Johannes Comestor: Twee Afrikaansinstansies ondermyn Afrikaans

Conrad Steenkamp (links) van die Afrikaanse Taalraad (ATR).

Conrad Steenkamp, die voltydse besturende direkteur van die Afrikaanse Taalraad (ATR), het my destyds op LitNet (1.11.2016) uitgedaag om my “uiteenlopende opinies en opvattings” oor die ATR op skrif te stel. Ek het moeite gedoen en met ‘n teks van tien getikte bladsye gereageer. LitNet het verkies om my teks nie te publiseer nie. Op my versoek is die artikel, “Waarom die Afrikaanse Taalraad nie ‘n Afrikaanse taalraad is nie,” op Praag (13.11.2016) gepubliseer. Dan Roodt het Steenkamp destyds gevra om op Praag te reageer maar hy het versuim om dit te doen.

Op LitNet (16 07 2018) het Marnus Kok, ‘n Netwerk24-joernalis van Bloemfontein, geskryf oor ‘n gesprek oor die toekoms van Afrikaans wat hy by die Vrystaatse Kunstefees bygewoon het. Sprekers soos Theuns Eloff en Dever Breda het opgetree, maar Kok het tot die oortuiging gekom dat hierdie gepraat nie Afrikaans se toekoms sou verbeter nie. Hy dink aksie is nodig.

Ek het soos volg gereageer (LitNet 18.07.2018): “Marnus, dit is ironies om te spesifiseer waar begin moet word om mense ten bate van Afrikaans te aktiveer. Eerstens, Afrikaansinstansies soos die ATKV, ATM, ATR, FAK, LitNet en die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns behoort byeen te kom en gesamentlik op ‘n plan van aksie te besluit en dit toe te pas. Tweedens, Afrikaansdosente moet as deel van hierdie plan individueel genader word en versoek word om aktief aan die stryd om die behoud van Afrikaans, insluitende hierdie gesamentlike aksie, deel te neem. Wanneer ek op LitNet en elders ‘n beroep op die genoemde instansies en persone doen om hulle vir Afrikaans en daarby suiwer(der) Afrikaans te beywer, is daar geen reaksie nie. Erger, daar is Afrikaansdosente wat openlik daarop roem dat hulle nie deel van die taalstryd wil wees nie. Met so ‘n gesindheid word Afrikaans kwalik redbaar. Wanneer ek pro-Afrikaans op Netwerk24 reageer, val dit op dat daar meesal geen ondersteunende reaksie is nie. Die apatie/onverskilligheid by Afrikaansinstansies en -dosente het na die Afrikaanssprekende publiek deurgesuur. Eens Afrikaanse universiteite moet geteiken word om tot inkeer te kom wat Afrikaans betref eerder as om hoop op private universiteite met beperkte finansiële middele te vestig.”

Conrad [Steenkamp] het soos volg gereageer (LitNet 29.07.2018): “Johannes, jy noem: “Eerstens, Afrikaansinstansies soos die ATKV, ATM, ATR, FAK, LitNet en die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns behoort byeen te kom en gesamentlik op ‘n plan van aksie te besluit en dit toe te pas.’ Het jy één voorstel vir hierdie ‘plan van aksie’ en hoe dit toegepas kan word?” Steenkamp se reaksie kan as ‘n (neerbuigende) uitdaging vertolk word. Ek het juis op 18 Julie probeer om nie verdere gemeenplasighede kwyt te raak nie en eerder ‘n plan van aksie uit te stippel. Maar soos CJ Langenhoven gesê het: “‘n Halwe begryper het ‘n goeie woord nodig.”

Ek het toe ‘n artikel van vier bladsye onder die opskrif, “‘n Manifes vir Afrikaans,” geskryf en op 1 Augustus na LitNet vir publikasie gestuur. Omdat ek reeds jare lank eerstehandse ervaring van LitNet se voorliefde vir sensuur het (enigiets wat nie polities korrek genoeg is nie, word sonder verduideliking geïgnoreer), het ek op dieselfde dag hierdie artikel ook direk aan Steenkamp gestuur. Voorspelbaar het LitNet nie my artikel gepubliseer nie en soos gebruiklik geen verduideliking verskaf nie. Seker net so voorspelbaar is dat daar geen reaksie van Steenkamp was nie; nie eens die beleefdheid van ontvangserkenning nie.

Die geskiedenis van 2016 het hom pas herhaal: (1) Steenkamp daag my op LitNet uit om my standpunt te stel. (2) Ek doen dit. (3) LitNet weier om my teks te publiseer. (4) Steenkamp word ‘n ander kanaal vir reaksie gebied maar hy versuim om daarvan gebruik te maak. Wat skandalig is, is dat die indruk op LitNet gewek word dat ek nie in staat is om op Steenkamp se uitdagings te reageer nie, terwyl die teenoorgestelde die geval is: dat Steenkamp nie op my omvattende reaksies kan of wil reageer nie. Ek dink dit is gewoon ‘n skande dat twee Afrikaansinstansies, LitNet en die ATR, saamspan om Afrikaans te ondermyn.

LitNet is die hoofplatform vir die propagering van die brouseltaal Kaaps en duld gevolglik geen pleidooi vir suiwer(der) Afrikaans op sy webwerf nie. Ton Vosloo het dit reeds in die aanloop tot die stigting van die ATR in 2008 duidelik gemaak dat dit vir die ATR in die eerste plek nie om die bevordering van Afrikaans gaan nie, maar om ‘n politieke doel, naamlik versoening. Soos in die geval van LitNet word Kaaps eerder as Standaardafrikaans bevorder. Wat bygevoeg moet word, is dat sowel LitNet as die ATR vir hulle voortbestaan van die finansiële ondersteuning van Naspers/Media24 afhanklik is. Die tragedie is dat suiwer(der) Afrikaans gevolglik nie deur hierdie twee Afrikaansinstansies (daadwerklik) ondersteun word nie. Geldsug bestendig sodoende die ondergang van ordentlike Afrikaans. Afrikaans as ‘n taal wat duidelik van Engels onderskeibaar is, is besig om in sy swernoot te gaan.

Met die uitsondering van ‘n enkele sin (wat te make het met die vertraging van my reaksie en wat dus nie meer ter sake is nie) bestaan die res van hierdie artikel uit ‘n woordelikse aanhaling van my artikel wat op 1 Augustus aan LitNet gestuur is.

‘n Manifes vir Afrikaans

Johannes Comestor

Johan van Wyk het in sy rubriek, Van alle kante (Die Burger, 2.12.2017, p 10), geskryf dat Afrikaans se posisie sedert 1994 “dramaties verswak” het. “Die ironie is dat dit met die hulp en ondersteuning uit Afrikaanse geledere bewerkstellig is. ‘n Nog groter ironie is dat dít wat veronderstel was om Afrikaans lewend te hou, naamlik om dit te praat, nog nooit so morsig soos in die afgelope 23 jaar gedoen is nie … wanneer het ons dan so loslit en so slapgat geword?”

Afrikaans verkeer in ‘n stryd om oorlewing. Diegene vir wie Afrikaans belangrik en erns is, behoort iets daaromtrent te doen. As individu kan ek nie veel vermag nie, al spreek ek my ernstige kommer al meer as twee dekades lank uit … Daarbenewens sukkel ek dikwels om my standpunt gepubliseer te kry. As ek op bv Netwerk24 ‘n pro-Afrikaansbetoog lewer, word dit nie gepubliseer nie of daar is feitlik geen reaksie of ondersteuning nie. Die heil van Afrikaans is nie meer ‘n saak wat voorrang by baie Afrikaanssprekendes geniet nie. My taalgenote is skynbaar siek en sat vir “taalbulle” soos ek.

Daar word verkeerdelik veronderstel dat wat ek skryf nie polities korrek is nie, terwyl ek bloot die belange van Afrikaans hoër as ander oorwegings stel. Iemand soos Denver Breda skryf enkele kere op LitNet oor bv Khoisan-taal en word dan spoedig uitgenooi om sy standpunt by byeenkomste te stel. Die Afrikaans Taalmuseum en -monument (ATM) hou die een byeenkoms na die ander oor bv die invloed van die destydse slawe op Afrikaans omdat die ATM se fokus “tans op die miskende variëteite en geskiedenisse van Afrikaans” is (Michael Jonas, Rapport, Weekliks, 28.01.2018, p 10). Inligting oor Khoisan- en slawe-invloed kan interessant wees, maar hulle invloed op Afrikaans was minimaal en lewer nie ‘n bydrae tot die oorlewingstryd waarin Afrikaans verkeer nie.

As ons werklik begeer dat Afrikaans moet oorleef, is dit noodsaaklik dat die klem op Afrikaans geplaas word en nie op bv versoening, meertaligheid, die voortreflikheid van die koloniale taal Engels as wêreldtaal, die variëteite van Afrikaans, ens, nie. Eerstens behoort daar ‘n onmiskenbare verbintenis tot die bevordering van Afrikaans te wees. Tweedens moet daar ondubbelsinnig duidelikheid verkry word oor watter soort Afrikaans bevorder behoort te word. Dit moet tog sekerlik ‘n Afrikaans wees wat die moeite werd is om voor te stry, ‘n Afrikaans waarop ons trots kan wees, ‘n Afrikaans wat ‘n taal uit eie reg is, dus nie geradbraakte Afrikaans waarin onnodige Engelse woorde in oorvloed aanwesig is nie.

Op LitNet is daar talle voorbeelde van gesprekke wat ek oor die jare met bv Afrikaanstaalkundiges gevoer het. Iedere keer het die gesprek gestuit by dieselfde rubikon, wat my gesprekgenote nie wou oorsteek nie: Dat ‘n veldtog vir taalsuiwerheid gevoer moet word, dat ons die moed van oortuiging moet hê om te sê dat Engelsbesoedelde Afrikaans nie aanvaarbaar is nie. Watter Afrikaansvariant is die geskikste vir bevordering? Daar is klaarblyklik net een, naamlik Standaardafrikaans, wat deurlopend aangepas word en nie uit die lug gegryp is nie maar uit die Afrikaansvariëteite gedistilleer is. Afrikaanstaalkundiges soos Tom McLachlan, jare lank lid van die Taalkommisie, en Willem Botha, die hoofredakteur van die WAT, het hulle al ten gunste van taalsuiwerheid uitgespreek maar hulle van kritiek op Kaaps weerhou.

Die kernprobleem is dat Kaaps ‘n mengsel van Afrikaans en Engels is. Daar word veronderstel dat die meeste bruin mense Kaapssprekers is, dat Kaaps ‘n variant van Afrikaans (eerder as van Engels) is, dat die meeste Afrikaanssprekendes dus bruin is en dat dit vorentoe in toenemende mate die geval gaan wees, gevolglik is die toekoms van Afrikaans deurslaggewend van bruin mense afhanklik en nie van blanke Afrikaanssprekendes nie. Die rede waarom Afrikaanstaalkundiges wegskram van pleidooie vir taalsuiwerheid is klaarblyklik omdat hulle Kaapssprekers nie aanstoot wil gee nie. Daarmee ignoreer hulle die feit dat talle bruin mense naas Kaaps ook uitstekende Standaardafrikaans magtig is. Daar kan ‘n diepgevoelde behoefte by sommige/baie Kaapssprekers wees om suiwer(der) Afrikaans te praat. Dmitri Jegels het tydens navorsing in Manenberg vasgestel dat bruin ouers verlang dat hulle kinders suiwer oftewel Standaardafrikaans en -engels moet praat (Frank Hendricks en Charlyn Dyers, redakteurs, Kaaps in fokus, Stellenbosch: Sun Media, 2016, p 106-107).

Deur op suiwer(der) Afrikaans aan te dring, word sowel blanke as bruin Afrikaanssprekendes oor hulle taalgebruik aangespreek. Kaaps word nie in sy geheel ongewens verklaar nie, maar slegs in soverre dit Engels is en wanneer dit gaan om die soort Afrikaans wat vir eerbare oorlewing wenslik is. Kaapssprekers kan en sal ongetwyfeld voortgaan om hulle mengeltaal ongestoord te praat. As bv Afrikaanstaalkundiges die moed het om taalsuiwerheid te bepleit, sal dit taalhigiëne bevorder. Sowel blanke as bruin Afrikaanssprekendes sal dan hopelik in groter mate poog om Standaardafrikaans te praat, soortgelyk aan die manier waarop hulle sedert 1994 onverminderd Standaardengels probeer praat.

In Nederland is in 2015 ‘n taalmanifes gepubliseer om wal teen verengelsing te gooi (WAM Carstens en EH Raidt, Die storie van Afrikaans, Deel 1: Uit Europa en van Afrika, Pretoria: Pretoria Boekhuis, 2017, p 399, 516). In Suid-Afrika bestaan daar ‘n veel groter gevaar van verengelsing as in Nederland. ‘n Andersoortige manifes vir Afrikaans is nodig, sodat ooreengekom kan word oor wat onder Afrikaans verstaan word en wat gedoen moet word om die voortbestaan van daardie Afrikaans te bevorder. Teen die einde van verlede jaar is so ‘n manifes gepubliseer (Leon Lemmer, ‘n Manifes vir Afrikaans, Praag 8.12.2017), maar dit het min kommentaar ontlok en geen konkrete resultate opgelewer nie.

Omdat die Afrikaansmanifes as ‘n werks- of gespreksdokument gepubliseer is, het ek die vrymoedigheid om dit soos volg aan te pas.

Afrikaansmanifes

Ons as Afrikaanssprekendes verklaar hiermee dat

● ons trots op Afrikaans is

● ons groot waarde aan Afrikaans as volwaardige taal heg

● ons eis dat Afrikaans as amptelike taal tot sy reg kom

● ons Afrikaans oral en altyd gebruik waar en wanneer dit enigsins sinvol is

● ons bereid is om telkens vir Afrikaans in die bres te tree

● ons daarop aandring dat afdoende skool- en naskoolse onderrig in Afrikaans beskikbaar moet wees

● ons Afrikaans so suiwer moontlik hou en gebruik

● ons veral teen die verengelsing van Afrikaans waak

● ons Standaardafrikaans as rigsnoer koester

● ons volhard met die Europees-vastelandse grondslae van Afrikaans

● ons Kaaps, in soverre dit Engels is, nie as ‘n geskikte oorlewingsvorm van Afrikaans beskou nie.

Oor elkeen van hierdie elf items kan daar gedebatteer word. Oor die toepassing van elk kan verduidelikings gegee word. Byvoorbeeld, oor die vierde item kan genoem word dat Afrikaanssprekendes geneig is om hoflikheidshalwe in Engels te antwoord as hulle in Engels aangespreek word, of erger dat baie Afrikaanssprekendes geneig is om vreemdelinge eerder in Engels as in Afrikaans aan te spreek. Myns insiens behoort Afrikaanssprekendes vreemdelinge in Afrikaans aan te spreek en in Afrikaans te antwoord wanneer hulle in Engels aangespreek word en met Afrikaans vol te hou totdat dit duidelik is dat die ander persoon nie Afrikaans verstaan nie. Deur anders op te tree, word by implikasie te kenne gegee dat Engels meerderwaardig is, terwyl daar geen grondige rede is waarom Afrikaans as minderwaardig beskou behoort te word nie.

My plan van aksie, my reddingsboei, vir Afrikaans is dat ‘n Afrikaansinstansie, soos die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, wat seker die omvattendste Afrikaansinstansie is, ‘n Afrikaansmanifes soos die bostaande aan ander Afrikaansinstansies en aan al die Afrikaansdosente of hulle departemente sirkuleer vir aanpassings en kommentaar en hulle dan pols oor die wenslikheid/noodsaaklikheid van ‘n gesamentlike byeenkoms oor die toekoms van Afrikaans, met ‘n veldtog ter bevordering van (groter) taalsuiwerheid as een van die oogmerke. Die ander Afrikaansinstansies hoef nie op die Akademie te wag om die eerste skuif te maak nie. Byvoorbeeld, Conrad Steenkamp van die ATR, of enige van die ander Afrikaansinstansies, kan die bal aan die rol sit deur die (aanvanklike) leiding te neem en daarmee aan te toon dat Afrikaans vir hom erns is.

Na dese behoort die ideaal van inklusiwiteit ten alle koste, bv “Dit maak nie saak hoe jou Afrikaans klink nie,” deur ‘n normgewende beginsel vervang te word, bv “Afrikaans as wesenlik ‘n nie-Engelse taal,” ‘n Afrikaans wat uit eie reg naas Engels kan voortbestaan, dus ‘n Afrikaans wat nie soos Kaaps kennis van Engels veronderstel voordat dit verstaan kan word nie. ‘n Voorspelbare argument waarmee asseblief nie vorendag gekom moet word nie, is dat geen taal suiwer is nie. Dit is duidelik dat ‘n suiwerder Afrikaans moontlik en wensliker is as die geradbraakte Afrikaans waarmee ons daagliks gekonfronteer word. Die status van Afrikaans as ‘n taal uit eie reg, dus as ‘n taal wat duidelik van Engels onderskeibaar is, moet herstel word. Dit is die soort Afrikaans wat Afrikaanssprekendes opnuut trots op hulle taal kan maak en hulle kan aanmoedig om Afrikaans tot in die verre toekoms te handhaaf.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.