Leon Lemmer: Die oorsprong van Afrikaans: Kaaps of Nederlands?

Teen die einde van verlede jaar is die volgende boek gepubliseer: Kaaps in fokus (Stellenbosch: Sun Media, 2016, 145p, R225) met Frank Hendricks en Charlyn Dyers as redakteurs. Die nege hoofstukke is bygewerkte teks van voordragte wat in 2012 tydens die eerste simposium oor Kaaps aan die Universiteit van Wes-Kaapland deur “wonderlike sprekers” (p v) gelewer is.

Die eerste hoofstuk, deur Frank Hendricks, is akademies-wetenskaplik die sterkste bydrae. Kaaps word beskryf as ‘n Wes-Kaapse informele omgangspreektaal wat veral in die Kaapse Skiereiland onder die bruin werkersklas aangetref word. In ‘n poging tot twyfelagtige inklusiwiteit, word beweer dat Kaaps ook blanke sprekers het (5); iets wat hoogs uitsonderlik moet wees. Kaaps is ‘n taalvariëteit wat “diep onder Engelse invloed” staan (2). “Een van die mees opvallende kenmerke van Kaaps is die inspeel van Engels op sy Nederlands-Afrikaanse basis” (6). Hendricks skryf van “die spontane deureenhaspeling van Afrikaans en Engels” en verwys na FA Ponelis se stelling: die “ontsettend hoë mate van Engelse invloed” (7). Kaaps funksioneer soos ‘n “spons wat invloede uit ander spreekkodes soos gay-, straat-, bende- en tronktaal opsuig” (21). Kaaps word desnieteenstaande as “gelykwaardig” met ander Afrikaans-variëteite voorgehou (2, 30), asof Afrikaans wat oormatig met onnodige Engels besoedel is volwaardige Afrikaans kon wees. Kaaps bestaan inderdaad in die werklikheid in dieselfde mate as ander soorte Afrikaans maar weens sy ongeëwenaarde besoedeling met Engels kan Kaaps myns insiens onmoontlik in dieselfde mate as Standaardafrikaans gelykwaardige of doeltreffende verskansing teen verengelsing bied.

“Wat talige status betref, is Kaaps te beskou as ‘n variëteit van Afrikaans – nie as ‘n taal of taalvorm náás Afrikaans nie” (4). Ek vra: In watter mate moet ‘n taal (bv Kaaps) ‘n ander taal (bv Engels) akkommodeer (dus in sigself opneem) voordat dit ophou om bv Afrikaans te wees en eerder die aanskyn van die ander taal, bv Engels, het? Sonder om hare te kloof, skyn dit die beste te wees om Kaaps te noem wat hy is, naamlik ‘n mengeltaal. Daar behoort nie sonder meer veronderstel te word dat Kaaps ‘n variëteit van Afrikaans is nie; veral nie dat dit ‘n soort Afrikaans is wat gelykwaardig aan bv Standaardafrikaans is nie. ‘n Prominente opsig waarin Kaaps nie gelykwaardig aan Standaardafrikaans is nie, Kaaps dus nie volwaardige Afrikaans is nie, is in sy graad van besoedeling met Engels.

Standaardafrikaans is, in die woorde van CJ Langenhoven, ‘n “pêrel van groot waarde” (Praag 16.05.2015). Dit is die vlagskip van Afrikaans. As standaardtaal toring dit uit bo enige variant. “Standaardafrikaans [is] eintlik ‘n dialek wat bokant Afrikaans se dialekte staan” (Christo van Rensburg, So kry ons Afrikaans, Pretoria: Lapa Uitgewers, 2012, p 117). Evolusionêr kan Standaardafrikaans die beste uit die variante in sigself opneem. In die stryd om voortbestaan bied Standaardafrikaans die beste, eintlik enigste, doeltreffende verskansing teen Engels. In die mate van taaleenheid wat in Standaardafrikaans uiting vind, is daar krag. Diegene wat eerder om Kaaps as Standaardafrikaans pleit, bevorder verdeeldheid en handel sodoende in stryd met die beste belange (bv voortbestaan) van Afrikaans. Dit is gewoon dwaas om Afrikaansvariëteite en veral Kaaps te bevorder, soos die Afrikaanse Taalraad doen, terwyl Afrikaans as sodanig onder beleg is.

Die politieke beswaar teen Standaardafrikaans is dat dit die skepping van hoofsaaklik blankes is. In daardie opsig is Standaardafrikaans een van talle goeie dinge wat plaaslik bly voortbestaan ten spyte van die erodering wat algemeen in die nuwe Suid-Afrika voorkom. Dit is polities byderwets* om Kaaps as ‘n omgangstaal van bruines te verheerlik, des te meer omdat dit “teruggryp na die sewentiende-eeuse invloed van slawe op die vorming van Afrikaans” (6). Terselfdertyd word Standaardafrikaans as die skepping van hoofsaaklik blankes gediskrediteer of stilswyend geïgnoreer. Dieselfde gebrek aan erkentlikheid jeens Afrikanerprestasie is onderliggend aan die voorkeur wat aan die inklusiewe term “Afrikaanses” gegee word terwyl eerder die A-woord, “Afrikaners,” in orde sou wees. Taalkundig sou dit sinvol wees as almal wat die voortbestaan van Afrikaans koester, Standaardafrikaans daadwerklik steun.

[* “Politically correct” is ‘n Amerikaanse frase wat sommige dinge wat nie korrek is nie, oënskynlik korrek verklaar. Ek verkies om die frases “polities byderwets” en “politieke byderwetsheid” te gebruik omdat hulle duideliker uitdruk wat bedoel word (byderwets = trendy). Die Amerikaanse frase “affirmative action” word gewoonlik as “regstellende aksie” vertaal, terwyl die “regstelling” oordrewe en eintlik verkeerdmaking kan wees. Die frase “byderwetse verandering” is myns insiens ‘n beter vertaling, onder meer omdat verandering nie noodwendig verbetering is nie.]

Hendricks verwys na gevalle waar variëteite van Afrikaans “onder druk van die standaardvariëteit in onbruik verval het” (5; ook 10). Dit moet verwelkom word en geskied in die huidige era van massakommunikasie, met sy talle nuwe inligtingsmedia, meer geredelik as voorheen. Hendricks noem die Bo-Kaap die “bakermat” van Kaaps (5). Hy kan reg hê. Sy stelling is in elk geval nader aan die waarheid as Anne-Marie Beukes s’n waarvolgens die Bo-Kaap “die wiég” van Afrikaans sou wees (Die Burger, 21.08.2015, p 15). Hendricks skryf: “As omgangsvariëteit van Afrikaans staan Kaaps (soos ander vorme van Omgangsafrikaans) in wisselwerking met Standaardafrikaans, as gevolg waarvan Standaardafrikaans op Kaaps inspeel en Kaaps (ten minste potensieel) dien as voedingsbron vir Standaardafrikaans” (25). Kaaps beïnvloed Standaardafrikaans egter werklik en nie net potensieel nie. Hendricks verskaf ‘n lys van Kaapse woorde wat in die tiende uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) (Kaapstad: Pharos, 2009, 593p) opgeneem is (10). Dit dien as bewys van die evolusionêre ontwikkeling van Standaardafrikaans. Hy wil hê dat meer woorde uit Kaaps as Standaardafrikaans erken word (30).

Daar moet egter gewaarsku word teen die moontlikheid dat politieke byderwetsheid hier ‘n groter rol speel as wat streng taalkundig geregverdig kan word. Ek sê dit na aanleiding van uitlatings van die voorsitter van die Taalkommissie, Gerhard van Huyssteen. Hy maak aanspraak op ‘n wyer siening van wat Standaardafrikaans is. Eintlik beteken dit maar net dat hy polities meer byderwets (dus meer verlig of links) as sy voorgangers is. Van Huyssteen wil beweerde historiese ongelykhede regstel en dus Standaardafrikaans wyer aan Kaaps oopstel. (Die Burger, 20.04.2015, p 3). Hendricks maak gewag van die “demokratisering van Afrikaans” (31). Dit kan neerkom op politieke boetedoening ten koste van Standaardafrikaans. Byvoorbeeld, die woord “skanghagha,” wat “in die haak” beteken, is voorlopig in die AWS opgeneem. Voorlopige erkenning ondergrawe egter die histories normerende rol van die AWS (Praag 23.05.2015).

Om praktiese redes het ek tot dusver geskryf asof Kaaps ‘n homogene omgangstaal sonder variante is. “Kaaps manifesteer nie as ‘n variëteit wat gebruikmatig eenvormig is nie; trouens Kaaps is wesenlik ‘n heterogene variëteit van Afrikaans” (26). Heterogeniteit bemoeilik die moontlike standaardisering van Kaaps, maar groter homogeniteit kan uiteraard deur standaardisering bewerkstellig word. Moslem- en christen-Kaaps verskil. So ook middelklas- en werkersklas-Kaaps. Daar is ook gebiedsverskille, bv tussen die Kaaps van die Bo-Kaap en die Kaapse Vlakte (26-27). Sommige soorte of aspekte van Kaaps is makliker verenigbaar met Standaardafrikaans as ander. Sommige van hulle kan as taalskeppings verrykend op Standaardafrikaans inwerk. Hendricks verskaf hierdie voorbeeld: “Daai goose het mos ‘n pa’ woelage biene” (14), wat ek dink in Standaardafrikaans voorbeeldig gesuiwer kan word tot: “Daardie meisie het ‘n paar woelige bene.” Daar is ander verdienstelike woorde en uitdrukkings in Kaaps, bv “uitsteek” vir opdaag (14), “gooi ‘n lange” vir padgee (19), “in die krop bêre” vir onthou (19), “op iemand se kerrie werk” vir irriteer (20), ens.

In hoofstuk 2 noem Ernst Kotzé Kaaps ‘n “belangrike vorm van Afrikaans” (37). Kaapse Moslem-Afrikaans, met sy slawe-assosiasie, word deur Kotzé as die kerndialek van Kaaps beskou (37, 45). Kaaps kry op sy beurt die status van matrilek (dus oer- of oorspronklike dialek) van Afrikaans (37, 44, 45). Kaaps word daarmee as meer as “net een van die ontstaansvariëteite van Afrikaans” beskou; eintlik as dié ontstaansvariëteit (38). Kaaps kry senior status en styg in hierdie historiese konteks bo gelykwaardigheid uit. Die ontstaan van Afrikaans word deur Kotzé (primêr) aan Kaaps toegeskryf. Kaaps word dus as die “bakermatvorm van Afrikaans” (47) beskou, soos wat Anne-Marie Beukes by implikasie ook doen met haar stelling dat die Bo-Kaap die wieg van Afrikaans is. Hiermee word Afrikaans tot ‘n inheemse taal verklaar, dus verafrika, iets wat heelwat politieke gewig dra in die onverkwiklike amptelike taalsituasie waarin ons ons die afgelope twee dekades bevind.

Aan die Kaap het daar destyds “kontak-geïnduseerde” taalverandering plaasgevind (38). Naas taalkundige faktore speel sosiale faktore hierin ‘n rol (38), bv magsverhoudings (39). Dit kan “selfs gebeur dat ‘n taal prysgegee word ten gunste van ‘n ander taal wat deur sprekers met groter mag – sosiaal, militêr of kommersieel – gepraat word” (39). Die waarheid hiervan ervaar ons daagliks. Die ANC het die politieke mag en word oorweldigend deur swart mag ondersteun. Hierdie magsblok gee voorkeur aan Engels en hou nie van Afrikaans nie. Afrikaans word dus feitlik oral afgeskaal of afgeskaf. Dit is ‘n Baas-Klaas-verhouding: Klaas doen wat Baas wil hê, bv Wim de Villiers doen aan die Universiteit Stellenbosch wat minister Blade Nzimande verlang.

Wat eienaardig is, is dat Kotzé die dominansie in die Baas-Klaas-verhouding hierna agterweë laat en blykbaar Hans den Besten se hipotese oor die ontstaan van Afrikaans aanvaar. Hiervolgens vorm die aanleerders-Nederlands van die Khoi-Khoin en die slawe die hoofstroom van proto-Afrikaans, waarby die blankes se Kaaps-Hollands, dus hulle proto-Afrikaans, uit ‘n systroom aansluit (43). Ingevolge die Baas-Klaas-dinamika behoort die hoof- en systroom eerder andersom aangedui te word, dus dat Kaaps-Hollands die toon aangegee het, dus proto-Afrikaans se hoofstroom was, en die Khoi-Khoin en slawe uit die systroom hulle proto-Afrikaans so goed moontlik by Kaaps-Hollands probeer aanpas het. Wit en nie-wit het mekaar se omgangstaal sekerlik wedersyds beïnvloed maar sowel die vorm as die inhoud van proto-Afrikaans is seker in groter mate deur die sprekers van Kaaps-Hollands as deur die nie-wit aanleerders bepaal. Die nie-wittes het die blankes se taal aangeleer; nie andersom nie. Anders as in die geval van die nie-wittes was dit vir die blankes nie nodig om die sprong na ‘n vreemde taal te maak nie. Dat die Europese invloed oorheersend by die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans was en die invloed van die Khoi-Khoin en slawe deurgaans ondergeskik daaraan was en is, blyk duidelik as die vorm en inhoud van ‘n ouer of hedendaagse Afrikaanse teks met ‘n Nederlandse of Vlaamse teks vergelyk word. Kotzé verwys in hierdie verband tereg na bv “die opvallende Nederlandse herkoms van sommige grammatikale konstruksies” wat by Kaaps aangetref word (45).

Politieke byderwetsheid speel ongetwyfeld ‘n groot rol in die huidige neiging om die kreolisering van Afrikaans te oordryf. Ek het probeer aantoon dat die bakermat van Afrikaans veel eerder in Europa as in die Bo-Kaap is en dat Afrikaans wesenlik eerder ‘n Europese as ‘n Afrikataal is, dus ‘n Europese taal wat plaaslik aanpassings ondergaan het. ‘n Sterk saak kan daarvoor uitgemaak word dat Afrikaans, soos Vlaams, ‘n dialek van Nederlands is. Kotzé skryf van die “massiewe mate” waarin Engels hedendaagse Kaaps beïnvloed (47). Dit is myns insiens die hoofrede waarom Afrikaanssprekendes en veral Afrikaanse taalkundiges liewer die gebruik en propagering van Kaaps moet vermy as die oorlewing van Afrikaans vir hulle erns is. Byvoorbeeld, Wannie Carstens stel ‘n afkeuringswaardige voorbeeld deur net lof te hê (“In die kol! Netjies!”) vir wat Bettina Wyngaard skryf, terwyl sy haar Afrikaanse teks uittartend met onnodige Engelse woorde en uitdrukkings oorlaai (LitNet 27 Januarie; kommentaar 2 Februarie).

In hoofstuk 3 openbaar Christo van Rensburg ‘n politieke gesindheid soortgelyk aan dié van Kotzé. Volgens hom het Kaaps al voor 1652 aan die Kaap ontstaan (49, 54). “Die vroegste Afrikaans was die taalgevolg van die Khoi-Khoin se eerste kennismaking met … Seemansnederlands” (50). Dit lyk na ‘n poging om die nie-wit en Afrika-oorsprong van Afrikaans te verseker. “Kaaps is … ingeburger in elkeen van Afrikaans se variëteite” (50). “Die opspoor van … woordgeskiedenisse sal aantoon hoe groot ‘n invloed Kaaps in elkeen van Afrikaans se variëteite het. (Dieselfde geld vir grammatikastrukture)” (56). Dit is glo “eensydig” (50) en ‘n “mite” (51) dat die Khoi-Khoin “wreedaardig en oorlogsugtig” was (50). Die dood van Francisco d’Almeida en 64 van sy manskappe in 1510 by Tafelbaai deur Khoi-Khoin was, in die woorde van Schalk Pienaar, seker maar net “‘n ligte mistykie.” Van Rensburg spreek die Khoi-Khoin darem nie vry van diefstal nie.

Hy noem die Kaap ‘n “Nederlandse kolonie” (51) terwyl dit streng gesproke die eiendom van ‘n maatskappy, die VOC, was. Hy onderskei tussen Khoi-Afrikaans en die latere Veeboer-Afrikaans (52), asook tussen Voortsettingsnederlands en Aanleerdersnederlands (55). Soos Kotzé beskou Van Rensburg Khoi-Afrikaans as die hoofstroom van proto-Afrikaans, waarby Kaaps-Hollands uit ‘n systroom aansluit: “Hier word van die standpunt uitgegaan dat Afrikaans nie gesien moet word as Nederlands wat mettertyd verafrikaansing ondergaan het nie, maar eerder andersom: dit is sosiolekte van Afrikaans wat vernederlands is” (55). Myns insiens is dit ‘n polities byderwetse maneuver. Kaaps en vroeë Afrikaans word gevolglik as sinonieme beskou: “Sowat 50 jaar ná die vestiging van die Nederlandse kolonie aan die Kaap” is “Khoi … met Khoi-Afrikaans vervang” (55). “Afrikaans se taalwortels laat nie toe om te sê dit is ‘the only language of Germanic origin which is spoken exclusively outside Europe’ nie” (R Willemyns, Dutch: Biography of a language, New York: Oxford University Press, p 215) (55). Van Rensburg sluit sy hoofstuk soos volg af: “Die Afrikaanse taalgeskiedenis is in die eerste plek ‘n sosiohistoriese verhaal. Die verhaal vertel van miteskepping …, die ontsnap aan stigmatisering, en die vertel van die omstandighede van normverandering, en van verspreiding en inburgering” (57). As onderdeel van die herskrywing van die Suid-Afrikaanse geskiedenis kan sommige van die jongste neigings in die Afrikaanse taalgeskiedenis gewis ook die skepping van nuwe mites insluit.

Dit kan kwalik beweer word dat die Khoi-Khoin en slawe iets nagelaat het wat die moeite werd is. Hulle het nie uitgemunt in skeppingsvermoë nie; ook nie wat taal betref nie. Wanneer na die oorsprong van Afrikaans gesoek word, moet onder meer die volgende twee sake in gedagte gehou word. Eerstens was die vroeë blankes aan die Kaap nie Europese elite nie. ‘n Elitistiese element sou eers in 1688 opdaag in die vorm van sommige van die 180 Franse (dus nie-Nederlandse) Hugenote. Tweedens was seemanstaal sekerlik ‘n groot faktor. In albei gevalle was daar afwykings van die standaard- of Europese Nederlands. Daardie afwykings het met verloop van tyd in die nuwe omgewing van die Kaap al hoe groter afmetings aangeneem. Die taal wat gangbaar onder die blankes was, was ingevolge die Baas-Klaas-verhouding normgewend vir die Khoi-Khoin en slawe. So kry ons proto-Afrikaans.

PS Dreyer (1921-1999) het oor geskiedskrywing gesê: “Van die eerste woord af besluit jy watter klip jy vat en watter klip laat jy lê” (Pieter Duvenhage, Afrikaanse filosofie: Perspektiewe en dialoë, Bloemfontein: Sun Press, 2016, 306p, R350, p 56). Taalkundiges soos Kotzé, Van Rensburg en Carstens het in hulle vertolking van die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans polities byderwets gekies om die nie-wit klip op te raap. Ek, daarenteen, het eerder die wit klip opgetel. Die oorsprong van Afrikaans moet eerder by Nederlands en Plat Duits as by Kaaps en Khoi gesoek word. Die ontstaan van proto-Afrikaans is myns insiens sydelings deur Khoi en Afrikaans sydelings deur Kaaps beïnvloed, dus nie op ‘n hoofstroom- of deurslaggende manier nie.

In hoofstuk 4 verwys Charlyn Dyers na Praag (59) en ‘n artikel van Dan Roodt (67) maar daar is nie inskrywings hiervoor in die gebrekkige saak- en naamregister aan die einde van die bundel nie. Sy skryf oor die verskynsel van gemengde of hibriede tale (“koëksisterende ‘maniere van praat’ … kodevermenging” – 62) veral in stedelike gebiede. Dit het skynbaar ‘n gunstige invloed op die status van Kaaps om as bv opvoedkundige mengeltaal gebruik te word (59). Hierdie verwikkeling word vertolk as ‘n “teken van sosiale omwenteling” (59). Die erkenning wat in die nuwe Suid-Afrika aan veeltaligheid gegee word, is een van die gevolge van hierdie omwenteling (60). Weens die omvang wat taalvermenging aanneem, word deesdae egter eerder van taligheid as veeltaligheid gepraat (62). Die geldigheid of sinvolheid van die begrippe tweetaligheid en veeltaligheid word bevraagteken (64).

Die viering van politieke bevryding vind onder meer uitdrukking in die “wegbreek van konvensionele taal- en spelreëls” (60). Dink bv aan wat Nathan Trantraal toegelaat word om mee weg te kom in sy Rapport-rubrieke. Dit word “karnivalisasie” genoem (60). Hierdie karnivalisering van Afrikaans ervaar ek as uittartend en afstootlik. Dit is sekerlik ‘n uitdrukking van oneerbiedigheid teenoor Standaardafrikaans. Dyers, daarenteen, verwelkom dit dat Kaaps “in taalgebruiksfere soos die media prominensie geniet” (65). Kaaps word as voortreflike taal, selfs as eerbare Afrikaans, gepropageer weens die sug na politieke byderwetsheid by diegene in beheer van die inligtingsmedia. Kaaps is glo nie “substandaard Afrikaans” nie (65). Kaaps word beskou as deel van “‘n kontinuum van variëteite wat almal onder die sambreelbenaming ‘Afrikaans’ tuis te bring is” (65). Ek, daarenteen, is geneig om die “taalburgerskap” (65) van Kaaps as ‘n variëteit van Afrikaans te ontken. Sy noem tereg dat besorgdheid oor taalsuiwerheid “dikwels kop uitsteek in tye van vinnige sosiale verandering” en “die een-nasie-een-taal-ideologie koppel nasionale identiteit aan slegs een taal” (61). Die ANC se idee van een “nasie” is dat verkieslik net een taal, die koloniale taal Engels, bestaansreg behoort te hê. In die geval van Afrikaners is die volkstaal steeds Standaardafrikaans, maar polities gedrewe pogings tot kreolisering behoort myns insiens teengestaan te word. Dit is te betwyfel of multikulturele Cockney en Brummie enigsins deur gesofistikeerde Britte bevorder sal word in die buitensporige mate wat polities byderwetse Afrikaanse taalkundiges dit met Kaaps doen. Hou ook in gedagte dat, anders as in die geval van Afrikaans, die voortbestaan van Engels glad nie bedreig word nie.

Soos in die linkse politieke diskoers word sommige tradisionele taalkundige begrippe deesdae as “blote sosiale konstrukte” afgemaak (61). Taalvariëteite word as “linguistiese kontinua” beskou (61), wat soortgelyk is aan die erkenning van ooreenkomste pleks van verskille by mense. “Die grense tussen tale en taalvariëteite op ‘n talige kontinuum, soos die grens tussen Standaardafrikaans en Kaaps, word getrek in verhouding met sosio-politieke in plaas van suiwer taalkundige faktore, en in hierdie sin is tale sosiale konstrukte” (62). Op hierdie manier word gepoog om die mengeltaal Kaaps eerbaar te maak. “Dit gaan hier om die herstel van die waardigheid van ‘n variëteit en die sprekers daarvan” (65). Op ‘n wyse soortgelyk aan tale word verskille tussen rasse en etnisiteite kennelik verwater. Minderheidstale sterf uit en taalhibridisering lei tot nuwe taalvariëteite (62). Dyers skryf nie ‘n enkele woord ten gunste van taalsuiwerheid nie. Sy pleit eerder daarvoor dat “die taalpurisme- en die taalhiërargie-ideologie” laat vaar moet word (65). As Kaaps Standaardafrikaans verdring, sou sy seker geen traan stort nie: Die uitsterf van tale word tot “‘n relatiewe begrip” afgegradeer (64). Byvoorbeeld, Kaaps bevat spore van Afrikaans, daarom kan Afrikaans maar uitsterf en kan ons ons dan verbly oor die fragmentariese voortbestaan van Afrikaans in Kaaps. Diversiteit word in taalpraktyke geïntegreer. Dit word die demokratisering van kommunikasie genoem en is die “viering van gedeelde kulture en taalkennis” (62). Die nuwe Suid-Afrika is ‘n deurmekaarspul. Daarom kan die plaaslike tale, volgens hierdie redenasie, ook maar deurmekaarloop.

Daar is myns insiens ‘n anargistiese klank in wat Dyers skryf. Sy opper nie beswaar teen die vernuwende uiterstes waartoe daar soms in die hedendaagse taalkunde geneig word nie (63-65). Kaaps is glo “‘n baie goeie voorbeeld van … geïntegreerde taalvaardigheid … Kaaps en soortgelyke variëteite behoort gebruik te word as aanvullende onderrigmedia in alle progressiewe [!] opvoedkundige stelsels” (63). In skole kan daar “meer plooibare dubbelmedium- en bilaterale benaderings” ingevoer word (64); presies die soort ding wat Afrikaans as onderrigmedium aan al die eens Afrikaanse universiteite grootliks vernietig het. Taalsuiwerheid, soos rassuiwerheid, is blykbaar uit. Moedertaal word beskryf as “grootliks bloot ‘n ideologiese konstruk” (63). Eintlik word taal as sodanig tot in die grond afgebreek. “Die rigiede begrensing van tale in ‘n veeltalige samelewing het baie min waarde” (63). Hier is die onderliggende redenasie: In die nuwe Suid-Afrika is gedwonge rasse- en etniese integrasie aan die orde van die dag. Selfs geslagsverskille word al hoe meer ontken. Waarom dan nie maar tale ook deurmekaargooi nie? Dyers skryf: “Die normalisering van alle vorme van veeltaligheid word … bepleit, sonder enige voorbehoude, op skool en in die samelewing as geheel” (65). Dan volg die kersie op die koek: “Selfs die konsep ‘taal’ is vir sommige taalkundiges problematies” (63). Dit volg dat taalkundiges dan nie meer taalkundiges kan wees nie. Dyers kla oor “die amper arbitrêre manier waarop sekere variëteite tot standaardtaal bevorder word” (63). “Vir die gesonde groei van lewensvatbare tale moet periodieke herstandaardisering [ge]handhaaf word” (63). Dit word in die geval van Standaardafrikaans gedoen, op die gevaar af dat dit polities byderwets oordoen word.

Hoofstuk 5 is geskryf deur ‘n ANC-aktivis, Hein Willemse. Hy roem daarop dat hy voorheen geskryf het oor “‘n gekreoliseerde samelewing en talige hibriditeit” (71). By Willemse is daar dieselfde neiging as by bv Nico Koopman, naamlik om sy hibriede etnisiteit as ‘n navolgenswaardige model vir ander verskynsels, bv taal en spesifiek Afrikaans, voor te hou. Die totstandkoming van Standaardafrikaans word afgemaak as “‘n bewuste etniese konstruk” (71), klaarblyklik omdat feitlik uitsluitlik blankes Afrikaans tot sy huidige vlak ontwikkel het. Die punt is dat baie van wat voortbestaan in die nuwe Suid-Afrika, ten spyte van die opsigtelike verval, aan blankes te danke is. Soos in die geval van Afrikaans sou ek hulle eerder voortreflike prestasies as sosiale konstrukte noem. Willemse beskryf die Suid-Afrika van weleer, toe blanke Afrikaanssprekendes in beheer van die politieke mag was, as “‘n etnies-chauvinistiese staat” (72).

By Willemse is daar die sleepvoetende erkenning dat Standaardafrikaans “‘n besondere prestasie is” (72) maar hy kwalifiseer sy nugtere oordeel: “Dink aan die aktiewe vernederlandsing en vergermanisering van Afrikaans en die taalfamilie-metafoor wat ‘n onderliggende Eurosentrisme blootlê” (72). Myns insiens behels dit bloot die uitbouing van wat Afrikaans wesenlik is, maar Willemse wil dit anders hê. Hy wil Afrikaans in groter mate verafrika. Hy noem dit “die verruiming van die standaardtaal” (74). Nie net Standaardafrikaans nie maar die hele Afrikaanse taalgemeenskap moet verruim word. Die ou sosiale kategorieë moet afgelê word (81), wat sekerlik beteken dat die onderskeid tussen wit, bruin en swart mense moet verdwyn. Let op hierdie formulering oor Afrikaans se standaardisering: “Dit was soms só gerig dat betekenisvolle seksies van die Afrikaanse spraakgemeenskap, meesal nie-wit sprekers, deurlopend uitgesluit is” (72). Die “soms” is in orde terwyl “deurlopend” nie net teenstrydig met “soms” is nie, maar ook oordrewe en vals is.

Willemse wil hê dat bruines op skool in hulle moedertaal onderrig word (74). As Kaaps inderdaad ‘n (mengel)taal uit eie reg is, kan ‘n mens vra hoe realisties dit is om onderrig in daardie ongestandaardiseerde medium te verlang as die owerheid nie eens onderrig in Afrikaans simpatiek gesind is nie. Hy beskou Kaaps as ‘n variëteit van Afrikaans en dink dat Kaaps waardige status kan verkry as kers by die anargistiese denker Michel Foucault opgesteek word (74). “Onderwysers behoort toegerus te word met vaardighede om ‘n bewustheid van die plek en waardigheid van niegestandaardiseerde Afrikaanse variëteite te waardeer en te bevorder” (74). Ook dat “alle leerlinge bi-dialekties (of selfs multidialekties) toegerus moet word” (75). Op hierdie manier word sake myns insiens vir sowel die onderwysers as die leerlinge onnodig bemoeilik. Kinders gaan skool toe om te leer. Op skool behoort bruines, soos blankes, minstens twee gestandaardiseerde tale, Afrikaans en Engels, te leer. Die aanleer van albei tale behoort vir Kaapssprekers redelik maklik te wees want hulle kan kwalik vreemde tale vir hierdie leerlinge wees omdat Kaaps elemente van albei tale bevat.

Willemse wil egter hê dat hierdie tale (maar by uitstek Afrikaans), soos die Suid-Afrikaanse samelewing, ‘n deurmekaarspul moet wees: “Die bruisende toekoms van Afrikaans … [reeds] in ons veeltalige stedelike strate soos dié van Kaapstad en sy townships vorm aanneem” (75). Voorts het hy dit teen Afrikanernasionalistiese geskiedskrywing wat reggestel moet word; ook wat betref die geskiedenis van Afrikaans (75). Hy verwys na die “pseudo-fonetiese spelling,” bekend as “oogdialek,” wat dikwels vir Kaapse teks gebruik word (75), bv deur Nathan Trantraal. Hier huldig Willemse die gesonde mening dat Kaaps “nie noodwendig … informele ortografieë … nodig het nie” (71), al het hyself as ANC-aktivis eens soos volg gedig: “lat die wêreld praat, pêllie, los e’ vas. / ‘n y-kei forty-seven enne hêndgrenyt / pêllie / – dan’s als ólright” (78). “Om in die soeke na swart outensiteit terug te val op informele ortografieë of Kaaps as oogdialek, is myns insiens beperkend eerder as verruimend” (81). In gedigte word Kaaps “meesal beperk en formule-agtig aan[ge]wend en daarmee [word] die stereotipes wat met Kaaps opgebou is, bevestig” (80).

Hoofstuk 6 is geskryf deur Michael le Cordeur. Hy lewer sy gebruiklike pleidooi vir Kaaps as skoolonderrigtaal: “Kaaps is volwaardige Afrikaans en behoort waar nodig (naas Standaardafrikaans) as medium van onderrig benut te word” (97). Die sprekers van Kaaps word glo op skool benadeel. Sy oplossings is groter taalinklusiwiteit (96) en transformasie van die kurrikulum (95). Die geskiedenis wat kinders leer, behoort glo ooreenkomstig die wense van ‘n ANC-aktivis soos Franklin Sonn “reggestel” te word (94). Ook soos gebruiklik het Le Cordeur hierdie teks nie net in hierdie bundel gepubliseer nie. Dit is “in aangepaste formaat” ook elders gepubliseer (83). In sy bibliografie verwys hy na 17 van sy publikasies wat van 2011 tot 2015 verskyn het (98-99). Nodelose herhaling is myns insiens hulle hoofkenmerk. Hy verwys ook na WAM Carstens en EH Raidt se boek, Die storie van Afrikaans, asof dit in 2015 gepubliseer is (97). Daardie werk is teen hierdie tyd seker die bekendste nie-gepubliseerde Afrikaanse boek. Carstens beweer reeds jare lank dat hierdie boek eersdaags gepubliseer gaan word. Die jongste is dat die eerste boekdeel teen die middel van hierdie jaar sal verskyn (LitNet 23 Januarie). Le Cordeur se verwysings dui daarop dat Carstens homself daarin in oorverligtheid oortref.

Le Cordeur wys tereg daarop dat taal ‘n draer van kulturele identiteit kan wees (83). In so ‘n geval kan bruines sowel ‘n eie onderskeibare kultuur as taal, naamlik Kaaps, hê. Maar dan moet Le Cordeur ondubbelsinnig enersyds die idee verwerp dat bruines en blankes dieselfde kultuur deel en andersyds dat bruines swart is. Hy doen egter nie een van hierdie twee nie. Onder die subhoof “Swart en bruin Suid-Afrikaners se trotse geskiedenis” (nie wittes s’n nie) skryf Le Cordeur oor die Anglo-Boere-oorlog: “Byna honderdduisend swart en bruin mense was regstreeks by dié oorlog betrokke terwyl net tussen tien- en dertigduisend wit mense as gewapende soldate aan die oorlog deelgeneem het” (84). Dit is Le Cordeur se gebruiklike waardering vir kwantiteit, bv omdat die meeste Afrikaanssprekers (as Kaaps ingesluit word) bruin is, gaan bruines volgens hom die toekoms van Afrikaans bepaal. Le Cordeur noem nie aan watter kant die (oorgrote meerderheid) swartes en bruines geveg het nie, maar juis dit (die Engelse kant) is blykbaar Le Cordeur se bron van trots.

Van Rensburg se standpunt dat Afrikaans voor Jan van Riebeeck aan die Kaap ontstaan het, word deur Le Cordeur onderskryf. Ook dat daar “talle wit sprekers van Kaaps” is (85). Maar dan skryf hy ook: “Kaaps is dus inderdaad ‘n belangrike aanduider van sowel groeps- as individuele identiteit” (93). “Talle vryburgerboere was teen die einde van 1600 [hy bedoel die einde van die 17de eeu] in die eg verbind met Khoi-Khoi-vroue of met voormalige slavinne wat alreeds Afrikaans gepraat het. Kinders het met die moeders se soort Afrikaans grootgeword. Dié Afrikaans staan vandag as Kaaps bekend” (85). Ter stawing van hierdie twee aangedikte sinne verwys Le Cordeur na Christo van Rensburg se boek, So kry ons Afrikaans (4de paragraaf hier bo), bladsy 36. Daar staan: “Die Khoi-Khoin en die vryburgerboere het teen die einde van 1600 al hoe meer met mekaar kontak gemaak, en mekaar se tale al hoe meer begin beïnvloed.” Le Cordeur is vasbeslote om die oorsprong van Afrikaans aan die Khoi-Khoin en slawe en daarmee aan Kaaps toe te skryf. Die Kaaps-Hollands van die vaders word nie genoem nie; ook nie dat hierdie vaders in die oorgrote meerderheid gevalle met blanke vroue getrou het nie. Pleks daarvan beklemtoon Le Cordeur die “bloedverwantskap” van wit en bruin (92).

Daar is heelwat anti-blanke en veral anti-Afrikaner-retoriek in Le Cordeur se teks. Klassifisering volgens ras is glo problematies (83) maar blykbaar net as dit deur ‘n blanke bewind gedoen word. Wanneer die ANC-regering dieselfde doen, bv ingevolge “regstellende aksie”, dus byderwetse verandering, waarby Le Cordeur baat, is dit blykbaar in orde. Daar kleef glo ‘n “stigma aan Afrikaans as taal van die onderdrukker” (84). “Dat verskillende groeperinge binne die Afrikaanse gemeenskap vir so lank apart van mekaar gewoon het, sou daartoe lei dat hulle ook talig verder van mekaar sou groei. Sprekers van Kaaps en sprekers van Standaardafrikaans sou mettertyd in ‘n ons-teenoor-hulle-verhouding verstrengel raak” (85). Dit is bekend dat bruines in groot getalle tydens die Britse koloniale bewind in die Kaapse Skiereiland en omstreke verengels het. Die groot Engelse komponent in Kaaps is deels ‘n erflating hiervan. Baie minder wit as bruin Afrikaanssprekendes het verengels, maar net die blankes se verengelsing word op ‘n oordrewe manier deur Le Cordeur uitgelig: “toe die meeste [!] Afrikaners in Kaapstad verengels het” (86). In hierdie tyd het die Kaapse Moslems glo Nederlandse liedere “bewaar” maar “nooit erkenning” daarvoor gekry nie (86). Afrikaans is na bewering deur “die apartheidsregering bevoordeel” terwyl Kaaps “nie die nodige erkenning” gekry het nie (87).

“Talle bruin mense is in die loop van die 1970’s en 1980’s doodgeskiet, of in hegtenis geneem en gemartel” (87; Le Cordeur se verwysing is na Carstens se ongepubliseerde boek). Redes hiervoor word nie verstrek nie. Was hierdie bruines onskuldige slagoffers? Le Cordeur verwys goedkeurend na opgeleide terroriste, soos Ashley Kriel en Basil Kivedo, en ANC-aktiviste, soos Allan Boesak en Danny Titus (87). Die standaardisering van Afrikaans (daardie “beheptheid” – 88) hou glo “ten nouste verband” met die apartheidsideologie en Afrikanernasionalisme; dermate dat Le Cordeur die valse standpunt van Gerda Odendaal, naamlik dat “other varieties of Afrikaans were not recognised,” onderskryf (87). Die “kreoolse aard” van Afrikaans word glo ontken, “terwyl die taal gesuiwer is van Khoi-, Maleisiese en slawe-invloede” (87). Wat baie duidelik uit hierdie teks en sy ander geskrifte blyk, is dat Le Cordeur weens sy politieke beheptheid kwalik in staat is om ewewigtige, akademies-wetenskaplike, vakkundige bydraes te lewer soos tereg van hom verwag kan word. Hy beklee ‘n akademiese pos waarin hy veronderstel is om akademies-wetenskaplik te funksioneer. Sy publikasies neig om ‘n potpourri van teenstrydige idees te wees.

Let op die insinuasie in die volgende formulering: “Bruin digters en skrywers wat die struggle-jare oorleef het” (88). ‘n Mens kan die afleiding maak dat party van hulle darem nie doodgeskiet of doodgemartel is nie. Kaaps word as “‘n effektiewe taalmedium van verset teen politieke onreg” beskryf en dat Kaaps “‘n draer van grootse letterkunde kan wees” (89). Met verwysing na Neville Alexander word tereg genoem dat Afrikaans deel van blanke Afrikaanssprekendes se identiteit is (91). ‘n Fundamentele kultuurverskil is dat dit nie vir bruines geld nie: “Bruin mense is nie militant by die taalstryd betrokke nie, want hul voortbestaan word nie deur die afskaling van Afrikaans bedreig nie” (91). Dit verduidelik waarom Le Cordeur openlik ten gunste van Wim de Villiers se verengelsingbeleid aan die Universiteit Stellenbosch is. Hoewel Le Cordeur dus fundamenteel verskil met Jan Marais se stigtingsvoorwaarde dat Afrikaans nie ‘n mindere plek as Engels aan die Universiteit Stellenbosch mag beklee nie, word ter wille van multikulturaliteit irrasioneel toegelaat dat hy aanbly as ‘n direkteur van Het Jan Marais Nationale Fonds.

Met die Rieldans-kompetisie wat die ATKV jaarliks by die Afrikaanse Taalmonument aanbied, word “die ware vryheid van Afrikaans” gevier. En die Klopsekarnaval roep die “duurgekoopte vryheid” van die slawe in herinnering (91). Daarna kla Le Cordeur “dat die rol van bruin mense in die ontwikkeling van Afrikaans nie werklik erken word nie” (93). Die groot mate van dislojaliteit teenoor Afrikaans by bruines, insluitende sy eie, word nie verreken nie. Le Cordeur loof eerder die oorvloedige aanwesigheid van Engels in Kaaps, “die vaardigheid om taalkodes af te wissel” (93), wat uiteraard die voortbestaan van Afrikaans bedreig. Kaaps “is a language that brings about change” (96). Inderdaad, maar sodanige verandering verbeter nie die vooruitsigte van Afrikaans nie. Polities byderwets word egter oor Kaaps volgehou: “Dié variëteit moet derhalwe al die ruimte gegun word wat nodig is en, soos [Leopold] Scholtz … aandui, sal niemand by sy volle verstand vandag die ontwikkeling van Kaaps durf teenstaan nie” (97).

In hoofstuk 7 doen Dmitri Jegels verslag oor navorsing wat in die bruin woonbuurt Manenberg by Kaapstad gedoen is. Meer as 30 gesinne is by die veldwerk betrek (109). Die inwoners is “onderdrukte mense” met “hibriede identiteite” (103). Hulle voel “uitgesluit” (101) of “gemarginaliseer” (103), onder meer omdat hulle nie tale in hulle standaardvorm magtig is nie. Vir baie van hulle is die verwerwing van Standaardengels ‘n kerndoelwit, gevolglik word hulle kinders by voorkeur na Engelse skole gestuur (103). Engels word beskou as “die instrument waardeur mens ruimtelike en sosiale mobiliteit … verkry” (109). Daar is ouers wat “verkies om (Kaapse) Afrikaans met mekaar, maar Engels met hulle kinders, te praat” (109). ‘n Respondent wil hê “haar kinders moet ‘normale’ Engels” praat (106) en oor Afrikaans: “Ek wil … die kinders moet die suiwer een praat” (106), wat duidelik Willemse en Le Cordeur se pleidooie vir skoolonderrig in Kaaps teenspreek. Ouers wil “hê hulle kinders moet ‘wit’ … Engels … en ‘suiwer’ Afrikaans leer” (107). Maar dan volg hierdie eienaardige gevolgtrekking, wat nie op Engels toepaslik gemaak word nie: “Drukgroepe vir die behoud of beskerming van Standaardafrikaans veroorsaak eerder die verdere marginalisering van hierdie gemeenskap” (110).

In hoofstuk 8 verwys Christo van der Rheede na ‘n Kaapsbenaming, “Mengels,” en dan hierdie kommentaar: “Dit is te verstane dat hierdie gemeenskap diep gekwets is deur kolonialisme en apartheid” (114). Hy skryf van die “gedwonge rasse-identiteit van die apartheidsera” (115). Hou die ANC-regering nie steeds vol met die apartheidsera se vier rassegroepe (wit, bruin, swart, Asiër) nie? Waarom word dit nie veroordeel nie? Dan die gewone refrein: “Ras, net soos identiteit, [is] bloot ‘n sosiale konstruk en nie ‘n biologiese feit … nie” (115). Die punt is dat identiteit, dus wat ‘n individu of groep is, nie bloot biologies of liggaamlik is nie maar ook, of bowenal, kultureel of geestelik is. Identiteitloosheid sou nie aanbeveel word vir enige individu of groep wat die moeite werd is nie, dus wat rede het om trots te wees of wat hy, sy of hulle is nie.

Die laaste hoofstuk is geskryf deur Anastasia de Vries, ‘n dosent wat as oud-joernalis deur Media24 op die hande gedra word. Sy kom tot die gevolgtrekking dat die koerant Son se taalgebruik nie werklik ‘n weerspieëling van Kaaps is nie. Die berigte gee uitdrukking aan “heterogene Kaaps” (125). Met voorbeelde dui sy aan dat die skrywers “meestal informele Standaardafrikaans besig waarin enkele Kaapse merkers sporadies opduik” (126). “Dis ‘n version van Afrikaans wat unedited is” (130). My mening is dat die Son-skrywers lekker loslit met Afrikaans omgaan. Enige Engelse woord kan gebruik word. Daar is (oorvloedige) “direkte ontlenings uit Engels” (132). Die gebruik van ‘n woordeboek om die juiste Afrikaanse woord te vind, is blykbaar onnodig; selfs ongewens. ‘n Fonetiese skryfwyse word soms gebruik, maar dit is “nog nie na behore bereël” nie (132). Son is ‘n toonbeeld van die kommersiële waarde wat Kaaps vir Naspers se Media24 het. Dit toon g’n snars respek of agting vir Standaardafrikaans nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Kalium_Chloraat

    Die Son se “Afrikaans” is ‘n moedswillige vermenging om goedkoop, platvloerse en banaal te klink. Dit het dieselfde suiwerheid as die van ‘n straatbrak. Tipies Nuus 24.

  • Suidpunt

    Ek het so baie te sê, vir so min plek.

    Nou wat presies is die sogenaamde nut hiervan?

    1). Nie een van hierdie mense kan vir my verduidelik hoe hierdie taalvermenging Afrikaans as wetenskapstaal op die internasionale mark gaan bevorder nie. As mense op straat praat oor Unilever waspoeier, dan praat jy oor Unilever Waspoeier. Dit is nutteloos buiten die laefunksiegebruiksfeer.

    2). Ek kan nie insien hoe hierdie taalvermenging enigsins ‘n taalbrug met ander Vastelandgermaanse tale of selfs Engels kan bou nie. Veral nie op tegniese vlak nie. As mens klaar kyk na die sprekers van Standaardafrikaans se gebrek om die Plusquamperfekt (Voltooide verlede tyd) in te sien, bv. “Ek IS gebore” – NIE “ek was* gebore” NIE, gaan jy groot klei trap om ander Germaanse tale te verstaan wat ten minste nog van ‘n Präsens, die Perfekt, die algemene toekomstige tyd (Futur I), die afgehandelde toekomstige tyd (Futur II) gebruik maak. En dan moet jy hierdie tyd nog in die Lydende en Bedrywende vorm ook stel. Hierdie goed is nooit in ons skoolleerplanne behandel nie. Voordat jy sê dit is Blut-und-Boden-denke – ek praat van tale met hope meer inligting wat vryelik beskikbaar is. Wat veel meer aanvullend is as baie Engelse artikels. Hoe meer jy ‘n taal probeer kreoliseer, hoe moeiliker gaan dit raak om tale soos Nederlands, Duits, Deens, Sweeds, Noors, Yslands, Faroëes, Oudengels, Oudnoors en selfs sekere sinsbou en woordeskat in Frans en Italiaans te begryp (waar die kennis van Duits en Nederlands vir my van besondere waarde is). Laat staan nog die sinsbou “ego et tu” = “Ek en jy” in Latyn. Of, miskien meer bekend aan ons: Hebban olla uogala nestas hagunnan hinase “HIC ENDA THU” (!) uuat umbidan uue nu.

    3). Hein Willemse se idee is stapelgek. Kaaps is té regionaal. Jy kan tog nie verwag ‘n Switser moet spontaan nou sommer Platduits vir die pret leer nie (tensy hy verhuis het). Niemand in my dorp, wat in die Overberg is, praat sulke Kaaps nie. Veral nie die bruines nie. Buitendien leer mens ‘n taal of dialek wat ekonomiese waarde het, of sterker as jou eie is. Wat homself reeds bewys het.

    4). Kaaps word beskou “‘n effektiewe taalmedium van verset teen politieke onreg”. – Net jammer dit het geen opslae in die buiteland gemaak nie.

    5). “die vaardigheid om taalkodes af te wissel” – Moenie jouself vlei nie. Jy sal geen C2-sertifikaat in Engels met jou mengelgemors verdien aan Oxford nie. Vra jou ook af – waarom probeer Hindi sy taal te suiwer deur deesdae Sanskritwoorde in te voer? Waarom probeer Yslands dit doen met sy talle nuutskeppings? Is alles dan noodwendig polities gemotiveer? Of is daar sprake van dissipline wat by die Suid-Afrikaanse akademici ontbreek?

    6). Die “Son” kan by Langenhoven gaan leer hoe om jou taal te meng “met staail”. Veral as hy Engels in fonetiese Afrikaans oorskryf met “Miesies WênderBaail.”

    7). Om Kaaps tot standaard te probeer verhef is moeilikheid soek: Van Eeden (1995) skryf reeds – Afrikaans was as dialek ‘n sytak in die rivier wat Nederlands gevoed het met ‘n lekker woordeskat. Afrikaans was daardie tyd, net soos vandag, deur die Nederlanders as komies beskou, soortgelyk aan die stywe Haagse strokiesprentboeke waarin Muffie (Nijntje) vloek. Maar as jy ‘n dialek eers tot standaard verhef, dan het jy outomaties minder dialekte wat jou kan laat sterk staan met nuwe woorde. As jou taal eers Standaard word, verloor dit sy snaaksigheid – jy maak hom ‘n ernstige wetstaal. Kyk maar na ons plantegroei en skulpies, met spontane volksname soos “seemeid se trane” – daar is net nie genoeg mense om nuwe woorde te verskaf nie.

    8). As Afrikaans dan so Kaaps is, waarom, o, waarom – praat ons van iets is “benede(n)” in die kelder in Nederlands, “below” in the cellar, maar soos in Duits, “unter” in die kelder? Gaan doen maar weer julle huiswerk.

    Wat my betref moet ons net onthou: Standaardafrikaans was van die begin af ‘n taal wat deur die staat geskep is. Die blankes is nooit die geleentheid gegun om hulle eie dialek of identiteit rondom ‘n dialek te ontwikkel nie – dit is outomaties deur die staat gekaap vir sy woordeboeke. En is allemansbesit en -kultuur gemaak. Net soos jy Standaardnederlands kry wat vir die Staat en sy funksies geskep is, so is daar tog ‘n koninklike dialek wat Supra-standaard is in elke liewe taal op aarde. Selfs in Zoeloe kry jy die koning wat sy eie Zoeloe praat, wat afwyk van Standaardzoeloe, dan nie? ‘n Standaardtaal is gemaak vir die staat en alles wat op die staat betrekking het. Waar is Afrikaans se hogere dialek dan? Of is dit miskien omdat Afrikaans soos ‘n tak sommer rou van die Nederlandse boom afgebreek is, dat ons soos ‘n piramide staan sonder sy spitspunt, of kroon, of dekklip?

    Wat ek probeer sê: Jy kan dus streng gesproke op enige manier skryf soos jy wil. Ook hier op PRAAG. Die feit bly staan: die Staat kan besluit wat met hierdie Standaardafrikaans gebeur of nie, maar die invloedsfeer is hoofsaaklik beperk tot die media en staat. (En tog is daar hoeveel Duitse dagblaaie wat vere voel wat die Staat voorskryf). Jy as individu kan kies wat jy met jou taal buite die staatssfeer wil maak. Ek is byvoorbeeld bekommerd as ek na Moderne Nederlands en Duits kyk en besef ons woordeboeke maak nie voorsiening vir begrippe soos “gelieerd” (NL) en “liert” (DE) nie. Albei beteken dieselfde: in die sakebedryf saamgevoeg, of twee persone wat wettig in die eg verbind is. As jy in die ou WAT kyk, sal jy sien die ouer woordeboekmakers het doelbewus probeer om ‘n brug te bou met hierdie Europese wetenskapstale en begrippe. Hulle het goed geweet waarom hulle dit doen. Jy sal nog in die ou WAT’s nog taalterminologie vind spesifiek nog geskryf vir die Latynse student (tot 1994). Daar is ook geen Afrikaanse woord vir Vorgangspassiv of Zustandspassiv nie (dit is twee karaktereienskappe “uniek” in Duits, wat ek ook in Afrikaans vind). Jy kan dit vergeet om in die nuwer WAT’s te vind – vra jou maar af wie die vertraagde skrywers is.

    Gisteraand nog skryf ek aan ‘n Hollander: die Taalkommissie weet nie meer wat hulle wil hê nie. Juis daarom wil ek nie ‘n Taalboek vir nie-Afrikaanssprekendes op Wikibooks skryf nie, want ek kan jou ‘n brief gee – dit sal môreoggend verkeerd wees. Soos oornag besluit deur die Taalkommissie. Hulle gee nie werklike taalkundige raad wat tot diep in die Europese wortels strek wat party Hollandse “oorblyfsels” wys nie. Want hulle kan eenvoudig nie die pyp rook van hul Europese eweknieë nie. Nie wat tyd betref nie, nie wat woordherkoms betref nie, nie wat vergelykende taalkunde met ander Indogermaanse of Semitiese tale betref nie. Hulle verskaf nie, soos die Nederlandse en Vlaamse en Duitse taalrade, logiese antwoorde wat tot in Sanskrit en Persies strek as dit moet nie. Toe skryf ek die volgende woorde aan die senior lektor in die Chemie (waarvoor baie my seker sal stenig): “As Afrikaans die dag sterf, is dit ‘n blye dag – want dan kan die grammatika nie meer verander nie. Ek is klaar met die Afrikaanse taalkunde. Ek is hééltemal klaar met die Afrikaanse letterkunde.” Sanskrit en Latyn kan gelukkig nie verder “verander” nie. Dit is ‘n versteende konstante kode wat dwarsdeur die eeue vir iedere wetenskaplike verstaanbaar sal bly. Want die grammatika sal ewig en altyd dieselfde bly. Dit kan nie verder verswak nie.

  • beeshaas

    In een van pharos se tweetalige woordeboeke word billion ook verkeerdelik vertaal as biljoen. Wonder wie nou besluit wat in die woordeboek opgeneem moet word.

  • Rooikop

    “Die politieke beswaar teen Standaardafrikaans is dat dit die skepping van hoofsaaklik blankes is.” – En die haat daarvoor spruit uit pure jaloesie.

  • Karel Combrinck

    ‘n Mengeltaal met netsoveel Engelse as Afrikaanse woorde, of selfs meer Engels as Afrikaans is gewoon net nie ‘n taal nie, of as dit ‘n taal is, dan is dit ‘n brabbeltaal. Interessant is dat die Kaapse Kleurlinge tog nie so baie Engelse woorde gebruik dat dit ‘n gebrabbel word nie. Die mense wat voorgee dat “Kaaps” deurspek is met Engels doen dit om, vir ideologiese en politieke redes “Kaaps” van Afrikaans te probeer suiwer. Wat egter van belang is, is dat ons nie self van Afrikaans ‘n brabbeltaal maak nie. Ongelukkig is daar hiervan reeds onrusbarende tekens.