Leon Lemmer: Is die kulturele verskille tussen wit en swart mense oorbrugbaar?

Attie van Niekerk was ‘n sendeling en kom uit ‘n sendelingfamilie. Sy pa was ‘n dosent aan die Stofberg-gedenkskool, waar predikante vir die NG Kerk in Afrika sedert 1908 by Vereeniging opgelei is. Hierdie opleiding is van 1960 af by die Universiteit van die Noorde (tans Limpopo) voortgesit, met Attie van Niekerk as dosent en mettertyd as die hoof daarvan. Hy ken swartes en het groot begrip vir hulle. Daar is seker min mense wat beter toegerus is om die moontlike raakpunte tussen wit en swart mense maar ook die bodemlose kulturele verskuiwingslyn (“fault line”) uit te wys.

Sáám in Afrika

Op die vooraand van die nuwe Suid-Afrika is die volgende boek van Van Niekerk gepubliseer, Sáám in Afrika (Kaapstad: Tafelberg, 1992, 119p). Aan die begin van die eerste hoofstuk staan: “Die Weste met sy woelige, amper woedende, aktivisme, sy energie, sy begeerte om alles te ondersoek, te beheers, te verander en te vernuwe, is in wese vreemd aan Afrika se tradisionele verlange om die harmonie en ewewig van dinge te handhaaf … Westerse leiers se geduld en gewete raak ‘opgebruik’ deur al die beskuldigings teen en eise aan hulle, terwyl die een projek in Afrika na die ander hom te pletter loop teen korrupsie, apatie, ‘n onbeteuelde bevolkingsaanwas en natuurrampe” (p 5).

Dit is eintlik ‘n koloniale blik: Die blankes wat as bouers iets tot stand bring en die swartes vir wie jare en dekades maar sonder daadwerklike ontwikkeling verby kan gaan. Sedertdien het verandering wel plaasgevind deurdat koloniale of blanke bewinde omvergewerp en dinge al hoe meer na die wense van swartes geskik is. Die fundamentele kulturele verskille tussen wittes en swartes het egter bly voortbestaan. “Dit is die werklikheid dat daar in Suid-Afrika twee wêrelde, twee geesteswêrelde, is en dat ons nog geen oplossing het vir die vraag hoe hulle binne dieselfde ruimte geakkommodeer moet word nie” (6). Van Niekerk erken dat “die werklikheid van verskil” onontwykbaar is (6). “Ons is nie dieselfde nie … Ons uitdaging is … om ‘n verhouding te vind met die ander” (7). Ek dink dat dit wel die gesindheid was toe die blankes nog in beheer was. Sedert die swartes die politieke mag in 1994 bekom het, maak hulle by voorkeur soos hulle wil, sonder om blanke belange in ag te neem; selfs om sonder skroom blankes doelbewus te benadeel.

Van Niekerk soek “‘n basis vir saambestaan” (8) en ek betwyfel nie sy eerlikheid nie. Realisties vra hy die vraag: “Het swart mense self nie ook ‘n aandeel aan hul haglike omstandighede nie?” (15). Armoede is ‘n groot probleem in Afrika. “Net een deel van die oorsaak – die blankes se aandeel – word ernstig opgeneem. So word die swart gemeenskap aangemoedig om die blankes vir alles die skuld te gee” (17). Van Niekerk “besef dat baie linkses nie veel van swart werklikhede weet nie en, erger nog, nie werklik daarin belang stel nie” (15). “Hoe verder mense van Afrika af is, hoe meer links – maklike, selfgenoegsame links – is hulle dikwels; hoe nader sulke mense dan aan Afrika kom, hoe meer regs word hulle” (84). Dit is waarskynlik steeds die geval ten spyte van die oorverligte front wat die meerderheid plaaslike blankes deesdae voorhou.

Geboortebeperking is ‘n taboe onderwerp in die nuwe Suid-Afrika. Maar wat is die tradisionele Afrika-denke daaroor? “Hoe slegter dit gaan – hoe meer honger en siekte en geweld daar is – hoe belangriker is dit om nuwe lewe te skep” (15-16). “Hoe meer kinders daar is hoe beter is die kans dat daar onder hulle ‘n goeie een sal wees” (55). “Hoekom verwoes swart mense hul eie goed, hul biersale, hul skole?” (39). “Vernietigingswellus” vind aansluiting “by oeroue tradisionele denkpatrone … vernietiging [is] eintlik ‘n voorvereiste vir nuwe lewe” (39). Byvoorbeeld, internasionale sankies is destyds bepleit “wat Suid-Afrika se ekonomie tot in die grond boor, met die verwagting dat ‘n heerlike nuwe toekoms uit die gevolglike armoede en werkloosheid sal opstaan” (40). Waarom word op blankes se plase, ens, beslag gelê? Tradisioneel glo/aanvaar swartes “‘n mens se besittings is tot beskikking van ander” (50).

Daar is ‘n grondliggende verskil in denkwyse. “Die empiriese, waarneembare werklikheid is vir my [‘n blanke] deurslaggewend, maar vir hom [‘n swarte] nie” (25). Vir swartes is aanpassing by ontwikkel tradisioneel problematies. “Mense sal selfs ‘n duur stoof koop, die brandhout daarin bêre en nog op die grond vuurmaak” (107). Van Niekerk lê heelwat klem op die rol wat “bose geeste en towery” steeds in die swart gemeenskap speel (14). ‘n Swart vrou het die groot boom wat oor haar huis was, afgekap. “Sy sê sy het die boom se skadu geniet, maar die boom het die wind laat waai en sy was bang haar huis sou ‘wegvlieg'” (109). “Mense is bang om bome te plant, want hulle glo: hoe langer die boom se skaduwee word hoe korter word jou lewe” (15).

Toe Van Niekerk ‘n sendeling was, het sy vrou die vroue in die gemeente geleer om naaldwerk te doen. Die produkte is verkoop en elkeen het geld ontvang ooreenkomstig haar produksie. Op ‘n dag sê “die vrou wat gewoonlik die minste kry, ons moet die inkomste gelykop verdeel tussen almal … Almal stem saam dat hulle gelykop deel – selfs die vrou wat sowat vyf maal meer kry as die swakste een. Is dit nodig om te sê dat die hele projek kort daarna doodgeloop het?” (54). “Die mag van die groep is oorweldigend in die swart gemeenskap. Die individu dreig om te verdwyn in die groep” (29). Maar hierdie ingesteldheid word misbruik as ‘n meganisme om alle individue van blaam te onthef as groepsgewys verkeerd gedoen is (kyk hier onder).

Kan waarde geheg word aan FW de Klerk se raad dat blankes moet vasklou aan hulle beweerde grondwetlike regte? Swartes “voel nie gebind deur hulle eie besluite nie” (28; ook 39). “Op ‘n manier is die ‘ek’ wat nou een ding sê, nie die ‘ek’ wat netnou ‘n ander storie praat nie” (34). As dosent het Van Niekerk ervaar dat swart studente, dus van die ontwikkeldste mense in daardie gemeenskap, “persoonlike verantwoordelikheid, die oortuigingskrag van empiriese bewyse en die interpretasie van gebeure volgens natuurlike oorsaak en gevolg heeltemal in die wind … slaan … dan is die moontlikhede vir ontwikkeling in Afrika op Westerse patroon maar klein. Anders gestel: die Westerse kultuur is nie die oplossing vir Afrika se probleme nie” (17).

In verligte geledere word oorywerig op die ooreenkomste by mense gewys; ons is mos almal mense, almal se bloed is rooi, ens. Van Niekerk toon aan dat daar daadwerklike kultuurverskille tussen wit en swart mense is; dat hierdie twee groepe verskillende maniere van dink en doen het. In die nuwe Suid-Afrika mag ‘n mens nie meer beweer dat een rasgroep beter as ‘n ander is nie. Kohler Barnard mag haar selfs nie in enige opsig positief oor PW Botha uitlaat nie. Insgelyks mag Helen Zille nie die voor die hand liggende waarheid verkondig dat daar soms ook iets goeds in kolonialisme (bv die skepping van infrastruktuur) was nie. Rassesegregasie, bv apartheid, was ongetwyfeld in sommige opsigte goed. Wat in Suid-Afrika gesê mag word, word egter toenemend deur die meerderheid mense, die swartes, bepaal. Daarom mag blankes nie beweer dat hulle ras in sy geheel of in sekere opsigte beter as ander rasse is nie. Dit is ‘n sprekende voorbeeld van die tirannie van die meerderheid.

Anderkant die reënboog

Kort na Suid-Afrika se “bevryding” is nog ‘n boek van Van Niekerk gepubliseer, Anderkant die reënboog (Kaapstad: Tafelberg, 1996, 137p). Die outeur was toe verbonde aan NOVA (Navorsing vir die Opheffing en Voorkoming van Armoede). Aan die begin van hoofstuk 1 skryf hy: “Omdat die erkenning van kultureel-etniese verskille in die verlede dikwels met die vloekwoord rassisme vereenselwig is, is hierdie verskille óf geromantiseer óf angstig onder die mat gevee … Die uitdaging is om patrone vir saambestaan te vind” (p 2). Daar is “diepgaande kulturele verskille wat oorbrug moet word” (23).

Die fundamentele verskil in die wêreld- en lewensbeskouing van blankes en swartes word soos volg verwoord. “Die dominante geestes[s]troming die afgelope eeue in die Weste was die geloof in vooruitgang; die gedagte dat die mens met sy rede beheer oor die natuurlike wetmatighede van die kosmos kan verkry en dat hy daardeur ‘n beter wêreld kan bou. Sy tydsbegrip is lineêr, ‘n reguit lyn vorentoe, opwaarts: ‘n pyl. Vir Afrika is die beeld die sirkel, wat spreek van die hunkering om binne een groot kosmiese orde tuis te wees, om alle teenstrydighede daarbinne te versoen – nie om dit te beheer nie. Sy ritme is die sirkelgang van die seisoene, sy sterkste gewaarwording wat Es’kia Mphahlele noem ‘the interconnectedness of all things’ – ‘n naatlose geheel van verlede, hede en toekoms, van die lewendes en die dooies” (3); en ook die ongeborenes (103).

“Teenstrydige benaderings word almal ‘n plek gegun, dikwels sonder enige sigbare moeite” (35). “Die sirkel impliseer dat teenstellings gehandhaaf en aanvaar word; dat dit wat was, weer sal wees; dat daar balans en eenheid en harmonie moet wees – eerder as beheer en vooruitgang … Die doel is om te behoort, nie om vooruit te gaan nie” (115). “In Afrika kry die aarde ‘n mitiese gestalte waarin die mens sentraal staan en die Westerse tegnologie dikwels verwerp word” (13). In ten minste sekere opsigte kan die verskil gereduseer word tot rasionaliteit teenoor irrasionaliteit. Maar selfs dit mag eintlik nie gesê word nie. Simon Barber verstaan waarom Afrika as besprekingsonderwerp liefs vermy word. Dit is ‘n geval van “without straying into a continent about which it is impossible to argue rationally en not risk charges of racism” (137). Dink bv aan Helen Zille se standpunt dat (blanke) kolonialisme nie net sleg was nie.

“Afrika se gerigtheid op die verlede, die afwesigheid van ‘n toekomsvisie en die gevolglike gebrekkige toekomsbeplanning, die houding dat tyd nie gemors kan word nie omdat tyd eintlik net bestaan as iets gebeur, is reeds dekades gelede … beskryf. Hierdie gerigtheid op die verlede [bv slawerny, kolonialisme, imperialisme, rassediskriminasie, apartheid] waarin Afrika vasgevang is, word dikwels as een van die redes genoem waarom ontwikkeling in Afrika nie slaag nie. Daarteenoor beroem die Weste hom op sy toekomsgerigtheid en beplanning” (42). “Dit is die gees van die moderne Weste. Begrip van die natuurlike orde moet lei tot beheer oor die natuur – ook beheer oor ons menslike natuur [bv voortplanting] – en dit moet vooruitgang meebring” (58). “Beheer en vooruitgang is nie die dryfvere van die Afrikabeskawing nie” (59).

In verset teen kolonialisme en blanke invloed strewe swartes “na die herstel van ‘n eie Afrika-identiteit … na kulturele bevryding, wat op sy beurt inhoud aan politieke bevryding moet gee” (4). “Selfs die ekonomiese ellende van Afrika word volgens hierdie denkpatroon toegeskryf aan die kulturele oorheersing deur die Weste. Uganda se president, Yoweri Museveni, sê in Time van 7 September 1992 dat Afrika weer sy selfrespek moet herwin deur terug te keer na die jaar 1500, toe die Europeërs Afrika binnegekom en sy kultuur en totale sosiale struktuur ontwrig het. Ons moet weer die drade gaan optel by die jaar 1500, sê Museveni, ‘where we left off building an economy integrated in itself, able to produce its own food, its own tools, its own weapons'” (6). Hy noem nie waar die luukse motors en vliegtuie en selfone vandaan sou kom waaraan swart politici so geheg geraak het nie. Jaco Zuma sluit aan by Museveni deur te beweer dat al Suid-Afrika se probleme in 1652 met die aankoms van Jan van Riebeeck en sy blanke geselskap begin het. Sodanige benadering kan die sleutel tot die agterlikheid van Afrika bied. Die redenasie is soortgelyk aan dié in islamitiese lande wat insgelyks deur agterlikheid gekenmerk word omdat hulle ingevolge hulle godsdienstige oortuigings terughunker na die 7de eeu toe hulle profeet, Mohammed (570-632), gelewe het.

Van Niekerk noem sommige van dieselfde absurditeite as in sy vorige boek. “In die apartheidstryd van die tagtigerjare was daar ‘n sterk neiging om te glo: om te bou, moet ek eers afbreek; met die afbrand van skole en poskantore, stakings en sanksies wat die bestaande ekonomie vernietig, bou ons die nuwe deur die oue uit te wis” (9) … “die slegte bring die goeie, die slegste bring die beste, probleme [uitdagings?] skep oplossings, vernietiging dwing vernuwing af” (10). Die Bybel word vir hierdie doel misbruik. Ngugi wa Thoing’o beskou in sy boek, A grain of wheat (1967), die apostel Paulus se “stelling oor Christus – dat die korringkorrel moet sterf om vrug te dra – as inspirasie vir die Mau-Mau-opstande [1952-1960] teen Britse kolonialisme” (118) in Kenia.

“In sy boek oor ‘n denkbeeldige land onder ‘n swart regering [A hot country, 1983] beskryf Shiva Naipaul [1945-1985, ‘n etniese Indiër] die stelselmatige vernietiging van alles wat die Westerse koloniale mag agtergelaat het. Die swart leiers gaan hulle mense voor in die vernietiging, omdat hulle begryp wat die mense ten diepste wil hê: hulle wil hulle eie identiteit, waarvan hulle beroof is, terughê” (20). Maar die slaggate in paaie word meer en kom nie vanself reg nie en afgebrande huise en skole rig hulleself nie weer op nie.

Beskikbare studiebeursgeld moet volgens tradisionele Afrika-redenasie nie volgens finansiële behoefte toegeken word nie, maar gelykop verdeel word. “As lid van ‘n groep is ek geregtig op alles, my individuele verantwoordelikheid verdwyn. Die staat of die kerk of die gemeenskap moet sorg – soos die stamhoof van ouds moes sorg toe hý die oppergesag was” (11). “Die tradisionele Afrikasiening laat hom geld waar swart gemeenskappe op [huise en] dienste soos water en elektrisiteit aanspraak maak en dan verwag dat die staat dit moet verskaf – selfs al betaal hulle nie daarvoor nie. Hierdie siening word dwarsoor Afrika gepropageer” (28). Die solidariteit van die groep word bo die vryheid van die individu gestel. Dit gaan “om eenheid te soek en kontinuïteit te handhaaf eerder as vernuwing, om op instink en gevoel te vertrou eerder as op redelike [bedoelende: rasionele] denke” (12).

“Hier word individualiteit in ‘n mistieke eenwording opgehef” (14). Dit het in die “bevrydingstryd” tot uitdrukking gekom in groepe wat saam vandalisme en sabotasie pleeg en terrorisme bedryf het; groepe wat “doelbewus sáám optree om persoonlike aanspreeklikheid te voorkom … sodat ‘niemand’ dit gedoen het nie” (27). Byvoorbeeld, ‘n swarte vertel: “As iemand weens ouderdom of siekte ‘n te groot las word vir die stam, het ons hom voor die beeskraal gaan sit. Dan gaan almal saam en jaag die trop beeste oor hom; dan het niemand dit gedoen nie” (27).

Ubuntu beteken “die eienskap van menswees, menslikheid … medemenslikheid … Dat hierdie eienskap van Afrika in een asem met die verskriklikste wreedheid teenoor die ewemens genoem moet word, is ‘n paradoks wat die Westerling maar vir lief moet neem en waardeur ‘n alte romantiese siening van die Afrikamens getemper moet word” (14). Byvoorbeeld, wat is onderliggend aan ‘n halssnoermoord? “As hy net doodgemaak word, kan sy gees voortgaan om kwaad te doen. Verbranding vernietig sowel gees as liggaam” (24). Daar is dubbele standaarde: “As swart mense in Afrika ‘n halwe – of ‘n hele, maak dit saak? – miljoen ander swart mense doodmaak, is daar bitter min reaksie uit Afrika self of uit die buiteland. Wanneer wit en swart mekaar doodmaak, is daar ‘n opskudding” (125).

Nog ‘n voorbeeld van nie-medemenslikheid: “Veel minder as ‘n derde van huishoudings in Gautengse townships betaal vir dienste …[omdat] baie mense hulleself nie deel voel van ‘n samelewing wat bestaan uit mense met geleerdheid, geld, werk, eiendom, mag en geleenthede nie. Dit is vermoedelik nog meer so by dié wat nie huise of werk het nie. Hulle ervaar die samelewing se geldende norme en waardes en wette, die bestaande regstelsel, nie as hulle eie nie. As hulle oortree, voel hulle nie daaroor skuldig nie” (27). “Die swart Amerikaanse skrywer, [James Arthur] Baldwin [1924-1987], het in die sestigerjare sy liberale vriende geskok deur te verklaar: ‘Yes, baby, I mean burn. We will burn your cities down'” (120). Wat die blankes wettig besit, mag maar ingepalm word. Byvoorbeeld, Afrikateologie “soek ‘n herstel van die Afrikakultuur, wat spesifiek die tradisionele Afrikagodsdiens insluit. Dit eis, byvoorbeeld, weer die grond terug, omdat gemeenskap met die voorouers plaasvind deur die grond waarin hulle begrawe is” (45-46).

“Daar is wesenlike verskille tussen die basiese waardes van die moderne onderwys en dié van tradisionele Afrika. Die onderwys is gerig op die individu wat ontwikkel, wat studeer, wat presteer of misluk” (55). “Individualisme is ‘n afwyking van die [swartes se] groepsnorm … Die verset teen die stelsel wat die individu bo the groep plaas, laat studente eis: ‘Pass one, pass all; an injury to one is an injury to all.’ As ‘n student druip, is dit nie sy skuld nie. Dit is ‘n onreg (‘injury’) wat hom, en dus ook die ander, aangedoen is … As so ‘n gees posvat, word moderne onderwys onmoontlik. ‘n Universiteit, byvoorbeeld, kan net tot op ‘n punt aanpas en nog ‘n universiteit wees. As dit verder verander word, dan is opleiding en onderwys, soos ons [as blankes] dit ken, daar nie meer moontlik nie” (56). Dit is duidelik waarom bv matriekslaagsyfers en -standaarde so drasties verlaag word: sodat feitlik al die swart skoliere kan slaag. “Ons Westerse mense het gedoen wat ons as goed beskou. Ons het ‘n standaard gestel wat ander nastreef, maar wat baie [swartes] tot dusver nie kan bereik nie. En ons kan hulle dit nie laat bereik nie” (61).

In Afrika is dit moeilik om Westerse maniere van doen suksesvol na te doen. Jan du Plessis “waarsku dat demokrasie in baie lande ‘n oorsaak van konflik geword het en tot die ‘mislukte staat’-verskynsel lei. Dit gebeur wanneer kulturele of rasseminderhede in ‘n stelsel beland waar hulle wel stemreg het, maar waar hulle stem geen verskil kan maak nie en hulle saak verdag gemaak word” (89). Dit is waarom die ANC, by name Jacob Zuma, die blankes vryelik aanstoot gee en hulle belange vertrap. Du Plessis voeg by: “Sulke magtelose minderhede kom maklik in verset” (89). Daardie sin is in 1996 gepubliseer. Meer as twee dekades later in die nuwe Suid-Afrika is daadwerklike blanke verset egter steeds ‘n ydele hoop. Volgens Du Plessis “is die drie funksies van die staat [reeds in 1995] besig om te disintegreer: die Parlement lyk deurmekaar en onbekwaam; die howe is oorlaai en daar is nie genoeg ervare [bekwame?] regslui nie; en die uitvoerende strukture is aan die verkrummel: wette word gemaak, maar die staat kan hulle nie uitvoer nie” (90). Daar is klaarblyklik fundamentele verskille tussen die funksionering van ‘n swart en ‘n blanke politieke bewind.

Van Niekerk voeg by: “Die moderne ekonomie kon Afrika tot dusver nie na sy pype laat dans nie en demokrasie het haas nêrens op die vasteland nog opvallend suksesvol posgevat nie” (90). “Net die tyd sal leer of ‘n demokratiese kultuur uit geweld kan groei” (94). “Die lewegewende waardes van ‘n demokratiese kultuur sluit in respek vir die mens, respek vir die wet, aanvaarding van persoonlike aanspreeklikheid, die oop gesprek wat ander se standpunte aanvaar en gerig is op wedersydse oortuiging, die eerbiediging en handhawing van ooreenkomste – sulke dinge” (96). Hiervan is daar in die nuwe Suid-Afrika weinig sprake.

Die boodskappe in Van Niekerk se twee boeke is eintlik dieselfde. Hy bly idealisties en naïef-hoopvol dat die fundamentele verskille tussen wittes en swartes oorbrug kan word; dat albei partye danksy uitreiking na mekaar, oftewel handevat, bevoordeel kan word. In sy 1996-boek skryf hy: “Ons hoop lê nie in ánder kulture nie, maar in ‘n nuwe gestalte wat die goeie uit ons bestaande kulture op sinvolle wyse sal saambring” (106). Die uiteinde daarvan kan wees wat die Franse filosoof, Pierre Teilhard de Chardin (1881-1995) voorsien het, naamlik dat “alle kulture op een geheel afstuur” (117), dus ‘n wêreldkultuur en dalk ook wêreldburgerskap. Van Niekerk het self nie ‘n konkrete oplossing vir die oorbrugging van die kulturele verskuiwingslyn tussen wit en swart nie. Hy is verplig om hom ten slotte op bonatuurlike ingryping te beroep: “Ons verwag dat God alles nuut sal maak, ons hoop op nuwe dinge in die toekoms” (111).

Oor die studente-onrus

Onlangs het Van Niekerk sy idees op die plaaslike studente-onrus toegepas in ‘n artikel onder die opskrif, “Verstaan ons studente se verset?” (LitNet, Menings, Universiteitseminaar, 2 Februarie). Hy begin op ‘n vals noot deur Donald Trump se verkiesing, soos dit gebruiklik in die massa-inligtingsmedia is, as die uiting van “populisme” af te maak. Wat Van Niekerk gerus kan besef, is dat wanneer linkses verkiesingsoorwinnings behaal, dit nie “populisme” (die meerderheid is mislei) genoem word nie maar “demokrasie” (die meerderheid weet die beste). Dus, konserwatiewe word doelbewus en moedswillig ongunstig en liberaliste gunstig geëtiketteer.

Wat Van Niekerk voorspelbaar doen, is om by uitstek blanke kommentators oor die studente-onrus aan te haal en dan te verklaar dat hulle “die diskoers binne die raamwerk van Westerse denke en die Westerse leefwêreld hou.” Twee swartes, Sabelo J Ndlovu-Gatsheni en Everisto Benyera, vind meer guns in Van Niekerk se oë omdat hulle die onderwerp uit die oogpunt van swart kultuur benader. “Volgens hulle is die MustFall-beweging deel van swart mense se strewe om hulle eie toekoms te ontwerp – vir hulle bied die Westerse kultuur blykbaar nie ‘n ‘beter lewe’ nie.” Daardie “eie toekoms” impliseer myns insiens (grootliks) die uitsluiting van blankes. Later vra Van Niekerk hierdie vraag: “Wat is ‘n beter lewe en watter soort mense wil ons word?” Teen die gelyk- of eendersheidsmanie in, wil ons, myns insiens, seker(lik) nie almal eenderse mense wees nie en gevolglik ook nie dieselfde soort “beter lewe” lei nie.

Ndlovu-Gatsheni en Everisto skryf: “Saam beskou is die MustFall-beweging ‘n aanklag teen ‘n spesifieke Noord-Europese en Amerika-sentriese beskawing wat [die Wes-Indiër], Aimé Césaire [1913-2008], reeds in 1955 in sy Discourse on colonialism as dekadent, siek, sterwend en onverdedigbaar beskryf het.” Daar is geen aanduiding dat swartes aan hierdie soort Westerse “siekte” wil ly nie. “Ndlovu-Gatsheni en Benyera verwys na die erfenis van ‘geldige kennisstelsels’ in Afrika en vra vir ‘n hersiening van die idee van ‘n universiteit.” Daardie “geldige kennisstelsels” sluit towery, toordokters en anderhande bygelowe in, wat Westerse wetenskaplike bevindings moet vervang. Die sielkundige en rubriekskrywer, Wilhelm Jordaan, beweer desnieteenstaande: “Daar is ‘n gesprek moontlik tussen hierdie [swart] denkers en Westerse denkers, oor gemeenskaplikhede én verskille, gedra deur respek en begrip.”

Van Niekerk verwys vervolgens na Clapperton Mavhunga wat redeneer “dat dit nie verkeerd is om Westerse denke of produkte [AK47’s, handgranate, kleef- en landmyne?] te gebruik as wapens om kolonialisme mee te beveg nie. Die voorgeslagte het immers dieselfde wapens wat gebruik is om hulle te koloniseer, gebruik om vir vryheid te veg; hulle het dieselfde opleiding in sendingskole wat gebruik is om hulle tradisies te vernietig, gebruik vir die bevryding van daardie tradisies.”

Ter ondersteuning van hierdie standpunt word daar na Samuel Huntington (1927-2008) se boek, The clash of civilizations (1993), verwys (Praag 5.11.2016). “Daarin beskryf Huntington hoe nie-Westerse gemeenskappe die Westerse waardes – politieke bevryding, demokrasie, menseregte – as wapens gebruik het om mag te kry. ‘Nadat hulle onafhanklikheid gekry en ekonomiese sukses behaal het, het hulle dieselfde Westerse waardes waarmee hulle aan bewind gekom het met hulle eie waardes vervang.'” Daarvolgens is die demokratiese elemente in ons “jong demokrasie” nie in staal gegiet nie. Sowel demokrasie as universiteite is Westerse uitvindings wat in Afrika in so ‘n mate aan transformasie onderhewig is dat hulle onherkenbaar kan word.

Volgens die Ghanees Kofi Awoonor is die enigste aanpassing wat Afrika-denke kan of behoort te ondergaan nie om (fundamenteel) te verander nie, maar om die sirkel (waarna hierbo verwys is: Anderkant die reënboog, 2de en 3de paragraaf) groter te maak. “Die nuwe, [bv] die Christelike geloof, word in die denkpatroon nie verwerp nie. Dit word opgeneem in die sirkel van die tradisionele Afrika-denke. Dit is ‘n goeie voorbeeld van Kofi Awoonor se sirkel wat groter gemaak word sodat jy die nuwe kan aanvaar sonder om die oue te los.” “So kan jy die nuwe aanvaar en vooruitgaan sonder om die oue te los of jou identiteit te verloor. Nuwe teenstrydighede en paradokse word steeds in die sirkel opgeneem en versoen. Die nuwe word gebruik, maar die strewe na ‘an authentically African standpoint’ word nie prysgegee nie. ‘Widening the circle … ultimately will constitute the only human progress.'” Waarop dit myns insiens neerkom, is die ononderhandelbaarheid van die swart standpunt; dat akkommodering van Westerse elemente eerder skyn as fundamenteel transformerend is, behalwe in gevalle waar Westerse uitvindings ter bestryding van Westerse invloed aangewend kan word.

“Awoonor het hom nie juis bekommer daaroor dat die rekbaarheid van die sirkel sy perke het nie, of dat die teenstrydighede en paradokse dalk nie versoen kan word nie, maar onhoudbare spanninge mag skep.” Dit kan dui op agterdog jeens die Weste en dus op halfhartige, sleepvoetende toelating van blanke invloed. Die gesprek gly verder oor die afgrond met hierdie erkenning: “Ons rasionaliteit is hier nie deurslaggewend nie: paradokse kenmerk ons hele land en ons moet dit leer hanteer.” Myns insiens is dit ‘n onverkwiklike situasie wat in 1990/94 mandaatloos aan ons opgedring is. Selfs die betekenis van die begrip rasionaliteit word daarna skynbaar ondergrawe: “Ons almal saam moet bepaal wat ons rasionaliteit is.”

“Maar in die strewe na ‘an authentically African standpoint’ moet die gevaar van so ‘n strategie duidelik in gedagte gehou word: dit kan maklik gebeur dat die wapens wat jy gebruik, jou intrek in hulle magsfeer en jy jouself koloniseer. Dit is hierdie soeke na ‘an authentically African standpoint’ wat belangrik is en keer op keer voorkom in die werke van Afrika-skrywers. En ook by sommige studente.” In Afrika is daar andersom heel moontlik groter gevaar: dat blanke kultuur (grootliks) geafrikaniseer kan word. Soos Willem de Klerk reeds in 1994 voorsien het: dat die nuwe Suid-Afrika mettertyd niks meer nie as “‘n Europees-getinte Afrosentriese kultuur” sal hê (Van Niekerk se 1996-boek, p 4). Dit word in die hand gewerk met opmerkings soos dié van Breyten Breytenbach “wat waarsku teen ‘n vaste opvatting van identiteit … Identiteit bly altyd in beweging.” In Afrika kan sodanige beweging blanke kultuur oor die afgrond stuur.

Die voorafgaande lei Van Niekerk tot die volgende slotsom: “Ek het begrip daarvoor dat mense uit Afrika nie met Westerse wetenskaplike denkwyses en insigte verklaar wil word nie, dat hulle gehoor wil word soos wat hulle hulleself verstaan. As Westerse wetenskaplikes slegs hoor wat in hulle eie denkwyses inpas en mense in Afrika die Westerse waardes – politieke bevryding, demokrasie, menseregte – slegs as wapens gebruik om mag te kry, solank die Westerse en Afrika-identiteite elkeen binne hulle eie raamwerke bly, sit ons met ‘n voortdurende magstryd en is ‘n ontmoeting, ‘n gesprek, onmoontlik. Ons moet mekaar en onsself erken soos elkeen sigself verstaan, volgens elkeen se eie verwysings en dan ‘n kreatiewe gesprek probeer ontwikkel.” Maar so ‘n gesprek sal myns insiens niks nie of bitter min oplewer as dit beteken dat die Afrikaan kompromisloos in die kokon van sy (vergrote) sirkel bly en aan sy tradisionele kultuur bly vasklou. Dan sal dit eerder van die blanke verwag word om sy kultuur te versaak, wat vir hom nie sinvol sal wees nie.

Hoe problematies die oorsteek van die Weste/Afrika-verskuiwingslyn is, blyk uit die volgende; ook hoedat daar dan ten gunste van die Afrika-benadering toegegee word, wat reeds kenmerkend van die nuwe Suid-Afrika is: “Vroeër vanjaar trek ‘n student van Ikeys heelwat aandag met haar uitspraak dat Westerse wetenskap in sy geheel (‘the whole thing’) afgeskryf moet word omdat dit, onder andere, nie kan verklaar hoe mense dit regkry om weerlig te stuur om iemand te tref nie. Toe iemand sê dat mense wat beweer dat hulle dit doen, lieg, het die voorsitter hom gebied om om verskoning te vra of die vertrek te verlaat. Sy beweer: ‘Western knowledge is totalising’ en gee daarom aan kritiese gesprek geen plek nie. Dit is ‘n voorbeeld van waar die twee wêrelde nie tot ‘n gesprek kom nie.” Waarop dit neerkom, is “dat daar in Afrika ‘n tradisie leef wat die wêreld anders verstaan en ervaar as sekulêre Westerlinge” en ook dat daar by (sommige) Afrikane “geen onderskeid gemaak word tussen wat ‘n Westerling as mitiese bygelowe en as wetenskaplike kennis beskou nie.”

In laaste instansie, soos hier bo geïmpliseer, is dit nie net (1) rasionaliteit, (2) wetenskaplik-gefundeerde kennis, (3) hoedanig die universiteit in sy kern moet wees en (4) die vastigheid wat Westerse kultuur bied, wat in die poging tot dialoog met die Afrikaan ondergrawe word nie, maar ook (6) doodgewone, objektiewe waarheid – soos bv Helen Zille onlangs agtergekom het. Van Niekerk noem in sy 1992-boek: “Negatiewe en onaanvaarbare dinge mag nie direk [deur die blanke aan die swarte] gesê word nie” (35). Daarmee verskans swartes hulle in groot mate teen kritiek en ook teen verandering, wat verbetering kan insluit. Nou behoort die ernstige implikasies van die volgende stelling van Van Niekerk duidelik te wees: “Om iets te verstaan en ernstig op te neem, beteken nie om te dink dis ‘waar’ nie, maar wel om te besef dat daardie lewenservaring vir die mense wat dit ervaar ‘n saak van erns is en dat daar ‘n manier gesoek moet word om sinvol daarmee in verhouding te tree.” Subjektiewe waarheid (bv Beethoven was swart) word hiermee langs objektiewe(r) waarheid (bv Beethoven was wit) staangemaak (Praag 10 Desember).

Die beproefde Westerse manier van (wetenskaplike) kennisversameling is onderrig/opvoeding op skool en universiteit. Dít is wat die geestelike lig in mense laat opgaan. “Plotselinge insig, duidelikheid: Daar het ‘n lig vir my opgegaan” (HAT). Maar daarteen kan Van Niekerk opwerp: “Ons onvermoë om buite ons eie denkraamwerk te kan dink en die Ander te ontmoet” en “Moderne instellings is nie ontwerp vir die Afrika-konteks nie en word nie sommer net so oorgeplant in Afrika nie. Dit geld ook skole en universiteite. ‘n Mens moet verset verwag as daar bloot van Afrika-mense verwag word om die moderne instellings en denke net so oor te neem.”

Die kern van hierdie nuwe probleem (wat universiteite betref) is dat mense soos FW de Klerk, Roelf Meyer en Leon Wessels in 1990/94 nie die skikking wat nodig was, beding het nie. Wat nodig was en steeds is, is selfbeskikking vir wittes en swartes, sodat elkeen optimaal sy kultuur kan uitleef. In plaas daarvan was daar algehele oorgawe aan swart mag. Uit die voorafgaande uiteensetting blyk dit myns insiens onteenseglik dat die kultuurkloof tussen wit en swart onoorbrugbaar is. Wat wel plaaslik sinvol is, is aparte Westerse en Afrika-universiteite; dus dat daar ten minste aanvaar moet word dat sommige van ons universiteite Westers- en ander Afrika-georiënteerd mag wees en dat albei soorte toegelaat moet word om ongesteurd as sodanig voort te gaan. ‘n Mens kan ‘n brug oor ‘n rivier suksesvol voltooi slegs as daar ‘n wal aan die ander kant is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Pragtige artikel! Feitelik en prakties korrek. Polities (idealisties bedoel) – natuurlik aanvegbaar. Uit eie ondervinding sedert 1981 beginnende in Mosambiek, strekkende oor lande soos Botswana, Angola, die ou SWA, Zimbabwe, Zambie, Tanzanie, Malawi, Burundi, Rwanda, die DRK, Ivoorkus, Ekwatoriaal Guinea, Madagaskar, ander eilande en die ou sowel as die Nuwe SA, kan ek ook nie anders as om die behoud van eie kultuur met ooreengekome samewerkings te bemoedig nie. Kulture wat mekaar gedurig verinneweer, misken, misgun, plunder en vernietig of assimileer kom nie behoudend en wedersyds konstruktief uit die nuttelose stryd nie. https://uploads.disquscdn.com/images/53cd15d781b988915d9997c1ae89623a42e5dd4708df6a02efe2811292ae23d7.jpg

    • Antonie Geyser

      lees ‘FAITH AND PROTEST (1987)’ , die ou verwoerdiaanse denkwyse

      • Dankie Antonie. Dis die “Faith in Action” gedeelte wat my tans die meeste kwel. Kan Afrikaner vergaderings, faksies, organisasies, kerke, (rand-eier) groepies, berade, glans fotos van pronkende leiers, rooi balonne, with kruise, die reuse Vierkleur, Majuba, Paardekraal, Geloftedag, hofsake, toesprake, kerkraadsvergaderings, Losie-samekomste, Rapportryer monumente, liberale en regse media, sosiale potgooi, potjiekos, rugby, Afrikaans op Universiteit, nasionale toyi-toyi, verarmdes, Afrikaner “druggies”, meerderwaardiges, mielieplanters, aartappelboere, en meelopers daad by die woord gesit kry om ‘n volhoubare bestel te midde van Afrika se verval en internasionale agendas te bemeester?

        • Antonie Geyser

          Ek hoop hulle kan (dalk moet ons almal bid) anders ‘pak jou goed en trek ferreira’

  • sussie se vissie

    Vernietingswellus vs skeppingsdrang maak dit n saak van onmoontlikheid.
    Die nuuskanaal eNCA se nuwe reklame-inset gaan in sy poging om lesers tot ‘ontdekking’ te prikkel…totaal verlore.
    Inteendeel.
    Dit onderstreep eerder die vernietingswellus van n 2-jarige ( ja, die drang om te verwoes begin vroeg…blyk dit ) wat sy ‘rattle’ stukkend muhr, net om daarna die nou geluidlose instrument grootogig te betrag.
    Anders is by ontbreking van drie-dimensionele denke en die gevoel vir die estetiese….oa redes waarom my brue NOOIT sal kruis nie. Ek dank die gode hiervoor.

  • Antonie Geyser

    goeie artikel, maar dit verduidelik nie hoekom duisende swart vroue hulle amper wil voordoen as wereldwyse westerse blanke vroue deur haar verlengingstukke te dra, hulle blykbaar die blanke leefwyse wil leef nie, hul mans n voorliefde het vir dasse en die duurste johnny walker whiskey en dat swartmense by die staats medisyne plek die duurste ‘smart phone’ gebruik nie. Hoekom trek hulle in hul duisende na voorheen blanke gebiede, dit kan wees dat hulle bang is vir moord en doodslag, maar die plek waarheen hulle trek se mense se veiligheid en leefwyse word benadeel. Die ou konings in afrika het n soort ‘kommunistise’ stelsel gehandhaaf, niks het werklik verander nie, geen teenstand word geduld nie, teenstanders van die koning en die kring van heersers, word uitgewis of weggejaag-hulle het gebly in n ronde huis, maar ‘wou’ nie die wiel uit vind nie, mense wat suksesvol is (volgens hul kultuur) moet uitgedruk en verwerp word, in baie stede word swart mense geleertheid aangebied, maar sy boetie gaan ook saam na die stad toe, niemand gaan hom kos of klere gee nie, hy gaan steel en dood maak vir wat hy nodig het-mag beteken vir hulle ‘aansien’

  • Rooikop

    Verskille in kultuur? Verseker. Is hierdie oorbrugbaar? NOOIT NOOIT OOIT. Dit is juis omdat olie en water geforseer word om te meng dat ons met die onbruikbare gemors sit waarin ons sit.

  • Ou Transvaal

    Leon ; my nederige saluut aan ‘n dapper man!!!
    Na 350+ jaar het niks werklik in Afrika verander nie , ondanks die beste pogings van ons mense nie maar leer sal hulle nie want elkeen dink hy het die wonder oplossing vir ‘n onveranderbare probleem .
    Terug draai na ons eie …..daar le die Rus en Vrede!!!

  • Vicky

    Is die kulturele verskille tussen wit en swart mense oorbrugbaar? Nee.
    Is die kulturele verskille tussen wit en semiete mense oorbrugbaar? Nee. (Daardie behoort jou volgende artikel te wees)

  • Anton Schutte

    Ek stem nie saam met Vicky nie; ek glo dat die verskille tussen die swart man en die wit man te groot is om te oorbrug. Die essentieele verskil is nie sodanig kultuur nie, maar IK. Die gemidelde swart bewoner van Afrika het nie die vermoe om verder te dink as die volgende bord pap nie; oog lopend in hul lands bestuur.

    • G

      Jy verstaan nie die verskil tussen ON-oorbrugbaar en oorbrugbaar nie. Stadig met die IK verskille hoor!

      • Anton Schutte

        n dekade van net Engels praat, skryf en lees…dit het gevolge…, maar ek hoop jy en sussie het verstaan wat ek probeer se..

        • Jan Botha

          Hi @antonschutte skies om so bietjie af te dwaal van die onderwerp. Die boodskap is eintlik gemik op iets wat jy op n ander gesprek gese het. Jy het gese jy kan mens help met nommers etc as ons in NZ will gaan werk. Ekt jou gesearch op fb maar daar is baie hits vir Anton Schutte. Ek is n mynbou ing en sal graag my fam wil skyf na NZ. My email address is janbotha5636@gmail.com as jy enigsins kan help asb.

    • sussie se vissie

      Anton…jy seker oor die plasing?
      Jy eggo presies dit wat Vicky sê.
      PS.
      So bietjie water bygooi ou grootman?

  • Pingback: Leon Lemmer oor die Afrikaanse wysbegeerte – praag.co.za()