praag.co.za

Tag: CJ Langenhoven

  • Suidpunt: Waarom Loeloeraai in Latyn vertaal moet word

    Suidpunt: Waarom Loeloeraai in Latyn vertaal moet word

    Swak joernalistiek betaal goed.

    Ek is vas daarvan oortuig die Suid-Afrikaanse hoofstroommedia en -uitgewerye het ‘n nuwe joernalistieke taktiek ontdek hoe om driedubbeld die geld uit onnosel sukkelaars soos ek en jy te pers: as ons nie op dieselfde aambeeld hamer nie, skep die sensasionele leuen (“vermoede”) en  weerlê dan die leuen. Maar net vinnig genoeg om nie voor die stoel van die Persombudsman gedaag te word nie.

    ‘n Tienling is gebore; ‘n tienling is nie meer gebore nie.

    C.J. Langenhoven het ‘n buite-egtelike kind by Sarah Goldblatt verwek (ag, gee haar die voordeel van die twyfel, sy was ampertjies swanger); C.J. Langenhoven het nie eens ‘n buite-egtelike verhouding gehad nie.

    Die saadjie is geplant, en die laaste regstellende beriggewing sal ten minste nog 5 tot 10 weke sonder rus of duurte op die kringloop bly om “tevergeefs” die leuen in die kiem te probeer smoor. Gelukkig is die koerant nou propvol lettertjies tydens komkommertyd. Dit kon ook nie op ‘n geleëner tyd uitgedink word nie, want die banggat joernaliste met hul dikkerige wolsokkies (ten minste praat ons nie meer van grys en swart skoene nie!) wil nie ‘n poot buitekant die deur waag nie. Dis soggens koud hieronder in die Kaap, weet jy… En Twitter verskaf dan al die nuus! Waarom nog sukkel om uit die bed te klim?

    En die heel lonendste: jy dink, jy glo, nee, jy is hartgrondig oortuig daarvan jy het deur die hele woordegoël iets wyser geword. Al is een minus een gelyk aan nul. En daarom sal jy die pers, so heilig in sy onskuld, bly ondersteun, al sou jy oor drie maande van nou af die storie vergeet. Waarom dit in die eerste plek dan lees? Skattebol, waar het jy die pad byster geraak? Huh?

    Maar anderkant die ewenaar…

    …is daar wel klassieke boeke en tekste waarvan die inhoud egter so goed verouder het, dat hulle deur geesdriftiges in die onsterflike taal verewig word. Dink maar aan die Nederlandse Jip en Janneke (Jippus et Jannica), dis nou hul weergawe van Boet en Saartjie of Sus en Daan; dink aan Antoine de Saint-Exupéry se Die Klein Prinsie (twee vertalings: Regulus en Principulus), aan Dracula’s Guest deur Bram Stoker (‘n kortverhaal wat oorspronklik uit Dracula weggelaat is: Hospes Draculæ), aan Die Hobbit (naamlik Hobbitus ille), aan Alice in Wonderland (Alicia in Terra Mirabili) en Alice deur die spieël (Aliciae per speculum transitus), Winnie-die-Poeh (Winnie ille Pu), en die korpus gedeelde werke word net groter: hier.

    Ons weet van ‘n handjievol tekste wat uit Latyn in Afrikaans vertaal is. Ek vermoed “Elegans et accurata gentis Africanae circa Promontorium Capitis Bonae Spei vulgo Hottentotten nuncupata Descriptio epistolaris” deur De Grevenbroek (1695) kon onder van die eerstes wees. Dit is deur dr.  J.W.G. van Oordt vertaal en gedruk in die Z.A. Tijdschrift, Januarie/Februarie 1886. Toe joernalistiek in Suid-Afrika nog in sy kinderskoene was! Dit is beslis op ‘n manier Kaaps-Hollands, want die woord “padkost” en ander regionalismes kom daarin voor – dit is glad nie so suiwer Nederlands nie.

    Van belang hier is: hoeveel werke in Afrikaans is al in Latyn vertaal? Ek weet werklik nie van een nie, want dan was hy lankal op my boekrak.

    As daar nog nooit een was nie, dan hoop ek van harte Loeloeraai sal die eerste volledige roman wees wat uit Afrikaans in Latyn vertaal word.

    Miskien moet ons slegs by een vraag stilstaan:

    Waarom moet Loeloeraai in Latyn vertaal word?

    1. Prestige

    Bo en behalwe die simboliese waarde wat hierdie werk bykry as gesogte werkie, geniet dit ook aandag in die hoogste literêre kringe as wêreldliteratuur. Op sy beurt draai die koppe ook noodwendig na die oorspronklike werk toe: die Afrikaanse werk. Op sy beurt is dit ‘n pluimpie vir Afrikaans. Diegene wat Latyn magtig is, het gewoonlik ‘n oop gemoed vir ander lewende tale.  Dit is nie soos ‘n werk wat in Engels of Duits vertaal word, en waarvan die leser geen behoefte het om die oorspronklike taal te leer nie. Dink maar aan werke vertaal in Engels wat op die winkelrakke verskyn: het jy werklik die behoefte daaraan gehad om die werk in die oorspronklike taal te lees? Soos Jules Verne se boeke in Frans? Nie so gedink nie.

    Maar by Latyn is anders, omdat mense die tekortkominge van hierdie byna boerse taal ken. Dus sal hul altyd na die oorspronklike taal gaan en tog probeer kyk of daar nie ‘n ander manier is om ‘n komplekse begrip in nog eenvoudiger taal te skryf nie. En juis daarom sal ook die belangstelling in Afrikaans gekweek word. Dis ‘n wen-wen.

    1. Herwaardering (en veral herontdekking) van die eiegoed

    Ook seker maar goed so, want ongelukkig is die Afrikaner besonder laks om sy eie werke te waardeer.

    Maar hier is ‘n praktiese voorbeeld: die prinses agter die preekstoel sal eerder ‘n paar mooi woordjies van uitlanders soos Anne Frank (‘n Hollandse kinderdagboek, verwerk tot Het Achterhuis, hoewel slegs die Engelse vertaling altyd gebruik word…) steel vir haar preek oor lyding, as uit Tant Miem Fischer se Kampdagboek (Mei 1901-1902). Of wat van uit die Russiese Suster Sofia Wladimirowna Izendowa se boek waar die krygers brul van ontsteekte wonde tydens die Tweede Vryheidsoorlog?  Trouens, enige woordjie sou deug uit al die ander kampdagboeke in Afrikaans wat op Bidorbuy tog net stof vergader!

    Lyding bestaan seker nie in Suid-Afrika nie. Dis nou die Suid-Afrika waarteen Amerikaners gewaarsku word om tog nie hierheen te kom nie:

    Violent crime, such as armed robbery, rape, carjacking, mugging, and “smash-and-grab” attacks on vehicles, is common. There is a higher risk of violent crime in the central business districts of major cities after dark.

    Demonstrations, protests, and strikes occur frequently. These can develop quickly without prior notification, often interrupting traffic, transportation, and other services; such events have the potential to turn violent.

    Kom ons maak die prentjie volledig: die plaasmoorde, die geweld, die vigs, die beurtkrag, die kabeldiefstal, die dronkgat wat haar yskas op Nuwejaar van die agtste verdieping afdonder, die spykers op die pad, broodlorries wat geplunder word, die treine wat nie loop nie, die kapings, die ekshibisionistiese hartstog op straat, die leë toegeslikte damme, die verkragtings, die roof, die bobbejaan in die kombuis by Kommetjie,  die brandstigting (bos- en veldbrande), miljarde wat spoorloos verdwyn, die anargie, die halsnoermoorde, die lang tou by Binnelandse Sake, die gewelddadige betogings, die bloedvergieting op straat, die plunder, die rondloper-beeste op die hoofpad, die donderende doemela-doemela minibustaxi’s wat deur heinings ploeg, die diefstal, die dwelmmisbruik, die muti-moorde, die varkslagting en leegbloei op die straathoek dat die derms en brommers saam met die pap koolblare so hang. O, en die seemeeue wat stuiptrek met plastiek deur hul maagwand, die warrelwind vullis in die middestad, die kotsmislike walm van riool waardeur kindertjies waad wat voorheen ‘n Olimpiese swembad was, dogters wat vir kamele verkoop word (gee kans, dit kom nog).

    Heimlik droom almal maar om tot op die boonste puntjie van die stronthoop soos ‘n bolwurm deur te druk en uit te beur. Vir ‘n bietjie skoon, vars, lug en sonskyn…

    Maar nee, hier is nie lyding nie. Nie in Johannesburg, of op die Kaapse Vlakte nie. Nie eens Tant Stienie weet meer hoe om behoorlik te suffer nie. Ons het in die Reënboogland mos niks om oor te kommer of kla nie – maar die Tweede Wêreldoorlog, haai foeitog! Daar was nie seep nie. Verskriklik.

    Ironies, want die ekoloog en paleontoloog prof. François du Randt, verbonde aan die Universiteit van Johannesburg, voer aan Afrika se diere is besonder aggressief en van nature wantrouig teenoor die mens, juis weens die geweld van duisende jare gelede (tot op hede!) wat ‘n blywende indruk op die diere-psige gelaat het. [Waarom jagluiperds egter so bedees, skugter en grootoog saam met 16-jarige bakvissies vir ‘n selfie knipoog, weet nugter; maar dis seker wat genetiese inteling aan die diereryk doen.]

    En, voeg die professor by, dit is nié die Europeërs wat Afrika kom koloniseer het, en die geweld en lyding losgelaat het op die kontinent nie; dis Afrika wat die wêreld in die oertyd gaan gekoloniseer het! En nog nooit om verskoning daarvoor gevra het nie.

    Hoe dieper mens in die geskiedenis van Afrika ingrawe, hoe skokkender die werklikheid.

    Maar wag, hier is die transkripsie, uit die Radio Sonder Grense-potgooi “Wolf, wolf hoe laat is dit?” gedateer 29 Junie 2021 (luister vanaf  7 minute en 29 sekondes). Ek sou verkies dat jy die potgooi self luister om die stemintonasies en emosie aan te hoor.

    Mej. Amore Bekker (omroepster vir RSG): François, ek wil ook by jou weet: as alle mense uit Afrika kom, hoekom is die vasteland Afrika dan nou juis nog so onderontwikkeld?

    Prof. dr. François du Randt (paleontoloog):  Man, weet jy, dis maar hierdie oerwoude. Jy weet, as jy in ‘n oerwoud leef en alles groei daar in die boom, hoef jou nou nie rêrig ‘n ploeg te ontdek om ‘n vrug te maak nie [jy weet, wat jy aan die boom hang nie].

    A.B.: Hmm-hmm.

    F.d.R.: So, die mens se tegnologie – as jy kyk na die grootste tegnologiese innovasies wat plaasvind, vind dit tydens oorloë plaas. Jy weet, die Tweede Wêreldoorlog begin die ouens met hierdie klein, dubbelvlerkvliegtuigies, en hulle eindig in die oorlog met die eerste spuitstraalmotorvliegtuie, nè? En dis ‘n kwessie van 10 jaar wat dit van die een na die ander hoek, en ons eindig met atoombomme, binne in ‘n kwessie van eintlik minder as 10 jaar. So, nee, dit is negatiwiteit en oorloë en

    A.B.: Hmmm. Goed.

    F.d.R.:  kompetisie dryf tegnologiese innovasie. Dit wys net Afrika was eintlik ‘n baie vreedsame plek gewees en die mense was nie so bedreig gewees nie. Maar onthou net, onthou net, Egipte is deel van Afrika, hoor. Laat ons nie dit vergeet nie.

    A.B.: Ja.

    F.d.R.: Jy weet, en daar was ‘n klomp goed wat in Egipte gebeur het, jy weet, soos piramides en goed en skrif en allerhande dinge en dis net langs, natuurlik, die Midde-Ooste, wat jy nou kan argumenteer miskien ‘n deel van Asië is, maar eintlik het dit meer te doen met Noord-Afrika, jy weet, en die kultuurinvloed tussen die twee as wat dit met Eurasië te doen het. So, in elk geval, die groot morele punt wat ek hier gaan maak vandag is dat die mens, eerstens uit Afrika uit kom, die res van die wêreld inval, spesifiek Eurasië eerste, en dan die Amerikas en Australië en so versprei ons dan oor die aarde. Maar in die proses maak ons al die ander mens-agtiges dood. Dit sluit Neanderthal in, dit sluit in uiteindelik die laaste groepie van Homo erectus daar in Suidoos-Asië in, en ons neem die wêreld oor. Maar nie net dit nie. Ons maak… geweldig baie spesies wis ons uit. Nou, okei, dit het al begin hierso met Homo erectus. Homo erectus het al klaar ‘n impak gehad op grotbere en op mammoete en so aan. Maar ons het hierdie hele uitwissingsproses vervolmaak, kan ‘n mens dit stel. Want, en dit is iets wat mense nie dikwels aan dink nie, die mens is ‘n indringerspesie in alle kontinente buiten Afrika.  Die mens is veronderstel net om in Afrika te leef.

    A.B. (byna onhoorbaar): Wow.

    F.d.R.:  Ons het hier geëvolueer. En die organismes het saam met ons geëvolueer. Dit is hoekom, as jy dink jy gaan ‘n olifant steek met ‘n spies,

    A.B.: Hm.

    F.d.R.:  gaan jy sleg tweede kom. Maar as jy nou in Eurasië ingaan, het daai arme mammoet nog nooit ‘n mens gesien nie en dis baie maklik om tot naby hom, by hom te kom en hom te steek met ‘n spies en hom dan dus uit te wis. Dit is hoekom ons so baie suksesvol al daai spesies in die oertyd uitgewis het in alle lande, al die ander kontinente, maar nie in Afrika nie. In Afrika het ons net sterker en kwaaier goeters geteel deurdat hulle saam met ons geëvolueer het. En ons het al die naïewes gou-gou doodgemaak en die ouens wat rêrig moerig was het agtergebly. Jy weet, kyk maar na renosters en goed. As jy – jy gaan mos nie ‘n ding steek met ‘n spies – ‘n renoster steek met ‘n spies nie? Maar dit is wat die ouens gedoen het in Eurasië; daar het hulle die wollerige renosters almal uitgewis. So, dit is vir my altyd ‘n ding, wat, jy weet, as ons kyk na mense se arrogansie en hulle houdinkie oor die lewe en veral rassisme en alles – min mense, of daar’s baie mense wat nie wil hoor – dat ons uit Afrika gekom het nie. Want, die eerste ding wat hulle vir jou vra:  “As ons uit Suid-Afrika gekom het, was ons dan swart?” Natuurlik was ons swart gewees! Wit is ‘n aanpassing spesiaal vir die Ystydperk in die Noordelike Halfrond, sodat ons Vitamine D in ons velle kan vorm. Wat is die groot issue met of jy nou swart of wit is? Dit het niks te doen met niks nie. En onthou net, nog ‘n ding is as ons skelette opgrawe kan jy nie die velkleur sien van daai skelet nie. So, as jy byvoorbeeld ‘n Indiër op ‘n disseksietafel sit, en langs ‘n Wikingskelet op die ander disseksietafel, kan jy nie die verskil in die skelette sien nie. Terwyl die een wit is en die ander swart is. Dit het niks te doen met niks nie. Die rede hoekom mense verskillende velkleure het is natuurlik omdat hulle op ‘n sekere breedtegraad leef, en dus weerstand teen die son moet hê. So as jy ‘n ligte vel het en op die ekwator leef, gaan jy velkanker kry. Dis so eenvoudig soos dit. Maar as jy ‘n swart vel het en in Eurasië moet bly, gaan jy doodgaan van ragitis, of ten minste, jy gaan probleme optel met beengroei. En die Sabeltandtier gaan jou opvreet.

    A.B.: Sjoe! François, so die mense [ekskuus gou], ons was swart, en toe gaan ons na Europa toe, hoe lank dink jy het dit geneem vir die vel om aan te pas?

    F.d.R.:  Generasies. Onthou, onthou – die mense vlieg nie soontoe nie, nè, hulle loop soontoe.

    A.B.: (met humor) Ja, ek weet!

    F.d.R.: En so oor generasies heen, so, en natuurlike seleksie [sou] die ouens met die ligte velle geselekteer het. Maar onthou, jy kry ragitis, beengroeideformasie en jy sien dit eintlik selfs in die Neanderthal, nè.  Daar [was] van hierdie individue wat ragitis gehad het, want hulle velle was te donker in sekere gebiede vir daardie klimaattoestande. Onthou, in ‘n ystydperk is dit bewolk, nè. Die son skyn nie, en as jy uitgaan in daai ys dan trek jy nou maar ‘n lekker paar beervelle aan, en net jou neus steek uit. So, hoeveel Vitamine D dink jy gaan jy vorm? Nie baie nie. So natuurlike seleksie het vir ligter en ligter velle geselekteer. Dis hoekom beide die Europeërs en die Asiate ligvellig is, sodat hulle maksimum hoeveelheid Vitamine D kan vorm. Onder lae ligomstandighede. En dis hoe ons lig… wit velle geword het. Nie deur een of ander vreemde ingryping of ‘n wonderwerk of ‘n ding nie. So, uhm… Maar nou wil ek graag hê mense moet ‘n bietjie dink aan hierdie hele kwessie van kolonialisme wat so groot is vandag. Europeërs moet nou vir almal jammer sê dat hulle nou in hulle lande leef en allerhande goed soos dit. “Ons moet dekoloniseer” en dié dinge… Maar weet jy wat? Dis eintlik Afrika wat die res van die wêreld ingeval het. En ek hoor nie Afrika verskoning maak daarvoor nie, nè?

    A.B.: Hm.

    F.d.R.: En al hulle diertjies doodgemaak ook. En niemand sê jammer uit Afrika daaroor nie.

    A.B.: Jislaaik, maar jy praat nou van miljoene jare gelede,

    F.d.R.: […]

    A.B.: duisende jare?

    F.d.R.: Nee-nee, duisende jare terug. So, is daar tydperke op hierdie verskoningvraery nou?

    A.B.: (lag)

    F.d.R.: Ek weet nie, nou maar jy weet, as hulle wil dekoloniseer – onthou net, dit is… as jy kyk net na mielies, nè. Onthou, mielies kom van Meso-Amerika. En dit was gevat van Middel-Amerika na  Europa toe deur die Spaanse kolonialiste. En dit was daar gekweek en toe van daar af is dit toe versprei na die res van die wêreld.  Ons mielies in Suid-Afrika kom van die Britse setlaars wat hier gebly het. Weet jy, dit is een van die goed wat mens nie weet nie. As jy kyk na die Groot Trek: daardie ouens het by Winburg en plekke gekamp vir lang tye om koring te plant. En te wag dat die oes… dat die koring moet opkom, sodat hulle kan oes sodat hulle kan verder trek – hulle het nie mielies geplant nie! Jy weet, as jy dink nou aan Sarie Marais en die ou, aan die Groen Koringlande, nè, dit was daarná wat die mielies ingekom het. Maar vir eerste was dit koring gewees wat die Hollanders ingebring het. Dit was die Britse setlaars wat mielies ingebring het. En dis nou deel van Afrika se… ek meen dis seker die hoofkostipe in Afrika. So laat ons nou nie rêrig altyd net sê, jy weet, “julle vieslike koloniste!” nie, want, netnou vat hulle hul kos saam.

    A.B.: (lag)

    [Afsluiting begin]

    Op een puntjie wil ek kritiek lewer, dit is op “So, nee, dit is negatiwiteit en oorloë en kompetisie dryf tegnologiese innovasie. Dit wys net Afrika was eintlik ‘n baie vreedsame plek gewees en die mense was nie so bedreig gewees nie.”

    My antwoord: Nee. Nie altyd nie. Gedenk maar al die kultuurskatte wat in Dresden, Duitsland, in Maart 1945 vernietig is. Deur ons liewe Geallieerdes wat te veel op ‘n voetstuk geplaas is. Dit is 1500 jaar se kuns en vernuf wat binne ‘n ommesientjie in sy kanon is. Daar is trouens ‘n hele boek geskryf getiteld Charakterwäsche: Die Re-education der Deutschen und ihre bleibenden Auswirkungen  deur Caspar von Schrenck-Notzing, wat verduidelik hoe die Duitsers direk daarna op skool “gerehabiliteer” en “veramerikaniseer” is (Goddank is die Oostenrykers dit gespaar!), maar dit laat ek vir eendag.

    Nou terug na Afrika: As jy heeltyd op die vlug moet slaan vir stamgevegte, jou hut wat môre afgebrand kan word, jou vee wat gesteel word, jou kinders wat voor die voet afgemaai word, hoe kan jy museums en katedrale, of trouens, enige kulturele werk van blywende waarde lewer? Watwou nog landbou, fabriekswese en ‘n gesofistikeerde bankwese opbou as jy voortdurend moet vlug? Wie en wat waarborg jou vryheid en veiligheid? Alles wat nodig is om ‘n supertegnologiese bedryf aan die brand te skop? Dit gaan nie oor die mango wat sommer uit die lug in jou skoot val nie, maar die machette wat deur jou hart steek.  Jy moet hol dat jy klein word. Anders sal jy soos Nehemia-hulle konstant met ‘n swaard en ‘n troffel in albei hande moet bou. Selfs dan is sukses nog nie gewaarborg nie.

    Oor een punt kan ons wel saamstem: Geweld en lyding het in Afrika begin.

    Dit het trouens Afrika se vernaamste uitvoerproduk geword. Maar toe dr. Dan Roodt iets soortgelyks desjare in sy Rapport-rubriek geskryf het, is hy sonder meer soos ‘n sleg hond daar weggejaag. Omdat hy teen die tydsgees, soos geskep teen die koerante, gesondig het. Dit was immers die sorgelose, “ag-moenie-worry” 2000’s, die grootbekke het nog nie geëmigreer nie, die distopiese fiksie is vir doemprofesieë afgemaak, die internet was nog nie so ‘n bedreiging vir koerante nie, Netflix en Google Play en Amazon Prime en YouTube was nog onbekend (Big Brother het buitendien nog genoeg siele vir DStv ingepalm), en mense het nie veel keuse of ander inligtingsbronne gehad om te raadpleeg nie. O ja, niemand het nog slimfone gehad wat foto’s en video’s vinniger kon lewer as ‘n kameraman nie.  Elke individu op sosiale media het nou ‘n joernalis in eie reg geword. En mense het hul sê begin sê – geen redakteur kon jou brief uit ‘n koerant nou meer hou of woorde sensor nie. Dit sal in elk geval op die internet iewers opgelaai word. Daar was geen beperkte woordaantal meer nie.

    En dit het mense nou anders na die werklikheid laat kyk, en laat sê hoe hulle werklik voel. Soos hierbo.

    Langenhoven se werk handel juis oor hierdie geweld en lyding as tydlose onderwerp, maar daaroor praat ek later in hierdie artikel.

    So, wie kan ‘n beter opinie van lyding hê as Suid-Afrikaners, Dominee?

    As die wêreld daarbuite, eendag, in vervoering raak oor ‘n Suid-Afrikaanse werk – kyk, dan éérs geniet dit mos aandag hier op eie bodem! Dan is dit vir Dominee mos iets gesog! Vir ‘n maand of wat. Miskien beleef die Afrikaanse weergawe selfs ‘n herdruk of twee, nè, Dominee, nè?

    Sal meer mense dus Loeloeraai begin lees as dit eers internasionale prestige geniet?

    1. Latyn is bo tyd verhewe

    Vir my is Latyn dus die goudstandaard, selfs meer gesog as ‘n kanoniserende Hertzogprys, juis omdat jy nie geldelike wins daaraan kan koppel [meer voorraad op die winkelrakke] of vuil politiek wat aan tyd gebonde is nie. My karveel pas buitendien nie in ‘n plaspoeletjie nie, dit vaar saam met die kêkkerende dolfyne die diepsee in.

    Latyn is verhewe bo die geskiedenis. Dit staan trouens enigiemand vry om die werk in Latyn te vertaal, as hy maar net kan. Die werk hoef nie eers wêreldwyd bekend te wees nie – daar is hoeveel Finse werke waarvan ek nog nooit in my lewe gehoor het nie.

    Dit gaan ook liewer oor die blywende, tydlose boodskap wat dwarsdeur die eeue sal weerklink, wat by die tydloosheid van die Klassieke aansluit; dit filter die onnodige fleurigheid van woorde en ander blitsverkopers uit wat mense probeer skok vir ‘n maklike geldjie – “toe myk ‘n stytmint”.

    Dit gaan juis nie oor die toeganklikheid nie. Want ‘n lewende taal sal verouder, die bladsye vergeel, die uitspraak (en dus ook die rym) verander, die betekenisse onder sy mense verander, die woorde word oud, houterig en styf, verloor sy elegansie en begin moeilik verstaanbaar en dubbelsinnig vir die leek lyk. Probeer maar enige skeepsjoernaal uit die 1700’s lees en jou oë rol soos albasters op die tafel rond. Latyn bly egter immerjonk.

    Om sommer dadelik uit Loeloeraai ‘n maklike voorbeeld te haal:

    “Vrykamer” word drie maal aangetref in die roman. Die meeste Afrikaanssprekendes ken egter die ingeburgerde anglisisme, “spaarkamer”. In Latyn kry jy geen sulke letterlike vertaalekwivalente nie: jy sal “gastekamer” moet gebruik, oftewel cubiculum hospitale, wat eintlik baie duideliker is. Ander vertalings sal moontlik minder geslaagd wees, soos viaticum vir “padkos” en “tog-kos”; of rustici vir “Bekvelders”.

    Bowenal soek die moedertaalsprekers wat Latyn leer altyd ‘n nuttige werkie waarmee hulle “lewende Latyn” kan baasraak. Op hulle vlak. Afrikaans het nog altyd in hierdie opsig aan die agterspeen gesuig: eers teen die 1940’s het prof. H.L. Gonin byvoorbeeld handboeke gereed gekry vir die skoolbank. Voorheen moes die kinders hierdie taal deur Engels leer. Later is hierdie Afrikaanse handboeke vereenvoudig, terwyl prof. W.J.G. Lubbe Regslatynboeke vir UNISA geskryf het, met ‘n antwoordeblad by, teen die laat-1970’s en vroeë-1980’s. Daar is ook hoeveel ander kernkursusse vir Latyn in Afrikaans wat ek nie nou hier almal gaan vermeld nie, maar wat ongelukkig sonder die antwoordblad is.

    Maar wat maak taalaanleer lekker? Gaan jy ‘n 8/9-jarige wat Engels leer oordonder met Shakespeare, of met Spot goes to school (Otto gaan skool toe, deur Eric Hill, vertaal in Afrikaans)? En waarmee boei jy ‘n tiener?  ‘n Duitse, Poolse, Franse, Nederlandse, Engelse, Russiese puber hoef maar net hul eie gunstelingstorieboeke uit die kop te leer om dan ewe gemaklik die Latynse woorde raak te lees. Niks hoogdrawend nie.

    Ek gaan reguit wees dat dit juis Loeloeraai in my tweedejaar was wat my teruggelok het na die Afrikaanse wetenskapsfiksie toe. Trouens, terug na die Afrikaanse letterkunde toe. Ek was in 2010 hoegenaamd nie bekend met die volwasse Afrikaanse wetenskapsfiksie nie, want lyste was daardie tyd nog nie so bekend nie. Ek het aangeneem dit stop by tienerboeke.

    1. Goeie veroudering

    Loeloeraai se eerste hardebanduitgawe en eerste druk was in 1923 (Nasionale Pers). Hy beleef teen 1941 sy tiende druk (Nasionale Pers), teen 1956 sy twaalfde druk (Nasionale Pers), en teen 1972 sy negentiende druk (by Tafelberg-Uitgewers). In 1992 word die eerste slapbanduitgawe uitgegee (Tafelberg-Uitgewers) en teen 2007 sy tweede sagtebanduitgawe (Protea Boekhuis).

    1. Geskik vir die akademie, maar ook toeganklik vir Jan Alleman

    Ons moet onthou die boek is voorgeskryf vir die Senior Sertifikaateksamen in 1925 tot 1926. So dit moes literêre waarde daardie tyd gehad het. Reken nou net, hierdie werkie sou jou toelating tot universiteit gee. Ook dr. Catharina Elizabeth Ungerer het in 1983 ‘n uitvoerige analise oor hierdie boekie gelewer in haar proefskrif “Sciencefiction: Problematiek en Perspektief” by die Universiteit van die Oranje-Vrystaat.  Die roman was ook deel van die voorgeskrewe letterkunde vir tweedejaarstudente van die Universiteit van Suid-Afrika in die 2000’s tot middel-2010’s.

    Onder van die resensies staan dr. J. Haantjies s’n uit, wat  in 1930 voel die boek is bedoel vir sowel diegene wat in die “veewagterskraal” is  as die “hoogsgeleerde universiteitsprofessor” (Ungerer, 1983:233).

    En hier kom boul André P. Brink ons uit (Die prosa ná 1900, in: Inleiding tot die Letterkunde, Lindenbergh as redakteur), wat eweneens mal oor die werk is. Ungerer skryf (1983:234-235):

    1980: Dit is betekenisvol dat die gunstigste kommentaar oor Loeloeraai tot dusver kom van die moderne skrywer en kritikus André P. Brink in 1980. Hy verwys na die bonatuurlike wat in fokus kom in Langenhoven se spookstories maar dat dit opvallend is dat dit “hier nie primêr gaan om bonatuurlikheid nie – wél om die natuurlike, die kenmerkend menslike wat juis deur konfrontasies met die ‘onverstaanbare’ blootgelê word. Dit blyk ook uit sy merkwaardige fantasie-roman Loeloeraai (1923) oor die besoek van ‘n astrale wese” […] Brink noem ook dat Loeloeraai geïmponeer mag wees deur die wetenskaplike fiksie van Jules Verne en H.G. Wells, maar dat dit “ ’n eie Suid-Afrikaanse aktualiteit verkry” en ‘n skerp onthulling van mens en samelewing word: “humor en satire is volop, maar daaragter skuil ‘n verhelderende kommentaar op ‘n wêreld wat leef van eie waan.”

    As Brink sê dat die Tweede Taalbeweging ontstaan met die duidelike en openlike doel om die mense te leer lees – dit is die “onverhole motief agter haas al Langenhoven se werk”, geld dit ook ten opsigte van Loeloeraai. Oor Langenhoven se oeuvre beweer Brink dat die skrywer die volk tot lees wil bekeer “maar dan nie net deur gemoedelikheid en vlak intrige nie: want in sy beste werk maak hy inderdaad kuns uit didaktiek en satire, en verryk hy Afrikaans met sy werk wat op verrassende wyse aansluit by vroeë Franse werk – dit skerpte van La Rochefoucauld, die humor van Molière, die intelligente sentimentaliteit van Madame de la Fayette”.

    Wil jy nou meer? Wie bly nog oor om te oortuig? Ek dink die saak is afgehandel.

    1. Is Langenhoven se Afrikaans vertaalde Latyn?

    Dit is geen geheim dat Langenhoven versot was op Latyn nie (hierdie is ‘n voetnota wat ek destyds uit sy outobiografie by die Afrikaanse Wikipedia ingevoeg het):

    En daarby had ek die voordeel dat ek my na hartelus kon verdiep in my lieflingsmedium, die Latynse prosa. Nie alleen het die ou Romeinse juriste ‘n logiese regstelsel opgebou waarvan die politieke staatsinstellings en regsbegrippe en regspleging van die hele Westerse Europese beskawing die erfgenaam is nie. Met hulle rangskikking en terminologie het hulle ‘n doeltreffende taalmasjinerie en gedagtemasjinerie vervaardig waarsonder dit moeilik is om te sien hoe selfs sulke skynbaar opsygaande geestesbedrywighede soos die verskillende natuurkundige vakke ‘n medium van uitdrukking kon gevind het. Al het daardie medium nie Latyns gebly nie dan is hy die toepassing van die Latynse tradisie. Vér afwykendes, soos die Duitser en die Hollander en die Skandinawiër, het van Latyn geleer hoe om hulle eie taal vir intellektuele en wetenskaplike doeleindes bruikbaar te maak. En so, om tot die persoonlike doel terug te kom, het my Latyn my geleer om by die gebruik van eie Afrikaans die regte lyn te vat wat die kortste afstand tussen twee punte is; om oortolligheid en vertroebeling te vermy; om nie tevrede te wees met gesegdes wat niks sê nie; om my toe te lê op noukeurigheid van uitdrukking; om eenvoud en helderheid hartstogtelik ná te streef. In hierdie opsig loop die gees van die Latynse taal met die gees van Afrikaans saam, soos hy saamloop met die gees van die regswetenskap en die natuurwetenskap.

    ‘n Mens vra jou dan tereg af, waarom het Langenhoven nooit sy werke in Latyn vertaal nie? Iemand wat ‘n brief in Latyn aan sy dogter Engela geskryf het (met ‘n Afrikaanse vertaling byderhand), iemand wat hierdie dik Latynse boekdele (net soos Generaal J.B.M. Hertzog) vir plesier verslind het… Dis ‘n verspeelde geleentheid waarmee hy veral vir die Afrikaanse studente of matrikulante ‘n diens van onskatbare waarde kon nagelaat het. Veral dekades later toe Latyn vir voornemende prokureurs sedert 1965 tot 1994 ‘n pligvak sou word, wetlik veranker.

    Of miskien moet ons kyk na hierdie merkwaardige paragraaf wat die karakters op die maan agterlaat het vir toekomstige ruimtevaarders om te ontdek:

    ,,En nou vir die opskrif,” sê ek. ,,Die goud sal hou en die letters sal bly, maar daar is vandag opskrifte van die Kretense wat niemand kan ontsyfer nie. Watter taal sal ek gebruik wat oor honderdduisend jaar nog verstaan en gelees sal kan word?”

    ,,Ons s’n is die jongste, Pappa. Hy sal die langste leef.”

    En toe het ek met my sakmes op die goud uitgesny:

    HIERDIE GEDENKTEKEN

    is hier gelaat deur

    LOELOERAAI van VENUS

    en deur

    STOFFEL en KERNEELS en LENIE

    en ENGELA van die AARDE

    in die 23ste jaar van die 20ste eeu

    van die Christelike Jaartelling

    Gewoonlik is gedenktekens altyd in Latyn geskryf vir toekomstige geslagte, omdat die taal nie sou verouder nie. Wat ons hier sien is Afrikaans wat die rol van Latyn doelbewus oorneem; ‘n taal wat die millennia sal deurstaan. ‘n Mens moet hier onthou dat Afrikaans in 1923 nog nie op die wetboeke was nie; terwyl Latyn in heelwat sektore nog ‘n voorvereiste was, nog heelwat voorregte en nog ‘n hoë aansien in die Britse Ryk (en dwarsoor Europa) geniet het. Ek vermoed dus Langenhoven het bloot sy twee gunstelingtale gelykgestel. Of, dieselfde ewige waarde gegee.

    In Loeloeraai sal jy ten minste twee keer op Latyn afkom, die opvallendste is et praeterea nihil (en niks verder/meer nie) en Cujus est solum, ejus est ad coelumm, ‘n regsterm wat hy self later verduidelik.

    Maar sekere uitdrukkings is duidelik verbloemde Latynse gesegdes, en dit boonop geuiter deur Loeloeraai “uit ‘n ander wêreld”!

    “Deur die harde kastyding na die sterre” (bl. 84) is ‘n byna verbatim-vertaling van “per aspera ad astra” of “per ardua ad astra”. Dieselfde geld vir “deur modder na die berge toe” (bl. 84), wat ‘n soortgelyke vrye vertaling is vir “per aspera ad montem” of selfs “per ardua ad montem” (deur die moeilikheid/steiltes na die berge).

    En ‘n rukkie later herhaal Loeloeraai dieselfde metafoor: “Ons [Venusiane] het ’n steiler opdraande pad gehad om te klim as julle, Kerneels.” (89)

    Maar selfs by die redaksie van Die Burger tref ons dieselfde beeld aan:

    “Ons dink aan die sport van wilde barbarisme vanwaar ons gestyg het . . . aan die sporte van die verre toekoms waar ons onbekende bestemming wie weet ons nageslag tot ’n bowemenslike hoogte sal voer waarteen vergelyk ons vandag min meer is as redelose diere. En al die hemelliggame is nie ewe oud nie; hoeveel verskil tussen skepsel en skepsel is daar nie reeds hier op ons aarde nie . . . daar sal minderes wees, gelykes, meerderes . . . ja, ons hoef nie daaroor te raai nie. Die een wat gekom het om met ons kennis te maak . . . waar staan ons teenoor Loeloeraai.”

    As Loeloeraai die verteenwoordiger van Venus is, dis nou ons Aand- en Môrester, en mens na die sterre reik, reik mens dus daarna om soos hierdie Venusiane te word? Van Venus, die hemelliggaam vernoem na die godin van die liefde.

    Maar kom ons kyk na sy byna dromerige taalgebruik in die brief van die karakter Loeloeraai:

    En hier op aarde dan? As die erfenis moet wag tot die erfgename mondig is, as die troon moet wag tot die prins bevoeg is om te regeer, as die wetenskaplike oorwinning alleen geluk kan bring wanneer hy voorafgegaan word deur die selfoorwinning – dan, my vriende, soos die een trapsgewyse vorder so kan die ander alleen trapsgewyse vorder. En ek merk reeds, as ek dit mag sê, alle tekens van so ’n aangevange vooruitgang. Julle staan baie, baie ver bokant die dierlike wreedheid van die wilde barbaar. Soos die ouer sy hongerige kind voed, sy swakke kind beskerm, so getuig julle hospitale en vrye skole en noodlenigingsinrigtings van die uitbreiding van kroosliefde en man-en-vrou-liefde tot naasteliefde en menseliefde. Daar, hand aan hand met die dryfvere van eiebelang en selfsug waarsonder die mensdom van die aarde ten gronde sou gaan soos die roofdiere ten gronde sou gaan sonder hulle wreedheid : saam met daardie dierlike aanspoorkragte wat nog hier nodig is, sal daar langsamerhand groei – groei daar nou langsamerhand – die hoër adel van medelye en milddadigheid en diensvaardigheid. Julle groot weldoeners: julle wetenskaplike navorsers, julle beoefenaars van die verédelende kunste, julle hervormers en martelaars – is dit nie reeds hulle gebruik om sonder loon te werk, ja om rykdom en weelde en eersug te verag nie ? Om tot ’n volksbesitting te word, moet hierdie bowedierlike gees by die enkelinge begin. Elke nederige onerkende offerdiens, elke liefdegawe sonder berekening van terugkeer, is ’n bydraag tot die vermensliking van die mensheid.

    Wat mens dadelik opval is die die onderskeibare tipes liefde, vertaalde Latyn: kroosliefde (“pietas”), man-en-vrou-liefde (“amor”), naasteliefde (“caritas”) en menseliefde (“philanthropia”).

    Natuurlik sal nie alle Afrikaanse woorde of begrippe perfek in die Latynse vertaling weergegee kan word nie. Hoe vertaal jy “baasskap” (teenoor “knegskap”), veral as “heerskappy” in dieselfde sin voorkom? Gaan jy twee keer “dominatio” moet gebruik? Jy kan ook nie die spottende toon met die woorde miesies Wenderbaail en Makpaatrie weergee (Afrikaanssprekendes wat hul as vermoënde Engelse dames uit die “High Society” voordoen) nie.

    Maar onthou, selfs Italiaans, Latyn se nouste verwante dogtertaal, kan ook deesdae beswaarlik met presiesheid in Latyn vertaal word. Soos dr. F.P. van der Merwe skryf in sy Die vertaling as kuns (bl. 127):

    Nadat ek my nou byna twintig jaar met die vertaling van werke uit Italiaans besig hou en voortdurend met Italianers in aanraking is, is daar gevoelswaardes in verkleiningsuitgange, werkwoordvorme en intonasiepatrone wat moeilik tot my deurdring – dinge wat ‘n Italiaanse kind kan aanvoel. Hierdie woorde is die moeilikste juis omdat hulle so gelaai is met gevoelsinhoud en die kind maak veral kennis met die gevoelswaardes van verkleinwoorde terwyl hy nog ‘n kleuter is.

    Libro beteken boek; libretto is ‘n operateks of ‘n klein boekie; librettino is ‘n klein, oulike boekie; libriccino is ‘n liewe klein boekie; libruccio is ‘n minderwaardige klein boekie […]

    Kom ons maak Italiaans nou Latyn:

    Libro word “liber” in Latyn; libretto word “fabula” (vir operateks) of “libellus” (klein boekie); librettino word weer “libellus” (klein boekie); libriccino word wéér “libellus” (klein boekie); en libruccio  word nie eens in my Badellino Dizionario Italiano-Latino opgeneem nie. Wel libraccio: “malus liber” (slegte boek).

    Tog, met hernieude ywer danksy Hebreeus wat binne ‘n eeu skaars so vinnig in ‘n lewende en akademiese taal ontpop het, is Latiniste ewe begeesterd om die taal op soortgelyke wyse te moderniseer. Jy hoef net Radio Bremen elke maand te besoek (Nuntii Latini) of die Pous se Twitterrekening in Latyn te volg. Selfs vir Apartheid is al ‘n naam voor bedink: segregatio nigritarum.

    1. Die boek is enkele jare ná die Spaanse griep (1918-1919) geskryf

    C.J. Langenhoven en ds. P.J. Viljoen was nie alleen tydgenote nie, maar ook dorpenaars van Oudtshoorn. In ds. P.J. Viljoen se outobiografie Ek kyk terug (1949) word ‘n hele hoofstuk aan C.J. Langenhoven afgestaan.  Maar een paragraaf staan uit (bl. 201):

    En tog het hy steeds sy volk tot die uiterste gedien. Daarin het sy lewe opgegaan. Hy het sy skrywerstalent gesien as ‘n gawe van God vir diens van sy volk. Hy het daardie diens ook gesien as uiters dringend en spoedeisend. Die agterstand wat ingehaal moes word was verskriklik groot. Die veld wat verower moes word was onmeetlik wyd. Winsbejag het hy nie geken nie. Vir roem en eer het hy hom nooit ingespan nie. Sy besef van die diens wat hy aan sy volk verskuldig is, het hom met sweepslae voortgedrywe. Die spanning waaronder hy voortdurend gelewe het is grotendeels hieraan toe te skrywe. Hierby het gekom dat hy geweet het dat sy dienstyd kort is. Hy het laat begin, maar toe hy eenmaal begin het, het die diens hom verteer.

    As mens na voor in die boek van Viljoen terugblaai, onder die hoofstuk “Donker dae” (bl. 121 tot 128), dan tref jy ‘n opsomming van die Spaanse Griep aan wat Oudtshoorn getref het. Dit is byna skokkend hoe die histerie hom in 2020 en 2021 woord vir woord herhaal het. Te midde daarvan dat die Oudtshoorn en omgewing destyds beslis meer verlandelik en yler bevolk was as vandag.

    ‘n Mens kan wel wonder of die negosie wat die huis ingedra is ooit ontsmet was, of mense in die openbaar maskers gedra het, oor die welgesteldes (die rondreisendes) wat eerste die siekte onder lede gekry het, wat die invloed van die gebrek aan telefone sou gehad het, hoe die gerugte versprei het as niemand met mekaar kontak gehad het nie (per brief, of sommer langs die draad af praat?), maar sekerlik die belangwekkendste: die aggressiewe mutasie teen die einde.

    Viljoen vat die gebeure so saam:

    Ook daar tussen die berge van Oudtshoorn het die griep-epidemie van 1918 binnegedring. Eers het die mense nie die siekte baie ernstig opgevat nie, maar toe die berigte begin deurkom het van sy omvang en dodelikheid op ander plekke, het skrik om die harte geslaan, en lank voordat hy ‘n slagoffer geëis het op Oudtshoorn, het mense hulle begin opsluit in hul huise en afkamp op hul plase. Die een mens was bang vir die ander. Die kerkdienste op Sondae is gestaak, die skole gesluit en alle openbare byeenkomste verbied. Die een het die ander nie besoek en geeneen wou besoek wees nie, want elke besoeker mag ‘n draer wees van die dodelike kieme. Niemand het geweet wat in die huis langs syne gebeur nie en hoe stiller dit in die buurman se huis geword het, hoe wilder was die gissinge en hoe groter die vrees. Geen mens is op straat gesien nie en geen rytuig het op die paaie beweeg nie. Die vreeslikste gerugte het die rondte begin doen. Die buitemense het gehoor dat die lyke aanmekaar lê op die strate van Oudtshoorn en dat daar nie genoeg mense oorgebly het om hulle te begrawe nie. Hulle het die dorp beskou as ‘n peshol en niemand het gewaag om daarheen te gaan nie. Op die dorp weer het die mense verneem dat hele huisgesinne op die plase uitgesterf het en onbegrawe agter die geslote deur lê.

    Hierdie skrikbevangenheid het die toestand ondraaglik gemaak voordat dit werklik ondraaglik was en het hulle angste laat verduur wat heeltemal onnodig was. Daarby het hierdie afsondering en opsluiting geen uitwerking gehad op die voortgang van die gevreesde siekte nie.

    Hy het deur die geslote deur net so maklik binnegedring as deur die oop deur. Deur die gegrendelde venster het hy net so goed binnegesluip as deur die opgeskuifde raam.

    Spoedig was daar byna geen huis waarin daar nie een of meer krankes was nie en het almal verlang na hulp en troos van een of ander kant. Maar die hekke is tevergeefs oopgegooi en die deure ontsluit. Daar was niemand wat kon besoek of help of troos nie. Elkeen het sy hande vol gehad met sy eie siekes. Eers die vrywillige afsondering, die afsondering uit vrees en toe die gedwonge afsondering deur die verwoede aanslae van die pes. Die laaste was verreweg die swaarste en angswekkendste.

    Die moeilikheid was om te weet wat ‘n mens moes en kon doen. Daar was allereers die vrees dat ‘n mens die siekte kon oordra na jou eie huisgenote. Dan was daar ook gevaar dat jy deur besoeke dit kon versprei van huis tot huis. Die raad van die dokters was beslis dat die predikante net by die deure van die huise moes gaan verneem hoe dit gaan, maar nie in die huise moes ingaan of die siekes besoek nie. Maar dit het aan jouself geen bevrediging gegee nie, veel minder aan die gemeentelede.

    […]

    Voorlopig is die saak wat my betref opgelos deurdat ek self siek geword het. Gelukkig het die ander huisgenote gesond gebly en het die nood by ons nie te hoog geklim nie. In 1919, toe ons daardie ligte herhaling van die  griep gehad het, was ons minder gelukkig. Binne twee dae was die hele huisgesin in die bed. Net ‘n vriendin wat daar op kuier was en die jongste babetjie van enige maande het vrygespring. Vriende van buite moes ons in spanne dag en nag kom verpleeg.

    Dit lê nou eenmaal in die aard van die mensdom om met alles te spot. Hy doen dit dikwels enkel uit bravado. Maar hy doen dit ook om weg te kom van sy angs en vrees. As hy nie spot nie sal hy kerm en bewe. Tydens daardie tweede besoeking het die spotters die vermeende ontdekking gedoen dat die griep hierdie keer net die welgestelde mense aantas, en hulle het begin vasstel hoeveel ‘n mens moes besit voordat jy ‘n aanval van die griep hoef te vrees. My huisgesin moes glo die uitsondering gewees het wat die reël bevestig.

    My grootste bekommernis tydens die eerste aanval was my twee karperde wat pal op stal gestaan het, want my staljong was ook siek. Daar was niemand om hulle voer of water te gee nie en niemand om die stal skoon te maak nie. Tog is ook hulle op een of ander manier versorg. Maar hulle het so baldadig geword van werkloosheid dat niemand dit later wou waag om hulle uit die stal te bring nie. Ek het probeer om die stal skoon te maak kort nadat ek weer op die been was, maar binne ‘n paar minute moes ek dit opgee.

    […]

    Sodra daar weer genoegsaam mense op die been was het ons die dorp en die distrik in wyke verdeel en elke môre het ons in verskillende rigtings uit getrek om die mense te gaan opsoek. Elkeen van ons was gewapen met ‘n termometer, ‘n aantal pakkies Engelse sout en ‘n voorraad asperin-pille. Ons het geen huis verbygegaan en geen k*fferstroois oorgeslaan nie. Waar ons siekes aangetref het, het ons gedokter en raad gegee. Waar hulp nodig was het ons probeer om die belangstelling van die bure op te wek en tot hulpbetoon aan te spoor.

    […]

    Veertien dae gelede het die siekte sy verskyning daar gemaak en soos ‘n windvlaag het hy deur die huise getrek. Die paar mense wat op die been gebly het kon net die allernoodsaaklikste doen. Vir huisskoonmaak was daar geen tyd of kragte nie. Die skottelgoed en ander huisgereedskap het oral ongewas gestaan. Daar was niemand om beddegoed of klerasie te was nie. Die vlieë het by duisendtalle op die huise toegesak en niemand het hulle doodgemaak of weggeja nie.

    […]

    Die verpleegsters het op daardie eerste dag wonders verrig. Teen die aand was die huise skoon, die beddegoed gewas, die vlieë onder beheer, die pasiënte versorg, gevoed, gereinig en gelukkig. Nou kon ek oral gaan sit en met die mense gesels. Net voor ons vertrek het ek by die Smiths ingestap. Man en vrou het siek gelê op die dubbele bed indie kamer. Regoor die bed, aan die anderkantse muur, het hul baba op ‘n paar komberse op ‘n houtkis gelê. En die ou dingetjie het gesnik soos hy huil.

    “En hoe gaan jy vannag jou kind versorg?” het ek aan die vrou gevra.

    “Ek weet nog nie, Meneer”, het sy geantwoord en in trane uitgebars.

    “Ek dink dat dit die beste sal wees dat ons die kindjie saamneem dorp toe en dan bring ons hom môre weer terug.”

    Maar daar wou die vrou nie van hoor nie. Ek kon maar net die kis tot teen die bed sleep sodat die vrou die kind kon bereik sonder om op te staan.

    Daardie nag het ek gedurig die smartlike gehuil van die kindjie gehoor.

    Met hierdie verplegingswerk het ons ongeveer ‘n week volgehou en daar het geen verdere sterfgevalle voorgekom nie.

    By al die verskrikkinge van die griep was daar hierdie een seën dat die siekte so vinnig verloop het. Binne tiende was die pasiënt gewoonlik gesond, of dood. As hy ‘n slepende verloop gehad het soos koorssiekte sou die ellende onbeskryflik groot gewees het.

    […]

    Spoedig was die siekte uitgewoed. Asof hy ‘n onuitwisbare indruk van sy verderwende mag wou agterlaat, was die laaste paar sterfgevalle die ontsettendste. Sy laaste twee slagoffers was ‘n sterk man in die krag van sy lewe en ‘n aanvallige dogter van sewentien jaar. Hier het hy die vreeslike pesvorm aangeneem. Hulle was nie alleen binne ‘n paar dae dood nie, maar voor die dood het die ontbinding reeds ingetree.

    Ek het tot hiertoe buitengewone krag ontvang om alles te dra en kalm te bly. Maar op die begrafnis van Katie Keller het my selfbeheersing heeltemal gebreek. Tot in my siel bewoë het ek opgestaan om die diens te begin en hier kom haar swart hond, met wie ek haar so dikwels sien speel het en lê sy kop op my been asof hy troos soek. Dit het lank geduur voor ek weer kon praat en aan alle kante is net snikke gehoor.

    ‘n Maand later het die lewe weer sy gewone loop geneem. Maar in baie huise was daar ‘n leë plek wat nooit weer opgevul sou word nie en in baie harte rou wat die tyd sou versag maar nooit heel nie.

    Ek glo nie hierdie tydperk sou aan Langenhoven se klere gaan sit het nie. En ‘n 100 jaar maak geen verskil om dieselfde gevoelens en denke te koester nie. Dit benadruk net die tydloosheid.

    1. Onopgeloste en steeds brandaktuele kwessies

    Sowel Rob Antonissen as T.J. Heyns beskou die werk as “profeties-aktueel” (Ungerer, 1983: 233-234).

    Selfs vir die oppervlakkige leser is dit vandag nog duidelik soos daglig. Dis amper ‘n honderd jaar later, en reeds in 1923 het Langenhoven eintlik ‘n pleidooi vir sonkrag gelewer (en dalk atoomkrag, byna ‘n dekade voor die eerste atoom gesplyt word in 1932; byna twee dekades voor Enrico Fermi se eerste kernreaktor in 1942), met Loeloeraai aan die woord (1941:49):

    Julle [Imperiale Regering] gebruik julle kapitale voorrade van steenkool en olie wat nog in die aarde oorskiet op om elektriese krag te genereer om om te sit tot kunsmatige lig en hitte. Ons [op Venus] gebruik die natuurlike lig en hitte van die son om in elektriese krag om te sit. Ons span die oneindige bronne van energie van die atome in.

    Nog lank voor ekobewustheid ‘n gonswoord geword het en die verskrikking van besoedeling Johannesburg se middestad sou tref, vind ons hier eintlik ‘n subtiele spot met die kastige “vooruitgang”, maar nié, en hier verskil die boek met die hedendaagse ekobeheptes, sonder om die menslike lyding hierby te betrek nie (1941:68):

    Ja, lyk julle selfverwerfde kennis nie reeds of hy te snel gevorder het nie ? Julle het die stoomkrag in julle diens ingespan. Uit ontsaglike fabriekstede styg swarte rookwolke op na die hemel om te getuig van julle oorwinning oor die natuur. En die heerlikheid van die sonneskyn en die glorie van die sterrehemel is agter die donker wolke weggeraak. En duisende van julle medemense slaaf in die fabrieke soos stukkies masjinerie, sonder ’n wil, sonder ’n doel, sonder belangstelling: ’n lewelose lewe, ’n onmenslike menslikheid. Die harde slawerny van die natuur is vervang deur ’n slawerny van wetenskap wat oneindig harder is. Die diens wat julle verniet gekry het om julle lot te verlig, het dit verswaar.

    Maar eintlik moet mens die boek se filosofie in sy geheel lees.

    Die boek begin met ‘n duidelike verwysing na die Tuin van Eden:

    ,,Daarbuite in die wildernis is twee ongelukkiges,” sê die engel aan die poortwaarders. ,,Kan ek hulle gaan haal en hier inbring ?”

    ,,Hulle wás hier,” was die antwoord. ,,Hulle het nie gedeug nie. ’n Tweede proef is oorbodig. Hulle moet wag tot hulle genoeg wysheid en vernuf geleer het om hierdie swaard opsy te druk. Dan sal ons hulle weer laat ingaan. En dan sal hulle daarbinne deug.”

    ‘n Mens moet onthou hierdie hele storie speel af skaars 5 jaar nadat die Eerste Wêreldoorlog beëindig is, soos daar telkens in die boek na verwys word. In sy brief aan Die Burger rammel Loeloeraai voort oor nie alleen die natuurkragte wat onderwerp en benut moet word nie, maar bowenal die dierlike selfsug binne die mens self. En merk net hoe duidelik hy profeties voorspel die Russiese Bolsjevisme stuur op rampspoed af (ses jaar ná die Rewolusie), nog lank voor Animal Farm (1945) verskyn het (1941:69-70):

    Want, my vriende, die een suksesvolle rebellie is nie genoeg nie. Daar is nie alleen die natuur daarbuite om te oorwin nie. Daar is die natuur wat binne is. ’n Dier plus verstand en kennis en sonder meer is ’n duiwel. Die binneste tugmeesters van die dwingeland – liggaamlike honger en vrees, sinnelike liefde, moet saam oorwin word. Die selfsug wat sy geluk soek met roekelose onverskilligheid omtrent die geluk wat hy by ’n ander verderf, moet plaas maak vir die offersug wat sy behae vind in gee in plaas van neem, in uitdeel in plaas van skraap. Op die ou end is dit die verstandigste selfsug. Hy lei tot die hoogste geluk. En dis nie ’n nuwe aankondiging wat ek maak nie, my vriende. Hierdie weg van heil is julle byna twee duisend jaar gelede duidelik aangewys. Had julle hom maar gevolg dan was die aarde vandag ’n Venus.

    Vergewe my tog, my vriende. Ek wil nie onaangename dinge sê wat dit vir ’n gas en ’n vreemdeling nie mooi is om te sê nie. Maar julle het my gevra en ek moet eerlik wees. So min vordering het julle nog gemaak met die grotere rebellie – die verset teen julle eie selfsugtige diere-aard – dat selfs waar julle die beginsels van offerande en liefdediens van buite wou toepas, het dit op ’n aaklige ramp uitgeloop. Die Franse rewolusie was gegrond op die vrome beginsels van vryheid, gelykheid, broederskap. Die Russiese bolsjewisme op die vrome doel van die beheer van die voortbrengsels van die wêreld in die hande van die werkers van die wêreld. En in plaas van die beoogde geluk het daardie proefnemings die vorige ellende verdubbel en verhonderddubbel. Waarom? Omdat dit nie help om aan die ingesetenes van ’n kranksinnige gestig redelikheid en wysheid te preek en die grendels van die deure af te gooi nie. Soos die wetenskap nie eensklaps gekom het nie, so kan die herbore mensheid nie eensklaps kom nie.

    Watter regeringsvorm, watter ekonomiese staatstelsel, sal julle vra, het ons dan op Venus ? My vriende, ons het geen regeringsvorm daar nie. Daar is geen dwang nie want daar is geen ongehoorsaamheid nie. Daar is geen wedywer om loon nie want liefdediens is sy eie loon. En in die loop van die eeue, sedert ons duisend-duisendjarige ryk aangebreek het, het ons ondervind dat die offerande geen offerande meer is nie, die diens geen arbeid nie; dat ons nie oor geluk hoef te stry nie want die geluk is daar in oorvloed om te neem. Wie sal ook goudgierig wees as hy soveel goud vry kan vat as wat hy begeer ? Die verskil tussen selfsug en offersug het by ons verdwyn.

    Eers wanneer die fiktiewe Langenhoven, Vroutjie, Engela, Oom Stoffel hulle in die middel van die maan in ‘n paradyslike staat bevind (in die kern, die dwarsgange van die maan), deel Loeloeraai aan die geselskap ‘n geheim mee, wat hy beslis nie met Die Burger, en dus die fiktiewe publiek, gedeel het nie.

    Die keuse tussen die vooruitgangsgeloof (wat Deterministies glo die mens is, gegrond op die evolusie en deur uit sy foute te leer, op pad om ‘n halfgod te word ) en agteruitgangsgeloof (gegrond op die Dekadentisme, wat glo die mensdom het met die eeue al hoe afvalliger en verdorwe van sedes geword hoe langer hy uit die bos gekruip het) word wel geopper (1941:119):

    “Daar is ’n onverbiddelike prys vir al wat verwerf word; daar is tolgeld op die pad na elke bestemming; daar is ’n opdraand na elke hoogte. Kerneels en Stoffel het hier geredeneer of daar menslike of vernuftige wesens hier kan wees. Hoe kan dit wees ? Die paradys moes sy boom van die dood hê en sy boom van die lewe. Die prys van ontwikkeling is oneindige pyn en lyding.”

    ,,Dis vreeslik, Loeloeraai,” sê ek. ,,Dan is daar maar twee weë ? Geluk sonder vooruitgang of adel ten koste van ellende ? ’n Paradys vir diere, ’n Golgota vir geeste ?”

    Die paradys op die maan bestaan slegs uit vlieënde wesens (voëls en vlinders), maar is hondmak, omdat hulle nog nooit ‘n mens gesien het nie en onbewus van enige skrikbewind is, wat aansluit by die gesprek met paleontoloog prof. dr. François du Randt hierbo in die potgooi, 98 jaar later (1941:118):

    ,Waarvan leef al hierdie diere, reken jy, Loeloeraai ?”

    ,,Van die groenigheid. Van blare en vrugte en die suiker van die blomme. Daar is geen roofdier en geen prooi hier nie.”

    ,,Waaruit lei jy dit dan af, Loeloeraai ?”

    ,,Het jy opgemerk, Kerneels, dat geen lewende ding ons hier ontvlug nie ? Die voëls en die insekte kom op ons skouers en op ons knieë sit. Kyk hoe geniet daar die dingetjie wat ek maar ’n papegaai sal noem, Engela se liefkosing. Ons het nog nie ’n lewende ding hier aangetref wat van vrees weet nie. En op die aarde ? Julle sal dit honderdmaal beter opgemerk het as ek. Wanneer jy ’n dier op sy gelukkigste sien – die bokkie wat ’n nuwe weelderige weiplek aangetref het, die duifie wat vir sy maat so soet en liefies koekroekoe: almal van hulle is altyd aan’t rondkyk of daar nie ’n vyand nader nie. Die aarde word geregeer onder ’n wrede skrikbewind. En die grootste roofdier van almal is die hoogste van almal – die mens.”

    Die geselskap maak die aanname die bronne het met verloop van tyd so uitgeput geraak dat slegs die spesies wat kon vlieg bly voortbestaan het. Die paradys lê egter steeds op sterwe na dood (1941:119 tot 120):

    ,,Maar selfs hier, Loeloeraai – hoe kan hierdie lewenstaat bestendig wees sonder stryd en dood ? Nie alleen moet hierdie plantetende diere so vermenigvuldig, as hulle nie roofvyande het, dat hulle die plantelewe totaal sal verdelg nie, maar hulle wedywer teen mekaar sal hulle tot onderlinge vyande maak.”

    ,,Miskien het hulle tot die punt ontwikkel waar alleen die onsterflikes oorgebly het en die voortplanting opgehou het. In alle geval het ons hier die uiteindelike langslewendes van ’n sterwende wêreld. Die lewe het gekrimp soos die lewensgeleenthede gekrimp het. Water en lug en warmte en lewe is teruggetrek tot in die ingewande van ’n liggaam wat van buite dood is. En nog gedurig word die oorblyfsel van lewenshulpbronne minder en minder. Die atome van water en lug raak nog gestadig weg deurdat die swaartekrag nie genoeg is om hulle te hou nie. Ons het hier gekom op die laaste stadium voor die uiteindelike ondergang.”

    In hierdie roman word die filosofie vereenvoudig (die teks kan mens ekologies én kultureel én ekonomies opneem) en die voorkeur vir die vooruitgangsgeloof gegee. En met geldige redes:

    Jy kan die slaaf van jou paradys bly, sonder om ‘n vinger te lig, geen vooruitgang bewerkstellig nie (of vooruitgang vir ander onmoontlik maak) en staan en toekyk hoe die wêreld rondom jou stukkie vir stukkie verbrokkel: die eindbestemming van die laksheid van niksdoen is ‘n sterwende wêreld. Daar is een tros piesangs vir ‘n X-aantal mense of diere, en dit is dit. As die tros afgepluk is, is hy afgepluk, vir eenmalige gebruik, sonder preservering, SONDER berging, sonder voeding vir die piesangboom, of tydsbesef of tydsbesparing (want jy sal al hoe verder weg moet gaan soek vir vrugte) of toekomsverwagting vir môre of VIR ANDER. Nie vir hierdie geslag nie, ook nie vir die toekomstige geslagte nie. Dit maak juis dat die nomadiese bestaan slegs tientalle mense kan onderhou.

    Die boek trek ‘n bloedrooi streep deur die selfregulerende Gaia-hipotese, wat aanvoer die aarde kan self herstel omrede die diere- en planteryk in perfekte simbiotiese harmonie verkeer. Gaia is ‘n superfeeks: sy was die allerlelikste oerdiere in die Fayyum-distrik van Egipte (vroeër ‘n strandmeer wat deur verdere isostasie ‘n droë en barre woestyn geword het) allermins goedgesind. Die mens het geen handjie in hul ondergang gehad nie (daarvoor was die dinosouriërs te ver terug!), nog minder het die vrye natuur (wat plante en diere insluit) enigsins iets gedoen om die agteruitgang te stuit.

    Dit het wel ‘n hele ingewikkelde ontsoutings- en drupbesproeiingskema in Israel deur die mens gekos om Israel weer groen te kry en ‘n lushof van te maak soos die Prediker (2:5) van weleer geskryf het:

    Ek het vir my tuine en parke aangelê en daar allerhande vrugtebome in geplant.

    Anders sou die byna menslose omgewing (deur sy “onherbergsaamheid”) mos vanself herstel het, nie waar nie? Maar dit het nie.

    Al die ellende van vingertrek is wel lonend (“Adel ten koste van ellende”), en daarom is dáárdie paradys joune, omdat jy dit verdien het: die einddoel is lewe, langer lewe, die onderhoud van meer lewe en die vermenigvuldiging van meer lewensgeleenthede en lewensvryhede vir ANDER.

    Dit klop weer met die ekonomiese beginsel: om met verloop van tyd al hoe meer spaarsamig, versnellend, desentraliserend, volhoubaar, en met minder vermorsing, met ‘n hulpbron om te gaan (byvoorbeeld deur massavervaardiging en duursaamheid). Om een broodjie te bak kan nogal duur kos, vergeleke met ‘n oondkamer vol brode wat vir die publiek gelyktydig gebak word. Jy hoef nie meer stompe en stompe hout te gaan kap, aan te dra en rook verduur vir ‘n bietjie lig en hitte (vir een mens) nie, daarvoor is skoon elektrisiteit daar (vir miljoene mense).

    Op kulturele gebied sou ons kon sê één woordeboek kan die wêreld se geleenthede ontsluit vir duisende mense. En daardie duisende mense sorg vir werke wat inligting toegankliker vir honderdduisende of miljoene maak. Een ensiklopediese inskrywing, deur een mens, spaar honderde mense geweldig baie tyd, wat andersins self, van voor af, presies dieselfde kenners se insigte onafhanklik moes gaan soek. Jaar in en jaar uit.

    Daar is dus iets in hierdie werk van Langenhoven wat vir my ‘n baie modernistiese uitkyk het. Modern, maar op ‘n wyse sterk optimisties-humanisties.  En ek betwyfel sterk of Sonde met die bure (met sy 29 herdrukke teen 1956) enigsins dieselfde filosofiese diepte verkry.

    Dit is so ‘n sterk etiek, dat ek beswaarlik dink die leser besef wat hy lees. Dit is ‘n hoogs ingewikkelde stelsel veel groter as die individu, maar wat nie sonder die individu, met sy spesiale plekkie, kan funksioneer nie. En dit sluit die tannie wat vis-en-tjips bak in (wat tyd deur wegneemetes spaar, ‘n idee so oud soos Ostia Antica self), ook die vlagswaaier by die padwerke, die straatveër… Geen taak is hoe gering nie.

    En begrip hiervoor is juis nou broodnodig in ‘n hoogs individualistiese wêreld waar die mens aan homself en sy eie klein gemaklike wêreldjie in sy kop oorgelaat is, en uitgestoot, uitgebuit, uitgeleef, uitgekuier, hopeloos neerslagtig voel en die samelewing daarbuite as “koud” en “leeg” en “onveilig” en “onverstaanbaar” ervaar.

    Ek dink Loeloeraai het reeds sy eeu van onreg ervaar – gee hom die erkenning wat hom toekom.

  • Suidpunt: Tot lof van ons rokers

    Suidpunt: Tot lof van ons rokers

    Van ‘sjiek’ tot ‘kommin’ binne slegs minder as drie dekades. Eeue se kultivering en kweek, binne dertig jaar ongedaan gemaak. Boekdele is geskryf en uitgegee oor die nut en verbou van tabak binne Suid-Afrika en Rhodesië; vandag bloot handleidings toe onder die as. Ons voorvaders moes om voorskotte bedel vir ‘n bietjie twak (maar Ouma het ook self darem lekker gestook). Van ons grootste genieë het hul wonderskone woorde met kankerstokkie in die hand neergepen. As jy onkundig was, kon jy gaan pyp opsteek by die wyses. Party siele het gebewe soos ‘n koggelmander wat pypolie ingekry het. Ander moes gaan pyp uitslaan. Selfs Jan van Hunks het die duiwel laat omkap in die rookwedstryd. En glo my, daardie oom kon die pyp rook. Soos ‘n skoorsteen. Selfs tannie Emsie Schoeman se Goeie Maniere en Etiket bevat ‘n afdeling hoe jy daardie sigaar tussen jou duim en wysvinger by jou oor moet rol om daardie krakerigheidjie te hoor – te veel is te droog; geen krakerigheid is te vogtig. Dis die kuns.

    En nou?

    Jy bars in ‘n hoesbui uit as die Amerikaanse Popular Mechanics maar twéé sigaretadvertensies bevat. Nee, Suid-Afrikaanse tydskrifte mag lankal nie meer adverteer nie. Die Durban July ook nie. Die vinger van die staat is alomteenwoordig: die winkelsentrum jaag rokers weg. Die eens statige sekretaressie moet soos ‘n dronk hoer haar bene om ‘n lamppaal gaan vleg om ‘n skyf in te kry. Koop jy die produk, hy vloek jou uit! Die dominee en voorsitters put genot daaruit om die preek en vergaderings nou 4 uur langer te maak net om jou rooklus te tart! Op skool is die sinkhok vir die rokende seuns op die plaasskool van tydens die Britse koloniale era lankal afgebreek: nee, onderwysers moet maar liefs buite die skool gaan rook. Brandstigter, anargis, kindermoordenaar – dit is nou jy daai!

    Hoe rook dit vir jou?

    Ek skryf as iemand wat in ‘n huis grootgeword het met twee strawwe rokers. Ek moet my ouers dankbaar wees vir die twee pakkies (soms meer) Satin Leaf Ultra Mild per dag wat met die blou dampe my ‘n passiewe roker gemaak het. Die waarskuwings op die pakkies  was die eerste woorde wat ek sommer saam met die Kinderbybel leer lees het. En haai, ek kon, want dit was nog in Afrikaans! Volgens die statistiek en waarskuwings in die hoofstroommedia behoort ek nie eers my eie naam te kan skryf nie. Nou hoe onnosel moes ons voorsate darem nie gewees het nie?

    Ek het hoegenaamd nie sleg op skool gevaar nie, inteendeel, ek was permanent onder die top tien. Maar ek is my ouers dankbaar. Diep dankbaar. Het hulle my nie so bestook nie, dan sou geen onderwyser met so ‘n geniale duiwel soos ek kon huishou nie! Gedenk maar wat Langenhoven oorgekom het, soos Kannemeyer ons vertel in Langenhoven: ‘n Lewe (1996):

    Daar bestaan ‘n algemene wanopvatting dat Langenhoven dikwels van sy werke voltooi het terwyl hy sterk onder die invloed van alkohol was. Gedeeltelik het hy self aanleiding tot die storie gegee.

    […]

    By geleentheid het ‘n aantal Oudtshoornse vroue wat met die kerk te make gehad het, met hom oor sy drankgebruik gaan gesels. Hy het geduldig, sonder om iets te sê, na hulle geluister. Toe hulle klaar was, het hy, terwyl hy na die boekrak agter hom beduie, geantwoord: ‘Dames, in my dronkenskap het ek die boeke geskrywe wat julle hier sien. Wat het julle in jul nugterheid gedoen?’

    Presies, ja. Wat doen die staat in sy nugterheid?!

    In hierdie rubriek het ek, as nieroker, my laaste bietjie breinselle bymekaargeskraap om apologeties teenoor ons arme rokers op te tree in hierdie tyd van beproewing (dit is, as jy nog nie na selfverboude papegaaislaai oorgeslaan het nie).

    Ons moet strewe na neutraliteit. Hoor die anderkant aan!

    1. Rokers is die maklikste mense onder die son. Verjaarsdae is so eenvoudig. Veral nou nog met Pa. As jy nie weet wat om vir hom te kry nie, is hy maar te diep dankbaar vir die karton sigarette of aansteker wat hy in elk geval uit sy eie sak moes koop. Nee, hy sal dit nie gaan inruil nie. Beslis nie. Want dit is nie soos ‘n hamer wat hy reeds het nie. Dis ook nie soos rekenaartoerusting wat verouder nie. Ook nie soos soetgoed wat nie juis na sy smaak is nie. Ook nie soos lugtyd waarop die prys gedruk staan nie. Ook nie soos koffie wat reeds op die inkopielysie staan nie. Ook nie soos ‘n boek wat hy nooit sal lees nie (hy is ook nie van die leestipe nie). Ook nie soos ‘n hemp wat in die kas sal vergeel van nooit dra nie. Rookgoed is eie goed.
    1. My moeder het in 2003 opgehou rook. Met behulp van Nicorette (wat sy tot vandag nog kou), ‘n vuil asbak (wat haar longe sou versinnebeeld), ‘n skuldgevoel dat sy van haar kinders geld roof, en haar geloof. Sy het vir die Here gevra om haar so ‘n renons te gee in rook dat sy nooit ooit weer haar mond aan ‘n sigaret sal sit nie. Haar gebed is verhoor. Té goed. Nou gaan sy byna dood van elke buurman se kaggelrook! Die wintermaande bid jy om van die kollektiewe rookskuld wat die hele dorp en groeiende informele nedersetting dra, net om die somermaande gouer om te bid van die veldbrande en stof. En sommer die herfs ook as naskrif, want dan begin die boere weer die graanlande skoonbrand. Muskiete het skynbaar ook ‘n liefde vir nikotienvrye bloed begin ontwikkel, want Moeder kan nie onthou van soveel muskietbyte in haar ganse lewe soos nou nie. Maar mens kan mos nou nie op jou woord teruggaan nie!
    1. Ek kan nie glo iemand verf hul kamermure wit nie. Dis so koud. So doods. So, asof mens die laaste bietjie lewe van mense wat was, doodverf. In hospitale bly daar nie eens ‘n nat kol agter nie. Daar mag geen spoor van jou bestaan agtergelaat word nie. Jy was nooit daar nie. Jy bestaan nie. Hierdie steriele bestaan maak my bang, want het die Middeleeue nie darem meer as ‘n handvol palimpseste agtergelaat nie? Waarvoor was ons dan hier?

    Maar met genoeg rokers in die huis kry jy sommer gou-gou ‘n gesonder mensliker kleurtjie terug, sonder om ‘n binnehuisversierder in te roep. Wit word mettertyd room. As jy die saak wil bespoedig, moet jy net meer gereeld kerriegeregte ook maak. En tjips bak. Sien, die mure kan praat! Die vertel ‘n storie! As die verf goed genoeg is om ‘n eeu te hou, sal jy kort voor lank ‘n nog huisliker bruine café soos in Holland kan besoek. Swart gerook deur kom-en-gaan geslagte mense wat hul koffietjies in samesyn geniet het. Hulle laat almal ietsie agter. Jaar in en jaar uit. Dis nou tradisie! Wat ‘n argeologiese vonds!

    1. Ek mis die dae toe restaurante rooksones gehad het. Dit was nog voor die werklike drakoniese wette deurgevoer is. Ek onthou in die Spur op Hermanus destyds (vroeë 2000’s) was daar ‘n rooksone waar ek by my ouers gesit het, agter ‘n halftoe skuifdeur. In die Wimpy op ons dorp ook. Anderkant die glasdeur het die eetplek gewoel, geraas en gewemel van kindertjies wat skrillend rondhol, messe en vurke wat raakkap en skraap en monde wat nom-nom-nom. Maar by ons, asook ‘n ander gesin by hulle tafel in die vertrek, was dit rustig en stil. En. So. Eksklusief. Dit kon geen Master Card koop nie. Ek sal dit nooit vergeet nie. Dit was absoluut fantasties. Die stilte, of nee, miskien was daar tog ‘n bietjie musiek. Die feit bly staan: jy kon jouself daadwerklik hóór dink.
    1. So kinders wat rook is ‘n skande? Dis nie wat ons wetenskapsjuffrou die dag gedink het toe haar eie aansteker opraak nie. Die bunsenbrander moes aangesteek word vir ‘n proef, die les moet voortgaan. Sommer op die ingewing van die oomblik, om tyd te spaar, vra sy: “Het iemand van julle ‘n lighter?” ‘Ja, Juffrou’, kom die een rooikopdogter aangedraf. Almal kyk op (want dis duidelik hoekom), maar die juffrou laat met ‘n onderdrukte glimlag die saak verbygaan. Die les kon ongesteurd voortgaan.
    1. Die hele rookkultuur het ontsettend baie nut vir die motoriste beteken. In die ou motors kry jy nog plastiek- of chroom-asbakke langs die agterdeure wat sommer as ‘n gerieflike vullisblikkie ook dien vir lekkergoedpapiertjies of sneesdoekies en so. Jy het dit in die Mercedes so gekry, jy het dit ook so in die nederige Volkswagen Golf gekry. Die gloeiwarm sigaretaansteker kon in ‘n tyd van nood ook nuttig aangewend word [as kind het ek nie eens geweet hoe dit werk nie], en agter daardie sigaretaansteker was die veilige aansluiting vir die elektriese pompe en selfoonlaaiers. Vandag het jy satellietnavigasie, plek vir tydskrifte, plek vir jou selfoon, plek vir jou bierblik (oop, waarskynlik), plek vir jou sonbril, armstut, reling om jou baadjie langs die venster te hang, ‘n leeslampie, selfs sitplekverwarmers en klimaatbeheer om die hitte van onder te waardeer… maar geen asbakke meer! Nou kyk, my moeder kan sê mansmense is so onprakties, hulle kan nie eens wasgoeddrade op ‘n bouplan inteken nie – maar noudat vroumense karre begin ontwerp: wat ‘n ramp! Wat ‘n sanitêre probleem! Waarom moet ek nou met die verdomde papiertjies in die hand sit tot en met die volgende drom? Dis nie Europa hier nie! Te veel moeite, ons gooi dit sommer by die venster uit en skep werk vir ons medemens. Gee die troostelose, eindeloos-eentonige Karoolandskap bietjie meer kleur.
    1. Uit ‘n volstruispoot kon jy ‘n eksotiese asbak laat regop staan wat jou gaste in vervoering sou hê. Asbakke het mens in die mooiste kleure gekry. Party was van swart glas wat volgens streng geometriese vorm uitgekerf is, trots met die Mercedes-Benz-wapen op. Ander, soos dié van Firestone, het ‘n allemintige rubberband (tyre) om die glas gehad: haal jy die glas uit, kan jy kontantnote binne-in die band wegbêre. Sommige was van beskeie erdewerk of goedkoop plastiek. En dié van koper sal mens liewer in jou sitkamer wil uitstal, eerder as gebruik. Op skool het van die kinders asbakke uit koeldrankblikkies gemaak, met die randte wat so omkrul. Elke vakansieoord of pretpark het sy eie logo op asbakke gedruk (as reklame). Jy kon selfs ‘n asbak as sentimentele aandenking koop, van ‘n groot internasionale gebeurtenis, soos mens met sierlepels sou maak. Waarvoor gebruik mens vandag asbakke? Wel, jy kan blomsaad daarin droog; jy kan blomblare soos potpourri daarin droog; jy kan lekkergoed daarop uitstal; jy kan jou bottel yskoue water daarop neerplak sodat jou embuiatafel nie watermerke kry nie (ek het nog nooit ‘n liefde vir doilies en matjies gehad nie)… dus, eintlik meer as wat jy met jou ouma se kosbare pierings sou aanvang. Ek dink ook maar net aan al die werksgeleenthede wat die vervaardiging van asbakke kon skep. Bowenal kan asbakke as kollektebordjies dien: ek is seker die munte sal met teerheid hanteer word.
    1. Rokers is lewensredders! In the South African Book of the Road van die AA (1988, p. 96), staan daar: “Treating tick bites: Apply the glowing end of a cigarette, or a burning match, to the tick’s body; this will make it fall off. Do not try and pull the tick out as it may leave its head behind, causing infection.”
    1. Ekobewustes is tog so besorg oor die natuur. Chemiese middele, soos insek- en plaagdoders, is gif vir ons toekoms. ‘Organiese tuinbou’ is mos nou die volhoubare manier om ons nageslag ‘n gesonde aarde na te laat. Is ek reg? Nou… waarom sien ek fyn tabakstof so min op die supermark se rakke?
    1. Die brandalarms en brandblusstelsels is juis in ‘n tydperk in gebruik geneem toe daar so baie rokers in die gebou was tussen papierwerk. Ironies, nè. Noudat die rokers uit die geboue verban word, met al hierdie stelsels wat daar voorheen nie was nie, is daar egter steeds elektriese en elektroniese toebehore wat ‘n brandgevaar is. Ek is geneig om te dink dit was die rokers wat die brandblustegnologie na vore geskuif het, deurgedruk het, deurgevoer het, en die tegnologie juis daarom sy tyd vooruit was. En dis nou die dank wat hulle daarvoor kry?
    1. Niks irriteer mens meer as daardie vetterige taai handjies wat so aan alles moet klou en vuilvat nie. Nee, ek bedoel volwassenes s’n. Jou sierkussinkies, die tafelrand, die portrette, die orrel, die glase, die meubels, die gordyne… alles loop deur. Hande wat werk soos suiers! Nee, wat. Gee daai pote werk om te doen! “Hier, hou my sigaret vas.”
    1. Dis eintlik snaaks dat die volgende verhandeling nog nie aan die universiteitskomitee voorgelê is nie: “Sal ‘n vrou wat rook haar kinders minder lipstiffieblertse (en ‘n knou vir hul selfbeeld) gee as ‘n nieroker?”
    1. Met ontydige kragonderbrekings sal jy gou genoeg weet waar jy met iemand staan. ‘n Helder ligbaken waarteen niemand sal vasloop nie.
    1. Is ‘n roker ‘n ‘rebel’, of bloot ‘n ‘onafhanklike denker’? Dis bloot ‘n semantiese spel, liewe leser.
    1. Rokers is uitgeknip vir die diplomasie. So, daar hang nou die reuk van die dood in die sitkamer. Almal ruik dit. Dit ruik die ene verpulpte bene en hondekos. Ja-nee. Dis Wagter se winderigheid. En die kamertjie is klein. Die “brandskoon linne”-reuksproei is dolleeg. Wat nou? As jy iemand soos die koningin van Denemarke langs jou op die bank het, vrees nie. Die ou vrou het ‘n plan. Sy haal sonder ‘n woord uit haar handsak die vuurhoutjie, steek haar sigaret baie tydsaam aan en woeps!, verbloem is die stank met ‘n aangenamer swawelreuk. Niemand in die verleentheid gestel nie, nie eens die hond nie.
    1. Twee vreemdes deel ‘n oomblik op die balkon. Hoe begin die man ‘n gesprek met die aanvallige jong dametjie? Nee, hy gesels nie oor die bibberweer nie – dalk is sy ‘n ysprinses wat mal is oor die koue. En wat daarvan as die lugdruk 1 023 hektopascal is en die humiditeit op 82,9% staan? Hy kan nie nou al haar klere en mooi hare waardeer nie, dis gans te vroeg. Nee. Hy tuur eers die verte in, blaas bietjie stoom af, skraap al sy moed bymekaar en vra heel terloops: “Rook u, dame?” En dan kom daardie smeltblik (eintlik daardie aanbod in sy hand!) wat die jonge dame net nie sal kan weerstaan nie. Hoeveel verhoudings het nie so begin by hierdie aanknopingspunt nie?
    2. Om te sê rook maak jou dom, misgis jy jou. Dit maak van jou ‘n uitstekende rekenmeester, met ‘n lopende balansstaat hierbo in jou kop. Piet van Worcester skuld jou nog ‘n sigaret wat hy by jou kom bedel het, Fransien van Kaapstad so twee, Jan van George so vyf, Klaas van Oudtshoorn so nege; jou eie dorp is jou een-en-dertig sigarette verskuldig. En, nou ja, ‘n ander man wie se naam jy wonderbaarlik vergeet het skuld jý ‘n karton vol. Vir ons nierokers is dit ‘n haas onbekende wêreld, ‘n informele mikro-ekonomie in die kleine, maar eintlik werk dit soos ‘n bank wat ter goede trou werk. As jy nie skuld het wat jy afbetaal nie, is jou kredietwaardigheid nul. Mense is so by mekaar in die skuld met sigarette dat hulle nie sonder mekaar kan klaarkom nie!

    Wie’t gesê rook kan nie help om ‘n nasie te verenig nie?

    1. Laastens. Niemand kan meer sê jy het nie jou lewe vir jou land opgeoffer nie. Jy het hope belasting betaal, jou liggaam verniel, jou siel verpand aan die grootste wettige dwelmkartel sodat klein Sipho’tjie kan brood en melk koop met die staatstoelae. Die een se dood is weliswaar die ander se brood. Maar “baie dankie”, kry die arme rokers nooit nie.
  • Leon Lemmer: Die nalatenskap van CJ Langenhoven soos vergestalt deur Willemien Brümmer

    Leon Lemmer: Die nalatenskap van CJ Langenhoven soos vergestalt deur Willemien Brümmer

    Sedert 1994 het Suid-Afrika meer openbare vakansiedae as ooit tevore; ook meer as die meeste (beskaafde) lande. Ons politieke “bevryding” het gesorg dat ons op meer dae van werk bevry is. Die meeste mense gebruik nie hulle vrye tyd konstruktief nie. Leeglê-naweke is klaarblyklik nie erg genoeg nie. In die goeie ou dae was ‘n naweek anderhalf dag lank; nie twee volle dae nie. Die werksure was ook langer en die jaarlikse verlof korter. Geen wonder dat die produktiwiteit vroeër hoër en die misdaadsyfer laer was nie. Talle mense sit saans, naweke en openbare vakansiedae voor die televisie en by die radio omdat hulle hulle nie self konstruktief kan besig hou nie. Hulle is statiese sponse wat die polities byderwetse retoriek van veral die SABC sonder gesonde weerstand absorbeer. Die enkelinge wat koerant lees, word aan soortgelyke mode-invloede blootgestel, bv in Afrikaans danksy die monopolistiese Naspers/Media24.

    Reeds vóór 1994 het die UDF, SAKP en vakbonde daarop aangedring dat 1 Mei as Werkersdag gevier moet word; dus deur nie te werk nie. Hiernaas het die ANC-regime ander polities geïnspireerde openbare vakansiedae ingestel: Menseregtedag, om die dood en verwoesting van Sharpeville te vier; Vryheidsdag, om die afloop van terrorisme te gedenk; Jeugdag, om die verwoesting aangerig in Soweto in 1976 te verheerlik; en Vrouedag, om die vroue te huldig wat ‘n optog gehou het omdat hulle hardegat oor die dra van passe was. In nie ‘n enkele geval word iets opbouends in herinnering geroep nie. Tiperend van die ANC word misdaad en wanprestasies gevier. Geen wonder dat Suid-Afrika sedert 1994 deur agteruitgang en verval gekenmerk word nie.

    Is dit moontlik om nog iets uit te dink wat van Suid-Afrika ‘n volslae verloorland kan maak? Ja, dit is moontlik. Sedert 1 Januarie 2020 is albei ouers by die geboorte of aanneming van ‘n kind op 10 dae betaalde verlof geregtig. Die ouers hoef nie getroud te wees nie. Willemien Brümmer het hieroor in ‘n artikel ‘n loflied aangehef (Netwerk24, 7.01.2020). Sy toon geen begrip vir hoe moeilik dit vir werkgewers is om vas te stel of so ‘n verlofaansoek geldig is nie. Sy gee ook nie ‘n flenter om vir die formele werkure wat verlore gaan nie. Sy vertel dat haar man twee weke verlof geneem het om haar met die geboorte van hulle seun by te staan. Vier maande ná die geboorte is sy terug na haar werk as joernalis. Doen ‘n moeder wat so gou gaan werk nie veel meer skade aan die kind as die potensiële voordeel van die 10 dae vaderskapverlof nie? Volgens haar bevorder die nuwe wet glo gender-gelykheid. Pleks van in talle opsigte na gelykheid en eendersheid te soek, ook waar so iets nie te vinde is nie, sou dit dalk beter wees om eerder daadwerklike geslagsverskille en -rolle te erken.

    Willemien roem graag daarop dat sy polities so links moontlik is. Sy is ook ‘n militante feminis. Die manier waarop sy die huwelik en ouerskap benader, kan bevraagteken word. Die tragedie is dat sy die agterkleinkind van CJ Langenhoven is; maw Sagmoedige Neelsie is haar oupagrootjie. Hier onder toon ek aan dat haar lewe ingrypend deur hierdie feit beïnvloed word, maar dat sy terselfdertyd die kern van Langenhoven se ingesteldheid, sy Afrikanerskap, verloën.

    Dit herinner aan Wim de Villiers se Universiteit Stellenbosch (US), deesdae eerder Stellenbosch University, selfs Stellenbosch Diversity. Die US het doelbewus versuim om sy stigtingskenker, Jan Marais (1850-1915), ‘n eeu ná sy dood te huldig. Marais se stigtingvoorwaarde, dat Hollands/Afrikaans nie ‘n mindere plek as Engels aan die US mag beklee nie, word opsetlik geïgnoreer. Tydens die US-eeufees in 2018 is Marais se naam skaars genoem. As Marais swart was, sou ‘n mens op die kampus om elke hoek en draai met sy naam gekonfronteer gewees het. Marais se Afrikanerskap bring mee dat hy deur die getransformeerde US as onhuldigingsbaar beskou word.

    Dieselfde geld vir Langenhoven, nog ‘n uitnemende Afrikaner. Die US het in 1931 ‘n eredoktorsgraad aan Langenhoven toegeken. Hy het letterlik sy skedel aan sy alma mater bemaak. Die US kon sy skedel drie dekades na sy dood opeis, maar het dit nie gedoen nie. Dit is uitsonderlik dat ‘n Afrikaner soos Langenhoven se naam darem nog nie heeltemal van die US-kampus verdwyn het nie; heel moontlik omdat dit slegs in ‘n gekamoefleerde vorm geduld word, naamlik as Die Neelsie, die naam van die Studentesentrum. Die skrif is egter aan die muur. Die Neelsie se webtuistes is uitsluitlik in Engels. Die Neelsie loop myns insiens die gevaar om as bv The Nelson hernoem te word.

    Die US-senaat en -raad het die verengelsing van die US met min daadwerklike teenstand goedgekeur en die verlenging van Wim de Villiers se ampstermyn selfs eenparig. Dit is moontlik dat Die Neelsie se naam met soortgelyke algemene instemming verander sal word. Google “universiteit stellenbosch”. Al die leidrade na die US is in Engels. Vanaf die Engelse webtuiste kan ‘n mens darem nog na die Afrikaanse webtuiste gaan. Maar dit gebeur dikwels dat die Afrikaanse teks van ‘n item nog nie beskikbaar is nie. Die US is deesdae immers primêr Engels. Die uiterste pogings word ook deurgaans op die webtuiste aangewend om die US so swart moontlik voor te stel. Die US is in feitlik geen opsig meer ‘n Afrikaanse universiteit nie en sekerlik nie meer ‘n Afrikaner-universiteit nie. Dit wil selfs nie eintlik as ‘n Suid-Afrikaanse universiteit bekend staan nie. Wat deesdae bowenal begeer word, is dat die US as ‘n Afrika-universiteit bekend moet wees. Dit impliseer verswarting en gevolglik verengelsing. Daar word deur die US skynbaar geen flenter omgegee nie vir die hemelskreiende radikale transformasie wat hierdeur nie net aan die universiteit nie maar ook aan die dorp Stellenbosch opgedring word.

    CJ Langenhoven (1873-1932) het sy studentetyd aan die Victoria College (die latere US) as “‘n jarelange stuk woestynlewe” beskryf, onder meer omdat hy toe nog nie “‘n duidelike nasionaliteitsgevoel” gehad het nie (JC Kannemeyer, Die dienswillige dienaar: ‘n Langenhoven-fotoboek (Kaapstad: Tafelberg, 1995, teks by foto 19). In 1895 behaal hy die graad BA op Stellenbosch. Langenhoven is ‘n “onbestendige jongman” genoem (foto 23). Uit Kannemeyer se Langenhoven-biografie (1995 – kyk hier onder) blyk dat onbestendigheid, bv in die sin van dranksug en depressie (wat mekaar wedersyds beïnvloed), nie net die res van Langenhoven se lewe gekenmerk het nie, maar ook dié van sy nageslag. Hy het net een kind, Engela, gehad, wat eintlik ‘n volslae mislukking (bv alkoholis) was en ook ‘n groot teleurstelling vir hom, wat haar eens sy “Engeltjie” genoem het (foto 27).

    Reeds in 1910 het Langenhoven “Engels as die uiteindelike taal van Suid-Afrika” voorsien (foto 35). Omstreeks April of Mei 1910 het daar egter ‘n kentering in sy houding teenoor Afrikaans gekom. “Daarmee vind hy sy eintlike missie in die lewe, naamlik om te veg vir die regte van Afrikaans en om literatuur te skep wat die aansien van die taal sou verhoog” (foto 35). Voorheen was hy eerder anti-Hollands as anti-Afrikaans. Tydens die Rebellie (1914) het hy sy politieke lojaliteit van Louis Botha en Jan Smuts na JBM Hertzog en DF Malan verskuif. As provinsiale raadslid slaag Langenhoven in 1914 daarin om ‘n mosie aanvaar te kry dat skoolonderwys deur die medium van die moedertaal, bv Afrikaans, tot en met die vierde standerd toelaatbaar is (foto 40). In 1918 skryf hy die woorde van “Die Stem” (foto 42). In 1938 word dit een van die twee volksliedere van Suid-Afrika. In 1957 word “Die Stem” (en die Engelse vertaling) die enigste Suid-Afrikaanse volkslied. In 1920 word Langehoven ‘n Volksraadlid en in 1921 ‘n senator. “Op 25 Mei 1925 word Langenhoven se ywer vir die taalstryd beloon met die amptelike erkenning van Afrikaans as amptelike taal naas Engels” (foto 50).

    Cornelis Jacob Zetuin Langenhoven (1842-1923) was CJ Langenhoven se vader. Gedagtig aan die ramp wat Suid-Afrika in 1994 getref het en die agteruitgang van bv Afrikaans sedertdien, ook aan die US, het die grafskrif van CJZ Langenhoven besondere relevansie verkry: “Vader as jy maar weer / jou oë kan open / watter veranderinge / sal jy nie sien maar / jy is baie ver beter / waar jy vandag rus / in stilte” (foto 7).

    Engela (1901-1975) het in 1926 met ‘n tandarts, Niko Brümmer (1899-1967), getrou. Guillaume Brümmer (gebore in 1934) is hulle enigste kind en dus die enigste kleinkind van CJ Langenhoven. Guillaume het in 1963 met Laetitia Conradie (1936-2019) getrou. Hy het daarna ‘n dosent in wiskunde aan die Universiteit Kaapstad geword (1965-2000). Soos Engela wou Guillaume nie deel van Sarah Goldblatt (1889-1975) se propagandistiese “Langenhoven-industrie” wees nie. Guillaume “het te veel onder die skaduwee van die Langenhoven-verbintenis geloop, en dit was hoog tyd dat hy van dié dinge wegkom en sy eie lewe lei” (Kannemeyer, Langenhoven-biografie, besonderhede hier onder, p 43). Ná Goldblatt se dood het Guillaume egter teen wil en dank die administrateur van CJ Langenhoven se letterkundige nalatenskap geword. Aan die Engelse Universiteit Kaapstad wou hy hom eerder van Langenhoven distansieer. Hy kon dit doen omdat hy as wiskundige akademies uitnemend gepresteer het. Hy en Laetitia het vier kinders, waarvan Willemien (gebore in 1974) die jongste is. Sy het in 2014 met Pierre Barkhuizen getrou. Hulle seun se naam is Matthias. Omdat sy in mindere mate as haar pa presteer, is dit vir haar voordelig om haar Langenhoven-verbintenis tot eie voordeel te ontgin, al neem dit dikwels die vorm van ‘n anti-Langenhoven ingesteldheid aan.

    Willemien het honneursgrade in drama en joernalistiek aan die US verwerf en was in 2011 ‘n genoot in die US se departement joernalistiek. ‘n Afrikaner, Piet Cillié, het hierdie departement in 1978 begin, maar sedertdien het dit onder linkse departementshoofde geressorteer: Johannes Grosskopf (1984-1993, wie se seun Hein as ANC-lid in 1987 die bom by Sterland in Johannesburg geplant het waarin 26 mense beseer is), George Claassen (1994-2000) en Lizette Rabe (sedert 2001). In 2006 het Willemien ‘n magistergraad in skeppende skryfkuns aan die Universiteit Kaapstad voltooi. Meer hieroor volg hier onder.

    Oor JC Kannemeyer se biografie, Langenhoven, ‘n lewe (Kaapstad: Tafelberg, 1995, 728p), het ek by ‘n vorige geleentheid op Praag (16.05.2015) geskryf. Langenhoven het Afrikaans “my pêrel van grote waarde” genoem. Hy het ingesien dat “taalregte ‘n essensiële voorwaarde vir die volwaardige bestaan van sy mense in hierdie land is.” Langenhoven het in 1914 geskryf: ” Afrikaans … is die enigste band wat vir ons als ‘n aparte nasie aanmekaar bind.” Ook: Afrikaans is “die één band wat ons as nasie aanmekaar heg; die uitgedrukte siel van ons volk.” As verloopte Afrikaner sal Willemien nie saamstem met Langenhoven se hegte band tussen die Afrikanervolk en Afrikaans nie.

    Ek het al verskeie kere op Praag na Willemien verwys:

    19.08.2017: Haar bespreking van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS, 11de uitgawe, 2017) op Netwerk24, 4.08.2017). Sy insinueer dat Standaardafrikaans, soos Afrikaners, (minstens) ‘n eeu lank benepe was. Dit vind aansluiting by haar ongunstige uitbeelding van Afrikaners in haar drama, Braai (2014). Kaaps is glo een van Afrikaans se “kleurryke en verleidelike variëteite.” Een van die besware wat hierdie feminis opper, is: “Die AWS was baie jare lank die domein van wit mans.” Ek het destyds geskryf: Brümmer “wek die indruk dat sy (ongekwalifiseerd) ten gunste van swart oorheersing en die (slaafse) navolging van internasionale neigings is.” Daarenteen was Langenhoven se standpunt: “Ter wille van die naturel self, sowel as ter wille van die blanke, moet daar na ‘n oplossing gesoek word waardeur die oorheersing van die witman verseker word vir die toekoms” (Kannemeyer, Langenhoven-biografie, p 416). Willemien verwys ook (smalend) na die “taalbulle” en “heilige koeie wat bly bulk.”

    7.04.2018: Ek verwys hier slegs terloops na Willemien se verbintenis met die US se departement joernalistiek. Die boek van Gabriël Botma wat bespreek word, gee egter ‘n uitstekende beeld van bv die anti-Afrikaner dampkring waaruit Willemien kom en waarmee sy haar klaarblyklik vereenselwig. Daar is myns insiens geen moontlikheid dat Willemien haar onomwonde teen bv die moorde op blanke of Afrikanerboere of die verswarting en gevolglike verengelsing van die US sal uitspreek nie. Oor plaasmoorde vestig sy die aandag op swart eerder as wit lyding (Netwerk24, 13.08.2019). Sy wek die indruk dat sy nie juis simpatie met die blanke slagoffers het nie; dat hulle kry wat hulle verdien. Sy impliseer ook dat die Grensoorlog onnodig was (Netwerk24, 7.11.2019). Skynbaar is geen standpunt vir haar te links nie.

    23.06.2018: Plaasmoorde word gekenmerk deur van die diepste smart denkbaar. “Om oor so ‘n pynlike situasie te berig, behoort in die kraam van bv die smartvraat-joernalis Willemien Brümmer te pas. As iemand wat op haar radikale politieke oorverligtheid roem, het sy, sover ek weet, nog nooit so ‘n rampgebied besoek en daaroor ‘n berig gepubliseer nie.” Kort hierna het sy my dalk verkeerd probeer bewys deur ‘n onderhoud te voer met gesinslede van die vermoorde eienaar van ‘n padstal buite Stellenbosch. Dit was egter glad nie ‘n tipiese plaasmoord nie. Sy het ook versuim om die moord en moordenaars te veroordeel. Ek noem ook dat sy ‘n onderhoud met die oud-MK-soldaat en -terroris, Jeremy Vearey (Praag 26.05.2018) gevoer het en “kritiekloos en selfs bewondered oor hom … skryf.” Sy het ook ‘n striemende aanval op Danie Langner, die besturende direkteur van die FAK, geloods. “In haar jongste skrywe lê sy haar pa [wat aan demensie ly] woorde in die mond ter verkleinering van ‘Die Stem’, wat glo ‘in elk geval nie ‘n goeie gedig [is] nie. Dis te blikkerig, te vol trompetgeskal, veels te eensydig in die klem op Afrikaners as “knegte van die Allerhoogste”. Die opvatting van Afrikaners as ‘n uitverkore volk, “teen die hele wêreld vry”, is in elk geval deur die geskiedenis geweeg en te lig bevind. Anders as jy [Langner] en jou organisasie [die FAK] roem ons nie op ons verlede nie. Ons sien ook nie “Die Stem” as ‘n simbool van Afrikaner-identiteit nie. Dit mag jou dalk ontstel, maar daar is duisende, dalk miljoene Afrikaanssprekendes wat met pres Ramaphosa saamstem dat “Die Stem” en die ou landsvlag simbole van diskriminasie, verdrukking en ellende is.’ Die politiek van hierdie skepsel behoort vir iedere Afrikaner absoluut verwerplik te wees.” Dit is die soort anti-Afrikanergif wat Naspers/Media24 deesdae graag publiseer.

    4.08.2018: Hier word daar slegs terloops na Willemien se Vearey-onderhoud verwys. Maar ek stel die vraag: Sou Brümmer en nog ‘n joernalis, Hanlie Retief, so bewonderend oor Vearey en sy boek geskryf het “as Vearey as MK-terroris van hulle familielede uitgewis het?”

    Deur die soekfunksie van Netwerk24 te gebruik, kan Willemien se ander koerantartikels gelees word. Wat opval, is dat sy, wat as moeder maar vyf jaar ondervinding van ‘n enkele kind het, graag raad aan ander uitdeel asof sy oor besonder gesaghebbende kennis en insig beskik. Foto’s van die Barkhuizen-gesin word oor en oor gepubliseer. Myns insiens dui dit op erge subjektiwiteit en narsisme by die skryfster. Dieselfde indruk word ook deur die titel van haar boek gewek en deur die inhoud bevestig: Die dag toe ek my hare losgemaak het (Kaapstad: Human & Rousseau, 2008, 144p; Amazon Kindle $18,40). Die boektitel is ook die titel van een van die dosyn kortverhale. Drie van die verhale is voorheen elders gepubliseer.

    Die teks in die boek is in meerdere of mindere mate verwerkings van die manuskrip wat Willemien in 2006 vir die verkryging van ‘n magistergraad in skeppende skryfwerk ingelewer het. My geheelindruk is dat haar verhale enersyds erg geforseerde en smartvol gebaarde konstruksies is en andersyds dat verbeeldingskrag, wat so noodsaaklik by fiksieskrywers is, by haar ontbreek. Diegene wat met haar skryfwerk en bv Kannemeyer se Langenhoven-biografie bekend is, sal tot die gevolgtrekking kom dat ons hier wesenlik met outobiografiese inligting te make het, wat ietwat aangepas is, bv die name en om die verhale “interessanter” te probeer maak. Vir my as leser is nie een van die verhale bevredigend nie. In my Amazon-beoordeling het ek twee uit vyf sterre aan die boek toegeken. Nogtans het Willemien die graad met lof ontvang. Haar Langenhoven-verbintenis kon hier ‘n rol gespeel het. Sy het boonop ‘n beurs vir hierdie studie ontvang.

    Hierdie gebeure bevestig my siening dat kursusse in skeppende skryfwerk nie deur universiteite aan aspirantskrywers aangebied behoort te word nie; veral nie vir ‘n gevorderde graad (soos magister, wat die deur tot ‘n doktorsgraad kan wees) nie en liefs vir geen graad nie. In taalkursusse vir die graad BA kan aan studente wel (beperkte) onderrig in skryfwerk gegee word, maar dan van ‘n afrondende aard. Die grondslag vir goeie skriftelike uitdrukking behoort reeds op skool gelê te word, hoewel ek natuurlik bewus is van die dalende gehalte, sedert 1994, van skoolonderrig in Suid-Afrika. Ek sou in elk geval graag die eerlike mening van ‘n ervare kortverhaalskrywer en -kenner, soos Abraham H de Vries, oor hierdie bundel wou hoor. Vir my is dit duidelik dat Willemien nie ‘n verbeeldingryke, skeppende kunstenaar is nie, maar bloot ‘n bevooroordeelde, selektiewe verslagdoener. Ek dink sy behoort na dese te besef dat sy eerder ‘n joernalis as ‘n fiksieskrywer is. In die res van hierdie rubriek bepaal ek my aandag by haar boek.

    In die boek is Mia Albertyn die hoofkarakter en verteller. In die voorwoord en in die eerste paragraaf van die eerste verhaal word Langenhoven genoem. Sy beeld haar pa as ‘n skeikunde-professor uit. Ná nog ‘n verwysing na haar deurmekaar ouerhuis in Tamboerskloof, handel die tweede verhaal oor die familieplaas buite Ladismith in die Klein-Karoo. Dit is die Desembervakansie ná sy standerd 4 (graad 6) voltooi het. Op hierdie jeugdige ouderdom is sy reeds haar polities verligte self. Sy wil nie hê dat die bruin plaaskinders haar “kleinnooi” noem nie. Hulle verwys na hulle “matchbox-huisie” (Kindle 215), ‘n term en siening wat eerder eie aan die volwasse Willemien is. Daar is glo “‘n onsigbare muur” tussen wit en bruin mense (245) wat Mia in woord en daad probeer afbreek. Sy is blykbaar vroeg seksueel oorryp. Op haar inisiatief speel sy as laerskoolkind “donkerkamertjie” met ‘n ouer bruin plaasseun (297). “As ons die lig afsit, sal niemand kan sien of ons witmense of bruinmense is nie” (307). Sy lewer ‘n hoogs onoortuigende maar polities byderwetse uitbeelding van kinderspel.

    In die derde verhaal verwys Mia na haar ouerhuis se deurmekaar kombuis, waarvan die vloer smerig is (soos later blyk), en sy is beswaard oor een van haar familiename, Ragel. Dit is werklik nie die moeite werd om iedere verhaal te probeer vertel nie, onder meer omdat daar maar min storie in is. In die verhale wat volg vertel sy van haar ma se onvermoë om kos te maak en hoe sy haar ma op ‘n onbeholpe manier hiermee help. Sy skryf ook oor die intieme verhoudings wat sy as jong meisie met ongetroude en getroude mans gehad het; soos Azille Coetzee onlangs ook gedoen het. Seksuele losbandigheid is blykbaar skering en inslag van verligtheid. “Ek het al baie boyfriends gehad … en ek het nog presies dieselfde issues” (1712). Sy stel haar in Engels voor aan die Afrikaanssprekende Nick du Toit (532).

    Mia besoek Beaufort-Wes, waar haar ouma Ragel (Engela) lank gewoon het en “nie altyd so lekker gevoel [het] nie” (922). “Die bottel Gilbeys was ‘n permanente susmiddel wat die werklikheid draagliker moes maak” (1554). Sy vertel ook van haar oeroumagrootjie wat aan depressie gely en selfmoord gepleeg het. Haar pa se (fiktiewe) suster, Aletta genoem, en een van haar kinders is in ‘n motorongeluk dood toe Aletta “poepdronk” was (1785). Een van Mia se mansvriende vra (tereg): “Was jou hele familie verstreurd?” (1090). Mia het ‘n sielkundige en ‘n terapeut en word in die hospitaal vir depressie behandel. ‘n Verpleegster vra: “Enige familiegeskiedenis van geestesversteurings?” (1541). Sy antwoord: “My ma sê daar’s ‘n geskiedenis van maniese depressie – aan my pa se kant. En party van my voorouers het gedrink” (1563). “Uit ‘n sekere perspektief gesien het nie een van hulle aan die waansin ontsnap nie” (1865). In die laaste verhaal is Mia getroud en het ‘n kind, maar haar man het gevlug toe die kind drie maande oud was. Dit klink glad nie onrealisties nie, maar Willemien het eers jare ná die publikasie van die boek ‘n man en kind gekry.

    Uit Goethe se Faust word aangehaal: “Wat jy van jou vadere geërf het: verdien dit self om dit te besit” (1936). Anders as Langenhoven en haar pa, moet Willemien nog haarself bewys. ‘n Mens kan maar net hoop dat die volgende administrateur van Langenhoven se letterkundige nalatenskap iemand is wat waardering vir Langenhoven, “Die Stem” en die Afrikanerdom het; dus iemand anders as Willemien.

  • Leon Lemmer: Christo van Rensburg oor die geskiedenis van Afrikaans

    Leon Lemmer: Christo van Rensburg oor die geskiedenis van Afrikaans

    Die taalkundige, Christo van Rensburg (1938-2018), het in die huidige dekade twee boeke gepubliseer wat polities byderwets die rol van nie-blankes in veral die ontstaan van Afrikaans oorbeklemtoon. Dit het meegebring dat hy ‘n gewilde spreker was by byeenkomste van Afrikaansinstansie wat deesdae oorgraag die geskiedenis van Afrikaans wil herskryf/”regstel” deur die rol van blankes, veral Hollanders en Afrikaners, af te skaal. Waarna gemik word, is ‘n onderskrywing van die Nederlandse taalkundige, Hans den Besten, se oordrewe 1987-stelling: “Was dit nie vir die agentskap van die inheemse Khoekhoen (Khoi-Khoin) en ingevoerde Afrika- en Asiër-slawe-arbeid nie, sou daar geen Afrikaans gewees het nie” (Aangehaal deur Danny Titus in WAM Carstens & Michael le Cordeur, reds, Ons kom van vêr, Tygervallei: Naledi, 2016, p 195). Die onderliggende byderwetse politieke motivering hiervoor is voor die hand liggend.

    So kry ons Afrikaans

    Die eerste boek van Christo van Rensburg wat hier ter sake is, is So kry ons Afrikaans (Pretoria: Lapa Uitgewers, 2012, 159p, R165). Die voorwoord is deur Michael le Cordeur, in sy hoedanigheid as voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR), geskryf. Ingevolge die ATR se oriëntasie was “dit nodig dat die verhaal oor die ontstaan van Afrikaans opnuut nagevors word sodat die volle (gedeelde) geskiedenis van Afrikaans en die mense wat Afrikaans praat, vertel kon word. Op hierdie wyse probeer ons wegbeweeg van die geskiedenis wat ons as Afrikaanse gemeenskap verdeel het … Die doelwit was om eens en vir altyd die misverstande oor waar Afrikaans vandaan kom, finaal by te lê” (p 9). Die politieke motivering vir die herskryf van Afrikaans se geskiedenis blyk dus duidelik. “Met hierdie werk wil die ATR opnuut die veelfasettige afkoms van Afrikaans beklemtoon en die nou byna afgesaagde gesegde dat Afrikaans ‘n witmanstaal is, finaal in die kiem smoor; omdat ons hier die navorsing aanbied wat bewys dat Afrikaans die eiendom is van almal wat Afrikaans praat” (10).

    Le Cordeur verwys hier na CJ Langenhoven (1873-1932) se stelling oor Afrikaans: “Hij is die enigste witmanstaal wat nie onmiddellik oor die see kom nie” (JC Kannemeyer, Langenhoven, ‘n lewe, Kaapstad: Tafelberg, 1995, p 269). Dit is duidelik dat Langenhoven Afrikaans met Engels gekontrasteer het. Hy het hiermee erken dat Afrikaans ook plaaslike wortels het. Langenhoven beweer nie dat Afrikaans uitsluitlik die taal van blankes is nie. Le Cordeur se frase, “Afrikaans die eiendom is van almal wat Afrikaans praat,” klink na ANC-retoriek, soos dat die land aan almal behoort en blankes se eiendom dus sonder vergoeding onteien mag word. Le Cordeur se dislojaliteit jeens Afrikaans het duidelik geblyk toe hy hom ongekwalifiseerd ten gunste van die verengelsing van die Universiteit Stellenbosch (US) uitgespeek het. Dít het terselfdertyd die ATR gekarakteriseer omdat die ATR hom nie van Le Cordeur gedistansieer het nie.

    Van Rensburg stel die inheemse perspektief voorop. Hy begin sy eerste hoofstuk deur te vertel hoe die Khoi-Khoin die verbyvarende skepe waargeneem het. Getrou aan sy opdraggewer (die ATR) se standpunt, skryf hy: “‘n Taal soos Afrikaans bestaan uit al sy variëteite” (p 11). Maar hy wend geen poging aan om te besin oor die mate waarin die mengteltaal Kaaps Afrikaans is nie. Kaaps is ‘n brousel van hoofsaaklik Afrikaans en Engels. Dit behoort as ‘n tussentaal eerder as ‘n variant van Afrikaans beskou te word. Die Académie française bevorder Standaardfrans en nie enige variant daarvan nie. Die Académie verskans Frans ook aktief teen veral verengelsing (Wikipedia). Al word die voortbestaan van Frans nie bedreig nie, is dit ‘n gesonde benadering. Dit spreek van etniese en taaltrots.

    Anders as by Frans word die voortbestaan van Afrikaans bedreig. Desnieteenstaande gaan Afrikaansinstansies, veral die ATR en die ATKV, voort om Afrikaansvariëteite en by voorkeur Kaaps te bevorder. Pleks van taaleenheid met Standaardafrikaans as grondslag aan te moedig, word taalverdeeldheid bevorder terwyl daar juis in eenheid krag is. Standaardafrikaans is die enigste vorm waarin Afrikaans agbaar kan oorleef. Dit is immers saamgestel uit die Afrikaansvariëteite, insluitende Kaaps in soverre dit nie Engels is nie. Taalsuiwerheid word egter deur geen Afrikaansinstansie aktief bevorder nie. Geradbraakte Afrikaans, veral weens verengelsing, neem toe en niks word gedoen om hierdie verwording van Afrikaans teen te werk nie.

    Kaaps word voorgestel as ‘n aanvaarbare vorm van Afrikaans, gevolglik neig al hoe meer nie-Kaapssprekers ook om ‘n mengsel van Afrikaans en Engels te praat. As Afrikaans net in geradbraakte vorm oorleef, is dit nie die moeite werd om vir die voortbestaan daarvan te veg nie. Eerbare Afrikaans is ‘n taal uit eie reg wat duidelik van Engels onderskei kan word. Polities oorverligtes beweer Afrikaans floreer steeds en hulle vestig dan die aandag op die aanwesigheid daarvan op radio en televisie, in liedjies en in opvoerings by bv kunstefeeste. Maar op die gehalte van daardie Afrikaans word nie ag geslaan nie. Kaapssprekers het al dikwels erken dat hulle hulle brouseltaal gebruik om Afrikaners te tart. Polities korrek word hierdie laakbare gedrag nie deur Afrikaansinstansie gekritiseer nie. Dit dui op die gebrek aan sowel selftrots as etniese trots, insluitende taaltrots, by baie blanke Afrikaanssprekendes.

    Van Rensburg vertel hoe sommige Khoi-Khoin Aanleerdershollands gepraat het as gevolg van kontak met matrose op Hollandse skepe. Maar daardie matrose was nie noodwendig Hollanders nie. Die groot stede aan die Noord- en Baltiese See, bekend as die Hanse-liga, het voor en tydens Van Riebeeck se tyd eeue lank die handel in daardie gebied oorheers. Naas Hollands is bv Duits en Skandinawiese tale sekerlik deur baie van die matrose gepraat. Dit geld ook vir die vroeë koloniste aan die Kaap: “Die meeste immigrante in daardie tyd was Duitsers” (34). Van Rensburg beweer dat Hollands “stadigaan ook onder die Khoi-Khoin ‘n moedertaal geword het” (18). Hy noem dit Khoi-Afrikaans (20). Dit hinder my dat Van Rensburg van Nederlands in Van Riebeeck se tyd praat terwyl Holland eers in 1814 Nederland geword het. Ook dat hy van die begin af van Afrikaans in die Khoi-Khoin-konteks praat en nie van bv proto- (eerste, oer-) Afrikaans nie.

    Hy spreek by implikasie ook sy seën oor die ATR-benadering uit deur te skryf: “Die naam ‘Kaaps’ vir die voortsetting van hierdie Khoi-Afrikaans is al dikwels daarvoor gebruik” (20). Oor die Kaapse hawegebied skryf Van Rensburg: “Die Afrikaans van die eerste [oorgelewerde] teks is daar gepraat. Dié Afrikaans word Kaaps genoem” (36). Sodanige stellings voed die gewilde hedendaagse stommiteit dat Afrikaans deur die Khoi-Khoin en van 1658 af deur die slawe in bv kombuise aan die Kaap geskep is en daarna deur die blankes oorgeneem of gesteel is. Naas Khoi-Afrikaans praat Van Rensburg van Slawe-Afrikaans (27). Dit was seker net enkele Khoi-Khoin wat verstaanbaar met taal (eerder as gebare) met die matrose kon onderhandel: “Die Khoi-Khoin het nie in groot getalle met die Nederlanders [Hollanders] kontak gemaak nie. Die meeste Khoi-Khoin het in die binneland gewoon” (18). Van Rensburg se Khoi-Afrikaans was geen groot volksbeweging wat Hollands gou aan die Kaap laat verkrummel het nie.

    In die 17de eeu het daar nie net Hollandse skepe om die Kaap gevaar nie, maar ook bv Engelse skepe, waarvan die matrose nie noodwendige almal Engelse was nie. Maar die Khoi-Khoin het daar op ‘n manier soortgelyk aan Aanleerdershollands seker ook Aanleerdersengels leer praat. Volgens Van Rensburg het Afrikaans in 1495 ontstaan (148) – volgens sy 2018-boek moet dit 1595 wees (17) – dus meer as ‘n halfeeu voor die koms van Jan van Riebeeck vanweë enkele Khoi-Khoin wat met matrose Hollands probeer praat het (148). Ek wag nog op ‘n oorverligte taalkundige wat beweer dat Kaaps in sy Engelsbesoedelde vorm lank vóór 1652 deur die Khoi-Khoin aan die Kaap gepraat is.

    Die Engelsbesoedeling van Kaaps dateer egter eers van 1795 of veral 1806 af, dus van die eerste of tweede Engelse besetting van die Kaap. Van Rensburg erken by implikasie dat sy hipotese dat Afrikaans vyftig jaar voor Jan van Riebeeck se koms deur die Khoi-Khoin gepraat is, “nie in opgetekende vorm oorgelewer [is] nie” (20); dus dat sy stelling nie op gedokumenteerde inligting berus nie; dus bronlose spekulasie of verligte wensdenkery is. Die skaarste aan betroubare inligtingsbronne (bv “Besonderhede oor hoe die slawe gepraat het, is maar skraps” – 55) bied ruimte vir vertolkings in pas met wat tans om etniese en ideologiese redes in polities korrekte geledere verlang word. Dit kan op miteskepping neerkom (92).

    Van Rensburg verwys na vryburgerboere (29) terwyl baie vryburgers nie geboer het nie maar op ander maniere, bv deur die beoefening van ambagte, hulle brood verdien het. “Omtrent die helfte van die vryburgers was boere” (30) (in sy 2018-boek, hier onder, word dit ‘n derde – 50). Die eerste burgers is in 1657 vrygestel. “Nuwe taalenergie kom los. Dit het met Afrikaans gou ná die koloniste se aankoms gebeur” (29). Daar kon kwalik so vroeg sprake van Afrikaans gewees het. Die geografiese isolasie van die Kaap weens die groot afstand en die swak verbindings met Holland en die res van Europa sou mettertyd noodwendig plaaslik veranderinge, bv vereenvoudiging, in die Hollandse spreektaal en nog later die skryftaal meebring, maar hiervoor is nie-blanke beïnvloeding nie noodsaaklik nie.

    Taalveranderinge en -aanvullings was nodig om doeltreffender uitdrukking aan die plaaslike omstandighede, wat aansienlik van dié in Europa verskil, te gee. In ander Hollandse oorsese gebiede, bv wat tans as Indonesië en Suriname bekend staan, het dieselfde gebeur. Dit lyk dus oordrewe om soos Den Besten te beweer dat daar geen Afrikaans sonder die invloed van die Khoi-Khoin en die slawe kon wees nie. Afrikaans was wesenlik ‘n aanpassing of dialek van Hollands/Nederlands wat mettertyd danksy die aanvaarding daarvan deur baie blankes tot ‘n taal uit eie reg ontwikkel het. Dit is moontlik gemaak danksy die arbeid van feitlik uitsluitlik blanke taalkundiges, bv die skrywers van grammatika-handleidings en die opstellers van woordeboeke. “Die Nederlandse aandeel aan Afrikaans kon nog altyd erken word, soos vandag ook” (66).

    Miteskepping vind tans algemeen in die herskrywing van Suid-Afrika se geskiedenis plaas. Jan van Riebeeck het oor die Kaapmans/Khoi-Khoin geskryf dat hulle “pretenderen’ dat hulle “dit Caepse lant van allen eeuwen” besit (151). Dít is die oorsprong van die titel van Hermann Giliomee se boek oor die bruin mense: Nog altyd hier gewees (2007). Dat nie-blankes ‘n (geringe) rol in die ontstaan van Afrikaans gespeel het, word reeds baie lank erken. Byvoorbeeld, hierdie feit vind sedert 1975 sigbare uitdrukking en erkenning in die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl (94). “Ná ‘n eeu was daar min verskille tussen Khoi-Grensafrikaans en Veeboer-Grensafrikaans” (47), maar “die [blanke] veeboere se Afrikaans [het] nie ‘n Khoi-onderbou gehad … nie” (48). Oor hierdie twee soorte Grensafrikaans skryf Van Rensburg: “Dit was nie maklik om die … twee uitmekaar te hou nie” (54). “Ná ‘n eeu was daar baie min verskille tussen Khoi-Grensafrikaans en Veeboer-Grensafrikaans” (47). “Baie van die kenmerkende taalpatrone van Khoi-Grensafrikaans is gedeel met die veeboere se Afrikaans en het lateraan Standaardafrikaans geword” (48). Daar word beweer dat “die bakermat van Afrikaans juis dáár in die binneland lê” (55), waarmee die aandeel van blankes erken word. Dít klink meer aanvaarbaar as die hedendaagse gewoonte om die Bo-Kaap in Kaapstad tot die bakermat van Afrikaans te verhef, soos bv Anne-Marie Beukes, in haar hoedanigheid as voorsitster van die ATR, gedoen het; dus om uitsluitlik of by voorkeur die aandeel van bruin mense te erken.

    Van Rensburg tref ‘n onderskeid tussen Moslemafrikaans (of Bo-Kaaps – 86) en die taal van ander sprekers van Kaaps (87). Daar word verskeie kere verwys na die dislojaliteit wat baie bruin mense teenoor Afrikaans openbaar. Achmat Effendi het bv verkies om sy verkiesingsveldtog vir ‘n setel in die Kaapse parlement in Engels te voer (87). Nadat die Kaap in 1795 en weer in 1806 ‘n Engelse kolonie geword het, het die sprekers van Kaaps al hoe meer verengels. “Kaaps het nou ook ‘n duidelike invloed getoon van die Engels wat die hooftaal van Kaapstad geword het” (88). “Engelse invloed [was] al van vroeg af deel van Kaaps” (115-116).

    Die geskiedenis word deesdae in verskeie opsigte herhaal. Byvoorbeeld, tydens die Bataafse bewind (1803-1806) het Jan Willem Janssens tydens sy besoek aan die grensgebied agtergekom dat die inwoners self vir orde en hulle veiligheid gesorg het. “Die regerings … het nie werklik in hulle sake belang gestel nie” (66). In die nuwe Suid-Afrika doen ‘n soortgelyke situasie hom voor.

    In 1822 het Charles Somerset met sy verengelsingsbeleid begin (87). “Die plattelandse gebiede, Stellenbosch, Paarl en Franschhoek, het dieselfde patroon van verengelsing as in die sentrale Kaapse gebied gevolg. Dit het gebeur ten koste van Afrikaans. Buite die Kaap was die tempo van verengelsing net stadiger” (88). Die onderrigtaal van die Universiteit Kaapstad en die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) is deesdae uitsluitlik Engels. Die Universiteit Stellenbosch (US) verengels al hoe meer ten koste van Afrikaans. Al verskil is dat dit aan die US stadiger as aan die UWK geskied.

    Sedert 1902 het Alfred Milner se verengelsingsbeleid veroorsaak dat mense teen wil en dank Engels in bv winkels moes praat (112). Deesdae is dit dieselfde storie. Anders as voorheen verstaan die assistente in bv die plaaslike Woolworth-winkel nie eens Afrikaans nie, wat nog te sê van dit praat. Vanoggend het dieselfde met my in die plaaslike poskantoor gebeur. “Daar [is] ook te maklik met die verengelsingsbeleid van Milner saamgewerk” (112). Dieselfde kan aan bv die US van die ANC se voorkeur vir Engels gesê word. Van Rensburg verwys na “die onsensitiewe afdwing van Engels deur nuwe bewindhebbers” (137).

    Wat vir Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika van wesenlike belang is, is nie hoe hy ontstaan het nie. Die vraag is veel eerder hoe hy kan oorleef. Deel van dié oorlewingstrategie moet wees om die kankers wat Afrikaans kan vernietig, te identifiseer en hulle uit te roei. Dit moet nie net gaan om die erkenning van soveel sprekers moontlik wat “Afrikaans in al sy variëteite” praat nie. Die gehalte van Afrikaans is van deurslaggewende belang. “Die beeld van ‘n taal verander positief as prestasies van gehalte daaraan gekopppel word” (111). “Kwaliteitswerk in Afrikaans het gehelp om Afrikaans sy sprekers se voorkeurtaal te maak” (112).

    Van Kaapse Moslemafrikaans word gesê: “Soms kan kenmerke van hulle Afrikaans ook in hulle Engels gehoor word” (127). Andersom is dit natuurlik nie ‘n kwessie nie. Daardie “Afrikaans” is deurspek met Engels. “Kaaps is ook glad nie meer net ‘n praattaal nie” (128). Byvoorbeeld, Rapport en LitNet staan deesdae oorgraag ruimte aan geskrewe Kaaps af. “Engels was eintlik die taal waarmee hulle [Moslems/bruin mense] aan die Kaapse gemeenskapslewe deelgeneem het, en is die voorkeur as skryftaal en kultuurtaal” (127). Piet Uithaalder/Abdullah Abdurahman se “Kaaps illustreer daardie variëteit se lang kontak met Engels” (129).

    “Dit is interessant om die keuse van Kaaps [in Adam Small se] literêre werk te sien as ‘n protes teen die gebruik van gestandaardiseerde Afrikaans” (30). Die linkse Antjie Krog het al erken dat haar doelbewuste gebruik van geradbraakte Afrikaans dieselfde doel dien. Van Rensburg verwys na tale wat heeltemal deurmekaargeklits word (54). In soverre Kaaps ‘n mengeltaal van sowel Afrikaans as Engels is, behoort dit onomwonde as ‘n hedendaagse euwel geïdentifiseer, veroordeel en bestry te word omdat dit Afrikaans in sy oorlewingstryd ondermyn. In hierdie opsig behoort Afrikaansinstansie soos die ATR en ATKV hulle beheptheid met politieke korrektheid af te skud. By hulle behoort dit om suiwere taaloorwegings te gaan.

    In laaste instansie berus die toekoms van Afrikaans myns insiens by die taalgetroues, die lojales, dus by diegene wat ‘n passie vir veral Standaardafrikaans het, trots daarop is en dit uitleef. Van Rensburg verwys na “geborgenheid in Afrikaans” (142). “Taalintegriteit [moet] nie ingeboet word nie” (138). “Standaardafrikaans [is] eintlik ‘n dialek wat bokant Afrikaans se dialekte bestaan” (117). Ek hou van hierdie polities nie-korrekte hiërargie. “‘n Bodialektiese standaardtaal … dwing dialekte … na die standaardtaal” (125). Dit is waarom dit so belangrik is dat die massa-inligtingsmedia (pers, rolprent, radio, televisie en internet) Standaardafrikaans kompromisloos moet uitdra. In die praktyk is dit egter glad nie die geval nie.

    Daar moet nie toegelaat word dat Afrikaans (op groot skaal) deur Engels vermurwe word nie. “In variëteite waar die remmende invloed van Standaardafrikaans nie so sterk gevoel word nie, kan Engelse invloed die maklikste gesien word. In Kaaps, waar Engelse invloed die langste geskiedenis het, het dit al deel van die eie taaltradisie geword” (139). Watter etniese groepe by die ontstaan van Afrikaans betrokke was, is deesdae van mindere belang. Die vervloë vermoë om Hollands skeef en krom te praat, was nie ‘n uitsonderlike kreatiewe prestasie van nie-blankes nie. Aan wie veel eerder afdoende erkenning gegee moet word, is aan diegene wat Afrikaans ontwikkel, gestandaardiseer en uitgebou het; dus Afrikaners.

    Daar is bv die rol wat die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) gespeel het, asook diegene wat vertaalwerk (bv die Bybel in Afrikaans) gedoen, spelreëls opgestel, asook grammatikaboeke, woordeboeke en skoolhandboeke saamgestel en gepubliseer het. Van Rensburg verwys hierna en ook na skrywers wat romans, gedigte, verhoogstukke en liedjies (ook die Psalms en Gesange) in Afrikaans geskryf het. Dan is daar ook die Afrikaanse koerante, populêre en vaktydskrifte, rolprente, radio- en televisie-uitsendings. Die rol wat dosente en navorsers in die Afrikaanse letter- en taalkunde gespeel het, is nog nie na behore erken nie. In baie gevalle kan hulle “taalidealiste” genoem word (120). ‘n Nie-politiek-korrekte feit wat Van Rensburg nalaat om te noem, is dat dit hoofsaaklik blankes (en veral mans) is wat hierdie arbeid so voortreflik verrig het.

    Van Afrikaans gepraat

    Die volgende boek van Christo van Rensburg is onlangs gepubliseer: Van Afrikaans gepraat (Pretoria: Lapa Uitgewers, 2018, 155p, R250). ‘n Engelse weergawe, Finding Afrikaans, het terselfdertyd verskyn. Die teks is ‘n verwerking en aanvulling van sy 2012-boek. Hy herhaal bv sy gewilde stommiteit: “Khoi-Afrikaans dateer van 1595 af” (17).

    Die klem val steeds op wat nie-blankes tot Afrikaans bygedra het. Terselfdertyd word die bydrae van Afrikaners onderbeklemtoon. Die ontstaan van Afrikaans word ingeklee as die wisselwerking van ‘n mengelmoes van tale en etnisiteite. “Al hoe meer mense het steeds by die Kaap aangedoen, en al hoe meer tale is hier gehoor” (20). “Werk in die Ooste [bv in wat tans as Indonesië bekend staan] was ‘n uitkoms vir Europeërs wat van heinde en verre bymekaargeraap is” (24). Van Rensburg verwys na “die transtaligheid en die multikulturele lewenswyse” aan die destydse Kaap (44). Maar dit is die bydrae tot Afrikaans van die Khoi-Khoin en die slawe wat beklemtoon word. Byvoorbeeld oor die Maleise slawe: “Hulle het baie [?] ander woorde en taalverskynsels ook in die Kaap laat wortel skiet” (27). In die onderlinge kontak het “daar naas die bestaande Khoi-Afrikaans ook ‘n Verversingsposafrikaans aan die Kaap tot stand gekom” (44).

    In taalsake, soos in baie ander opsigte, neem die elite die leiding. Die Nederlandse taalkundige, GG Kloeke, het in 1950 van die standpunt uitgegaan dat “Afrikaans deur die hoë sosiale klasse aan die Kaap gevorm” is (45). Van Rensburg, daarenteen, soek en vind die oorsprong van Afrikaans by die laagste sosiale klasse. Waaraan hy nie genoeg aandag skenk nie, is dat Afrikaans nooit tot ‘n taal uit eie reg, met algemene en amptelike erkenning, sou ontwikkel het as die nageslagte van die vroeë blanke sprekers (Hollanders en ander Europeërs, bv Duitsers en later Franse, bv die Hugenote van 1688 af) nie beslag aan die plaaslike omvorming of aanpassing, bv vereenvoudiging, van Hollands gegee het nie.

    Oral ter wêreld lê die elite se taalgebruik die grondslag van die standaardtaal. Dít is nie (nog) ‘n benadeling wat plaaslik deur die blankes ten koste van die nie-blankes uitgedink en toegepas is nie. Van Rensburg neem egter standpunt teen Standaardafrikaans ten gunste van Kaaps in: “Gestandaardiseerde Afrikaans was die medium waardeur die landsregeerders so veel regte van die mense wat Kaaps praat, aangetas het” (77). Sy ongedurigheid met Standaardafrikaans strek verder: “Standaardafrikaans is niemand se moedertaal nie. Dit is ‘n kode vir gebruik in besondere gevalle. Niemand praat presies so nie. Daarteenoor is dialekte natuurlike tale” (118). Maar die verbrokkeling van Afrikaans in dialekte het nie die krag van die eenheid wat noodsaaklik vir die oorlewing van Afrikaans is nie. Hoe meer die meerderheid Afrikaanssprekendes die Standaardtaal navolg en verengelsing teenstaan, hoe gunstiger sal Afrikaans se toekoms word.

    Afrikaans se fundamentele verwantskap met Europese tale, soos Hollands/Nederlands en Duits, word deur Van Rensburg grootliks agterweë gelaat. “Hollands [was] nooit die algemene spreektaal aan die Kaap … nie” (19). Selfs die invloed van die Hollandse skryftaal word afgeskaal: “Die veeboere se leesvaardigheid was uiters beperk, wat Bybelinvloed sou beperk het” (65). Polities korrek gaan dit vir hom om inklusiwiteit, diversiteit en verinheemsing. Dieselfde klein groepie erkende Afrikaanse woorde word telkens herhaal om die invloed van bv die Khoi-Khoin en die slawe te illustreer. “Wanneer ondersoekers soek na die antwoord op die knaende vraag waarom alle mense nie hulle taal eenders gebruik nie, kom hulle by die hart van Afrikaans uit” (p 9). Afrikaans word voorgestel asof dit in groter mate as ander tale onder ‘n swetterjoel variëteite gebuk gaan terwyl met die oog op oorlewing taaleenheid in die vorm van Standaardafrikaans eerder bevorder moet word.

    Dat Oosterse (dus nie-blanke) eerder as Westerse (dus blanke) invloed op Afrikaans begeer of gesoek word, blyk uit Van Rensburg se bespreking van die woord baie. “Die Afrikaanse woord baie het duidelike Oosterse wortels” (36). Dit word teruggevoer na die Maleise woord bannyak of banjak. “Die gebruik van die variante van baie deur sprekers van al Afrikaans se variëteite wys hoe wyd vroeë Maleise invloed versprei het” (37). Van Rensburg noem darem: “Daar moet gerus ook na die Platduitse woord bannig gekyk word, is al gesuggereer … [Daar] is data beskikbaar oor die voorkoms van bannig in Duitsland, maar daarin is niks te vind wat naastenby met baie of sy variante ooreenkom nie” (36). Van Rensburg gee gevolglik voorkeur aan die Maleise herkoms van baie. In Gerhard van Huyssteen se rubriek is onlangs egter uitgewys dat die Platduitse herkoms meer waarskynlik kan wees. Ook dat die Franse woord bien aan die Latynse woord bene ontleen is en goed, mooi of ‘n klomp beteken (Netwerk24, 28.09.2018).

    Politieke korrektheid is aan die orde van die dag. Van Rensburg verwys na Francisco d’Almeida wat in 1510 in Tafelbaai aan land gegaan het. “In ‘n skermutseling met die Khoi-Khoin het hy en byna 100 lede van sy geselskap die lewe gelaat” (15). Hulle was nie die eerste of laaste blankes wat in Suidelike Afrika deur inboorlinge om die lewe gebring is nie. “Vir die seevaarders uit Portugal was dit ‘n aanduiding om die Kaap te vermy, hulle het aangedikte [!] verhale oor die wreedheid van die Kapenaars onder die seevaartgemeenskap versprei, en self uit die Kaap weggebly” (15). Later word dit “die Portugese seevaarders se bangmaakstories” genoem (17). Maar daar word ook vertel hoe die Khoi-Khoin die vryburgers se beeste gesteel en gesaaides verniel het (52). Inheemse steel- en moordsug ten koste van Europeërs het reeds vóór 1652 hulle opwagting gemaak en is steeds met ons.

    Van Rensburg probeer om Hollandse invloed op die taalsituasie aan die Kaap af te skaal en by implikasie die aandeel van blankes in veral die vroeë of voorgeskiedenis van Afrikaans. “Die seelui het ‘n ander soort Hollands as die administrasieamptenare gepraat, en die groot aantal soldate ook … Daar was nie geleenthede dat hulle invloed op die soldate en matrose se taalgebruik kon uitgeoefen het nie” (48). Hier het standverskille en verskillende Europese tale ‘n rol gespeel. Die beweerde invloedloosheid van die taal van die plaaslike Vereenighde Oostindische Compagnie- (VOC-) bewind moet egter bevraagteken word. Hollands was van 1652 tot 1795 en van 1803 tot 1806 die enigste amptelike geskrewe taal aan die Kaap. Owerhede kan taalgewys hoogs invloedryk wees. Dink aan die vooruitgang wat Afrikaans sedert 1948 tydens die Nasionale Party-bewind gemaak het en die ingrypend nadelige invloed wat die ANC-regering sedert 1994 op Afrikaans het.

    Van Rensburg verwys na “die vermeende Europese herkoms van Afrikaans” (140). Die wesenlik Hollandse/Nederlandse aard van Afrikaans, word deur Van Rensburg die “herkomsmite” genoem. Daarmee word glo beweer: “Afrikaans kom uit die buiteland” (109). Die waarheid is: Afrikaans kan nie sonder meer ‘n Europese of ‘n Afrika-taal genoem word nie. Dit is deels ‘n Europese en deels ‘n taal wat plaaslik deur veral blankes ontwikkel is. Diegene wat dít doen, word egter deur Van Rensburg daarvan beskuldig dat hulle “verdelend oor Afrikaans … oordeel” (109). Inklusiwiteit geniet by hom voorrang; onder meer die goedkeurende insluiting van Kaaps by Afrikaans, wat die dood in die pot vir ons moedertaal gaan wees of dalk reeds is, as ‘n mens met kommer waarneem hoe geradbraak omgangs-“Afrikaans” geword het.

    “Verbygangers wat opmerkings oor die vryburgerboere se taal gemaak het, het vertel van hulle swak Nederlands [Hollands]. Maar hoe kon dit anders? Onder die vryburgers van die eerste dekades was daar een Pool, een Italianer, een Skot, twaalf Engelse, ‘n paar Dene en Noorweërs en sowat 40 Swede. ‘n Aantal vrygestelde slawe uit Afrika en die Ooste was ook vryburgers. Hulle almal moes ‘n kommunikasietaal tweedehands aanleer … Sowat 175 Franse Hugenote het in 1688 hier as ‘n groep aangekom. Hulle het Nederlands [Hollands] maar swak gepraat, soos aanleerders … Die meeste vroeë immigrante was Duitsers” (52-53). Van Rensburg gee hoog op oor die rol wat die Khoi-Khoin se aanleerderstaal (Afrikaans of seker eerder Hollands) in die geskiedenis van Afrikaans gespeel het. Maar uit wat in hierdie paragraaf staan, kan afgelei word dat die aanleerderstaal van die blanke koloniste insgelyks invloedryk kon/moes gewees het. Die groot aantal Duitsers en Skandinawiërs bevestig die invloed van die Hanse-liga, waarna hier bo verwys is.

    Karel Schoeman het in ‘n 2014-publikasie beweer sommige van die eerste vryburgers was “half opgewerkte mans” nadat hulle enkele jare vir die VOC aan die Kaap gewerk het (49). “In 1658 het die eerste slawe in die Kaap aangekom om die onwillige [lui?], oorwerkte [!] en skaars arbeiders aan die Kaap te vervang … Slawe-eienaars sonder inisiatief [?] het ‘n permanente stempel op die kolonie afgedruk en sosiale verhoudings het ook ‘n durende knou gekry” (28). Dwarsdeur die boek word die identifisering van mense as blank of nie-blank vermy. By die Khoi-Khoin was daar ‘n tradisie van nie-werk of leeglê, wat aanleiding tot die invoer van slawe gegee het.* In hierdie sin kan nie-blankes eerder as die blankes die skuld vir die destydse slawerny aan die Kaap gegee word. Hou ook in gedagte dat daar nie-blanke slawe-eienaars was* waarop die karakterisering van “sonder inisiatief” (ook) van toepassing gemaak kan word.

    [* In sy boek, Kaap van slawe (Tokai: Historical Media, 2012, 204p, R267), noem Marthinus van Bart dat die Koina/Khoi-Khoin “vanweë hul eeue-oue nomadiese veeherderskultuur nie swaar hande-arbeid wou verrig en pal op een plek wou woon nie” (p 115); ook dat “heelparty” Asiate en vryswartes slawebesitters was (106; ook 108). Ek noem vervolgens enkele ander interessanthede in Van Bart se boek.

    “In 1663 is ‘n openbare kerkskool [aan die Kaap] gestig waar wit, bruin en swart slawekinders saam godsdiensonderrig ontvang het. Die wit kinders wie se ouers dit kon bekostig, moes skoolgeld betaal, maar die bruin en swart kinders het gratis onderrig (pro Deo) ontvang” (13). Hierdie einste soort rassediskriminasie ten koste van blankes is steeds met ons.

    ANC-kruipsug bring mee dat die plaaslike geskiedenis deesdae wan voorgestel word. Die Iziko-Slawemuseum in Kaapstad “beeld ‘n weersinwekkende verhaal van die ‘Dutch’ se slawevergrype dramaties uit. Die Britte word as die bevryders van die slawe geskets” (17) terwyl die Britte die grootste slawehandelaars was. Nick Merriman skryf: “England, and later Great Britain, got fat on the backs of slaves, becoming the biggest slave-trading nation of earth” (70). “Gedurende die Eerste Britse Bewind [1795-1803] het Britse slawehandelaars die monopolie van die slawehandel op die Kaapse seeroete gehandhaaf. In die sewe-en-‘n-half jaar van dié bewind aan die Kaap is meer slawe hierheen ingevoer as in enige ander tydperk van dieselfde lengte” (85). Hier bo dien “Dutch” as kode vir Afrikaners/Boere. Slawerny word deur die Iziko-Slawemuseum uitgebeeld as gelykstaande aan “the apartheid of the Nats” (184). Die Britte het selfs slawehandel in blankes bedryf: “Van 1600 tot 1699 is meer Iere as Afrikane in slawerny gedwing en in die Amerikas verkoop” (57). Sowat 1 300 Britse en Ierse weeskinders en jeugmisdadigers is teen 1837 aan die Kaap as wit slawe verkoop (91, 143).]

    Soos in sy vorige boek wek Van Rensburg weer die (valse) indruk dat nie-blankes Afrikaans geskep het. Hierdie vroegste Afrikaans word uiters verwarrend Kaaps genoem en in die middel van die 17de eeu (dus in Van Riebeeck se tyd) gesitueer en in die konteks van die Moslems, dus slawe, vermeld. Die eerste slawe het in 1658 in die Kaap aangekom. ‘n Mens kan die afleiding maak dat die Moslemslawe, volgens Van Rensburg, dadelik begin meehelp het om Afrikaans te skep; blykbaar met ‘n hupstootjie van die klein getal Khoi-Khoin wat met verbyvarende matrose en die pas aangekome setlaars taalkontak gehad het. “Die slawe het ‘n trotse literêre skryftradisie hier voortgesit” (38).

    “Kaapse Afrikaans het gou nóg so ‘n taal geword wat met Arabiese tekens geskryf is, vandaar die naam Arabiese Afrikaans wat ook daarvoor gebruik word (naas Moesliemafrikaans). ‘n Vernugtig aangepaste Arabiese skryfstelsel is van 1815 af gebruik om godsdiensgeskrifte in Kaaps te skryf … Die gebruik om Afrikaans in Arabiese skrif te skryf, het vir nog meer as ‘n eeu aangehou, tot in 1945” (39). “Dit is opvallend dat die oudste teks in [samehangende] Afrikaans [1673] in Khoi-Afrikaans opgeteken is, en die eerste boek in Afrikaans [1856] is ook in ‘n Kaapse [Moslem]dialek geskryf” (41; ook 25, 40, 76). “Teen 1838 is die meeste van die slawe aan die Kaap in die Skiereiland gebore en moedertaalsprekers van die gevestigde dialek van Afrikaans, Kaaps” (42).

    Van Rensburg “onderskei tussen die [hedendaagse] Kaaps van Moesliemsprekers en dié van ander sprekers van [hedendaagse] Kaaps” (41). “Kaaps, waarin beide Khoi-Afrikaans en Slaweafrikaans, asook ander tale [bv Maleis en Portugees] geïntegreer is, speel ‘n baie belangrike rol in Afrikaans se geskiedenis. In ‘n veeltalige kontaksituasie het Kaaps gefloreer. Hierdie dinamiek kan raakgesien word in die manier waarop Kaaps steeds gepraat word” (43). Die mooi klinkende woord “dinamiek” sluit die afkeurenswaardig oordrewe gebruik van Engelse woorde in. Maar Van Rensburg hou blykbaar hiervan. Eenogig het hy waardering vir die “keurige Afrikaans” wat bv sportmense deesdae praat (131) terwyl ek my dikwels daarvoor skaam.

    “Letterkunde van ‘n besonder hoë kwaliteit is later in Kaaps geskryf. Die bekroonde Adam Small [1936-2016] was die baanbreker. Sy Kaaps het deur die hele land bekend geword, en ongelukkig [!] het baie lesers, ook skoolkinders, verby die verset daarin gelees. Sy verse en dramas tel onder die beste wat Afrikaans kon opgelewer” (77). Dit is oordrewe lof, soortgelyk aan dié van Wim de Villiers wat Small onlangs “one of our greatest thinkers” genoem het (LitNet 26.11.2018). Small het meerdere kere beurse vir studie in die wysbegeerte in sowel Londen as Oxford ontvang, maar kon nooit ‘n doktorale proefskrif suksesvol voltooi nie. Wat opval, is dat Van Rensburg (en natuurlik ook De Villiers) nêrens soortgelyke lof vir werklike groot Afrikanergeeste, soos NP van Wyk Louw, uitspreek nie.

    “Beïnvloeding deur ander tale is die eerste teken van die aanslag op trekgemeenskappe se taal” (94). Dit is wat gebeur wanneer Afrikaners immigreer. Byvoorbeeld, in Engelstalige lande word Afrikaners se moedertaal binne enkele geslagte deur Engels verswelg. Maar Afrikaanssprekendes wat in Suid-Afrika aanbly, kan hulle moedertaal suksesvol teen sodanige verswelging verskans deur Afrikaans so suiwer moontlik te gebruik en veral Kaaps te bestry in soverre dit Engels is. Diegene wat emigreer, redeneer: “Oorlewing is belangriker as identiteit” (94). Afrikaners wat verkies om in Suid-Afrika te bly woon, behoort sowel oorlewing as die behoud van hulle identiteit/kultuur na te jaag. Een van die (onfeilbare) maniere om dit te doen, is selfbeskikking, verkieslik in ‘n eie etniese tuisland.

    Van Rensburg se politieke transformasie blyk duidelik uit die volgende: “Afrikaans was die sleutelwoord om die Afrikanerdom se geïdealiseerde en verlore glorie [na die Anglo-Boere-oorlog] te herstel [veral van 1948 af]. Hierdie ywer het ekstreme afmetings aangeneem. Daar kon moeilik van nasionalisme gepraat word sonder om ook van Afrikaans te praat. Die gevolg daarvan? ‘n Merk wat nie maklik uitgewis word nie” (128). “Van die begin van daardie [20ste] eeu af het nasionalisme groot aantrekkingskrag vir Afrikaanssprekendes [eerder: Afrikaners] gehad, en die nasionale gedagte het Afrikaans op sy beurt vir hom toegeëien. In die tweede helfte van die twintigste eeu het dit toenemend ‘n remskoen geword. Afrikaans moes van toe af wys dat hy die taal van Suid-Afrikaners is, wat dit erns met hulle taal bedoel” (130-131). “Betrokkenheid by Afrikaans moet betrokkenheid by Suid-Afrikaners word” (130).

    Hiermee word die net myns insiens te wyd gespan en die prys word te hoog. Dit is ‘n wanvoorstelling om te beweer dat Afrikaners Afrikaans as uitsluitlik die eiendom van blankes beskou het. Wat wel waar is, is dat suiwer of ordentlike Afrikaans as die kern van die Afrikanerdom beskou kan word en dat Afrikaners ongetwyfeld die leeue-aandeel in die ontwikkeling van Afrikaans gehad het. Om die plaaslike geskiedenis van vóór 1994 as fundamenteel boos voor te stel – “‘n Merk wat nie maklik uitgewis word nie” – is kenmerkend van diegene wie se pro-Afrikanergesindheid (-gees, insluitende rasionaliteit) deur transformasiepropaganda verpulp is. Kultureel is Afrikaners fundamenteel eerder Afrikaners as Suid-Afrikaners. Dit is slegs in burgerlike opsig, dus as inwoners, bv as belastingbetalers, dat Afrikaners voortgaan om Suid-Afrikaners te wees. Diegene wat die Afrikaner by voorkeur in breër kontekste, bv as Suid-Afrikaner of Afrikaan, plaas, doen dit in ‘n poging om die identiteit van die Afrikanerdom te verwater.

    Hoe buitensporig Van Rensburg getransformeer is, blyk verder duidelik uit ‘n bedenklike opmerking soos die volgende: “Dit was vir die apartheidsregering baie maklik om Afrikaans as ‘n apartheidstaal te stigmatiseer” (137). “Apartheidsregering” en “apartheidstaal” is albei hoogs oordrewe, propagandistiese begrippe. Sowel die blanke regering van destyds as Afrikaans het in oorweldigend baie opsigte kenmerke en funksies wat niks met die politiek te make het nie. “Die wêreld van Afrikaans van voor 1994 het ingrypend verander. Afrikaanse taalregte het voorregte geword” (147). Van Rensburg skryf dit sonder om beswaar te opper. Afrikaans het daarvolgens net nog ‘n onverdiende voorreg van (voorheen) bevoorregte blankes geword; dus nie iets onontbeerliks wat met toewyding en opoffering daargestel is nie; asof menseregte nie taalregte insluit nie.

    Hy sal nooit daartoe instem dat Kaapssprekers tereg gewys word oor hulle buitensporige en onnodige gebruik van Engels nie. “Party van die opvolgers van Afrikaans se vroeë taalaktiviste het ongelukkig die rol van ‘n waghondbrigade met vermanings van ‘moenie so skryf nie’ en ‘moenie so praat nie’ begin speel” (133). Van Rensburg verkies eerder taalanargie. Let op hierdie tipiese verligte maar dwase opmerking van Van Rensburg: “Maar hoekom moet ‘n stryd met Engels aangeknoop word? Afrikaanssprekendes ken saamleef met ander groot tale … Die tyd van regte opeis teen Engels behoort lankal verby te wees” (145). Volgens hom moet Afrikaners dus nie vir groter taalsuiwerheid en die voortbestaan van Afrikaans stry nie; dus nie taalbulle wees nie, al is “Engels goed geposisioneer … om Afrikaans te beïnvloed” (145) en selfs te verswelg.

    Dít is Van Rensburg se houding terwyl hy weet dat morsige Afrikaans al hoe meer voorkom: “In Gespreksafrikaans, dwarsoor die Afrikaanse gebruikerspektrum, by alle sprekers, op alle terreine, kan Engelse invloed uitgewys word. Dit neem nog steeds toe … Engels verryk ook, bedreig nie net nie. Verryking kan waardeer word, solank taalintegriteit nie ingeboet word nie. Taalintegriteit het te make met ruimte vir die ontwikkeling van die eie. En selfvertroue om die eie taal te gebruik waar dit nodig is. En selfs om trots te wees op wat die Afrikaanse taalinstrument kan vermag. Maar so iets kan nooit afgedwing word nie!” (146). Deur ruimskoots uit Engels oor te neem, boet Kaaps (en omgangs-Afrikaans) ongetwyfeld taalintegriteit in en ontmoedig dit eie taalkreatiwiteit. Die slegte voorbeeld wat Kaapssprekers in hierdie opsig stel, word al hoe meer deur nie-Kaapssprekers, insluitende blankes, nagevolg, gevolglik word die taaltrots van Afrikaanssprekendes ondermyn.

    Van Rensburg verkondig “dat al Afrikaans se variëteite gelyk is” (137). In watter sin? In die sin dat hulle almal (in meerdere of mindere mate) bestaan. Maar hulle kan nie gelyk in invloed of belangrikheid wees nie, want party het bv baie en ander het min sprekers. Wat van deurslaggewende belang is, is dat bv Kaaps nie die oorlewing van suiwer of ordentlike Afrikaans in dieselfde mate as Standaardafrikaans kan verseker nie. Eintlik kan die brouseltaal Kaaps eerbare Afrikaans glad nie in sy stryd om naas Engels te oorleef, help nie, juis omdat Kaaps reeds eeue lank Engelsbesoedel is en al hoe meer só word. Van Rensburg skryf dat Khoi-Afrikaans, wat hy uitermate vertroetel, “steeds deel van Kaaps” is (17). Daarom sal hy Kaaps nie verwerp nie; selfs nie bloot in die groot mate wat Kaaps Engels is nie. Hieroor en om talle ander redes, wat ek hier bo probeer aantoon het, is dit my oortuiging dat Afrikaans deur die publikasie van hierdie boek eerder benadeel as bevoordeel word. Dít is allermins ‘n gunstige getuigskrif vir ‘n Afrikaanstaalkundige.

  • Johannes Comestor: Twee Afrikaansinstansies ondermyn Afrikaans

    Johannes Comestor: Twee Afrikaansinstansies ondermyn Afrikaans

    Conrad Steenkamp, die voltydse besturende direkteur van die Afrikaanse Taalraad (ATR), het my destyds op LitNet (1.11.2016) uitgedaag om my “uiteenlopende opinies en opvattings” oor die ATR op skrif te stel. Ek het moeite gedoen en met ‘n teks van tien getikte bladsye gereageer. LitNet het verkies om my teks nie te publiseer nie. Op my versoek is die artikel, “Waarom die Afrikaanse Taalraad nie ‘n Afrikaanse taalraad is nie,” op Praag (13.11.2016) gepubliseer. Dan Roodt het Steenkamp destyds gevra om op Praag te reageer maar hy het versuim om dit te doen.

    Op LitNet (16 07 2018) het Marnus Kok, ‘n Netwerk24-joernalis van Bloemfontein, geskryf oor ‘n gesprek oor die toekoms van Afrikaans wat hy by die Vrystaatse Kunstefees bygewoon het. Sprekers soos Theuns Eloff en Dever Breda het opgetree, maar Kok het tot die oortuiging gekom dat hierdie gepraat nie Afrikaans se toekoms sou verbeter nie. Hy dink aksie is nodig.

    Ek het soos volg gereageer (LitNet 18.07.2018): “Marnus, dit is ironies om te spesifiseer waar begin moet word om mense ten bate van Afrikaans te aktiveer. Eerstens, Afrikaansinstansies soos die ATKV, ATM, ATR, FAK, LitNet en die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns behoort byeen te kom en gesamentlik op ‘n plan van aksie te besluit en dit toe te pas. Tweedens, Afrikaansdosente moet as deel van hierdie plan individueel genader word en versoek word om aktief aan die stryd om die behoud van Afrikaans, insluitende hierdie gesamentlike aksie, deel te neem. Wanneer ek op LitNet en elders ‘n beroep op die genoemde instansies en persone doen om hulle vir Afrikaans en daarby suiwer(der) Afrikaans te beywer, is daar geen reaksie nie. Erger, daar is Afrikaansdosente wat openlik daarop roem dat hulle nie deel van die taalstryd wil wees nie. Met so ‘n gesindheid word Afrikaans kwalik redbaar. Wanneer ek pro-Afrikaans op Netwerk24 reageer, val dit op dat daar meesal geen ondersteunende reaksie is nie. Die apatie/onverskilligheid by Afrikaansinstansies en -dosente het na die Afrikaanssprekende publiek deurgesuur. Eens Afrikaanse universiteite moet geteiken word om tot inkeer te kom wat Afrikaans betref eerder as om hoop op private universiteite met beperkte finansiële middele te vestig.”

    Conrad [Steenkamp] het soos volg gereageer (LitNet 29.07.2018): “Johannes, jy noem: “Eerstens, Afrikaansinstansies soos die ATKV, ATM, ATR, FAK, LitNet en die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns behoort byeen te kom en gesamentlik op ‘n plan van aksie te besluit en dit toe te pas.’ Het jy één voorstel vir hierdie ‘plan van aksie’ en hoe dit toegepas kan word?” Steenkamp se reaksie kan as ‘n (neerbuigende) uitdaging vertolk word. Ek het juis op 18 Julie probeer om nie verdere gemeenplasighede kwyt te raak nie en eerder ‘n plan van aksie uit te stippel. Maar soos CJ Langenhoven gesê het: “‘n Halwe begryper het ‘n goeie woord nodig.”

    Ek het toe ‘n artikel van vier bladsye onder die opskrif, “‘n Manifes vir Afrikaans,” geskryf en op 1 Augustus na LitNet vir publikasie gestuur. Omdat ek reeds jare lank eerstehandse ervaring van LitNet se voorliefde vir sensuur het (enigiets wat nie polities korrek genoeg is nie, word sonder verduideliking geïgnoreer), het ek op dieselfde dag hierdie artikel ook direk aan Steenkamp gestuur. Voorspelbaar het LitNet nie my artikel gepubliseer nie en soos gebruiklik geen verduideliking verskaf nie. Seker net so voorspelbaar is dat daar geen reaksie van Steenkamp was nie; nie eens die beleefdheid van ontvangserkenning nie.

    Die geskiedenis van 2016 het hom pas herhaal: (1) Steenkamp daag my op LitNet uit om my standpunt te stel. (2) Ek doen dit. (3) LitNet weier om my teks te publiseer. (4) Steenkamp word ‘n ander kanaal vir reaksie gebied maar hy versuim om daarvan gebruik te maak. Wat skandalig is, is dat die indruk op LitNet gewek word dat ek nie in staat is om op Steenkamp se uitdagings te reageer nie, terwyl die teenoorgestelde die geval is: dat Steenkamp nie op my omvattende reaksies kan of wil reageer nie. Ek dink dit is gewoon ‘n skande dat twee Afrikaansinstansies, LitNet en die ATR, saamspan om Afrikaans te ondermyn.

    LitNet is die hoofplatform vir die propagering van die brouseltaal Kaaps en duld gevolglik geen pleidooi vir suiwer(der) Afrikaans op sy webwerf nie. Ton Vosloo het dit reeds in die aanloop tot die stigting van die ATR in 2008 duidelik gemaak dat dit vir die ATR in die eerste plek nie om die bevordering van Afrikaans gaan nie, maar om ‘n politieke doel, naamlik versoening. Soos in die geval van LitNet word Kaaps eerder as Standaardafrikaans bevorder. Wat bygevoeg moet word, is dat sowel LitNet as die ATR vir hulle voortbestaan van die finansiële ondersteuning van Naspers/Media24 afhanklik is. Die tragedie is dat suiwer(der) Afrikaans gevolglik nie deur hierdie twee Afrikaansinstansies (daadwerklik) ondersteun word nie. Geldsug bestendig sodoende die ondergang van ordentlike Afrikaans. Afrikaans as ‘n taal wat duidelik van Engels onderskeibaar is, is besig om in sy swernoot te gaan.

    Met die uitsondering van ‘n enkele sin (wat te make het met die vertraging van my reaksie en wat dus nie meer ter sake is nie) bestaan die res van hierdie artikel uit ‘n woordelikse aanhaling van my artikel wat op 1 Augustus aan LitNet gestuur is.

    ‘n Manifes vir Afrikaans

    Johannes Comestor

    Johan van Wyk het in sy rubriek, Van alle kante (Die Burger, 2.12.2017, p 10), geskryf dat Afrikaans se posisie sedert 1994 “dramaties verswak” het. “Die ironie is dat dit met die hulp en ondersteuning uit Afrikaanse geledere bewerkstellig is. ‘n Nog groter ironie is dat dít wat veronderstel was om Afrikaans lewend te hou, naamlik om dit te praat, nog nooit so morsig soos in die afgelope 23 jaar gedoen is nie … wanneer het ons dan so loslit en so slapgat geword?”

    Afrikaans verkeer in ‘n stryd om oorlewing. Diegene vir wie Afrikaans belangrik en erns is, behoort iets daaromtrent te doen. As individu kan ek nie veel vermag nie, al spreek ek my ernstige kommer al meer as twee dekades lank uit … Daarbenewens sukkel ek dikwels om my standpunt gepubliseer te kry. As ek op bv Netwerk24 ‘n pro-Afrikaansbetoog lewer, word dit nie gepubliseer nie of daar is feitlik geen reaksie of ondersteuning nie. Die heil van Afrikaans is nie meer ‘n saak wat voorrang by baie Afrikaanssprekendes geniet nie. My taalgenote is skynbaar siek en sat vir “taalbulle” soos ek.

    Daar word verkeerdelik veronderstel dat wat ek skryf nie polities korrek is nie, terwyl ek bloot die belange van Afrikaans hoër as ander oorwegings stel. Iemand soos Denver Breda skryf enkele kere op LitNet oor bv Khoisan-taal en word dan spoedig uitgenooi om sy standpunt by byeenkomste te stel. Die Afrikaans Taalmuseum en -monument (ATM) hou die een byeenkoms na die ander oor bv die invloed van die destydse slawe op Afrikaans omdat die ATM se fokus “tans op die miskende variëteite en geskiedenisse van Afrikaans” is (Michael Jonas, Rapport, Weekliks, 28.01.2018, p 10). Inligting oor Khoisan- en slawe-invloed kan interessant wees, maar hulle invloed op Afrikaans was minimaal en lewer nie ‘n bydrae tot die oorlewingstryd waarin Afrikaans verkeer nie.

    As ons werklik begeer dat Afrikaans moet oorleef, is dit noodsaaklik dat die klem op Afrikaans geplaas word en nie op bv versoening, meertaligheid, die voortreflikheid van die koloniale taal Engels as wêreldtaal, die variëteite van Afrikaans, ens, nie. Eerstens behoort daar ‘n onmiskenbare verbintenis tot die bevordering van Afrikaans te wees. Tweedens moet daar ondubbelsinnig duidelikheid verkry word oor watter soort Afrikaans bevorder behoort te word. Dit moet tog sekerlik ‘n Afrikaans wees wat die moeite werd is om voor te stry, ‘n Afrikaans waarop ons trots kan wees, ‘n Afrikaans wat ‘n taal uit eie reg is, dus nie geradbraakte Afrikaans waarin onnodige Engelse woorde in oorvloed aanwesig is nie.

    Op LitNet is daar talle voorbeelde van gesprekke wat ek oor die jare met bv Afrikaanstaalkundiges gevoer het. Iedere keer het die gesprek gestuit by dieselfde rubikon, wat my gesprekgenote nie wou oorsteek nie: Dat ‘n veldtog vir taalsuiwerheid gevoer moet word, dat ons die moed van oortuiging moet hê om te sê dat Engelsbesoedelde Afrikaans nie aanvaarbaar is nie. Watter Afrikaansvariant is die geskikste vir bevordering? Daar is klaarblyklik net een, naamlik Standaardafrikaans, wat deurlopend aangepas word en nie uit die lug gegryp is nie maar uit die Afrikaansvariëteite gedistilleer is. Afrikaanstaalkundiges soos Tom McLachlan, jare lank lid van die Taalkommisie, en Willem Botha, die hoofredakteur van die WAT, het hulle al ten gunste van taalsuiwerheid uitgespreek maar hulle van kritiek op Kaaps weerhou.

    Die kernprobleem is dat Kaaps ‘n mengsel van Afrikaans en Engels is. Daar word veronderstel dat die meeste bruin mense Kaapssprekers is, dat Kaaps ‘n variant van Afrikaans (eerder as van Engels) is, dat die meeste Afrikaanssprekendes dus bruin is en dat dit vorentoe in toenemende mate die geval gaan wees, gevolglik is die toekoms van Afrikaans deurslaggewend van bruin mense afhanklik en nie van blanke Afrikaanssprekendes nie. Die rede waarom Afrikaanstaalkundiges wegskram van pleidooie vir taalsuiwerheid is klaarblyklik omdat hulle Kaapssprekers nie aanstoot wil gee nie. Daarmee ignoreer hulle die feit dat talle bruin mense naas Kaaps ook uitstekende Standaardafrikaans magtig is. Daar kan ‘n diepgevoelde behoefte by sommige/baie Kaapssprekers wees om suiwer(der) Afrikaans te praat. Dmitri Jegels het tydens navorsing in Manenberg vasgestel dat bruin ouers verlang dat hulle kinders suiwer oftewel Standaardafrikaans en -engels moet praat (Frank Hendricks en Charlyn Dyers, redakteurs, Kaaps in fokus, Stellenbosch: Sun Media, 2016, p 106-107).

    Deur op suiwer(der) Afrikaans aan te dring, word sowel blanke as bruin Afrikaanssprekendes oor hulle taalgebruik aangespreek. Kaaps word nie in sy geheel ongewens verklaar nie, maar slegs in soverre dit Engels is en wanneer dit gaan om die soort Afrikaans wat vir eerbare oorlewing wenslik is. Kaapssprekers kan en sal ongetwyfeld voortgaan om hulle mengeltaal ongestoord te praat. As bv Afrikaanstaalkundiges die moed het om taalsuiwerheid te bepleit, sal dit taalhigiëne bevorder. Sowel blanke as bruin Afrikaanssprekendes sal dan hopelik in groter mate poog om Standaardafrikaans te praat, soortgelyk aan die manier waarop hulle sedert 1994 onverminderd Standaardengels probeer praat.

    In Nederland is in 2015 ‘n taalmanifes gepubliseer om wal teen verengelsing te gooi (WAM Carstens en EH Raidt, Die storie van Afrikaans, Deel 1: Uit Europa en van Afrika, Pretoria: Pretoria Boekhuis, 2017, p 399, 516). In Suid-Afrika bestaan daar ‘n veel groter gevaar van verengelsing as in Nederland. ‘n Andersoortige manifes vir Afrikaans is nodig, sodat ooreengekom kan word oor wat onder Afrikaans verstaan word en wat gedoen moet word om die voortbestaan van daardie Afrikaans te bevorder. Teen die einde van verlede jaar is so ‘n manifes gepubliseer (Leon Lemmer, ‘n Manifes vir Afrikaans, Praag 8.12.2017), maar dit het min kommentaar ontlok en geen konkrete resultate opgelewer nie.

    Omdat die Afrikaansmanifes as ‘n werks- of gespreksdokument gepubliseer is, het ek die vrymoedigheid om dit soos volg aan te pas.

    Afrikaansmanifes

    Ons as Afrikaanssprekendes verklaar hiermee dat

    ● ons trots op Afrikaans is

    ● ons groot waarde aan Afrikaans as volwaardige taal heg

    ● ons eis dat Afrikaans as amptelike taal tot sy reg kom

    ● ons Afrikaans oral en altyd gebruik waar en wanneer dit enigsins sinvol is

    ● ons bereid is om telkens vir Afrikaans in die bres te tree

    ● ons daarop aandring dat afdoende skool- en naskoolse onderrig in Afrikaans beskikbaar moet wees

    ● ons Afrikaans so suiwer moontlik hou en gebruik

    ● ons veral teen die verengelsing van Afrikaans waak

    ● ons Standaardafrikaans as rigsnoer koester

    ● ons volhard met die Europees-vastelandse grondslae van Afrikaans

    ● ons Kaaps, in soverre dit Engels is, nie as ‘n geskikte oorlewingsvorm van Afrikaans beskou nie.

    Oor elkeen van hierdie elf items kan daar gedebatteer word. Oor die toepassing van elk kan verduidelikings gegee word. Byvoorbeeld, oor die vierde item kan genoem word dat Afrikaanssprekendes geneig is om hoflikheidshalwe in Engels te antwoord as hulle in Engels aangespreek word, of erger dat baie Afrikaanssprekendes geneig is om vreemdelinge eerder in Engels as in Afrikaans aan te spreek. Myns insiens behoort Afrikaanssprekendes vreemdelinge in Afrikaans aan te spreek en in Afrikaans te antwoord wanneer hulle in Engels aangespreek word en met Afrikaans vol te hou totdat dit duidelik is dat die ander persoon nie Afrikaans verstaan nie. Deur anders op te tree, word by implikasie te kenne gegee dat Engels meerderwaardig is, terwyl daar geen grondige rede is waarom Afrikaans as minderwaardig beskou behoort te word nie.

    My plan van aksie, my reddingsboei, vir Afrikaans is dat ‘n Afrikaansinstansie, soos die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, wat seker die omvattendste Afrikaansinstansie is, ‘n Afrikaansmanifes soos die bostaande aan ander Afrikaansinstansies en aan al die Afrikaansdosente of hulle departemente sirkuleer vir aanpassings en kommentaar en hulle dan pols oor die wenslikheid/noodsaaklikheid van ‘n gesamentlike byeenkoms oor die toekoms van Afrikaans, met ‘n veldtog ter bevordering van (groter) taalsuiwerheid as een van die oogmerke. Die ander Afrikaansinstansies hoef nie op die Akademie te wag om die eerste skuif te maak nie. Byvoorbeeld, Conrad Steenkamp van die ATR, of enige van die ander Afrikaansinstansies, kan die bal aan die rol sit deur die (aanvanklike) leiding te neem en daarmee aan te toon dat Afrikaans vir hom erns is.

    Na dese behoort die ideaal van inklusiwiteit ten alle koste, bv “Dit maak nie saak hoe jou Afrikaans klink nie,” deur ‘n normgewende beginsel vervang te word, bv “Afrikaans as wesenlik ‘n nie-Engelse taal,” ‘n Afrikaans wat uit eie reg naas Engels kan voortbestaan, dus ‘n Afrikaans wat nie soos Kaaps kennis van Engels veronderstel voordat dit verstaan kan word nie. ‘n Voorspelbare argument waarmee asseblief nie vorendag gekom moet word nie, is dat geen taal suiwer is nie. Dit is duidelik dat ‘n suiwerder Afrikaans moontlik en wensliker is as die geradbraakte Afrikaans waarmee ons daagliks gekonfronteer word. Die status van Afrikaans as ‘n taal uit eie reg, dus as ‘n taal wat duidelik van Engels onderskeibaar is, moet herstel word. Dit is die soort Afrikaans wat Afrikaanssprekendes opnuut trots op hulle taal kan maak en hulle kan aanmoedig om Afrikaans tot in die verre toekoms te handhaaf.

  • Leon Lemmer: Kruipsug by die hoëpriesters van Afrikaans

    Leon Lemmer: Kruipsug by die hoëpriesters van Afrikaans

    CJ Langenhoven (1873-1932) het ‘n deurslaggewende rol in die 1925-erkenning van Afrikaans as amptelike taal gespeel. Deesdae sou hy as ‘n taalbul bekend gestaan het. Oor Afrikaans het Langenhoven geskryf: “Hij is die enigste witmanstaal wat nie onmiddellik oor die see kom nie” (JC Kannemeyer, Langenhoven: ‘n Lewe, Kaapstad: Tafelberg, 1995, p 269). Let op die “hij” – nie “sij” nie. Afrikaans is “ons kostelikste roem, ons hoogste besitting: die één enigste witmanstaal wat in Suid-Afrika gemaak is en nie oor die seewater klaar gekom het nie, wat die spore van lief en leed dra van alles wat ons vadere hier deurleef en deurworstel en deurtriomfeer het; die één band wat ons as nasie aanmekaar heg; die uitgedrukte siel van ons volk” (331-332). Vir vollediger inligting kyk: “CJ Langenhoven oor Afrikaans: ‘My pêrel van grote waarde’” (Praag 16.05.2015).

    Deesdae word Langenhoven verguis omdat hy Afrikaans ‘n witmanstaal (of witmenstaal) genoem het. Dit is egter ‘n feit dat Afrikaans die taal van blanke Afrikaanssprekendes is en nie soos bv Engels klaargemaak oor die see gekom het nie. Langenhoven het nie gesê Afrikaans is uitsluitlik die taal van wit mense nie, al is dit die waarheid dat hoofsaaklik blankes aan Afrikaans beslag gegee het. ‘n Hedendaagse neiging is dat sodra blankes en veral Afrikaners op prestasies of eiendomsreg aanspraak maak, ‘n koor van protes opklink, bv dat die toekoms van Afrikaans om kwantitatiewe redes by bruin sprekers berus. Daar is selfs taalkundiges wat die ontstaan van Afrikaans aan Khoi-beïnvloeding toeskryf eerder as aan die natuurlike vervorming wat Nederlands waarskynlik mettertyd plaaslik grootliks vry van beïnvloeding deur inheemse tale sou ondergaan het. In die huidige politieke klimaat moet daar blykbaar goeie (en net goeie) invloed aan die inheemses en die slawe toegeskryf en hulle benadeling deur blankes beklemtoon word.

    Dit is bekend dat Langenhoven rede gehad het om nie baie beïndruk met sy enigste kind, Engela (1901-1975), te wees nie. Anders as Langenhoven was Engela “‘n vrou sonder ‘n missie” (217-218). Engela en haar gesin wou nie in die skaduwee van hulle Langenhoven-verbintenis loop en deel van bv Sarah Goldblatt (1889-1975) se “Langenhoven-industrie” wees nie (43). Willemien Brümmer (gebore in 1974) is Engela se enigste kleindogter (672). Brümmer is ‘n joernalis wat bekend is vir haar politieke byderwetsheid, wat dikwels in smartvraatberigte uiting vind. Dit is dalk die onvanpaste nagloed van Langenhoven wat aanleiding tot haar bespreking van die jongste uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (Kaapstad: Pharos, 2017, xxxiv, 757p, R450) gegee het (Die Burger, 5 Augustus, p 11). In hierdie proses bevorder sy agterkleinkind kwalik ‘n positiewe beeld van Langenhoven se nalatenskap.

    Brümmer begin haar bespreking op ‘n feministiese noot: “Vir die eerste keer in ‘n 100 jaar het Afrikaans haar borstrok uitgetrek en word sy nou amptelik in al haar kleurryke en verleidelike variëteite opgeneem in die bybel van Standaardafrikaans, die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS).” Dit is myns insiens ongewens om ‘n artikel oor Afrikaans met verwysing na vroue-onderklere te begin, des te meer omdat Afrikaans nie vroulik is nie. Met die woord “borstrok” gee Brümmer valslik te kenne dat Afrikaans ‘n eeu lank ingeperk is; dat die “kleurryke en verleidelike” variëteite van Afrikaans nou vir die eerste keer in Standaardafrikaans toegelaat word. Onderliggend is daar die gewilde maar valse insinuasie dat Standaardafrikaans, soos Afrikaners, (minstens) ‘n eeu lank benepe was. Volgens die HAT beteken “benepe”: benoud, beklemd, bekrompe, kleinsielig. Vergelyk bv Brümmer se ongunstige uitbeelding van Afrikaners in haar drama, Braai (2014).

    Die waarheid is dat Standaardafrikaans, soos enige ander standaardtaal, nog altyd uit sy variëteite saamgestel is. ‘n Standaardtaal kom nie van nêrens nie. Wat uit die jongste AWS blyk, is dat die lede van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns polities byderwets in groter mate as voorheen woorde uit bv Namibiese Afrikaans en Oranjerivierafrikaans in Standaardafrikaans opgeneem het. Ooreenkomstig haar linkse politieke ingesteldheid noem Brümmer hierdie variëteite “susters” van Standaardafrikaans. Eintlik is hulle maar net voedingsbronne. Daar is nog ‘n “suster,” by uitstek ‘n bruin suster, want Brümmer voeg by: “en natuurlik Kaaps.”

    Soos talle van die huidige hoëpriesters van Afrikaans stel Brümmer Kaaps sonder meer gunstig voor. Dit is glo een van Afrikaans se “kleurryke en verleidelike variëteite.” Kaaps kan Afrikaanssprekers egter tot die onnodige en oorvloedige gebruik van bv Engelse woorde verlei. Taalsuiwerheid is blykbaar deel van die borstrok waarvan maar ontslae geraak kan word. Waarom het die Afrikaans-indoenas nie die elementêre moed om te sê dat die Engelsbesoedeling van Kaaps verwerplik is nie? Omdat die voortbestaan van Afrikaans van bruin mense afhanklik is? Dan soveel te meer moet Afrikaans so duidelik moontlik van Engels onderskei word.

    “Die AWS was baie jare lank die domein van wit mans.” Brümmer noem dit ‘n “slang in die gras,” sonder om te erken dat daardie mans uitstekende werk gedoen het. ‘n Ander slang is glo die term “Standaardafrikaans.” Die polities byderwetse voorsitter van die Taalkommissie, Gerhard van Huyssteen, verkies die term “Algemene Afrikaans,” ‘n frase wat in vaagheid uitmunt, maar dit voldoen aan sy politiek-gemotiveerde vereiste van inklusiwiteit. Sowel algemeenheid as inklusiwiteit druis egter in teen die tradisionele en noodsaaklike normerende rol van die AWS. Maar ons lewe in ‘n tyd waarin norme misken word en wanorde toeneem. Die benaming “Standaardafrikaans” sê presies wat bedoel word. Die beswaar daarteen is polities gemotiveerd. Norme bevorder ordelikheid maar doen glo inbreuk op vryheid. Norme, eintlik enige vorm van gesag, mag deesdae nie meer deur blankes uitgeoefen word nie. Maar dwarsoor die wêreld stel blankes navolgingswaardige voorbeelde op talle terreine en in baie opsigte.

    Dit was feitelik korrek toe voorheen van Algemeen-beskaafde Afrikaans gepraat is, juis omdat die spreektaal van die opperklas wêreldwyd grootliks die standaardtaal bepaal. Maar in die nuwe Suid-Afrika is dit deesdae taboe omdat blankes en veral Afrikaners polities byderwets nie as maatstaf aanvaarbaar is nie. Deesdae word teen die feite in gepoog om almal feitlik in alle opsigte gelyk en eenders te verklaar. Hiërargieë is uit. Voorheen het Christo van Rensburg tereg geskryf: “Standaardafrikaans [is] eintlik ‘n dialek wat bokant Afrikaans se dialekte [of variëteite] staan” (So kry ons Afrikaans, Pretoria: Lapa Uitgewers, 2012, p 117) en “‘n bodialektiese standaardtaal … dwing … dialekte altyd meer en meer na die standaardtaal” (125). Maar dit sal nie gebeur as bv Kaaps pleks van Standaardafrikaans deurlopend en ongekwalifiseerd verheerlik word nie.

    Deesdae munt Van Rensburg uit in die toepassing van politieke oorverligtheid op Afrikaans. Volgens hom het Afrikaans al voor 1652 aan die Kaap ontstaan, danksy die omgang van die vindingryke Khoi-Khoin met Seemansnederlands. En Ernst Kotzé beweer dat Kaaps die bakermatvorm van Afrikaans is (Praag 11 Februarie). Sommige Afrikaanstaalkundiges dring aan op die herstandaardisering van Afrikaans. Daar word beweer dat die soort Afrikaans wat nie-wittes praat tradisioneel dermate uit Standaardafrikaans geweer is dat (ingrypende) herstandaardisering moet plaasvind.

    Ons het in 1990/94 ‘n roem- en mandaatlose politieke revolusie beleef. Nou moet blykbaar op ‘n soortgelyke ingrypende manier met Standaardafrikaans gehandel word. Voorheen het blankes besluit oor wat eerbare of ordentlike Afrikaans is. Nou is dit die beurt van die nie-wittes om die kitaar te slaan. Die blanke De Klerk-kornuite kruip agterna, buig agteroor om eerder linkse politiek as die heil van Afrikaans ter wille te wees. Brümmer haal aan wat Van Rensburg oor die doel van hierdie herstandaardisering van Afrikaans te sê het: “sodat sy dialekte – die manier van praat in die Kaap, die manier van praat van die Griekwas, die manier van praat in die Karoo – ook in beginsel weerspieël word en nie vanweë politieke oorwegings uitgehou word nie.” Die teenoorgestelde is nou waar: Politieke oorwegings pleks van taaloorwegings gee deesdae (deurslaggewend) aanleiding tot insluiting in Standaardafrikaans; én uitsluiting – dink aan die talle “rassistiese” Afrikaanse woorde wat deurlopend geïdentifiseer en in die ban gedoen word. Dit verarm die seggingskrag van Afrikaans.

    By die allernoodsaaklikste voorbehoud oor Kaaps kom die Afrikaans-indoenas nie uit nie. Woorde en uitdrukkings in Kaaps kan waar nodig of wenslik in Standaardafrikaans opgeneem word, maar myns insiens slegs as hulle met die taaleie versoenbaar is; dus (verkieslik net) in soverre hulle nie Engels is nie. Wat hard en duidelik gesê moet word – en ek wag reeds lank en skynbaar tevergeefs dat een of verkieslik meer van die Afrikaanshoëpriesters dit doen – is dat Kaaps in soverre dit Engels is suiwer taalkundig (dus nie-polities) vir Afrikaansgetroues verwerplik is; dat die gebruik en voortbestaan van Kaaps in sy huidige Engelsbesoedelde toestand nie bevorderlik vir die toekoms van Afrikaans is nie. Polities byderwets klink geen sodanige beswaar teen Kaaps op nie.

    Die gevolg is dat instansies soos die Afrikaanse Taalraad (ATR), die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) voortgaan om by uitstek Kaaps te bevorder en nie Standaardafrikaans nie. Wat Afrikaans betref word die kwessie van taalsuiwerheid soos gif vermy. Daarmee dra die ATR, ATKV en ATM met oorgawe by tot die sabotering van die toekoms van Afrikaans as ‘n taal wat duidelik van Engels onderskeibaar is. Die gesindheid by hierdie drie instansies is sodanig dat die lojaalste ondersteuners van Afrikaans, te wete die regse of nie-verloopte Afrikaners, vervreem word.

    ‘n Vollediger weergawe van Brümmer se teks is op Netwerk24 (4 Augustus) gepubliseer. Daaruit blyk dat van haar politiek-geïnspireerde gif uit die berig in Die Burger gelaat is, bv “‘n eeu waarin veral die donkerder dialekte van Afrikaans vir ‘n lang tyd in ballingskap was.” “Ballingskap” is ‘n toespeling op bv ANC-kamerade wat tydens apartheid in die buiteland vertoef het. “‘n Groot keerpunt in die geskiedenis van die AWS het in 1991 gekom met die onkeerbare vernuwing wat in Suid-Afrika en wêreldwyd voortgestu het.” Dus, die oneerlike omverwerping van die blanke bewind in Suid-Afrika is blykbaar ongekwalifiseerd goed, maar daar word by implikasie darem erken dat die AWS deur politiek op sleeptou geneem is. Langenhoven was ongekwalifiseerd ten gunste van die blanke bewind en ‘n groot ondersteuner van Barry Hertzog. Brümmer, daarenteen, wek die indruk dat sy (ongekwalifiseerd) ten gunste van swart oorheersing en die (slaafse) navolging van internasionale neigings is.

    Die feministiese Brümmer skryf: “Die achilleshiel van die AWS was dat dit baie jare lank die domein van die spreekwoordelike grysskoen-wit mans was.” Ingesluit by hierdie mans, wat skynbaar deur Brümmer geminag word, is haar oupagrootjie, JC Langenhoven. “Die ander slang in die klitsgras was natuurlik die woordjie ‘Standaardafrikaans’ wat vir baie in ons wye en droewe land ‘n vloekwoord geword het.” Dit is uitsluitlik in nie-Afrikanergeledere, waarby Brümmer haar klaarblyklik skaar, dat Standaardafrikaans ‘n vloekwoord kan wees. “Vloekwoord” is myns insiens in elk geval ‘n hoogs oordrewe etikettering. Brümmer verwys ook (smalend) na die “taalbulle” en “heilige koeie wat bly bulk.” Die voortreflike voorbeeld wat Langenhoven as een van die eerste Afrikaanse taalbulle gestel het, dien myns insiens steeds as inspirasie vir diegene wat die moed het om hulle vir die heil van Afrikaans te beywer en wat ‘n gesonde afkeer het van diegene wat weens vlakheid en opportunistiese linksheid die teenoorgestelde doen.

    Die leuse, “Eendrag maak mag,” het ontstaan toe Nederlandse gebiede eeue gelede staatkundig saamgevoeg is. Hierdie frase is voor in die Statebybel gepubliseer en het op hierdie manier algemene inslag in Suid-Afrika gevind. Anders as in die geval van Engels word die variëteite van Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika voortdurend beklemtoon pleks van uit te gaan van die standpunt dat eendrag ook wat Afrikaans betref bemagtigend kan wees. Vir diegene wat erns met die voortbestaan van Afrikaans maak, behoort Standaardafrikaans die enigste vorm van Afrikaans te wees wat aktief bevorder word. In sodanige saamstaan sal daar optimale krag wees. Die Afrikaans-indoenas besing egter nie net die voortreflikheid van Afrikaansvariëteite – Brümmer se “kleurryke en verleidelike variëteite” – nie; hulle verswak selfs die fokus op Afrikaans in sy geheel deur eerder die wenslikheid van meertaligheid te bepleit pleks van die ononderhandelbare noodsaaklikheid van Afrikaans.

    Wat hierdie mense gerus moet besef, is dat meertaligheid Afrikaans kan uitsluit. Een van die besonge helde in (oor)verligte Afrikaansgeledere is die oud-Robbeneiland-prisonier, Neville Alexander (1936-2012), wat in sy persoonlike hoedanigheid Afrikaansdislojaal was. Hy het geskryf: “I have no doubt that the generations born in the 2020s and after will be completely trilingual, in that all children, besides being fluent in their home language, will – if this language is not English – also learn English and another important South African language, usually from the Nguni or the Sotho cluster” (Thoughts on the new South Africa, Auckland Park: Jacana, 2013, p 163). Afrikaans word nie eens genoem nie. Dit toon meertaligheid hoef nie Afrikaans in te sluit nie. Waarom volhard die hoëpriesters van Afrikaans dan met hulle pleidooie vir meertaligheid terwyl hulle hulle tyd en arbeid liewer aan die bevordering van Afrikaans behoort toe te wy?

    ‘n Ander bedenklike neiging by die Afrikaanshoës is om Afrikaans by voorkeur as ‘n Afrikataal voor te stel. Die Europese, bv Nederlandse, wortels van Afrikaans word dikwels verswyg en die Khoi- en slawe-invloed op Afrikaans word om opportunistiese politieke redes (oor)beklemtoon. Wat het dit vir diesulkes in die sak gebring? Onlangs het die ANC-regering dit onomwonde gestel dat hy “voorheen gemarginaliseerde amptelike Afrikatale” wil bevorder (Netwerk24, 7 Julie). Daardie bewoording is sorgvuldig gekies om Afrikaans doelbewus uit te sluit. Die ANC sal ongetwyfeld voortgaan om Afrikaans sover moontlik te benadeel. Geen kruipery deur Afrikaanshoëpriesters sal ‘n duit verskil hieraan maak nie. Waarom dan nie eerder wegbreek van politieke byderwetsheid en Afrikaans suiwer as voortreflike taal (dus nie-polities) bevorder nie?

    Ek kyk nie televisie nie en op RSG luister ek feitlik net die nuusbulletins. Jare lank het ek die gehalte van Afrikaans op RSG probeer verbeter deur teksboodskappe oor taalfoute aan RSG te stuur, bv stappe neem pleks van doen, op komitees dien pleks van in, en die laakbare neiging om voorletters Engels pleks van Afrikaans uit te spreek. In Engels sal Van der Merwe se voorletters sekerlik nie Afrikaans uitgespreek word nie. Die neiging om voorletters Engels uit te spreek in Afrikaanse nuusbulletins dui op ‘n gebrekkige aanvoeling vir Afrikaans by sommige omroepers. My kommentaar is feitlik deurgaans deur RSG geïgnoreer, gevolglik het ek onlangs besluit om nie verder lugtyd en dus geld hierop te mors nie.

    RSG se gesindheid jeens Afrikaans blyk duidelik uit die titel van die Sondagprogram, “Die tale wat ons praat.” Meertaligheid word geïmpliseer. RSG se voorliefde vir Afrikaansvariëteite blyk ook duidelik uit hierdie program. Die ATKV adverteer graag sy polities byderwetse benadering tot Afrikaans in ‘n advertensie wat hierdie program voorafgaan. Hierdie advertensie het al dermate geradbraakte Afrikaans ingesluit dat ek dit liewer nie wou hoor nie. Tans word gesê: “Dit maak nie saak hoe jou Afrikaans klink nie,” waarmee geradbraakte Kaaps weer eens by implikasie goedgepraat word. Dus, mors maar met Afrikaans, die ATKV hou in elk geval daarvan.

    Diegene in die voorste gestoeltes van Afrikaans moet in belang van die heil van Afrikaans dringend besin oor die weg wat hulle ingeslaan het. Politiek-gemotiveerde oogmerke soos versoening en meertaligheid sal moet plek maak vir voorkeur aan Afrikaans. Wat Afrikaans betref behoort evolueerende Standaardafrikaans pleks van bv Kaaps ondersteun te word. Standaardafrikaans is die enigste vorm van Afrikaans wat doeltreffende verskansing teen verswelging deur Engels kan bied. Ek beskou Kaaps eerder as ‘n mengeltaal as ‘n Afrikaansvariant. Dit is ‘n erflating van pro-Britse en anti-Afrikanersentiment onder bruin mense. Kaaps stel aan Afrikaanssprekendes ‘n bedenklike voorbeeld van taalgebruik. Die verheerliking van Kaaps deur verskeie vooraanstaande taalkundiges dien as aanmoediging vir Afrikaanssprekers om ewe loslit, dus sonder borstrok, hulle taal met onnodige Engels te besoedel.

    Die Afrikaans-indoenas sal ook dringend hulle aanvoeling vir taaleie-Afrikaans moet verbeter. In die jongste AWS word ‘n woord soos “kompleks” (p i, v) pleks van ingewikkeld en “konsep” (p x) pleks van begrip (p xix) redaksioneel gebruik. Ter wille van die behoud van Afrikaans moet hy op so ‘n manier gebruik word dat hy so duidelik moontlik van Engels onderskei word.

    FW de Klerk en sy onderhandelaars het weens ‘n dwase strategie die politieke mag aan swartes oorgegee en wel op so ‘n manier dat nóg Afrikaans nóg die blankes afdoende beskerm word. Die strategie wat die hoëpriesters van Afrikaans sedertdien volg, gaan insgelyks katastrofiese gevolge vir Afrikaans hê as hulle voortgaan om vir meertaligheid pleks van Afrikaans en vir Kaaps pleks van Standaardafrikaans te veg. Hulle benadeel ook die regmatige aanspraak van Afrikaners op Afrikaansmediumonderrig deur paternalisties slegs van sodanige behoefte by bruin mense gewag te maak.

    Ontwikkelde bruines het hulle in baie (selfs die meeste) gevalle as dislojaal teenoor Afrikaans bewys. In die Gelyke Kanse-hofsaak, wat handel oor die status van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch, is aangevoer dat “slegs 37% van bruin studente aansoek gedoen het om in Afrikaans onderrig te ontvang” (Netwerk24, 17 Augustus). By Afrikaanssprekende blankes is daar in groter mate Afrikaansgetrouheid as by bruines. Afrikaners se behoefte aan en reg op Afrikaans behoort beklemtoon te word. As die hoëpriesters van Afrikaans hulle nie die verwyt op die hals wil haal dat hulle soos De Klerk die oorlewingskanse van Afrikaans beduiwel het nie, sal hulle dringend hulle huidige dwase strategie moet verander.

  • Leon Lemmer: CJ Langenhoven oor Afrikaans: ‘My pêrel van grote waarde’

    Leon Lemmer: CJ Langenhoven oor Afrikaans: ‘My pêrel van grote waarde’

    Daar is min dinge wat skinderpublikasies, soos veral Sondagkoerante, so interesseer soos die buite-egtelike verhouding, of ander seksuele avontuur, van ‘n bekende persoon. Omdat die afset van boeke ook hierdeur beïnvloed word, gee biograwe graag hieraan aandag. Een van die bekendste Afrikaanse biograwe, JC Kannemeyer (1939-2011), was lief hiervoor. Sy boek, Langenhoven, ‘n lewe (Kaapstad: Tafelberg, 1995, 728p) het aan Kannemeyer die geleentheid gebied om onder meer oor CJ Langenhoven (1873-1932) se dranksug en sy verhouding met sy assistent, Sarah Goldblatt (1889-1975), te skryf. Nie dat Kannemeyer se eie lewe wars – een van sy geliefkoosde woorde – van beskindering was nie, soos die dogter van ‘n vorige eerste minister, Estelle Strijdom (1936-2009), wat ‘n tyd lank met hom getroud was, dikwels getuig het. Dit was juis sy skinderlus wat veroorsaak het dat Kannemeyer glo nie toegelaat is om NP van Wyk Louw se biografie te skryf nie. Van Wyk Louw se weduwee, Truida Pohl (1913-2004), het dié taak eerder aan JC Steyn toevertrou, veral gedagtig aan Louw se verhouding met Sheila Cussons (1922-2004).

    Die afgelope tyd was daar verskeie berigte oor die erkenning van Afrikaans as amptelike landstaal negentig jaar gelede. In hierdie rubriek belig ek Langenhoven se rol as stryder vir Afrikaans en die Afrikaner. Soms kontrasteer ek dit met wat direksielede van die Afrikaanse Taalraad (ATR) deesdae doen, hoewel ek die twyfelagtige rol wat die ATR speel eerder in ‘n volgende skrywe vollediger wil aanspreek.

    Ek beskryf Langenhoven se rol in die taalstryd aan die hand van Kannemeyer se biografie omdat so baie van Langenhoven se publikasies daarin bespreek word. Langenhoven het in die omgewing van Oudtshoorn grootgeword en hom mettertyd in hierdie dorp gevestig. Aanvanklik was hy Engels- en anti-Hollands- (eerder as anti-Afrikaans-) gesind en het hy Louis Botha en Jan Smuts ondersteun. Die toetrede van Suid-Afrika tot die Eerste Wêreldoorlog en veral die daaropvolgende Rebellie (1914) het ‘n kentering in hom veroorsaak. In die politiek het hy ‘n ondersteuner van JBM Hertzog en DF Malan geword. Maar politiek as sodanig was nooit sy hartstog nie, al was hy agtereenvolgens lid van die Kaapse Provinsiale Raad, Volksraad en Senaat.

    Tereg het Langenhoven geskryf dat “‘n suiwer opregte man beswaarlik ‘n suksesvolle politikus” kon wees (p 14, 360). Ons het “nie tien politikusse in die land … wat hulle siel hulle eige kan noem nie” (p 385). Kort voordat hy in 1920 tot Volksraadlid verkies is, was sy standpunt as kandidaat: “Waar daar ooit ‘n uitdraaipad kom en ‘n keuse noodsaaklik is, sal hy nie die koers van sy eie nasie laat vaar om die koers van ‘n ander nasie in te slaan nie en dat hy nie uit vrees of guns vir enige mens in die wêreld vir ‘n voorstel sal stem wat volgens sy oortuiging verderflik vir die belange van die Afrikanervolk is nie” (p 385). Hy sou myns insiens nie ‘n ja-broer vir die nuwe Suid-Afrika gewees het nie. “Langenhoven se eerlikheid was vir hom belangriker as enige politieke diplomasie of plooibaarheid” (p 423).

    Vir Langenhoven het dit by uitstek om die bevordering van Afrikaans gegaan. Na sy dood het ‘n koerant, Die Vaderland, daarop gewys dat Langenhoven meer as enige persoon gedoen het “om ons publiek hul eie taal te leer lees en waardeer” (p 15). Hy was bekend om sy prosa en nie soseer om sy verhoogstukke en poësie nie. ‘n Uitsondering is “Die Stem”, wat hy op 30 en 31 Mei 1918 in sy huis, Arbeidsgenot, in Oudshoorn geskryf het (p 376). Kort daarna het hy in Kaapstad ‘n vierde strofe bygevoeg. ML de Villiers het die musiek gekomponeer (p 378). DJ Opperman het Die Stem in 1974 ‘n “statige eedaflegging en gebed van die Afrikaanse [eerder Afrikaner-] volk” genoem (p 379). Wie kon dink dat hierdie pragtige volkslied se status in die nuwe Suid-Afrika so radikaal sou verander dat dit volgens linkse elemente nie meer in die openbaar gesing mag word nie?

    Kritiek op Langenhoven is egter ook uitgespreek, bv deur Fanie Olivier in 1973 tydens Langenhoven se eeufeesjaar. Hy het geskryf dat Langenhoven ‘n “oorskatte figuur” is, dat sy werk aan ‘n sekere “woordversiering”, ‘n opvallende liefde vir kontraswerking en ‘n oordaad van gemoedelike verkleinwoordjies ly en dat daar ‘n groot stuk sentimentaliteit, didaktiek en moralisering aanwesig is “wat so dikwels die vonkel in ‘n stuk werk verbleek”. Daarby vind hy dat die selfspot dikwels uitloop in “bedekte selfverheerliking” (p 55).

    In dieselfde jaar het André P Brink met kenmerkende politieke motivering aangevoer dat Langenhoven “a disturbing example” is “of what happens to a writer if he has to write in order to serve a group. Langenhoven had an enormous talent that could never find complete fulfillment because of the stage of development in which Afrikaans literature was then” (p 55-56). Adam Small het Brink getroef deur Langenhoven ‘n “enigsins oppervlakkige skrywer” en ‘n “rassis” te noem. Vanwaar die vergesogte beskuldiging van rassisme? Want in Die Stem staan daar: “Dat die erwe van ons vaad’re vir ons kinders erwe bly” (p 56). Small voel uitgesluit van hierdie erflating vanweë daardie “ons”.

    As prokureur en advokaat was Langenhoven nie gelukkig of suksesvol nie. Die redakteurskap van die Oudtshoornse koerant, Het Zuid-Westen (wat in die hele Suid-Kaap versprei is), en sy eie skeppende skryfwerk was meer na sy smaak. Hy wou “sy volk aan die lees en aan die dink … kry (p 251). Kannemeyer skryf dat “Langenhoven sy eintlike missie in die lewe met die ontdekking van die waarde van Afrikaans en die noodsaaklikheid van die verfyning daarvan vir sy eie mense gekry het” (p 49). Langenhoven noem Afrikaans “my pêrel van grote waarde” (p 569). Soos DF Malan en andere het hy tot die gevolgtrekking gekom dat “die keuse van ‘n taal in die eerste plek ‘n volksaak is” (p 223). Aan die begin van die vorige eeu, omstreeks 1905, toe Afrikaansbewustheid vorm begin aanneem het, het “die Afrikanervolk aan nasionale armoede gely” (p 223); nie net materieel nie, maar ook, dalk veral, kultureel-geestelik.

    Mettertyd het hy ingesien dat “taalregte ‘n essensiële voorwaarde vir die volwaardige bestaan van sy mense in hierdie land is” (p 226). Teen 1910 het Langenhoven aktief tot die taalstryd toegetree. “Ons moet begin om ‘n begin te maak” (p 270). Hy het ‘n vegter vir die regte van Afrikaans geword. Kannemeyer formuleer Langenhoven se “groot missie” soos volg: “Om Afrikaans as amptelike taal saam met Engels in Suid-Afrika erken te kry, om te help bou aan ‘n literatuur wat die taal tot fyn instrument sou verfyn en om van sy mense ‘n lesende volk te maak” (p 379).

    Langenhoven het besef dat “Afrikaans die enigste vorm van ‘Hollands’ was wat in Suid-Afrika kon voortleef” (p 234). “Uit ‘n vals-gesonge lied [Hooghollands] kan ‘n mens die melodie uitmaak: maar dis nie wat jou hart laat tril nie” (p 333). Afrikaans was vir hom ‘n “simpele duintjie wat suiwer gesing word” (p 264). Mense het Afrikaans gepraat en kon in al mindere mate Nederlands skryf. JC Steyn vestig die aandag daarop dat “in ‘n stryd tussen twee taalvariëteite, soos dié tussen Nederlands en Afrikaans aan die begin van die [20ste] eeu in Suid-Afrika, die sogenaamde ‘lae’ variëteit gewoonlik die oorwinning behaal” (p 234). Dit kan ‘n ontstellende waarheid wees.

    Tans is die polities korrektes, bv dié in die ATR, behep met die variëteite van Afrikaans; enigiets behalwe Standaardafrikaans; by uitstek Kaaps. Deesdae word beklemtoon dat daar tans meer bruin as wit sprekers van Afrikaans is. Ooreenkomstig die mode kom ATR-spreekbuise dan suiwer kwantitatief tot die gevolgtrekking dat die toekoms van Afrikaans by bruin sprekers berus. My beswaar hierteen is nie kleurgedrewe nie, maar taalkundig. Geradbraakte Afrikaans, spesifiek daardie soort Kaaps wat ‘n mengeltaal (Afrikaans en Engels) is en deur bruines gepraat en selfs geskryf word (bv deur Ronelda Kamfer en Nathan Trantraal), bied geen verskansing teen Engels nie. Hoe meer Afrikaans verengels, hoe swakker word sy kanse op (agbare) oorlewing. Lank voor so ‘n taal se dood sou dit nie meer in ‘n eerbare vorm bestaan nie. Om politieke redes verseg ATR-direksielede, soos Wannie Carstens, Michael le Cordeur en Anne-Marie Beukes, om dit in hulle koppe te kry.

    JBM Hertzog was in 1912 die eerste lid van die regering wat hom ten gunste van Afrikaans as landstaal uitgespreek het (p 266). “Hertzog voel oortuig daarvan dat Afrikaans nader aansluit by die Afrikaanse volkskarakter, ‘omdat zij ontsprongen is op zuiver Afrikaanse bodem als de echte uiting van Afrikaanse behoeften en gemoedstoestanden’” (p 265). Volgens Hertzog is Afrikaans “die uitgedrukte siel van die Afrikaanse [eerder Afrikaner-] volk” (p 267). Aansluitend hierby skryf Langenhoven in 1914: “Afrikaans is ons eige, hij is in Suid-Afrika gemaak om te pas bij ons Afrikaanse toestande en lewenswijs; hij het saamgegroei met ons volkskarakter; hij is die enigste band wat vir ons als ‘n aparte nasie aanmekaar bind; ons enigste volkskenmerk” (p 268). Later sê hy Afrikaans is “‘n sielsbesitting van die volk” (p 281); ‘n taal wat die spore dra van “die sielsgeskiedenis van ons volk” (p 305). Waar daar graffies gemaak moes word, was Afrikaans die geskikte medium. Volgens Langenhoven is Afrikaans “ons trouste en deeglikste volksbode” (p 329); ons “ganse sielsbesitting” (p 330). Afrikaans is “the one language which above all on earth is sacred to us” (p 437). Tobie Muller het reeds in 1913 aangevoer: “‘n Selfbewuste nasie moet ‘n nasionale selfrespek hê, en dit ontwikkel hy deur sy eie taal. Die eerste stap tot die verkryging hiervan lê in die waardering en ontwikkeling van die eie taal, ‘die intiemste uiting van ons hele nasionale wese’” (p 284).

    Langenhoven skryf oor Afrikaans:

    “Hij is die enigste witmanstaal wat nie onmiddellik oor die see kom nie” (p 269). Afrikaans is “ons kostelikste roem, ons hoogste besitting: die één enigste witmanstaal wat in Suid-Afrika gemaak is en nie oor die seewater klaar gekom het nie, wat die spore van lief en leed dra van alles wat ons en ons vadere hier deurleef en deurworstel en deurtriomfeer het; die één band wat ons as nasie aanmekaar heg; die uitgedrukte siel van ons volk” (p 331-332).

    PJ Nienaber het dit “die mooiste en welsprekendste pleidooi wat ooit ten gunste van Afrikaans gehou is,” genoem (p 332).

    Oor Langenhoven se stelling, wat feitelik korrek is, kry oorverligtes, soos Wannie Carstens, uit frustrasie spreekwoordelik kleintjies. Dit is egter ‘n feit dat Afrikaans die taal van Afrikaners, dus blankes, is en dat dit nie soos bv Engels klaargemaak oor die see gekom het nie. Langenhoven sê nie dit is uitsluitlik die taal van wit mense nie. Ook oor Langenhoven se stelling dat daar “maar één Afrikaans is” (p 272), sal die Carstense verontwaardig en moerig wees. Langenhoven skryf “dat het Afrikaans voor de Afrikaner een taal is en zijn taal en de enige taal van zijn hart en ziel” (p 322). Die sleutelfrase is “voor de Afrikaner”. Daarmee word groepe soos die joiners, jingo’s, verloopte Afrikaners en oorverligtes uitgesluit. Wat in die nuwe Suid-Afrika gebeur, onder meer weens die gesindheid van Afrikaanssprekende taalkundiges, is nie ‘n nuwe verskynsel nie. Langenhoven het by Sarah Goldblatt gekla: “Mijn eige mense help mij nie, waardeer mij nie, steun mij nie” (p 343). Van die sterkste teenkanting teen Afrikaans het destyds van sommige predikante gekom. Die Hollandse kerke was tradisioneel die sterkste bolwerk vir Nederlands (p 428, 452). Langenhoven skryf: “Van al die bedonderde dinge in die wereld is ‘n bedonderde predikant nogal die bedonderdste” (p 344). Vergelyk bv die hedendaagse geteem oor die Belhar-belydenis.

    Langenhoven noem die Engelse nasie in Suid-Afrika: “Onnosel, ongeleerd, onkundig, onverstandig, onbeskof, onbeskaafd … Hulle behandel ons met verwaande en dom-astrante minagting” (p 273). Hy het groot waardering vir sy mede-Afrikaners gehad: “As jy ‘n stuk werk het waar daar verstand en bekwaamheid by nodig is, huur vir jou ‘n Afrikaner” (p 383). Die waarheid hiervan word nog daagliks in die nuwe Suid-Afrika bevestig. Hy skryf van “ons arme onbevoorregte volk” (p 367). Toe het die Britte die Afrikanervolk benadeel. Deesdae is ons as Afrikaners weer onbevoorreg, maar die onverteerbare tragedie is dat dit ‘n klein groepie verloopte Afrikaners is wat ons mandaatloos uitverkoop het. Langenhoven: “Ons moet hulle veragting insluk en buig onder die vernedering wat hulle op ons wil plaas, dan is ons met ‘n prijsenswaardige gees van konsiliasie en rasse-toenadering besield” (p 274). Dit klink soos die ATR se beheptheid met versoening. Langenhoven se standpunt is: “Ons wil Afrikaners wees wat nie aan die leiband loop van die Engelse nie” (p 276). Deesdae tou egte Afrikaners ook nie agter die ANC aan nie.

    Nadat Langenhoven in 1914 ‘n Kaapse Provinsiale Raadslid geword het, slaag hy daarin om op 23 April 1914 eenparige goedkeuring te verkry vir die invoering van moedertaalonderrig in Afrikaans-Hollands in skole tot standerd 4. Aan sy vrou skryf hy: “Ik voel so gelukkig dat ik kan huil” (p 297). Oor hierdie deurbraak skryf Gustav Preller oor Langenhoven: “Sijn werk word ‘n baken op die pad van ons Afrikaanse Taal” (p 297). Na ‘n ondersoek van skoolonderwys in Kaapland in 1917 skryf FV Engelenburg egter “hoe min ‘n papieren wet vermag wanneer de administratie niet sympathiek is jegens de toepassing ervan” (320). Klink dit nie bekend nie? In 1994 is Afrikaners die nuwe Suid-Afrika in onder die indruk dat Afrikaans nie aan status mag inboet nie. Dit staan immers in die oorgangsgrondwet van 1993. (Vir die teks kyk JC Steyn, Ons gaan ‘n taal maak, Centurion: Kraal Uitgewers, 2014, p 525-526.) Op verradelike wyse (Steyn, p 442-443) is hierdie bepaling uit die Grondwet van 1996 gelaat. (Vir die teks kyk Steyn, p 527.). Erger: Op slinkse wyse sorg die ANC-regering weens sy vyandige houding dat Afrikaans deurlopend op allerhande maniere benadeel word.

    In 1914 skryf Langenhoven oor die eerste minister, Louis Botha: “Die Generaal gebruik nooit Engels in sijn toesprake nie; want die vereiste is nou éénmaal in Suid-Afrika so dat jij Engels suiwer moet kan praat of anders moet jij hom laat blij, terwyl jij met die Hooghollandse grammatika kan mors soos jij wil” (p 302). Klink dit nie bekend nie? Mense soos Carstens en Le Cordeur vertroetel geradbraakte Afrikaans in die vorm van Kaaps asof dit ‘n heilige kleinood is. Hulle dring nooit daarop aan dat Afrikaans suiwer gepraat moet word soos in Standaardafrikaans nie. Terselfdertyd bepleit niemand pidgin-Engels as ‘n eerbare variëteit van Standaardengels nie. Waarop dit neerkom, is dat daar agting vir ordentlike Engels is maar by bv verloopte Afrikaners nie dieselfde algemene trots vir agbare Afrikaans nie.

    Langenhoven het Louis Botha se konsiliasiebeleid (versoening tussen Afrikaans- en Engelssprekendes) as toenadering van net een kant af beskou; ‘n soort skikking wat van die Afrikaner eis dat hy “sij heiligste belange ter wille van vriendskap moes opoffer.” Langenhoven skryf: “Ik glo ook aan skikking en kompromie en versoening. Ik glo ook aan ‘give and take’ – maar nie op die manier dat ik aanhou met ‘give’ en mijn tegenpartij hou aan met ‘take’ nie” (p 303). Dit weerspieël die bedenklike situasie by die ATR. Sedert sy begin het sy drie voorsitters (Wannie Carstens, Michael le Cordeur en tans Anne-Marie Beukes) versoeningspolitiek pleks van Afrikaansbevordering bedryf. Enersyds versoening met die ANC, asof hy ‘n vennoot en nie die vyand van Afrikaans is nie. In hierdie verband wil ek soos Langenhoven sê: Dit is “nodig om die brandsiek vee sigbaar te brandmerk” (p 560). Andersyds versoening tussen wittes en bruines al word die gehalte en oorlewingskanse van algemeen-beskaafde Afrikaans, oftewel Standaardafrikaans, deur Kaaps beduiwel. Langenhoven waarsku tereg teen “vredesvoorwaardes deur die één kant opgeleg” (p 305).

    Van Afrikaans moet ‘n mens nie net weet nie. Jy moet hom ook in jou binneste voel. Langenhoven onderskei tussen ‘n taal as ‘n logiese of “verstandsmedium” en taal as ‘n psigologiese of “gevoelsmedium” (p 325). ‘n Kunsmatige taal, soos Esperanto, kan nie ‘n gevoelsmedium wees nie. Jou moedertaal behoort egter ‘n gevoelsmedium te wees (p 325, 330). “Dieselfde gevoelsmedium [vorm] die kommunikasieband … tussen al die lede van die volk, daarom is die volkstaal die sement van nasionale gevoel” (p 326). ‘n Nasie is nie bloot ‘n versameling van indiwidue nie, maar ‘n organiese liggaam met “‘n nasionale siel, en die nasionale spraak is die uitdrukking daarvan” (p 326). In daardie nasionale taal lê vir die volk “al sy geheue van sy verlede, al sy bedrywigheid van sy hede, al sy hoop op sy toekoms” (p 326). Slegs deur middel van die volkstaal kan die nasie verhef word, want, so sê Langenhoven in navolging van Johannes Brill en Josias Hoffmann, “de taal is gansch het volk” (p 698) / die taal is gans die volk (p 327).

    In 1920 het Langenhoven Volksraadlid geword. In 1921 is hy tot senator verkies. Hy het hierdie rade meesal uit die vuis toegespreek. “As hy begin praat, was dit … – soos MER[othmann] dit by geleentheid gestel het – of jy ‘n sterk sydraad uit ‘n gespanne kokon sien afrol” (p 390). “Langenhoven was as redenaar op sy beste wanneer hy gepraat het oor die Afrikaanse taal en geskiedenis en oor die vertrapping van die regte van die Afrikaner” (p 412). Hertzog was toe al bekommerd dat die blankes deur die swartes verswelg sou word. Indien die eerste minister, Jan Smuts, se droom verwesenlik word, beteken dit vir Langenhoven die einde van die Afrikaner. Die kwalifikasies vir stemreg moet eerder verhoog word, sodat niemand “anders dan werklik beskaafde persone op die kieserslys kan kom nie” (p 416). Dit behoort steeds die norm te wees, anders verwerf die gepeupel die “mensereg” om voortdurend chaos te saai.

    Langenhoven verwys na die “oorstelpende meerderheid” van die swart bevolking (p 545). Hy het gedink dat die blanke kieser die mag het “om te sorg om sy mag vir die toekoms te behou” (p 416), anders gebeur die volgende: “Die ontworteling van ons een en enkele stam wat uit die bodem van Suid-Afrika groei en nergens elders nie” (p 409). Dit beteken dan “dat ons in ons vroeë jeug van frisse nasieskap van die aardse toneel moet verdwyn asof ons nooit gewees was [het] nie” (p 409). “Ter wille van die naturel self, sowel as ter wille van die blanke, moet daar na ‘n oplossing gesoek word waardeur die oorheersing van die witman verseker word vir die toekoms” (p 416). Ek voeg by: As oorheersing van een etniese groep oor ‘n ander uit die mode is, moet daar ten minste sinvolle, effektiewe magsdeling wees; iets wat glad nie die geval in die nuwe Suid-Afrika is nie. Outoritêre swart oorheersing, soos ons dit tans ervaar, is ‘n gruwel in die oë van enige Afrikaner wat sy sout werd is. Langenhoven skryf dat ons moet keer “om nie ons eie opsy te stoot om vir die vreemde plek te maak nie … Ons is niemand se arm familie om liefdadigheid en minagting te ontvang nie” (p 546).

    In daardie stadium het die grondwet, die Zuid-Afrika Wet 1909 (artikel 137) en die Taalordonnansie van 1912 gegeld met hulle gelykberegtiging van Hollands en Engels (p 427, 455). Op 18 Februarie 1925 is DF Malan se voorstel aanvaar dat ‘n gesamentlike komitee van die Volksraad en Senaat benoem word om die insluiting van Afrikaans by Hollands in die Unie-grondwet te oorweeg (p 441). Malan het gesê dat daar vir die Hollandssprekende in Suid-Afrika net een taal is wat hulle eie genoem kan word, naamlik Afrikaans. “Die erkenning van die Afrikaanse taal … is die simbool van die erkenning van hom as volk, die erkenning van sy status en vryheid. As hierdie wet [de Wet op de Officiële Talen van de Unie, no 8 van 1925 (p 455)] in die wetboek geplaas word, dan sal – ek mag dit sê – die Hollandssprekende gedeelte van die Suid-Afrikaanse volk vir die eerste maal voel dat hy ten volle erken word en in sy eie land ten volle vry en tuis is” (p 459). Dit is dieselfde Malan wat deesdae deur die Universiteit Stellenbosch en ander instansies en persone vir spesiale verguising uitgesonder word. In 1925 was Die Burger “een van de voornaamste en grootste krachten die wij in dit land hebben … die konsekwent Afrikaans dwarsdoor gebruiken” (p 445). Vanjaar, op 8 deser, toe die parlement se erkenning van Afrikaans as amptelike taal herdenk is, het Die Burger (anders as bv Praag) egter nie ‘n woord gerep oor die mylpaal van Afrikaans negentig jaar vantevore nie. Die Burger is nie meer ‘n stryder vir Afrikaans nie en wil dit ook nie wees nie. Om ‘n “taalbul” te wees, is om as “regs” geëtiketteer en daarom verguis te word.

    Langenhoven het Malan in taal- en politieke sake aktief ondersteun (p 443). Na Malan se toespraak het dié van Langenhoven gevolg. Hy het onder meer gesê: “Die hele wêreld deur word die respek wat aan ‘n volk gegee word, gegee om die wyse waarop hy die hoogste wat in hom is uitdruk. En hoewel die taal maar ‘n instrument is, is dit die enigste instrument wat ‘n volk het om aan sy hoogste kultuur en veredeling en beskawing uiting te gee” (p 460). Die wetsontwerp is op 8 Mei 1915 tydens ‘n gesamentlike sitting van die Volksraad en Senaat goedgekeur. Dit lei tot die amptelike erkenning van Afrikaans as landstaal op 27 Mei 1925 (p 460) toe die wet deur die staatshoof, die goewerneur-generaal, onderteken is.

    Die Universiteit Stellenbosch het ‘n Langenhoven-studentesentrum. Dit is een van die name wat weens die anti-Afrikanergesindheid van die rektor, Wim de Villiers, met uitwissing bedreig word. Alle Afrikanername en -beelde loop gevaar om verwyder te word sodat “almal” (bedoelende alle nie-wittes) op die kampus tuis kan voel. Hieroor is ek meer as bloot verontwaardig.

  • Ondertekende bladmusiek van Die Stem haal R17 000

    deur Marthinus van Bart

    Bladmusiek van Die Stem van Suid-Afrika wat Die Burger Boekhandel uitgegee het en wat op 13 Desember 1935 deur ds. M.L. de Villiers, die komponis, onderteken is, is Donderdag 28 Augustus in Sandton vir R17 000 opgeveil.

    Dit is die beleid van die afslaer, Stephan Welz & Co, om nie kopers op sy veilings te identifiseer nie. Die veilingswaardasie van dié kleinood vir kultuurbewuste Afrikaners was R8 000, die helfte minder as die veilingsprys.

    Die musiekstuk van vier bladsye, wat as Africana gereken word, is gelamineer. Dit dateer van ’n jaar voordat die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) dié toonsetting van Die Stem amptelik as die volkslied van Afrikaanssprekende wit Suid-Afrikaners aanvaar het. Die indertydse nasionale volkslied was die Britte se God Save the King.

    Ds. Marthinus Lourens de Villiers wat Die Stem van Suid-Afrika getoonset het.
    Ds. Marthinus Lourens de Villiers wat Die Stem van Suid-Afrika getoonset het.
    Die woorde van Die Stem is vir die Van Riebeeck-fees van 1952 in Engels omgesit as The Call of South Africa. In 1957 het die regering albei weergawes tot die amptelike nasionale volkslied verklaar. Ná die ANC-oorname in 1994 is dit vervang met Nkosi Sikelel’ iAfrika.

    Sy bladmusiek wat deur Die Burger Boekhandel gedruk is en op 13 Desember 1935 deur hom onderteken is, het pas R17 000 op ’n veiling van Stephan Welz & Co in Sandton behaal.
    Sy bladmusiek wat deur Die Burger Boekhandel gedruk is en op 13 Desember 1935 deur hom onderteken is, het pas R17 000 op ’n veiling van Stephan Welz & Co in Sandton behaal.
    Die woorde van Die Stem is in 1918 deur die talentvolle regsgeleerde, politikus, joernalis, skrywer, digter en musikant C.J. Langenhoven aan sy woning op Oudtshoorn gedig. De Burger (sedert Januarie 1922 Die Burger) het die gedig geplaas, en Langenhoven het komponiste genooi om toonsettings in te stuur. M.L. de Villiers se eerste poging was in 1921, maar hy moes dit verskeie kere hersien voordat die Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) dit in 1936 aanvaar het.

    Lees meer oor die skryf van Die Stem, die toonsetting daarvan en wie almal betrokke was voordat dit die amptelike volkslied vir die Afrikaners geword het in KultuurKroniek, kultuurrubriek op die FAK se tuisblad by www.fak.org.za/
    kultuur-kroniek/

  • Universiteit Stellenbosch: Die wortel van die kwaad

    In die Suid-Afrikaanse politiek is die Dakar-safari van 1987 na Senegal redelik goed bekend. Frederik van Zyl Slabbert beskryf dit as ‘n “ontmoeting tussen leiers van die ANC in ballingskap en hoofsaaklik Afrikaanssprekende professionele mense” (Duskant die geskiedenis, Kaapstad: Tafelberg, 2006, p 58). In hierdie boek is daar ‘n foto van die Dakar-gangers en ‘n lys van die betrokkenes (p 174-177), asook die teks van die gesamentlike communiqué wat uitgereik is (p 171-173). Daar word verwys na “‘n gedeelde verbondenheid tot die verwydering van die apartheidstelsel en die bou van ‘n verenigde, demokratiese en nierassige Suid-Afrika” en “Die konferensie het eenparig sy voorkeur uitgespreek vir ‘n onderhandelde oplossing.”

    Thabo Mbeki en Van Zyl Slabbert in Dakar, 1987
    Thabo Mbeki en Van Zyl Slabbert in Dakar, 1987

    Ons het sedertdien kennis geneem van die ongelooflike mate waarin FW de Klerk en sy span die onderhandelings verbrou het. Ons weet ook nou dat ‘n nie-rassige nuwe Suid-Afrika en “‘n nasie van alle Suid-Afrikaners, swart en wit,” ‘n hersenskim is. ‘n Perspektief wat geldig bly, is dat die Dakar-safari deur behoudendes/konserwatiewes “as ‘n daad van verraad beskou [is], nie alleen teenoor die apartheidstaat nie, maar ook teenoor die Afrikanerdom.” Profeties is die standpunt dat aangesien die ANC nie geweld wou afsweer nie “geweld onbeheersd sou uitbrei.” Die nuwe Suid-Afrika is bekend as een van die geweldadigste samelewings, weens die voorbeeld wat die UDF/ANC se terreurbendes gestel het.

    Wat minder bekend is, is dat 18 Maties in 1989 ‘n soortgelyke safari na Lusaka onderneem het. Uit jeugdige voortvarendheid wou hulle eerstehands met ANC-kornuite kennis maak. Dit was heeltemal strydig met die gesindheid van die tradisionele Universiteit Stellenbosch (US). Twee nie-Maties, die joernalis Hennie Serfontein (‘n Dakar-ganger) en André Zaaiman het hulle vergesel. Zaaiman was verbonde aan Van Zyl Slabbert en Alex Boraine se Idasa (Instituut vir ‘n Demokratiese Alternatief vir Suid-Afrika). Sowel Idasa as die Dakar-safari geniet die twyfelagtige onderskeiding dat hulle deur George Soros (Praag 27.10.2013) befonds is. Dieselfde geld moontlik ook die Lusaka-safari. Die doel was om die blanke bewind en die apartheidsbeleid te ondergrawe deur met die verbanne ANC in gesprek te tree.

    Na verloop van 25 jaar het die Lusaka-gangers, insluitende Serfontein en Zaaiman, op 14 deser ‘n reünie op die US-kampus gehou. Dit is duidelik dat die rektor, die ANC-aktivis Russel Botman, die maksimum linkse politieke propaganda uit hierdie reünie wou tap. Botman, ‘n produk van die NG Sendingkerk, was hier in sy element en het ‘n prominente rol in die verrigtinge gespeel. Kontrasteer dit met wat ek onlangs in die konteks van misdaad op Stellenbosch, bv drie aanvalle op blanke vrouestudente, geskryf het: “Wanneer daar enigsins sprake van ‘rassisme’ by die US is, in die sin van wittes wat nie-wittes ‘benadeel’, klim Russel Botman dadelik op die wa. Wanneer wittes die slagoffers is … word die saak aan ‘n viserektor of die skakelbeampte oorgelaat” (Praag 20 Mei). Die res van my teks is hoofsaaklik gebaseer op inligting wat op 14 en 16 deser op die US-webwerf gepubliseer is.

    Die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, het ‘n toespraak by dié reünie gelewer oor “Waagmoedige leierskap: Om op te staan vir dit wat reg is, ongeag die koste.” Dit is duidelik dat sy haar eerder by die ANC as die Boere skaar. Tito Mboweni, wat voorheen ‘n ANC-minister en die president van die Reserwe Bank was, het ‘n paneelbespreking gelei waaraan vier van die Lusaka-gangers deelgeneem het: Anneliese Burgess, Robert Bricout, André Zaaiman en Mark Behr. Neem kennis dat die drie oud-Maties (Burgess, Bricout en Behr) eerder Engels- as Afrikaanssprekend is. Mboweni was een van die ANC-kornuite wat hierdie Maties destyds in Lusaka te woord gestaan het. Hy is sedertdien deur die US met ‘n ere-doktorsgraad beloon. Roelf Meyer, die Nasionale Party (NP) se hoofonderhandelaar by Kodesa, wat help verseker het dat FW de Klerk se beloofde magsdeling volslae magsoorgawe aan swartes geword het, het ook aan die paneelbespreking deelgeneem. Dit behoort duidelik te wees dat die Botman-US heelwat geld in hierdie reünie belê het omdat dit ‘n bruikbare linkse propagandafoefie is.

    Burgess het gesê dat ‘n “betekenisvolle verskuiwing in bewustheid” by die Lusaka-gangers ingetree het. Hulle het trane gestort oor die moontlikheid dat die ANC-kamerade deur die Suid-Afrikaanse veiligheidsmagte gedood kon word. Terug op die kampus het hulle ervaar “hoe hulle deur sekere groeperings en die Universiteitsowerheid beswadder is.” Drie van die Lusaka-gangers het glo destyds uit die NP bedank.

    Bricout het gesê “die een ding wat ons saamgebind het, was dat ons geweet het ons land, ons universiteit en onsself moet verander. Dit was die regte ding om te doen.” Sy linkse oortuigings het sedertdien skynbaar nie verander nie, want hy wil hê dat “nie net die stemme van die konserwatiewe alumni gehoor word nie.”

    Zaaiman het gesê die groep het geleer dat “as ‘n samelewing ons op ons beste is wanneer ons met mekaar gesels en na mekaar luister. Hierdie element ontbreek in ons samelewing vandag … Ander probleme wat die samelewing tans ervaar, is paternalisme, ‘n gehegtheid aan geweld en ‘n outoritêre samelewing.” Dit is verfrissend dat Zaaiman nie by die beweerde booshede van die verlede vasgesteek het nie, maar die aandag op hedendaagse euwels gevestig het.

    Ek herinner my dat Behr destyds daarvan beskuldig is dat hy ‘n dubbele agent is; dus dat hy vir sowel die NP-regering as die ANC gespioeneer het. Behr het gesê: “Dis ongelooflik, ontstellend en belangrik vir ons om te onthou dat apartheid se rassisme vir ons wit studente hierdie voorreg [die Lusaka-safari] gegee het. As ons swart studente was, sou ons nie die land kon verlaat nie. Te danke aan ons rasse-geluk en ons rasse-voorreg was ons in die voorste gestoeltes om getuies te wees van hoe die laaste oorblyfsels van Europese kolonialisme oopgebreek word.” Hy noem uiteraard nie dat die ANC sedert 1994 alles in sy vermoë doen om die wittes se “rasse-geluk” in rasse-ongeluk te omskep nie en dat blankes se eertydse “rasse-voorreg” nou in doelbewuste rasbenadeling ontaard het nie. Die Lusaka-besoek het die groep glo gehelp om die “verwaandheid van apartheid en die paradoks in die idee van apartheid te herken.”

    Mboweni het die Maties se besoek aan Lusaka “baie belangrik” genoem. “Ons was ook baie stout, want ons het geweet ‘n konstante aanval op politieke vlak, gefokus op Stellenbosch, sou ‘n groot sielkundige impak op die regerende klas hê.” Die ANC wou die NP-regering dus onder meer via die US ondermyn. Die US het simboliese waarde vir Afrikaners. Dit is waarom die Botman-US se doelgerigte distansiëring van en aanslag op Afrikaans en die Afrikaner vir my so onaanvaarbaar is.

    Meyer (wat ‘n ANC-lid is) het beweer dat die laat tagtigs “aaklige jare” was. Apartheid is glo in ‘n outokratiese staat bedryf. “Dit is wat ons moes beëindig.” Volgens Zaaiman (hierbo) het ons tans ‘n “outoritêre samelewing,” wat seker in hierdie opsig met die vorige bedeling ooreenstem.

    Die res van my teks handel hoofsaaklik oor Botman se “inleidende opmerkings” by hierdie reünie. Dit gee ‘n gesaghebbende kykie in die gesindheid wat daar tans by die US-bestuur en veral by Botman aangetref word. Ooreenkomstig sy taalvoorkeur het Botman hoofsaaklik Engels gepraat.

    “South Africa was a very different country back then, and this University a very different place.” Die land en die US het inderdaad verander. Die vraag is: Het hulle verbeter? Botman is een van dié wat ‘n verskil gemaak het. Maar het hy en sy ANC-kamerade die land ‘n beter land en die US ‘n akademies beter universiteit gemaak? Ek dink nie so nie.

    Oor die NP-regering is afwysende houding oor die Lusaka-safari vra Botman: “Why the fuss around this visit? I think there were two reasons: Your youthfulness; and the fact that you were from this University … as Maties, you represented a University that had been pivotal to the idea of Afrikaner Nationalism.” Botman is dus diep bewus van die simboliese waarde wat in Afrikaner-geledere aan die US geheg is. Dit is waarom Botman hom so sterk vir die transformasie van die US beywer; dus die sistematiese vernietiging van die US van weleer, wat gekenmerk is deur blanke Afrikaanse studente en dosente.

    In hierdie transformasieproses word die akademiese uitnemendheid, wat so kenmerkend van die historiese US was, op ‘n ontstellende manier weggekalwe. Geen egte akademikus behoort vrede te maak met die amptelike beleid van die Botman-US waarvolgens studentetoelating en die aanstelling en bevordering van personeel dikwels/gewoonlik deurslaggewend deur nie-akademiese (veral rassistiese en seksistiese) oorwegings bepaal word nie.

    Onlangs is die US onvleiend 34ste op die QS-ranglys van Brics-universiteite geplaas. ‘n Vorige US-viserektor, Rolf Stumpf, het toe gesê: “Die QS-stelsel is nie gerat om spesifieke nasionale uitdagings* te akkommodeer nie. Die ander lande het nie byvoorbeeld ‘n apartheidsverlede wat regstelling verg nie” (Die Burger, 20 deser, p 6). Wat Stumpf hiermee erken, is dat politieke oorwegings (myns insiens spesifiek ANC-gedienstigheid) akademiese uitnemendheid ondermyn. [* “Uitdagings” is ‘n gewilde ANC-woord wat dikwels as ‘n eufemisme vir onvermoë gebruik word. Sommige van ons onthou hoe graag die ANC in 1994 die woord “deursigtig” gebruik het. Deesdae word hierdie woord vermy omdat daar te baie ANC-brouery is was toegesmeer moet word.]

    Tydens die reünie is daar geweeklaag oor die beswaddering wat die Lusaka-gangers destyds te beurt geval het. Botman misbruik sy amptelike posisie om dieselfde te doen, naamlik om ‘n vorige blanke US-rektor, Mike de Vries, te diskrediteer. Eerder as om self in die US-argief te gaan soek, het Botman waarskynlik ‘n personeellid opdrag gegee om te kyk watter argivale skietgoed daar is. Botman verwys na ‘n 1989-memorandum waarin De Vries daardie jaar as ‘n “laagtepunt” beskryf het.

    De Vries het waardes soos “gesonde gesagsverhoudinge,” “gedissiplineerde vryheid,” en “verantwoordelikheidsin” bepleit. Dit is waardes wat Botman as student aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) vertrap het, bv toe hy die 1976-onrus op daardie kampus gelei het. De Vries noem hulle tereg “basiese beskawingswaardes.” By implikasie verheerlik Botman in sy hoedanigheid as rektor die gebrek aan hierdie beskawingswaardes by die Lusaka-gangers, wat met die ANC geheul het.

    Botman: “You guys wanted to do your bit to help fix what was so obviously wrong with South Africa. For that, we owe you a debt of gratitude” Let ook op die snedige trant van die volgende uitlating: “Wat julle as ‘bogsnuiters’ gedoen het, het die ‘volksvaders’ duidelik erg gegrief.” Daarna blyk dit duidelik met watter buitensporige oorgawe Botman die verderflike ideologiese glyposisie geniet waarin die US hom deesdae bevind: “Your actions in 1989 was a turning point for this University, just as June 16 [1976] was a turning point for the country as a whole. Stellenbosch would never be the same after your trip to Lusaka. In fact, in many ways we are still riding the waves of change set in motion by your decision to stand up and speak out.”

    Wat Botman betref is dit ‘n geval van: een keer op die pad van die ANC, altyd op daardie pad. Hy is in sy laaste termyn as rektor en het reeds miljoene der miljoene rande in ruil vir sy dienste ontvang. Sover bekend is Botman nog nooit deur die US-raad kortgevat nie. Sy aanstelling as rektor is eerder sonder protes met ‘n verdere vyf jaar verleng. Dit lyk asof hy dink dat hy nou maar al die krane kan oopdraai om uiting aan sy anti-Afrikaanse en anti-Afrikaner-sentiment te gee. Hy het al uitdruklik verklaar dat diegene wat rasse-integrasie teenstaan nie welkom op die US-kampus is nie.

    Botman bewys hom hiermee onteenseglik as ‘n opperste aktivis. Van ‘n rektor wat ampshalwe ‘n toonbeeld van ideologiese neutraliteit behoort te wees, is hier geen sprake nie. Dit is duidelik dat Botman die hoogste waardering het nie net vir die Soweto-geweld in 1976 nie, maar ook vir die geweldpleging wat hy daarna op die UWK-kampus gelei het. De Vries het tereg gevra: “Waarheen is jy op pad, my universiteit?” Die antwoord het geblyk te wees: Die onverkwiklike Botman-US waar Afrikaner-nasionalisme geen plek gegun word nie en Afrikaans progressief afgeskaal word.

    Botman verwys na rassisme wat verwerp moet word. Ek het eerstehands waargeneem hoe Botman en sy UDF/ANC-kamerade die UWK-kampus in die jare sewentig op horings geneem en die afskaffing van alle rassediskriminasie geëis het. Vergelyk dit met Botman se huidige posisie as die voorbok van rassediskriminasie teen blankes (en net blankes) aan die US. Hy verwys egter na ‘n “inclusive solution.” Hieronder skenk ek aandag aan sy soort selektiewe inklusiwiteit.

    Dan volg hierdie opsetlike leuen: “The majority of the population were denied the vote and equal access to services and opportunities … because of their skin colour.” Dit is darem verregaande dat iemand wat die uitvoerende hoof van ‘n universiteit is, kan voorgee dat die verskil tussen wit, bruin en swart mense net hulle velkleur is. Hy weet sekerlik dat pigmentasie glad nie die deurslaggewende faktor is nie. Velkleur dien bloot as ‘n aanduiding van (dikwels) grondige kulturele verskille. Wittes, bruines en swartes openbaar verskillende maniere van dink en doen wat dit onwenslik maak om sonder meer die huidige mode na te volg waarvolgens almal gelyk en wesenlik eenders verklaar word. Die fundamentele dwaasheid van gelyke algemene stemreg behoort nie as spoorslag te dien om almal ook in ander opsigte gelyk te verklaar nie.

    Botman stel graag sowel demokrasie as die beweerde gelykheid van alle mense positief voor. Aan ‘n universiteit is albei (feitlik) heeltemal buite orde. Die universiteit is in sy diepste wese nie demokraties in die sin dat almal daar hoort soos deesdae in ons politieke verkiesings nie. Aan die universiteit word tersiêre, dus hoogste vlak-, onderwys gevind. Dit is wesenlik elitisties. Die universiteit is nie vir almal nie. Dit is veronderstel om die room van die bevolking te trek en nie die gepeupel nie. As akademiese meriete hier ‘n deurslaggewende rol speel, soos dit hoort, sal die universiteit (waarskynlik) nooit die demografie weerspieël nie.

    Daar behoort ook erkenning gegee te word aan die feit dat die universiteit ‘n gemeenskap van akademiese ongelykes is. Omdat sommige skoolverlaters akademies beter as ander is, word hulle by toelating tot universiteitstudie gekeur. ‘n Eerstejaarstudent vergelyk wat kennis en insig betref gewoonlik swak met ‘n gevorderde student. ‘n Junior lektor is ingelyks meesal nie die akademiese gelyke van ‘n professor nie. Dosente behoort oor akademiese sake uitsluitsel te gee; nie studente ter wille van demokrasie nie. Studente behoort nie toegelaat te word, soos deesdae die mode is, om voor te skryf hoedanig hulle onderrig moet wees nie. Die luidrugtigstes onder hulle dra dikwels nie eens kennis van hoe ‘n behoorlik funksionerende skool lyk nie. Hulle het nog minder ‘n benul van wat ‘n egte universiteit is.

    Wanneer nie-akademiese oorwegings egter die oorhand kry, soos aan die US, kan dit akademies chaotiese gevolge hê. Dan kan dit gebeur dat iemand weens rassistiese en seksistiese oorweging ‘n professoraat beklee, terwyl sy/haar junior lektor hom/haar akademies ore kan aansit. RW Johnson het al genoem dat rektore in die nuwe Suid-Afrika (blykbaar) nie sonder die vooraf goedkeuring van die ANC-regering aangestel word nie. Ek sou eerder sê dat ten minste die aanvaarbaarheid vir die ANC-regering van die kandidate wat om ‘n rektorspos meeding heeltemal verkeerdelik deurgaans in gedagte gehou word. ‘n Werklik outonome universiteit besluit selfs oor so ‘n belangrike aanstelling en laat hom nie deur ‘n regering intimideer nie; veral nie deur die ANC-regering wat so ‘n hemelskreiende gebrek aan akademiese diepte het nie.

    Ek is dus ongeneë om te beweer dat plaaslike rektore, wat die hoogste akademiese pos aan ‘n universiteit beklee, akademies meerderwaardig in vergelyking met egte akademies-wetenskaplike professore is. My indruk is dat die gewoonte plaaslik posgevat het om rektore by uitstek op nie-akademiese gronde aan te stel; dus asof hulle eerder die hoof administratiewe beampte is. Na analogie daarvan bestaan die wesenlike gevaar dat akademiese norme by ander akademiese aanstellings ook verwater word.

    Botman het ‘n buitengewoon klein arsenaal van idees. Wat hy telkens in sy toesprake en geskrifte noem en by dié reünie herhaal het, asof dit ‘n hoogtepunt in die US se geskiedenis is, is: “In 1999, your alma mater finally acknowledged – and I quote ‘its contributions to the injustices of the past’.” Botman borduur hierop voort met die voorstelling van die US as “taking responsibility for the past – both its own actions and its contributions to the injustices perpetrated in this country.” Selfs hierdie oordrywing het die aartsaktivis Botman nog nie in afdoende mate bevredig nie, gevolglik gaan hy voort: “This was an apology for apartheid, one that should be repeated from time to time. But the University didn’t stop there. It also committed itself to ‘redress and development’.”

    “‘Redress’ referred specifically to access. In 1990, Stellenbosch had just 762 black students. Today, we have more than 9 000, or roughly a third of our student body. And by 2018 [die US se eeufeesjaar] we will be even further along.” As neo-swarte* verstaan Botman onder swartes alle nie-wittes. Kleurblindheid of ‘n ewewigtige, nie-rassige beskouing oor etnisiteit moet nie van Botman verwag word nie. In sy intreerede as rektor in 2007 het hy belowe dat die US gaan verswart en by implikasie gaan verengels. Teen 2018 sal Botman sy “sukses” meet aan die mate waarin hy daarin geslaag het om die persentasie wit studente en personeel te verminder en Afrikaans-mediumonderrig te beperk. Die akademiese skade wat die US weens hierdie transformasie ly, is klaarblyklik nie iets waaroor Botman hom danig bekommer nie. Akademiese oorwegings dra minder gewig as die politieke oogmerke wat hy so fanaties nastreef.

    [*Eintlik pseudo- (of skyn-) swarte. Aan die Botman-US word daar by die studente, dosente en ander personeel op ‘n onheilige manier uitermate voorkeur aan Botman se mede-bruines ten koste van blankes gegee. Tydens die besoek van Blade Nzimande se Portefeuljekomitee vir Hoër Onderwys in 2009 het Botman tot sy ontnugtering agtergekom dat die lede “in die getal swart studente en personeel belangstel en dat hulle bruin studente nie as swart aanvaar nie” (Kapp p 181). Botman se eie herklassifikasie as generies swart het dus deur die mat geval. Die ANC-regering erken nie neo-swartes as ragegte swartes nie.]

    “And regarding the commitment to ‘development’, it laid down the foundation for a science-for-society approach at Stellenbosch.” Tradisioneel het die universiteit twee funksies gehad: onderrig en navorsing. As ANC-aktivis oorbeklemtoon Botman ‘n derde funksie vir die US, naamlik gemeenskapsdiens. Daarvolgens word van die US verwag om maatskaplik betrokke by gemeenskappe te raak (in die praktyk uitsluitlik, dus nie-inklusief, “benadeeldes/agtergeblewenes” oftewel nie-wittes) deur take te verrig en selfs van die dienste te lewer wat die politieke owerheid versuim om (doeltreffend) te doen.

    “We started doing so with the University’s HOPE Project.” Die motivering hiervoor, so kenmerkend van Botman, is polities: “Stellenbosch has a very special responsibility, given its history. We have played a significant part in the injustices of the past and we are committed to redress” (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans, 2013, p 215). Botman “beklemtoon dat hierdie herposisionering ook ‘n wegbeweeg van die ‘language roots’ van die US beteken.” (p 216). Kapp noem ook “die opvallende afwesigheid in die Hoop Projek [van] kultuurgerigte projekte” (p 217). Die Botman-US distansieer hom hiermee onteenseglik van sowel die Afrikaner as Afrikaans. “We are now a national asset. Stellenbosch is nie meer ‘volksbesit’ nie. Ons behoort nou aan almal – die wêreld [en sekerlik Afrika] en die land – en al sy mense.” Daarmee herhaal Botman ‘n geykte ANC-refrein.

    Die Lusaka-gangers, volgens Botman, “left a valuable legacy.” Hulle het glo ‘n verskil gemaak. Daar is geen teenspraak hieroor nie: die US het verander. Polities het die US in die oë van ‘n ANC-aktivis soos Botman verbeter. Maar die vraag wat die akademiese hoof van ‘n (eens) akademiese inrigting hom moet afvra, is: Het die US akademies verbeter? Is dit akademies sinvol om ‘n amptelike beleid te hê waarvolgens die akademies beste kandidate (dikwels) nie as studente toegelaat of as dosente en navorsers aangestel en bevorder word nie? Ek kan maar net hoop dat ‘n toekomstige US wat minder polities en sterker akademies as die Botman-US geöriënteerd is hiervoor eendag by herhaling verskoning sal vra.

    Teen die einde van sy toespraak het Botman dit nodig gevind om nog een van sy ideologiese preokkupasies te berde te bring. Daar is volgens hom nog “brandpunte op kampus.” “Daar is byvoorbeeld die vraagstuk van simbole. Stellenbosch staan lankal nie meer vir DF Malan se 1913-idee van hoër onderwys net vir die Afrikanervolk nie. Maar weerspieël ons simbole dié verandering? Wat doen ons om almal hier welkom te laat voel … te laat voel dis ook hulle plek hierdie? Hoe laat ons die mure en geboue en pleine tot almal spreek?”

    Wat hier aan Botman se ANC-siel knaag, blyk uit die volgende koerantberig:

    “Twee van die Universiteit Stellenbosch (US) se geboue heet nog na voormalige eerste ministers van Suid-Afrika.

    Dit kan wel verander indien ‘n voorstel aanvaar word.

    Die US se Sentrum vir Inklusiwiteit het onlangs gehelp met die inwin van inligting oor die geskiedkundige bepalings wat sal geld indien ‘n naamsverandering vir die DF Malan-gedenksentrum oorweeg sou word.

    Die sentrum is verlede jaar gestig en is gemoeid met sekere elemente van die US se transformasiestrategie, waarvan visuele regstelling ‘n komponent is.

    Mohamed Shaikh, woordvoerder van die US, het gesê in hierdie verband word die DF Malan-gedenksentrum se naam gereeld genoem as voorbeeld in refleksies oor visuele regstelling op die kampus.

    ‘Die sentrum help die bestuur ook met die inwin van inligting ter oorweging van die manier waarop die US visuele regstelling wil benader. Die voorstelle het geen amptelike status nie. Dit is bloot voorstelle vir oorweging deur die US-bestuur,’ het Shaikh gesê.

    Die US het nie gesê hoe ver die proses is of watter name voorgestel is nie.

    Die DF Malan-gedenksentrum naby die Coetzenburg-stadion word gebruik vir die US se gradeplegtighede en die verwelkoming van eerstejaars. …

    Die ander gebou wat nog ‘n voormalige eerste minister se naam het, is die JC Smuts-gebou” (Die Burger, 6 Mei, p 10).

    Ja, die US het nou ‘n Sentrum vir Inklusiwiteit. Die US is hier aan die voorpunt van progressiewe denke omdat hy waarskynlik die enigste universiteit in die wêreld is wat dit deurlopend nodig vind om geld aan die bevordering van “inklusiwiteit” te bestee. Maar oor die aard van Botman-inklusiwiteit moet duidelikheid verkry word. Daar is ‘n opvallende patroon. In sportsoorte waarin blankes tradisioneel oorheers het, soos rugby en krieket, word kwotas ter bevoordeling van nie-wittes vereis. In ‘n sport soos sokker, waarin swartes oorheers, was daar egter nog nooit sprake van kwotas ter bevoordeling van wittes nie. By tradisioneel blanke en veral die eens Afrikaanse universiteite word daar insgelyks voortdurend druk vir ‘n toename in nie-wit (veral swart) studente en personeel uitgeoefen. By tradisioneel swart universiteite is daar geen druk hoegenaamd dat hulle meer wit studente en personeel moet hê nie.

    Aan die Botman-US word hierdie ANC-resep getrou gevolg. Waar wittes hulle tradisioneel bevind het, bv in koshuise, word in hierdie veelgeprese era van vryheid kwotas ter bevoordeling van nie-wittes afgedwing. In hierdie konteks gebruik Botman graag die terme “inklusiwiteit” en “diversiteit.” Ter bevoordeling van nie-wittes pas die Botman-US egter graag dubbele standaarde toe. Byvoorbeeld, die US se mentorprogram vir skoliere is eksklusief vir nie-wittes, veral bruines. Daar is ook ‘n spesiale doktorale program eksklusief vir swartes uit Afrika. Inklusiwiteit word as noodsaaklik beskou as wittes deel van ‘n groep is. Blankes mag nie afsonderlik as ‘n eiesoortige groep funksioneer nie, want dan is dit apartheid*. Eksklusiwiteit word egter as ‘n positiewe bate geag wanneer nie-wittes bevoordeel en blankes blatant uitgesluit word. Dan word dit nie rassediskriminasie genoem nie, maar regstelling.

    [* ‘n Kort uitbreiding hierop. In Kapp se boek word dubbelmedium (onderrig in Afrikaans en Engels in dieselfde klas) tereg opvoedkundig die “swakste van al die beskikbare opsies” genoem (p 206). Botman het egter sy wesenlike aard absoluut ondubbelsinnig geopenbaar toe hy sy voorkeur vir dubbelmediumonderrig uitgespreek het “omdat dit verseker dat wit en swart saam in die klasse sit” (p 205). Hy kies dus blatant kant vir politieke bo opvoedkundige oorwegings omdat parallelmedium (onderrig in Afrikaans en Engels in aparte klasse) weens Botman se politieke gepreokkupeerdheid deur hom as die voortsetting van apartheid beskou word. Dit word só gesien omdat oorwegend wittes die Afrikaanse en oorwegend nie-wittes die Engelse klasse bywoon.]

    In die Botman-kraniologie is visuele regstelling die jongste gier. Daar word sonder meer aangeneem dat wittes op die US-kampus tuisvoel, want hulle was mos nog altyd daar. Daar word glad nie in ag geneem dat blankes sistematies etnies en kultuur- (insluitende taal-) gewys doelbewus ontheem word nie. Weens die toenemende verswarting en verengelsing van die US voel blankes elke jaar al hoe meer ontuis en inderdaad onveilig op die kampus. Wanneer Botman die ideaal koester van ‘n kampus waar almal welkom en tuis voel, waar daar geen plek vir ‘n onderskeid tussen “ons” en “hulle” is nie, waar almal een groot geïntegreerde, uitgebreide Matie-familie is, dink hy net aan wat ter bevoordeling van nie-wittes gedoen kan word.

    Dit is in hierdie selektiewe en per slot van sake anti-blanke perspektief dat geboue nie na Jan Smuts of DF Malan vernoem mag word nie. Botman gaan van die ANC-standpunt uit dat die name van sulke blanke politici vir nie-wittes aanstootlik is. As hierdie twee geboue ingevolge visuele regstelling na bv Nelson Mandela en Steve Biko hernoem word, sou Botman myns insiens geen beswaar hê nie, want vanuit die ideologiese hoek waaruit hy kyk, kan hierdie twee kamerade nie aanstoot gee nie. As daar wittes is wat beswaar sou opper, kan kort mette met hulle gemaak word deur hulle rassiste te noem. Om teen te werp dat die universiteitsverskynsel van Westerse oorsprong is en met beskawing (en nie met terrorisme nie) geassosieer word, sou (waarskynlik) geen indruk op Botman maak nie.

    Dat die name van Westersgesinde blankes, bv veral ‘n Afrikaner soos DF Malan, aanstootlikheidstatus by Botman het, blyk uit sy bostaande aangehaalde opmerking oor Malan. Dat die vernoeming van ANC-kamerade, daarenteen, aan die Botman-US heeltemal aanvaarbaar is, blyk uit die feit dat ‘n afdeling van die fakulteit teologie die naam van Beyers Naudé dra en ‘n afdeling van die mediese fakulteit dié van Desmond Tutu. Daar word sonder meer maar verkeerdelik aanvaar dat die gebruik van sulke name geen Matie vervreem nie.

    Die studentesentrum heet tans die Neelsie, vernoem na ‘n stryder vir Afrikaans, CJ Langenhoven. Maar soos ons hierbo gesien het, minag Botman die “language roots” van die US. Uit die ANC-gesindheid wat met die Naudé- en Tutu-benamings geopenbaar word, sal dit seker nie lank wees voordat visuele regstelling die Neelsie tref nie. Almal wat as nie-rassiste gereken wil wees, sal lippediens moet bewys wanneer die Neelsie as bv die Nelson hernoem word.

  • Die kortkom van ons versigtigheid

    Die kortkom van ons versigtigheid

    Die mooi weer sal jou nie beskadig omdat jy jou jas en sambreel verniet saamgeneem het nie.

    Daar is mense wat so uiters versigtig is dat hulle nie hulle versigtigheid verniet wil vermors nie. As die weer bewolk is wanneer hulle van die huis af gaan dan doen hulle meer moeite om op te kyk hemel-toe en die opienie van die bure te verneem en die almanak te raadpleeg omtrent die toestand van die maansveranderinge, as wat dit hulle sou gekos het om maar die klein jong die sambreel op die kar te laat sit. Ek het nie diewe in my huis nie. Ek hoef eintlik maar net my brandkas – pure papiere leser: moenie jou strooi-skuldenaar stuur om ‘n ander krediteur in jou plek te kry nie – ek sê ek hoef maar net my safe toe te sluit as ek weggaan van die huis af. Maar nou sluit ek hom al dae. Dis min moeite; die sleutel raak nie opsy nie; en daar is nie gevaar dat ek juis by die nodige geleentheid die toesluit sal vergeet nie.

    Ons neem almal maatreels vir ons gesondheid as ons eers die knak weg het. Dan loop ons met pluisies in die ore rond en rooi flennel onderbroeke: maar die sinkings en reumatiek kom van die jeugdige bloeidae toe ons met die nooi op die nat kweek gesit het. Ons eet nou pappies en ons drink soppies: maar die swak maag kom van die oordaad van ons gesonde lentetyd. Só sukkel ons ons ou lewe deur; ons vergeet dat gehoorsaamheid beter is as offerande; ons oortrek ons rekening op die liberale en weelderig-weldadige bank van die Natuur; en wanneer die onvermydelike bankrotskap volg, loop ons met ‘n nukkerig-donkere bakkies rond om die Voorsienigheid te beskuldig van onregverdigheid.

    Soos ons met ons liggaam maak, netso ook maak ons met ons siel. In ons onskuldige Paradys-dae wanneer ons karakter nog nie besmet is omdat hy nog nie met die ghries-teer in aanraking gekom het nie, voel ons so sterk en selfvertrouend dat die versoeking geen skrik vir ons het nie omdat ons voel dat hy ons wil nie kan baasraak nie. Die een klein stappie kan ons maar neem want ons weet ons kan weer omdraai. En dan naderhand moet die halfverdronke karakter sukkel om te swem omdat die frisse gesonde in die water in geloop het uit brawado. En wanneer ons tot onsselwe kom, moet ons verbroke liggaam en riempies-gelaste siel met verwyt wat bitterder is as die gal van die hel, terugsien op die grote kanse wat hy vermors het en die kleine wat nog oorbly deeskant die graf.

     

    цена киевданильченко юрій броніславович

  • Botswana se selfbeeldprobleme

    ‘n Suid-Afrikaanse man is in Botswana in hegtenis geneem omdat hy na bewering vir ‘n werker gesê het dié is dommer as die president. Vroeër is vier Suid-Afrikaanse vrouens ook in Botswana in hegtenis geneem, nádat hulle gesê het Ian Khama lyk soos ‘n Boesman. Hoekom sou dit ‘n belediging wees vir die president, wonder ek? Is Boesmans moontlik in die oë van die Tswanas ‘n minderwaardige ras?

    Bostaande is uiteraard ‘n teken van ‘n uiters agterlike piesangrepubliek, waar die staatshoof en politici se selfbeeld so swak is, dat kritiek teen hulle ‘n misdaad is.

    Die vier vrouens is egter heel moontlik reg. Dit is ‘n feit dat die Bantoe-invallers wat uit Wes- en Sentraal-Afrika suidwaarts gemigreer het, dikwels met die Boesmans ondertrou het. Daar is heelwat Koisangene in die swart bevolking. As ek nou nie bang was dat ek soos daai ou wat by Sun City ‘n plaat oor die afgod Mandela gespeel het, aangekla gaan word nie, kon ek die opmerking gemaak het dat Mandela nogal baie na ‘n Boesman lyk. Ek is egter heeltemal te bang en verklaar hiermee vir die rekord en in die openbaar dat, indien Mandela na enige groep lyk, hy ongetwyfeld op blonde Noorweërs trek.

    Die arrestasie van die man wat meen dat die werker dommer is as Ian Khama, is insgelyks skreeusnaaks. Probeer die owerhede stellig daarmee te kenne gee dat die werker juis nié dommer is as mnr Khama nie? Waarom so sensitief? Soos Shakespeare gesê het: “the lady doth protest too much”. Mens sou sweer hulle woon op ‘n kontinent waar die gemiddelde IK tussen 70 en 80 is, te oordeel aan hoe dun die nerfies oor sulke opmerkings is. Ons almal weet egter dis nie so nie, en vir die rekord verklaar ek dat ek glo dat al die mensdom se mees briljante ontdekkings deur Afrikane gemaak is, en dat Afrikane in der waarheid enige ander nasie ver uitstof wanneer dit by intellek kom.

    Om terug te keer na die ou wat gevang is: CJ Langenhoven het op ‘n stadium gesê dat helfte van die parlementslede bobbejane is. Toe hy gedwing is om sy woorde terug te trek, het hy gesê die helfte is nié bobbejane nie.

    As ek nou die aangeklaagde Suid-Afrikaner was, het ek my woorde in die openbaar teruggetrek en gesê dat die werker inteendeel nie dommer is nie, maar in der waarheid slimmer is as die president.

    магазин велосипедов киевОлександр Фільчаков прокурор