Op 13 deser het ek op die ondergenoemde artikel van Melt Myburgh gereageer deur my opmerkings na LitNet te stuur. Hierdie teks is egter nie gepubliseer nie. Ek stuur dit dus hiermee na Praag vir moontlike publikasie. Ek het die teks intussen met verdere inligting aangevul, wat ná die oorspronklike teks volg.
oo0oo
Melt Myburgh se artikel, “Jakes Gerwel se soet nalatenskap vir Afrikaans” (LitNet 9.07.2020), is in deurslaggewende opsigte selektief oor Jakes Gerwel (1946-2012). Aanvullende inligting kan ‘n meer realistiese beeld tot gevolg hê.
Ek het vir Gerwel geken. Oor sy marxistiese oortuigings was hy uitgesproke. Sy doktorale proefskrif was “deeply influenced by two contrasting strains of progressive thought, Black Consciousness writing and Marxist theory and literary criticism” (John Higgins, Academic freedom in a democratic South Africa, Johannesburg: Wits University Press, 2013, p 227). In ‘n onderhoud in Augustus 2012 het Gerwel gesê: “For me Marx’s thinking still provides the best analytical tools for understanding societies in conflict, societies of inequality, and societies seeking change” (241). Ook: “Clearly understanding the world is an important form of changing the world and Marx himself is an exemplar of that” (249).
Toe Gerwel die rektor van die Universiteit Wes-Kaapland (UWK) was (1987-1994), was Jaap Durand ‘n vise-rektor. In sy outobiografie skryf Durand: “Met sy aanstelling as rektor het hy [Gerwel] sy besonderse intellektuele vermoëns ingespan om die UWK bekend te maak as ‘the intellectual home of the left'” (Jaap Durand, Protesstem: Oomblikke van herinnering, Wellington: Bybelkor, 2016, p 191). Met ander woorde, Gerwel wou die universiteit transformeer in ‘n verlenging van sy eie politieke oortuigings. Dit druis lynreg in teen akademiese vryheid, waarvolgens ‘n universiteit soos ‘n markplein moet wees waar die vrye uitruiling van idees nie net moontlik is nie, maar ook aangemoedig word.
Durand skryf; “Jakes het die daaglikse administrasie van die universiteit, insluitende die bouprogram, aan my oorgelaat” (191). Wat het Gerwel as rektor dan gedoen? Hy het hom by voorkeur met die politiek besig gehou. Durand verwys onder meer na twee buitelandse reise wat hy en Gerwel onderneem het: na Lusaka in Zambië in 1986 en Dakar in Senegal in 1987; in albei gevalle om gesprek met lede van die ANC te voer. Hulle vernaamste kontakpersoon in die ANC was Thabo Mbeki. “Ons het nagte om met hom gesels en na video’s gekyk wat in Suid-Afrika verbode was” (191). Gerwel en Durand het in 1990 ook ‘n besoek aan Rusland gebring. Wie het die reis- en verblyfkoste vir hierdie buitelandse reise betaal? Die antwoord is: die UWK, dus eintlik die “apartheidsregime”. Hieromtrent is daar geen rwyfel nie. Durand noem daardie reise “besonderse geleenthede wat ek deur die universiteit se bemiddeling beleef het” (190). By geleentheid het Gerwel Fidel Castro se Kuba gesoek. By sy terugkeer het Gerwel gesê dat hy nie sou omgee om daar te woon nie.
Die subsidiëring van Gerwel se politieke aktiwiteite deur die “apartheidsregime” strek verder. Ton Vosloo vertel in sy outobiografie dat hy Gerwel destyds dikwels op lughawens in die buiteland raakgeloop het. “Eers baie later sou ek uitvind Jakes was so in die stilligheid ‘n koerier van die ANC, met boodskappe na kamerade in die buiteland” (Ton Vosloo, Oor grense: ‘n Lewe in die media in ‘n tyd van verandering, Jeppestown: Jonathan Ball, 2018, Amazon Kindle 3608). Ek dink dit was immoreel om van die UWK of NP-regering te verwag om uitgawes verbonde aan die politieke bedrywighede van Gerwel en Durand te dra. Maar dit toon aan die mate waarin die NP-regering universitêre outonomie eerbiedig het; iets wat sedert 1994 glad nie meer bestaan nie. Selfs Durand erken: “Die [NP-]regering het sover moontlik die indruk probeer skep dat hulle aan die UWK ‘n sekere mate van onafhanklikheid gun en dat hulle nie sonder meer sou inmeng met die besluite van die Universiteitsraad oor die algemene rigting wat die universiteit moet inslaan nie” (121).
Sedert 1994 bestaan daar plaaslik bloedweinig akademiese vryheid. Vóór 1994 het dosente dikwels luidkeels op akademiese vryheid aangedring. Net soos Afrikaansdosente deesdae ‘n gewoonte daarvan maak om nie vir Afrikaans in die bres te tree nie, lyk dit asof (feitlik) alle dosente gelate aanvaar dat akademiese vryheid iets van die verlede is. Sedert 1994 het die regering universitêre outonomie doelbewus vernietig. Universiteite word openlik met die opskorting van hulle staatsubsidies afgedreig as hulle dit sou waag om nie regeringsbevele uit te voer nie. Anders as voorheen is daar by geen universiteit sprake van daadwerklike verset teen hierdie wantoestand nie.
‘n Groot leemte in Myburgh se artikel is ‘n gebrek aan duidelikheid oor Gerwel se rol in Afrikaans. Voordat Gerwel die rektor geword het, was hy ampshalwe ‘n Afrikaansdosent. Weens sy preokkupasie met revolusionêre ANC/SAKP-politiek het hy hom egter nie geroepe gevoel om juis (of spesifiek) Afrikaansletterkunde (of -taalkunde) te doseer nie. In sy eie woorde: “I was teaching Sociology of Literature” (Higgins 250). Sy amptelike gebrek aan doseerentoesiasme vir Afrikaans as sodanig volg uit sy ideologiese verknogtheid aan die ANC/SAKP. Hy sê: “I think if the ANC had come to power through a revolutionary seizure of power, we probably only would have had English as an official language” (Higgins 240). Met die erkenning van elf amptelike tale het die ANC met ‘n draai bereik wat hy wou hê, naamlik dat Engels sedert 1994 in die praktyk as eintlik die enigste amptelike taal funksioneer.
Die skade wat Gerwel Afrikaans aangedoen het, strek veel verder. Weens sy verknogtheid aan die ANC/SAKP wou hy die UWK, wat in 1960 as ‘n etniese universiteit vir bruin mense tot stand gekom het, transformeer in ‘n universiteit vir by uitstek die meerderheid Suid-Afrikaners, dus swart studente. Swart studente, selfs diegene sonder matrikulasievrystelling/universiteitstoelating is aangemoedig om na die UWK te kom. Hulle koms het nie sonder (sterk) weerstand uit bruin geledere geskied nie. Swart studente was spoedig in die meerderheid op die kampus en het daarop aangedring dat onderrig uitsluitlik in Engels verskaf moet word, terwyl die UWK tradisioneel ‘n oorwegend Afrikaansmedium universiteit was. Ooreenkomstig die wens van die ANC/SAKP is aan hierdie eis toegegee.
Die feit dat die UWK deesdae uitsluitlik ‘n Engelse universiteit is, is by uitstek aan die ywer van Gerwel en Durand te wyte. Die verantwoordelikheid vir die verskaffing van Afrikaansmediumonderrig aan bruin studente is sodoende op die Universiteit Stellenbosch (US) afgeskuif. Die US het graag bruin en veral swart studente toegelaat maar sy verantwoordelikheid kragtens Jan Marais se stigtingsvoorwaarde, naamlik dat Afrikaans nie ‘n mindere plek as Engels mag beklee nie, is al hoe meer geïgnoreer. Anders as voorheen is nóg die UWK nóg die US deesdae bastions van Afrikaans.
Tereg word in Myburgh se artikel gewag gemaak van Gerwel se gebruik van die woord soomloos. Ek het Gerwel se aandag op die foutiewe gebruik van die woord gevestig. Teen die einde van sy lewe het hy van naatloos gepraat. Daar is dikwels teenstrydighede in wat iemand enersyds amptelik en andersyds in sy privaat of persoonlike hoedanigheid doen. Afrikaanssprekendes wat Engels as hulle huistaal verkies het, soos Adam Small en Franklin Sonn, het Gerwel verkwalik omdat hy, anders as hulle, sy kinders Afrikaans grootgemaak en hulle onderrig aan Afrikaanse skole toevertrou het. In daardie opsig het Gerwel nie toegelaat dat sy liefde vir sy moedertaal deur sy politiek verdun word nie. Hy was ook ten gunste van die behoud van twee van die vyf Afrikaanse universiteite, al het hy in hierdie opsig self so ‘n slegte voorbeeld by die UWK gestel.
Daar is gesê dat Gerwel in sy laaste jare spyt was dat hy die leiding geneem het om die UWK in ‘n eentalig Engelse instansie te transformeer. Berou het te laat gekom. Dit lyk asof die skade wat Afrikaans gely het, nie ongedaan gemaak kan word nie.
oo0oo
Ek maak van hierdie geleentheid gebruik om die bostaande teks soos volg aan te vul.
Die UWK het die voorreg gehad om vir Andries de Kock (1930-1999) meer as twee dekades lank as universiteitsbibliotekaris te hê. Hy was ‘n mens van onbesproke karakter en voortreflike professionaliteit. De Kock het in 1990 afgetree. Leon Lemmer het by ‘n vorige geleentheid na hom verwys: “Oor etniese logika, ter huldiging van Andries” (Praag 4.08.2018). Sowel Gerwel as Durand het vir De Kock geken; nie net toe hulle in die rektoraat gedien het nie, maar ook vóór dit toe hulle UWK-dosente was. Gerwel se vrou, Phoebe, het ‘n aantal jare as assistente in die UWK-biblioteek gewerk. Ek dink sy behoort net die hoogste respek vir De Kock te hê.
Durand se vrou was ook in diens van die UWK-biblioteek, maar nie soos mev Gerwel in die hoofbiblioteek nie. Randu Durand was die bibliotekaresse in die Teologiebiblioteek. In sy outobiografie noem Jaap Durand dat sy vrou ‘n “besonderse verhouding met die studente opgebou” het (p 148). Die studente het “hulle dikwels tot haar gewend … onder meer om skuiling in die biblioteek te soek” (149). Die studente waarna verwys word, is mense wat hulle aan misdadige gedrag op die kampus skuldig gemaak het, bv die uitgooi van ruite met klippe. Mev Durand het haar aan regsverydeling skuldig gemaak deur hierdie studente teen arrestasie deur die veiligheidsmagte te beskerm. Vir hierdie doel het sy die geriewe van die Teologiebiblioteek misbruik. Dit spreek vanself dat dit nie ‘n biblioteekfunksie is om die veroordeling van misdadigers te voorkom nie.
Een van die gevolge van die Soweto-opstand was dat 1976 ontaard het in ‘n buitengewoon gewelddadige jaar op die UWK-kampus. “Aan die einde van 1976 is Randu ewe hoflik in kennis gestel dat haar pos in die biblioteek afgeskaf is” (149). Hiervoor verwyt Jaap Durand vir “die baie konserwatiewe hoofbibliotekaris, ‘n sekere mnr De Kock” (149). Durand se grief het ‘n naloop gehad. Kort nadat De Kock afgetree het en Gerwel en Durand onderskeidelik die rektor en ‘n viserektor was, het Gerwel die UWK-biblioteekpersoneel na sy kantoor ontbied. ‘n Mens sou dink dat Gerwel dit andersom sou doen, dat hy na die hoofbiblioteek sou gaan as hy die personeel wou toespreek, maar dit sou nie so duidelik getoon het wie baas op die kampus is nie.
Gerwel het toe teen De Kock uitgevaar; nie omdat daar enige beswaar teen sy uitmuntende professionaliteit was nie, maar bloot omdat De Kock nie Gerwel en Durand se buitensporige entoesiasme vir die ANC/SAKP onderskryf het nie. ‘n Meer konserwatiewe of behoudende politieke ingesteldheid as sy eie is nie deur Gerwel geduld nie. Die UWK moes immers in “the intellectual home of the left” getransformeer word. Ek beskou daardie byeenkoms as uiters verwerplike kleingeestigheid van Gerwel. Dit toon duidelik dat dit vir Gerwel en Durand in die eerste plek eerder om revolusionêre politiek as akademiese oorwegings gegaan het. ‘n Biblioteek wat doeltreffend funksioneer is ‘n onontbeerlike bate op enige universiteitskampus, maar dit was in hierdie geval klaarblyklik van sekondêre belang.
Maar Gerwel se misbruik van die UWK vir nie-akademiese en spesifiek pro-ANC/SAKP-bedrywighede strek verder. Onkoste vir politieke doeleindes, gedebiteer teen die UWK, is nie ontsien nie. ‘n Opgeleide terroris, die marxis Jeremy Vearey, vertel in sy boek, Jeremy vannie Elsies (Kaapstad: Tafelberg, 2018), van sy en ander ANC-kamerade se vrylating van Robbeneiland op 9 Junie 1990; ‘n gevolg van FW de Klerk se dwase toespraak op 2 Februarie 1990. “Professor Jakes Gerwel se seremonie ‘n paar dae later vir al agt en twintig van ons in die Universiteit van Wes-Kaapland se hoofsaal was ‘n statige affêring, kompleet met ANC-leiers wat met protokolbelaaide aplomb voorgestel is as verteenwoordigers van die ‘government in waiting’. Daar was wel slagspreuke van ‘Viva ANC’ en strydliedere wat my aan die ou UWK-hoofsaal se massavergaderings herinner het, maar dit was nou baie bedaarder en formeel. Dis ‘n nuwe revolusionêre era dié, die leierskap het geland en hulle is in beheer. Dinge word nou anders as waaraan ek gewoon was, gedoen” (Kindle 1605).
Dít was die situasie in 1990 op die UWK-kampus weens die pro-ANC/SAKP-ywer van mense soos Gerwel en Durand, wat ‘n akademiese instansie tot die uiterste misbruik het ter bevordering van hulle eie politieke ideale. Vearey roem bv daarop dat hy veel meer kwaad gedoen het as wat in sy hofsaak ter sprake gekom het en wat tot sy vonnis van sewe jaar tronkstraf, waarvan vyf jaar opgeskort is, gelei het (1247). Hy en sy mede-kamerade word vereer en onthaal vir misdade deur ‘n instansie wat veronderstel is om opvoedkundig bedrywig te wees.
Wat opgeval het toe Gerwel en Durand in die UWK-retoraat gedien het, was dat Durand gepoog het om polities selfs meer radikaal links as Gerwel te wees. Dit was omdat Durand, anders as Gerwel, as blank geklassifiseer was en hy dus alles moes uithaal om te bewys dat hy onteenseglik ‘n toegewyde ANC/SAKP-kameraad is. ‘n Rol soortgelyk aan dié van Durand word tans deur André Gaum, die enigste blanke kommissaris in die ANC-regime se Menseregtekommissie, vervul.
Vanjaar, op die vooraand van Mandela-dag, 18 Julie, het die viserektor van die UWK, Vivienne Lawack, ‘n lofrede op “Tata Madiba” gelewer (Bolander 15.07.2020, p 6-7). Die UWK was glo die eerste universiteit wat ‘n eredoktorsgraad aan Mandela toegeken het; reeds in 1990. Dit was uiteraard van Gerwel en Durand te wagte. Lawack skryf: “In the mid-1980s, under the leadership of Prof Gerwel, UWC openly defied the apartheid university policies by declaring itself the intellectual home of the democratic left that openly sided with the struggles of the oppressed.”
Lawack noem ANC-kamerade wat in 1990 deur Gerwel in skyn-akademiese poste aan die UWK aangestel is sodat hulle ‘n inkomste kon hê totdat hulle in 1994 in die Mandela-kabinet opgeneem is: Kader Asmal, Dullah Omar en Zola Skweyiya. Wat is die UWK deesdae? “One of the few outstanding black institutions in our country.” Hiervolgens is die UWK steeds ‘n etniese universiteit. Voorheen was dit ‘n universiteit vir bruines. Deesdae is dit ‘n universiteit vir swartes. Wat dieselfde gebly het, is rassediskriminasie.
Christopher Hitchens (1949-2011) was ‘n radikale, konfronterende, marxistiese joernalis wat baie polemieke met sy omtrede uitlatings ontketen het. Saam met Richard Dawkins, Daniel Dennett en Sam Harris was hy een van die grondleggers van die militante Nuwe Ateïsme. In sy latere lewe is Hitchens daarvan beskuldig dat hy polities (meer) regsgesind geword het, bv vanweë sy renons in Bill Clinton en sy veroordeling van NAVO se militêre inmenging in Bosnië.
Vandag skryf ek egter oor Christopher se minder bekende broer, Peter Hitchens (gebore in 1951), ook ‘n Britse joernalis, wat in sy prille jeug ‘n aanhanger van Leon Trotskie (1879-1940) se marxisme was. Hy verwys na homself as “a former Bolshevik” (bron hier onder, Kindle 4904). Peter het polities van verlinks tot regs gevorder, van sosialisme, via die Britse Arbeidersparty tot lid van die Konserwatiewe Party (1997-2003); ‘n party wat hom mettertyd ook nie meer aangestaan het nie. Deesdae beskou hy Edmund Burke (1729-1797 – Praag 2.05.2020) as sy mentor. Hitchens wil nie polities byderwets wees nie. Hy is ten gunste van die doodstraf en gekant teen homoseksualiteit asook die dekriminalisering van dwelmgebruik, bv dagga. “Legalization … lead[s] to social acceptance” (3820). Hy het geen simpatie met mense wat deur eie toedoen aan longkanker (weens die rookgewoonte) en vigs (weens homoseksuele gedrag) ly nie. Tydens Suid-Afrika se 1994-oorgang/ondergang was hy in Suid-Afrika. Hy het tot die juiste gevolgtrekking gekom, naamlik dat Nelson Mandela nie ‘n heilige is nie. Verder het hy die Wikipedia korrek as ‘n linkse naslaanbron geïdentifiseer.
Soms dryf Hitchens sy konserwatisme dalk te ver. Hy is bv gekant teen die “valsheid” van Britse Somertyd. Hy verkies Greenwich Mean Time (GMT) dwarsdeur die jaar. Hy verset hom selfs teen die metrisering van mate en gewigte. “My instincts … revolt against the shiny, efficient, ugly and stone-cold metric system” (4797). “English measures … pounds and ounces, inches and feet, chains and furlongs … were destroyed with slow subtlety and cunning, and resistance is left to a few eccentrics, such as me, fuming hopelessly against a loss nobody else can see” (4803). “[English] measurements … were based on the individual. A pound was what could be held in the hand. A pint was what a grown man might reasonably drink to quench his thirst. An inch was the top joint of a thumb, a foot was, well, a foot, and a yard was a pace. A fathom of water was deep enough to close over a man’s head. They worked outwards from the human. Metric measurements, by contrast, were based on a (mistaken) calculation of the Earth’s circumference” (4839).
Ek bespreek vandag die volgende boek van Peter Hitchens: The abolition of Britain: From Winston Churchill to Theresa May (London: Bloomsbury, 1999/2018, 368p; Amazon Kindle $21,23). Die hooftitel van die boek word in die 2018-voorwoord soos volg verduidelik: “The abolition of a great and famous nation is now virtually complete. This book, originally [1999] intended as a warning in letters of fire, might now at least serve as a headstone” (116). Die newetitel wek verkeerdelik die indruk dat hierdie boek onlangs geskryf is. Al die hoofstukke is reeds in 1999 vir die eerste keer gepubliseer. Slegs die voor- en nawoord is later bygevoeg. Nogtans toon die teks uitstekende insig in die diepgaande veranderinge wat sedert die dood van Winston Churchill (1874-1965) in die Britse omstandighede en geestesklimaat ingetree het. “The death of Churchill, an unchallengeable father figure, was a final farewell to a reassuring past” (182).
“My argument is that we chose the wrong future in the second half of the twentieth century” (101). Hy noem dit ‘n kulturele revolusie (162). “We have gravely devalued knowledge and academic qualifications, made many thoughts almost unthinkable, sundered many of the invisible bonds which once held our society together, and inflicted upon our country a permanent and irreversible change in morals, values, customs, taboos, language, humour, art and even eating habits” (167). In Suid-Afrika het dit veel erger daaraan toe gegaan. In 1994 het ons ‘n politieke revolusie beleef, waarna ‘n kulturele revolusie ingetree het waarin ‘n grootliks vreemde swart kultuur die twee tradisioneel leidende blanke kulture/lewenswyses verdring het. Hitchens noem Brittanje “a wholly foreign country” (187). Uit die oogpunt van die blankes geld dit in veel groter mate vir Suid-Afrika.
Volgens die outeur het die Britte in 1965 nog rede gehad om hulleself as die voortreflikste mense op aarde te beskou en kon hulle met reg trots op en patrioties jeens hulle land wees. Hy verwys na “a society that was profoundly civilized, gentle and humane” (707). Hy meen dat die Britse samelewing sedertdien feitlik onherkenbaar ontaard het. Dit herinner aan die ingrypende verskille wat daar tussen die ou en die nuwe Suid-Afrika bestaan, wat onder meer die entoesiasme vir en die tradisionele patriotisme van Afrikaners vir hulle geboorteland weggekalwe het. Daar kan egter kwalik van Afrikaners verwag word om die tradisionele Britte as verhewe organismes te beskou, gedagtig aan onder meer die Anglo-Boereoorlog. Tog is daar vir die plaaslike blankes min troos in die volgende reeds aangehaalde woorde: “The abolition of a great and famous nation is now virtually complete” (116). Brittanje is nog ‘n blanke Westerse land wat weens bv selfaangedoende, ingevoerde multikulturaliteit besig is om onder te gaan.
In Suid-Afrika ken baie jongmense van die huidige geslag nie die land se geskiedenis nie. Dit is veral te wyte aan die propaganda van die ANC-regime, bv in skoolgeskiedenisboeke, en die uitlatings van ANC-nalopers in die massa-inligtingsmedia. In Brittanje het iets soortgelyks gebeur. Hitchens verwys na “a generation to whom the past was not just a foreign country, but a place of mystery which was easier to mock than understand” (146). By hedendaagse Britte, soos by Amerikaners, is daar die neiging om onpatrioties te wees, om ‘n negatiewe siening van hulle land en hulle geskiedenis te hê. “The ideas of the past were invariably wrong, that putting the clock back was a sin, while progress and change were both inevitable and right” (616). Hitchens verwys na “the ‘anti-establishment’ tendencies in politics, academe, broadcasting and the press” (458). “Patriotism, monarchy and Englishness in general [became] unfashionable and – worst of all – comical” (600). “In 1965, even the radicals were loyal patriots” (474).
Daar word plek-plek na Suid-Afrika verwys:
“The old struggle between Afrikaner and British settlers in South Africa had ended in the triumph of the National Party, the building of grand apartheid and the founding of a Boer republic outside the Commonwealth” (637).
Die Britse openbare mening is “unshakeable in its certainty that personal righteousness is reserved for those who share its views about South Africa” (151), naamlik dat die swart politieke bewind reg en goed is en die blanke bewind van weleer, by name apartheid, verkeerd en sleg was.
Voorgeskrewe skooldrag word in progressiewe geledere geassosieer met “repressive and reactionary forms of government such as apartheid South Africa and Augusto Pinochet’s Chile” (1119).
“Opposition to apartheid or General Pinochet are valued more highly than personal adherance to the Ten Commandments or the Sermon on the Mount. An adulterer with the correct view on Nelson Mandela is perferable to a Mother Teresa who fails to critize the currently unfashionable regimes of the world” (4446).
Vir ‘n politieke aktivis soos Desmond Tutu gaan dit om die hiermaals en nie om die hiernamaals nie. Hy probeer om ‘n (swart) hemel op aarde te skep. Hitchens noem dit sosiale teologie “in which Christian charity to your neighbour was expressed through political action at home and abroad, rather than in your own conduct. This was especially attractive to the British because the Church’s old missionary links with the former colonies now gave it a potent voice in places such as South Africa, where it was to play an often creditable role in resisting the stupidities of Grand Apartheid” (1658).
Die hedendaagse afkeer van Standaardafrikaans kan ingevolge kulturele marxisme verduidelik word. Ordentlike, suiwer Afrikaans herinner aan ‘n glorieryke verlede wat deur ANC-kamerade weggewens word. “The glories of the language were offensive to the modernizers because they reminded them of what they owed to the past, because they reinforced the bonds of tradition, but above all because they constantly reminded them of a view of religion which was not theirs. It did not offer salvation through the Overseas Development Agency, the Anti-Apartheid Movement, Amnesty International and the Social Security budget. It offered it in an entirely non-political way, through the faith and deeds of the individual” (1871).
Hitchens kan nie (heeltemal) vrede met die nuwe elektroniese kultuur maak nie. Hy noem dit “post-literate” omdat die inligting eerder deur piktogramme, dus deur beelde/illustrasies, as deur teks oorgedra word (223). “Early television was nothing like the modern force which has now displaced all other forms of culture and entertainment. Its effect on the imagination has been the motor of the new morality and the new conformism” (234, ook 468). “The BBC [British Broadcasting Corporation] functions as a sort of priesthood of the politically permissible, awarding airtime and favour to those it likes, and silence, bad camera angles or mockery to those it dislikes” (4952). “[Television] encourage[s] only one set of ideas about what was good” (447). “It made each one of us more like the other, it narrowed the gaps between us and made us simultaneouly less alone and more conformist. We have all noticed the way in which mass culture has flattened out accents and made us dress and even walk in standardized fashions” (238).
“This regimentation has also affected our thinking, and our ability to choose. In a society of stable values and unchanging tradition, this would not be specially important, and the cinema had far less impact on 1930s Britain than television was to have fifty or sixty years later. The effect of television, especially colour television, on a society whose values were all open to question and whose morals were dissolving was explosive, and continues to be” (243). “Television robs adults of one of their most important tasks, as passers-on of culture to the young” (2116). Gelykmaking, eendersverklaring en internasionalisering kan die taak van regerings vergemaklik maar het ‘n vernietigende uitwerking op bv individualiteit, kreatiwiteit en eiesoortige kultuur. NP van Wyk Louw het reeds in 1936 geskryf: “Ons tyd wil net van gelykheid en gelykmaak weet; die natuur ken net ongelykheid en streng rangordening” (Berigte te velde, Kaapstad: Nasionale Boekhandel, 1959, p 17). Plaaslik is dieselfde neiging as in Brittanje waarneembaar: “The increasingly blatant use of soap operas as cultural propaganda” (Hitchens 48). Sepies en baie ander televisieprogramme is as’t ware ‘n siekte wat nie net bedags nie maar veral saans kulturele verwoesting saai.
Amerika was die eintlike wenner in die Tweede Wêreldoorlog. Amerika het die leidende land geword. “By 1941 we were a defeated nation” (285). “When American servicemen began arriving in Britain in 1942, much of the United Kingdom fell under a bizarre and unique form of military occupation” (4140). “They spoke the same language but brought with them a completely different culture, different morals, different habits of courtship and even different tastes in food and drink, music and entertainment” (4145). “The total number of Americans in the UK at this time [1944] was more than 1.6 million, mostly active young men, at a time when Britain’s active young men were mainly away from home” (4171). Hitchens bied die volgende as ‘n kompliment aan: “A rather touching and honourable refusal by Britons to countenance the US Army’s colour bar” (4192).
Die Amerikaanse besetting van Brittanje het tot lank ná die oorlog voortgeduur. Hierdie situasie “undermined and belittled Britain’s image of herself, and the British people’s view of themselves” (270). Amerikaanse kultuur het die Britte grondig beïnvloed, nie net vanweë die baie Amerikaanse soldate wat daar gestasioneer was nie, maar ook vanweë Amerikaanse rolprente en televisie. Daar was gevolglik “the increasing use of American terms in language” (280), asook die groeiende invloed van Amerikaanse populêre musiek, bv rock (295). Hitchens verwys na moderne populêre musiek “with its strangely bisexual appeal and its carnal beat” as “part war-dance, part fertility ritual” (2121). Wat die tradisionele Britse kultuur ook ontwrig het, is “America’s supposed ‘classlessness’, actually a fiction, [which] mocked our minutely graded caste system” (290).
Hitchens maak gewag van “the huge scale of the war effort and the breath and depth of the destruction it had caused not just to the physical fabric of the country but to its social fabric. Few now recall that the immediate postwar years were a time when many were alarmed by a rapid increase in crime, an atmosphere of purposeless rebellion among the young and a great deal of family breakdown because of the number of marriages which failed to survive the long partings of war” (680). “The Americanization of our sex lives was probably more important than all these put together. American attitudes towards divorce and adultery, the collapse of American puritanism … under the blows of Kinsey and the contraceptive pill, fanned out across the country like an infectious disease” (290). “As late as 1965, the child of divorced parents was an exception at any school, illegitimate children were a shameful rarity, homosexual acts were illegal, and contraception and abortion were taboo subjects in most homes” (572). Hierby kom nog “the arrival of North American feminism” (306).
Van die veranderings in die Britse leefwyse wat Hitchens opgemerk het, is die agteruitgang van die gehalte van standaard- of tradisionele Engels [Estuary English (358)], bv weens Amerikaanse invloed. “Estuary English – the universal classless patios of southern England” (3363). Daar is deesdae baie meer misdaad (566), bv inbrake (561), as voorheen en daar lê vullis in die strate (363), onder meer weens die multikulturele gedaanteverwisseling wat veral die stede ondergaan het. Maar sulke negatiewe verskynsels word deur linksgesindes goedgepraat. Daar is “a crude moral justification for crime, seen by many modern thieves as a form of taxation levied upon the greedy by the rest” (2381). In Suid-Afrika maak die ANC-regime die nieblankes wys dat die blankes hulle grond gesteel het en dat die blankes hulle besittings bekom het deur nieblankes uit te buit, bv deur hulle te min vir hulle arbeid te vergoed. Dit kan ten minste deels verduidelik waarom misdaad, bv onwettige grondbesetting en diefstal, op so ‘n buitensporige skaal in Suid-Afrika gepleeg word.
“In 1965 … eating in the street, except for a holiday ice cream or a homebound parcel of fish and chips, was practically unknown, and drinking in the street quite unthinkable for most people” (512). Die gedrag van mense het verander; eintlik versleg (479). Daar is al beweer dat die hedendaagse Britse kultuur gekenmerk word aan “lager, football and bodily functions” (611). Hoflikheid en goeie maniere het skaarser geword (479). Goeie smaak het agteruitgegaan (368). Mense voel minder veilig as voorheen, veral snags (389). In 1965 was Brittanje baie meer verenig as tans (432), met baie inwoners in Wallis en veral Skotland wat deesdae van Engeland wil wegbreek. “Northern Ierland … was the only place on British territory where British patriotism took the form of nationalism” (4615). Daardie nasionalisme is uit nood gebore – die gevaar vir Protestantse Britte van vereniging met en oorheersing deur die Rooms-Katolieke Iere van die Ierse Republiek. By die Britte in Noord-Ierland is daar deesdae egter al hoe groter onsekerheid of hulle in die toekoms deel van die Ierse Republiek of van Engeland gaan wees. Voorheen was daar nasionale solidariteit in Brittanje maar sedert 1965 het gebeure dit weggekalwe (653).
“A nation is the sum of its memories, and when those memories are allowed to die, it is less a nation. However, when a people cease to believe their national myths, and cease to know or respect their history, it does not follow that they become blandly smiling internationalists” (756). Die ANC-regime beywer hom vir die herskrywing van Suid-Afrika se geskiedenis, sodat die swartes beter en die blankes, veral die Afrikaners, slegter voorgestel word. Plekname word verander en standbeelde vernietig of verwyder ten einde die Afrikanerdom se trotse verlede te misken. Gebeure soos die Groot Trek en die Slag van Bloedrivier word as mites afgemaak. Dit alles word gedoen om die Afrikaners as etniese nasie, as volk, te probeer vernietig. Afrikanisme en globalisme word as plaasvervangers vir Afrikanernasionalisme aan ons opgedring. Regeringsleiers soos Donald Trump en Boris Johnson verset hulle teen globalisme. Hulle ondersteun onderskeidelik Amerikaanse en Britse nasionalisme, maar word om veral hierdie rede in die massa-inligtingsmedia verguis. As eilande is Brittanje, volgens Hitchens, “uniquely suited to be a nation-state” (809); des te meer sedert sy onttrekking aan die Europese Unie.
Ons het pas die onverkwiklike ondervinding gehad dat Jeremy Vearey (Praag 26.05.2018), ‘n opgeleide ANC-terroris, oud-Robbeneilander, nie-taalkundige en nie-letterkundige, klaarblyklik weens politieke redes deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gevra is om vanjaar, vyftig jaar ná sy dood, die NP van Wyk Louw-gedenklesing te lewer. ‘n Soortgelyke vergryp is die jaarlikse Neville Alexander-lesing wat deur die Afrikaanse Taalmuseum en -monument aangebied word ter huldiging van nog ‘n oud-Robbeneilander. Hitchens vestig die aandag op ‘n soortgelyke polities byderwetse skuif: om die blanke Florence Nightingale (1820-1910), tradisioneel dié heldin in die verpleegkunde, met ‘n swart rolmodel, die Jamaikaan Mary Seacole (1805-1881), te vervang (910). Albei het gedurende die Krim-oorlog (1853-1856) gewonde soldate verpleeg. Dit herinner aan die vervanging van ons volksplanter van weleer, Jan van Riebeeck, met ‘n nuwe vader van die (swart) Suid-Afrikaanse nasie, die geweldenaar Nelson Mandela. Sedert 1994 is daar in ANC-geledere selfs meer as een moeder vir hierdie nasie ontdek.
Volgens Hitchens is die Britse neo-marxiste “drearily left-wing, and focussed upon suffering and deprivation rather than upon achievement or heroism. They are also notably more forgiving of the misdeeds of communist totalitarianism than of fascist totalitarianism” (938). Weens die gebrek aan positiewe prestasie deur ANC-kamerade word negatiewe gebeure, soos ongehoorsaamheid en geweldpleging, sedert 1994 in Suid-Afrika tydens openbare vakansiedae in herinnering geroep. Dit dui op geestelike en morele bankrotskap.
In Suid-Afrika is skoolonderrig vir die verskillende kultuur- en etniese groepe, elk met sy eie leerplanne, sedert 1994 deur gemeenskaplike leerplanne, primêr afgestem op die swart meerderheid, vervang. In Brittanje is die tradisioneel monokulturele skoolonderrig tot multikulturele opvoeding omvorm. Hitchens noem dit “yet another excuse to denigrate the nation-state, apologize for the Empire and abolish the lore of the British tribe” (998). Terselfdertyd was daar, soos in Suid-Afrika, ‘n ernstige verlaging in akademiese standaarde – “standards always are out of date” (2272) – en die vernietiging van die tradisionele geskiedenisleerplan (1003). In Suid-Afrika verkondig die ANC-regime openlik dat ons geskiedenis volgens die voorkeure van ANC-kamerade herskryf word. Daar is blanke historici wat hartlik aan hierdie projek saamwerk. “In an incredibly short time, we have been turned into a nation without heroes, without pride in our past or knowledge of either our past triumphs or our past follies and disasters” (1007).
Plaaslik was daar al uitsprake van die nuwe bewindhebbers dat dinge soos meriete en standaarde Westerse uitvindings is wat maar agterweë kon gebly het. Jonathan Jansen het hom by uitstek smalend oor akademiese standaarde uitgelaat, heel moontlik omdat hy, sonder om dit te erken, besef dat akademiese standaarde in die skole en aan die universiteite in die ou Suid-Afrika veel hoër was as wat hulle in die nuwe Suid-Afrika is. Hitchens skryf: “The great universities of Oxford and Cambridge are still being attacked by ministers for trying to maintain some standards” (48). Later skryf hy van “a general lowering of Oxbridge standards” (1134). Dit is die Britse weergawe van die ANC se: “pass one, pass all.” Dit is ‘n tragedie as geestelike vervlakking twee van die oudste en akademies-wetenskaplik mees gerespekteerde universiteite in die wêreld aangetas het. Albei het in die 13de eeu ontstaan..
Hitchens noem die hedendaagse marxiste “cultural revolutionaries”: “They believe, in most cases with some passion, that education should be used to eradicate privilege and élitism, to spread the gospel of the new society in which everyone (and everything) is equal” (1015) – dus “the ‘democratic’ or levelled society” (1042). Mededinging word ontmoedig. As sommige skoliere akademies beter as ander presteer, word die (natuurlike) ongelykheid by skoliere sigbaar. As ‘n skolier druip, tas dit sy menswaardigheid aan, wat taboe in hedendaagse verligte samelewings is. Meriete is tot ‘n onding verklaar omdat dit ‘n hiërargie daarstel. “Melanie Phillips [Praag 18.08.2018] has condemned the ‘all must have prizes’ ethos of the modern system” (1108). Die gesag van onderwysers word deur ‘n verbod op (lyf)straf ondermyn. Dit skep ‘n situasie in die klaskamer waarin leer weens gebrekkige dissipline bemoeilik word. In baie gevalle leer skoliere deesdae op skool minder as voorheen. Om hierdie feit te kamoefleer, verkies die ANC-regime dat daar van leerders pleks van skoliere gepraat word. Die marxistiese obsessie met verandering (pleks van verbetering) is die rede waarom sulke disfunksionele verskynsels hulle opwagting maak (1064). Sodanige transformasie word deur sommige sielkundiges goedgepraat; “those stand-by experts who can always be counted on to decry common sense, defy public opinion and loathe hallowed tradition” (1166).
Een van die hoofoogmerke van kulturele marxisme is om die tradisionele gesin te vernietig. “The greatest fortress of human liberty, proof against all earthly powers, is the family [“huisgesin”]. In its small private space, it can defy the will of authority and the might of wealth. It is without doubt the most effective means of passing lore, culture, manners and traditions down through the generations. Its loyalties are stronger than those of the state, more powerful even than patriotism. All serious tyrannies have sought to undermine or infiltrate it, socialist tyrannies most of all” (2837). “There are many explanations for authority’s mistrust of the family. The main one must be that it cannot control what goes on there, what ideas are taught, what wealth stored up, what loyalties fostered” (2853). Weens sy magsbeheptheid sou die ANC-regime te graag iedere gesin na sy beeld wou afrikaniseer en aan die ANC gedienstig maak. Huwelike, dus histories normale gesinsvorming, word nie deur die ANC-regime bepleit nie. Die huwelik is al beskryf as “an unromantic compromise between sensuality and drudgery” (3070). Die huwelik is in baie gevalle nie hemel op aarde nie maar kultureel nogtans meesal ‘n beter, bv meer stabiele, situasie as heteroseksuele saambly of ‘n selfdegeslagverbintenis.
In Suid-Afrika kom enkelouergesinne algemeen voor, veral by die swartes. Trekarbeid, dus die blankes, is dikwels die skuld hiervoor gegee. Eintlik is ‘n gebrek aan seksuele dissipline, oftewel permissiwiteit – “moral poverty” (2635) – ‘n meer geldige rede. Die eksponensiële toename in buite-egtelike kinders kan ook toegeskryf word aan die (oor)gewilligheid van die ANC-regime om ongehude moeders met staatstoelaes te vergoed. Dit geskied sonder dat enige teenprestasie vereis word. Daar is ook nie ‘n maksimum perk vir sulke kinders nie. In die nuwe Brittanje is daar al hoe meer buite-egtelike kinders. “Roughly 44% of children in Britain are now born to mothers who are not married” (63). “The new cruelty, which leaves hundreds of thousands of children without a proper family, is imposed through many acts of generosity by the state and the taxpayers, and through the broad-minded tolerance of individuals and opinion-formers” (2428). “It is certain that crime is higher among the children of broken homes than among those from stable families” (4354). Wat nodig is, is “a sensible compromise between stern duty and individual kindness” (2433).
“Illegitimacy – the very thing marriage is supposed to prevent – has become so common as to be the norm. Shame and stigma, which once both defended respectable marriage and heaped misery on the poor bastard and his wretched mother, have disappeared. Instead, there is the slower, vaguer, more indirect misery of a society where fewer and fewer children have two parents, and where more and more women are married to the State” (2444). Maar dit is juis hierdie toenemende getal afhanklikes van staatstoelaes wat aan die ANC-regime ‘n substansiële steunbasis verseker. Terselfdertyd veroorsaak kinders uit enkelouergesinne dikwels dat misdaad floreer.
“The cultural revolutionaries have understood that a nation’s literature is one of the ways, perhaps the most important way, in which values are transmitted unchanged from generation to generation. They understand that Shakespeare’s Englishness is not an accident, and that Shakespeare and Englishness have helped to form each other” (2722). “This literature is also dominated by men” (2727). Wat ‘n marxis soos Terry Eagleton (gebore in 1943) hieromtrent doen, is “to try to rebuild Shakespeare as some sort of Marxist critic of the social order” (2738). “The desire for a national culture is seen as damagingly conservative, often ‘racist’ and almost inevitably unsympathetic to the rights of women” (2772). “Something called ‘the cult of the apron’ is constantly attacked” (2801). Die nuwe vooroordeel (2812) is dat vroue net sulke bekwame skeppers van letterkunde, asook ander literatuur, bv nie-fiksie, en ander kuns as mans is. Pas is daar ‘n bohaai in die plaaslike pers opgeskop omdat blankes oor die toekenning van literatuurpryse besluit het. Volgens die polities byderwetse narratief moet enersyds sowel mans as vroue en andersyds sowel blankes as nieblankes by enige openbare geleentheid, bv besluitneming, betrek word. Die ANC-regime verlang voorts dat swartes substansieel in die meerderheid moet wees en vroue in dieselfde mate as mans betrek moet word. Dit gaan nie om meriete, bv kennis en kundigheid, nie. Dit gaan om ras en geslag.
In hoofstuk 15, onder die opskrif, “Is Britain civilized?” word die linkse politikus, Roy Jenkins (1920-2003), uitgesonder as die hoofaanstigter van die Britse kulturele revolusie. “He should see it as his task to revolutionize all our habits” (3939). Volgens Jenkins: “It is about the need to make this country a more civilized place in which to live” (3949). Hy het bv die doodstraf en sensuur veroordeel, maar hom ten gunste van die openbare aanvaarding van aborsie, homoseksualiteit en dobbel uitgespreek. Jenkins het “a new era of loving the sinner” ingelui (4070). Die gevolg was: “The laws have grown more permissive and society more violent, selfish and chaotic” (4075). Jenkins was “the Europhile of Europhiles” (3994). Hy het geen gevaar vir die Britse kultuur weens massa-immigrasie voorsien nie. Hy het verkies om Brittanje voor te hou as deurgaans moreel voorbeeldig, naamlik as “the traditional refuge op the oppressed” (3978).
Wat ek uiters eienaardig vind, is dat Hitchens, anders as baie ander waarnemers, nie die verwording van Brittanje primêr aan die massa kultureel vreemde inkommers toeskryf nie. In sy 2018-nawoord is daar net ‘n enkele opmerking hieroor, wat eintlik geen verduideliking verskaf nie: “Immigration itself, which I deliberately did not include in my 1999 book [why not?], has beyond doubt transformed many towns and urban areas beyond recognition, far beyond what had happened in the forty years of immigration before 1997” (4753). “The UK welcomed an estimated net 1.5 million immigrants in the decade to 2008. Part by accident, part by design, the Government had created its longed-for immigration boom” (4770).
Die skuld hiervoor word by uitstek aan Tony Blair (Britse eerste minister, 1997-2007) toegeskryf. “The Blair government was not like any previous governments. It had a declared cultural purpose” (4871). “The truth, that New Labour was a sophisticated version of Eurocommunism, hugely socially radical, deeply hostile to the nation-state and monoculture and coldly dismissive of Church and Crown, can be observed in its actions by those who understand these things” (4899). Blair het erken “that he had himself been a Trotskyist” (4899). “Labour supporters … felt that mass immigration had changed their lives for the worst without their permission. It was this, above all, that turned a strong anti-EU minority into a decisive majority” (4776) in 2016.
Hitchens se betoog is soms wydlopig. Hy is geneig om in sypaaie af te dwaal. Die volgende kan as ‘n samevatting van sy konserwatiewe stellinginname beskou word: “The pattern in all these events is the same: Behaviour which was once deviant is made to seem mainstream, or al least acceptable, and those who are unhappy about it are portrayed as narrow-minded, old-fashioned, prejudiced and wrong. The effect of this implicit propaganda upon public opinion has been enormous, causing many people to be ashamed of views they had held since their childhood and had thought until recently were normal” (3439). Veertig jaar gelede was daar onder blanke Suid-Afrikaners ‘n oorweldigende mate van eenstemmigheid dat een mens, een stem rampspoedige gevolge sou hê, ‘n swart meerderheidsregering die land in sy swernoot sou stuur, gedwonge rasse-integrasie absoluut verwerplik is, ens. Deesdae word diegene wat steeds sulke menings huldig as verkramp en rassisties uitgekryt. Die ergste is blankes, insluitende oud-Broederbonders, wat deesdae valslik voorgee dat hulle eintlik reeds hulle hele lewe lank nalopers van die ANC is.
“How do you tell that a country has died? I would say that the moment comes when its people no longer even know that they have lost their culture and their history” (4730). Die Afrikanerdom is darem nog nie daar nie, maar is fluks op pad daarheen. Binne enkele geslagte kan sowel ons voortreflike Afrikanerkultuur as ons roemryke geskiedenis in die vergetelheid verborge wees. NP van Wyk Louw het in 1936 oor “ware volkskuns” geskryf: “Die beste daarvan sal alleen vergeet word wanneer die geaardheid en omstandighede van ‘n groep so verander dat hy homself nie meer daarin herken nie” (17)
Philip Spies was adjunkdirekteur: toekomsnavorsing by die Buro vir Ekonomiese Ondersoek en direkteur van die Instituut vir Toekomsnavorsing aan die Universiteit Stellenbosch (US). Op LitNet het hy hom uitgespreek teen Russel Botman se Hoop-projek. Pieter Kapp vestig bv die aandag op “die opvallende afwesigheid in die Hoop-projek [van] kultuurgerigte projekte” en “die mees opvallende afwesigheid is dat die rol van Afrikaans as onderrigmedium doelbewus verkleineer word in die projek. Die beeld word steeds geskep van Afrikaans as ‘n struikelblok eerder as ‘n geleentheid” (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans: ‘n Besondere verhouding, 1911-2011, Pretoria: Protea Boekhuis, 2013, p 217-218). Spies is ook gekant teen die taalbeleid wat die US-raad op 22 Junie 2016 aanvaar het. Hy is bv ‘n voorstander van moedertaalonderrig en ‘n derde Afrikaanse taalbeweging. Spies is die voorsitter van die loodskomitee van Gelyke Kanse, wat die US-taalbeleid in die hof gaan betwis. Aan sy pro-Afrikaansgesindheid hoef ‘n mens nie te twyfel nie.
My verbintenis met die Afrikanervolk is ononderhandelbaar. Daar kan geen sprake wees dat ek daarvan afskeid gaan neem nie. Spies is op twee maniere op soek na ‘n toekoms: deur die omstandighede in die land te verander én deur die Afrikaner te verander. – Leon Lemmer
Philip Spies
Op LitNet blyk dit egter ook dat hy Jeremy Vearey (Praag 26.05.2018) se toespraak tydens die US-Konvokasie-byeenkoms in November 2018 geniet het, dat hy hom daarvan weerhou om Wim de Villiers se uitsprake oor Afrikaans te veroordeel en dat hy saamstem met die hibridiese oorsprong van Afrikaans. Sy ingesteldheid is om Afrikaans meer kreools voor te stel as wat dit is, inklusiwiteit vir Afrikaans te bepleit en niks teen Kaaps of sterk ten gunste van taalsuiwerheid te skryf nie. Hoewel alles nie wit of swart is nie, moet ‘n mens myns insiens liewer nie twee here probeer dien nie. As ‘n mens te hard probeer om gematig en ewewigtig te wees, word Afrikanerskap verdun en die beste belange van Afrikaans nie gedien nie. Wat egter duidelik is, is dat Spies ‘n meer behoudende en dus ‘n beter gesindheid as bv Anton van Niekerk teenoor Afrikaners en Afrikaans het. Dit is opvallend dat dosente soos Spies, wat met die ekonomiese werklikheid van die nuwe Suid-Afrika gekonfonteer word, ongeneë is om soos Van Niekerk met studeerkamer-gekraamde utopiese droombeelde van hierdie droewe land vorendag te kom. Spies skryf: “Die land is vinnig besig om agteruit te boer en … hierdie agteruitgang [het] reeds in die 1990’s begin” (boek genoem in die volgende paragraaf, p 184).
Die volgende boek van Spies is pas gepubliseer: Afskeid van ‘n volk: Op soek na ‘n toekoms (Tygervallei: Naledi, 2019, 239p, R240). ‘n Mens kan sinies oor toekomsnavorsing wees omdat die toekoms nog nie bestaan nie en dus nie geken kan word nie. Maar dit is moontlik om op grond van wat oor die hede en verlede bekend is, met toekomsprognoses eerder as -voorspellings vorendag te kom (p xi). “Toekomsvrae vereis ‘n prognose-benadering en nie ‘n voorspel-benadering nie” (11). Die strategie van die ANC word soos volg verwoord:
“Die homogenisering van Suid-Afrikaners is ‘n toekomsvisioen wat die skep van ‘n nuwe, brawe nasionale orde veronderstel: eers ‘n stelselmatige proses van kultuur- en taalsuiwering en dan die ontwerp en skep van een taal en een kultuur vir ‘n Suid-Afrikaanse nasie” (x).
Sedert 1994 homogeniseer die ANC “deur te fokus op magsentralisasie, een beskouing van sake, een party, een taal, een kultuur” (103). Die aktualiteit van die boek vir Afrikaners en Afrikaans behoort duidelik te wees. Die outeur is goed ingelig en wat hy te sê het, word duidelik oorgedra. Daar is egter ruimte vir verbetering in sy gebruik van voorsetsels. Verder word daar oor “diktatorskap” geskryf (85, 86, 94, 95) – eers op bladsy 238 word dit “diktatuur” – en van “fyke” (151, 152) pleks van “fuike”. Dit is eienaardig dat hierdie foute nie tydens die redigering reggemaak is nie.
Die eerste hoofstuk begin met ‘n reël uit C Louis Leipoldt se gedig “Vrede-aand”, wat oor die Anglo-Boere-oorlog handel: “Ons het ons nasie in die see gesink” (1). Wat in 1899 tot 1902 gebeur het, is in 1990 tot 1994 herhaal, met dié wesenlike verskil dat Afrikaners in eersgenoemde geval die oorlog verloor het terwyl in laasgenoemde geval ‘n klein groepie Afrikaanssprekende politici verraad ten koste van die Afrikanerdom, blanke bevolking en Westerse beskawing gepleeg het. “Wat voorheen ondenkbaar was, het daarmee die nuwe normaal geword: ‘n Swart regering het oorgeneem, met ‘n swart president … ‘n Afrikanerland het in 1994 binne die bestek van ‘n dag in ‘n Afrikaland verander” (5). Om van apartheid afskeid te neem, was volgens Spies ‘n goeie besluit (5). “Wie kon in die duister van 1984 dink dat [dit] sal gebeur wat in 1994 gebeur het?” (178). Hy verwys ook na die “uitnemende Grondwet” (99). “In Februarie 2018 [Cyril Ramaphosa se verkiesing tot president] het Suid-Afrika skielik in die rigting van nuwe moontlikhede in die politiek gekantel wat mense hoop gee” (179). Spies streef na ‘n “inklusiewe, volhoubare Nuwe Suid-Afrika” (6) en is klaarblyklik optimisties (“moenie ophou om te droom” nie – 180), wat seker goed is as afdoende redes daarvoor gevind kan word. Ydele hoop kan blyk “die brandstof vir optimisme” te wees (238). Dit lyk vir my asof Spies die moeras probeer dreineer terwyl hy “reeds tot by [sy] heupe tussen die krokodille staan” (204).
Dwarsdeur die boek is daar dinge waarmee ek graag saamstem, maar daar is ‘n neiging tot oorgematigheid of weifeling, wat veroorsaak dat wat hy bereik weens ambivalensie ongedaan gemaak word. Spies is ten gunste van “jukskeibrekende denke” (9) maar hy weerhou hom van radikaliteit. Hy wil die land hervorm en Afrikaners “omvorm” (9), maar sonder om te erken dat die land op ‘n fundamenteel dwase grondslag funksioneer en die ANC inherent boos is. In die Kaapse idioom skryf hy tereg, “Afrikaners het ‘onder hulle-se kooie ingeduik'” (7). Dus, sonder die broodnodige verset het Afrikaners grootliks uit die openbare oog verdwyn. Maar dan ook: “Min wil vandag ‘n Afrikaner genoem word” – hulle het liewer deel van “die nuwe ‘ons'” geword (7). Tog is daar steeds baie Afrikaners wat kompromisloos teen die huidige opset gekant is. Hy verwys na Nelson Mandela wat “verklaar het dat oorheersing van een groep oor ‘n ander ‘nooit weer sal gebeur nie'” (8). Sonder om te sê dat Mandela gelieg het, skryf Spies bloot dat rassediskriminasie steeds bestaan.
Hierbo word met “Afrikaners” (vanselfsprekend) blankes bedoel. Soos met Afrikaans wil Spies die begrip “Afrikaners” meer inklusief maak. Albei het glo ‘n “hibriede oorsprong” (16), pleks van die geringe graad van kreolisering en verbastering in gedagte te hou. Hy streef na ‘n “ras-ontkoppelde Afrikaner-identiteit” (27). “Swartes verwys graag na mede-swartes as hulle “broers en “susters”. Spies verwys na bruin Afrikaanstaliges as “neefs en niggies” (27; ook 230). In die konteks van Afrikanisering word Afrikaners ‘n eiesoortige “Afrikastam” genoem (16, 17), terwyl die Afrikanerdom veel meer as dit, naamlik ‘n Afrikanervolk of -nasie, was en behoort te wees. “‘n Nasie [is] ‘n identifiseerbare samelewing volgens kultuur, taal, waardes, gewoontes en etniese karakter” (82). Die “paradys geskep uit volkswil” wat in die vorige eeu plaaslik tot stand gekom het, was volgens Spies ‘n “skynparadys” omdat dit deur “insmelting en homogenisering” tot niet gegaan het (19).
Soms kom Spies op ‘n voortreflike manier met die waarheid vorendag. “Afrikaner-Ekonomiese Bemagtiging (AEB) was die voorloper van SEB (Swart Ekonomiese Bemagtiging). Die verskil is egter dat AEB binne twintig jaar vrugte afgewerp het omdat Afrikaner-selfhelp deel van AEB was, terwyl SEB sover hoofsaaklik die regerende elite wat naby die staatskas lewe, bevoordeel het” (23).
Hy rol hierdie pêrel uit: “Die Britte was absolute meesters in stylvolle neersien en subtiele neerhalendheid op alle mense” (39). Engelssprekende blankes is gewoonlik net Engels magtig. “Waarom sal [sulke] Engelssprekendes enige ander taal praat want die ‘minderes’ (dit wil sê almal wat anders is as hulle) moet hulle mos tegemoet kom?” (162). Ook die volgende waarheid: “Die apartheidsorde het ná 1948 die Afrikaners (en ook die meeste [blanke] Engelssprekendes) se geskiedkundige beskouings en praktyke afgerond en geïnstitusionaliseer tot hulle logiese konsekwensies” (42).
Afrikaans is op pad na ontheemding, “aangevuur vanuit eie geledere” (25). Oor die waarheid van hierdie uitspraak kan daar geen twyfel wees nie. Dit is ‘n groepie blanke Afrikaanssprekende politici wat gruwelik versuim het om die status van Afrikaans in die Grondwet te verskans. Dit is Willie Esterhuyse wat besware teen vyf Afrikaanse universiteite geopper het. Dit is Chris Brink en Wim de Villiers wat hulle vir ‘n Engelse eerder as ‘n Afrikaanse US beywer, ens. Diesulkes verkies die “reeds gevestigde ontsnappingsroete van Anglisasie” (21).
Tydens apartheid is uitsprake deur internasionale organisasies soos die Verenigde Nasies en Unesco gebruik om die opset in Suid-Afrika te kritiseer. Noudat die blankes/Afrikaners ‘n polities magtelose minderheid is, kan daardie uitsprake teen die huidige bewind gebruik word, maar dit word glad nie in afdoende mate ontgin nie. In 2002 het Unesco ‘n “Universal Declaration on Cultural Diversity” uitgereik waarin staan: “Kulturele diversiteit verbreed die strekwydte van keuses vir almal … om ‘n meer bevredigende intellektuele, emosionele, morele en spirituele bestaan te verseker” (157). Desnieteenstaande pleeg die ANC-regering ongebreidelde kulturele homogenisering, bv afrikanisering en verengelsing.
In 2007 was daar die volgende Unesco-uitspraak: “Om kultuur sentraal te plaas in ontwikkelingsbeleid is ‘n noodsaaklike belegging vir die toekoms … die uiteenlopendheid van ‘n samelewing [moet] in ag geneem … word” (27). Die ANC-regering is egter uitsluitlik op die bevordering van die belange van swartes ingestel. Kosmopolitisering en afrikanisering het geestelike en liggaamlike blanke (insluitende Afrikaner-) diaspora/verstrooides tot gevolg. “Binnelandse diskriminasie en groter buitelandse geleenthede [het] Afrikaans-wees gewoon te duur gemaak” (28); vandaar die grootskaalse emigrasie.
“Akademiese studies van kulturele verskille, soos volkekunde, het in onguns verval weens die rol daarvan in die apartheidsbestel – en dit ten spyte daarvan dat internasionale ontwikkelingsagentskappe, soos Unesco, kultuur as sleutel-instrument vir beplanning propageer” (173). Russel Botman was byna gek van verontwaardiging toe daar bewyse ontdek is dat die eertydse departement volkekunde aan die US instrumente gehad het wat akademies-wetenskaplik verskille by mense kon vasstel (Praag 29.04.2013). Sodanige kennis het nie gestrook met Botman se polities gebaseerde geloof in mense se gelykheid en eendersheid nie. In die wetenskap behoort daar egter ruimte te wees om sowel ooreenkomste as verskille by mense na te vors en die resultate vryelik bekend te maak.
Vir die blankes wat in Suid-Afrika aangebly het, het “die samelewing … ‘n bron, nie ‘n tuiste nie,” geword (29). ‘n “Nuwe soort Afrikaans-wees” ontstaan “waarin wit, bruin en swart Afrikaanssprekendes hande vat en saamspeel” (29). Spies argumenteer “dat kulturele ontwikkeling ‘n basis vir die ontwikkeling van ‘n nuwe, meer insluitende Suid-Afrikaanse gemeenskap kan word … Die betekenis en belang daarvan lê egter ver anderkant die idee van ‘n geslote wit Afrikanervolk” (30). Net soos die ou Suid-Afrika kwalik in die nuwe Suid-Afrika herkenbaar is, sal Spies se getransformeerde Afrikaner en inklusiewe Afrikaans myns insiens, indien nog enigsins ‘n herkenbare Afrikaner en Afrikaans, nie ‘n gesogte of aanvaarbare Afrikanerskap en Afrikaans wees nie. “Hoe pas jy aan sonder om in elk geval van die aanpassing te sterf?” (48).
Soos Willem (Wimpie) de Klerk (1928-2009), een van die oorverligte wysneuse wat nie meer die gevolge van sy gedrag hoef te trotseer nie, dit reeds in 1994 gestel het:
“Vroeër het ons die Afrikakultuur probeer verwesters. Ons uitgangspunt was Eurosentries. Nou is ons in die proses waar Afrosentrisme voorop gaan staan. My stelling is dus dat die skep van ‘n nuwe kultuur vir Suid-Afrika, Afrikanisering van ons kultuur beteken … Nou moet [Westerse kultuur] ‘n Afrikakultuur word met Westerse tradisies daarin saamgevoeg … ‘n Europees-getinte Afrosentriese kultuur” (aangehaal deur Attie van Niekerk, Anderkant die reënboog, Kaapstad: Tafelberg, 1996, p 4).
Westerse kultuur word dus niks meer nie as ‘n (oppervlakkige) pigmentasie/tint van die oorheersende afrikanisering. Willem de Klerk en sy broer, FW, het nog nooit verskoning gevra vir die klaarblyklik onherstelbare skade wat hulle Afrikaners en Afrikaans aangedoen het nie.
Die toegewings waarin die De Klerks en diesulkes gespesialiseer het, het “uiteindelik geen dividende opgelewer” nie (Spies 46). “Reeds in 1979 skryf Arnheim ‘n toekomsprognose hieroor: ‘Is Suid-Afrika dan uiteindelik verdoem tot rewolusie? Sekerlik as die huidige beleid van wit toegewings vir swartes voortgesit word, of verskerp word. Slegs twee alternatiewe bly oor: swart oorheersing of wit oorheersing” (46; vertaal uit MTW Arnheim, South Africa after Vorster, Cape Town: Howard Timmins, p 183 – Praag 17.02.2018). “Die belofte van ‘n beter lewe vir almal was ‘n hersenskim” (53). Wanneer die ANC van “almal” of “the people” praat, het hy in elk geval gewoonlik net swartes in gedagte. Suid-Afrika is ‘n skyndemokrasie waarin die ANC se eiebelang, veral dié van die topkaders, oorheersend is (88).
“Met transformasie in die Nuwe Suid-Afrika se groepdominerende politieke konteks word bedoel die Afrikanisering van alle aspekte van die sosiale orde in die land, die stelselmatige oordrag van alle bates wat nog onder ‘n wit minderheid funksioneer na die swart meerderheid, en die verengelsing van gemeenskapsinstellings. Soos apartheidsimplementering in die 1950’s word transformasie deurgevoer tot sy logiese konsekwensies, en dit is om die dominante politieke groep mateloos te bevoordeel” (84). Met ander woorde, dit is nag vir Afrikaners en Afrikaans. Myns insiens kan die prognose van ‘n toekomskundige nie werklik iets hieraan verander nie, want dit sou die verandering/transformasie van die wesenlike aard van swartwees noodsaak. In ‘n verswelgende meerderheid is die uitlewing van swartwees uiteraard meer skadelik vir blankes as wanneer swartes ‘n minderheid is. “Met ‘meerderheidsoppermagtigheid’ word bedoel dat die meerderheid so dominant is dat dit onafhanklik besluite deurvoer, afgesien van die standpunte, waardes en regte van minderhede” (88). In 2012 het Jacob Zuma dit soos volg in die parlement geformuleer:
“Ons het meer regte omdat ons die meerderheid is. Julle het minder regte omdat julle die minderheid is … dit is hoe ‘n demokrasie werk” (91).
Wat die nuwe Suid-Afrika nie is nie, blyk uit die volgende woorde van die Amerikaanse digter, Walt Whitman (1819-1892): “Die grootsheid en rykdom van ‘n land is gesetel daarin dat dit ‘n veilige tuiste en ‘n goeie lewe vir vrye, selfversorgde, vlytige burgers bied … ‘n land waarin vaardige mense ‘n gemeenskap bou” (107). Spies onderskryf “die reg om welvarend te word as vergoeding vir vlytigheid” (102). Die ANC-regering matig hom egter die reg aan om blankes se besittings sonder vergoeding te onteien; dus te steel. Ook: “Die regering tap die grootste deel van sy inkomste uit die bronne van minder as tien persent van die bevolking. Dié tiende het ekonomiese mag, maar weinig politieke mag” (103). Is dit (Afrika)geregtigheid? Die mense wat inkomstebelasting betaal, is minder as dié wat maatskaplike toelaes ontvang (96). “In die geval van Sassa se kindertoelae kan dit voordelig raak om meer kinders in die wêreld te bring” (126). Dit help die ANC om meer stemme van die kiesers te kry. Die politieke mag is gesetel in die gepeupel wat ‘n finansiële las vir die staat is en nie in diegene wat ‘n ekonomiese bate is nie.
Wat in Suid-Afrika “demokrasie” genoem word, is gebaseer op een mens, een stem van gelyke waarde. Dit is ‘n hoogs ongewenste regeringstelsel, maar dit is wat aan Suid-Afrika opgedring is en waarin glad te veel (nie-denkende) mense berus. Spies verwys na die afhanklikheidsindroom by die begunstigdes, die bakhandstaners, van staatstoelaes. “Hulle staan bakhand vir Sassa-uitbetalings, vir enige los werkies, vir verniet huise en vir verniet dienste. Deur hulle getalle-oorwig in die politiek stel hulle onvolhoubare politieke eise aan die fiskus,” die staatskas (188). “Bakhandmense se vermoë om te ontvang is veel groter as hulle vermoë om te produseer, want hulle leef in ‘n afhanklikheidskultuur. Vir die volhoubaarheid van ‘n samelewing se ontwikkeling moet daar ‘n wisselwerking [balans] wees tussen ontvang en gee … ontwikkeling is die produk van ontwikkelde mense wat die begeerte en vermoë tot selfverbetering en gemeenskapsverbetering het” (149).
“Hoe meer huise gebou word, hoe groter gaan die vraag na huise word en hoe groter die tekort aan huise. Hoe beter die voorsiening van opvoedkundige dienste, mediese dienste en gemeenskapsdienste in stedelike gebiede is, hoe groter gaan die behoefte [aan] en eise daarvoor word, omdat dit mense gaan naderlok totdat die stede dit nie meer kan hanteer nie. Waar die korttermyn-oplossing in beter dienslewering lê, lê die langtermyn-oplossing vir die behuisings- en diensteprobleme van Suid-Afrikaanse stede in die ontwikkeling van die platteland en by die ontwikkeling van ons buurlande” (220).
Maar die inkommers kom nie net uit die buurlande nie. Hulle kom in groot getalle uit bv Somalië in Noord-Afrika. Dit maak van Suid-Afrika se inkommerprobleem onder meer ‘n Afrika-ontwikkelingsprobleem. Inkommers kom egter ook uit Indië, Pakistan en Bangladesj, wat dit nie net ‘n Indiese subkontinent-ontwikkelingsprobleem maak nie, maar ook daardie lande se oorbevolkingsprobleem. Kortom, dit is nag solank Suid-Afrika met ‘n ondoeltreffende regering sit wat ondoeltreffende grensbeheer toepas en twyfelagtige (bv korrupte) immigrasiebeamptes en -amptenare het.
Desnieteenstaande bak Spies ydele mooi broodjies soos: “Die grootste uitdaging is om gemeenskapsontwikkeling aan die gang te kry – om beter gemeenskappe te bou, om aan die ongeveer ses-en-twintig miljoen armoediges in die land hoop te gee dat dit binne hulle bereik is, en veral binne hulle eie vermoë om self hulle algemene lewensomstandighede te verbeter. Dit is nodig dat daar ‘n gees van selfvertroue, optimisme, selftrots en selfsorg in al die land se gemeenskappe ontstaan. Hulle moet bevry word van hulle afhanklikheidsindroom en ‘n gevoel van minderwaardigheid wat negatiewe reaksies oproep” (105). Ek wil vir Spies dieselfde vraag vra as dié wat ‘n hengelaar gevra het toe hy ‘n meermin gevang het: Hoe?
Voor die “eerste demokratiese verkiesing” in 1994 het Nelson Mandela beweer die land se grootste bate is sy mense; klaarblyklik omdat hy wou hê die meeste kiesers moet vir die ANC stem. ‘n Beter formulering is: “Vaardige mense [is] ‘n land se grootste bate … Vaardige mense is ‘n bate vir ‘n samelewing en onvaardiges ‘n las” (108). “‘n Land se ontwikkeling en die volhoubaarheid van sy samelewing [hang] in ‘n groter mate van die vermoëns en karakter van sy mense af … as van die omvang van sy natuurbronne en die grootte van sy ekonomie” (107). “In die een-en-twintigste eeu word ‘n gemeenskap se vooruitgang nie meer deur die grootte van sy natuurbronne bepaal nie, maar deur die gehalte van sy mense en die goeie ordening van sy samelewing” (122). In albei gevalle skiet die nuwe Suid-Afrika ver tekort. “Die gehalte van mense – hulle opleiding, karakter, kultuur en toewyding – [gaan] ‘n land se toekoms … bepaal” (144). Dus, in die opsigte wat saakmaak, is mense nie gelyk en eenders nie. Nogeens: “Ons toekoms gaan gebou word op die gehalte van ons mense en samelewing” (146). “Suid-Afrika moet ‘n land word [dus, dit is nog nie so nie] waarin vaardige en toegewyde mense ‘n lewenskragtige samelewing kan bou” (147).
Oor “die instroming van arm Afrikane na Suid-Afrika” skryf Spies: “Die enigste [!] oplossing vir hierdie instromingsprobleem is ruimtelik-gebalanseerde ekonomiese ontwikkeling” (126). Totdat daar geen lewensruimte oor is vir diegene wat hier hoort nie? Dink aan die bestaande tekort aan grond vir behuising en landbou, asook watertekorte. Dalk is doeltreffende grensbeheer met Trump-mure en geëlektrifiseerde heinings wat gepatroleer word eerder nodig (Praag 29.12.2018). Die enigste muur waarna Spies verwys – behalwe heel teen die einde (218) – is:
“Die skrif is … aan die muur vir Afrikaans” (164).
Al het Nelson Mandela beweer dat hy teen sowel wit as swart oorheersing baklei het, het ons sedert 1994 in toenemende mate politieke swart oorheersing. “‘n Oorheerser-samelewing is een waarin of die politieke of die ekonomiese bestel dominant is in die reël van mense se lewens en strewes” (158). In so ‘n samelewing is daar ‘n lingua franca, dus ‘n transkulturele gebruikstaal (158). In Suid-Afrika het die ANC besluit dat Engels hierdie funksie moet vervul en hy kom daarmee weg sonder dat sterk teenstand gebied word. Nie-Engelssprekendes, bv Afrikaners, word daarmee “ondergeskiktes in die ‘huis’ van die gebruikstaal” (159). Volgens die Sapir-Whorf-hipotese is bv Engels as algemene gebruikstaal gevaarlik omdat “die struktuur van ‘n taal mense se denke en die kultuur wat die taal onderhou, beïnvloed” (159); “dat die struktuur van ‘n taal mense se denke en kenmerkende gedrag beïnvloed” (172). Byvoorbeeld, hanskakies soos Chris Brink en Wim de Villiers dink en handel nie soos Afrikaners nie. Afrikaners wat Engels goedskiks as gebruikstaal aanvaar, doen dit op die gevaar af dat hulle hanskakies word. Op die lange duur sal Engels dan dié kultuurtaal van Suid-Afrika word (160).
Spies skryf oor die Universiteit Stellenbosch: “Uiteindelik het die universiteit ook deel gevorm van die apartheidspolitiek van sy diensgemeenskap, waaroor hy vandag sy kop in skaamte laat sak” (160). Dit is hanskakies soos Chris Brink en Wim de Villiers wat hieroor skuldig voel en hiervoor verskoning vra. Waaroor hulle veel eerder skaam moet wees, is dat Jan Marais se stigtingsvoorwaarde, dat Afrikaans nie ‘n mindere plek as Engels aan die US mag beklee nie, skromelik geminag word. Spies beweer nie sonder oordrywing nie: Afrikaans was ‘n “afgeforseerde lingua franca van die wit Afrikanerstaat” (161). Waarom word dieselfde nooit van die ANC se beheptheid met Engels as eintlik die enigste amptelike Alfred Milner-afgeforseerde taal gesê nie? Spies erken: “Afrikaanse universiteite het reeds boedel oorgegee en is stelselmatig besig met [kulturele] seppuku terwyl hulle vir boetedoening besig is met kulturele sterilisasie en verengelsing” (229). Hierdie universiteite probeer hulle van hulle “volkskuld” suiwer (21). Seppuku is ‘n “Japanese kulturele selfmoord deur buikoopsnyding, ook bekend as hara-kiri” (21).
Afrikaans word geëtiketteer as ‘n “kreoolse boorlingspreektaal” (161). “Afrikaans was en is nie ‘n eksklusiewe wit-bestting nie. Dit is die pasgemaakte produk van ‘n kreolisering waardeur wit-, bruin-, Asiër- en swartmense se praat-met-mekaar deurlopend aangepas is sodat hulle mekaar se doen en late kon verstaan” (167). Naas Afrikaners praat mense van ander etnisiteite ook Afrikaans, maar dit impliseer nie dat die aard van Afrikaans dermate deur hulle beïnvloed is dat Afrikaans in wesenlike mate gekreoliseer is nie. Byvoorbeeld, Fanagalo is voorheen op ‘n uitgebreide skaal gepraat maar het weinig invloed op Afrikaans uitgeoefen.
“Afrikaans het as gevolg van mense se kulturele behoeftes gevorm en het deur politiek ‘n sekere status in Suid-Afrika gekry” (161). “Vandag is Afrikaans ‘n verleentheid vir voormalige Afrikaanse sake- en onderriginstellings wat daaruit gebaat het” (161). Koos Bekker se Naspers is die prominentste voorbeeld hiervan. Hy wou nie eens toelaat dat ‘n geskiedenis van Naspers se eerste eeu gepubliseer word nie. Die nuwe benaming, “Naspers”, was vir Bekker ook te naby aan die vorige benaming,”Nasionale Pers”.
“Engels staan … nou weer, soos voorheen, bo aan die maatskaplike hiërargie van Suid-Afrika” (162). “Sedert die 1800’s was die koloniale taal Engels bo aan hierdie hiërargie wat aan Engelssprekendes die selfvoldane status van afgerondheid en algehele meerderwaardigheid verleen het” (162-163).
“Ná 1948 het Afrikaans ‘n verhoogde status geniet vanweë die land se politiek, maar ná 1994 is dit van die politieke troon gestoot. Op die oomblik staan Afrikaans miskien nog tweede in die land se taalhiërargie, maar dit sal vir seker nie so bly nie. As inheemse taal gaan dit in die nabye toekoms in presies dieselfde posisie wees as al die ander inheemse tale van Suid-Afrika … volgens … die elite [het] slegs die koloniale taal Engels administratiewe, geregtelike en kommersiële waarde” (163). Afrikaans “staan in ‘n kruisvuur binne die persepsie-doodsakker van illegimiteit en oudedoosheid – soos gehoor kan word as sommige van die cool jongergeslag-Afrikaanssprekers ontsnap met terugsluk-Afrikaans en Engelse invoegings in gesprekke en voordragte … In die ervaring van hierdie skrywer is dit alreeds die geval by sommige van die jongergeslag-predikante van die NG Kerk wat graag vir effek heelwat Engels in hulle bediening gebruik [ook 232]. So ook by die cool kunste-gemeenskap” (164). Sommige van hierdie predikante het hulle opleiding aan die erg verengelste en kultuurmarxistiese US-fakulteit teologie ontvang. Sulke predikante sal nie weerstand bied teen die hereniging van die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) nie. As dit gebeur, sal Afrikaans as kerktaal ernstig benadeel word.
Later skryf Spies:
“Taaldissipline is vandag vir vele sprekers nie meer (in die nuwe jargon gestel) ‘n issue [kwessie] nie. Veral die jonger geslag Afrikaanssprekendes in die kunste praat tweetalig, bokspringend soos losgelate kalwers, ‘n geradbraakte mengsel van Engels en Afrikaans. Afrikaanssprekendes se kommunikasie in die sosiale media is hoofsaaklik in Engels. Afrikaanse koerante is ook stelselmatig besig om taaldissipline heeltemal oorboord te gooi” (229). “Indien hierdie selfgeskepte proses van taalerosie voortduur, sal Afrikaans as hoëvlak-gebruikstaal binne twintig jaar verdwyn. Dit sal ten beste eindig waar dit aan die einde van die negentiende eeu begin het – ‘n kreoolse gebruikstaal wat deur minderwaardige sprekers gepraat word, en daarom nie good form is om dit in ‘goeie’ geselskap te gebruik nie” (164).
Dit is kenmerkend van die bruin elite dat wanneer hulle in die openbaar is of iets moet skryf, hulle Engels verkies. Hulle kom bv as Afrikaanssprekende eerstejaar-studente by die universiteit aan maar beskou hulleself spoedig as eintlik Engelssprekend. Die polities byderwetse gewoonte bestaan, ook by Spies, om vir onderrig in Afrikaans by die US ten bate van bruin studente te pleit. Dit het meer sin om eerder die behoefte aan onderrig in Afrikaans by Afrikanerstudente voorop te stel, omdat hulle in baie groter mate as bruines Afrikaanslojaal is.
Spies is bewus van die taalerosie-verskynsel, veral wat die toenemende gebruik van Engelse woorde in die Afrikaanse spreektaal betref. Van Afrikaners en bruin mense kan nie sonder meer beweer word, “ons praat dieselfde taal” (168), nie. Tog bepleit Spies ‘n inklusiewe Afrikaans, dus die insluiting van die brouseltaal Kaaps by Afrikaans, wat die dood in die pot vir ‘n egte, eerbare, waardige, ordentlike Afrikaans sal wees. So ‘n inklusiewe Afrikaans sal die gebrek aan selfrespek van Afrikaanssprekers bevestig, asook hulle minderwaardigheid in vergelyking met Engels. Engels is ‘n eiesoortige taal uit eie reg terwyl dit nie van geradbraakte Afrikaans gesê kan word nie. Gebrek aan respek vir jou moedertaal weerspieël ‘n gebrek aan selfrespek, bv as jy toelaat dat jy oordonder word met retoriese propaganda wat ongegronde skuldgevoelens by jou wek. “Die wit minderheid is vandag ‘n sagte teiken omdat hulle skuldig voel” (188). “Die waarde van ‘n land as tuiste vir mense word bepaal deur die respek van daardie land vir hulle taal en kultuur” (164). By die ANC-regering is daar bitter min tekens van respek vir Afrikaners en Afrikaans. Die huidige stand van sake is “dat Engels die verhewe taal is en ander tale net as spreektale aanvaarbaar is” (164).
Die voorkeur vir die koloniale taal (Engels) bo ‘n kultuur- en moedertaal (bv Afrikaans) by onderrig en opvoeding, word ‘n dwase benadering genoem (166).
“Een van die belangrikste redes waarom Benede-Sahara-Afrika vandag so sukkel om op dreef te kom, is omdat onderrig en opvoeding by hierdie volke hoofsaaklik deur middel van ‘n (koloniale) tweede taal geskied … Kennis-inheemding deur middel van moedertaalonderrig was saam met politieke bemagtiging die grondslag van die opkoms van ‘n nuwe geslag goed opgeleide wit Afrikaanssprekendes wat vanaf die 1950’s groot sukses behaal het in die sakewêreld en die professies. Toegewyde Afrikaanse onderwysers en lektore [dosente] het die stand en status van wit Afrikaanssprekendes gelykgestel met dié van hulle wit Engelssprekende landgenote” (167).
Sedert 1994 is Afrikaners polities ontmagtig en doen die ANC-regering alles in sy vermoë om met die hartlike samewerking van bv hanskakies, Afrikaans as onderrigmedium te onderdruk. Die oorlewingskanse van Afrikaans lyk gevolglik nie belowend nie.
FW de Klerk het polities aan swart mag oorgegee. Spies doen dieselfde met Afrikaans: “Afrikaans se toekomstige lewenskrag hang nou [sedert 1994] af van hoe dit aanvaar en ontwikkel gaan word deur bruin- en swartmense. Die rede hiervoor is demografie” (169). Dus, kwantiteit seëvier oor kwaliteit. Hy gaan verder: “‘n Mens moet begrip hê vir die dilemma wat veroorsaak het dat voormalige Afrikaanse universiteite almal nou na Engels-onderrig oorskakel … Afrikaans dra ‘n swaar politieke las as die administratiewe taal van apartheid [as ‘n mens ANC-propaganda sluk]. Akademiese verengelsing is dus (in al sy kilheid) goeie korporatiewe strategie” (169). Spies is heeltemal te tegemoedkomend jeens ‘n hanskakie soos Wim de Villiers.
Omdat hy die politieke propaganda wat teen Afrikaans versprei word, sluk, kom Spies tot dieselfde absurde gevolgtrekking as instansies soos die Afrikaanse Taalraad (ATR) en die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging ATKV), wat veronderstel is om Afrikaans te bevorder maar dikwels eerder die teenoorgestelde doen: Pleks van Afrikaans as sodanig te bevorder, moet Afrikaans, volgens diesulkes, (slegs) saam met die plaaslike inheemse tale bevorder word. “Afrikaans kan net gesuiwer word van hierdie verlede as Afrikaanssprekendes dié wantroue kan aanspreek deur uit te reik na ander kulture in Suid-Afrika – onder meer deur te help om ander inheemse tale ook tot kennistale te ontwikkel. Die toekoms van Afrikaans-onderrig lê nie in grondwetlike regte nie, maar in Afrikaanssprekendes se agting vir ander en hulle diensbaarheid vir ander kulture” (171), selfs al is daar by swartes (amptelik/openlik) min tekens van agting vir hulle eie tale. Dus, net soos agter die beweerde behoeftes van bruin studente geskuil word wanneer voorbrand vir onderrig in Afrikaans gemaak word, moet Afrikaans in breër verband bevorder word deur terselfdertyd swart tale te bevorder. My standpunt is dat daar kompromisloos uit eie reg vir Afrikaner- en Afrikaansbelange geveg kan en moet word.
Sonder om op grond van ras te diskrimineer, het universiteite in die nuwe Suid-Afrika die reg om in Afrikaans te doseer. Daarmee word die hooggeprese diversiteit van sowel ras/etnisiteit as taal bevorder, as studente kan kies of hulle in Afrikaans of Engels wil studeer. Maar sodanige keuse word nie meer aan enige universiteit vreedsaam geduld nie. Die swartes eis ‘n enkele onderrigtaal, Engels, die koloniale taal. “Wat ons deur die taalstryd in Suid-Afrika ervaar, is ‘n neo-koloniale beweging” (170). Daarmee word taaldiversiteit omvergewerp en Afrikaanssprekendes benadeel. Brian O’Connell het as rektor van die University of the Western Cape die nuut verwerfde Engelse eentaligheid van die inrigting met ‘n drogredenasie probeer regverdig deur te beweer dat die swartes erkentlik en dankbaar is dat Afrikaanssprekende studente hulle hierdie opoffering van Engelseentaligheid laat welgeval. Hierdie beleid word “kultuursanitering” genoem, “bedoelende die byeenbring van verskillende rasse wat hulle kulturele bagasie by die huis moet los” (173). In die praktyk beteken dit egter dat dit die nie-swartes is wat hulle kultuur moet opoffer. Vandaar die gesanik oor bv die eurosentriese aard van leerplanne en die noodsaaklikheid van afrikanisering.
Die wiel het gedraai. “Weg van die apartheidsgeskiedenis wat vandag Afrikaans polities onaanvaarbaar gemaak het, lê ‘n toekoms waarin dit nie meer die taal van die onderdrukker gaan wees nie, maar die taal van die onderdrukte. Die meeste Afrikaanssprekendes lewe vandag van die maatskaplike en ekonomiese potskraapsels van die land” (174). “Toe deure is ‘n maklike uitweg om verskille te bestuur, want dit is dan nie nodig om jou moeg te maak met andersoortiges nie. ‘n Oop deur vereis verdraagsaamheid, begrip, empatie – en veral om te leer van ander se manier van dinge doen” (176-177). “By Suid-Afrikaners moet ‘n nuwe bewustheid ontstaan van mekaar se menswees – van mekaar se waardes, taal, kulturele praktyke en kulturele verskille” (177). Dit klink mooi, maar in die praktyk is dit net die blankes wat verskoning moet vra en aanpas en veral nooit moeg mag raak om goed te doen nie, al dien dit as aansporing om hulle verder te veroordeel. “‘n Suksesvolle, ontwikkelde Suid-Afrika sal altyd ‘n onverklaarbare, onvoorspelbare wonderwerk wees” (178). Die Suid-Afrika van weleer was ‘n wonderwerk en nie onverklaarbaar nie, want dit was te danke aan blanke kundigheid, harde werk, deursettingsvermoë, toewyding, ens. Ná verloop van ‘n kwarteeu is die nuwe Suid-Afrika volgens (feitlik) alle aanduidings gewoon nie ‘n wonderwerk nie, maar ‘n groter wordende ramp en tragedie.
In die voorlaaste hoofstuk skryf Spies: Die primêre hindernis is dat die land op die oomblik geen samelewing het nie” (186), om van ‘n nasie nie te praat nie.
“Miskien kan Suid-Afrika eendag, ver in die toekoms, ‘n nasie word, maar vir eers is dit onwaarskynlik … Suid-Afrika is nie ‘n nasie nie, maar sy mense kan wel ‘n span word” (201). “Suid-Afrikaners kan gewoon maar net nie met mekaar klaarkom nie” (186).
Dit is weens die groot etnies-kulturele verskille. Die oplossing is nie om daardie verskille te onderdruk, dus die samelewing te homogeniseer soos tans nie, maar juis om ruimte vir die uitlewing van iedere etniese groep se kultuur te skep. Op hierdie manier kan van die bevolking (‘n klomp mense) nie ‘n nasie nie maar wel ‘n funksionerende samelewing gemaak word (182). Maatskaplike patologie is prominent. “Maatskaplike patalogie is ‘n begrip wat verwys na toestande in die bevolking wat disorganisasie en verbrokkeling in gemeenskappe veroorsaak. Armoede, kriminaliteit en korrupsie is tipiese voorbeelde hiervan” (187). Die tragedie is dat dit hoofsaaklik voorkom by die ras-/etniese groepe wat tans polities in beheer van Suid-Afrika is. Terselfdertyd is “demografiese proporsionaliteit” egter tot die kern van die ANC se beleid verhef. Spies noem hierdie gehamer op demografie tereg “rassisties” (187).
Spies dink dat politici “op die kort termyn ingestel is. Politici is inderwaarheid die vyande van Suid-Afrika se toekoms” (189). In die politiek gaan dit “oor die behoud van die vermoë om finansieel voordelige politieke posisies te behou … Ingeoefende professionele politici sal altyd hulle eie belange voorop stel in al hulle optredes en besluite” (190). Ek is dit roerend met hom eens, maar wat hy nie verreken nie, is ‘n spesifieke kenmerk van die oorgrote meerderheid plaaslike politici en kiesers. As toekomskundige behoort dit hom te bekommer dat swartes in groter mate as blankes eerder op die hier en nou as die toekoms ingestel is.
Ek haal vervolgens aan uit Attie van Niekerk se boek, Anderkant die reënboog (Kaapstad: Tafelberg, 1996):
“Afrika se gerigtheid op die verlede, die afwesigheid van ‘n toekomsvisie en die gevolglike gebrekkige toekomsbeplanning, die houding dat tyd nie gemors kan word nie omdat tyd eintlik net bestaan as iets gebeur, is reeds dekades gelede … beskryf. Hierdie gerigtheid op die verlede [bv slawerny, kolonialisme, imperialisme, rassediskriminasie, apartheid] waarin Afrika vasgevang is, word dikwels as een van die redes genoem waarom ontwikkeling in Afrika nie slaag nie. Daarteenoor beroem die Weste hom op toekomsgerigtheid en beplanning” (p 42). “Dit is die gees van die moderne Weste. Begrip van die natuurlike orde moet lei tot beheer oor die natuur – ook beheer oor ons menslike natuur [bv voortplanting] – en dit moet vooruitgang meebring” (58). “Beheer en vooruitgang is nie die dryfvere van die Afrikabeskawing nie” (59). (Praag 8.04.2017).
Suid-Afrika “benodig transformerende leierskap” (Spies 191). Ek sou eerder sê “hertransformerende leierskap. “Die politiek van die land word gekenmerk deur selfdienstigheid en is ver verwyder van die kiesers” (197). “Politici verkies om eerder diens aan hulle party te lewer as aan die mense wat hulle moet dien … Sulke politici is die vyande van Suid-Afrika se toekoms, want hulle ondersteun die vervreemding van Suid-Afrikaners … Toekomsgerigte [her]transformerende leierskap is dringend nodig” (198). “Méér aandag moet [ge]gee [word] aan die belange van diegene wat gedurende ‘n vernuwingsproses kan verloor” (199). Sedert 1994 word daar egter eerder gepoog om te verseker dat veral die blankes al hoe meer verloor en die swartes al hoe buitensporiger baat.
Samevattend skryf Spies: “Suid-Afrika se toekoms word bedreig deur ongelykheid, armoede en ‘n gebrek aan samehorigheid” (209). “Suid-Afrikaners se vryheidstryd is vandag ‘n ontwikkelingstryd. Volhoubare ontwikkeling is net moontlik in Suid-Afrika deur die moeilike roete van samelewingsbou te volg. Dit vereis dat alle Suid-Afrikaners oor grense heen hande vat en daaraan deelneem – en dat die bouwerk met geduld, aanpasbaarheid, respek, nederigheid en baie hoop en moed aangepak moet word. Die beginsel is dat mense die begeerte moet hê om iets positiefs te doen, en ook geleenthede moet kry om dit te doen, sonder bevoordeling of beperkings” (210).
“Elke mens en elke vereniging, instelling en onderneming in Suid-Afrika kan ‘n bydrae maak om die land weg te stuur van die dreigende afgrond waarheen dit op pad is. Rasse-diskriminasie en demografiese proporsionaliteit behoort in hierdie benadering geen hindernis te wees nie” (211); bedoelende dat sulke verskynsel glad nie geduld moet word nie. Maar dan skryf Spies ook: “Omvattende deelname aan ‘n ontwikkelingspel kan uiteindelik dié suiwerste uitdrukking van demokrasie word” (209), terwyl ek dink dat die soort demokrasie wat ons tans het, heeltemal ongeskik vir ‘n land soos Suid-Afrika is. “Minderheidsgroepe [sal] altyd aan meerderheidsdominansie onderworpe wees” (235).
Die laaste hoofstuk het as opskrif: “Afrikanertoekoms in hierdie onsekere land.” “‘n Wit Afrikaner-identiteit [het] vir sommige mense erg onfatsoenlik geraak” (224). Dink aan ‘n geval soos Anton van Niekerk. Blanke Afrikaners “verwys na ‘n klein minderheidsgroep wat sy eie kultuur en taal afsonderlik wil handhaaf in ‘n Afrika-land … Dit [is] te danke aan wilskrag, selfrespek en deursettingsvermoë,” asook harde werk (225). Spies dink dat 1994 “die einde van ‘n toekomsdroom vir ‘n Afrikanervolk” was (226). “Die Afrikanervolkstaat met eie organisasies, simbole en kerk was van meet af teen heersende wêreldtendense en ander binnelandse politieke strominge opgestel. Veral ook nadat dit geformaliseer is in die beleid van apartheid/afsonderlike ontwikkeling wat dit ten doel had om die volkstaat teen ‘n getalle-oorwig te beskerm” (226-227).
“Kan die Afrikaner-identiteit in die toekoms oorleef op slegs eienskappe soos diensbaarheid, taal en kulturele bande, etos en beginsels? Op die oomblik is dit te betwyfel, want dit sal beteken dat wit Afrikaners na ‘n ander soort Afrikanerskap moet strewe” (227). “Met ‘etos’ word bedoel die fundamentele sentimente wat die waardes, oortuigings, gebruike en praktyke in die samelewing bepaal en rig” (97). Weens veranderde omstandighede sedert 1994 moet ons as Afrikaners verander en/of die opset aanpas waaronder ons sonder ons toedoen beland het. Spies plaas myns insiens te veel klem op Afrikaner-verandering, bv dat Afrikanerskap inklusief, dus nie eksklusief blank nie, moet wees en dat Afrikaans op ‘n soortgelyke manier inklusief moet wees. Daarmee kan Afrikanerskap en Afrikaans uitgehol word tot verskynsels wat skaars as die ware jakob herkenbaar sou wees en nie die moeite werd sou wees om na te streef en voor op te offer nie. Die alternatief is om die huidige omstandighede met bv die Afrikaner se historiese kragdadigheid te verander sodat die lewe soos vóór 1990 weer leefbaar word. Dit is die strategie waaraan ek voorkeur gee.
Volgens Spies “is die ou Afrikanerkultuur saam met die Afrikaner se wit-identiteit … aan die verkrummel” (228). ‘n Ewewigtige balans moet glo gevind word tussen “enersyds die liefde, uitlewing en beskerming van ‘n eie [uitgeholde/afgewaterde?] identiteit en andersyds waardering en respek vir die insluitende identiteit van Suid-Afrikanerskap” (227-228). “‘n Mens sien [egter] eerder ‘n splitsing in Afrikanergeledere tussen diegene wat weerstand bied om ‘n afsonderlike identiteit te behou [die ware Afrikaners] en diegene wat alles van hulle identiteit weggegooi het en aangename, inskiklike mense geword het” (228), soos die hanskakies, hensoppers en kruipsugtiges.
“Taal is ‘n integrale element van kultuur … As jy ‘n taal doodmaak, dan sterf die kultuur daarmee saam” (228). ‘n Mens sou dink dat Spies, na aanleiding van wat hy hier bo oor geradbraakte Afrikaans geskryf het, sterk ten gunste van suiwer(der) Afrikaans, dus Afrikaans ontdaan van onnodige Engelse woorde, na vore sou tree. Maar dit is nie die geval nie. Dit is Afrikaners as blankes wat glo Afrikaans as ‘n “wit-taal” beskou, wat veroordeel word, terwyl hulle heel moontlik slegs hulle afkeer van veral die brouseltaal Kaaps geopenbaar het. “Terwyl wit Afrikaners besig is om al hierdie dinge met Afrikaans te pleeg [!], lééf ander Afrikaanssprekendes die taal soos hulle dit reeds vir byna vier eeue gedoen het” (229). In hierdie eienaardige eierdans gee Spies skynbaar voorkeur aan die “Afrikaans” van nie-blankes bo dié van blankes. Kaaps word spesifiek genoem (229). “Afrikaans het nog nooit in hierdie gemeenskappe stilgestaan en wag vir uitsprake van taalkundiges nie. Dit [Afrikaans] is nie vir hulle in ‘n akademiese hok vasgekeer nie, net ‘n immerwordende praktiese taal soos dinge wat hulle ervaar uitdrukking kry in woorde” (229-230).
Spies vra tereg: “Kan daar sonder ‘n land, sonder geloof, sonder ‘n taal, sonder ‘n kultuur, sonder grond, en sonder ras-identiteit nog so iets soos ‘n Afrikaner wees? Sal dit dan nie net ontheemde, nihilistiese, wit lywe van voormalige Afrikaners wees wat soos zombies in Suid-Afrika voortbestaan nie?” (232-233). Om so ‘n situasie te vermy, is ‘n “herontdekking van die betekenis van Afrikaner-wees” nodig (233). “Dit is wesenlik nie-rassig” (233). Dít is die kern van Spies se verdunning van Afrikanerskap; eintlik die doodbloei daarvan: “‘n Nuwe Afrikanerskap en ‘n Nuwe Afrikaanse identiteit … wat ras-ontkoppel is” (234). Sy ideaal is ‘n “ontwikkelende Suid-Afrikaanse samelewing waarin elke kultuur en taal nie onder die dominansie van ‘n ander kultuur en taal staan nie, omdat daar onderlinge respek, erkenning en begrip vir mekaar is” (234). Maar in die geval van Afrikanerkultuur en Afrikaans sal daardie saligheid klaarblyklik eers betree kan word nadat Afrikanerkultuur uitgehol en Afrikaans bv tot ‘n brouseltaal soos Kaaps getransformeer is. “Passiewe onderdaanskap en die afbreking van jou taal en kultuur is nie ‘n keuse vir eerbare mense met selfrespek nie” (238). Juistement. Spies moet blanke Afrikaners dus nie voor so ‘n skynkeuse probeer stel nie.
“Afrikanerskap kan net gehandhaaf word en gedy indien dit werklik betekenis vir almal in die land inhou, dit wil sê, ‘n bate is vir die Suid-Afrikaanse samelewing in sy geheel” (235). Maar dit is reeds sedert 1652 die geval, al word dit om politikeke redes nie deur die nie-blankes en hulle blanke meelopers erken nie. Die titel van Spies se boek is: Afskeid van ‘n volk: Op soek na ‘n toekoms. My verbintenis met die Afrikanervolk is ononderhandelbaar. Daar kan geen sprake wees dat ek daarvan afskeid gaan neem nie. Spies is op twee maniere op soek na ‘n toekoms: deur die omstandighede in die land te verander én deur die Afrikaner te verander. In hierdie proses wil hy die Afrikaner in so ‘n mate transformeer dat hy in ‘n te groot mate ont-Afrikaner word. Die prys vir (onbevredigende) oorlewing is te hoog.
Vir my is daar drie oorlewingsmoontlikhede. Die eerste is om te emigreer; om Afrika agter te laat. As ek alleen gaan, sal ek my Afrikanerskap en Afrikaanswees onverminderd behou. As my bestaande nageslag my vergesel, sal hulle ook hulle Afrikanerskap en Afrikaanswees behou, maar die middeljariges in groter mate as die jongeres. By my toekomstige geslagte sal hulle Afrikanerskap en Afrikaanswees egter toenemend uitgedoof wees.
Die tweede moontlikheid is om my vir ‘n Afrikanertuisland in Suid-Afrika of elders te beywer. Dit moet groter as ‘n posseël wees en ook aan baie ander vereistes voldoen, soos die Suid-Afrika van weleer aan daardie vereiste voldoen het. Hierdie problematiese onderwerp het ek reeds dikwels aangeroer (bv Praag 24.09.2016). ‘n Afrikanertuisland is ‘n moontlikheid wat Spies glad nie ernstig oorweeg nie.
Die derde moontlikheid is om, anders as Spies, eerder die land reg te trek as om die wese van Afrikanerskap en Afrikaanswees deur kastrasie te skend. Byvoorbeeld, as die eienaars hulle sake-onderneming verkwansel deur aandele daarin te verkoop, sorg hulle dikwels dat hulle beheer oor minstens 51% daarvan behou. Dit is die minimum resultaat wat die 1990/94-onderhandelinge vir die blankes moes opgelewer het. Die meerderheid blanke kiesers was bereid om die politieke mag te deel maar het vanselfsprekend begeer om in beheer te bly. Die onderhandelinge is uitermate verbrou. Die minimum waarop nou aangedring moet word, is dat die blankes (desnoods saam met die bruin mense en Asiërs) 50% van die politieke mag moet hê. Dit sal ‘n meer ewewigtige situasie skep, wat ‘n voorspoediger land tot gevolg kan hê. Nêrens verdoem Spies demokrasie in die vorm wat dit plaaslik aangeneem het nie. Een mens, een stem van gelyke waarde het chaotiese gevolge vir Suid-Afrika en gaan die voortgesette agteruitgang van die land verseker. Rassediskriminasie, gedwonge integrasie en tweedeklas-burgerskap in hulle huidige aggressiewe vorme moet verbode wees.
Van die kernveranderings wat aangebring moet word, is dat iedere etniese groep toegelaat én aangemoedig moet word om sy kultuur uit te lewe. Dit sal bv eie woongebiede en eie skole en universiteite tot gevolg hê, wat in 1992 plegtig deur FW de Klerk belowe is, maar waarvan niks tereg gekom het nie. Van owerheidsweë behoort ook alles moontlik gedoen te word om die voortbestaan van Afrikaans te bevorder. Sulke veranderings sal die nuwe Suid-Afrika meer leefbaar vir Afrikaners maak. Spies en andere kan nou aan my dieselfde vraag vra as wat ek aan hom gestel het: Hoe? Wat kan Afrikaners doen om Suid-Afrika reg te trek? Dit is natuurlik iets wat in 1990/94 gedoen moes gewees het. Dit is nou oneindig moeiliker om die situasie te verbeter omdat elemente wat geensins daarop geregtig was nie ‘n kwarteeu lank baie meer ontvang het as wat hulle verdien.
My kort antwoord is dat nagegaan moet word wat groepe wat veranderings in ‘n land begeer het, voorheen alles gedoen het om suksesvol te wees. In hierdie verband moet die geskiedenis van bv die ANC en ander kommunistiese groepe ook nagegaan word en noukeurig gelet word op wat hulle gedoen het om sukses te behaal. Wat die ANC homself tydens sy “bevrydingstryd” veroorloof het, kan Afrikaners hulle ook veroorloof, hoewel Afrikaners hulle in sommige opsigte daarvan sal weerhou om moreel so laag soos die ANC te daal. Uit daardie suksesvolle metodes en strategieë sal Afrikaners dus ‘n keuse moet maak en hulle waar nodig moet aanpas en met eie metodes en strategieë aanvul. Maar sodanige kennis sal niks oplewer sonder bekwame leierskap en sterk gemotiveerde volgelinge nie. Die huidige apatie sal plek moet maak vir die kragdadigheid wat so kenmerkend van Afrikaners was. Dít is die soort oudedoosheid wat moet herlewe. Dan sal die Afrikanerdom en Afrikaans ook kragtig en pragtig herlewe.
Jeremy Vearey (gebore in 1962) roem daarop dat hy ‘n MK-vegter (oftewel terroris) was wat tronkstraf op Robbeneiland uitgedien het. In ‘n normale samelewing sou sy misdadige verlede hom gediskwalifiseer het om enige hoë pos te beklee. Sedert 1994 word diesulkes egter as helde vereer en het sommige van hulle tot in die hoogste pos, dié van staatshoof, gevorder, met katastrofiese gevolge. ‘n Mens sou dink dat veral die polisiediens nie ‘n geskikte terrein vir die ontplooiing van oudmisdadigers is nie, maar dit is juis in die polisie waar Vearey deur die ANC-bewind in hoë poste aangestel is. Daar word blykbaar onder meer geredeneer dat diegene wat eerstehandse ondervinding van misdaad het, misdaad ten beste kan bestry. Dit kom neer op die mistasting dat ‘n blinde die geskikste persoon is om ‘n blinde te lei. Soos Samuel Johnson (1709-1784) dit gestel het: “Who drives fat oxen should himself be fat” (James Boswell, The life of Samuel Johnson, London: Everyman, 1992, vol 2, p 527).
Ek skryf na aanleiding van Vearey se boek, Jeremy vannie Elsies (Kaapstad: Tafelberg, 2018, 182p, R275; Amazon Kindle $23). Elsies verwys na Elsiesrivier, tradisioneel ‘n woonbuurt vir bruin mense in die Kaapstadse metropool. Daar word ook verwys na die naby geleë en eens blanke woonbuurt Tiervlei (deesdae Ravensmead) se Connaught-straat (Kindle 147), waar ek my eerste twee lewensjare in my ouers se huis gewoon het. In ‘n onlangse rubriek het ek na hierdie boek verwys toe ek vertel het hoe die Britse M16-geheimediens die lyfwagte van Nelson Mandela opgelei het en hulle daarna toegelaat is om openlik en ongehindered wapens, ammunisie en ander toerusting, wat in terreur gebruik kon word, die land in te smokkel (Praag 13.05.2018). Dit het in 1990 gebeur. Die vraag is dus in hoeverre daar reeds in hierdie vroeë stadium van grondwetlike onderhandelinge deur die blanke politieke bewind aan swart mag oorgegee is.
Die soort verkeerde (of slegte?) geselskap waarin die lesers van hierdie boek hulle bevind, blyk van die begin af uit die onkiese taal wat gebruik word, bv wanneer vertel word hoe Vearey as “sesjarige kaalvoet klonkie” (8) die duikweg vir blankes by Parow-stasie wou gebruik, deur ‘n blanke (polisieman) verhoed word om dit te doen en hierdie blanke deur Vearey se ma en medebruines uitgeskel word. “As jy hom nie nou los nie, steek ons jou vrek, jou fokken Boer!” (21). “Het djy gesien hoe haloepe daai fokken Boer! … Soek kak met ôs vandag en jhulle is amal witbene!” (26); dus die blankes, bv die Portugese vishandelaars wat die blanke (polisieman) wou help, word met die dood gedreig. Vearey se ma was later ook hardegat met die blanke bestuurder van die klerefabriek waarin sy gewerk het (52). Geen wonder dat sy mettertyd haar werk verloor het nie (341).
Soos by Jonathan Jansen word sulke beweerde insidente heel moontlik versin of ten minste aangedik. Blankes word deesdae ingeprent dat hulle hulle moet skaam oor (alles in) die verlede en veral apartheid. Die blanke (polisieman) “vaar benoud terug die donker duikweg in” (21). “Die Portugese draai om en kruip verslae terug na Station Fisheries” (26). Na hy uitgeskel is, “vou en prewel” die bestuurder van die klerefabriek “heel bedaard” (52). Die bedoeling is blykbaar om blankes van weleer as bang, skuldige mense voor te stel.
“Klonkie” is volgens die HAT ‘n rassistiese woord. Soos “kaalvoetklonkie” word “treinstasie” as twee woorde geskryf (12), ens. Onkiese Kaapse taal kom algemeen voor: kak (26, 47, 182, 196, 201, 239, 387, 1278, 1283, 1287), hol (332), poep (220), pis (120, 239, 1278), fok (220), fokken (21, 26, 391, 899), fokol (157), befok (239), knaters (414), ballas (682), moer (506, 682, 709, 1911), ens. Vearey verwys self na sy “platvloerse taalgebruik” (446). Hier volg nog ‘n moontlik aangedikte staaltjie ten koste van die (rassistiese) Afrikaners: “Ma [het] altyd gesê … dat hierdie skoene gemaak is met die bloed en sweet van ander ma’s wie vir baie min geld in fabrieke slaaf en waar hulle rondgeorder word deur Boerelaaities” (32). Die gebruik van “wie” pleks van “wat” is een van die irriterende kenmerke van hierdie publikasie, soos blyk uit sommige van die aanhalings wat hier onder volg. Afgesien van die swak taalgebruik is daar talle drukfoute. Die taalkundige en redaksionele versorging van hierdie teks laat veel te wense oor.
“Êrens in haar antwoorde kon ek optel dat daar so ‘n ding is soos ‘n werkersklas wat dubbel onderdruk word deur wit mense onder iets genoem apartheid en dat die unies, gelei deur shop stewards soos Ma, eendag in opstand sal kom en almal bevry” (62). Naas die Boere (die Afrikaanssprekende blankes) is daar die “Limeys” (die Engelssprekende blankes) (62), wat (omtrent) net so sleg is. “Die Limeys en die Boere [het] oor goud en diamante baklei … hulle het dit alles saam met die land geroof” (62). Later beweer Vearey dat die blankes “die land gesteel het” (2326). “Ma is seker een van daardie … shop stewards wat die onderdrukte [Jehova] Getuies in die fabriek gaan verlos van die bose Boere en Limeys en ‘n koninkryk van [kommunistiese] werkers in Suid-Afrika gaan bou” (90).
Vearey se pa sê oor ‘n woonbuurt vir bruin mense: “Daar [is] niks special aan hierdie skiem … nie, dis ‘n fancy dumping ground vir die government se weggooimense” (147). “Pa het my eendag vertel … hoe die Galant- en Vearey-families hulle djaart en huise probeer herbou het nadat hulle onderskeidelik deur die Boere uit Goodwood en Constantia gegooi is” (182). “Pa het my leer vuisslaan, messteek en bylkap” (213). “Ek [het] eendag met ‘n passer en vulpen my weg deur hulle [skoolkinders] gesteek” (492). Sy pa sê: “As djy dit kan help, moet djy nooit vir ‘n Boer of ‘n Limey gaan werk nie, want hulle vat net” (272). Boeta Frank voeg by: “Dié sleg goed hoef nie eens … rêrig te werk nie. Hulle witgeit is mos ‘n standerdtiensertifikaat en ‘n pay slip” (277).
Hierdie aanhalings gee ‘n aanduiding van die soort opvoeding wat Vearey tuis en in die woonbuurt ontvang het. “As jy my vandag vra vanwaar my politieke komvandaan, dan lê dit nie in die teorie van my formele, radikale bewuswording in die tagtigerjare nie. Dit is die groot gidse [sy ouers, familie en vriende] van Elsiesrivier se loopstories wat my deur my komvandaan gelei het” (162). “Hier was dit definitief Ma se werkersklas-vakbondpolitiek en my blootstelling aan Marxisme op hoërskool in die laat sewentigs” wat Vearey ideologies gevorm het (282). Een van Vearey se onderwyseresse was “lid van die Unity Movement se Teachers League of South Africa … en dié se Trotskisme [het] sterk aanklank by Ma se werkersuniepolitiek gevind” (295). Vearey verlustig hom skynbaar in die verwoesting van 1976 “toe Elsiesriver en Tiervlei se strate woes aan die brand is onder verlate busse en afleweringstrokke met gebreekte vensters terwyl polisie se Land Rovers en Ford-vangwaens tevergeefs die onskuldiges [!] probeer vastrek” (502).
“Die 1980-skoolboikot was my 1976” (605). Vearey het toe Marx en Engels se Communist Manifesto gelees (622), asook boeke deur bv Lenin, Trotsky en Fanon (636). Dit is “hier waar ‘n beduidende Marxisties en Afrikanistiese ideologiese inslag saam met my politieke gewaarwording ontkiem het” (641). “Onder al die klip- en petrolbomgooiery by die skool was dit die politieke inhoud van die alternatiewe leerplan, gesamentlik aangebied deur die leerlingraad en verligte leerkragte, wat by my die meeste aanklank gevind het. Hierin het ons ‘n alternatiewe geskiedenis van ons land en die stryd teen kolonialisme en apartheid geleer. Afrikaans se slawe- en inheemse wortels is beklemtoon en Engelse literatuur van Afrika gebore skrywers soos Peter Abrahams en Jimmy la Guma, en ander op die vasteland soos Chinua Achebe en Ngügï Wa Thiong’o is bo dié van Westerse skrywers bevorder om swart trots te koester. Dis in hierdie milieu van Black Consciousness waar ek geleer het van Steve Biko se ‘White racism and black consciousness’-manifes van 1972, van die Unity Movement en hul Declaration of Unity and The Ten Point Programme van 1943 en, tot in minder mate, van die ANC en van die Freedom Charter van 1955” (627). “Ek het my maar wat praktiese verset en politieke mode betref, by Black Consciousness-geledere geskaar. Daar kon ek ten minste my militante self op straat uitleef” (631).
Sport is verpolitiseer, soos wat tot op hede die geval is. “Die South African Council of Sport (SACOS) het die Zozan Skaakklub beheer … ook skool- en klubrugby. Die meeste SACOS-steeksbeheerliggame van sportkodes het ‘n beduidende Trotsky-georiënteerde, Marxistiese inslag gehad vanweë die leierskap se gevestigde Unity Movement-bande. Gevolglik was die engere Trotsky/Unity Movement-leuse wat non-collaboration met die system [met die “Herrenvolk” – 735, 877] gehuldig het, rigied toegepas met SACOS se slagspreuk ‘no normal sport in an abnormal society'” (718). Sedert 1994 lewe ons myns insiens in ‘n hoogs abnormale samelewing waarin sportspanne nie na verdienste nie maar op ‘n rigiede manier en deurslaggewend op grond van ras – ter benadeling van blankes – saamgestel word. Van die gewaande en beloofde “nie-rassigheid” (735) het nog niks tereg gekom nie.
Vearey is van huis uit ‘n Kaapsspreker, maar hy het (tipies) ‘n Engelsonderwyser geword (282). Later vertel hy hoe sy familielede in die nuwe Suid-Afrika verengels het en hulle kinders na Engelse skole stuur (2470). “Ek [het] die wêreld buite Elsiesrivier in suiwer Engels asook in Elsies-spreektaal verken” (290). Dus, anders as in die geval van Engels, kan daar maar met Afrikaans gemors word. Polities byderwets is dít wat deesdae sonder ‘n enkele prominente uitsondering deur Afrikaanstaal- en -letterkundiges en Afrikaansinstansies (soos die Afrikaanse Taalraad en die ATKV) gepredik word. Skynbaar sonder bedenkinge vertrou hulle die toekoms van Afrikaans toe aan die brouseltaal wat deur bruines gepraat word. Hulle gee klaarblyklik voorkeur aan kruipsugtige politiek bo taaloorwegings. Pleks van Standaardafrikaans word meertaligheid deur hierdie elemente bepleit, onder meer omdat Kaaps nie sonder kennis van Engels verstaan kan word nie. LitNet het ontpop as seker die sterkste pleitsbesorger vir Kaaps. Kaaps as geradbraakte Afrikaans funksioneer as uitdrukking van die dislojaliteit teenoor Afrikaners wat in bruin geledere gekoester word en dikwels ook as uittarting van Afrikaners wat ordentlike Afrikaans koester.
“Issie dieselfde Afrikaans vannie Boere nie. Ôs afrikaans is original” (506). “Ma … [het] gemeen … Afrikaans is deur die Boere van ons gesteel en in ‘n vreemde apartheidstaal verander om ons te forseer om die wêreld deur hulle woorde te verstaan en aanvaar. Sy het ons manier van [deurmekaar] Afrikaans en Engels praat as ‘n vorm van rebellie teen hierdie apartheidsafrikaans beskou” (511). En die horisonaal kruipende Afrikaanskundiges onderskryf hierdie houding en karakteriseer Afrikaans as ‘n kombuistaal eerder as om daaraan as ‘n studeerkamer- en voorkamertaal erkenning te gee. Die klem word doelbewus verskuif van die ontwikkeling, uitbouing, vestiging en amptelike en algemene erkenning van Afrikaans (wat feitlik uitsluitlik deur blankes vermag is) na die mistieke en spekulatiewe oorsprong van Afrikaans wat dan polities byderwets aan die Khoi-San en die slawe toegedig word.
Vearey skryf oor drank, dwelms, bendes, smokkelhandel en die “hipermacho geweld” (660) wat daarmee gepaard gegaan het, bv “buitengewone mesvaardigheid” (669) met “Puma-messe of switchbladespringmesse” (669), asook pangas of Okapi’s (665). Vearey was “veglustig” (674, 713), bv “alles het toe in ‘n bloedorgie van steekwonde met skryfpenne, gemoerde blou oë en ballasskoppe ontplof (682). Hy drink buitensporig baie en sit sy dranksug as student aan die Universiteit van Wes-Kaapland voort. Vearey noem homself ‘n “hedonistiese Marxis” (722). Hy het vir die Laer-sekondêre Onderwysdiploma geregistreer omdat hy nie matrikulasievrystelling het nie. Sy studie word moontlik gemaak deur ‘n staatsdiensbeurs. Sover ek weet, is hy die eerste (redelik) bekende bruin mens wat erken dat hy danksy ‘n studiebeurs van die Departement Kleurlingsake naskoolse onderrig ontvang het (691). Die ander bekende anti-blanke elemente in bruin geledere swyg soos die graf hieroor. Hulle verkies om geen erkenning aan die barmhartigheid van die “apartheidsregime” te gee nie, terwyl hierdie studiegeleenthede grootliks deur die blanke belastingbetalers moontlik gemaak is.
In die sosiologie-lesings maak Vearey kennis met die marxisme van die Frankfurt-skool (793). Professor David Atwell vereer en loof hom met 89% “vir my Marxistiese, literêre analise van Charles Dickens se Hard Times” (793). In die wysbegeerte-lesings word hy “intellektueel bekoor” deur die Franse marxiste (797). Hy maak kennis met Van der Poel, Malan en Malan se Afrikaanse 1937-vertaling van Marx en Engels se kommunistiese manifes (802). Dit het hom “tuiser laat voel … in die Marxisme” (797). Vearey maak ook kennis met Paulo Freire se radikale onderwysidees, waarop Russel Botman later as rektor van die Universiteit Stellenbosch sy Pedagogie van Hoop en sy HOOP-projek gegrondves het, sonder dat ‘n haan daaroor gekraai het. Besoeke aan die biblioteek van die South African Committee for Higher Education (SACHED) in Mowbray het Vearey se progressiewe ideologiese ingesteldheid verder gevoed (859).
Vearey was by die Elsies River Youth Movement (ERYM) betrokke waarin die Morawiese Kerk ‘n leidende rol in opstoking teen die blanke regering gespeel het (739). Sy betrokkenheid by hierdie kerkgenootskap “was nie noodwendig die gevolg van geloofsoortuiging nie” (765). “Dit is hier waar ek vir die eerste keer van vryheidsteologie [bevrydingsteologie] gehoor het” (770). “Alan Boesak [is] soms profeties uitgebeeld as ‘n hedendaagse Moses … wie die massas na die beloofde land van die Vryheidsmanifes sal lei” (774). “ERYM was van 1982 tot 1983 die bakermat van waar ek as voetsoolaktivis die breër stryd teen apartheid betree het” (752). In 1983 het Vearey die stigtingsvergadering van die United Democratic Front (UDF) in Mitchellsplein bygewoon (757). Sy militante ongeduld het hom in 1984 ontvanklik gemaak “om gewerf te word vir die MK, die militêre vleuel van die ANC” (757).
“Ek is deur Dawid Fortuin vir MK gewerf ná ‘n Morawiese jeugkamp op Clarkson in die Oos-Kaap” (815). Vearey is blykbaar in Suid-Afrika as MK-terroris opgelei: “Die klem vir ons [het] berus op die bou van MK as ‘n binnelandse people’s army en nie net ‘n struktuur wat in opleidingskampe in ballingskap bestaan nie. Selopleiding in stedelike guerrillavegkuns was dus grotendeels plaaslik en skietoefening met handwapens het in afgeleë, beboste gebiede geskied. Dit was nou behalwe AK47-aanvalsgewere, F1-handgranate, MPM- en SPM-kleefmyne en tuisgemaakte plofstof” (824).
Sy didaktiekdosent het tereg gesê dat Vearey “meer van ‘n aktivis as ‘n onderwyser is” (845). “Meneer Vearey die leerkrag … het reeds aanvaar dat die onderwys ook as dekmantel gaan dien vir sy ondergrondse, revolusionêre werk” (841). “Die onderwys was nie net vir my ‘n beroep en salaris nie, dit was ook ‘n middel tot ‘n revolusionêre doel” (908). “In Januarie 1985 betree ek my eerste onderwyspos by Valhalla Senior Sekondêre Skool in Elsiesrivier” (904). “In die tweede kwartaal word hierdie kritiese bewussyn die dryfveer vir ‘n klasboikot en militante versetaksies op straat onder die slagspreuk ‘liberation now, education later'” (913). “Dit dra by tot die onregeerbaarheid van die apartheidstaat” (917). “Ek word een van daardie geteikende onderwysers wie in die teenwoordigheid van ‘n gewapende melkbaardsoldaat en ‘n polisieman onder dwang moes klasgee” (936).
“Ek werf my eerste matriekkader by Valhalla Sekondêr wie verrassend handig met ‘n pistool is” (940). “As onderwyser ontgin ek ook nou my toegang tot die meer militante skoliere. Dit lewer straatprotes op … Ek was nog altyd sterk oortuig en is dit steeds dat dit die jeug se plig is om in opstand te kom in belang van hulle toekoms” (975). ‘n Blanke Engelse onderwyseres wat in Observatory gewoon het, het Vearey gehelp om “MK-wapentuig wat aan my toevertrou is te versteek” (958). “Binne geledere voel dit soms asof die ANC ons nie vinnig genoeg van wapens, ammunisie en plofstof voorsien nie. En waar dit kort, vul ons dit maar aan met tuisgemaakte plofstofkonkoksies, asook ammunisie uit die polisie en simpatieke kriminele geledere” (980).
Voor die einde van 1985, sy eerste jaar van klasgee, word Vearey as onderwyser geskors (984). In 1987 word hy toegelaat om in ‘n tydelike pos by West End Primêre Skool in Mitchellsplain skool te hou (1020). Na sewe maande word Vearey egter deur die veiligheidspolisie weens terrorisme gearresteer (931, 1043). Verhoorafwagtend in die Pollsmoor-tronk het hy ‘n mes om homself mee te beskerm (1099). Daar word darem op die ystersaaglemme beslag gelê nadat daar reeds met die afsaag van die tralies gevorder is (1215). Enige kos wat Vearey as gevangene verlang, kon uit die tronkkombuis na hom gesmokkel word (1181). Vearey word tot sewe jaar tronkstraf, waarvan vyf jaar opgeskort is, gevonnis en na Robbeneiland oorgeplaas (1247).
Op Robbeneiland skaar Vearey hom by die kommunistiese gevangenes (1310). “Daar is … vir my net een lyn: die ortodokse een van … Marx, Engels en Lenin wat altyd beduidende antwoorde vir onsekere tye bied” (1332). Die soort regering waarmee die ANC in 1994 begin het, is volgens die meningswisseling onder die gevangenes bloot ‘n “oorgangstaat” totdat die Nasionale Demokratiese Revolusie voltrek word (1345) – ‘n mening wat ook deur John Kane-Berman gehuldig word (Praag 23.06.2017). Die ANC sou grondwetlike onderhandelings aanknoop maar (ten spyte van valse beloftes) terselfdertyd die gewapende stryd voortsit: “Wat MK en die gewapende stryd betref, beklemtoon die Harare-deklarasie [1989] dat onderhandeling met die regering nie die teenpool van die gewapende stryd is nie; beide was buitendien altyd as taktiek en nie as doelwitte beskou nie” (1354). Op Robbeneiland was daar ‘n “gemaklike verhouding tussen ANC- en die PAC-kaders” (1314).
Die gevangenes op Robbeneiland het FW de Klerk se berugte toespraak op 2 Februarie 1990 op televisie gevolg (1433); ook die vrylating en toespraak van Nelson Mandela op 11 Februarie 1990 (1442). Op 9 Junie 1990 word Vearey en ander Robbeneilanders vrygelaat (1515). Hulle ontvang toe geld van die International Defense Aid Fund en gratis genees- en sielkundige dienste van “‘n netwerk mediese aktiviste” (1555). Die ANC-aktivis Jakes Gerwel het hulle as rektor hartlik by die Universiteit van Wes-Kaapland verwelkom (1605). Dieselfde is deur die Morawiese Kerk in Elsiesrivier gedoen. Daar is “gepas [!] van ons gepreek as Gideon se geseënde krygers vir geregtigheid wie onstuitbaar voort sal veg om die onderdruktes finaal van die bose magte van apartheid te verlos” (1609). Vearey begin dadelik met die werwing en organisering van lede vir die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (1613). Hy word ‘n lid van die ANC se Departement van Intelligensie en Sekuriteit (DIS) en toegerus met ‘n pistool en AK47-geweer (1627). In 1990 ontvang hy lyfwagopleiding in Zimbabwe, aangebied deur die Britse M16-geheimediens (1631). By sy terugkeer word hierdie Britse instrukteurs toegelaat om openlik en ongehinderd wapens en ammunisie die land in te bring (1640 – Praag 13.05.2018). In 1993 ondergaan Vearey verdere opleiding in Portsmouth, Engeland (1737) en in 1994 in Zimbabwe (1747).
Dit was gewoon dwaas van die NP-regering om die funksionering van die terroristiese UDF as binnelandse vleuel van die ANC toe te laat: In 1990 word daar “meer programmaties besin oor die leidende rol van die UDF op voetsoolvlak, as oorgangsvoorhoede om die momentum van massamobilisasie vir die laaste, deurslaggewende offensief teen die vyand te rig. Hierdie offensief sou dan as werwingsbron ontgin word om die ANC se binnelandse infrastruktuur uit te bou en sodoende ook die mag van die nou herbevestigde, sigbare ANC as hernieude bogrondse voorhoede ten toon te stel” (1461). Vearey verwys na die “politieke geweld tussen Inkatha en die ANC, georkestreer deur die veiligheidsmagte” (1831), met laasgenoemde as die duiwelse derde mag. Dit is grootliks ‘n valse aantyging omdat dit bekend is dat die ANC in 1990/94 onverminderd voortgegaan het om sy politieke teenstanders sover moontlik gewelddadig uit te wis.
In 1992 het Vearey as lid van die ANC se intelligensiediens Kanada besoek. “In Ottawa het ek vir die eerste keer van die begrip gemeenskapspolisiëring gehoor” (1902). “‘n Trotse ‘aboriginal’-amptenaar [het] ewe gemaklik aan my verduidelik dat die ‘aboriginal Indian reservations’ elk hulle eie polisiemag het en dat lede daar uit die spesifieke stam gewerf word, kultuurbelynde polisieopleiding ontvang en dan daar ontplooi word. Volgens hom verseker dit dat stamme die beste diens in hul eie taal, en in lyn met hulle unieke kultuur en stamtradisies, ontvang van beamptes wie beter daar aard. Behalwe dat dit vir my te veel na apartheid se tuislandpolisiemagte gelyk het, was dit die growwe veralgemening dat inheemse beamptes beter in daardie posisies sou aard wat my veral ontgogel het” (1911). Waar ek woon, was daar tradisioneel net blankes en bruin mense. Die polisiestasie het sedert 1994 ontaard in ‘n plek waar daar net (onbekwame) swart beamptes is wat skynbaar net Engels wil verstaan. Die tradisionele inwoners het geen vertroue in hulle nie. Die genoemde Kanadese en die apartheidsopset was vir ons as plaaslike inwoners baie meer aanvaarbaar, maar nie vir Vearey as ANC-aktivis nie.
“Die alledaagse normaliteit [!] van lewe in die Nuwe Suid-Afrika van 1994 vang my heeltemal onkant.* Ek is nou ‘n gewone staatsamptenaar op die nuwe Nasionale Intelligensiediensagentskap (NIA) se betaalstaat” (2042). In 1995 word hy na die polisiediens oorgeplaas (2050). Oud-MK’s soos Vearey word deur die ander (behoorlik opgeleide) polisielede uitgekryt omdat hulle voorkeur by bevordering geniet. “Die onbekaamde rassisme van die onversoenbares kon ek nog hanteer omdat hulle ten minste eerlik hieroor was en jy ten minste wis waar jy met hulle staan. Maar hierdie versluierde skynheiligheid van dié wie saam met die wolwe sowel as die hase gehardloop en nou wil voorgee dat hulle ons altyd in die gees ondersteun het, ontroer diep” (2085). “In 1996 … doen ek ‘n speuderskursus vir spesialiseenhede by die polisiekollege in Paarl … Dis my eerste kursus in die nuwe SAPD” (2203). Daarmee bevestig Vearey eintlik dat hy in ‘n (hoë) pos in die polisiediens op grond van sy MK-“status” aangestel is, sonder dat hy die nodige opleiding in polisiëring ondergaan het. Die kursusse in polisiëring wat in die Paarl aangebied word, is “alles in Engels” (2212). Dit toon hoe radikaal die polisiediens, wat tydens die blanke bewind oorwegend Afrikaans was, deur die ANC-regering getransformeer is. In die boek Menseregte vir die polisie beweer die (kruipsugtige Afrikaanse) outeurs, Francisca Nel en Jan Bezuidenhout, dat die polisiediens tot 1994 “‘n tipiese koloniale polisiemag” was (2224).
[* Dit laat my dink aan Arno Gruen se boek, The insanity of normality: Toward understanding human destructiveness (Berkeley: Human Development Books, 1992/2007). Volgens Gruen, ‘n sielkundige, voed selfhaat mense se gewelds- en vernietigingsdrange. Hierdie haat kan uiteraard op ander mense gerig word. Geweld en vernietiging is (histories) inherent aan die ANC, gevolglik kan daar kwalik van hom verwag word om ‘n normale samelewing tot stand te bring.]
Helen Zille het in haar outobiografie die aandag gevestig op hoe die polisie deesdae ANC-politiek openlik bevorder en die bedrywighede van die opposisie doelbewus belemmer (Praag 13.05.2017). As polisiebeampte is Vearey deel hiervan: “Bendegeweld op die Kaapse Vlakte en bande tussen bendeleiers en plaaslike politikusse en lede van gevestigde politieke partye pla, veral [!] in gebiede waar bendelede ANC-aktiviste doelbewus teister en ANC-verkiesingswerk belemmer” (1951).
Vearey skryf oor die Shoprite-bomontploffing in Worcester in 1996 waarby ‘n blanke bomplanter betrokke was (2229). Hy swyg egter oor die talle soortgelyke dade en erger wat deur die UDF/ANC gepleeg is. Hy lys ook nie die terreurdade waarby hy betrokke was en op grond waarvan hy tronkstraf uitgedien het nie. Wanneer Vearey oor sy lewenswyse in die jare tagtig tot 1994 besin, dink hy dat sy “keuses en dade geregverdig was” (2036). “Ek bly ‘n onvoltooide tapisserie waarin die goed, die sleg en die grys ewewigtig [!] in my wording saamgevleg is” (2494).
In my jongste rubriek toon ek aan hoe buitelandse (veral Westerse) inmenging die feitlik volledige Islamisering van Kosovo veroorsaak het, met die gepaardgaande ondergang van die Milosevic-bewind en die benadeling van die belange van die ortodoks-christelike Serwiërs. Die vraag wat ek daar in die midde lê, is of iets soortgelyks in 1990/94 in Suid-Afrika gebeur het, dus die ondergang van die blanke politieke bewind en die grootskaalse benadeling van die belange van blankes weens buitelandse (veral Westerse) inmenging. (Ek wou hierdie teks aanvanklik as ‘n reaksie op my rubriek publiseer, maar ag dit van soveel belang dat ek gevra het dat dit liewer onder ‘n eie opskrif gepubliseer behoort te word.)
In die Kosovo-geval was inmenging deur die Amerikaanse regering, veral dié van die oorlogsugtige derduiwel Madeleine Albright, van deurslaggewende aard. In die geval van Suid-Afrika kom hierdie twyfelagtige eer die Britse regering toe. “Robin Renwick roem daarop dat Brittanje, wat buitelandse regerings betref, die hoofrol in die myns insiens skandalige plaaslike revolusie gespeel het (Kindle 45). ‘Great admirer as I am of George Bush senior, he did not make anything like as strenuous an effort as Thatcher did to bombard [!] the South African government with demands for reform and the release of Mandela’ (1461)” (Praag 28.10.2017 – vir meer inligting oor Renwick: Praag 6.05.2018).
In die geval van Kosovo het die Amerikaanse en Britse regerings, afgesien van NAVO-lugaanvalle, wapens en opleiding aan die Moslem-terroriste verskaf. Renwick skryf: “Ná sy vrylating Mandela ‘needed some practical help from us. Not wanting to rely for his security only on the South African police, he asked us to provide training for his personal bodyguards, which we arranged for the SAS [British Special Air Service] to do’ (Kindle 1833)” (Praag 28.10.2017). ‘n Oud-MK-terroris en kommunis, Jeremy Vearey, wat sedertdien deur die ANC ryklik met hoë poste in die polisiemag beloon is, het pas ‘n boek gepubliseer wat interessante lig op hierdie SAS-opleiding werp: Jeremy vannie Elsies (Kaapstad: Tafelberg, 2018, R275; Amazon Kindle $23).
Toe Brittanje tussen Afrikaner-Suid-Afrika en die Sowjet-geïnspireerde ANC moes kies, het sy die ANC gekies.
Vearey is in 1990 danksy die goedertierenheid van FW de Klerk uit die Robbeneiland-gevangenis vrygelaat. Hy het ‘n lid van Nelson Mandela se persoonlike lyfwag geword, in diens van die ANC se Departement van Intelligensie en Sekuriteit (DIS). “My salaris sal direk deur die World University Service … betaal word … Ek word gepas toegerus met ‘n arsenaal op nabye bystand met ‘n Makarov-pistool [en] ‘n AK47-aanvalsgeweer” (Kindle 1627). “In November 1990 word ek … deur die ANC se DIS opgeroep om lyfwagopleiding onder die Britse Special Air Service (SAS) te doen” (1631). “Die opleiding begin in alle erns ‘n maand later in Zimbabwe … buite Harare” (1636).
“Net voor Kersfees [1990] sypel ons en ons Britse instrukteurs Suid-Afrika per Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) binne en saam met ons ‘n arsenaal persoonlike FN Browning-9mm-pistole, Heckler & Koch se MP5-outomatiese masjiengewere, bokse ammunisie en ander toerusting. Dis ‘n angstige eerste vir my in baie opsigte. Nie net vlieg ek nou met ‘n Suid-Afrikaanse paspoort – sonder ‘n benul hoe die ANC dit bekom het – nie, maar die vlugte heen en weer is my eerste ooit. En dit met ‘n arsenaal wapens. Die SAS-soldate blyk geen probleme te hê om daarmee deur die doeane in albei lande te beweeg nie. Hoe word dit deur die ANC en Britse regering in die onsekere politieke klimaat van 1990 onder ‘n steeds vyandiggesinde apartheidsveiligheidsmag vermag? (1640). “Met ons aankoms by die destydse Jan Smuts-lughawe in Johannesburg wag daar geen Veiligheidspolisielede om ons te visenteer of ondervra nie. Inteendeel, ek kom agter dat die Britte onverstoord met die hulp van hul diplomatiese status saam met ons beweeg” (1645).
Daardie aand het hierdie Mandela-lyfwagte in die Hotel Sandton Sun “gegradueer” met Mandela wat die swierige onthaal bywoon – klaarblyklik deur die Britse regering betaal. Mandela se “onthullings oor ons Britse gashere in sy toespraak beantwoord al my kwelvrae toe hy hulle as lede van hul land se geheimediens M16 bedank vir ons opleiding. Hy meld dat dit die gevolg was van ‘n onlangse ooreenkoms met eerste minister Margaret Thatcher gedurende sy eerste besoek aan Brittanje en dat dit op haar aandrang* geskied het. Hy beklemtoon dat dit die begin van vele ander geleenthede vir intelligensieopleiding deur M16 is” (1658). In 1993 het Vearey verdere opleiding deur M16 in Portsmouth in Brittanje ondergaan (1663, 1737). [* Mandela en/of Vearey lieg waarskynlik hier. Ek is geneig om eerder vir Renwick te glo, dus dat die Britse opleiding van sy lyfwagte op Mandela se versoek was (kyk hierbo).]
Dit is bekend dat FW de Klerk hom van sy voorganger, PW Botha, wou onderskei deur nie sekuriteitsbewus te wees nie. Dit het ANC-terroriste met hulle wapens in staat gestel om in 1990/94 op groot skaal die land binne te sypel. Heel moontlik vandaar De Klerk se kompliment aan homself dat hy deur sy mandaatlose magsoorgawe aan die ANC ‘n burgeroorlog verhoed het. Wat uit Vearey se boek afgelei kan word, is dat De Klerk reeds in 1990 in groot mate aan die ANC en Britse druk toegegee het en toegelaat het dat hulle met wapens en al vryelik die land binnekom. Die wapens wat na sy vrylating in 1990 aan Vearey uitgereik is, toon dat die De Klerk-regering aan die bewapening van ANC-lede meegewerk het. Vearey noem dat hulle almal “wettige vuurwapenlisensies” gehad het (1857). Sekerlik ook wettige paspoorte wat deur die ANC verskaf is (1645). De Klerk het die blanke kiesers jammerlik gefaal. Hoe is dit moontlik dat hy hulle steeds in die oë kan kyk?