Leon Lemmer: Kruipsug by die hoëpriesters van Afrikaans

CJ Langenhoven (1873-1932) het ‘n deurslaggewende rol in die 1925-erkenning van Afrikaans as amptelike taal gespeel. Deesdae sou hy as ‘n taalbul bekend gestaan het. Oor Afrikaans het Langenhoven geskryf: “Hij is die enigste witmanstaal wat nie onmiddellik oor die see kom nie” (JC Kannemeyer, Langenhoven: ‘n Lewe, Kaapstad: Tafelberg, 1995, p 269). Let op die “hij” – nie “sij” nie. Afrikaans is “ons kostelikste roem, ons hoogste besitting: die één enigste witmanstaal wat in Suid-Afrika gemaak is en nie oor die seewater klaar gekom het nie, wat die spore van lief en leed dra van alles wat ons vadere hier deurleef en deurworstel en deurtriomfeer het; die één band wat ons as nasie aanmekaar heg; die uitgedrukte siel van ons volk” (331-332). Vir vollediger inligting kyk: “CJ Langenhoven oor Afrikaans: ‘My pêrel van grote waarde'” (Praag 16.05.2015).

Deesdae word Langenhoven verguis omdat hy Afrikaans ‘n witmanstaal (of witmenstaal) genoem het. Dit is egter ‘n feit dat Afrikaans die taal van blanke Afrikaanssprekendes is en nie soos bv Engels klaargemaak oor die see gekom het nie. Langenhoven het nie gesê Afrikaans is uitsluitlik die taal van wit mense nie, al is dit die waarheid dat hoofsaaklik blankes aan Afrikaans beslag gegee het. ‘n Hedendaagse neiging is dat sodra blankes en veral Afrikaners op prestasies of eiendomsreg aanspraak maak, ‘n koor van protes opklink, bv dat die toekoms van Afrikaans om kwantitatiewe redes by bruin sprekers berus. Daar is selfs taalkundiges wat die ontstaan van Afrikaans aan Khoi-beïnvloeding toeskryf eerder as aan die natuurlike vervorming wat Nederlands waarskynlik mettertyd plaaslik grootliks vry van beïnvloeding deur inheemse tale sou ondergaan het. In die huidige politieke klimaat moet daar blykbaar goeie (en net goeie) invloed aan die inheemses en die slawe toegeskryf en hulle benadeling deur blankes beklemtoon word.

Dit is bekend dat Langenhoven rede gehad het om nie baie beïndruk met sy enigste kind, Engela (1901-1975), te wees nie. Anders as Langenhoven was Engela “‘n vrou sonder ‘n missie” (217-218). Engela en haar gesin wou nie in die skaduwee van hulle Langenhoven-verbintenis loop en deel van bv Sarah Goldblatt (1889-1975) se “Langenhoven-industrie” wees nie (43). Willemien Brümmer (gebore in 1974) is Engela se enigste kleindogter (672). Brümmer is ‘n joernalis wat bekend is vir haar politieke byderwetsheid, wat dikwels in smartvraatberigte uiting vind. Dit is dalk die onvanpaste nagloed van Langenhoven wat aanleiding tot haar bespreking van die jongste uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (Kaapstad: Pharos, 2017, xxxiv, 757p, R450) gegee het (Die Burger, 5 Augustus, p 11). In hierdie proses bevorder sy agterkleinkind kwalik ‘n positiewe beeld van Langenhoven se nalatenskap.

Brümmer begin haar bespreking op ‘n feministiese noot: “Vir die eerste keer in ‘n 100 jaar het Afrikaans haar borstrok uitgetrek en word sy nou amptelik in al haar kleurryke en verleidelike variëteite opgeneem in die bybel van Standaardafrikaans, die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS).” Dit is myns insiens ongewens om ‘n artikel oor Afrikaans met verwysing na vroue-onderklere te begin, des te meer omdat Afrikaans nie vroulik is nie. Met die woord “borstrok” gee Brümmer valslik te kenne dat Afrikaans ‘n eeu lank ingeperk is; dat die “kleurryke en verleidelike” variëteite van Afrikaans nou vir die eerste keer in Standaardafrikaans toegelaat word. Onderliggend is daar die gewilde maar valse insinuasie dat Standaardafrikaans, soos Afrikaners, (minstens) ‘n eeu lank benepe was. Volgens die HAT beteken “benepe”: benoud, beklemd, bekrompe, kleinsielig. Vergelyk bv Brümmer se ongunstige uitbeelding van Afrikaners in haar drama, Braai (2014).

Die waarheid is dat Standaardafrikaans, soos enige ander standaardtaal, nog altyd uit sy variëteite saamgestel is. ‘n Standaardtaal kom nie van nêrens nie. Wat uit die jongste AWS blyk, is dat die lede van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns polities byderwets in groter mate as voorheen woorde uit bv Namibiese Afrikaans en Oranjerivierafrikaans in Standaardafrikaans opgeneem het. Ooreenkomstig haar linkse politieke ingesteldheid noem Brümmer hierdie variëteite “susters” van Standaardafrikaans. Eintlik is hulle maar net voedingsbronne. Daar is nog ‘n “suster,” by uitstek ‘n bruin suster, want Brümmer voeg by: “en natuurlik Kaaps.”

Soos talle van die huidige hoëpriesters van Afrikaans stel Brümmer Kaaps sonder meer gunstig voor. Dit is glo een van Afrikaans se “kleurryke en verleidelike variëteite.” Kaaps kan Afrikaanssprekers egter tot die onnodige en oorvloedige gebruik van bv Engelse woorde verlei. Taalsuiwerheid is blykbaar deel van die borstrok waarvan maar ontslae geraak kan word. Waarom het die Afrikaans-indoenas nie die elementêre moed om te sê dat die Engelsbesoedeling van Kaaps verwerplik is nie? Omdat die voortbestaan van Afrikaans van bruin mense afhanklik is? Dan soveel te meer moet Afrikaans so duidelik moontlik van Engels onderskei word.

“Die AWS was baie jare lank die domein van wit mans.” Brümmer noem dit ‘n “slang in die gras,” sonder om te erken dat daardie mans uitstekende werk gedoen het. ‘n Ander slang is glo die term “Standaardafrikaans.” Die polities byderwetse voorsitter van die Taalkommissie, Gerhard van Huyssteen, verkies die term “Algemene Afrikaans,” ‘n frase wat in vaagheid uitmunt, maar dit voldoen aan sy politiek-gemotiveerde vereiste van inklusiwiteit. Sowel algemeenheid as inklusiwiteit druis egter in teen die tradisionele en noodsaaklike normerende rol van die AWS. Maar ons lewe in ‘n tyd waarin norme misken word en wanorde toeneem. Die benaming “Standaardafrikaans” sê presies wat bedoel word. Die beswaar daarteen is polities gemotiveerd. Norme bevorder ordelikheid maar doen glo inbreuk op vryheid. Norme, eintlik enige vorm van gesag, mag deesdae nie meer deur blankes uitgeoefen word nie. Maar dwarsoor die wêreld stel blankes navolgingswaardige voorbeelde op talle terreine en in baie opsigte.

Dit was feitelik korrek toe voorheen van Algemeen-beskaafde Afrikaans gepraat is, juis omdat die spreektaal van die opperklas wêreldwyd grootliks die standaardtaal bepaal. Maar in die nuwe Suid-Afrika is dit deesdae taboe omdat blankes en veral Afrikaners polities byderwets nie as maatstaf aanvaarbaar is nie. Deesdae word teen die feite in gepoog om almal feitlik in alle opsigte gelyk en eenders te verklaar. Hiërargieë is uit. Voorheen het Christo van Rensburg tereg geskryf: “Standaardafrikaans [is] eintlik ‘n dialek wat bokant Afrikaans se dialekte [of variëteite] staan” (So kry ons Afrikaans, Pretoria: Lapa Uitgewers, 2012, p 117) en “‘n bodialektiese standaardtaal … dwing … dialekte altyd meer en meer na die standaardtaal” (125). Maar dit sal nie gebeur as bv Kaaps pleks van Standaardafrikaans deurlopend en ongekwalifiseerd verheerlik word nie.

Deesdae munt Van Rensburg uit in die toepassing van politieke oorverligtheid op Afrikaans. Volgens hom het Afrikaans al voor 1652 aan die Kaap ontstaan, danksy die omgang van die vindingryke Khoi-Khoin met Seemansnederlands. En Ernst Kotzé beweer dat Kaaps die bakermatvorm van Afrikaans is (Praag 11 Februarie). Sommige Afrikaanstaalkundiges dring aan op die herstandaardisering van Afrikaans. Daar word beweer dat die soort Afrikaans wat nie-wittes praat tradisioneel dermate uit Standaardafrikaans geweer is dat (ingrypende) herstandaardisering moet plaasvind.

Ons het in 1990/94 ‘n roem- en mandaatlose politieke revolusie beleef. Nou moet blykbaar op ‘n soortgelyke ingrypende manier met Standaardafrikaans gehandel word. Voorheen het blankes besluit oor wat eerbare of ordentlike Afrikaans is. Nou is dit die beurt van die nie-wittes om die kitaar te slaan. Die blanke De Klerk-kornuite kruip agterna, buig agteroor om eerder linkse politiek as die heil van Afrikaans ter wille te wees. Brümmer haal aan wat Van Rensburg oor die doel van hierdie herstandaardisering van Afrikaans te sê het: “sodat sy dialekte – die manier van praat in die Kaap, die manier van praat van die Griekwas, die manier van praat in die Karoo – ook in beginsel weerspieël word en nie vanweë politieke oorwegings uitgehou word nie.” Die teenoorgestelde is nou waar: Politieke oorwegings pleks van taaloorwegings gee deesdae (deurslaggewend) aanleiding tot insluiting in Standaardafrikaans; én uitsluiting – dink aan die talle “rassistiese” Afrikaanse woorde wat deurlopend geïdentifiseer en in die ban gedoen word. Dit verarm die seggingskrag van Afrikaans.

By die allernoodsaaklikste voorbehoud oor Kaaps kom die Afrikaans-indoenas nie uit nie. Woorde en uitdrukkings in Kaaps kan waar nodig of wenslik in Standaardafrikaans opgeneem word, maar myns insiens slegs as hulle met die taaleie versoenbaar is; dus (verkieslik net) in soverre hulle nie Engels is nie. Wat hard en duidelik gesê moet word – en ek wag reeds lank en skynbaar tevergeefs dat een of verkieslik meer van die Afrikaanshoëpriesters dit doen – is dat Kaaps in soverre dit Engels is suiwer taalkundig (dus nie-polities) vir Afrikaansgetroues verwerplik is; dat die gebruik en voortbestaan van Kaaps in sy huidige Engelsbesoedelde toestand nie bevorderlik vir die toekoms van Afrikaans is nie. Polities byderwets klink geen sodanige beswaar teen Kaaps op nie.

Die gevolg is dat instansies soos die Afrikaanse Taalraad (ATR), die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) voortgaan om by uitstek Kaaps te bevorder en nie Standaardafrikaans nie. Wat Afrikaans betref word die kwessie van taalsuiwerheid soos gif vermy. Daarmee dra die ATR, ATKV en ATM met oorgawe by tot die sabotering van die toekoms van Afrikaans as ‘n taal wat duidelik van Engels onderskeibaar is. Die gesindheid by hierdie drie instansies is sodanig dat die lojaalste ondersteuners van Afrikaans, te wete die regse of nie-verloopte Afrikaners, vervreem word.

‘n Vollediger weergawe van Brümmer se teks is op Netwerk24 (4 Augustus) gepubliseer. Daaruit blyk dat van haar politiek-geïnspireerde gif uit die berig in Die Burger gelaat is, bv “‘n eeu waarin veral die donkerder dialekte van Afrikaans vir ‘n lang tyd in ballingskap was.” “Ballingskap” is ‘n toespeling op bv ANC-kamerade wat tydens apartheid in die buiteland vertoef het. “‘n Groot keerpunt in die geskiedenis van die AWS het in 1991 gekom met die onkeerbare vernuwing wat in Suid-Afrika en wêreldwyd voortgestu het.” Dus, die oneerlike omverwerping van die blanke bewind in Suid-Afrika is blykbaar ongekwalifiseerd goed, maar daar word by implikasie darem erken dat die AWS deur politiek op sleeptou geneem is. Langenhoven was ongekwalifiseerd ten gunste van die blanke bewind en ‘n groot ondersteuner van Barry Hertzog. Brümmer, daarenteen, wek die indruk dat sy (ongekwalifiseerd) ten gunste van swart oorheersing en die (slaafse) navolging van internasionale neigings is.

Die feministiese Brümmer skryf: “Die achilleshiel van die AWS was dat dit baie jare lank die domein van die spreekwoordelike grysskoen-wit mans was.” Ingesluit by hierdie mans, wat skynbaar deur Brümmer geminag word, is haar oupagrootjie, JC Langenhoven. “Die ander slang in die klitsgras was natuurlik die woordjie ‘Standaardafrikaans’ wat vir baie in ons wye en droewe land ‘n vloekwoord geword het.” Dit is uitsluitlik in nie-Afrikanergeledere, waarby Brümmer haar klaarblyklik skaar, dat Standaardafrikaans ‘n vloekwoord kan wees. “Vloekwoord” is myns insiens in elk geval ‘n hoogs oordrewe etikettering. Brümmer verwys ook (smalend) na die “taalbulle” en “heilige koeie wat bly bulk.” Die voortreflike voorbeeld wat Langenhoven as een van die eerste Afrikaanse taalbulle gestel het, dien myns insiens steeds as inspirasie vir diegene wat die moed het om hulle vir die heil van Afrikaans te beywer en wat ‘n gesonde afkeer het van diegene wat weens vlakheid en opportunistiese linksheid die teenoorgestelde doen.

Die leuse, “Eendrag maak mag,” het ontstaan toe Nederlandse gebiede eeue gelede staatkundig saamgevoeg is. Hierdie frase is voor in die Statebybel gepubliseer en het op hierdie manier algemene inslag in Suid-Afrika gevind. Anders as in die geval van Engels word die variëteite van Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika voortdurend beklemtoon pleks van uit te gaan van die standpunt dat eendrag ook wat Afrikaans betref bemagtigend kan wees. Vir diegene wat erns met die voortbestaan van Afrikaans maak, behoort Standaardafrikaans die enigste vorm van Afrikaans te wees wat aktief bevorder word. In sodanige saamstaan sal daar optimale krag wees. Die Afrikaans-indoenas besing egter nie net die voortreflikheid van Afrikaansvariëteite – Brümmer se “kleurryke en verleidelike variëteite” – nie; hulle verswak selfs die fokus op Afrikaans in sy geheel deur eerder die wenslikheid van meertaligheid te bepleit pleks van die ononderhandelbare noodsaaklikheid van Afrikaans.

Wat hierdie mense gerus moet besef, is dat meertaligheid Afrikaans kan uitsluit. Een van die besonge helde in (oor)verligte Afrikaansgeledere is die oud-Robbeneiland-prisonier, Neville Alexander (1936-2012), wat in sy persoonlike hoedanigheid Afrikaansdislojaal was. Hy het geskryf: “I have no doubt that the generations born in the 2020s and after will be completely trilingual, in that all children, besides being fluent in their home language, will – if this language is not English – also learn English and another important South African language, usually from the Nguni or the Sotho cluster” (Thoughts on the new South Africa, Auckland Park: Jacana, 2013, p 163). Afrikaans word nie eens genoem nie. Dit toon meertaligheid hoef nie Afrikaans in te sluit nie. Waarom volhard die hoëpriesters van Afrikaans dan met hulle pleidooie vir meertaligheid terwyl hulle hulle tyd en arbeid liewer aan die bevordering van Afrikaans behoort toe te wy?

‘n Ander bedenklike neiging by die Afrikaanshoës is om Afrikaans by voorkeur as ‘n Afrikataal voor te stel. Die Europese, bv Nederlandse, wortels van Afrikaans word dikwels verswyg en die Khoi- en slawe-invloed op Afrikaans word om opportunistiese politieke redes (oor)beklemtoon. Wat het dit vir diesulkes in die sak gebring? Onlangs het die ANC-regering dit onomwonde gestel dat hy “voorheen gemarginaliseerde amptelike Afrikatale” wil bevorder (Netwerk24, 7 Julie). Daardie bewoording is sorgvuldig gekies om Afrikaans doelbewus uit te sluit. Die ANC sal ongetwyfeld voortgaan om Afrikaans sover moontlik te benadeel. Geen kruipery deur Afrikaanshoëpriesters sal ‘n duit verskil hieraan maak nie. Waarom dan nie eerder wegbreek van politieke byderwetsheid en Afrikaans suiwer as voortreflike taal (dus nie-polities) bevorder nie?

Ek kyk nie televisie nie en op RSG luister ek feitlik net die nuusbulletins. Jare lank het ek die gehalte van Afrikaans op RSG probeer verbeter deur teksboodskappe oor taalfoute aan RSG te stuur, bv stappe neem pleks van doen, op komitees dien pleks van in, en die laakbare neiging om voorletters Engels pleks van Afrikaans uit te spreek. In Engels sal Van der Merwe se voorletters sekerlik nie Afrikaans uitgespreek word nie. Die neiging om voorletters Engels uit te spreek in Afrikaanse nuusbulletins dui op ‘n gebrekkige aanvoeling vir Afrikaans by sommige omroepers. My kommentaar is feitlik deurgaans deur RSG geïgnoreer, gevolglik het ek onlangs besluit om nie verder lugtyd en dus geld hierop te mors nie.

RSG se gesindheid jeens Afrikaans blyk duidelik uit die titel van die Sondagprogram, “Die tale wat ons praat.” Meertaligheid word geïmpliseer. RSG se voorliefde vir Afrikaansvariëteite blyk ook duidelik uit hierdie program. Die ATKV adverteer graag sy polities byderwetse benadering tot Afrikaans in ‘n advertensie wat hierdie program voorafgaan. Hierdie advertensie het al dermate geradbraakte Afrikaans ingesluit dat ek dit liewer nie wou hoor nie. Tans word gesê: “Dit maak nie saak hoe jou Afrikaans klink nie,” waarmee geradbraakte Kaaps weer eens by implikasie goedgepraat word. Dus, mors maar met Afrikaans, die ATKV hou in elk geval daarvan.

Diegene in die voorste gestoeltes van Afrikaans moet in belang van die heil van Afrikaans dringend besin oor die weg wat hulle ingeslaan het. Politiek-gemotiveerde oogmerke soos versoening en meertaligheid sal moet plek maak vir voorkeur aan Afrikaans. Wat Afrikaans betref behoort evolueerende Standaardafrikaans pleks van bv Kaaps ondersteun te word. Standaardafrikaans is die enigste vorm van Afrikaans wat doeltreffende verskansing teen verswelging deur Engels kan bied. Ek beskou Kaaps eerder as ‘n mengeltaal as ‘n Afrikaansvariant. Dit is ‘n erflating van pro-Britse en anti-Afrikanersentiment onder bruin mense. Kaaps stel aan Afrikaanssprekendes ‘n bedenklike voorbeeld van taalgebruik. Die verheerliking van Kaaps deur verskeie vooraanstaande taalkundiges dien as aanmoediging vir Afrikaanssprekers om ewe loslit, dus sonder borstrok, hulle taal met onnodige Engels te besoedel.

Die Afrikaans-indoenas sal ook dringend hulle aanvoeling vir taaleie-Afrikaans moet verbeter. In die jongste AWS word ‘n woord soos “kompleks” (p i, v) pleks van ingewikkeld en “konsep” (p x) pleks van begrip (p xix) redaksioneel gebruik. Ter wille van die behoud van Afrikaans moet hy op so ‘n manier gebruik word dat hy so duidelik moontlik van Engels onderskei word.

FW de Klerk en sy onderhandelaars het weens ‘n dwase strategie die politieke mag aan swartes oorgegee en wel op so ‘n manier dat nóg Afrikaans nóg die blankes afdoende beskerm word. Die strategie wat die hoëpriesters van Afrikaans sedertdien volg, gaan insgelyks katastrofiese gevolge vir Afrikaans hê as hulle voortgaan om vir meertaligheid pleks van Afrikaans en vir Kaaps pleks van Standaardafrikaans te veg. Hulle benadeel ook die regmatige aanspraak van Afrikaners op Afrikaansmediumonderrig deur paternalisties slegs van sodanige behoefte by bruin mense gewag te maak.

Ontwikkelde bruines het hulle in baie (selfs die meeste) gevalle as dislojaal teenoor Afrikaans bewys. In die Gelyke Kanse-hofsaak, wat handel oor die status van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch, is aangevoer dat “slegs 37% van bruin studente aansoek gedoen het om in Afrikaans onderrig te ontvang” (Netwerk24, 17 Augustus). By Afrikaanssprekende blankes is daar in groter mate Afrikaansgetrouheid as by bruines. Afrikaners se behoefte aan en reg op Afrikaans behoort beklemtoon te word. As die hoëpriesters van Afrikaans hulle nie die verwyt op die hals wil haal dat hulle soos De Klerk die oorlewingskanse van Afrikaans beduiwel het nie, sal hulle dringend hulle huidige dwase strategie moet verander.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • leonlemmer

    Willem Botha, die hoofredakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), het pas op LitNet (16 Augustus) kommentaar gelewer. Dit was na aanleiding van Afrikaansdag wat op 14 Augustus gevier is – die dag in 1875 waarop die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) gestig is. Botha se reaksie gee blyke van die geykte, polities byderwetse of kruipsug-ingesteldheid wat deesdae algemeen by die hoëpriesters van Afrikaans aangetref word. Die lede van die GRA was Afrikanernasionaliste. By polities byderwetses dien
    Afrikanernasionalisme deesdae as afdoende rede om hulle van die GRA te distansieer. Daarom verwys instansies soos die ATR, ATKV en ATM selde na die GRA, om van lof vir die GRA nie te praat nie.

    Botha maak dit duidelik dat Afrikaans nie by die GRA ontstaan het nie maar by die Khoi-Khoin. Afrikaans is volgens hom ‘n inheemse of Afrikataal. Die Europese, bv Nederlandse, wortels van Afrikaans word, soos deesdae die mode by polities oorverligtes geword het, nie genoem nie. Om politieke redes word ‘n Afrikabeeld van Afrikaans sover moontlik voorgehou.

    Botha se bedenklikste sin lui soos volg: “Vroeër is daar veral hulde gebring aan die taalstryders wat die weg gebaan het vir die erkenning en ontwikkeling van Afrikaans [dus blankes], maar vandag word die klem gelê op die belewing van Afrikaanse musiek, letterkunde en toneel.” Deesdae word die taalstryders taalbulle genoem en soos die GRA en bv Langenhoven word hulle met Afrikanernasionalisme geassosieer en hulle bedrywighede verdag gemaak, al is bv Breyten Breytenbach ‘n taalbul. Dit laat my dink aan wat ‘n digter geskryf het: ‘n Volk wat nie sy helde eer nie, gee God geen helde meer nie. Die soort alledaagse Afrikaans wat tans beleef word, is dikwels van ‘n skandalige swak gehalte, maar om politieke redes veroordeel Botha nie geradbraakte Afrikaans nie. Hy verwys glad nie na die kwaliteit van die Afrikaans wat ons tans daagliks beleef nie.

    Volgens Jaap Steyn (Ons gaan ‘n taal maak, Centurion: Kraal Uitgewers, 2014) het die WAT sy aanvanklike ideaal om alle Afrikaanse woorde te dokumenteer, laat vaar toe na aanleiding van Max du Preez se kritiek besluit is om “die WAT te kuis”
    van beweerde “rassistiese” woorde (p 469). Steyn noem dat die jaarlikse staatsubsidie van die WAT sedert 2004 drasties ingekort is, van R2,2 miljoen tot R1,5 miljoen. In 2011 was die WAT-begroting R3,5 miljoen, waarvan net R1,1 miljoen van die staat ontvang is (470). Toe die inkorting van owerheidsfinansiering destyds bekend geword het, het die WAT dit gedwee aanvaar. Daar is skynbaar geen besef van die fundamentele boosheid van die ANC nie. Daar is toe ook te
    kenne gegee dat die WAT graag akkoord gaan met die ANC-regering se nuut opgelegde verpligting dat die WAT die woordeboekmakers van swart Afrikatale moet bystaan deur bv opleiding aan hulle te verskaf. In die praktyk is hierdie WAT-diens selfs na nie-Suid-Afrikaanse swart Afrikatale uitgebrei.

    Die drastiese inkorting van die staatsubsidie en die opleidingsplig waaraan die WAT sedertdien onderhewig is, bring mee dat die WAT minder tyd en arbeid aan die dokumentering van Afrikaans kan bestee; ook omdat fondsinsameling baie tyd en arbeid verg. Die prys van ANC-gedienstigheid is buitensporig hoog en Afrikaans ly sekerlik skade. Maar daar is geen sprake dat die WAT kritiek op die ANC-regime lewer of hom verset teen die onverkwiklike situasie waarin hy hom
    weens die ANC se anti-Afrikanervenyn en anti-Afrikaansnydigheid bevind nie. Die WAT se houding is ‘n voorbeeld van wat ek kruipsug noem. Blankes, insluitende Afrikaners, het regte waarop kompromisloos aangedring behoort te word. Die ANC-regime behoort ontsag vir blankes, veral Afrikaners, te hê; nie minagting nie. Elke keer as die ANC Afrikanerbelange doelbewus aantas, moet hy tot hierdie besef gedwing word: HKGK.

  • Suidpunt

    Aber, das kann doch nicht wahr sein. A propos, die klein juffroutjie se boek (Die dag toe ek my hare losgemaak het) het ek gelees – sy sou wens om in haar voorsaat se skadu te sit. Nie alleen wat veeltaligheid (Latyn, Nederlands, Engels, bietjie Duits ens.) betref nie, maar ook wysheid. Soveel sielkundige Quatsch het ek laas gelees in daardie Jungiaanse boeke in 2012, voor “The Jung Cult” die groot [PURGE]-knoppie gedruk het. Sekere mense floreer in hul sogenannte pyn van weleer, of kinderjare, of… voorouers se pyn, of die kollektiewe bewussyn, of voorvadergeeste wat kwaad is. ‘n Ou valse Nataniëlgrappie sê jy moet juis sulke mense op ‘n troue in ‘n trek laat sit – hulle hou tog net daarvan om te moan, moan, moan. Jy doen hulle eintlik ‘n guns.

    G-d moet my bewaar teen hoogmoed, maar ek besef al hoe meer hoe ons wêrelde totaal en al verskil. Moet mens nie juis Afrikaans aanpas om makliker sinne, begrippe, idees, ens. oor te tap uit Latyn, Japannees, Duits, Italiaans, Frans, ens. nie? Dit, my liewe vriende, waardeer ek van die ou WAT. Of daar nou verduitsings, latinismes, gallisismes of wat jy ook al in daardie woordeboek vind – in vertaalwerk werk dit puik. DIT is sosiale ingenieurswese.

    Wat het KAAPS te bied?

    • sussie se vissie

      Biryani innie Boe Kaap ( en gevriet met djou vingis…gehô! )
      😉

      • Suidpunt

        Jy maak my Sondagoggend! Tyd dat jy ‘n roman begin skryf… En ten onbaatsugtige diens sonder tantième deur PRAAG laat uitgee.

  • Suidpunt

    Dankie vir die artikel, mnr. Lemmer. Ek het ‘n vragie rondom die nuwe AWS. Terloops, ek hou nie van rooi nie – boeke in swart lyk veel meer klassiek. Veral omrede rooi my te veel aan kommunisme herinner.

    Ten eerste: In 2002 se AWS op bl. 528 staan by die verafrikaansing van slêng, by name langs “bybiesitter”, tussen hakies die “korrekte” Afrikaans – (babasitter). In die ou WAT staan baie duidelik ‘babawagter’. Is hierdie woord nou al reggemaak?

    Ten tweede. Ek het op die besprekingsbladsy van die Afrikaanse Wikipedia, by Verkleinwoorde, die bloue populierdonners gevloek, omdat die AWS (2002/2009), soos gewoonlik, slegs 5 voorbeelde noem by ‘n reël en dan net voortstoomroller. Dit skep soveel uitsonderings, niemand weet wat aangaan nie. Hoe sou mens die woord teerling (dobbelsteen) byvoorbeeld verklein? Die reëls van 2009 praat van beklemtoonde laaste lettergreep en sulke plagiaatwoorde uit die Nederlandse taaladvies.net (Groene boekje) wat onmoontlik op Afrikaans afgedwing kan word en nog minder enige idioot op sy voete sal weet. Ek volg my eie kop: as daar ‘n mens by betrokke is, word dit -lingetjie, as dit ‘n voorwerp is, word dit -linkie. Het die Taalkommissie nou daardie probleem uitsorteer?

    Ten derde. Het hulle toe ‘n hele hoofstuk aan trappe van vergelyking gewy soos hulle beloof het? Want eintlik kon hulle net die Hollandse voorbeelde gevolg het. Kortom: hulle mors ons tyd. Dit is al gebied waar
    Afrikaans en Nederlands (met die uitsondering van die spelling) so te sê 100% ooreenstem. Dink maar aan abstrak, abstrakter, abstrakste. Abstrakter moet jy vir ‘n Engelse leerling verduidelik dit is afgelei van die Nederlandse woord “abstracT”.

    • leonlemmer

      Suidpunt, jou kennis van die taalkunde is meer gesofistikeerd as myne. Jy sal maar R450 vir die nuwe AWS moet uithaal. Babasitter is daar (p 262); nie babawagter nie. Teerling met sy meervouds -e is uiteraard daar (513). Daar is ‘n afdeling oor verkleiningsvorme (209-213). Jou aanvoeling is waarskynlik reg. -ling kry die verkleiningsvorm -etjie en die drie voorbeelde is van mense. By -ng in ‘n niebeklemtoonde lettergreep val die g weg en kry dit -kie as verkleiningsvorm, bv horinkie, koninkie, rekeninkie (212). Daar is ‘n afdeling oor trappe van vergelyking (203-208) met agt reels.

      • Suidpunt

        Baie dankie vir die antwoord, mnr. Lemmer. So gesofistikeerd sou ek nou nie sê nie – ek sou wat wou gee om Middelnederlands en Goties se grammatika klein te kry; daar is eenvoudig net te veel uitsonderings – ek dink net die meeste Afrikaanse taalkundiges weet nie meer wat ‘n akkusatief is nie (ek het sowaar iets soos ‘n gunstelingnaamval – die vokatief of aanroepvorm: TAXI! HOND!).

        Dankie vir die aanbod, maar daardie R450 sal ek eerder by Checkers gaan blaas op nog ‘n Googlekaart. My geld brand vir nog ‘n paar oorsese e-boeke. Polities gesproke doen die byderwetse Google véél meer vir Afrikaans as daardie Taalkommissie.

        • leonlemmer

          Suidpunt, destyds het prof HJJM van der Merwe aan Unisa verwag dat ons in Afrikaans-Nederlands III ‘n hele vraestel oor Middelnederlands moet baasraak. Aan ander universiteite was Middelnederlands ‘n honneursvraestel. Van der Merwe het talle boeke oor Middelnederlands gepubliseer wat vir jou van nut kan wees.

          • Suidpunt

            Dankie – nou weet ek vir seker Middelnederlands was voorheen ‘n derdejaarsmodule. Goties was in Jan Rabie se studentejare op Stellenbosch inderdaad ‘n meestersgraadvak – hy het met Prof. Bouman “onderhandel” om Moderne Deens pleks van Goties te neem. Dit lees ek in Kannemeyer se ‘Jan Rabie: Prosapionier en politieke padwyser’, bl. 96. Eintlik so vreemd: Rabie het nooit Deens gebruik nie (ook nooit Skandinawië besoek nie); in elk geval nie waarvan ek weet nie.

            Tot dusver het ek “Goties:Kommentaar en annotasies” (swart hardeband, gekoop by die museum op Calitzdorp), “Van den Vos Reynarde – uitgegee na die Comburgsche handskrif” (hardeband) en “Lanseloet van Denemerken” (slapband) bekom. Ek het juis in hierdie afgelope week op Hermanus “Van den Vos” uitgegrawe by die Hospies. R2,00 – wat ‘n geluk!

            Ek probeer vir my gewoonlik ‘n “paradigma” optrek (so ‘n tabelletjie met “ek is”, “jy is”, “hy/sy dit is”, “ons is”, “julle is”, “hulle is”; of naamvalle) en heelwat woorde en vorme ontbreek ongelukkig by Goties (want Wulfila se Bybel het net x aantal woorde.). By Middelnederlands het mens weer die probleem met die dialekte wat wissel by elke werk. Ek dink nie mens sal ooit die waarheid weet nie.

  • Spannend … hierdie verhaal van die ontstaan en handhaawing van die Afrikaanse taal! Ek moes die Taal weer opnuut aanleer na twintig jaar se Royal Navy tradisies en terminilogie. Is Engels, terloops, ‘n amptelike landstaal in die Nuwe SA? Ek het van ‘n onlangse spreker by ‘n strategiese vergadering verstaan dat Engels, synde dat dit die moedertaal in Engeland is, nie hier in SA gemagtig is as ‘n inheemse taal nie. Tog dan ook vir my heel vreemd dat die anti-koloniale retoriek tot vervelens-toe in die koloniale taal, naamlik Engels, soms in Engelse Alfred Dunhill snyerspakke, landswyd in en om SA gevoer word? Dan kan ons eerder almal mos “local-is-lekker” inheems (en soms verkragte) Afrikaans praat!

  • Antonie Geyser

    orals waar julle gaan praat eerste afrikaans, baie benadeeldes kan dit maklik verstaan al kan/wil hulle dit nie altyd praat nie-gaan gister drankwinkel toe, se die chinese jong dame vir my ‘dankie’, vra ek haar: Praat jy afrikaans ?; se sy ‘nee’-dit lyk vir my of die kruiperige PC ook hulle dwing om afrikaans te misken en te verag

  • leonlemmer

    In sy jongste rubriek gebruik Gerhard van Huyssteen die woord “frekwent” pleks van “dikwels” (Netwerk24, 19 Augustus), met as waarskynlike regverdiging dat eersgenoemde in die nuwe AWS as ‘n Afrikaanse woord erken word. Maar Van Huyssteen se woordkeuse dui op onsensitiwiteit vir taaleie-Afrikaans. Insgelyks gee Van Huyssteen nooit enige blyke van simpatie met kultuureie-Afrikaners nie. Willa Boezak, Allan Boesak se jonger broer, bely nou tot sy spyt dat hy, toe hy ‘n dosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland was, nie vir die behoud van Afrikaans geveg het nie (Netwerk24, 20 Augustus). Van Huyssteen het hom al ondubbelsinning uitgespreek teen die taalbulle wat ‘n stryd ten behoewe van Afrikaans voer. Wanneer kom Van Huyssteen, soos Boezak, tot inkeer deur ‘n taalbul te word en te begin veg vir die behoud van Afrikaans?

  • Rooikop

    “Maar ons lewe in ‘n tyd waarin norme misken word en wanorde toeneem. Die benaming “Standaardafrikaans” sê presies wat bedoel word. Die beswaar daarteen is polities gemotiveerd. Norme bevorder ordelikheid maar doen glo inbreuk op vryheid. Norme, eintlik enige vorm van gesag, mag deesdae nie meer deur blankes uitgeoefen word nie. Maar dwarsoor die wêreld stel blankes navolgingswaardige voorbeelde op talle terreine en in baie opsigte.”

    Hierdie woorde som die lewe na 1900 perfek op. Dit gaan oor “vryheid” – nie werklike vryheid van mense nie maar ‘n vryheid van bande. Norme en waardes word afgebreek – dit is mos nou toelaatbaar om alles en almal te streep, alles te rook en te snuif. Kyk tot hoeveel oorloë het dit gelei. Kyk hoe is die weste besig om te vergaan as gevolg daarvan. Wat hulle egter gaan kry in ruil vir die wetteloosheid is Sharia – veel veel harder as die wette wat hulle opgegee het.

    Waaroor gaan dit? Die mense maak homself vry van die wette daargestel juis om sy lewe beter te maak Die mens stel homself in ‘n goddelike posisie – hy wil sy eie baas wees – juis daarom soek hulle juis die “vryheid van spraak” – [ Al wat dit regtig beteken is dat jy alles wat Christelik, en alles wat blank is mag slegsê maar wee jou as jy die “slegte” dinge sleg sê.]