Dan Roodt: Onderhoud met Suidpunt

“Op die gevaar af dat ek soos destyds toe dit mode was, ‘postmodern’ klink, meen ek die sin van ons Afrikaanse kultuur is juis in daardie tussen-in-wêreld te vind: tussen Afrika en Europa, maar ook tussen Europese kulture.” In hierdie wydlopende onderhoud oor die Afrikaanse kultuur, media en letterkunde, antwoord dr. Dan Roodt op ‘n hele reeks indringende vrae deur die rubriekskrywer Suidpunt.

Letterkundiges en resensente het die neiging om te sien wat hulle wil sien in ‘n teks. Dikwels sal hulle ook Barthes of Derrida se leerstellinge op ‘n roman probeer maak pas. Pas dit nie, is die boek outomaties ‘n flop. Dit noem ons Hineininterpretierung of inlegkunde. Daarom soek ek by u die waarheid: wat het Dr. Dan Roodt met Moltrein beoog? Is H.P. van Coller korrek as hy sê Moltrein is ‘n parodie van die Sestigersbeweging, en veral Die Ambassadeur en Donkermaan deur André P. Brink? Ek sien tog ‘n bietjie waarheid daarin. Afgesien van die vurige passie, is ons intellektuele hoofkarakter soos in Orgie meer ingesteld op (selfs behep met) werke uit die verlede, maar skep self nie werke nie. Behalwe die boek self.

Ja, ‘n vriend van my het gesê “dit is die laaste Sestigerroman”. Dit bied egter ‘n realistiese en nie-verromantiseerde blik op Parys. Maar dit het ook vir my daaroor gegaan om ‘n tydvak (die tagtigerjare) te beskryf, ‘n tyd toe daar oral geweldige propaganda teen Suid-Afrika en Afrikaners geproduseer is. Origens is dit ‘n roman in die Franse styl, ietwat ironies en vol detail oor Parys, die moltrein en Frankryk self.

Koop Moltrein hier

Die uiteenlopende resensies verstom my. Joan Hambidge het om politieke redes toe pas PRAAG verlaat (as ek dit reg het), maar haar resensie was steeds vleiend en waardig. Jakes Gerwel het beslis nie met u politieke standpunte saamgestem nie, maar het die roman eweneens geloof. Daar was L.S. Venter en Deborah Steinmar wat nie u werk gunstig ontvang het nie. Maar hier kom André P. Brink en skryf ‘n “hatige strydskriffie”, soos u dit stel, op 6 Junie 2004. Eers 6 jaar later (14 Junie 2010) plaas u die repliek op LitNet en toe ‘n maand of wat later op PRAAG. Waarom dan so lank wag?

Ek was aanvanklik nie seker of ek hoegenaamd daarop moes antwoord nie. Dit is seker nie etiket vir ‘n skrywer om op ‘n resensent te antwoord nie. In die ou dae het ‘n mens dit maar gedwee verduur. Gegewe Brink se vooroordele en mistastinge, het ek egter besluit om my eie reëls te maak en wel daarop te antwoord. Brink is nou oorlede, ek wil amper sê gelukkig, en daarom kan ‘n mens nou meer vrylik oor sy rol in die Afrikaanse letterkunde praat. Myns insiens het hy ‘n baie negatiewe rol gespeel. As resensent in Rapport het hy dikwels skrywers om persoonlike redes of uit jaloesie bygekom en geen objektiewe maatstawwe gebruik nie. Verder was hy ‘n soort anglofiele, linkse Bloedsap wat selfs volksmoord oor Afrikaners wou afroep, ten minste in een van sy onderhoude met ‘n Franse TV-span. Hy kon nie vir homself dink nie, het nie veel van filosofie en ander dinge geweet waarna hy dikwels verwys het nie en het maar net die anti-Afrikaanse, anti-Suid-Afrikaanse stroom gevolg, hopende om die buiteland te beïndruk. Waarskynlik het hy gehoop om deur verraad teen sy eie mense die Nobelprys te verwerf; die Swede is seker mal genoeg vir so iets. Daarom is dit seker nie verbasend dat hy nie van Moltrein met sy meer onafhanklike, ironiese perspektief op ons politiek gehou het nie.

In “Volksblad” van 5 Oktober 1985 is daar die berig getiteld: “Skryf Brink blitsverkopers?”. Daarin staan nog op bl. 7: “Die verwoede jong akademikus en skrywer Dan Roodt gaan selfs so ver om Brink se ‘Kennis van die aand’ saam met Ena Murray se ‘Sluiers van wierook’ in ‘n kursus oor triviaal-literatuur by die Universiteit van Durban-Westville aan te bied. “In albei boeke word ‘n morele stryd uitgebeeld – ‘n eienskap van triviaal-literatuur. Baie stereotipes kom ook voor, veral in die uitbeelding van die vrou. Sy is of ‘n madonna of ‘n hoer”, sê mnr. Roodt. Hy gee toe dat daar by Brink ‘n literêre aanbod is. “Maar dis ‘n ooraanbod. Die boek het byvoorbeeld sewe motto’s”.

Ja, dis waar, ek het so ‘n kursus aangebied destyds. Daar was ‘n sentimentele, soetsappige element by Brink, iets uit Die Huisgenoot of Ena Murray waarvan hy nooit ontslae kon raak nie. Hy wou hom ook as ‘n groot intellektueel aanbied, vandaar die oordadige motto’s en aanhalings om ons van sy erudisie te oortuig.

Dink u Brink het sy kans afgewag om wraak te neem of was hy maar net in sy gewone sorgelose bui? Of was dit miskien oor sy naam genoem word op bl. 99? Langs “Ingrid Jonker”, “wat in ‘n gestig opgeneem is”, juis oor hul verhouding wat op die rotse beland het? “Wat haar miskien vir altyd geknak het”?

Ja, dit het moontlik ‘n rol gespeel. Toe ek die boek geskryf het, was ek nie so bewus van al die fynere besonderhede rondom Ingrid Jonker en Brink se verhouding nie. Later toe die biografieë eers verskyn het, het ek daarvan bewus geraak. Dus het hy moontlik aanstoot geneem.

Weet u min of meer hoeveel gedrukte boeke (of miskien e-boeke) van “Moltrein” al verkoop is? By die Wes-Kaapse openbare biblioteke was daar destyds ‘n besonder groot aanvraag – daar is vandag so 160 eksemplare op die biblioteekrakke oor (dié wat nog nie voete gekry het nie). Is dit wel moontlik om ‘n syfer en ‘n datum te gee?

Sover ek onthou, het ons 2500 boeke gedruk en daar is seker so 300 oor, dus het daar 2200 verkoop oor die jare. Ek het ook gehoor dat daar by die Engelse meisieskool Roedean in Johannesburg voortdurend eksemplare daarvan uit die biblioteek en klaskamers gesteel word. Daar is ook heelwat Afrikaanssprekende meisies in die skool, dink ek. Op ‘n manier is dit nogal ‘n eksotiese roman in Afrikaans, gefokus op Parys, maar tog met allerlei soort klassieke verwysings na Balzac en die hedonistiese eet- en drinkgewoontes van die held en heldin.

Driehonderd bladsye skryf mens nie op ‘n enkele Sondagmiddag klaar nie. Hoe lank het die skrywe van hierdie roman geduur?

Ja, dit was nogal vreemd, want ek het jare gelede in Parys daaraan gewerk en dit toe weer in Suid-Afrika voltooi. Maar soveel tyd het eintlik verloop dat dit nie meer tydsgebonde was nie. Dit was eers meer onmiddellik en daarna ‘n soort herinnering, ‘n terugskouende blik. Ek wou egter doelbewus iets Proustiaans ook daarin verwoord… ‘n soort terugreik en herskepping van die verlede. Die eintlike skryfwerk het my miskien nie so lank geneem nie.

Moltrein vind ek geen “regse” boek nie – eerder op dieselfde politieke niveau as “Om na ‘n wit plafon te staar” deur Jaco Kirsten (2009). As ek na Z.B. du Toit se boek “Die nuwe toekoms” kyk, verbaas dit my hoe hierdie boek nog in 1999 deur die voorganger van LAPA, J.P. van der Walt en Seun, gepubliseer is. Maar reeds in die Wes-Kaapse staatsbiblioteke is min sulke “uitdagende leesstof” (sic) vir “groter biblioteke” (sic) oorweeg, hoewel “What if there were no whites in South Africa?” (2015) vandag in byna elke lokasiebiblioteek te vinde is. Terloops, die vertaling “Negrologie” se lot is bepaal op grond van ”Die Burger” se resensie van 13 Februarie 2006 – “Ongunstige resensie. Los eerder.” Wanneer sou u sê het die aanslag op sogenaamde “regse” boeke begin?

Weereens dink ek die verlinksing van die Afrikaanse letterkunde het met Brink en waarskynlik met Breytenbach reeds in die sestigerjare begin. Brink se negatiewe resensies in die vroeë sestigerjare oor F.A. Venter se boeke het reeds op sy verskuilde anti-Afrikaner-ingesteldheid gedui. Enigiets wat histories of nasionalisties van aard was, het hy verwerp. Die ander Sestigers was gewoon nie in staat om hom teë te gaan nie. Ek vermoed Etienne Leroux was nie so links nie, maar hy sou dit nie gewaag het om dit te sê nie, want Brink en ander sou hom onmiddellik daarvoor gestraf het.Nou onlangs lees ek iets raak wat Etiennie Leroux oor die (myns insiens patetiese) bruin skrywer Adam Small kwytgeraak het, in Kannemeyer se biografie oor Leroux. Kortom, Small het Leroux daarvan beskuldig dat sy mitologies geïnspireerde, sardoniese boeke eintlik ‘n verskuilde “affiniteit met apartheid” had. In Leroux se notaboek teken hy  volgens Kannemeyer (Leroux: ‘n lewe, bl. 482) aan:

“As ek nie wit was nie, en hy nie so kleurbewus was nie, sou ek Adam Small al lankal onder sy gat geskop het.”

Duidelik het Etienne Leroux teen die prikkels geskop. Maar die polities korrekte Brink het bloot die Engelse Suid-Afrikaners soos Nadine Gordimer en Alan Paton nagepraat. Dan was daar “betrokkenheid” oftewel engagement wat aan Jean-Paul Sartre ontleen is. Daar was egter nooit werklik ‘n debat oor politiek en letterkunde in Afrikaans nie, of enige nuanse en verwikkeldheid soos dit in Europa gedoen is nie. Dis eenvoudig maar net ingevoer soos wat ons deesdae Chinese skoene invoer. En almal het dit klakkeloos begin napraat. Teen die tagtigerjare was die Afrikaanse letterkunde feitlik marxisties. Ampie Coetzee, wat by Wits ‘n dosent van my was, het so ‘n barbaarse klein boekie, Marxisme en die Afrikaanse letterkunde, geskryf wat so min of meer die kroon op dit alles gespan het. Deesdae sien ons eintlik maar net die voorsetting daarvan: almal verkeer nog in ‘n soort dwaal en het nog nooit uit die tagtigerjare wakker geskrik nie. Daar is nie nuwe idees nie. En natuurlik: enige kritiek op die huidige bestel of op Afrikaregerings word as “regs” en selfs “verregs” deur akademici en letterkundiges gesien. Vandaar dus die negatiewe resensies vir Negrologie wat deur ‘n liberale, dog Afro-realistiese joernalis geskryf is. Nog iets wat ek intussen vir myself uitgewerk het, en intussen bevestig het, is dat die Swede tydens die tagtigerjare ook geld aan die linkerkant van die literêre spektrum ingepomp het by wyse van ‘n skenking aan die uitgewery Taurus. Nie te lank gelede nie het ek ‘n e-pos aan John Miles geskryf en hom direk daaroor uitgevra, waarna hy dit erken het.

Dis nogal uiters ironies. Tans het ek ‘n taamlike belangstelling in Swede en veral die regse beweging aldaar. Selfs die Sweedse ambassadrise in Suid-Afrika volg my op Twitter. Op ‘n vreemde manier sien ek ‘n lotsverbondenheid met Swede, wat ons deur hul kranksinnige inmenging en steun vir die ANC oor die afgrond gestoot het, maar nou self weens Islamitiese immigrasie ondergang in die gesig staar. Die punt is egter: net so min as wat die gemiddelde Afrikaner ‘n marxis is, iets wat ‘n mens vanuit die Afrikaanse hoofstroommedia en akademie sou kon aflei, net so min is die gemiddelde Sweed so waansinnig links soos hul huidige regering met sy oordrewe feminisme en etnomasochisme.

Ek het ‘n sterk vermoede u het voor u verblyf in Frankryk op hoërskool reeds Frans geleer. Kyk, ek het nou al baie grammatikaboeke, woordeboeke en klaswerkboeke in Afrikaans oor die Duitse taal gevind en gekoop, maar slegs één tweetalige Afrikaans-Franse woordeboek uit die 1950’s wat nooit herdruk is nie. Hoe op dees aarde kon mens Frans op skool in Suid-Afrika destyds leer? Daar was immers nie die geriewe wat ons vandag het nie. Ook nie YouTube, Larousse Online en Duolingo nie.  Was daar byvoorbeeld Bescherelle vervoegingsboekies (“La conjugaison pour tous”) beskikbaar? Hoeveel woorde kon mens dan nou leer? En watter voorgeskrewe werk het leerlinge gekry?

Ek het destyds op skool so effens Frans gedoen, maar dit was eintlik meer op universiteit en in Frankryk self waar ek blootstelling aan die taal gehad het. Ek weet egter by Helpmekaar hier in Johannesburg, asook by verskeie hoërskole in Pretoria en elders word Frans steeds gedoseer. Daardie woordeboek is beslis verouderd en ons kort ‘n nuwe, meer uitvoerige weergawe. Bescherelle het my gehelp met vervoegings van werkwoorde en deesdae kan mens sommer sulke dinge op die internet opkyk. Vir vertaling help die Frans-Nederlandse woordeboeke ook taamlik, want Afrikaans is mos maar naby aan Nederlands.

Aan Stefanie Niewoudt het u op 15 Junie 2004 oor u verblyf in Parys geskryf: “Veral in Frankryk was die anti-apartheidsbeweging ‘n blote afdeling van die Franse Kommunistiese Party, en dit het my laat besef dat hulle ‘n eie agenda gehad het om Afrikaners te beswadder in reaksie op hul eie morele probleme as gevolg van die kritiek op die kommunisme en die uiteindelike heengaan van die stelsel in Oos-Europa.” Daarnaas het u ook geskryf: “Dit is nodig dat ons belangrike internasionale werke ook in Afrikaans lees en ontslae raak van die filistynse luiheid om Engels as ons venster op die buiteland te, beskou.”  Is daar nog iets wat u vandag sou wou byvoeg wat die Franse taal u geleer het? Hoe het Frans u lewensuitkyk andersins ook verander?

Sjoe, ja, dit is nogal ‘n ingewikkelde en taamlik persoonlike vraag. Toe ek jonk was, het ek ‘n soort frankofiele fase beleef toe alles wat Frans was vir my wonderlik was: Franse letterkunde, filosofie, voedsel, klere, sjampanje en wat ook al. Mettertyd het ek egter ook meer realisties of krities na Frankryk begin kyk en vandag voel ek my meer aangetrokke tot Noord-Europa, die Lae Lande en selfs Skandinawië. Daar is egter bepaalde dinge in Frankryk wat uniek is en ‘n sekere soort intellektuele onverskrokkenheid wat ‘n mens net kan bewonder. Alain de Benoist, wat seker die grootste onbeskaamde regse denker van ná die tweede wêreldoorlog in Europa was, is iemand wat vir my heelwat perspektiewe geopen het, oor hoe ‘n mens denke en taaltrots of volkstrots met mekaar kan laat rym. Ek staan ook by die gedagte dat ‘n mens eerder Europese tale as Engels moet lees, want dit sluit nouer by Afrikaans aan. Nederlands en Duits, wat naby aan Afrikaans is, maar ook Frans en selfs Italiaans. In die vroeë twintigste eeu het baie Afrikaanse skrywers noue kontak met Europa gehad en was ook Europese tale magtig. Nederlands is ‘n taal wat onderskat word: mens kan die meeste dinge ook in Nederlands of Nederlandse vertaling lees. Ongelukkig is Nederlandse boeke nie so beskikbaar by ons nie, maar in e-boekvorm kan hulle seker wel bekom word.

Rue Meslay in Parys se 3de arrondissement, waar die Roodts destyds gewoon het.

Was die egpaar Roodt dus voorbereid op Frankryk? Mense soos Jan Rabie is op 27-jarige ouderdom soontoe sonder om ‘n woord Frans te ken. Inteendeel, hy moes sukkel-sukkel met ‘n woordeboekie om verblyf vra; en het wel blyplek in ‘n chambre de bonne gekry. Het u miskien later (soos Rabie) in Frankryk klasgeloop by Alliance française? Of was dit onnodig?

Ons het aanvanklik ook maar gesukkel, want mense praat nie op straat soos in die boeke nie, maar ná so ‘n paar maande het ons darem goed reggekom. Ek het elke dag die koerant gelees en TV en radio het ook baie gehelp. Ek het nooit eintlik formeel die Franse taal in Frankryk bestudeer nie, wel Franse filosofie waarin ek ‘n soort pre-doktorsgraad behaal het. Agterna het ek ook vir ‘n doktorsgraad in Franse filosofie geregistreer, maar dit nooit voltooi nie, anders as my Ph.D. in Afrikaans natuurlik.

Party mense glo die beskrywing van geslagsomgang hoort nie eens in mediese vaktydskrifte nie, laat staan nog op maagdelik reine papier in letters rangskik om in Afrikaans verwoord te word. Maar seks in u boek kry uiteenlopende simboliek en dit verskil van karakter tot karakter. Soos die daad voor die setel van die Europese Gemeenskap wat volgens die boek self as middelvinger dien. Maar veral die “wisselwerking” tussen Anton du Preez en Madame de Laisné herinner my in die besonder aan ‘n ou veteraanmotor wat onder die stof met die eerste sleuteldraai die V12-enjin laat brul. Versinnebeeld dit miskien ou tradisies (of ou Frankryk) wat bietjie meer lewe ingepomp moet word? Of is hierdie herlewingspoging, soos in die geval van die onvrugbare, verraaide en bejaarde Madame de Laisné, vrugtelose tydverdryf wat spot met die eksistensialisme? Of was dit maar net ‘n doodgewone ruiltransaksie soos die boek dit stel? ‘n Guns vir ‘n guns?

Ja, terugskouend het dit miskien nie in ‘n Afrikaanse boek gehoort nie. Ek respekteer die norme en waardes van Afrikaners en dat hulle dikwels meer konserwatief oor sulke dinge as byvoorbeeld Franse is. ‘n Mens word egter afgestomp deur al die seksbeskrywings in soveel Franse romans sodat heelwat daarvan ook hul weg na Moltrein gevind het. Dit was ook ironies bedoel, as ‘n soort antwoord op die kitsch van Brink en die Sestigers waarin daar altyd ‘n jong meisie met “appelborste” teenwoordig is.

Dit val my onmiddellik op u gebruik die ouer Gänsefüßchen-aanhalingstekens. Is dit met opset so gedruk (tradisie vs. Naspers se Engelse “aanhalingstekens”), of volg u slegs die definisie uit die WAT van 1970 letterlik: Leesteken bestaande uit dubbele kommas – soms ‘n enkele komma – wat in Afrikaans, Nederlands en Duits voor onder die reël geplaas word (,, _____ “)[…]

Ek hou nogal van daardie aanhalingstekens en wonder waarom hulle nie kan terugkom nie. Oorspronklik het die Afrikaanse drukwese oorgeskakel na die Engelse tipe aanhalingstekens in die vroeë dae van elektronika toe meeste stelsels in Suid-Afrika net vir Engels voorsiening gemaak het. Maar deesdae bied tegnologie mos ‘n legio moontlikhede. Dit was my poging om ons ou Afrikaanse aanhalingstekens te laat herleef; dit lyk net soveel mooier.

Is die Parysenaars werklik so afsydig en geslote soos in die boek uitgebeeld word? Of is dit maar ‘n eienskap van alle Europese hoofstede wat deur “indringers” bedreig voel?

Ek dink Parysenaars is nogal afsydig, anders as op die Franse platteland byvoorbeeld, waar mense vriendeliker is, op voorwaarde dat jy Frans kan praat. Ander stede wat ek met Parys sou kon vergelyk, sou Amsterdam of Stockholm wees, waar mense oor die algemeen baie hofliker en behulpsamer is. Self was ek egter lanklaas in Frankryk, hoewel ek later vanjaar vir ‘n hele paar weke wil teruggaan. Dalk sal ek dan beter kan sê of die Parysenaars steeds afsydig is!

Waarom het die land Frankryk vir Afrikaners soveel meer bekoring in die letterkunde as byvoorbeeld Duitsland, Holland en België? Dink die Germaanstaliges te veel dieselfde of is daar ander mites waarvan ons onbewus is? Of is dit miskien omdat die Franse kultuur so versluier is met paradokse, soms skynheiligheid, geringstellings en mooi woorde, terwyl die Germaanse stamme amper barbaars reguit is? Of is dit die ancien regime, of die magtige Franse Ryk (onder Napoleon), vooruitgang, dekadensie en geskiedenis wat steeds mense na Parys toe lok? Of lyk die Franse taal op die oog af net eksoties?

Ja, dis nogal ‘n interessante vraag. Ek vermoed dat die ontdekking van Parys deur Amerikaanse skrywers soos Hemingway of Norman Mailer heelwat hiermee te make gehad het. Dit was met ander woorde ‘n mode in die Engelse of Angel-Saksiese wêreld, wat noodwendig ook na Afrikaans oorgewaai het. Maar u is reg oor die eksotiese: omdat Frans as Latynse of Romaanse taal so ver van Afrikaans verwyder is, vind mense dit eksoties en daarom interessant. Aan die ander kant meen ek dat vele Afrikaners ‘n band met Frankryk voel vanweë die Hugenote-geskiedenis. Daar is soveel Afrikaners met Franse vanne en selfs Franse voorname — terwyl hulle natuurlik self geen woord Frans kan praat nie! Dis daarom ook ‘n geval van bloed is dikker as water. Dan is daar die groot hoeveelheid publisiteit wat die geslag Franse skrywers wat as “eksistensialiste” bekendgestaan het, ontvang het, regoor die wêreld. Ek onthou dat selfs van my Engelstalige medestudente aan Wits destyds intens hierin belanggestel het. En dan seker Franse kultuurbemarking: die Franse maak op een of ander manier seker dat ander van hul kultuur te hore kom!

Daar word gereeld in die media geskryf Frankryk is gebou op ‘n elitêre samelewing: van die skoolvakke wat jy neem, tot die handelsmerk van jou plakkies – dit maak alles saak. Is dit nie maar ‘n mite wat deur die Franse regering self geslagtelank aan die lewe gehou word nie? Nou die dag kom ek op ‘n Franse regeringsverslag af wat (steeds!) aanvoer Latyn word slegs deur “kinders uit bevoorregte gesinne” geleer (om hul glo van onderpresteerders af te sonder). Dit is ‘n voorstelling uit die 1800’s wat beslis nie in Duitsland en Nederland geldig sou wees nie; daar is Latyn net nog ‘n taal soos C++ vir ‘n programmeerder.

Ja, dis nogal ironies. Die Franse het die aristokrate se koppe tydens die Revolusie afgekap, maar die aristokratiese of elitêre norm geld steeds. Franse is geneig om snobisties te wees en as jy deftig aangetrek is, behandel mense jou beslis beter en meer beleefd. Latyn en ou-Grieks word steeds as skoolvakke aangebied; nie almal neem dit nie, maar ‘n bepaalde elite seker wel. Frans en wiskunde is egter die twee vakke wat werklik saak maak. En skoolkinders moet omtrent vyf honderd jaar se letterkunde onder die knie kry en eksamens daaroor skryf.

Ek kan nie verstaan waarom Suid-Afrikaanse skrywers soos Rabie en Brink destyds gereeld boeke by boekekraampies (bouquinistes, p. 17) gekoop en dan vir ‘n ander boek ingeruil het nie. Niemand skryf oor Parys se gratis openbare biblioteke vir brandarm reisigers nie. Wat maak hierdie boekhandel so besonders? Waarom die groot bohaai?

Ja, die Franse dorpsbiblioteke of stedelike biblioteke in Parys is heel goed. Persoonlik het ek hier en daar ‘n boek by die boekekraampies langs die Seine gekoop, maar oorwegend tyd in boekwinkels deurgebring. ‘n Franse boekwinkel is nogal spesiaal, moet ek sê en geen twee is presies dieselfde nie. En in min ander lande sal filosofiese essays seker ooit blitsverkopers word.

Sonder u besoek aan Frankryk sou Moltrein nie kon bestaan het nie. Maar, in ‘n alternatiewe geskiedenis, waar sou u anders destyds wou wees op daardie tydstip?

Miskien in Japan? Op ‘n stadium was ek ‘n Japanofiel, en my jongste seun leer knaend Japannees en kan dit selfs lees. Daar is iets aan die minimalistiese estetiek van die Japannese wat my aantrek. En dan is dit ook so ‘n inherent nasionalistiese en homogene land. My vriend Jared Taylor in die VSA, wat in Japan grootgeword het, se sin vir ‘n homogene blanke of Westerse kultuur is sterk daardeur beïnvloed, dink ek.

Hoe sou u sê stem die Franse kultuur die meeste en die minste met die Afrikanerkultuur ooreen? Nou, meer as 13 jaar na u skrywe van “Moltrein”?

Die eerste en ooglopende verskil is dié van godsdiens. Frankryk is van oorsprong ‘n Katolieke land terwyl ons weer Protestants of Calvinisties is. Al is tagtig persent van Franse vandag ateïste of agnostici, merk ‘n mens tog die Katolieke waardes in Frankryk sterk op. Dis nou nog afgesien van die groot hoeveelheid indrukwekkende katedrale waarmee die land besaai is. Franse is sekerlik meer intellektueel en verfynd as Afrikaners, maar ons aan die ander kant is meer gesteld op persoonlike higiëne en meer gedissiplineerd. ‘n Ooreenkoms wat Andŕe P. Brink en ander nooit sou raaksien of toegee nie, is dat sowel Franse as Afrikaners baie nasionalisties is, veral natuurlik taanasionalisties! Kyk maar na die groot hoeveelheid Franse vanne tydens die Eerste Taalbeweging in Afrikaans. Dan het ons dít in gemeen dat ons histories dikwels nogal oorlog teen Engeland gemaak het. In die negentiende eeu was dit net ons, Napoleon en Tsaar Niklaas I wat dit gewaag het om militêr met Brittanje op die kruin van haar mag slaags te raak. Nog ‘n ooreenkoms dink ek, is dat sowel Afrikaners as Franse baie op kookkuns gesteld is. Ek dink selfs dat Afrikanervroue beter kokke as Franse vroue is, hoewel ons natuurlik nie oor so ‘n groot tradisie van restaurant-kookkuns beskik nie, anders as die wêreldberoemde Franse.

Gepraat oor taal. Die gebruik van stringe Franse sinne in u boek het my vrééslik geboei (dit kon netsowel esoteriese Latyn gewees het); ons is al so uitgekuier met die Engelse slêngwoorde. Ek het in die WAT van 1970 opgemerk hoeveel Franse leenwoorde en verwaarloosde Afrikaanse woorde daarin opgeneem is wat ons so te sê nooit in die hoofstroommedia lees of hoor nie. Soos bête noir. Raadpleeg mens Nederlandse bronne, is juis die teendeel waar – die een joernalis probeer meer geleerd en voorbarig as die ander lyk. Waaraan kan mens hierdie Suid-Afrikaanse tendens toeskryf? Verstandelike isolasie? Of probeer die hoofstroommedia die taal so eenvoudig hou om die maksimum gehore te trek? Vir meer geld? Of is dit sprekend van onkunde of laksheid, soos die AWS wat in die 2002-uitgawe (p. 528) van “babasitter” gebruik maak, al is “babawagter” reeds in die 1950’s in die WAT opgeneem?

Dit kan seker maklik as pretensieus opgeneem word om soveel Franse sinne in ‘n boek in te sluit, maar my bedoeling daarmee was juis ‘n “vervreemdingseffek” by die leser, iets soos Bertolt Brecht se fameuse Entfremdungseffekt. Die leser behoort te ervaar dat dit juis ‘n vreemde wêreld is, wat heelwat aanpassing verg.

Self het ek natuurlik ‘n broertjie dood aan Engelse slêngwoorde. Dis ook waar wat u sê aangaande al die Franse leenwoorde in Afrikaans wat natuurlik via sewentiende- en agtiende-eeuse Nederlands na ons toe gekom het. Baie Afrikaners gebruik “mushroom” in plaas van die korrekte “sampioen” wat uiteraard aan die Frans champignon ontleen is. Ek skryf dit aan die Engelse verpakkings en restaurantspyskaarte toe. Dit maak egter my ore seer! Trouens, daar is niks wat my dag so kan bederf as om die woord “mushroom” te hoor nie.

Wat die onnoselheid van ons joernaliste betref, dink ek juis dis ‘n gebrek aan enige Europese blootstelling wat tot hul verdomming lei. Dis nie soseer IK of ‘n gebrek daaraan nie, maar hulle leef heeltemal in ‘n Engelse wêreld, lees net Engels of sien die wêreld vanuit ‘n Brits-Amerikaanse perspektief, sonder veel nuanse of begrip. Dan is die eenvoud van die koeranttaal ook in nabootsing van die Londense tabletkoerante wat poog om so wyd as moontlik te hark. Trouens, sedert 1994 is daar feitlik geen verskil tussen die Britse poniekoerante en Beeld of Die Burger nie; hulle wy insgelyks ewe veel aandag aan die Britse koningsgesin! Pleks dat hulle oor die Nederlandse koningsgesin skryf, as hulle dan móét.

“Babawagter” is beslis ‘n mooier woord. Ek is bevrees daar vind ‘n verrotting by die AWS en selfs by die WAT plaas. Hoe kon Gerda Ondendaal, wat volstrek vyandig teenoor Standaardafrikaans staan, ooit ‘n aanstelling in die Woordeboekkantoor bekom? Dis mos waansin!

In die Taalgenoot van Somer 2016 kom ek op ‘n gedig (Getiteld: “Eie in sy soort”) af met die volgende drie inleidende verse: “Dit is beter as Spaans / En selfs beter as Frans / Dit is Afrikaans.” Die gediggie lys dan ‘n klomp Afrikaanse skrywers en genres. Dat die digter, ‘n tydskrifleser, seker niks van die Franse of Spaanse taal, letterkunde, wysheid of Franse aanhang deur Brusselaars weet nie kan ‘n blinde met ‘n stok aanvoel. Soos die dwangrym. Dit is wat nié in die gedig staan nie wat my pla. Die digter het onbewustelik haar onderdanigheid aan die superieure Engels bely. Of moet ek dankbaar wees sy het nie Nederlands, Duits en Russies saamgesleep nie? Hoe prik mens iemand se Anglo-Saksiese borrel?

Ja, in dié opsig kan ‘n taamlik uitgebreide besoek aan Frankryk waarskynlik wondere verrig, om net ‘n klein bietjie aan die omringende Engelse heelal te ontsnap! Ek vind werklik globale Engels benouend; dit maak mens kloustrofobies, want daar is tog soveel meer as Hollywood en imperiale politieke korrektheid. Selfs Duitsland of Nederland kan ‘n tonikum wees vir sulke mense wat werklik niks anders ken nie.

“Moltrein” is intertekstueel deurspek van Franse skrywers en titels. Ek is ook seker u het tot vandag toe beslis veel meer anderstalige boeke gelees wat nie in die boek opgeneem is nie. Watter van hierdie ou boeke (verkieslik voor 1900) sou u vir die opkomende geslagte ten sterkste aanraai om te lees?

Sjoe, ja, daar is natuurlik fantastiese ou skrywers, veral Franse skrywers uit die negentiende eeu. Balzac en Stendhal is sterk aan te beveel. En natuurlik Flaubert, hoewel hy bietjie na links neig. Daar is ook ander, minder bekende figure, soos Joris-Karl Huysmans wat my fassineer. Laasgenoemde was van Nederlandse of Vlaamse afkoms, maar het in Frankryk grootgeword en in Frans geskryf. In Houellebecq se jongste roman Soumission (Onderwerping) is daar ‘n hele rits verwysings na hom.

Wat ek vind, is dat daar in elke kultuur ‘n soort “donker kant van die maan” bestaan wat nooit belig word nie. Baie van die ouer Afrikaanse skrywers moet ons herlees in die lig van wat nóú gebeur. Verlede jaar toe ek in Leeuwarden was, het ek die boekhandelaar Markus de Jong gaan opsoek. Hy was smalend oor Ingrid Jonker, wat byna kinderlik onbeholpe was, sover dit haar poësie betref. Maar volgens hom was haar pa, Abraham Jonker, ‘n goeie skrywer, helaas egter nie-links. Mandela of selfs André P. Brink sou hom nooit aanhaal nie, dus het ons van hom vergeet.

In Frankryk was daar in die vroeë twintigste eeu allerlei figure wat in vandag se taal regs of selfs verregs was. Iemand soos Céline byvoorbeeld, ‘n ongelooflike skrywer wat selfs deur die hoofstroom vereer is, maar anti-Joods en pro-Duits was. Onlangs het ek ‘n essayis ontdek, René Guénon — sy boeke word nou weer deur Gallimard, die grootste Franse uitgewer, uitgegee — wat tradisie teenoor moderniteit bepleit het. Trouens, sy mees bekende boek heet La crise du monde moderne (Die krisis van die moderne wêreld). Dis dalk ‘n boek om in Afrikaans te vertaal. Wat is die huidige ANC-bewind anders as ‘n laaste stuiptrekking van die moderne wêreld?

Anton du Preez is soms baie vaag omtrent sekere skrywers – ek sou graag bietjie meer duidelikheid daaromtrent wil hê. ‘n Mens weet nooit of “Moltrein” eendag voorgeskrewe materiaal word nie. Die Italiaanse strukturalis wat James Bond ontleed het (bl.221) is ongetwyfeld Umberto Eco. Maar op bl. 273 word na ‘n Franse roman verwys wat later “deur ‘n voormalige werknemer van die Suid-Afrikaanse Ambassade in Parys” vertaal sou word. Indien hierdie boek eg is, wat is die titel en wie was die vertaler?

Nou vra u my bietjie vas, ek sal dit weer moet gaan nalees en mooi dink oor wie ek in gedagte gehad het.

Terloops, wat dink u van Nederlands, en Afrikaans se verhouding met hierdie taal? ‘n Ene prof. Erik Van Der Straeten het in “Taalgenoot” van Winter 2016 die tydskrif in Hollands uitgetrap oor hulle in ‘n artikel “Le petit prince” durf/waag in Engels aanhaal – dit moes in Frans of Afrikaans wees. Die Suid-Afrikaanse akademici weet klaarblyklik ook nie wat hulle wil hê nie en die Afrikaanse taalvaders het vir die nakomelinge geen aanwysings gelos wat om met Hollands te maak nie. Langenhoven het wel in sy outobiografie erken: diegene wat Nederlands ken se Afrikaans bly die beste. Nietemin moet ons nie van die Standaardiseringstydperk van die 1930’s tot 1950’s vergeet toe “blootsvoet” verhewe bo “kaalvoet” gestel is nie. Toe ek onlangs by Taaladvies.net gaan kuier het, merk ek egter hoeveel derduisende sinonieme, nuutskeppings en voorsetsels in België en Nederland gebruik en aanvaar word – ‘n spyker vir elke gat – terwyl Afrikaans soos ‘n Reduktionsprache slegs één woord of uitdrukking sal toelaat. Die herkoms en presiese taalgebruik sal in Afrikaans skynbaar altyd in die duister wees of in onsekerheid gehul bly. Nêrens staan daar ‘n reël op klip uitgekap dat mens nie al die nuttige Nederlandse woorde en spreekwoorde mag opneem in jou Afrikaanse woordeboeke nie. EN GEBRUIK NIE. Vind u die woord “Neerlandisme” belaglik? Of is daar ‘n soort sosiolinguistiese minderwaardigheidsgevoel onder Afrikaanssprekendes teenoor Nederlands wat nooit uitgewis sal word nie? En voortdurend doelbewus benadruk word?

Ja, ek weet nie presies wat ‘n Neerlandisme is nie. Ek het al gedreig om die sterk werkwoorde in literêre Afrikaans terug te bring. Vele Afrikaanse skrywers gebruik byvoorbeeld “had” in plaas van “het gehad” in hul vertellings. Dit klink beter en is minder omslagtig. Daar is baie mooi uitdrukkings in Nederlands wat ons gerus kan gebruik, eerder as die uitskot van anglisismes wat die huidige Afrikaans ontsier. Dit kan ook baie nuttig wees om vreemde bronne in Nederlands aan te haal, want die meeste belangrike Franse en Duitse boeke is in Nederlands vertaal.

Die verhouding tussen Afrikaans en Nederlands is kompleks, en het sekerlik met ons gedeelde identiteit te make. Ook al die politieke omwentelinge sedert die tweede wêreldoorlog. Eers was die Nederlanders links en ons regs. Nou geld die teenoorgestelde. Die hele Afrikanerelite is tans so te sê marxisties, terwyl Nederland oor een van die sterkste regse bewegings in Europa beskik. Die meeste jong Nederlandse intellektuele neig na regs. Ironies genoeg, dink ek daar is waarskynlik vandag meer waardering vir Afrikaans en die Afrikanergeskiedenis in Nederland as in Suid-Afrika en selfs onder Afrikaners!

Self beteken “Afrikaner” vir my ook: “Eurokaner”. Veral met die kuberruim, is Nederland of Europa net ‘n muisklik ver. Ek dink daar was ‘n stadium in Afrikaans toe ons Afrika verromantiseer het as ‘n plek vol inboorlinge en grootwildjag, soos by Sangiro, maar deesdae weet ons veel beter watter aspekte van die vasteland ons aanstaan en watter nie. Daarom sal ons verhouding tot Europa en die Weste altyd belangrik bly, veral in die letterkunde. Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek dat die hele Sestigerbeweging eintlik ‘n volslae mislukking was, ‘n interessante mislukking, maar nogtans het dit nie geslaag nie. ‘n Vername aspek daarvan was ‘n soort heraansluiting by die Europese problematiek, veral natuurlik dié van Frankryk. Maar ek is bevrees dat dit maar baie oppervlakkig en sonder ‘n blywende uitwerking geskied het. By die eerste, die beste geleentheid het die Afrikaanse skrywers maar weer voor Haar Majesteit Engels geknieval, saam met Die Huisgenoot, Naarpers, FW de Klerk en die res. Dis eintlik tragies, die verwarring van ons tydgenote.

Bekommer dit u hoe vinnig Afrikaans besig is om te verander? Of is dit simptomaties van kleiner taaltjies wat hul vrywillig aan groter tale onderwerp? Ek praat nie noodwendig oor Anglisismes nie (“Ek het skoon vergeet” is so oud soos 1844 volgens Changuion se boekie), maar ons eie Afrikaans. Onlangs by Duolingo loop ek my rieme styf: “Zij zwemt behoorlijk goed” beteken “sy swem nogal/betreklik/soos dit behoort goed” (dus, nie dééglik nie), terwyl “Het is zeker belangrijk” beteken “dit is beslis/sonder twyfel/vir seker belangrik”. “Bombasties” het in Afrikaans ook vernaamlik “onbeskof” geword. Joan Hambidge (wie se uitsprake ek gewoonlik besonder billik vind) het iewers op RSG se “Die tale wat ons praat” van 22 Mei 2015 (ek sien die potgooi is ondertussen verwyder) gesê ‘n taal moet vloei; verbete anglisismejag grens aan skoolvossery. Maar by Versindaba ontplof sy op 26 Junie 2014 om 16:54 oor die hoofstroom-Afrikaanse aanbieders oor RSG wat nie meer ‘n voorsetsel reg kan gebruik nie.

Ja, dit is kommerwekkend. Dis nie soseer ‘n Afrikaanse probleem nie, as ‘n politieke probleem. Ons is soos die Grieke tydens die Turkse oorheersing. Of die Baltiese state onder die Russiese. Dis eenvoudig onmoontlik om staande te bly terwyl jy polities so verskriklik oorheers word. Daar is feitlik geen instelling meer oor wat nie oorgeneem en verengels is nie.

Dan het ek ook ‘n teorie, noem dit die Johannesburgse teorie. Johannesburg was nog altyd die stert wat die hond geswaai het. En natuurlik is die SAUK en ander media in Johannesburg. Die omroepers van RSG woon in die Engelse Johannesburg en verengels gaandeweg in hul uitkyk en taalgebruik. As hulle in Pretoria gewoon het, sou dit soveel beter gewees het. Die soort Afrikaans wat ‘n mens in Johannesburg hoor, is eenvoudig afgryslik.

Op politieke vlak sien mens ook in Johannesburg hoe joernaliste wat uit huis uit Afrikaans is, Afrikaanse skole bygewoon het, ens., binne enkele jare nie net verengels nie, maar ook opperste Boerehaters word. Kyk maar na Adriaan Basson en Pieter du Toit van Beeld. Engelstalige kommuniste sou ons meer genadig wees as hulle.

Selfs die ATKV is in Johannesburg gesetel! Dis geen wonder dit gaan so sleg met Afrikaanse media en organisasies nie.

Gegewe die oordadige getal futuristiese wetenskapsfiksierolprente uit die 1990’s, het die berg in die nuwe millennium ‘n muis gebaar. Of saam met Mark Shuttleworth landuit verdwyn. Nie een van ons dra ‘n stralerpak nie en die puin en rommel van betogers het vertiendubbel. Ook wil dit my voorkom hoe meer intellektueel en uitvoeriger verskillende Wikipedia’s raak, hoe dommer en dunner word die inhoud van die gedrukte media en skoolkinders. Hulle probeer nie eens meer meeding of belangstel nie. Dink u ook die hoofstroommedia mors eenvoudig ons tyd? Waarom lees, kyk en luister dan so baie mense nog daarna?

Ja, dis vir my ‘n raaisel, waarom mense hulle nog aan die hoofstroommedia steur. Maar iewers gaan dit nog oor “die gerug waaroor almal praat”. Al steur jy jou nie aan die gerug nie, lyk jy te veel na ‘n buitestaander as jy nie daarvan weet nie. Ook op Facebook deel mense naarstiglik berigte van News24 met mekaar. Waarvoor? wonder mens.

Aan die ander kant dink ek YouTube is besig om in ‘n baie interessante medium te ontwikkel. Dis veel beter as TV en ‘n groot verskeidenheid selfs intellektuele ondwerpe word daarop bespreek. Die enigste probleem is miskien dat iemand iewers in die toekoms ‘n stokkie daarvoor mag steek. Sensuur deur die groot maatskappye en selfs regerings (soos die Britse regering) is aan’t toeneem. Te veel mense is besig om terug te praat, teenoor die hoofstroommedia en die globaliste.

Ons is reeds bekend met die waarde wat die wetenskapstale Frans, Duits en Latyn bied. Maar gegewe die Weste wat sy eie ondergang nou al sedert Spengler se dae bewerkstelling, moet ons nie maar défaitisties Oosterse tale en kulture begin aanleer nie? Ek dink nou aan redelik konserwatiewe volke soos die pro-Westerse Koreane en Japannese wat veral deur die Europeërs en die Amerikaners verafgod word. Of: is die hele Oosterse ekonomie eintlik maar net gebou op Westerse behoeftes en begeertes? Sonder om Westerse waardes werklik te verstaan? En gaan die Koreane en Japannese kort voor lank maar dieselfde afwaartse kultuurgang toon soos die Weste?

Ek dink daar is ‘n natuurlike proses aan die gang waardeur veral jongmense baie meer in die Ooste belangstel, veral Korea en Japan. Op die oog af lyk hulle beslis minder dekadent as ons. Daar is egter iets aan die Westerse skeppingsdrang wat uniek in die wêreldgeskiedenis is. Ek onthou hoe geskok ek destyds in Parys was toe ‘n Japannese medestudent in die lesingsaal van Gilles Deleuze doodeerlik vir my gesê het: “Maar ons beskik oor niks, geen intellektuele tradisie nie.”

Daarom sou die ondergang van die Weste vir die hele mensdom ‘n groteske ramp wees… Maar ek meen vele mense begin dit so verstaan. En die Afrikaner staar natuurlik hier te lande sy eie “eindspel” in die gesig.

Laaste vraag: hoe moet ons teenoor ander Europese minderheidsgroepe in Suid-Afrika optree? Hoe bewaar mens die Natal-Duitsers se kultuur? Of Portugese wat so hard probeer assimileer, om “Suid-Afrikaans” (wat ‘n onbegrip!) te probeer wees, deur hul eie kultuur af te lê?

Ek sou graag wou sien dat ons veel meer van hul verhale ook in Afrikaans verwoord. Op die vooraand van my besoek aan Pole, verkeer ek intens onder die indruk van hoeveel duisende Pole en Tsjegge na ons land gekom het in die dae toe dit ‘n toevlugsoord weg van kommunisme was. Die Afrikaner, veral die polities korrekte Afrikaner met sy kwasi-Engelse obsessie met die swartman se lot, het hom nooit hieraan gesteur nie. Dis nodig dat ons dit verwoord, al is dit net in die vorm van fiksie.

Op die gevaar af dat ek soos destyds toe dit mode was, “postmodern” klink, meen ek die sin van ons Afrikaanse kultuur is juis in daardie tussen-in-wêreld te vind: tussen Afrika en Europa, maar ook tussen Europese kulture. Vanweë ons geografiese verwydering van die Europese vasteland, kyk ons op ‘n manier vars daarna.

Deesdae, as ek teruggaan Europa toe, voel ek as Eurokaner amper meer Europees as die Europeërs self. Verlede jaar was ek vir die eerste keer in die Rijksmuseum in Amsterdam. Dit was ‘n groot skok vir my gestel. Soveel skoonheid, soveel finesse, alles vanuit Nederland, waar ons vandaan kom.

Terloops, Elsa Joubert is waarskynlik een van ons mees afskuwelik polities korrekte skryfsters, ‘n soort vroulike André P. Brink. Maar haar vroeë roman Ons wag op die kaptein wat in Angola afspeel, is regtig die moeite werd om te lees. Dit tower die hele Portugese wêreld voor jou op, maar ook die donker kant daarvan in Afrika: die praktyk van swart houvroue, die mulat-kinders en hul dilemma tydens die onvermydelike konflik tussen swart en wit. Sy skryf selfs oor Afrika-toorkuns en menslike liggaamsdele wat daarin gebruik word. Ek twyfel of so ‘n boek vandag gepubliseer sou word, en beslis nie deur die NB-uitgewerye nie!

Dit voel soms vir my asof ek nog eintlik niks geskryf het van wat ek voel nie… Maar die probleem van Suid-Afrika is dat mens as’t ware in die donker rondtas, soos ‘n slaapwandelaar. Dit neem jou jare om net sekere eenvoudige werklikhede te verstaan.

Ek sou sê dat daar vandag ‘n baie klein groepie Afrikaners, ook jongmense, is wat te midde van al die swartgalligheid en ondergang, tog vorentoe beur. Ons kort bloot ‘n nuwe idee, of dan die vernuwing van ‘n ou idee. Vir my gaan dit om die herontdekking van ons Europese en Westerse identiteit. Met verafrikanisering, métissage (die Frans klink beter, maar dis eintlik net ‘n mooi woord vir verbastering) en marxistiese nivellering het ons ‘n doodloopstraat bereik. Dis tyd dat ons die ou pioniersgees van ons voorouers herontdek: dié van die Voortrekkers, maar ook van die Nederlandse en Portugese ontdekkingsreisigers.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.