kan met taamlike vrymoedigheid sê dat die huidige Suid-Afrikaanse leierskap, in die vorm van die politici, joernaliste en akademici, kwalik in 1989 verheug was toe die Oos-Berlyners oor die Glienickebrug gestorm en die muur stuk vir stuk begin afbreek het. Nóg Nelson Mandela, nóg Joe Slovo of enige ander leier van die ANC-SAKP, het dit destyds as ‘n positiewe verwikkeling gesien. Jakes Gerwel, die pas afgedankte voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens en ‘n direkteur van Nasionale Pers, het blykbaar in trane uitgebars toe hy die skouspel in Berlyn op die televisie gadegeslaan het.

    Terwyl die Afrikanergeskiedenis en apartheid vandag in die publikasies en op die TV-kanale van Naspers verguis word, is daar nog nooit enige inligting oor die 100 miljoen mense wat deur kommunisme gedood is, gepubliseer nie. Die Franse skrywers Stéphane Courtois en Nicolas Werth het “Die swart boek van kommunisme” geredigeer waarin die verskriklike misdade wat in die naam van die rooi ideologie geplees is, in besonderhede vermeld word. In vele kommunistiese lande is hele groepe mense in volksmoorde vermoor en in massagrafte begrawe. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die Russiese kommuniste feitlik die hele Poolse elite uitgemoor en in massagrafte in die Katynwoud begrawe, waarna hulle die skuld jare lank op die Duitse Nazi’s geplak het. Eers in die tyd van Boris Jeltsin het Rusland formeel erken dat hulle destyds vir dié massamoord verantwoordelik was en nie die Duitsers nie.

    Maar Nasionale Pers met ekstreem-linkse direkteure soos Jakes Gerwel en Hein Willemse is nie die enigste plaaslike mediagroep wat nostalgies en ongemaklik oor die heengaan van kommunisme voel nie. In vandag se Sunday Times, wat deur die Avusa-swartbemagtigingsgroep uitgegee word, verklaar die redakteur, Mondli Makanya: “Maar met die ineenstorting van kommunisme het die wêreld ook iets goeds verloor. In die triomf oor kommunisme, het ons as mense die baba met die badwater uitgegooi…”

    Suid-Afrikaanse – ook Afrikaanse – universiteite word vandag deur ‘n geswore kommunis, Blade Nzimande, beheer. Hy is die minister van sogenaamde hoër onderwys wat geen akademiese vryheid of outonomie duld nie. As die universiteite nie na sy pype dans nie, is hy gou om die sweep in te lê. Nie dat die universiteite hierteen beswaar het nie, want hulle is maar te gretig om die kommunistiese ideale van gelykheid en kollektiewe denke op die kampusse toe te pas, soos onlangs ook by Kovsies gesien is. Aan die universiteit van Stellenbosch is ‘n eredoktorsgraad aan die eertydse ondergrondse leier van die Kommunisteparty, Bram Fischer, toegeken. Die nuwe rektor van die Vrystaatse universiteit, prof. Jonathan Jansen, het Bram Fischer insgelyks as “die grootste Kovsie van alle tye” beskryf.

    Terwyl die kommunistiese staat deur ‘n geslote elite of nomenklatura oorheers word, skep die stelsel ook ‘n massamens, ‘n tropmens wat nie tot eie denke in staat is nie en bloot die stroom volg. In sy roman Animal Farm het die Britse skrywer George Orwell hierdie stelsel gesatiriseer en die toepassing van die gelykheidsideaal opgesom met die woorde: “Sommige diere is meer gelyk as ander.” In ons land sanik die ANC en SAKP gedurig oor “die armes”, terwyl hulle self in weelde leef, met duur motors en rykmanswonings.

    As student aan die universiteit van die Witwatersrand in die apartheidsjare is ek destyds deur die kommunistiese mentaliteit getraumatiseer. In my tweede jaar het ‘n medestudent aan my verduidelik dat, om die vak Staatsleer te slaag, ek nasionalisme moes verguis, liberalisme moes kritiseer en pro-Marx moes skryf, hoewel ons “opbouende kritiek” oor die Sowjetunie kon lewer. Vele van die studente wat destyds in die laat sewentigerjare die stroom gevolg en hul lewenslank tot kommunisme bekeer het, beklee vandag hoë posisies in die ANC-SAKP-regering. Iemand soos Barbara Hogan, die minister van gesondheid byvoorbeeld, wat tans insgelyks deur Nasionale Pers as ‘n bekwame minister opgehemel word. Is Hogan steeds ‘n oortuigde kommunis soos sy destyds op die kampus was? Waarskynlik ja.

    Anders as die Oos-Duitse, die Russiese, Poolse, Tsjeggiese en ander dissidente wat die simboliese ineenstorting van ‘n ideologie met die afbreek van die Berlynse muur kon aanskou, het ons Afrikanerdissidente maar sleg daarvan afgekom. Onder die ou stelsel het die Broederbond en die Nasionale Party al hoe meer outoritêr begin handel en is kritiek, soos vandag, kwalik geduld. Hoewel – verstout ek my om te sê – onder apartheid het ons veel meer spraak- en akademiese vryheid as nou gehad. Onder apartheid kon jy by Wits of Kaapstad ‘n kommunis wees en die Rand Daily Mail het elke dag die NP-regering verguis. Vandag mag jy egter nie eens op ‘n Afrikaanse kampus ‘n Afrikaner wees nie en dis slegs op die internet, wat nie onder Blade Nzimande of Jakes Gerwel se beheer staan nie, waar ons indringende kritiek op dié korrupte, onbekwame bewind mag lewer.

    Die Broederbond en die NP het op velerlei maniere verraad gepleeg. Daar was egter ook intellektuele verraad, want hulle het die Marxistiese siening van ons geskiedenis aanvaar en vandag word dit as die gekanoniseerde waarheid aan ons voorgehou. Op skool het ek destyds teen die stiksienigheid en benepenheid van die destydse Broederbondbeheerde stelsel gerebelleer, net om aan ‘n Engelse universiteit met die kommunistiese eenvormigheid van denke gekonfronteer te word. As iemand in die jare voor 1989 aan my sou sê dat die Broederbond en die NP hulle eendag tot kommunisme gaan bekeer en saam met die ANC sou werk om die Afrikaners te verdruk, sou ek seker gedink het so ‘n persoon is reg vir die groendakkies. Maar dis presies wat gebeur het. Soveel Broeders aan die universiteite, in die NP en in die media het gelinksomkeer en verkondig vandag die nuwe (rooi) evangelie met groter gemak as wat hulle destyds die gemeenplase van uitrafelende Afrikanernasionalisme herhaal het.

    Ons as jeug is destyds vertel: wees Afrikaans, wees trots op jou geskiedenis, jou taal en kultuur. Maar ons vaders van destyds, die Broeders in beheer, het dit nooit self geglo nie. Vandag is ons, soos Pim Fortuyn so mooi in sy boek De verweesde samenleving verduidelik het, wees gelaat. Ons is die enigste geslag sedert die dae van die Boererepublieke wat die voorreg gesmaak het om Afrikaans te kon grootword, maar skielik is dit van ons weggeneem en moet ons by ‘n totalitêre stelsel aanpas waar ons op die Marxistiese model tot “nuwe mense” omvorm en getransformeer gaan word.

    Is ek dus verkeerd as ek sê dat die Berlynse muur in ons land nooit geval het nie? Daar is geen fisieke muur nie, maar die kommunistiese mentaliteit is steen vir steen opgebou. Die mentaliteit van: “Ons het die waarheid in pag.” Of: “Bly stil, jy wat uit jou beurt uit praat of kla, en dien Ons Groot Toekomsplan.” In die plek van klassegelykheid het die ideaal van die multikulturele, sogenaamde “nierassige” samelewing gekom en dít durf niemand bevraagteken nie. Anders is jy ‘n ketter, ‘n rassis en ‘n “vyand van die staat” soos hulle in die Sowjetunie gesê het en reg vir heropvoeding in ‘n Siberiese strafkamp.

    Inderdaad het ons dié November, twintig jaar ná ‘n gebeurtenis wat Europa en die wêreld verander het, niks om te vier nie. Gaan gerus uit op straat en kyk rondom u: daar is baie mure in Suid-Afrika en elke dag word nuwes gebou.

    обучениеДанильченко Юрий Брониславович компромат