Leon Lemmer: In verkeerde geselskap

Jeremy Veary

Jeremy Vearey (gebore in 1962) roem daarop dat hy ‘n MK-vegter (oftewel terroris) was wat tronkstraf op Robbeneiland uitgedien het. In ‘n normale samelewing sou sy misdadige verlede hom gediskwalifiseer het om enige hoë pos te beklee. Sedert 1994 word diesulkes egter as helde vereer en het sommige van hulle tot in die hoogste pos, dié van staatshoof, gevorder, met katastrofiese gevolge. ‘n Mens sou dink dat veral die polisiediens nie ‘n geskikte terrein vir die ontplooiing van oudmisdadigers is nie, maar dit is juis in die polisie waar Vearey deur die ANC-bewind in hoë poste aangestel is. Daar word blykbaar onder meer geredeneer dat diegene wat eerstehandse ondervinding van misdaad het, misdaad ten beste kan bestry. Dit kom neer op die mistasting dat ‘n blinde die geskikste persoon is om ‘n blinde te lei. Soos Samuel Johnson (1709-1784) dit gestel het: “Who drives fat oxen should himself be fat” (James Boswell, The life of Samuel Johnson, London: Everyman, 1992, vol 2, p 527).

Ek skryf na aanleiding van Vearey se boek, Jeremy vannie Elsies (Kaapstad: Tafelberg, 2018, 182p, R275; Amazon Kindle $23). Elsies verwys na Elsiesrivier, tradisioneel ‘n woonbuurt vir bruin mense in die Kaapstadse metropool. Daar word ook verwys na die naby geleë en eens blanke woonbuurt Tiervlei (deesdae Ravensmead) se Connaught-straat (Kindle 147), waar ek my eerste twee lewensjare in my ouers se huis gewoon het. In ‘n onlangse rubriek het ek na hierdie boek verwys toe ek vertel het hoe die Britse M16-geheimediens die lyfwagte van Nelson Mandela opgelei het en hulle daarna toegelaat is om openlik en ongehindered wapens, ammunisie en ander toerusting, wat in terreur gebruik kon word, die land in te smokkel (Praag 13.05.2018). Dit het in 1990 gebeur. Die vraag is dus in hoeverre daar reeds in hierdie vroeë stadium van grondwetlike onderhandelinge deur die blanke politieke bewind aan swart mag oorgegee is.

Die soort verkeerde (of slegte?) geselskap waarin die lesers van hierdie boek hulle bevind, blyk van die begin af uit die onkiese taal wat gebruik word, bv wanneer vertel word hoe Vearey as “sesjarige kaalvoet klonkie” (8) die duikweg vir blankes by Parow-stasie wou gebruik, deur ‘n blanke (polisieman) verhoed word om dit te doen en hierdie blanke deur Vearey se ma en medebruines uitgeskel word. “As jy hom nie nou los nie, steek ons jou vrek, jou fokken Boer!” (21). “Het djy gesien hoe haloepe daai fokken Boer! … Soek kak met ôs vandag en jhulle is amal witbene!” (26); dus die blankes, bv die Portugese vishandelaars wat die blanke (polisieman) wou help, word met die dood gedreig. Vearey se ma was later ook hardegat met die blanke bestuurder van die klerefabriek waarin sy gewerk het (52). Geen wonder dat sy mettertyd haar werk verloor het nie (341).

Soos by Jonathan Jansen word sulke beweerde insidente heel moontlik versin of ten minste aangedik. Blankes word deesdae ingeprent dat hulle hulle moet skaam oor (alles in) die verlede en veral apartheid. Die blanke (polisieman) “vaar benoud terug die donker duikweg in” (21). “Die Portugese draai om en kruip verslae terug na Station Fisheries” (26). Na hy uitgeskel is, “vou en prewel” die bestuurder van die klerefabriek “heel bedaard” (52). Die bedoeling is blykbaar om blankes van weleer as bang, skuldige mense voor te stel.

“Klonkie” is volgens die HAT ‘n rassistiese woord. Soos “kaalvoetklonkie” word “treinstasie” as twee woorde geskryf (12), ens. Onkiese Kaapse taal kom algemeen voor: kak (26, 47, 182, 196, 201, 239, 387, 1278, 1283, 1287), hol (332), poep (220), pis (120, 239, 1278), fok (220), fokken (21, 26, 391, 899), fokol (157), befok (239), knaters (414), ballas (682), moer (506, 682, 709, 1911), ens. Vearey verwys self na sy “platvloerse taalgebruik” (446). Hier volg nog ‘n moontlik aangedikte staaltjie ten koste van die (rassistiese) Afrikaners: “Ma [het] altyd gesê … dat hierdie skoene gemaak is met die bloed en sweet van ander ma’s wie vir baie min geld in fabrieke slaaf en waar hulle rondgeorder word deur Boerelaaities” (32). Die gebruik van “wie” pleks van “wat” is een van die irriterende kenmerke van hierdie publikasie, soos blyk uit sommige van die aanhalings wat hier onder volg. Afgesien van die swak taalgebruik is daar talle drukfoute. Die taalkundige en redaksionele versorging van hierdie teks laat veel te wense oor.

“Êrens in haar antwoorde kon ek optel dat daar so ‘n ding is soos ‘n werkersklas wat dubbel onderdruk word deur wit mense onder iets genoem apartheid en dat die unies, gelei deur shop stewards soos Ma, eendag in opstand sal kom en almal bevry” (62). Naas die Boere (die Afrikaanssprekende blankes) is daar die “Limeys” (die Engelssprekende blankes) (62), wat (omtrent) net so sleg is. “Die Limeys en die Boere [het] oor goud en diamante baklei … hulle het dit alles saam met die land geroof” (62). Later beweer Vearey dat die blankes “die land gesteel het” (2326). “Ma is seker een van daardie … shop stewards wat die onderdrukte [Jehova] Getuies in die fabriek gaan verlos van die bose Boere en Limeys en ‘n koninkryk van [kommunistiese] werkers in Suid-Afrika gaan bou” (90).

Vearey se pa sê oor ‘n woonbuurt vir bruin mense: “Daar [is] niks special aan hierdie skiem … nie, dis ‘n fancy dumping ground vir die government se weggooimense” (147). “Pa het my eendag vertel … hoe die Galant- en Vearey-families hulle djaart en huise probeer herbou het nadat hulle onderskeidelik deur die Boere uit Goodwood en Constantia gegooi is” (182). “Pa het my leer vuisslaan, messteek en bylkap” (213). “Ek [het] eendag met ‘n passer en vulpen my weg deur hulle [skoolkinders] gesteek” (492). Sy pa sê: “As djy dit kan help, moet djy nooit vir ‘n Boer of ‘n Limey gaan werk nie, want hulle vat net” (272). Boeta Frank voeg by: “Dié sleg goed hoef nie eens … rêrig te werk nie. Hulle witgeit is mos ‘n standerdtiensertifikaat en ‘n pay slip” (277).

Hierdie aanhalings gee ‘n aanduiding van die soort opvoeding wat Vearey tuis en in die woonbuurt ontvang het. “As jy my vandag vra vanwaar my politieke komvandaan, dan lê dit nie in die teorie van my formele, radikale bewuswording in die tagtigerjare nie. Dit is die groot gidse [sy ouers, familie en vriende] van Elsiesrivier se loopstories wat my deur my komvandaan gelei het” (162). “Hier was dit definitief Ma se werkersklas-vakbondpolitiek en my blootstelling aan Marxisme op hoërskool in die laat sewentigs” wat Vearey ideologies gevorm het (282). Een van Vearey se onderwyseresse was “lid van die Unity Movement se Teachers League of South Africa … en dié se Trotskisme [het] sterk aanklank by Ma se werkersuniepolitiek gevind” (295). Vearey verlustig hom skynbaar in die verwoesting van 1976 “toe Elsiesriver en Tiervlei se strate woes aan die brand is onder verlate busse en afleweringstrokke met gebreekte vensters terwyl polisie se Land Rovers en Ford-vangwaens tevergeefs die onskuldiges [!] probeer vastrek” (502).

“Die 1980-skoolboikot was my 1976” (605). Vearey het toe Marx en Engels se Communist Manifesto gelees (622), asook boeke deur bv Lenin, Trotsky en Fanon (636). Dit is “hier waar ‘n beduidende Marxisties en Afrikanistiese ideologiese inslag saam met my politieke gewaarwording ontkiem het” (641). “Onder al die klip- en petrolbomgooiery by die skool was dit die politieke inhoud van die alternatiewe leerplan, gesamentlik aangebied deur die leerlingraad en verligte leerkragte, wat by my die meeste aanklank gevind het. Hierin het ons ‘n alternatiewe geskiedenis van ons land en die stryd teen kolonialisme en apartheid geleer. Afrikaans se slawe- en inheemse wortels is beklemtoon en Engelse literatuur van Afrika gebore skrywers soos Peter Abrahams en Jimmy la Guma, en ander op die vasteland soos Chinua Achebe en Ngügï Wa Thiong’o is bo dié van Westerse skrywers bevorder om swart trots te koester. Dis in hierdie milieu van Black Consciousness waar ek geleer het van Steve Biko se ‘White racism and black consciousness’-manifes van 1972, van die Unity Movement en hul Declaration of Unity and The Ten Point Programme van 1943 en, tot in minder mate, van die ANC en van die Freedom Charter van 1955” (627). “Ek het my maar wat praktiese verset en politieke mode betref, by Black Consciousness-geledere geskaar. Daar kon ek ten minste my militante self op straat uitleef” (631).

Sport is verpolitiseer, soos wat tot op hede die geval is. “Die South African Council of Sport (SACOS) het die Zozan Skaakklub beheer … ook skool- en klubrugby. Die meeste SACOS-steeksbeheerliggame van sportkodes het ‘n beduidende Trotsky-georiënteerde, Marxistiese inslag gehad vanweë die leierskap se gevestigde Unity Movement-bande. Gevolglik was die engere Trotsky/Unity Movement-leuse wat non-collaboration met die system [met die “Herrenvolk” – 735, 877] gehuldig het, rigied toegepas met SACOS se slagspreuk ‘no normal sport in an abnormal society'” (718). Sedert 1994 lewe ons myns insiens in ‘n hoogs abnormale samelewing waarin sportspanne nie na verdienste nie maar op ‘n rigiede manier en deurslaggewend op grond van ras – ter benadeling van blankes – saamgestel word. Van die gewaande en beloofde “nie-rassigheid” (735) het nog niks tereg gekom nie.

Vearey is van huis uit ‘n Kaapsspreker, maar hy het (tipies) ‘n Engelsonderwyser geword (282). Later vertel hy hoe sy familielede in die nuwe Suid-Afrika verengels het en hulle kinders na Engelse skole stuur (2470). “Ek [het] die wêreld buite Elsiesrivier in suiwer Engels asook in Elsies-spreektaal verken” (290). Dus, anders as in die geval van Engels, kan daar maar met Afrikaans gemors word. Polities byderwets is dít wat deesdae sonder ‘n enkele prominente uitsondering deur Afrikaanstaal- en -letterkundiges en Afrikaansinstansies (soos die Afrikaanse Taalraad en die ATKV) gepredik word. Skynbaar sonder bedenkinge vertrou hulle die toekoms van Afrikaans toe aan die brouseltaal wat deur bruines gepraat word. Hulle gee klaarblyklik voorkeur aan kruipsugtige politiek bo taaloorwegings. Pleks van Standaardafrikaans word meertaligheid deur hierdie elemente bepleit, onder meer omdat Kaaps nie sonder kennis van Engels verstaan kan word nie. LitNet het ontpop as seker die sterkste pleitsbesorger vir Kaaps. Kaaps as geradbraakte Afrikaans funksioneer as uitdrukking van die dislojaliteit teenoor Afrikaners wat in bruin geledere gekoester word en dikwels ook as uittarting van Afrikaners wat ordentlike Afrikaans koester.

“Issie dieselfde Afrikaans vannie Boere nie. Ôs afrikaans is original” (506). “Ma … [het] gemeen … Afrikaans is deur die Boere van ons gesteel en in ‘n vreemde apartheidstaal verander om ons te forseer om die wêreld deur hulle woorde te verstaan en aanvaar. Sy het ons manier van [deurmekaar] Afrikaans en Engels praat as ‘n vorm van rebellie teen hierdie apartheidsafrikaans beskou” (511). En die horisonaal kruipende Afrikaanskundiges onderskryf hierdie houding en karakteriseer Afrikaans as ‘n kombuistaal eerder as om daaraan as ‘n studeerkamer- en voorkamertaal erkenning te gee. Die klem word doelbewus verskuif van die ontwikkeling, uitbouing, vestiging en amptelike en algemene erkenning van Afrikaans (wat feitlik uitsluitlik deur blankes vermag is) na die mistieke en spekulatiewe oorsprong van Afrikaans wat dan polities byderwets aan die Khoi-San en die slawe toegedig word.

Vearey skryf oor drank, dwelms, bendes, smokkelhandel en die “hipermacho geweld” (660) wat daarmee gepaard gegaan het, bv “buitengewone mesvaardigheid” (669) met “Puma-messe of switchbladespringmesse” (669), asook pangas of Okapi’s (665). Vearey was “veglustig” (674, 713), bv “alles het toe in ‘n bloedorgie van steekwonde met skryfpenne, gemoerde blou oë en ballasskoppe ontplof (682). Hy drink buitensporig baie en sit sy dranksug as student aan die Universiteit van Wes-Kaapland voort. Vearey noem homself ‘n “hedonistiese Marxis” (722). Hy het vir die Laer-sekondêre Onderwysdiploma geregistreer omdat hy nie matrikulasievrystelling het nie. Sy studie word moontlik gemaak deur ‘n staatsdiensbeurs. Sover ek weet, is hy die eerste (redelik) bekende bruin mens wat erken dat hy danksy ‘n studiebeurs van die Departement Kleurlingsake naskoolse onderrig ontvang het (691). Die ander bekende anti-blanke elemente in bruin geledere swyg soos die graf hieroor. Hulle verkies om geen erkenning aan die barmhartigheid van die “apartheidsregime” te gee nie, terwyl hierdie studiegeleenthede grootliks deur die blanke belastingbetalers moontlik gemaak is.

In die sosiologie-lesings maak Vearey kennis met die marxisme van die Frankfurt-skool (793). Professor David Atwell vereer en loof hom met 89% “vir my Marxistiese, literêre analise van Charles Dickens se Hard Times” (793). In die wysbegeerte-lesings word hy “intellektueel bekoor” deur die Franse marxiste (797). Hy maak kennis met Van der Poel, Malan en Malan se Afrikaanse 1937-vertaling van Marx en Engels se kommunistiese manifes (802). Dit het hom “tuiser laat voel … in die Marxisme” (797). Vearey maak ook kennis met Paulo Freire se radikale onderwysidees, waarop Russel Botman later as rektor van die Universiteit Stellenbosch sy Pedagogie van Hoop en sy HOOP-projek gegrondves het, sonder dat ‘n haan daaroor gekraai het. Besoeke aan die biblioteek van die South African Committee for Higher Education (SACHED) in Mowbray het Vearey se progressiewe ideologiese ingesteldheid verder gevoed (859).

Vearey was by die Elsies River Youth Movement (ERYM) betrokke waarin die Morawiese Kerk ‘n leidende rol in opstoking teen die blanke regering gespeel het (739). Sy betrokkenheid by hierdie kerkgenootskap “was nie noodwendig die gevolg van geloofsoortuiging nie” (765). “Dit is hier waar ek vir die eerste keer van vryheidsteologie [bevrydingsteologie] gehoor het” (770). “Alan Boesak [is] soms profeties uitgebeeld as ‘n hedendaagse Moses … wie die massas na die beloofde land van die Vryheidsmanifes sal lei” (774). “ERYM was van 1982 tot 1983 die bakermat van waar ek as voetsoolaktivis die breër stryd teen apartheid betree het” (752). In 1983 het Vearey die stigtingsvergadering van die United Democratic Front (UDF) in Mitchellsplein bygewoon (757). Sy militante ongeduld het hom in 1984 ontvanklik gemaak “om gewerf te word vir die MK, die militêre vleuel van die ANC” (757).

“Ek is deur Dawid Fortuin vir MK gewerf ná ‘n Morawiese jeugkamp op Clarkson in die Oos-Kaap” (815). Vearey is blykbaar in Suid-Afrika as MK-terroris opgelei: “Die klem vir ons [het] berus op die bou van MK as ‘n binnelandse people’s army en nie net ‘n struktuur wat in opleidingskampe in ballingskap bestaan nie. Selopleiding in stedelike guerrillavegkuns was dus grotendeels plaaslik en skietoefening met handwapens het in afgeleë, beboste gebiede geskied. Dit was nou behalwe AK47-aanvalsgewere, F1-handgranate, MPM- en SPM-kleefmyne en tuisgemaakte plofstof” (824).

Sy didaktiekdosent het tereg gesê dat Vearey “meer van ‘n aktivis as ‘n onderwyser is” (845). “Meneer Vearey die leerkrag … het reeds aanvaar dat die onderwys ook as dekmantel gaan dien vir sy ondergrondse, revolusionêre werk” (841). “Die onderwys was nie net vir my ‘n beroep en salaris nie, dit was ook ‘n middel tot ‘n revolusionêre doel” (908). “In Januarie 1985 betree ek my eerste onderwyspos by Valhalla Senior Sekondêre Skool in Elsiesrivier” (904). “In die tweede kwartaal word hierdie kritiese bewussyn die dryfveer vir ‘n klasboikot en militante versetaksies op straat onder die slagspreuk ‘liberation now, education later'” (913). “Dit dra by tot die onregeerbaarheid van die apartheidstaat” (917). “Ek word een van daardie geteikende onderwysers wie in die teenwoordigheid van ‘n gewapende melkbaardsoldaat en ‘n polisieman onder dwang moes klasgee” (936).

“Ek werf my eerste matriekkader by Valhalla Sekondêr wie verrassend handig met ‘n pistool is” (940). “As onderwyser ontgin ek ook nou my toegang tot die meer militante skoliere. Dit lewer straatprotes op … Ek was nog altyd sterk oortuig en is dit steeds dat dit die jeug se plig is om in opstand te kom in belang van hulle toekoms” (975). ‘n Blanke Engelse onderwyseres wat in Observatory gewoon het, het Vearey gehelp om “MK-wapentuig wat aan my toevertrou is te versteek” (958). “Binne geledere voel dit soms asof die ANC ons nie vinnig genoeg van wapens, ammunisie en plofstof voorsien nie. En waar dit kort, vul ons dit maar aan met tuisgemaakte plofstofkonkoksies, asook ammunisie uit die polisie en simpatieke kriminele geledere” (980).

Voor die einde van 1985, sy eerste jaar van klasgee, word Vearey as onderwyser geskors (984). In 1987 word hy toegelaat om in ‘n tydelike pos by West End Primêre Skool in Mitchellsplain skool te hou (1020). Na sewe maande word Vearey egter deur die veiligheidspolisie weens terrorisme gearresteer (931, 1043). Verhoorafwagtend in die Pollsmoor-tronk het hy ‘n mes om homself mee te beskerm (1099). Daar word darem op die ystersaaglemme beslag gelê nadat daar reeds met die afsaag van die tralies gevorder is (1215). Enige kos wat Vearey as gevangene verlang, kon uit die tronkkombuis na hom gesmokkel word (1181). Vearey word tot sewe jaar tronkstraf, waarvan vyf jaar opgeskort is, gevonnis en na Robbeneiland oorgeplaas (1247).

Op Robbeneiland skaar Vearey hom by die kommunistiese gevangenes (1310). “Daar is … vir my net een lyn: die ortodokse een van … Marx, Engels en Lenin wat altyd beduidende antwoorde vir onsekere tye bied” (1332). Die soort regering waarmee die ANC in 1994 begin het, is volgens die meningswisseling onder die gevangenes bloot ‘n “oorgangstaat” totdat die Nasionale Demokratiese Revolusie voltrek word (1345) – ‘n mening wat ook deur John Kane-Berman gehuldig word (Praag 23.06.2017). Die ANC sou grondwetlike onderhandelings aanknoop maar (ten spyte van valse beloftes) terselfdertyd die gewapende stryd voortsit: “Wat MK en die gewapende stryd betref, beklemtoon die Harare-deklarasie [1989] dat onderhandeling met die regering nie die teenpool van die gewapende stryd is nie; beide was buitendien altyd as taktiek en nie as doelwitte beskou nie” (1354). Op Robbeneiland was daar ‘n “gemaklike verhouding tussen ANC- en die PAC-kaders” (1314).

Die gevangenes op Robbeneiland het FW de Klerk se berugte toespraak op 2 Februarie 1990 op televisie gevolg (1433); ook die vrylating en toespraak van Nelson Mandela op 11 Februarie 1990 (1442). Op 9 Junie 1990 word Vearey en ander Robbeneilanders vrygelaat (1515). Hulle ontvang toe geld van die International Defense Aid Fund en gratis genees- en sielkundige dienste van “‘n netwerk mediese aktiviste” (1555). Die ANC-aktivis Jakes Gerwel het hulle as rektor hartlik by die Universiteit van Wes-Kaapland verwelkom (1605). Dieselfde is deur die Morawiese Kerk in Elsiesrivier gedoen. Daar is “gepas [!] van ons gepreek as Gideon se geseënde krygers vir geregtigheid wie onstuitbaar voort sal veg om die onderdruktes finaal van die bose magte van apartheid te verlos” (1609). Vearey begin dadelik met die werwing en organisering van lede vir die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (1613). Hy word ‘n lid van die ANC se Departement van Intelligensie en Sekuriteit (DIS) en toegerus met ‘n pistool en AK47-geweer (1627). In 1990 ontvang hy lyfwagopleiding in Zimbabwe, aangebied deur die Britse M16-geheimediens (1631). By sy terugkeer word hierdie Britse instrukteurs toegelaat om openlik en ongehinderd wapens en ammunisie die land in te bring (1640 – Praag 13.05.2018). In 1993 ondergaan Vearey verdere opleiding in Portsmouth, Engeland (1737) en in 1994 in Zimbabwe (1747).

Dit was gewoon dwaas van die NP-regering om die funksionering van die terroristiese UDF as binnelandse vleuel van die ANC toe te laat: In 1990 word daar “meer programmaties besin oor die leidende rol van die UDF op voetsoolvlak, as oorgangsvoorhoede om die momentum van massamobilisasie vir die laaste, deurslaggewende offensief teen die vyand te rig. Hierdie offensief sou dan as werwingsbron ontgin word om die ANC se binnelandse infrastruktuur uit te bou en sodoende ook die mag van die nou herbevestigde, sigbare ANC as hernieude bogrondse voorhoede ten toon te stel” (1461). Vearey verwys na die “politieke geweld tussen Inkatha en die ANC, georkestreer deur die veiligheidsmagte” (1831), met laasgenoemde as die duiwelse derde mag. Dit is grootliks ‘n valse aantyging omdat dit bekend is dat die ANC in 1990/94 onverminderd voortgegaan het om sy politieke teenstanders sover moontlik gewelddadig uit te wis.

In 1992 het Vearey as lid van die ANC se intelligensiediens Kanada besoek. “In Ottawa het ek vir die eerste keer van die begrip gemeenskapspolisiëring gehoor” (1902). “‘n Trotse ‘aboriginal’-amptenaar [het] ewe gemaklik aan my verduidelik dat die ‘aboriginal Indian reservations’ elk hulle eie polisiemag het en dat lede daar uit die spesifieke stam gewerf word, kultuurbelynde polisieopleiding ontvang en dan daar ontplooi word. Volgens hom verseker dit dat stamme die beste diens in hul eie taal, en in lyn met hulle unieke kultuur en stamtradisies, ontvang van beamptes wie beter daar aard. Behalwe dat dit vir my te veel na apartheid se tuislandpolisiemagte gelyk het, was dit die growwe veralgemening dat inheemse beamptes beter in daardie posisies sou aard wat my veral ontgogel het” (1911). Waar ek woon, was daar tradisioneel net blankes en bruin mense. Die polisiestasie het sedert 1994 ontaard in ‘n plek waar daar net (onbekwame) swart beamptes is wat skynbaar net Engels wil verstaan. Die tradisionele inwoners het geen vertroue in hulle nie. Die genoemde Kanadese en die apartheidsopset was vir ons as plaaslike inwoners baie meer aanvaarbaar, maar nie vir Vearey as ANC-aktivis nie.

“Die alledaagse normaliteit [!] van lewe in die Nuwe Suid-Afrika van 1994 vang my heeltemal onkant.* Ek is nou ‘n gewone staatsamptenaar op die nuwe Nasionale Intelligensiediensagentskap (NIA) se betaalstaat” (2042). In 1995 word hy na die polisiediens oorgeplaas (2050). Oud-MK’s soos Vearey word deur die ander (behoorlik opgeleide) polisielede uitgekryt omdat hulle voorkeur by bevordering geniet. “Die onbekaamde rassisme van die onversoenbares kon ek nog hanteer omdat hulle ten minste eerlik hieroor was en jy ten minste wis waar jy met hulle staan. Maar hierdie versluierde skynheiligheid van dié wie saam met die wolwe sowel as die hase gehardloop en nou wil voorgee dat hulle ons altyd in die gees ondersteun het, ontroer diep” (2085). “In 1996 … doen ek ‘n speuderskursus vir spesialiseenhede by die polisiekollege in Paarl … Dis my eerste kursus in die nuwe SAPD” (2203). Daarmee bevestig Vearey eintlik dat hy in ‘n (hoë) pos in die polisiediens op grond van sy MK-“status” aangestel is, sonder dat hy die nodige opleiding in polisiëring ondergaan het. Die kursusse in polisiëring wat in die Paarl aangebied word, is “alles in Engels” (2212). Dit toon hoe radikaal die polisiediens, wat tydens die blanke bewind oorwegend Afrikaans was, deur die ANC-regering getransformeer is. In die boek Menseregte vir die polisie beweer die (kruipsugtige Afrikaanse) outeurs, Francisca Nel en Jan Bezuidenhout, dat die polisiediens tot 1994 “‘n tipiese koloniale polisiemag” was (2224).

[* Dit laat my dink aan Arno Gruen se boek, The insanity of normality: Toward understanding human destructiveness (Berkeley: Human Development Books, 1992/2007). Volgens Gruen, ‘n sielkundige, voed selfhaat mense se gewelds- en vernietigingsdrange. Hierdie haat kan uiteraard op ander mense gerig word. Geweld en vernietiging is (histories) inherent aan die ANC, gevolglik kan daar kwalik van hom verwag word om ‘n normale samelewing tot stand te bring.]

Helen Zille het in haar outobiografie die aandag gevestig op hoe die polisie deesdae ANC-politiek openlik bevorder en die bedrywighede van die opposisie doelbewus belemmer (Praag 13.05.2017). As polisiebeampte is Vearey deel hiervan: “Bendegeweld op die Kaapse Vlakte en bande tussen bendeleiers en plaaslike politikusse en lede van gevestigde politieke partye pla, veral [!] in gebiede waar bendelede ANC-aktiviste doelbewus teister en ANC-verkiesingswerk belemmer” (1951).

Vearey skryf oor die Shoprite-bomontploffing in Worcester in 1996 waarby ‘n blanke bomplanter betrokke was (2229). Hy swyg egter oor die talle soortgelyke dade en erger wat deur die UDF/ANC gepleeg is. Hy lys ook nie die terreurdade waarby hy betrokke was en op grond waarvan hy tronkstraf uitgedien het nie. Wanneer Vearey oor sy lewenswyse in die jare tagtig tot 1994 besin, dink hy dat sy “keuses en dade geregverdig was” (2036). “Ek bly ‘n onvoltooide tapisserie waarin die goed, die sleg en die grys ewewigtig [!] in my wording saamgevleg is” (2494).

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.