Suidpunt: Waarom is Hollands weggegooi vir Afrikaans?

Een van PRAAG se getroue lesers, op Disqus bekend as Sussie se Vissie, wou weet waarom die Afrikaner/Boer so maklik die Hollandse kultuurtaal, waarop hy tog so heilig was, so maklik kon prysgee vir Afrikaans. Wat sou die rede hiervoor wees?

Dit volg na aanleiding van Leon Lemmer se resensie – Wannie Carstens se ‘Storie van Afrikaans’ op 26 November 2017.

Die presiese bewoording lui:

Mnr Lemmer,

Met die koloniale besetting van onder meer Amerika/Australië het Engels in sy geheel, redelik ( indien nie absoluut nie ) – as landstaal behoue gebly.

Benewens aksente wat opmerklik verskil en jou blindelings in staat stel om tussen dié twee nasionaliteite te kan onderskei, hoe’t dit gebeur dat Afrikaans in taal, woord en spelling so radikaal weggeswaai het van SY aanvanklike Nederlandse/Hollandse volkstong en/of besetter?

Ek kry nie my blondine-intellek om dié een nie.

Het ons voorsate as ongeletterde plebs/uitskot doodeenvoudig gesukkel om uiting te kon gee aan Hoog Nederlands – en toe die weg van n tipe ‘fanagalo’-Nederlands gevolg waarmee hul hulself gemaklik kon vind?

Argentinië met sy besetters-geskiedenis dieselfde. Ofskoon jy afgeraai word om NIE Spaans in Argentinië te leer praat nie, is die gemene deler as taal, nie so radikaal vervreem soos die van Afr en sy Nederlandse grootouer nie.

Insgelyks sekere Afrika lande. Het enige van hul in n soort van ‘fanagalo’-Frans metamorfeer?

Die beweegrede(s) tot n soeke na n EIE eertydse ‘nuwe taal’ ( gegewe die status quo van bg vermelde lande ) – slaan my dronk.

 

Op Leon Lemmer se reaksie, herhaal sy haar standpunt.

Dkie vir u repliek.

My skrywe opgesluit in u sin ‘…dis primer die blanke Hollandsprekendes wat hul tradisionele taal aangepas het’.

My vraag dus:- Waarom so radikaal? Wat was hierdeur bereik?

Die oogmerk te wees wat?

Andersyds gee ek u met als gelyk, en kan u aanvaar net sotte ( behalwe blondines ) sal hul verwerdig om iemand met u statuur…te probeer vasvra.

 

Aanvanklik was my brief teen 29 November reeds 17 bladsye lank, maar ek moes toe ongelukkig van voor af begin.

Hier volg die redes.

REDE 1. SIMPATIE TEENOOR DIE SPREKERS VAN AFRIKAANS, DIE TAAL VAN DIE ONGELETTERDE.

Die Hollander Arnoldus Pannevis was alleen maar bekommerd oor “het geestelijk heil van de gekleurde bevolking van dit land” en wou daarom ‘n Bybel vertaal kry in eenvoudige “Afrikaansch-Hollandsch”, net soos daar vir die bewoners van sekere Deense Wes-Indiese eilande ‘n Nuwe Testament in “Neger-Hollands” vertaal is (Scholtz, 1939:226). ‘n Ander Hollander van geboorte, Casper Peter Hoogenhout, het dié uitsig verbreed (Scholtz, 1939:229):

“Jij sal miskien seh, […] die Engelse het oweral skole en kerke ver die bruin mense opgerig. Maar nou vra ek weer, as hulle dan nie eens die Hollanse taal reg kan verstaan nie, hoe sal hulle dan die Engelse verstaan? Nee! daar mot meer gedaan wort, daar mot in hulle eige taal geskrijwe en ver hulle gepreek wort, 1 Cor. 14, en nie alleen ver die bruin mense nie, maar ook ver banja blanke, want daar is ook regte banja blanke wat die Hollanse taal nie half verstaan nie. Ja die Hollanse taal sal naderhand heeltemaal in Afirka gedaan raak, en die Afirkaanse sal daarvoor in die plek kom, en das ook reg. […] Nou mot een eenvoudig Afirkaner jaare lang leer om die Hollans en Engels te verstaan, ik seh “verstaan”; en dat kom omdat et nie hulle taal is nie, maar omdat die Hollanse taal “half” vreemd is en die Engelse glad vreemd. Was daar een Bijbel en andere boeke in de Afirkaanse taal, dan sal een arm Afirkaaner in ses maande meer kan leer as nou in ses jaar. Maar wag maar die tijt sal kom.”

Maar hulle albei het tog iets in gemeen: om vir ‘n ongeletterde groep ‘n teks verstaanbaar te maak. Vir die halfgeletterde én ongeletterdes.

Steyn (1980:192-193) wys onder meer na Dr. W.J. Viljoen wat sy roeping ernstig opgeneem het – Nederlands sou gehandhaaf word in sy Vrystaatse Onderwysdepartement, waarvan hy die hoof was. Hy het altyd met sy amptenare Hooghollands gepraat, en geëis dat alle dokumente en notules in Nederlands moes wees:

“Een keer was C.R. Swart, latere Staatspresident, by hom op kantoor. Dr. Viljoen het die swart kantoorbode laat kom en in Afrikaans vir hom gesê: ‘Ou Jan, gaan haal gou vir ons twee koppies tee.’ Daarna sit hy sy gesprek met mnr. Swart in Nederlands voort.”

Wat is so vreemd hieraan? Kyk eens. Hierdie aanhaling bevestig net weer: Nederlands is duidelik die taal van die Beskaafde Blanke, Afrikaans die taal van die swarte, bruine en ongeletterde blanke Afrikaner.  As die meerderheid Afrikaners ongeletterd of halfgeletterd was (soos ons later sal sien), het Afrikaans nie selfs méér tot die volk gespreek as Nederlands, die taal van die kulturele elite nie? As groepstaal, die taal van die verontregte? Die taal van die onderdrukte?

REDE 2: WANBEGRIP WAT DIE BEGRIP “NEDERLANDS” WERKLIK BEHELS.

Daar is geen duidelike omskrywing wat die begrip NEDERLANDS werklik behels nie – handel dit oor iets wat soos verstaanbare Nederlands LYK (korrekte vervoegings en verbuigings, maar idiomeskat wat afwyk toelaat, tot so ‘n mate dat ‘ou bokke het stywe horings [oude bokken hebben stijve horens]’ mens laat giggel soos ‘n jong non in ‘n komkommerbedding)? Of lyk hierdie Nederlands soos deur die Staatsamptenary en wetenskaplikes in Nederland geskryf en gepraat? Of, is Nederlands ook hierdie afgewaterde spreektaal sonder vervoeginge, wat ook al sy ander subdialekte insluit?

Vir baie mense lyk dit my is dit moeilik om taaldinamiek te verstaan. Dat ‘n taal nooit staties bly nie. En tog soms wel. Waarom anders kon Yslands sy drie woordgeslagte (manlik, vroulik, onsydig) behou, terwyl sy stamtaal, Oudnoors, afgewater het tot twee geslagte en die meeste van sy vervoeginge van ontslae geraak het tot ons by Moderne Noors uitkom? Is Noors te veel deur Deens, wat op sy beurt deur Platduits en Sweeds beïnvloed is, beïnvloed? Skynbaar ja  (Steyn 1980:117). Maar hoe het Yslands sy identiteit en struktuur behou onder Deense heerskappy? Yslands het ‘n stewige, gevestigde letterkunde – en sy sprekers se geletterdheid word plek-plek selfs tot bibliomanie oordryf in Jules Verne se “Voyage au centre de la terre” (1864), waar daar geen boeke in die Yslandse biblioteke te vinde is nie, omrede hulle almal uitgeneem is. En daar was nie te veel inmenging deur ander lande op hierdie eiland in die middel van nêrens nie. Maar niks het deur die eeue heen verander nie, so waarom sou die woordeskat en grammatika hoef te verander?

Tog, mens kry Litaus in Oos-Europa, en ook hierdie taal het deur al die oorloë, onkunde en wie weet wat als ook nie veel van sy oorspronklike struktuur ingeboet nie (die Russe was ook nie dáár in die streek veel doenig nie). Of was hy maar net ‘n vervelige Baltiese saadjie wat vir jare oor die hoof gesien is en toe, skielik, op ‘n dag, onder die stof ontkiem en gebloei het tot ‘n landstaal toe die lentegeur van onafhanklikheid in die lug hang?

Eerstens moet ons goed begryp daar was nie eintlik ‘n Standaardnederlands (kunstaal) voor die verskyning van die Statenvertaling in Nederlands nie. Elkeen het die Bybel en hul proefskrifte voorheen maar in sy eie dialek of stadstaal oorgeskryf. Literêre stukke soos Lanseloet van DenemerkenVan den Vos Reynaerde en ander Abele Spele is almal in dialekte geskryf in die Middeleeue. Dit is waarom sekere ou Nederlandse boeke selfs later uit die 1600‘s vir my moeilik leesbaar is (ver van Amsterdams), terwyl ander verbasend maklik is (naby aan Amsterdams). Selfs Luther se Duitse Bybel  van 1522 het die Standaardiseringsproses begin, maar die vertaling self is deurspek met regionalismes soos hy in die omtrek die mense vir uitdrukkings gaan rondvra het om sy vertaling mee te voltooi.

Tweedens moet ons die totstandkoming van die Standaardtaal verstaan.

1. Enige dialek in ‘n kontinuum kan tot Taal verhef word indien die volk (stam, kultuur) en intelligentsia (soos taalkundiges) of maghebbers van ‘n land (en baie keer internasionaal) dit so aanvaar. Fries in Nederland is ‘n voorbeeld hiervan en so ook Katalaans in Spanje. Soms is geld die vernaamste faktor – soos tydens die Hansetyd toe Platduits of Nederduits hoë prestige gehad het, maar mettertyd oorskadu is deur Hoogduits van die magtiger konings. Die Standaardtaal weet ons is daar om mense binne ‘n land met verskillende dialekte te help om mekaar te verstaan en die volk (of landgenote) te verenig = dit is kunsmatig. In Nederland het die twee provinsies Holland die kitaar op ekonomiese gebied geslaan, die koningshuis is daar gesetel, die Staten-Generaal (parlement) is daar gesetel  – so die dialek van die provinsies Holland, d.w.s. Noord- en Suid-Holland, sou die swaarste stempel op hierdie kunsmatige Standaardtaal afdruk.

2. Soos vele streke in Nederland self en sy kolonies het niemand ‘n eenvormige onderwys gehad nie en die meeste burgers was ongeskoold. Drastiese verbetering het eers vanaf die 19de en veral in die 20ste eeu verwesenlik.  

3. Hierdie ongeskooldheid of halfgeskooldheid plaas heelwat nadruk op die betrokke dorpstaal, streekstaal of dialektaal, wat afwyk van die Standaardtaal wat reeds in die stamland of hoofsentra aan die vorm is of gebruik word. Dialekte het soms die neiging om na mekaar of weg van mekaar te groei soos die tyd aanstap. Sekere dialekte is ook traag om te verander (hoë stabiliteit), ander verander weer blitsvinnig (wat ‘n eeu gelede geskryf is, is vandag onleesbaar). Dit hang alles af van mobiliteit, verlatenheid of hoeveel die mense in ‘n land of streek geneig is om rond te trek; en of ‘n ander taal besig is om in te meng. Hoe meer beweeglik die plaaslike bevolking geraak het (via spoorweë) binne die land self (dit is nou Nederland), hoe meer is ander onverstaanbare landsdialekte (EEUE OUER as die Suid-Afrikaanse dialekte en dus ook meer afwykend van Standaardnederlands van die Randstad) teengekom, en dus is die belang van die Standaardtaal al hoe meer hoog op prys gestel om met sprekers van ander onverstaanbare dialekte te kommunikeer. In Suid-Afrika het die subdialekte (streekstale) destyds nog nie so ver afgewyk nie (want dit was nie so oud nie), behalwe deur Engels wat met die verloop van baie jare al hoe meer sy invloed op hierdie verskeie dialekte afgedruk het. Verder het elke tweede Suid-Afrikaanse boer beslis nie in sy lewe ‘n pelgrimsreis na Amsterdam onderneem nie.

Volgens die Featurefrekwensiemetode staan die Afrikaans, wat erken word as n afsonderlike (dogter)taal van Nederlands, veel nader aan die Nederlandse Standaardtaal  (23ste op die lys) as die ander dialekte op Vlaamse, Nederlandse en Franse bodem (Duinkerken). Suid-Limburgs in Kerkrade wyk die meeste af (Van Eeden, 1995:6-9).

4. Die dialek waarin kommunikeer word begin al hoe meer afwyk van die beskoude Standaardvorm, of elitetaal, of koningstaal in die stamland.

5. Sodra die Standaardtaal (Nederlands, n kunstaal) uiteindelik gefinaliseer en landwyd of internasionaal aan skole onderrig word, is dit vir party makliker, ander moeiliker, om by die Standaard aan te pas. Dikwels is daar ook ander hindernisse, soos in Vlaandere en Suid-Afrika, waar volksbewustheid en gebrek aan media (biblioteke en beskikbaarheid van leesstof), ook verdere weerstand teweegbring om die Standaardtaal (destyds genoem Algemeen Beschaafde Nederlands) te aanvaar. Limburgs in Nederland sal weer nie maklik besluit om eerder “Duits” te wees as Nederlands nie. Hier gaan dit weer om nasionale eenheid en pragmatiek: Limburgs binne die Nederlandse landsgrens groei al hoe meer na die Standaardnederlands as kultuurtaal toe, in Duitsland na Standaardduits.

Teen daardie tyd (die finalisering van Standaardnederlands) is Afrikaans deur wat ek “verwildering” en ander “evolusie”/”vereenvoudiging”/”veranalitisering” noem reeds gevorm. Ek dink mens sou tereg kon noem Afrikaans was teen 1900 die produk van 250 jaar se onkunde en swak skoolopleiding van (Randstad)nederlands weens omstandighede. As, ás almal in die Kaap de Goeie Hoop, onder die Nederlandse regering

1)      verplig sou wees om geskool te word in Staatsnederlands [Ryksnederlands? Randstadnederlands?] tot op gevorderde vlak (tot net voor universiteit?),

2)      daar geen invloede van buite was nie [alle ander voormalige Nederlandse kolonies wat deur Engeland oorgeneem is, het heeltemal verengels],

3)      daar genoeg Hollanders gekom en gegaan het om die nuwe wendings in die taalgebruik oor te dra,

4)      daar genoeg opvoedkundige leesstof beskikbaar was om die “geletterde Boere” besig te hou,

sou dit die afwyking beslis gestrem het [afhangend hoe goed opgelei die skoolmeesters was].

Ongelukkig weet ons ook die V.O.C. en die Staat Nederland self het aanvanklik absoluut die minimum, feitlik bôggerôl gedoen om die kolonies te ontwikkel (Kaapstad sou in hierdie opsig waarskynlik nie groter as Suurbraak geword het nie). Maar Engeland kon wel, want hy was nie so baie in duur Europese oorloë betrokke soos die ander koninkryke op die Europese Vasteland nie en verder was hy nie soos Denemarke, Nederland en sekere dele van Frankryk afhanklik van slegs die Engelse kanaal nie. Op daardie gebied was hy onaantasbaar.

n Mens sou nou kon spekuleer of die lewe onder die Nederlandse vlag beter sou verloop het.  Nederland het eers werklik teen die laat-1800‘s tot laat-1930‘s belangstelling in sy kolonies begin toon [ook maar net omdat Frankryk en Engeland dit met hul eie gedoen het; dis nou as die ontdekking van goud in die Hoëveld nie reeds ‘n stormloop veroorsaak het deur geleidelike gebiedsuitbreiding noordwaarts nie, as dit ooit sou gebeur het…]. Soos Indonesië (voorheen Nederlands-Indië) egter toon, het die Hollanders steeds nie veel beleggings daarin gepomp nie – dit was steeds ‘n kolonie wat op die primêre sektor ingesteld was: landbou, bosbou, mynbou, vissery, jag. Daarteenoor het die Britte in Indië (die een besuide die Himalajagebergte) begin fokus op vervaardiging (om selfs nog groter wins te maak met die goedkoop vervaardigde produkte met goedkoop arbeid).  

Bos (1941) werp vir ons lig op die onderwerp. Eers in 1817 word die eerste Europese skooltjie oopgemaak in Weltevreden, Nederlands-Indië. In 1860 kom daar die Gymnasium Koning Willem III tot stand, wat die moontlikheid bied om aan Nederlandse universiteite te studeer.

Tot met die volgende eeuwending lyk sake ook maar beroerd met al die omliggende skooltjies. “Dit bleek o.a. uit een in 1900 door het Nederlansch Indisch Onderwijzers Genootschap ingestelde enquête: van 1476 toegelaten Europeesche leerlingen verstond 621 of 41,5% in het geheel geen Nederlandsch; 433 of 29,3% kenden slechts een weinig Nederlandsch en slechts 422 of 29,2% begrepen en spraken de voertaal bij het onderwijs behoorlijk” (p. 16).  Teen 1937 was daar 10 middelbare skole soortgelyk aan Gymnasium Koning Willem III. Lycea (middelbare skole wat slegs Latyn aanbied en nie Oudgrieks nie) was daar vier – twee bestuur deur die regering en twee privaat (p. 23).

“De vraag, of Indië eigen instellingen van Hooger Onderwijs noodig had, werd tot ongeveer 1910 vrijwel eenstemmig ontkennend beantwoord.” Die Eerste Wêreldoorlog het egter studiereise na Nederlandse universiteite bemoeilik en die behoefte na ingenieurs het in Indonesië intussen groter geword.  En juis daarom het die eerste tegnikon eers in 1920 oopgemaak (p. 26).

Die Anton de Kom Universiteit van Suriname is eers op 8 Mei 1966 in die lewe geroep. Volgens hul webwerf: “De Universiteit begon op 1 november 1968 met slechts een faculteit, namelijk de Surinaamse Rechtsschool die in de Faculteit der Rechtswetenschappen was opgegaan. Hoewel de Geneeskundige School ouder is dan de Rechtsschool maakt de juridische faculteit langer deel uitvan de universiteitsgemeenschap dan de medische faculteit. De Geneeskundige School, Suriname ‘s oudste instelling voor hoger beroepsonderwijs, ging pas op 26 september 1969 in de universiteit op.”

Op 25 November 1975 word Suriname onafhanklik – en die Nederlandse koninklikes het ‘n jolige fees op die boot daaroor gehou.

Vergelyk nou hiermee: “In 1817 het ‘n toekomstige predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Abraham Faure, wat toe in Nederland student was, voorstelle gedoen vir die ontwikkeling van hoër onderwys in sy vaderland*. Tien jaar later sou hy saam met ander vooraanstaande Kaaplanders, onder wie James Adamson van die Skotse Kerk, die voortou neem in die stigting van ‘n Atheneum in Kaapstad – die Suid-Afrikaanse Kollege.” [*Hy was waarskynlik gatvol vir die liberale teologie / vrysinnige Protestantisme aan Nederlandse universiteite]

Dié kollege in Kaapstad is in 1829 geopen, maar dit was eintlik niks meer as n middelbare skool nie (Boucher, 1973:3); so het SACS High ontstaan. Paarl Gimnasium het op 12 Januarie 1858 en Paul Roos Gimnasium is in 1866 in Suid-Afrika oopgemaak. Die teologiese seminarie, die Victoria-kollege, wat later die Universiteit van Stellenbosch sou word, is in 1866 gestig (Boucher, 1973:19).

Dit is dus moeilik om met sekerheid te sê of Suid-Afrika onder Hollandse bewind n universiteit sou gekry het in die 1800’s indien genoeg mense daarvoor sou gevra het. Vergeleke met Indonesië wil dit tog so voorkom.

In Holland het dinge in die laat-19de eeu ook nie veel beter as Suid-Afrika en Indonesië onder die V.O.C. of Nederlandse vlag gelyk nie, veral nie vir die vrou nie. My oupa aan Hollandse vaderskant, se skoonsuster, se moeder, kon nie eens haar handtekening maak op die huweliksregister om die troue van haar dogter en skoonseun te bevestig nie (daar was destyds ‘n wet in Nederland waar die ouers hul kinders onder dertigjarige ouderdom skriftelik moet toestemming gee om te trou). Sy kon nie lees of skryf nie [dit staan uitdruklik so geskryf op die huweliksregister]. En dit was op 3 Junie 1936! Sy was buitendien toe al ‘n vrou van amper 64 jaar oud. Nou moet jy ook weet – die eerste leerplig word eers in 1900 in Nederland aangeneem en tree op 1 Januarie 1901 in werking. As die stamland so lyk, hoe lyk die kolonies dan nie?

6. Indien daar geen eerstehandse kontak is met die persone wat die Standaardvorm SPREEK nie (ook d.m.v. radio, televisie, telefoon, rolprente, plate, videokonferensie) bly die afstand tussen Standaardtaal en dialek of “afwyking” groot. In ‘n land met weinige invloed deur Hollanders tydens die koloniale Britse ryk, is die afwykingsproses van Afrikaans van Standaardnederlands hoegenaamd nie stopgesit nie.

7. Die spreektaal van die blankes (Plathollands/Afrikaans) is gebruik as onderrigmedium van Hooghollands en ander vakke in Transvaal. In die Kaap was dit Engels. Albei het teenproduktief gewerk om Hollands aan die leerlinge oor te dra en baie maal was selfs die ingevoerde onderwysers uit Holland  (of diegene wat daar gaan studeer het) in die Boererepublieke  ook nie goed genoeg gekwalifiseerd nie. Verder is die leerlinge in die Kaap nie aangemoedig om Nederlands op skool te praat nie.

8. Alleen die tyd sal leer of die dialekkontinuum in Nederland vandag heeltemal deur skoolonderrig en mediablootstelling sal verdwyn – sodat slegs een eenvormige Standaardtaal sal oorbly. Die vraag is ook of, indien Afrikaans by Nederlands gebly het, die Suid-Afrikaanse dialek hierdeur beïnvloed sou word en ook heeltemal sou verdwyn het.

9. Punt nommer 1 tot 8 kan ‘n streep deur getrek word word na aanleiding van die volgende voorbeeld: Die Duitsers het van die beste skole in Amerika gehad (en het beslis meer literêre en wetenskaplike skatte as Afrikaans!), en tog is die taal daar aansienlik verswak. Onder andere deur iets so simpel soos stigma tydens die Eerste Wêreldoorlog, omstreeks 1917 en daarna. Dit was ‘n skande om ‘n Duitser te wees op heilige Amerikaanse grond, en ons is almal bewus hoe Duitsland by die Verdrag van Versailles verneder is (hoewel die Amerikaanse Kongres tog later hierdie verdrag sou verwerp het). Baie Amerikaanse state het die gebruik van Duits in skole, op straat, oor die telefoon en op vergaderings verbied. In party state is Duitssprekendes geteer en veer, ander is geslaan, verneder, uit hul werk verdryf; predikante wat in Duits gepreek het se huise is snags geel geverf, sonder dat die daders vervolg is. Waar 9 miljoen Amerikaners in 1910 nog Duits gepraat het, was daar teen 1966 maar sowat 50 000 sprekers onder agttienjarige ouderdom oor (Steyn, 1980:15-17; 53).

10. Watter kant van die spoorlyn jy bly, gaan dalk bepaal watter dialek jy verkies.

Petrus van Eeden se gratis beskikbare boek op die internet, “Afrikaans hoort by Nederlands”, beskou die opkomende Nasionalisme, Outonomie en Eie Identiteit (as samebindende middel in die strewe na onafhanklikheid), geen stedelike bevolking en klein elite (vox populi = Vox Dei?), lae skoling (soos om Matriekwiskunde af te water) en die Romantiek (Engels en Nederlands is die bose gekunstelde maghebber, Afrikaans is die wonderschöne, ongekunstelde, gemarginaliseerde natuurkind in die donker hoekie van vergetelheid) as die vernaamste redes waarom Afrikaans later tot standaardtaal verrys het.

Van Eeden behandel slegs vier bladsye oor lae skoling” (p. 146 tot 149). Ek lig slegs drie punte uit.

1. Turkye het in 1922 sy eie identiteit gesoek. Die Persiese en Arabiese woorde is uit die taal gewerp en Europese leenwoorde is in gebruik geneem; die Arabiese  skrif is verwerp en met die Latynse alfabet vervang. Boonop is die skryftaal en taalreëls vereenvoudig (of, gemoderniseer). Nou haal ek Van Eeden aan wat sê (p. 146): “hierdie radikale verandering [is] vergemaklik, deur die feit dat in 1927 maar sowat 10% van die bevolking geletterd was. Hierdie drastiese taalhervorming sou onmoontlik gewees het, indien die Turke destyds goed geskoold en welgesteld was.”

2. Van Eeden haal dan Nederlandse navorsing aan wat dui mense wat hoër geskoold is, sal die spelling behou soos dit is [NEEM KENNIS, TAALKOMMISSIE!]. ‘n Moeiliker of ingewikkelde spelwyse sal hulle nie afskrik nie; ‘n oorvereenvoudigde spelwyse sal hulle egter juis teen die bors stuit – want dit kan mos lei tot vervlakking van die taal. Of die Nederlandse spelwyse behoue sou gebly het of in ‘n snaakse Duitse lopende skrif, Fraktur, runeskrif, Gotiese alfabet, Cyrillies of selfs Sjinese piktogramme of spykerskrif geskryf sou word maak nie saak nie – ‘n mens leer wat hy leer op skool. En basta.

3. Boonop was die gehalte onderwyser in Suid-Afrika destyds (*en vandag?) nie juis universeel wat wonders nie (p. 147) – daar was onderwysers wat skaars hul name kon skryf, selfs soms hul name as Potchefstroom, Pretoria en Witfontein aangee, met die maandname twee of meer spelfoute begaan, eenvoudige somme misreken, die getalle met ses tot sewe syfers nie sonder foute kon opskryf of uitspreek nie, nie ‘n werkwoord van ‘n selfstandige naamwoord kon onderskei nie.

Hiermee vergelyk Van Eeden (1995:149):

“Uit die werk van Bortoni-Ricardo (1985) is dit ook duidelik dat persone uit die lae sosio-ekonomiese vlakke van die Brasiliaanse samelewing, probleme ervaar met die vervoeging van die werkwoord. Hoe armer en laer geskoold die Brasiliaan, hoe meer afgewater die vervoeging van die werkwoord asook ander grammatikale vereenvoudiginge. Die opvoedingsproses hou dan in dat die ergste afwykings eers deur middel van addisionele skoling bygebring word. Kyk ‘n mens na die uitlatinge van Mansvelt teen die einde van die vorige eeu, dan blyk dit duidelik dat die Afrikaners wat die laagste geskoold was, ook die fleksievorme van veral die werkwoord die meeste verwaarloos het. Diegene met minder as een jaar skoolopleiding en volgens Mansvelt, suiwer Hollands gepraat het, se taal was “volstrekt niet van buigingsvormen ontbloot” (De Villiers 1936:128). Kombuis-Hollandstaliges, mense dus wat minder as ‘n paar maande skoolopleiding geniet het, het volgens Mansvelt ook nog ‘n suiwer Hollands gepraat, maar hul taal het “bijna alle buigingsvormen, vooral bij de werkwoorden verwaarloost.”

Gegewe al bogenoemde feite, laat dit my eerlikwaar wonder of die onderwysers ooit geweet het wat Nederlands beteken.

Niemand is eintlik nou nog seker wat die losse begrip “Nederlands” behels nie. Wat ek, Suidpunt, onder Standaardnederlands verstaan is om in die stemtoon, die idiomeskat, die woordeskat, uitdrukkings, die sinsbou, die “gees”, die bybetekenisse van Nederlandse woorde geheel en al met die Nederlanders s’n te laat ooreenstem soos hulle vandag oor die radio praat, en veral soos by sobere hofstukke gebruik word. Net omdat ek werkwoorde korrek vervoeg en selfstandige naamwoorde die regte verbuiging gee, beteken dit nie ek praat suiwer Nederlands nie.  Dan kry jy geen Nederlands-Nederlands nie, maar Suid-Afrikaanse Nederlands.

Dit hang weereens af hoe inklusief die akademie wil wees.

Nou sal Sussie natuurlik wys na die Engels en Frans en vra waarom daar nie so baie kreooltale in die Afrikalande is nie en waarom die Amerikaanse Engels nie so erg verskil van Britse Engels nie.

Ons moenie vir een oomblik dink die meerderheid Afrikane van voormalige Franse kolonies praat Frans AS MOEDERTAAL nie. Wat jy daar oor die TV of Youtubevideo hoor is die aangeleerde taal. Wat jy op die skoolbanke kry. Wat moedertaal betref, is mens mos mee houtgerus – jy glo dit is outomaties korrek. Jy gaan nie elke vyf minute hol na n woordeboek uit vrees vir die verkeerde woordkeuse nie. Maar dit gaan ook afhang van jou taalprioriteit. As mens uit n Afrikastam van nederige herkoms spruit, wat n goeie en blywende indruk wil skep en sosiale opgang wil maak deur jou fleurige, gekunstelde, dog hoflike (en n skeutjie vleiende) taal in n derdewêreldland om die boonste sport te bereik, dan moet jou taalgebruik (wat by skoolbank-Frans begin het) keuriger as jou mededingers sn wees. As jy ‘n landbouer is wat heel toevallig ”Nederlands” as moedertaal praat, is bloutong onder die skape ‘n veel groter probleem.

Ek stel ook voor die lesers gaan kyk by http://langscape.umd.edu/map.php . Regoor die hele Afrika, met die uitsondering van die suide, sien ek geen Frans of Engels op die kaarte nie. As jy inzoem na die Suid-Afrikaanse stede, daar floreer Engels, maar nie Frans of Portguees in plekke soos Brazzaville en Luanda nie. Die kaarte is egter hoogs veralgemenend – daar is plekke soos Fairview wat ooglopend Afrikaans is – of is dit die huispersoneel wat daar permanent ingetrek het? Sover ek onthou was plekke soos Parow, Bellville, Durbanville (Pampoenkraal) nog altyd Afrikaans. En, in my wildste drome kan Kayelitsha en Kenilworth nie Afrikaans wees nie. Maar tog, volgens die 2011-sensus was Hermanus 76,1% Afrikaanssprekend [nou nie juis die indruk waaronder ek verkeer het nie]. Ook in my eerstejaarsvoorgeskrewe Aardrykskundehandboek deur Bergman en Renwick (2008:275), slaan Afrikaans soos varkmasels op die Afrikavasteland uit. Op die vreemdste plekke. Daar is egter geen beduidenis van Engels of Frans of Portugees op Renwick en Bergman se Afrikakaart nie – wel Arabies.

Ons moet onthou die volkere in die Afrikalande is baie stamgebonde, en die Engels en Frans wat nou deel van die destydse évolués  (ontwikkeldes, beskaafdes) uitmaak is ‘n skepping van die vroeë 1900’s. Lees mens deur David van Reybrouck se “Congo: een geschiedenis” (2010:231-242), was daar enkele swartes in hierdie Belgiese kolonie wat wel deel van dié évolués wou word. Dan moes hul hele lewenswyse, kultuur en uitkyk ooreenstem met die Westerse heersers s‘n – wat met sekere voorregte gepaardgaan. Dan kon hulle wyn drink, verdere geleerdheid ontvang, in dieselfde swembaddens plons as die Belge (maar soos Van Reybrouck skryf (2010:233): Als het zwarte in het zwembad sprong, gingen de blanken eruit. Lijfstraffen met de chicotte golden nog steeds voor alle Afrikanen, zelfs voor hen die Latijnse naamvallen kenden en de speeches van De Gaulle lazen), later selfs meer blankevoorregte verkry… maar vir die meeste volke van die Belgiese Kongo was dit suiwer gatkruip en ontkenning van jou eie stam, vir weelde.  Dis vernederend om boetie-boetie met die heersers te probeer speel. Nietemin was die belangstelling groot om sosiale opgang te maak. Die keuringsproses was egter streng (Van Reybrouck, 2010: 236): In 1958 waren slechts 1557 burgerlijke verdiensten uitgereikt en slechts 217 immatriculaties, op een bevolking van veertien miljoen inwoners.  Tog was daar in 1947 op Kongolese dorpies 110 intellektuele klubs, met altesaam 5 609 lede.  Hierdie syfer sou toeneem vanaf 1952 tot 1956 vanaf 131 na 317 klubs. Die inskrywingstal het gestyg vanaf 7 661 tot 15 345 lede.

Verder is dit onbillik om aannames rondom Frans te maak as jy self nie Frans magtig is nie. Frans is ‘n taal wat alles behalwe foneties ooreenstem met die spelvorm. Dieselfde regionalismes stem ook duidelik nie ooreen met die Académie se Frans nie. Maar, as jy wil glo jou Frans is Frans, dan is dit Frans. Dieselfde met die Suid-Afrikaanse Nederlandse dialek van destyds en die halfduitse Limburgs van vandag – as jy vas glo jou Nederlands wat jy praat is Nederlands, dan is dit Nederlands. Geen haan sal daarna kraai nie.

Dit is wat Van Eeden eintlik wil sê: Sulke afwykings IN NEDERLAND EN BELGIË word eenvoudig “dialekte”, “stadstale” en “dorpstale” van Nederlands genoem wat in die verlede deur bykans homogene Nederlanders en Vlaminge gepraat is. By ons in Suid-Afrika word dit sommer ‘n nuwe taal. Onthou, daar was nie radio’s en televisies in elke liewe huishouding in Europa wat Algemene Beschaafde Nederlands die huis indra nie! Sommige dialekte, stadstale en dorpstale wyk véél meer as Afrikaans van die Standaardnederlands af.

Dit is dus nie verbasend nie (1995:52):

“Ten spyte van die hoë tempo waarteen die Vlaminge die Nederlandse standaardtaal nagepraat het, het die aantal Vlaminge wat die standaardtaal, gedurende die sestigerjare as spreektaal gebruik het, nog nie 3% van die Vlaamse bevolking gehaal nie (Willemyns 1971:7). Volgens Botha (1976:6) gebruik minder as 1% van die Vlaminge die Nederlandse standaardtaal, en het hy waarskynlik slegs na die gesproke taal verwys.”

Maar al sou die hele hutspot-idee van Afrikaans as die uitvloeisel van hoogs flekterende tale wat gelyke speelveld soek (Nederlandse, Duitse, Franse, Deense, Sweedse, Noorse selfs Khoi-dialekte?) , net soos by die onlangs ontdekte mynerstaal, Cité-Duits, in België, waarvan die proses haarskerp ooreenstem met die vorming van Afrikaans (Van Maris, 2017), voorgehou word, hou dit ook nie stand teenoor Amerikaans nie. Amerika is immers veel ouer, daar was ook vlae immigrante uit verskeie dele van Europa wat toegeskryf kan word aan oorloë, hongersnood, ekonomiese ineenstorting, beter werksgeleenthede, familie wat reeds gevestig is. Nou hoekom lyk hierdie Engels nie veel anders as dié van Brittanje nie? Of is ons so gewoond aan Amerikaans en Brits dat ons geen verskil meer kan raaksien nie?

Steyn (1980:51) voer aan hierdie miljoene immigrante wat aangekom het en hul ou tale verleer het, kan toegeskryf word aan “waarskynlik die onderwys”. Tog was daar vir baie lank Duitse skole in Amerika. Maar “algaande het die verskillende state op aandrang van die federale regering begin vereis dat net Engels die onderrigtaal in private en openbare skole moet wees”. Verder was daar tot met die 1960’s ‘n baie sterk assimilasiebeleid, en hiervan was Engels die voertaal. Die rolprentbedryf baie later het ook sy werk deeglik gedoen.

Laat ons dus kyk hoe het die onderwys in Suid-Afrika gelyk.

REDE 3: TE MIN LESURE IN NEDERLANDS

Om meer uit te brei omtrent punt 6: was die Nederlands wat op skool geleer is, werklik Nederlands? En van hoeveel tyd praat ons?

Volgens M.E.R., skryf Steyn (1980:191), was “alle skoolboeke [in Transvaal voor die Tweede Vryheidsoorlog] in Nederlands”, “maar die Afrikaanse onderwyseres en kinders het Afrikaans gepraat.” Dit was in alle vakke so. Die onderrigmedium was in Afrikaans, die boeke geskrewe in Hollands.

En tog sê Mansvelt op 1 Mei 1890 eintlik: slegs 12 maande is nodig om “Nederlands” (nou nie goeie Nederlands-Nederlands nie, maar wel ‘verstaanbare’, skaflike Nederlands vir Suid-Afrika) werklik te leer skryf en praat met die korrekte vervoegings (Van Eeden, 1995:148):

“[…] de taal die men bijv. te Stellenbosch niet alleen op openbare vergaderingen, maar ook in den omgang nog hoort van mannen, die mij zelf verzekerd hebben, dat zij in hun jeugd niet meer dan twaalf maanden onderwijs genoten hebben van den een of anderen weggelopen matroos of soldaat. Deze taal nu, hoezeer ook in vele opzichten van de Nederlandsche schrijftaal afwijkende, is in haren zinsbouw, zoowel als woordenschat, zuiver Hollandsch en volstrekt niet van buigingsvormen ontbloot […]”

Maar oor Kombuis-Hollands: “Dit is de taal die bijna alle buigingsvormen, vooral bij de werkwoorden verwaarloost.” Hierdie taal word volgens Mansvelt gebruik deur persone wat slegs enkele maande gebrekkige onderwys geniet het. Nogtans beskou Mansvelt dit as ‘n verrassing dat Kombuis-Hollandstaliges, ondanks die feit dat die Kaap toe al vir byna ‘n eeu onder Engels bestuur was en skoolopleiding vir die Afrikaner pateties was, dié mense “nog zulk een betrekkelijk zuiver Hollandsch spreken” (Van Eeden, 1995:148).

Hoewel Van Eeden in ‘n optimistiese trant skryf ”Verder is dit belangrik om daarop te let dat Mansvelt hierdie twee soorte Afrikaans, wat bloot gebrekkige Nederlands was, steeds as suiwer Nederlands beskou het” [skietgoed om taalamalgamasie te steun] loop my beker allermins van vreugde oor.

Mansvelt se “zuiver Hollandsch” en “12-maande-Nederlands” is duidelik nie die drawende Standaardtaal wat in die Nederlandse Eerste en Tweede Kamer (parlement of ‘Staten-Generaal’) weergalm word terwyl ander verveeld aan pepermentjies suig nie. Daarvan het Afrikaans (of Suid-Afrikaanse Nederlands) reeds te ver van hierdie nuwe kunstaal (Standaardnederlands) afgewyk.

Maar let nou mooi op:

Om ‘n lewende taal aan te leer, soos hierbo genoem, is geen sprake van die grammatikadrilwerk eintlik nodig nie. Die leermeester is ‘n Hollandse matroos of soldaat wat gedros het – iemand wat waarskynlik die taal (as moedertaal) magtig is. Soos in die Pruisiese skool van desjare (as ek Waquet se “Latin or the empire of the a sign” (2001:32) korrek verstaan) is Latyn geleer uit die vuis praat nog voordat die grammatika behandel is. Soos ons “Hallo!”, “Lekker naweek!”, “Lekker slaap” leer praat en later al hoe meer ingewikkelde sinne gebruik. Jy moet konstant op jou voete dink; dis die beste leermeester. ‘n Lewende taal leer jy deur kontak, voortdurende praatwerk.

Daardie jare (19de tot in die middel van die 20ste eeu) was drilwerk met grammatika en verbuigings- en vervoegingstabelletjies die obsessie (veral in die Duitse klasse in Suid-Afrika sou hierdie drilwerk nog lank voortgesit word), nie soos vanaf die 1980’s toe iemand skielik agterkom “maar ons leer mos deur te praat” en “opstelle skryf” nie. Op die huidige oomblik is ek bewus van Marianne Dircksen (2016) aan die NWU wat skryf oor Latynonderrig in Amerika wat so, soos ‘n lewende taal, aangeleer moet word.

In die 1980’s het die resensent, ene J. Hilton (1982:152-156) destyds verbonde aan die Universiteit van Fort Hare, W.G.J. Lubbe se ”Latyn vir Regte” (1981) en D.M. Kriel se ”Latyn vir die regstudent” (1977) gekritiseer: Lubbe en Kriel benadruk glo die skryf- en uitspraakoefeninge te veel – dit is glo te tradisioneel. Latyn hoef immers vandag in die 1980‘s slegs GELEES te word:

”Both books would appear to be adaptations of the traditional approach to the teaching of Latin to a specialized vocabulary.   Given the lack of goal definition of these books it is still strange that the underlying assumption – that the courses will equip the students to READ Latin better – is ignored. The goals of the traditional courses are to produce students who can write and even speak Latin.  The goals of Latin teaching have now generally changed (and this is implicit in the books under review) and one would expect a change in content to facilitate the attainment of these goals.”

Hoe het tye nie verander nie! Moet ek nou sê hierdie twee Afrikaners was hul tyd vooruit?! Of word die siklus voltooi? Die sirkel word rond? Déjà-vu? Dit lyk darem baie naby aan die Pruisiese skool van ouds! Die geskiedenis herhaal eenvoudig homself. Ongelukkig het hierdie uit-die-vuis-leer-metode een nadeel (wat Waquet ook op dieselfde blad noem): by die Franse skole is eeue gelede wel bevind met hul naslaan-drilwerk-en-woordeboek-naslaan-metode kan die leerlinge skaars in Latyn praat, en hul woordeskat maar gering, maar op skrif is hul werk veel meer afgerond.

Sonder daardie skryflesse kon jou Nederlands (of, die kunstaal, Standaardnederlands, so goed soos n dooie taal) op soortgelyke wyse allermins gekunsteld afgerond word. Jy moes as’t ware die volle Matriek loop (of, soos Hertzog, selfs verder) om die fynere nuanses te verstaan. Die belangrikste faktor by taalaanleer soos hierdie, by dooie tale, bevind die Franse sosioloog, Philippe Cibois (2015), is TYD. Jy kan byvoorbeeld nie verwag iemand in die jaar 2012 wat 400 uur per skooljaar aan Latyn moet afstaan, sal sy voorgangers, wat 900 uur per skooljaar moes deurworstel, kan klop of ewenaar nie.

Dieselfde geld met Nederlands.

Ongelukkig kon ek nie Langenhoven se outobiografie  “U dienswillige dienaar” uitneem by die biblioteek nie (dit is reeds uitgeneem) en ek moes my verlaat op my bydrae op die Afrikaanse Wikipedia-artikel wat ek in die verlede daar geplaas het. Hy skryf:

“Ons kinders is gemaak Engels praat, selfs buitekant die skool, maar nooit was daar van Meester se kant die minste poging om ons te maak Hooghollands praat nie, selfs nie met hom nie, en selfs nie in die Hollandse klasse nie. Daar by ons, soos orals elders, was dit maar ‘n vanselfsprekende saak dat jy ‘n Afrikaner enige vreemde taal kan leer praat maar nie Nederlands nie. […] Meester Bloemkolk had van teoretiese grammatika geen grondige logiese begrip nie. (Ek het daar ‘n Hollandse spraakkuns op skool gebruik – die liewe ou Stucki s’n. Maar dáár was ook geen stucki logika in nie.) Maar Meester het my, vir meer as die betrokke standaard van onderwys en ouderdom, deeglik Nederlands geleer. Toe ek uit sy skool weggegaan het, het ek dit seker min swakker geskryf as wat ek dit vandag kan skryf. Verder het hy my, by die skoolwerk verby, ‘n menige Nederlandse boeke geleen om te lees en ek het hulle verslind. En daar is geen twyfel aan nie dat my woordeskat (wat ek vandag nog altyd te armoedig vind vir die uitdrukkings van my gedagtes) deur Nederlandse lees en studie verbeter is.”

Duidelik sit ons hier met Waquet se “Franse Latynskool”.

Ek beskik ongelukkig oor te min tyd om deur die proefskrif “Onderwys aan die Kaap onder die Kompanje 1652 – 1795: ‘n kultuurhistoriese studie”  (1936) te lees en beroep my dus op ander bronne. Ek sou wel aanraai dat die leser hierna gaan kyk by http://scholar.sun.ac.za/handle/10019.1/63726 .

Ons weet ten minste 50% van die heel eerste Hollandse nedersetters in Suid-Afrika was analfabete (Van Eeden, 1995:147). Ons is ewe deeglik bewus van die uiters lae skoolbywoningsyfers, veral in die platteland gedurende hierdie tydperk waar selde slegs meer as een jaar skoolgegaan is (Scholtz, 1939:208). Hetsy die geriewe was eenvoudig nie daar nie, of die vraag daarna was afwesig by die eenvoudige maar uitmergelende leefwêreld van die selfonderhoudende boer en sy gesin, of daar was eenvoudig net nie die geld of die tyd vir die kind of ouer wat daarna begeer het nie.

Die feit bly staan: Jy kan onmoontlik nie binne 1 jaar al die grammatika van Nederlands baasraak nie. Nie as jy al die nuanses wil lees, vasvang en self skryf nie.

Rol meer as 250 jaar vorentoe en Van Eeden skryf (1995:147):

Uit onderwysstatistiek blyk dat slegs 11,24% van die leerlinge in staatsondersteunde skole gedurende 1908 in standerds hoër as standerd vier was (Zietsman 1992:83). Die volgende tabel gee ‘n duidelike beeld van die onderwyssituasie, uitgedruk in persentasie:

 

Jaar

Graad

Standerd 3

Standerd 4

Standerd 5

Standerd 6

Standerd 7

1901

47,32

9,98

6,89

3,46

1,74

0,64

1908

44,19

10,25

7,63

4,56

2,84

1,12

 

Dan gaan hy voort (1995:147):

Volgens Zietsman (1992:83) is daar volgens die inspeksieverslae, gedurende dié tyd, soms eers in standerd 4 met formele onderrig in Nederlands begin, en het die oorgrote meerderheid Afrikaners dus nooit werklike onderwys in die taal ontvang nie, aangesien slegs ‘n fraksie Afrikanerkinders by skoolhoër en matriek uitgekom het. Selfs prominente Afrikanerleiers, tydens die eeuwenteling, het dikwels bitter weinig, indien enige formele skoling geniet (vergelyk De Villiers 1936:220).

 

My eie oupa (gebore 1904, oorlede 1981) van moederskant is ook ‘n produk van die Engelse Kaapse regering- en onderwysstelsel – hy kon slegs Standerd 3 klaarmaak, daarna moes hy teen sy sin (al wenend) gaan skape oppas. Voorheen moes hy donkie-ore dra as hy nie Engels in die klas wou of kon praat nie. Sy vrou (gebore 1914, oorlede 1954) haal darem Standerd 6. Die briewe wat my Oupa wel latere jare geskryf het aan sy kinders was in Afrikaans, sonder spelfoute, wel met die kenmerkende ÿ en nie y of die argaïese ij nie. Sy spelkennis het hy uit Afrikaanse Christelike boeke opgedoen wat hy in sy vrye tyd gelees het.

Ek beskik wel hier oor ‘n boekie deur ene Willem S. Logeman (“Professor in de Moderne Talen aan het Zuid-Afrik. College te Kaapstad”), geskryf te Zeepunt, Juli 1901, getiteld: “Leesboek en Grammatika met oefeningen, Voor den Vierden Standaard”. Wat onmiddellik opval is dat die boek geskryf is soos vir iemand wat in Engels onderrig word. Die Hollandse tekste wat vir oefeninge gebruik word, het Engelse opsommings vanaf bl. 195 tot 219. Daar is ook ‘n woordelys in die boekie wat tweetalig is (bl. 155 tot 194) – dis baie snaaks vir ‘n Nederlandse handboek. Nog iets: die vervoeginge van „ik bak, gij bakt, hij bakt, wij bakken, u bakt, zij bakken, jelui bakt of jullie bakken, u bakt, de heeren bakken, zullie / zij bakken“ word eers hier in Standerd 4 (Graad 6!) werklik behandel.

Wil jy nou wragtig vir my sê Hollands is eers vanaf die vierde standerd werklik geleer?! Waar is die verskeie passiewe vorme, die verledetydsvorm, die toekoms, die onbepaalde wyse (infinitief)? Waar is die onderskeid tussen die onvoltooide en voltooide onbepaalde wyse? Die gebiedende wyse (BAK!!)? Die voorwaardelike “zou bakken”? O, hier is ‘n paar van hulle. Maar min. Daar word net in hierdie palmgrootte boekie ( 17 x 12 x 1 cm ) van 223 bladsytjies (steekproef: hoogstens 33 reëltjies per blad van 8 woorde elk, merendeels met grafika wat die woordaantal drasties inkort) heel terloops genoem die subjunktief of aanvoegende wyse is vreemd in die alledaagse taal. En waar leer jy mense die uitspraak? Afrikaanse uitspraak is duidelik nie Nederlandse uitspraak nie – jy verwar net die kind.

 Die boekie alleen sal mens kan help om baie, BAIE eenvoudige kinder-Nederlands miskien te lees – maar dit hou as die enigste, ALLERLAASTE taalhandboek op skool vir die kind alleen absoluut niks belowends in nie. Volgens Gerda Odendaal  (2016:262): “Dat die bron in ’n bepaalde behoefte voorsien het, blyk daaruit dat dit tot 1907 verskeie uitgawes beleef het”. Odendaal spesifiseer nie die latere verdeling in Standerds nie, so ek is salig onbewus of jy later ‘n matriekhandboek vir  Nederlands gekry het. Wag, ek kyk gou by Worldcat – Net Standerds 2 en 3 word hier gelys. Die oorspronklike boek van 1898 (vir alle standerds) was ook net 288 bladsye lank. Maar wat ons wel weet uit die syfers van 1901 en 1908 (sien bo):  daardie “bepaalde behoefte” was maar MIN! Want daar was MIN leerlinge.

Van den Heever maak in sy biografie oor Hertzog doodseker ons verneem slegs tot 3 ure per week (1944: 185, 199, 224) is aan Nederlands afgestaan voor en net na afloop van die Tweede Vryheidsoorlog onder Engelse bewind. Indien daar ooit streng by hierdie ure gehou is.

Met al hierdie wind van voor – wie sou dan ooit in Holland kon gaan studeer, laat staan nog sy doktorsgraad daar kon verwerf het? Wie sou nou ‘n kat se kans kon hê? Wel, ons liewe Genl. Dr. Barry Hertzog kon.

By die Victoria-kollege waar Hertzog sy B.A.-graad verwerf het, was slegs 1 uur per week aan Nederlands afgestaan, later sou dit 2 ure per week word (Van den Heever, 1944:36). Ten spyte van al hierdie hindernisse, kon hy wel na Amsterdam gaan in Augustus 1889, die aanvang van die nuwe akademiese jaar in Europa. Duidelik staan daar wel in Van den Heever se boek: Hy het Nederlands hier deeglik leer skrywe en praat, en veel later, soos die geval was met baie van sy geslag, sou hy met moeite n suiwer Afrikaans skrywe, want die ingekerfde Nederlandse vorm sou steeds weer, deur die Afrikaanse heen, opduik (Van den Heever, 1944:42).  Om Nederlands te leer skryf en praat het nie van nature gekom nie  – nie ná ongeveer 250 jaar van ongeletterdheid [of, afskeiding van die Hollands] wat sy eie loop in Suid-Afrika geneem het nie. Maar, Hertzog het deurgedruk. Let ook op die aantal jare wat hy in Nederland deurbring – dit noem ons ‘n taalbad.

Uiteindelik is sy proefskrif in 1892 afgehandel en aanvaar; in Nederlands. En Hertzog het gepromoveer. Blykbaar was hierdie prestasie nie ‘n alledaagse verskynsel nie, want die Stadsnieuws maak ‘n moerse ophef oor hierdie “jonge man” (soos oorgetik deur Van den Heever, 1944:43):

[…]

“De jonge man, die tot doctor in de rechtswetenschap werd bevorderd, is genaamd James Barry Munnik Hertzog en geboren te Wellington, in de Kaapkolonie. Toen hij drie jaren geleden uit Zuid-Afrika hierheen kwam, had hij reeds aan de universiteit der Kaap de Goede Hoop den graad van “Bachelor of Arts” behaald. Daar de graden aldaar verleend hier te lande worden erkend, is het aan de Kaapsche studenten gemakkelijk gemaakt hier verder te studeren.

De heer Hertzog nu is de eerste Zuid-Afrikaander, die aan de Amsterdamsche Universiteit den doctorstitel heeft verworven, en het doet ons veel genoegen te kunnen melden, dat reeds een vrij aanzienlijk aantal zijner landgenoten, evenals hij, aan de Amsterdamsche Universiteit de voorkeur heeft gegeven. Onze Universiteit heeft blijkbaar in Zuid-Afrika geen slechten naam.”

[…]

 

Dit was dus wel moontlik om Nederland te besoek met jou karige Nederlandse opleiding (hoewel Hertzog se ouers ook welgestelde mense was).

En tog, net voor Hertzog se terugkeer was hy steeds geen swaaier van die Prinsenvlag in Suid-Afrika nie. Getrou aan sy dialek [Afrikaans was teen die helfte van die 20ste eeu in die Webster nog so beskryf – Dutch dialect], skryf hy in die jaar 1891 aan die Amsterdamse Studenteweekblad waarvan stukke op 29 April, 6 Mei en 13 Mei geplaas is (vertaal deur Van den Heever, p. 44-47) die volgende:

Dit pas by die Afrikaner-karakter en landsaard. Dit is ‘n hoogs analitiese taal net soos Engels.

[…]

Dit behoort mense te oortuig van die volslae astrantheid om te probeer om in Suid-Afrika ‘n taal in te voer wat so hoog sinteties is soos Nederlands met al die ingewikkeldheid en fraiings van verbuiging. Dié poging is gedaan en sommige, wat nog nie die volledige mag van taal oor die denkwyse van ‘n volk deurgrond nie, hou daarmee aan. Hulle gees moet nog ontsluit word vir die groot feit in die wetenskap en in die taal dat ons in die vooruitgang van gemeenskap en mens eers die sintetiese en dan die analitiese het, eers die samegestelde en dan die eenvoudige. Hulle kan sekerlik nie onder die indruk verkeer van die waarheid dat van die analitiese taal ‘n teruggang is en aan die grense van die onmoontlike behoort nie; dié verandering bring ‘n totale wysiging in die denk- en uitdrukkingsvermoë van ‘n volk. Ons kan, na aanleiding van die terugkeer na Nederlands, net so wel verwag om te sien dat ‘n rivier se stroom terugvloei. Dit laat trouens die Afrikaner se taal bloei ten spyte van sy kragtige en meerderwaardige mededinger, Engels; dit beloof aan laasgenoemde ‘n swaar en volgehoue stryd om baasskap in Suid-Afrika.

 

MAAR AFRIKAANS BLY OOK DEELS BEVRORE NEDERLANDS

Afrikaans hoef nie as Fanagôlo-Nederlands beskou te word nie, maar eenvoudig ‘n ander rigting wat ingeslaan is. Soos Linux-rekenaartale; elkeen dien sy doel. Ek begryp al te goed die Afrikaner/Boer soek die WARE JAKOB. Die 100% egte suiwer koffiebone. Die 100% suiwer goue Krugermuntstuk. Die 100% egte Coco Chanel. Die 100% egte Pierneef. Die 100% suiwer Nederlands, ”soos dit destyds gepraat is”. Laasgenoemde is egter soos om rekenaars in die Middeleeue te gaan soek – dit het nie bestaan nie. As jy suiwer puristies te werk wil gaan, dan gaan jy eindig met ‘n taal waarmee skeepsjongens aangesê is om die hawens blink te poets met Sarel Skropborsel. As jy nog nie tevrede daarmee is nie, gaan jy op Indogermaans afkom: skaflik genoeg vir mense wat in strooihutte bly en ‘n paar runderpesbeeste aanhou. Of dalk nog in die Steentydperk vasgevang sit. Dit is die spreekwoordelike MS-DOS in ‘n rekenaarwêreld oorheers deur Java en Android. Jy kan ook maar net “soveel” daarmee doen.

Maar wat nou van die Franse daar doer bo in Quebec? Hulle gebruik tog ‘n taal GEBOU OP die 16de-eeuse Paryse dialek wat aansienlik minder lettergetrou uitgespreek word as moderne Standaardfrans. Ek het op YouTube by die kommentaar mense steen en been sien kla hulle kan, met al hul moeitevolle Franse klasse op middelbare skool, nie ‘n snars verstaan wat hierdie mense sê nie.

Maar Afrikaans het ook, net soos die taal in Quebecse Frans, sekere dele van die ou Nederlands behou wat in die Standaardnederlands vergete is.  ”Voortdurend zitten te slapen” in moderne Nederlands word vandag in Deens en Afrikaans nog albei los geskryf: “sit en slaap” en “sidder og sover” . Natuurlik weet ons dit beteken nie letterlik om te sit en slaap nie (iets wat ek by Duolingo opmerk veral die Britte mee kleitrap wat Deens leer, maar nie diegene wat sekere dialekte Amerikaans praat nie), want dit is die “present continuous tense” (-ing)  van die werkwoordtyd wat in Afrikaans en Deens en Nederlands ontbreek. Maar Afrikaans kan soos Nederlands ook “aan die” gebruik (“Ik ben aan het” + infinitief): “Ek is aan die werk, aan die slaap, aan die skrywe, aan die kook.”  So ‘n mens kan in Afrikaans sê:  “Ek is besig om die blomme nat te gooi”, “Ek gooi (nou) die blomme nat.”,  “Ek is aan die blomme natgooi”, “Ek staan en gooi die blomme nat” of “Ek staan en blomme natgooi”. Almal dui op die onvoltooide teenwoordige tyd.

 Ek het ook agtergekom ”weeluis”  is ‘n argaïsme wat in Afrikaans behoue gebly het – in Nederlands het die woord teen 1858 reeds verduits: “bedwants”, uit “Bettwanze of Bett-Wantze.

Die oorlede Nederlandse digter, Gerrit Komrij, sê oor Afrikaans (in ‘n onderhoud teenoor Herman Wasserman): ”Ek het dit oor die byna onomskryfbare gevoel dat Afrikaans gedeeltelik ‘n bevrore Nederlands is – nie versteen of doods – maar bevrore, gestol, in die tyd stilgeword, as jy in ‘n soort tydmasjien meteens gekonfronteer word met ‘n beeld uit ‘n ander tyd, met ‘n tafereel uit ‘n vergete provinsie.”

En nou wil ek afsluit deur die volgende vraag: Waarom kan ons Afrikaans net nie met rus laat nie? Waarom hom verwyt dat hy ‘n Fanagalô-Nederlands is? ‘n Onegte Nederlands? Kom ons herskryf net gou die vraag van vroeër:

Het ons Franse voorsate as ongeletterde plebs/uitskot doodeenvoudig gesukkel om uiting te kon gee aan Klassieke en Volkslatyn – en toe die weg van n tipe ‘fanagalo’-Latyn gevolg waarmee hul hulself gemaklik kon vind?

Tegnies gesproke het hierdie Fanagalô-Latyn, vir ons beter bekend as Frans, met verloop van jare magtiger as sy voorganger geword. Op talle terreine dwing Frans nog respek af, soos in Europa en Afrika. Ook by die Olimpiese Spele. Die Verenigde Nasies. En selfs in Japan. In die beginjare het hierdie „Latyn“ in die skadu gebroei, onder volk en land wat Latyn aangeneem het, maar wat die stamtaal beslis nie na behore kon praat nie. Waar sou die Middeleeuse Franse romans ooit vir Vergilius se “Die Aeneïs” kon ewenaar? Op daardie stadium sou die Galliërs nog net kon droom om soos die Romeinse keisers van weleer die wêreld te besit.  Vir jare het hulle geglo hulle praat Romeins/Romaans (langue romane). Op die vraag aan die geskiedkundige Ferdinand Lot “Wanneer het ons opgehou om Latyn in Gallië te praat?” was sy lakonieke antwoord: “Nooit”. Die Galliese inwoners het vas bly glo hulle praat presies dieselfde taal as hul voorouers (Latyn), maar binne enkele eeue was die taal onherkenbaar. Toe Karel die Grote die klasse in die Klassieke Latyn laat herleef, het mense gou begin besef hul gesproke Latyn lyk HOEGENAAMD nie dieselfde soos dié van Vergilius en kie nie. Wat ‘n ontnugtering. Wat ‘n geweldige skok.

Dit het lank geduur om van daardie tradisie weg te breek. Donders lank. Maar uiteindelik het Frans in die jaar 1539 (méér as ‘n anderhalf jaarduisend later!) die amptelike taal van die reg en administrasie van Frankryk geword, in die plek van Latyn.

Die Keltiese en Germaanse woordeskat toon duidelik hoe Frans ook eintlik maar ‘n hutspot van omliggende tale en dialekte was.  Vergelyk byvoorbeeld die bekende “leunstoel” in Frans: fauteuil > faudestueil > faldistôl > faldstuol > valtstuol (Middelhoogduits  vir “voustoel” of “klapstoel”). 

Latyn het van 3 woordgeslagte (manlik, vroulik en onsydig) en SOV-sinsbou “versleg” / “veranalitiseer” / “vereenvoudig“ /  “verwilder” tot 2 woordgeslagte (manlik en vroulik) en SVO-sinsbou. Dit is Frans.  En dit is nog voordat mens insien hoe die woordbetekenisse ook boonop deur die eeue verander het!

Afrikaans het dus niks om oor skaam te wees nie, ewe min as Frans.

–          Suidpunt

Bronne:

Bergman, E.F. & Renwick, W.H. 2008. Geography: people, places, and environment. Fourth Edition. New Jersey: Pearson Publishers, p. 275.

Bos, R. 1941. Hoe het groeide: Het onderwijs in Nederlandsch-Indië, Januari-Februari. ( https://web.archive.org/web/20130702101442if_/http://62.41.28.253/cgi-bin/imageserver/imageserver.pl?oid=FFHBID19410901-001-1941-0008&key=&getpdf=true  )

Boucher, M. 1973. Spes in arduis: ‘n geskiedenis van die Universiteit van Suid-Afrika. Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika.

Cibois, P. 2015. Statistiques de la rentrée, mais de l’an dernier. ( http://enseignement-latin.hypotheses.org/9059  )

CNTRL.fr s.v. ”fauteuil” (http://www.cnrtl.fr/etymologie/fauteuil )

Dircksen, M. 2016. Reassessing Latin pedagogy : a proposed model for South African learners. Akroterion, 61(1):59-73.

Hilton, J. 1982. Review. Akroterion, 27(3-4): p. 152-156. (http://journals.co.za/deliver/fulltext/akro/27/3-4/535.pdf?itemId=/content/akro/27/3-4/AJA03031896_534&mimeType=pdf&containerItemId=content/journal/akro )

Laloli, Henk. 1994. Technisch onderwijs en sociaal-ekonomische verandering in Nederlands-Indië  en Indonesië, 1900-1958.Scriptie Vakgroep Economische en sociale geschiedenis Universiteit van Amsterdam. (http://amsterdamhistorie.nl/bestanden/onderzoek/Technisch%20onderwijs%20nederlands-indië.pdf )

Langscape Maps. ( http://langscape.umd.edu/map.php )

Logeman, W.S. 1901. Leesboek en Grammatika met oefeningen, Voor den Vierden Standaard. Tweede nauwkeurig herziene druk. Kaapstad: Hollandsch Afrikaansche Uitgevers Maatschappij.

Matthias Lexers Mittelhochdeutsches Taschenwörterbuch. 1965. (1885) 31. Auflage. Stuttgart: S. Hirzel Verlag. s.v. ”valtstuol”. S. 263.

Odendaal, G. 2016. Die  rol  van  die  US  se  Departement  Afrikaans  en  Nederlands  in  die  ontwikkeling  van  die  Afrikaanse  leksikografie:  Die  Nederlands-Afrikaans-stryd  gedurende die aanvangsjare. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56 (1): 256-276  (http://www.scielo.org.za/pdf/tvg/v56n1/16.pdf )

Paarl Gimnasium: http://www.paarlgim.co.za/index.php/ons-skool/geskiedenis

Sacs High: http://sacshigh.org.za/about/history/

Scholtz, J. du P. 1939. Die Afrikaner en sy taal: 1806-1875. Kaapstad: Nasionale Pers.

Steyn, J.C. 1980. Tuiste in eie taal. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.

UVS: Anton de Kom Universiteit van Suriname ( http://www.uvs.edu/over-ons/geschiedenis/ )

Verne, J. 1864. Voyage au centre de la terre. ( http://www.gutenberg.org/cache/epub/4791/pg4791-images.html ):

Van den Heever, C.M. 1944. 2de druk. Generaal J.B.M. Hertzog. Johannesburg: A.P.-boekhandel.

Van Eeden, P. 1995. Afrikaans hoort by Nederlands: ons Afrikaanse taalverdriet. S.l.: Brevitas. (http://www.afrikaans.nu/afrikaans_hoort_by_nederlands.pdf )

Van Maris, B. 2017. Hoe net over de grens razendsnel een unieke taal ontstond. NRC.NL ( https://www.nrc.nl/nieuws/2017/02/17/hoe-net-over-de-grens-razendsnel-een-nieuwe-taal-ontstond-6727658-a1546528  )

Van Reybrouck, D. 2010. Congo: een geschiedenis. Amsterdam: De bezige bij. pp. 231-242.

Waquet, F. 2001 (1998). Latin or the empire of a sign: from the sixteenth to the twentieth centuries. Translated by John Howe. London: Verso, p. 32:

In the case of France the dominant impression was of similarity, with equal fluency in composition of both prose and vers; (Matthew) Arnold was impressed, however, by the amount of homework French children turned out, owing to the freer use of anthologies an a purely mechanical grounding in grammar. In Prussia, he was intrigued by the use of spoken Latin among teachers and pupils (although he noticed that the practice was in decline): young Prussians possessed enviable vocabulary and fluency, which also enabled them to read very extensively; but their composition, by contrast, lacked the elegant classical style that their French and English temporaries were taught to reproduce, the finish that the abler pupils from the better public schools could give their Latin verse.

Wasserman, H. 2001. ”Vrees God en hou jou kruit droog”. Beeld, 26 Julie:2. (Opgeneem in Unisa-Leesbundel vir AFK3043: Taalvariasie en taalpolitiek).

Wikipedia:

https://af.wikipedia.org/wiki/C.J._Langenhoven

https://af.wikipedia.org/wiki/Litaus (‘n vertaling van die Duitse weergawe)

https://af.wikipedia.org/wiki/Weeluis (my eie navorsing omtrent die woordherkoms is daar geplaas)

https://de.wikipedia.org/wiki/Litauische_Sprache

https://en.wikipedia.org/wiki/Évolué (‘n vertaling van die Franse weergawe)

https://fr.wikipedia.org/wiki/Évolué

https://fr.wikipedia.org/wiki/Gallo-roman_(langue)

https://fr.wikipedia.org/wiki/Ordonnance_de_Villers-Cotterêts

https://nl.wikipedia.org/wiki/Leerplicht

https://nl.wikipedia.org/wiki/Limburgs

https://nl.wikipedia.org/wiki/Nederlandse_dialecten#Indeling_van_de_dialecten

https://nl.wikipedia.org/wiki/Onderwijs_in_Nederlands-Indië

https://nl.wikipedia.org/wiki/Technische_Hogeschool_Bandoeng

https://nl.wikipedia.org/wiki/Universitas_Indonesia

Youtube:

Gordy, T. 2015. Je devine des expressions quebecois! https://www.youtube.com/watch?v=AgcP4_2btU0  ) Opgelaai: 13 Junie 2015. Kommentaar benede: I learned French at school for 7 years, but I can’t understand Canadian French at all! Maybe only 5 percent! / i’m in my 6th year of studying it and i can get the main idea, but only if they’re also very expressive with their actions, otherwise it’s a blur.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Arjan Lieberton

    Zo, dat was een tamelijk uitgebreid verhaal. Volgens mij is het Afrikaans altijd dichter bij het Oud-Nederlands gebleven, zoals het vroeger gesproken werd. (In de tijd van de V.O.C.) In ieder geval heeft het Afrikaans mijns inziens zich dichter bij het Nederlands gehouden, dan het Nederlands zelf, waar veel Verengelsing en toch ook Franse woorden in zitten. Zoals ook de Vlamingen vaker Nederlandse woorden hebben waar wij een Engels woord voor hebben, bijvoorbeeld een keeper in het voetbal, heet in het Vlaams een “doelwachter.” En jullie noemen dynamiet “plofstof.” Zo zie je maar weer! Grappig is het wel, die Nederlandse en Afrikaanse taal.

    • Interessant genoeg, het die VSA se idiome, uitspraak, spelling en aspekte van Engelse taalgebruik ook meer in gemeen met die vroeë moderne Engels tydens die Elisabethaanse tydperk as moderne Britse Engels.

  • Ek moet bieg, die tyd van die aand ly ek aan die TL;DR sindroom en sal anderdag die hele artikel lees. Maar toevallig doen ek vanaand die vertaling van die PMWiki program in Afrikaans. Ek werk gewoonlik met die Engelse teks asook die Nerderlandse vertaling en keer op keer ondervind ek dat Afrikaans ‘n beter uitdrukkende taal is as Nederlands of dalk werk ek net met ‘n swak Nederlandse vertaling, of dit is eenvoudig dat ek meer gemaklik met Afrikaans is.

    ‘View’ => ‘Bekijk’,
    ‘Edit’ => ‘Bewerk’,
    ‘History’ => ‘Geschiedenis’,
    ‘Attach’ => ‘Bijlagen’,
    ‘Print’ => ‘Afdrukken’,
    ‘Backlinks’ => ‘Links Terug’,
    ‘Login’ => ‘Inloggen’,
    ‘Logout’ => ‘Uitloggen’,
    ‘Recent Changes’ => ‘Recente Wijzigingen’,
    ‘Search’ => ‘Zoek’,

    teenoor

    ‘View’ => ‘Besigtig’,
    ‘Edit’ => ‘Redigeer’,
    ‘History’ => ‘Vorige’,
    ‘Attach’ => ‘Aanheg’,
    ‘Print’ => ‘Druk’,
    ‘Backlinks’ => ‘Truskakels’,
    ‘Login’ => ‘Inteken’,
    ‘Logout’ => ‘Uitteken’,
    ‘Recent Changes’ => ‘Onlangse Wysigings’,
    ‘Search’ => ‘Soek’,

  • leonlemmer

    Suidpunt, dankie vir ‘n wonderlike leeservaring gebaseer op uitgebreide kennis en insig. Ek hou van jou eiesoortige segswyse. Jy kan gerus meer dikwels op Praag skryf. Ek hoop my teks oor ‘n Afrikaansmanifes word die komende naweek op Praag gepubliseer. Jy sal sekerlik heelwat daarop kan verbeter.

    • Suidpunt

      Dit klink interessant. As dit die toekoms van Afrikaans en die rigting waarin dit gedruk of gestuur moet word behels, sal ek net meer belangstelling in Europese tale (lewend en dood) wil hê om Afrikaans se tegniese vakwoordeskat uit te brei. My grootste kritiek tans is die selftevredenheid waarmee die akademici sedert die middel-1980’s begin verval het.

      Heinrich Ohlhoff skryf onder meer ( https://repository.up.ac.za/bitstream/handle/2263/40905/Ohlhoff_Ure_2013.pdf?sequence=1 ):

      “In honneurs—waarvoor destyds jaarliks twintig of meer studente ingeskryf het— kon ’n mens begin spesialiseer, maar jy moes behalwe Middelnederlandse taal- en letterkunde minstens een vak uit óf taalkunde óf letterkunde neem, waar enersyds voortgebou is op die voorgraadse sillabus en andersyds nuwe terreine aangesny is. Toe, en nog ’n hele tyd daarna, was Goties verpligtend vir Duits Honneurs en kon Afrikaansstudente dit ook neem.”

      Hy skryf dit amper… so gelate. Asof hulle soos koeie in ‘n drukgang vorentoe gestoot is. Ter slagting. Asof dit net… blinde tradisie was. Daar moet miskien tog ‘n stuk postmoderne New Ager in my steek, want ek wil nie glo al hierdie energie was net verniet nie. Energie kan mos nie sterf nie? Al daardie boeke in Latyn was tog seker nie verniet geskryf nie? Wat het ek misgeloop? Wat loop ons vandag mis? Kruiekennis, byvoorbeeld.

      Goties, bekend in die departement taalkunde sedert 1930 in Suid-Afrika, het heel eerste gewaai – ek is slegs bewus van één boek oor hierdie vakgebied – die een wat hier op die rakkie reg bokant my skerm sit – van April 1965 deur H.J.J.M. van der Merwe (daar is wel ‘n Fransman, André Rousseau, wat ‘Grammaire explicative du Gotique’ in 2013 uitgegee het). Mediëvistiek volg kort daarna by die Afrikaanse universiteite, asook die verpligte gebruik van Duitse en Franse bronne vir jou proefskrifte. Daardeur word die Afrikaner se hele “voorgeskiedenis” met die aarde gelykgemaak. Toe volg Latyn in November 1994. Middelnederlandse tekste word nie eens meer aan geraak op universiteit nie (in my derdejaar het ons wel Vondel gehad (heelwat eeue later), ook maar net vlugtig toe ons rougedigte behandel het.) – by Google Trends is dit net Nederland, België, Duitsland en die VSA wat belangstelling toon in Middelnederlands. Vir die res van die wêreld, insluitend Suid-Afrika, kon hierdie taal netsowel nie bestaan het nie. Nederlands word sedert die 1990’s nie meer op hoërskool geleer nie (en daar was nogal heelwat boeke soos Literatuur van die Lae Lande-reeks (1973 tot 1989?), Het Fregatschip Johanna Maria (Van Schendel, 1950’s), Een eiland in de Zuidzee (Van Schendel, 1936 “speciale uitgave voor Zuid-Afrika”)). Alles skynbaar verniet gewees.

      Maar dit was alles in die jare voor die Internet. ‘n Mens kan “Russisch voor russisten” google – en daar bied Leiden vir jou gratis en verniet twee handboeke in Nederlands om Russies aan te leer. Gaaf, want jy wou juis daardie spot-spotgoedkoop Russiese e-boek, getiteld “The X-files. Секретные материалы. Никому не доверяй (сборник)” (491 bladsye), teen R39,61 gaan koop wat pas op 5 September 2017 verskyn het. Genoeg rede om mens aan die lees te sit…

      Die taai stryd is net: keuse vs. tyd. En balans: om sowel die onbekende te leer ken, asook jou eie taal – want om inligting uit die een na die ander oor te dra moet mens albei ken. Eers dan kan Afrikaans vooruitbeur.

      • sussie se vissie

        Not innie hel.
        As Afrikaans se ‘vooruitbeur’ onderworpe is aan Sotho, Zulu, Xhosa en oa Ndebele ( jou ‘albei ken’ verwys ) – COUNT ME OUT.

        • Suidpunt

          Nee! “Europese tale (lewend en dood)”.

      • Mr Domestos

        Dankie vir jou interessante skrywe. Ons Afrikaanse skoolkinders is besig om vêr agter te raak as dit by Europese tale kom. My graad 6 tot 10 leerlinge is buiten hul moedertaal (Georgian), ook Russies en Engels magtig. Die meeste van hul studeer ook Frans, Italiaans of Duits as 4e taal, vrywillig, en daar is enkeles wat Japanees of Sjinees neem. Buiten die taal is daar natuurlik ook die verskillende skrifte wat ongelooflik moeilik is om te bemeester.

        • Suidpunt

          Mr. Domestos… sal u asseblief vir ons by PRAAG meer oor Georgië skryf, as u ‘n kansie kry? ‘n Artikel. Ek weet die nuwe skooljaar is al aan die gang, maar ons weet glad nie wat in daardie land aangaan nie.

          • Mr Domestos

            Dankie vir die belangstelling Suidpunt, sal met plesier so maak. ‘n Algemene oorsig, taal of fokus op die onderwys? Ons het ‘n effense breek die eerste week van Januarie aangesien Kersdag hier op die 7e gevier word waarna die skooljaar weer hervat.

          • Suidpunt

            Ek sou sê ‘n bietjie van al drie. Daar hang ‘n laaang mitiese sluier oor veral Oos-Europa. Maar aangesien u ‘n onderwyser is, meer oor u bekende wêreld. Dit help nie ons verwag iets oor die boere wat daar onder die Georgiërs werk (landbou) as mens nie regstreeks met hierdie mense elke dag te doene kry nie. Ons weet ook nie hoe die lewe nou lyk post-Sowjet nie. Om daar te bly en te werk vs. blitsige vakansiebesoeke beïnvloed nogal die waarheid aansienlik. Ek sien uit na u artikel.

  • Antonie Geyser

    ek sou sê:’donners lank, nie donders lank nie

    • Suidpunt

      “Donders” word volgens die HAT ook “dôners” geskryf, wat vir my veel platter lyk as “donners”.
      Gelukkig maak die spelling nie veel saak nie, aangesien die -nd- gewoonlik assimileer en nn word.
      Vergelyk hoender, hondehok, honderd – gewoonlik hoor jy net hoener, honnehok, honnert. As jy wel die d uitspreek is dit onnatuurlik en daarom letteruitspraak.

      Ek het wel twee foute gemaak (spelfoute was daar oorgenoeg van): dit moenie “in” die platteland wees nie, maar “op” die platteland.
      Ek is ook bewus van “drawend”, wat niksvermoedend ‘n verkorting is van “hoogdrawend”.

      In die vervolg sal ek elke uitdrukking en woordkeuse eers in die HAT en WAT nagaan. Maar, soos ek hierbo geskryf het – ‘n moedertaalspreker is eintlik nie veel gepla nie…

      • sussie se vissie

        Grootser fout…meer die dilemma van IN n stadium.
        Troos jou egter geliefde. Dok Dan trap self innie slaggat.

  • sussie se vissie

    ‘Weggegooi’ ietwat ekstreem.
    Meer ( wil dit uit u waardeerde skrywe blyk ) – is hierdie ‘soetste, mooiste taal’ mos inderdaad uit niks anders as blote baringsnood geskep nie?
    Weliswaar DEUR onnoseles…VIR onnoseles!?
    Gn wonder ons huidige taalsnobs/puriste/neologiste en laventel jhônnies stel dit hul ten doel om, ten einde aan hierdie agterlike taal van oorsprong te ontsnap – vaaljapie as opgetooide cabernet voor te hou nie.

    • Suidpunt

      Ek dra ongelukkig nie ‘n veldhoed nie, dra geen sexy kaplaarse nie, skryf nie mooi herdersgedigte nie – eintlik is ek ‘n dorpenaar wat soos NP van Wyk Louw seker uiters verveeld voel oor dieselfde voorspelbare jaarlikse beesmiskompetisie – die 25ste jaar agtereenvolgend (ononderbroke)! Dorpsheid. Die uitgeleefde saai voortbestaan van Suid-Afrikanerskap. Die natuur is mooi, die strate gangbaar, maar – jy weet die mense sal nooit weet of wil weet of verstaan wat jy dink nie. Die hele wêreld draai om gemak, en waarom sal ons in die pad van ‘n ander man se geluk (“ignorance is bliss” / onwetendheid is geluksaligheid) wil staan? Jy maak dus jou kamerdeur toe, sluit jou van die onmiddellike wêreld af… en kry ‘n bose glimlag op jou bakkies. Die modem maak ander deure oop…

      Gelukkig hoef ‘n taal nie by eenvoud en Ampie (en sy steeks esel) te bly nie [dis egter ‘n opdraande stryd waar mens elke keer afgerem word deur ander wat veral geromantiseer word omdat die meerderheid sprekers in die oomblik leef en, soos reeds bewys, boeke laat verpulp.].

      Oorkant die water: Die Franssprekendes het Latyn daarna doodbesoek (net sodat die Engelse die Franse taal kan doodbesoek). Elke liewe steen van die Romeinse ryk is kruiwaens, koekepanne en toe treinwaens vol skaamteloos weggedra om hul eie mee te verryk. Selfs “17de eeu” word “XVIIe siècle” geskryf. Wie op dees aarde gebruik nog Romeinse syfers – iemand wat ‘n hewige haat in Arabiese syfers het?! “Maar die Romeinse suile lyk tog te mooi in die badkamers van my chateaux… (meervoud doelbewus)”

      In Yslands word ou woorde weer onder die stof uitgehaal en hergebruik.

      En nou het ons Afrikaans. Ouma se Familiebybel het skielik kitsch geword. Die geelhouttafels die uitvloeisel van kolonialisme. Laat staan nog die rooshouttafeltjie met ivoorinsetsels… vir asbakke! Enige woord wat net ruik na Nederlands word “geaffekteerd”, of “oorgekultiveerd” beskou of “oudmodies” of “verkramp”. Die Taalkommissie het reeds in die 1930-1960’s die Nederlandse uitspraak “rioel” geskrap om “riool” in te voer. Nou hoor jy elke dag van jou lewe “rieJOOL”. Met die JOOL wat so plat uitdruk word soos die hardlywige calamari van gisteraand.

      Het ons maar soos die Franse en Yslanders gemaak, maar nie…

      Dit is wat mens van Afrikaans frustreer – vir elke tree wat jy vorentoe gee, kom die hangmannetjiespel al nader aan die galgtou (want die meerderheid “vistaan” nie).

      • Joe Hall

        Vistaan het twee esse.
        Visstaan?

        • sussie se vissie

          Vistaan = stadig aan’t vrot.
          Visstaan = …op aandag.
          😉

  • Karel Combrinck

    Sekerlik ‘n komplekse onderwerp, maar wat betref die vraag waarom Nederlands tot Afrikaans “vereenvoudig” is, terwyl Engels in sy, kom ons sê maar, oorspronklike vorm, behoue gebly het, is dat Engels reeds driehonderd jaar gelede grammatikaal so vereenvoudig was, dat dit nie verder vereenvoudig kon word nie. Daarenteen is en bly tale soos Duits en Nederlands grammatikaal hoogs gekompliseerd wat ” vereenvoudiging” juis in die hand werk. Feit is dat die Duitse taallandskap vandag nog bestaan uit dosyne dialekte wat vereenvoudigings of variasies is van die streng klassieke Duits en so ook in Nederland, tot die mate dat die Nederlandse akademici nou iets ontwikkel het soos “algemeen beschaafd Nederlands” wat bedoel is as standardisasie van die dosyne Nederlandse streeksgebruike en dialekte wat deur gewone nederlandse burgers gebesig word.

    • Suidpunt

      Ek stem beslis met die dialektelandskap saam.

      Ek wil ook met die vereenvoudingsteorie van Engels saamstem, maar dan kom fluister die duiwel onmiddellik in my oor: waarom het Engels nog “I am”, “You are”, “We are”, “They are”, “She/He/It is”? Engels is ‘n snaakse mengelmoes van Saksies, Fries en Suid-Jutlands (daarna volg nog Normandiese Frans ens. ens. ens.).

      My vraag is net: waarom het Engels nie I/You/We/They/She/He/It IS geword nie? Deens het tog “er” vir “jeg, du, vi, de, hun, han, det/den” soos ons in Afrikaans “is” vir almal het. Nou raak dit nog komplekser, want kyk mens nou na Yslands… daar sien mens:

      ég er (ek is),
      þú ert (jy is),
      hann/hún/það er (hy, sy, dit is),
      við erum (ons is),
      þið eruð (julle is),
      þeir/þær/þau eru (hulle is).

      Hier maak dit sin waarom die Nordiese tale almal “er” geword het. Maar met Engels… dit bly ‘n raaisel. Ek sou tog dink die eenvoudigste taal behoort die meeste seggenskap te hê by taalvereenvoudiging. En hier – is dit nie.

      • Karel Combrinck

        “I am”, “you are” en ” he is” maak nog nie juis ingewikkelde grammatika nie of hoe? Is daar nog baie ander voorbeelde? Dis gaaf dat jy in die ondewepr belangstel en kundig is daaromtrent. Waarom noju eers? Groete.

        • Suidpunt

          Kom ek stel dit so. Ek was in die jaar 2007 vas van plan om ‘n vertaler te word tussen Engels en Afrikaans. Teen 2008 merk ek skielik vertalers word uiters swak betaal – die meeste mense vertaal maar as ‘n stokperdjie of om ‘n sentjie meer te maak. Toe wil ek hoogleraar word – net om te sien watter geweldige nyd daar soms in daardie kampe is, want daar is ook net X-hoeveelheid plekke. En verder het ek die ou professore se bydraes tot die gemeenskap (soos woordeboeke) vergelyk met die huidige – jy kon die twee nie vergelyk nie. Om my in so ‘n wêreld te sien… nee.

          Ook te kommunisties na my sin. Toe ek uiteindelik die letterkunde los in 2017 (eintlik 2016), het taalkunde my al hoe meer begin boei. Vreemde tale veral. Ek het my ou letterkundeboeke en tydskrifte weggegee en vir my taalkundeboeke begin aanskaf. Beste keuse nog. Oues wat jy nie maklik in die hande kry nie – veral wat in die 1800’s tot 1960’s gebruik is. Ek weet “harde werk” is die antwoord, maar ek soek ‘n vinnige manier om taal aan te leer as die uiters omslagtige wyse op (vandag en destydse) Suid-Afrikaanse skole.

          Ek het ook ontdek hoe baie van hierdie ou vakke net by die Suid-Afrikaanse universiteite geskrap word – of “dis nie relevant nie” of “daar’s te min studente”. Maar aggressiewe bemarking vir hierdie vakke het ek nog nêrens gesien nie! Nie eens vir Afrikaans nie.

          Ek besef die Afrikaanse wêreld is in ‘n krisis gedompel – want heelwat van ons kan geen ander taal behalwe Engels, Nederlands, Afrikaans, miskien (by uitsondering) Duits en Frans lees nie – daardie inligting is vir ons verlore. Ander lande wat hierdie tale wel ken – sal ons altyd een voor wees. Ek is eintlik terug by my ou hoërskoolliefde.

      • John

        Jy kan byvoeg – Latyns. Om te praat van ‘Old English’ is eintlik ‘n klap in die gesig van die Romeinse bydrae, wat op sy beurt weer ‘n elmbook in die ribbes van die Galliese voorsate was.

        • Suidpunt

          Dis waar.

  • Dis nou ‘n kwaliteit gesprek! As ons maar net soveel diepte in die selfbeskikkingsproses sedert 1983 ingesit het …

  • common-tator

    Dit staan seker hier êrens maar vir diegene wie se aandag maklik dwaal, som ek dit kort op. Teen 1900 was daar geeneen in SA wat Nederlands meer korrek kon praat nie. Dit het dit het dit dwingend noodsaaklik gemaak om wat gepraat is, ‘n soort status te gee. In effek het die Afrikaner sy taal verloor.

  • Suidpunt

    “Op die anderkant, hoe wyd verspreid was staatsondersteunde onderwys toendertyd?”

    ‘n Ontsettend moeilike vraag. Dit wil my wel voorkom sekere “deelstate” (eintlik nog nie ‘n verenigde Duitsland nie) soos Nedersakse en Sleeswyk-Holstein het beter geleenthede gebied as Frankryk, want Ludwig Wienbarg trek te velde teen Platduitssprekendes in sy essay “Soll die plattdeutsche Sprache gepflegt oder ausgerottet werden – Gegen Ersteres und für Letzteres” (1833). Hy wys op die akademie en Hoogduitse begrippe wat net nie onder die “boerse” sprekers van Platduits wil wortelskiet nie. Hulle hou hulle steeds besig met alledaagse beuselagtighede soos Bontlies en Saartjie die koei wat nie wil meer wil melk gee nie. Hy is siedend van woede oor hierdie plaasjapies wat (Hoogduits) kan lees en skryf – maar wat min lees en nog minder skryf. Hy wys na die gemiddelde Fransman wat nie eens kan lees of skryf nie, maar tog ywerig iemand vra om vir hulle voor te lees. Nee – hierdie dialekte moet almal vernietig word, eers dan sal daar ekonomiese vooruitgang kom. Wel, dit het nie gewerk nie – Beiere hou steeds die beursie in die hand, en die moerasland daar doer onder hou steeds die bakhand. Wat is die verskil? Die Platduitsers is naby aan hul kultuur kwyt.’n Duur eksperiment wat ons asseblief nie moet herhaal nie.

    Net ‘n kantlynnota: “Seekoei” lees ek in Johann Schreyer se Neue Ost-Indianische Reisz-Beschreibung (1681, bl. 80 Das Wasser-Pferd / welches hier unrecht eine Seekuh genennet wird / ist auch ein sehr groß und schweres Thier…) word steeds “foutief” beskou deur hierdie sjirurg, maar dit is reeds ingeburger onder die Kapenaars (en duidelik kon Schreyer Nederlands op ‘n manier verstaan). Van Riebeeck het in sy dagboeke die woord zeekoe ook daar aangeteken.