Leon Lemmer: ‘n Dubbele moord in Springs in 1977 op Robert en Jeanne Smit

Ondersoekers by die Smits se huis waarin hulle vermoor is

In die Naspers/Media24-koerante word berigte oor verdagte en werklike moordenaars in buitensporige besonderhede en (indien enigsins moontlik) daagliks saam met talle foto’s gepubliseer, mits hulle blank is. Voor en tydens die verhoor en in die ellelange nabetragting word elke sensasionele vesel uitgerafel, sonder enige teken van deernis met die betrokkenes. Op hierdie manier word ‘n verwronge werklikheidsbeeld by die lesers gewek, naamlik dat blankes in ruime mate bydra tot die status van die nuwe Suid-Afrika as die moordmekka van die wêreld.

Wanneer swartes die verdagte of werklike moordenaars en blankes die slagoffers is, verskyn daar minder en korter berigte of sulke gebeure kry geen publisiteit hoegenaamd nie. Die uitgangspunt is blykbaar dat die nuwe Suid-Afrika ten behoewe van bv versoening en nasiebou beter as wat hy is, voorgestel moet word. Sensasie word polities byderwets op ‘n selektiewe manier nagejaag. Naas die koerante vervul die weeklikse tydskrif Huisgenoot hierin met oorgawe ‘n ondersteunende rol. Dit sou bv interessant wees om te weet hoeveel blankes deur swartes op plase vermoor word en in hoeverre berigte hieroor verskyn.

Wat veral opval, is dat daar na plaasmoorde geen nabetragting gehou word nie; dat daar nie na hierdie plase gegaan word en in besonderhede berig word oor die onherstelbare rampspoed wat die naasbestaandes getref het nie. Die groot leemte wat op hierdie plase ervaar word, word in die perswese nie as ‘n leemte in beriggewing erken nie. Om oor so ‘n pynlike situasie te berig, behoort in die kraam van bv die smartvraat-joernalis Willemien Brümmer te pas. As iemand wat op haar radikale politieke oorverligtheid roem, het sy, sover ek weet, nog nooit so ‘n rampgebied besoek en daaroor ‘n berig gepubliseer nie. Wat sy onlangs wel gedoen het, is om bv die oud-MK-soldaat en -terroris, Jeremy Vearey (Praag 26.05.2018), te besoek en kritiekloos en selfs bewonderend oor hom te skryf (Netwerk24, 6 Junie 2018).

Brümmer, ‘n agterkleinkind van CJ Langenhoven, is pas toegelaat om ‘n ellelange, striemende aanval op Danie Langer, die besturende direkteur van die FAK, in Die Burger (20 deser, p 9) te loods. Dit blyk dat haar ekstreme politiek van haar pa kom, wat ‘n dosent aan die Universiteit Kaapstad was. Haar grootoupa het rede gehad om uiters teleurgesteld in sy enigste kind, sy dogter Engela, te wees. Dit blyk dat hy te meer rede sou hê om hom van Willemien se giftige anti-Afrikaner-gesindheid te distansieer. In haar jongste skrywe lê sy haar pa woorde in die mond ter verkleinering van “Die Stem”, wat glo “in elk geval nie ‘n goeie gedig [is] nie. Dis te blikkerig, te vol trompetgeskal, veels te eensydig in die klem op Afrikaners as ‘knegte van die Allerhoogste’. Die opvatting van Afrikaners as ‘n uitverkore volk, ‘teen die hele wêreld vry’, is in elk geval deur die geskiedenis geweeg en te lig bevind. Anders as jy en jou organisasie, roem ons nie op ons verlede nie. Ons sien ook nie ‘Die Stem’ as ‘n simbool van Afrikaner-identiteit nie. Dit mag jou dalk ontstel, maar daar is duisende, dalk miljoene Afrikaanssprekendes wat met pres Ramaphosa saamstem dat ‘Die Stem’ en die ou landsvlag simbole van diskriminasie, verdrukking en ellende is.” Die politiek van hierdie skepsel behoort vir iedere Afrikaner absoluut verwerplik te wees.

In die tydperk van Afrikanerbewind, van DF Malan tot PW Botha, was die Vorster-era (1966-1979) myns insiens ‘n laagtepunt. Dit was die tyd van die Inligtingskandaal met bv Louis Luyt wat as front gebruik is vir die publikasie deur die regering van die koerant The Citizen. Veral die verraad wat deur Vorster teen Ian Smith se blanke bewind in Rhodesië gepleeg is, bly myns insiens onvergeefbaar. In daardie tyd het ek meer ongemaklik oor die Afrikanerregering gevoel as op enige ander tyd, behalwe natuurlik toe die FW de Klerk-groepie die blanke bewind mandaatloos en doelbewus in sy swernoot gestuur het. In John Vorster se tyd was Hendrik van den Bergh die hoof van die geheimediens. Dit lyk asof daar toe politieke moorde, soms gekamoefleer as selfmoorde of hartaanvalle, gepleeg is.

Politieke moorde was eintlik ‘n onbekende verskynsel in blank Suid-Afrika. Die moord op Hendrik Verwoerd in 1966 was hoogs uitsonderlik. Ná Vorster is die geheimediens op ‘n heeltemal ander grondslag geplaas. Dit is bekend “dat PW Botha nie langs dieselfde vuur gesit het as John Vorster en Hendrik van den Bergh nie” (Liza Smit, bron hier onder, p 178). ‘n Heeltemal ander tradisie leef voort in veral die ANC, waar moord deel van hierdie instansie se magshonger en geweldskultuur is. Soos tydens die “bevrydingstryd”verneem ons in die nuwe Suid-Afrika feitlik weekliks van politieke moorde, veral in Natal. In beginsel is daar geen werklike verbintenis tot en onderskrywing van demokrasie deur die ANC nie. Die ANC wil ten alle koste aan die bewind bly, al is hy glad nie in staat om doeltreffend te regeer nie.

Teen hierdie agtergrond kan Liza Smit se boek, Ek is Liza Smit (Aucklandpark: Jacana, 2018, 268p, R240), beoordeel word. Daar is ook ‘n Engelse weergawe beskikbaar. Die outeur (gebore in 1964) is die jongste kind van die egpaar Robert (1933-1977) en Jeanne Smit (1934-1977), wat in 1958 getroud is. Liza het ‘n ouer broer, Robert/Robbie (gebore in 1962). Waaroor die boek wesenlik handel, word soos volg deur Hermann Giliomee verwoord: “Teen die einde van 1977 is Robert Smit [senior], ‘n Afrikaanssprekende NP-kandidaat vir die [parlementêre] verkiesing [in Springs], en sy vrou vermoor in wat gelyk het na ‘n huurmoord. Smit was voorheen ‘n regeringsamptenaar en het vergaderings van die Internasionale Monetêre Fonds [IMF] bygewoon. Daar is agterna gegis dat Smit moontlik die verbreking van valutabeheer wou onthul. Niemand is ooit van die moorde aangekla nie” (Die Afrikaners: ‘n Biografie, Kaapstad: Tafelberg, 2004, p 535). Sy vrou is vermoor omdat vermoed is dat Smit die gewraakte inligting aan haar meegedeel het. Smit verwys voortaan na Robert Smit senior. Sy seun word Robbie en sy dogter die outeur of Liza genoem.

Aan die begin verwys Liza na die “relatief veilige Suid-Afrika van die laat sewentigs” (6). By haar is daar egter min blyke van waardering vir die vorige politieke bestel. Omdat haar ouers tydens en daarby dalk in opdrag van lede van die destydse blanke regering vermoor is, is die outeur geneig om haar vertroue in die ANC-regering en selfs sy beleid te stel, bv die gelykheidsdogma: “Niemand is verhewe bo ander nie” (23). “Die vorige bedeling het met soveel dinge weggekom en selfs na hulle nie meer aan die bewind was nie, loop die spoke van hul verlede nog rond. En hierdie spoke is nog net so magtig en onaantasbaar soos destyds” (176).

Liza koester die (ydele) hoop dat die ANC-regering iets omtrent die onopgeloste moorde sal doen: “Dalk gaan iemand in die huidige regering voort met dit wat my pa ontbloot het en wat hom en my ma hul lewens gekos het” (182). Sy boekstaaf haar “algehele vertroue in die WVK [Waarheids- en Versoeningskommissie]” (245) en selfs: “She was looking to President Mandela as her last resort to unravelling the mystery of the unsolved murders” (84, 186). In werklikheid het die WVK uitgemunt nóg in die agterhaling van die waarheid nóg in die bevordering van versoening (kyk hier onder). Dit is onwaarskynlik dat Mandela enige (ernstige) aandag aan die Smit-moorde gegee het. Hy sou daardie gebeure seker wel aangegryp het as hy die blanke bewind daarmee kon diskrediteer.

Van 1971 tot 1974 was Liza se pa by die IMF in Washington werksaam. Daar was sy in ‘n veelrassige skool. Dit word vertolk as ‘n teken dat “die VSA ver voor Suid-Afrika was en dat mense daar almal gelyke regte gehad het en dat swartmense daar nie net op plase gewerk het as arbeiders nie” (24). Daarna terug in Suid-Afrika het Liza ‘n Afrikaanse skool bygewoon. “Ek kon nie die stywe, formele skoollewe kleinkry nie. Vandag besef ek dit was ‘n groot kultuurskok. Oorsee het ek met gewone klere skoolgegaan in ‘n ontspanne skoolkultuur. Hier was alles formeel en styf, tipies aan die Afrikanerkultuur van daardie tyd” (44). Anders as in die geval van Dawie de Villiers, wat sy kinders na ‘n kort oorsese verblyf plaaslik in ‘n Engelse skool geplaas het (Praag 17.03.2018), was dit vir die Smit-egpaar “ondenkbaar” dat hulle kinders in Suid-Afrika in ‘n ander taal as in Afrikaans sou skoolgaan (98). “Ons pa was … nie ‘n Broederbonder nie” (191).

Hoewel die Smit-moorde die onderliggende, saambindende faktor in die boek is, is die teks terselfdertyd die outobiografie van die skryfster. Met die skryfwerk is Liza deur Raquel Lewis bygestaan, wat noem dat die teks omsigtig verwoord moes word om bv regsgedinge te vermy. Ek het aanvanklik bedenkinge oor die boek gehad. Aan die begin staan bv: “Ek cope steeds … ek aanvaar … dat dit nooit regtig okay gaan wees nie” (8). Ook in veral die twee laaste hoofstukke neig sulke subjektiewe reaksies om te dik vir ‘n daalder te word. In die laaste hoofstukke word die indruk terselfdetyd gewek dat die meetsnoere uiteindelik in lieflike plekke geval het. ‘n Vriendin verskaf die volgende treffende beskrywing van Liza: “Sy is nou soos ‘n nuwe plantjie wat opgekom het uit ‘n afgebrande grasveld” (257).

In die geheel beskou, is dit egter ‘n geslaagde boek waarin die boodskap onderhoudend meegedeel word. Daar is onnodige Engelse woorde, asook taal- en drukfoute, maar hulle kom in ‘n beperkte mate voor. Twee elemente moes in die teks versoen word: enersyds die outeur se vertelling en andersyds haar voorlegging aan die WVK. Elkeen van die eerste 22 hoofstukke (daar is 24 altesaam) word afgesluit met ‘n fragment van haar WVK-voorlegging. Ek het aanvanklik gewonder of dit die beste opsie is, maar was teen die einde oortuig dat dit reg is om op hierdie manier die WVK-teks stuksgewys aan die lesers bekend te stel.

Aanvanklik was ek bekommerd dat die aanslag van die boek amateuragtig sou wees, soos in die geval van bv die outobiografie van Dawie de Villiers. Die vertelling het my egter spoedig meegesleur en my as leser dankbaar gelaat dat ek die boek gekoop het. Die deurslaggewende faktor is die indruk van opregtheid wat die outeur wek. Met verwysing na Raquel Lewis skryf Liza: “Ek was nog nooit so oop en eerlik met iemand nie … Ek dink die twee grootste lesse wat ek by haar geleer het, is om in waarheid te leef en vir nou te leef” (250). Dit gaan vir Liza om die blootlegging van die waarheid; enersyds oor die moorde en andersyds oor haarself en haar familie en vriende. Dit gaan vir haar glad nie om ‘n gekoesterde, gunstige beeld van haar en haar familie voor te hou soos in bv die genoemde De Villiers-outobiografie nie. Sy is onthutsend eerlik oor haarself en andere, insluitende haar oorlede ouers.

Wat my lojaliteit as leser verder verseker het, is die oorgawe waarmee die outeur jare lank skynbaar geen onkoste of moeite ontsien het nie om twee dinge te probeer vasstel: “Ek was dit aan my ouers verskuldig om uit te vind hoekom hulle vermoor is en deur wie” (164). In die loop van haar ondersoek is gepoog om haar op talle maniere te mislei, maar sy was deurgaans bedag op disinformasie. Die intelligente manier waarop sy met inligting omgaan, is prysenswaardig. Sy het talle dreigemente ontvang en is by meer as een geleentheid omkoopgeld aangebied om haar te probeer ontmoedig om met haar ondersoekende werk voort te gaan, maar sy het haar nie laat afskrik nie. “Teen daardie tyd het hulle my al geken as ‘n hardkoppige mens sonder vrees” (181). “Ek kan my egter op geen kundigheid beroem nie – dit was eerder ‘n kombinasie van jeugdige voortvarendheid, vasberadenheid, liefde vir my ouers en ‘n diep gevoel van verantwoordelikheid teenoor hulle om die onreg wat hulle aangedoen is, bloot te stel. Ek wou net antwoorde kry en ek het baie opgeoffer om dit te probeer kry” (186).

Te oordeel aan die fyn besonderhede wat oor haar onderhoude en ondersoeke verstrek word, lyk dit asof Liza buitengewoon oplettend is en ‘n goeie geheue het. Sommige van die (telefoniese) gesprekke het sy op band opgeneem (164). Die gesprekke wat woordeliks in die boek neerslag vind, het my laat dink aan James Boswell se beroemde biografie, The life of Samuel Johnson (1791), wat lank voor die era van klankopnames gepubliseer is. Maar Johnson het soms gesien hoe Boswell aantekening maak. Liza het sekerlik kort na onderhoude dieselfde gedoen. Haar broer het skynbaar glad nie Liza se entoesiasme vir hierdie projek gedeel nie. Die inligting word sistematies en duidelik meegedeel; ook in haar WVK-voorlegging. ‘n Mens kan kwalik glo dat hierdie WVK-dokument in ‘n enkele week (18 tot 23 Augustus 1997 – p 18, 181) voltooi is. Waarskynlik het daardie teks reeds voor dit in ‘n redelike mate bestaan. In haar ondersoekende werk is sy deur veral Alet van Rensburg bygestaan: “Sy is ‘n uiters betroubare persoon ongeag van die feit dat sy ‘n joernalis is” (204). Dit laat my dink aan die persoon wat gesê het hy wil nie agter X se rug praat nie maar hy dink hy is ‘n bibliotekaris.

Verskeie moontlike redes vir die Smit-moorde word aangevoer, bv die bewering dat vyf destydse ministers by valutabedrog betrokke was (37). Daar was ook sprake van “onwettige kommissies op oorsese staatslenings” (83). In Liza se WVK-voorlegging staan: “Volgens gerugte sou ons ouers se moorde glo ook verband gehou het met ‘sanctions busting’, wapens, olie en kernwapens … Ons vermoed dat ons pa in hierdie veld van sanksie-omseiling op die onwettige transaksies en kommissies afgekom het” (155). “Newsweek, ‘n Amerikaanse nuustydskrif, het in Maart 1979 beweer dat Smit afgekom het op bewyse dat miljoene rande en goud onwettig uit Suid-Afrika geneem word. Die geld het na bewering uit geheime fondse gekom wat deur die destydse Departement van Inligting gebruik is om fronte te skep wat Suid-Afrika se beeld in die buiteland moes help bou” (68).

Die WVK se bevinding het Liza se hipotese bevestig: “Ek is ingelig dat dit ‘n politieke moord was wat in opdrag van die destydse NP-regering uitgevoer is. Hulle sou alles in hul vermoë doen om die skuldiges aan die kaak te stel. Ek was vol moed en baie positief, maar het nooit weer van iemand by die WVK gehoor nie. Nie ‘n woord nie” (182). In die WVK-verslag word die Smit-moorde met dié van die anti-apartheidsaktivis Rick Turner (in 1978) en Renamo se Orlando Christina (in 1983) verbind (183). “The Commission received no amnesty applications in respect of the Smit killings … The Commission finds that Robert and Jeanne-Cora Smit were killed by members of the security forces” (184).

Evelen, die weduwee van ‘n vorige direkteur-generaal van buitelandse sake, Neil van Heerden, bevestig eintlik die WVK-bevinding: “Dit was en is uiters moeilik om te glo dat dit ons eie mense was wat verantwoordelik was” (202). “Sy het tydens die gesprek ook verwys ‘dat een persoon se ego so in sy pad kon gestaan het'” (203). Aan die einde van haar WVK-voorlegging verskaf Liza die volgende samevatting van haar standpunt: “Die mees tragiese is dat dit voorkom of hierdie menseregte-skending gepleeg is uit selfsug, geldmag en ego’s … Ons voorlegging kom basies daarop neer dat alle bewerings daarop dui dat die opdrag vir ons ouers se moorde op kabinetsvlak deur minstens een persoon geneem is.* Dit dui ook daarop dat die land se veiligheidsmagte vir hierdie taak gebruik is en dat die rede vir die moorde gesoek moet word in die verantwoordelikes se soeke na mag en geld, wat moontlik met staatsgeheime – waarskynlik sanksie-omseiling, olie, kernvermoë en wapens – verband gehou het” (244-245). [* Blykbaar bedoelende dat een of meer kabinetslede betrokke was, eerder as dat dit ‘n kabinetsbesluit was.]

Daar is ander (dalk verwante) faktore wat tot die Smit-moorde kon gelei het. In Frankryk het Smit as ‘n arbiter in ‘n saak tussen Alusaf en Aluswiss opgetree en teen die Suid-Afrikaanse maatskappy uitspraak gelewer, wat tot doodsdreigemente teen hom gelei het (55). Daar was ook die Salem-skeepskandaal. “Die skip het na bewering sy olie op die oop see aan Shell verkoop en dit in Durban-hawe gelewer. In 1980 [dus ná Smit se dood] is die skip vol water gepomp en aan die weskus van Afrika laat sink … Die versekering het R19,6 miljoen vir die skip en R46 miljoen vir die vrag uitbetaal. Suid-Afrika se regering is betrek by die skandaal omdat die regering frontmaatskappye gehad het wat gebaat het by die versekeringseis. Beeld het berig dat my pa moontlik op die beplanning van die Salem-bedrogspul afgekom het en gedreig het om dit openbaar te maak” (165-166). Voor hy die politiek betree het, was Smit die besturende direkteur van so ‘n frontmaatskappy, Santam Internasionaal (73).

Oor wie verantwoordelik vir die Smit-moorde was, word verskeie moontlikhede genoem, bv dat Hendrik van den Bergh vir kolonel Dries Verwey van die polisie opdrag gegee het om die Smit-egpaar te vermoor (38). ‘n Ander bron beweer dat daardie besluit deur die hoof van die polisie, Mike Geldenhuys, aan Verwey opgedra is; dat Van den Bergh nie by die moorde betrokke was nie “maar wel by die toesmeer later” (224). Dit is moontlik dat ‘n buitelander gehuur is om die moorde te pleeg (77), bv ‘n “ex-Rhodesiër” (237) of iemand uit die Kongo (234). Albei oorledenes het skiet- en steekwonde gehad. Veral die steekwonde is nie ‘n kenmerkende manier waarop blankes of Afrikaners moord pleeg nie.

In Liza se lewensverhaal is daar talle elemente wat aan tipiese sepiemateriaal herinner. Sy het as skoolkind begin rook. In 1982 het sy as agtienjarige die eerste keer getrou. Twee kinders is uit hierdie huwelik gebore, ‘n dogter en ‘n seun. Na 18 jaar het Liza geskei. Haar broer Robbie het ook geskei. Eers in hoofstuk 13 word genoem dat Robbie en Liza die aangenome kinders van die Smit-egpaar is (136). In 1996 het Liza haar biologiese ma en halfsuster ontmoet, maar haar halfbroer, James, is twee jaar tevore in ‘n motorongeluk dood. Liza was in 1964 as baba vir aanneming beskikbaar omdat haar ma toe ongetroud was en die geboorte ‘n verleentheid vir die familie was. Haar biologiese ma het twee keer getrou. Liza het nooit haar biologiese ma as haar eintlike ma aanvaar nie omdat sy baie geheg aan haar aangenome ma, Jeanne, was; baie meer as aan haar aangenome pa, Robert. “Ek het ‘n ma gehad en was nie op soek na iemand om haar mee te vervang nie” (242). Liza se biologiese pa is op ‘n jong ouderdom oorlede.

Liza het in 2001 die vyfde vrou geword van haar tweede man, wat hom aan gesinsgeweld skuldig gemaak het. Dit herinner aan Karina Szczurek se boek, The fifth Mrs Brink: a Memoir (2017); nie dat daar hier ook sprake van geweld was nie, maar bloot dat die skrywer André P Brink ook vyf keer getrou het. Liza het in 2014 van haar tweede man geskei. Dit is nadat sy in 2013 weens depressie en selfmoordgedagtes in ‘n psigiatriese hospitaal behandeling ontvang het. Liza se seun se bene is verlam sedert ‘n motorfietsongeluk. Hy is aan ‘n rolstoel gekluister. “Ek het vir hom daardie motorfiets gegee” (232). “Ons leer daagliks dat Gerrie se rolstoel eintlik die begin van ‘n nuwe lewe was eerder as die einde daarvan” (253).

Naby die einde van haar boek kom Liza met die onthulling dat haar pa, Robert Smit, by meer as een buite-egtelike verhouding betrokke was, wat groot smart vir haar ma, Jeanne, veroorsaak het omdat sy daarvan bewus was. “Hy het selfs ‘n verhouding gehad met een van my ma se beste vriendinne. Dit het uiteraard die voetstuk waarop ek my pa gesit het, laat kraak. My hele beeld van hom as pa, gesigsman, politikus en wêreldklas-ekonoom was aan flarde geruk en ek het gesukkel om te aanvaar dat hy ‘n mens met foute was … My ma was vir my die verpersoonliking van liefde en hier moet ek hoor my pa het haar verraai. Sy het nooit geskroom om hom by te staan in alles wat hy aangepak het nie en moes uiteindelik met haar lewe boet vir haar lojaliteit aan hom” (258). Ook: “My ma het al die jare die ‘skuld’ vir hul kinderloosheid op haar geneem, maar in werklikheid het die probleem by my pa gelê” (136).

Liza se vertelling toon in watter ingrypende mate die moord op haar ouers haar lewensloop beïnvloed het. “Op 22 November 1977 is ons lewens wreed ontspoor” (244). “My lewe is in ‘n lewende hel verander deur moordenaars” (109).

Toe Robert Smit die NP-kandidaat in die verkiesing geword het, het hy by verskeie geleenthede “openlik gesê dat hy iets baie belangriks bekend gaan maak sodra hy verkies is” (54). “Dit sou Watergate na ‘n Sondagskool-piekniek laat lyk” (63) en dat sy onthullings “die land sou skud tot heel bo” (68). Die skuldiges (dalk die staatshoof en/of ministers) sou aan die kaak gestel word. Vorentoe was daar twee moontlikhede. Die een uitweg was om Smit se stilte te koop deur toe te gee aan sy eise. Dit sou egter tot gevolg hê dat Smit sommige van die hoogste politici deurlopend kon afpers. Daar is bv beweer: “Smit het hierdie inligting as wapen gebruik en geëis dat hy lid van die parlement word en later aangestel moet word as minister van finansies” (69). Die ander uitweg was om hom en sy vrou te vermoor.

By die Smit-egpaar se begrafnis het John Vorster sy hand op Liza se skouer gelê. “Hy het moeg en afgerem en hartseer gelyk” (91). By dieselfde geleentheid het Pik Botha na bewering vir Liza gesê: “Hy wens hy kon meer vir ons doen, maar dat sy hande afgekap was” (92), maar Botha het dit daarna ontken (93). Hermann Giliomee noem dat Vorster ‘n “swak administrateur was … Daar was geen kabinetsekretariaat nie en die mees junior minister het in ‘n oefeningboek rekord van die besluite gehou” (Die laaste Afrikanerleiers, Kaapstad: Tafelberg, 2012, p 93). As daar tydens ‘n kabinetsvergadering oor Smit gepraat en besluit is, bestaan daar heel moontlik geen rekord hiervan nie. Dit is egter onwaarskynlik dat dáár oor so iets soos moord besluit sou word. Te veel mense sou so ‘n besluit geheim moet hou. Sowel PW as Pik Botha was kabinetslede. “Volgens PW Botha was sy van-genoot energiek en intelligent, maar ‘n ‘politieke sif’ wat te veel dinge deurgelaat en te maklik gepraat het” (Willie Esterhuyse, Eindstryd, Kaapstad: Tafelberg, 2012, p 109).

Die besluit om die Smit-egpaar te vermoor is waarskynlik deur die staatshoof of deur een of meer ministers geneem. Soos in 1990/94 is nie die Nasionale Party of die NP-regering in sy geheel skuldig nie maar moontlik ‘n klein groepie NP-lede. Volgens ‘n joernalis “het Vorster beweer dat ons pa die hele bedrogstorie met hom (Vorster) bespreek het en dat Vorster toe die fout gemaak het om die betrokke kabinetsminister in ‘n kabinetsvergadering te konfronteer. Die volgende ding wat (volgens die joernalis) toe gebeur het, was dat die Smit-egpaar vermoor is” (156). ‘n Mens vra jou af: Sou die ophaal van die saak in ‘n kabinetsvergadering nie juis die betrokke minister ontmoedig en verhoed het dat die moorde gepleeg word nie? “As ons oordeel aan Vorster se houding by ons ouers se begrafnis en aan hoe oud hy skielik voorgekom het, glo ons nie dat Vorster by die moorde betrokke was of [vooraf] daarvan geweet het nie” (157). Ook: “Ek is nogal geneig om generaal ‘Lang Hendrik’ van den Bergh te glo as hy sê hy self het niks met die moord op my pa en ma te doen gehad nie” (163).

“Nou, veertig jaar later, is die moorde steeds ‘n raaisel. Ek glo steeds dat ek en Alet naby aan ‘n deurbraak was, of dat ons dalk reeds die waarheid by iemand gehoor het en dit net nie besef het nie. Maar die waarheid was in hierdie geval baie nou verweef met leuens. Ek moes aanvaar dat my speurwerk dalk vrugteloos was en dat ek my en my gesin se lewe verniet daardeur ontwrig het. ‘n Deel van my is bly ek het dit gedoen, want nou het ek ‘n bietjie meer vrede as wat ek andersins sou gehad het. Maar die onbeantwoorde vrae bly en ek het nie ‘n ander keuse gehad as om my verlies te aanvaar nie. Ek het die pad wat ek moet loop, lankal aanvaar, al word dit nooit makliker nie” (187).

Liza se slotsom is: “Ek glo ons het met ons ondersoeke naby aan die waarheid gekom, maar ten spyte daarvan dat ons duisende kilometers agter getuies aangery het en ten spyte van baie hulp, raad en bystand deur die jare, is ons niks nader aan die waarheid as destyds nie. Is ek spyt oor die WVK-verslag? Nee, al het dit ongeveer twee jaar van my lewe oorheers, want dit was iets wat ek eenvoudig net móés doen. Ek weet ek het alles moontlik gedoen om die waarheid uit te vind en dit het vir my afsluiting gegee” (259-260).

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.