Leon Lemmer: Robin Renwick versober ietwat oor Suid-Afrika

Robin Renwick en Julius Malema

Robin Renwick (gebore in 1937) was die Britse regeringsverteenwoordiger in Rhodesië (1978-1980) toe die politieke mag van die blanke bewind na swart terreurgroepe oorgegaan het. Hierna was Renwick die Britse ambassadeur in Suid-Afrika (1987-1991), dus toe dieselfde situasie besig was om plaaslik te ontvou. Hy was ‘n lid van die Britse Arbeidersparty en het ampshalwe alles moontlik gedoen om die belange van swartes te bevorder en dié van blankes te benadeel. Ek het voorheen sy boek, Mission to South Africa: Diary of a revolution (2015), bespreek en genoem dat dit moeilik is “om ‘n bedrywiger en lastiger diplomatieke gatvlieg as Renwick voor te stel” (Praag 28.10.2017).* Getrou aan hierdie karakterisering is hy terug met nog ‘n boek oor Suid-Afrika, How to steal a country: State capture and hopes for the future in South Africa (Auckland Park: Jacana, 2018, 232p, R260; Amazon Kindle $21,84).

[* “Renwick behaved very much like an old British governor-general and was often referred to as the extra member of the South African cabinet” (RW Johnson, How long will South Africa survive? Jeppestown: Jonathan Ball, 2015, 266p; Amazon Kindle $16.55, 527). Willie Esterhuyse het Renwick se propaganda deurgaans vir soetkoek opgeëet: Eindstryd (Kaapstad: Tafelberg, 2012, 367p – gebruik die indeks; Amazon Kindle $23,96). Niël Barnard skryf: “Later wou die hele wêreld skynbaar vir ons raad gee, sommige partye seker met goeie bedoelings. Die poging van die Britse ambassadeur in Suid-Afrika, sir Robin Renwick, en deur hom van die Britse premier, Margaret Thatcher, om by die proses betrokke te raak, is van die beste – of moet ‘n mens sê swakste? – voorbeelde” (Geheime revolusie, Kaapstad: Tafelberg, 2015, 289p, p 170).]

In 2013 het Renwick ‘n boek oor Helen Suzman gepubliseer. “When I left [South Africa], Wits University, on the proposal of Helen Suzman, was kind enough to award me an honorary degree ‘for services to the struggle against apartheid'” (2015-boek, Kindle 2585). In dieselfde boek het hy oor Nelson Mandela geskryf: “My admiration for him was second to no one’s … the great man” (45). In sy jongste boek is daar ‘n afbeelding van die vredesikoon Mandela met sy gebalde vuis op die voorkant van die boek, asook op die rug- en agterkant. Renwick verwys twee keer na Peter Hain, die anti-apartheidsaktivis wat sy jeug in Suid-Afrika deurgebring het en destyds Suid-Afrika se internasionale rugby- en krieketwedstryde in Engeland ontwrig het. In die jongste tyd bemoei Hain hom met staatskaping in Suid-Afrika (p 61, 136). Ek verkies dat sowel Renwick as Hain hulle tydens hulle aftrede liewer met ‘n ander stokperdjie as Suid-Afrika besig hou. Albei woon knus in Engeland en hoef dus nie daagliks die afgryslike werklikheid van die nuwe Suid-Afrika eerstehands te ervaar nie.

Renwick is goed ingelig oor ons plaaslike omstandighede. Wat egter opval, is dat hy uitsluitlik bronne in Engels gebruik terwyl hy destyds beweer het dat hy Afrikaans geleer het omdat hy Afrikaners se verset teen ‘n swart bewind wou afbreek. Wat irriteer, is dat hy nie dink dat hy verkeerd kan wees nie. Tydens sy ambassadeurskap het sy bemoeisiekheid geen grense geken nie. Hy skryf bv: “The Chief Justice under FW de Klerk, Cambridge-educated Michael Corbett, was a wise and humane person. In the case of the disappearance and murder of Stompie Moeketsi, I had to warn him that, even though he was fast losing his illusions about Winnie, Nelson Mandela would be unable to cope with his wife, whose conduct he blamed on his 27-year absence, being sent to jail. The Chief Justice spared Winnie Mandela a jail sentence, even though the evidence pointed towards it. On his retirement in 1996, Nelson Mandela paid tribute to his ‘passion for justice'” (185-186). Hier het ons klaarblyklik met ‘n rotnes te make. Renwick behoort van inmenging in die regspleging en regsverydeling aangekla te word.

Ná iemand se dood kan allerhande staaltjies opgedis word. Renwick skryf dat Nelson Mandela hierdie myns insiens twyfelagtige kompliment aan hom gegee het: “You think like us” (ix-x, 5). Hy beweer “Mandela, in my experience, was genuinely colour blind” (xi, ook 2). Ter stawing hiervan verwys hy na Mandela se (valse) stelling tydens sy verhoor dat hy teen swart oorheersing gekant is (xi, 160). Dit is gewoon ‘n leuen want dieselfde Mandela was tydens die grondwetlike onderhandelinge asook daarna sterk ten gunste van verswelgende swart mag en geen groepregte (insluitende vetoreg) of tuislande vir blankes nie. Mandela word bykans van kwaaddoen kwytgeskel: “Concerned to avoid civilian casualties, Mandela’s activities consisted of an (unsuccessful) attempt to blow up some electricity pylons” (160).

In werklikheid wou Mandela die blanke bewind omverwerp: “What he was really up to during those days: plotting a revolution and launching an underground army … the terrorist campaign that he himself initiated” (David James Smith, Young Mandela, London: Weidenfeld & Nicolson, 2010, p 2). Renwick het lof vir MK, al het sy terreurbendes geen noemenswaardige sukses behaal nie: “Many MK recruits displayed no lack of courage … The great achievement of the ANC in exile was not on the battlefield, but in mobilising international support” (163). Janet Cherry skryf: “In military terms MK has to be judged one of the least effective armies in modern history” (Umkhonto weSizwe, Auckland Park: Jacana, 2011, p 141). Desnieteenstaande moet die belastingbetalers sedert 1994 reuse bedrae vir hierdie “oudstryders”, waarvan die meeste blykbaar nooit in ‘n geveg betrokke was nie, opdok.

Jacob Zuma word soos volg deur Renwick aangehaal: “I argued with someone who said that the country comes first and I said as much as I understand that, I think my organisation, the ANC, comes first” (xiii). Wat Renwick nie noem nie is dat Mandela by die aanvang van sy laaste jaar as president gesê het dat hy die res van sy ampstermyn ter bevordering van die ANC se belange wil gebruik (eerder misbruik). Eintlik het al die staatshoofde sedert 1994 die belange van die ANC bo dié van die land gestel. “The ANC … had embrased wholeheartedly the Communist doctrine of the supremacy of the party over the institutions of the country” (167). Die kernprobleem is dat die staatshoof deur die meerderheidsparty benoem word en nie (soos in bv Amerika) deur die kiesers verkies word nie.

Renwick haal soos volg aan uit George Orwell se Animal farm (Praag 4.06.2016): “All animals are equal … [but] some are more equal than others” (xiv). Hy kom egter nie met die voor die hand liggende gevolgtrekking dat swartes in die nuwe Suid-Afrika meer regte en dus bevoordeling as ander groepe geniet nie. Hy loof eerder Mandela se “determination to redress the injustices of the past [and] to engineer a redistribution of wealth” (2). Mandela “was, in fact, the craftiest political operator I ever encountered” (3). In werklikheid het Mandela gewoon nie die vermoë gehad om die land te regeer nie. “Mandela, said Mbeki, paid no attention to the actual business of government” (7). Dit bevestig wat ek onlangs geskryf het: “My indruk is dat Mandela ‘n hopelose skepsel was wat glad nie in staat was om die land te regeer nie” (Praag 14.04.2018).

In baie gevalle herhaal Renwick bloot gewilde retoriek, bv: “FW de Klerk … had shown the political courage and wisdom to take the actions necessary to break the cycle of ever greater political violence and conjure away the spectre of civil war” (1). Let op Renwick se kenmerkende trant in die volgende: “But it was Mandela who, threreafter, became the most admired leader on the planet, and utterly deservedly so, given the magnanimity he displayed towards those who had imprisoned him for twenty-seven years, his lack of bitterness, determination to embrace his former enemies, genuine colour blindness and insistence that the new South Africa should be inclusive and not subject to divisions on racial lines” (2). In werklikheid is die ANC-regering se beleid deurgaans gebaseer op dieselfde rasverdeling as tydens apartheid, maar die voorkeurorde het soos volg verander: swart, bruin, Asiaat, blank.

Dit is duidelik dat Renwick sy boek veral met die oog op buitelandse lesers geskryf het. Baie van die inligting is oorbekend in Suid-Afrika. Oor staatskaping bied hy ‘n duideliker perspektief as Jacques Pauw omdat hy naas die haastig geskryfde The president’s keepers (Praag 11.11.2017) ook kennis geneem het van ander ter saaklike boeke, soos Ronnie Kasrils se A simple man (Praag 18.11.2017). Renwick beskou die Zuma-bewind as nie so sleg soos die apartheidsregime nie: “The important difference [is] that they no longer were engaged in murdering their opponents” (141). Die opset van Renwick se boek is veel wyer as staatskaping en inligting is tot vroeg in 2018 bygewerk.

Cyril Ramaphosa se voorneme om as president owerheidsdiefstal sonder vergoeding met blankes se eiendom te pleeg en dit aan swartes te gee, of die blankes daarvan hou of nie, is nie nuut nie. Dit is deel van ‘n breër anti-blanke strategie wat ver teruggaan; eintlik minstens tot by die nasionaliseringsideale wat in die Vryheidsmanifes (1955) uitgespreek is. Van Ramaphosa as visepresident word gesê: “The speeches he made in his new incarnation were forcefully about the need to press ahead with ‘transformation’, with South African businesses in future to be managed and owned by black South Africans (‘and those who don’t like this, tough for you!’)” (43). Daar is ‘n militante rasbevooroordeeldheid jeens blankes by Ramaphosa, terwyl baie blankes (aanvanklik) so dwaas was om die vervanging van Zuma deur Ramaphosa te verwelkom. Ramaphosa het binne dae na aanvaarding van die presidentskap en sedertdien duidelik getoon dat hy beoog om doeltreffender anti-blank as sy ANC-voorgangers te wees. Renwick se mening is: “It is extremely difficult to dislike Cyril Ramaphosa” (193).

Die vorige openbare beskermer, Thuli Madonsela, “said of [some] appointments that Zuma had captured and repurposed agencies such as the National Prosecuting Authority, the Hawks, the State Security Agency and the South African Revenue Service ‘seemingly to protect him, his family, the Guptas and other associates'” (68). Besware teen staatskaping het mettertyd van enkele kabinetsministers opgeklink, bv Blade Nzimande “denounced the ‘parasitic’ activities of the Guptas” (102). Maar sommige van hierdie ministers se rekord was nie skoon wat betref bv die aanskaffing van luukse voertuie nie. “One of the worst offenders having been the head of the South African Communist Party, Blade Nzimande” (68). Naas Madonsela het Renwick sy boek aan Pravin Gordhan opgedra (v). Gordhan se ideaal is “to uphold the values of Nelson Mandela” (80). Die morele bankrotskap van die ANC blyk duidelik uit Gwende Mantashe, tot onlangs die sekretaris-generaal van die ANC, se herhaalde uitsprake “that there was no question of voting with one’s conscience in the ANC” (114), “ANC members were not supposed to have consciences, but to act as disciplined party cadres” (131) en “I don’t know where this notion comes from that we are a collection of individuals who have consciences” (172).

Voordat Gordhan as minister aangestel is, was hy die uitvoerende hoof van die inkomstediens (1990-2009). By sy aanstelling het hierdie apteker en kommunis gesê hy weet nie eens wat inkomstebelasting is nie. Tydens apartheid het nie-wittes die betaling van owerheidsbelasting sover moontlik ontduik maar terselfdertyd op dieselfde behandeling as blankes aangedring. Deesdae word sonder meer van blankes verwag om al hulle verpligtinge teenoor die staat na te kom al word hulle van owerheidsweë slegter as die ander rasgroepe behandel en het hulle eintlik geen effektiewe inspraak in die regering nie.

“The politically incorrect Helen Zille, at the end of a visit to Singapore, proceeded to emit a factually accurate but politically unwise and provocative tweet that colonialism had brought some benefits, such as infrastructure and an independent judiciary” (145-146). Dit is onwaarskynlik dat Zille bedoel het om met haar uitlating uitlokkend te wees. Renwick kies deurgaans kant vir die swartes, selfs wanneer hulle die waarheid oor bv kolonialisme buig sodat hulle politiek en vooroordele gedien word. “Instead of reprimanding her and urging her to get on with her day job of governing the Western Cape, the [DA] leadership instituted protracted ‘disciplinary proceedings’ against her” (146).

“The DA has played a positive role in South African politics since apartheid, based on support for the constitution and the rule of law. It has avoided the arrogance of power of the ANC, its leaders typically travelling economy class. With good access to very competent legal advice, it has proved very effective at holding the government to account through legal challenges, with victories in several high-profile cases, including the reinstatement of the corruption charges against President Zuma” (148). Maar ‘n mens wag tevergeefs daarop dat die DA daadwerklik vir Afrikaners en Afrikaans in die bres tree. Die DA is primêr op die verwerwing van meerderheidsteun ingestel, dus om die guns van swart kiesers te wen.

Renwick is polities uiters links. In sowel Zimbabwe as Suid-Afrika het daar volgens hom net ‘n ietsie skeefgeloop. Hy glo dat die groep mense aan wie die politieke beheer oorhandig is, bekwaam genoeg is om alles wat verkeerd is, reg te maak. Dit kom nie by hom op dat die grondslag waarop hierdie lande deesdae funksioneer – algemene, gelyke stemreg vir bv oningeligtes, ongeletterdes en maklik intimideerbares in ‘n eenheidstaat – ‘n resep vir rampspoed is nie. Die mate van versobering wat by Renwick ingetree het, neem die vorm aan dat hy darem erken dat sedert onafhanklikheid alles nie wel is nie. Nelson Mandela bly egter wonderlik. Renwick dink dat die land met Mandela as staatshoof beter as tans daaraan toe was. Maar dit geld ook vir Zimbabwe in die eerste jare ná politieke onafhanklikheid. Selfs die bekwaamste brekers kan nie dadelik alles vernietig wat tydens die blanke bewind opgebou is nie.

Daar is ‘n beperkte getal negatiewe opmerkings oor die ANC in die boek, bv MK, die terreurvleuel van die ANC, “had ended up killing more civilians than agents of the regime” (xv). Die ANC-regering het ‘n visum aan die Dalai Lama geweier, “kowtowing to China” (xvi). Soos tydens apartheid is die SABC tans weer “a mouthpiece of the government” (11). “The country suffered from one of the highest violent crime rates in the world … Johannesburg had claimed the title of murder capital of the world” (13). “The murder rate … currently is back up to nearly fifty a day and South Africa remains near the top of the list for violence against women as well” (14). Geen aanduiding word gegee van die bevolkingsgroep(e) waarin hierdie misdadigers by uitstek aangetref word nie. “Mbeki … was appearing to see virtually everything in racial terms” (17). Van Mbeki se Afrika-renaissance word deesdae nie meer gehoor nie. Niks het daarvan tereg gekom nie, maar Renwick swyg hieroor.

Renwick erken dat daar met die Zimbabwiese verkiesings in 2002 en 2008 gekonkel is. “Mugabe was able to ‘win’ the 2008 election in Zimbabwe only by printing an extra half-million votes” (158). As gevolg hiervan sit Suid-Afrika nou met “4 million refugees” (21). Renwick skryf dit toe aan “the failure of South Africa to stand up for human rights in Zimbabwe” (21). In Suid-Afrika is elektrisiteitsvoorsiening uitgebrei “though frequently not … securing payment for it” (23). Blankes, bruines en Indiërs, by wie tydens die blanke bewind ‘n kultuur van betaling gekweek is, moet opdok vir die ANC-geïnspireerde kultuur van nie-betaling by swartes, maar Renwick verwys uiteraard nie hierna nie. Hy noem wel: “Annual double-digit increases in electricity prices, which have trebled in real tems over the past decade” (151). Twee endemiese kernprobleme van die nuwe Suid-Afrika word genoem: “When … I expressed concern to a senior member of the ANC about corruption, I was told that there was a worse problem than corruption. When I asked what this was, I was told: ‘Competence'” (27). Renwick verdoem egter glad nie onbekwaamheid en die res van regstellende aksie nie, nóg in die algemeen nóg in beginsel.

Hy verwys na Jacob Zuma se “extreme financial recklessness” (34) maar doen dan dieselfde as ander oorverligtes deur Zuma as individu te verkwalik eerder as die ANC as ‘n instansie wat in sonde ontvang en gebore is. Tydens die ANC-bewind het die land se ekonomiese groeikoers teen 2016 tot 0,3% gedaal (106). “Bell Pottinger had engaged quite successfully in an attempt to deflect criticism of Zuma and the Guptas in a campaign to blame the country’s ills on the whites, specifically ‘white monopoly capital'” (118). Bell Pottinger was ‘n Britse maatskappy wat bemarkings- en skakelwerk gedoen het maar weens die onetiese gedrag van sy amptenare in Suid-Afrika bankrot gegaan het. In die Zuma-era het tenderaars al hoe meer tot die gevolgtrekking gekom dat hulle vir hulle voorleggings Gupta-goedkeuring moet kry as hulle sukses wil behaal: “A number of multinational companies had concluded that they were unlikely to be able to win government-related contracts in South Africa without an association with the Guptas” (122). Die Guptas het die status verwerf van “the people who can open the taps” (124), maar dit is teen aansienlike addisionele koste gedoen.

Renwick verwys na die reuse kabinet van “seventy ministers and deputy ministers” (134), wat in sigself as ‘n manifestasie van korrupsie beskou kan word, maar Renwick versuim om kritiek op die buitensporige koste daarvan uit te spreek. Mbeki se kabinet (president, visepresident, ministers en adjunkministers) het uit 50 lede bestaan. Zuma het sy kabinet tot 73 lede vergroot. Ramaphosa, wat die voorneme uitgespreek het om die kabinet te verklein, het soos Zuma 73 kabinetslede. Die ANC word deur 249 parlementslede uit die totaal van 400 verteenwoordig. Bykans ‘n derde hiervan (29,3%) dien ook in die kabinet. Ooglopend is dit wanbestuur, soustreinryery ten koste van die belastingbetalers, maar feitlik geen haan kraai hieroor nie.

Renwick noem dat die land se beleggingsgradering tans rommelstatus is (139). Byvoorbeeld, oor die mynbou word gesê: “There is not an investment-friendly climate” (151). Dit is veral weens die beleid van swart ekonomiese bemagtiging. “Most of the major deals under which 26 per cent ownership was required to be sold to black partners were financed by the South African companies lending the empowerment partners the money to buy the shares. When black partners have sold their interest, the governmet’s view is that the company then must be ’empowered’ all over again” (152).

In 2017 is ‘n nuwe mynmanifes aangekondig: “The black empowerment threshold was raised from 26 per cent to 30 per cent … a raft of other conditions were added too, including that 70 per cent of goods and 80 per cent of services must be procured from black-owned entities. In addition, the new Charter contained an extraordinary provision mandating a distribution of 1 per cent of revenues from new order mining rights to black empowerment shareholders before any other distributions are made … Black shareholders are required to be debt-free within ten years, otherwise existing shareholders would have to write off this expense” (154-155). Swart ekonomiese bemagtiging behels drakoniese maatreëls wat blatant pro-swart en anti-blank is en afgedwing word deur die ANC-regering, wat al hoe hoër eise stel maar valslik beweer dat hy nie-rassig is en al die mense in die land dien.

Die ANC se beleid is fundamenteel rasgebaseer, indien nie rassisties nie. “The eventual aim of the Employment Equity Act of 1999 was to seek to ensure that jobs at every level should reflect the make-up of the population … the ANC’s determination to reward their supporters and to establish control over all levers of power through the ‘deployment of party cadres to positions at every level of the bureaucracy’. The target of 70 per cent representation of black South Africans in senior levels of the civil service, both nationally and in the provinces, has long since been achieved … In the private sector, from 2008 black empowerment codes prescribed black representation at 60 per cent in senior and 75 per cent in middle management” (169). Periodiek word die doelpale verskuif om swartes in nog groter mate te bevoordeel en blankes verder in die grond te boor. Maar Renwick hou hiervan: “It was difficult to see how the horrendous inequalities of opportunity resulting from apartheid could otherwise have been addressed” (170). In ‘n oomblik van helderheid skryf hy later: “Zuma’s more extreme demands for Africanisation of the private sector were based on regarding the whites as not really South African” (213).

Daar is twee boeke waarna Renwick nie verwys nie maar myns insiens noodsaaklik is om die wesenlik onetiese aard van die ANC as fundamenteel bose instansie te verstaan. Albei is deur Anthea Jeffery geskryf. Oor swart ekonomiese bemagtiging is daar die boek, BEE: Helping or hurting? (Cape Town: Tafelberg, 2014, 507p; Amazon Kindle $21,26). ‘n Mens kan kwalik glo tot watter uiterstes die ANC-regering gaan om swartes te bevoordeel en blankes te benadeel. Desnieteenstaande verskyn daar feitlik geen afkeurende berigte hieroor in die hoofstroom-inligtingsmedia nie. Dit laat my dink aan wat George Orwell in sy boek, The road to Wigan Pier (1937), geskryf het: “To see what is in front of one’s nose needs a constant struggle.”

Oor die ANC as gewelddadige en misdadige organisasie is daar die volgende boek: People’s war (Johannesburg: Jonathan Ball, 2009, 676p; Amazon Kindle $11,49). Daarin word vertel hoe 20 500 mense van 1984 tot 1994 gesterf het in geweld wat deur die ANC gestig is terwyl hy die skuld daarvoor op die blanke regering en Inkatha gepak het. Hou in gedagte dat die vredesikoon Nelson Mandela sedert sy vrylating in 1990 ‘n leidende aandeel hierin gehad het. Selfs Renwick skryf: “The Mandela I knew was no saint” (3), maar hy verskaf geen inkriminerende besonderhede nie. Voor die ANC se verkiesingsoorwinning in 1994 het niks tereg gekom van Mandela en die ANC-onderhandelaars se belofte dat die ANC sy geweldpleging tydens die grondwetlike onderhandelinge sou opskort nie. FW de Klerk het met gewelddadige, insluitende kommunistiese, elemente onderhandel ten spyte van die ernstige waarskuwings wat destyds hierteen opgeklink het. Die onverkwiklike resultate daarvan is sedert 1994 daagliks waarneembaar. Wim de Villiers wil die einste Mandela vanjaar tydens die Universiteit Stellenbosch se eeufees huldig terwyl hy die nagedagtenis en bydrae van die voortreflike Afrikaner en US-stigtingskenker, Jan Marais, ignoreer. Daar behoort drasties teen De Villiers opgetree te word.

Die stook van geweld in die burgerlike samelewing het vir die ANC/UDF geblyk die doeltreffendste strategie te wees ten einde die politieke mag in te palm. Hierdie strategie word tot op hede deur ontevrede swartes voortgesit want daarmee behaal hulle steeds die verlange resultate. Op hierdie abnormale en onwettige manier kan geen normale, suksesvolle en vooruitstrewende samelewing gebou word nie. Nogtans tree die ANC-regering nie doeltreffend teen hierdie misdadigers op nie. Enigeen wat ‘n voertuigbuiteband op ‘n openbare pad aan die brand steek, of die verkeer met klippe wat gepak of gegooi word ontwrig, behoort ‘n minimum vonnis van vyf of meer jare opgelê te word. Dieselfde moet geld vir brandstigting by staats- en ander geboue. Swaar lyfstraf en dwangarbeid behoort ook vir sulke onduldbare gedrag ingestel te word. Pleks daarvan laat die ANC weens sy soortgelyke misdadige geskiedenis toe dat Suid-Afrika een van die gewelddadigste lande bly; onder meer omdat die misdadigers in baie gevalle vir die ANC stem en hy nie sy kiesers wil vervreem nie. Selfs in die tronk behou hierdie anti-sosiale elemente hulle stemreg. Die ANC gee voorkeur aan vryheid en sogenaamde menseregte vir misdadigers bo ‘n leefbare samelewing waarin beskaafde waardes tot hulle reg kan kom.

Renwick besin oor waarom die ANC, waarvan hy so baie hou, as regering so ‘n chaotiese gemors van Suid-Afrika gemaak het. “How is it that a once great liberation movement, which played so critical a role in the liberation of South Africa from apartheid, the party of Mandela, Tambo and Walter Sisulu, could have descended to the level and state of disrepute in which it finds itself today, struggling to remove a blatantly corrupt leader, notwithstanding the damage he had been inflicting on it? Is there something in the nature of these liberation movements that leads them, once in power, to the authoritarianism and kleptocracy in evidence in Angola and Zimbabwe today?” (157). “Angola is a fully fledged one-party kleptocracy” (158).

Was die ANC ooit ‘n “great liberation movement”? Die land is steeds nie van rassediskriminasie bevry nie. Hierdie eertydse terreurbendes het die vermoë gehad om af te breek maar vind dit as regering moeilik om met dieselfde vaardigheid op te bou. Daar is ‘n bewese onvermoë om doeltreffend te regeer, onder meer omdat die ANC die swartes wat regeerondervinding gehad het (in die tuislande en plaaslike owerhede) sistematies uitgemoor het. Dit is mense soos Mandela, Tambo en Sisulu wat enige samewerking met die blanke owerheid verbied het. Renwick skryf egter “the desperate skills deficit” toe aan Bantoe-onderwys (158). Maar skoolonderrig onder die ANC-bewind is slegter: “Comparative studies in basic education in developing countries sadly have shown South Africa to be among the very worst” (212). “By what process did the admirable history of opposition to apartheid turn into the abuses evident today?” (160). ‘n Mens moet darem ‘n dik linkse vel hê om die onbeskaafde gedrag van bv die ANC en PAC se terreurbendes as ‘n “admirable history” te beskryf.

Renwick beweer: “The press has remained unmuzzled, the judiciary independent” (158). “The country owes a huge debt to its remarkable free press, to its incorruptible judiciary” (217). Hy noem nie dat daar al hoe meer aandrang op die inperking van uitdrukkingsvryheid is nie; dat as ‘n blanke bloot sekere woorde gebruik, jy jou jare tronkstraf op die hals kan haal. Hermann Giliomee het oortuigend aangetoon dat die regspleging nie onafhanklik van die ANC-regering funksioneer nie (Praag 14.04.2018). Teen die feite in beweer Renwick dat die grond wat aan swart boere oorgedra is, produktief aangewend word (158). Renwick verwys net ‘n enkele keer na plaasmoorde en dan sonder om dit te veroordeel. Persoonlik distansieer hy hom van die (potensiële) rassistiese aard van hierdie moorde deur die frase “in the belief of the farmers” in te voeg: “In the past decade there has been an increasing number of cases of farmers being murdered on their land, in most cases in robberies with extreme violence but, in the belief of the [white] farmers, in some cases possibly also with a racial motivation” (159). Dit is duidelik dat Renwick nooit rassisme aan swartes sal toeskryf nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.